Отрывок из книги
Chris Barnard
Maar waarin setel Mahala se vreemdheid? Westerse mistifiserings van Afrika het intussen verdag geword, maar gaan dit hier oor die mistieke vreemdheid van Afrika of gaan dit om die verbluffende wyse waarop die leser deur die roman vervreem word van alle geykthede sodat die ganse romanwêreld as immer vreemd, immer nuut en as ’n voortdurende ontdekking ervaar word? Afrika is weliswaar hier ’n vreemde, misterieuse en angswekkende ruimte, maar daar is weinig vertellings in Afrikaans wat so tuis is in Afrika soos Barnard se Mahala. Hierdie tuisheid in Afrika kry sy lê in die manier waarop die teks heeltyd van verwondering oor elke klein besonderheid van die omgewing getuig, in die manier waarop die verwondering in taal gestalte kry – taal wat onder jou vel klop soos die getjok van ’n rivierboot se enjin iewers onder die oppervlak van die water. Maar hierdie tuisheid van die taal in ’n bepaalde ruimte praat dan juis van die wesenlike ontuisheid van die mens, en in hierdie paradoks lê ’n groot deel van Mahala se krag. Soos die lug in die gramadoelas iewers in Mosambiek deurtrek word met die reuk van “bruin mangoblomme en die soet stank van broeiende palmblare”, so deurtrek eksistensiële angs die vertelling.
.....
Pio het met sy skuifelpassie ingekom en die olielamp opgesteek en toe was dit ineens heeltemal donker buite. Van die swartes was besig om af te klim. Party had niks by hulle nie; ander het mandjies met vrugte en kruideniersware en droë vis op hulle koppe gebalanseer; nog ander het gesukkel om hokke met hoenders en eende en ander pluimvee teen die loopplank af te kry. Eers toe almal af was wat wóú af, het Rodrigue op die oewer gaan stelling inneem en die nuwe passasiers se geld geneem. Daar het ’n lantern naby sy kop gebrand en hy was nat van die sweet in sy swaar en verslete uniform. Kort-kort het hy ’n verdwaalde tor of mot van sy gesig af weggeklap en dan ’n entjie verder van die lantern af beweeg.
Delport het homself betrap dat hy met die meisie praat. Sy het hom iets oor Rodrigue gevra en hy was besig om haar alles te vertel wat hy van die kaptein weet. En dit het hom skielik ’n gevoel van opwinding gegee wat hy nie mooi kon begryp nie. Hy was besig om met ’n vreemdeling in die donker te sit en praat en hy kon nie onthou wanneer dít laas gebeur het nie. En terwyl hy gepraat het, het hy gedink: dis vreemd dat ek dit nou moet doen, pas nadat ek weer aan hóm herinner is. En iets het vir hom gesê hy is miskien tóg by die vrees verby; hy is nie meer bang nie; Ritter is iemand in ’n ander wêreld. Ritter is dood.
.....