Описание книги
Lans werk by ’n hotel langs die nasionale pad, naby die Hardapreservaat in Suidwes. Dis sy werk om vir Jesha, die kameel, op te pas. Eers was sy vir almal ’n aardigheid, maar nou staan sy verwaarloos, jaarin en jaaruit in die bloedige son – ingehok in ’n kampie. Niemand gee vir haar om nie, net Lans. Elke middag, wanneer sy werkies klaar is, gaan hy op die hitte van die dag stap. Ná die goeie reëns staan die gras sag soos pluis, nie groen nie maar groenwit, en rooierig en effens pers. Aan die voet van die tafelkop waar die gras al droog is, skuur die polle ’n dowwe snarespel teen die leer van sy skoene terwyl hy stadig aanstryk . . . Van die kop af kan hy vir Jesha sien. En hy droom van ’n dag wanneer hy meer verdien, vir Jesha van die Weissfelds kan koop en haar op ’n lang tog gaan neem – woestyn toe. “Daar sal vir haar skaduwee wees. Skaduwee en woestyn. ’n Kameel moet ’n woestyn hê.” Lans neem inderdaad vir Jesha op ’n lang tog – maar in ’n ander rigting en om ’n heeltemal ander rede as waarvan hy gedroom het. Dié tog bring vir Lans avontuur . . . en ’n groot hartseer, maar ook vergesigte wat byna te goed is om waar te wees. Die singende gras is in 1974 met die Scheepersprys vir Jeuglektuur en in 1976 met die W.A. Hofmeyr-prys bekroon.