Читать книгу Die rolbalspeler - Zain Eckleton - Страница 11
Ses
ОглавлениеOp Erika se versoek vergesel Hans haar na een van haar werkprojekte by die gemeenskapsaal in Elsiesrivier. Straatkinders wie se lewe sy probeer omkeer.
Die jeugdiges, afkomstig van omliggende gebiede op die Kaapse Vlakte, sit in ’n kring en wag toe hulle die saal binnestap. Elders in die gebou, hoor Hans, word musiekinstrumente ingestem.
Ná ’n kort gesprek met die organiseerder, ’n plaaslike gemeenskapswerker, lei Erika Hans na ’n stoel in die kring.
“Hallo, julle,” groet sy die groep. “Ons ken mekaar nie, so kom ons kry dit agter die rug. Elkeen stel homself voor en vertel iets oor homself. Ons begin by my.
“Ek is Erika Basson, maatskaplike werker by die Cape Town Institute for the Blind. Ek eet gesond, en soos julle kan sien: ek is gebou om te hou.” Sy bly dramaties stil.
Dis ’n ysbreker. Die kinders proeslag beleefd.
Erika kug soos een wat vir haarself lag en vervolg in komieklike Kaaps: “Julle kan maar lag. Check mooi, hier’s ek, overload soos ’n double-decker bus.”
Die kinders bars in ’n lagbui uit.
“Ek is rêrig lief vir kos,” sê Erika ernstig. “En soms gaan ek oorboord. Ooreet my aan junk food. Maar dis nie waarom ek so lyk nie. Ek is so gebore. As jy groot gebou is, het jy mos ’n groot lyf, nie waar nie?”
“Ja,” brom ’n paar en knik die kop.
“My ouers sien dit nie so nie. Hulle sê ek eet my dik. Hulle verstaan nie die verskil tussen ’n groot lyf en ’n vet lyf nie. As jy van nature groot is, is daar niks wat jy daaraan kan doen nie. Om oorgewig te wees is iets anders – dis deur jóú toedoen. Jy kan dit so los en dit vererger, of jy kan iets daaromtrent doen.
“As kind het my ouers dit aangespreek deur my op ’n streng dieet te sit. Klein porsies kos ver uitmekaar en geen lekkergoed nie. Té streng vir ’n kind. Ek het daarteen gerebelleer deur by die bure te bedel vir eetgoed, soms selfs kos gesteel en my trommeldik geëet. Nie net oor ek honger was nie, maar om my ouers te straf. Om hulle kwaad te maak.
“Mense, toe raak ek vet. Groot en vet soos ’n bees. Julle moes my gesien het.
“Vandag lyk ek beter. Nie vet nie, net groot. Mooi groot, want ek eet nie meer soos ’n vraat nie. Sien julle hoe mooi is ek? Check my uit. Check, check.”
Sy sê dit met ’n glimlag in haar stem. ’n Effense roering klink op, asof almal saam met haar glimlag, dink Hans.
“Ek sal altyd groot wees,” vervolg Erika. “Soos ek sê, dis hoe ek gebore is. Dit pla my nie. Nie soos toe ek ’n kind was nie. ’n Mens moet jouself aanvaar soos jy is. Ek kan mooi groot bly, of myself ooreet en vet word. Die keuse berus by my.
“Nou ja, dis my storie in ’n neutedop. Nou’s dit julle beurt. Ek dink ons begin by Hans.”
Hy kyk verwilderd op. Wat besiel Erika? Sy weet hy’s nie een vir praat nie. Veral nie voor mense nie.
Hy staan onwillig op en begin hakkelend praat. Selfbewus. Sy naam. Waar hy woon. Iets oor sy werk.
“Ek wou eintlik ’n onderwyser of iets geword het, maar ek is vroeg uit die skool uit om vir my ma te werk.”
Hy volstaan daarmee en gaan sit plotseling.
Dis ’n halwe waarheid. Hy is nie van plan om alles oor homself uit te lap nie.
Maar Erika het nog iets oor hom te vertel, hoor hy. Praat oor sy betrokkenheid by rolbal. Ietsie oor die spel self en die verhouding tussen speler en afrigter.
En dan, tong in die kies: “Hy’s ’n goeie speler, maar moeilik! Veral toe hy begin het. Bevraagteken alles wat ek sê. Die ironie is dat hy nie kan speel sonder my nie. Dis baie swaar vir hom om dit te aanvaar. Hy’s nou beter, maar ek sien elke keer hoe kyk hy vir my, asof hy mý wil coach. Verbeel julle dit!”
Een van die seuns laat onverwags van hom hoor.
“Hans is reg. Ek salute hom. ’n Man kan nie voor almal buig nie. No ways. Huh-uh. Jy moet at all times in control van jouself wees. In die skool het jy niks oor jouself te sê nie. Selle by die huis. Almal het iets te sê oor wat jy mag doen en wat jy nie mag doen nie.”
“Toe los jy die skool en loop van die huis af weg?” vra Erika.
Die kind se stilswye bevestig dit.
“Nou ja,” sê Erika, “aangesien jy aan die woord is, die vloer is joune.”
Hy laat nie op hom wag nie, begin met: “Ek is Basil Arendse . . .”
Hans luister aandagtig na Basil.
Luister voorts na elkeen se verhaal. Sommige hou dit kort. Ander kan nie uitgepraat raak nie, veral met Erika wat uitvra en hulle aanmoedig. Hartroerende stories van armoede, mishandeling en die genadelose straatlewe. Stories wat hy goed ken of waarvan hy iets weet.
Toe die laaste een ’n beurt gehad het, sê Erika: “Elkeen van julle het ’n rede waarom julle op straat is. Dis nie ’n lewe nie. Julle kan dit omkeer in iets beters. Soos Hans. Daar sit hy. Hy het ’n gebrek en sy lewe is nie maklik nie, maar hy lei ’n vol lewe. ’n Produktiewe lewe. Hy het ’n werk en hy neem deel aan sport. Hy kon net sowel toegelaat het dat die lewe by hom verbygaan. Lyk hy nie mooi in sy rolbalklere nie?”
Hans sien hoe die koppe in sy rigting draai. Nee, man, Erika, hoekom doen jy dit? Hoekom vestig jy die aandag op my?
“Maar vir eers genoeg gepraat,” sluit sy af. “Dis tyd om te ontspan. Die doel van vandag se byeenkoms is om mekaar te leer ken. Volgende keer praat ons oor probleme en oplossings. Julle weet van die konsert wat ons gaan aanbied? Nou ja, geniet dit. Daarna eet ons ons trommeldik aan alles wat lekker is en vergeet van ons sorge. Wat sê julle?”
Almal verwelkom dit, hoor Hans. Fluitgeluide. Opgewonde stemme. Selfs ’n sarsie applous.
Hy geniet die middag, wat sonder haas verloop. Die konsert bestaan uit kort toneelstukkies en musiekitems deur voormalige straatkinders. Klaarblyklik talentvolle kunstenaars.
Aan die einde van die konsert, terwyl almal begin weglê aan die eetgoed, is Erika weer aan die woord.
“Soos julle het hierdie mense ook op straat geleef. Vandag, nadat ons met hulle gewerk het, is hulle suksesvolle kunstenaars omdat hulle besluit het om hulle lewe om te keer en ’n produktiewe lewe te lei.
“Soos ek vroeër gesê het: dit hang van jouself af. Niks wat ek of enigeen sê, kan julle omstandighede verander as julle nie self iets daaromtrent doen nie.
“Maar genoeg van my. Dit lyk in elk geval nie of julle na my luister nie, julle eet te lekker. Maar dis reg. Geniet dit.”
Erika se boodskap spreek tot Hans. Laat hom dink.
Later by die huis, nadat sy hom afgelaai het, deel hy die middag se gebeure met sy ma.
Maria is beïndruk.
“Dis goed as die kinders kopgee en iets van hulle lewe maak. Baie goed. Maar ek blame die ouers. As die ma en pa ouers is soos ’n ouer moet wees, sal die kinders reg uitdraai en nie op die strate eindig nie.”
“Ja, Ma, Ma het ’n punt. Maar as die kinders nie wil kopgee nie, is daar niks wat die ouers daaraan kan doen nie.”
“Sê wie? ’n Ouer sit sy voet neer, finish en klaar.”
“Dis hoekom die kinders wegloop, Ma. Omdat die ouers hulle voet neersit sonder om na die kinders te luister.”
“Daar’s goed waaroor ’n kind niks te sê het nie. Maar dis reg, jou voet moet jy neersit, maar as jy hom verkeerd neersit, dryf jy die kinders weg. Dan draai hulle verkeerd uit.”
“Soos Willem, bedoel Ma?”
“Hoe meen jy nou?”
“Hy maak nie ’n effort om werk te soek nie. Lê op Ma se nek, want hy weet Ma is okay daarmee.”
“Watse nonsens praat jy, Hans? Werk is skaars. Hy kry nie werk nie.”
“Dis wat hý sê. Ma weet hy lieg. Werk is skaars, maar dis nie onmoontlik om werk te kry nie.”
’n Kort pouse.
Dan sê Maria met ’n swaar sug: “Ja, okay, Willem is vol stories. Ek het nie krag vir hom nie. Van die siekte oor my gekom het, is my kragte daarmee heen. Jy weet wat die dokter sê: ek moet my nie upset nie, hy’s bang ek kry ’n stroke. Dan’s dit verby met my. Ses voet ses onder die grond en dan? Wat word van julle? Wie sorg vir julle?”
Dit bring Hans by ’n ander kwessie, noudat die deur oop is om te praat.
“Ma, ons kry increase en daar is back pay. Drie maande.”
“Wat vertel jy my! Dan kan ek die DVD-ding koop waaroor Willem my so pes elke keer. Next time koop ek iets vir jou. ’n Ma moet even up wees met haar kinders.”
Sy steek ’n sigaret op. “Wag ’n bietjie, maybe is dit nie ’n goeie ding om als op Willem uit te gee nie. Ek dink ek vat dit op rekening. Sit ’n deposit neer en betaal die instalments oor vier en twintig maande. Dan voel mens dit nie.”
Dis nog iets wat Hans grief.
“Nee, Ma, mens kan nie als op rekening koop nie.”
“Dis al manier hoe mens aan iets kom.”
Hy skud sy kop heftig. “Nee, Ma, dit is nie. Spaar is beter. Spaar tot jy genoeg het om kontant te betaal.”
“Spaar?”
Hy hoor hoe sy ma se stemtoon styg, ’n teken dat sy besig is om kwaad te word.
“Met geld wat ek waar kry? Die geld wat jy inbring, is net genoeg vir kos en klere.”
Sy suig diep aan die sigaret, haar asemhaling swaar toe sy die rook uitblaas.
“Lyk my jy try om my te upset? Eers Willem. Nou spaar.”
Hans hoor hoe haar stem opgaan, sien in sy gedagtes hoe haar bloeddruk en suikervlak gevaarlik hoog styg. Klink of sy haarself in ’n floute wil opwerk. Laat hy liewer stilbly oor Erika se studieplanne vir hom.
Hans sukkel om die vislyn op die afgemerkte kolletjie vas te kry. Dit moet die middeltou vorm.
“Gee vir my,” sê Willem, ’n sigaret in die hoek van sy mond.
Hy vat die vislyn uit Hans se hande en kry die punt gou op die merkie vas terwyl Hans die rolletjie vashou.
“Wat is next?” vra Willem.
“Hy moet daar oorkant vaskom.”
Hans begin loop stadig soontoe, Willem langs hom.
Halfpad oor die baan gryp Willem die rolletjie uit Hans se hande. “Jy loop skeef en as ons so cruise, kom ons môre daar uit.”
Dié punt is ook ewe gou op sy plek.
“Jy kan maar check,” sê Willem. “Hy’s straight en solid vas.”
Hulle stap terug en begin.
Van kwaliteitspel is daar geen sprake nie, want Willem sukkel om die spelreëls te verstaan. En hy handhaaf deurgaans ’n vinnige pas, wat Hans se ritme versteur.
Tog is hy tevrede: hy kry ekstra oefening, en in die proses ontdek hy nuwe metodes om sy spel te verbeter. Boonop kry hy die kans om agterhulp op sy eentjie uit te toets.
Erika weier om dit te probeer. Sy is nie bereid om nuwe goed te beproef nie, daarom het hy haar nie ingelig oor hierdie oefensessie saam met sy broer nie.
Daar was ’n hewige debat oor agterhulp by die klub, wanneer die afrigter agter sy speler staan om hom vir ’n skoot op te stel.
Die klublede is verdeeld oor die kwessie. Onder die spelers is Graham een van enkeles wat daarvoor te vinde is.
“Dis goed vir die game,” meen hy. “Gee die bowlers meer input. Meer control.”
“Ja, Graham, jy kan sien om jouself te help,” het Jenny gesê.
“Hoe speel jy sonder ’n coach voor jou?” wou Melvin weet.
Wat die afrigters betref, het John, Phillip en Erika hulle by Jenny en Melvin geskaar. Hulle voel die rol van die afrigter sal daardeur verminder word omdat die spelers meer seggenskap in die spel sal hê.
“Lyk my die spelers wil hulle eie game speel,” het Phillip laat hoor.
“Ek waai en concentrate op mý eie game,” was John se sterk reaksie.
“Ek is ook nie happy nie, maar ons kan nie die spelers in die steek laat nie.” Erika.
“Mense, kom ons los dit,” het Derek gesê. “Dis net gerugte, niks ampteliks nie. Ons moet op die green kom, die draw is reg.”
Hans en Willem oefen omtrent twee ure.
Op pad stasie toe om die trein huis toe te haal, sê Hans half terloops: “Jy sal ’n goeie boy wees, Willem. Jy’s soos Pa: goed met jou hande. En jy doen alles tjop-tjop. Hulle soek sulke boys.”
“Wat praat jy, man? Hulle gee my een kyk, dan’s hulle mind opgemaak: useless. Almal dink ek’s stupid. Kyk my vlak. Vat my laag. Vat my vir niks. Maar dis hulle problem. Ek’s nie stupid nie.”
Willem bly stil, skop na ’n koeldrankbottel. Dit seil oor die sypaadjie, oor die pad en klap teen ’n paal vas.
Hy lag. “No goal. Corner, mister Ref.”
Hans luister hoe hy met die ander voetgangers gesels. Groet beleef. ’n Grappie of twee. Soms net ’n vriendelike woordjie.
Op die perron, terwyl hulle op die trein wag, doen Willem dieselfde. Gesels met almal asof hulle ou vriende is.
Toe die trein intrek, hou hy Hans terug tot almal in is voor hy inklim. Hy hou die deure met sy lyf oop, voete wyd vanmekaar. Die trein ruk en kom in beweging.
Hans tik teen Willem se skouer. “Maak toe.”
“Dis benoud. Hier’s ’n lekker breeze. Air vir jou hair.”
“Ja, maak toe,” sê ’n vrou angstig agter Hans.
“Relax, antie sal nie uitval nie,” sê Willem ongeërg.
Hans laat dit daar. Om met sy broer te redeneer is ’n mors van tyd. Willem hou daarvan om aandag te trek. En hy wat Hans is, haat dit.
Toe hulle by Lavistown-stasie afklim, groet Willem die ander mense in die trein met groot gebaar.
“Bye, bye! Bye, antie, nie uitval nie! Deur toemaak, okay!”
Hans skaam hom.
“Daai vrou was reg,” sê hy toe hulle begin loop. “Dit was stupid om die deur oop te hou. Maar ek weet jy’s nie stupid nie. Aspris, ja. Jy lyk om te perform, lyk om af te show. Dan dink mense jy’s stupid.”
Willem swyg.
Sou hy daaroor dink? wonder Hans. Sy broer kán dink as hy wil. Dis net: hy wil nie. Hoe help jy iemand wat nie sy kop wil gebruik nie?
Ná ’n rukkie sê Willem: “Sure, ek’s nie stupid nie, maar ek’s nie slim soos jy nie.”
“Mens is so slim soos jy is.”
“Kan ons vinniger loop? My bene word lam om so te cruise. Ek wil by die huis kom en chill.”
“Hier’s pale en goed. Ek kan nie vinniger loop nie.”
“Pad is skoon. Ek sal sê as daar iets is. Jy weet mos ek protect jou all the way.”
Hans tel spoed op. Gelukkig ken hy die omgewing. Hy strompel onvas oor die ongelyke sandveld en graspolle. Selfs op die teerpad is sy bewegings onreëlmatig.
“Miskien is ek slim van baie lees,” sê hy kortasem. “Hoekom join jy nie die library nie?”
“Hoe lyk ek met ’n boek onder my neus? Sal stupid lyk.”
“Dit sal jou slim maak.”
Die woorde bly hang tussen hulle terwyl hulle die laaste stuk pad aandurf.