Читать книгу Die rolbalspeler - Zain Eckleton - Страница 9

Vier

Оглавление

Vandag speel hy teen Melvin Petersen, hoor Hans. Sy tweede volwaardige wedstryd.

Hy hou nie juis van Melvin nie. Die man is te windgat, te arrogant oor sy status as een van Optima se eerste spelers.

Loslyf en met wye arms betree Melvin die baan, merk hy. Ontspanne loopaksie soos een met geen oogprobleem nie.

Hy is saam met Hans, Bongani en Graham geklassifiseer as ’n B2-speler, maar sy sig is baie beter.

Melvin hou ook nie van hom nie, het Hans agtergekom. Niks waarop hy sy vinger kan lê nie.

Of dalk tog. Dalk die wêreldtoernooi in 2011. Dis op almal se lippe. Almal wil aan dié toernooi deelneem.

Melvin smyt die rolbalsak kaplaks op die bank. Dan haal hy die balle uit en gooi dit op die baan neer. Doef. Doef. Doef. Doef.

Sy afrigter vir die wedstryd, Phillip Abrahams, spreek hom skerp aan.

“Wil jy die green damage?”

Melvin haal net sy skouers op, draai na Hans.

“Yes, pel, ready vir action?” vra hy.

Hans is besig om sy balle blink te vryf. Hy kyk nie op nie. “Kan nie wag om te begin nie,” sê hy.

“Ek hoop die game is klaar voor die son steek.”

“Ek’s ook nie lus vir die son nie. Hoe gouer ons klaarkry, hoe gouer kan ek by die bar uitkom vir drinks.”

Die woorde kom spontaan oor Hans se lippe. Dis kompleet of die windgathouding wat uit Melvin straal by hom ook posvat.

Van Phillip kry Hans en Erika net ’n binnensmondse: “Hallo, julle.”

Hans knik sy kop, terwyl Erika ewe koel groet.

Hy is bewus van die spanning tussen dié twee. Dis oor hom. Erika het hom vertel.

Phillip is net so windgat, dink Hans. Maar net wanneer hy op die baan is. In die klubhuis is hy aangenaam, altyd reg met ’n grappie. Die grootste twak onder die son, maar heerlik om oor te lag.

Hans kyk onderlangs na Melvin. Hoop die game is klaar voor die son steek.

Wat sê hy eintlik? Hy gaan een-twee-drie wen, alles verby?

Se gat! Nie só maklik nie!

Daar is ’n flitsgedagte aan sy swak vertoning teen Bongani, en Erika se vermaning dat hulle vandag hul storie moet ken. “Ons speel teen ’n veteraan, onthou.”

Phillip neem beheer, kry alles reg sodat die wedstryd kan begin. Die telbord. Die matte. Die lootjie.

Melvin wen die loot en gryp die mat van die bank af om dit neer te lê.

“Hô,” keer Phillip, “wie’s die coach, ek of jy?”

Hy plaas die mat in posisie en druk die kietie in Melvin se hand.

“Enige distance. Maar onthou, jy sit hom dáár. Ek soek nie short en heavy bowls nie. ’n Halwe meter enige kant toe is okay. Miskien ’n meter hier en daar, niks meer nie. Ons moet vir Erika en Hans ’n bou wys.”

Hans weet hy sê dit doelbewus om die opponente uit te lok. Só breek jy hulle konsentrasie.

Melvin rol wild, glad nie gelukkig met die afjak oor die mat nie. Die kietie rol skeef.

“Bad start,” sê Phillip ontevrede. “As jy só begin . . .”

Dit krap Melvin verder om. Hy bowl aggressief en onverskillig, terwyl Hans in die eerste vier rondes in elke ronde ’n skoot trek.

Elke keer spreek Phillip sy ontevredenheid uit.

Nou sê hy: “Melvin, jy makeer serious training. Retraining. ’n Refresher course. Jy bowl soos ’n novice. Dan short en blockers all over the show, dan heavy en way uit die kop uit.”

“Dis jóú skuld. Jy pik heeltyd op ’n man! En jy staan op my. Dit handicap my. Staan bietjie terug.”

Terwyl Phillip en Melvin mekaar invlieg, maak Hans gereed om sy volgende bal af te stuur. Haal diep asem, konsentreer.

Die bal rol oor sy vingers.

Doef! Soos ’n seepgladde vliegtuiglanding kom hy op die baan neer, dink Hans ingenome.

Erika is in haar skik, hoor hy, want dis weer eens ’n bal wat saak maak – gunstig in die kop geplaas. Maar sy soek meer.

“Kry jou gewig reg. Jy’s nog effens swaar en soms kort.”

Hy knik sy kop, luister na Phillip en Melvin se geredekawel.

“Verder terug?” vra Phillip skepties.

“Ja.”

“En dan, hoe sien jy my gras?”

“Ek kan ver sien.”

“Okay,” sê Phillip traag. “Jou bowls is any case so bad, ons kan seker maar iets anders try.”

Dit werk uitstekend, want Melvin trek ’n goeie skoot.

Phillip lag tevrede. “Lyk my jy kán bowl as jy wil. Ons hou dit so en vat die game huis toe.”

Dis presies wat gebeur. Bal vir bal ryg Melvin die skote in, terwyl Hans sukkel om gewig te kry omdat hy geïrriteerd raak weens die druk wat Erika op hom plaas.

“Jy’t so mooi begin, Hans. Konsentreer! En relax. Jy’s tense.”

Phillip draai na Erika. “Hy staan verkeerd, en hy klou aan die bowls. Dis hoekom hy heavy is.”

“Dis sy konsentrasie,” antwoord Erika gesteurd.

“Dis sy stance, Erika. En die way hy die bowl hou. Sy voete is teenmekaar. Daar moet space wees vir movement sodat hy maklik vorentoe kan step en ’n lekker follow-through kry. Die bowl moet uit jou hand rol. Hy gooi instead van bowl.”

Erika draai haar rug op Phillip, haar aandag elders op die baan, glad nie by Hans wat verontwaardig eenkant staan nie. Hulle gaan tekere oor my asof ek nie hier is nie, dink hy.

Hy beweeg na links, struikel oor ’n bal. Daarvan is sy afrigter salig onbewus.

Toe dit sy beurt is om te bowl, beweeg sy afgemete tot by die grasmerk. Nie ’n woord oor hoe hy moet staan, dat hy met ’n reguit arm moet bowl en moet let op sy follow-through nie.

Hy ruk hom op en bowl halsoorkop. Die bal skoert soos ’n motor wat een wiel verloor het en bots teen ’n bal in die aangrensende speelbaan. Dit deel Erika hom klinies mee, sonder haar gewone drif wanneer hy swak speel.

So asof sy nie meer raad met my het nie, dink hy.

Hy skarrel eenkant toe weg toe hy haar op hom sien afpyl om sy hand te neem. Struikel in die proses oor nog balle. Hy besef dat hy oorreageer, maar kan dit nie help nie.

Die wedstryd draai heeltemal teen hom. Hy kan dit nie hanteer nie. Die bliksemse bowls het ’n wil van hul eie! Dan neuk hulle verby. Dan steek hulle vas en verseg om verder te rol. Dan koers hulle duskant toe of soontoe.

Is dit sy skuld? Al wat hy doen, is om die bliksems te bowl!

Melvin se beker loop oor. Hy het die wedstryd pas met 21/5 in sy guns beklink.

“Dís die klas bowler wat ek is,” spog hy teenoor Phillip, “maar hulle kyk my mis.”

“Jy’s lucky jy’t my vir ’n coach gekry,” antwoord Phillip. “Mooi gespeel, pellie!”

Erika deel in Melvin se vreugde. Gee selfs ’n pryswoordjie aan Phillip soos etiket vereis.

Waar hy eenkant staan en luister, voel Hans bekaf. Vies vir Erika wat so opgewonde saampraat. Asof sy Melvin se coach is, terwyl sy vir hóm niks te sê het nie. Hoeveel keer het hy nie oor balle geneuk en die mat gesoek nie? Gewoonlik pas sy hom soos ’n baba op. Toe ruk sy haar op vir Phillip en . . .

Sy gedagtes stol toe hy merk dat Erika na hom reik om hom van die baan af te lei.

Hy ruk weg. Nie woes of ongeskik nie, net weg.

“Ek sal regkom,” sê hy gesmoord.

“Is jy seker, Hans?”

“Ja. Dankie.”

“Goed. As jy so sê.”

Sy klink afgejak, dink hy. Dit was nie sy bedoeling nie.

Of was dit?

Okay, dit wás ’n afjak. Dis gedaan, so what?

Toe, in ’n poging om die afjak ligter te maak, sê hy: “Dis lig. Son skyn helder.”

Sy kyk net stilswyend na hom. Wat kan hy sê om haar beter te laat voel?

Hy kan aan niks dink nie. Gevolglik, rolbalsak in die hand, maak hy gereed om te loop. Verken die pad met skrefiesoë terwyl hy die bril teen sy gesig vasdruk, asof dít sal help om hom beter te laat sien.

’n Blik na Erika wat voor hom uitloop, drif in haar stap, lyk dit vir hom.

Ja-nee, hy het haar gevoelens gekrenk. En sy is reeds vies oor die game én die hel in vir Phillip.

Nou ja, dit maak twee van hulle. Vir wat hou sy haar met die vyand op terwyl hy haar ondersteuning nodig het? Sy is sý coach. Hulle is saam in die ding. Het saam pak gekry. Hulle moet die pak saam vat.

So, sy’s nie happy met hom nie en hy is vies omdat sy haar met die opponente ophou.

Hulle is kiets. Fair en square kiets.

Wat is daar in elk geval om oor happy te wees? Dit was ’n lelike pak. Hy kan dink wat die ander daaroor te sê gaan hê.

Hulle is ook nie happy met hom nie. Hy kom net nou die dag hier aangesit en hy het ’n regular coach. Die meeste spelers kry elke week ’n ander afrigter. Net topspelers soos Graham Stevens, Jenny Wilson en Bongani Ngema het gereelde afrigters.

Hans struikel oor ’n bal. Erika moes dit gehoor het, want kort voor hom steek sy vas en kyk om.

Nie ’n woord van haar nie. Net daardie stil kyk wat hy nie kan peil nie, maar wel ’n interpretasie aan koppel: Val jou disnis! Jy wil mos nie gehelp wees nie!

Sy loop verder, klim van die baan af en begin aanstryk klubhuis toe. Hy rek sy treë sodat hy nie te ver agterraak nie. Skop weer teen ’n bal. Gelukkig sien Erika dit nie, merk hy verlig.

Op die bank tref nog ’n ramp hom: hy val oor die waterkan. Glase klingel teen mekaar.

Demmit, dis oor hy dóér kyk en nie hier voor hom nie!

Hy spring op, sit die kan terug op die staander. Voel na glase op die grasperk.

Erika kom terug en vat hom aan die hand. Die kyk wat hy van haar kry, spreek boekdele: Één woord van jou, dan los ek jou dat jy jou rêrig disnis val!

Hy kyk by haar gesig verby. Oor die hoed op haar kop die lug in op.

Hy’s vas. Useless. Totally useless. So, hy moet sy woorde sluk.

Hy loop gedwee saam.

In die klubhuis los Erika sy hand en vat die rolbalsak by hom.

Hans staan roerloos. Soos ’n robot wat deur iets, deur iemand beheer word, dink hy. Staan. Dan staan hy. Loop. Dan loop hy. Stilte. Dan swyg hy.

Ná ’n oomblik draai hy rond om te kyk wat van Erika geword het. Sy het niks gesê nie, net die sak gevat en hom gelos. Sy konsentrasie is nie wat dit moet wees nie. Hy het nie geluister watter kant toe sy beweeg nie.

Soontoe?

Terug?

Diékant toe?

Waar hy kyk, is dit vaaldonker. Wasig.

Sy kan nie weg wees nie? Hy het haar tog nie hoor wegbeweeg nie. Sy móét hier iewers wees . . .

Hy draai in die rondte. Draai homself rigtingloos. Hy’s nie meer seker waar die ingang is en watter kant die kroeg nie. Alles wat wil-wil sigbaar word, is vaal, gryserig. Onherkenbaar.

Iets vang sy oog. Iets wat soos ’n mens lyk.

Erika?

Hy kan natuurlik na haar roep, maar hy besluit daarteen. Soos dit is, het hy homself reeds in die verleentheid gestel. Wat as dit nie sy is nie? Met sy oë kan hy van niks seker wees nie.

Dan waag hy dit tog. “Erika?” Baie sag.

“Wat’s dit, Hans?” antwoord sy vlak by hom. “Soek jy my?”

“Nee, nee.”

“Ek bêre gou jou bowls, dan gaan ek kleedkamer toe. Jy weet ons ry later? Die komiteevergadering?”

“Ja, jy’t gesê. Ek gaan kroeg toe vir drinks. Ek sal in die sitkamer wees as jy my soek.” Hy begin loop.

“Hans, wag.”

Sy kom tot by hom, vat sy hand en begin met hom aanstap in die teenoorgestelde rigting.

“Dankie,” prewel hy verleë toe sy hom voor die kroegtoonbank los.

Die rolbalspeler

Подняться наверх