Читать книгу Diepsee - E. Kotze - Страница 5

Winters en tant Fien

Оглавление

“Skêr, skêr,” dreig tant Fien met haar plesierige Koekenaapstem, “as hul vir my koning maak, laat hang ek jou op!”

Haar ou horing van ’n neus wip en haar oë dop dak toe. Lag-lag hang sy die skêr op.

Met dieselfde stem sê sy vir Ma: “Aai, Betta, ek wil baie graag vir jou die laslappies uitknip, maar hierdie skêr kou, jy kan op hom Kaap toe ry en terug. Hoekom moet ’n mens so sukkel, jy het mos darem vir Coen wat ’n skêr kan slyp.” Sy rol die bondel lappe inmekaar met máák-en-dóén-hande en trek haar koffiekoppie nader. Terwyl die lepeltjie vrolik rinkel en die anysbeskuit week, sê sy: “Aaaa-já, jy het darem nog vir Coen, Betta, maar ’n arme weduwee …”

… moet maar die beste van ’n sleg saak maak en verder sien en kom reg … Haar swaarkryjare het begin toe sy haar man afgegee het en sy die boerdery vingeralleen moes oorneem.

Ek sit onder die kombuistafel met ’n roksak propvol rosyntjies, te bang ek byt dalk ’n pit raak, en luister hoe sy daardie riviererf plathardloop. Sy ploeg en ghrop, baal en pars, sy haal haar liggaam uitmekaar om oral by te wees. Sy laat dit borrel en kook. Maar wonderlik genoeg, ruik jy nie een maal lusernstof of sien jy ’n sweetdruppel tap nie – dis net moskonfyt en rosyntjies wat jy proe, en persketameletjie.

En tant Fien sit kersregop op een van ons groen houtstoele, met pienk wange en blink oë. Haar bolla is los bo-op haar kop gedraai en met ’n hoedespeld met ’n sierknop vasgesteek. Haar kolletjiesrok sit ruim oor haar groot krop wat uit haar middellyf uit opstoot tot by haar keel. Daar is ’n Moeder-speld in die V van haar hals vasgesteek.

Sy stryk met haar hand oor haar kussingbors en pik ’n beskuitkrummeltjie van haar skoot af op. “Aaag-ja!” smag sy. “Die liewe lewe.”

Sy het by alles ’n jongetjieskind alleen grootgemaak. Sy het ’n man van hom gemaak.

Die stoom staan by die keteltuit uit en deur die rooster van die swart stoof val daar ’n kooltjie wat vir my met ’n rooi oog loer voordat ’n asvelletjie oor hom toegaan.

“Maar nou voel ek ek raak klaar, Betta. Ek sê vir Erwee, jy sal daaraan moet dink, Ma kan nie vir altyd vir jou sorg nie … hoewel ’n jong vrou haar sit en opstaan sal moet ken om my twee skoene op daardie werf vol te staan … maar my gesondheid is nie meer elke dag daarna nie, Betta … my twee ou bene …”

Sy versit en kruis haar vaal lisle-bene onder die tafel. Sy dra uitgetrapte nommernegeskoene met ’n vlegwerkie oor die voet.

“… die rumatiek vreet my by tye op, Betta. Ek sê vir Erwee, nou moet ek ’n slag by die seewater uitkom, dis mos al wat help as die pyne my so vat, warm seewater. Ek dink sterk daaraan om vir my ’n plekkie by die see te kry, ’n kleinerige huisie miskien. Naby die kerk en dokter – hoewel hulle ook maar moet raai wat jy makeer. Ek glo in my eie rate.” Sy vrywe oor haar voorbors. “Al wat my pla, is die allenigheid … in die nag. ’n Mens kan net ’n toeval kry en wie kom kry jou môreoggend daar lê? Ek kry mos partykeer so ’n benoudheid en dis nie altyd dat vlugsoutwatertjies help nie. Maar wat, ’n mens kan ’n kind ook vra om by jou te kom slaap.”

“Ja-nee,” sê Ma en steek nog ’n houtjie in die stoof, “of anders sal tante maar moet uitkyk vir ’n flukse wewenaar, wat.”

“Hieee!” lag tant Fien. “Hee, mens, waaraan raai jy my dan nou? Mý portuurs skarnier g’neen meer nie, wat moet ek met húlle maak?”

“Mens weet nooit, tante; tant Fien is dalk net die olietjies wat nodig is om die ou skarniere weer reg te maak.”

Tant Fien kyk stip na Ma. “Olie sal ek hom kan olie, Betta, maar verder bodder ek nie met ’n mansmens nie. Ek meen, jy kan hom bring dat ek hom deurkyk … !”

En met dié kyk sy onder die tafel in waar ek kleingetrek sit, en sê, asof sy hoeka van my weet: “Hûtse, Sus, julle moenie vergeet van tannie se water nie, en onthou die stene in die vuur. Brand die vuur al? Ons moet netnou die kuite op die rooster gooi, gaan kyk of die koletjies al uitgebrand is, gaan roer die spannetjie daar buite om … anders kry jy nie vir Erwee nie!” En haar ogies dop dak toe dat net die witte wys. “Toe, ek drink net my koffie dan kom ek self kyk.”

Jy sal dit nie glo nie, maar tant Fien het ’n rug en niere, bloeddruk en ’n keel, ’n maag en gal en bene.

Vir haar bene is daar net een raat en dis warm seewater. Ons dra dit in ’n voetwasbadjie van die see af aan, stort-stort partymaal en baklei-baklei, want dis nie lekker om nat te stort nie. Maar dis beter om nat te word as om jou hand tot by die elmboog in die pekelbalie se sout, vetterige water te steek om mootjies uit te haal. Daarom baklei ons daaroor ook. En wie by tant Fien moet slaap. Wie haar plek vir haar moet gaan warm lê. Jy hoef nie skottelgoed te was nie, maar jy moet vroeër kooi toe gaan.

Dis elke winter se ding.

Net soos die snoek begin loop, kom tant Fien met haar rumatiek. Dis soos ’n warm oostewind wat by ons inwaai en ’n mens se hare gedurig so lig-lig.

Ma keer die vrykamer om en ons hark die werf en wit die kleinhuisie uit. Poenjap bring die kort trapleertjie en was die kombuismure af; die ruite word blinkgevryf, die tafeldoeke kraakgestyf. Die moskalbas word uitgehaal, ons kneus ’n handjievol rosyntjies en die huis is vol van die soet anysgeur van bolletjies.

Pa koop snoek om winddroog te maak – daar is ’n balie mootjies in die pakkamer. ’n Vrag vyehout word in die agterplaas afgelaai en daar brand elke aand ’n vuur in die hoek om die stene warm te maak.

Ons krap twee bakstene toe onder die as. Saans ná ete dompel ons hulle in die badjie seewater en dra dit binnetoe sodat sy haar voete daarin kan hou.

Die vuur brand reeds en onder die afdak sit Essie en Boetie en kyk hoe Poenjap snoek vlek. Hy het ’n paar van die ou groot banklêers wat een-een loop, huis toe gebring. Sy mes sê sjips deur die sagte rugvleis en met een trek val die snoek oop. Hy skraap die binnegoed eenkant toe, trek nog ’n haal teen die graat af en smeer ’n hand vol growwe sout in die naat. Boetie soek die kuite en lewers uit. Die wit skotteltjie is amper vol. Poenjap sny die vlerkies af. Dan maak hy die koppe skoon. Dis vir kerriesop. Hy haal die kiewiete uit en sny die wange en tande weg en druk die oë uit. Essie hou die blinkkom.

“Hoe lyk dit hier?” Tant Fien het Ma se voorskoot oor haar kop, want dit motdou ligweg, en sy snuiwe die vuur en die kuite en die bewerkte koppe. Net een snuif en toe is dit soos paraffien wat jy oor die hout omkeer, dit raas in die skoorsteen op. “O nee, my tate,” en Poenjap moet opsy staan en sy vlekmes afgee, “van snoekkop moet jy nog leer, wat van die neusgaatjies? Daar kom jy nie verby nie, kom laat ek jou wys – jy het mos seker al gesien hoe bewerk ’n mens ’n afvalkop!”

Poenjap kan solank die gevlekte snoek in die sink pak en die sement kom afspuit.

En Boetie en Essie moet die badjie vat en gaan water haal. Kyk waar sit die son al. Ek brand die rooster skoon.

Die kuite sis en spat en skiet oop toe Pa en oom Poon Slagter gelyk om die huis kom.

Oom Poon is ’n boer wat ’n slaghuis op die dorp het en Vrydagaande bring hy altyd ons naweekwors self huis toe. Omdat hy alleen op Skimmelkop bly, kry Ma hom jammer en gee sy vir hom ’n vars brood.

Tant Fien is aan die heen en weer tussen die kombuis en die braaiery toe Pa-hulle om die hoek kom.

Met Ma se bont voorskootjie oor haar kop, steek sy in haar spore vas. Deur haar vaalgedoude brilglase kan sy oom Poon nie mooi eien nie. En oom Poon lyk maar oes in sy vetterige hoedjie en grou kakiehemp. Hy’s nog in die klere waarin hy geslag het, velskoene en bokkniebroek met ’n bloedsmeer hier en daar.

“Tant Fien ken mos vir Poon?” vra Pa.

Tant Fien onthou seker laas jaar se lekker karnaatjieribbetjie. “Nou toe nou, Poon!” en sy kyk van onder af in sy gesig op. “Hene, maar jy’s vergaan, man. Is jy siek?”

“Nee, Fienie,” sê oom Poon, “ek lyk maar so – dis van sukkel daar op Skimmelkop.” En hy gee ’n droë hoesie voor hy sy voete afvee en agter haar instap kombuis toe.

En sukkel die sukkel oom Poon, want die reën het die pan laat oorstoot en sy patatland versuip en hy verwag ’n groot skade as die patats gaan vrot. Hy kom juis hoor of Ma dalk ’n blik patats wil hê, hy begin Maandag uithaal. “Ek sê nie jy moet vat nie, Betta, want hulle sal nie hou nie, maar ’n blik …”

Maar tant Fien is nie een vir bietjies nie. “Ag nee wat, Poon, vir wat sal die patats nou vrot? Ons kan hul op die agterstoep uitpak dat die son hul kry, en hul soet trek. Ek sê jou wat, bring vir ons ’n sakkie patats dat ons patat en snoek kan eet.”

“Nou maar as jy so sê, Fienie. Aankomende week as ons lewe en gesond is …” Oom Poon se stem is hoog en kermrig en sy oë hang droewig. Hy slurp sy koffie op en soek sy hoed onder die stoel.

Ma nooi hom om eers saam te eet. Die kos is so te sê gaar. Sy water die mootjie af en maak kerrie oor die koppe, laat dit nog ’n rukkie deurkook terwyl ons tafel dek en die kinders was.

Daar is triepa wat Ma van die vlerkies en lewers gemaak het en brosgebraaide kuite en kerriesop en soutvis.

Daar is vars brood en ’n glaspot met donkerbruin druiwekonfyt wat na gemmer ruik en wat tant Fien uit die rivier uit saamgebring het om saam met die mootjies te eet.

Sy hou van die sagte pensies en eet die lewers uit die triepa. Die kuite kraak onder haar tande.

Oom Poon sit en kou langtand aan ’n droë stuk dikvis.

Tant Fien stoot die konfytpot oor die breedte van die tafel aan. “Gooi korreljêm oor, Poon, as die vis te sout is. Ons hanepoot was vanjaar so soet dat hy in jou keel kriewel.”

Oom Poon keer met albei hande. “Dankie, Fien, maar dis sooibrand vir my. Ek neem nooit soetigheid nie.”

“Nou maar wat dan van ’n kuitjietjie,” en sy steek ’n dik kuit vas en sit dit in oom Poon se bord. “En ’n skeppie van die lewers, ek sê hul smeer ’n mens so lekker. Eet, mens, dat jy krag in jou liggaam kry. Ek sê altyd, as ek voel daar kom ’n ding aan, eet ek hom weg. Ek maak hom so skrik dat hy net daar slap draai.”

Sy sit ’n kaalgeëte graat in my bord. Sy weet ek hou daarvan om die tepeltjies tussen die litjies uit te kou.

Oom Poon kyk moedeloos na die kos in sy bord. “Maar ek sit klaar met ’n brandsmaak in my mond, Fien,” kerm hy.

Ek kan sien dat tant Fien nog iets wil sê, maar dat sy haar aan tafel bedink.

Later, toe oom Poon reeds weg is, en sy regop voor die stoof sit met die pak rokke tot bokant haar knieë opgetrek en haar voete in die badjie seewater, sê sy vir Ma: “Dit sal my min verwonder as daardie man op ’n dag net so omslaan, Betta. Hy is ellendiger as wat hy dink.”

Sy vryf haar voete oor mekaar en spoel die water oor haar knieë. Hulle is wit en sag soos uitgerysde mosbolletjiedeeg, met fyn duikies in die binnevleise. Sy buk swaar oor haar krop en iemand moet haar voete kom afdroog en die pienk, uitgekamde skaapvelpantoffels help aantrek. Met die twee yslike suikerdonsvoete sit sy voor die stoof terwyl ons die badjie uitdra en omkeer.

“Nou,” sê sy vir Pa, “kan jy vir ons elkeen ’n glasie van daardie boegoeport skink – vir ons mae. Dit voel mos vir my of ek half opgesit is.”

“Ja, die kuite is ryk,” sê Ma.

“Nee wat, ek voel maar al aand so, ek het ook mos maar die maag. Maar die port laat sak hom, daar is niks wat naby boegoe kom nie. Behalwe nou ’n doppie blits as jy dit het. Maar ek kon maar vir arme Poon ook ’n bietjie boegoebrandewyn ingejaag het vir daardie hoes van hom,” verwyt sy haarself. “Hy hoes lelik, Betta.” Maar daar is nou niks aan te doen nie.

Terwyl sy en Pa hul glasies port by die vuur drink, gaan ek solank inkruip om tant Fien se plek warm te lê.

Ek is al half aan die slaap in die middel van die groot verebed toe sy met die lampetbeker waswater inkom. Sy gooi die water in die geblomde porseleinkom en steun toe sy die beker neersit. Dan begin sy uittrek.

Sy lig haar rok oor haar kop en hang dit oor die stoelleuning. Dan die onderrok. Sy rol haar kouse af en skop die ou pienk selenees uit dat hy om haar enkels lê. Sy staan in haar borstrok, smal van heup met ’n bors wat net bo die middellyf begin en opstoot tot teen haar keel. Sy begin ryg die veters los. Deur my ooghare sien ek hoe sy skiet gee … en hoe sy sak. Die krop kom in drie lae los en val oor haar maag. Van haar middellyf af ondertoe is sy skielik rond soos ’n mootjievaatjie.

Sy klim in haar dik flennienaghemp in en woel en spoel onder die geel tent. “Aaa-ja!” sug sy toe sy klaar is, en maak haar hare los. Sy borsel ’n paar maal en vleg ’n los vlegsel. Sy rol ’n bondeltjie los hare om haar vinger. “’n Mens is nes ’n kat, in die somer verhaar jy en in die winter kry jy ’n nuwe pels.” Sy stryk die jong haartjies van haar voorkop af weg. Dan stoot sy haar tande vorentoe en laat plons hulle in die glas. Die mond wat heeldag gejil-en-joel het, sak weg tussen haar kake dat daar net ’n verplooide gaatjie sit – soos ’n bysteek in ’n kafferwaatlemoen.

Dan kniel sy.

“Slaap jy?” vra sy later en druk ’n pepermentjie in my hand.

Haar lyf is groot en sag en sonder bene langs my in die bulsak, so saf en pap soos ’n reusekuit …

Ek het ’n nagmerrie en Ma sê dis van al die rosyntjies en droëperskes.

“Ons eet ’n bietjie geil,” sê tant Fien, maar sit darem kaiings by die smoorsnoek en bestel ’n ekstra vetstertjie by die skaapboud.

Sy kuier lekker. Saans sit ons tot laat nog en amandels kap voor die vuur solank sy haar voete baai. Soggens gaan ons saam wanneer sy see toe stap in haar wit skoene, met ’n sambreel oor haar kop. Want al is dit ook mistige weer, brand die seelug jou vel; hy brand jou éérs, sonder dat jy dit weet, as dit so toegetrek is. Sy tel vere op en kom draai dit in bossies. Dis handig om die asoondjie mee uit te stof, en al die plekkies waar jy nie met ’n lap kan bykom nie.

Sy laat vir Pa die skêre slyp en sommer die vleisbyl en die vleismeul se messie én siffie. Sy knip vir Ma lappies vir ’n kombers uit en voor ’n ent weg aan. Sy leer my hoe om te hekel.

Oom Poon bring die patats en ’n kannetjie melk. “Gaaf,” sê tant Fien. “Betta, jy kan vir ’n verandering vir ons melksnysels maak. Dis nie so swaar nie. Poon, jy kom eet saam. ’n Bord warm melkkos kan jou net goed doen.”

Ma maak die snysels en oom Poon kom.

Hy bring niertjies saam en vetderm.

“Poon, jou patat is nie onaardig nie,” sê tant Fien. “As hulle nie later water trek nie, sal ek sê hul eet lekker.” Sy skep van die lang suursous wat Ma by die niertjies gemaak het, oor die patat en gee vir oom Poon aan. “Jy kan self proe,” sê sy.

Oom Poon se kopvel roer vorentoe en agtertoe en sy adamsappel rol op en af in sy keel.

“So nou, Fienie,” keer hy, “jy sal dat daar fout kom.”

Oom Poon is nie gewoond aan jakopewersop en smoorsnoek en bakpatats aand vir aand nie.

Hy eet byna elke aand by ons. Ons dek al sonder om te vra. Sy vetterige hoed hang agter ons kombuisdeur.

Party aande is tant Fien se badjie water al afgekoel, dan sit hy nog. Hy sit en hoes sy hoesie en drink ’n boegoeportjie saam met Pa-hulle en hy en tant Fien sit en ruil kwale en rate uit.

Vir ’n seer keel hoef jy nie verder as vyeranksop te soek nie – jy hou sommer heeldag ’n koutjie in jou kies, en vir seerbek trek jy ’n bladbok se velletjie af en maak hom sit oor jou lip, dan kan die oostewind maar waai, wat. Droeda trek jy vir hoes en kalmoes vir die maag.

Daar brand vier-vier kerse gelyk op die tafel en Ma se lappieskombers las aan. Want dis elke aand se sit. Tant Fien trek oom Poon soos ’n bakkie suikerwater ’n vlieg.

Baie aande weet ek nie eens sy kom kamer toe nie. Ek lê en luister nog na oom Poon se trekstem en droë hoesie en as ek my weer kom kry, is dit oggend.

Maar op ’n aand kom oom Poon nie uit nie.

En die volgende wat ons hoor, is dat hy siek is. Hy lê siek op Skimmelkop en die dokter was glad uit na hom toe. Dit moet ernstig wees.

Tant Fien kry dadelik haar medisynetrommel reg. “’n Mens moet seker maar gaan kyk hoe dit daar gaan, dis ons Christelike plig.”

As Sus net kan saamry om die hekke oop te maak, ry sy sommer dadelik.

So ry ek dan met tant Fien saam Skimmelkop toe.

Onnodig, want die hekke lê almal oop. “’n Mens kan sien die man is siek, niemand gee om nie,” sê tant Fien en laat my al die konsertinas toesleep en inhaak.

Die werf lyk ook so.

Voor die agterdeur staan ’n vyeboom waarin die hoenders slaap, en die makoue en eende wei tot in die agterdeur. Jy weet skaars waar om te trap. Die agterplaas is modderig van skottelgoedwater wat oor die onderdeur geskiet word en die stoep is weke laas gevee.

Ek is baie bly dat ons ons werf gehark en die kleinhuisie uitgewit het. Want: “O jirretjie,” sê tant Fien en bekyk die wêreld deur haar kar se ruite, “hier lyk dit na doodgaan. ’n Mens kan hier ’n siekte opdoen.” Trommel in die hand stap sy op haar tone tussen die misserigheid deur en vee haar voete ’n paar maal aan ’n dubbelgevoude streepsak af. Haar neus staan doer in die lug en haar mond trek vieserig.

Die kombuis is donker gerook en die agtuurskottelgoed staan nog ingepak, eergister s’n dalk ook. Die vloer is klei getrap.

Mietjie is daar om ons na oom Poon toe te neem.

Hy lê in ’n deurmekaargewoelde kooi, die komberse hoog opgetrek dat net sy kroonhare uitsteek. Sy oë is dik geswel en sy gesig rooi.

“Dis sommer die griep, Fienie, jy moenie gekom het nie, wanneer steek jy nie aan nie …” En hy gaan aaklig aan die hoes.

“Dis inflammasie,” sê tant Fien. “Jy was natuurlik ongerekend met die patatuithalery en nou het jy dit daarvan. Jy het die hoesie van jou te oud laat word.” Sy bekyk die bottel medisyne wat die dokter daar gelos het. “Pure pepermentwater,” sê sy. “Ons sal ’n pap moet maak vir daardie longe.”

Sy laat Mietjie die vuur aanwakker en vra ’n ou laken om op te skeur. Sy werskaf ’n rukkie met haar botteltjies en blikkies en sif dan kamer toe met die mosterdpleister tussen twee borde om dit warm te hou. Sy buk oor oom Poon en lig hom met een hand orent en plak die pap agter sy blad. Toe hy weer teruglê en hard asemhaal, meet sy ’n lepel van die dokter se medisyne af en laat hom dit sluk, ook twee pille. “Kwaad kan dit nie doen nie en ’n mens moet maar goed hou met die mense ook, vir die dag dat jy regtig raadop is.” Sy maak oom Poon toe, en daarna is dit sy en Mietjie in die kombuis.

Sy gooi die vensters oop. “Kom, my suster, kom maak skoon. Maak water warm en was die skottelgoed. Julle sêperyter ruik soos ’n suur kalbas en gooi jy tog nie die melk hierdeur nie?” Sy hou die melkdoek teen die lig. “’n Pottevadoek. Ek sal ’n nuwe maak en bring.”

Sy laat die tafel afskrop en die vuurherd uitstof, sy laat vee die vloer en skrop die modder af, en tussendeur maak sy nuwe pappe wat sy om die beurt op oom Poon se bors en agter sy blad sit. Nie gelyk nie, dan trek jy die man se asem uit sy lyf uit, en dit lyk hoeka of dit nie baie sal kos om Poon dood te dokter nie.

Maar teen die latenstyd slaap oom Poon rustig. Daar kom iemand om vir die nag te bly en tant Fien is vir eers tevrede.

Die volgende oggend gaan koop sy ’n stuk melkdoek en kom soom om. Toe ry ons weer Skimmelkop toe. Oom Poon is soveel beter dat hy orent sit. Maar sy maak vir hom rou melk met eiergeel aan en ’n skootjie brandewyn, ’n druppeltjie terpentyn en soetolietjies.

Sy laat hom dit sluk.

En sy laat vir Mietjie huis skoonmaak. Sy laat skuur en sy laat vryf, sy gooi oop en trek weg. Dis spensrakke en gordyne en komberse, dis spinnerakke en dis stof en dis skimmel. Mietjie het sweetvlekke onder haar arms en tant Fien lyk soos ’n groot, vaal renoster wat ’n pad voor haar oopwerk. Sy laat die ganse en makoue en hoenders in ’n kamp jaag. Sy laat hark en sy laat vee. Sy laat die hout opmekaardra en ’n vuur maak. Sy rol moue op en vat voor.

Sy maak die slaghuis se naweekwors en sy kook seep van die konka kaiings wat al half goor geword het.

Sy ruk die werf reg terwyl oom Poon swak teen die kussings sit.

Later kook sy vir hom gortlym en maak melkpap. “Eet, Poon, dis lekker,” en sy druk die kussings agter hom in.

“Fien,” sê hy, “as jy vir my moet vra wat hóé smaak, weet ek nie. Ek proe lap. My mond is galbitter.”

Sy staan hand in die sy voor hom. “Maar Poon, dan is dit gal wat jy het. Dit moet afgewerk kom. Wanneer laas het jy kasterolie gedrink?” Sy haal net daar die langnekbottel uit en meet in ’n eetlepel af. “Drink, Poon, dat die koors kan afwerk, dat jy gesond kan word,” sê sy met haar hand stewig om sy agterkop.

“Ek gee tog nie meer om nie, Fien, ek het my tyd gehad,” sê hy swak.

“Drink, Poon, dis maar net ’n bietjie olietjies, jy sal nie daarvan doodgaan nie. Maak oop!”

Oom Poon se oë rol soos ’n wilde perd s’n en hy sluk. Hy sluk die halfkoppie lemoensap agterna.

Ek kry die lepel om in die as te gaan druk en gril uit my tone uit vir die taai olieruik.

“Die kasterolie sal hom regruk,” sê tant Fien toe ons die aand huis toe ry. “Hy sal miskien nog vir ’n dag of twee swak wees, maar hy sal regkom.”

’n Paar dae later kom oom Poon hoed in die hand by ons kombuisdeur in. Sy wange is nog hol en sy oë sit diep agter in sy kop. Maar sy broek se plooie is ingepars en sy hemp is glad gestryk. Sy stem is egter nog dieselfde klaerige stem van ouds.

“Fienie,” sê hy en sit met sy hoed op sy knieë voor die stoof, koulik. “Ek weet nie hoe ek moet dankie sê vir alles wat jy gedoen het met my siekte nie. Ek was glad skaam toe ek sien hoe jy gewerk het. Jy moet omtrent flou wees.”

Tant Fien sit rustig by die tafel met die laslappies. Die hoedespeld se kop skitter in haar los gedraaide bolla en haar krop is soos ’n waterkussing tussen haar en die tafel.

“Nee, Poon, dit was vir my ’n plesier. En flou is ek nog lank nie. Ek ken werk en ek ken van regstaan. Dit was vir my net te naar om te sien jy’s toegegroei daar op Skimmelkop. Wat jy kortkom, is ’n vrou daar op die plaas. Hoekom trou jy nie maar nie?”

Die naald flits deur die lappies.

Oom Poon sug diep en kyk by die kombuisvenster uit. Daar wil-wil ’n verwaarloosde laggie om sy mond kruip, maar toe kry die swaarmoedigheid weer die oorhand.

“Ai, ou Fienie, waar sal ek tog ’n vrou kry?” vra hy.

Tant Fienie vou haar hande en trek haar lippe styf. Haar smal voorkoppie plooi. “Poon, hoekom trou jy dan nie maar met mý nie?” vra sy doodernstig. Sy sit styf opgeryg en hou oom Poon stip dop.

Ek kyk vinnig na oom Poon. Sy oë rol daardie kasterolierol van die ander oggend toe tant Fien hom agter die nek beetgehad het. Maar nou is hy nie vasgepen in die kooi nie.

Dis die vinnigste opstaan wat ek nog gesien het. Hy vat sy hoedjie en sy stem is hoog en dun. “Maar Fienie, ek wil nou nie ondankbaar wees nie, maar jy kan mos nog nooit … jy sal jou mos morsdood kom werk daar op Skimmelkop … nee dankie, Fien.”

Hy val oor sy eie voete by die deur uit en sy dagsê kom van buite af.

Ons hoor die hekkie klap.

“En nou?” vra Ma van binne af. “Hoe lyk oom Poon dan nou soos een wat die skrik op die lyf gejaag is?”

“As hy geskrik het,” sê tant Fien met ’n skelm knipoog, “is ek bly. En as hy op loop gejaag is, hoop ek hy hol môre nog.” Dan skop sy haar twee bene in die sonstreep reguit en trek ’n pynlike gesig. “Nee kyk,” sê sy, “siek is een ding, en pyn ’n ander, maar ellendigheid is ’n sonde.”

Sy steek haar hand voor by haar bors in en haal haar beursie uit. “Sus, my dingetjie,” sê sy, “gaan koop vir tannie ’n blikkie brasso, asseblief tog, van die bloue, die witte beteken niks, en dan kom smeer jy my ou knieë in. Dit voel vir my hulle is die seewater ook al weer gewoond. En die seeklimaat is straf vir my rug. Aaag-já, so is dit …”

Sy kry daardie veraf Koekenaapkyk in haar oë.

Sy wonder hoe dit op haar eie werwe gaan.

In ons agterplaas het die houthoop klein geword.

En die snoekkuite is een van die dae ryp.

Ek byt diep in ’n plak perskesmeer en die soet lê heelpad op my tong.

Diepsee

Подняться наверх