Читать книгу Annerkant die longdrop - A. von Meck - Страница 5
1
ОглавлениеPadlangsegoed
Die lewe is unreal, sê Ginkelsnoek. Dis alles skeef. Soos die hare op haar arm wat skuinslinks regop staan. Sy wonder vaagweg hoekom ander mense se voorarmhare in netjiese patrone lê en hare nie. Soos moeras-riete wat deur die gladde bodem van ’n waaierspinnerboot platgedruk word. Die magnetisme in elke liggaam verskil, weet sy. Dit kan in die krone van jou hare en in jou vingerafdrukke gesien word. Die polisie moes haar vingerafdrukke drie maal oor neem vir haar vuurwapenlisensie. Gesê die lyne op haar vingerpunte is baie eienaardig. Soos dié van iemand wat al lank gelewe het. Wou vir konstabel Van As verduidelik dis omdat haar gees so oud is en effens by haar vingers uitloop, geconnect met wat heilig, ancient en ewig is. Operate en lewe buite die grense en beperkinge van lineêre tyd.
Ginkelsnoek kan haarself nie in spieëls sien nie. Haar lyf is soos ’n uitgeknipte gat in die atmosfeer. ’n Spelonk wat sy bewoon waarvan sy die ware dieptes nie ken nie. Die begin van ’n tonnel waarin daar iewers ’n ander, lewendige “iets” woon. Ginkelsnoek se liggaam is net die plek waar sy in dié dimensie uitkom.
Soos ’n deur.
Op any given moment kan sy nie bepaal hoe naby of hoe ver agtertoe die Iets is nie. Meeste mense sit onbewustelik piepklein reg agter hulle gwêlballe. Ginkelsnoek loer nie by haar oë uit omdat die controlboards kamstig by die harsings geleë is nie, maar omdat dit a room with a weeu is. Verbeel haar sy’s die bevelvoerder van ’n massiewe ruimteskip.
Haai, haai, Captain Kirk!
Eenkeer gelees van ’n man oorsee wat by ’n lughawe oorlede is. In ’n nadoodse ondersoek ontdek hulle tot almal se konsternasie toe dat die man se breinkas net vloeistof bevat. En dat hy “normaal” gelewe het. Was al in die vyftig. Put that in your pipe and smoke it.
Vir dié wat weet, is dit lankal reeds obvious die hele storie word van elders beheer. At best is ons maar net rentmeesters. ’n Besadig gekoringde selfverklaarde filosoof het dit vir haar gesê. Sy brilraam het geen lense ingehad nie. Hulle het gesit en chat op ’n houtbankie wat bo-op die dak van ’n skommelende bus vasgemaak was. Goedkoopste sitplekke beskikbaar. Op pad terug Republiek toe van Zambië af, deur die Kariba-grenspos. Met ’n bahula op haar skoot. ’n Blik vol gate met ’n handvatsel waarin mens vuur maak en wilde patat in die kole braai. Microwave, Afrika style.
Ginkelsnoek oefen partykeer om haar liggaam ten volle te okkupeer. Bestudeer die beweging van atlete. Hul geloof dat hulle hul lywe besit en ís.
Confucius says it’s all vewy, vewy strange.
Soms klouter sy versigtig af tot in haar vingers, en sy was al op an excursion of twee tot in ’n been. Sommer in die ruggraat afgesak. Geleer dat die gebruik van haar fisieke sintuie oppervlakkig is. Dat al is haar Conscious Self op enige ander plek in haar liggaam, sy nog steeds die funksies kan benut wat uitsluitlik aan sekere sintuie gekoppel word.
Ginkelsnoek is vaardig. Sy kan bo-op ’n bed lê en onder die bed in kyk deur haar conciousness na haar hand te verskuif.
Comprendo, amigos?
Miskien kan sy selfs sonder ’n liggaam nog steeds bestaan? Ginkelsnoek vermoed al lankal dat daar iets baie fishy aan die gang is. Dat wetenskap en tradisionele godsdiens albei net halwe waarhede vertel. Nou pas sy maar hoede aan tot sy op Holy Ale afkom. Sy’t nie eintlik beplan om al dié weird goed te leer nie.
Is gebore om te soek na Die Iets.
Is van al die wag dat sy sulke dinge begin agterkom het. Wag hier vir ’n lift wat stadig genoeg ry dat sy in die hardloop kan navraag doen oor die bestuurder se vrou en kinders tuis, die opbrengs van sy laaste mielie-oes, én kan opspring; wag daar vir ’n ferry terwyl die blindevlieë op haar rug haar murg met strooitjietonge deur haar hemp suig; wag vir die onbekende groepie blanke mans met gewere om verby te beweeg voor sy uit die boom klim; wag vir die son om die seer uit haar gevriesde heupknoppe te bak ná ’n nag se bevrore slaap op die oewer van ’n seekoeisee. Wag vir die regte woorde, die regte dag sodat haar kop kan inhaak en haar lewe kan begin. Wag vir hom ?
Om met intensiteit te wag, is nie vir popspeel nie, hombré.
Soms kyk sy uit vir scars terwyl sy wag. What a turn-on. Koppel elke merk op haar lyf aan ’n event. Geïnteresseerd in die fyn besonderhede van ander mense se liggame. Lees ’n hele lewe in een voorkopvou. ’n Mooie man geken, eens op ’n tyd, met ’n lang snit oor sy naeltjie tot laag af. Kon skaars lank genoeg wegkyk van daai verloklike lyn om hom te vra waar hy dit gekry het. Nogal ’n weermagaandenking.
Vat hande en naels. Kinders met breinskade se hande is baie meer geplooi as dié van ander kinders. Ginkelsnoek kyk na haar hande met haar moordenaarsduim. Die top van haar duim in ’n worsmasjien verloor. So degrading. Heel gereeld sien sy tussen die Afrika-mense vingers waarvan die een lit af is. Eenkeer amper haar pinkie verloor toe twee vroulike sangomas haar beetgekry het. Was net-net of hulle het om die vuurtjie gedans met haar vinger in die pot. Maak doepa daarvan. Veronderstel om sterker te wees as die brousel wat hulle van bobbejaanhandjies maak.
Haar magnetiese veld loop seker maar horrel? Soos haar lewe. Anders. Weird. Hier, maar ook daar.
Duskant die kakhuisie op die vlakte waar die vlermuis hou.
Hestertjie Haarnaald sê opgewek:
“Moeder, ek wil graag Die Lewe ontdek.”
“Nou goed,” sê haar moeder, “verlaat jy nou ons huis?
Vat biltong, koffie en meel vir jou reis.”
Hestertjie Haarnaald vat die Afrika-trein
van Potgietersrus na Jakkalsfontein.
Van Jakkalsfontein na Waterval-Bo,
en daarvandaan stap sy tot in die Karoo.
Lank is die pad en groot is haar vrese,
nevermind, dis immers háár keuse.
Hestertjie hike toe van Hondeklipbaai,
oor die Maruru en Kaap toe met ’n hengske draai.
Hoeveel dele van jouself kan daar wees? Ginkelsnoek vra dit vir haarself terwyl sy spoeg op haar armhare smeer. Hoe kan daar van haar verwag word om een vaste identiteit te behou as sy self nie van oomblik tot oomblik weet wie sy gaan wees nie? Elke individu is veronderstel om in sy of haar persoonlikheid ’n trapleer van selwe te hê. Baba, kleuter, tiener, en so aan. Wanneer dele van jou stepladder missing is, skakel die verskillende selwe abnormaal of glad nie met mekaar nie. En al was sy een van die weiniges wat dalk ’n volledige interne hiërargie kon gehad het, het iets haar rangskikking in sy glory gestuur. Nou weier sy volstrek om ander middeljarige pubertantes in oorvol kroeë te join en vat liewer die pad wherever toe.
Annerkant die longdrop.
Ekwilibrium in sy maai.
Humpty Dumpty could never be put together again.
Ginkelsnoek verpes dit as mense ’n ander stereotiep beoordeel. Wie ken haar nou eintlik goed genoeg om ’n opinie te gee? Op skool is daar altyd vir haar ouers gesê hoe ’n onderpresteerder sy kamtag is. Meantime het sy op haar ik-toets gecheat. Almal lekker gebol. Dit pas haar fyn om nooit werklik te weet of sy nou eintlik ’n genius in wording is of ’n total moron nie.
Fools.
Afgekyk by Mirella Kadoesak. Griekse dogtertjie met lang, olierige swart hare wat in haar neus gekrap en dit dan geëet het. Lankal uitgefigure om superintelligent te wees, laat jou nie makliker lewe nie.
Nie in hierdie chaotiese maalkolk van ’n society nie.
So ’n outjie op skool geken. Kon glad nie met die ander seuns relate nie. Eers strandlopertjie-beentjies gehad en ’n spiesneus. Later op hoërskool so in die stilligheid van die biblioteek ontpop as baie handsome.
Dit het liggies gesneeu daai dag. Kosskool in die Magaliesberge. Sy’t met ’n stink spoed om die hoek uit die opslaanklas gekom en hy van die teenoorgestelde rigting. Hulle koppe het so hard teen mekaar gekap dat albei disnis op die teer bly lê het. Hy bo-op haar met sy arms om haar, om te keer vir die val. Soos ’n standbeeld van twee omhelsende verliefdes wat omgeslaan het. Kon nog meneer Pitblaas deur die muur hoor praat terwyl hy aan die verstopte porieë op sy gesig druk. Een van daardie cut-out oomblikke waarvan mens instinktief weet dat jy dit vir altyd in jou geheue sal vries.
Hy’t net verdwaas na haar lê en kyk. Wit vlokkies op sy lippe en tussen sy hare.
Common sense is baie meer bruikbaar as mega-intelligensie. Afrikakers is almal maar taamlik kômmen, maar Ginkelsnoek glo ook in haar ras se kronkel-sense. Eintlik is die hele lot baie alternative in hul besonderse logika van hoe mens oorleef in diversity. Hoe anders sou sy dit reggekry het om haar ik-toets af te kyk met die prinsipaal wat hier reg langs haar gestaan het?
Sinne uit gesprekke is geneig om jare na die tyd nog in haar kop te maal soos advertensiedeuntjies. Dit gaan sit in die hol dak van haar verhemelte. Op haar graf sal seker staan:
Hier lê die skone Meraai
Links gewys, maar regs gedraai.
Met haar vinger skryf sy onsigbaar in die lug:
Mister Pitblaas, I had many good intentions.
Die klipkranse straal nog die hitte van die dag uit. Vroeër was Ginkelsnoek tot heel bo. Die sleepsels van Brolloks en Bittergal se stryery lê steeds daar. Haar ouma het Langenhoven geken. Sy baadjie was altyd agter gekreukel.
Mens kan die strepe in die sand net sien as jy vinnig rondomtalie draai, oor jou skouer spu en tussen jou bene deur kyk. Die klimmeide het altyd gesê as ’n baba vir jou so onderdeur die bene loer, is jy volgende om ’n broodjie in die oond te hê.
Dit was lank gelede, maar as die gemsbok vrek met sy horings wat soos ’n pylaanwyser in die droë kloof opwys, kan jy maar weet daar sal weer vars spore in die oggend wees. Naas Langenhoven had sy ook empatie met oom Eugène Marais. Oorlat die weerlig sy vrou geslaan het, oorlat hy ’n morfienfoffie was. Ginkelsnoek ken van gedryf word deur ’n ding sonder ’n stem.
Die enigste karkas wat sy teëgekom het, was op die vlaktes op pad na die rotstoring. Die horings was skuins ingeplant, nes die bok vir oulaas slap gaan lê het. Ribbebene het in die grond gestaan soos die tralies van ’n hok waaruit ’n klein diertjie ontsnap het.
Die opening van die grot waarin sy sit, kry net vroeg-oggendson. Die koue lug uit die keelgat van die berg vat aan haar sitvlak. Om haar oë is die vel droog. Ginkelsnoek snuif effens van die stof wat orals aan haar kleef. Sy lyk diep getan van vuilheid. Ver onder haar staan die Landrover soos ’n ou wrak in die woestyn. Niks groter as ’n baksteen nie. Spyt dat sy hom nie versteek het nie, want nou spoil hy die lyntekening van haar horison. Oor ’n paar dae sal dit dien as herinnering dat daar êrens buite ’n wêreld van petrolpompe is.
Sy vergeet soms te gou.
Snaaks hoe die mens sy eie spesie vrees, peins Ginkelsnoek. Hoe verder jy die woestyn in ry, hoe losser raak jou binneding. Sit sommer so vlak in jou ôg. Skielik is daar niemand vir wie jy iemand hoef te wees nie.
Ginkelsnoek weet ware beserktheid is stil. Ook dat mens terselfdertyd onverklaarbaar gelukkig kan wees. Noord-Amerikaanse Indiane glo in ’n hemel wat hulle die happy hunting grounds noem. Waar al die uitgestorwe buffels weer neusgate rek en teen die wind in proes. Ginkelsnoek kies die woestyn as haar hemel.
Madness en geluk is nie mutually exclusive soos ’n mens verwag nie. Nie soos hondsdolheid met skuim om die mond nie. Baie kwaaiet. Daar is iets soos beserktheid met style.
In die Na-mêp is alles eerlik. Sy laaik dit. Maak haar erg hêppie. Dis hoe sy altyd hier voel. Dinge is terselfdertyd oordrewe én kalm. Jy word vrekken dors en vrékken honger. Ook vrek moeg. As iets sou verkeerd loop, kan jy genuine vrek. Ginkelsnoek worrie nie. Sy stap asof sy in haar eie cartoon is. Haar gedagtes in babbeltjies bo haar kop.
It’s whabbit season!
Om hier jou laaste lê te lê, is om dit met dieselfde dignity as die brawe gemsbok te doen. ’n Dorre graf in die woestyn is ’n trots.
Die plek het ’n manier om haar te laat glimlag.
Dan kyk sy verleë na die hond. Sien hy wat die son aan haar doen?
Die hond loop vooruit sonder om om te kyk. Dit lyk of hy presies weet waar sy sal buk om ’n skerprooi fluweelspinnekoppie op te tel of waar ’n klip haar kaiings sal lok om te gaan sit. Soms slaan sy en die hond spontaan in ’n drafstappie oor. Die hond se hare is lank en swart. Sy gesig skerp-intelligent.
Guab.
Vernoem na die Boesmanstories wat sy op laerskool gelees het. Haar pa kan op Boesman bokke tel en sê die son trek water. Dit klink baie soos iemand wat ’n sebrabiltongderm uit ’n agtertand wil los kou. Teen die oranje sand lyk Guab soos ’n natuurfrats. ’n Wolf, afgeëts teen die barre waterverfagtergrond, wat ligvoets met sy snoet laag op die spikkelsand hardloop. Hulle kon net sowel op Mars gewees het. Bouers van geheime, magiese tekens.
Wie lei en wie volg?
Partymaal raak die donker bewegende vorm voor haar weg. Onmiddellik twyfel sy aan die dier se bestaan. Wanneer hy weer te voorskyn kom, skrik sy amper. Nuwe druppeltjies sweet slaan teen haar nek uit. Mens moet wake-up wees in die natuur. Sharp. Nederig ook. Pa het al dae aaneen opgegooi van sonsteek.
Gesoek onder die kokerbome na die karenjin wat hy as jong seun reggemaak het. Oë wildblink en koorsig rooi. Dan kots hy dié kant toe, dan daai kant toe. Nooit waar die emmer staan nie.
Wiedegoeiefok is ek? Ginkelsnoek vra dit hardop toe sy uitskuif om die laaste gammason te vang. Dit klink soos ’n vraagstuk waarmee sy die heelal wil dwing om te erken daar’s ’n hengse hoax aan die gang and that it’s all been a very peculiar dream.
In ’n grot driekwart teen ’n rotspilaar in die Messum-krater. Gat binne-in ’n groter gat. Sy wonder of dit enige subconscious simboliek sou inhou.
Ginkelsnoek voel ’n bui aankom. Eintlik sommer van geboorte af al. In die woestyn hoef mens gelukkig nie bang te wees vir die tydige of ontydige kêns om jou te pak nie. Hier verskuif jy eenvoudig jou grense van wat aanvaarbaar is. Ma sê sy’s gebore met ’n frons, asof die lewe toe al vir haar ’n puzzle was.
Stadig trek sy haar klere uit.
’n Vodde blou T-hemp wat onder die arms gate deurskyn, en ’n swart draadbra. ’n Jeankortbroek waarvan sy die gulp met ’n toe doekspeld optrek. Laaste haar swart onderjokkie. Sy los haar robvelskoene en sokkies aan vir die donker skerpioen. Een steek en jy het presies ses minute om ’n boodskappie in die sand uit te krap.
’n Verwaande poloniepienk man het een woestynknypergoggajoen in ’n sigaretdosie uitgesmokkel Europa toe. Eers ná vier maande hongersnood het die skerpioen gedood, ver van sy land. Dit maak haar vies om daaraan te dink.
Arrogante idioot.
Die Duitser was ’n handelaar in verbode goedere wat haar ’n lift gegee het in Malawi, so slapskuinsonder Zambië. Terwyl sy en hy nog besig was om te onderhandel, skyt ’n kraai haar voorkop vol. Sy’t opgekyk en gesien hoe die swart voël ewe nonchalant sy pote soos ’n vliegtuig se undercarriage intrek.
Stadig die taai, wit stroop by haar wenkbroue begin afvee. Toe gooi die smokkelaar in die pad op. Wimp.
Smiddae moes hulle groepie in die bos wegkruip om presies op die nippertjie saans oor die grensposte te kon gaan wanneer die beamptes al goed gesuip aan die bribes was. Elke nag het Ginkelsnoek en die ander swart hikers geamuseerd toegekyk terwyl die wimp ’n volledige tent opslaan met al wat ’n gadget is. Dan zip hy homself deeglik toe, al vloekend vir die ongerief van die kontinent wat hy so besteel het.
Ginkelsnoek net so buite gelos om alleen by die swart mans te slaap. Na die eerste versigtige nag saam het sy dit so verkies. Voor die ritssluiters toegetrek is vir die nag het Deutschland-über-Alles altyd eers met ’n medisynetassie die ruigtes in verdwyn. Jy-hoort-nie-in-Afrika-pitswere.
Die stroompie water uit die kan maak slukgeluide. Dis louwarm van agter op die Landrover staan. Terwyl Ginkelsnoek vooroor buk, gooi sy dit oor haar kop uit. Dan haar rug en bene. Op haar regterknieg is ’n wit streep. Motorongeluk toe sy nog opreg beneuk was. Deesdae is sy net mildly befukkert.
Die hond se naels krap op die rotse soos hy van klip tot klip spring. Jaag koggelmanders wat met blou nekpantsers vies wegskarrel. In die skemer lyk die opening van die grot soos ’n bek. Die hond soos ’n insek wat uitklouter oor die gesig, kop toe. ’n Kratersfinks.
Die laaste water gooi sy in ’n deksel. Hy sal dit drink as hy terugkom. Die hond blaf. Ginkelsnoek kyk op en besluit om gou met die laaste lig weer tot bo te gaan. Vér kyk. Skoon. Sieloopgooi.
Waar is jy?
Eers dog Ginkelsnoek sy roep die hondwolf. Na ’n oomblik van nadenke skree sy impulsief weer. Harder.
Waar is jy?
’n Enkele ritmiese geluid. Doef, dadoef, doef, dadoef.
’n Hartklop.
Stella-se-bos. Sonstrale val deur die verseëlde bottel rooi wyn op die vensterbank. Die ouer studente het eerste opsie op die beste kamers en die “new shits” met hulle vragte outfits en hang-ups moet maar skarrel vir ’n gaatjie elk. Selfs die mop-en-besemkas onder die trap word geoccupy. Daar’s net plek vir ’n matras op die vloer as jy die een kant effens teen die muur laat opkrul. Ginkelsnoek weet dit omdat sy self noodgedwonge ’n paar weke in Die Kas gewoon het en haar stewelmerk nog trots op die lae dakkie pryk. Elke nuwe inwoner voeg nog ’n voetprint by.
Drywende bloupers kolle weerkaats op haar kamer se muur en vloer. Ginkelsnoek wonder of die avokado’s in die boom buite die venster al ryp is?
In die toilet wat hulle almal deel, is ’n poster. Oor ’n politieke praatjie. Sy sou nogal graag na die alternatiewe band wou gaan luister wat voor die tyd speel. Jammer net dis al amper twee jaar oud.
’n Inside joke in die huis is om in die oop stort te klim sodra ’n besoekende mansvriend die toiletjie gebruik. Aangesien dit ’n afskortinkie binne-in die groot badkamer met die storte is, moet die vent dan benoud daar sit tot die persoon klaar gestort is. Of kan hy uitkom?
Die “prime”-kamer is lank uitgerek met groot vensters. Die lampskerm is ’n afskuwelike rietbal. Eerstejaar-kunspoging van SyWatDoen, Ginkelsnoek se jongste suster met wie sy die prime-kamer deel. Ginkelsnoek dink dis groot genoeg om vir ’n kanariehok te gebruik. Net ’n bodem insit. Nie dat sy so ’n gevangenskap sou verdra nie. Hulle beplan al van hul voorgraadse jare om permanente gordyne te hang. Nie een van die designs het dit tot dusver op die hakies gemaak nie. Soms spyker Ginkelsnoek sommer ’n seegroen laken vas. As die son te warm bak of as die verwers vir reparasies kom. Almal van hulle in die huis het al die een of ander tyd hande oor die borste vas in ’n overall gekyk wat van buite af by ’n venster inloer. Stry vir dood hulle doen net hulle jôp.
Jagse honde, die hele lot.
Die lakengordyn hou ook maar net tot iemand weer beddens oortrek en linne kort. In teenoorgestelde hoeke staan elk ’n bed, kas en lessenaar. Een met ’n mikrogolf, die ander met ’n rekenaar. Die eerste ’n gesamentlike erfstuk van hul oujongnooitantes op die dorp en die woordverwerker, Ginkelsnoek se krag-en-escape. Partykeer kom sit een van haar susters se boyfriends games daarop en speel. Die middelste suster, SyWatDroom, bewoon die solder reg bo die prime. Ginkelsnoek sou eintlik verkies het om glad nie haar rekenaar te deel nie. Hou rekord van al haar fobies. Kodenaam jy sal. Vir “Jy sal oorwin”. Take de bull by de horns. As jy klaar gekarnuffel onder lê, probeer gryp na die balls.
Aan die voorpunt van die huis is die Spookkamer. Nie omdat dit daar meer goël as in Ginkelsnoek se kop nie, maar omdat die huur betaal word deur ’n meisie se ouers wat nie weet dat hul joolkoningin-dogtertjie reeds jare lank by haar kêrel woon nie. Die res van die huis se inwoners het ’n deal om haar te cover as haar ouers ooit sou opdaag, solank hulle die kamer op tydelike basis mag uitverhuur. Die geld is hulle huisfonds waarmee hulle onder meer M-Net laat insit het. Meestal verhuur hulle dit aan oorsese backpackers.
Alhoewel die universiteit ’n verbod het op gemengde huise, het twee Nieu-Seelandse ouens dit vir maande beset. Voor dit was hulle glo op teen die ooskus. Betaal om met ’n staalhok in die see af te sak terwyl oervleisvreters die boot sirkel. Witdoos-haaie is nie vir laaities wat die pitte uit hul waatlemoen haal nie, vertel Gansbaai se perlemoensmokkelaars ernstig.
Hierdie jaar het Ginkelsnoek-hulle toegestem om die spookkamer aan die Sluiper te verhuur. Van Paternoster se wêreld. Pa het glo die jackpot met die glansklippertjies gestrike. Het hulle ’n paar honderd ekstra aangebied.
Wie was hulle om ’n perd se stert te lig?
Daarvoor sal hulle sy nagtelike dwalings, ongure karakter en higiëne maar moes verduur. Toe hulle vir hom spasie in die kombuis wou aanbied, het hy net gelag en sy voete geskuifel.
Bedags het hulle hom weinig buite gesien en selfs snags het hy altyd ’n reflekterende sonbril gedra. As hy met jou staan en praat, het die punte van sy verslonste Bob Geldoff-hare nat van die spoeg geword. Tog het hy dit nooit uit sy mond gehaal nie. Net met sy tong in die hoeke gelek.
Soos Mr Bean. Mens kon nie help om daarna te kyk nie. SyWatDroom het altyd gespot dat as hy met daai lang tong sy wenkbroue kan reguit lek, verklaar sy eerste opsie op hom.
Disgusting.
Winter of somer het hy ’n verrimpelde reënjas gedra waarvan die een sak afgeskeur was. Ook ’n plastiek-eksamensakkie. Van daai aaklige freebees wat mens saam met jou insurance policy kry. ’n Agent het al vir SyWatDoen in hul kamer probeer vasdruk. Vent het ewe eers vir haar foto’s van sy twee nasaatjies gewys. Asof sy moes impress wees dat hy kan.
“E” vir êshol.
’n Begrafnisondernemer gekruis met ’n date-’n-doedie-diaken. Dis waaraan die Sluiper vir Ginkelsnoek laat dink het – nie dat sy dit teen hom sou hou nie. Haar hele familie het ’n geskiedenis van by begraafplase uithang. Alternatiewe gebruik van dooiemansgrond. Op die plaas in Suidwes het die vlieë soms sulke slapvlerksirkels onder die kombuisdak gedraai. Dit was wanneer die giftige vlieëtong klaar vol slagoffertjies was, dat mens enigiets sou doen vir ’n bietjie verandering van scenery. Dan het Ma vrolik voorgestel hulle gaan woon ’n begrafnis by van nog ’n onbekende wat op die grootpad hul dorp gemerk het.
Glads bevriend geraak met die tatta wat opsigter daar was. Mandjie droëwors en fles swart koffie gepak om by die outa op die grafte te gaan kuier. Saam gekyk hoe outa Koenaat skelm die cardboardkis omdop ná die polisie weg is en die lyk net so in die gat laat afval het. Verwoed grond gespit voor iemand teruggekom het en kon sien hoe Joagim Doe op die harde bodem gelat lê is.
Another one bites the dust, en die vliege by die huis het nog steeds nie ’n plekkie op die oorbevrekte vlieëvanger gekry nie. Dan verkoop outa Koenaat dieselfde kis die volgende week weer in die lokasie. Ma het Outa se entrepreneurskap bewonder.
Die Sluiper se ongenadiglik lange naels het Ginkelsnoek laat dink aan die godsdienstige nomades van Indië. Party het hul vingernaels so lank laat word dat dit terug omkrul en regdeur hul handpalms groei. Soek ook Die Iets, maar as hulle nog gepraat het, kon hulle nie vir Ginkelsnoek sê hoe of waar sy “hom” kon kry nie. Die sadhu’s se liggame was gewoonlik met as besmeer en hulle het sulke rasta-haardrolle op hul koppe gedra. Goeie foto’s gemaak. Geld gebedel as hulle agtergekom het jy neem hulle af. Party het sekere liggaamsdele ’n leeftyd lank opsetlik nie gebruik nie. Soos ’n arm, wat dan mettertyd heeltemal opgedroog en saamgetrek het. Een gesien wie se tong tot op sy borskas hang. Spier totaal en al slap uitgerek soos iemand wat aan ’n galg gesterf het. Stuk spyker ook nog daardeur gehad.
Die Sluiper lees ure lank comics in die klein toiletjie, wat verhoed dat enigiemand kan gaan stort. SyWatDroom het hom deur die cardboardafskorting gewaarsku hy gaan nog sy pols verstuit van oordadige wanking. Toe grin hy net kop-onderstebo. Plastiek-swartraambril nog steeds op.
Nou vra ek jou, kan mens kla?
Elke oggend maak die mikrogolfie se tydklokkie vir Ginkelsnoek wakker. As dit oats is, weet sy haar suster gaan gym. Wheatbix beteken draf. Ting! Kos is reg, melk warm.
Eerder die gort wat gaar is, dink sy komatoosbewusteloos. SyWatDoen se lewe is in blokkies opgedeel, nes haar pap. Soggens is Ginkelsnoek geneig om aan idiome te dink wat sy op hoërskool moes ken. Die koeël is deur die kerk. Elmboog lig. Rooi hakskene hê. Maljan onder die hoenders.
Dis haar suster se skuld. Sober, rigiede roetine sal dit aan mens doen. Jou idiome laat opsê twaalf jaar na matriek. Juffrou, wat agter die laaste opslaanklas na die getroude digter-onnie gevry het, se van was Defokkenkakus. Ginkelsnoek het jare lank gehoop sy trou eendag met dieselfde naam. Lekker kragtig. Sê iets. Niks slapgat nie.
SyWatDoen het die regte tyd en plek vir elke aksie. Alles presies voorspelbaar. Dit is hoekom Ginkelsnoek aspris haar porsies nuke totdat dit teen die kante van die mikrogolf spat. Haar suster kla konstant daaroor. Al hoe Ginkelsnoek ooit weer aan die slaap raak. Gedagtes aan revenge.
Ginkelsnoek maak of sy slaap wanneer SyWatDoen terugkom vir ’n vinnige stort na haar oefeninge. Sy raak nooit moeg om na haar susters se lywe te kyk nie. Waar hulle dieselfde of anders is. Stukkies van Ma en van Pa wat uitsteek. Dit voel asof sy eienaarskap met hulle deel. Eenmaal toe ’n letsel op een se voet uitgesny moes word, wou sy sommer huil. Nie geweet hoekom nie.
Onder in SyWatDoen se kas lê drie paar identiese skoene. Verskillende kleure. Ginkelsnoek kan dit sien van waar sy lê en loer omdat dit teen haar kleinsus se beginsels is om deure toe te maak. Alles moet altyd op display wees. Dit maak wroeginge wakker in Ginkelsnoek as sy daarna kyk. Sê nou maar sy is net ’n verbrokkeling van haar suster? Dit sou beteken dat een van daai paar skoene in werklikheid aan haar behoort. Skêrie and hopefully not true.
In standerd twee het sy eendag orals in die huis rondgekrap om haar aannemingsdokumente te soek. Enigiets om haar te oortuig dat sy ’n wese apart van haar twee susters is. Soms wonder sy nog steeds daaroor.
Koebaai!
SyWatDoen maak nooit die kamerdeur ordentlik toe nie. Dit forseer Ginkelsnoek om eers op te staan voor sy verder kan slaap. Die haardroër lê op die vloer. Die koord verdwyn agter die lessenaar in. Dit beteken die rekenaar is ontkoppel. Vryf haar oë. Ginkelsnoek staan moedeloos met die haardroër in haar hand asof sy iemand daarmee wil wegblaas.
Smiddae pryk SyWatDoen en haar aanhangsels by sigbare uithangplekke in die middedorp. Verkieslik iets met ’n buite-stoep. Aan die straat se kant. Hoe meer mense hulle sien, hoe beter die options, glo hulle. Designer jeans met die regte labels. Kort toppies met oop mae. Ringe om hul duime en deur hul naeltjies. Light sigarette of selfgerolde skywe van piesangblare.
Gehennade rooibruin hare wat in hul kredietkaarte weerkaats. Hulle lyk verveeld wanneer die order kom en hulle ignoreer die kelnerin tot op die laaste. Sou sy dalk ’n klasmaat wees, maak hulle ongemaklik geselskap. Sodra sy loop, knak die koppe in gelid vorentoe om haar te bespreek. Toilet toe gaan, is ’n groep-uitstappie. In die kleedkamers leen hulle mekaar se donker lipliner. Hulle rek hulle oë terwyl hulle dit aansit. As jy met hulle praat, kyk hulle nie na jou nie, maar in die spieël. Ginkelsnoek loop wye draaie om die poele waar die jong haaie jag.
Die paddavissie in die ronde glasbak swem gedwee rond. Haar solderkamersuster, SyWatDroom, het gesê hy lyk soos ’n monstersperm. Ginkelsnoek neem in ag dat haar suster ’n daggazol van Scarborough Gold so groot soos die Taalmonument in haar hand gehad het toe sy dit gesê het. SyWatDroom kan anyway nogal sinies oor mans wees.
Snags van die snelweg af lyk dit of die Taalmonument ’n reus is wat begrawe lê en vinger wys. Glo die Sluiper wat die observasie gemaak het.
Ginkelsnoek hou die bak op haar maag. Dit maak deinings as sy haar asem uitblaas. Die paddavissie raak nou gevaarlik dik, dink sy. As sy die glasrand op haar voorkop en neus balanseer, kan sy die spiraal van sy ingewande sien. Sy is verbaas die paddavissie lewe nog.
Dit was haar laaste dag in die Namib gewees. Die krater is so massief dat mens nie met die oog kan sien jy is in ’n moewiese gat nie. Die reliëfkaart wys die ware afmetings daarvan. Ál met ’n droë rivierbedding langs gery. Die hond se speeksel het drade getap tot op die sitplek. Sy tong het gelyk soos ’n lewende vleisdiertjie wat uit sy mond probeer bungee. Teen skemer moes hulle tuis wees. Anders stuur haar pa-hulle iemand uit om die Landrover se spore te volg. Nie Fauna en Flora se kabouters nie. Dié verdwaal self so dat as die bier opraak, hulle radiatorwater moet drink. Dis gewoonlik maar die Landrover wat onklaar raak. Ginkelsnoek het gewens dat sy eintlik gesê het hulle sou eers die volgende dag terugkom. Al hou sy van die Kaap, is daar hoeke van haar binneste hart wat net in Suidwes oopmaak. As hulle Ginkelsnoek oopslag, sou hulle Karoobossies en sand kry. Sy hou daarvan dat haar ma dit gesê het. Dis waar, smile sy.
Dis toe dat sy die voëls sien. Honderde.
Meestal wittes, maar ook klein valetjies. Hier en daar ’n helderblink oranjerooie met ’n stomp bekkie. Die hond was so vinnig by die ruit uit, sy dog sy skraap hom met die voorwiel.
Toe Guab op hulle afstorm, het die voëlwolk skaars gelig. Ongewoond aan enige bedreiging. Besef toe die attraksie is ’n poel reënwater. Dit was die eerste maal dat Ginkelsnoek dié verskynsel ervaar. Die kamera agter uitgehaal. Lens gestel op hond wat wild tussen die voëls hap terwyl sy stert die water slaan. Die water was nie regtig koud nie. Ginkelsnoek het saam met die hond daarin gaan lê asof vir dood. Nogtans het dit haar gedagtes minder traag laat voel as ’n oomblik tevore in die derde-klippie-van-die-son-hitte. Die geraas en beweging van die massa voëls was verblindend.
Ginkelsnoek het haar hoed laag afgetrek en met haar kop op haar arms gelê. Rooi modder het die water gekleur waar haar vingers ingedagte getrommel het. Dit het van die diertjies se pootjies af gekom.
Daar was musiek in haar kop. Nie woorde nie, meer soos strepe klank. Alle geluide in die natuur is presies gekoördineer, al kan die gewone mensoor dit nie onderskei nie. Ginkelsnoek se ore hoor soms verder. Mos van die wag. En die soek.
As mens alles sou opvang wat jy in ’n paar oomblikke in die natuur hoor, stadig uitrek en musikaal op ’n skaal omskryf, sou jy duidelik kon sien dat wat vir die ongeoefende oor soos gekwetter klink, eintlik geharmoniseer is. Selfs die kriek of sonbesie se onophoudelike klank het ’n presiese ritme, dis net te vinnig om deur normale gehoor opgevang te word. Mense vra Ginkelsnoek soms hoe sy dit weet, maar sy kan nie verduidelik hoe nie.
Dit is net.
Die lied in en om haar se lyne het saamgevloei in ’n brander wat haar reënboë teen haar toe ooglede laat sien het. The darkness behind closed eyes. Die lenslose wyse op die dak van daai jollie bus het vertel dat hy vermoed die donkerte om ’n mens is niks dikker as die dunste sluier nie. Dat daar anderkant dit net Lig is, maar dat die Donkerte ons fool om te dink ons hoort almal in die duister.
Ek is na aan versuip, het sy sonder emosie gedink.
Scarlet, darling, want to cross the Barrier?
Nee, wat, teen die tyd dat haar pa-hulle haar lyk kry, sou sy so vol voëlmis wees dat hulle koppies guano van haar sou kon afskep. Dis net nie quite striking genoeg vir ’n laaste indruk nie.
Die woestyndiere weet myle ver van die water. Dié wat vlieg, sien die weerkaatsing. Ander ruik dit. Die ongewone vogtigheid prikkel al hul sensors. Wanneer sy en die hond stop om te eet, gooi sy altyd ’n bietjie water uit in ’n rotsholte. Binne tellings sal perdebye of selfs ’n voëltjie daarop afduik om te kom drink. Mooi.
Waterhondjies in ’n leë koffiefles opgeskep. Dis met dié dat sy toe ook per ongeluk ’n paddavissie vang. Besluit om dit vir Ma te gee. Miskien sou Ma dit in die vet bottel bo-op die yskas grootmaak. Of dalk vir haar katte voer? Ma’s het nie noodwendig nurturing persoonlikhede nie.
Blink geverfde pampoene. Hulle lyk soos versteende, uitgerekte meidetieties. Kristelike huise op die platteland stal almal iets uit in een hoek van die sitkamer. Of in die ingangsportaal as daar een is. Vir decoration. Een pampoen vir elke bekeerling uit die lokasie. Ook ornamentjies. Gemaak in huisvrou-keramiekklasse. Op Ginkelsnoek se tannie se rak staan ’n boesmankop. Korreltjieshare gemaak met klei wat deur ’n sif gedruk word. Werk goed. Lyk amper of die persoon iets van kuns weet.
Die wasmasjien skud-en-ruk in die waskamer. Dis regs langs die oopplankombuis. Die geluid maak Ginkelsnoek rustig.
Soos die gesus van die aia toe sy nog ’n klein dogtertjie was en op haar rug rondgedra is. Aia het begeer om ’n Volla te besit. Ma het toe maar vir Aia geleer bestuur op die vliegveld, waar Ginkelsnoek en SyWatDroom ook later geleer het. Een houvas die trok se stuurwiel, Ma roep instruksies bo-oor die lawaai en die ander suster hang by die venster uit om te waarsku teen inkomende vliegtuie. G’n wonder hulle is almal geneig om in die lug op te kyk as hulle ’n draai wil vat nie.
Die sitkamer het twee stelle, gemeng. Een baie oud en die ander gewoonweg oud. Dit gaan nuut oorgetrek word sodra daar ietsie ekstra is. Oom Boekevat het self die huis gebou. Tannie het ontwerp. Nou is die stoep te kort. Hier en daar draai ’n muur met ’n onverklaarbare angle. Gesellig.
Naweke weg van die universiteitslewe gee haar weer perspektief. Dis wat Ginkelsnoek vir Oom ná aandgodsdiens sê. Naaste dorp is Garies. Waar die stof twee meter hoog aan albei kante van die pad groei. Tannie doen net een keer ’n maand inkopies. Vries die brode of bak self.
Een keer ’n jaar vat hulle die Ventertjie met die roeskolle en pak af Moederstad toe. Dan trek Oom spesiaal sy Kaapskoene aan wat sy kinders vir hom gegee het. Hou dit net so in die boks onderin sy klerekas. Die hakke skawe hom nog elke keer. Sit gevoude stukkies koerant in teen hakskeen-blase. Ná ’n oggend in die Kaap is Oom-hulle opgegroet. Oom lig sy velhoed vir elkeen wat hy verbygaan en wag beleef by die robots tot almal klaar is, of dit nou groen slaan vir hom of nie.
Wat reg is, is reg en wat sleg is, is sleg. Oom sê dit as hy sy hoed regskuif op sy kop. Sodom en Gomorra.
Dis wat Oom dink van enige plek verder as twintig kilometer duskant Citrusdal. Oom ry sy bakkie in Garies asof dit ’n bielie van ’n vosperd is. Vyf karre gelyk in die hoofstraat en hulle het ’n verkeersknoop. Moet ekstra hulp van Springbok af laat kom.
Hondeklipbaai se bamboes lê soos tamaai groot pap swart wurms wat rof gekartelde hare aan die een kant het, die hele strandjie vol. Asof die bamboes ’n onderwaterse rockgroep is wat gedope ná elke konsert op die strand uitkruip met bars hangovers.
Visserbote wieg kreunend in die water met hul naambordjies waarvan die verf al gebleik is. Die Therona se borskas sak diep weg met elke brander wat strand toe druk. Van die sitkamer se venster kan mens die skuite net sien as jy op die bank sit. Oom Boekevat sê mens kan onmoontlik moeg raak om daarna te kyk.
Salig.
Die Bybel is voos geonderstreep. In die kantlyne staan datums. Beloftes van die Here God. Jehuwah ra-ah. Die Here is my Herder. Vir werk vir Oom-hulle se kinders in ’n land wat nie meer vir hom na sy eie voel nie. Soms kom die volkies bymekaar en dan hou Oom die biduur. Lei die gebed vir dank teenoor die Vader vir ’n dak oor hul koppe. Toe bid een vodde meid uit die geledere plegtig agterna vir ’n dak oor hul konte.
Ginkelsnoek en oom Boekevat praat nie oor haar kamstige swottings nie. Oom glo nie daaraan nie. Televisie met ’n byl stukkend gekap. Donkiejare gelede al. Toe die sabc se kenteken nog soos ’n toilet seat gelyk het. Die teewee se stukkende binnedrade weggemaak en gebruik dit nou as ’n hokkie om kuikens in uit te broei. Werk heel goed.
Hy’s ’n wyse man. Skerpsagte verkyk-oë. Langs Oom se mondhoeke is nuwe grys baard.
Dit maak Ginkelsnoek waansinnig bang. Lineêre tyd. Vreet die vleis van die mense se gebeentes af terwyl sy nog met hulle sit en gesels. Kyk altyd na mense se tande. Dis asof sy die persoon reeds dood sien. Jou tande is tog die enigste plek waar jou geraamte deur jou vleis uitsteek.
Ginkelsnoek het ’n passie vir doodsbeendere. As sy ’n baba in ’n pram sien, kan sy maklik die presiese skedel denkbeeldig ontleed. Indien mens die skelet van ’n spesie goed genoeg ken, kan jy ook ’n taamlik akkurate voorspelling maak van spierverspreiding. So kan Ginkelsnoek na ’n jong kind kyk en ’n goeie idee hê van hoe die kind sal lyk as grootmens.
Op die Bos was daar ’n ouk met die bynaam Mens. Die hegspiere van sy kake bo sy oogkasse was so oorontwikkel dat hy sy sonbril op sy voorkop kon hou. Nogals gepas vir die mentaliteit wat jy daar gekry het.
Ginkelsnoek vertel vewy diplomaties nie vir Oom en Tannie hoe dit regtig tussen die swotters gaan nie. Dat een mans-koshuis berug daarvoor is dat hulle damestudente vang, stort en dan in ’n donker kamer op ’n tafel sit sodat elke loser met hormone wat wil, ’n goeie grab kan inkry. Ouens wat met karre in hul koshuis se quad rondjaag en bierblikke na die omstanders mik. Eerstejaars wat in die bome oorkant die koshuisgebou verbydrentelaars voorlê en nie skroom om bakstene deur motors se voorruite te gooi nie. Een Simonsberger het slim in ’n drein gaan wegkruip. Nou en dan “Bekfluitjie!” geskree. Toe parkeer hulle ’n kar bo-op hom vir ’n paar dae lank.
Rumour had it dat die einste lot by die botaniese tuin al die pragtige bonsai-boompies gesteel het. Goed het oop en bloot in die vensterbanke en op kaste staan en vrek. Universiteitsowerheid het maar oor hul teekoppies heen anderkant toe gekyk.
Barbare.
Ginkelsnoek is baie versigtig vir groepsdruk. Al gesien hoe ouens wat maar vaal seuntjies is, in ’n groep tot walglike dade aangepor kan word. Dieselfde gedrag in politieke boewery gesien. Elke lafaard wat ’n hap vat terwyl sy anonimiteit deur die groep beskerm word. Besope buffels wat niks daarvan dink om meisies met die vuis te moker nie.
Oom Boekevat het sendingveld se kant toe gepraat. Of miskien kon Ginkelsnoek sommer met ’n plattelandse miljoenêrtjie trou? Tannie het dit voorgestel. Oom Boekevat het sy kop geskud. Nee, wat, die kind is gemaak vir die pad. Nes ’n vis wat versmoor as dit sou ophou beweeg. Ginkelsnoek se beroep en haar man sou padlangsegoed moes wees of dit sou nooit met haar tred kon hou nie. Ginkelsnoek verander rats die topic. Netnou sê haar oom per ongeluk iets wat waar is.
’n Rondreisende professionele lykwasser. Dis die enigste beroep waarmee Ginkelsnoek oortuigend vir haarself vorendag kon kom. Wiskundepunte was egter te swak. Pleks hulle haar oog toets vir geraamtes organise. In argeologie moes hulle robbe opkook en dan weer aanmekaarsit. Sy was ’n natural. Die versorging van iemand se revolving door ná hulle vertrek het, was vir haar ’n baie aantreklike idee. Dit, en die feit dat sy dan elke dag in stilte oor die longdrop kon peins.
Oom Boekevat was altyd so ’n crazy jong man. Dis vir Ginkelsnoek ’n verleentheid. Asof sy nie respekvol genoeg is nie. Dié feit dat sy self ook lankal reeds ’n grootmens is. In Ouma-hulle se huis het sy op Oom se rug die gang af gery. Dis toe oom Boekevat nog vir Tannie kom kuiervry het. Tannie het vir haar pienk Star-lekkers in die toilet weggesteek. Hulle lag saam voor die venster oor die ou dae terwyl die vissermense op die strand nette vou en skoonmaak. Die gety kom stadig in.
Daai toilet was doer aan die onderent van ’n lang gang in Ouma-hulle se pastorie. Daar gearriveer, kon mens die toiletdeur toemaak. Die gang se donker afsluit. Die toiletdak was hoog. Die mure ekstra wit. Sonlig het by ’n geruite venstertjie sonder gordyn ingeskyn. Agter die deur was ’n enkele kerkalmanak. ’n Dowwe swart-en-wit foto van die kerk se toring. Party jare was dit van verder geneem. Dan kon sy deel van die tuin uitmaak wat Ouma aangelê het. Gesiggies en poppies.
Die toiletpapier was te ver om by te kom. Sy moes vorentoe skuif en lankuitgryp sonder om druppeltjies op die sitplek te mors. Eenmaal het Oupa van die preekstoel af vir Ginkelsnoek gesê om stil te sit. Sy’t ’n regte piepklein muis op ’n tannie se hoed in die bank voor hulle gesien. Die muis het in die hoed se massiewe plastiek-vrugterangskikking geskuil.
Hoe kry mens opium van poppies? Eenkeer handevol poppiesade en morning glories in ’n blender gemaal en met ’n lepel sit en eet. SyWatDroom het Ginkelsnoek aangepor om die goed van ’n heining te stroop. Saam met grondboontjiebotter probeer sluk. Enigste trip wat hulle moes maak, was toilet toe. Anticlimax.
Die jong kinders speel tafeltennis in die garage. Oom Boekevat werk aan ’n scrambler. Hy en sy hoërskoolseun ry daarmee tussen die skaapkrale. Haar oë volg sy hande. Die beweging daarvan trek haar in. Nou en dan lag Oom oor sy skouer. Hy vryf sy hande skoon aan ’n ou onderbroeklappie. Woordeloos vat hy die skêrtjie wat sy na hom uithou. Die leuning van die stoel maak strepe op haar vel. Sy sit agterstevoor daarop. Rooi vlokkies hare val grond toe. Oom Boekevat knip haar punte reguit asof hy skaap skeer. Nie een praat nie.
In haar vreeslose, harregat dae het sy soms opgehike Hondeklipbaai toe. Dit was wanneer sy haar ma gemis het. Daar is ’n gerusstellende ooreenkoms tussen haar ma en haar Weskus-bamboestannie. Op party van haar babafoto’s weet hulle nie watter een van die twee susters dit is wat Ginkelsnoek vashou nie. Albei getroud met baardmans. Albei krul hul bene onder hulle op as hulle gaan sit. Ma laat haar dink aan klippe met kerse op, kaktusse wat in opgetelde walviswerwels geplant is en katte wat vir viskoppe spring. Toe Orige Aitjie amper gevrek het van kattegriep het Ma die kat hande opgelê. Gesond gebid.
Dis vir jou geloof, het Pa gesê.
Tannie se kat is ’n buiteboerkat. Naam is Hênsop. Net sy pootmerke op die glasskuifdeur verklap dat hy ooit binnekom.
Tee en geroosterde botterbroodjies. Ginkelsnoek se sterkste assosiasie met haar tannie. Naas Star-lekkers. Sy’t ’n ou foto. Almal vroegwinter saam op ’n dubbelbed. Ontbytskink-bord in die middel. Effens oorbelig. Laggende monde. SyWatDroom se hare nog lank. Vet babawange vir SyWatDoen.
Toe was daar nog nie duvets nie. Dekens. Almal in die familie het identiese dekens gehad destyds. Ouma het gegee. Of jy nou Kersfees by die huis was of by ’n tante in die Karoo, jy’t onder presies dieselfde beddegoed geslaap. Dit het die kinders veilig laat voel. Neefs en niggies het sonder aankondiging ingeval en in volle vertroue na ’n bed gestrompel. Asof ’n stukkie van hul eie huis ook in ander, nader huise was.
Oom Boekevat was nie die dag tuis toe Ginkelsnoek gekom het nie. Op pad. Sou eers laatnag kom. Sy wou wakker bly, maar haar oë het begin leep trek. In haar niggie se kamer geslaap.
Nig was ’n sendeling met ’n skaam laggie wat altyd familielede se verjaarsdae onthou het. Pynlik. Sulke lang, floral wrap-arounds gedra. Jerusalem-sandale. Tog had Ginkelsnoek ’n geheime admirasie vir haar nig. Sy het instinktief iets daarvan verstaan om op ’n mission te wees wat jy nie lekker kan explain nie. Dis hoekom ek lucky packets koop, verdedig Ginkelsnoek haar teen ’n lappop met ’n ingetekende koki-mond en knoop-oë. Nig doet ook naaldwerk.
Die rush van die onbekende.
Ek is ôk ’n Syndolling, neurie sy vrolik fading terwyl sy met justified genot die hordes gestopte gereformeerde poppe van die bed trap. Pilletjies coolrond in die kies. Jammie. Life on the edge.
Die straatlig het ’n vierkantige blok lig gegooi. Onder meer op ’n matriekafskeidsportret. Wys Nig Bedagsaam met ’n reuse-strik op die kop. Een van daai uitpof blink rokke wat soos ’n onderstebo blom gelyk het.
Al was dit effe benoud, het Ginkelsnoek haar beddegoed hoog opgetrek. Sy’t dikgelukkig weggesink met gedagtes aan droompampoenkoetse wat deur lucky packet-soldaatjies getrek word wat waatlemoenpitte oor die toeskouers strooi. Eers toe hy gaan sit, het die drukking van sy gewig op die bed se voetenent haar wakker gemaak. Oom Boekevat het verskoning gemaak vir sy laat kom. Verste waterpomp al weer flenters. Rooikat het drie lammers platgetrek.
In die donker was sy stem dié van ’n jong man. Ginkelsnoek het gewonder of haar tannie ook nog wakker was.
In die middel van die universiteit se hoofbiblioteek onder die Rooi Plein is grys plantbakke van wisselende hoogtes en groottes. Groot Piet van Windhoek sit manalleen op die trap en betoog. Met sy lengte en size en Moses-voor-die-starlight-bosbaard lyk hy ’n bietjie na Ben Dekker wat jare tevore ook so sy eie plakkaatjie gedra het: Stem lekker. Stem dekker!
Niemand weet eintlik waarvoor Pietman staan nie, want sy plakkaat het al effe verkleur. ’n Skateboarder vra of hy die stuk karton as ’n slide kan ombuig om by die trappies te probeer af-glide. Mense gebruik Piet maar as die halfway stop as hulle soos zombies uit die bib se ondergrondse gat die trappe opkruip. Ginkelsnoek hou die meeste van die palmbome. Aaklige buisligte hardloop in grys pype teen die dak langs. Oorsee is dié tipe ligte verbied. Die flikkerspoed daarvan neuk glo jou oë en konsentrasie op.
Wat volgende? I ask you.
In haar kop noem sy hulle die hartseerboompies. Soos daai hoenders en kalfies wat hulle hele lewe in hokke grootword. Verby die groen van die vatvyf-palms is die grys afskortinghokkies met hordes koppe hare wat uitsteek. Dis alles so artificial sy wil sommer iets wilds doen. Ginkelsnoek aai die hoogste bak. Met een maklike beweging kan sy onder daai palm sit. Klam grond om die duiseligheid van ’n ondergrondse biblioteek sonder vensters teë te werk.
Alles is so grys. Eenvormig. In kompartemente. Die hele plek laat haar aan die binnekant van ’n bank dink. Daardie verbeeldinglose styl met designer grys mure, plastiekbordjies en lipstiffie-bekkies wat agter whaddoyouwantglas verveeld op jou wag om iets in die metaallaai te gooi.
Sy smag na iets eg.
iemand eg.
Musk se ondraaglike stanksoet prikkel haar sinusse. Dit vererger die hoofpyn in haar slape. Sonder om op te kyk, vat sy twee boeke oor haar skouer aan. Sy hoop die irritasie en die geur sal wyk as sy dit ignoreer. Tipies.
Een van SyWatDoen se aanhangers. Vra Ginkelsnoek moet asseblief die goed vir haar kleinsus huis toe vat. Haar suster is laat vir ’n afspraak en kan nie nou self gaan nie. Ginkelsnoek probeer aan iets nice van SyWatDoen dink om die gevoel dat sy al weer misbruik word, te onderdruk. Een van die meer gewaagde goed wat Ginkelsnoek van haar kleinsus weet, is dat sus en kudde vir die sekuriteitskameras in hul satyn-bra’tjies by die autobank flash. Ginkelsnoek dink dis kinderagtig al hou sy in beginsel van die idee. As haar soldersuster dieselfde gedoen het, sou dit natuurlik heeltemal anders afgegaan het. Net ’n kwessie van attitude.
Ginkelsnoek skryf Kies vir jou … Wou skryf ’n vinger, maar dit krap aan haar om iets negatiefs permanensie te gee. ’n Onverklaarbare ordintlikheid sensor ook die misliker goed wat sy soms wil kwytraak. Skrikkerig vir iets sommer op papier sit. Daai einste meneer Pitblaas het ’n love letter van haar in sy klas gekaap en vir die Afrikaans-onderwyser aangepaas. Haar spelfoute en sinskonstruksie in die les behandel. So gehuil oor die foun Suidwes toe dat Ma amper die skool gebel het. Spelling was nooit haar sterk punt nie.
Toe Ginkelsnoek nog in die laerskool op hul eie dorp was, het haar kêrel smiddae buite die plaashek in die laning bome vir haar gesit en fluit. Sy bomberfiets onder die boom laat lê. Eers het hy altyd baie hoog in die takke gesit. Vir mekaar briewe in ’n geheime mik in die boom gelos. Dan steel haar susters weer die briewe en wys dit vir Ma of vir Aia.
Hy het gereeld klasse gemis.
Daniel.
Moes al twee keer ’n standerd herhaal het, alhoewel hy glad nie dom was nie. Ma was baie lief vir hom. Gesê daar’s êrens fout. Altyd ’n eetgoedjie uitgestuur laning toe as hy kom kuier het, omdat hy nooit nader aan die huis wou kom nie.
Ginkelsnoek oorreed toe eendag vir SyWatDroom om saam na die kleinhoewe te loop waar Daniel-hulle se karavaan gestaan het. Hulle het hom ’n week laas by die skool gesien. Kamstig sy huiswerk by die meneer gaan haal as ’n verskoning om na hom toe te gaan.
Van ver af al die val van ’n byl gehoor. Sy blonde kop herken. Kaal bolyf langs ’n skuur besig om hout te kap. Gespierde rug in die middagson.
Toe begin hy hulle te vloek! Sê hulle moet fokkof! Met sy arms beduie hulle moet loop! Nie nader kom nie.
Gehuil tot by die huis.
Oor die paal.
En die ketting wat hom met sy enkel daaraan vasgehou het. Skribbel “I feel good, I knew that I would now” as ’n afterthought op haar moordlustige gedagtes. Neurie die deuntjie aspris hard genoeg dat die koppe in die biblioteekhokke om haar oplig. ’n Lieg, maar dit klink beter. Vieserig probeer sy die twee ekstra boeke êrens inprop.
Hoekom jok sy vir haarself? Was sy genuine al óóit fine? Was iemand? Is dit nie erg genoeg dat almal heeltyd voorgee nie? Sy haat dit. Soos verjaarsdae. Almal maak of hulle so bly is jou ma het jou suksesvol uitgeskweez.
’n Welsynsuster het al die meisies eenkeer in matriek kom toespreek. Gepraat van die Ou Spier. Die meisies dog eers sy praat van ’n landgoed, soos Twee Rivieren, toe’s dit daai besigheid onder. Prentjies gewys van eierstokke wat soos lamppale lyk. Gelyk of die manlike sperm in ’n hoofstraat moes afcruise. Wie’t die name uitgedink? Seker ’n staatsamptenaar in Pretoria wat met een van daardie potlode geskryf het waarop ’n trol op die punt sit. Harerige mannetjie met ’n stok tussen die eiers. Nog in daardie selfde kwartaal moes hulle ’n bees se dinges dissekteer. Siesa.
SyWatDroom sou gesê het mens kan vier dat die geboorte-tang nie jou kop uitgerek het nie. Ken ’n klonkie met die naam Têtkop. Hy was nie so lucky nie. Ma maak maar of sy nie weet Pa wou eintlik ’n seun gehad het nie.
Alles tos.
Ginkelsnoek skaam haar vir haar eie gedagtes. Sy voel of sy in ’n doolhof van minderjarige minderwaardigheid vasgevang is. Of sy nie ouer word nie. Haar susters haal haar in. Selfs kinders wat jare jonger was as sy lyk nou al vir haar soos tannies. Sy kan net nie verstaan hoe hulle dit regkry nie. In haar drome is sy permanent besig om standerd agt te probeer deurkom.
Haar gunstelingboek is Abdoltjie. Deur Alba Bouwer. ’n Auntie.
Laatlamsussie lees nie eintlik nie. ’n Blaaier. Glossy tydskrifte en gourmet-resepteboeke. SyWatDoen sal wel ’n boek in haar mandjie rondkarwei wat as ’n prop moet dien as sy op ’n mission is om iemand in te katrol. Dit laat Ginkelsnoek haar wenkbrou frommel. Voel asof sy haar eie bloed nie kan peil nie. Hoe snap mens dit? Voorbedagte misbruik van ’n boek.
’n Gerookte letterkundige studiegroep het eenmaal besluit om hulself te verryk deur Kringe in ’n bos te gaan kyk. Titel was ’n apt beskrywing van hul eie studentelewe. Iewers in die toneelstuk word ’n blank toe afgevuur.
Die bedwelmde groepie het huil-huil aan mekaar geklou. Van die skrik. Toe van die lag. Kringe in jou bos.
Dink weer daaraan dat oom Boekevat gesê het hy weet iets van Ginkelsnoek. Dat sy van kleins af al glo in iets meer. Dat hy haar by haar ouma-hulle se pastorie op haar swaai met God hoor praat het. Dat sy hom nog nooit geflous het met al haar woorde nie.
SyWatDroom het haar wysvinger laggend na haar ouer suster gemik toe Ginkelsnoek vertel wat hulle oom gesê het. Oom het ook gesug-sê dat hy sien SyWatDroom weet van die iets, maar dat sy blatant kies om te suffer. Toe hou sy op lag. Rol haar tong in haar kies. Deep talk maak haar skugter.
Die suster in die solder is ’n boek-hoer. Lees enigiets, sonder scruples. ’n Morsige laatnagleser wat ’n boek in een donker sessie probeer klaarmaak asof sy in ’n worsteling daarmee is. Ginkelsnoek wou nooit enigiets vir haar leen nie. Gedink SyWatDroom kry haar due toe dié ’n fight met die Sluiper optel oor ’n boek wat hy vir haar gegee het. Die blaaie het met druppels kondensmelk aan mekaar vasgesit.
Lek dit af soos ’n held, wanker!
Dis die omverskoning wat sy van haar stoep af onder na die badkamer geskree het. All smiles. Vat nie tjol van iemand wat dink ’n besoek aan die toilet is ’n middaguitstappie nie.
Voor SyWatDroom as loodgieter begin geld maak het, het sy in dieselfde grys ondergrondse mind-retarding biblioteek gewerk. Vyf glorious weke gevat voor hulle haar gefire het. Gebyte sjokoladestafies in die klein laaitjies van die katalogusrakke weggesteek. Mars Bars. Soms kon sy nie weer onthou onder watter afdeling sy dit gelos het nie. As studente stupid of snotty was by die inligtingsafdeling waar hulle kom vrae vra het, het SyWatDroom hulle sommer op ’n toer om die skiereiland gestuur. Die erg innocents selfs tot by die Kweekskool na hul boekies laat soek.
SyWatDroom lees boeke sonder om hulle te glo. Sonder respek vir woorde of die werklikheid van die skrywer se smart, dink Ginkelsnoek.
Woorde is vir Ginkelsnoek ’n manier van tot stilstand kom of iets om mee te jump. Iemand se woorde kan Ginkelsnoek se hele wese tot ’n halt roep. Toe sy van oorsee af teruggekom het, kon sy haar verwonder aan borde waarop die woord ompad gestaan het. Dit was so ’n vol woord. Iemand se hele lewe kon daarin vervat word. Háár lewe. Sy was alewig op ’n ompad.
Woorde lok haar van haar klip af. ’n Man moet haar eers met woorde mak maak voor hy van nader kan kom kyk. Nie vir smooth praat nie, maar vir waarheid blootlê. Soos oom Boekevat eenkeer onderwater ’n seepaling met aas versigtig uit sy grot moes paai om die dier te kon sien. Sinne, goeies en slegtes, klou en kleef aan Ginkelsnoek se vel as sy nie dit betyds slim afweer nie. Miskien is haar voorarmhare eintlik klein woord-assegaaitjies wat haar getref het? Soms voel dit of sy vol stickers geplak is. Taai en verdring.
Woorde maak ook gate in die lug oop vir haar om deur te jump. Een sin, en sy swewe met lang hare wat op die dak sleep in die witskyn maanlig bo die plaashuis waar hulle in haar skooljare gewoon het. So spring sy uit ongemaklike geselskappe uit en gaan sit êrens in ’n sonkolletjie op ’n muur waar haar voete lekker kan afhang.
Dis die een groot verskil tussen hulle, weet Ginkelsnoek. SyWatDroom haal vorms en patrone uit dit wat sy om haar sien. Sy beleef dinge met ’n intensiteit wat nie pas by die voorwerp of persoon nie. Wanneer daar wel emosie of reaksie van haar verwag word, skakel SyWatDroom af asof iemand die kragopwekker in ’n gat afgesmyt het. Daar trek sy sterk na Pa. Oë wat selfs ’n hond op twee meter stert tussen die bene kan laat sit. SyWatDroom sal hoe lank na ou foto-albums van selfs vreemde mense sit en kyk. Die vuil rand van die bad ná die Sluiper sy kwartaallikse dompeling gehad het, laat haar oog die lyn tot sy einde volg. Ginkelsnoek weet dit, want sy het al gesien hoe SyWatDroom ingedagte in die leë bad in sit en afstaar. Vra of Ginkelsnoek dan nie sien die swart haartjies lê soos vraagtekentjies naby die sirkel van die prop nie.
Dis SyWatDroom wat byvoorbeeld vir Ginkelsnoek van vuis-seks vertel het. Eers dit nie geglo nie. Gereken dis boeksensasie. Glo op ’n fotografiese uitstalling somewhere gesien. Swart man, wit vuis.
Ginkelsnoek is spyt sy weet daarvan. Tot by die elmboog. Dit het haar wese besoedel. Deel van haar spesie se manie waarvan sy liewer nie wil weet nie. Die mens wat maak of hy kamstig grense oorskry. Meantime bou hy sy hok.
Grawe sy gat.
Abdoltjie dra ’n ronde Abdullah-dingetjie op sy kop. Hy pas vir Bellabok op teen die hange van Tafelberg. Die suidooster por die Slamaier-seuntjie aan as hy te lank vat om die bok te gaan soek. Ginkelsnoek sit met haar kop skuins op haar arms. Al twee haar bene slaap van die lang, grys sit. Probeer luister na die geklingel van die bok se klok bo die wind wat die dennebome se pitte in die bolle skud.
Die biblioteek se alarm kondig aan dat die deure binnekort gaan sluit. Agt boeke per nagraadse student. Is dit waar dat erg groot geboude ouks swak lovers is omdat hulle minder beweeglik is? SyWatDroom sweer daarby. Vreemde vrae land onverwags op Ginkelsnoek se front mental screen terwyl sy eintlik glad nie eers besig was om oor ’n relevante onderwerp te dink nie. Sug.
Ginkelsnoek balanseer twee potlode tussen haar voortande en haar lippe sodat dit reguit afhang. Ek is ’n walrus, sê sy met ’n swak Chinese aksent. Niemand lag nie. Sy sug weer.
’n Planeet vol lewensmoeë, humorlose hamsters op hul wieletjies. Wikkel daai boude. G’n wonder nie dat sy effens ontrafel by tye.
Iewers in Asië, destination en mood unsure.
Ginkelsnoek sit op ’n breë muur. Dit loop skuins af tot by die hawe. Nie reguit nie, maar met kronkels. As sy eers tot daar gekom het, is sy altyd lus om op die muur langs te loop tot by die klein, heilige brandertjies van die Ganges. Mense het reg langs die muur afdakkies gebou en dit hul permanente wonings gemaak. Sommer net daar, so tussen al die hoppels songedroogte visderms, kabels en stukke plank. Dieselfde hout wat as tafels dien wanneer die bootjies met hul vangs terugkeer. Die vistermanne is almal Moslems.
Aan die ander kant van die muur, verder af, is ’n effe afskorting waar honderde jare se menslike afval al so hard soos sement geword het. Die enigste rede hoekom mens die stank nie ruik nie, is dat daar naderby goed was wat die sintuie nog méér oorweldig het.
Aanvanklik kon Ginkelsnoek nie naby die hawe kom sonder om eers ’n stywe dop antibiotika te down nie. Die reuk was genoeg om haar te dwing om haar eie bydrae by dié van geslagte te los.
Nie meer nie.
Nou fokus sy op die son. Son op water.
Wanneer sy afstap muur toe voel sy altyd of sy gaan om iemand te ontmoet. Aan die begin het die mense haar onophoudelik lastig geval. Of sy vriendelik of ongeskik was, hulle het alles van varke tot vinne aan haar probeer verkwansel. Deesdae los hulle haar ook al uit. Party vroue glimlag skaam onder hulle kopdoeke uit wanneer sy verbykom en lig snotbesmeerde babas waarop brommers paar vir haar om te sien.
Maak nie saak waar op die Ertjie Ginkelsnoek besig is om oor die ellendes van die mensdom te wroeg nie, sy skryf altyd vir Ma. Nie op papier nie, maar op water. As sy hier aan die water raak, weet sy dieselfde water raak weer aan Ma se voete waar sy vroegoggend langs die see draf. Toe hulle nog op die plaas in die “oliekol” gewoon het, moes sy maar so af en toe poskaarte drop. Pa het altyd gesê dit reën orals om hulle, net nie op hulle grond nie. Plaas verloor in die droogte.
Hoe vertel jy op papier wie jy was en wie jy nou is?
Maar geskryf van die inboorlinge. Dat hulle heeltyd aan haar hare wou vat. Dat sy dit sterk oorweeg het om haar kop kaal te skeer. Sou die vlegsel ook in die rivier gegooi het. Nie omdat dit die Ganges is nie, maar omdat dit vir haar ’n nice manier is van afskeid neem, soos sy die mense hier dit sien doen het. Saggies dryf dit net weg. Die hitte is soos ’n dronk ou wat heeltyd aan jou kom hang en nie wil los nie. Miskien moet sy ’n wêreldkaart op haar kop laat tatoeëer? Dan kan sy sommer in die spieël besluit waarheen sy volgende wil gaan.
Eenkeer het sy ’n brief van oom Boekevat ontvang. Gesê dis die eerste brief wat hy in vyftien jaar skryf. Dat Boesmanland se vygies vol staan en dat tante Fransie iemand gefoeter het en ’n saak van aanranding teen haar het. Ook dat Ginkelsnoek moet huis toe kom. Dat hy snags rondrol omdat sy oral loop en nie rus kry nie.
Ginkelsnoek het lank met die brief in haar broeksak geloop. Dit selfs daar op die muur uitgehaal en net so toe in die koevert onder haar sitvlak gesit.
Teen die vuil en die kieme. Teen verlangsere.
Laatmiddag is haar geliefkoosde tyd vir Die Muur. Dan begin die kleure van die lug aftap in die see in. Sagte waterverf-pienke wat saam met die kabbeltjies uitspoel, maar tog nie wegraak nie. Eindelik val die son dan soos ’n brandende opening op die horison en begin die water agteruit soontoe trek. By die punt van die ertjiebol uit en weg.
Die sari’s van die vroue waai met die identiese kleure, net helderder weergawes, in die skemerbriesie.
Soos ’n vaarwel aan die dag.
Vir al die good-byes wat Ginkelsnoek nooit kon uitkry nie. Die pujari’s lê offerandes in die terugtrekkende gety neer. Priesters, wat met kaal voete nat spore tot by hul tempels los. Onder die vrouens se naeltjies is ’n plooi van al die buk en op hul hurke sit.
“Namaste!” groet hulle met palm-op-palm-hande.
Dis altyd in daardie lam-laatmiddag oomblikke dat sy voel iemand hou haar dop. Dan lek Ginkelsnoek selfbewus oor haar gebarste lippe en probeer om nie soekend te lyk nie.
Hoe de joos kry mens dit anyway nou reg as jy altyd so vol vrae is? Op haar id-foto lyk sy soos een wat pas deur ’n karnaval-float omgery is. Slightly feathered.
Ginkelsnoek maak haar hare los, tot groot vermaak van die vistermense, en buk kamstig vorentoe om haar getjipte toonnaels te beloer. Bind haar haarriem om haar pols. Linkerkantse een, anders dink die mense dis Westerse kraggoed. Triek sodat die los hare haar gesig moet raam as sy weer orent kom.
As hy dalk sou kyk?
Vanity has its price, en boeta, sy het gepay. In al haar dae op Die Muur het sy net een keer ’n wit mens ontmoet. ’n Amerikanese pusher wat juwele on the side verkoop het. Sy hoektande was gevyl soos ’n vampier s’n en hy’t ’n vuil poniesliert gehad. Tranerige ogies soos Woody Allen. Gekla oor die lot van die kleinhandelaar. Hoeveel keer hy al gebust is en waar hy al oral luis opgetel het. Kon nooit stilstaan as hy met haar praat nie. Wiegend met sy voet op sy ander been se kuit geskop. Haar vir seks gevra asof hy vra hoe lank sy al daar sit.
Ginkelsnoek het net kop geskud en haar onderlip effens uitgestoot. Toe skil hy maar vir hulle elk ’n mango met sy knipmes af. Die skille vir die kinders gegooi.
Dis hy, Skille, wat vir haar die fynste silwerenkelbandjie gegee het. Met klein klokkies, nes die vroue daar ook dra. Sy skerp tande het ver in sy lip gebyt toe hy dit vir haar aangesit het.
Dra dit nou nog.