Читать книгу Maar wie snoei die rose in die nag? - Abraham H. de Vries - Страница 4

Agter nege passe

Оглавление

Vir Breyten

“… Wat anders kan ons eintlik doen nou dit donker word oor die land en die landerye as om herinneringe op te maak en te deel, hierinneringe wat mens in die hartsak saamdra en wanneer dit weer warmer word in die koelte van die vyeboom gaan sit en lees vir die soveelste keer?”

(Breyten, 2012-12-18)

Dis nou al geskiedenis: hoe jy (Jan Blom, Jan Afrika, Don Espe­­juelo, Bibber Breytenbach) en die geliefde Goue Lotus, Huang Lien, een vooraand neergestryk het op die dorps­meent van Ou­tol op Montagu. Omdat nomade en ballinge ook moeg word, koop jy toe ’n huis op die wal van die Kringa en skaf ’n landkaart van die Klein-Karoo aan by Niël se Huiswinkel, dat julle nie die pad byster raak op pad weer terug Parys, New York of Goree toe nie. Vou nou daar in die woonkamer van julle dakhuis in die Rue de Malebranche daardie kaart oop op die geelhouttafeltjie onder die skuins dakraam, dan kan ek as die welkomsgroet wat ek julle baie lank al skuld, met stories en soetdorings, jou vinger stoot van Montagu af tot anderkant De Rust en heen en weer in die bietjie winterlig wat nog tussen die bome hang hier op ons gedeelde werwe.

Tussen Barrydale en Ladismith, waar die Karoorantjies die Oukoppies heet, staan twee padpredikante so naby mekaar dat ek sweer dis hulle self wat mekaar met klippe so vol duike gooi. Die een predik swart op wit dis die einde van die Overberg, en die ander sê kordaat: Hier begin Eden. Die blinde grappe waarmee koloniale regerings eeue lank Afrika met kaart en liniaal verdeel en oorloë gestook het.

Die Klein-Karoo is op ’n natuurliker manier afgeperk as met onsigbare grensdrade tussen gannabossies deur en oor onploegbare berge. Die wesgrens aan die Kaapse kant is die Kogmanskloof by Montagu, jy ry die Klein-Karoo in deur ’n tonnel; bo-op staan ’n klipfort wat gebou is deur soldate wat die Slag van Magersfontein oorleef het. Van Montagu af oos loop die pad oor De Tradouw, tussen bewerkte lande en wit plaashuise en vrugtetuine deur tot by James Barry se naamdorp, Barrydale. Van daar af dan Ladismith toe deur ’n stuk verlatenheid wat net anderkant Lemoenshoek al begin. Ladismith is vernoem na Juana Maria de los Dolores de Leon, die meisie wat in sir Harry Smith se pleegsorg geplaas is en later sy vrou geword het. Hiervandaan deur die Huisrivierpas na die “port-hoofstad”, Calitzdorp, en daarvandaan Oudtshoorn toe met links die Rooikoppe (’n ysterneerslag, hematiet, wat so skilderagtig oksideer) tot by die verste dorp wes, De Rust, aan die mond van die Meiringspoort. Aan Uniondale se kant van De Rust begin die Langkloof en eindig die Klein-Karoo.

Die Klein-Swartberg in die noorde en die Langeberg in die suide skei die Klein-Karoo van die warmer Groot-Karoo en die koeler kuswingerde. Nege passe verbind die Klein-Karoo met die groter land: die Kogmanskloof, die Tradouwpas, Garciapas, Montagupas, Swartbergpas, Meiringspoort en Seweweekspoort, Buffelsrivierpoort, Klein-Swartbergpas en een sonder blywende naam tussen Van Wyksdorp en die see. As die pad wat by die spookhuis verby kronkel Laingsburg toe later jare gekaart-en-transport is, sal daar nog een bykom; nege sal ’n amptelike verklaring uitreik: We’re ten now.

’n Lang, smal stuk aarde, dié Kannaland, met sy lappieskombers van lusernlande, vrugtebome, letsels droë veld, sy klapper- en kareebome. Hier en daar ’n plaashuis, teen die middagson beskut deur die skuiwende skaduwees van peperbome. Daar is damme ook, party vol van water en wolke, ander droog en gebars, daar is kreunende windpompe, daar is werwe met beeskrale en malvas, huiskamers wat aan die slaap raak met krakende deure en donker gebede. Snags as alles inkrimp tot skaduwees en lampe, kruisbande, radio’s, boeke, voorvaderportrette, ’n muurhorlosie en die sagte weerstand van beddens, frons die sterre al hoe groter oor die mens se duisterheid.

Jare lank dog ek ek weet hoekom die bewoners destyds – soos vaandrig A.P. Beutler in 1752 berig het – van Kannaland of “’t land Cana” gepraat het. Maar ek is nie meer so seker of dit ’n woordspel was met die naam van die Beloofde Land, ’n vernoeming na die kannabos of eer aan die t’kanna, soos die oumense die eland genoem het nie. Al drie is moontlik, al drie is waar. Kom ons maak die landkaart toe. Karoo beteken droogte.

Ons het almal ook wêrelde elders. Die bruin Middeleeuse gehuggies van Umbrië, die vervalle dorpies van die Moordenaarskaroo, La Roche aan die kabbelende Ourthe in die Belgiese Ardenne, die morsige moerasse van die Baltiese See aan die mond van die Neva, die klein klipgebou-gehuggies tussen die digte bosse van Pole, die kort vreugde van die Rue de Malebranche in Parys, die ruim huis met dubbele vensters aan die Groenplein in Antwerpen van waaragter die druk lewe buite geluidloos aanhou beweeg, die sonwerf van Winkelplaas met die adamsvyeboom waaronder ’n man aan ’n seuntjie probeer verduidelik hoekom ’n haasma haar kleintjies opvreet. Die wêrelde in ons lê soos woorde in ’n verhaal, ingebed in ’n éérste landskap van die gees, waar die plein van Antwerpen pas oor die werf van Winkelplaas op ’n koue Julie-aand; waar die duister waarheid van egte karnivore skuif oor die skrikbeeld van die verkoolde Sondagskoolklas in die ruïne van die stad wat Dresden was.

Mý Kannaland se stories en sy spoke, sy drome, vrese en raaisels lê in my anders as joune in jou.

In my beteken Karoo nie droogte nie. Tussen Lemoenshoek, oos van Barrydale, en Winkelplaas is daar tussen die Oukoppies ’n draai in die pad waarvandaan die reisiger in die vroegoggend oor die veld en die lae heuwels, oor plakkiebome, karee en ’n vervalle ou padmakershuisie kan kyk tot doer teen die blou Swartberge. Dis waar my Klein-Karoo begin.

Op bewolkte winterdae, in die reën, selfs laatmiddag, as ons om daardie draai gaan, soek my oë na die son en word daar in my ’n ander oggend wakker, my eerste Karoo-oggend op Winkelplaas.

Die son was al so handbreedte bokant die horison. Tussen die ouhuis en my buitekamer het die koelte nog oopgesprei gelê oor die hele werf. Ek het kombuis toe geloop, soos hoeveel maal tevore.

Maar ek het vir die eerste maal die son gesien. Asof vir die eerste maal, die son en die vierkantige watertenk en die vyeboom agter die melkkamer. Die lusernlandjies en die water­put, die drie plaashuise en die berg.

Toe het ek hardop die son gegroet. Môre, son; môre, water­tenk; môre, plakkiebos.

Nie omdat die son die nag se koue verdryf het nie, nie omdat ons water uit die vierkantige tenk kon tap nie, nie omdat die waterput en die berg en die plakkiebos nuttig en mooi was en vol gebruike nie. Die nut van die waterput was die waterput, die plakkiebos is gebruik om ’n plakkiebos te maak, die skoonheid van die son was die son op die werf, die son teen die bas van die vyeboom, die son op my.

Alles was sulke nuwe dinge en ek het hulle, vol verbasing, vir die eerste keer raakgesien. Was dit wat Goethe bedoel het met verwondering as die hoogste waartoe die mens in staat is? Ek weet nie, al wat ek weet is dit was die oggend waarop die Klein-Karoo ín my begin het.

Jy kon nie weet hoekom ek so geskrik het vir iets wat Basie Joubert die ander aand doodonskuldig ná die jaarvergadering gesê het nie. Oor die koffie het ons met outydse geselsery (die televisiestel het hom vierkantig blind geskaam vir ons) eers weer by die Klein-Karoo en toe weer by oom Matthewis uitgekom.

Jy ken nie die storie nie. Dit begin by die “spook” op daardie lusernlandjie in die bak-arm van Dwarsrivier op die Bruwers se plaas. Izak het, nadat hy vir my daarvan vertel het, oor die res van sy wedervarings geswyg.

Dis wat gebeur het: Izak het dié winteraand so teen half­twaalf met die graaf oor die skouer al met die rivier langs na die uitkeerplek aan die bopunt van die “koel” landjie gestap. ’n Koel landjie bly groen, ook deur vierjaardroogtes. Sy leibeurt vir die land waarop hy elke jaar kalbasse plant, het om kwart voor twaalf begin. Hy’t ’n man op die landjie sien staan, teen die helder maanlig beskut deur die wilgerboom se skaduwee, en hy het hom herken. Izak het die sluis oopgetrek, oom Matthewis daar in die skaduwee gaan groet, ’n paar woorde gesels en toe gaan slaap. Hy onthou oom Matthewis het nog iets gesê oor hoe lekker sag die koel landjie onder hulle voete en die diep syferwater was.

Maar die volgende middag toe Izak by oom Matthewis ’n hamer gaan leen en hy iets sê oor die vorige nag, het oom Matthewis sy kop geskud en gesê: “Nee, Sakman, nou maak jy ’n fout, ék was dit sekerlik nie; ons was toe al in die kooi, vas aan die slaap, vra maar vir die vrou.” Tant Sarie het haar voorkop vol plooie getrek en gesê natuurlik is dit so. Sy sou wakker geword het as hy uit hul bed uit opgestaan het. “En hy loop nie in sy slaap nie; die wind het laas nag die honde se bakke almal van die stoep afgewaai en nou foeter julle met wie hóé geslaap het.” Izak het dae daarna nog gewonder hoe sy oom so maklik kon vergeet.

Vir my het Izak die storie vertel toe ons drie weke later van oom Matthewis se begrafnis af terugry huis toe. Seker tog maar in sy slaap ’n luggie gaan soek, wat anders? het hy gedink en toe gesê: “Maar iets is nie lekker nie. Kerneels het hom Maandag onder die wilg daar op die koel landjie gekry en dis waar ons daardie nag staan en gesels het. Dokter Uys-hulle het vasgestel dit was ’n kwaai hartaanval, hy het van die uur van sy dood niks geweet nie.”

Nie daardie uur nie, maar wat van drie weke eerder? Waarvan wou oom Matthewis gaan seker maak die aand daar op die sagte landjie?

Dis waaraan ek daardie aand ná die jaarvergadering met ’n skrik gedink het toe Basie vir my vra of ek geweet het van dié vrees wat oom Matthewis sy lewe lank gehad het. Vir val. Afval van iets af, of om te val as iets hom pootjie. Dis dié wat hy so snaaks op ’n perd gesit het, nes asof hy gedurig aan die vasklou was. Het hy daardie nag in sy slaap geloop, of in ’n voorgevoel dat die sagte landjie nodig sou word?

Ja, o ja, ek ken dié klipdroë wêreld waarvan al die kontoere, heuwels en dale, berge en klowe duisende jare gelede gevorm is deur water. Maar my aangebore nuuskierigheid lei my telkens weer in ’n landskap in vol geheime, met mense vol raaisels.

Dié swerwer wat die nag by Sarel Marais-hulle op hul plaas oorgebly het, soos vele voor hom. Sarel-hulle was Christenmense in doen en late en het die man aandete en ’n slaapplek aangebied. Maar dié vreemdeling was anders: Sy klere was vuil, sy skoene afgeloop, maar hy’t ’n manier van dinge sê gehad wat Sarel en Meisie, sy vrou, laat dink het hy is aan beter gewoond.

Die volgende oggend nadat hy gegroet het en weg is, het Meisie in die swerwer se kamer ’n silwerhartjie opgetel, ’n gelukbringertjie wat oopvou, maar sonder sy kettinkie. Weerskante ’n klein foto’tjie van ’n donkerkopmeisie met net so ’n hangertjie om haar nek.

Boet, Sarel en Meisie se seun wat in die Kaap werk, het haar herken van foto’s in die koerant. Dis sy, het hy vertel toe hy die hartjie die eerste keer sien, wat op ’n trein was noorde toe. Die kondukteur het net anderkant De Aar aan haar kompartement se deur geklop, niemand het geantwoord nie, hy het later weer gaan kyk en toe die deur met sy loper oopgemaak. Sy was dood. Daar was ook nog ’n storie van dié man wat in die Paarl opgeklim het en wat by haar in die kompartement gesien is, maar dit kon nie bevestig word nie. Sarel het gesê, nee, onsin, die vreemdelinge voor ons poorte is miskien anders as ons, maar hulle is darem seker nie moordenaars nie. Ons het nie geweet wat om te glo nie. So het die hele storie stadig weggeskuif in die vergetelheid in. Sonder ’n slot.

“Nie hier nie. My seun, Erik, hy’s in Bellville al vier maal gemug en gerob. Oordag. Laas somer nog weer. Maar hier op ons dorp, hie’s dit veilig, meneer. Net wárm, sjoe! Ek staan nou sommer en gesels tot mevrou uit die winkel uitkom. Kry meneer nie warm in die kar nie? Dit help nie om oor die weer te lieg nie. Dis nes honger en dors. Ma het altyd as dit so warm is, gesê hou op met kerm en kla, waarvan moet die druiwe ryp word, of wil julle hê die boere moet wyn maak van grasgroen korrels? En die appelkose en die vye? Wat maak appelkose so soet? Meester ken mos vir David Kramer wat so sing van Montagu se muskadel. Hy kom kuier partymaal hier. Dan loop hy en sy vrou op en af in die straat proppers nes al die ander mense. Almal herken hom. Ek het ook al bietjie met hom getjommel. Had sy rooi vellies aan en daardie swart Jorehoedjie op sy kop. Vrygewig verby. Korter as wat ek nou met meester gesels, toe haal hy sy beursie uit daardie pofbroek van hom se sak uit. Nee, maak nie saak hoeveel nie, ek wil niemand voorsê nie. Hy sê toe hy ken my. Jou soort manne, sê hy, ek ken julle. Ek dog: nogal! Belowe my meneer gee vir die skollies wat hier bedel niks. As-se-blief. Hulle is luigatte. En bang. As hulle die poliese sien, is dit vinniger as daardie toorman op televisie; kul jou hier, kul jou daar, weg: klere, soetkys, kamera, als.

“Middag, mevrou. Mevrou het gou klaar gekoop.

“Dan sê ek maar tot siens.”

Voor ons weggetrek het, het ek in sy oë gekyk. Ek kon sién wat hy dink.

Hoe kan ’n mens so wees, jirre, hóé, sê vir my. Luister almal uit. Oop ore. Maar hoor niks. Nóg donners suiniger as die boere. Hou jou geld. Hou jou als. Ek het net gevertel. Ek het jou niks gevrá nie. Niks.

Ek het nog my respekte.

Bo, hoog teen die Klein-Swartberg waar die hoogste waterval tussen die loodregte kranse uitwaaier tot ’n fyn misreën wat ’n mens se gesig en arms en hande klam maak en koud op die warmste dag, is Waterkloof op sy mooiste. Laer af, aan die bokant van Blougat, stuif die misreën neer op die helder stroom. Hier en daar kan die son nie met sy warm strale on­der ’n bakkrans invoel nie.

Hulle het die hele dag geswem en in die son op die rotse rondgeklouter, mekaar gesoen, en vir mekaar weggekruip. Die plante is welig. As hy ’n deuntjie fluit, het die klank teen die rotse vasgeslaan en geklink asof dit met eggo’s in die skeur afbons tot doer vêr waar die lae bossies van die vlakte begin. As sy op haar hande klap, een maal, twee maal, het duiwe bo van die kranse afgetuimel en op die bergwind afgesweef tot oor hul koppe. In die bome kwetter die voëls van daglumier tot aandskemering.

Voor hulle in die lang skaduwees teruggeloop het dorp toe, het hy ’n silwerlepeltjie uit sy broeksak gehaal. “Dit het daar by die huis gelê en ek het dit vir jou saamgebring, ek het nie geweet hoekom nie, maar nou weet ek!” het hy gebieg. Toe stap hy onder ’n beskermende bakkrans in en begrawe die lepeltjie onder ’n groot klip wat selfs stormwater nie sou kon wegspoel nie. Sy haal ’n stringetjie rooi krale van haar pols af en sy sê vir hom: “Begrawe dit saam.”

“Hoekom?” vra hy.

“So lank as wat ons lief is vir mekaar, moet dit daar bly. Net ons weet dit is daar. Net ons weet wat dit beteken. Kom ons belowe mekaar dat die een van ons wat ontrou raak, dit moet kom uithaal, want dan hoort dit nie meer bymekaar nie.”

Hy het later in Engeland gaan studeer en daar bly werk in ’n groot uitgewery. Sy het eers medies gestudeer en toe, ná ’n paar jaar in ’n hospitaal vir tuberkulose-pasiënte, gaan spesialiseer in borskwale by kinders. Albei is getroud met eggenotes wat die Swartberge en die Blougat nooit gesien het nie; nie een van die twee het ooit, soos dit hoort in ’n liefdesverhaal, die lepeltjie en die krale daar gaan uitgrawe nie.

In berge en op vlaktes, in woude en op rûens, selfs in woes­tyne lê baie sulke vergete beloftes. Want baie is, soos hierdie een, nie ’n storie nie.

Uit Hongarye het dié man kort voor die Tweede Wêreldoorlog Suid-Afrika toe gekom en hom op ’n dorpie in die Klein-Karoo gevestig. Hy was in Boedapest ’n leerlingapteker en hy het aandklasse geloop by ’n kunsskool voor dit flenters gebombardeer is. In die Karoo het hy ’n winkel oopgemaak, nie ’n apteek nie. Hy het later sonder enige aksent Afrikaans gepraat, maar nooit ’n woord gerep oor sy familie nie. Hy is getroud en sy seuns het die winkel oorgeneem. Min mense in die dorp het geweet hy kom uit Hongarye. Toe hy dood is, het hulle ’n hele versameling tuinkabouters wat hy gemaak het, gekry in ’n agterkamer van ’n buitegebou waar niemand meer gekom het nie. ’n Verre familielid het in die sestigerjare Suid-Afrika en die familie besoek en hy kon in al die kabouters mense eien wat hy in Boedapest op hul familiefoto’s gesien het. Nie al ons voorgeslagte hang in ovaal rame teen die gangmure nie.

Tussen Barrydale en Lemoenshoek, aan die regterkant van die pad, staan ’n huis wat eintlik twee aan mekaar geboude huise is. Die regterhuis is skoon, geverf en al die jare goed versorg; die linkerhuis het tot ’n murasie verval. Die regterwerf se plante kry gereeld water as dit reën, die linkerwerf is ’n woestyn. Van die twee gesinne – hulle was glo familie – leef niemand meer nie.

Maar wie snoei die rose in die nag?

Net soveel passe as die maande voor geboorte lei die besoeker oor die berge in die Klein-Karoo in.

Ons was nog nie tevore hier nie.

Ons kom nie terug nie.

Ons het op ’n dag hier aangekom en ons het die voorgeslagte in beelde en rame en verhale met ons saamgebring. As iemand nou vra, kan ons sê ons kom van, sê maar, Winkelplaas of van Vadersgawe of van die Mond van Pietsrivier af. Waar ons huise bou en lande bewerk. Ons eie en dié van ander. Appelkose plant en pluk en droog, granate, druiwe, perskes, kwepers, lemoene, vye.

Geslagte lank al kom ons met die stanings langs (onthou die frikkadelle, hoendereiers hard gekook, die kaas, koffie, brood en melk, ’n watersak wat koud word in die wind), kom ons nagteliks terug. Terug na die landskap van onthou en droom en verbeel. Terug na die landskap van eerstes: brood en gebed en die sagte lig van ’n Millerlamp, ook op growwe bruin hande en geslote gesigte teen die muur in die skaduwee; terug na die landskap van ons kinderlikste gebede en ons grofste nalatighede.

Aan hierdie kant van die tonnel is dit net vreemdelinge wat in die stikdonker hoef te vra: Kan iemand sy gedagtes laat gaan, kan iemand vir my sê waar lê Piet le Roux se plaas?

Maar wie snoei die rose in die nag?

Подняться наверх