Читать книгу Katrientjie van Keerweder - Alba Bouwer - Страница 6

Die goue pond

Оглавление

Katrientjie is ’n dikketjie.

Nou nie ’n potjie-dotjie-ronde-rol nie, maar sommer net ’n dikketjie. As sy op haar twee ronde bruin beentjies wegstap, sê Pa: “Raai, Katrien laat my altyd dink aan ’n outydse gemmerpoppie wat lekker styf uitgerys het.”

Katrientjie het ’n bruin krulkop.

Nou nie ’n kroeste-woeste-knoster-bos nie, maar sommer net ’n krulledot. As die noordewind waai en die berge vat mis, sê Ma: “As Katrientjie se hare so begin spring soos ’n droë bossie wat onderlangs vlam vat, kan jy maar weet dit word onweer.”

Katrientjie het twee ronde oë.

Nou nie twee albaster-paster-piering-oë nie, maar sommer net twee ronde blou ogies. “Ou Trien,” sê Ouboet wat al skoolgaan en ’n voetbal oor die werfmuur kan skop, “as jy so doodstil sit en jou oë word so groot soos dié van die uiltjie op die stalsolder, dan dink jy ’n vasvra uit!”

Maar Tina Tierat wat Katrientjie in die konsistorie opgepas het die dag toe sy gedoop is en toe Ouboet haar ingebring het, Tina vou haar hande onder haar voorskoot op haar maag as Katrientjie in haar blou kamerjassie uit die badkamer kom. “Ai, my kleinnôi Trinatjie,” sê sy, “sy’s mooi genoeg om weg te pak soos ’n pop in ’n fraaie dosie met ’n blinke lint daarom.”

Maar Katrientjie luister nie, want as sy skoon gebad is, is dit al skemeraand en die son het al weggeraak agter die berg wat agter die wit huis met die gewel staan. Dan is die lig so diep-blou soos ’n sagte skaduwee wat stadig oor die berg en huis en bome afsak en hulle net ’n rukkie vashou voordat die donker kom en alles toegooi. Dan loop Katrientjie op haar tone by die glasdeur uit tot op die stoep, en sy voel hoe die skemer haar ook saggies vashou.

Ver agter haar in die spens tingeling ’n lepel wat op die plankvloer val, en onder waar die laning dennebome vasloop teen die ysterhek, kliengelieng ’n fietsklokkie in die straat, want Katrientjie woon op Keerweder, ’n plaas wat binne-in die dorp lê. Sy knyp haar oë styf toe en sy wag, en wag en – ja, krrie-t, krrie-t, daar praat die kriek net langs die stoep. Hy roep die donker nader en Katrientjie draai saggies om voordat die swart nag haar kan toegooi, en glip by die eetkamer in.

Tik-tak, tik-tak, sê die Oupahorlosie in die hoek, net soos een wat saggies asemhaal en luister, en asemhaal en luister. Toe is sy uur weer vol en k-i-rr-t maak hy, net soos die vlerksleep van die ou kalkoen op die harde werfgrond, en toe slaan hy: kie-long, kie-long, kie-long …

“Katrientjie!” roep Ma uit die spens. “Kom drink jou melk dat jy kan gaan slaap, hoor daar slaan dit al agtuur.”

Katrientjie draf gou op in die donker gang en knip haar oë vir die wit lig van die spens net toe Oupahorlosie sy laaste kie-long slaan.

“Ai, daar het Oupatjie al weer ’n uur vol,” sê Ma.

“Wat maak die Oupatjie met al die ure wat so vol word, Mamma?” vra Katrientjie, en haar ronde ogies loer oor die rand van haar melkbekertjie.

“As ou Trien se oë eers so groot word, begin die groot vasvra,” sê Ouboet.

“Oupatjie bêre hulle agter sy groot gesig,” sê Ma. “Kom, Trientjie, jy moet bed toe. Ouboet, was jou hande en gaan roep vir Pa om te kom eet.”

In die klein kamertjie agter die eetkamer slaap Katrientjie, heeltemal alleen. Daar is ’n klein wit bedjie, ’n lae wit stoeltjie, ’n klein bruin kassie en ’n groot ligte venster wat so swaar is dat net Pa dit reg kan skuiwe.

“Katrien pas soos ’n slakkie in sy dop in hierdie kamertjie,” sê Pa as hy saans die venster bo kom opskuif.

Katrientjie gooi haar blou kamerjassie oor die wit stoeltjie en gaan op haar knieë voor die bed, mooi so dat die groot bruin kwas in die vloerplank reg onder haar linkerknie is, vroetel haar kop in die deken in sodat haar ken teen die boonste knoop van die nagrokkie is en sê stadig: “Liewe Jesus, ek is klein …” Toe bly sy stil om te hoor of die Oupahorlosie na haar luister. Tik-tak, tik- …

“Maak tog …” sê Ma.

“Maak tog nou my hartjie rein, amen,” sê Katrientjie vinnig, en sy gee een spring tot tussen die lakens en loer oor die rand van die deken na Ma. Ma lyk so lekker groot en hoog voor die bed, en oor die rand van haar bont voorskoot loer die blink borsspeld met die ronde Paul Kruger-pond in die middel, net soos ’n goue maantjie.

“Was dit die Oom Paul-pond van Ouma Vrystaat, Mamma? Het dit van v-é-r af gekom?” Katrientjie knyp haar oë toe om te wys hoe ver.

“Maar, my duifie,” sê Ma, “die ou storie ken jy mos darem lankal. Toe, lê mooi reg dat ek jou toemaak. Nag, Katrientjie.” Ma se mond maak ’n warm drukkie in Katrientjie se nek, en Ma se hand wat die deken optrek en rondom vasdruk, ruik na koekdeeg en droë nartjieskil.

Ma se skoene ke-tiep, ke-toep, ke-tiep, ke-toep oor die eetkamervloer en op in die lang gang spens toe. Katrientjie het by Ouboet mooi leer tel tot twintig, en sy weet as sy begin net soos Ma omdraai en sy kom by sestien, gaan die spensdeur toe.

Dan gly sy laer af tussen die lakens en draai mooi om sodat haar ore al twee los lê om te luister hoe die Oupahorlosie asemhaal en luister, en asemhaal en luister … En agter sy groot ronde gesig lê daar die baie ure wat al vol geword het. Daar is ure van toe hy nog by die ou-Oupa ver in Transvaal gestaan het en toe hy Vrystaat toe gegaan het en by Ouma Vrystaat op die plaas was; en toe weer baie ure toe hy Boland toe gekom het na hierdie plaas wat op die dorp is met die baie groot akkerbome en die dennelaning voor die deur, wat vasloop teen die ysterhek wat straat toe gaan. Maar hoe kan hy so baie ure bêre agter sy gesig? Die kassie is so klein?

Katrientjie vroetel haar een voet rond en bont totdat sy ’n nuwe koel kolletjie op die laken kry, en toe maak sy haar oë stadig oop. Dit lyk nie meer so donker nie, en sy kan die bruin lyf en die wit gesig van die Oupahorlosie daar anderkant teen die eetkamermuur sien. Sy draai haar kop ’n klein bietjie en sien deur die venster hoe ’n lang akkertak van die groot boom naby die huis stadig heen en weer swaai, sodat die sterre in die lug lyk of hulle wegraak en weer kom en wegraak en weer kom en – daar spring een sterretjie skielik los, hardloop tussen die ander deur, by die akkertak verby dat daar ’n lang vuurspoor agternakom, en raak in die donker weg.

“Ek wens, ek wens, ek wens ek kan die Oupa-horlosie se ure sien,” sê Katrientjie, want as ’n mens ’n sterretjie so sien weghardloop, kan jy iets wens, sê Tina Tierat. Die akkertak swaai heen en weer en heen en weer, en Katrientjie voel hoe hy haar uitlig en haar saam swaai, sodat sy tussen die sterre stap en begin soek na die enetjie wat so weggeraak het.

K-i-rr-t, maak die Oupahorlosie, ver weg van haar af, en Katrientjie wag dat hy moet slaan. “Kie-long, Katrien, kie-long, Ka-trien …”

Katrientjie luister. “Kie-long, Katrien …”

“Haai, roep jy my, Oupatjie?” sê Katrientjie en sy sit regop.

“Tik-ja, tik-ja, tik-ja,” sê die Oupahorlosie toe hy klaar geslaan het.

Katrientjie kruip saggies uit die bed en by die deur uit, en toe staan sy op die bont tapyt langs die eetkamertafel. Die Oupahorlosie is nou net so groot soos sy, en sy ou wit gesig lyk net soos een wat stilletjies lag, maar Katrientjie staan nou net soos hy altyd staan, so en asemhaal en luister.

“Katrientjie,” sê hy, net soos een wat stilletjies praat, “jy het gewens om my ure te sien, maar hier agter my gesig is baie ure, en wat moet ek jou wys?”

“Watse baie ure, Oupatjie?” vra Katrientjie, ook soos een wat stilletjies praat.

“Ou ure van lankal, en nuwe ure van nou, en blink ure van mooi dinge en vaal ure van lelike goed. Ek moet hulle almal volmaak en ek moet hulle almal bêre,” sê Oupahorlosie.

“Ag, wys my ’n ou uur, Oupatjie, ’n ou uur van lankal en ’n blink uur van mooi dinge,” sê Katrientjie. “Wys my die uur toe Oupatjie van die anderland af oor die see na ons land toe gekom het.”

“Nee, Katrientjie,” sê die Oupahorlosie en dit lyk of hy sy kop ook swaai, “dit kan ek jou nie wys nie, want dit was leë ure. Ek het toe mos stilgestaan en nog nie die ure volgemaak en weggebêre nie.”

“Maar al die ure wat so vol word en agter Oupatjie se gesig weggebêre kom, word hulle nie te baie nie? Die kassie is so klein,” sê Katrientjie, en sy maak haar nek krom om agter Oupatjie se gesig te loer na die bêrekassie.

Oupatjie lyk weer soos een wat stilletjies lag. “Maar Katrientjie,” sê hy, “kyk hoe baie, baie ure het jy om elke dag weg te bêre. Jy het die eerste uur as dit nog donker is en die ou kapokhaantjie raas met sy dun stemmetjie naby die appelkoosboom. Jy het die uur as die son stadig oor die donker berg begin uitglip en jy saggies stoep toe draf om te gaan kyk. Jy het die uur as Tina Tierat jou skoon rokkie bring om aan te trek en sy sing vir jou van die bokkie met die wipstertjie en die snoetjie wit soos room! En jy het al die oggendure as jy speel, onder die akkerbome en teen die skuinste waar Pa die olyfboord geplant het, en die middagure as Ouboet huis toe kom uit die skool en jou leer tel en letters lees, en die uur as die son ondergaan – kyk, Katrientjie, kyk hoe baie ure van baie dae het jy wat jy moet wegbêre, almal in jou koppie, en kyk hoe klein is jou ou koppie.”

Katrientjie vat aan haar kop, al in die rondte om haar kop vat sy, tussen die krulle deur. Dis regtig nie ’n baie groot kop nie.

“Maar, Oupatjie,” sê sy, “wys my nou regtig een van die ure agter Oupatjie se gesig, asseblief, Oupatjie. Wys my die uur toe Oupatjie en die goue pond van Ma se borsspeld saam met die wa Vrystaat toe gery het. Dit was ’n blink uur.”

“Tik-ja, tik-ja,” sê die Oupahorlosie, en dit lyk of hy niks weer gaan praat nie. Katrientjie gaan sit op haar hurke styf teen sy bruin houtkassie, trek haar nagrokkie oor haar knieë en luister, luister net dat hy weer iets moet sê. Teen die eetkamerruit tik ’n akkertakkie van die nagwind, en teen die berg hoe-hoe ’n uiltjie. Toe voel dit of die Oupahorlosie ’n krakie gee.

“Ek moet eers daardie uur agter uit my kas uit vorentoe laat kom,” sê hy, “want hy lê darem baie ver agter, Katrientjie, die uur toe die goue pond en ek saam Vrystaat toe gery het.”

“Hoekom het Oupatjie en die Oom Paul-pond dan Vrystaat toe gery?” vra Katrientjie, en sy dink: Dalk sê Oupatjie ook soos Ma: “Maar, my duifie, die ou storie ken jy mos lankal!” Maar die Oupahorlosie het haar seker nie eers gehoor nie, want hy begin sommer vertel.

“Ek het lank en goed gestaan in die groot huis daar ver in Transvaal. Ou-ou-Oupa se huis was dit. Elke oggend en elke aand het hy voor my kom staan en gekyk of ek nog goed loop en reg staan, en elke week het hy my opgewen. Ek het nooit een slag gaan staan en leë ure gehad nie. Toe kom staan hy eendag voor my met sy kierie en hy kyk lank na my, maar hy wen my nie op nie, hy kyk net. Ek tik-tak, tik-tak maar, en af en toe gee ek ’n krakie. Toe sê hy saggies: ‘Ja, ou matie, ek dink ek stuur jou maar vir die klein Katerina terwyl die kans nou daar is. Ek wil graag hê jy moet eendag by haar woon.’ Net so sê hy, en hy draai om en stap weg.”


“Maar dis mos ek, Oupatjie! Die klein Katerina, dis ek, Ouma Vrystaat sê altyd vir my so!” sê Katrientjie en sy gee ’n wippie op haar hurke.

“Ai, Katrientjie, jy praat van vandag se dag en vandag se klein Katerina, maar kyk, ek praat van ou, ou, óú dae se dag en ou, ou, óú dae se klein Katerina. Weet jy wie was toe die klein Katerina? Ouma Vrystaat self. Daardie ou-ou-Oupa was haar oupa wat in Transvaal gewoon het, maar sy het by haar pa en ma in die Vrystaat gewoon op Klipplaat, daardie plaas met die doringbome en die spruit waar jy nou nog vir haar gaan kuier. Jy was toe mos nog nie daar nie en Ma en Pa ook nie.”

“Maar wie se Ouma Vrystaat was sy toe?” vra Katrientjie met haar oë sommer baie groot en rond.

“Sy was nog nie ’n ouma nie, Katrientjie, sy was maar nog ’n klein Katerina en net so groot soos Ouboet, so groot was Ouma Vrystaat toe. Sy was daardie ou-ou-Oupa se klein Katerina, en nou is jy haar klein Katerina,” sê die Oupahorlosie.

“Was daardie ou-ou-Oupa baie lief vir die klein Katerina?” vra Katrientjie, sommer net oor sy wil voel Ouma Vrystaat is baie lief vir haar.

“Baie lief was hy vir haar, daarom het hy my vir haar gestuur toe die transportwa van die Vrystaat af Transvaal toe gekom het,” sê die Oupahorlosie.

“Hoekom het hulle jou nie in ’n kis gepak met baie strooi en met die trein gestuur nie, Oupatjie? Ouma Vrystaat het jou so hiernatoe gestuur, sê Ma altyd, in ’n kis met baie strooi.”

“Maar, Katrientjie, in die ou, ou, óú dae was Ma nog nie daar nie en jy was nog nie daar nie en die treine was nog nie daar nie. Die ossewaens moes al die goed heen en weer ry.”

“Wie was almal op die transportwa van die Vrystaat af?” vra Katrientjie.

“Ouma Vrystaat se pa en Ouma Vrystaat se ouboet Pietman en Tabo, die touleiertjie, en ou Aron, sy pa. Dit het ek nie geweet toe hulle my oplaai nie, want toe het ek stilgestaan en my ure was weer leeg. Maar die eerste aand toe hulle stilstaan by ’n uitspanning, het Ouma Vrystaat se pa en ou Aron my regop gelig in die watent en my opgewen, want Ouma se pa wou sien of ek nog kan loop. As ou-ou-Oupa dit moes gesien het, sou hy seker baie kwaad gewees het, want hy het my self mooi ingepak. Maar Ouma Vrystaat se pa was altyd nuuskierig en hy wou sommer die eerste aand al sien of ek nog kan loop.”

Toe bly Oupahorlosie weer stil en Katrientjie is so bang hy sal nie verder vertel nie dat sy glad nie wil roer nie, ook nie eers om haar knie wat jeuk te krap nie. Maar net toe die knie so jeuk dat sy regtig nie meer kan wag om te krap nie, gee Oupahorlosie ’n krakie en hy vertel weer:

“Dit was al sterk skemer oor die veld en oor die doringbome. Langs die wawiel het ’n lekker vuurtjie gebrand waar ou Aron besig was om water te kook. Toe hoor ek Pietman vertel saggies vir ou Aron dat die goue pond wat ou-ou-Oupa hom present gegee het, uit sy hempsak in die water geval het toe hy die ketel gaan volmaak het, en nou kan hy dit glad nie tussen die gras in die water kry nie. En as sy pa dit tog moet hoor!”

“Het ou Aron hom toe gaan help soek?” vra Katrientjie. Sy hou haar asem op van bang oor daardie goue pond wat weg is.

“Ou Aron het stilletjies gaan soek en Tabo het gaan soek toe Pietman en sy pa sit en eet, maar hulle kon dit glad nie kry nie. Toe Pietman en sy pa die aand onder die velkaros langs die wawiel inkruip, het sy gesig gelyk soos die lug net voor ’n groot weer, net reg om druppels af te gooi, maar hy was te bang om vir sy pa iets te sê. Maar as jy nou mooi stilsit, Katrientjie, en mooi luister en kyk, sal ek jou ’n mooi uur van daardie nag in die veld wys. Kyk net mooi vas hier waar my wysters is.”

Katrientjie gaan mooi plat sit met haar hande op haar skoot, net soos sy in die kerk moet sit as sy moet luister en niks praat nie, en sy kyk net vas op die twee groot wysters.

Stadig, stadig raak die Oupahorlosie se gesig weg, en daar lê die groot, oop veld met die wa en die een doringboom. Dis so lig en donker oor die grasveld, want die maan skyn helder, maar daar is baie wolke en die gras en bome maak lang, dun skaduwees. Daar eenkant blink ’n vleitjie met biesies aan die kante en die sterretjies lê in die waterspieël. In die doringboom moet ’n uiltjie sit, want dit hoe-hoe, hoe-hoe uit die donker skaduwees uit. Kwaak-kwaak, sê ’n padda by die water, en dan bly hy weer lank stil.

Maar nou roer iets naby die skaduwees. Wat is dit? ’n Skapie of ’n kalf? O, dis ’n mens, ’n seun, ’n lang seun wat saggies deur die gras loop na die vleitjie toe. Natuurlik, dis mos Pietman wat seker weer na die goue pond gaan soek. Saggies loop hy, en die nagwind laat die lang gras om hom bewe. Buk-buk, vroetel-vroetel kruip hy langs die vleitjie, en hy soek en soek.

Meteens fladder die uiltjie met sy vlerke op die doringtak. “Hoe-hoe,” sê hy, “dit lê meer na boontoe, boontoe.”

“Kwaak-kwaak! Kwaak-kwaak!” sê die padda. “Net waar die kortste biesie aan die water raak, raak.”

Die nagwind maak sy asem sterker en blaas deur die doringboom se takke. “Hy verstaan nie, hy verstaan nie,” fluister hy, “hy’s al te groot, te groot.”



Die maan kruip kort-kort agter ’n groot wolk weg, dan is dit net die baie sterretjies wat knipoog, knipoog in die donker lug. Firts, trek Pietman ’n vuurhoutjie en hy lig al om hom, en hy buk, buk en hy vroetel, vroetel. Toe raak die vuurhoutjie se liggie sommer weg.

Toe die wolk weer voor die maan se gesig weggly, blink die gesig van die Oupahorlosie wat so regop naby die bek van die watent staan.

“Nagwind,” sê hy saggies, “nagwind, kan julle tog nie vir Pietman help nie? Julle sien mos waar sy goue pond lê.”

Die nagwind vee al oor die rooigras langs die wawiel en hy fluister: “Hy verstaan nie, hy verstaan nie! As ’n kind nog klein is, kan die nagwind en die rooigras en die padda en die uil nog met hom praat en hy kan luister. Maar as hy groot is, kan hy ons mos nie meer hoor nie. Hy verstaan nie, hy verstaan nie.”

“Maar, nagwind,” sê die Oupahorlosie in die watent, “as die maan of die sterre net ’n liggie kan maak tussen die biesies waar die pond nou lê, dan sal hy dit mos sien.”

“Die maan,” fluister die nagwind, “die maan kan nie help nie, die wolk daar is te donker en te groot.”

“Hoe-hoe,” sê die uiltjie op die doringtak, “as ’n ster kan roer, kan roer.”

“Kwaak-kwaak,” sê die padda, “as ’n ster die plek kan raak, kan raak.”

“Ek sal die sterre vra, die sterre vra,” fluister die nagwind, en hy maak ’n dwarrelpaadjie deur die rooigras soos hy optrek.

Toe is dit doodstil. Die padda kwaak nie, die uiltjie hoe-hoe nie en net Pietman buk, buk en vroetel, vroetel nog daar langs die vleitjie waar die sterre in die waterspieël blink. Tik-tak, tik-tak, sê die Oupahorlosie in die bek van die watent. Hy wag en luister, wag en luister.

Toe – sjips! sê die nagwind langs die wawiel en oor die rooigras en hy vee oor die rand van die watent. “Die sterre,” fluister hy, “die sterre sal help. Die grootste ster wat in die spieël van die vleiwatertjie lê, sal nog ’n ster vra om saam met hom te roer en af te skiet net soos Pietman weer oor die plek buk waar die goue pond lê. Dalk sien hy dit dan lê.”

Die nagwind gly stadig oor die doringboom en trek ’n paadjie deur die rooigras na die vleitjie toe, en net toe die biesies langs die vleitjie saggies begin afbuig, spring twee sterre los en rol tussen die ander deur dat daar twee ligte vuurspore tussen die biesies in die vleiwatertjie deurtrek, blinker as die blinkste goue pond.

Pietman het ophou soek om mooi na hierdie vuurstreep in die spieël van die vleiwater te kyk, maar daar buk hy skielik, steek plimps sy hand in die water en haal iets uit. Dit is die goue pond, die pond wat weg was, die pond wat ou-ou-Oupa hom present gegee het, dit is die pond wat hy weer teruggekry het! Hy spring, spring tussen die gras deur terug tot by die wa en kruip saggies onder die velkaros in.

“Kie-long, kie-long, kie-long …” slaan die Oupahorlosie, so soos een wat van ver af roep, en die hele veld word oop en lig en sonder skaduwees, en ’n grassie kielie Katrientjie onder haar ken. Sy knip haar oë en kyk weer, en daar staan Tina Tierat voor die bed in die blink kol wat die son maak, met die verestoffertjie in die hand.

“Klein poppietjie, nô Trinatjie, dis tyd om op te staan,” sê Tina. “Kyk hoe skyn die son al deur die bome.”

“Maar, Tina,” sê Katrientjie en sy sit regop, “ek het tog nou die uur van die goue pond gesien, daardie pond wat Ma van oom Pietman gekry het wat in haar borsspeld is, ek het gesien toe dit wegraak en hoe hy dit weer gekry het.”

Tina Tierat kielie Katrientjie in haar nek met die verestoffer en sy sing:

O, die bokkie met die wipstertjie

het ’n snoetjie wit soos room,

en as ’n kind mooi soet gaat slaap,

sil hy baiing dinge droom!


Katrientjie van Keerweder

Подняться наверх