Читать книгу Droomdokter - Amelia Strydom - Страница 3
1
ОглавлениеMila Mouton stroop die steriele handskoene af en gooi hulle sekuur in die asblik. Met ’n gerusstellende glimlag vir die drie vroue in die kamer stap sy uit na haar spreekkamer. Sy beter hierdie SMS blitsig stuur. Dis Carlien se derde baba; die drukfase gaan nie lank duur nie. Gelukkig bly Lise-Marie, Mila se regterhand, skaars twee kilometer van die hospitaal af. Hierdie tyd van die nag kan sy binne vyf minute hier wees. Mila het haar vroeër gevra om vannag op roep te wees.
Sy klap haar silwer foontjie so haastig oop dat dit uit haar hand glip. Haar hart mis ’n slag, maar sy vang dit wraggies voordat dit op die teëlvloer aan skerwe spat. Dit sal nie die eerste selfoon wees wat sy uit pure gejaagdheid só afskryf nie! Dan is daar nog die peperduur ene wat tydens ’n watergeboorte uit haar broeksak geval en in die bad geplons het. Die tegnikus by die selfoonwinkel het net gelag toe sy vra of dit reggemaak sal kan word. Ergerlik skud Mila haar kop vir haar onhandigheid. Gelukkig het sy darem nog nooit ’n baba laat val nie!
Sy tik vinnig: 9 cm ontsluit. Kom asb. Op pad terug na Carlien, voor die deur van die Aktiewe Geboorte-eenheid, staan sy vlugtig stil om die ligte te demp. Pasgebore babas maak soveel meer oogkontak met hul mammas as die kraamkamer donker is. Met hul pappas ook, natuurlik. As ervare vroedvrou verstom dit Mila steeds hoe babas binne minute ná geboorte hul koppies kan draai om hul pa’s herkennend te betrag.
’n Ongenooide vlaag weemoed spoel oor Mila. Haar pasiënt se babadogtertjie sal nie vannag só na haar pa kan soek nie. Die dingetjie ken die pa se stem nie eens nie, want hy het haar ma en twee boeties verlaat kort nadat die nuwe baba verwek is. Die arme Carlien het lankal vermoed dat daar iemand anders is, maar toe haar lewensmaat van sewe jaar ’n egskeiding vra, was dit nogtans ’n geweldige skok. En dít tydens swangerskap!
Dat Carlien juis by Mila uitgekom het vir haar bevalling was ’n bestiering. Mila moet eenvoudig glo dat hul paaie met ’n doel gekruis het. Al het hierdie pasiënt se situasie ook ou wonde oopgekrap … Tydens Carlien se voorgeboorte-ondersoeke het hulle diep gesprekke gevoer, met ’n boks snesies tussen hulle op die spreekkamerrusbank. Mila kon met Carlien se pyn identifiseer, want sy’s self agtergelaat met ’n babatjie. Ook sy moes tydens haar swangerskap, toe sy broser as ooit gevoel het, uitvind dat haar man haar verkul. Stefan het haar nou wel tydens die geboorte bygestaan, maar sy voorneme om hul huwelik nog ’n kans te gee, was van korte duur. Melissa was skaars ’n maand oud – nog in die greep van aandkoliek – toe Stefan se kar finaal by die hek uitgery het. Mila wil nie eens dink aan daardie maande van hel nie. Sy ril by die herinnering aan soveel slapelose nagte waarin die pyn van verwerping haar verteer het, nagte waarin sy die pajamadril soos ’n eensame zombie gedoen het … Tog het sy kop bo water gehou ter wille van haar kind. Sy het sterker anderkant uitgekom, nes Carlien ook sal. ’n Vroedvrou kom daagliks die stille krag van vroue teë, en hierdie innerlike staal sal Carlien deur haar krisis dra.
Mila gaan sit op die rand van die geboortebad. Amper negentig persent van die babas in haar privaat praktyk word in hierdie ovaalvormige bad gebore. Die water kalmeer ma’s én babas en bied sulke effektiewe pynverligting dat Mila dit soms skalks “die vroedvrou se epiduraal” noem. In hierdie stadium is Carlien se kontraksies egter só intens en opmekaar dat nie eens die water regtig meer hond haaraf kan maak nie. Met hortende asemstote klou Carlien aan die badrand vas, haar blonde hare in natgeswete toutjies oor haar voorkop. Mila vee haar gesig met ’n koel waslap af, sekondes voordat nog ’n kontraksie soos ’n golf oor Carlien breek. Paniekerig gryp Carlien haar ma en suster se hande vas en kerm: “Ek kán nie meer nie!”
“O ja, jy kán,” praat Mila haar rustig moed in. “Kom, haal saam met my asem. In … en uit … Nou weer in … trek jou asem in tot waar dit seer is … en blaas weg die pyn. Daar’s hy, Carlien, als gaan net reg! Jou dogtertjie gaan nou-nou in jou arms wees.”
Maar Carlien is moeg geveg. “Jy móét my iets spuit! Asseblief, Mila! Ek is nou óp met hierdie pyn!”
Mila se hart krimp ineen van simpatie. Die arme vrou, moet sy haar nie maar iets gee nie? Dis erg genoeg dat sy sonder haar lewensmaat se ondersteuning ’n baba moet kry, dis seker nie nodig dat sy so moet ly ook nie? Die ma en suster lyk ook albei heeltemal paniekerig. Tog besef Mila dadelik dat dit die verwerpte vrou in haar eie hart is wat praat, nie die bekwame vroedvrou nie. Liggies vies vir haarself gooi sy haar donker kop agteroor, asof sy die gedagte só fisies wil afskud. Sy mag nie toelaat dat haar verlede haar professionele oordeel benewel nie, sy moet objektief bly!
“Ek weet jy het ontsettend seer, skat,” paai Mila, “maar ek kan nie nou vir jou iets gee nie. Die pethidine word in die kraamsaal toegesluit, daar’s nie tyd om dit te gaan haal nie. As ek nou loop, vang jou ma-hulle hierdie baba! Jy moet net ’n klein bietjie langer uithou. Lise-Marie is op pad om te kom help, en sodra sy hier is, kan jy begin druk nes jy die gevoel kry.”
Midde-in Carlien se volgende kontraksie swaai die deur oop. ’n Lang brunet in haar middeldertigs loer in. Sy’s gemaklik aangetrek in ’n sweetpakbroek en T-hemp. Woordeloos neem sy die toneel in die kraamkamer in en gaan sit dan op die rand van die bad. Haar simpatieke blik rus op die vrou in die water. Dan kyk sy op om Mila se oog te vang. Dié snap dadelik wat sy dink. Hulle het al saam soveel geboortes hanteer dat hulle mekaar se gedagtes gemaklik kan lees. Intuïtief gly beide pare hande oor Carlien se rug om ferm drukking op haar heupe te plaas. Lise-Marie verdiep haar eie asemhaling om die toon vir Carlien aan te gee, en Mila merk dadelik hoe ’n verskil hierdie eenvoudige tegnieke maak. Soos altyd dra Lise-Marie kalmte en nuwe hoop saam met haar by die kraamkamer in.
Vir die soveelste keer dink Mila dat haar kollega ’n puik vroedvrou sou gemaak het. Lise-Marie is egter ’n doula, nie ’n opgeleide verpleegkundige nie. ’n Doula bied emosionele ondersteuning tydens die kraamproses, maar verlos nie self babas nie. Gewoonlik leer sy die ma en pa reeds in swangerskap goed ken en staan hulle dan van vroeg in die bevalling af by. Vanaand is sy hier as backup: Mila het haar net op nommer nege-en-negentig ontbied as ’n tweede paar hande. Dis onprakties en onverantwoordelik vir ’n vroedvrou om ’n baba op haar eie te probeer vang, en Mila waag nie kanse as dit by ma’s en hul kosbare babas kom nie.
Toe die kontraksie skiet gee, stel Mila haar pasiënt aan die doula voor. “En Lise-Marie, dis Carlien, soos jy weet. Sy hanteer als goed, maar wil nou iets vir die pyn hê.”
“Ag ja, assebliéf!” smeek Carlien. “Ek kan regtig nie meer nie. Ek’s te moeg.”
“Ag Mila, sy’s so op!” tree Carlien se ma ook tussenbeide. Die suster, ’n jong meisie, kou haar naels. Wat bring hulle ook nou eintlik ’n blote tiener saam?
Mila en Lise-Marie glo albei dat daar ’n plek vir pynmedikasie is tydens bevallings. Maar hulle deel ’n passie om natuurlike geboorte moontlik te maak vir die hand vol vroue wat dit nog wil hê. Carlien hét dit met haar hele hart begeer – dít het sy Mila herhaaldelik op die hart gedruk. Dis net die oorweldigende pyn wat haar voornemens nou laat wankel.
“Dit ís vrek seer, Carlien,” simpatiseer Lise-Marie. “Maar dis nou amper verby! Mila sê jy is vol ontsluit – jy moet nou net druk!”
“Ek kan nie,” snik Carlien. “Dis te seer! Ek wil ’n epiduraal hê. Of ’n keiser!”
Mila en Lise-Marie glimlag onderlangs vir mekaar. Hulle spot dikwels dat hulle albei aansienlik ryker sou wees as hulle ’n rand kon kry vir elke pasiënt wat hulle nét voor die geboorte só smeek vir ’n makliker uitweg.
Lise-Marie leun oor die badrand en slaan haar arms om Carlien. “Hierdie is die moeilikste deel, ek weet, so net voor die einde. Dis die Poly Shorts van kraam, jong, die finale opdraande voor die eindstreep. Onthou net, jy het al voorheen hierdie marathon voltooi, Carlien. Jy gaan dit nou wéér doen – een treetjie op ’n slag.”
Carlien ontspan merkbaar in die doula se arms, maar haar verskrikte oë soek haar vroedvrou se bevestiging. “Ek sal nie doodgaan nie?”
Mila glimlag vertroostend. “Jy sal nié doodgaan nie. Almal word bang so net voor die einde, Carlien. Dis heeltemal normaal. Nou moet jy net mooi vir my luister, dan is jou baba nou-nou hier.”
Tien minute later sit Mila die glibberige babalyfie in ’n oorstelpte Carlien se arms. Lise-Marie staan reg met ’n warm handdoek om oor die kleintjie te drapeer, want ma en baba bly nog minstens ’n kwartier saam in die geboortepoel. Daar is nie ’n droë oog in die kamer toe Carlien met haar vingerpunte oor die verrimpelde koppie streel nie. Haar moeë gesig straal van verwondering. Die ouma en tannie lyk so trots asof hulle die baba self uitgekraam het.
Mila is die ene hoendervleis. Dit voel asof ’n heilige teenwoordigheid vannag in die kerslig van die geboorte-eenheid huiwer. Maak nie saak hoeveel babas sy vang nie, geboorte bly vir haar die allergrootste wonderwerk. En klein Michaela s’n was werklik ekstra-spesiaal. In haar pa se afwesigheid het die vier vroue ’n laer van liefdevolle ondersteuning om haar en haar ma getrek – ’n herinnering wat Mila vir die res van haar lewe sal koester. Sy glimlag bly toe Carlien opkyk en sê: “Dankie, Mila! Dankie, julle almal! Ek sou dit glad nie sonder julle kon doen nie.”
Dis sulke woorde, dink Mila, sulke oomblikke, wat dit die moeite werd maak om ’n vroedvrou te wees. Al die ongerief en spanning van haar werk – die vreemde werksure, die laatnag-oproepe, die ontsettende verantwoordelikheid – vervaag wanneer sy só in ’n nuwe ma se oë kyk en trotse ekstase daar sien.
Drie uur later is Carlien gereed om haar splinternuwe bondeltjie huis toe te neem. Die meeste van Mila se pasiënte verkies om direk huis toe te gaan in plaas daarvan om in die hospitaal opgeneem te word.
“Weer eens geluk, Carlien,” sê Mila terwyl sy die skraal vrou teen haar vasdruk. “Ek sal vanmiddag ’n draai kom maak om te sien hoe dit gaan, en môre sal Lise-Marie ’n tuisbesoek doen. Bel asseblief as jy ons intussen nodig het.”
Tot almal se verbasing skuif Carlien self agter die stuur in. Mila maak dadelik kapsie.
“Jy’s nie ernstig nie, Carlien! Jy’t nou net ’n baba gehad. Jy kan nie bestuur nie, laat jou ma ry!”
“Ag Mila,” stry Carlien verleë, “net ek verstaan hierdie ou tjorra van my. Ek’t self hiernatoe gery ook, en toe’t ek báie erger gevoel as nou! Ek voel piekfyn, regtig. Ma en Sus moet in elk geval agterna ry.”
Mila sug. As sy geweet het Carlien beplan om self terug te bestuur, sou sy haar beslis na die postnatale saal oorgeplaas het. Minstens vir ’n nag. Maar sy weet dat geld skraps is en dat Carlien graag die onnodige onkoste wil spaar. Sy kyk vraend na Lise-Marie, en dié knik effens.
“Nou maar goed,” gee sy teësinnig toe. “Belowe my jy sal stilhou as jy nie lekker voel nie?”
“Maar natuurlik, en Ma is mos daar,” glimlag Carlien.
Mila en Lise-Marie staar in stilte die afgeleefde rooi Corsatjie agterna, albei stomgeslaan deur Carlien se onafhanklikheid. Die vroeë oggendluggie is verfrissend en nou en dan kwetter voëltjies in die groot peperboom voor die eenheid. Net toe hulle omdraai om die kraamkamer te gaan opruim, klink die muezzin se oggendgesang op vanuit die nabygeleë moskee. Vanoggend klink sy stem vir Mila vol heimwee.
“Ek sou haar nie ontslaan het as ek geweet het sy wil self huis toe bestuur nie,” sug Mila.
Maar Lise-Marie is nie bekommerd nie. “Relax, Mila, sy’s fine. Sy’s ’n sterk vrou. En sy’s nie siek nie, sy het net ’n baba gehad. Haar ma sal mos sien dat als reg gaan.”
“Tog …” mymer Mila, steeds nie oortuig dat sy die regte ding gedoen het nie.
“Sy’t geen medikasie gehad nie en jy’t self gesê sy’t min bloed verloor,” redeneer Lise-Marie. “Ék sou kon bestuur het ná my kinders se geboortes.”
“Jy’s seker reg,” gee Mila toe, effe gerusgestel deur die stem van eerstehandse ervaring. Want hoewel Mila al meer as vyfhonderd babas in die wêreld gehelp het, het sy self nog nooit die pyn of vreugde van natuurlike geboorte geken nie. Lise-Marie het egter met al vier haar kinders normaal gekraam. Een van die rouste seerplekke in Mila se lewe bly die feit dat haar klein Melissa stuit gelê het. Hoe ironies dat juis sý wat natuurlike geboorte vir soveel ander vroue moontlik maak, daarvan ontneem moes word. Die ervaring wat sy so graag self wou hê en wat haar nou waarskynlik nooit beskore sal wees nie …
Mila is vodde toe sy by haar meenthuiskompleks naby die hospitaal indraai. Teen die tyd dat sy en Lise-Marie die geboorte-eenheid eksie-perfeksie gehad het, was dit reeds so laat dat sy deur die oggendverkeer huis toe moes ploeter. ’n Rit wat gewoonlik tien minute neem, het vanoggend ontaard in ’n stop-ry-stop-nagmerrie van veertig minute. Die ergste is dat dit haar so laat gemaak het dat haar ma en Melissa reeds kleuterskool toe vertrek het. Mila het so gehoop om haar dogtertjie te siene te kry, al kon sy haar net ’n vinnige soentjie gee. Dalk is dit tog maar beter so, troos sy haarself, want minstens kan sy haar moeë lyf nou dadelik in ’n warm bad gaan week, en daarna so gou moontlik verlore slaap gaan inhaal. Sy sal maar môre iets lekkers met Melissa doen …
Net toe Mila haar klere afstroop en haar linkervoet in die aanloklike skuimbad steek, lui die deurklokkie. ’n Gloed van irritasie wel in haar op. Wie op aarde is nou so ontydig? Haar vriende en bure weet almal dat sy onvoorspelbare ure werk en dikwels bedags slaap; niemand sal so onbedagsaam wees om sonder ’n afspraak op te daag nie. Haastig spartel sy om weer aangetrek te kom. In die kamer struikel sy oor Melissa se houtperdjie wat op die vloer vergete lê. Gelukkig herwin sy haar balans deur so half bo-oor die speelding te spring, maar in die proses stamp sy haar groottoon hard teen die deurkosyn. Haar besoeker kies daardie presiese oomblik om die klokkie ’n tweede keer te lui, en Mila uiter ’n gedempte kragwoord. Dis seker ’n astrante besemverkoper of iemand wat ingeglip het toe ’n inwoner die hek oop- of toegemaak het, dink sy beneuk.
Oorgehaal om vir die ontydige smous sy fortuin te vertel pluk Mila die voordeur oop. Haar woorde stol op haar lippe toe sy vaskyk in die lieflikste man wat sy nog in haar nege-en-twintig jaar raakgeloop het. Dis sy oë wat Mila eerste opval: blinkblou kykers wat perfek beklemtoon word deur die netjiese ligblou strepieshemp wat hy aanhet. Sonder skroom hou hierdie pragtige oë hare gevange, en Mila verwonder haar aan die feit dat sulke ysblou irisse tog soveel warmte kan uitstraal. Hy’s lank en lenig en om sy soenbare lippe speel ’n sexy glimlag. Mila hou gewoonlik van skoongeskeerde mans met kort hare, maar hierdie een lyk wraggies net aantrekliker met sy effense stoppelbaard en donker hare wat wil-wil krul. Mila trek haar asem in. Sy voel asof die man se oë haar soos ’n kragtige gety intrek en sy gee haarself ’n oomblik lank geheel en al oor aan die sensasie. Gelukkig bring haar gesonde verstand haar terug aarde toe sodat die gety haar darem weer op die strand uitspoel. Sy word ongemaklik bewus van dansende lagduiweltjies wat intussen in die onweerstaanbare oë hul intrek geneem het. Vinnig kyk sy anderpad. Vervlaks, hierdie man weet maar alte goed watter uitwerking hy op die vroulike geslag het. G’n wonder hy gloei behoorlik van selfvertroue nie!
Die vreemdeling hou sy hand na Mila uit. Verbeel sy haar, of is daar iets tergends in sy glimlag ook? Sy neem sy uitgestrekte hand en verlustig haar in sy warm, ferm handdruk. Hmm, ouma Mart sou van hierdie man gehou het, skiet dit haar te binne. Ouma het geglo dat ’n man se handdruk ’n aanduiding van sy karakter is. Hierdie donkerkop-hunk sou ongetwyfeld die toets geslaag het …
’n Rilling van lekkerkry gaan deur Mila se lyf toe die vreemdeling sy linkerhand ’n oomblik lank liggies op haar pols laat rus. Sy voel hoe die haartjies op haar arm van plesier rys. Genade, Mila, dink sy vieserig, wat gaan met jou aan? Jy staan hier en kwyl soos ’n bakvissie! Is dit nou die manier vir ’n enkelma en ’n hiperverantwoordelike vroedvrou om haar te gedra? Ruk jouself reg, man!
Die man glimlag geamuseer vir Mila asof hy haar gedagtes soos ’n grootdrukboek kan lees.
“So,” sê-vra hy, “dan is jy Mila? Jy’s nog mooier as wat ek gehoor het!”
’n Verwarde frons huiwer tussen Mila se wenkbroue. Hoe sou hierdie vreemdeling haar naam ken? En met wie op aarde het hy haar voorkoms bespreek?
Derek merk op hoe Mila se bittersjokolade-oë gevaarlik begin smeul. Haar linkerhand skiet uitdagend na haar parmantige heup. Haar hele houding waarsku dat sy nie ’n katjie is wat ’n mens sonder handskoene wil aanpak nie. Nie dat dít hom afskrik nie. Allermins! Hy was nog altyd ’n ou vir ’n uitdaging, veral een wat deur so ’n mooi stukkie mens gestel word.
“Ja, ek is Mila. Aangesien jy reeds my naam ken, mag ek seker vra wat joune is?”
“Natuurlik, Mila-sonder-van,” terg hy. “Ek’s Derek. Jy wonder seker wie my van jou ongeëwenaarde skoonheid vertel het?”
Skielik besef Mila dat haar hand nog steeds in Derek s’n toegevou is. Vinnig trek sy dit terug. Sonder om te dink vee sy die effense klammigheid – die verdoemende getuienis van hierdie man se onrusbarende effek op haar lyf – aan haar broekspyp af.
Nou kan daar geen twyfel meer wees nie – hy lag inderdaad vir haar! Die tergduiweltjies in sy oë dans nie meer net nie, hulle doen sommer die twist.
“Ag nee wat,” antwoord Mila uit die hoogte. “Jy hoef nie te vertel met wie jy soos ’n skoolseun my bates en laste bespreek het nie. Jy kan wel so gaaf wees om my mee te deel waaraan ek die eer van hierdie besoek te danke het.”
Haar sarkasme drup uit elke lettergreep soos stroop uit ’n sappige koeksister.
Derek leun aan teen die deurkosyn. Dis duidelik dat Mila se venyn soos water van ’n eend se rug af rol.
“Is dit wat jy ’n besoek noem?” grinnik hy. “Dan is julle Wilgeklowers nie vreeslik gasvry nie. Waar ek vandaan kom, word besoekers darem ingenooi en ’n koppie koffie aangebied. Meestal koekies ook, maar iets laat my dink ek gaan nie vandag só gelukkig wees nie!”
“Jou raaiskoot is in die kol, meneer … ?”
“Derek, noem my asseblief Derek, Mila-sonder-van!”
“Derek,” sug Mila, skielik werklik moeg. “Kan ons tot die punt kom? Ek het heelnag gewerk – ek het nie krag vir ginnegaap nie. Dis seker vir jou ’n nuwe ervaring om deur ’n vrou gevra te word om jou loop te kry, maar ek sal dit waardeer as jy presies dít sal doen sodat ek kan gaan slaap. Waarmee kan ek help?”
Die spottende trek op Derek se gesig verander eensklaps in simpatie.
“Voel jy sleg, Mila? Jy’s nogal bleek om die kiewe.”
Sy besorgdheid neem die wind uit Mila se seile.
“Ek makeer niks nie, dankie. Ek’s net moeg. Soos ek gesê het, ek was heelnag by die werk besig.”
“Jy lyk gedaan, hoewel klein Melissa beslis nie oordryf het toe sy my vertel het wat ’n mooie mamma sy het nie.”
Die blos stoot so vinnig teen Mila se wange op dat haar ore eintlik daarvan suis. As die aarde haar maar wil insluk! Hoe verwaand en pateties moet sy nie vir hierdie beeld van ’n man voorkom nie – dat sy haar verbeel ouens loop en praat oor haar kastige skoonheid! Dit terwyl sy maar te goed weet sy lyk vanoggend soos Jona ná die vis hom uitgespoeg het.
Mila skraap elke greintjie waardigheid wat sy nog besit bymekaar. Sy dwing haar om Derek waterpas in die oë te kyk. Doelbewus staal sy haarself teen die spot wat sy verwag om daar te sien, maar tot haar verbasing is sy blik nou die ene erns.
“Dit is juis oor Melissa wat ek met jou wil praat, Mila. Ek het gisteraand vir ’n rukkie die voorreg van haar geselskap gehad. Ons twee het te lekker gekuier. Terloops, ek is julle nuwe buurman.”
Hy beduie na die voordeur van die wooneenheid langs hare. Die twee deure is bykans teen mekaar; nommer 25 en 26 deel ’n stel trappies.
Eindelik sit Mila twee en twee bymekaar. Ai, soms wens sy haar kind was nie heeltemal so ’n sosiale vlindertjie nie!
“Ek is jammer as Melissa lastig was,” sê sy styf. “Ek sal sorg dat dit nie weer gebeur nie. Melissa hou van mense – sy het nie ’n skaam haar op daai blonde koppie nie. My ma moes haar gisteraand oppas omdat ek by ’n bevalling was. Ongelukkig is Ouma se gesondheid nie van die beste nie, en soms oorweldig Melissa se energie haar. Ek sal seker maak dat sy haar in die toekoms weghou. En wanneer ek tuis is, sal Melissa natuurlik nie ’n probleem wees nie.”
Maar Derek weer haar verskonings met ’n argelose handgebaar af.
“Jy verstaan verkeerd, Mila. Melissa was allesbehalwe lastig. Ek het haar sprankelende geselskap geniet en sy’s enige tyd welkom om te kom kuier. Dit is juis waaroor ek met jou wil praat.”
Mila lig haar wenkbroue onbegrypend.
“Jy sien, Mila, hoewel ek nie kinders het nie, maak my beroep my iets van ’n kenner op daardie terrein. My hart het na Melissa uitgegaan toe sy vertel dat sy nooit haar pappa sien nie.”
Nou sien Mila terstond rooi. Sy kan nie glo hierdie vreemdeling het die vermetelheid om praatjies te maak oor haar persoonlike lewe nie!
“Stop nét daar, Meneer die Maatskaplike Werker, of wat jy ook al is, met jou kastige insig in kindersielkunde. Jy’s nou besig om jou lang Romeinse neus in te steek waar dit nie hoort nie!”
Nou’s dit Derek se beurt om sy ruie wenkbroue te lig, maar Mila is nog glad nie klaar gepraat nie.
“My verhouding met Melissa se pa het boggherol met jou te doen. Maar ingeval jy dink dat ek kleinlik genoeg is om my kind van haar pa weg te hou, kan ek vir die rekord die situasie vir jou uitspel. Stefan, my eks, is met sy skelmpie vort toe Melissa vier weke oud was. In die vier jaar wat verby is, het hy nog nooit soveel as ’n verjaarsdagkaartjie gestuur nie. So nee, Derek, Melissa sien nooit haar pa nie omdat die enigste een wat sy het, nie ’n dooie duit omgee nie!”
Met haar drif uitgewoed kyk Mila stilswyend en uitdagend na Derek. In sy oë is soveel meegevoel dat haar borskas eintlik daarvan begin pyn. ’n Irrasionele begeerte om in sy arms toegevou en vertroos te word oorrompel Mila byna. ’n Oomblik lank laat sy haarself toe om te wonder hoe dit in die skuilte van sy omhelsing sal voel. Vir die tweede keer in hul kort gesprek moet Mila elke krummeltjie selfbeheersing bymekaarskraap om haarself reg te ruk. Toe sy eindelik weer praat, is daar finaliteit in haar stem.
“Dankie vir jou besorgdheid oor Melissa, Derek. Ek glo jy’t dit goed bedoel. Maar ek sal dit waardeer as jy jou opinies in die vervolg vir jouself hou. As ek ’n volslae vreemdeling se raad wil hê oor hoe ek my kind grootmaak, sal ek op Dr. Phil gaan.”
Sy vee ’n haarlok van haar voorkop weg en tree agteruit om die deur toe te druk. Maar Derek is te gou vir haar en sit sy hand op hare.
“Lyk my ek en jy het vanoggend die een misverstand ná die ander,” sê hy ernstig. “Ek is nie besig om jou te kritiseer oor hoe jy Melissa grootmaak nie, Mila. Nie in die minste nie! Melissa sou nooit so ’n selfversekerde klein patroon gewees het as jy jou nie uitstekend van jou taak kwyt nie.”
Verlig merk hy hoe die frons op haar voorkop effens uitstryk. Toe haar skouers merkbaar ontspan, gaan hy versigtig voort.
“Asseblief, ek wil ’n hand van vriendskap na jou en Melissa uitreik. Wil jy my nie toelaat om ’n klein stukkie van daardie leemte in haar lewe te vul nie? Ek sal met graagte tyd saam met haar deurbring sodat daar ’n manlike rolmodel in haar verwysingsraamwerk is – en sodat ek die plesier van haar geselskap het. Mag sy maar soms by my kom kuier?”
Sy woorde – die jammerkry in sy stem – sny witwarm deur Mila se binneste. Dink die man miskien dat Melissa ’n soort liefdadigheidsprojek is? Gemeenskapsdiens om hom nog beter te laat voel oor homself? Of insinueer hy dat sy wat Mila is te onbegeerlik is om self iemand te vind wat vir Melissa ’n plaasvervanger-pa kan wees? Dalk bedoel hy dit opreg en is hy net jammer vir haar en haar dogtertjie, maar Mila Mouton was nog nooit iemand wat simpatie kon verdra nie. Al ken sy hom glad nie, het hierdie man haar vandag seergemaak. Sy delf diep vir die regte woorde om hom terug te kwets.
“Vir iemand wat kinders kastig so goed verstaan, weet jy maar min van ouers! Duidelik is jy self nie een nie. Weet jy nie dat ’n man wat in vreemde klein dogtertjies belangstel al ’n ma se alarmklokkies gelyk laat lui nie? Bly asseblief in die toekoms weg van Melissa en van my af. Ek sal nie huiwer om ’n klag teen jou te lê nie. Totsiens.”
Driftig maak Mila die deur toe, net betyds om te sien hoe ’n trek van teleurstelling oor Derek se gesig flits en die vonkel in sy oë uitdoof.
Lank nadat haar moeë kop op die kussing neergesak het, speel slaap nog wegkruipertjie met Mila. Toe sy ure later onrustig insluimer, spook die mooie man met sy omgee-stem steeds by haar. In haar drome verwonder Mila haar nog aan die kuiltjie in sy ken wat so aanloklik tussen die sexy swart stoppels uitloer. Maar toe sy wakker word, is dit ’n enkele beeld wat haar bybly: die gewonde uitdrukking in sy skielik weerlose oë die oomblik toe sy die deur in sy gesig toegeslaan het.