Описание книги
Toe Bella du Toit haar “skaduwee” sien, sak haar moed in haar tekkies. Sy het so gehoop dokter Markus Cameron van die Kaap is ’n gawe, vaal omie met ’n boepens en ’n bril. Dis erg genoeg dat sy hom vir die volgende maand moet saamsleep na al die geboortes wat sy hanteer en dat sy hom moet mentor in die kuns van natuurlike bevallings. Moes hy nou boonop so ’n aantreklike blikskottel wees? Bella vertrou mooi mans net so ver as wat sy hulle kan gooi. Haar ma het met ’n mooi man getrou, en kyk net waar dít hulle gebring het. Renier, Bella se universiteitsliefde, was ’n beeld van ’n man, en sy sit nou nog met die letsels. Nee, van Markus wil Bella niks weet nie. Maar omstandighede dwing haar om nou saam met haar skaduwee te werk en sy begin dieper kyk as die modelmooi uiterlike wat haar so ontstem. Is dit waar dat mens nie ’n man op sy baadjie moet takseer nie? Of was haar eerste instink tog reg: Moet sy vlug van Markus en van die gevoelens wat hy in haar wakker maak? Bella moet die donker plekke van haar siel ondersoek om einde ten laaste lig van skaduwee te kan onderskei.