Читать книгу Margot en die meerman - Anita du Preez - Страница 3
1
ОглавлениеMargot lig die glasie koue vonkelwyn vir haar beeld in die spieël agter die kroegtoonbank. “Bottoms up,” sê sy taamlik iesegrimmig vir niemand in die besonder nie.
Sy gooi haar kop agteroor, sluk die inhoud vieserig af en plak die glas op die toonbank neer. Die geluid eggo skerp deur die leë plek. Daar was niemand behalwe die kroegman toe sy netnou hier ingestap het nie. Skynbaar geniet die ganse bevolking van die eiland Zanzibar ’n laatmiddagslapie in die versengende hitte.
“What are we celebrating?” vra die man agter die toonbank. Hy kyk vraend na haar met ’n spierwit glimlag en hervul haar glas met ’n geoefende beweging uit die oulike mini-botteltjie vir een.
“Ek is nie eintlik seker nie,” sê sy.
Nou hoekom praat sy tog nou Afrikaans met hom? Hy verstaan mos nie ’n snars van haar taal nie. Die mag van die gewoonte seker maar. Sy bly maar ’n beteuterde ou gewoontediertjie.
Wel, sy het dit alles alleen gedoen, dus is dit seker net gepas dat sy dit op haar eie vier ook. Die moeilikheid is: sy is nie juis een wat drink nie. Of, om die waarheid te sê, ooit in kroeë kom nie. Selfs hierdie tweede glas vonkelwyn raak haar al klaar baas.
Sy is eintlik mos maar ’n eenkant soort mens. Mense het haar al agter haar rug ’n bloukous genoem. By geleentheid ook ’n snob. By die werk het sy allerhande bibberende byname, sy weet. Onder andere Snow Queen, Vrieskas, Yskas, Koue Vis, noem maar op. Die blote feit dat sy hier sit, is al klaar kilometers buite haar sogenaamde comfort zone.
Vanmiddag is ’n uitsondering. Sy was lus om haarself te beloon. Nee, as sy eerlik met haarself moet wees, eintlik te bejammer, en sy wou dit ordentlik doen. Soos alles wat sy doen. Sy moes tog iéts doen. Die hotelkamer het haar vasgedruk.
Die dik brief is hier in haar handsak. Gelukkig kon die universiteit dit darem ná ellelange verduidelikings hier na haar hotel aanstuur. Anders moes sy by haar huis daarvoor sit en wag het, en daarvoor het sy nie kans gesien nie.
Sy haal die koevert uit wat die klerk by ontvangs vanoggend vir haar gegee het en staar nog ’n slag na die inhoud. Daar staan dit in akademiese jargon: sy het haar meestersgraad in musikologie cum laude geslaag. Of dit iets is om te vier is nou besonder twyfelagtig. Snaaks dat sy toe sy daaraan gewerk het, haarself so aangespoor het met visioene van al die begeerlike goed wat sy gaan doen as dit eendag klaar is. Nou ís sy hier op haar lank beloofde idilliese vakansie en nou voel dit na net mooi niks.
Selfs die verduiwelse ou skootrekenaar se bot oog het haar net meewarig aangestaar toe sy die ding netnou oopgevou het. Sy kon nie eens aan iemand dink vir wie sy ’n e-pos wou stuur nie. Haar studiejare was te lank, en die slagoffers van haar onwrikbare dissipline, of noem dit dan haar ambisie, lê gestrooi langs die pad. En noudat die oorlog verby is, staan sy stokalleen tussen die ongevalle op die slagveld. Nie ’n enkele siel het oorgebly om saam met haar die oorwinning te vier nie.
Natuurlik het sy net haarself te blameer. Hoekom sou Wikus hiervan wou hoor as dit die ding is wat hul spartelende huwelik finaal gekelder het? Buitendien sal die liewe Veronica heel moontlik eerste op haar e-pos afkom, en Margot sien geen sin daarin om nou branders te maak in Wikus se nuwe lewe nie. Of nee, wag, Veronique is mos wat sy haarself deesdae noem. Dalk moes Margot ook skielik Marguerite of iets geword het, dan het sy miskien darem nog vir Wikus gehad.
Die probleem is: sy weet nie meer of sy hom nog in haar lewe sou wou hê nie. Sy het hom nie nodig nie en Veronica wel – dis wat hy gesê het daardie laaste dag. Dalk was hy reg. Sy het geen man nodig om vir haar te sorg nie. Sy is nou eenmaal nie die onderdanige klimplantjie-tipe wat mans sterk en belangrik laat voel nie. Daarvoor is sy hopeloos te selfstandig en onafhanklik. “Verdomp heeltemal te hardkoppig en eiewys,” is hoe Wikus dit gestel het. Miskien is sy eenvoudig net nie troumateriaal nie.
Sy draai die denkbeeldige ring aan haar ringvinger om en om. Sy moet erken sy mis dit tog. Die feit dat sy ’n ring gedra het, het haar soort van ’n lisensie gegee om meer op haar gemak te voel. Dit het vir die wêreld vertel sy soek nie man nie, dankie, sy het een. Sy voel kaal en uitgelewer daarsonder in die openbaar. Veral in ’n plek soos dié.
Hier voel sy soos een van dáárdie vrouens. Die soort wat jy op weeksdae ná vyf in hierdie tipe plekke kry, met klein swart toppies wat skielik verskyn onder hul korporatiewe pakkies sodat hulle gillend tequilas vir mekaar kan koop. Of wat by braaivleise opdaag met stywe hare en jeans uit die 1980’s en ’n swaar hand op die lipliner.
Die geskeide soort met een of twee vreeslik beskadigde kindertjies en ’n joppie in korttermynversekering wat nie heeltemal haar begroting of haar maandelikse afsprakie by Dream Nails dek nie. Soos Veronica. “Desperate worsies,” het sy en Maxi hulle genoem. Skielik verlang Margot erg na haar vriendin.
Maar nou ja, selfs Maxi het lankal ergerlik gedreig om die foon in haar oor neer te gooi as sy nog één keer oor haar studies praat. Dis nie almal wat kan saamleef met ’n ander ou se obsessies nie. Hul jare lange vriendskap sukkel lankal net nog hinkepink voort. Geen wonder dit het nou heeltemal weggekwyn soos haar verdroogde potplante wat die laaste ruk ook maar nie meer gereeld water gekry het nie. Margot trek ingedagte patroontjies in die vog wat opdam op die toonbank om haar glas se steel.
Lourens? Wie weet waar broer Lourens hom in die wêreld bevind? Sy het nie eens ’n adres vir hom nie. Dalk het hy die regte idee gehad: doen jou ding en mik noord. Sy sluk half ergerlik haar glas leeg. Skud haar kop toe die kroegman vraend na nog ’n botteltjie op die rak beduie.
Net Petrus het getrou gebly deur die lang nagte. Arme ou ding. Selfs hy moes soms bo-op die rekenaar kom spring met ’n patetiese miaaugeluidjie en beskuldigend na haar sit en staar met sy groen katoë voordat sy van hom onthou het.
Ma? Nee wat, dié het tog geen geheim daarvan gemaak dat sy “hierdie onnodige leerdery” as die oorsaak van Margot se mislukte huwelik sien nie. Dit was omtrent die enigste ding waaroor Pa en Ma saamgestem het. Margot vermoed dat hy tog heimlik trots sal wees op haar. Iets om oor te spog op die koöperasie se stoep, dis al. Pa lees buitendien nie e-posse nie, want hy vertrou nie rekenaars nie. Hy sal wel later van haar sogenaamde prestasie hoor.
Al wou haar hande netnou opsluit aan die werk spring op die oop sleutelbord, het haar kop haar vertel alles is klaar. Selfs haar koffer was netjies uitgepak en alles in die kas uitgestal en weer ’n slag reg gerangskik. Toe sy haar skoene wéér begin rondskuif onder in die kas, het sy besef sy het dalk hulp nodig. Die feit dat daar nie een enkele dringende iets is vir haar om te doen nie, het haar soos ’n gek laat voel. Selfs toe sy die rekenaar besluiteloos toevou, was dit asof die sagte klikgeluid finaal ’n hoofstuk van haar lewe afgesluit het. Sy moes uit.
Nou sit sy hier en dis nie veel beter nie. Eintlik pateties, besluit sy. Sy lek afgetrokke die laaste vrankerige vog wat oor die glas se rand gedrup het van haar vingers af. Dit proe nie juis na die soet smaak van sukses nie. Sy haal haar beursie uit en sit van die vreemde geld op die ruwe houtblad neer.
Net toe sy van die hoë stoeltjie wil afgly om te loop, raak sy bewus van die teenwoordigheid van iemand aan haar linkerkant.
“Wat op aarde maak ’n dame soos jy in ’n plek soos dié?” vra ’n diep manstem met ’n vae ondertoon van ’n vreemde aksent langs haar.
Daar het jy dit nou, Margot Lombard. As jy jou tussen die semels wil ingooi, kan jy seker verwag dat een of ander vark met ’n geykte pickup line vir jou sal lus kry. Sy vat haar drasak raak en hys dit oor haar skouer.
“Wag!” sê hy. “Ek kom in vrede, ek belowe.”
Sy draai haar kop. Sy sal hom met een kyk reduseer tot die tipe luis wat sy vermoed hy is. Een van daardie Neanderthals wat dink hy kan vreemde vrouens in hotelkroeë optel en aan die hare wegsleep vir ’n vinnige ietsie.
Sy lig ’n wenkbrou met moeite. “Jammer vir jou, meneer, maar dan is jy by die verkeerde adres. Vrede is presies waarvan ek vandag wil wegkom. Vir my moet jy liewer uitlos. Ek is op die oorlogspad.”
Hy hou sy hande op soos een wat wapens neerlê. Die hande lyk nogal nie soos varkpootjies nie, en hy lyk ook nie soos jou stereotiepe vark nie.
“Nou laat ek dan by voorbaat vir jou ’n oorwinningsdrankie koop, want ek tree sommer nou al uit die stryd.”
Hmmm … tog maar een van daai grillerige gladdebektipes, besluit sy.
“Ek drink nie, dankie,” antwoord sy ysig.
Hoekom het sy nie in hemelsnaam eenvoudig uit die staanspoor geloop toe sy wou nie? Vir ’n opgepofte testosteroon-ego is sy regtig nie lus nie.
“Ice-cold orange juice for two, please,” vra die vent vir die kroegman.
Sy glip van die kroegstoel af en vat haar beursie.
“Net die koeldrank, asseblief?” hou hy aan. “As jy dit klaar gedrink het en dan wil loop, sal ek nie een enkele spiertjie verroer om jou te probeer keer nie.”
Maar het die man dan nie Afrikaans gepraat nie? Sy kom dit nou eers agter. Om ’n mede-Suid-Afrikaner hier in die vreemde te vind, is dalk nie te versmaai nie. Miskien moet sy tog maar bly en probeer om ’n rapsie vriendeliker te wees. Buitendien moet elke vrou tog seker een keer toelaat dat ’n man haar in ’n kroeg optel, al is dit bloot sodat sy ook dié cliché van haar dis-gedoen-lysie kan aftik.
“Net die koeldrank, dan los jy my uit?”
“Scout’s honour,” antwoord hy met twee vingers in die lug.
Sy is nou eenmaal hier en niemand ken haar nie, en dis ook nie asof sy iets beters het om te doen nie, dink Margot. Die vonkelwyn hét haar dors gemaak. Teen haar beterwete vat sy die glas vloeistof wat sweetdruppels aan die buitekant vorm van die koue. As hierdie skepsel ’n grys strepiespak en grys skoene aanhet, is sy weg voor, Afrikaans ofte not. Sy loer skrams na hom. Hy dra ’n lospassende koel wit hemp en ’n verbleikte denim met opgerolde pype. Sy voete is kaal. Darem netjiese voete. Sy het nogal ’n ding oor voete.
“Ek is nie juis lief vir skoene nie,” sê hy toe hy sien waarna sy kyk. Hy probeer sy voete verleë onder die kroegstoel se sportjies wegsteek.
“Hoor hier, meneer, hoekom het jy nou juis met my kom praat?”
Hierdie besigheid word nou regtig simpel, besluit Margot. Sy is klaar moeg daarvoor. Flirt-praatjies het haar nog altyd verveel. As jy nie iets het om te sê nie, hou jy liewer jou mond.
“Kom ons sê maar dis omdat ek jou Afrikaans hoor praat het, en dan vermeld ons niks van die meer ooglopende rede nie,” antwoord hy gladweg.
“En dit sou wees?” Sy trek aspris haar wenkbroue weer op. Ag tog. Raaiselpraatjies.
“Dat ek jou nie kon miskyk nie.”
“Omdat ek vroualleen in ’n kroeg sit?” Sy klim sommer op haar perdjie.
“Nee, omdat jy ’n vrek mooi vrou is.”
Sy kyk fronsend op en sien dat sy oë blou is, en omraam word deur dik swart wimpers. Dit lyk tog nie of hy spot nie.
“Vleitaal werk nie met my nie, hoor.”
Dis darem nie heeltemal waar nie. Dit voel tog goed om sy kompliment te hoor. Dis ’n lang tyd sedert sy so iets uit ’n wildvreemde man se mond gehoor het. Emansipasie of nie, sy bly maar vrou.
Sy vervies haar sommer van voor af daaroor dat sy ook maar soos die meeste vroue so pateties gretig is om deur ’n man vertel te word dat sy mooi is. Tot haar ontsteltenis voel sy boonop hoe daar al weer rooi vlekke op haar nek uitslaan. Sal sy dan nooit leer om net dankie te sê as iemand haar komplimenteer nie? Dis hierdie vervlakste dun vel van haar.
“Ek sal probeer onthou, juffrou … e … ?” belowe hy sedig, maar sy sien lagplooitjies om sy oë vorm.
“Smit,” sê sy. Sy is darem nog nie mal genoeg om haar naam uit te blaker nie.
“Dis nou toeval.” Hy hou sy hand formeel uit na haar en daar is beslis nou ’n spotklankie in sy stem. “My van is ook Smit. Van watter Smitte is u?”
“Die kwaaies.” Sy kry half lag vir haarself en neem tog maar sy hand. Sy vingers sluit ferm om hare. Dit voel nie onaangenaam nie. Dalk mag sy maar so effens ontspan.
“Bly u hier in die hotel, juffrou Smit?” wil hy weet.
Sy knik onseker. Dis nie asof sy hope ervaring van varke of wolwe het nie. Ten minste weet sy genoeg om te besef hulle dra nie ’n kenteken daarvan op hul voorkoppe om vroue te waarsku nie. Al lyk die man hoe onskuldig, sy gaan beslis nie weer ’n stel aftrap soos met Wikus nie. Buitendien lyk hierdie een te jonk. Wat is dit met haar dat sy alewig mans na haar toe aanlok wat hopeloos te jonk is vir haar beswil?
Sy sluk haastig haar glas leeg. “Dankie vir die koeldrank, meneer … e … Smit, maar nou moet u my verskoon.”
Die affêre begin haar nou regtig kriewelrig maak. Die man sê niks. Sit net daar asof die plek aan hom behoort en lig sy glas in haar rigting soos ’n lui saluut, met ’n meewarige glimlaggie om sy mondhoeke.
“My plesier, juffrou Smit,” sê hy. Die spotklank in sy stem agtervolg haar toe sy stywerug wegstap.
Margot kan nie haar vinger daarop lê nie, maar iets omtrent sy houding ontstig haar. Skielik is sy doodseker die vent is ’n geslepe gigolo wat haar as maklike prooi geteiken het. Alleenloper. Ouer vrou. Lyk verveeld. Meneer Aantreklik verskyn op die toneel en voilà!
Natuurlik! Dis nooit anders nie. Sy voel hoe haar hele lyf warm word van pure verleentheid. Sot wat sy is!
Sy sluit haar kamerdeur agter haar. Miskien moet sy liefs kos van kamerdiens bestel. ’n Mens kan nooit te versigtig wees nie. Soos wat Katie sou sê, die wêreld is boos. Hoe verlang sy nou vreeslik na die Kaap en dié liewe ou huishoudster van haar. Katie is die een mens op hierdie ou aardbodem wat bly sal wees oor haar nuus. Hoe kon sy haar vergeet het? Dit moet ’n geval wees van so naby aan die woud staan dat jy nie meer die bome kan sien nie. Ai, Katie, ek wens ek was liewer vanaand daar by jou, dink Margot met heimwee. Ons kon saam Egoli gekyk het en van jou lekker bredie geniet het.
Sy gaan haar sommer nou op die daad bel, besluit sy.
“Margotjie,” klink Katie se stem sommer hier by haar, “watsit dan nou? Is die holiday nie lekker nie?”
“Ek is deur, Katie.” Sy voel skielik tranerig. “Die universiteit se brief het gekom. Met lof, nogal.”
“Of course met lof. Grote lof,” sê Katie bly. “Wat het ek jou gesê, hè? Al daai nagte en nagte se gewerkery. Ma geluk ok dan, hoor.”
“Dankie, Katie.”
“Hoe klink jy dan so af? Issit dan nie die blye dag wavoor jy so lank ytgesien het nie?” wil sy besorg weet.
“Ag, dis sommer al die dinge.”
“Môre is als beter,” troos Katie. “Enjoy dit nou maar. Als is onner beheer diékant. Jou huisie staan nog nes die dag wat jy my hier gelos het.”
“Was Wikus daar?” Waarom op aarde het sy tog nou dít gevra?
“Ja,” antwoord Katie, “kamma glo kom kyk of Petrus kos kry. Nogal!” Haar stem is vol diepe verontwaardiging.
“Nou maar reg, Kata. Dan sê ek maar naand.”
“Naand, ou slim mens,” sê Katie met ’n kekkellaggie. “Klim af daar, Petrus,” hoor Margot haar raas met die vet, bedorwe mannetjieskat net voor sy neersit.
Sy word laat die volgende oggend wakker van die son wat bak op haar bed. Sy stoot die skuifdeure oop en stap uit op die balkonnetjie.
Die hitte tref haar in die gesig asof sy ’n oonddeur oopgemaak het. Dis nie ’n gewone soort hitte nie. Dit brand dadelik regdeur haar nagklere tot op haar vel. Voor haar strek die oop strand tot waar die water soos ’n turkooisblou meer vir haar lê en wink in die son. Daar is reeds heelwat mense op die strand.
Minder as ’n halfuur later stap sy die verweerde kliptrappies af tot onder op die wit, poeierige sand. Sy gooi haar handdoek naby die water oop. Vandag is die dag dat sy dan nou maar sal begin werk aan ’n bietjie kleur op hierdie bleek, vier-en-dertigjarige computer-sellulietlyf van haar.
Sy sukkel haar T-hemp en sarong so onopsigtelik moontlik af, stop haar dik spul hare onder haar wit pet in en trek dit laag oor haar oë. Toe wikkel sy haar gerieflik in op haar maag met haar boek en haar groot nuwe sonbril.
Toe sy dink haar een kant het genoeg gebraai, rol sy sweterig om op haar rug en druk haar regop op haar elmboë. Sy verkyk haar aan die see. Dit strek tot waar sy nie meer kan sien nie. Ver na agter kan sy die driehoekige seil van ’n dau uitmaak. Twee klein vissersbootjies dryf regs daarvan. Links van haar is plat rotsriwwe duidelik sigbaar onder die ongelooflike helder groen water.
Sy dink sommer aan sorgelose kindervakansies en kaalvoetavonture met nette agter vissies aan toe hulle nog ’n familie was. Doer in die plat see is nog ’n swart spikkel. Sy lig haar sonbril op en sit regop. Dit lyk na ’n stukkie seebamboes wat strand toe dryf, die soort wat met hoogwater uitspoel. As kinders het sy en Lourens by Houtbaai met souterige lippe en bolkieste daarop geblaas om hees trompetgeluide te maak.
Sy kan nie regtig besluit wat dit is nie en trek haar oë op skrefies. Soos wat dit nader kom, maak sy iets uit wat lyk na ’n mens se kop. Hoe nader dit aan die vlak water kom, hoe meer van die persoon se lyf word sigbaar. Toe dit net ’n klompie meter van haar is, sien sy dis beslis ’n man. ’n Duikerman, soos wat Lourens destyds sy plastiekheld, ’n badspeelding met duiktoerusting, genoem het.
Die water glim oor sy gladde nek en goue, gespierde skouers. Dit stroom oor die perfek gebeitelde riwwe van sy maagspiere, oor sy klein swart swembroekie wat laag op sy smal heupe blink soos ’n nat rob se vel. Margot staar nou openlik. Iets so manjifiek het sy lanklaas gesien.
Toe sy onderlyf verder uit die water verskyn, is sy byna verbaas. Sy het eerder dié van ’n vis verwag. ’n Meerman. Maar dis twee sterk, atletiese bene waarmee hy met kragtige hale uit die water geloop kom. Tot reg voor haar. Hy skud die water uit sy donker hare wat swartnat om sy kop klou.
“Hallo,” groet hy vriendelik. Die soutwater drup uit sy neus. Hy smyt sy snorkel, duikbril en paddavoete op die sand en plak hom langs haar neer.
“Is juffrou Smit vandag nog so kwaai?” Hy kyk na haar met potblou oë onder wimpers wat in nat klossies aan mekaar klou.
Margot maak haar mond toe en laat sak haar bril vinnig. Sy het hom nie herken nie. “Het … het jy nie ’n handdoek nie?” is al waaraan sy kan dink om te sê.
Hy wys oor sy skouer iewers in die rigting van die hotel en nies skielik. Die volgende oomblik spring hy rats op en begin daarheen draf. Sy kan nie help om hom agterna te kyk nie. Die wit sand kleef aan die kontoere van sy goedgevormde, bruingebrande bene. Laag in die holte van sy rug is ’n fyn, krullerige embleem getatoeëer.
Hy kyk in die hardloop om en roep ewe plesierig: “Bly net daar, ek’s nou terug, juffrou Lombard!”
Margot bly sit roerloos op haar handdoek. Haar kop maal om hierdie besigheid uit te klaar. Het sy hom ooit reg gehoor? Het hy haar regte naam gesê? Het die man ooit regtig nou net hier voor haar oë soos Neptunus uit die water verrys, of het haar ryke, hormoongedrewe verbeelding hom opgetower? Dis nie asof enigeen van dié twee moontlikhede iets goeds inhou nie.
Wat sou hier aan die gang wees? Vandat sy eergister hier aangekom het, het sy nog nie met ’n dooie siel gepraat behalwe enkele woorde met die hotelpersoneel nie. Hoe sou hy haar naam kon uitvind? Iets klink nie reg nie.
Haar kopvel kriewel by die gedagte dat sy te doene het met ’n maniak soos die soort wat gewoonlik rolprentsterre agtervolg. Of iemand wat gehuur is om haar dop te hou. Of van die gras af te maak! Ag nee, dis nou vergesog. Nou is sy regtig laf. Dis hierdie eksotiese omgewing en die tropiese klimaat wat haar sinne so beduiwel.
Sy is sommer ergerlik dat die eerste bietjie genot van haar vakansie wat sy vanoggend ervaar het, ook nou daarmee heen is. Sy prop liewer haar goedjies deurmekaar in haar drasak. Dit sal beter wees as sy so vinnig as wat sy kan terug na haar kamer vlug.
Om veilig te wees is dit seker ook raadsaam om die deur agter haar te sluit, dink sy benoud toe sy uitasem in haar kamer staan. Sy draai die slot en wikkel die handvatsel om seker te maak. Wie of wat die man ook al is, sy vertrou hom of sy motiewe g’n stuk nie.
Hoekom sou hy háár nou juis uitsonder om geselsies mee te kom maak? Sy is tog nie die enigste wat rok dra hier rond nie. Hoekom hy nou juis met haar wil lol, sal sy nie weet nie. Boonop mag hy dalk Afrikaans praat, maar hy lyk beslis nie soos ’n doodgewone Boerseun nie. Daarvoor is sy voorkoms te smeulend, te donker en Latyns. Dis nou behalwe vir die helderblou oë. Nee, iets klop beslis nie volgens haar boekie nie. Dalk lyk sy vir hom na die mees naïewe teiken vir een of ander kriminele plan, of vreeslik ooglopend beskikbaar of iets.
Nee, kyk, vir drama is sy niks lus nie. ’n Plek soos dié is mos die ideale jagveld vir skurke wat paspoorte vervals of pakkies dwelms in jou bagasie wil inglip. Omtrent almal wat gehoor het van haar beplande vakansie hiernatoe het die een of ander grilverhaal in volkleur opgedis wat met iemand se neef of tante of buurman se kind gebeur het om haar te waarsku. Sy het gedink hulle is bloot afgunstig, maar noudat sy stokalleen hier is, lyk die grustories skielik nie meer heeltemal so vergesog nie.
Haar nuuskierigheid kry egter gou die oorhand. Sy sal net versigtig gaan loer. Sy loop net so in haar swart baaikostuum uit op die balkon. Dalk kom hy terug om haar te soek. Hier kan sy mos die hele strand veilig dophou. Net toe haar oë gewoond is aan die skerp son, maak sy ’n figuur uit.
Hy staan net daar waar sy gesit het. Dit lýk in elk geval soos hy, al het hy nou ander klere aan. Sy vermomming pas hom goed. Nee, dalk is sy nou sommer weer verspot. Hy dra ’n ligblou langpyp-swembroek met ’n wit T-hemp en ’n sonbril. Oor sy breë skouers is ’n helder gestreepte handdoek gedrapeer. Daar is iets in sy hande. Hy kyk om hom rond. Daar draai hy jou waarlik om en kyk soekend in die rigting van die hotel. Sy hand is beskermend teen die son bokant sy oë. Genade tog! Daar lig hy die hand en wuif plesierig in haar rigting.
Margot retireer verskrik terug tot in die kamer en gaan sit lammerig op die puntjie van die bed. Sy is nie juis baie goed met hierdie speletjie nie. Sy voel skoon verleë. Sy kon mos gedink het hy sou haar gewaar as sy oop en bloot daar staan! Toe sy afkyk na haar kaal bene, is hulle rooi gebrand. Dalk is dit tog goed dat sy betyds uit die son gevlug het. Stort is miskien ’n goeie idee op hierdie stadium.
Teen etenstyd is Margot goed kriewelrig. ’n Mens kan tog nie die hele vakansie benoud en op ’n knop in jou kamer sit en wag vir ’n klop aan jou deur nie. Buitendien is sy honger.
Sy bind haar hare vas. Dan gooi sy ’n sagte syserp om sodat haar kaal skouers in haar geblomde sonrok nie verder brand of die eiland se streng dragkode oortree nie, en kies koers die dorpie in. Sy is lus om te verken. Iewers sal daar wel ’n plekkie wees waar sy ongesteurd iets kan kry om te eet. Haar hotelpakket sluit net ontbyt in.
Onder ’n palmboom gewaar sy ’n informele stalletjie met houers vol speserye. Die geur van naeltjies, neut en kaneel hang in die lug. Pragtige raffia-items lê opgestapel. Oral hang lieflike groot batikversierde syserpe oopgesprei soos vlae in die son. Sy kies een uit en betaal daarvoor. Katie sal mal wees daaroor.
Sy dwaal ’n rukkie rond op soek na nog iets om te koop. Daar is heelwat toeriste om haar. Tog pla iets haar. Sy voel heeltyd of haar rug kriewel. Sal dit iemand wees wat haar dophou, of is sy nou weer laf?
Toe sy omswaai, sien sy hom. Hy beur doelbewus met lang treë oor die pad na haar toe. Margot se keel trek toe. Sy het mos heeltyd geweet daar is iets vreemds aan die man. Sy duik weg agter ’n wapperende lap so groot soos ’n tafeldoek en retireer vinnig by die naaste deuropening in.
Toe sy om haar kyk, is sy in ’n stowwerige boekwinkeltjie. Agter die naaste rak neem sy stelling in en soek kamtig deur die rye verslete boeke terwyl sy tussendeur die ingang dophou. Toe die string klokkies aan die swaar gekerfde ou deur klingel, verstyf haar hele lyf. Hy staan ’n oomblik soekend rond. Sy oë skreef teen die skielike skemerte. Margot maak haarself klein, maar hy het haar gewaar. Sy tree oorgehaal uit agter die rak. Dis nou genoeg kat-en-muis gespeel.
“Hoekom agtervolg jy my, meneer Smit?”
“Waarom hardloop jy vir my weg, juffrou Smit?” wil hy net so kwaai weet. Sy blou oë blits soos saffiere.
“Moenie my vraag met ’n vraag beantwoord nie!” sê sy hard.
’n Klein, donkerbruin vroutjie met ’n duisternis gevlegte haarstringetjies verskyn skielik uit ’n agterkamertjie en konfronteer hulle met swaaiende armpies. Haar swart ogies en die string onverstaanbare skelwoorde in Swahili maak dit tog baie duidelik dat sy hulle uitjaag. Hy gryp Margot aan die arm en trek haar tot buite in die straat.
“Los my of ek gil!” sê sy en ruk los.
Hy vat haar skouers liggies vas. “Asseblief,” pleit hy ernstig, “jy hoef werklik nie vir my bang te wees nie. Ek sweer ek sal jou niks aandoen nie. As jy nou gil, beland ek dalk in groot moeilikheid. En vir ’n tronksel op hierdie eiland sien ek regtig nie kans nie!”
“Verduidelik dan op die daad wat jou storie is,” sis sy.
Miskien moet sy liewer net stil staan. Haar asem jaag. Mense stamp teen hulle. ’n Man wat by sy familie onder ’n sambreel vlak by hulle sit en eet, kyk op met sy vurk halfpad mond toe.
“Kan ons net uit die pad staan?” Sy oë vra mooi.
Toe sy nie antwoord nie, lei hy haar na ’n wankelrige tafeltjie eenkant onder ’n sambreel en trek vir haar ’n stoel uit. Hy gaan sit oorkant haar, haal ’n wit koevert uit sy hempsak en stoot dit stadig oor die ruwe blad na haar.
Margot se ore begin rooiwarm gloei. As sy net in die grond kan wegsak! Dis haar uitslae. Me. M. Lombard staan buite-op die koevert getik.
“Waar het … ?” Daar is ’n obstruksie in haar keel. Sy klink soos ’n hees makou.
“Jy het dit gister op die kroegtoonbank laat lê.”
Wat moet sy nou daarop antwoord? Haar brein laat haar skandelik in die steek. As sy net aan iets skerpsinnigs kan dink!
“Is jy altyd so paranoïes?” vra hy fronsend en wink die kelner nader met ’n ergerlike, gebiedende handbeweging. “Om van verstrooid nie eens te praat nie!”
Margot het laas so simpel gevoel toe haar ma haar in die kombuis betrap het met die krummels van omtrent die helfte van haar baksel basaarfudge om haar mond.
“Ek is jammer,” mompel sy, maar hy hoor haar skynbaar nie eens nie. Hy is besig met die kelner. Dan draai hy terug na haar.
“Baie geluk met jou akademiese prestasie, me. M. Lombard,” sê hy. “Dis tog jammer dat ’n intelligente vrou soos jy se mensekennis haar so droewig in die steek kan laat.”
“Hoe moes ek weet jy is nie ’n sluiper of ’n reeksmoordenaar of ’n ding nie?”
“Miskien omdat ek nêrens gesluip het of bultende sakke vol wapens ronddra nie?”
“Ek het jammer gesê. Wat wil jy meer hê?” Die vent moenie dink hy kan met sarkasme begin nie.
“Ek loop nou. Dankie vir my pos.” Sy prop die koevert driftig in haar sak.
Hy gryp haar liggies aan die pols. “O nee, juffroutjie. Jy skuld my. Ek gaan jou beslis nie die res van jou vakansie probeer misloop nie, die ganse eiland is net 80 kilometer breed. Kalmeer nou maar en sit. Ek het klaar vir ons kos bestel,” beveel hy ferm. “Dit sal snaaks lyk as ons die tafel annekseer en dan niks eet nie.”
Hy het seker ’n punt beet. Hulle is tog omring deur mense. Sy skud haar arm los. Sy kan net sowel sit. Sy moet tog immers een of ander tyd eet.
“Kom ons begin oor, hmm?” stel hy voor en steek sy hand uit. “Konrad Lemmer,” sê hy met ’n spierwit tandepasta-advertensie-glimlag.
“Margot Lombard,” antwoord sy en vat sy hand vir die tweede maal.
“Glimlag tog nou maar,” beveel hy aan. “Die son skyn en hier is ons kos.”
Dit raak nou ’n gewoonte, hierdie besigheid dat sy maak soos hy sê. Sy dwing haar mondhoeke boontoe. Hy mag dalk duistere motiewe hê, maar hy hét darem haar uitslae vir haar gebring. Sy gaan dit nog nodig kry.
Hy skink vir hulle elkeen ’n glas vol uit die bottel yskoue witwyn wat die kelner voor hulle neergesit het saam met die kos. Hy neem ’n slukkie en wys met sy oë na hare. Die koel vloeistof laat die knoop in haar maag darem so effens verslap. Sy proe versigtig aan die rys en speserygegeurde hoenderkonkoksie. Dis vrek lekker en sy besef sy is rasend honger. Hulle eet in stilte.
“Ek weet nie van jou nie, maar ek twyfel of ons vir Oscars in aanmerking sou kom vir ons twee se weergawe van die spioenasiefliek Mr and Mrs Smith!” Hy loer na haar om haar reaksie te toets. Sy oë is ligblou in die son en sy een mondhoek lig hoër as die ander in ’n fyn glimlag.
“Eet liewer jou hoender, meneer Lemmer. Dis ’n teer onderwerp.”
Hy kan mos sien sy is nog taamlik omgekrap oor die hele vervlakste episode. Buitendien vertrou sy hom net so ver as wat sy hom kan gooi.
“Dan sal ek dit maar as my plig moet beskou om jou eerste indrukke van ons eilandjie uit te wis,” sê hy en neem smaaklik nog ’n happie.
“Woon jy permanent hier?” vra sy verbaas. Sy sou hom eerder as die trekvoël-tipe kon sien.
“Soort van. Maar noem dit eerder ’n lang vakansie.”
Hmmm, so gedink, mymer Margot. Sy lig haar wenkbroue vraend vir hom. “The rolling stone that gathers no moss?”
Hy haal sy skouers op. “Ek duik vir ’n lewe. En jy?”
“Niks so eksoties nie. Ek gee musiek.”
“Eksoties genoeg, sou ek sê,” sê hy en kyk haar opsommend aan. “Ek wou mos sê jy is nie jou gemiddelde sterfling nie.”
“Ek is doodnormaal,” antwoord sy skerp. Hy moenie Wikus se streke uithaal nie. Sy is moeg daarvoor om te hoor dat sy anders is.
“Agge nee,” spot hy, “ek het juis so ’n hekel aan normaliteit.”
Iets omtrent die sangerige ondertoon van sy spraak bly haar steeds pla. Hoe kan sy oë so ’n besonderse kleur wees? Dit pas mos nie heeltemal reg by sy soel vel nie? Al is die kombinasie ’n reusesukses. Die langerige swart hare wat net onder sy ore teen sy nek lê en die vorm van sy sexy mond lyk dan na dié van ’n kontinentale eerder as ’n Suid-Afrikaanse man.
“Bietjie van ’n baster,” sê hy.
Sy kyk weg. Sy het sowaar al weer gestaar. Hy weet dit duidelik ook. Sy oë het gewys hy weet presies wat sy dink. Sy bloos diep uit haar nek by die gedagte dat hy weet dat sy hom aantreklik vind. Dis ongelooflik irriterend dat hy haar heeltyd een voor is. Hy is tog immers ooglopend jonger as sy.
“My ma is Spaans,” beantwoord hy die vrae in haar kop. Hy stoot sy bord agteruit en vryf met ’n oordrewe gebaar genotvol oor sy plat maag. “My pa ’n Boer,” voeg hy by en rek sy lenige lyf uit.
Die vent is so gemaklik in sy vel soos een of ander eksotiese soort kat, dink Margot.
“My kat se naam is Petrus,” sê sy.
Nou waar het dít nou vandaan gekom? Sy kan haarself skop! Die man weet goed watter effek hy op haar het. Jy kan dit sien aan die manier waarop hy sy onderlip liggies tussen sy tande vasbyt net voordat hy sy hand voor sy mond sit. Hy vergeet hy kan nie sy geamuseerde oë wegsteek nie. Hy speel met haar. Die blikskottel!
“En jou papegaai s’n?” Die puntjie van sy tong is sigbaar tussen spierwit tande.
Sy skuif haar stoel driftig agteruit.
“Jammer … jammer! Dit was ongevraag.” Hy hou sy hand uit om haar te keer. “Simpel grappie, ek weet.”
Sy gluur hom boos aan. Dié soort ding het sy nou regtig nie nodig van ’n japsnoet nie. “Ek word vier-en-dertig, meneer Lemmer, nie vier-en-tagtig nie. Nou weet jy.” Sy het geen idee hoekom sy die paar maande weg lieg nie.
“En ek word een-en-dertig, juffrou Lombard.” Hy kyk haar onverstoord oor sy glas aan. “Dus is ons albei mooi verby die gevreesde syfer dertig. Nie dat dit ter sake is nie. Ek is nie bewus van enige wet wat sê dat mense wat saam iets eet presies ewe oud moet wees nie.”
Hy leun oor en skink vir haar nog wyn in haar glas. Sy bly huiwerig sit. As sy nou loop, plaas dit dalk net meer klem op die feit dat sy dit nou uitgeblaker het dat sy weet sy is heelwat ouer as hy. Die blote feit dat sy gewys het dit pla haar, openbaar ook dat sy hulle in haar gedagtes opgepaar het en toe besluit het die ouderdomsverskil is ’n faktor.
’n Faktor in wat? ’n Romanse? As sy haarself kon skop, was haar skene al potblou. As sy net nie so vervlaks deursigtig was vir die mannetjie nie. Om een of ander rede sien hy regdeur haar, en dit ontsenu haar heeltemal. Sy sal haar wyn rustig klaar drink asof sy mooi outjies soos hy voor brekfis opeet, haar kop bymekaarhou en dan waardig die aftog blaas, besluit sy.
Sy sit terug en neem klein slukkies van die wyn. “Hoe het jou ouers ontmoet?” vra sy om die stilte te verbreek.
Sou dit deesdae deurgaan as gesofistikeerde small talk? Dié soort geselsies voel vreemd op haar tong. Dis nie asof sy gewoonlik tyd of lus het vir sulke praatjies nie. Sy het lankal verleer hoe dit werk. ’n Rekenaar vra nie daarvoor nie.
“Wil jy regtig weet, of is jy nou net vriendelik?” vra hy tot haar verbasing.
Sien hy al weer deur haar motiewe? Sy blou oë daag haar uit om eerlik te wees. Dit ruk haar nogal. Sy is nie gewoond daaraan dat mans oor so iets omgee nie. Normaalweg is hulle so in hul skik om oor hulleself te praat dat hulle nie eens so ver dink as om te wonder of jy regtig wil hoor of net voorgee nie.
Sy vraag pas skielik nie lekker in haar prentjie van die stereotiepe man nie. Die enkeles met wie sy te doene gehad het sedert sy en Wikus uitmekaar is, het nie goed gereageer op haar reguit manier nie. Haar totale gebrek aan bedrog het veral nie goed afgegaan by Jac van Staden nie. Daardie laaste aand was beslis die nekslag. Toe hy met jaende drankasem op haar rusbank gesteurd vra: “Kry jy dan nooit lus nie?” kon sy haar darem net nie keer nie. “Ja, soms,” het sy geantwoord, “maar nie vir jou nie.”
Dit was die einde. Sy het sedertdien nie eens weer probeer nie. Nou sit hierdie beeldskone, bloedjong skepsel hier voor haar en hy laat haar twyfel. Dis asof sy nie meer heeltemal so vasbeslote is nie. Sy raak bewus daarvan dat hy vraend na haar kyk.
“Ek wil weet,” sê sy eenvoudig.
“My pa was ’n toergids en my ma uit ’n skatryk Spaanse familie. Hulle het ontmoet toe haar ouers hom in Dar es Salaam gehuur het vir ’n toer deur Tanzanië. Dit was jou spreekwoordelike liefde met die eerste oogopslag.”
“Vertel?” vra sy.
“Albei my oupas was beneukte ou mans. My pa se pa het hom van die familieplaas in Suid-Afrika verjaag oor een of ander onbenullige misverstand. Hy was maar ’n anderster mens, my pa. Ook nie jou gewone sterfling nie.” Hy kyk op. “Soos ek vermoed jy ook nie,” sê hy met ’n laggie. “Hy het besluit om die wêreld aan te durf. Doodeenvoudig begin om mense deur Afrika op reise te neem. Later sy eie baie suksesvolle toermaatskappy bedryf.”
“Gaan aan,” hou sy vol.
“My ma se pa was van adellike afkoms en baie trots daarop. Hy was ’n suksesvolle argitek in Spanje. Nou nie in die klas van iemand soos Gaudí nie, maar uiters welgesteld. Hy het nie nodig gehad om te werk nie – ou familiegeld help nogal. Maar hy was dol oor reis. Veral eksotiese bestemmings het hom gelok. Dis hoe hy en sy vrou en dogter in Tanzanië beland het. The rest is history, soos hulle sê.”
“En jy?” Snaaks, sy wil nou regtig weet.
“Ek is gebore in Dar es Salaam, twee weke ná my ouers se troue.” Hy kyk af en peuter met ’n rafeltjie van die blou-en-wit blokkiestafeldoek. Hy torring dit uit en rol dit tydsaam tussen sy lang vingers op voor hy verder praat.
“Ons het daar gewoon vir ’n paar jaar. Toe hier na die eiland verhuis. My pa se wanderlust het hom nooit gelos nie. Hy het op ’n dag net verdwyn. My ma was verpletter. So much for eternal love. Ons is terug Spanje toe na haar ouers. Ek het nie ingepas nie. Ek is later Suid-Afrika toe gestuur na my ander oupa. Ek het my hoërskoolloopbaan sommer daar by die plaaslike skool in Saldanha langs die Weskus voltooi. Daarna is ek Port Elizabeth toe. Ek het vir ’n tyd lank by ’n sportwinkel gewerk, en ná ure by die akwarium. Geld gespaar en mariene biologie by UPE gaan studeer. Nou duik ek vir ’n lewe.”
Margot sit oopmond en luister. Hoe is dit moontlik dat iemand se stem jou kan laat voel of jy gestreel word? Sy skuif ongemaklik rond op haar stoel. Die son val nou skuins onder die sambreel in.
“Dus,” sê hy met mondhoeke wat effens ondertoe aftrek terwyl hy haar vas in die oë kyk, “is ek nie net ’n bietjie van ’n baster soos ek netnou gesê het nie, maar ook ’n bietjie van ’n bastard, soos die Engelsman sou sê.”
Sy woorde stuur koue rillings langs haar rugstring af. Soveel eerlikheid het sy nie verwag nie. Dié mansmens is bepaald anders. Dit klink mos half soos ’n uitdaging. Sy het nog nooit geskrik vir uitdagings nie. Haar lang stryd om haar graad te kry getuig daarvan.
“Bastard soos in buite-egtelik of soos in rondloperkat?”
Wat makeer haar? Neem sy dan nou die uitdaging aan?
“Iets van albei,” antwoord hy.