Читать книгу Thula-thula (Afrikaanse uitgawe) - Annelie Botes - Страница 4
Woensdag, 27 Augustus 2008
Оглавление◊◊◊
Die reën drup uit haar hare toe sy terugstaan om die bord teen die werfhek te bekyk. Groen bord, wit hoofletters.
KIEPERSOLKLOOF
GERTRUIDA STRYDOM
TOEGANG VERBODE
OORTREDERS SAL VERVOLG WORD
Die tang is koud in haar hand. Sy is bly sy het die bord gister klaargemaak en geverf. Dadelik opgesit toe sy vroegmiddag terugkom van die begrafnis op die dorp.
Sy tel die afvaldraadjies op, sit dit saam met die tang in haar swart begrafnisbroek se sak. Stap deur en stoot die hek agter haar toe. Lussie inhaak. Hang die ketting om die hekraam en hekpaal. Terwyl sy die slot toeklik, kyk sy na haar benerige hande wat ouer lyk as ses-en-twintig jaar. Ouvrouhande.
Kiepersolkloof. Háár erfenis. Niemand sal sonder haar toestemming by die hek inkom nie. Sy wil alleen wees. Vir die grootste deel van ses-en-twintig jaar was sy níks. Ontneem van seggenskap oor haar grense. Die enigste plek wat háre is, is die kliphuis wat sy diep in die berge teen ’n beboste suidhang gebou het. En die hoektafel agter die nooienshaarvaring in Die Koffiekan op die dorp waar sy en Braham Fourie, toe hulle nog kontak gehad het, koffie gedrink het.
Sy stap stadig in die misreën opstal toe. Ruik die geur van die laventelheininkie wat die tuinpaadjie omsoom. Selfs in die nawinter is die tuin ’n lushof.
Nog altyd was dit háár taak om die hek toe te maak, om die Bonsmaras uit haar ma se afgodtuin te hou. Kleintyd was dit haar pa se speletjie om haar by die hek te laat uitklim, dan sit hy ’n peperment in haar hand as hy deurry. Sy hou altyd haar linkerhand, want haar regterhand stink na vrot vis en pie, en dis taai.
Toe sy groter was, was dit ’n verlossing om by die hek uit te klim, om weg te kom van hom af. Steek nie haar hand uit soos kleintyd nie. “Vat jou peperment, Gertruida, dis jou beloning vir die genot langs die pad.” Staan soos ’n soutpilaar. “As jy dit nié vat nie, smelt ons hom vanaand binnein jou, en dan eet ék dit. Gaan jy dit vat …?”
Sy het die peperment gevat en tussen die agapante by die hek gegooi.
Nadat sy op agtien, toe sy in graad elf was, haar lisensie gekry het, en ’n motor uit hom gemanipuleer het, het sy nooit weer saam met hom gery nie. Maandae op haar eie koshuis toe en Vrydae terug plaas toe.
En nooit weer sal sy iets eet wat na peperment smaak nie.
Toe sy klein was, moes sy sewentig treë gee tot by die stoeptrap. Sewentig treë van bid: Ek is ’n kindjie klein, maak my hartjie rein. Soos haar bene met die jare gerek het, het die treë minder geword. Toe sy sewentien was, het dit vasgesteek op vyftig treë.
Dis al nege jaar dat dit vyftig treë bly.
In die verte waaier die swierige leikliptrap, met ’n klippilaar weerskante van die onderste trappie. Op elke pilaar ’n bruin kleipot waaruit hen-en-kuikens tuimel. Vir die eerste keer in haar lewe vrees sy nie die trap nie. Want verby die trap, agter die kiaathoutdeur, is niemand wat haar lyf kan besit of binnedring of verniel nie. Niemand wat haar grense vertrap, of haar nakend in die maanlig laat dans nie. Die ruiter wat van haar sy merrieperd gemaak het, is dood.
Vooraanstaande Bonsmaraboer. Dagruiter. Rugruiter. Abel Strydom. Haar pa.
Tien treë. Nog veertig tot daar.
Agter die kiaathoutvoordeur is ook nie meer ’n voorvatvrou wat van beter behoort te weet as om blind en doof te speel nie. Sý is ook dood. VLV-voorslag. Tuinekspert. Ouderlingsvrou. Susarah Strydom. Haar ma.
Vyftien treë. Nog vyf-en-dertig treë tot by die trap.
Vier dae gelede, op pad Nagmaal toe, het hulle verongeluk op die plaaspad. Abel was nooit ’n man vir stadig ry nie. Te oordeel na die wrak het hy die koedoebul volspoed getref. Die horing het Susarah se hart deurboor en haar teen die rugleuning vasgepen.
Abel se nek was gebreek.
Sy het voorgegee sy huil toe die polisie die tyding bring.
Vanoggend is hulle in die dorpsbegraafplaas begrawe. Sy het verseg om hulle oorskot op haar grond te hê. “Begrawe hulle op die dorp,” het sy vir die ondernemer gesê nadat sy die lyke Sondagoggend gaan uitken het.
“Gertruida, jou ouma en jou broer lê ook in die familiekerkhof …”
“Ék sal besluit waar hulle begrawe word.” Hy het sy hand opgehou, maar sy het hom doodgepraat. “Ek wil die reëlings nóú finaliseer vir Woensdagoggend, elfuur.”
Sy wou wegkom uit die dorp. Alleen wees. Bly wees. Huil oor twee-en-twintig stukkende jare. Teruggryp na die veiligheid wat sy onthou van haar vroeë dogtertjiejare toe sy nog in feetjies en die tandmuis geglo het, en nie bang was vir ’n deurknop wat snags draai nie. “Doen net wat jy wil, solank alles glad verloop. Tee, koek, traktate, roustrikkies, kiste. Enigiets.”
“Kom kies die kiste uit.”
“Kies self.”
“Maar, Gertruida, die pryse en verskeidenheid …”
“Ek sê: kies self.”
Daar was ’n menigte mense by die diens. Sy het geweet hulle skinder-fluister: Tog tragies dat God hulle so vroeg geroep het. Hulle was maar in hulle vyftigs, daar was nog so baie wat hulle vir die gemeenskap kon beteken. Groot vraag is: Wie gaan nou op Kiepersolkloof boer, en waghond speel oor Gertruida?
Haar oë was droog toe die predikant die geloofsbelydenis lees terwyl die kiste sak. Al waaraan sy kon dink, was die ketting en slot wat sy by die koöperasie wou koop voor sy plaas toe ry. Vinnig winkel toe vir ’n bietjie kos. Hoesmedisyne vir Mama Thandeka. Suiker en jelliemannetjies vir OuPieta.
Twintig treë. Nog dertig om te loop.
Van almal by die teraardebestelling ken net sý die waarheid oor Abel en Susarah Strydom. Toe sy opkyk, sien sy Braham Fourie in die skare oorkant die graf, sy oë op haar. Dan is daar twee mense by die begrafnis wat die waarheid ken. Sy. En hy.
Sy het gemaak of sy hom nie sien nie. Vir die soveelste keer was sy spyt sy het in haar graadelfjaar die deur van haar geheimkamertjie op ’n skreef oopgemaak vir hom.
Vyf-en-twintig treë. Halfpad.
Die begrafnisgangers het blomme op die kiste gegooi. Sy het die mandjie ligpienk wildekastaiingblomme verbygestuur. Sy sou nié ’n blom aan hulle offer nie. Sy het haar vingers agter haar rug gestrengel, want sy wou haar hande weghou van die graf. Haar hande was té veel kere té naby aan Abel Strydom.
“Kom, Gertruida,” het die dominee se vrou gefluister, “vat ’n blommetjie …”
“Ek wil nie.”
“Kom nou, Gertruida …”
Almal dink sy is dom. Sê mos die weerlig het langs Susarah se regtervoet geslaan die dag voor haar geboorte. Dit het ’n stadigheid oor haar gebring. Later los hulle die weerligstorie. Hulle sê dis haar broer, Anthonie, se dood wat haar geknou het. Nóg later hoor sy dat sy kamstig met ’n blaasdefek gebore is.
Alles toesmeerdery. Laat die dominee se vrou dit glo as sy wil.
“Miskien wil jy later, as almal weg is, ’n blommetjie …”
“Ek sal nie wil nie.”
Die dominee se vrou het gesug en aangeloop met die mandjie.
Veertig treë. Sy sien die reën neersif op die leikliptrap.
Terwyl sy oor hulle heenkyk, het sy besluit dis beter dat hulle glo sy is dom. Eerder dom as ’n slet wat met haar pa bed toe gaan. Wie sal haar glo as sy sê hy het haar twee-en-twintig jaar lank verkrag en gesodomiseer? In haar onregwysheid, sal die mense sê, praat Gertruida ’n klomp opmaakstories. Want as daar ’n man van onkreukbare integriteit is wat dit nié aan sy dogter sou doen nie, is dit Abel Strydom.
Toe druk iemand van agter iets tussen haar vingers in. ’n Wildekastaiingblom. Toe sy omkyk, staan Braham agter haar. Sy laat val die blom en trap daarop.
“Ek sal in Die Koffiekan wag tot twee-uur.”
Antwoord nie. Kyk hom koud aan.
“Laat weet as jy my nodig het, Gertruida.”
Vyftig treë.
Sy haal die tang en draadjies uit haar sak en gaan sit op die nat trap. Vandat sy Sondag teruggekom het van die begrafnisondernemer, was sy nie weer in die huis nie. Sy wil nie in die dooies se hangende asems en vuil onderklere vasloop nie. Al is dit koud en nat en ver om te loop, gaan slaap sy eerder in die kliphuis.
Ver weg raas die paddas by die rivier. Voor donker wil sy vir die rivier gaan sê die grafte is toegegooi, twee-en-twintig jaar se marteling is verby.
Sy wóú Braham Fourie ignoreer. Sy het nie sy hulp nodig nie. Of dié van enige man nie. Nie nou of ooit nie.
Die suidoostewind waai die stuifreën in haar gesig waar sy
op haar rug op die onderste trappie lê. Dis koud, maar helend.
Dit het lanklaas gereën.
Terwyl die dominee die kluit op die voetenente van die kiste krummel, het die reën uitgesak. Die slotgesang is in stortreën gesing. “Bly by my, Heer, terwyl die skemer daal …” As sy Abel en Susarah nie so gehaat het nie, sou sy kon huil. Maar sy kan nie meer huil nie. In die loop van twee-en-twintig jaar het sy haar gestaal teen vóél. As mens vóél, dan pyn jy. Sy het genoeg gehad van pyn.
Dit pyn as jou pa ’n bruistablet-houertjie in jou opdruk. Dit pyn as die kinders jou by die skool koggel en sê jy stink. Dit pyn as jy op ’n volmaannag geboorte gee aan ’n skandekind. Dit pyn as Braham Fourie met ’n ander vrou personeelfunksie toe gaan.
Later raak mens pyndood. Asof daar skubbe op jou vel en in jou hart groei.
Sy rol op haar sy en stut haar op haar elmboog; lek die reën van haar lippe af. Haar langbroek kleef yskoud aan haar bene.
Nog nooit was sy so angsloos nie. En terselfdertyd so rigtingloos. Haar gedagtes is ’n warboel. Soos karsiek as hulle in die somer op die plaaspad ry. Om warrelend te dink, is ál manier wat sy ken. Om raas te kry omdat sy vergeet het, of omdat sy wegglip in ’n wêreld van haar eie, is normaal.
“Gertruida?” roep Juffrou Robin saggies in sub A. “Kyk na my, Gertruida …”
Dis sleg om terug te kom klas toe waar sy móét inkleur en luister en in ’n ry staan. Dis lekkerder om in haar gedagtes met Bamba tussen die rivierriete op Kiepersolkloof te speel. Hy blaf en hap na die water en jaag die kolganse. Sy trek vir haar ’n huis in die sand met ’n riet. Die sandvertrek waar haar kamer is, het nie ’n deur nie, ook nie ’n bed nie. Dan roep sy vir Bamba; hulle sit in die sandhuiskamer en eet droë kraakbeskuitjies. Sy eet nie botter nie, want dit word snotterig in haar mond.
“Dis jou beurt om te lees, Gertruida. Kom,” sê Juffrou Robin en druk haar vinger onder die eerste woord.
“Ek sal later lees.”
Die kinders lag. Hulle druk hulle neuse toe, en maak sagte woorde met hulle lippe, sodat Juffrou Robin nie moet sien of hoor nie. Tergwoorde. Hulle sê sy stink en sy is dom. Sy wil hulle doodmaak.
“Nee, Gertruida, dis nóú leestyd.”
Toe lê sy op haar arms; knyp haar oë toe. Sy sál nie lees nie, want sy ken die boek uit haar kop. Sy wil teruggaan rivier toe en in haar sandhuiskamer sit. Buitendien, dis lekker as Juffrou Robin so baie met haar praat. Dit voel of Juffrou Robin haar liewer het as vir die ander sub A’tjies. As sy gehoorsaam is en lees wanneer dit haar beurt is, hurk Juffrou Robin nie by haar en vryf haar rug nie. En sy praat nie sag en mooi met haar nie. Maar as sy weier om te lees, pleit Juffrou Robin by haar.
Toe haar rapport aan die einde van die jaar kom, staan haar ma by die kombuistafel en huil dat die trane in die bak met tjoklitkoekdeeg drup. Omdat sy dop.
“Is nie dop nie!” stry sy. “Juffrou Robin sê ek is slim! Ons moet net weer ’n keer deur die leesboeke gaan. Juffrou Robin sê Andrea gaan óók weer …”
“Ek skaam my vir jou, Gertruida! Jy’s ongehoorsaam! Tot Matrone kla oor jy jou neus optrek vir die koshuiskos, en oor jy bed natmaak. Jy’s ’n groot dogtertjie, maar jy gedra jou soos ’n baba wat …”
“Dissie waar nie! Dis oor daar in die nagte ’n likkewaan in die koshuisgange loop, ek het hom sélf gesien, en hy slaan kinders dood met sy stert en eet hulle.”
“Twak, Gertruida! Jy maak al weer stories op! Ek sweer, as Matrone weer kla, gaan ek weggooidoeke koop wat sy snags vir jou …”
Toe druk sy haar vingers in haar ore en hardloop uit die kombuis uit. Rivier toe. Niemand hoef te weet dat die plaas se likkewaan snags tot op die dorp loop en by die koshuis inkom nie. As sy tjoepstil in haar bed lê, hoor sy hoe maak hy keelgeluide in die gang. Matrone sê dis die warmwaterpype wat so maak, maar Matrone jok.
En niemand hoef te weet sy is bly dat sy dop nie, want nou hoef sy nie weer saam met die kinders te wees wat tergwoorde maak nie. En as sy nie wil lees nie, sal Juffrou Robin weer by haar hurk en mooi vra sy moet asseblief lees. Sy hou van Juffrou Robin.
In haar tweede sub A-jaar het die oom die Maandag skool toe gekom en sy moes by hom in die skoolbiblioteek prentjies teken en legkaarte bou en somme maak. Juffrou Robin het gesê dis die skoolsielkundige, Meneer Niemand. Sy het nog nooit só ’n van gehoor nie. Hoe kan mens iemand wees as jy niemand is?
Sy was nie bang dat Meneer Niemand sy vinger in haar sal opdruk nie, want haar ma was heeltyd by. Langs die plaaspad het haar ma gesê sy moenie vir die oom vertel van die bednatmakery en die nagmerries nie. “Mens praat nóóit met ander mense oor sulke goed nie, Gertruida. Nie eens met jou beste maatjie nie.”
“Ek het nie ’n beste maatjie nie. Ek het glád nie maatjies nie.”
Sy het al baie kere vir haar pa-hulle gevra of sy ’n maatjie kan plaas toe bring vir die naweek. Dalk sal iémand by die skool van haar hou. Maar elke keer sê haar pa nee. As sy vir haar ma vra, sê haar ma sy moet na haar pa luister, want hy is die hoof van die huis en hy weet altyd die beste.
Snags, as sy sê sy kry seer, sê haar pa ook dis alles vir haar eie beswil.
Dit was lekker by die sielkundige-oom. Sy het gewens Juffrou Robin kon hoor hoe mooi sy lees. Antwoord elke som dadelik. Sy wou vir hom wys hoe vinnig kan sy ’n legkaart bou. Maar elke keer as hy opstaan en sy sien die rits van sy broek, ruik die biblioteek na sardiens en dit klink of iemand die deurknop wikkel. Dan kan sy nie tel of inkleur nie. Dan lê sy op haar arms tot hy weer sit. Haar ma sê vir die sielkundige-oom dis van Anthonie se dood af dat sy só is.
Dis ’n jok.
Haar ma sê vir die oom goeters wat sy nie goed verstaan nie, maar dit klink of haar ma aan haar kant is. Haar ma sê sy wil haar kind beskerm teen ’n onnodige gegrawery, van genoeg tyd wat moet verbygaan, en dat sy nie wil hê haar kind moet onnodig geteiken word nie.
Teiken? Dit klink of iemand haar wil skiet. En haar ma keer. Dankie tog.
Die Sondag kry hulle mense vir middagete. Sy sit in die donker onder die tafeldoek in die ontbythoekie. Niemand sien haar nie, dan kan sy die grootmense afluister. Haar ma en Andrea se ma sit by die kombuistafel en rasper wortels en sny pynappelblokkies. Haar ma sê die sielkundige sê dis Anthonie se dood wat die probleem is.
Dis ’n jok, die oom het nooit so gesê nie.
Haar ma vertel vir Andrea se ma ’n klomp jokke oor wat die oom gesê het. Maar sy weet hy het nooit so gesê nie. Oor groen en rooi koeldrank wat sy nie mag drink nie, want dit gaan haar uit die slaap hou. Oor ’n blaasinfeksie, en oor haar verbeelding wat op loop gaan. Maar haar ma sê nie hoe glad sy gelees het, en dat sy nie één keer oor die lyne ingekleur het nie.
“Ja, Susarah,” en die tannie sug, “ons sal nooit verstaan hoe Anthonie se dood haar geaffekteer het nie. Sy het hom aanbid. Andrea se probleme kom van ’n moeilike geboorte. Tangverlossing. Te min suurstof. Sy was ’n tiendpondbaba.”
Sy bêre die moeilike woorde in haar kop, omdat sy lief is vir woorde. Suurstof. Tangverlossing. Tienpondbaba. Daar is groot woorde wat sy nie verstaan nie. Allergies, terapie, geneties, trauma, masturbasie. Maak nie saak nie, solank sy dit bêre. Partykeer haal sy die woorde uit, sê hulle saggies oor en oor, sodat net haar tong roer in haar mond. Snags as daar lelike goed in haar kamer gebeur, sê sy dit aanhoudend. Dan vergeet sy ’n bietjie van die seer en die sardiensreuk, en sy verdwyn uit haar eie lyf en word iemand anders.
Dis lekker om iemand anders te wees. Dan is sy nie soos Meneer Niemand wat niemand is nie.
Allergies Strydom het deurskynende vlerke en kan tot teen die wolke vlieg. Terapie Strydom maak ’n geel-en-rooi houtbootjie en roeispane, en ry op die rivier tot by die see, bo-oor krokodille en riviermonsters. Geneties Strydom is Gouelokkies se beste maatjie. Hulle pluk giftige sampioene in die woud en voer dit vir Sneeuwitjie se stiefma. Trauma Strydom is die kamermeisie wat Doringrosie se hare kam terwyl sy slaap. Masturbasie Strydom speel altyd baas. Sy hou nie van Masturbasie Strydom nie, want hy maak haar seer.
Waar sy haar op haar elmboog stut, sien sy aan die voet van die berg, oorkant die rivier, hoe krul die rook uit die skoorsteen van Mama Thandeka se huis. Nou is net sy en hulle en OuPieta en sy vertraagde Pietertjie oor op Kiepersolkloof. Al die ander werkershuise staan lankal leeg. Abel het gesê die wet maak dit onmoontlik om permanente werkers in diens te hou. Maar Mama Thandeka en Mabel en OuPieta en Pietertjie het blyreg.
OuPieta help op die werf met Susarah se tuin en die groentetuin, die hoenders, saans se melkery. Maar hy is oud en staan einde toe. Pietertjie is al in sy laat veertigs; tot weinig in staat. Al waarmee hy goed is, is sing en jelliemannetjies eet. Wat van hom sal word die dag as OuPieta doodgaan, was tot Sondag Abel se probleem. Nou is dit hare. OuPieta moenie doodgaan nie. Hy is vir haar meer van ’n pa as wat Abel ooit was. Saans saam met hom eiers uitgehaal toe sy klein was. Neem haar rooi bekertjie kraal toe met melktyd. Hy skep vir haar warm melk. Maar later het sy begin walg vir melk.
Sy moet hom ’n slag dokter toe neem vir ’n ondersoek. Mama Thandeka ook.
Alle ander arbeiders wat hier kom, is kontrakwerkers. Draadspanners, snoeiers, beeswerkers, damstoters, tuinarbeid. Abel het hulle laat aanry soos hy hulle nodig kry. Behalwe vir OuPieta, was s´y Abel se werfhand. Daar is niks wat sy nie kan doen nie. Water lei, melk, soutlek uitsit, grensdrade nagaan, slagysters stel vir die muskeljaatkatte. Skaap slag. Maar Abel het die skape verkoop. Gesê dis goedkoper om by die slaghuis te koop, omdat hy kaalgat gesteel word.
Abel het haar mooi geleer.
“Ons moet haar met iéts besig hou,” het sy hom vir kuiermense hoor vertel, “siende dat sy nie selfstandig genoeg is om universiteit toe te gaan, of oorsee te gaan werk nie. Maar ek en Susarah gee nie om nie, ons is bitter lief vir haar.”
Niemand sal haar glo as sy vertel hoe mooi hy haar geleer het van ’n ander soort hande- en lyfarbeid nie.
Die enigste mense wat Abel en Susarah se ware aangesigte ken, is Mama Thandeka en Mabel. Maar niemand sal húlle glo nie.
Mama Thandeka en Mabel het immers mekaar, en hulle is lief vir mekaar. Anders as sy en Susarah wat heeltyd kopgestamp het. Van nou af is sy alleen in die huis. Maar nie eensaam nie. Vir die grootste deel van ses-en-twintig jaar begeer sy om alleen te wees. Geen vloerplank of deurknop te hoor nie. Dalk het die koedoe haar gered van tronkstraf, want die dag was naby dat sy hulle elkeen ’n doodskoot in hulle slaap sou gee.
Die telefoon lui in die huis. Dit moet maar lui. Sy wil met niemand praat nie.
Die vleipaddas raas. Haar maag gor. Sy het vandag nog niks geëet nie. Nie eens tee gedrink ná die begrafnis nie. Heeltyd padgegee van al die hande wat jammerhartig oor haar bo-arms vryf. Sy gru as mense aan haar raak.
In haar haas om die kennisgewingbord op te sit en die hek te sluit, het sy die bakkie in die waenhuis getrek en die winkelsak met brood, tamaties, boeliebief, lemoene en Mariebeskuitjies op die sitplek vergeet. Mama Thandeka se medisyne en OuPieta se suiker en jelliemannetjies ook. Sy sal dit later kry.
Sy wil haar eie kos hê. Die kos in die huis is vuil. Dalk moet sy by Mama Thandeka gaan roosterkoek vra.
Toe Mabel vanoggend ná sonop met die wasgoedmandjie vol wildekastaiingblomme op haar kop op die werf aankom, het sy gesê sy laai net af, dan moet sy huis kry, want daar staan ’n kniesel en rys.
“Is jou ma se bors beter, Mabel?”
“Nee. Daar’s reentweer aan’t kom. Mama het in die nag beginte hyg. Kos my in die middel van die nag haar rug sit en vrywe met Vicks. Jy moet asseblief borsdruppels bring, ons s’n lê onder kwart. Roulynolie en Turlington ook. En OuPieta vra suiker, en lekkers. Hy sê vandat Pietertjie se lekkergoed eergister opgeraak het, sing hy eenstryk ‘Ek soek na my Dina’, tot in sy slaap, en dit dryf hom terug na turksvyskonfaan toe.”
“Wil jy nie maar saamgaan begrafnis toe nie, Mabel? Ek ry eers tienuur, daar is genoeg tyd om …”
“Vergeet dit, Gertruida. Ek gaan nie met valse groetnis in die huis van die Here sit vir ’n man vir wie ek nikse respekte het nie. Ek is bly ek hoef nie vandag die gesig op te sit wat jy moet opsit nie.”
“Gaan saam, toe?”
“Nee. Ek moet loop hout optel voor dit reent. Ek wou net blomme pluk vir afgooi op die kiste. Oor ek lief was vir jou ma. Sy’t my baie goeters geleer.”
“Jy’s gelukkig, Mabel. Sy het nooit moeite gedoen om mý …”
“Dit lieg jy, Gertruida! Sy’t opgegee oordat jy haar weggedruk het. Jy wóú niks by haar leer nie. Sy’t my geleer,” en Mabel het teen die wasgoedmandjie gedruk met haar voet, “waar die wildekastaiings uitspatlik blom, is valse rykdom. Dik beursies, dun harte. Jou ma was ’n goeie vrou, Gertruida, maar jou pa …”
“Hy het dit darem in hom oorgehad om jou en jou ma lewensreg te gee in julle huis, en hy …”
“Lewensreg? Ja, Gertruida, hy hét my die lewe gegee. Toe Mama al oorkant van veertig was, en hy ’n snotkop van ses-en-twintig. Hy skúld my en Mama die lewensreg. Ek loop nou. Moenie die borsgoeters en suiker en lekkers vergeet nie.”
“Ek wil jou ’n guns vra, Mabel. Sal jy in die huis ingaan en my swart langbroek en my wit langmoubloes hiernatoe bring? My swart skoene …”
“Vaderland, Gertruida, jy kan mos die klere self loop haal!”
“Ek wil nie in die huis ingaan nie.”
“Nou waar’t jy die laastere drie nagte geslaap as jy nie in die huis geslaap het nie?
“Jy spaai mos oral, jy weet goed ek het in die kliphuis geslaap. Bring ’n skoon bra en pantie ook. En my haarborsel.”
“Vaderland, Gertruida, dink jy miskien dit spook in die huis?”
“Nee. Dit spook nie; dit stink.”
“Ek het laastere Vrydag skoongemaak, na wat kan dit nóú staan en stink?”
“Dit stink na Abel en Susarah. Gaan haal assebliéf die goed vir my?”
Mabel het die goed gebring. “Jy moet jou hare was, Gertruida. Jy kan nie met so ’n vaal kop begrafnis toe nie. Ek loop nou. Jy moet sterk staan vandag.”
Mabel was al verby die laventelheininkie toe sy haar inhaal. “Dankie, Mabel, vir die blomme. En vir …”
Toe steek Mabel haar arms uit. Hulle staan omgewe deur die geur van gekneusde laventel. Halfsusters uit die saad van dieselfde man.
“Gooi ’n moerse klip op sy kis, Gertruida, en sê ek sê dankie vir die lewensreg.”
Sy sit regop. Haar hande is blou van die koue. Die nat broek ets haar maerheid af.
Rivierkant toe is die paddas ’n massakoor. Jare lank al is haar kerk onder by die rivier. Vandat sy in standerd vier die Kwakerboek in die dorpsbiblioteek ontdek het, gaan sy nie kerk of Sondagskool toe nie. Sondae as dit rytyd is, hardloop sy weg. Abel jaag en vang haar en stop haar in die kar. Sy raak langs die pad naar op sy kerkbaadjie. In die kerk skop-skop sy teen die bank voor haar. Susarah raps haar been. Dan huil sy soos iemand wat vermoor word terwyl die dominee die Tien Gebooie lees. Of sy krap aspris in haar neus. Wil tydens elke diens toilet toe gaan. Klou aan die bank voor haar vas as dit tyd is om in Sondagskoolgroepies te verdeel.
Sy wil nie. Sy sal nie. Want sy hou nie van die kerk of van God nie. Want Hy los haar snags alleen, al bid sy dwarsdeur die nag. God roep haar pa as ’n diaken en maak haar ma ’n belangrike vrou by die ACVV. As Hy regtig slim is en oral kan sien, hoekom straf Hy hulle nie? Wat help dit sy druk ’n skoenpunt onder haar kamerdeur in, en vra God moet die deur toehou? Wat help dit sy sê vir haar ma van die lelike dinge, en haar ma klap haar teen die skouer en sê sy moet ophou stories uitdink?
Die biblioteekboek sê Kwakers glo nie in dominees en kerke nie. Dalk is dit beter om ’n Kwaker te wees, want dit help haar niks om Jesus se kind te wees nie. Die boek sê Kwakers sit net botstil en wag, maak nie saak waarvoor nie. Dís wat sy wil doen: by die rivier sit en wag dat die gedruis in haar kop stil raak. Maar dit raak nooit stil nie. Elke dag raak dit deurmekaarder.
Toe dit atletiekdag was, het sy onder haar pa se bakkie weggekruip. Sy wou nie aflos hardloop nie. Haar pietermuis was seer, want die vorige aand het haar pa gesê hulle moet speel haar pietermuis is ’n stoofpot, en hy kook ’n jong murgpampoentjie in die pot. Dan roer en roer hy die pampoentjie. Dis bietjie lekker, en bietjie seer. Toe sy die oggend pie, brand haar pietermuis so erg dat sy afknyp. Haar pietermuis jeuk; sy gaan nié aflos hardloop nie. Toe luister sy wat skinder die tannies wat langs die bakkie op ’n kombers onder ’n swarthoutboom sit.
Die kind se aweregsheid moet ’n bitter pil wees vir Abel en Susarah. Abel sê hy kan nie elke Sondag in sy kerkpak agter haar aanhardloop nie. Beter om haar by die bediende te los. Sy’s só onstigtelik in die kerk. Susarah sê sy’s veilig as sy so in die berge dwaal, want die Jack Russell pas haar op. Maar ek weet darem nie … Nou moet die aflosse gehardloop word, en sy verdwyn soos ’n groot speld. Abel en Susarah moet ’n harde lewe hê onder haar. Sy was so ’n oulike dogtertjie, maar ná Anthonie verongeluk het, het sy soos handomkeer verander.
Sy hou nooit vir die paddas kerk nie, sit net op die sand. Luister na die stemme in haar kop. Partykeer klink dit soos perdehoewe, of soos droë blare. Partykeer tik daar ’n horlosie in haar kop, al is sy ver van ’n horlosie af. Dan huil sy. En sy vloek. Skuur haar hande met sand tot dit brand en sy dink die visreuk is weg. Of sy skryf met ’n rietspaander in die sand; vee dit weer dood.
Sy sukkel om haar woorde met ander mense te deel, want dit voel of daar ’n rou wors in haar keel vassit. Om te vergeet van die wors en omdat sy nie ’n stoofpot wil wees nie, skryf sy nog en nog woorde en sinne in die sand.
Vee dood.
Skryf.
Vee dood.
Ná matriek sit sy en Braham een Vrydagmiddag by die hoektafel in Die Koffiekan, weggesteek agter die nooienshaarvaring. As die hoektafel beset is, wag sy tot die mense opstaan. Nét die hoektafel is reg. Sy wil nie omring en vasgekeer word nie, en sy wil só sit dat sy die restaurantdeur kan sien. As sy wil vlug, moet sy weet waar is die deur.
“Die mense skinder oor ons, Braham.”
“In ’n klein dorpie skinder almal oor alles.”
“Hulle sê jy was my onderwyser, en jy’s van lotjie getik om met mý …”
“Laat hulle sê wat hulle wil.” Hy stryk oor haar voorvingerkneukels. Sy ruk weg. “Ek wíl by jou sit. Ek steur my nie aan die mense nie.”
Vat die pen uit die rekeningomslag, krabbel in bykans onleesbare lettertjies agterop die rekening. Gebruik nét die letters van haar naam. Uitdra. Tirade. Digter. Terdeë. Dis ontsnapping. Elke woord wat sy skryf, krap sy dood.
“Gertruida, as jy nie die tafel tien maal met ’n servet afvee nie, skryf jy op die rekening. Kyk na my, Gertruida …” Hy sit sy vinger onder haar ken.
“Moenie aan my raak nie, Braham.” Druk sy hand weg. “Jy weet ek gril.”
“Laat ek sien wat jy skryf …”
Skuif die rekening na hom toe; alles is onleesbaar.
“Wat staan onder die ink, Gertruida?”
“Dat ek jou wíl liefhê.”
“Het my dan lief, toe? Gaan volgende Vrydagaand saam met my hospitaaldans toe?”
Vou die servet in ’n rolletjie; vee oor die tafel. Hy sit sy hand op haar gewrig. Dit kielie-skok tot in haar blaas. Sy walg as haar blaas kielie. “Ek besit nie ’n rok nie. Ek kan nie dans nie. En ek sal weghardloop as iemand ’n hele aand lank so naby my is.”
“Tot waar wil jy hardloop, Gertruida, en hoekom?”
Teken sirkels met ’n tandestokkie op die tafel. “Ek sal nooit ophou hardloop nie.” Sy sit genoeg geld in die rekeningomslag. “Ek moet gaan, Braham. My pa wag vir die grassnyerlem en dis amper melktyd.”
Hy haal die note uit, hou dit na haar. “Dis my betaalbeurt. Sit nog ’n rukkie, toe?”
Sy sit die note onder die blompotjie. “Nie vandag nie. Ek kom nie Vrydag dorp toe nie, moenie vir my wag nie.”
Op die plaaspad draai sy die venster toe teen die warrelstof. Dit voel of sy op iets slymerig sit. Iets wat uit haar onderlyf kom waaroor sy geen beheer het nie. Sy slaan op die stuurwiel, haar stem galm in die kajuit. Abel Strydom, wat het jy aan my gedoen! Wat doen jy stééds aan my! Ek wens jy vrek! En ek wens ék vrek!
Ná daardie dag in Die Koffiekan het sy met haar vinger op die plastiektafeldoek geskryf, sodat haar woorde vir Braham duister bly.
Die eerste letter wat sy kon skryf, was ’n A. Vir Anthonie. Dit het soos ’n spitsdakhuis sonder skoorsteen gelyk. Sy het dit op Anthonie se skoolboeke gesien as hy naweke van die koshuis af gekom het. Anthonie het nie omgegee as sy deur sy skoolboeke blaai nie. Hy was ses jaar ouer as sy. Hy en Mabel was in dieselfde standerd. Maar hy was in die dorpskool, en Mabel was by tannie Magriet van Bosfontein in die plaasskooltjie.
Eers in 1992, sewe jaar ná Anthonie se dood, is Mabel ook dorpskool toe. Mabel was haar engel in die koshuis en by die skool. Want Mabel het altyd vir haar baklei.
Los vir Gertruida uit, of ek slaan jou bek stukkend!
Jý aan my slaan, bleddie common klimeid!
´Die Vrydag sit Mabel detensie oor sy sê die wit kind het ’n bek. Maar die wit kind gaan huis toe, al het sy gesê “common klimeid”.
Daar was nog talle sulke voorvalle. Maar Mabel het haar staan gestaan.
Sy was vier en Anthonie tien toe hy dood is. Al wat sy van sy begrafnis onthou, is ’n papier met ligpers Jesushande, en die A van sy naam, net onder die Jesushande. Sy moet ophou tob oor Anthonie. Hy is al meer as twee-en-twintig jaar dood. En sy het hom nie regtig geken nie. Al wat sy ken, is die ontgogeling wat ná sy dood soos ’n swart kombers oor Kiepersolkloof kom lê het.
Tog, dikwels droom sy ontstellend helder van Anthonie. Van die geboortemerkie op sy voorarm; toe sy toonnael afgeval het nadat die muisvalletjie dit geslaan het. Van ’n geelen-groen John Deere-verjaardagkoek. Wanneer sy wakker word, is haar wimpers nat, en haar gemoed droef. Maar in die woesteny van haar verste onthoue weet sy dis nie oor Anthonie dat sy hartseer is nie. Dis oor iets in haarself.
Niemand het haar ooit van Anthonie se dood vertel nie. Maar sy het alles gehoor wanneer Abel en Susarah baklei. Veral as Abel dronk was. Dit het min gebeur dat hy hom uit sy verstand suip. Maar dan was dit rasend-verskriklik. Eers as die dronkverdriet inskop, het hy begin kalmeer.
Elke baklei het by Anthonie se dood gaan draai, dié dat sy ver meer weet as wat hulle gedink het.
Dom Gertruida.
As hulle maar kon weet hoe slim sy is.
Die reën is weg; die wind het bedaar. Misvlies oor die beboste bergvoue. Behalwe vir die paddas is dit heiligstil, asof die aarde ophou asemhaal het. Dit rook nie meer by Mama Thandeka-hulle se huis nie.
Sy stap waenhuis toe om die winkelgoed in die bakkie te kry. Daar is water in haar skoene en die begrafnishemp kleef teen haar borste. Sy wil nie die kos in die huis inneem nie. Sy sal dit aan die koeltekant van die watertenk bêre, en die brood met haar knipmes sny. Die knipmes was al meermale haar redding as sy in die veld swerf.
Haar pa het die mes in 1992, toe sy in standerd twee was, uit Switserland gebring toe hy terugkom van ’n landboutoer. Die datum staan in die flappie van die leersakkie. Dieselfde jaar het sy vir haar juffrou gevra of sy die klas se verklarende woordeboek vir die middag mag koshuis toe neem. Sy wou kyk wat beteken allergie, terapie, geneties, trauma, masturbasie, omdat dit al lankal in haar kop rondmaal.
“Hoekom soek jy dáárdie woorde, Gertruida?” het die juffrou met groot oë gevra.
“Sommer.”
“Moenie jok nie, Gertruida, waar kom jy daaraan?”
“Ek het dit gedroom.”
Sy kon sien die juffrou gaan wéér aan haar torring. Sy wil nie praat nie. Haar pa sê sy mág nie praat nie. Toe verbeel sy haar daar is ’n slymwors in haar keel. En sy gooi voor die juffrou se voete op. Opgooi is maklik as sy aan slymwors dink. Dan bekommer die juffrou haar oor jou en gee jou jou sin. Dis lekker as iemand oor jou bekommerd is. Dit maak jou belangrik as jy die woordeboek mag koshuis toe neem.
Allergie. Oorgevoeligheid vir allergene.
Terapie. Behandeling van siektes, kwale.
Geneties. Betreffende die genese van iets.
Trauma. Verwonding, letsel.
Masturbasie. Seksuele selfbevrediging.
Sy het min daarvan verstaan. Dit het haar laat dink aan wanneer haar pa die Bonsmaras brandmerk. Sy kry altyd die beeste jammer. Sy wens sy was ’n bees, dan hoef sy nie snags in haar kamer te slaap nie. ’n Brandmerk word later gesond. Die dinge wat in haar kamer gebeur, maak haar siek.
Toe sy die bakkiedeur oopmaak, ruik sy lemoene. Haar kop duisel van hongerte. Van deurmekaar dink; van óú prentjies herroep. Van onsekerheid of dít wat sy onthou die waarheid is. Het sommige dinge nie dalk ánders gebeur nie, of op ander tye? Hoe kon sy sulke groot woorde vir so lank onthou? Kon sy regtig lees toe sy skool toe is? Of onthou sy dit met die begrip van ’n kind? Of kleur sy haar kindertyd in met die kennis en insig en vaardigheid van ’n grootmens?
Watter verskil maak die waar en wanneer? Want niks en niemand sal die mistige wolk van herinneringe uit haar verstand kan wegvee nie. Skrikgoed. Naggoed. Roerende skadu’s wat soos reusehande lyk teen die dowwe gordyne van haar verste terugonthoue. Of soos boomtakke. Soms is dit reuke en geluide. Kon sy haar dit alles verbeel?
Nee. Haar ma-hulle het dit net voortdurend by haar ingeprent dat sy haar verbeel.
Ondanks die reën voel haar arms vuil waar die mense by die begrafnistee aan haar geraak het. Toe sy die winkelsak op die tenk se voetstuk neersit, lui die telefoon weer. Sê nou dis Braham? Sy woorde by die graf draal in haar: Laat weet as jy my nodig het …
Sy het hom nodig.
Sy wíl hom nie nodig hê nie.
Sy haal die Victorinox uit haar broeksak. Vryf die rooi hef blink.
Die jaar toe sy die Victorinox gekry het, was ook die jaar toe haar ma haar uit die kerk gevat en sy buite pak gekry het omdat sy so hard gesing het met “Op berge en in dale”. Sy kyk nooit in die gesangeboek nie, want dan moet sy styf teen haar ma staan om uit een boek te sing. Sy hou nie van haar ma nie. Dis beter om al die gesange in jou kop te bêre, dan hoef jy nie teenaan jou ma te staan nie.
Toe vat haar ma haar buitetoe en sê sy terg die Here as sy sing “Albertus dra sandale”. Sy het nie aspris verkeerd gesing nie. Sy het gedink dis wat die grootmense sing. Van toe af, as hulle “Op berge en in dale” sing, het sy in haar kop weggehardloop Kiepersolkloof toe. Berge en dale toe.
Die volgende September toe haar ma se tweelingsuster, Tannie Lyla, kom kuier het, het sy vir haar ’n gesangeboek as present gebring. Dis lekker om jou eie gesangeboek te hê. Dan kan jy die woorde self lees, en jy hoef nie naby jou ma te staan nie.
Sy was só bly oor haar Victorinox met die rooi hef wat in die swart leersakkie aan haar broekrek kan hang.
“Kom,” sê haar pa, “sit op my knie, dan wys ek jou wat die mes kan doen. Die Switsers is meesters met messe maak. Dis ’n Victorinox. Kom.” Klap op sy knie asof sy ’n hond is wat teen hom moet opspring. “Niemand in die skool het só ’n duur Switserse army-mes soos jy nie.”
Sy wou nie op sy knie sit nie. Sy wóú nie.
Maar die rooihefmes was mooi; dis lankal dat sy ’n knipmes begeer.
Mens hoef net tien minute te sit. Al is dit sleg. In die dag as die son skyn en daar is dálk iemand wat kan sien wat jou pa doen, is dit anders as snags. Snags sit jy nie op sy knie nie; dan staan jý op jou knieë.
“Eina!” skree jy in die nag. Hard, sodat jou ma moet hoor. “Eina!” Dit brand waar hy met sy plat hand teen jou kaal heup klap en sê jy moet stilbly. Hy sê dis die plek waar jou babatjies eendag moet uitkom, en hy moet die gaatjie groot maak, anders gaan jou babatjies vassit in jou maag. Hy sê dis ’n pa se plig.
Jy wil nooit babatjies hê nie. Jy wil nie die gaatjie groter hê nie. Jy wil hê Bamba moet by jou voete opkrul, en jou Lulu-pop moet in jou arm lê en jou ma moet hoor as jy roep. Niemand traak wat jý wil hê nie. Niemand klop om in jou kamer in te kom nie, en jy mag nie ’n sleutel hê nie. Dis anders as by die koshuis waar mens moet klop voor jy by iemand se kamer ingaan, en waar mens ’n sleutel móét hê om jou studiekassie in die studiesaal te sluit.
Jou pa sê jy mag nie ’n sleutel vir jou kamer hê nie. Al sê jou ma dat jou pa die beste weet, weet jy dis ’n jok. En jou pa jok ook, maar jy mag nie vir grootmense sê hulle jok nie.
“Eina!” skree jy in die matras.
Skree help niks. Niemand hoor nie.
Jy verander in Doringrosie wat honderd jaar slaap. In jou verbeelding kan niemand by jou kom nie, want die kasteel is oorgroei van rankrose vol dorings. Jy is nie Gertruida Strydom nie; jy is ’n slapende prinses op ’n verebed. In jou slaap, al slaap jy nie, maak jy ’n prentjie van die prins wat deur die roosdorings breek om jou wakker te soen.
Toe Braham Fourie in haar standerdagtjaar as Afrikaansonderwyser by die skool begin, het hy nie soos ’n prins gelyk nie.
Later vergeet mens die tien minute se knie sit. Hoe jou kortbroek se rek in jou maagvel insny soos dit van agter verrek word. Kneukels wat teen jou stuitjie boor as hy sy hand inwurm. Jy hoor nie meer die gehyg agter jou rug nie. Voel nie die rukbewegings en die laaste stamp-stamp teen jou rug nie. Jy skuur die slymstreep aan die agterkant van jou kortbroek teen die stoepmuur af. Gaan sit met Lulu by die rivier; hou haar teen jou bors. “Thula Thula Thula baba Thula sana”, sing jy die liedjie wat Mama Thandeka jou geleer het.
Tien minute is kort.
Jou Victorinox hou vir altyd.
Eendag as jy in ’n bobbejaan verander wat in die berge bly, sonder deure of mure, gaan jy jou knipmes saamneem. Jou Switserse army-mes waarmee jy kan turksvye skil in die veld, ’n ystervark afslag as jy naar is van honger. Skroewedraaier, botteloopmaker, balpuntpennetjie, tandestokkie. Knyptangetjie vir dorings uittrek. Liniaaltjie en kompas vir rigting hou as die mis oor die berg kom en jy skaars ’n halwe tree voor jou kan sien. Op die punt van die liniaaltjie sit ’n vergrootglasie vir vuurmaak as jou vuurhoutjies nat of op is. Pinkiegrootte-flitsie om in die nag in Bamba se oë te lig om te kyk of hy dood is.
Haar pá het die mes vir haar gebring en gegee. Met liefde.
Abel het haar gewys hoe die mes werk terwyl sy op sy knie sit. Ook met liefde.
Daar is ’n kloofbreë verskil tussen haar pa en Abel.
En die liefde is iets wat sy nog nooit kon verstaan nie.
Die nooienshaarvaring in Die Koffiekan is getuie dat sy vir Braham gesê het: “Ek het geen idee hoe om ooit vir jou goed te wees nie. Want ek weet nie wat goedheid is nie.”
Haar maag gor. Sy het gisteroggend laas geëet toe Mama Thandeka ’n erdebak mielierys en kerrieaartappels en hoenderlewertjies saam met Mabel gestuur het. Mabel wou kom huis skoonmaak en wasgoed doen. Toe stuur sy Mabel huis toe.
“Hier’s niks om te doen nie, Mabel. Gaan liewer …”
“Wat van die wasgoeters? Daar’s ’n bolling lakens, ek het laastere Woensdag die kooiens skoon oorgetrek.”
“Mabel, as die begrafnis môre verby is, gaan ek die lakens verbrand.”
“Vaderland, Gertruida, is goeie lakengoeters! Jy kan dit nie wil staan en verbrand nie! Dan vat ek en Mama dit eerder.”
“Ek sal vir julle nuwes koop. Ek wil nie hulle beddegoed op Kiepersolkloof hê nie. Loop nou, en gaan was en vleg jou ma se hare. Jy wou dit Sondag al doen; toe raak alles deurmekaar met die polisie …”
“Laat ek dan net die stoep vee en die melkdoeke uitspoel, en …”
“Hier’s nie vuil melkdoeke nie. Loop nou, ek wil ’n kennisgewingbord maak vir die werfhek. Sê vir jou ma ek sê dankie vir die kos.”
“Watse bord wil jy vir die werfhek maak?”
“Jy sal sien as ek dit opgesit het.”
Nadat Mabel weg is, het sy met haar vingers geëet. Water gedrink. Waenhuis toe om uit ’n windpompvlerk se vin die bord te maak. Gee dit ’n laag groen tennisbaanverf. Verf met die wit baanlynverf woorde op die groen agtergrond. Gebruik die wolbaalstensil vir egalige letters. Wie kon dink Abel se tennisbaanverf sal eendag gebruik word om ’n verbod op toegang tot Kiepersolkloof te prakseer? Nooit kon sy droom van ’n dag dat sý die wette sal mag neerlê, en met die tennisbaanverf mag mors soos sý wil nie.
Die vreeslike belangrike tennisbaan.
Mens kom speel slegs op uitnodiging. Dit beteken jy is van die elite wat Saterdae sosiale tennis speel op Kiepersolkloof, al kan jy net naastenby ’n raket vashou.
Kleintyd, voor sy haar Victorinox gekry het, het sy die balle opgetel wat die mense oor die draad slaan. Dan sê hulle met ’n jammerkry-stem: Dankie, Gertruidatjie. Asof sy nie regtig in staat is om balle op te tel nie.
Sy onthou die laaste dag toe sy vir die grootmense balle opgetel het. Sy het op die bank onder die sederboom gewag vir ’n bal om oor die draad te vlieg. Andrea se ma, wat die landdros se vrou is en wat altyd met die kerkbasaar by die tombola-tafel werk, het met skommeltieties net toe gestorm vir ’n valhoutjie. Sy het teen die net vasgehardloop en soos ’n kussingsloop op ’n wasgoeddraad oor die netband gehang. Voor sy kon regop kom, werk haar maag. Ligbruin water wat uit haar valletjiesbroek teen haar bene afloop tot in haar kouse. Sy kon die borrelgeluide tot onder die sederboom hoor.
Toe begin sy lag. Sy het nog nooit iemand op ’n tennisbaan sien poef nie.
Die tannie het gehuil; iemand het ’n handdoek gebring. Toe sleep haar ma haar tot in die lapa en slaan haar met ’n tekkie, omdat sy gelag het. Haar ma sê sy is ongemanierd en sy skaam haar. Sy trek haar ore omdat sy Lulu wegsteek sodat Andrea nie met háár pop kan speel nie.
“Jy’s selfsugtig! Dis net ’n bleddie pop! Hoekom mag Andrea nie …?”
Dis nie ’n pop nie. Dis haar kind.
Dit was die laaste keer dat sy vir die grootmense balle opgetel het. Van toe af is sy en Bamba op tennisdae veld toe. Bamba jaag alles wat roer. Veldrotte, dassies, tarentale, akkedisse. ’n Jack Russell is dapper genoeg om ’n jakkals of ’n rooikat te skraap, en raak nooit hangtong soos ander honde nie. Mama Thandeka sê Bamba beteken “vang”, en dis die naam wat Anthonie gekies het. Bamba was eers Anthonie se hond. Toe Anthonie dood is, het sy hom geërf.
Bamba is verbied by die tennisbaan, want hy hardloop en blaf langs die draad. As hy nie daar mag kom nie, bly sy ook daar weg.
In later tye het haar pa sy bes probeer om haar te leer tennis speel. Sy het haar dom gehou. Want sy wóú nie tennis speel nie. Omdat sy nie met ’n kort tennisrok voor hom wou buk sodat hy haar kaal bene sien nie.
Eers in standerd agt, toe Braham Fourie die skool se tennisafrigter word, het sy begin tennis speel.
Van die dag toe die tannie se maag op die baan gewerk het, was sy jammer vir Andrea. Haar oë het altyd vol trane gelyk, en sy was vet. Sy het sommer vanself geweet Andrea se ma drink maagwerkpille, nes haar ma. Partykeer sien sy ’n bottel in die badkamer se vullishouer. Dan lees sy op die bottel: Elke tablet bevat: Bisakodiel 5,0 mg. Sy het nie geweet wat dit beteken nie. Maar sy het geweet dat sy sal weet wanneer sy groter is. Soos wat sy ook eendag sal weet wat beteken al die grootmenswoorde wat sy in haar kop bêre.
Dalk was haar ma bang haar maag werk op die baan, dié dat sy nie tennis speel nie. Vrydae maak sy kos vir Saterdae se tennis. Peusel heeltyd. Fyngedrukte eier. Skilferdeeg. Salami. Beestong. Skilferdeeg. Glanskersies. Sy drink net maagwerkpille, dan word sy nie vet nie. Behalwe om blokraaisels in te vul, was kos maak Susarah se talent. Bloos as Abel spog met haar disse, en met die potyster-tuinstel wat sy met ’n blokraai gewen het.
Abel was ’n knap tennisspeler. Rats, takties. Uitstekende netspeler, met sy lengte as voordeel. Boonop was hy ’n galante gasheer, want hy drink nie Saterdae by die tennis nie. Sondae moet hy die voorsang in die kerk lei, en hy sê hy kan nie met ’n babelaas in die Huis van die Here die leiding neem nie.
Sy voel siek as sy daaraan dink. Hoe kan één mens die voorsang in die kerk lei, én haar op sy knie laat sit met die Victorinox? Hoe kan hy uit dieselfde keel ’n gesang sing, én agter haar skouerblaaie hyg soos ’n moeë hond?
Tog.
In haar laerskooljare, op dae as sy en Bamba nie veld toe is nie, of as sy vroeg huis toe kom, sit sy op die stoepmuur en kyk hoe hy in die verte afslaan, blitsig inbeweeg net toe. Dan het sy hom lief. Sy weet nie hoekom nie. Dalk omdat sy weet solank die mense daar is, is sy veilig. Hy lyk mooi in sy tennisklere. Die wit daarvan is anders as die wit van sy vel. Party nagte as hy by haar kamer inkom, verbeel sy haar hy het sy tennisklere aan; dat dit nie hý is wat voor haar bed staan nie.
Dan word sy Doringrosie.
Die prik van die spinwielnaald verdof.
Die bloeddruppel is weg.
Sy slaap in ’n paleis in ’n verste land, op witste lakens. Terwyl sy Doringrosie is, staan alles stil. Selfs die koning en koningin verander in standbeelde. Die stoom uit die borde kos, die kaggelvlamme en paleisgordyne is roerloos.
Sy slaap. Sy wag vir die prins om haar wakker te soen.
Honderd jaar is lank.
Vanoggend was die kennisgewingbord droog en sy het gate geboor vir opsit wanneer sy terugkom van die begrafnis af. Van vandag af sal niemand ooit weer haar lyf besit, of kom bespied hoe sy op háár plaas boer nie. Sý sal die slot sluit, en sý sal dit oopsluit.
TOEGANG VERBODE
OORTREDERS SAL VERVOLG WORD
Sy sit op die voetstuk van die watertenk. Sny ’n tamatie met haar Victorinox, maak die boeliebief oop. Die telefoon lui weer. Sy wil met niemand praat nie. Allermins in die huis ingaan. Haar selfoon lê in die bakkie met ’n pap battery. Dit traak haar nie.
Die wolke het oopgemaak en die flou laatmiddagson skyn pienk op die misvliese teen die berg. Ná sy geëet het, moet sy gaan melk. Sy het gesê OuPieta hoef nie in die reënweer te kom melk nie.
Kan dit waar wees dat Abel en Susarah begrawe is?
Sy sit die kos terug in die winkelsak. Stap met ’n paar Mariebeskuitjies kraal toe om Frieda te melk. Sy sal helfte van die melk in die deurgesnyde trekkerband gooi vir die hoenders, en die res vir Mama Thandeka en Mabel neem. Daar hoef nie huismelk te wees nie; sy sit haar mond aan niks wat witterig en natterig is nie. Melk, mieliepap, kaaskoek, witsous, room, melerige appels, jogurt, maaskaas. Eendag het een van die tennistannies vir haar ma gesê Gertruida is sweerlik die enigste kind in die wêreld wat naar raak van roomys. Toe lag haar ma en sê Gertruida is vol fiemies. Sy wóú sê daar is niks slegter as om ’n draairoomys te lek nie. Bly eerder stil, want daar ís slegter goed. Die stank van ’n sardienstoebroodjie. Om te kyk as haar pa die murg uit die Sondagboud se been suig. Rou eierwit. Om op ’n doplose slak te trap en die slym laat haar tone aan mekaar vaskleef.
Die heel slegste iets kan sy vir niemand sê nie.
Dis beter om te swyg. Dan kom daar nie ’n dag waarop jy agter die nooiensvaring jou oë voor Braham hoef te laat sak nie.
Frieda loei toe sy by die kraal instap met die melkemmer en -stoeltjie. Die aandlig kleur die wit vlekke van haar Frieskoeivel ligpienk. “Ek het verlang, Frieda. Daar’s baie wat ek jou moet vertel.”
Sy kan nie met mense praat nie, net met koeie en paddas en met Bamba. Húlle sal haar nooit verraai nie.
Toe sy klaar gemelk is en die emmer eenkant sit, stamp Frieda haar speels met die kop. Dit beteken sy jeuk. Of dalk is dit Frieda se manier van nagsê.
Om naggesê en toegemaak te word, is iets wat sy nie ken nie. Tog onthou sy ’n tyd toe haar ma saans by haar gelê het. Soms het Anthonie op die voetenent gesit in sy strepiespajamas. Dan lê sy in haar ma se arm en kyk prentjies van pampoenkoetse en ’n skoen vol kinders terwyl haar ma lees.
Sy onthou die poeierreuk aan haar ma, en dat dit lekker was
om in haar arm te lê.
Dalk onthou sy verkeerd.
Is dit ’n illusie dat sy magteloos was teen Abel? Was magteloosheid ’n uitweg, of is sy geïndoktrineer om te glo dat seks met jou pa normaal is? Vaagweg kan sy onthou dat sy kleintyd saam met hom gebad het, dan stapel hy ’n toring badskuim op haar kop en hulle lag só hard dat haar ma kom kyk wat aangaan. Hy was haar lyfie, oral, sonder dat dit verkeerd voel. Sy raak op sy skoot aan die slaap terwyl hy haar naels skoonmaak met sy knipmes. Hy dra haar bed toe; soen haar nag. Sy slaap sonder nagmerries.
Soms het sy onder die olienhoutboom troue-troue gespeel. Dan trek sy haar ma se hoëhakskoene aan, en haar pa is die kamma-kamma bruidegom. Sy sê sy gaan eendag met hom trou. Hy lag en gooi haar hoog in die lug. Bring vir haar rooibessies en ryp ghoenas toe hy twee dae lank beeste soek in die berg.
Toe verongeluk Anthonie en haar ma gaan VLV-kongres toe in die Kaap, en alles word verkeerd. Sy het gedink pa’s doen altyd net goed wat reg is, omdát hulle pa’s is. Snags as die deurknop draai, het sy gedink alle pa’s maak só. Dat dit deel is van liefhê, soos optel en abba en bal speel.
Tog het sy nooit met ander dogtertjies daaroor gepraat nie.
Word mens gebore met die wete dat iets verkeerd is, al wéét jy nie?
Sy onthou Vrydag. Skrikkeljaar, 2008.
In haar kop skuif sy die blompotjie op die tafel in Die Koffiekan eenkant toe en steek haar hande na Braham uit. Sy het Ouma Strydom se robynring uit die koekblik in die kliphuis gaan haal waar sy dit wegsteek. Dis in haar hempsak. Dis skrikkeljaar, sê sy, sal jy met my trou? Duisend maal al het sy hom hoor sê hulle moet nóú landdroskantoor toe gaan.
Drome, drome. Om Frankryk toe te gaan, na die Saint Claire-kerk in Avignon, om die hersenskim van ’n veertiende-eeuse digter op te soek. Francesco Petrarca, van wie sy by Braham geleer het. Om Kiepersolkloof te omskep in ’n turksvyplaas. Om op Drieankerbaai se sand te loop, waar Ingrid Jonker haar laaste reis afgelê het. Om op ’n trollie by die hospitaalteater ingestoot te word, sodat haar verslapte kringspier herstel kan word. Om in die eindstryd op Wimbledon se Centre Court te speel, en te wen. Om met Braham te trou.
As sy nie drome gehad het nie, hoe vergesog ook al, sou sy lankal ophou lewe het. Vanself inmekaargesak en doodgegaan het. Drome neem haar weg van die verskrikkings.
Sy het haar ma vir kuiergaste hoor sê: Gertruida dwaal in ’n verbeeldingswêreld, en die ergste is dat sy haar opmaaksels gló. Ek wil nie dink aan die dag as ek en Abel nie meer daar is nie …
Februarie se middaghitte omwalm haar toe sy voor Die Koffiekan uit haar koel motor klim. Braham se motor staan reeds daar. Sy is moeg. Abel het haar heelweek geteister met ’n speelding wat hy oor die internet van Amerika bestel het. Swart rubberding, oortrek met tentakeltjies. Afstootlik.
“Jy moet KY-jel bring as jy dorp toe gaan,” het hy in die nag gesê. “Batterye ook.”
Sy gáán hom doodskiet. “Bring dit self.”
Hy vererg hom en stamp die rubberding in haar op. Sy druk haar gesig teen die matras en word iemand anders. ’n Gesiglose vrou op die trein na Avignon. Sy kyk deur die treinvenster na die wingerde en lindebome vol groengeel blommetjies. Sy moet vir Braham ’n bottel lindeheuning saamneem huis toe. Want hy is die soetste iets in haar lewe.
Toe die gesiglose vrou by die treinstasie afklim, hoor sy haar kamerdeur toegaan.
Sy staan onder die stort om die gemors van haar af te spoel. Maar die stort kan nie haar binneste reinig nie.
As Braham sulke goed moet weet, sal hy haar verfoei. Verfoei Abel haar ook wanneer hy by haar kamer uitloop?
“Hallo, Braham. Jammer ek is laat,” en sy skuif agter die nooienshaarvaring in, “ek moes koöperasie toe vir melksalf en lê-meel. En my ma se alewige winkellysie …”
“Ek is bly jy’s hier. Jy moenie jou selfoon afskakel nie …”
“Ek moet.” Sy vat die spyskaart by die kelnerin. “Anders bel my pa aanhoudend oor nog goed wat ek moet bring. Wit druiwesap vir my, dankie,” en sy gee die spyskaart vir Braham aan. Hy bestel ’n piesangmelkskommel.
“So, hoe was jou week op Kiepersolkloof?”
“Sleg. Dis mislik om saam met my pa te boer. Moenie vra hoekom nie.”
“Ek mag nooit vra hoekom nie. Jy’s ’n misterie, Gertruida.”
Die dakwaaier tjierie; sy herrangskik die suikersakkies in die suikerpotjie. Druk op die bultjie in haar hempsak waar Ouma Strydom se robynring lê. “Ek weet.”
Later ril sy toe hy die dikgeel melkskommel opsuig. Hulle praat weinig, want haar besmeerdheid druk die praat terug in haar keel.
Dis ’n leë middag.
Skrikkeljaar is net nóg ’n dag.
Sy vat die plat klip wat sy op die kraalmuur bêre, en vryf Frieda se skof en rug daarmee. Tot by die kruis, die boude. Ribbes, flanke, maagronding. Ondertoe, ondertoe. Sy sit die klip neer, krap Frieda se maag met haar naels. Die koei steun.
“Ek weet jy hou nie daarvan as ek jou bene en kop krap nie, Frieda. En dis sleg as daar aan jou spene getrek word, ek weet.” Sy vat die melkstoeltjie, stap om na die ander kant. Vryf. Maag krap. “Die begrafnis is verby, Frieda. Kiepersolkloof is nou myne. Kom, hier’s jou beskuitjies …” Die koei eet die beskuitjies uit haar hand. “Môre kom maak ek jou kraal skoon; dit lyk of die reën verby is.”
Sy gooi helfte van die melk in ’n ander emmer om by Mama Thandeka af te gee. Nou-nou is dit donker, en sy moet nog by die kliphuis kom. Die hoenders sit op die stokke en maak dowwe kropgeluide toe sy die melk in die trekkerband gooi. Môre sal die hoenders gaatjies pik in die suurwit diksel.
Toe sy omdraai om die emmer by die hokkraan uit te spoel, staan Mabel by die hok se hek met ’n toegeknoopte brooddoek. “Mabel, vat sommer die melk …”
“Wag, Gertruida, laat ek eerste praat. Mama se bors is beterder. Ek sal vannag by jou in die huis kom slaap as jy bang is. Jy hoef nie soos ’n jakkals in ’n gat …”
“Ek is nie bang nie, en ek kruip nie in ’n gat nie. Die kliphuis is my huis.”
“Die veld is nat, Gertruida. En maak nie saak wie of wat jou pa en ma was nie, jy moes ’n erge skrik gevat het. Mens begrawe nie jou pa en ma elkere dag nie. Laat ek by jou kom slaap, toe?”
“Dan moet jy in die kliphuis kom slaap. Ek slaap nié in die huis voordat ek klaar skoongemaak het nie.”
“Dan kom help ek jou môreoggend. Maar daar’s goeters wat jy my moet sê voor ek vannag my kop neersit.”
“Vra, dit raak donker.”
“Wie gaan dinge vorentoe vasvat op Kiepersolkloof? Want laat jou pa gewees het wat hy wil, hy kon werk, en sy kop kon reguit dink oor boer. Dan wil ek weet wat is jou bedoelendheid met die bord op die hek. En hoe lank jy nog in die kliphuis gaan slaap.”
“Mabel, ek wil die huis alleen skoonmaak. Behalwe vir die werkies wat OuPieta moet kom doen, wil ek niemand op die werf hê nie. Ek sal kom sê as ek klaar is. Ek en jy en OuPieta gaan boer. Hier is niks wat ons nié kan doen nie. Vir dip en kalwers speen en groot tuinwerk kry ons kontrakwerkers. Die bord beteken ek soek niemand sonder toestemming op my grond nie. Jy moet hou by die kortpad deur die lusernland. As ek jou vang dat jy oor die hek klim, skiet ek jou van die hek af.”
Mabel lag. “Jy sal my nie skiet nie, Gertruida.”
“Moenie my toets nie. Ek gaan seker tot Sondagnag in die kliphuis slaap, of anders slaap ek in die waenhuis in die bakkie.”
Mabel hou die roosterkoeke, toegeknoop in die brooddoek, na haar uit. “Mama stuur dit. Tot Sondag sal ek elkere etenstyd vir jou kos neersit by die lusernland se deurkomhekkie, onder die kiepersol. Is jou saak of jy dit wil vat.”
“Dankie, Mabel. Kry jou ma se medisyne en OuPieta se goed in die winkelsak by die watertenk.”
“OuPieta sal bly wees. Hy trek al glads boomgom af vir Pietertjie, want die tjint is onregeerbaar sonder sy jelliemannetjies. Sing glo snags eenstryk deur: ‘Wat maak oom Kalie daar? Oom Kalie saai ’n waatlemoen, hy roer sy koffie met sy groottoon om’ …”
“Besef jy hy is al in sy veertigs, Mabel? Hoe gaan ons hom versorg as OuPieta doodgaan?”
“Die Here alleen sal weet, maar ék gaan nie agter hom kyk nie. Dan iets anders: Wanneer sit jy jou selfoon aan? Die onderwyser soek by mý na jou. Toe sê ek jy’s kliphuis toe en ek wis nie wanneer jy terugkom nie.”
“Sê hy moet ophou om jóú te pla.”
“Vaderland, Gertruida, hy’t ’n hart vir jou. Hy’s ’n goeie trouman …”
“Ek wil nooit weer ’n man naby my hê nie. Laat staan nog in my bed. Loop nou.”
Sy kyk Mabel agterna toe sy wegloop waenhuis toe. Staan met haar middelvinger ingehaak by die knoop van die brooddoek. Maak haar oë toe. Laat gly die letters van haar naam voor haar verby.
G E R T R U I D A
Uit jare se gewoonte om slégs die letters van haar naam tot woorde en sinne te ryg, glip die woorde uit. Gertruida eet die geurige gaar deeg. Gertruida draai die tragedie agteruit. Gertruida geregtig te treur.
Sy moet ophou woorde uitdink en haar bepaal by dit wat sy het om aan te dink.
Sy spoel die emmer uit, dop dit om oor die hokkraan. Dis te laat om kliphuis toe te loop; die donker gaan haar vang. Misweer moenie onderskat word nie. Die mis kom soos ’n dief en maak jou rigtingloos. Sy was gesig en hande by die tenkkraan, spoel haar mond uit. Bêre die roosterkoek in die brooddoek in die winkelsak. Sit ’n klip op die hoek van die sak sodat dit nie wegwaai nie. Stap rivier toe om vir die paddas en die water te sê die begrafnis is verby.
Dis tien oor agt toe sy terugkom. Sy trek die nat begrafnisklere uit, hang dit aan ’n spyker teen die waenhuismuur. Trek die oorpak aan wat sy gedra het toe sy gister geverf het. Bo-oor dit haar parkabaadjie wat in die bakkie lê. Bondel ’n goiingsak onder haar kop en gaan lê op die bakkie se sitplek.
Gertruida dut agt ure agter die ruit. Die rugruiter tree uit die ruigte.
Thula-thula. Sjuut-sjuut. Slaap nou.
In haar voorslaap hoor sy Mama Thandeka sing, soos kleintyd toe Mama Thandeka haar met ’n handdoek op haar rug vasgebind het terwyl sy vloere vryf. Dan raak sy met haar oor op Mama Thandeka se trillende longkaste aan die slaap.
Thula baba, lala baba, ndizobanawe … Hush, my baby, go to sleep, I’ll be with you counting sheep: Dreams will take you far away, sleep until the break of the day.
*
Is nagtyd hier in onse huis teen die bergrant. Ek sit op die stoel voor die binnevuur om warm te kry. Buite in die veld is dit koud en nat. In my hart in is dit koud en droog. Want op ’n laatdag in my lewe is my oumensasem uitgestamp deurdat Abel Oorkant toe gereis het, sonder dat ek hom kon gegroet het. Missus Susarah ook. Dis of ek teen my kopbeen vasdink as ek aan Gertruida dink. iNkosi alleen sal weet wat gaan vorentoe gebeur.
Hý het die koedoe gestuur. Hý moet wagstaan.
Toe Mabel terugkom met die halfemmer melk, het sy die rooi kombers oor my bene gegooi en my stoel vuur toe geskuiwe. “Mabel, lyk dit of Gertruida hartseer is, of sy gehuil het?”
“Nee, Mama, sy huil nie. Maar darem het sy kop gehou en die borsgoeters gekry. Ek gaan Mama se rug invrywe met Vicks, dan sit Mama voor die vuur sodat Mama nie met ’n koue lyf loop lê nie.”
Toe maak sy haar hand warm by die vuur en steek dit by die nekkant van my nagrok in. “Wat gaan aan op die werf, Mabel? Het Gertruida die geweer by haar?”
“Sy was doenig by die hoenderhok, met haar papnatte begrafnisklere aan. Die geweer staan op die stoep by die voordeur. Vaderland, die polieste moenie hier aankom en die geweer sommer op enige plek sien rondstaan nie. Dis tronksake. Maar Mama moenie kommer nie, ek sal kort-kort loop spaai wat daar aangaan.”
Soos sy vrywe, voel ek die kouete padgee uit my rug. Dis of die Vicks-dampe my kop beterder laat dink. Is lankal dat my kop deurmekaar is, want ek is al drie-en-sewentig jare oud. Party dae dink ek soos Samuel, my geelbruin man wat lankal afgesterf is. Ander kere dink ek soos die wit mense van Kiepersolkloof. Maar dan weer, soos nou as die droewigheid my vat en ek sien die swart engel teen die kosyn staan, kom my mama se taal terug in my kop. Iewerster in ’n mens bly die dinge van jou mama altyddeur aan’t roere.
My mama is lankal gebêre, op ’n ver plek oorkant baie berge. Daar waar die bont beeste in die langgras wei en waar die vrouens middagtyd met vasgeriemde houtbondels op hulle koppe huis toe loop. Is ampers asof ek saam met hulle loop, so helder sien ek hulle. Ek hoor die hadidas roep uit die oranjepers aandwolke; hulle bring die nuus dat ’n bybie iewerster gebore gekom het. Ek sien my mama soos sy die ertappels in die pot met aandkos gooi. Of op haar kniekoppe langes die rivier. Vrywe die kleregoed dat die skuim van die vryfklip afloop en in die vlak watertjies wegdrywe. Duidelik, soos nóú.
Soos wat ek ouerder raak, raak ek meer en meer soos ’n kleine tjint, of partykeers soos ’n stywetiet intombi, en binnein my mond praat my tong die taal van my mama en my tata. Baie kere skrik ek, oordat ek nie al die woorde onthou nie. Thandeka, praat ek dan troos in my hart in, dis oordat jy lankal weg is van jou mense af. Jy’t iemand anders geword as die intombi van daardie tye.
Is waar.
Drie-en-vyftig jare al dat ek op Kiepersolkloof is, ver van die ronde huis waar ek grootgeraak het. Mooie patrone wat my mama rondom die buitekosyn geverf het met rooibessiesap en geel riviermodder en uitgekookte nastergalbessies. Sy’t gesê ’n hadida het my teen sonsak onder ’n soetdoring kom neersit. Toe draai sy haar rooi kombers om my en hardloop met my in die huis in, voor die tokkelossie my gryp.
My mama, my mama …
Ek onthou hoe ruik die grondvloer wat sy met beesmis gesmeer het; hoe sing haar stem oor die werf as sy mielies stamp. Maar dit lê te ver agtertoe. Party goeters het dof geraak, want mens vergeet baie in drie-en-vyftig jare. Maar mens vergeet nooit hoe om in jou mama se taal te bid nie. En as die groothuil jou vat, dan huil jy in jou tjinnertaal.
Waar het die lewe met my geloop draai dat ek vanaand hier voor die vuur sit met ’n hart wat bloei oor ’n wit man wat dood is?
Toe ek met Samuel Malgas getroud geraak het, was my mense ongelukkig oordat hy bruin is. Al het hulle gewis hy het skool geloop, en hy kom uit ’n goeie huis daar op die witmensplaas waar onse mense Saterdae ons kosgoed by die Trading Post koop. As die winkel besig was, het Samuel, potlood agter sy oor, gehelp in verkooptyd. Vinnig gewees met optel en aftrek. Dis waar ons mekaar beginte aankyk het. Daardie tye was nie vandag se tyd nie; almal het nie rond en bont gewei nie. En iedereen het geweet Samuel Malgas het windballe, oordat hy kleintyd diknek opgeswel het van pampoentjies wat in sy lieste loop lê het. My mense het gesê ek sal arm wees sonder tjinners om my te versôre as ek ’n ou vrou is.
Samuel was ’n mooie kerksnaam. Ek het gesien die geelbruin man het ’n slim kop en sy oë kyk anderster na die wêreld. Is of hy verder kan sien as die plek waar die berg stop. Al kon hy my nie ’n tjint gee nie, sou hy my tot oorkant die berge neem. Om nuwe goeters te sien. Toe hy sy donkiekar en sy donkies agtermekaar het, sê hy hy gaan pad vat en kyk hoe lyk die wêreld.
Ek huil op die biesiemat in my mama se ronde huis. Oor Samuel wat weggaan. Ek gaan nie winkel toe nie.
Toe kom hy die Sondagagtermiddag al die pad na my toe.
“Thandeka, hoekom kom jy nie meer winkel toe nie?” vra hy. “Waaroor huil jy?”
Ek staan op en vat die wateremmer. “Laat ons gaan water haal by die rivier.”
Ek breek vir hom ’n riet af en sê hy moet vir hom ’n fluit maak, en as hy daarop blaas, moet hy my onthou.
“Hoekom kom jy nie saam nie, Thandeka? Ons kan uit jou tata se huis uit trou. Daar’s genoeg geld in my bankboek vir drie lobola-beeste … Dan gaan kyk jy saam met my wat lê oorkant die berge.”
Toe vat ek hom, oordat hy my wou gevat het. En oordat ek wou weet wat lê agter die berge.
Darem het ek een tjint gekry, van Abel. En nog al die jare kyk sy goed na my.
Die rooi kombers is warm oor my kniekoppe en onderbene. In die werweltjies van my rug, daar waar my murg loop, sal dit nooit weer warm raak nie. Is koud in my hart. Want lank terug het Samuel afgesterf. En nou is Abel afgesterf.
My bêretyd is aan’t nader kom. Abel het gesê as ek eendag gebêre word, sal dit op Kiepersolkloof wees, langes Samuel. En hy sal ’n kopsteen laat opsit wat tot aan Samuel se kant loop. Dan sal hy my naam en my jare op die kopstuk laat skrywe.
Thandeka Malgas.
Gebore 30 Maart 1935, tot die dag wat iNkosi my kom haal.
Abel was nog sterk. Ag-en-vyftig jare oud. Ek is vyftien jare ouer, ampers blind. Ek moes eerste gegaan het.
Ek verstaan hoekom Gertruida hulle op die dorp gebegrawe het. Maar latertyd raak mens se kwaad sagter, en jou spyt groter. Dan kan jy hulle nie loop uitgrawe en vars gate spit nie. Maar straks dra die wind my asem tot by die dorp se begraafplaas, en hy hoor my as ek sê: laat dit goed gaan op die reis, Abel …
Net ek, Thandeka Malgas, weet watse mens Abel rêrig was en hoe die dolosse vir hom geval het.
Ek en Samuel het ver gery met onse donkiekar. Hoedat ons die pad gery het tot op Kiepersolkloof, het my ontgaan. Maar die donkies was moeg, en Samuel het gesê is tyd om tot ruste te kom en huis op te sit.
Daardie tyd was Abel maar so vyf jare oud. Mooie tjint. Was dit nie vir sy klere nie, moes mens goed kyk of dit straks ’n meisietjint is. Ek het die kos gekook en vloere gevryf. Wasgoeters, strykgoeters. Kooiens, ruite was, stoepe vee. Klompe ander werke wat Abel se mama my gegee het.
Sy was ’n goeie mens. Altyds gesê ek moet helfte van die hoendereiers vat voor die likkewaan dit vreet. Mos ’n likkewaan se ding om hoenderhok toe te kom as hy die koei met sy blou-en-geel tong klaar uitgesuip het. Maar sy’t gesê ek moenie vir die ouman sê nie. Oordat hy moeilik is. Hy was nie ’n ou man in jare nie, maar sy hart was oud en swart. Tot vandag toe vat ek ’n eed met my vinger in die lug dat hy slegte skrape op Abel agtergelos het.
Ek moes help ooghou oor die tjinners. Abel was die kleinste van die drie broertjies en ek het ’n sawwe plek vir hom gehad. Op plekke vol duwweltjies het ek hom geabba, want sy voete was nog sag. Toe seil daar ’n rinkhals in die huis in en pik sy mama waar sy in die kombuis met die skottel groenvye en die priknaald gesit het. Maak nie saak hoe ons gesuig het om die gif uit te kry nie, voor sonsak daardie aand het die rinkhalsgif haar laastere asem uitgedruk.
Is swaar om sonder ’n mama groot te raak.
Nóg swaarder as jou papa jou wegdruk. Dit kan ’n tjint se oë laat skeef draai, sodat hy die wêreld met skeelte bekyk. Baie môrens het ek die nat matras gesleep tot agter die putlewwetrie waar die ouman nooit kom nie. Want as hy sien, verander sy tong in ’n meslem, reg om te slag. Latertyd word die tjint ’n jong man met wangbaard, en hy bewe voor sy papa. Die jong man word ’n uitgegroeide man met harde baard in wie se kop als loop staan en skeef draai het.
As Gertruida weer hier kom, moet ek vir haar sê hoe ek en haar pa ooreengekom het, en vra of sy vir die grafsteenmense sal sê om Samuel se naam en jare by sy kant van die kopsteen te skryf. By my kant moet hulle skryf my naam beteken “goeie mens”.
Partykeers is ek goed.
Ander kere is ek sleg.
Partykeers is ek iewerster in die middel van goed en sleg.
My naam sê maklik, maar my van lê verkeerd op my tong. Malgas. Dit wil nie klap soos dié van my tata nie. Noqobo. Maar dis hoe ek dit van Samuel gekry het en ek moet sy nagedagtenis eer.
Samuel en Anthonie het op dieselfde dag gesterf toe die bakkie oor die afgrond is. Anthonie was daardie tyd tien jare oud. My bloed wil ys om te dink as Mabel nie loop fynhout optel het nie, sóú sy saamgery het. Vandag trek sy by twee-en-dertig jare. iNkosi was my genadig. Hý sê waffer tjint moet gaan en waffer een moet nog bly.
Daaroor het ek altyd sawens, toe ek nog in die donker kon sien, vir Missus Susarah onder die sterre loop bid. Hoekom sy nie daar in die begintyd gekeer het toe sy sien die dinge loop lelik met Abel en Gertruida nie, is seker omdat sy met blindheid geslaan was oor Anthonie. Want dat sy krom gebuig het onder sy afsterwe, is nie altemits nie.
Maar een ding is nie altemits nie, en dit is dat Abel nooit ’n engel gehad het wat saam met hom kon rondvlieg nie. iNkosi gee vir elkere mens ’n engel om Satan te help wegstamp. Al engel wat Abel gekry het, was ek. Sy swart mama. Toe stamp m´y lyf hom latertye in ’n lelike ding in. En boop alles het Mabel al die jare haar hart klipperig gemaak teen hom. Nóg bloed van sy bloed wat hom wegdruk. Moet swaar gewees het, oordat Mabel heeldag in sy huis en op sy werf is. En iewerster vandaan soek hy ook na liefde. Nes elkere mens.
“Jy moet dié goeters met Abel uitpraat, Mabel,” het ek baie aande voor die vuur vir haar gesê. “Sodat dit kan gaan stillê in jou kop.”
“Los dit, Mama. ’n Huismeid stry nie met die baas nie.”
“Dis bitterte wat jou só laat praat, Mabel. Hy’t nog altyd vir ons …”
“As dit bitterte is, is dit oor wat hy aan Gertruida doen. Eendag as ek op die dorp is vir Mama se pensioen, gaan ek poliesstasie toe loop en sê hulle moet kom kyk wat …”
“Hou jou neus uit by witmenssake, Mabel. Wit mense weet hoe om baadjies oor mekaar se koppe te trek. Los die polieste uit.”
My murg is koud. My oumenshart wil uitmekaarbreek as ek dink Abel gaan nooit terugkom Kiepersolkloof toe nie.
Ek gaan Mabel roep om ’n koppietjie melk warm te maak en sê sy moet die stoel omdraai sodat my rugkant hitte kry. As my maag warm raak van die melk, moet sy my kooi toe help. Tot dan toe sal ek by die vuur sit en vir Gertruida ’n lied sing. Want al is haar dunne lyf enige dag net so sterk soos ’n man s’n, en al kan sy ’n fisant se oog van ver af uitskiet, het sy ook al die jare geskort aan ’n engel.
Abel sal wil gehad het ek moet vir haar sing. Want maak nie saak hoe verkeerd allester was nie, met sy goeie kant hét hy haar liefgehad.
Thula baba, vala amehlo … Hush, my baby, close your eyes, time to fly to paradise, till the sunlight brings you home, you must dream your dreams alone …