Читать книгу Vlis met vlerke (skooluitgawe) - Annemari Coetser - Страница 4

Оглавление

2.

Ons doen dit self

Andine het nie gedink sy sal ooit in die outydse kamer met sy hoë koperkatel en pienk verekombers aan die slaap raak nie, maar toe Skroef voor die ven­s­ter blaf en sy wakker skrik, sien sy op haar BB dat dit halfagt is. Sy wil net omdraai en weer slaap toe daar ’n kloppie aan haar kamerdeur is. Dis Jam met ’n koppie koffie, effens soet en met baie melk, net soos sy daarvan hou.

“Opstaan, opstaan, dis ’n heerlike dag,” sing Jam soos sy elke liewe skooldag doen. Sy sit die koffie op ’n gehekelde lappie op die bedtafeltjie neer. “Oom Frans het al baie vroeg gery,” sê sy, en maak die gordyne oop. “Hy gaan ’n week lank weg wees. Tannie Elize wil net haar medisyne hê en slaap, daarom het ek gedink ons moet later gaan kyk wat Thapelo se ma by die Re a e direla-projek doen.”

“Ria … wát?” Andine sit regop en vryf die slaap uit haar oë. Haar hare is nog nooit vandat sy gebore is gesny nie; dit hang ver oor haar boude. Elke nag moet sy dit vleg om dit uit die pad te hou.

“Jy sal sien. Wikkel nou, ons eet oor ’n halfuur.”

Dit lyk asof die seuns klaar groot maats is. Hulle sit langs mekaar aan tafel, giggel onderlangs en stamp kort-kort aan mekaar totdat Jam hulle vra om op te hou en te eet.

“Thapelo moet eers vir tannie Elize ’n werkie in haar tuin doen,” sê Jam terwyl sy vir hulle vrugtesap inskink, “maar daarna kan ons ry.”

Ná ete glip Andine weg van Jam en die skottelgoed en gaan haal haar storieboek uit haar tas. Met die boek onder haar trui weggesteek, sluip sy agter Jam se rug verby. Die sifdeur kraak toe sy dit sag probeer oopmaak, maar Jam sê niks nie.

Onder ’n boom in die verste hoekie van die verwaarloosde tuin gaan sy sit. In ’n ander hoek van die tuin staan Thapelo en fluit terwyl hy natspuit.

Toe sy moeg gelees is, staan sy op en gaan kyk wat Jam doen. Hoe gaan sy die tyd omkry as hulle ’n paar dae op hierdie verlate plot moet bly? Hoe lank gaan dit die tannie vat om van longontsteking gesond te word?

’n Uur later het Thapelo klaar tuin natgegooi en Jam roep hulle na die Landy. Soos altyd het sy ’n kosmandjie by haar. Andine klim agter in, want Jam het ’n streng reël dat geen kind ooit voor mag sit nie. Sy maak ook seker dat almal altyd vasgegord is. Andine stry altyd eers ’n rukkie met Jam oor die stupid reël. Hoe oud moet ’n mens dan wees voordat jy mag voor sit? Angelique mag al haar pa se BMW by hulle vakansiehuis bestuur.

Sy ruik Zander en Thapelo se seuntjiesweet en druk haarself teen die venster vas. Jam draai regs uit die knikkerige plotpaadjie tot op die groter grondpad. “Thapelo, vertel vir hulle wat jou ma doen,” beveel sy.

“My ma is ’n onderwyseres,” sê Thapelo trots. Hy kyk na Andine terwyl hy praat. “En die projek wat sy doen is …” Hy krap sy kop asof hy nie weet hoe om dit te verduidelik nie en begin weer: “Daar was nie toilette by die skool waar sy skoolhou nie. Die kinders het sommer vir nommer twee bosse toe gegaan en nie hulle hande gewas nie. My ma sê dan kry mens siektes. Toe besluit sy om self toilette te bou.”

“Sélf te bou? Cool! My pa het op die internet gelees mense in Nairobi in Kenia het flying toilets,” sê Zander. “Daar is iets soos vyf toilette vir tweeduisend mense wat in shacks bly. As hulle wil nommer twee, doen hulle dit in ’n plastieksak en dan gooi hulle dit so ver weg as wat hulle kan.”

Die seuns lag soos hiënas wat jag en begin daarop uitbrei. “Jy sit nog so lekker in jou huis,” sê Thapelo, “dan hoor jy net ‘doef’ op jou dak en as jy gaan kyk is dit ’n sak vol poef.”

“Gross,” sê Zander. “Poef maak doef.”

Jam probeer hulle stilmaak. “Thapelo se ma het gelees dat ’n mens klei en strooi kan gebruik om mee te bou. Dis goedkoop, maar hulle het nog steeds ’n bietjie bakstene en sement …”

Andine kry ’n BBM en Jam hou op praat.

“Ganit?” vra Lucia. “Die plk is so i drag! X vrvld uit my gloof uit!! St net op my jis in di malls. Wt dn j?”

Andine tik vinnig met net haar duim: “X op i plot 60 km uit stad!! Ns gn kyk hoe imnd toilts bou!!! Lekka, nè? L”

Verby die kleinhoewes, waar die veld begin, is daar ’n klomp mense aan die werk. “Jou ma sal seker hier wees,” sê Jam vir Thapelo. “Kyk of jy haar sien.”

Hy skuif tot op die punt van die sitplek en tuur tussen die voorste sitplekke deur. “Daar’s sy!” Hy wys na ’n groot vrou met ’n ronderaambrilletjie. Sy dra ’n blou romp met ’n groot blompatroon op en ’n swart T-hemp.

Hulle het skaars stilgehou of sy is by die kar. Andine kan op haar gesig sien hoe bly sy is toe sy Thapelo in die kar sien. Sy ruk die deur aan sy kant oop en kan skaars wag dat hy uitklim. Sy druk hom teen haar vas en soen hom oor en oor. “My boy, my boy,” sê sy, en swaai hom in die rondte dat sy bene soos ’n driejarige s’n oplig. “Dis ’n verrassing.”

Haar ma was nog nooit so bly om haar of Zander te sien nie; sy wonder hoe dit voel. Adine byt op haar onderlip. Sy proe aarbeie, haar nuwe lipstiffiegeur.

“Klim maar uit.” Jam groet die vrou eers met ’n drukkie en sê dan: “Newu, dis Andine en Zander, die kinders wat ek versorg. Julle twee, ontmoet vir Newu.”

“Julle is baie welkom,” sê Newu en groet hulle met die hand. “Thapelo het julle seker vertel wat ons hier doen.” Sy wys na ’n hoop boumateriaal wat eenkant onder ’n boom lê. “Ons het klaar alles gekoop wat ons gaan nodig hê. Iemand het ons gelukkig geborg, maar hulle sê hul geld is nou gedaan.”

Vroue is besig om fondasieslote te grawe. Zander spring in een van die slote en buk af. Hy druk sy vinger teen die kant asof hy ’n bouinspekteur is.

”Maak jy seker dat alles reg is?” vra Newu. “Jy moet sien hoe goed kan hierdie vroue al bou.”

Die vrouens lag skaam, maar een sê: “As ons hier klaar is, kan ons vir julle huise kom bou.”

“Cool,” sê Zander weer en klim uit die sloot uit. “Dit sal nice wees.”

Andine wonder of hy probeer snaaks wees, maar dit lyk nie so nie. Wat ’n eienaardige kind om deur ander mense se toiletslote ge-mesmerise te word.

“Dis ons projek vir die vakansie,” sê Newu. “Die vroue grawe vlak slote vir die fondasiemure. Dis waarvoor ons die sand, bakstene en sement nodig het. Party outjies haal in die middae vir ons klei uit, dan gooi ons water by en dan trap hulle die klei om dit te meng. Wil julle ook help?”

Die trappery vind plaas in ’n gat wat met swart plastiek uitgevoer is. ’n Paar kinders spring daarin rond. Hulle is tot by hul knieë met geel klei besmeer, en dit lyk asof hulle dit baie geniet.

Zander en Thapelo het al klaar hulle tekkies uitgetrek. “Rol julle jeans se broekspype op,” sê Jam.

“Dis lekker!” skree Zander na ʼn ruk. “Kom Andine, spring in.”

’n Klein stukkie van haar hart wens sy is nie al so groot nie. Maar o die horror. Om net te dink hoe die klei tussen haar tone sal deurpeul.

Jam kom staan langs Andine en sit haar arm om haar skouer. “En ek het gedink die eerste ding wat hy gisteraand sou doen, sal wees om sy rekenaar in te prop.”

“Hy het nie eens sy laptop saamgebring nie. Ek dink die kind is siek.”

Jam lol nooit met haar om dinge te doen wat sy nie wil nie. Dis een mens wat verstaan dat haar brein ’n deurmekaar nes van emosies, vrese en idees is. Jam sê haar ma het altyd gesê op twaalf is ’n mens nie vis óf vleis nie. Nóg vis, nóg vlees, het sy dit genoem. Jam en Andine het toe sommer ’n nuwe woord vir daardie stadium uitgedink: Vlis. ’n Vlis is nog nie ’n tiener nie, maar ook nie meer klein nie. Lucia-hulle sal hulle can daaroor, maar Jam kan net vir Andine vra “Vlissie?” of, “Voel jy vlis vandag?” met daardie manier wat sy het om haar een wenkbrou tot amper in haar rooi hare op te trek, dan voel sy al klaar beter.

Almal was hulle hande in die emmers water. Jam hou toesig dat die seuns skoon kom. Toe is sy skielik haastig om terug te gaan na tannie Elize toe.

“Wat van eet?” vra Zander toe hulle weer op die grondpad indraai. Hy praat in ’n kleinseuntjiestem en maak groot, leperige koeioë wat veronderstel is om harte sag te maak. Dit doen niks aan Andine se hart nie, maar dis nie vir haar bedoel nie, want hy kyk in die spieëltjie na Jam. “Ek het gesien jy het ’n piekniekmandjie ingelaai.”

“Ons kon tog nie daar eet nie, en nou is daar nie tyd nie, Otter-Liefie,” sê Jam. “Maar ek het ’n plan, wag net en julle sal sien.”

Tuis loer Jam eers by tannie Elize in. “Ek het haar medisyne gegee,” sê sy toe sy uit haar kamer kom.“Sy lyk darem al ’n bietjie beter, maar sy wil nog slaap. Kom ek wys julle wat ons gaan doen.”

Sy loop met stewige treë na die donker, muwwe sitkamer en pluk die gordyne oop. Stof styg op en hang in die sonstrepe wat deur die vensters inkom. “Help my, asseblief,” sê Jam en begin die stoele na die een kant van die vertrek stoot, voorkante na die muur gedraai.

Andine kry lekker toe sy die stoele tot teen die muur help skuif. Vannag is die aliens gebôl: hulle sal almal vir die muur moet sit en kyk. Met die middagson wat diep inskyn, is sy gelukkig nie meer so bang vir die sitkamer nie.

In die middel van die sitkamer, op ’n mat met horribale bont herfskleure, gooi Jam vir hulle ’n piekniekkombers oop. Daarop skud sy ’n vrolike rooi-en-wit blokkiestafeldoek oop en begin die kos uitpak. Sy pak glasborde en mooi servette, messe en vurke uit en maak Tupperwarebakkies oop, pak ’n broodbord en rogbrood uit en begin die brood net daar op die tafeldoek sny en smeer.

Andine sit op die mat met haar pienk-en-blou strepiesbene en tekkies voor haar uitgestrek. Zander en Thapelo sit amper op die tafeldoek, hulle is soos brommers om ’n miskoek. Sy eet net so lekker saam aan die koue vleis en slaaie.

“Daar is naastenby presies 6,6 biljoen mense op die aarde,” sê Zander terwyl hy kou. “Ek wonder hoeveel van hulle het toilette?”

“Dis ’n interessante vraag,” sê Jam met haar mond op ’n plooi getrek, “maar ek dink nie dis ’n onderwerp wat ons moet bespreek terwyl ons eet nie.” Sy slaan Zander liggies met die vuis teen sy boarm, daar waar hy veronderstel is om spiere te hê. “Het jy nie vandag genoeg van toilette gehad nie, jou otter? Kyk op die internet wanneer ons weer by die huis is.”

Andine sit en wonder of sy vir Lucia en vir Angelique moet BBM en sê dat sy vandag besluit het om eendag ’n argitek te word. Maar Lucia-hulle praat altyd oor klere en goed, hulle wil glo designers word. Sy wil nie anders wees nie, maar dis partykeer boring om so saam met die stroom te swem. Dan los sy dit maar.

Sy’s self verbaas toe sy na ete die skottelgoed kombuis toe dra, warm water in die wasbak tap, seep inspuit en dit meng totdat daar hoë skuimbolle bokant die wasbak uitstaan. Sy kyk oor die werf vol gemors uit. In die kampie agter die skuur wei ’n swart hings. Dit voel vir haar asof sy wil huil, want niks, maar niks, is nou vir haar mooier as hierdie swart perd op ’n geel land vol grasstoppels nie. Jam kom langs haar staan. Haar een wenkbrou vlieg tot in haar rooi pennetjieshare. Andine weet nie of dit is omdat sy huil of omdat sy skottelgoed was nie. Sy skouer Jam liggies. “Loop net,” sê sy. Haar trane drup in die skottelgoedwater en sy vee dit met haar mou af. “Gaan gesels met jou tannie. Vlisse kán skottelgoed was.”

Die res van die middag gaan gou verby. Die twee seuns loop die hele plot plat met Skroef al agter hulle aan. Thapelo wys vir Zander ’n kaskar wat aan tannie Elize se kinders behoort het, en die res van die middag stoot hulle mekaar in die grondpaadjie op en af. Andine sien hulle later in die ou bakkie sit met Skroef agter op, regop soos ’n spietkop by ’n tafel langs die pad.

Sy slaap ’n rukkie, lees haar storieboek, en gaan gesels dan by tannie Elize in die kamer. Nie uit eie vrye wil nie, maar net omdat Jam besluit het die tannie sal van geselskap hou.

Soos Andine gedink het, is daar nie ’n televisiestel in die huis nie, maar Jam grawe die aand na ete ’n horingou Compendium of Games uit, waarvan die boks se kante al afgeskeur is. Hulle sit tot laat by die kombuistafel en speel Ludo en dambord en Tiddly Winks, games waarvan sy nog nooit gehoor het nie. Lucia en Angelique BBM haar albei, maar sy ignoreer dit. Gewoonlik kan sy vyf goed gelyk doen, maar sy ken nie die speletjies nie en moet konsentreer.

En ook, wat moet sy vir hulle sê? Moet sy gaan: Ons het vandag gaan kyk hoe mense toilette bou. Dit was lekker. Dûh! Hallóó! Lucia en Angelique sal mekaar dadelik bel en oor haar skinder, miskien dink dat sy ’n bietjie crazy geword het.

Terwyl Jam gaan koffie maak, wys Zander vir Thapelo ’n paar van die tekeninkies wat hy en Andine gebruik wanneer hulle in hul geheime taal vir mekaar skryf. Haar ma sê altyd wanneer sy dit sien: “O my liewe, my kinders skryf in hiërogliewe,” en lyk dan baie trots op haar rympie.

Toe hulle gaan slaap en Andine verby die sitkamer na haar slaapkamer loop, sien sy dat iemand, seker Jam, die stoele weer in ’n netjiese vierkant geskuif het. Die muwwe reuk is terug. Dit voel of klein handjies aan haar nek vat toe sy die donker gang afloop, en sy moet haarself keer om nie te begin hardloop nie. Sy is so moeg en vaak toe sy die kamerdeur oopstoot, dat sy net haar skoene uittrek en sommer met klere en al onder die groot verekombers inskuif.

Vlis met vlerke (skooluitgawe)

Подняться наверх