Читать книгу Skilpoppe - Barrie Hough - Страница 5
2
ОглавлениеWierook
Ma wou alleen gegaan het. Toe Pa hoor sy wil ook Rusland toe, was daar moeilikheid. “Oor my dooie liggaam begewe ’n vrou van my haar op haar eie tussen die donnerse Kommuniste!”
Hoe meer Ma en Elise probeer verduidelik het dat Kommunisme, soos die Berlynmuur, eintlik iets van die verlede is, hoe harder het hy op en af gespring. Elise het sy siel uitgetrek met ’n grappie van Pieter-Dirk Uys.
“Suid-Afrika is die enigste land in die wêreld wat ’n Kommuniste-party het met ’n toekoms,” het sy gesê. “In elk geval, Pa, is daar Kommuniste in ons regering. Party van hulle is rêrig nie só bad nie. Pa moet bykom.”
“Die enigste goeie Kommunis is ’n dooie Kommunis,” was sy ontstoke reaksie.
Ma het hom net so gekyk, haar blou oë twee helder skilderytjies agter die glase van haar bril.
Brom-brom en teen sy sin het hy toe besluit hy gaan saam. Maar toe hy hoor dat hulle eers Wenen en Praag toe gaan, het hy ’n tantrum gegooi. Hy was besig om die eerste van sy laatmiddagdrankies, sy “skemerkelkies”, in die sitkamer te skink toe Ma hom betrek.
“Net nog ’n rede om geld uit te gee, Helena!” het hy ontplof. “Dis nou weer ’n nuwe koors wat losgetrek het onder jou en jou vriende. Eers het julle die paadjie na die gimnasium toe deur gedraf, voete laat masseer en vegetariërs geword. Toe’t julle opnaaisels agter julle ore laat insit en vet laat uitsuig. Dis onwaardig om op julle ouderdom soos tieners te wil lyk. Maar ’n nuwe gril of gier dié moet daar wees. Nou flenter almal oorsee. Plaas dat julle al die mooi plekke in ons eie land besoek. Nee, maar dit moet oor die water! En hierdie alewige vakansies kos geld. Lyk ek miskien soos ’n Oppenheimer?”
Dít moes Pa nie gesê het nie. Ma haal toe wat Sebast haar “Yskoningin” genoem het uit die hoed.
“Marius,” het sy gesis. “Dis nie asof ek bloot vir plesier oorsee wil gaan jakker nie. Vandat ons weer deel is van die res van die wêreld, is daar ’n groter aanvraag vir buitelandse kuns en tapyte hier, spesifiek vir volkskuns uit die Oosblok-lande. Die ander winkels het al begin invoer. Dis nie soos by julle in die motorbedryf waar jy goed uit ’n katalogus vir die garage kan invoer nie. Ek moet self sien wat ek kry. As jy dink ek gaan my deur ’n kortsigtige man laat kniehalter, maak jy ’n fout. Ek het my eie geld – van die winkel. En in elk geval het my ma my nie flentergat in die wêreld nagelaat nie.”
Ek kon my ore nie glo met “flentergat” nie. Vir Ma is dit ’n vloekwoord. En Ma vloek nie sommer nie. Plek-plek het haar ys ’n bietjie begin smelt.
Dit het gelyk of Ma klaar gepraat het, want sy het opgestaan uit haar stoel en tot by die deur geloop. Daar het sy gaan staan en weer teruggedraai, haar hande geklem. “Dink jy nie jy het hierdie gesin al genoeg skade berokken nie? Ons is nie jou honde nie. Ek het nodig om weg te kom van hierdie plek af. Weg. Om te probeer vrede maak met myself ná wat gebeur het. Die afgelope drie maande sonder my kind was hel. Miskien help …”
Ma het die sin nek omgedraai en is gang af.
Pa het net so in die skemer sitkamer bly sit. Ek dink nie hy of Ma het eens agtergekom ek was daar gedurende die rusie nie.
Elise was skoonveld. Sy kan nie sulke scenes lekker hanteer nie. Sy skrik maklik.
Niemand eet daardie aand nie. Die tafel bly staan net soos Florence hom gedek het.
In die middel van die nag was ek skielik skreeuhonger. Die kos in die oond was koud en droog.
Ek het ’n blik kondensmelk in die koskas gaan kry, twee gaatjies daarin gesny en daaraan in my bed gaan suig.
Toe ek die volgende dag van die skool af kom, was die huis vol blomme. Soos ná Sebast. Maar dié keer was dit Pa se manier van gatkruip. Vase vol verskonings. Hel, maar die oukêrel kan charm as dit nodig is. Met daai looks is dit seker nie moeilik nie. Nou nog laat hy die koppe draai. Al is hy grys teen die slape en ’n bietjie verweer in sy gesig. Ek dink Ma het vir die looks geval.
Die geur van die blomme was swaar in die huis. Ma was nie daar nie.
Ek het in my kamer by die lessenaar voor die venster gaan sit en werk. Algebra. Ek verstaan niks nie. Dis ’n vreemde taal waarmee Sebast my altyd gehelp het. In wiskunde is daar altyd antwoorde, al is dit soms vrek moeilik om by hulle uit te kom, het hy altyd gesê.
Die vrae in my eie lewe het nie altyd antwoorde nie. Ons lewens is so deurmekaar, al glo Ching-kung aan “the mathematics of life”.
“Hoekom kry ons dan nie altyd antwoorde nie?” wou ek op ’n keer by hom weet terwyl hy vir my verduidelik het hoe hulle gesinsaltaar werk.
In ’n spesiale hoek van hulle sitkamer staan ’n tafel vol kerse, wierookhouertjies, ’n standbeeld van die Chinese godin van genade – Kuan-yin – en foto’s van Ching-kung se dooie familielede.
Hy het die hangertjie om sy nek afgehaal en dit oopgemaak. Binne-in was ’n foto’tjie van Sebast. Hy het die vierkantige hangertjie met sy goue ketting op die tafel se blink oppervlak tussen die ander foto’s neergelê. Uit ’n laai het hy ’n wierookstokkie gehaal en dit aangesteek tot die punt smeul. Skielik was daar ’n soet geur om ons.
“Soms op spesiale feesdae brand ons vir die dooies papiergeld. My mense glo dit kan hulle help in die wêreld hierna,” het hy vertel.
“En jy?”
“Miskien tog.”
“Hoekom los jy nie permanent ’n foto van Sebast op die altaar nie?”
Hy het geskok na my gekyk. “Wil jy hê my ouers moet my onterf? Al was hulle baie lief vir Sebast, is dit net aangetroudes en bloedfamilie wat op die altaar vereer mag word.”
Hy het die ketting opgetel en dit teruggesit om sy nek.
Sy ouers was uit en ons het lank in die sitkamer met sy donker meubels, syskerms en groot vase gesit.
“Hoekom kry ons nie altyd verduidelikings vir die goed wat skeefloop in die lewe nie?” het ek weer gevra.
Ching-kung het sy vingers deur sy dik swart hare gekam. “Party mense sê die antwoorde is in die sterre.”
Waar ek by my lessenaar met die algebraprobleem stoei, maak die herinnering aan Ching-kung se woorde iets in my los. “Anna Meyer, jou slêm dêng!” prys ek myself toe ek skielik agterkom hoe om die probleem op te los.
Toe ek opkyk, sien ek aan die ander kant van die tuin in een van die winkel se vensters met sy diamantvormige loodraampies ’n verbrokkelde figuur. Dit was stukkies van Ma.
Ek het gewonder of sy stukkies van my ook kan sien.
Dit was een helse ding om Ma-hulle gepak en op die lughawe te kry. Feit is, hulle het amper nie gegaan nie.
“Ek weet dit was my besluit om te gaan, maar ek kan julle nie so alleen hier los nie,” het Ma gewroeg en gevryf aan die Griekse kommerkrale wat Melina, haar assistent by die winkel, vir haar gegee het.
“Ons is nie twee Dresden-poppe nie, Ma,” het Elise haar probeer gerusstel. “Tussen Florence en Melina sal ons regkom.”
Ma het senuweeagtig geglimlag. “Moet Florence nie te veel pla nie. Laat sy ook ’n bietjie vakansie hou. Die vrieskas is vol kos wat julle net in die mikrogolf hoef te steek.”
“Dis nou nie asof ek gebreklik is voor die stoof nie, Ma,” het Elise gesug.
Sy het na my gekyk net toe ek my oë rol en my hande in genadegebed saamklem.
“Spot maar,” het sy met haar perfekte neus in die lug gesê. “Die mense gaan nog praat oor my kos.”
“Hulle praat al klaar,” het ek gehap. “Veral jou ekse. Hoekom dink jy maak hulle so gou spore? Jy kook te graag vir hulle. Wat het tant Lizz nou weer gesê van die pad na ’n man se hart?”
“Oppas, jou lippe,” het sy teruggekap. “Jou tong gaan hulle sny.”
“Eina! Okay, dié ronde is joune,” het ek gelag.
Ons het palms geklap.
“Jy’s ’n wonderlike fotograaf, El. Rêrig. Maar ’n kok? No ways!”
“Gaan bars!”
“Meisies,” het Ma gekeer. En weer gekarring.
“Anna, jou afsprake met dokter Snyman is in Melina se dagboek. Ek meen dis Maandae en Donderdae. Terloops, Elise, die dokter vertel my dat jy hom nie meer gaan sien nie.”
“Ek het nie ’n kopdokter nodig nie, Ma.”
“Dis nie wat hy dink nie.”
“Weet Ma wat dink hy rêrig? Dat ons almal, die hele ou sous, ons koppe gelees moet kry. Nie net ek en An nie. Wat help dit, Ma, dat ek en An met die shrink oor Sebast praat en snot en trane huil? Hel, Ma, ons moet met Má-hulle kan praat. Sebast was júlle seun,” het Elise op ’n smekende toon gesê.
Ma het haar arms om haarself gesit asof sy koud kry. “Nie nou nie, Elise. Ek het nog goed om te pak.” Toe is sy uit by die kamer.
Elise het haar onderlip vasgebyt en met haar oë vol trane na my gekyk. “Ek wens hulle wil nie so weghardloop nie! As hulle net meer oor hom wil praat, oor alles wat gebeur het. Wil huil. Wil iets! Al is dit nou borde breek soos Melina-hulle op paarties. Ag, ek weet nie, An. Gaan dinge ooit weer dieselfde wees? Hulle sê nie eers sy naam nie!”
Ek het my suster omhels. Ons het mekaar lank vasgehou.
Pa was nooit een vir tasse pak nie. Ek het hom in sy kamer gaan help.
“Hierdie koffer van my gaan so swaar wees,” het hy gekla terwyl hy die bultende tas probeer toezip het. “Sal seker vir die oorgewig moet betaal.”
“Kom ons kyk gou, Pa,” het ek aangebied.
Die tas was vol truie, ferweelbroeke, serpe en jasse. “Pa? Pa het dan wintersklere ingepak.”
“Nou ja. Dis mos Junie. Ek wil nie klere daar anderkant gaan koop nie. Dit los ek vir jou ma.”
Ek het geprobeer om nie hardop te lag nie, my hand op sy arm gesit. “Pa van my, dis lente daar, amper somer.” Pa staan altyd regop, fier, “amper soos ’n opblaaspop met te veel lug in”, het Elise op ’n keer gesê toe sy vir hom woedend was.
Hy het sy ken laat sak en na my gekyk. Skielik het sy hele lyf net gehang. Asof daardie opblaaspop ’n puncture gekry het. “Hoe ’n gat maak ek nou van my,” het hy gesê. “Natuurlik weet ek dis somer daar. Ek … het net nie gedink nie. Te veel ander dinge op my brein.”
Ons het die wintersklere teruggepak in die kaste. Toe sy tas vol somersklere met etiket en al regstaan en ek amper by die deur uit is, het hy my teruggeroep: “Dankie, Anna …”
Ek het teruggedraai en met my hand op die kosyn na hom gekyk. Hy het vir my soos ’n vreemdeling op een van Elise se foto’s gelyk. Een van daardie moeë, grys, hartseer mense wat sy so graag op stasies en in parke fotografeer.
Ek het in my kamer gaan huil. Presies waaroor het ek nie geweet nie.
Toe ons in die kar klim, het Ma na my rooi oë gekyk en my probeer troos met: “Anna, ons gaan nie só lank weg wees nie.”
Nadat ons Ma-hulle op die lughawe gegroet het, het Elise my speels op die arm geslaan. “Kom ons gaan steek ’n dop, my suster.” Ons was ontspanne, dalk selfs pap – twee poppe met punctures.
By die Milky Lane in Eastgate het ek ’n dik milk shake deur ’n strooitjie geslurp terwyl Elise haar Diet Coke met klein slukkies soos ’n dame gedrink het.
Ons het gelag oor Pa, wat net voor hy by paspoortbeheer in is, vir die derde keer gesê het: “Anna, moenie vergeet om my visse te voer nie.”
Op die stoep is dit donker. Die maan is seker bokant die huis. Ek gooi die kombers af en gaan in. Daar is die reuk van wierook in die sitkamer. Dis weird. Ek frons. En dink aan Ching-kung.
Hy was nog nie weer hier by die huis vandat Sebast weg is nie. Maar elke keer as ek en hy koek-en-tee by die Mixer in Melville, vra hy oor die tuin wat hy en Sebast tussen die huis en die winkel uitgelê het. Hulle was veral baie trots op die visdam. Die tuin was ’n projek waarvoor hulle by die Tech punte gekry het.
Ek het nie die hart om vir hom te vertel dat selfs die winterplante nie te goed lyk sonder Sebast se groen vingers nie. Wanneer ek dink aan Sebast se “groen vingers”, glimlag ek binnetoe.
Toe ek klein was, het ek altyd gewonder hoekom ek nie, soos Ma, die groen aan Sebast se vingers kon sien nie. Later kon ek dit nie meer hou nie. Toe vra ek hom: “Sebast, waar’s die verf aan jou vingers?”
“Wát?”
“Ma sê jy’t groen vingers.”
Hy het gelag en my hare deurmekaar gekrap. Met ’n “shhh” het hy sy voorvinger op sy lippe gesit en sag gesê: “Dis ’n groot geheim. Dis nie verf nie. Dis die murg aan die binnekant van my vingerbeentjies wat groen is. Net spesiale mense weet daarvan.”
“Is Ma spesiaal, Sebast?”
“Baie.”
“En ek?”
Hy het langs my gehurk en gesê: “Jy is een van die spesiaalste mense in my hele lewe.”
Die TV in die sitkamer flikker sonder klank met die beeld van laatnagnuus op CNN. Dis weer oorlog êrens. Tonele van oorlogtenks in grys strate. Verwese mense in klere wat nie lyk na hulle s’n nie.
Voor die kaggel lê ’n deurmekaar kombers en kussings.
Die kole in die herd het al grys gebrand. Tog voel ek hitte. Onder die skille as brand dit rooi. Met die vuuryster krap ek die gloeiende kole oop. Ek haal ’n stuk hout uit die mandjie en gooi dit in die herd. Toe ek ’n geknetter hoor, gaan sit ek op die kombers. In die lig van die vlamme sien ek pitte op die vloer voor die kaggel. Daggapitte? Dit verduidelik die wierook. Triek wat die rokers by die skool ook ken.
Pa dinges in sy broek, dink ek. Al hou hy van Julian. By hom is drugs so uit soos koekies in die weeshuis. Ma gebruik sy weersin in drugs soms teen hom deur vir hom te sê dat alkohol ook ’n dwelm is. Sy worry dat hy te veel drink. Ek dink nie dis so erg nie. Ons het hom nog nooit stormdronk of uitgepass gesien nie.
Ousus en die roker. Klink soos ’n boek, of ’n drama by die ATKV-Toneelfees.
Eenkant lê die buis met wierookstokkies. Ek rek en haal een uit. Hoekom kan ons nie soos Ching-kung-hulle ’n gesinsaltaar hê nie? Ek hoor Pa se dominee-stem: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie …”
Dit was ook een van die redes hoekom Pa amper ’n koronêr geskiet het oor die ding tussen Sebast en Ching-kung. “Hy’s ’n heiden, dié geel ‘vriend’ van jou!” het Pa geskel. Die eintlike rede vir sy woede het hy nie oor gepraat nie. Altans nie voor my nie.
Ek steek ’n wierookstokkie aan. Die vlammetjie doof, maar die punt bly gloei. Soet, soeter, soetste. Jasmynsoet.
Ek staan op. Op pad na my slaapkamer loop ek by Die Kamer verby. Met al die gewere teen die mure uitgestal en die wildskoppe, pa se jagtrofeë. Opgestopte koppe met glasoë. Die gewere se name het altyd nommers. ’n Colt Forty Five Automatic, ’n Smith & Wesson Forty Four Magnum, Browning Nine Millimeter High Power Parabellum.
Die Kamer se deur is gesluit. Ma dring daarop aan. Ek weet Florence het ’n sleutel.
Dankbaar vir die rokende stokkie in my hand, loop ek vinnig verby. Ek is altyd bang ek ruik weer die bloed. Soos daardie aand.
Die gordyne in my kamer is toegetrek. Die komberse is teruggevou en die elektriese kombers se skakelaar-ogie brand. Op die kassie langs my bed is ’n glas water en ’n potjie met ’n blom daarin. Ek steek die wierookstokkie by die blom in.
In my gedagtes sien ek hoe Elise die potjie skuif, die kussing met haar lang vingers streel en terugstaan om te kyk dat alles net reg is. Ek het lus om by haar te gaan inkruip soos ek gemaak het toe ons nog ’n kamer gedeel het. Maar ek kan nie. Van die stoep af het ek gesien Julian se blou Volksie staan nog steeds in die oprit.
Pa se visse, onthou ek toe ek die botteltjie viskos op my lessenaar sien staan. Ek het hulle nog nie vandag gevoer nie. Pa se kosbare Koi!
Toe ek naby die visdam in die tuin kom, skakel die kliklig automaties aan. Ek voel soos ’n dief wat betrap word. Soos altyd brand daar een of twee ligte in die winkel. Ma se bevele. ’n Standbeeld voor een van die vensters laat dit lyk of daar iemand in die winkel waak. In die huis is dit net by my kamervenster waar daar nog lig brand. En die flippen kliklig skyn natuurlik so helder soos die son.
Ek hurk doodstil by die visdam tot die lig afskakel.
Die maan lê in die dam. Ek kyk versigtig op. Daar hang hy. Twee mane.
Stadig sit ek twee knippies viskos op die dam se oppervlak. Borrels verskyn hier en daar. Die maan wieg en vervorm in die rimpels wat die roerende visse veroorsaak. My hand tas rond tussen die plante. Ek soek na ’n groterige klip.
Na ’n tyd lê die visdam se oppervlak weer glad, sonder ’n rimpel. Ek mik die klip na die maan en tref hom. In sy vol gesig. “Ha!” roep ek oor die kliklig niks gewaar het nie. Ek het hom uitoorlê.
Die maan ontplof, breek in skerwe. Brokkies lig jaag en dans mal op die kartelende oppervlak rond. Gaandeweg vind die stukkies lig mekaar, sluit hulle by mekaar aan om groter stukke te vorm. Die lig versamel om en op ’n wit kern, soos stukkies metaal om ’n magneet.
’n Ruk nog sidder die maan. Later lê hy kalm. Sonder ’n kraak. Heel.