Читать книгу Vlerkdans (skooluitgawe) - Barry Hough - Страница 3

1. Ek kruip uit my dop

Оглавление

Dis deur Anton dat ek die oorbel begin dra het. Dit was ná ek hom begin teken het dat ek dit laat insit het.

Daardie eerste middag, ’n paar weke voor die oorbel, sal ek nooit vergeet nie.

Dit was die eerste keer dat ek soos ’n regte kunstenaar gevoel het. Met my eie model.

Ek sê vir Anton “Draai so,” en trek sy een skouer effens vorentoe, druk die ander een terug. Sy vel is warm van die son wat deur die groot vensters op hom skyn. Daar is die geur van olieverf. ’n Bougainvillea1 hang roesrooi in groot trosse net langs ’n oop venster. In die hoek word ’n blou skildery van Ma op ’n esel droog.

Anton sit op ’n stoel voor die tafel waarop ek en Ma ons bottels met kwaste en ons kryt hou. Sy bene is gekruis, sodat die kuit van die een been op die knie van die ander rus. Sy hande, waarop die are dik staan, rus op die boonste been – een op die knie, die ander op die enkel.

Die son gooi ’n skaduwee in die holte bokant sy sleutelbeen.2

Daar is ’n klop aan die deur. Hy ruk.

“Hier’s iets om te drink,” roep Ma.

Ek lag vir Anton. “Sit net so,” sê ek. “My ma het al baie mense sonder klere gesien.”

Hy laat sy kop sak.

Ma kom in met ’n skinkbord en sê: “Jy moet jou model nie langer as ’n halfuur laat stilsit nie, veral een wat nie daaraan gewoond is nie. Dan moet hy strek en beweeg. Hoe’t ek jou dan geleer, Hannes? Die koeldrank is lekker koud. Ek los dit hier op die wakis.”3

Ek byt op my tande en sê: “Ja, Ma.” Toe sy die skinkbord neersit, klingel ys in die glase.

Haar voetstappe gaan weg. Ek gooi die grafietstaaf4 teen die oorkantste muur. “Ek wens sy wil my uitlos.”

Anton lig sy kop. “Nie eers my oulady sien my so nie.”

Terwyl ek ’n nuwe stafie op die tafel vat, sê ek: “Jy’t niks om weg te steek nie. As ek ’n lyf soos jy gehad het, het ek hom knaend5 gewys. Kan jy nog twee minute sit? Nog net ’n paar lyne.”

Hy knik. In die stilte van die ateljee hoor ek net die gekrap van my grafiet op die papier.

’n Kramp in my vingers laat my orent kom. Skielik sien ek Anton se hele lyf en die stoel waarop hy sit. Amper asof ek op ’n lang afstand – deur die verkeerde kant van ’n verkyker – daarna kyk. Ek word weer bewus van Ma se sketse teen die agterste muur. Buite hoor ek Matisse blaf.

“Wil jy beweeg?” vra ek.

“Ek het gewonder wanneer jy weer gaan surface.” Hy staan op en strek soos iemand wat wakker geword het.

Die glase is natgesweet aan die buitekant. Ek loop deur die sonkol wat tussen my en Anton op die vloer lê. “Die ys het al gesmelt,” sê ek en hou ’n glas na hom uit.

Voor hy aantrek, laat ek hom weer sit en neem foto’s met Ma se kamera. “Net vir myself,” stel ek hom gerus.

“Jy gaan my mos blackmail eendag as ek beroemd is,” spot hy.

“Span jou armspiere,” maak ek hom stil. Ek fokus en druk die knoppie.

Anton was my eerste model.

Vroeër het ek saam met Ma van haar modelle gebruik, maar dit was anders. Hulle was háár modelle. Sý het hulle gekies. Anton was mý model. Ek het hom self gevra om vir my te sit. En hy was nie sommer net nóg ’n model nie. Hy was ’n danser met ’n liggaam wat volmaak6 wou lyk.

Ma se modelle was vet of het lywe vol velle en plooie gehad. Hulle was oud en lelik. Party se velle was so los, dit het amper soos gekreukelde klere gesit. Maar dis soos Ma van hulle hou.

“Jy moet kan sien dat die lewe aan hulle gevat het, dat hulle gebrei7 is,” sê Ma. “Ek hou van ’n lyf waarin gelewe is.”

Toe Nina by die skool leer brei, het sy eendag gehoor hoe Ma weer van haar “gebreide” modelle praat.

“Is hulle dan truie, Ma?” wou sy weet.

Sedertdien noem ek ma se modelle truie.

Anton was nie ’n trui nie. Hy was die ene spiere. Nou nie soos Rocky of Arnold Schwarzenegger of die heavy ouens by die gym wat pille drink om hulle spiere nóg verder op te pomp nie. As jy sommer so na Anton kyk, sou jy gesê het hy’s maer, maar wanneer hy sy liggaam span, het dit gelyk of sy spiere gevleg is. Op ’n dag toe ek Ma weer treiter8 met haar truie, sug sy: “Ja, my kind, my modelle lyk nou eenmaal nie of hulle van koeksisters aanmekaargesit is nie.”

Ek het Anton by die gym ontmoet. Hy was die enigste ou daar wat my aan die begin gehelp het.

Daar staan ek soos Kiepie met die kaart waarop my oefeninge uiteengesit is. Om my kletter en klink metaal. Ouens steun terwyl hulle gewigte stoot. In spieëls bewonder hulle hul sweetblink spiere. Hulle gesigte is rooi en hulle kieste bol soos hulle asem uitblaas. Waar daar meisies naby is, beur die liggaamsbouers dat jy dink hulle gaan enige oomblik ’n koronêr9 skiet. Party lyk woes, soos die skurke in ’n Mad Max-rolprent. En hoe harder hulle steun en blaas, hoe bleker en maerder voel ek.

Toe sien ek iemand in die spieël kyk vir my. Met ’n glimlag knik hy, sit sy gewig neer en stap na my toe. Hy vee sy hand aan sy kortbroek af en steek dit na my uit. “Ek is Anton Swart,” sê hy. “En jy’s nuut en clueless.”

Ek lag. “Hannes Bezuidenhout,” sê ek.

Sy hand is warm en klam. Sy T-hemp klou aan sy lyf vas.

“Dit lyk of jy hulp nodig het,” sê hy.

Ek knik.

Hy vat my kaart. “Okay. Ek sal jou die oefeninge wys. Aan die begin raak ’n ou deurmekaar. Maar later ken jy jou roetine so goed jy check nie eers meer op die kaart nie. Ek dink jy moet vir starters van elke oefening net een stel doen. Anders gaan jy môre suffer. Later kan jy opwerk na drie stelle toe. Kom ons kyk. Sit-ups!” Hy gaan lê kop na onder op ’n plank wat skuins teen die muur staan en bring sy bolyf sonder inspanning ’n paar keer orent.10 “Dis vir die maagspiere. Maar pasop vir hom. As jy vandag te veel doen, kry jy môre seer as jy lag.”

Met elke nuwe oefening beduie hy vir my aan homself watter spier dit ontwikkel. Dit lyk of hy die menslike liggaam amper so goed soos Ma ken. Sy is baie trots op haar kennis.

“Wat weet hierdie jong kunstenaars deesdae van die anatomie11 af?” kritiseer sy altyd. En eendag het sy my vertel: “In my dae as kunsstudent het ons gekyk as die mediese studente lyke dissekteer.12 Dis waar ek jou pa ontmoet het.”

Toe ek my gesig trek, het sy gevra: “Hoe dink jy het Leonardo da Vinci en Michelangelo hulle kennis van die liggaam gekry? Prentjies?”

Die laaste oefening wat Anton my wys, laat my boarm-spiere lam voel.

Terwyl Anton onder die stort sy oë toeknyp vir die seep, sê hy in my rigting: “Ek dink jy moet môre miskien ’n miss gee. As jy oormôre dieselfde tyd kom, sal ek jou weer help.”

Dis al skemer toe ons buite kom, ’n dik skemer soos room wat voel of dit jou stadiger laat beweeg. Bokant ons flikker NED’S GYM in groot pienk neonletters. By ’n motorfiets naby die ingang staan en wag een van die meisies wat ek vroeër in die gym sien oefen het. Sy dra stywe jeans en hou ’n valhelm vas.

“Ons gaan laat wees vir die repetisie13,” sê sy vir Anton.

“Never fear when Anton is near,” antwoord hy en stel my voor aan haar. “Linda,” sê hy. “Ons dans saam. Repeteer op die oomblik vir ’n kompetisie. En dis Hannes.”

“Hallo,” groet sy. Ek ruik haar klam hare wat strepe oor haar wang trek. Dis of die haarstrepe die sagte rondings van haar kaak herhaal. Die pienk lig laat die sweet op haar voorkop blink.

“Wat dans julle?” wil ek weet.

“Ballet,” sê Linda.

Ek frons.

“Ballet, man,” herhaal Anton. Hy staan ’n tree terug en spring. In die lug strek hy sy arms en bene. Dit lyk of hy ’n rukkie net daar hang.

“Anton!” skree Linda. “Is jy simpel? Jy sal jou seermaak. Dis sement dié. Don’t show off.”

“Okay, okay. Ons is op pad.” Hulle sit hulle valhelms op. “Sien jou Woensdag. So halfvyf,” sê Anton. Linda waai. Die motorfiets dreun weg. In die stilte wat volg, ruik ek nog die effense geur van Linda se hare.

Ná gym die Woensdag gaan drink ons milkshakes by die Milky Lane om die hoek.

“Jy cope goed,” sê Anton vir my. Linda knik instemmend. Daar loop ’n sjokoladestrepie oor haar onderlip tot in die kuiltjie op haar ken. Anton vee dit af. Linda gryp sy hand vas. “Moenie. Ek’s nie ’n baba nie.” Haar kneukels is wit.

Ek kyk by die venster uit. ’n Vrou met verwaaide blonde hare en groot oorbelle se Maltesertjie lig sy been teen ’n boom.

Anton klem sy glas vas en drink die laaste bietjie milkshake. Dit roggel14 in die strooitjie. Hy het lang vingers met amper vierkantige vingerpunte. Hulle vou om die glas.

“Sal jy vir my sit?” vra ek hom.

“Wat?”

“Dat ek jou teken.”

“Jy bedoel soos ’n model? Soos hulle maak in Parys?”

“Nie net in Parys nie. Hier ook,” sê ek.

“Sure. Ek het nie geweet jy’s ’n kunstenaar nie. Jy lyk nie soos een nie. Nie eens ’n oorbel of iets nie.”

“Ek’s nog ’n student. Hier by die kunsskool in Aucklandpark.”

“Hoekom ek?”

“Hou op vis 15,” sê Linda. “Jy weet jy’t ’n stunning lyf.”

Ek knik. “Ek is in graad elf en ons mag by die skool nog nie lewende modelle teken nie. En my ma – sy’s ook ’n kunstenaar – het net sulke ou toppies en tannies wat vir haar sit. Boring. Ek wil my eie model hê.”

“Sit hulle rêrig … jy weet … sonder klere?” wil Linda weet.

“Hoe anders teken jy ’n naakfiguur?” Ek haal my skouers op.

“Kan ek ’n tekening kry as ek vir jou sit?” vra Anton.

“Ja.”

“Is die spieëls by die studio nie genoeg vir jou nie?” terg Linda.

In die weke daarna sit Anton ’n paar keer vir my. Op ’n dag sit ek uit my geheue sketse van sy bolyf en maak in die wiskundeklas. Ek hoor ou Square se stem in die verte dreun, soos agtergrondmusiek in ’n supermark.

Iewers teken ek Anton se een skouer en arm nie reg nie. Weer en weer teken ek sy bolyf.

“Bezuidenhout!” blaf Square skielik bokant my. Voor ek die stuk papier kan wegsteek, raap hy dit op. “Ai, julle kunsmense darem. Dink julle aan niks anders nie? Kunstenaars moet mos ook kan meet en tel en proporsies16 uitwerk.” Hy sug en laat val die vel papier op my lessenaar. “Gee tog aandag. Julle maak my klaar. As party nie monoloë17 in my lesuur leer of skelm musiek memoriseer nie, dan hou julle jul lyf Da Vinci. Wel, Bezuidenhout, ek het nuus vir jou. Da Vinci het sy wiskunde geken. Hoe dink jy kon hy anders die vroegste vliegtuie ontwerp het?”

Die hare wat hy altyd in strepe oor sy bles kam, staan orent. Hy loop na die bord en begin weer verduidelik. Dis die laaste periode. Die klas is bedompig. Square se pak lyk of dit verlep het. Buite dreun die donderweer sag.

Ná skool haal ek die bus stad toe om grafiet en verf te gaan koop. Dit giet toe ek by Ron’s Art Supplies uitkom – ’n laatsomerbui. Soos die ander voetgangers wat nie reënjasse of sambrele het nie, wag ek op die sypaadjie. Tussen die geur van die reën ruik ek nat hare, sweet en asems. Iemand het baie knoffel gehad saam met sy middagete. Een winkel verder lees ek “Ear piercing done here” op die venster. Ek beur deur die mense na die winkel se ingang.

In die bus op pad huis toe loer ’n tante wat skuins voor my sit oor haar skouer na my. My regter-oorlel – met sy ronde goue stud – is seer. Dalk is hy rooi en ’n bietjie opgeswel. Sodat die vrou my oorbel goed kan sien, draai ek my kop. Ek wonder of sy kan sien ek is anders as ander mense: ’n kunstenaar met sy eie model. Sy het ’n skerp neus. Sy lyk kwaai. Maar ek glimlag. Sy draai haar kop weg en kyk voor haar.

Ons bushalte het nie ’n skuiling nie en ek kom nat tot op die vel by die huis aan.

Binne is dit donker en stil. Net die reën druis op die dak. Ma is seker in die ateljee. Op reëndae bak sy gewoonlik pannekoek, maar ek weet sy skilder vir ’n tentoonstelling. Nina is by haar musiekles. Sara was daar, want die huis ruik na meubelpolitoer. En die meeste van die skilderye hang weer effens skeef. Dit maak Ma rasend.

Ek skakel die lig in my kamer aan en trek uit. My wit hemp klou in donker kolle aan my vas. Ek droog my af. In die spieël kyk ek na die oorbel. Dit blink. Toe sien ek die res van myself raak. Donker toutjies hare drup oor my voorkop. Ek staan terug, kyk na die benerige skouers, die dun arms, die ribbes onder die vel wat soos lang vingers op my borskas lê. Die knieë is knopperig en lyk te groot vir die bene.

My pa se blou oë staar terug na my uit die spieël onder wenkbroue wat, nes syne, bokant die neus saamloop. Ma se oë is bruin. Carol, een van my klasmaats, het eenmaal vir my gesê jy kan nooit ’n man vertrou wie se wenkbroue een word nie. “Hulle is wolwe.” Ek wonder of Ma sal saamstem. Carol het dit seker ook vir die ander meisies vertel. Hulle noem my soms Wolfie.

Ek grom vir die ou in die spieël. Hy wys tande en trek sy arm om die boarm-spiere te laat bult. Die oefeninge by die gym het nog nie ’n verskil gemaak nie. “Niemand sal jou ooit vir ’n model wil gebruik nie,” sê ek vir die figuur in die spieël.

My lyf is hoendervel van die koue. Ek skakel die lig af en nog effens klam kruip ek onder my duvet in. Dis sag. Ek krul op en luister na die reën op die dak.

“Hannes!” Dis Ma. My kamerdeur kraak oop. ’n Skrefie lig sny in my kamer in. Ek knyp my oë toe. “Kom eet,” sê sy. Ek ruik rookwarm olie en kaneel. Ek kwyl – dis of ek die pannekoek en suiker al klaar proe. My maag voel hol.

Nina eet reeds toe ek in die kombuis aankom. Sy hou van die pannekoek vars. Die suiker moet nog tussen haar tande kraak. Daar steek ’n halwe pannekoek by haar mond uit.

“Ag, my doggie, die pannekoek gaan nie weghardloop nie,” sê Ma.

Sy draai na my toe, pan in die hand. “Ek bak net gou ’n laaste paar klaar.” Haar oorjas, vol verfstrepe en -kolle, steek onder die blou voorskoot uit. Daar is nog verf aan haar hande en gesig. Haar donker hare woel los uit die knippies waarmee sy dit vroeër probeer bedwing het. Een krul hang kurktrekker oor haar voorkop.

“Kry vir jou ’n bord,” sê sy. “En die pannekoeke onder in die bak hoort al lekker sous te getrek het.” Toe kletter18 die pan skielik op die stoof. “Hannes! Het jy vir jou ’n oorbel laat insit? Kyk na my. Laat ek sien.”

“Ek wil ook sien,” piep Nina tussenin.

Ek draai my oor na Ma toe.

“Jy het wragtig. Weet jy wat gaan jou pa hiervan sê?”

“Asof hy sou omgee! Hy sien in elk geval so min van ons, ek sal seker mondig wees teen die tyd dat hy die oorbel sien.”

“Is darem nie so erg nie. Jy weet hy’s besig. Veral nou met die nuwe pos by die hospitaal.”

“Ma’s ook besig. Feit is, hy gee nie om nie. Hy kon net sowel dood gewees het.”

Ma vee haar hande aan die voorskoot af en kom staan voor my. “Moenie,” sê sy. “Moenie goed sê waaroor jy later gaan spyt kry nie.”

Ek ruik vaagweg terpentyn en verf.

Sy sit haar hande op my skouers en kyk met ’n moeë glimlag in my oë. “Ek weet julle het vir mekaar vreemdelinge geword. Maar die oorbel gaan niks help nie, hoor. Jy weet hoe voel hy oor sulke goed. Ek hou nogal daarvan. Dis ougat, die oorbel. Iets anders. Maar jy ken hom. Hy gaan weer verdowingsmiddels daarin lees. Of satanisme. Hy sal jou seker vra of jy nog staan en pie. Dalk lees hy te veel Huisgenoot of Rapport.” Sy druk my skouers en sê: “Ek is lief vir jou soos jy is. Oorbel en al.”

By die stoof trek rook en ek hoor vet spat. “O hel, ek het vergeet van die pan!” Ma gryp ’n vadoek, haal die rokende pan van die rooiwarm plaat af. “Maak ’n bietjie die vensters oop,” sê sy.

Later toe ons op die donker stoep sit en eet, sê Ma: “Ek hoop die een wat die gaatjie in jou oor gemaak het, het ’n steriele19 naald gebruik. ’n Mens kan verskriklike siektes kry van vuil naalde.”

“Hulle gebruik so ’n geweertjie om ’n gaatjie deur jou oor te skiet,” verduidelik ek. “Dit werk amper soos ’n stapler. En die goed wat hy gebruik het, het uit ’n verseëlde pakkie gekom. Ek is mos nou nie dom nie, Ma.”

Deur ’n skeur in die wolke brand ’n helder sonsondergang. Ma voer vir Matisse repies pannekoek.

Lank sit ons so op die stoep – ek, Ma en Nina.

Die straatligte brand al toe ons opstaan en ingaan.

“Ek sal skottelgoed was en vir Nina in die bed sit. Gaan werk Ma verder.”

“Wat is jy, Hannes? ’n Engel.” Sy mik om my wang te knyp.

Ek koes. “Ma!”

Later gaan haal ek Nina voor die TV weg en sê vir haar sy moet gaan bad. Sy’s baie stil. Gewoonlik babbel sy aanhoudend.

“Wat’s fout, Niens? Het iemand jou tong gesteel?” vra ek.

“Ek verlang na Pa. Dink jy tannie Estelle bak vir hom pannekoek as dit reën?”

“Miskien reën dit nie nou in die Kaap nie.”

“Kan ek hom bel, Boetie? As ek klaar gebad het?”

“Ek dink so. Gaan bad gou.”

Toe sy terugkom, het sy nog waterdruppels op haar gesig.

Daar is atlete op die TV.

“Weet jy hoe vinnig kan ek hardloop?” vra Nina.

“Nee.”

“Ek het vandag die vinnigste in my klas gehardloop. Juffrou sê ek is soos blits.”

Ek sê met ’n piepstem: “My sussie is ’n vinnige akkedissie.” Sy lag.

Nina draai die TV sagter voor sy Pa bel. Sy ken die nommer uit haar kop. Sy hou die gehoorbuis styf teen haar oor geklem. Toe skil sy dit weg en kyk na my. “Hallo. U het die tuiste van Hannes en Estelle Bezuidenhout geskakel …” sê sy met ’n dooie stem.

“Al weer die masjien?”

Sy knik stadig.

“Toe, toe. Slaaptyd,” sê ek.

“Okay. Maar eers ’n movie.”

“Gee my kans, dan maak ek gou een.”

Terwyl Nina TV kyk, kry ek my notaboekie en vee die vorige movie uit. Toe begin ek vinnig teken. ’n Prentjie op elke blad – onder in die hoek. Toe ek klaar is, sê ek: “Jy kan maar in die bed gaan klim. Ek’s nou daar.”

Sy skakel die TV af en maak spore. Ek volg haar na haar kamer toe. By haar deur brul ek: “Leeu-Films bied aan: Ek kruip uit my dop!”

Ek gaan sit op Nina se bed en wys haar die eerste blad van die notaboek. Ek het ’n eier daarop geteken. Op elke blad is daar ’n prentjie wat ’n bietjie anders lyk as die een op die vorige blad. Ek buig die boekie en met my duim gee ek die blaadjies skiet. As die prente so vinnig op mekaar volg, gee dit die indruk van beweging. Ons kunsonderwyseres, juffrou Opperman, het dit in graad nege vir ons geleer.

Nina is mal oor die kuiken wat uit sy dop breek. Ek wys die movie weer vir haar. En weer. “Moet dit nog nie uitvee nie,” sê sy. “Ek wil dit môre weer sien.”

Toe sy aan die slaap raak, is dit met ’n glimlag.

Die lamp langs haar bed bly brand. Sy is bang vir die donker.

Toe ek later by haar kamer inloer, lê sy op haar maag. Haar gesig is na die lig toe gedraai. Die fyn hare wat oor haar oorskulp krul, blink in die lig. Haar hand lê slap op die kussing.

Ek gaan haal papier en grafiet in my kamer.

Vlerkdans (skooluitgawe)

Подняться наверх