Читать книгу Saartjie se held (#8) - Bettie Naudé - Страница 4

Оглавление

1

Die grap

Saartjie Baumann sit in haar kamer by die venster en uitstaar.

Die Baumanns se groot dubbelverdiepinghuis is teen ’n heuwel gebou. Saartjie se kamer is op die boonste verdieping. As sy by die venster uitkyk, sien sy die voorstad Lynnekom voor haar. En as sy na die horison in die verte kyk, kan sy op helder dae Johannesburg se wolkekrabbers sien.

Vandag is ’n onbewolkte dag, maar Saartjie sien nie die stad se hoë geboue nie. Sy sien in werklikheid niks raak nie, want sy is diep ingedagte.

Die veertienjarige Saartjie frons en vee dan met ’n tipiese gebaar met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop weg. Dis darem snaaks, dink sy. Die oomblik wat ’n mens aan ’n grap probeer dink, kan jy nie ’n enkele een onthou nie.

Sy kyk weer na die tydskrif op die tafel langs haar. Die redaksie betaal lesers vir ’n goeie grap. Saartjie dink nou aan wat sy alles met ’n bietjie ekstra geld sal kan doen.

En dis so maklik om in die hande te kry. Sy moet net aan ’n goeie grap dink, dit dan neerskryf en vir die tydskrif pos. Dan het sy binne ’n paar dae ’n hele honderd rand.

Saartjie ken net ’n paar grappe, maar selfs hulle het haar nou skoon ontgaan. Sy kan nie eens aan een dink nie.

Lusteloos kyk Saartjie weer na die flou grappe op die bladsy waar honderd rand vir ’n goeie grap aangebied word.

“Die goed is maar simpel,” sê Saartjie by haarself. Sy lees een hardop om te sien of dit haar nie miskien dán sal laat lag nie. Maar sy sien niks snaaks in die grap nie. Sy lees nou nóg een en loer na haarself in die groot spieël om te kyk hoe sy lyk wanneer sy dit hardop lees. Selfs dít is ook nie eers snaaks nie.

Saartjie se gelaatstrekke is ’n besondere kombinasie: blou oë en donker krulhare. Wanneer sy glimlag, verskyn daar ’n kuiltjie in elke wang en op haar effense wipneusie is daar ’n klompie sproete.

Al is Saartjie so ’n mooi meisie, lyk sy op die oomblik maar oes. Sy is besig om ’n suur gesig te trek omdat sy glad nie kan insien hoekom enige van die grappe in die tydskrif kastig so snaaks is nie.

Saartjie begin allerhande aaklige gesigte trek. Sy rek haar oë wyd oop en steek haar tong so ver as moontlik uit. Dan trek sy haar wange so ver as moontlik van haar tande af weg terwyl sy haar oë rol. Maar selfs hierdie gesigtrekkery laat haar nie lag nie.

Toe sy moeg is om so vir haarself in die spieël te sit en gesigte trek, tel sy die tydskrif weer op. Sy gaan nou op ’n grap konsentreer en regtig probeer om te sien wat so snaaks daaraan is dat die persoon wat dit ingestuur het, honderd rand daarvoor gekry het.

Met ’n frons op haar voorkop lees Saartjie die grap hardop:

“Ek is ’n honderd-en-een, Dominee, en ek het nie ’n enkele vyand in die wêreld nie.

“Maar dis mooi, Broer. Baie mooi!

“Ja, Dominee, die ou klomp is almal al dood.”

Saartjie glimlag effens. Sy kan nie sien dat die grap so verskriklik snaaks is dat die inskrywer daarvoor betaal is nie. Die grap laat haar glad nie hardop lag nie, wat nog van skaterlag? Saartjie is seker sy ken baie beter grappe as hierdie simpel een, maar sy kan net ongelukkig nie nou eniges onthou nie.

Nou dink sy weer ernstig aan ’n grap wat haar én ander mense sal laat lag, én boonop vir haar ekstra geld sal besorg.

Terwyl Saartjie só met ’n gefronste voorkop sit, hoor sy voetstappe by die trap opkom en in die gang afstap. Dis haar boetie wat op pad na sy kamer toe is.

“Apie!” roep sy toe hy verby haar kamer stap.

“Hè?”

“Kom hier.”

Abraham, of Apie soos hy alombekend is, is ’n koddige agtjarige sproetgesig. Sy twee voortande skitter in hul afwesigheid. Hy beweer hy het uit ’n boom geval en dis hoe hy die tande verloor het. Maar toe hy die middag sonder hulle by die huis aankom, het hy ook ’n prag van ’n blouoog gehad. Hy het net nors gemompel dat dit ook seker maar van die val uit die boom was. Die ander lede van die Baumann-gesin was oortuig dat Apie in ’n bakleiery betrokke was. Hy het egter koppig volgehou dat hy net uit ’n boom geval het. Niemand kon enigiets verder uit hom kry nie.

Apie staan nou in Saartjie se kamerdeur. Sy tongpunt speel deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het.

“Het jy geroep?” vra hy.

“Ja, ek het,” sê Saartjie. “Kom in.”

Apie maak so. Hy trek die deur agter hom toe. Hy kom deesdae maar min hier. Vandat hy Saartjie sý kamer belet het, jaag sy hom ook altyd hier by haar uit.

“Wat wil jy hê?” vra hy.

“Ek wil hê jy moet vir my ’n grap vertel.”

“Hè?”

“Is jy doof?”

Nee, skud Apie sy kop, hy is nie.

“Ek sê ek wil hê jy moet vir my ’n grap vertel.”

“Ek het gedink dis wat jy sê.” Die sproetgesig loer agterdogtig na haar en dan voeg hy by: “Hoekom?”

“Hoekom wat?”

“Hoekom moet ek vir jou ’n grap vertel?”

“Omdat ek wil lag.”

“Hoekom?”

“Sommer.”

Saartjie dink nie dit is nie ’n goeie idee om vir Apie te sê hoekom sy wil hê hy moet vir haar ’n grap vertel nie. As sy geld daarvoor kry, sal hy mos die helfte wil hê.

“Sommer is nie ’n rede nie,” sê Apie en speel met sy tongpunt deur die opening waar sy voortande was.

Saartjie sug. Dan sê sy: “Ek wil hê jy moet vir my ’n grap vertel omdat ek graag wil lag.”

Apie kry ewe skielik ’n stout uitdrukking op sy gesig omdat hy aan ’n slim antwoord gedink het. Dis miskien nie ’n grap nie, maar dis baie snaaks!

“Hoekom kyk jy nie in die spieël nie?” sê hy vir sy suster. “Dan sal jy genoeg kry om oor te lag!”

“Probeer jy snaaks wees?” vra Saartjie kil.

“Jy’t gesê jy wil lag en nou sê ek jou mos wat om te doen. Kyk in die spieël.”

Saartjie besluit om die skepseltjie te ignoreer. Sy haal haar skouers vies op en sê: “Weg is jy! Jy ken g’n grappe nie.”

“Dis wat jy dink!” Apie gluur woes vir sy suster. “Ek ken honderde! Duisende grappe waarvoor mense hulle sal doodlag!”

“Vertel my dan een!”

“Orraait, ek sal, kos why ek ken honderde duisende goeie grappe.”

“As Ma jou só hoor praat, gee sy jou ’n oorveeg!”

“Nevermaaind,” sê Apie. “Wil jy ’n grap hoor, of nie?”

“Ek wil, ja.”

“Nou luister mooi.”

Saartjie luister mooi.

“Eendag,” vertel Apie en sy wakker oë blink, “kom die inspekteur by ’n skool aan. Die ou kom om te dinges, jy sien...”

“Om te wat?”

“Om die kinders te dinges... te... te sien of die ouens mooi leer en al die goete ken wat hulle moet ken...”

“Jy bedoel hy kom inspeksie doen?”

“Dis mos wat ek sê.” Apie kyk gegrief na haar. “As jy wil hê ek moet die grap vertel, moet jy nou stilbly en luister.”

Saartjie besluit om maar so te maak.

“Die inspekteur is toe daar in die klas,” gaan Apie voort, “en hy doen toe daai... daai dinges wat jy gesê het hy doen. Hy vra vir die kinders vrae. Die tjokkertjies antwoord alles mooi reg en toe besluit die inspekteur om te kyk hoe wakker hulle is. Die ou vra iemand om vir hom ’n getal te gee.

“‘Vier-en-twintig!’ skree ’n tjokkertjie. En raai wat skryf die inspekteur toe op die bord? Nie 24 nie, maar 42. En sowaar, niemand kom niks agter nie!”

“En toe?” vra Saartjie belangstellend.

“Toe vra hy nog ’n nommer en ’n ander tjokkertjie skree ses-en-veertig. Die inspekteur skryf toe mooi 64 op die bord, nie 46 nie. Hy kyk na die klas, maar niemand kom agter dat hy dit verkeerd geskryf het nie. Maar net toe steek ’n klein tjokkertjie sy hand op. Die inspekteur vra wat hy wil hê en die outjie sê hy wil ook vir die meneer ’n getal gee. ‘Nou goed dan,’ sê die inspekteur en hy staan reg om die getal neer te skryf. Toe sê die outjie: ‘Ses-en-sestig. Laat ons sien of Meneer van daai getal ook so ’n gemors kan maak!’”

Apie hou eintlik sy maag vas, so lekker lag hy. “Is dit nie ’n slim grap nie?”

Saartjie lag ook, maar nie so luidrugtig nie. Sy dink glad nie dis ’n slim grap nie, maar nogtans, as sy dit mooi netjies neerskryf en nie so langdradig soos Apie vertel nie, is dit beter as dié wat sy hier in die tydskrif gelees het.

“Hoekom lag jy nie?” wil Apie weet.

“Hoekom moet ek? Ek dink nie dis so snaaks nie...”

“Dis omdat jy nie ’n dinges het nie!”

“’n Watse dinges?”

“’n Dinges vir humor!”

“Jy bedoel ’n sin vir humor?”

“Dis reg, ja. Dis wat ek bedoel.”

Saartjie gee ’n geforseerde laggie. “Nou toe, nou het ek gelag en vir jou gewys ek het ’n sin vir humor. Weg is jy. Ek het werk om te doen.”

Apie is by die deur uit en mompel iets van meisies wat sommer simpel is en nie eens weet wanneer ’n ding snaaks is en wanneer nie...

Saartjie is weer alleen in haar kamer. Sy vat haar pen en skryf die grap sorgvuldig op ’n vel skryfblokpapier neer. Onderaan die grap skryf sy haar naam en adres in drukletters. Sy wil seker maak hulle weet waarheen om die beloning te stuur.

Toe Saartjie die koevert geadresseer het, plak sy ’n seël op en nael by die trap af, by die huis uit. Sy gaan gou die brief pos.

Buite in die tuin loop Saartjie vir Anna en Lina raak.

“Haai,” skree sy.

“Haai jouself,” skree hulle tegelyk terug. Dit is hoe Lynnekom se kinders mekaar groet.

Saartjie Baumann, Anna Strydom en Lina Rens is al jare lank maats en noem hulself die Drie Muskiete. Saartjie en Anna woon al langs mekaar vandat hulle nog in kinderwaentjies rondgestoot is. Lina het by hulle twee aangesluit toe hulle in graad vier was.

Die drie is altyd bymekaar. Hulle is nou saam leerders aan die beroemde Hoërskool Saamwerk in die stad en is natuurlik in dieselfde klas.

Anna is effens geset en vriendelik van geaardheid. Sy sal Saartjie altyd blindelings volg. Lina is ’n langbeenmeisie en amper net so ’n rabbedoe soos Saartjie.

Die meisies staan nou laggend by die hekkie en gesels.

Anna wys vir hulle iets wat in bruinpapier toegedraai is en sê: “Ek het die oulikste affêrinkie hier wat julle nog ooit gesien het!”

Saartjie is vreeslik nuuskierig en Lina ook, maar Anna weier volstrek om te sê wat in die pakkie is.

“Ek het haar al gesoebat, Saartjie,” sê Lina en kyk vies na Anna, “maar sy wil nie die pakkie oopmaak nie. Toe het ek vir haar gesê ons moet hier na jou toe kom. Miskien kan jy vir haar sê hoe simpel dit is om net te praat van die affêrinkie en dit nie vir ons te wil wys nie.”

“Wat is daarin, Anna?” vra Saartjie en wys weer na die pakkie.

“Iets baie ouliks.” Anna probeer hard om geheimsinnig lyk.

“Ek het daai ou storie nou al hoeveel keer gehoor,” sê Lina vererg. “Ek wed jou daar’s niks in die pakkie nie.”

“Wag maar tot ek julle wys,” sê Anna laggend.

“Nou wanneer gaan jy ons dan wys?” vra Saartjie.

“Oor so ’n dag of twee.”

Saartjie en Lina kyk na mekaar. Hulle brand van nuuskierigheid, maar besluit om dit nie meer te wys nie.

“Ag wat,” sê Saartjie en vee met die rugkant van haar hand ’n krul van haar voorkop weg, “ek wil nie rêrig sien wat dit is nie.”

“Ek ook nie,” sê Lina kastig ongeërg.

“Dis omdat julle nie weet wat dit is nie.” Anna grinnik selfvoldaan. “Dis ’n wonderlike ding. Ek het dit by ’n winkel in die stad gekoop.”

“Nou wys dit dan vir ons,” sê Saartjie geïrriteerd.

“Ek sál nog, maar nie nou nie. Ek’s bang dit breek voor ons nog pret daarmee gehad het.”

Saartjie en Lina kyk peinsend na Anna. Hulle wonder wat in die pakkie kan wees. Anna glimlag breed. Sy hou daarvan om hulle so te laat wonder.

Saartjie ruk haar skouers effens op en sê: “Ek dink jy’s reg, Lina. Daar’s niks in die pakkie nie, Anna probeer haar net snaaks hou.”

Lina vou haar arms en kyk Anna vermakerig aan.

“Kom julle saam?” vra Saartjie wat nou verveeld met hierdie storie is. “Ek gaan gou ’n brief pos.”

Anna en Lina stap saam. Anna hou die pakkie styf in haar hand vas. Saartjie en Lina gesels oor netbal. Hulle probeer maak of hulle alle belangstelling in die pakkie verloor het, maar hulle kyk meer as een keer ingedagte daarna.

By die tuinhekkie sug Saartjie en sê: “Stap julle maar aan.”

Haar maats maak so. Hulle weet mos Saartjie moet nou eers spring. Anna en Lina dink hierdie springery is ’n simpel affêre.

Vandat die sypaadjie voor dokter Baumann se huis met betonblokke uitgelê is, is dit Saartjie se selfopgelegde taak om van die een blok na die ander te spring sonder om met haar voete aan ’n gleuf tussenin te raak. As dit gebeur, moet sy van voor af begin.

Saartjie weet self ook nie hoekom sy dit doen nie. Sy weet net sy kul nooit nie, want dit sal wees soos om vir jouself te jok.

Anna en Lina wag vir Saartjie aan die einde van die betonplaveisel. Hulle het haar al só baie só gesien spring.

“Ek dink dis belaglik,” sê Lina.

“Ek dink ook so,” sê Anna.

Saartjie spring rats van die een blok na die ander. Sy sorg dat haar voete elke keer in die middel van ’n blok te lande kom, ver van die gleuwe af. Sy wil tog nie weer van voor af begin nie, veral nie noudat Anna en Lina haar dophou nie. Sy weet hulle sal hulle siek lag. Saartjie kom aan die einde van die plaveisel sonder om aan een gleuf te raak.

“So ja,” sê sy effens selfbewus en vee ’n krul van haar voorkop weg. “Dis klaar.”

Anna en Lina kyk kopskuddend na mekaar.

Die drie maats stap na die posbus in die hoofstraat. Saartjie en Lina gesels nou weer oor die netbalseisoen wat binnekort begin, maar hulle loer elke nou en dan na die pakkie wat Anna so styf in haar hand vashou.

Anna voel afgehaal. Dit lyk vir haar of Saartjie en Lina regtig alle belangstelling in die pakkie verloor het. Om hulle weer nuuskierig te maak sê sy: “Dis ’n baie oulike affêrinkie wat ek hier het.”

Saartjie en Lina maak of hulle haar glad nie hoor nie. Hulle kyk na mekaar en knipoog en gesels verder oor die netbal.

“Rêrig baie oulik,” sê Anna nou, maar haar maats ignoreer haar.

Hulle is nou by die rooi posbus en Saartjie pos die grap wat vir haar ekstra geld gaan inbring.

Lynnekom se park is net oorkant die straat.

“Kom ons gaan sit daar en gesels,” sê Saartjie.

“Dit sal lekker wees in die sonnetjie,” meen Lina.

Anna sê niks nie, maar sy stap saam. Sy mompel weer iets van die oulike affêrinkie in haar pakkie. Saartjie en Lina brand van nuuskierigheid, maar hulle is vasberade om dit nie meer te wys nie.

In die park ontdek hulle iets wat hulle al drie dadelik van die pakkie laat vergeet. Al die banke in die park is geverf en daar is op elkeen ’n kartonkaart wat sê: Nat verf.

Maar dit is nie die banke met die kennisgewings op wat die meisies van Anna se pakkie laat vergeet nie. Dis die een bank waarop daar nie ’n kartonkaart is nie!

Die Drie Muskiete kyk na mekaar. Dit is asof hulle mekaar se gedagtes kan lees. Hier is mos ’n moontlikheid van groot pret. Al drie begin giggel.

“En weet julle wat’s die beste van alles?” vra Saartjie laggend. “Ons is onskuldig. Ons het nie die kennisgewing weggevat nie, so ons is heeltemal onskuldig.”

Anna en Lina is net so opgewonde hieroor.

Die bank sonder die kartonkaartjie staan naby ’n heining.

“Kom ons gaan kruip daaragter weg,” stel Saartjie voor.

Die meisies glip vinnig om die heining en net agter die bank kry hulle ’n opening in die blare waardeur hulle kan loer. Die drie gaan sit op die grasperk. So ja, nou moet iemand net op die bank kom sit, dan gaan hulle lekker lag wanneer hulle sien hoe die persoon lyk as hy of sy weer opstaan. Die houtstroke wat die sitplek en leuning uitmaak, is verskillende kleure geverf: rooi, blou, geel en groen. Die persoon wat op die bank kom sit en dan weer opstaan, gaan van agter soos ’n bont sebra lyk.

Die Drie Muskiete fluister opgewonde onder mekaar. Hulle wonder wie die eerste slagoffer gaan wees.

“Sjuut!” sê Saartjie skielik en sit haar wysvinger op haar lippe. Die ander twee bly stil.

Die meisies luister aandagtig. Hulle hoor voetstappe. Saartjie steek haar kop effens deur die opening in die heining om te loer. Dit is die wewenaar polisiesersant en die weduwee De Klerk aan wie die losieshuis behoort. Die sersant is groot en geset en die weduwee is selfs nóg groter en gesetter.

Saartjie se hele gesig straal toe sy haar kop terugtrek. Sy fluister vir Anna en Lina wie dit is. “Die mense sê hulle is so verlief soos twee hoenders. Ek hoop...”

Saartjie wou net sê sy hoop hulle is so verlief dat hulle nie die nat verf sien nie en op die bank gaan sit toe die swaar voetstappe skielik by die bank tot stilstand kom.

Drie gesigte loer deur die opening in die heining.

“Sal ons ’n bietjie sit, Mevrou?” vra die sersant se growwe stem.

Die weduwee giggel effens en antwoord: “Ja, Sersant, dit sal lekker wees om ’n bietjie te rus.”

Die twee logge lywe gaan sit op die bank, op die nat verf. Dan leun altwee terug en twee breë rûe rus teen die geverfde balke.

Saartjie, Anna en Lina sukkel om hul lag te bedwing. Anna hou haar hand styf oor haar mond. Lina prop ’n sakdoek in haar mond en Saartjie byt op haar onderlip.

Die sersant het sy blou polisie-uniform aan en die weduwee De Klerk dra ’n donker rok. Saartjie dink die helder kleure behoort mooi duidelik op die uniform en die rok te wys.

Die weduwee vertel nou vir die sersant dat sy haar lewe lank al versot op ’n uniform is. Sy het altyd vir haar oorlede man gesê ’n uniform met blink knope slaan haar asem skoon weg.

“My arme oorle’ man,” gaan sy giggelend aan, “was altyd vreeslik jaloers op enige man in ’n uniform.”

Die sersant vertel haar nou hoe bly hy is dat sy van ’n man in ’n uniform hou. Hy sê, en hy gee ’n skalkse laggie en druk haar plomp hand vinnig, dit gee hom hoop vir die toekoms. Hy sal mos altyd ’n uniform dra en hoewel hy dit nie eintlik self wil sê nie, wil hy dit darem net noem dat lede van die skoner geslag dikwels vir hom sê hy lyk baie indrukwekkend in sy blou uniform.

“Ek stem heelhartig saam,” sê die weduwee en sy gee sy hand ook ’n drukkie, “maar ek hoop net daar is nie te veel dames wat dit vir jou sê nie.”

“Hoekom hoop jy so?” Die waardige sersant draai sy snor se punte sodat hulle regop staan.

“Haai nee, ek gaan nie vir jou sê nie,” giggel die weduwee.

“Ag toe, sê my asseblief.”

“Haai nee.”

“Ag toe.”

Die sersant en die weduwee geniet hierdie speletjie terdeë. Saartjie, Anna en Lina ook.

“As ek jou sê, sal jy vir niemand anders sê nie?” Die weduwee fladder haar ooglede vir die sersant.

“Ek belowe ek sal vir niemand sê nie.” Die sersant draai sy snor weer so ’n paar keer.

Die weduwee gee ’n verleë laggie en sê dan sag: “Ag nee, ek is te skaam...”

“Moenie wees nie. Sê vir my. Asseblief!”

“Maar dan moet jy regtig waar vir niemand sê nie. En jy moet wegkyk wanneer ek dit vir jou sê.”

“Goed... Kyk, ek kyk nou anderpad.”

Die weduwee giggel weer en dan sê sy huiwerend: “Dis omdat ek so... so baie van jou hou! Dis hoekom ek nie wil hê die ander dames moet na jou kyk en vir jou allerhande mooi dinge sê nie.” Sy giggel al hoe meer. “Nou’s ek baie skaam. Ek bloos bloedrooi.”

“Moenie bloos nie. Wat jy nou net vir my gesê het, is musiek in my ore,” paai die sersant. “Ek kan jou nie sê hoe bly is ek om dit te hoor nie. Ek kyk al hoe lank na jou, maar ek het gedink jy sien my glad nie raak nie...”

“Haai, hoe kan jy dit sê? My oorle’ man het altyd gesê ’n uniform laat my hart bokspring. Maar hy was nie heeltemal reg nie. Dis nie alle mans wat dit aan my doen nie...”

“Dis net ek, nè?”

Die weduwee giggel nou histeries.

“Toe, sê vir my dit is net ek.”

“Haai... ons sit nou al te lank hier...”

“Sê dis net ek... Toe, sê dit.”

Anna se hand is nou nog stywer oor haar mond gedruk, Lina se sakdoek is nog dieper in haar mond geprop en Saartjie byt haar onderlip nog harder vas.

Uiteindelik sê die weduwee giggelend wat die sersant so graag wil hoor – dat dit net hý in sý uniform is wat haar hart so laat bokspring. Dan staan sy skielik haastig op en sê sy het ’n losieshuis om na te kyk.

Toe die twee wegstap, loer Saartjie-hulle deur die opening in die heining. Die groen, geel, rooi en blou strepe lê oor die gesette lywe se agterkante, van agter die knieë tot bo by die skouers.

Wanneer die twee ’n goeie entjie weg is, begin die drie meisies skater van die lag.

“Kom ons kyk of hulle van die verf uitvind voor sy by die losieshuis is en hy by die polisiekantoor!”

Die Drie Muskiete spring op en nael agter die verliefdes aan. Die twee stap nou in Lynnekom se hoofstraat af. Baie mense sien die helder verfstrepe op hul rûe en bars uit van die lag. ’n Polisieman merk dit ook op en gaan fluister gou in die sersant se oor. Die sersant fluister weer in die weduwee se oor.

En toe is hul stappery deur die hoofstraat selfs nog snaakser. Die paartjie loop nou baie vinnig. Elke keer as hulle iemand ontmoet, knik hulle vinnig om te groet en sodra hulle verby die persoon is, swaai hulle om en stap agteruit sodat die een nie hul agterkante kan sien nie.

Wanneer hulle ’n goeie entjie verby is, swaai hulle om en stap weer vinnig verder tot hulle weer by iemand kom. Dan word die proses weer herhaal: verbystap, vinnig omswaai en dan agteruit stap tot hulle ’n goeie entjie weg is.

By die losieshuis groet die weduwee en gaan by haar voordeur in. Die sersant sit op ’n drafstap af na sy huis langs die polisiekantoor.

Die trane loop uit Saartjie, Anna en Lina se oë soos wat hulle lag.

Anna kom eerste tot bedaring en sê: “Ek hoop net hulle het ons nie gesien nie.”

“Natuurlik het hulle ons nie gesien nie,” sê Saartjie. “En al het hulle ook maak dit nie saak nie. Ons het mos niks gedoen nie. Dis nie ons wat die bank geverf het nie.”

“En ons het ook nie die ‘nat verf’-kaartjie afgehaal nie,” sê Lina.

Die drie voel heeltemal tevrede. Hulle het niks verkeerd gedoen nie. Hulle kon die sersant en die weduwee miskien gewaarsku het om nie op die bank te sit nie, maar die twee is so verlief dat hulle die meisies tog nie sou geglo het nie.

Toe hulle huis toe stap, begin Anna weer gesels oor die pakkie wat sy nog heeltyd styf in haar een hand vashou.

“Dis nou te laat om pret daarmee hê,” sê sy. “Ek sal julle môre voor skool wys. Dan sal julle sien wat ’n oulike affêrinkie dit is.”

Saartjie en Lina moet maar tevrede wees hiermee.

Die aand voor sy aan die slaap raak, dink Saartjie weer aan Anna se pakkie. Sy wonder wat dit kan wees.

Lomerig lê Saartjie in haar bed. Haar oë is toe. Die maanlig deur die venster val sag op haar. Daar speel ’n glimlag om haar mondhoeke. Hulle het groot pret met die sersant en die weduwee gehad, en dit alles omdat sy die grap vir die tydskrif gaan pos het. Sy wonder of hulle die grap gaan publiseer en haar honderd rand daarvoor gaan gee. As hulle dit nie doen nie sal dit darem bitter onregverdig wees. Die grap is nie watwonders nie, maar dis beter as daardie ander een wat sy in die tydskrif gelees het.

Saartjie wens die nag wil nou gou verbygaan. Sy sien uit na môre se skool. Hulle gaan haar span se netbalkaptein kies. Sy wonder of sy ’n kans het...

Boonop gaan sy môre uitvind watse affêrinkie Anna het wat kastig so oulik is. As sy nou net vinnig aan die slaap kan raak en môre wakker word...

Saartjie se asemhaling word reëlmatig en al dieper. Daar is nog steeds ’n soet glimlag om haar mondhoeke. Sy wonder nou nie meer of sy as netbalkaptein gekies gaan word nie. Nee, sy droom sy is al klaar die kaptein. Almal het net vir haar gestem en hulle drom nou om haar saam om haar geluk te wens. Dit voel goed om as kaptein verkies te word!

Saartjie se held (#8)

Подняться наверх