Читать книгу Oepse Daisy - C. Johan Bakkes - Страница 5

Dink en Begeer

Оглавление

Daai tyd toe ’n Suid-Afrikaanse paspoort nog van nul en gener waarde was, toe’t ek myself belowe: Sou ’n dokter vir my sê die einde is in sig, dan spring ek met ’n valskerm, sonder ’n paspoort, daar af – ek hoef nooit weer terug te kom nie …

Dis tog interessant hoe sekere plekke en name eenvoudig die mistieke inhou. Dit kan sommer net ’n naam wees wat die verbeelding aangryp. Hoe klink Ouagadougou, Leh en Popokatepetl, of, meer bekend, Lasa, Timboektoe en Kamchatka? Die woeste het my van kleintyd aangetrek. Gelees van “the empty quarters” in die Arabiese woestyn, die “death zone” bo 8 000 meter of “the land God made in anger”, sommer hier op ons voorstoep.

Dit is die rusteloosheid en die bleddie gelees oor vreemde plekke wat my uiteindelik op die pad gesit het. Die pad na wat ook al. Reis en lees is ’n terminale siekte en ’n bose kringloop. Jy’s pas by die huis, dan lees jy ’n nuwe bestemming raak en jy pak jou tas.

Dit laat my dink aan “Daar’s mierpootjies in ons bloed”, ’n storie uit die Zoeloe-mitologie wat ek eendag in Chris Barnard se Chriskras-bundeltjie raakgelees het. Dis die verhaal van Dink en Begeer.

Kortliks: Die mens was eers ’n miershoop wat uit twee dele bestaan het. Die boonste gedeelte, wat bo die grasse en bosse uitgetroon het, was Dink, en die onderste deel, so grondlangs, was Begeer.

“Wat sien jy, Dink?” sou Begeer vra.

“Ek sien bosse. Daar doer voor ’n kameeldoringboom en so ’n ent weg ’n koppie,” sou Dink dan antwoord.

“Wat’s aan die annerkant van die koppie?”

“Ek weet nie,” was die antwoord.

“Kan ons nie gaan kyk nie?” sou Begeer aanhou.

“Vir wat?” het Dink dit afgemaak.

“Net om te.”

“Dis onnodig. Ons weet wat ons het. Alles hier is veilig en reg. Daar annerkant weet ons nie.”

“Maar dis hoekom!” het Begeer gepleit.

En Dink het hom geïgnoreer.

Begeer het met die miere hier binne begin konkel: “Bou vir ons bene, dan gaan kyk ons hoe lyk dit aan die annerkant van die koppie.” Die miere het van die plan gehou, en hoe Dink ook al vasskop, toe hy sy oë uitvee, begin die miershoop aanstryk koppie toe.

Begeer was in sy element. Bo-op die koppie gekom, het die miershoop so oor die wye wêreld uitgekyk. En wragtag, doer ver – nog ’n koppie.

“Kom ons gaan kyk,” het Begeer gesê.

“Nee, nee!” het Dink uitgeroep.

Maar so is die miershoop die wye horisonne in. Later het selfs die miere gatvol geraak. Om Begeer tot stilstand te dwing, het hulle aan die binnekant van die miershoop begin knibbel. So erg dat die bloed begin loop het, en behalwe bene het die miershoop ook begin arms en ander ledemate kry. Maar voortdurend het die miere knibbelend in die gangetjies rondgeskarrel. Die miershoop het mens geword, met twee duidelike dele: Dink – gesonde verstand – en Begeer – die hart.

En as die hart oorhand kry, dan knibbel die miere.

Daarom het ek mierpootjies in my bloed … Ek móét sien wat aan die anderkant van die koppie lê en in my stilligheid hoop ek op nog koppies, sodat ek kan loop tot ek dood neerslaan …

Die geykte uitdrukking “die ou wêreld van ons is darem maar klein”, dis nou as jy ’n bekende op ’n vreemde plek raakloop, is wel geldig. Maar eintlik is die wêreld te groot vir een leeftyd. Daar is nie ’n manier dat jy by al die plekke wat jy raakgelees het, kan uitkom nie. Dis hoe dit moet wees, soos Robert B. Parker op ’n kol aangehaal het: “If everyone lived forever, life would devalue.” Dit beteken dat ’n mens keuses moet maak. Bokant 8 000 meter kan ek nie. Omdat ek nie ’n Moslem is nie, is Mekka vir my so uit soos boknaai, en ek is te bang om met ’n valskerm te spring …

Dit gebeur dat wanneer ander mense agterkom jy reis graag, hulle ná ’n derde glasie of wat jou vra: “Wat was jou mees besonderse bestemming? Wat beskou jy as die mooiste land wat jy al besoek het?”

Dis seker van die onregverdigste vrae aan ’n reisiger. Want die rêrige-êrige reisiger reis omdat reis reis is. Elke plek het sy eie aanslag en sy mense ’n eie iets waarby jy kan aanklank vind.

Maar as dit dan moet: In Afrika is daar twee lande wat my altyd sal teruglok. Die een is sommerso ’n klipgooi ver en die ander ietwat wyer. Snaaks genoeg is al twee ou Duitse kolonies. Al twee het ’n sekere wydheid en kontraste wat moeilik beskryfbaar is. Deutsch West-Afrika en Deutsch Ost-Afrika. Die een het ek deurkruis, selfs op sy grense gaan veg, maar daardie tyd toe my paspoort Afrika se deure vir my gesluit gehou het, sou ek per valskerm in Tanzanië in gespring het. Hoor die name: Serengeti, Kilimandjaro, Zanzibar, Dar es Salaam, Arusha en Moshi. Jy kan mos nie net daaroor lees nie! Jy móét daar uitkom. Die miere het begin knibbel …

Tye verander, maar die tyd stap ook aan. Met veranderende tye kon ek ewe skielik Afrika met my Suid-Afrikaanse paspoort beleef. Met die tyd wat aangestap het, was ek egter nie meer die jeugdige dromer met ’n valskerm nie.

Ek onthou dit soos gister, toe ek in 1996 oor die Serengeti-vlaktes uitgestap het. My arms in die lug en trane in my oë. Die blouwildebeeste het snorkend om my gemaal en ek het geweet, ja, hiér móés ek gewees het. Ek het ook geweet hierheen sal ek moet terugkom, keer op keer. Daardie stuk wêreld was vir my soos die oertyd, die tyd voordat die Neanderdalmens ons ou aarde begin befonkfaai het.

Veertien lange jare het verloop. Die tyd het my begin inhaal. My aptekersbrilletjies het na 3,5 gevorder. ’n Gehoorstuk was op die aankooplys. Cholestrolvlakke het my in ’n lopende hartaanval verander. Alkoholgebruik het my lewer groot genoeg gekry dat hy al kan hoërskool toe gaan … Ek het gewonder of ek ooit weer daai wydheidsgevoel van die Serengeti sou kon beleef? Was daai koppie nou te ver?

Tot ’n paar weke gelede. Toe kom die oproep: “Ons vat ’n klompie reisagente Tanzanië toe. Wil jy saam?”

Wil ek saam?! lag ek in my mou. Nou moet ek egter bieg. Ek’s nog nooit saam met ’n “toeroperateur” Afrika in nie. Tot nou toe het ek alles self gedoen. Geglo ek weet beter, want wie’s nou lus om saam met ’n spul kamerakliekende, kakiegeklede vreemdelinge op ’n “game drive” te gaan? Maar toe hulle sê: “Serengeti, Selous, Zanzibar, Ngorogoro en Manyara,” toe sluk ek my trots en diep my “pith helmet” en safaripakkie op.

As die “ou man” op hierdie reis is my mensevrees sommerso op die vliegtuig Dar es Salaam toe die nek ingeslaan. Daai groep jong reisagente was ’n vrolike klomp. Ek het verstaan hoekom hulle “agente vir die reis” was, want vir hulle was die reis en die hier-en-nou belangrik. So ook hulle kliënte. Soos Lynde Opperman van Worcester opgemerk het: “We’re dream-makers, but by giving wrong advice we could well be dream-breakers.” Ek het behaaglik teruggesit en Afrika, my kontinent, het onder my verbygeflits. Ook het ek skielik besef dat die ouderdom gemaak het dat ek my selfoon by die huis vergeet het en dat ek, soos ou dae, kontakloos die wye woeste in is.

Hierdie storietjie kan ontwikkel in ’n reisartikel van formaat. Dis om te skryf van “ons was hier” (ruitverwysing) “en het dít gesien” (foto’tjie), “by dié hotel gebly” (adres en e-pos) “en het dié lugdiens beklim” (logo). Wat móét vertel word, is egter dat ek skielik op ’n vreemde reis was – totaal buite my verwysingsraamwerk. Gewoonlik reis ek met my eie pote of bakkie. Ek land aan by ’n vreemde plek en weet nie wat nóú nie. Dan soek ek goedkoop verblyf en ’n stamkafee, drink ’n bier en probeer vir môre beplan. Hier was alles uit my hande uit.

Die lugskip het op Dar es Salaam se lughawe neergestryk. Linda Willemse, die toeroperateur, het oorgeneem. Ek is foutloos deur doeane en aksyns, ongeag die flessie rum wat vir die wis en die onwis ingepak is. ’n Bussie het my na die luukse Sea Crest-hotel vervoer. Ek’s in ’n kamer (die ryk mense sê “suite”) in met twee televisies (ek het nie geweet hoe om die goed aan te skakel nie), ’n handdoekagtige wit japon en ’n telefoon in die gemaksarea vir noodgevalle, ’n bed wat wyd genoeg vir sewe aanvallige gesellinne is en ’n skryfblok vir kontak huis toe.

Vir aandete het die tafels gekreun onder vragte lekkernye, terwyl die Indiese Oseaan klotsend teen die rotskus hier onder aangerol het. Maar hotelle het nie stories nie en ek is saam met ’n span jonges Dar se naglewe in. Die Q-Bar het die donker en swaar van bestaan in ’n Afrika-hawestad oopgevlek. Daar was baie stories.

Ons, die agente-van-reis en ek, is Zanzibar toe. Geslenter deur Stone Town se nou straatjies. Sweet, speserye en die angs van slawehandel eerstehands ervaar. Ons is luuks af in die grootste natuurlike dieretuin, die Ngorogoro-krater. Hoër gespring as Masai-krygers, tradisioneel getooi. Het oor Afrika-snuisterye gekibbel en is heerlik op die hande gedra. Vir my, egter, het die Serengeti gelê en wink. Vir oulaas, het ek gedink …

Vir die gewone toeris lê die Serengeti se aantrekking in die migrasie van die blouwildebeeste en sebras. Daai oomblikke wat hy in flieks sien of in tydskrifartikels raaklees. Die bisarre oomblik as die hardlopende blouwildebeeste deur die Mararivier maal, verdrink en weggesleur of deur krokodille verskeur word. Hy verstaan nie. Die migrasie is nie nét dit nie, dis ’n heeljaarsiklus, met elke tyd sy eie ongelooflikheid. Vir my bly die bymekaarkom van derduisende blouwildebees en sebras, net voor hulle aan die hol gaan, miskien een van die mees asemrowende gesigte. Om oor daai vlaktes uit te kyk en so ver as wat die horisonne strek net wild te sien. Bankvas. Ook as die hardloop-bevlieging hulle onverklaarbaar beetkry. Hulle staan nog so en skielik kry ’n voorbok die wille weghol, met ’n trop van duisende wildebeeste in lyn agterna.

Uiteindelik stap ek weer soos veertien jaar gelede op die Serengeti-vlaktes uit, gooi my arms in die lug en gaan aan die grens …

Ons word soos adel by die Serengeti Serena Safari Lodge ontvang. My luukse chalet kyk oopbek uit oor die Serengeti en sy magdom wild. Voor in die onderbos wys ’n Kirk-dik-dik sku sy gevreetjie. Ek is eufories en maak my pyp brand. Kan een mens so bevoorreg wees? Ek sê stil dankie.

Die aand is soel. Ek is gekrawat en gebaadjie. Ons sit aan by ’n breë tafel. My bord is oorboordens toe vol – so ook my hart. Vir die lekker van sommer-net bestel ek ten duurste ’n ysig koue sauvignon blanc uit my land doer suid.

Glasie omhoog: “Vrinne, gun hierdie ou man ’n heildronk!” En toe onthou ek niks verder nie …

My tafelgenote en omstanders het later getuig dat ek reg vooroor geneuk het, met my gesig binne-in my bord kos. Die een of ander Spaanse vroulike lyfarts was op die toneel en het my aan my maanhare uit die sous uitgelig. Linda het skynbaar geskree: “Nat lappe, nat lappe!” en die Tanzaniese Askari’s het haar Afrikaans verstaan.

Twee minute later was ek by en het simpel genoeg gevra of iemand ’n foto geneem het. Want sien, ’n foto vat die oomblik van die nóú vas en as ek dan nie met ’n valskerm in die Serengeti in kan spring nie, dan val ek sommerso in my bord kos in die Serengeti in.

Maar ek het ook geweet hierdie laaste besoek was net betyds. ’n Ou moenie uitstel nie. Jy moet doen wat gedoen moet word, voor dit te laat is. Moenie dink of begeer nie – doen.

Oepse Daisy

Подняться наверх