Читать книгу Liefde agter tralies - Carla van der Spuy - Страница 3

INLEIDING

Оглавление

Verliefde vroue het al in groot getalle teen die tralies van selfs terdoodveroordeelde reeksmoordenaars in die doodselle gehamer om hulle te smeek om met hulle te trou. Party haak selfs die knoop in die spreekwoordelike skaduwee van die galg met hierdie toekomslose “lady-killers” deur. Vir hulle is hierdie mense nie die soort monsters wat in die media uitgebeeld word nie, maar onweerstaanbare aspirant-minnaars, ver verwyderd van mnr. Gewoon. Die liefde van hul lewe.

In Amerika is daar selfs verliefde vroue wat as “serial killer groupies” bekend staan. Hulle daag in groot getalle by die hofsaak op en krap byna mekaar se oë uit. Dan is dit oorlog: ’n Liefdesoorlog! Hulle pak die hofsale vol waar die grusaamste getuienis oor die beskuldigde in soms makabere besonderhede bespreek word. Dan begin hulle daaroor te fantaseer om hierdie man te ontmoet, ’n verhouding met hom aan te knoop en selfs met hom te trou. Byna soos wat die geval met rocksterre en celebs is, maar hierdie is ’n omgekeerde soort heldeverering.

En dit terwyl die meeste vroue op soek is na iemand met ’n skoon rekord as hulle die dag voor die kansel staan. Iemand van onbesproke karakter wat hopelik die regte genetiese materiaal na jou nageslagte kan oordra. En darem ook ’n broodwinner sal wees. Beslis nie ’n kerkmuis of ’n tronkvoël nie.

Die redes hoekom vroue met mans agter tralies afhaak (daar is natuurlik ook mans wat ewige trou aan vrouegevangenes sweer) het my nog altyd gefassineer. Daarom het ek vir Mens of monster – die psige van ’n misdadiger (LAPA-uitgewers, 2012) ’n hele hoofstuk oor tronkbruide geskryf en probeer vasstel hoekom vroue op ’n moordenaar verlief sou raak.Wat sou die aantrekkingskrag wees? Veral as hulle die man in oranje eers ná sy vonnis, in die tronk van alle plekke, ontmoet het. Daar is egter ook gevalle van gevangenes wat mekaar agter tralies ontmoet, soos in die hoofstuk “Bruid in boeie” in hierdie boek berig word. Hierdie paartjies ontmoet mekaar gewoonlik tydens koorsang of ’n gradeplegtigheid wanneer daar interaksie tussen mans- en vrouegevangenes is.

Ander weer is reeds getroud wanneer hul wederhelf tot jarelange gevangenisstraf gevonnis word. Min huwelike werk onder hierdie moeilike omstandighede en die party wat buite is kies gewoonlik vinnig die hasepad.

REDES

Wat sou die redes vir hierdie onkonvensionele verhoudings en huwelike agter tralies wees? Hoekom sou iemand ’n geliefde met ’n “kleurryke” eerder as vlekkelose verlede verkies?

Die redes waarom vroue van mans in uniform hou is legendaries, maar dan praat ons gewoonlik van die manne in blou en nie van manne in oranje oorpakke nie, weens ooglopende redes. Tog is daar vroue wat tot die sogenaamde “bad boys” aangetrokke voel.

Sommige toegewyde vroue wat moordenaars bewonder en liefhet verhuis selfs van ander lande af om naby hul tronkliefde te wees, betaal soms vir hul regskoste en verskaf die weelde van ’n parooladres. Prokureurs en selfs joernaliste het al voor hulle geswig.

Die vraag kan gevra word waaroor dit dan werklik gaan – gaan dit daaroor omdat jy ’n verhouding met jou geliefde in die tronk buite jou gewone ervaringsveld beleef – amper soos iets uit ’n werklikheidsreeks? Dis mos veel opwindender as om jou man se sokkies of onderbroeke langs die wasgoedmandjie op te tel, voortdurend te hoor “wat eet ons vanaand?” of aan slapeloosheid te ly omdat hy snork. Dinge wat jou (tong in die kies darem) gespaar bly met ’n man wat ’n vonnis uitdien.

Maar kenners meen so ’n verhouding is ook aansienlik meer kunsmatig. Daar is al gesê dat hierdie vroue nie op ’n regte man verlief is nie, maar op die illusie van ’n man.

WIE IS HIERDIE VROUE?

Sheila Isenberg, skrywer van die opspraakwekkende boek Women Who Love Men Who Kill, dink nie dat vroue wat met geweldsmisdadigers trou, van lotjie getik is nie.

Volgens haar is hierdie vroue doodgewone mense uit alle vlakke van die samelewing – en hul getalle is aan die toeneem. Na intensiewe navorsing en onderhoude met die vroue sowel as kenners, vertel sy hoekom hulle aangetrokke voel tot mans met wie hulle nooit ’n normale verhouding sal kan hê nie.

Hoewel sommige van die vroue al slagoffers van mishandeling en geweld was, weet die meeste van hulle presies wat hulle doen, maar hul vermoë vir ontkenning en hul behoefte aan ’n veilige, geïdealiseerde en romantiese fantasie van die liefde oorheers hul oordeel.

Hulle is bereid om alles prys te gee vir ’n liefde sonder hoop, belofte of huweliksregte aangesien dit beteken dat hulle en hul gevoelens waarde het. Om met ’n veroordeelde moordenaar te trou is ’n manier om ’n verhouding te hê sonder om te na aan die man te kom. Volgens Isenberg is dit ook ’n manier om beheer uit te oefen oor ’n man met mag.

Dis soms selfs ’n geval van hoe erger die misdaad is, soos dié van reeksmoordenaars en massamoordenaars soos David Berkowitz, Ted Bundy en John Wayne, hoe belangriker voel sy.

Hieroor waarsku dr. Patrick Kennedy, ’n raadgewende sielkundige, dat moordenaars baie aanloklik en manipulerend kan wees, asook oor die feit dat hulle oor ’n sekere seksuele teenwoordigheid beskik en op ’n tradisioneel manlike wyse sjarmant is. Maar, maan hy verder, hierdie sjarme kan blitsvinnig in woede of geweld omskakel.

HOE OM GEVANGENES TE ONTMOET

Dis klaarblyklik maklik om Amerikaanse gevangenes te ontmoet terwyl hulle in die tronk is. Hierdie land beskik boonop oor een van die grootste gevangenisbevolkings ter wêreld.

Die departement van korrektiewe dienste in Amerika moedig mense aan om met gevangenes te korrespondeer, maar hulle beklemtoon dit dat die gevangenes eerder na vriendskap as na liefde soek. Natuurlik is dit nie altyd noodwendig die geval nie.

Sou jy dus die man van jou drome agter tralies wil ontmoet, hoef jy maar net op die webtuiste www.meet-an-inmate.com te kliek wat daarop gerig is om positiewe kommunikasie met gevangenes aan te moedig. Gevangenes van beide geslagte tussen 18 tot in hul senior jare, kan gekontak word.

“Laat ’n gevangene glimlag!” val hulle met die deur in die huis om penmaats te lok. Nou ja, dit is genoeg om enige vrou met ’n bloeiende hart na pen en papier te laat gryp. Om nie te praat van jou nuuskierigheid bevredig nie.

’n Artikel op die webtuiste vertaal as “Eensame gevangenes in Amerika soek na penvriende” benadruk dit dat daar letterlik miljoene mans en vroue is wat ’n vonnis uitdien en net wag vir iemand om aan hulle te skryf met wie hulle lewenservarings kan uitruil.

Dit kan groot pret wees om met hulle te korrespondeer. Al die gevangenes op die webtuiste geniet dit om briewe te ontvang, veral die briewe wat hul selfvertroue opbou. Om briewe te ontvang is vir hulle die hoogtepunt van die dag.

Dink net hoe eensaam jy moet voel as jy agter slot en grendel is en jou familie en vriende het jou versaak, lui die artikel. Dit kos boonop nie ’n sent om vir hulle te skryf nie. Die gevangenes – of hul familie – betaal ’n klein fooi om gelys te word.

Die webtuiste pryk met besonder interessante mans en vroue in oranje. Op die illustrasiefoto op die webtuiste klou ’n beeldskone brunet met ’n sexy pruilmond en hare wat soos dié van ’n supermodel lyk, aan tralies vas. Die opskrif hierby lui dat eensame gevangenes in Amerika op soek na penvriende is. Die soeke na penvriende word beklemtoon en nie die liefde nie. Ons weet egter almal dat een ding tot ’n ander lei.

Die webtuiste vertoon ook hope foto’s van gevangenes waaruit mens kan kies en keur. Party lyk nogal verdag, ander lyk boos en gemeen, maar daar is ook diegene met oop, skoon gesigte en ander wat intellektueel en diepdenkend voorkom. Amper soos akademici of miskien filosowe.

Nie dat die spreekwoordelike boek altyd aan sy omslag gemeet behoort te word nie.Van die vroue se foto’s herinner aan dié van bekende sekskatjies. Baie lyk heelwat jonger as hul ouderdom. Vermoedelik is van die foto’s geneem voor hulle tronk toe is. Baie dra gewone klere.

Daar word deesdae nie meer op hierdie webtuiste vertel waarvoor hulle sit nie, maar om af te lei aan die vroegste en laatste moontlike vrylatingsdatum wat wel verskyn, is die misdade wat party van hulle gepleeg het baie ernstig. Geweldsmisdade. Mens sidder as jy dink wat jy moes aangevang het om ’n lewenslange vonnis sonder die vooruitsig van parool te kry.

Die vrouegevangenes vertel graag hoe aantreklik hulle is, maar hulle is ook op soek na finansiële stabiliteit. Baie besing hul eie goeie hoedanighede op byna poëtiese wyse.

Toe ek hierdie webtuiste ’n klompie jare gelede besoek het, het ek opgemerk dat hierdie gevangenes se oortredings destyds wel gemeld is, maar heel onder aan die webtuiste in klein lettertjies waarvoor jy ’n baie sterk bril of vergrootglas nodig het. Dit is amper as ’n soort nagedagte genoem, want die fokus is om jou sover te kry om vir die man of vrou te skryf. Destyds het die mans ook met staalkabelarms, soms teen romantiese sonsondergange, met prente van palmbome geposeer. Deesdae is die foto’s meer bedeesd, want die fokus is nou hoofsaaklik op vriendskap.

Van die vrae wat gebruik word om die gevangenes aan belangstellendes bekend te stel is hul ras, geboortedatum, lengte, datum van vrylating en datum van verwagte vrylating. Daar word ook aan die gevangenes gevra of hulle briewe van penvriende van beide geslagte wil ontvang (wat nie noodwendig oor seksuele voorkeure gaan nie), watter werk hulle gedoen het voor hulle gevonnis is (party beantwoord nie juis hierdie vraag nie, dus lei mens af hulle was werkloos of dalk beroepsmisdadigers in hul “vorige lewe”), watter belangstellings hulle in die tronk het en watter tydverdrywe hulle in die tronk beoefen. Daar word ook gevra of hulle e-posse kan stuur en ontvang. Party het toegang tot die internet, ander nie.

Mens kan selfs ’n video op YouTube besigtig wat jou meer vertel oor hoe om vriende met ’n gevangene te maak.

Dit word aanbeveel om foto’s in te sluit by die advertensies, want dan is die reaksie veel beter.

Die webtuiste rig ’n vriendelike versoek dat hierdie gevangenes met waardigheid en respek behandel word. Baie wil hul lewens verander en daarom moet daar ’n rede aan hulle gegee word om op ’n beter toekoms te hoop.

Gevangenes wat positiewe verhoudings buite die gevangenis se mure aanknoop se kanse om weer in die tronk te beland is ook veel geringer. Die webtuiste waarsku egter dat die gevangenes gevonniste misdadigers is en dat versigtigheid aan die dag gelê moet word. Die inligting op die webtuiste word deur die gevangenes verskaf en dis iets wat natuurlik in gedagte gehou moet word. Toon begrip, maar moet nie met ’n slenter gevang word nie. Die eienaars van die webtuiste kan nie verantwoordelik gehou word vir eise, uitgawes of skade nie, lui die waarskuwing.

OORSESE TRONKBRUIDE

Deur die jare het talle oorsese tronkbruide die knoop met wêreldberugte moordenaars deurgehaak en internasionaal opslae gemaak. So het ’n Duitse kelnerin, Dagmar Polzin, vir Bobby Lee Harris, die man van haar drome, se oë vir die eerste keer in ’n Benetton mode-advertensie by ’n bushalte in Duitsland raakgesien. En die laaste keer sou sy weereens, soos wat Harris se wens was, glo deur die venster van ’n kamer waarin die doodstraf voltrek is, in sy oë kyk terwyl hy sterf.

Haar “ontmoeting” met hom was nogal vreemd want sý gesig en dié van ’n aantal ander gevangenes in die doodselle van die staat North Carolina, is as deel van ’n uiters omstrede veldtog van ’n Italiaanse kleremaatskappy gebruik.

Dagmar se voete is dadelik onder haar uitgeslaan toe sy “in sy oë kon sien dat hy nie ’n moordenaar was nie”. Al het hy beken dat hy die visserman John Redd drie keer in die rug gesteek en oorboord gegooi het, maar al wat Dagmar raakgesien het was haar “saggeaarde, vergete seun van God”.

Kort nadat sy die advertensie gesien het, het sy sak en pak Amerika toe verhuis en by Harris se ouers gaan woon, is berig.

Dagmar het Bobby Lee een keer per week besoek. Daar was geen fisieke kontak tussen hulle nie en hulle moes deur dik glas “hande vashou”.

Polzin wou egter nie met Harris voor sy teregstelling trou nie, want dit sou tot ’n “mediasirkus” lei. Sy wou ook nie ’n weduwee wees nie.

Dit is as die antwoord op albei se gebede beskryf toe Harris se doodsvonnis in lewenslange tronkstraf omskep is.

Volgens party bronne sou hulle later in die geheim trou, en volgens ander het hulle toe nooit getrou nie.

Die aantreklike, maar berugte Amerikaanse moordenaar Scott Lee Peterson, wat in die staat van California ter dood veroordeel is omdat hy sy swanger vrou Laci Peterson vermoor het, het ook geen tekort aan vroulike aandag gekry nie. Hy sou deur middel van ’n dodelike inspuiting tereggestel word.

CNN het berig dat hy sommer twee huweliksaansoeke op sy eerste dag in die doodselle gekry het terwyl ongeveer drie dosyn vroue gebel het om hierdie wewenaar-vrygesel sterkte toe te wens. Volgens ’n woordvoerder van die San Quentin gevangenis is dit glad nie ongewoon dat vroue met terdoodveroordeelde mans wil trou nie.

Dan is daar die berugte Richard Ramirez, wat in 1989 weens 13 aanklagte van moord, 5 aanklagte van poging tot moord en 11 aanklagte van seksuele aanranding in Amerika ter dood veroordeel is en die gevreesde bynaam “The Night Stalker” gekry het. Ook hy het geen tekort aan vroulike aanbidders gehad het nie – na sy vonnis meer as ooit vantevore. Daar is selfs beweer dat een van die jurielede in sy verhoor vir hom ’n kolwyntjie met ’n liefdesverklaring daarby, gestuur het. Hy is met ’n vryskutredakteur en selferkende maagd, Doreen Lioy, getroud wat kort na sy arrestasie met hom begin korrespondeer het.

Sy het glo vir hom 75 briewe oor ’n tydperk van 11 jaar geskryf, waarna die twee op 3 Oktober 1996 in die San Quentin tronk se besoekerskamer getroud is in ’n seremonie wat deur die tronk se kapelaan, een joernalis en ’n aantal baie gevaarlike mans bygewoon is.

As mev. Ramirez het Doreen aanvaar dat sy vir die res van haar lewe ’n maagd sou wees en nooit ’n ma sou word nie.

Min inligting is oor haar bekend behalwe dat hulle toe later uitmekaar is, dat niemand weet wat van haar geword het nie en dat Ramirez later aan natuurlike oorsake oorlede is en niemand glo sy lyk opgeëis het nie.

Die valerige (aldus foto’s) Doreen het hom beskryf as “vriendelik, snaaks en sjarmant” en dat sy geheel en al in hom glo. Was die intimiteitsteorie of siening dalk hier ter sprake?

Ramirez was egter op sigself ’n riller.

Hy is soos volg aangehaal: “Big deal. Death always went with the territory. I’ll see you in Disneyland.” (Dit was sy komkommerkoel woorde aan verslaggewers nadat hy ter dood veroordeel is.)

Ook: “We’ve all got the power in our hands to kill, but most people are afraid to use it. The ones who aren’t afraid control life itself.”

En dan die bloeddorstigste een: “I’ve killed 20 people, man. I love all that blood.”

Tog was daar vroue wat graag hul skoene onder sy bed wou inskop.

Ted Bundy, een van Amerika se berugste reeksmoordenaars, wat erken het dat hy 30 grusame moorde gepleeg het (hoewel vermoed word dat die getal veel hoër is), kon gewis ook nie as ’n ideale skoonseun beskryf word nie. Tog het hy, ’n man wat as iemand met ’n Hollywood-voorkoms en hope charisma beskryf is, ’n groot aanhang onder vroue gehad wat daarvan oortuig was dat hy onskuldig was.

Jong vroue het die hofsaal tydens sy verhoor volgepak. Hy is met een van hulle, Carol Ann Boon, getroud, maar nie agter tralies nie. Net daar in die hof waar hy verhoor is. Hierdie huwelikseremonie kan op YouTube besigtig word.

Teen die tyd dat hy in 1989 deur middel van die elektriese stoel ter dood veroordeel is, het Carol egter van hom geskei.

Hy het gedurende die straffase van die verhoor ’n obskure wet in Florida tot sy voordeel gebruik, een wat daarvoor voorsiening maak dat ’n huweliksverklaring in ’n hof en in die teenwoordigheid van ’n regter ’n wettige huwelik uitmaak.

Bundy, ’n voormalige regstudent, het ewe selfversekerd sy eie verdediging behartig en het vir Boone wat na Florida verhuis het om naby hom te wees, gedurende haar getuienis vir die verdediging om haar hand gevra. Sy het die huweliksaansoek aanvaar en Bundy het verklaar dat hulle wettiglik getroud was. Carol was destyds ’n medewerker by die Washington staatsdepartement van nooddienste in Olympia. Sy is beskryf as iemand wat baie bekwaam in haar werk was maar met ’n “deurmekaar” persoonlike lewe.

Sy het selfs ’n kind by Bundy gehad, hoewel huweliksregte nie in die gevangenis waar hy aangehou is toegelaat is nie. Daar was sprake van korrektiewe beamptes wat omgekoop is sodat hulle romanties kon verkeer.

MOOI VROUE

Van die vroue wat vir hierdie moordenaars geval het, het die voorkoms van bleeksiele gehad, terwyl ander weer byna beeldskoon was.

Nadat die twee “skoongesig-broers” Lyle en Erik Menendez, hul skatryk ouers José en Kitty, gedurende Augustus 1989 doodgeskiet het, terwyl hulle in hul bed in hul weelderige herehuis in Beverly Hills geslaap het, het ’n sexy blondine en voormalige model, Anna Erikson, na die hoogs gepubliseerde hofsaak op televisie gekyk. Die verdediging het in hierdie hofsaak aangevoer dat lewenslange mishandeling die katalisator in die moord was. Dit het klaarblyklik Anna se hartsnare so geroer dat sy “gedrewe” gevoel het om vir Lyle te skryf. Die broers is elk tot lewenslange gevangenisstraf sonder die moontlikheid van parool gevonnis.

Dit het egter nie net by briewe gebly nie en die uiteinde was dat Anna Los Angeles toe verhuis het om naby haar geliefde te wees.

Hul troue, wat in 1996 deur middel van ’n regter se sprekerfoon plaasgevind het, is deur die broers se prokureur en tante bygewoon.

Anna het hom egter vyf jaar later gelos toe hy haar “verkul” het deur penvriende met ander vroue te maak.

’n Meisie het darem haar trots.

Lyle het klaarblyklik nie in sak en as gesit nie, want twee jaar later is hy weer getroud. Hierdie keer met ’n tydskrifredakteur, Rebecca Sneed, gedurende ’n seremonie in die Mule Creek Staatsgevangenis se besoekersgebied. Rebecca het intussen ’n burgerlike verdediging prokureur geword.

Ook Erik het ewige trou agter tralies gesweer toe hy gedurende 1999 in ’n wagkamer by die Folsom Staatsgevangenis met Tammi Saccoman getroud is wat nege jaar ouer as hy was.

Tammi het haar troue as ’n “wonderlike seremonie” beskryf totdat sy moes weggaan. Haar eerste nag as bruid was glo baie eensaam. Dis nou 20 jaar later en intussen het sy hul huwelik as baie “spesiaal” beskryf. Sy het aan People tydskrif vertel dat sy moes leer om haar fisiek van Erik af te sluit, terwyl sy emosioneel na aan hom was. Dis nie iets wat haar familie verstaan nie.

Erik, weer, het vertel hoe Tammi se liefde daartoe aanleiding gegee het dat hy nou ’n beter mens is. Hy wil net vir haar die beste man moontlik wees, en dis iets wat sy daaglikse keuses beïnvloed.

Rosalie Martinez was ’n regsgeleerde wat pens en pootjies vir ’n reeksmoordenaar geval het. Sy het selfs haar man, ’n vooraanstaande prokureur en haar vier jong dogters in 1996 gelos om met Oscar Ray Bolin, ’n gewese vragmotorbestuurder wat in die doodselle gesit het te trou. Die seremonie het oor die telefoon plaasgevind.

Hulle was 18 jaar lank getroud.

Rosalie het Bolin ontmoet toe sy hom in sy sel besoek het terwyl sy aan een van die drie verkragting- en moordsake wat teen hom aanhangig gemaak is, gewerk het. Sy het ondanks die feit dat hy sewe keer skuldig bevind is, steeds in sy onskuld geglo.

“Ek het sy isolasie, inperking en eensaamheid aangevoel,” het sy vertel. Sy het aanvaar dat hy skuld beken het op klagtes dat hy die vroue verkrag het nadat hy ’n vuurwapen op hulle gerig het, maar sy was daarvan oortuig dat hy nie ’n moordenaar was nie.

Sy het hom so beskryf: “Hy kan nie die vullis vir my uitneem of my motor se olie nagaan nie, maar hy plaas my op ’n emosionele voetstuk. Hy luister. Hy is honderd persent daar vir my. Ek is die belangrikste in sy lewe.”

Hy het elke dag vir haar briewe geskryf en sy het gesê dat sy sal aanhou om vir hom te veg.

Was sy dalk ’n “fool for love”?

Hy is byna 30 jaar na die moorde, op 7 Januarie 2016, per dodelike inspuiting tereggestel.

MANS VERLIEF OP VROUE WAT MOOR

Dis nie net vroue wat ’n wilde perd opsaal deur met ’n veroordeelde moordenaar te trou nie.

Daar is ook vroue agter tralies wat mans aantrek, soos die geval met Susan Atkins, wat weens haar betrokkenheid by agt van die wreedaardige Manson-moorde, 37 jaar lank agter tralies was.

Susan, wie in 2009 op 61 aan breinkanker gesterf het, het twee keer getrou nadat haar doodsvonnis in lewenslange tronkstraf omskep is.

Sy is die eerste keer in 1981 met die grootmond beweerde miljardêr Donald Lee Laisure van Texas getroud toe sy sy 35ste(!) vrou geword het. Dit het op die rotse geloop. Hy het beweer dat Susan hom tydens ’n besoektyd met ’n mes gesteek het omdat sy glo jaloers was omdat hy te veel aandag aan ’n medegevangene geskenk het. Sy het dit ontken.

Atkins is ses jaar later weer getroud, dié keer met James W. Whitehouse, ’n Harvard regsgegradueerde wat haar van 2000 tot 2005 tydens paroolverhore verteenwoordig het. Hy het selfs ’n webtuiste bestuur wat aan haar toegewy was. Sy het 11 keer vir parool aansoek gedoen. Selfs terwyl sy sterwend was, het haar man sonder welslae gepleit dat sy weens menslikheidsredes vrygelaat word. Sy was 16 jaar ouer as hy en hulle was 21 jaar lank getroud toe sy aan breinkanker oorlede is.

HUWELIKSKLOKKE IN DIE SKADUWEE VAN DIE GALG

Hierdie “dwase vir die liefde” trou willens en wetens met mans wie se enigste kans om die tronk te verlaat in ’n doodskis is.

So het Sandie Blanton, ’n blonde getatoeëerde ouma, destyds sommer twee keer troukoors gekry, wel wetende dat die mans van haar hart doodstraf opgelê is. Dit was dan ook na sy dood dat sy haar veel jonger verloofde, Reginald Blanton (28) die eerste keer aangeraak het nie.

Sandie het vir Reginald via die webtuiste writeaprisoner.com ontmoet. Toe sy hom na sy teregstelling in 2009, wat deur middel van ’n dodelike inspuiting plaasgevind het, op sy voorkop gesoen het, was hy nog warm, is dramaties berig. Sy het glo selfs sweet van sy kop afgevee.

Reginald Blanton is skuldig bevind weens moord op sy vriend, die 22-jarige Carlos Garza, op 9 April 2000.

Daar word beskryf hoe Sandie baie geleidelik vir Reginald, “’n pragtige, spirituele mens” geval het – eers deur middel van briewe en toe later gedurende vier besoeke aan Texas.

Vir hom het dit glo gevoel soos “’n ring aan die vinger” en dit terwyl hulle nooit eers hande vasgehou het nie!

Volgens ’n koerant het Sandie die teregstelling beskryf soos iets wat in ’n fliek kon gebeur het, kompleet met die ysingwekkende laaste oomblikke voor sy dood, sy vinnige glimlag en sy woorde: “Dit is tyd.”

Sandie was egter vasbeslote om dit nooit weer te doen nie. Die hele voorval was vir haar een te veel, maar daarmee wil sy mense ook nie ontmoedig om vir gevangenes te skryf nie.

Daar is destyds beraam dat daar ongeveer 100 vroue in Brittanje was wat by doodsafwagtende mans betrokke geraak het.

Sandie se eie verklaring vir hoekom sy aangetrokke voel tot terdoodveroordeelde mans is dat sy van kindsbeen af weet hoe dit voel om deur die dood bedreig te word: Op vierjarige ouderdom is sy met leukemie gediagnoseer – toe dié siekte hoofsaaklik ongeneeslik was – en sy is eers op 27 skoon verklaar daarvan.

Dan was dit blykbaar ook so dat van haar pa se familielede glo weens geringe oortredings ook in en uit tronke was wat mense begrip behoort te gee vir die redes waarom sy meer “ontspanne” in die geselskap van gevangenes gevoel het as tussen ander.

Reginald was nie eers haar eerste verhouding met iemand in die doodselle nie, want uit die 30 penvriende wat sy gehad het, het sy ook in ’n stadium aangetrokke gevoel tot Charles “Chucky” Mamou wat glo “Mr Player” en “Mr Charmer” was. Hierdie “droomman” is weens ’n dubbele moord gedurende ’n dwelmverwante misdaad skuldig bevind.

Einste Mamou het sommer gedurende hul tweede ontmoeting al die groot vraag gevra. Op haar troufoto dra Sandie ’n trourok, maar die bruidegom is nêrens sigbaar nie. Die seremonie het glo met ’n plaasvervanger in haar plek plaasgevind.

Die huweliksbootjie het egter gesink toe Sandie vier maande ná hul troudag uitvind dat manlief briewe van ’n seksuele aard aan ’n getroude vrou in Engeland geskryf het.

Moord, kan ’n mens sinies aflei, is een ding, maar om verkul te word – dis onvergeeflik.

SIELKUNDIGES SE MENINGS

Dr. Henk Swanepoel, ’n forensiese sielkundige en medeskrywer van Sielsiek (LAPA-uitgewers, 2017) verduidelik dat so ’n verhouding in die hofmaak fase stagneer; dus bly die intense verlange en begeerte na mekaar teenwoordig, aangesien die verhouding nie kan ontwikkel nie.

Hierdie gevangene word ’n droomgeliefde vir die vrou, amper soos ’n “denkbeeldige ledemaat”. Die liefde kamoefleer dan ook die geweldsmisdaad wat die oortreder gepleeg het.

Swanepoel voer die volgende redes aan waarom ’n vrou ’n tronkbruid sal word:

•Sommige vroue is oormatig geïsoleerd en het ’n behoefte aan ’n veilige verhouding waar die verwagtinge beperk is. (Dit word deur Isenberg bevestig.)

•Dit kan ook die gevolg van psigodinamiese kragte wees soos wanneer ’n vrou byvoorbeeld self ’n magtige drang het om te moor of oor patologiese vlakke van woede beskik. Sy sal dan met die moordenaar trou om hierdie moordgedagtes en behoeftes sosiaal uit te leef, die man se moord word dus háár moord.

•Swanepoel meen baie van hierdie vroue het ook in die meeste gevalle ’n geskiedenis van gewelddadige verhoudings. Sou die geliefde in die tronk wees, word haar aangetrokkenheid tot gewelddadige mans deur tronkreëls beheer en sy verkeer dus nie in gevaar nie.

•Sommige vroue kontak gevangenes as deel van ’n evangelisasie projek en hulle word dan penvriende met die gevangene, waarna hierdie verhouding romanties kan ontwikkel.

•Swanepoel meen ook dit kan wees dat van hierdie vroue op soek is na sensasie en avontuur en dan gedrewe voel om die gevangene in ’n goeie en liefdevolle mens te verander. Dit is dan ook die rede hoekom baie van hierdie vroue die gevangene as “’n sagte persoon “sal bestempel wat maar net “verkeerde besluite” geneem het.

•Die redes vir so ’n verhouding kan ook seksueel van aard wees en die term “Hybristophilia” word hiervoor gebruik. Dis waar kontak met ’n geweldsmisdadiger seksuele opwekking veroorsaak.

Ander sielkundiges het ook interessante sienings oor hierdie tendens.

Dr. Herman Liebenberg, ’n sielkundige van Centurion, verwys na ’n Franse uitdrukking wat as “om nostalgies in die modder te wees” vertaal kan word, wat beteken om aangetrokke te voel tot iemand wat onkonvensioneel is. Iemand wat glad nie jou waardestelsel deel nie.

Die sielkundige en skrywer Shani Grové sê ’n vrou se behoefte om iemand te red vertolk dikwels ’n rol. Om iemand in die tronk te help is die uiterste vorm daarvan. Jy bevestig jou eiewaarde en verwerf deur jou opofferings selfs “punte” in die hemel, sê sy.

’N KRIMINOLOOG SE MENING

Die bekende kriminoloog, prof. Christiaan Bezuidenhout, het navorsing gedoen oor vroue wat met gevonniste geweldsmisdadigers trou.

Hy is van mening dat dit nie lyk asof tronktralies vroue keer om verhoudings met moordenaars aan te knoop nie. Inteendeel.

Hy sê: “Dit is verstommend dat daar webtuistes is waarop vroue hierdie gevangenes kan ontmoet na wie verdedigend as die ‘culprit’ verwys word. Daar is ’n groot aktiewe netwerk rondom hierdie tendens in Amerika aan die gang.

“Baie kerke in Amerika is hierby betrokke en daar is ook nieregeringsorganisasies in hierdie land wat na gevangenes uitreik as deel van ’n rehabilitasieproses waarmee hulle gevangenes en lede van die publiek met mekaar in aanraking bring. [Die besoeke aan ’n webtuiste waarna ek vroeër in hierdie hoofstuk verwys.] Dit herinner aan ’n Facebook forum. By van hierdie korrektiewe sentrums in Amerika kan selfs internetkafees besoek word. In ander gevalle stuur die gevangenes se familielede namens hulle boodskappe aan belangstellende vroue en dan begin hulle oor en weer kommunikeer.”

Bezuidenhout sê om met mense buite die gevangenis te kommunikeer word as deel van hul rehabilitasie beskou. Van die gevangenes is natuurlik ook aantreklik. Baie van hulle is narsisties, sê hy, wat impliseer hulle is egosentries en neem nie die vrou se emosies in ag nie.

Die wyse waarop die gevangenes hulself bekendstel kan nogal kleurryk wees. Die gevangene sal homself byvoorbeeld as ’n “ongeslypte diamant’ en as “ongelukkig” beskryf, maar hy bly ’n diamant – net een wat weer “ontgin” moet word.

Bezuidenhout skryf hierdie vreemde verskynsel van verhoudings met gevangenes aan die volgende redes toe:

•Baie van hierdie vroue kom uit een of ander mishandelende verhouding – óf in hul ouerhuis óf in vorige verhoudings. As hulle ’n verhouding met ’n gevangene aanknoop, voel hulle veilig. Hulle ontmoet die man dan ook in ’n veilige plek. Die man agter die tralies kan nie hulle daaglikse bewegings monitor nie en hy kan hulle nie bekruip (stalk) nie. Die vrou kan die verhouding beheer.

•Hy meen ook ’n mens kan hier ’n analogie trek met vroue wie se mans in oorlogsituasies werk, soos byvoorbeeld soldate. So ’n verbintenis vereis slegs ’n emosionele verhouding; die fisieke en seksuele eise word dan vrygespring en die verhouding kan desondanks staande bly. Hy skryf dit toe aan die feit dat vermoedelik tot 30 persent van vroue ’n intimiteitsprobleem het. So ’n verhouding pas dus vroue wat probleme met intimiteit ervaar.

•Baie van hierdie vroue wat by gevangenes betrokke raak het ’n lae selfbeeld. Hulle is daarom dikwels vatbaar vir sosiopate en psigopate se sjarmante optrede. Hierdie vroue se belangstellende optrede bevredig die tronkvoël met ’n persoonlikheidsversteuring se ego op ’n patologiese wyse.

•Sommige vroue is daarvan oortuig dat hulle die “ongeslypte diamant” gaan slyp en verander.

•Dit kan ook ’n geval wees dat ’n meisie na ’n antiheld op soek is. Deur middel van so ’n verhouding word baie aandag op haar gevestig en sy verander dan van ’n vaal muurblommetjie na iemand met ’n soort omgekeerde “celeb status”. Bezuidenhout meen dat die pseudosterstatus (mediadekking) vir sommige vroue ’n aantrekkingskrag is.

•Nog ’n moontlike rede hiervoor is die sogenaamde Stockholm sindroom. Die bruid raak so vasgevang in hierdie dilemma in haar kop dat sy haarself as die gevangene se “redder” beskou. Dieselfde sielkundige prosesse wat in werking is soos met die Stockholm-sindroom is derhalwe ter sprake. Die bruid kry ’n soort emosionele bevrediging uit die hele situasie, aangesien sy die enigste een is wat die man verstaan en sy “verstaan” ook die redes vir sy optredes. Dit raak dan vir haar belangrik om ander te oortuig van sy onskuld en die ware motief en regverdiging vir sy optrede.

DIE VOORDELE VIR GEVANGENES

Maar watter voordele hou so ’n romanse of huwelik vir die gevangene in?

Hope, meen kenners.

Die vrou skryf voortdurend vir die gevangene briewe en dek soms sy regskoste, terwyl die “getroude status” asook ’n vaste adres (van die vrou) ook ’n gunstige persepsie vir ’n paroolraad kan skep, meen Bezuidenhout. Soos die verhouding vorder, kan die vrou selfs vir die man ’n bankrekening oopmaak, wat gunstig tydens ’n paroolaansoek vertoon. Dit is ook so dat talle gevangenes deur hul families afgeskryf word en geen besoekers ontvang nie. En dan kry hulle by ’n simpatieke en emosioneel betrokke vrou ’n sekere status of menswaardigheid.

Bezuidenhout sê dat ’n groot aantal geweldsmisdadigers dikwels die drie “R’e” aangryp sodra hulle opgesluit word, naamlik die “Regret, Remorse and Religion” beginsel. Hulle is skielik vreeslik jammer oor wat hulle gedoen het, toon empatie, raak vreeslik godsdienstig en loop met die Bybel onder die arm rond. Dit is gewoonlik ’n klug, meen hy, maar dít saam met ’n stabiele verhouding, ’n adres en ’n bankrekening, skep die “volmaakte” prentjie vir ’n paroolaansoek.

Vir die gevangene is ’n verhouding met so ’n vrou dus uiters gerieflik en voordelig, meen Bezuidenhout.

WAARSKUWINGS

Grové wys daarop dat bejammering dalk ’n rol in party van hierdie verhoudings kan vertolk, maar om weens bejammering in so ’n verhouding te bly, is die swakste basis denkbaar.

“Dan plaas jy jouself as redder ’n trappie hoër as die ander mens wat tot slagoffer gereduseer word. ’n Tronkverhouding gee aan die mens in die tronk waarde en aan die een buite die tronk, eiewaarde. So lek die een die ander se wonde en dit is baie ongesond.

“Die verliefde buite die tronk hoef ook nie die nie-ideale saamleef te beleef nie. Kontak deur briefwisseling en seldsame besoeke is die maklikste ding ter wêreld. Jy hoef nie jou maat se irriterende en selfs walglike gewoontes te aanskou nie. Jy kan jou toekoms op ’n droom bou en die droom, eerder as die werklikheid, is altyd die ideaal.”

Bezuidenhout beaam dit dat hierdie veilige verhouding in ’n veilige plek met hope sekuriteit as ’n ideale verhouding kan bestaan, maar op die ou einde net ’n droom in die vrou se kop bly.

Hy sê ook dat baie van die besoeke wat aan hierdie veroordeelde geweldsgevangenes gebring word, nie kontakbesoeke is nie, maar dat kontakbesoeke wel in sommige tronke in Amerika toegelaat word, waar die paartjie vir byvoorbeeld ’n uur lank romanties saam in ’n kamer kan kuier. Soms raak hierdie vroue swanger.

Hy meen kontakbesoeke kan egter nadelig vir die vrou wees wanneer die gevangene in seksuele verhoudings met medegevangenes in die tronk betrokke is. Daar bestaan ook verkragtingbendes in tronke. As gevolg van hierdie meestal onbeskermde seksuele aktiwiteite tussen die manlike gevangenes kan die vrou geslagsiektes opdoen wanneer sy tydens ’n kontakbesoek intiem met haar nuwe liefde verkeer.

“Aangesien die tronkvoël baie tyd op hande het, ontvang die vrou in talle gevalle die roerendste gedigte en mees romantiese briewe of e-posse, en is in die sewende hemel oor al hierdie aandag. Dit dra alles by tot hierdie vals skynbaar perfekte verhouding op ’n emosionele vlak.”

Hy waarsku egter dat so ’n man sy nuwe vrou maklik daarvan kan verdink dat sy hom verkul en haar daarvan kan beskuldig dat sy rondloop terwyl hy tussen vier mure vasgekluister sit. Hy wil voortdurend die versekering hê dat dit nie die geval is nie en sal voortdurend haar onvoorwaardelike liefdesversekering vereis – dit kan mettertyd stremming op die verhouding plaas.

Bezuidenhout het ook in sy navorsing bevind dat hierdie verhoudings gewoonlik nie langer as twee jaar lank hou nadat die man vrygelaat word nie en hy die “intieme” voordele van die huwelik vereis.

HOE GEBEUR DIT IN SUID-AFRIKA?

In Suid-Afrika, soos in hierdie boek beskryf word, verloop ontmoetings met die geliefde agter tralies, ietwat anders.

Daar is geen webtuistes waar gevangenes en diegene “buite” mekaar kan ontmoet nie.

Soms – soos in die geval van die Skierlik-moordenaar, Johann Nel se bruid en gewese vrou – het sy hom tydens ’n ope dag by die gevangenis ontmoet toe sy vir ’n familielid gaan kuier het.

Die Claytons, albei Baptiste-predikante, was bure en hegte platoniese vriende lank voordat Jenny vir Jonathan, wie ’n vonnis weens bedrog uitgedien het, getrou in die gevangenis gaan besoek het. Die liefde het eers jare later begin blom.

Van die vroue wat bedrog gepleeg het, was reeds getroud, maar hul huwelike het byna as gevolg van hul vonnisse skipbreuk gely.

’n Vrou in haar sestigs, het na dekades van getroude lewe haar man wat hul kleindogter gemolesteer het, in die tronk bygestaan en selfs teruggeneem toe hy vrygelaat is.

Dan is daar ook paartjies wat mekaar eers agter tralies vir die eerste keer ontmoet het soos die bruid in boeie en die gay paartjie oor wie ek in hierdie boek skryf. Die Boeremagbruid het gereageer op ’n versoek toe ’n kennis haar vertel het dat dr. Wilhelm Pretorius, met wie sy later in die gevangenis getroud is, op soek na vriende van sy eie ouderdom was.

Elkeen se storie verskil hemelbreed.

Ek het vir Liefde agter tralies gefokus op die getroue toegewydes, die deurdrukkers en die bittereinders wat hul lewensmaat dwarsdeur hul vonnis ondersteun wat dikwels met groot ongerief, opofferings, hartseer en trauma gepaardgaan.

Maar ook op die ontnugtering wat soms noodwendig na so ’n radikale besluit gevolg het.

Daar is mos beter dinge om te doen as om naweke ure lank in toue te staan om jou geliefde net vir ’n halfuur lank te sien. Tog is daar diegene wat dit doen. En soms het hierdie stories, teen alle verwagtinge in, nes in die sprokies, tog ’n gelukkige einde.

Met hierdie boek fokus ek nie net op romantiese liefde nie, maar ook op naasteliefde. Ek skryf oor familielede wat groot opofferings maak om naby hul geliefdes agter tralies te wees, asook oor ’n ouma en geestelike berader wat ’n lid van die Boeremag “aangeneem” het, hom gereeld bystaan en selfs ’n tuiste gaan bied as hy ontslaan word. Ek skryf ook oor die redes waarom ’n gewese Afrikaanssprekende onderwyser en plaasseun na die gewese presidentsvrou, Marike de Klerk, se moordenaar uitreik.

Maar ek skryf veral oor die liefde; romantiese liefde, bitter liefde, verwerpte liefde, onmoontlike en onwaarskynlike liefde, en oor onsterflike liefde. Liefde sonder grense. Die soort liefde wat nie deur tralies gekeer kan word nie.

Liefde agter tralies

Подняться наверх