Читать книгу Die ou vrou en die priester en ander verhale - Cecile Cilliers - Страница 5

Die trourok

Оглавление

Die predikant se vrou sit plat op die grond, die krat langs haar feitlik klaar uitgepak, die inhoud in hopies gesorteer. Dis die gewone onbruikbare gemors, dink sy mismoedig, beteuel dan onmiddellik haar ongeduld, en stuur ’n skietgebedjie van verskoning na bo. Dis nie mooi om ondankbaar te wees nie. Maar sy kla terselfdertyd by die Here omdat die werk wat haar man (en sy, ja, sy ook) hier op die sendingstasie doen, so gering geag word. En dit deur dieselfde mense wat juis veronderstel is om hulle van onderhoud te voorsien om die Here se werk hier te doen.

Selma is ’n predikant se vrou, was ’n predikant se dogter, is grootgemaak in die tradisies van die geloof. Daarom hou sy haar stiltetye wanneer sy haar tot God wend en die klein gemeente, haar man en kind, ook die land, voor God bring. En in die Bybelstudie wat sy vir die vrouevereniging moet behartig, leer sy hulle om van hulle stiltetyd ook gebedstyd te maak.

Self is sy gewoond om feitlik deurlopend met haar Skepper te gesels, asof Hy hom met haar elke doen en late bemoei, hoe onbelangrik ook al. Sy onthou dat sy in ’n Engelse roman van ’n karakter gelees het who was the kind of pious woman who prayed that her soufflés would not fall flat…Hoe snedig ook al die bedoeling van die skrywer, kan sy haar met die sentiment van die karakter vereenselwig. Sy bid maklik oor die kleinste, onbelangrikste dinge.

En in hierdie oomblik praat sy God aan oor die kerk – háár kerk, én haar man s’n, maar seer sekerlik tog ook God s’n. En die kerk het haar wéér (die wrewel dik in haar gemoed) in die steek gelaat.

Stuur asseblief, het sy vir die wit moedergemeente geskryf, stuur asseblief tog die een en ander vir ons kerkbasaar. Veral klere is altyd gesog, het sy bygevoeg, maar enigiets sal welkom wees om ’n bietjie geld uit ons gemeenskap hier te trek. Die klein sendinggemeente moet ook iets probeer bybring. Die sendelingpredikant is wit, ’n produk van die kweekskool, sy kollega is ’n swart eerwaarde. En hulle trek noustrop op die bietjie geld wat van die moedergemeente af kom. Daar is immers die twee huishoudings wat hier op die sendingstasie versorg moet word, en die gemeente strek ver en wyd die platteland in. Daar word baie gereis. Daarby wil die kerkraad en die gemeente tog so graag kerk bou. Die kinders, wat heelweek in die skoolbanke sit, het nie lus om dit Sondae ook te doen nie. Maar dit is die enigste bruikbare ruimte, die skoolsaal met die rye skryftafels.

Sy begin die goed bymekaarmaak. Daar is ten minste, dink sy, nie weer ou teesakkies by nie, die vorige keer nogal met ’n nota: net een keer gebruik. Die ou onderklere, die stukkende sokkies, die uitgerekte truie, die uitgetrapte skoene, dié is weer almal daar. En die kinders…Elke keer as die krat van die spoorwegbus afgelaai word, hoop sy op ’n sokkerbal of ’n krieketstel of miskien ’n pop of twee. Maar daar is selde iets vir die kinders, behalwe verbleikte klere.

Wat was die naam nou weer van die sendelingdogtertjie wat altyd so op ’n pop gehoop het as die teekas kom? P…iets. Maar al wat ooit vir ’n kind bedoel was in so ’n teekas, was twee krukke, klein genoeg vir ’n kind. En Pollyanna – dis haar naam, Pollyanna – was so dankbaar dat sy hulle nie nodig gehad het nie!

Soveel dankbaarheid het die predikant se vrou vanoggend nie. Dis maar goed dat die basaar verby is, want sy sou haar skaam om sulke gemors – weer die lelike woord – op ’n basaartafel te sit.

Sy staan op om die laaste goed uit die krat te haal, en heel onder uit die kis kom daar ’n trourok. Sy tel dit op, skud dit uit, en snak na haar asem. Die oestersatyn glim in die sonlig wat deur die noordevenster val, om die soom is kant met pêrels geborduur. Die hals is nie oordadig laag nie, en om die skouers is daar ’n sjaalkraag van ’n sagte sy-organdie. Sy is nie seker van die name van die stowwe nie, weet net dis een van die mooiste kledingstukke wat sy al ooit gesien het. En dit in ’n sendelingskrat…Sou die bruid dit graag vir liefdadigheid wou skenk omdat sy so gelukkig getroud is, of het sy klaar stry gekry en uit nyd die rok weggemaak? Of dalk is sy dood, en haar man het dit aan die kerk geskenk?

Sy kry lag vir haar vergesogte gedagtes, tel die rok hoër op om mooi daarna te kyk, en voel weer die misnoeë van vroeër: mooi of nie, wat is sy veronderstel om met die rok te máák?

Twee kinders van tien storm die vertrek binne, hardloop deur kombuis toe, en drink dors water uit die kraan. Dan kom hulle na haar toe, stowwerig gespeel, glimlaggend, kinderlik onwetend, vol blydskap oor die dag, oor hulle vriendskap, oor die vreugde van speel.

O, roep Annetjie, sy tol ewe opgewonde in die rondte. Kom kyk, Nomsa, daar’t weer ’n krat gekom! En dan, versigtiger, miskien met ’n onthou van ander kiste, ander teleurstellings – Is daar iets vir óns, Mamma?

Nee, begin Selma, en toe sy sien hoe die twee gesiggies val, voeg sy op ’n ingewing vinnig by: Maar hier’s ’n rok waarmee julle mag speel. Net nie buite nie, hoor. Dis ’n binne-rok. Ek wil nie die soom vol stof sien nie. Sy hoor hoe haar waarskuwing die plesier van die geskenk oorskadu – maar julle kan van my skoene aantrek, as julle wil, en van my krale daarby dra…

En speel het hulle gespeel. Vir dae aaneen was die een die koningin, die ander haar slaaf, dan was dit weer trou-trou, en dan het hulle met oorgawe die Bybelse verhale vertolk, met koningin Ester of die verleidelike Batseba, selfs die ryk koning Salomo in die hoofrolle, almal geklee in die wonderlike rok. Veral toe die reënseisoen kom, was die rok ’n seën, want die kinders het sonder kla binne gebly en mekaar met die dra van die trourok geamuseer. En Selma se aanvanklike bitterheid het ’n dankbaarheid geword – dankie, Here! – vir die trourok onder uit die krat.

Totdat die reën een agtermiddag lig en die son uitkom en die twee kinders jillend die huis uitstorm, Annetjie nog in die trourok. Selma roep om te keer, maar hulle hoor haar nie, en sy werk eers die laaste steke van ’n stukkie borduurwerk, gaan dan uit om hulle terug te roep. Net betyds om te sien hoedat haar kind uit die boom val…

Nomsa staan soos een wat deur die weerlig geslaan is: Ma-Selma, Ma-Selma, dit was die rok, die rok het haar gepootjie.

Selma hoor haar skaars. Hardloop, sê sy. Hardloop, Nomsa, gaan roep jou mamma.

Terwyl sy wag, kniel sy by die stil lyfie van die kind, bang om haar aan te raak of te skuif. Sy weet sy kan dalk onwetend skade doen. Pulane sal weet. Nomsa se ma sal weet.

Annetjie lê doodstil, haar oë toe, maar Selma sien ’n ligte fladdering, en sy bid soos sy nog nooit gebid het nie. Verby is die formele gebede van die bidure, verby die skietgebedjies, verby selfs die deurlopende gesprek met God. Met ’n gebed wat by haar wil uitskeur, pleit sy by die Skepper van die heelal, by die Almagtige, by Hom wat alles kán – O Here, die Skepper van hierdie kind, mý kind – om haar lewe te red.

Pulane kom met twee manne met ’n draagbaar, en hulle tel vir Annetjie versigtig op die draagbaar, sit haar ewe versigtig op haar bed. Maar Pulane se gesig is ernstig. Sy’t hard geval, Selma, sê sy. Waar is die Moruti?

Selma se stywe lippe wil nie klanke vorm nie. Sy beduie net met haar kop na buitentoe, na vér toe. Danie en Simon is vroeg saam uit.

’n Dokter? vra sy uiteindelik vir Pulane. Kan ons haar hospitaal toe neem?

Die hospitaal is veertig kilometer weg, en Pulane skud haar kop. Ek dink, sê sy, en sy praat asof met ’n kind, ek dink haar nek is gebreek…

’n Kort rukkie nog gaan Annetjie se bors liggies op en af, die ooglede fladder, maar gaan nie oop nie, en skielik, met ’n laaste sug, is alles oor.

Nomsa huil ontroosbaar in haar ma se arms, en Selma hoor ’n geween in haar eie kop, ’n geweeklaag soos dié van die vroue van Rama, maar geen geluid kom oor haar lippe nie, dit bly net so klink en weerklink in haar kop.

Hulle het die trourok se lang ritssluiter afgetrek, die rok van die kind se lyfie gestroop, en Selma het dit woedend – woede om die wolf van wanhoop buite die deur te hou – in ’n hoek van die vertrek gegooi. Later, toe alles verby was, het sy dit in ’n kas gestop.

Nomsa het die trooskind geword. Sy het Selma Mamma begin noem (haar eie ma het Mapulane geword) en sy het smiddae ná skool by haar haar huiswerk kom doen, soms vir haar ’n veldblommetjie gebring. Oor Annetjie of die trourok het hulle nie gepraat nie. Maar die samesyn kon ook net so lank aanhou, toe moes Nomsa weg, hoërskool toe, en dit was vir Selma opnuut ’n afskeid. Sy sou die ander kind van haar nou net naweke sien.

Gebind deur die dood van hulle kind, het sy en Danie nader aan mekaar begin groei; hulle gesamentlike rou het die huwelik versterk, het Selma gedink. En nog steeds onwrikbaar in haar geloof – ek kan nie ophou gló nie, het sy vir Danie gesê, geloof is soos my asemhaling – het sy God vir dié klein genade gedank.

Maar soos die gezoem van bye in ’n korf, die geronk van verkeer in die middestad, het die geween in haar kop nie end gekry nie. Dis tinnitus, het die spesialis gesê toe sy gaan hulp soek het. Raak daaraan gewoond, of skakel dit met “wit geruis” uit – oorfone met musiek, of die geluid van die see, miskien…

Sy het haar kondisie gelate aanvaar, die gedruis het tweede natuur geword; sy was oortuig dit was haar liggaam se manier om oor die verlies van haar kind te rou.

Dinge op die sendingstasie het soos altyd aangegaan – daar is sendingwerk gedoen, daar is basaar gehou, daar het weer kratte gekom, en stadig is die klein kerkie staangemaak.

Nomsa het goed gedoen op skool, en toe Danie briefsgewys ’n pleidooi lewer, het die moedergemeente aangebied om vir die universiteitsopleiding van die eerwaarde se dogter te betaal. Mits sy natuurlik ’n nuttige kursus volg wat waarde kan toevoeg tot die gemeenskap, en mits haar resultate bevredigend is, ens., ens. Danie het gegrinnik toe hy vir haar die brief wys: Die naasteliefde, sê hy, het nogal ’n manier om uit te rafel as daar geld ter sprake is. Maar Selma was so bly oor die beurs dat die moedergemeente se rommelrige bydrae oor soveel jare summier vergewe is.

Dit sal eensaam wees sonder die kind, het sy gedink, Nomsa was elke naweek in en om die huis, vertellend, geselsend, en Selma was lig jaloers op die eerwaarde en sy vrou wat nog twee by die huis gehad het. Maar dit was ’n gedagte wat haar nie waardig is nie, het sy onmiddellik gebieg, en eerder die Here se seën gevra, op beide gesinne, en veral op Nomsa.

Nomsa het op onderwys besluit – die moedergemeente het dit as ’n baie goeie keuse beskou – en sy het floreer. Elke vakansie met die huis toe kom was sy nóg mooier, die vel van die donker gesiggie nog gladder, die fyn figuurtjie nog skraler. En die twee groot bruin oë vol lewenslus. En haar uitslae was jaar op jaar goed. Die moedergemeente, het Selma gedink, het niks om oor te kla nie.

Tog kon sy nie help om soms te sug wanneer sy haar tweede kind teen haar vasdruk nie. Annetjie, dink sy dan, sou net so mooi gewees het, net so slim. En dan was dit of die gesuis in haar ore ’n groeiende weeklaag word: ’n Gekerm word op Rama gehoor, ’n gehuil vol hartseer. Ragel treur oor haar kinders, sy wil haar nie laat troos nie, want haar kinders is weg…

Dit is waar, dink sy, my kind is weg, en die hartseer sing gedurig in my ore, maar ek is nie ongeseënd nie – hierdie tweede kind is pragtig, en alles waarna ’n moeder kan verlang.

Elke week was daar ’n brief, gewoonlik een vir die twee ma’s om saam te lees, en saam oor te huil; Nomsa het soms geskakel, maar net vir haar eie ma: die telefoonoproepe was so duur. Toe, teen die einde van haar finale jaar, kom daar ’n brief waarop duidelik staan: Moruti Danie en Eerwaarde Simon, met geen teken van die naam van die twee moeders nie.

Die hele dag wag hulle angstig vir die twee kollegas om uit die diep platteland terug huis toe te kom, en toe hulle tuis is, net so angstig vir die twee broeders om die brief oop te skeur en (saam) te lees.

Selma weet watter vrese daar in haar en Pulane se harte leef: Nomsa is swanger (ag, Here, tog nie dít nie), sy wil opskop, sy het haar laaste eksamen gedruip…

Danie en sy kollega se gesigte is ernstig, en Danie sou die twee vroue graag nog ’n bietjie langer in spanning wou hou, maar dan glimlag hy breed. Nomsa het ’n man leer ken wat meer as ’n vriend geword het, en sy wil hom vir die kort vakansie huis toe bring, na ons toe, dat ons hom ook kan leer ken. Almal weet die vraag is vir al twee ouerpare bedoel. Maar dit is belangrike sake dié en die vaders het eerste seggenskap.

Nomsa en Thabo het die agtermiddag met die bus aangekom, eers by haar eie ouers gekuier, en toe het die vier by Danie en Selma kom eet.

Hy’s nie baie lank nie, en nie juis baie mooi nie, dink Selma krities en effe teleurgesteld toe sy hom ontmoet. Maar hy het ’n diep en boeiende stem, en ’n ewe boeiende persoonlikheid weerspreek sy ingetoë voorkoms. Sy besef skielik dat die jong man, sy skamerigheid ten spyt, ’n teenwoordigheid in die woonkamer is. Hy sal ’n goeie predikant maak, dink sy.

Hy’s vyfde jaar teologie, beantwoord hy die nuuskierige vrae, en die jongste van vier. Sy ouers is oorlede, sy oudste broer het gehelp met die studiegeld.

En wie gaan help met die lobola? vra Danie, en glimlag sodat die jong man nie aanstoot moet neem nie. Thabo kyk na die sendeling en sy vrou asof hy hulle vir die eerste keer sien.

Ek sal met Nomsa se pa praat, sê hy.

Nee, jy verstaan nie, sê Danie, sy is ons kind ook. Ons het ook seggenskap oor haar.

Nomsa het my vertel van Annetjie, sê hy, en Selma wag dat hy iets van simpatie moet byvoeg, maar hy bly stil. Net sy liggaam en sy oë spreek van mededoë.

Ná die ete, toe hulle rustig sit en koffie drink, sê Nomsa: Ek het eintlik kom ouers vra.

Jy? sê Danie, dis ’n nuwe manier van doen.

Ek weet, sê sy, en sy rig haar tot Selma: Mamma, ek wil met Thabo trou, ons is lief vir mekaar. En ons wil nie wag nie. Ek is oor twee maande klaar met die universiteit, ek het ’n pos in die stad gekry, ek sal ons kan onderhou vir Thabo se laaste jaar.

Dis baie geld, waarsku Danie. Julle sal noustrop trek.

Ja, sê sy, ek weet, maar Thabo het ’n merietebeurs gekry vir sy finale jaar, en ek is seker dat as hy iewers heen beroep word, ek soontoe sal kan skuif – daar is so ’n groot tekort aan onderwysers.

Maar, kind…Die twee stelle ouers probeer water op die voorstelle gooi, maar die twee jong mense, veral Nomsa, bly hardnekkig by hulle plan.

Maar ’n troue, nou? Waar wil julle trou, en wie sal vir ’n onthaal betaal?

Nee, Mamma, ons trou sommer hier in die kerkie, en ons nooi die hele gemeente, en die vriende en Thabo se familie kan van die stad af kom.

En jou pa slag ’n bees, sê Simon, en Selma weet nie of hy spot nie.

Nee, sê Nomsa, ons bak koekies en maak gemmerbier en tee, en almal kan help.

Sy is nie net geesdriftig nie, besef Selma, sy is ook realisties – sy het alles vooruit beplan en binne die raamwerk van hulle begroting gehou.

Dan praat haar eie ma: Maar kind, wat van ’n rok nou?

Nomsa se stem wil-wil bewe, maar sy hou uit. Ek dra sommer my kerkrok, Mapulane, dit sal goed wees.

Selma maak verskoning, gaan kamer toe. Uit die kas haal sy die trourok, die rok wat haar kind se dood veroorsaak het. Sy skud dit uit, kyk vir ’n oomblik hoedat die satyn in die elektriese lig glim, en roep vir Nomsa.

Hier, sê sy, pas dit aan!

En Nomsa kyk ’n rukkie lank na die rok waarmee sy en Annetjie soveel pret gehad het. En toe die droefheid. Sy gooi haar eie rok af en laat gly die trourok oor haar skouers, draai sodat Selma die rits kan optrek.

Die rok pas asof dit vir haar gemaak is, tot die lengte is reg en die sjaalkraag lê netjies op haar skouers.

Dis bietjie gehawend om die soom, sê Selma, en besef dat haar trane baie vlak lê, maar dit kan ek maklik regmaak. Ek is mos nie dom met borduur nie. En dan laat ons hom net skoonmaak.

Nomsa kyk in die lang spieël, straal. Kan ek maar gaan wys? vra sy.

Ja wat, sê Selma, dis veronderstel om ongelukkig te wees, maar ons steur ons nie daaraan nie.

En toe die kind woonkamer toe stap, toe klink dit al vir Selma asof die gedruis in haar ore minder geword het.

Die ou vrou en die priester en ander verhale

Подняться наверх