Читать книгу Abel se ontwaking - Chris Karsten - Страница 20

12

Оглавление

Haar uitgeslape kolonel toe wéér reg.

Dusver in sakstraat by die spreekkamers van kosmetiese chirurge en boetieks met Gucci-bloese. Geen dokter of verkoopsdame herken die gesig met die loodkleur en bleek lippe op die foto nie. Dit kan natuurlik ook wees, vermoed Ella Neser, dat geen plastiese chirurg betrokke wil raak by ’n moordondersoek nie. Dokters is geneig om die kalklig te vermy, hou nie daarvan om ten aanskoue van joernaliste en TV-kameras in howe aan te kom om te getuig oor intieme sake van hulle pasiënte nie, veral nie oor die hoe’s en wanneers van ferm nuwe borste vir ’n mooi rooikop nie. Dokters – anders as byvoorbeeld akteurs, dink sy – voer ’n verskuilde beroepslewe in hulle spreekkamers; bevoel en betas en besny agter die sosiale kontrak van dokter-pasiënt-vertroue.

Maar toe haar selfoon lui en sy die stem hoor, weet sy dat Silas Sauls reg was om sy pond vleis van Andy Collipepper van die Post in te vorder.

“Dis my dogter …” Vrouestem onseker, huiwerig. “Lýk soos sy …”

“Wie praat? Word u dogter vermis?”

’n Oomblik se stilte, asof sy moet dink of haar dogter vermis word.

“Sy was nie vermis nie. Ek weet nie. Maar dit lyk soos sy.” Weer ’n aarseling. “Dis mevrou Vermooten hier, Truia Vermooten.”

“Het u nie kontak met u dogter nie? Dis al vyf dae.”

“Nie elke dag nie. Ek’t laas Sondag oor die foon met haar gepraat. Sy’t niks makeer nie. Sy’t gelag en gesels.” Weer ’n swye, ’n snuif. “Miskien is dit nie sy nie, miskien is dit iemand anders … wat soos sy lyk.”

“Kan u inkom, foto’s saambring? Kan u kom sodat ons lykhuis toe gaan?”

“Ek’s nie van Gauteng nie. Ek’s van ver, ek’s van Touwsrivier. Ek kan nie inkom nie. Weet jy waar’s Touwsrivier?”

“Wat’s u dogter se naam, mevrou Vermooten? Is daar iemand in Johannesburg wat haar kan kom uitken, as dit sy is?”

“Mia. Haar naam’s Mia. Mia se hare was laas rooi gekleur, donkerrooi, nie helder nie. Henna, ja, toe ek haar by my suster gesien het.”

“Suster?”

“In Crosby, in Johannesburg. Bets bly in Crosby.”

“U dogter se van? Is sy steeds Vermooten?”

“Vermooten. Mia Vermooten. Dis my dogter se naam. Maar miskien is dit nie Mia nie …”

“Kan u suster ons help? Kan u suster van Crosby dalk kom kyk of dit Mia is?”

“Bets het die foto in die koerant vir my seun by die koöperasie gefaks.”

“Wat’s haar adres, u dogter s’n? Ek sal by haar blyplek gaan kyk. En u suster se nommer, as ek Bets dalk nodig het?”

Die bekommerde ma van Touwsrivier bel Saterdagoggend, en Ella was van plan om Cresta toe te gaan, iets te gaan eet, in winkels rond te snuffel, ’n nuwe bloes en langbroek te gaan soek, gerieflike sandale daarby vir baie stap. Die inhoud van haar klerekas roep om vernuwing. Maar dit is hoe sy gemaklik is, veilig in bekende klere. Só het sy grootgeword, los en luiters, nie ’n poppie nie. Het seuns as maats verkies, en geleer om haarself te laat geld. Tog, ’n nuwe bloes, satyn op die vel pleks van die katoen van ’n T-hemp …

Weer die foon, skaars neergesit. Dié keer ’n manstem.

“Ek’s ’n kollega en vriend van Mia Vermooten. Ek dink dis sy op die foto in die koerant. Sy’t die hele week nog niks van haar laat hoor nie.”

“Hoekom is jy nie polisie toe nie? Met wie praat ek?”

“Tom Spottiswoode. Sy doen haar eie ding, werk nie kantoor-ure nie. Fleksie-ure. Maar bel altyd om te sê waar sy is.”

“Watse werk is dit? Hoe kan sy vermis word sonder dat iemand dit agterkom?”

“Ons is antiekhandelaars. Sy’s ’n assessor van oudhede; meubels, silwer, kristal, porselein, albas. Haar spesialisveld is cottage-meubels van honderd jaar en ouer. Sy’s gedurig op die pad, meestal uitstedig.”

“Jy’t haar probeer bel?”

“Soms hoor ek vir dae niks van haar nie. Maar dis soos sy werk. As mense bel, ry sy om die waardasies te gaan doen. Ons is baie besig. Mense verkoop en verpand enigiets in hierdie dae, selfs erfstukke. Geld is skaars.”

“Jy’t gebel en probeer uitvind of sy seldsame oudhede opgespoor het, miskien ’n Mingvaas?”

“Natuurlik, én boodskappe op haar stempos gelos. G’n reaksie nie,” sê Tom Spottiswoode.

“Sal jy kom kyk of dit sy is?”

“Foto’s kan misleidend wees, veral so een …”

“’n Tante sal ook kom help met die uitkenning. Maar bevestiging sal goed wees.”

’n Tweede mening, wou sy sê, soos dokters wanneer hulle ’n diagnose maak van ’n kwaal met gewoonlik noodlottige gevolge. ’n Tweede mening té laat vir Mia Vermooten, vermoed sy nou.

En terwyl sy haar tande borsel, lui die selfoon ’n derde keer, nog in haar slaapklere; nee, dink sy, nie slaapklere nie, die klere waarin sy slaap. Die rugbybroek en T-hemp, albei ’n hele paar nommers te groot, is gerieflik vir slaap. Darem al ’n koppie koffie, swart en sonder suiker, tussen ma Vermooten en kollega Spottiswoode.

“Ek’t hom gesien,” sê die derde stem van die oggend, die geslag obskuur, diep en hees, soos iemand wat baie rook, of ’n chirurgiese prosedure aan die larinks gehad het.

“Wie praat?”

“My lugtyd is op, bel terug.”

Dalk ’n slag ordentlike nagklere ook gaan koop, vrouliker, in babablou of poeierpienk. Die klere waarin sy slaap die oorblyfsels van ’n gawe verhouding, maar dié het van innige hartstog tot rugbybroek en T-hemp opgedroog. Nou háát sy rugbyspelers, en vroue wat hokkie speel.

Sy druk Reply. Geen aanpas van sjiek toppies vandag nie, die óú staatmakers sal eers nog moet doen.

“Ek bly op Alberts Farm,” sê die stem. “Is daar geld vir inligting oor die berig in die koerant van die dooie vrou?”

“Nog nie ’n beloning nie, maar as jy inligting het wat kan lei tot die arrestasie en skuldigbevinding …”

“Hoeveel geld? Ek slaap langs die spruit.”

“Ek kan nie sê nie. Sal eers moet hoor wat die beloning is. Wat het jy gesien? Watse inligting het jy?”

“Ek’t Dinsdagnag iets gesien. Miskien ietsie vooruit, ’n paar rand? Ek’t nie kos nie, ek’t vier kindertjies …”

“Ons’t almal langs die spruit ondervra. Is jy nie ondervra nie?”

“Ek was weg. Ek’t Dinsdagnag van my broer af teruggekom. Ek’t gaan kuier. Vir my kindertjies. Dis toe ek in die park loop dat ek iets gesien het.”

“Wat’s jou naam? Waar kan ek met jou kom praat?” En as nagedagte, maar dit sal uit haar eie sak moet kom: “Ek sal ’n paar rand saambring.”

Die stem onmiddellik meer toegewend.

“Kry my by die ou grafte. Die munisipaliteit betaal my om die grafte skoon te hou. Ek’s nie ’n leeglêer nie. Gaan op die oomblik net deur ’n swaar tyd en als. Die resessie vang nie net die rykes nie, jy weet. My naam’s Susanna, jy kan my sommer San noem. Dis hoe almal my ken. San. Jy sal my sien; ek sal by Sophia Alberts se graf wag.”

Die resessie, wil sy sê, is verby. Maar vra: “Hoe laat?”

Die sel reeds afgelui.

’n Ooggetuie, dink sy, spoel die tandepasta in haar mond uit, klim onder die stort in. Ook die beenhare sal moet wag, darem verberg onder die langbroek. Maar dié sal moet af voor sy weer in die gim kom. Sy het ’n moontlike naam en adres van die slagoffer, en twee mense wat ’n uitkenning kan doen. En San het iets gesien. Ná drie frustrerende dae het sy binne ’n uur op ’n vroeë Saterdagoggend ’n groot deurbraak gemaak in haar eerste moordondersoek. Miskien sal sy tóg verplig wees om ’n ietsie saam met Andy Collipepper te gaan eet, al is dit net ter wille van hulle sosiale kontrak. Hy het nie die lyf en voorkoms van ’n rugbyspeler nie, en al het hy ’n rugbybroek gehad, slaap sy eerder kaal as in sý skubberige broek of hemp.

Terwyl sy haar hare uitskud en afdroog, bel sy vir kolonel Silas Sauls.

“Ek wil die vrou gaan ondervra.”

“Wat van die uitkenning?”

“Kan iemand anders gaan bystaan?”

“Dis nie net vir uitken nie, adjudant. Onderhoude moet gevoer word, ondervragings gedoen word. Ons moet te wete kom van Mia Vermooten se bewegings en gewoontes en vriende.”

“Ek kan nie op twee plekke gelyk wees nie, kolonel. Ek dink ’n moontlike ooggetuie moet in hierdie stadium eers my aandag kry, voor sy verdwyn, of voor alles vervaag wat sy gesien het. Sy’s nie iemand met ’n vaste adres of geheue nie. Sy woon by die spruit. Ek’t niks teen mense wat by ’n spruit bly nie, maar hulle is geneig om aan kort geheues te ly.”

’n Oomblik, maar nie van stilte nie, asof hy kou, sy brekfis eet.

“Ek sal gaan.”

“Sélf gaan? Is jy seker? Fred Lange of iemand kan gaan.”

“Sê mos ek sal gaan, hou op karring.”

“Dis net ’n voorstel, hoef nie my kop af te byt nie.”

Kalmer: “Ek sal self gaan en met hulle gesels ná die uitkenning, hulle besig hou tot jy opdaag. Vir Bets van Crosby en kollega Spottiswoode.”

Sy vra hom liefs nie of sy kan terugeis vir ’n voorskot aan ’n informant nie. Nie as hy so knorrig is oor sy Saterdagoggend in ’n lykhuis nie. En streekkommissaris Pitso sal die horries kry; tel elke sent in sy begroting. Ou dokter Koster. Dié gaan nie knorrig wees nie, bloot bedonnerd, as sy hóm moes pla om ’n liggaam vir uitkenning gereed te kry. Nee, dink sy, veel beter om eerder vir San te gaan kuier by die ou graftes van die stigters van Sophiatown, Albertsville en Albertskroon. In haar beursie die geld wat sy getrek het vir ’n toppie en broek en sandale, prêt-à-porter by Woolies. ’n Deel daarvan nou bestem vir San van die spruit wat finansieel erg gedruk word deur die afloop van die internasionale geldkrisis. Wat met vier kindertjies in die sorg van ’n broer sukkel om kop bo water te hou, al help die parke-afdeling van die munisipaliteit met ’n grafhonorarium. Maar Ella Neser het geen twyfel nie: haar kleregeld gaan sorg vir groot makietie vanaand langs Montgomeryspruit.

Sy skink nog koffie saam met ’n sny roosterbrood om haar vir San van Alberts Farm te versterk. Nou die voordeurklokkie, en dit is skaars agtuur op ’n Saterdagoggend. Sy maak die voordeur oop. Hy staan buite die hek op die sypaadjie. Sy sien die letsel waar die soolknoppe van ’n rugbyskoen die vel van sy voorkop in ’n losskrum gekloof het. Sy het hom sélf gevat vir vier steke en elke aand die wond ontsmet en getroetel. Sy druk die deur toe.

Weer die klokkie en oor die interkom beveel sy: “Gaan weg!”

“Ella …” sê hy.

“Gaan weg.”

“Kan ons praat? Net vir ’n rukkie?” Sy stem blikkerig, smekerig.

Haar mond by die interkom. “Ons’t klaar gepraat.”

“Nie ek nie,” sê hy. “Ek’s nog nie klaar nie. Jy hoef niks te sê nie. Jy kan net luister.”

“Ek’s besig.”

“Net vyf minute.”

“Ek’t twee weke niks van jou gehoor nie, nou vra jy vyf minute?”

“Ek bel jou, jy antwoord nie. Ek los boodskappe, jy reageer nie. Dit was ’n fout, Ella. Ek’s jammer.”

“’n Fout? Jy’s jammer?”

“Ja, baie jammer. Weet nie hoekom ek dit gedoen het nie. Kan dit nie verklaar nie. Het net gebeur. Sy beteken niks vir my nie.”

“O, sommer net gebeur. Soos ’n dekhings. Nou’t jy klaar gedek, twee weke lank, en jy wil terugkom want sy beteken niks vir jou nie. Skoert nou, Bam, sodat ek my werk kan gaan doen?”

“Ella …”

“Lóóp!”

Sy staan met haar kop teen die muur en hoor sy kar wegry. Niemand is sonder foute nie, en foute word reggestel. Maar ongedaan maak, só ’n fout?

Die hekkie het ’n geroeste slot aan, die ogiesdraad weggedruk vir toegang. As sy skoonmaak, is dit nie-amptelik en sonder permissie, vermoed Ella toe sy ook deurklim na die grafte toe.

San leun met ’n elmboog teen die graniet-obelisk van Sophia Catharina Geldenhuys (Geboren Alberts). Geboren 15 Julie 1887 te Waterval. Overleden 19 Mei 1927 te Waterval.

Dieselfde liggaamstaal, dink sy grimmig, as die verkoopsman van gebruikte karre by wie sy haar Citi Golf gaan koop het. Geen afslag nie en vyf duisend kilometer later brand die suiers vas. Maar dit is die kans wat ’n mens vat met verkoopsmanne en misdaadinformante; almal wil jou geld hê en in die kleinskrif verneuk hulle jou.

“Jy nie bietjie jonk vir ’n moord nie?” word sy begroet.

“Wat het jy gesien, San?”

“Word ek betaal vir my informasie?”

Sy haal die sigaret tussen haar lippe uit en poets die graniet met geel nikotienvingers.

“Ek sal jou iets gee, ’n voorskot. Ons doen dit nie gewoonlik nie. Ons betaal eers uit wanneer ons ’n verdagte gearresteer en die hof hom skuldig bevind het. Dis die prosedure.”

“Maar sonder informasie, hoe kan julle ’n verdagte arresteer? En ek weet hoe lank die howe vat. My broer se saak was jare.”

“Ek dog jy’t Dinsdagaand by hom gaan kuier?”

“Ek hét. Hy’t net ses maande gekry, lankal uit.”

Haar oog op die grafnaald se kleinskrif: En God zal alle tranen van hunne oogen afwisschen; En die dood zal niet meer zyn. Noch rouw, noch gekryt, noch moeite zal meer zyn; Want de eerste dingen zyn weggegaan.

“Hoe laat was dit? Wat het jy gesien, San?”

“Ek’t iets gesien. Dit was omtrent middernag. Miskien later.”

“Kom wys my.”

Deur die gras in die rigting van die dam.

“Hoeveel moorde het jy al ondersoek?” vra San. “Het jy ’n geweer?”

“Wat presies het jy gesien? Was dit nie ’n voël of ’n dassie nie?”

“Hier’s nie dassies nie. Net doer anderkant op Melville se koppies.”

“Miskien ’n skaduwee van boomtakke?”

“Ek ken skaduwees en ek ken dié plek. Dit was ’n mens.”

Sy stuur hulle dam toe, onder die wilgers deur waar die liggaam gelê het, tussen die lang gras en riet voor hulle ’n veldpaadjie vind na die drassige uitvloei van die dam in ’n kleiner leliedam so honderd tree stroomaf. Die lelies duidelik in ’n moedige dog verlore stryd om oorlewing teen ’n indringerspesie; nie hiasinte nie, ’n verige, drywende loof wat sy herken maar nie die naam nie. Sy buk in die modder, kry ’n stuk beet en breek dit af.

“Parrot’s Feather,” sê San. “’n Pes.”

“O, jy weet.”

Ella effe verbaas, maar het in haar werk gou geleer om nooit té verbaas te wees nie, om mense nooit op die baadjie te takseer nie. Hulle verras jou altyd, veral die straatslimmes.

“My ma’t van hulle in haar visdam gehad toe ek klein was. ’n Pes, jy kry hom nie uit as hy eers vat nie.” Sy beduie na die nabygeleë huise van Northcliff oorkant lae grenspale. “Ek’t hier verbygeloop van De La Rey-straat af. Dis waar my broer my kom aflaai het. Daar op die hoek van De la Rey en Zulu. Ek’t hier deurgeloop terug spruit toe.”

“Toe sien jy die figuur?”

“Hy moes hier kortpad deur die veld gevat het. Miskien het hy nie van die vlei en leliedam geweet nie.”

“Hy? Was dit ’n man wat jy gesien het? Was hy alleen?”

“Hy was alleen. Hy’t soos ’n man gelyk. Maar sy gesig was snaaks, sy gesig maer en lank, soos dié van ’n vrou. ’n Wit gesig, soos ’n gees.”

“Kon jy gelaatstrekke uitmaak, San?”

“Dit was donker, net ’n sekelmaan.”

“Sal jy hom vir ’n kunstenaar van die polisie kan beskryf sodat hy ’n skets kan maak?”

“’n Identikit?”

“Ja, jy weet van identikits. Ons soek ’n identikit.”

“Ek kan probeer, maar hy was al halfpad straat toe.”

“Kan jy sy klere beskryf?”

Sy peins, vroetel na haar pakkie sigarette. “Donker klere, is al wat ek onthou. Ek’t na die gesig gekyk. Oor dit so ’n snaakse gesig was.”

“Het jy gesien toe hy wegry? Kan jy miskien die kar onthou? Daar was tog seker daardie tyd op ’n Dinsdagnag nie baie karre in De la Rey nie.”

“Dit was ’n kleinerige kar, is al wat ek weet. ’n Hatchback, miskien ’n bakkie met ’n kappie op, het dit gelyk. Maar as die ligte aan is, kan jy mos nie ’n kar in die nag eien nie. Jy sien net die ligte.”

Sy blaas die rook deur haar neus uit, beduie met sigaret tussen die vingers na die toneel terug by die dam waar Mia Vermooten se liggaam gekry is, oorkant die bosse en lang gras nog die flertse van die geel polisiebaniere in die skadu’s van die wilgers.

“Sien, dis daar waar hy haar gaan los het, toe vat hy kortpad hier verby heining toe.”

San het duidelik vroeër al die toneel kom verken. Soos tientalle ander nuuskieriges.

“Hy’t in die straat gestop, hier by Northcliff se kant? Nie daar oorkant by Agste Straat ingery nie?” sê Ella.

Sy vou die afgebreekte Parrot’s Feather in ’n Kleenex toe, haal haar selfoon uit en pons Silas Sauls se nommer op haar Speed List.

“Wat nou weer?”

“Ek weet dis ’n Saterdagoggend, kolonel, maar ek’t die kunstenaar nodig.”

“Bel hom.”

“Ek sal hom bel, maar ek’t ook weer ’n forensiese span hier by die leliedam nodig. Ons kan dalk leidrade kry op sy roete; skoenspore, vesel van sy broek aan bosse.”

“Ek sal Jimmy bel terwyl ek wag. Die tante en kollega het nog nie opgedaag nie, ook nie dokter Koster nie. Hou die publiek weg van die plekke wat die vrou uitwys. Kan sy vertrou word? Sulke mense doen en sê enigiets vir geld. Sorg dat dit nie verder gekontamineer word nie. En moenie geld belowe nie. Streek-kommissaris Pitso …”

“Ek dink sy’t beslis iets gesien; kan wel ’n verdagte wees.”

Draai terug na haar ooggetuie van die wit gesig in die sekelmaan.

“My lugtyd is op,” sê San.

“San, ek moet jou besonderhede kry, volle naam en kontak-nommer, en jou broer se adres. Ek kan nie Montgomery-spruit, Alberts Farm as adres aangee nie.”

“My rookgoed is ook op.”

“As die polisie kom, sal ek vir jou gaan koop. Is jy dors? Moet ek koeldrank kry, miskien tjips te ete?”

“Gaan jy my ietsie gee ook, ’n voorskot, soos jy gesê het? Ek’s dors, ja, miskien ’n bier. Ek drink Black Label. En Texan Plain.”

“Geen drank voor die skets nie. As jy met die identikit klaar is, kry jy ’n voorskot.”

“Ek’t gedog hy’s een van daardie kerkmense wat altyd Sondae hier langs die dam kom kerk hou. Hulle glo aan grootdoop, wee’jy. Sondae kom preek en doop hulle by die dam. Hulle sing en speel op tromme. Party Sondae, as ek nie besig is nie, kom sit ek daar en luister hoe hulle sing en preek.”

“Hoekom dink jy dit kan een van hulle wees?”

Ella notuleer elke woord van San se relase, hoe onbenullig ook al, elke afdwaling van haar onsamehangende gedagtes. Iewers, later, kan ’n terloopse of obskure opmerking tog wel ’n sinvolle leidraad oplewer, of tot een lei.

“Partykeer het van die kerkgangers se gesigte merke op. Jy weet, sulke wit smeermerke oor die wange en neuse. En hulle dra wit klede.”

“Jy meen merke soos godsdienstige simbole. Baie sulke vroue verf hulle gesigte wit, iets te doen met hulle geloof en gebruike. Suiwerheid, dink ek.”

“Simbole, ja. Ek’t eers gedog dis só ’n vrou. Maar die figuur in die maanlig het nie ’n wit kleed aangehad het nie, en wat sou sy alleen en so laat op ’n weeknag hier kom soek? Hulle’s Sondae altyd teen skemer klaar en weg.”

Sy trap die stompie se kool onder haar sool plat.

“Ek dink jy moet dit optel, San. Anders kry forensies dit en wonder of dit die moordenaar se stompie is.”

Sy buk af na die stompie toe.

“As jy my nie hier by die spruit of by my broer kry nie, is ek in Melville. My staanplek daar by die robot van Vierde Laan en Main, by die Roxy. Moet ek in die hof gaan getuig? My broer sê jy kry geld as jy gaan getuig.”

Hulle verskuif onder die takke van een van die groot koeltebome in, Ella se oë op die wandelaars in die park, bedag op enigeen wat dalk kan afdwaal en die roete van die nagtelike verdagte kontamineer.

“Waar was die visdammetjie waar die Parrot’s Feather jou ma soveel sorge gegee het? Waar’t jy grootgeword, San?”

Geduld, dit is die ander eienskap wat Ella Neser aangeleer het in haar betreklike kort loopbaan as moord-en-roof-speurder. Sy wag saam met San onder die boom, oë verskuil agter ’n sonbril. Sy wou ook graag ’n byderwetse sonbril gekoop het, saam met ’n nuwe toppie en langbroek en sandale. ’n Oakley. Die prys van ’n nuwe enjin vir die Citi Golf, maar sy mag droom, besluit sy. Aan Gucci dink sy nie eens nie.

“Lydenburg,” sê San.

“’Skuus?”

“Ons is van Lydenburg se Van der Merwes, dis waar ons groot-geword het. Ek en my broer. My ma’t ’n visdam met koi gehad. Toe verongeluk my pa, die Parrot’s Feather neem die visdam oor, die visse vrek, en die bank vat die huis terug.”

“Toe kom julle stad toe.”

“Toe kom ons stad toe.” Sy haal haar laaste sigaret uit, frommel die pakkie op, mik om dit met ’n vinger weg te skiet, druk dit in haar sak. “Maar net ek en my broer. My ma’t agterbly. Wat moet sy in die stad kom soek? het sy gesê. Dis ’n sondeplek, die stad.”

“Dis waar,” sê Ella. “Almal dink daar’s geld in die stad, en dan krepeer hulle.”

“My oupagrootjie het in die Boereoorlog geveg,” sê San. “In Louis Botha se kommando. My oupagrootjie was ’n held, maar niemand steur hulle meer aan daardie helde nie. Hulle word mos vergeet. Die Kakies het hom op Devil’s Knuckles geskiet.”

Ella kyk na San, verskuif die ou sonbril op haar hare.

“Devil’s Knuckles daar in die berge anderkant Lydenburg, net anderkant Mauchsberg. Ken jy dit?”

Ella skud haar kop.

“Daar’s ’n monument op Lydenburg vir die oorlog, vir almal wat daar gesneuwel het. Nie net vir die Boere nie, vir die Kakies ook, en vir ander. Hulle’t mekaar verniet doodgeskiet toe ou Paul Kruger al in Lourenço Marques sit, wee’jy. Dis wat my pa altyd vertel het.”

“Daar kom hulle nou,” sê Ella, die sonbril terug oor haar oë, op die polisiemotors wat by die parkeerplek in die park stilhou. “Hulle gaan jou saamvat vir die identikitskets. Ek sal jou kom haal en terugbring wanneer die kunstenaar klaar en tevrede is. Dan sal ek die voorskot vir jou gee.”

“Wat van die rookgoed, en ietsie om te drink?”

“Dit gaan koop ek nou, terwyl jy vir forensies die roete uitwys waar jy die figuur met die wit gesig in die sekelmaan sien loop het.”

In ’n vulstasiekafee by Northcliff Corner betaal sy uit haar klere-geld vir twee koeldranke, slap tjips en ’n pakkie Texan Plain toe kolonel Silas Sauls bel.

“Die tante en kollega het haar uitgeken. Mia Vermooten. Haar woonadres klop ook met die een wat die ma vir jou gegee het. Ek’t die tante se kontakbesonderhede gevat, en dié van die kollega, Tom Spottiswoode. Gesê jy sal hulle Maandag bel vir afsprake.”

“Forensies is aan die gang en ek’s nou eers klaar hier in die park, ry nou na haar adres toe.”

“Laat Jimmy nog ’n paar manne kry vir haar blyplek. Ek kry jou daar.”

Sy is voor die kolonel by Mia Vermooten se tuinhuis in Rosebank, in ’n veiligheidskompleks met elektroniese hek; gated complex, noem hulle dit. Sy druk Mia Vermooten se huisnommer op die toetsbord by die hek in. Geen antwoord nie. Sy pons ander huisnommers totdat sy by een antwoord kry, haarself identifiseer en die hek oopgly. Teen die hek ’n plaket van ’n sekuriteitsmaatskappy – Armed Response, ‘Do you feel lucky, punk?’ – verantwoordelik vir die huisalarms. Dit kos verskeie oproepe en dreigemente van dwarsboming van die gereg voordat ’n reaksievoertuig opdaag om haar polisie-identiteit uit te klaar en die huisalarm te deaktiveer. Hierna bel sy ’n slotmaker, en weer moet sy dreig toe hy op ’n lasbrief aandring.

Self nou nukkerig dink sy dat Silas Sauls veel minder oorredingsvermoë – en geduld – met sulke versoeke sou hê. Teen hierdie tyd terstond die deur al uit sy kosyn uitgeskop. Maak hulle nekke styf net omdat sy ’n vrou is.

“Jy’s dikbek, adjudant.” Hy hou agter die slotmaker stil. “’n Deurbraak, jy behoort bly te wees. Forensies nog nie hier? Dog julle’t die plek al klaar geprosesseer.”

“Jy’t self gesloer om hier uit te kom, kolonel.”

Op sy hemp ’n verdagte nat vlek, soos ’n vergeefse veeg met ’n klam lap oor ’n bloedkol. Sy vermoed tamatiesous.

“Agtuur vanoggend laas iets geëet.”

Die slotmaker stoot die deur oop.

“Pos jou rekening,” sê kolonel Sauls.

“Julle skuld my nog geld vir die vorige keer,” sê die slotmaker. “Dis al twee maande terug.”

Ja, besluit Ella Neser, op hierdie Saterdag is niemand besonder vrolik nie.

“Ek werk by moord-en-roof, nie by tesourie nie,” sê kolonel Sauls. “Pos jou rekening.”

“Ek sal dit persoonlik gaan aflewer,” sê die slotmaker. “En vir my geld wag.”

“Vat ’n slaapsak saam. Skoert nou, ons is besig met ’n moord-ondersoek.”

Die geklingel van die groot bos meestersleutels in die slotmaker se hande ineens stil.

“Is sy dood?”

“Dis polisiebesigheid.”

Die slotmaker klim in sy paneelwa en ry by die hek uit.

Ook luitenant Jimmy Julies van forensies is nie te ingenome om op ’n Saterdag, nou middag, te werk nie. Maar Ella weet dit is bloot uiterlike vertoon; wanneer hulle begin, is hulle sistematies en deeglik en laat hulle nie aanjaag nie.

Die kombuis en eet-sit-gedeelte is oopplan, vensterdeure uit na ’n agterpatio met netjiese klein tuin. Die res bestaan uit ’n enkele slaapkamer met en suite-badkamer. Weelderige dekor. Geen stukkende ruite, gebuigde of afgesaagde diefwering nie, geen gedwonge toegang nie. Netjies en ordelik, oënskynlik niks uit sy plek uit nie.

Die binnekant van ’n huis, dink Ella, sê baie van die bewoner. Hierdie plek soos ’n skouhuis, nie ontuis op foto’s in ’n glans-tydskrif oor binneversiering nie. Die duvet oor die bed nie haastig reggetrek nie, op die vloer nie stukkies onderklere of rugby-broeke en T-hemde waarin geslaap is nie, nie nat handdoeke oor die bad se rand of klere wat bo uit ’n vol wasmandjie uitpeul nie. In die kombuis geen skottelgoed in die wasbak of borde en bekers op die droograk wat nog weggepak moet word nie. In die sitkamer geen tydskrifte op die vloer of boeke oor moordenaars op koffietafels nie. Wel op ’n rak van blink vernis glansboeke oor antieke silwerserviese, Wedgwood-keramiek, Venesiese glasblasers en ou Kaapse meubels.

Duidelik versamel Mia Vermooten in haar soeke na oudhede ook waardevolle artikels vir haar eie genot en gebruik – en waarskynlik investering. Kwaliteite wat sy eerder in Johannesburg as op Touwsrivier sou aangeleer het. Langs die TV-kabinet sien Ella die pragtige tallboy, drie laaie bo, onder ’n deur, byna soos die een wat sy van haar pa geërf het, maar dié is van oregon. Sy maak die deur oop. Bottels drank: duur whiskies, konjak, vodka, rum. Op die tallboy trek ’n lang glasvaas haar aandag, Boergondies gekleur, langsaan ’n plat houtkissie, deurskynende lakvernis. Met haar voorvinger in die latekshandskoen stoot sy die deksel op, maar die tallboy te hoog om binne-in die kissie te sien, selfs al strek sy haar op haar tone. Sy haal dit af en plaas dit op die eetkamertafel. Op die deksel delikate insetsels van melkerige perlemoer, die fyn skarniere van geelkoper. In die kissie ’n eklektiese versameling artikels. Velletjies vierkantige wit papier, bruin kardoesies met inhoud wat vir die oningewyde oog en neus as gedroogde kruie sou voorkom, bongpype met elegante stele en koppe met gekompliseerde patrone en simbole gekerf, glashouers met wit poeier, ’n rooi Joker uit ’n pak speelkaarte.

Stoute Mia, dink Ella, roep haar kolonel nader.

“Sy kan die slagoffer van ’n verbroude dwelmtransaksie wees.”

“’n Klimvoël,” sê Silas Sauls.

“Met baie bling.”

“Ek sal rondvra oor dwelms.”

Sy ken die kolonel se rondvra. Sy eie, private kudde informante, nie een amptelik gekontrakteer nie, konglomerasie van lieplappers, snolle, straatlopers, suiplappe, skurke, en allerlei gebroedsels. Maar wanneer die kolonel begin rondvra, kry hy áltyd ’n antwoord.

“Miskien kry hulle bloed in haar huis,” sê sy. “Van daardie rugwond sou sy baie gebloei het.”

Luminol, wat op die hemaglobien-molekules van die rooi-bloedselle reageer, kan die geringste voorkoms van latente bloed aandui, selfs ná sorgvuldige opruiming.

“Geen teken van bloed nie,” sê Jimmy Julies. “Hierdie is nie die moordtoneel nie.”

“Jy’t nie gedink jou eerste saak gaan só gou opgelos word nie, adjudant?” sê Silas Sauls.

“Die bure het haar Sondagoggend laas gesien, niks vreemds opgemerk nie. Haar kar is ook weg,” sê Ella. “Dalk het sy Sondag al self na haar noodlottige ontmoeting met haar aanvaller gery.”

“Wat jou vermoede versterk dat sy hom moes geken het, dat sy nie ’n toevallige slagoffer is nie.”

“By die hek is ’n sekuriteitskamera. Sondag se opnames sal sê hoe laat sy by die hek uit is.”

Sy kyk na Silas, en dit kos hom net ’n enkele oproep na Armed Response, ineens hulpvaardig om die digitale CCTV-beelde in hulle operasionele kamer na te gaan van Sondag se kom en gaan by Mia Vermooten se toegangshek. Die enigste beweging by die hek wat Ella interesseer, is ’n wit Toyota RAV, registrasienommer dieselfde as dié wat Tom Spottiswoode van Mia se RAV verstrek het. Toe die RAV by die hek stilhou om uit te ry, is die tyd op die beeld 11:29, Sondagoggend 11 Augustus.

Sy oefen nie meer saans in die gim nie, nou soggens. Tot twee, drie weke gelede was dit nog haar roetine om saans gim toe te gaan, wanneer die rugbyspelers ook oefen. Sy het saam met die haker gaan oefen. En wanneer hulle klaar geoefen het, het hulle huis toe gery, in sy vier-by-vier met sy dik uitlaatpyp. Háár huis in Westdene. Dit is waar hy ingetrek het, in háár huis, en dit was lekker om hom daar te hê. Sy is langs die rugbyveld, sy verpleeg sy wonde, sy vryf sy seer spiere in, sy was sy wasgoed, sy kook vir hulle kos, sy raak in sy arms aan die slaap, met sy reuk van muskus en Deep Heat in haar neus. Twee weke gelede, nee, nou al drié, het álles verander. Nou oefen sy soggens, was net haar eie wasgoed, maak net vir haarself kos, en nie meer spek en eiers vir brekfis nie. En sy slaap alleen in ’n groot rugbybroek en T-hemp wat na wintergroen ruik.

Hierdie Saterdag is sy nie langs ’n rugbyveld nie, en wil nie dink aan wie sy wonde nou verpleeg, sy spiere invryf nie. Die aand ry sy van Mia Vermooten se tuinhuis Westdene toe en sien die vreemde kar voor haar hek. Sy stop, wag dat haar hek ooprol. Andy Collipepper klim uit. Soos ’n drol aan ’n wolkombers, is die uitdrukking wat sy onder die manne van die rugbyveld en moord-en-roof hoor.

“Wat soek jy hier, Andy?” vra sy deur die venster.

“Het julle al haar naam gekry?”

Hy stap saam toe sy inry.

“Jy kon gebel het.”

“Ek kon,” sê hy, “maar ek het nie. Ek wou jou persoonlik kom vra. Gaan jy my innooi?”

“Kom,” sê Ella. “Ek’t bier in die yskas. Drink jy bier?”

“Ja,” sê hy.

“Dis al drie weke oud.”

“Dis beleë,” sê hy.

“Ja, ons weet wie sy is. Dis waar ek my hele Saterdag deurgebring het. Met ’n moordondersoek.”

“Kan ek haar naam kry vir my berig? Is sy uitgeken, is haar familie ingelig?”

“Ja. Maar jy verswyg jou bron,” waarsku sy.

“Dis ons akkoord. Wat van ’n foto? Van haar in lewende lywe, nie van ’n lyk nie.”

“As jy saamspeel, kry jy ’n foto ook, maar eers volgende week. As jy saamspeel, kry jy volgende week saam met die foto ook ’n identikit.”

“Jy’t ’n verdagte, so gou?”

Hy lyk beïndruk, drink ’n tweede beleë bier, stapelvoedsel vir rugbyspelers, en is nie haastig nie.

Haar sel lui. Sy herken die nommer, en antwoord nie. Dit is nou omtrent die tyd op ’n Saterdagaand dat sy die watte en jodium en Betadine sou uithaal, die kamfer en comfrey, die Deep Heat en wintergroen.

Andy Collipepper staan op. “Jy’s seker besig op ’n Saterdagaand. Sal jou bel vir ’n ordentlike afspraak, nie inval en jou bier kom drink nie.”

Nie mý bier nie, wil sy sê. Maar swyg, anders sit hy dalk weer. En nee, sy is nie meer op ’n Saterdagaand besig nie, drie weke al nie, maar dit sê sy ook nie. Sy wil hê hy moet loop, sy wil alleen wees. Sy wil oor Mia Vermooten dink. Loop nie saam hek toe nie, maak dit net van die deur af met afstandbeheer oop sodat hy kan uitstap, en sien nie die bakkie in die aandskemerte ’n ent straataf nie.

Abel se ontwaking

Подняться наверх