Читать книгу Pienk is nie vir sissies nie - Christien Neser - Страница 6

4

Оглавление

With all the mud and dirt, mountain biking helps break down the stereotypes of what women should look like. – Carol Waters, The quotable cyclist

“Eina.”

Iewers uit Nicci se keel kom ’n geluid soos dié van ’n klein katjie. Die hou het haar skuins teen die helmet getref. Haar bril het op die grond gespat.

“You sit here, boy. Phone?” sis die een links, Blou Helmet. Rewolwer in een hand, baksteen in die ander: “The pockets!”

Hande in die sakke van haar fietsrytop. Die klein outjie bewe, hy tas lomp rond. Haar halfgeëte piesang waai eenkant toe. Lipsalf en die pakkie snesies wat sy saamdra.

Waar is die foon? Waar het sy dit ingedruk? Lê die ding by die huis? Het dit uitgeval?

“Huh-uh.” Die jongetjie staan weg. Hy skud sy kop.

Blou Helmet, lap oor die neus getrek, kom buk voor haar.

Vreemde hande ruk haar rugsakkie met water af.

Nicci probeer praat, maar haar keel is dik. Niks van waarde in die rugsak nie. Net water! Die woorde wil nie uit nie.

Blou Helmet skud die sak, smyt dit neer. Haar foon is …

Skielik lig hy die baksteen.

Sy koes. Vergeefs.

’n Slag. Haar kop binne-in die helmet bars aan stukke, haar ore sing.

Nog ’n hou.

Gierttss, kraak haar helmet. Dan spat nog iets in stukke … Die BikePro!

“Stop!” Die jongetjie se stem bewe.

Aksent. Engels is nie sy eerste taal nie.

Lippe – pienk, droog, gebars – roer by die opening van die balaklawa, maar g’n geluid. Sy voortand … getjip.

Hy tel haar fiets op, stel die saal vir hom hoër. Hy’t volvinger-handskoene aan en sukkel met die gereedskap. Sy moersleutel val in die gras.

Dom, dink Nicci. Mens werk nie met handskoene aan nie …

Blou Helmet dink beslis ook so, want hy bulk ongeduldig, buk dan en tel Nicci se bril op.

Haar splinternuwe Rudy Projects-bril, veerlig en super sterk. Vier maande se sakgeld.

Hy vee die lense met sy mou skoon en sit dit self op. Heeltyd kyk hy na die top van Heartbreak Hill.

Na dáár waarvandaan Nicci se hulp moet kom.

“Shoes! Helmet!” blaf Blou Helmet.

“Shoes?” vra die jongetjie verbouereerd.

“Yes. Quick.”

Die outjie kom kniel by haar en vat haar linkervoet in al twee bewende hande vas. Hy kyk stip na haar: “Sit still. Shhhh …”

Nicci se maag ruk. Wat …? Wat gaan die ou nou maak? Haar platdruk? Haar …?

Maar hy trek haar linkerskoen af en kyk na die inklamp-sisteem agter op.

’n Steekpyn flits deur haar kop toe hy met die regterskoen begin sukkel. Die knippe aan dié skoen is styf. Elke pluk aan die skoen laat iets agter haar linkeroog ontplof.

Als wil weer swart word.

“Sorry,” sê hy sag. “Sorry, man …”

“Shhhh!” Dis Blouhelmet-man.

Die hand met die rewolwer is nou reg voor haar. Iets fout met die hand … Sy probeer wegkyk, maar sy is op ’n siek manier gehipnotiseer. Een van sy vingers is weg.

Middelvinger? Ringvinger?

Blou Helmet vloek lelik. Hy por die seun met die rewolwer se loop aan.

Nicci knyp haar oë toe, loer tussen wimpers deur.

Die outjie gaan sit plat en trek sy rooi tekkies uit. Hy prop hulle lomp in sy rugsak. Selfs met die balaklawa aan lyk hy onskadelik.

Die sonlig blits op wit wimpers. Hulle’s nat.

Hy tjank! Hoe oud sou hy wees?

“Your size?” vra Blou Helmet hom.

’n Knik.

“Go! Papa’s waiting.”

Nicci sluk swaar. Dáár trek haar nuwe fietsryskoene, haar nommersewes. Vervlakste paar groot pote van haar! Dis die prys wat mens betaal vir lang bene, moes sy haarself al baie keer in skoenwinkels troos. Min meisies dra ’n sewe. Met haar balletskoene was dit altyd ’n krisis.

Klaarblyklik is dit net die perfekte grootte vir ’n maer dief.

Sy wil hom uitskel, hom vra of sy ma weet waar hy is en wat hy aanvang. Hy’s net ’n seun, demmit!

Haar kake is met skroewe vas. Haar tong bly teen haar tande vasgeplak.

Stemme!

Ben-hulle?

Die seun kyk op.

“Helmet!” Die man beduie met sy rewolwer en begin hardloop.

Hy verdwyn tussen die bosse by die spruit.

Die seun buk, knip haar helmet met bewende vingers af. Hy voel aan die BikePro. Skud die helmet. ’n Stuk van die kamera spat los en rol weg.

Die stukkie wat oorbly, knip hy af en smyt dit in die bosse in. Sy handskoen vlieg saam af.

“Donner!” Hy buk om die handskoen op te tel. Sy pinkienael is potblou.

Het hy nou net Afrikaans gepraat?

Nicci knipper haar oë. Hoor sy dinge? Sien sy gesigte? Sy probeer iets sê. Sy hand …? G’n spoeg in haar mond nie.

Die outjie druk die helmet bo-oor die balaklawa op sy eie kop en maak die knip onder sy keel vas.

“Sorry, man. Sorry,” mompel hy steeds hurkend langs haar.

Dan gooi hy sy been oor Nix se saal en klik sy voete moeiteloos in haar pedale in. Hy lig die voorwiel van haar Specialized met gemak oor die rand van ’n rotsrif en sny kortpad deur die veld.

Reguit grootpad toe.

Nicci voel hoe haar maag opstoot. Suur brand haar keel. Sy gaan staan op haar hande en knieë.

Sit still, boy.

Hulle het gedink sy is ’n seun! Dis die enkele gedagte wat allesoorheersend in haar seer kop klop.

Sy sak op haar sy neer, trek haar knieë op en vou haar arms teen haar lyf.

Sorry, man?

Sy vroetel aan die soom van haar sportbra. Kon hulle nie sien sy is ’n meisie nie?

Lyk sy regtig soos ’n seun? Ook vir Evan?

Pienk is nie vir sissies nie

Подняться наверх