Читать книгу Reëls van die spel (Ultrasatyn) - Collette Berg - Страница 4

Twee

Оглавление

Dis ’n stil Sondagmiddag waarop Leila en Karla elkeen met ’n koeldrank op die tuinstoele in die meenthuis se agtertuintjie sit. Die koelteboom gooi al digte skadu na die winter en hulle verlekker hulle in die rustigheid van die middag. Elkeen is versonke in haar eie gedagtes.

Die meestergraadstudente se finale klasse was hierdie week. Sy het haar bes gedoen om haar gedagtes weg te stuur van Lukas en haar byna tasbare drome snags, maar haar pogings was vergeefs. Hoe meer sy op ander dinge probeer fokus het, hoe feller was haar hunkering na hom. Nou is haar tyd verstreke. Die komende week sluit hy sy voorgraadse klasse af en dan gaan hy weg. Waarskynlik sal sy hom nooit weer sien nie.

“Was jy al ooit verlief, Karla?”

Karla glimlag verbaas toe Leila die stilte verbreek. Miskien omdat sy die vraag absurd ag. “Natuurlik was ek al. Ek is ses en twintig.” Met haar vingers in die lug begin sy tel. “In my eerste jaar was daar ’n paar ouens wat my kop laat draai het. En die hartebreker van die Volksblad toe ek die internskap daar gedoen het, hy was ’n sportjoernalis. Onthou jy? Ek dink jy was toe tweedejaarstudent en ons het nog nie ’n huis gedeel nie. En Louwrens. Ek gaan oefen nie saam met hom omdat ek dink dis goed vir my nie.”

“Ek weet jy wás al verlief, maar was dit regtig verlief? Soos wanneer jy vergeet hoe laat dit is. Of wanneer jy oor rooi verkeersligte ry omdat jy niks raaksien nie. Jy dink aan hom terwyl jy eet, tande borsel, oefen, swot, met jou ma oor die telefoon gesels. Elke oomblik van elke dag. Jy kan nie sonder hom nie. Só verlief.”

Karla lag, maar kyk dan ondersoekend na Leila voor sy haar kop skud. “Nee, ek hou van in die bondel verlief wees. Hoe meer siele, hoe meer vreugde.”

“Kry mens ooit so iets?”

“Jip. Dis wat ek metro-liefde noem. All for one and one for all. Vry in die bondel. Dis die opwindendste en die beste advies wat ek jou kan gee. Jou probleem is jy het nog altyd geglo daar is net een man vir jou.”

“Nou praat jy strooi. Ek dink jy is meer clueless as ek.”

“Nee, regtig. Ek hou van my liefdes vinnig en intens. Wham, bam, thank you, ma’am.”

Leila kan nie help om te lag nie. “En ek het gedink ek ken jou. Die tipe verliefdheid waaraan ek dink, is beslis nie wat jy beskryf het nie. Ek dink daar is iemand vir my.”

“O, gaats, moenie vir my sê jy het iemand ontmoet en nou wil jy die res van jou lewe met hom deurbring nie. Nie in hierdie eeu nie, vriendin. Jy is te jonk daarvoor. Vroue behoort te beproef, te beleef, weer te beleef en dán eers ’n keuse te maak. Kyk wat het met daardie ou Watsenaam van jou in Engeland gebeur. Een oomblik hou hy vol jy moet by hom intrek, die volgende oomblik vind jy uit hy hou die bed van al wat vrouekollega van jou is om die beurt warm.”

“Juis. Ek het my voorgeneem ek is klaar met mans. Dat ek nie weer en wéér wil beleef nie. Maar nou weet ek nie wat met my aangaan nie. Ek kan die man nie uit my kop kry nie. As hy my vandag vra om te trou, vra ek nie eens ouers nie. Ek gaan sê hulle wanneer ons van honeymoon terugkom. Ek dink ek wil my lewe saam met hom deurbring.”

“Dis nie hoe dit werk nie, Leila. Luister na my, want dis goeie raad. Jy kan nie nou al weet nie. Vry die ou net en kry hom uit jou sisteem. Daar is nog baie visse in die see. Gee jouself ’n paar jaar kans, man; gee jouself tien jaar voor jy sulke besluite begin neem. Daar is nog baie ander mans wat jy eers moet ontmoet en beproef.”

“As ek geweet het hoe om hom te vry het ek al lankal, glo my. Maar vir hom is ek net nog ’n student.”

Karla kyk met meer aandag na haar. “Nou hoe kan jy weet of jy die res van jou lewe met die man wil deurbring? Ag nee, Leila, ons is darem nie meer op hoërskool nie. Het jy al ooit met die ou gepraat?”

“Ja, ons praat gereeld. Maar nooit oor iets persoonlik nie. Dit help nie ek droom nie – ’n verhouding tussen ons sal verbode wees.”

“Dit klink kinky.” Karla se oë blink ineens. “Is hy oud, getroud of gay?”

“Karla!”

“Oukei. O, jy soek dus ’n manier om kontak met hom te maak sodat jy hom kan vry?”

“Jy kan dit seker so stel. Maar ek weet nie of ek dit moet waag nie. Juis omdat so iets onvanpas sal wees. Boonop is hy heelwat ouer as ek. Dis seker beter om van hom te probeer vergeet. Daar is in elk geval nie tyd vir ons om mekaar te leer ken nie. Ons albei verlaat die universiteit. Hy nog voor my.”

“O la la. So hy hét ervaring. Vergeet kan jy beslis nie. Nee, dit is een van daardie dinge wat jy moet beleef, anders sal jy altyd wonder. Dink daaraan dat hy een van die groot visse is wat jy nie kan laat wegkom nie. Ons moet ’n plan maak. Wie is die ou, ken ek hom?”

“Jy weet wie hy is, maar jy ken hom nie. En ek gaan jou nie sê wie hy is nie, want dan gaan jy my die einde hiervan nie laat hoor nie. Ons omstandighede is nie reg nie en ek weet nie eens of hy miskien iemand in sy lewe het nie. Dalk is hy getroud.”

“Kan ek raai?”

“Nee, want ek wil nie jok as jy reg raai nie.”

’n Ligte windjie ritsel in die blare van die boom.

Leila luister na die voëltjies se gesels bokant haar kop. Seker twee lewensmaats. ’n Salige Sondagmiddag. Bloemfontein op sy beste.

Karla bring haar terug na die werklikheid toe sy haar teen die been raps. “Ek het twee woorde vir jou: Nadia Jonker.”

“Jou suster?”

“Jip, sy het al menige vroue raad oor hulle liefdeslewes gegee en ek weet van meer as een wat die happily-ever-after-ding doen. As jy iets oor die liefde wil weet, is Nadia die een om te vra. My sus is ’n wandelende gids tot verhoudings. Sy weet van liefde, hoor. Een van haar opdragte vir haar meestersgraad was ’n artikel oor die invloed van voorhuwelikse seks op die psige van vroue.”

Leila skaterlag. Karla se suster, Nadia, is ’n karakter wat sy verkies om van ’n afstand af te besigtig. “Ek twyfel of sy my sal kan help. Dit is ’n taamlik delikate situasie. Ek kan nie toenadering van my kant soek nie. Die man sal dink ek is van my kop af as ek nou skielik so kort voor die eindeksamen vir hom ogies begin maak.”

“Juis hoekom jy Nadia nodig het. Sy sal jou gou verby al die ongemak help.”

Leila lag weer toe sy die erns op Karla se gesig sien. Dié vriendin van haar is soms op haar eie planeet. “Oukei. Miskien. Ek sal daaroor dink.”

“Kom ons gaan sommer nou. Ek ry en dan stick jy my vir ’n koffie op pad terug.”

Nadia se woonstel is in die middestad. Leila was een keer vantevore daar, want Nadia is ’n joernalis by die Volksblad, selde tuis en byna nooit gretig om haar jonger suster en dié se vriendinne te onthaal nie.

Nadia is ook ooglopend verbaas toe sy die deur, sigaret in die hand, oopmaak.

Leila staan effens terug toe die twee susters groet. Nadia is boheems op ’n manier wat Sarah Jessica Parker in die skadu stel. Van die diepgroen kopdoek op haar blonde krulle tot die knalrooi sandale met die menigvuldige bandjies wat om haar skraal enkels gebind is. Haar verleidelik vol lippe is oranje geverf.

“Ons het jou hulp nodig, Nadia,” val Karla met die deur in die huis. Sy maak ’n wye armbeweging sodat Nadia kan sien dit sluit Leila ook in.

Nadia lig ’n wenkbrou, maar staan tog opsy. Haar magdom armbande rinkel toe sy beduie hulle moet instap. “Nou laat ek hoor. Daar is net twee dinge: Ek leen nie geld nie en ek babysit nie.”

Die woonstel is donker. Voor die vensters hang laag op laag wasige, veelkleurige materiaal. Die banke is oud en van vergeelde kunsleer. Dit kan nie eers as retro beskryf word nie, dis net afgeleef. Op die kombuistoonbank brand wierook wat die vertrek vreemd soet laat ruik.

Leila is nie seker of sy moet sit nie. Die wierookreuk is swaar en sy is lus om die deur oop te pluk sodat sy kan asemskep. Sy is oortuig Nadia sal geen sinvolle raad vir haar kan gee nie. Nommer een: sy twyfel of die tipe mans waarmee Nadia deurmekaar is in Lukas Strauss se kategorie val. En nommer twee: Nadia is weird. Sy sidder om te dink wat Nadia alles kan voorstel, maar hulle is nou hier en vir Karla se onthalwe sal sy voorgee dat sy belangstel. Sy is immers desperaat. Miskien onderskat sy Nadia.

Die stoel waarop Nadia gaan sit, lyk soos ’n fluweeltroon. “Goed, uit daarmee. Waarmee moet ek julle help?”

Karla kyk na Leila en toe Leila net haar skouers ophaal, antwoord Karla self. “Leila is verlief op ’n ouer man, wat haar nie raaksien nie, en sy wil weet hoe om sy aandag op haar te vestig.”

“Hoeveel ouer?” Nadia kyk na Leila, lank en opsommend sodat Leila ongemaklik op haar stoel skuif. Die jeans, toppie en sandale wat sy aanhet, voel ineens soos iets wat sy uit haar ouma se kas gegrawe het.

“Nie sóveel nie.” Leila kyk betigtend na Karla. Karla laat dit klink asof Lukas stokoud is. Sy huiwer ’n oomblik. Dit was nie haar plan om enige persoonlike inligting aan Nadia te verskaf nie. “Eintlik net tien jaar.”

Nadia knik en kyk steeds opsommend na Leila. Rook, wat sy liggies uitblaas, warrel voor haar gesig verby. As hulle in ’n fliek uit die vyftigs gespeel het, sou Nadia nou ringetjies geblaas het. Leila kan net hoop Nadia oordink haar antwoord mooi.

“Daar is twee dinge,” verbreek Nadia die stilte. “Nommer een: word groot. As hy ouer is, verwag hy ’n volwasse vrou wat weet wie sy is, wat sy wil hê en hoe sy dit gaan kry. En dis nie jý nie.”

Leila se mond val oop om iets te sê, maar Nadia hou haar hand afwerend in die lug. “Nommer twee: ons kan iets daaraan doen.”

“Ja?” Karla skuif gretig vorentoe op die bank. “Wat stel jy voor?”

“’n Basic Instinct.”

“’n Wat?” vra Leila en Karla byna gelyktydig. Leila vermoed sy wil nie regtig weet nie. Sy kyk na Karla, maar dié hang aan Nadia se lippe.

Nadia kyk meewarig na hulle. “Basic Instinct. Nog nooit daarvan gehoor nie, dames?” Toe hulle albei stilbly, skud sy haar kop. “Die fliek waarin Sharon Stone haar bene oopgegooi en haar vrouwees vir die wêreld gewys het.”

Leila deins effens terug in haar stoel. Sy was nog heeltemal te klein toe die fliek opslae gemaak het, maar sy weet presies wat dit is wat die wêreld na asem laat snak het.

“Moenie so geskok lyk nie. Jy hoef nie jou womanhood vir die wêreld te wys nie, net vir die gelukkige ou. Glo my, dis wat mans wil hê en dis al hoe hy ag gaan slaan op ’n poppie tien jaar jonger as hy. Anders kan jy hom maar vaarwel toeroep en kyk hoe ’n ouer vrou met meer woema hom inpalm.”

Leila het die ergste verwag, maar dít. Sy weet nie of sy moet lag of huil nie. Die vrou is van haar sinne beroof. Haar raad is so banaal, so sonder inhibisie. Was vroue al desperaat genoeg om daarvoor te val?

Nadia haal haar skouers op. “Dis my raad. Take it or leave it. Maar ek kan jou waarborg jy gaan spyt wees as jy dit nie doen nie. Môre, oormôre spring hy in die bed saam met iemand anders. En dit kon jý gewees het. Die vroue wat kry wat hulle wil hê, is die vroue wat doen wat gedoen moet word. Nie muurblommetjies wat wag dat ’n held op ’n wit perd hulle moet oppik nie.”

Hulle maak aanstaltes toe dit lyk asof Nadia haar sê gesê het. Toe die deur agter hulle toegaan, slaan Karla haar hande in vervoering saam. “Ek het jou mos gesê Nadia weet waarvan sy praat.”

“Ag nee, regtig, Karla.” Leila kyk verstom na haar vriendin. “Jy is nie ernstig nie. Het jy sowaar alles wat sy gesê het vir soetkoek opgeëet?”

“Oukei, oukei. Dis miskien bietjie over the top. Maar ek het regtig al gesien hoe haar raad vroue se lewens geraak en verander het.”

“Wel, miskien het sy húlle nie aangeraai om ’n Basic Instinct te doen nie. Ek dink sy het iets in. Dalk het die wierook haar brein aangetas.”

“Kan miskien wees, maar watter ander opsies het jy? Jy kan seker na hom toe gaan en sê jy wil hom graag beter leer ken. Maar as dit ’n verbode liefde is soos jy sê …” Karla laat die woorde betekenisvol in die lug hang. Haal dan haar skouers op. “Vir jou om te besluit, vriendin. Vir jou om te besluit. Moet hom net nie verloor omdat jy te bang is nie.”

Leila lag. Sy kan hoor Karla is lus vir drama. Kopskuddend klim sy in die motor.

“Dis so duidelik soos daglig dat jy en Nadia familie is. Ek hoef nie daaroor te dink nie. Nadia se voorstel is buite die kwessie. Toe,toe, ry dat ek vir ons koffie kan koop. Ek is desperaat om van die beeld in my kop ontslae te raak.”

Die nag was nie lank genoeg gewees nie, besef Leila die volgende oggend toe sy ietwat beneweld tussen werklikheid en fantasie op haar bed lê. Onwillig om haar oë oop te maak omdat sy die beeld in haar kop nie wil laat gaan nie.

Sy sit voor hom, die sagte swart leer van sy lessenaarstoel knus onder haar. Haar bene is wyd oop. Haar broekie is in haar handsak geprop. Haar hart klop wild toe hy haar sien. Sonder om te skroom waaier haar bene uitnodigend oop. Hy sluk en draai die sleutel in die slot. Haar borste punt onder die dun toppie. Skielik wens sy sy het die toppie ook reeds in haar handsak gedruk. Die begeerte in sy onderlyf toe hy stadig naderkom, hou haar blik vasgenael, en die klopping in haar word wilder. Daar is klammigheid tussen haar dye en sy verkneukel haar in die gevoel van afwagting. Sy lig haar effens sodat hy sonder twyfel kan weet wat dit is wat sy van hom wil hê en wat sy hom bied. Toe is sy in sy hande.

Hy laat haar net so op die stoel sit, hou haar oë gevange en haar bene oop terwyl hy stadig op sy knieë sak. Sy oë is smeulend in hare.

Haar asem steek in haar keel toe sy kop tot tussen haar bene sak.

Leila kom met ’n snak na asem orent, haar hart wild in haar bors. Sy kyk in die spieël en weet wat dit is wat sy moet doen. Om langer uit te stel gaan haar mal maak en haar heel moontlik hierdie eksamen laat druip.

Die beddegoed beland in ’n bondel op die grond toe sy opspring. Sy pluk die kasdeur oop en blaai deur die hangers. Wat sal gepas wees? Haar blik val op die kort grys minirompie. Sy het dit destyds by ’n vooraanstaande Londense winkel gekoop. Die snit en lengte pas haar goed en sy voel altyd sexy wanneer sy dit aanhet. Dit sal werk. Die materiaal van die moulose grys en wit toppie wat daarby pas, is dun. Gepas vir die okkasie.

Die stortwater is koud, maar sy draai die krane nie warmer nie. Sy wil nugter geskok word, maar dit gebeur nie. Daar is net één ding wat sy wil hê en sy kan haar nie meer keer nie. Dit duur skaars twintig minute om te stort, tande te borsel en grimering liggies aan te wend. Haar hare blaas sy net effens droër. Daar is nie tyd om te eet nie. Sy wil in Lukas se kantoor wees voor die eerste klasse begin en voor haar nuutgevonde dapperheid weer verdwyn. Sy kan nie bekostig om tyd te verspeel nie.

Dis nog vroeg en daar is baie oop parkeerplekke voor die gebou. Veral noudat die jaar tot ’n einde kom. Die fakulteit se deure is reeds oop. Die ontvangsdame is genadiglik nog nie op kantoor nie, maar die skoonmakers is reeds doenig. Doelgerig stap sy in die gang af. Wat sy gaan doen as hy reeds in sy kantoor is, weet sy nie. Óf omdraai en later terugkom, óf instap en die deur agter haar sluit. Genade, sy hoop daar is ’n sleutel in die slot, want wat sy beplan, moet agter ’n geslote deur gebeur. Miskien selfs meer. Nou of nooit.

Lukas het hulle in kennis gestel dat hy weggaan, maar nie verduidelik wat die rede daarvoor is. Miskien probeer hy sy privaat lewe privaat hou. Dit het seker niks met die studente te doen nie.

Dr. Lukas Strauss, lees sy die naam op die kantoordeur en haar hart mis ’n slag. Eers haal sy diep asem voor sy aan die knip voel. Die deur is nie gesluit nie. Versigtig stoot sy dit op ’n skreef oop, maar daar is niemand in die kantoor nie en sy glip verlig na binne. Druk die deur vinnig weer agter haar toe. Behalwe vir ’n stapeltjie papiere op die lessenaar is die kantoor feitlik leeg – soos dié van iemand wat dit nie meer gebruik nie. Langs die vullisdrom by haar voete staan twee toegeplakte bokse.

Haar oog val op die swart lessenaarstoel en haar harttempo begin ritmies toeneem.

Sy wil eerder nie dink aan alles wat verkeerd kan loop nie, want sy kan nie van plan verander nie. Dalk is dit juis dít wat in haar vorige verhouding verkeerd geloop het. Te min waagmoed.

Blitsig trek sy haar broekie uit. Prop dit saam met haar sleutel in haar skouersak. Toe neem sy stelling in op die stoel sodat sy kan besluit watter posisie die beste is. Eers sper sy haar bene so wyd sy kan – sal hy ooit iets kan sien? Visie is belangrik. Sy het êrens gelees mans is bo alles visueel ingestel. Toe haak sy een been oor die rand van die stoel, maar sy haal dit dadelik weer af. Dis ongemaklik en te prikkelpopagtig.

Eerder net gewoonweg sit, haar bene subtiel oop. As hy ’n ware man is, behoort hy niks te mis nie.

Dis terwyl sy so sit dat onsekerheid besit van haar neem. Sê nou hy is nie alleen nie? Sy weet nie wat die ergste gaan wees nie – ’n ander student of ’n dosent? Sê nou hy is in ’n vaste verhouding en sy skok hom uit sy geloof? Hopelik sal hy haar nie van seksuele wangedrag aankla nie. Sê nou hy vind haar nie aantreklik genoeg om die uitnodiging te aanvaar nie? Sy is nie sterk genoeg om deur hom verwerp te word nie.

Dit is die mees ondeurdagte ding wat sy nog ooit gedoen het. Sy word gedryf deur haar lyf en hormone. Daar is niks rasioneel aan wat sy beplan om te doen nie. Sy het nie gedink hoe een van hulle later hieroor sal voel nie. Genade tog, sy is grootgemaak om haarself en ander te respekteer. Maar sy wil nie langer teen haar gevoel vir hom stry nie. En dis waar – sy was nog altyd te versigtig. Dis tyd dat sy waag.

Sy wil vir Lukas Strauss hê, vir nou en vir altyd. Al moet sy dan ook haar lyf gee.

Sy sit nog so met haar bene oop toe realiteit haar soos ’n skoot koue water voor die kop tref. Dis nie ’n fliek dié nie. Die man gaan dink sy is van haar kop af. Miskien sou dié truuk gewerk het as hulle ou getroudes was en sy bietjie woema in ’n saai liefdeslewe wou blaas. Maar nie hier en nou nie. Sy spring op, gryp haar sakkie en mik na die deur.

Die aankomende stemme in die gang stuit haar in haar spore. Dis hý. Hy groet iemand en dan hoor sy hom voor die deur. Haar hart bereik ’n tempo wat haar byna laat stik. Ag, hel tog. Toe gooi sy haar sakkie op sy lessenaar en gaan sit weer op die stoel.

Haar bene wyd oop.

Reëls van die spel (Ultrasatyn)

Подняться наверх