Читать книгу Moerbeibos - Dalene Matthee - Страница 5

1

Оглавление

Vyftien jaar lank het ek, Silas Miggel, in vrede op die platrand by Gouna gewoon. Ek en my meisiekind, Mirjam. Op die elfde dag van Junie van die jaar 1881, net ’n dag na my vyf-en-veertigste verjaar, loop ek die môre by my deur uit om te gaan water skep by die vat en net daar skrik ek my stokstyf versteen op my voete:

Uit die boskloof aan die oostekant het ’n yslike houtslee met vier osse voor, en swaar gelaai met goed, gekom. Dit was nie godsmoontlik nie want daar was nie ’n pad nie. Daar kon nie ’n pad wees nie, nie deur daardie klowe en driwwe nie, daar was net die voetpad. En agter die eerste slee het ’n tweede een uit die ruigtes gekom. Groot slees, van die soort waarmee jy sware hout uitry. Ek sê vir myself: hou teë die skrik, dis ’n spokery. Ek glo nie aan ’n spokery nie, maar wat anders? Van waar ek gestaan het, kon ek nie uitmaak wie se slees dit was nie en ek begin nader stap soos een in ’n droom; jy loop en loop, maar dis of jy nie vorentoe kom nie.

Mirjam was vroegmôre weg dorp toe om winkelgoed te koop, êrens sou sy die slees langs die pad gekry het. Ek het son toe gekyk en die tyd gemeet: twee en ’n halwe uur se stap tot op die dorp, halfuur vir die winkel, bietjie meer as drie uur terug, want terug is nege myl se sware klim. Nee, sy was nie laat nie. Daarby het ek darem met die troos gestaan dat sy die geweer by haar het. Ek het haar nooit sonder die geweer laat loop nie en sy was sommer nog klein toe ek haar leer skiet het om goed te skiet.

’n Derde slee het uit die kloof gekom.

Die voorste een was Jacobus Gerber, houtkapper van Diepwalle, se slee. “Jacobus,” sê ek toe ek by hom kom, “wat vir ’n geneuk is dit vanmôre hier?”

“Moenie nog vra nie, Silas.” Sy baard was dae lank en sy oë rooi geaar. “Ons het op niks na nie bo by Witkop-se-draai verongeluk tot onder in die kloof.”

“Ek staat in verbasing lat julle nie verongeluk het nie,” sê ek. “Hoe de duiwel het julle tot hier gekom?”

“Vra my nie. Dis die vyfde dag vanlat ons die dorp uit is. Die meeste van die tyd moes ons die voetpad wyer kap en op plekke nuwe pad maak. Ons is tot niet. Die stomme osse ook.”

Daar was bondels en trommels en lanterns en kaste op die slee. “Wie se goed is dit?” Ek was bang om dit te vra maar ek moes, en Jacobus gee my nie antwoord nie. “Ek vra wie se goed dit is?”

“Ek het vir Mister White gesê hy gaat hom hier bo teen Silas Miggel kom vasloop, maar hy wou nie hoor nie.”

Slegter tyding as White se naam kon ek nie gekry het nie. Hy was die goewermentsman op die dorp wat oor alle vreemdes aangestel was: Superintendent van Immigrante.

“Waar’s White?”

“Agter iewers. En moenie my verkwalik nie, Silas, ek het verlede Saterdag ’n vrag hout uitgery en was net mooi klaar afgelaai toe hulle kom sê daar word houtslees gesoek om ’n treksel uit Gouna toe te ry. Pond ’n dag. Ek het my wa gaat uitspan en my slee gaat haal – so ’n genadetjie tref nie aldag nie. Die vervloekste houtkoper had my weer vrot beduiwel, ek moes eersteklas hout aflaai vir derdeklas se prys. Ek sien jy staat soos ’n boom so styf, ek het gesê hulle gaat hulle hier bo teen jou kom vasloop.”

Die tweede slee was Gert Stoffel s’n. “Is my Mirjam langs die pad by julle verby?” loop vra ek hom.

“Nee, oom Silas.”

My Mirjam was nie onnooslik nie, sy sou iewers in die ruigte geskuil het.

’n Vierde slee het uit die kloof gekom. Op die slee het ’n bondel kinders met groot swart oë al skommelend en klouend gesit. Agter die slee was ’n stuk of twintig stofvuil mans en swartgerokte vroue te voet. Van die vroue het geloop en huil.

“En dié?” vra ek vir Gert.

“Ek weet nie, oom, party van die vroumense huil al vanlat ons op die dorp weg is.”

Die osse het ’n wye draai oor die oopte gemaak, opgedam en tot stilstand gekom. Van die mans het die kinders afgetel en almal het na my kom staan en staar. “Waar’s die goewermentsman wat by julle is?” vra ek vir die naaste een.

“Scusi, signor?”

Dalk is hulle Engels, sê ek vir myself en slaan oor. Maar weer is dit net “Scusi, signor?” Nie Engels nie, nie Hollands nie. Hulle het nie soos Engelse gelyk nie. En toe begin hulle al meer om my saamdrom en dit praat en beduie in die vreemdste taal, dat ek verwonderd staan of hulle hulleself verstaan.

“Ek weet nie wat julle sê nie!” skree ek tussen hulle in. “Ek ken net Hollands en ’n paar monde Engels en dis al.” Twee van die mans het met ’n stuk plank gestaan. Op die plank, onder ’n nat sak toegemaak, was ’n vierkantige ding en ’n ander het met ’n emmer water geloop en die sak nog natter bly spat, kompleet of die ding gelawe moes word. “Wat het julle daar onder die sak?” vra ek, maar hulle verstaan my nie.

Toe sien ek White uit die ruigte kom. By hom was nog ’n vreemdeling en ek het dadelik gesien dis ’n Engelsman.

“Mister Miggel! Mister Miggel!” begin White roep toe hy my gewaar. Hy swaai sy arms en gaan te kere soos een wat goedertrou vooruit moet stuur.

Elke keer as White my gemistermiggel het, was daar moeilikheid.

“Met watse gedruis kom Mister vandag hier op my werf aan?” vlieg ek hom in toe hy by my kom. “Wil Mister hê ek moet van ontsteltenis neerslaan?”

“Wag nou, wag nou.” Hy het sy hand uitgesteek asof hy my wou wegdruk. “Laat ek jou voorstel aan Mister Christie. Mister Christie kom van Londen af en praat nie Hollands nie.” Hulle het soos osse gestaan en blaas.

Ek het die Christie-man ’n kyk gegee wat hom sommer laat verbyhou het. “Wat kom soek hy in die Bos as hy in Londen hoort?” vra ek vir White. “En watse geneuk gaat vanmôre hier aan?”

“Bly asseblief net kalm, Miggel, die mense is moeg en honger en ontevrede. Volgens die kaart in my besit is ons nege myl ten noorde van Knysna, maar die skelm houtkappers het ons met die vreeslikste ompad tot hier gebring sodat hulle meer geld uit die slees kon maak. Dis die vyfde dag vandat ons op die dorp weg is.”

“Beskou dit as ’n mirakel lat julle dit in vyf dae tot hier gemaak het sonder om te verongeluk. Daarby kan ek Mister die versekering gee lat daar nie ’n ompad hierheen is nie, en ek sal graag wil weet waarheen Mister nou eintlik met hulle op pad is.” In my hart het ek geweet, maar ek het nog bly hoop.

White het rondgetrap. “Ek het genoeg moeilikheid, Miggel, asseblief. Dis kroongrond hierdie. Jy weet dit al die jare, ons het dit vir jou gesê en jou gewaarsku. Ek bring die mense tot hier, ons trek nie verder nie, en dit sal nie help om my só te staan en aankyk nie, jy’t geweet dis kroongrond.”

Dit was of ’n wurggord om my gorrel slaan.

Kroongrond. Kroonbos. Kroongoed. Elke blêssitse boswagter se eerste en laaste verweer. Alles was die kroon s’n: bloubokkies, bosbokke, bosvarke, olifante, voetpaaie, sleeppaaie, wapad by Diepwalle. Elke boom in die Bos was kroon se boom en voor jy kon kap, moes kroon se liksens in jou sak wees. Voor jy jou geweer kon laai om ’n olifant te skiet, moes jy kroon se permissiebrief hê, want vang hulle jou daarsonder, is dit kroon se tronk toe vir sit of betaal. Nie dat almal hulle aan permissie of liksens gesteur het nie. Hulle sê Josafat Stander het meer olifanttande uit die Bos uit gesmokkel as wat die kroon kon tel en permissie het hy nog nooit van geniemand gevra nie. Die enigste geluk wat aan die kant van die bosmense gestaan het, was dat die kroon se bos te ontsaglik groot was vir die kroon se wagters om almal by te kom; ’n man kon darem gereeld van die kroon se wild vir die pot vang, solank jy net die strikke ver van die voetpaaie af gestel het. Boswagters is bang vir verdwaal, hulle swenk nie uit ’n voetpad nie.

En vra jy ’n boswagter wie die kroon nou eintlik is, kry jy by elkeen ’n ander antwoord: Queen Victoria; die goewerment; Jackson, die magistraat op die dorp; Mister White; kaptein Harison, die hoofbewaarder wat so min as moontlik sy voet in die Bos gesit het; of die honourable Barrington van Poortland, wat met tye in die kroon se parlement in die Kaap loop sit het. En dan was ek, Silas Miggel, die een wat moes loop kyk dat alles oorkant op sy grond nie vergaan nie. Soos ek die ding verstaan het, het net die liewe Here en die houtkappers nie sê gehad in die kroon nie. Gert Oog van Groot Eiland het eendag vir ’n wagter gevra aan wie hý reken die houtkappers dan behoort. Toe sê die man hulle behoort ook aan die kroon, aan wie anders? Toe stamp Gert hom in ’n byangelbos in en hy moes agterna loop os verkoop om skade te betaal. Solank jy binne-in die Bos op een van die ooptes, een van die eilande, gewoon het waar die kroon jou nie kon sien nie, was daar nie veel moeilikheid nie. Die kroon moes hout hê vir die treinpaaie en telegraafpale en hawens en stoele en katels en tafels, en die hout moes gekap en uit die Bos gesleep word en daarvoor moes daar houtkappers wees.

Die moeilikheidmaker was ek, Silas Miggel, wat op ’n dag die oormoed had om op die rand van Gouna se deel van die Bos, op die groot oopte wat ons die platrand noem, vir my en Mirjam te loop huis opslaan waar die kroon my openlik kon sien as hulle wou. Mirjam was toe nog nie twee nie. Maar lank voor sy mens was, het ek al sin gehad vir die platrand. Die jare toe ek nog voorkapper in my oorle pa se span was, het ons die osse op die platrand laat wei wanneer ons die keer in Gouna se bos kom kap het. Vir my was die platrand die mooiste stuk oopte: aan die westekant, dis nou na Poortland se kant toe, lê die diepe boskloof met die Knysnarivier onder in die ruigtes; aan die oostekant is dit weer die kloof waarin die Gounarivier en sy sylope ’n pad uitgekalwer het tot gunter onder om die voet van die platrand tot by die Knysnarivier. Noord lê die groot bos, dikbos, reënbos, hoogbos. Gouna se bos. Oubos. Dis nie ’n bang man se plek nie.

Ek was nie lank op die platrand nie, toe kom skel die eerste wagter: “Wie’t jou die reg gegee? Dis kroongrond hierdie! Jy moet afbreek en terugtrek Groot Eiland toe. Of Spruitbos-se-eiland toe, of Brandrug toe, of Barnard-se-eiland toe.”

“Aan wie behoort die eilande?”

“Aan die kroon, natuurlik.”

“Met ander woorde, ek mag op die kroon se eilande binne-in die Bos gaat bly, maar nie op die kroon se oopte hier by Gouna nie?”

“Dis reg.”

“Hoekom nie?”

“Dis grond wat eenkant gesit is.”

“Vir wie en vir wat?”

Dit kon die wagter my nie duidelik sê nie, hy’t voorgestel dat ek dit vir die goewermentsman op die dorp, die een wat oor die kroongrond aangestel is, loop vra. Daardie jare was dit ’n ander man, White het later gekom.

Ek het die wagters laat praat. Soms het hulle maande lank vergeet om te kom praat. Trek sou ek nie. Mirjam moes son en oopte en baie blou lug bo haar hê. Die olifante het hulle kleintjies son toe gevat as die Bos te koud en te nat word; ek het Mirjam son toe gevat omdat dit beter was om met haar eenkant te bly vir die dag as sy groot is en haar lot haar inwag. Sy was nie soos ander meisiekinders nie.

Ek was seker al goed ’n drie jaar op die platrand toe White, die nuwe goewermentsman, my eendag van sy klerk op die dorp laat voorkeer en na sy kantoor laat bring.

“Is jy die man wat hulle Silas Miggel noem?” vra hy toe ek met Mirjam voor sy tafel staan.

“Dis ek, ja, Mister. Eintlik is ek Silas van Huyssteen, maar ek staat bekend as Silas Miggel en hierdie is my meisiekind, Mirjam. Mirjam, groet die oom.” Sy’t hom die hand gegee soos ek haar geleer het en ek het gesien hy haal sy oë swaar van haar af.

“Dis ’n besondere mooi kind, Mister Miggel,” het hy half ongemaklik erken.

“Ja, dit is,” sê ek hom, “en ek maak haar alleen groot, want haar ma se siel het hierdie aarde verlaat net ’n uur nadat sy gebore is.” Dit was nie ’n ding waaroor ek ligtelik gepraat het nie, ek het dit maar sommer genoem in die hoop dat ek hom ’n bietjie saf sou kry. As jy uit die Bos kom, was daar min genade aan jou kant; wat jy het, moes jy gebruik.

“Ek verneem dat jy ’n man is wat homself wederregtelik bo by Gouna op die bosrand loop neerplak het. Op kroongrond. Die boswagters rapporteer aan my dat hulle reeds jare lank met jou sukkel.”

“Dis waar, ja.” ’n Mens moet nooit die waarheid bestry nie. En as ’n ander man klaar vererg sit, moet jy nie jou ook nog staan en erg nie. “Mister sien, ons bosmense is baie dom,” sê ek vir hom. “Almal hier op die dorp glo dit en probeer ons maar kul waar hulle kan – Mirjam, los uit die oom se pampiere! Omdat ek ook bosmens is en daarom min van verstand, verstaan ek nie hoe dit is lat ek tien tree die Bos in mag bly, maar nie tien tree uit nie. Ek sê Mister reguit, my arm is te kort om daardie voël te vang.”

“Gouna se platrand is kroongrond wat vir immigrante eenkant gehou word. Jy het seker nie veel verstand nodig om dit te verstaan nie, Mister Miggel,” kap hy my lekker.

“Nee,” sê ek, “seker nie. As Mister my dan net kan sê wat ek moet doen om ’n immigrant te word, sal ek baie bly wees.” Ek het goed geweet wat ’n immigrant is, ek wou hom maar net ’n bietjie wys hoe dom ek is.

“’n Immigrant is ’n persoon wat van ’n ander land af hierheen verhuis.”

“Van watter land af?”

“Van enige land af. Meesal van Engeland af, of van Holland af. Skotland.”

“Dan kom jy tot hier en die kroon gee vir jou ’n stuk grond present.”

“Nee. As ’n persoon as landbou-immigrant kom, word grond aan hom toegestaan wat hy jaarliks moet afbetaal.”

“Hoeveel grond?” Die man se geduld was min, maar ek wou weet.

“Twintig akker.”

“Hoe betaal jy?”

“Jy gaan my nie weggepraat kry van jou onwettige blyery by Gouna nie, Miggel!”

“Ek weet, Mister, maar ek wil baie graag weet van die betalery.”

“Een akker kos tien sjielings. Soos ek reeds gesê het, kry so ’n immigrant twintig akker en hy moet dit ná een jaar begin afbetaal teen een sjieling per akker per jaar vir tien jaar lank.”

Hy het dit afgejaag, maar my kop het bygehou en die som was maklik om te maak. Ek het die halfsak mielies wat ek by my had, laat sak en op die stoel, wat langs my gestaan het, gaan sit.

“Mister,” sê ek, “met ander woorde, vir tien pond kan ’n man twintig akker grond in die hande kry?” Tien pond het ek nou wel nog nie daardie jare bymekaar gehad nie, maar daar was darem ook nie niks in my geldblik nie. Ek het altyd gesê ’n man wat sy eie grond besit, sit met sy agterwêreld op sy eie troon. “’n Man kan nie dalk meer as een so ’n stuk grond bekom en afbetaal nie?”

“Nee. Daar word wel aan elke landbou-immigrant ’n verdere honderd-en-tagtig akker meentgrond beskikbaar gestel wat hy as weiding kan benut en ná vyf jaar begin afbetaal teen dieselfde voorwaardes as die eerste twintig akker. En ek sal graag wil weet wie jou toestemming gegee het om sommer te sit.”

Ek het opgestaan. “Dit was ingedagte, Mister. Hierdie honderd-en-tagtig akker is ook goeie tyding.”

“Dis genoeg, Miggel! Jou onwettige blyery op kroongrond gaan ’n einde kry.”

“My oupa is in die Bos gebore, Mister, my pa is in die Bos gebore, ek is in die Bos gebore, maar ek moet Engeland toe swem en weer terug ook, want skipgeld het ek nie om daar te kom nie, en eers dan kan ek ’n lappie kroongrond bekom? Dis vir my ’n bietjie duister.”

“Kry nou end, Miggel!”

Hy was dik vir my, maar ek het gemaak of ek dit nie agterkom nie. “Kan Mister nie vir my ’n plan maak nie, my voormense het almal van Holland afgekom – Mirjam, los jou vlegsel!” Die kind had die manier om haar hare te staan en losvroetel as sy verveeld raak. “Mister moet tog maar verskoon lat die kind hier voor jou staan met net een vlegsel op die kop, daar was nie vanmôre tyd om twee te vleg nie, ons moes voordag by die huis weg. Ek belowe Mister, as Mister vir my ’n plan maak om ’n stukkie van die platrand te bekom, al is dit dan net die twintig akker, sal Mister nie een jaar vir my afbetaalgeld hoef te wag nie. Ek sal dit uit die grond uit werk soos ’n slaaf. Ek ken van werk. Vra maar vir Mister Barrington van Poortland, dis ’n man daardie wat maklik twee man se werk vir een man op ’n dag uitdeel en dis waarom sy werksmense dit nie hou nie en hy kort-kort vir my moet laat roep om te kom help. Vra hom.”

“Ek glo jou, Miggel.” Die man het ’n bietjie safter geklink. “Maar ongelukkig is daar niks wat ek vir jou kan doen nie. Die kroongrond behoort nie aan my nie, ek is bloot aangestel om toe te sien dat die wet wat vir kroongrond neergelê is, in hierdie distrik uitgevoer word. Wat dink jy sal gebeur as almal sommer wederregtelik op kroongrond gaan huis opslaan?”

“Mister hoef nie oor die platrand verknies te sit nie. Solank as wat ek daar is, skiet ek die eerste een wat twee planke opmekaar wil kom spyker. Ek hou my oog elke dag oor die wêreld daar bo. Dis vir die kind se onthalwe wat ek daar woon.”

“Jammer, Miggel, ek kan jou nie daar toelaat nie. Al wat ek kan doen, is om redelik te wees en jou drie maande tyd te gee om ander heenkome te soek. Meer kan ek nie doen nie.”

“Ek verstaan,” het ek vir hom gesê.

En daar was nie onvrede tussen my en hom toe ek daar uit is nie, ons het mekaar ordentlik gegroet. Die dag daarna het Diepwalle se wagter White se woorde agterna kom bring: drie maande, dan moes ek af wees. Ek het vir die wagter gesê om soontoe te staan, hy trap op die patatranke wat ek besig was om in die grond te kry.

Ek het nie getrek nie. White het my gereeld laat waarsku of self gewaarsku wanneer ons mekaar gesien het. En seker goed ’n twee jaar daarna, toe tref ’n gelukkie my een reënerige middag bo in Rooiels-se-sleeppad, wat dinge agterna tussen my en White na vrindskap sou laat lyk. Kom ek die middag af op twee natgereënde, goed verdwaalde Engelsmanne met permissie in die sak om een olifant te skiet. Hulle moeilikheid het die môre begin toe die bruinman, wat gehuur was om vir hulle spoor en teken te soek, gesê het hy loop nie verder nie, hulle skiet nie na sy sin nie. Toe besluit hulle om self reg te kom, en toe kom hulle nie reg nie want hulle het nie geweet die Bos is só groot en só ruig nie. Hulle het gedink dis vir eenkant in en anderkant uit. Hulle vra my na die mooie kind op my rug en ek sê dis my Mirjam. En eers toe ek met hulle op pad is dorp toe, kom dit uit dat die een White se bloedneef uit Engeland is en die ander sy vriend.

Die volgende dag het ek Mirjam weggebring na my suster Hannie op Spruitbos-se-eiland, en twee dae lank met hulle in Kom-se-bos op die ou groot koei se spoor gebly en hulle bygestaan totdat sy plat gelê het en die kop afgekap en gesout was, want dié moes saam Engeland toe om teen ’n muur te kom. Sou seker maar goed gestink het.

Maar van toe af was White en die wagters se klaery ligter. Elke keer wanneer daar gerugte was van vreemdes wat weer op die dorp aangekom het met die skippe saam, het hulle op ander plekke grond gekry. Nie op die platrand nie. Van my kant af het ek gesorg dat White gereeld ’n blik heuning of ’n sak patats en ’n pampoen of twee kry. Nie om hom vas te maak nie, sommer om sy hande te was en omdat hy deur die jare so gek geraak het na Mirjam.

Vroeg in April van die jaar 1881 het ek weer die dag vir hom iets geneem en gevra of daar dan nog nie ’n kans was vir ’n stukkie grond op die platrand nie.

“Hier lê die brief, Miggel,” sê hy en wys na die papiere voor hom, “klaar geskryf om gepos te word aan Mister Laing, die Kommissaris van Kroongrond en Agent vir Immigrante in die Kaap – met my versoek dat hulle nie meer immigrante hierheen moet stuur nie. Die kroonlotte hier op die dorp het nou almal besitters en ek sien nie meer kans vir een in die distrik nie.”

Beter tyding kon ek nie gekry het nie. Dieselfde middag het ek begin om ’n nuwe stuk aarde onderkant my huis skoon te maak en agter die huis nog ’n blombedding vir Mirjam se tuin ook. Sy was toe sewentien en het alewig met ’n stiggie of ’n plantjie of ’n saadjie oorkant van Poortland af gekom vir haar blommetuin. As daar sterfte in die Bos was, het almal geweet hulle sou by haar iets vir die graf kry.

En White se woorde oor die brief aan die immigranteman in die Kaap was nie drie maande oud nie, toe staan hy met ’n treksel vreemdes op die platrand en ek staan doodgeskrik. Dit was so goed die tak waaraan jy vyftien jaar lank gehang het, begin kraak vir breek en daar’s niks onder jou as jy val nie.

Maar ek sien daar is iets groot verkeerd met die treksel vreemdes – dis ’n bedroewende spul. Hulle maak nie ’n plan om die slees af te laai nie, hulle staan soos goed wat lam is, en die vroue bly aan die huil. Veral die een met die pers rok aan. Die groter kinders dra van die kleintjies skeef-skeef op die heupe en bly verskrik rondkyk.

“Watse mense is dit hierdie?” vra ek vir White.

“Italiane.”

“Wat waarvandaan kom?”

“Van Italië af.”

“Hoeveel is hulle?”

“Drie-en-dertig. Ek bedoel, twee-en-dertig. Eintlik is dit nog altyd drie-en-dertig.”

“Dit lyk my Mister kry hulle nie getel nie.”

“Een is klaar weg, een het langs die pad bygekom, en dit is maar ’n druppel van die probleme waarmee ek te doen het. Ek is moeg, Miggel. Mister Christie, die man wat ek aan jou voorgestel het, het saam met hulle gekom. Hy praat hulle taal en sal na hulle omkyk. Maar ek kan hom nie sommer net hier los nie, ek sal twee of drie dae moet bly om hom by te staan. Jy het nie dalk vir my slaapplek vir ’n paar nagte nie?”

“Nee.”

“Moenie dinge vir my moeiliker probeer maak nie.” White was goed moedeloos. “Ek sit in ’n verknorsing met hierdie mense. As ek nie almal se samewerking kry nie, gaan dinge verkeerd loop. Ek was onder die indruk dat die hele aangeleentheid van hulle koms nog in ’n stadium van bespreking is, en die volgende word ek in kennis gestel dat hulle reeds op pad is. Besef jy dat ek reeds vir die laaste vyf weke met hulle langs die meer op die dorp in tente gesit het?”

“Dis beter as hier,” sê ek vir hom. “Vat hulle terug.”

“Ek kan nie, die winter is hier, dis te nat langs die water.”

“Mister het nog nooit die platrand in die winter gesien as dit ag dae aanmekaar kom reën nie. Dis hoekom my huis hoog staan. Vat hulle terug, sê ek.”

Maar skielik kom daar ’n beroering onder die spul vreemdes en toe ek weer sien, drom hulle om my en White en die Christie-man saam soos bye wat uit ’n nes gerook is, en almal praat gelyk en beduie met die hande en lywe; party wys bergkant toe, party seekant toe en die ander hemel toe. Christie probeer ’n paar keer op hulle eie taal vir hulle iets sê, maar hulle praat hom plat. White haal later sy hoed af en swaai dit in die lug rond, maar dit was eerder om die vuur aan te blaas as dood te kry. En by dit alles bly een van die mansmense aan mý baadjie pluk.

“Amêrika? Amêrika?” vra hy oor en oor en wys grond toe. Hy lyk vir my skaars twintig.

“Wat sê jy?” vra ek.

“Amêrika? Amêrika?”

Ek sê vir hom ek weet nie wat hy wil hê nie, hy moet met die voorman, met Christie, praat. Maar hy hou net aan, te aardig. Dis erger as doof om ’n mens in die gesig te staan en kyk terwyl hy praat en jy weet nie wat hy sê nie. Hy hou net aan met “Amêrika, Amêrika”.

“Wat wil die man hê?” kry ek uiteindelik vir White gevra.

“Hy wil weet of dit Amerika is, hy was onder die indruk dat hulle Amerika toe gaan.”

“Sê vir hom dis g’n Amerika nie, dis Gouna.”

“Ek het al, dit help nie.”

Dit was ’n gekkespul. Die vrou met die pers rok aan het vir haar ’n pad oopgedruk tot voor in die kring en kom staan en huil dat die kwyl en die trane saam by haar nek inloop. En langs my was dit net “Amêrika, Amêrika”.

“Kry end, man!” sê ek, “dis Gouna hierdie.”

Twee van die ander vrouens het die vrou met die pers rok weggelei en die man wat na die oudste onder hulle gelyk het, het vorentoe gekom en bo die ander uit met Christie gepraat. Nie lank nie, toe wys die Engelsman na my toe en skielik kyk almal vir my.

“Nee wag,” sê ek, “moenie na my kyk nie, ek het niks met julle te doen nie.” Maar dis eerder of ek hulle aanmoedig en die swerm sak om my toe. Almal praat en beduie gelyk. “Hou julle bekke!” skree ek tussen hulle in en dis soos ’n skoot water op ’n vuur, hier en daar vlam dit nog, maar toe ek die tweede keer praat, toe word dit stil.

“Mister Miggel,” sê Christie en ek sien die man is benoud. “First of all, these people want to know where the mulberry forest is.”

“Die watse ding?”

“Die mulberry forest, Miggel,” sê White en skud sy kop. “Dis waaroor meer as die helfte van die moeilikheid gaan. Daar is in Italië aan hulle gesê dat dit ’n moerbeibos is waarheen hulle kom. ’n Mulberry forest.”

“Is julle nou snaaks?” vra ek. “Watse moerbeibos? Dis ’n houtbos hierdie. Stinkhout en geelhout en kershout en kwar en witels en rooiels en saffraan en witpeer en vlier en kamassie en hardepeer en assegaai, en so kan ek vir julle opnoem tot ek deur die Bos is en dan kan ek met die onderbos begin, maar van ’n moerbeibos het ek nog nooit in my lewe gehoor nie. Wat wil hulle met moerbeie maak? Leef hulle van moerbeie?”

White het net sy kop geskud en vir Christie gesê om vir hulle te sê dat daar nie ’n moerbeibos is nie, dat hulle moet kalm bly. Christie vee eers met sy hand oor sy gesig soos een wat op ingee staan, en toe praat hy met hulle op hulle eie taal en wys bergkant toe. Skielik is dit vir my of hulle bedaar, en net daarna begin hulle een vir een wegdraai en gaan laai die goed af. Ek vra vir White of die voorman nie dalk nou vir hulle gestaan en lieg het nie, hoe anders het hy hulle so vinnig tevrede gekry?

“Ek weet nie, Miggel,” sê White, “ek is te moeg om om te gee. Wees liewer dankbaar dat ons hulle vir ’n oomblik stil het.”

Maar iets het in my eie binneste begin praat en my laat spesmaas kry. “Vir wat soek hulle ’n moerbeibos?” vra ek hom weer.

“Hulle is syboere, Miggel. Sywurmmense. Hulle is eksperte uit die noorde van hulle land en is spesiaal gewerf om hierheen te kom. Ek het eers gedink hulle is wewers, sywewers, maar hulle is nie, hulle boer met die wurms wat die kokonne spin en dan oes hulle die kokonne. Daar het êrens ’n baie groot misverstand plaasgevind, jy het self gehoor hulle verkeer onder die indruk dat hier ’n moerbeibos is. Die hele saak is verkeerd gehanteer!”

Italiane. Sywurms. Barrington. Dit was soos rieme wat aanmekaarknoop om een riem te maak. Verligting het oor my gekom, soos water oor ’n droë tong.

“Mister White,” sê ek, “dit is ’n misverstand. As ek nie keer nie, gaat ek juig! Dis oorkant op Poortland waar hulle moet wees. Dis Barrington se mense, hy wag vir hulle. Die beste sal wees as jy met hulle terugtrek tot op die dorp, dan oor die laagwaterbrug oor die rivier en dan aan die ander kant op. Ek meen, daar oorkant in die verte kan jy Poortland sien lê, maar die kloof tussen hier en daar is te diep, jy sal nie met die slees deurkom nie. Dis Mister Barrington se mense hierdie, ek belowe jou dit.”

“Hy wil hulle nie hê nie, Miggel.”

Ek het White se woorde gehoor en vir myself gesê ek het dit nie gehoor nie. Dit was Barrington se Italiane en Poortland toe sou hulle trek al moes ek hulle een vir een deur die kloof sleep tot daar. As White te sleg was om vir Barrington te loop sê dat sy Italiane gekom het, sou ek dit loop doen. Voor mý sou hy dit nie kon afstry nie.

“Mister White,” het ek gesê, haastig, “moenie lat hulle afpak nie, stop hulle. Gee my ’n kans om op Poortland te kom.”

Ek het my huis se deur gaan sluit en die sleutel vir Mirjam onder die klip gesit. Ek kon nie wag tot sy kom nie, daar het ’n uur se stap tussen my en Poortland gelê.

Dit was Barrington se Italiane. Al man in die omgewing wat daardie klas drome in die kop gekry het, was die honourable Barrington van Poortland.

Portland, Silas, Portland,” het hy my van tyd tot tyd aangespreek oor sy plek se naam.

“Dit was al die jare Poortland, ’n poort is ’n poort, nie ’n port nie.”

Barrington was uit hoë mense in Engeland en hy het dinge uitgedink wat geen ander uitgedink het nie. As sy korwe droog gestaan het, was dit die bosbye se skuld wat te lui was om te werk en het hy flukser bye met die skip saam laat kom van Engeland af. Die swerm wat nie in die Kaap weggeduiwel het nie, het dit hier kom doen. Daar het amper nie ’n skip by die kaai op die dorp kom anker waarop daar nie vir Poortland ’n kas goed was nie. As dit nie die watersaagmeul se enjin van Engeland af was nie, dan was dit die enjin se flenterparte op pad terug. Of klere vir hom en sy vrou en sy sewe kinders. Al drie sy seuns het een vir een ’n slag weggeloop van moedeloosheid onder die ou man.

Poortland. Redlands. Karawater. Alles Barrington-grond. Duisende akker en min wat nie ’n misoes was nie, want alles wat in sy kop gekom het, moes in die grond ook kom. As dit nie lemoenpitte was wat hy geplant het nie, was dit olywe of druiwe of katoen of twak of nartjies of rape of kurkebome en komkommers en okkerneute, en so het dit oor die jare heen aangehou. Alles moes in die grond kom vir die mirakel wat Poortland se voorspoed sou bring. Ek het hoeveel keer mooi met die ou man gepraat en vir hom gesê om te staan by sy beeste en sy skape en die hout uit Poortland se deel van die Bos. Maar nee. Dit moes alewig ’n uitheemse mirakel wees. Soos die sywurmbesigheid. Honderde moerbeiboompies het met die skippe saamgekom om op Poortland te kom vrek of in die klowe te kom staan en kwyn. Net die moerbeiheining agter die huis en die paar bome aan die westekant het bly lewe en saam daarmee Barrington se droom van ’n skuur so groot soos ’n mielieland waarin die wurms moes vreet en vet word om geel kokonne te spin.

“Ek sal met tien onse eiers begin, Silas.” Die honourable Barrington het graag met my oor sy planne vir die syboerdery gepraat as ons die dag beeste op Redlands moes tel, of onder in die kloof sukkel om die watersaagmeul aan die gang te kry. “Van een enkele ons eiers kan jy honderd pond se gewig aan kokonne wen en van honderd pond kokonne wen jy ongeveer twaalf pond afgerolde sy.”

“Om wat mee te maak, Mister Barrington?” het ek hom altyd gevra. “’n Mens kan nie sywurms of kokonne eet nie.”

“Dit sal ’n baie winsgewende boerdery wees, Silas. Die eerste paar jaar boer ek met die doel om kokonne uit te voer. Italië toe. Miskien ’n bietjie Frankryk toe ook. Die beste wewers is in Italië, die beste syboere ook. Ek sal Italiane laat kom om vir my die werk te doen.”

“Dit lyk vir my Mister Barrington se kalwers het die wurms. Mister Barrington moet Oujan stuur om te gaan bosdruifwortels graaf sodat ek dit op melk kan trek en vir hulle ingee. Die medisyne wat Mister Barrington laas met die skip saam laat kom het, beteken niks. Dis seker meer vir Engeland se klas wurms.”

Ek glo nie hy’t my eers gehoor nie. As hy die dag oor die sywurms wou praat, moes jy hom los en die kalwers laat oorstaan vir later. Een ding was seker, van sywurms het hy baie geweet, onnooslik was hy nie. Eendag het hy my vertel dat die sydraad wat jy van een ons eiers se kokonne wen, lank genoeg is om vyf keer om die aarde te draai.

“Dit klink effentjies lank, honourable,” het ek gesê. “Vat nou maar net hoe ver se stap dit vir my is tot bo in Streepbos by die heuningneste en dan nog weer terug tot by my huis. Soos dit vir my klink, is daardie draadjie dan nog ver van gedaan af.”

“Julle bosmense het geen begrip van dinge nie, Silas.” Hy het dit gereeld voor my neergesit. “Ek dink nie jy het die vaagste gedagte van hoe groot die omtrek van die aarde werklik is nie. Miskien sal jy beter verstaan as ek vir jou sê dat die sydraad van drie kokonne lank genoeg is om van jou huis af tot op die dorp te strek, en dit is nege myl.”

“Dit laat ’n mens respekte kry vir die ou drie wurmpies wat die draadjie getjorts het.”

“Moenie growwe taal in my teenwoordigheid gebruik nie, Silas!”

“Moenie maak of ek ’n kind is nie, Mister Barrington.” Hy het goed geweet ek is nie ’n man wat vloek nie.

“Dis ’n fyn kuns om met sy te boer, ’n baie fyn kuns. Nie alleen moet jy probeer om net die witmoerbei se blaar te voer nie, die blare moet ook net reg geoes word. Vir elke stadium van die wurms moet die blare in die regte grootte gekerf word, jou skuur moet so skoon soos ’n hospitaal wees en nie ’n hand mag aan die wurms raak nie. Hulle is baie vatbaar vir siektes. As jou wurms siek is, is jou eiers siek en ’n goeie kokonoes begin by die gehalte van jou eiers. Jy moet oplet na wat ek sê, Silas! Die dag wanneer ek op groot skaal met sy begin boer, gaan ek jou voltyds aanstel oor die skuur.”

Dit was nog een van sy drome. “Mister Barrington weet mos ons bosmense werk nie vir ’n ander nie,” het ek hom herinner. “Ek kom help maar net hier uit as Mister Barrington nie sonder my kan klaarkom nie.”

“Jy sal nog anders besluit, Silas. Ek het van die beste eiers uit Italië ingevoer en al twee keer van die kokonne teruggestuur, die eerste keer twaalf, en die verslag wat ek teruggekry het, was uitstekend. Die tweede keer was my oes nie na wense nie en het hulle vir my laat weet dat ek heel moontlik die wurms verkeerd hanteer het. Ek het selfs al van Portland se eiers aan ’n kenner in Italië gestuur, ’n sekere Zappa. Sir James Hudson in Florence, dis ’n plek in Italië, het vir my as tussenganger opgetree en laat weet dat die heer Zappa baie gunstig gereageer het oor die eiers.”

Barrington het baie vername mense geken. “Die moerbeiboompie wat Mister Barrington vir Mirjam gegee het, het gevrek. Sy het mooi met hom gewerk, maar hy wou nie vat nie.”

“Eintlik het ek dit maar vir haar gegee omdat sy so graag een wou hê. Gouna se grond is nie geskik vir moerbei nie. Mrs Barrington het gesê daar is weer ’n paar rokke van Imar en Gabrielle wat jy vir Mirjam kan oorkoop. Die geld kom soos gewoonlik na my toe, moenie vergeet nie.”

“Ek sal eers weer moet heuning verkoop.”

“Ek kan dit van jou loon aftrek.”

“Dan staat ek netnou by Mister Barrington ingeboek vir skuld soos die houtkappers op die dorp by die houtkopers se winkels.”

“Jy’s ’n dom man, Silas.”

“Ja, Mister Barrington.”

Teenspoed vir Barrington se wurms het ook nie agtergebly nie; partykeer was daar meer vrekte as lewe, maar moed het hy nie opgegee nie. Elke jaar het hy gesê: “Silas, volgende jaar sal ek met die skuur begin en drie of vier Italiaanse gesinne laat kom om die boerdery te behartig.”

“Ja, Mister Barrington.”

Menige dag het dit geklink of dit nog net die sywurm-droom en ek, Silas Miggel, is wat die ou man tot troos gebly het. Dit was die dae wat hy gekla het dat hy moeg is en gesê het hy dink nie hy sal meer lank leef nie. “Veertig jaar lank sukkel ek om ’n betalende bestaan uit my grond te maak, maar alles misluk. My seuns stel nie belang nie, ek weet nie wat hulle wil doen nie.”

“Mister Barrington dryf hulle ook maar te hard,” het ek vir hom gesê. Soms het hy hom vir my geërg as ek te na aan die waarheid gepraat het, ander tye het dit gelyk of hy te op is van sukkel om nog vir my ook te staan en kwaad word.

“Ek weet nie of dit die moeite werd is om hier voort te gaan nie, Silas. Miskien moet ek maar alles verkoop en teruggaan Engeland toe en my tyd daar in vrede gaan afwag.”

“Sê nou Mister Barrington verkoop alles en kom daar oorkant aan en kry die vrede ook maar nie daar nie?” Ek het hom mooi gewaarsku. “Vrede is nie ’n ding wat jy soos ’n paar skoene kan gaat soek nie, honourable.”

Die ou man se gemoed was daardie dag baie diep gesink. “Soms wonder ek of julle stomme bosmense nie beter daaraan toe is ten spyte van al julle ellende en armoed en eenvoudigheid van gees nie. Julle leef van dag tot dag, julle enigste strewe is om genoeg te hê om te eet.”

“Mister Barrington praat nie nou reg nie,” het ek vir hom gesê. “’n Mens leef nie om te kan eet nie, of om ryk te word of arm te bly nie, om min of baie te wees nie. ’n Mens leef maar net om goed te word. Dis al.”

Ek moes dit nooit gesê het nie. Ons was die dag besig om klip te lê voor die agterdeur, Barrington het uitgemeet en ek het gepak. Hy’t die duimstok gelos en orent gekom om my met ’n half ontevrede soort verbasing aan te kyk. “Wat het jy daar gesê, Silas?”

“Mens leef om goed te word, jy’t nie ander take nie.”

“Waar kom jy daaraan?”

“Nêrens nie, Mister Barrington, ek het dit maar deur die jare self so uitgekyk.”

“En wat noem jy goed, Silas?” Dit wou al klink of hy spot.

“Goed is goed. Goed is nie sleg nie en sleg is nie goed nie.”

“As ek heeldag in die son sit, beteken dit dan dat ek besig is om goed te word?”

“Nie as Mister Barrington sit omlat Mister Barrington te lui is om te werk nie. Daarvan sal Mister Barrington nie goed word nie, net slegter. Maar ek weet mos Mister Barrington is nie ’n lui man nie.”

“Hoe goed is jý van plan om te word, Silas?”

“Mister Barrington spot nou.”

“Ek spot nie, Silas, ek stel belang om te hoor hoe jou gedagtes loop.”

“Ek word maar so stadigaan goeter en goeter. Ek woon daar oorkant op die platrand, ek en Mirjam, ek hinder geniemand nie. As ’n man by my ’n os kom leen, gee ek hom een. As Mister Barrington my laat roep, kom ek en ek werk vir iedere pennie wat Mister Barrington my aan die einde van die dag betaal. Dis Mister Barrington wat moet besluit of dit goed is om my net drie sjielings op ’n dag te gee. Elkeen moet maar op sy eie werf goed word.”

Hy was die res van die dag nors. Die volgende dag was dit weer die sywurms: “Ek word nie jonger nie, Silas, my tyd gaan verby. Al hoop wat vir my oorbly, is die syboerdery. Ek het vir ’n tweede keer skrywe gerig aan die goewerment om die belangrikheid van my eksperimente met die sy onder hulle aandag te bring en te noem dat dit vorentoe vir die hele land van ontsaglike waarde kan wees. Ek het vir ’n tweede keer voorgestel dat uitgesoekte syboere in Italië gewerf word en dat hulle vry passate moet kry tot hier. Ek is bereid om lotte van tien akker elk aan hulle beskikbaar te stel vir ’n tydperk van drie jaar. As alles goed gaan, kan ek die tydperk verleng.”

“En as dit nie goed gaan nie?” het ek gevra, maar hy het my nie antwoord gegee nie, net voortgegaan met die dromery.

“Mister Laing, die Agent vir Immigrante in die Kaap, is te vinde vir my voorstel en het reeds aan Mister Burnett in Londen, die Agent van Emigrasie vir die Kaapkolonie, geskryf en dit aan hom voorgelê. Jy sal nog sien, Silas, as die Italiane eers hier is, gaan Portland eindelik tot sy reg kom. My broer skryf vir my uit Engeland dat Italiane ook uitstekende bediendes is.”

“Ek dog hulle moet met die wurms kom boer.”

“Syboerdery is juis ’n tipe boerdery wat jou nie die volle jaar besig hou nie. Vandat die eiers uitbroei totdat die kokonne geoes is, duur maar ’n kwessie van ses weke. Dan moet die kokonne natuurlik nog verpak en weggestuur word, maar al wat daarna oorbly om te doen, is om die bome te snoei om hulle kort te hou en nuwe lote in die grond kry. Van die vroue kan Mrs Barrington in die huis help, die kinders – Italiane het altyd baie kinders – kan help vee oppas, en vir die mans sal daar oorgenoeg wees om te doen. Ek sal selfs meer hout kan laat kap in my bos.”

Nou kom White met die spul Italiane op die platrand aan en hy sê Barrington wil hulle nie hê nie? Van watter kant af wou hy dit afstry? Die Italiane was syne en klaar.

Dit was agternamiddag toe ek op Poortland aankom. Die groot, grys dubbelstorie-kliphuis het soos ’n kerk oor alles getroon en ek het agterdeur toe geloop, want Barrington se reël was: minderes klop agter. John, die oudste van sy drie seuns, het kom oopmaak.

“Middag, oom Silas.”

“Middag. Ek wil jou pa sien.”

“Mister Barrington is besig, oom sal maar ’n ander dag moet kom.”

“Loop sê vir jou pa ek is hier.” Barrington sou my nie opstry nie.

John het sy windmaker maniere uitgehaal en sy een been oor die onderdeur geswaai. “Sover as wat ek weet, het ons oom nie vir vandag laat roep nie, Mister Barrington is van plan om Hal môre te stuur om oom te roep. Daar moet in die groentetuin gewerk word.”

“Ek soek nie werk nie, ek soek jou pa.”

“Ek sê dan vir oom Mister Barrington is besig.”

“Dan wag ek tot hy klaar besig was.” Ek het my rug op hom gedraai en om die hoek van die huis gaan staan. John Barrington was ’n wind wat skaars genoeg gewaai het om ’n blaar te roer – ’n man laat waai jou nie deurmekaar van so ’n wind nie. By sy pa en by sy ma het hy nie sy maniere geleer nie. Mister Barrington was nou wel boekslim en nie altyd kopslim nie, maar hy was ’n jentelman. Manierlik. En Mrs Barrington was ’n lady.

“Ek dink nie oom het my gehoor nie,” het John agterna gekom om te kom skoor. “Ek het gesê Mister Barrington is besig.”

Ek het hom nie antwoord gegee nie. Mrs Barrington het van die hoenderkamp se kant af gekom, netjies en vriendelik soos altyd. “Middag, Silas,” het sy gegroet en gevra waar Mirjam is, waarom hulle haar die laaste tyd so min sien. Mrs Barrington het altyd met my Engels gepraat en ek met haar Hollands en ons het mekaar goed verstaan. Sy’t gesê Imar en Gabrielle het die hele Saterdag uitgekyk vir Mirjam in die hoop dat sy sou deurkom Poortland toe.

“Ek het Saterdag heining gepak, Mirjam moes help.”

“Het jy al ’n bietjie koffie gehad, Silas?”

“Ek wil nie koffie hê nie, Mrs Barrington, ek het gekom om met Mister Barrington oor ’n ernstige saak te praat.”

“Ek sal hom vir jou gaan roep.”

’n Goeie vrou. Hulle sê Barrington het op ’n dag op die skip geklim, haar in Engeland gaan uitsoek en van ’n klavier tot ’n stuk of nege wit bediendes saam teruggebring. Die klavier was nog daar op Poortland, maar die bediendes het almal lankal aangeloop.

Die lekkerste wat ek op Poortland gewerk het, was die tye wat die honourable Barrington in die Kaap by die Parlement was. Dan het ek en Mrs Barrington alleen oor Poortland gestaan en saam die werk bedink. Elke keer as Barrington teruggekom het, was die beeste vet, die hout opgesaag en verkoop, velle verkoop, kos in die grond, aartappels of uie geoes en die oorskot verkoop. Elke ding op sy plek. Die beste was die tyd toe John ook weg was. Hy vat mos toe die pad land-op om vir ’n paar maande te gaan diamante grou; sewe jaar het hy weggebly en toe met niks teruggekom nie behalwe ’n vreemde hovaardigheid.

“Oom Silas!” John het by die suurlemoenboom gestaan en van daar af begin skoor toe sy ma die huis in is. “In die vervolg wil ek hê oom moet Mister Barrington, sowel as Mrs Barrington, met groter respek aanspreek as wat oom se gewoonte is.”

Ek het die wind laat verbywaai en anderpad gekyk. Gelukkig het Barrington nie lank daarna nie uitgekom.

“Middag, Silas.”

“Middag, Mister Barrington. Ek het net kom sê lat Mister Barrington se Italiane aangekom het en lat hulle daar oorkant op die platrand uitgespan staat. Hulle weet skynlik nie dat dit Poortland toe is waarheen hulle moet kom nie.” Barrington het sy lyf regop getrek soos dit sy gewoonte was wanneer hy regmaak om vas te staan. “Mister kan sommer die slees wat hulle tot daar gebring het, huur om hulle nou weer tot hier te kry.”

“Ignore him, Sir,” het John van die suurlemoenboom af voorgestel.

“Dit sal nie nou help om die ding te wil ignore nie,” het ek gesê, “hulle het gekom en julle moet hulle laat haal.”

“Ek het niks met daardie Italiane te doen nie,” het Barrington botweg gesê. “Dit is mense wat deur die goewerment op goewermentsvoorwaardes laat kom is, nie op my voorwaardes nie.”

Ek dog ek slaan neer. “Waarheen swaai Mister Barrington nou?” vra ek. “Die goewerment mog hulle laat kom het, maar uit ’n vuur wat deur Mister Barrington en niemand anders nie aan die brand gesteek is.” Dit was die verkeerde ding om te sê, daar was nog altyd mense wat volgehou het dat dit Barrington se grasbrandery was wat die slag die hele wêreld afgebrand het. Groot stukke van die Bos en Poortland se opstal ook. Baie skade. “Wat weet die goewerment van sywurms af? Hoeveel keer het Mister Barrington nie met Mister Barrington se eie mond aan my gesê Mister Barrington het hiernatoe en soontoe geskryf om Italiane te kry vir die sywurmbesigheid nie? Hoeveel moerbeibome het my hande nie help plant sodat daar kos moes wees vir die wurms wanneer hulle aankom nie? Nou is hulle hier en Mister Barrington wil dit staan en afstry?”

“Just ignore him, Sir.”

“John Barrington,” het ek gesê en ek was kwaad, “ignore nog een keer tussenin en ek ignore vandag vir jou waar jy nie ge-ignore wil wees nie! Ek sal dorp toe loop en voor magistraat Jackson loop sweer wie se Italiane dit is, en dan sal ek hulle een vir een met pakkasie en al deur die kloof kom sleep tot hier.”

Barrington het nie geroer nie, toe hy praat het hy nie eers sy stem verhef nie. “Jy weet, Silas, ek het al dikwels vir jou gesê dat julle bosmense se onkunde en astrantheid nog julle ondergang gaan beteken en hier staan jy nou vandag as ’n goeie voorbeeld van my woorde.”

“Los die woorde, Mister Barrington, die sywurms staat oorkant op Gouna en hulle moet gehaal word.”

“Ek weet van die Italiane wat daar is, Silas, ek dink ek kan jou heelwat meer omtrent hulle vertel as wat jy vermoed ek kan. Miskien moet ek dit doen, miskien moet ek dit as my Christelike plig doen sodat jy tot kalmte kan kom en jou kop kan laat sak omdat jy vandag voor my deur, wat nog altyd vir jou en Mirjam oopgestaan het, kom rusie maak het.”

“Ek het nie kom rusie maak nie, ek het net kom sê Mister Barrington se Italiane het aangekom. Dis Mister Barrington wat wil staan en stry.”

“Ek is deeglik bewus van hulle aankoms. Hulle het reeds op 7 Mei aan boord van die Natal op Knysna aangekom. Ses gesinne uit die noorde van Italië.”

“Daar’s net so min ses gesinne. As daar ses gesinne is, het elke vrou twee mans,” het ek hom reguit gesê.

Barrington het onmiddellik geskerm: “Ek het hulle nie persoonlik getel nie. Ek weet wel dat hulle van Italië af Londen toe is, en van Londen af is hulle per trein na Plymouth. Op 1 April het hulle daarvandaan met die Anglian na die Kaap vertrek. Hulle het die aand van 26 April aangekom en ek verneem dat ’n sekere Mister Christie hulle vergesel.”

Moenie my vra waar Barrington aan alles gekom het nie, hy het dit soos ’n versie vir my gestaan en opsê. “Die Christie-kêrel is daar oorkant, ja,” sê ek vir hom. “Hy kom saam Poortland toe.”

“Ek gaan my geduld verloor, Silas.”

“Hierdie ding vra nie vir geduld nie, Mister Barrington, hierdie ding vra vir die waarheid.”

“Ek kan vir jou ’n kopie van ’n brief van Mister Burnett in Londen aan Mister Laing in die Kaap wys, waarin die goewerment meegedeel word dat die syboere deur hom, Burnett, persoonlik gekeur is, dat hulle uit so ’n goeie klas kom dat hy hulle nie eers aan die gebruiklike mediese ondersoek in Londen onderwerp het nie.”

“Mister Barrington gaat my nie vandag toegooi met klompe woorde nie, die mense sit daar oorkant en hulle moet hier kom!”

“In dieselfde brief versoek Mister Burnett die goewerment om toe te sien dat hulle goed ontvang word by hulle aankoms in die Kaap en dat daar na hulle omgesien moet word indien hulle vir een van die kusskepe moet wag om tot by Knysna te kom. Mý naam word nêrens in die brief genoem nie. Daarby was daar niemand in die Kaap om hulle te ontvang nie; hulle is onmiddellik na hulle aankoms oorgeplaas op die Natal, waar hulle meer as ’n week moes wag voordat die skip kon vertrek. Ek het maar eers van hulle aankoms verneem nadat hulle al in die tente op die dorp was. Klink dit vir jou na mý Italiane? Wat ek wel gedoen het, was om John na hulle te stuur met ’n aanbod van grond hier op Poortland vir ’n tydperk van ten minste drie jaar. Ek het selfs vir hulle ’n paar kokonne saamgestuur waaroor hulle baie verheug was. Hulle het John die versekering gegee dat dit van die mooiste kokonne is wat hulle nog gesien het.”

“Dis ’n lieg.” Ek het dit reguit gesê. “Ek glo niks wat John praat nie. Hoe kon hulle dit alles vir hom gestaat en sê het as hulle net hulle eie taal praat?”

“Oom vergeet van die tolk!” het John hom vinnig opgeruk en gesê.

“As die kokonne so wonderlik is, waarom het hulle dan nie agterna gekom nie?”

Barrington het self die antwoord gegee: “Omdat die goewerment hulle kroongrond aanbied. Mý voorstelle van slegs twee of drie gesinne was in elk geval verontagsaam; daar is hopeloos te veel uitgebring en verder het die Italiane self besluit om my aanbod te verwerp. Daarby is Mister White oor hulle aangestel en nie ek nie. Nou kan jy weer vir jouself vra wie se Italiane dit is.”

“Die Bybel sê die een wat die ding begin …”

“Oom Silas …” John het met ’n gemaakte lag en hande in die sakke kom staan. “Wees nou eerlik en erken oom probeer die Italiane op ons afskuif omdat jou kaia en jou tuine en jou dogter in gevaar is en omdat jy goed weet jou onwettige blyery op kroongrond is nou verby.”

As Barrington nie gekeer het nie, het ek sy kop tussen sy bene ingedruk. En toe haal Barrington skielik mooipraatjies uit: “Silas,” sê hy, “ek en jy kom oor baie jare heen saam, Mirjam het al amper soos ’n eie kind in my huis geword, waarom sal ons nou onvrede maak?”

“As Mister Barrington wil boek-opmaak, sal ek dit vir Mister Barrington doen. Van almal wat hier op Poortland gewerk het, is ek, Silas Miggel, al een wat nog nooit, nie een dag, die werk laat lê en aangeloop het nie. Ek het Mister Barrington reguit behandel, maar deur Mister Barrington se vervloekste sywurms sien ek vandag vir my en Mirjam in die wapad sit.”

“Nee, Silas, ek het vir julle plek op Karawater, julle kan môre trek.”

“Om te gaat varke oppas? Dink Mister Barrington ek het my Mirjam in die oopte grootgemaak om nou met haar Karawater toe te trek en haar te laat verwilder? Dis ’n volle dag se stap van daar af om op die dorp te kom, ons sal in die Bos moet slaap voor ons weer kan terug. En van wanneer af staat ’n bosmens uitgeverhuur aan ’n ander? Die eerste dag toe ek Mister Barrington kom uithelp het, het ek vir Mister Barrington gesê ek steek my hand vir Mister Barrington uit, maar ek staat nie uitverhuur nie. My plek is op die platrand. En Mister Barrington kom staat die sywurms op die goewerment en afskuif.” Ek was in my lewe nog nooit só van die ontsteltenis nie. “Maar ek sê vandag vir Mister Barrington daar oorkant gaat al wat Italiaan is, uitvrek as hulle nie weggevat word nie, en dit gaat op Mister Barrington se gewete kom.”

“Gaan sê dit vir die goewerment, Silas, nie vir my nie. Dit het in elk geval tyd geword dat jy huis toe gaan en gaan nadink oor my aanbod van Karawater. Kom praat weer as jy kalm geword het.” Hy het omgedraai en die huis ingeloop.

John het gestaan en lag. “Oom Silas,” sê hy, “ek sien daar is ’n paar mooi vroumense onder die Italiane. As oom so ’n bietjie was en aantrek, kry oom dalk een.”

“Loop bars jy, John Barrington!” het ek vir hom gesê, “ek soek nie vroumense nie en ek was my elke Sondag.”

Mirjam het my voor die huis ingewag. Na die oostekant toe, so drie keer ’n klip se trek van my plek af, het ’n bondel ronde spitspunt-tente gestaan soos ’n plaag wat uit die aarde uit opgeskiet het. Elf tente. Hier en daar was hulle nog besig om van die penne dieper in die aarde in te slaan en ankertoue vas te trek. Dit loop en dit maal en dit lawaai soos goed wat nes geskrop het maar nie tot sit kan kom nie, en ek staan soos een wat van my voete af geklap is.

“Ek was bekommerd oor Pa. Mister White het gesê Pa is weg Poortland toe. Hy sê dis Italiane en hulle kom hier bly. Ek is jammer, Pa. Ek het hulle vanoggend onder in die kloof by die salieboom gekry en geskuil totdat hulle verby was; hulle moes almal help om die slees die hoogte uit te stoot, maar eers moes hulle help pad kap.” Sy het gepraat asof sy alles met een asem gesê moes kry, soos dit haar gewoonte was wanneer sy bang is. “Ek weet nie hoe hulle tot hier gekom het nie, Pa, die pad wat uitgekap is, lyk vreeslik. Ek het geweet Pa gaan skrik. Sê iets, Pa! Wat sê Mister Barrington?”

“Hy wil hulle nie hê nie. Hy stoot hulle oor na die goewerment toe.” Ek het verby haar in die huis ingeloop en vir my ’n beker drinkwater geskep. Sy het agterna gekom.

“Maar dit is Mister Barrington se Italiane, Pa! Hy het dan al wanneer vir Kate en Flos en Imar en Gabrielle ’n Italiaanse woordeboek laat kom waaruit hulle elke dag ’n paar woorde moes leer sodat hulle met die mense kon praat as hulle die dag hier aankom.”

“Hy wil hulle nie hê nie.”

Ek is buite na my houtkamer toe om ’n bietjie reg te pak, maar my hande wou nie vat nie en ek had ’n steekpyn aan die een kant van my kop. As die wêreld die dag vir jou gatoorkop slaan, tref dit jou eers skielik en dan tref dit jou stadig, en dis wanneer die angs jou vat. Mirjam het weer agterna gekom.

“Beteken dit ons moet trek, Pa?”

“Die skrik moet eers uit my uit voor ek behoorlik kan dink. Maar ek wil nie hê jy moet jou kwel oor wat van ons sal word nie. Pa sal daarvoor sorg. Loop maak vir ons kos en sit die borde op die tafel.”

“Pa was dit nie meer te wagte nie, vreemdes op die platrand.”

“Nee.”

“Is Pa bang?”

“’n Bang man was ek nog nooit, maar ek sal lieg as ek sê dat ek voor hierdie ding in gerustheid staan. Dis ’n lelike besigheid. Ons is dalk in groot moeilikheid en ek sal al die kante toe moet dink om ons daar uit te kry.”

“Miskien het ons te gerus geraak.”

“Loop maak vir ons kos.”

Haar dikke vlegsel het tot in die waai van haar rug gehang en in die laaste son geblink toe sy wegstap. Waar moes ek haar verberg van die oë by die tente? Dit was klaar ’n stryd om haar weg te hou voor die oë van elke jong houtkapper in die Bos, wat al meer dikwels op die platrand aangekom het om kastig wegdwaalos te soek, of napad dorp toe te vat, net om na haar te kom staan en leepoog. Daarby het Mirjam ’n vervloekste manier aan haar gehad om hulle sonder ’n woord slap in die knieë te maak; net die manier waarop sy geloop het en haar lyf gehou en na hulle gekyk het. ’n Flerrie was sy nie, dit was iets anders; ook nie ’n aanwensel nie, dit was iets wat in haar ingebore was en wat ek nie uit haar uit gepraat kon kry nie.

Die nag toe my vrou, Magriet, met die kind en met die dood geworstel het, het ek gebid dat dit ’n seun moes wees. Magriet se ma het gesterf toe sý die nag gebore is, Magriet het gesterf toe Mirjam die nag gebore is. Daardie tyd woon ons op Spruitbos-se-eiland. Die dag ná Magriet begrawe is, het ek die kind toegedraai en dorp toe gedra om te laat doop. Ek was bang sy kom ook iets oor. Die predikant het gesê ek moet die volgende Sondag terugkom, dan’s dit doopdag; toe sê ek vir hom ek kan nie die volgende Sondag weer met die kind loop nie, hy moet haar doop of laat staan. Toe het hy haar in ’n syvertrek van die kerk gedoop, en in Kom-se-bos het ek haar in ’n spruit oorgedoop, want ek was nie tevrede nie. En op my knieë in die water het ek voor God beloof dat ek met alles wat ek het, sou keer dat die lot van haar ouma en haar ma nie ook hare word nie. Wat ek nie daardie dag geweet het nie, was dat die wesentjie in my hande die mooiste meisiekind sou word. Die fout wat ek gemaak het, was om die waarheid te lank vir haar weg te steek. Deur die jare, as sy na haar ma uitgevra het, het ek allerhande ander dinge vertel, maar nie hoe sy aan haar einde gekom het nie. Ek het geweet ek moet met haar praat voor sy groot is, maar ek het dit aanhou uitstel. Die platrand was soos tyd wat my gegun was om haar eenkant te hou. Dom was ek nie, ek het haar met ’n lang riem vasgemaak en skietgegee as sy wou dorp toe of Poortland toe op ’n Saterdag of ’n Sondag; ek het skietgegee sodat sy my sou vertrou wanneer ek die dag vir haar die waarheid moet vertel en die riem inkort. Toe ek my weer kry, toe is sy groot, toe is sy sewentien, en nog het ek dit bly uitstel omdat daar dinge is waaroor ’n man nie maklik praat nie, waarvoor ’n meisiekind ’n ma moet hê. Al wat ek intussen kon doen, was om te sorg dat daar geld in die blik kom sodat ek haar eendag versorg kon agterlaat. Van die heuning se geld en van die loon wat ek oorkant op Poortland verdien het, het ons geleef. Geld vir die blik het ek verdien uit die opvoustoeletjies wat ek gemaak en verkoop het. Af en toe het ek nog ’n bietjie hout ook gekap en verkoop en dié se geld het ek ook in die blik laat val. Daar was by die tagtig pond in die blik; vir ’n bosmens was ek ’n ryk man. En Smit, die houtkoper op die dorp, het gesê hy sou elke stoeletjie koop wat my hande kon lewer. Wat die mense aan die goed had, weet ek nie, maar hy het troppe met die skippe saam weggestuur.

Om iets te maak wat jy kon verkoop, het droë hout gevra, en om droë hout te hê, het tyd gevra: soms twee jaar, soms drie, soms langer. Aan die begin het dit moeilik gegaan om hout te laat lê vir droog word wat koffie en meel en suiker en ’n stukkie klere kon gekoop het. Eers het ek net die een helfte van wat ek gekap het, laat lê en die ander helfte bewerk en uitgesleep dorp toe in ruil vir winkelskuld, soos almal maar moes maak. Die dag toe ek met die eerste stoeletjie by Smit aankom, wou hy dié ook vir winkelskuld ruil, maar ek sê vir hom dan vat ek die ding terug en loop steek hom in die vuur en soek iets anders om ’n ekstra mee te verdien. Hy het my tot sonsak toe buite laat staan en wag vir ’n antwoord, maar my staan het ek gestaan; hy was verleë oor die stoeletjie en ek oor die geld; hy kon nie stoeletjies maak nie en ek nie geld nie. Op die ou end het ek ingestem tot drie sjielings vir ’n stoeletjie, dieselfde as vir ’n dag se loon op Poortland. Maar toe ek die geld in my sak steek, het ek geweet my meisiekind sou nie eendag uit ’n ander se bord hoef te eet nie.

Die kers het al op die tafel gebrand toe Mirjam my inroep om te kom eet. Ons het nie geëet soos ons altyd geëet het nie; dit het vir my gevoel of al elf die tente vol vreemdes oor my tafel hang en die kos nie smaak het in my mond nie. Ons sit nog en eet, toe klop een aan die deur en ek dink dis seker White, maar toe ek oopmaak, toe staan die vrou met die pers rok daar, haar oë dik gehuil, en toe sy praat, toe weet ek sy soebat en haar hande soebat saam. Al wat ek kan uitmaak, is dat dit iets van ’n bambina is.

“Ek weet nie wat jy sê nie,” sê ek en probeer haar stilkry. “Loop praat met julle voorman, met Christie, Mister Christie!”

“Moenie so skree nie, Pa, sy’s nie doof nie.”

“Wat wil sy hê?”

“Ek weet nie, dalk vra sy kos.”

“Gee vir haar kos.”

Mirjam het omgedraai en van die asbrood en patats op die tafel gevat en vir haar kom gee, maar sy’t haar kop weggedraai en dit nie gevat nie. Sy het al ongeduldiger geraak, dit het geklink of sy die vreemde woorde by ons ore wou indruk om ons te laat verstaan.

“Loop na Mister Christie toe, ons weet nie wat jy wil hê nie,” sê ek vir haar.

“Dalk soek sy drinkwater,” sê Mirjam. “Hulle sal nie weet waar om te gaan skep nie, dis donker.”

“Gee vir haar water.”

Dit was ook nie water nie. Toe Mirjam die beker na haar uithou, het sy net ’n moedelose gebaar gemaak, omgedraai en weggestap.

“Loop saam met haar tot by die tente, Pa.”

“Nee. Sy’t alleen gekom tot hier, sy kan alleen terug.”

“Sy wou iets van ons gehad het, Pa, sy’t gesoebat!”

“Daarvoor is die voorman daar, Mister White ook.”

“Dalk is daar siekte.”

“Daar’s nie siekte nie, sy kerm en ween vandat hulle hier aangekom het.”

Ek het die deur toegemaak en gegrendel en weer langs die tafel gaan sit. Ek het gemaak of ek die verwyte in Mirjam se kyke nie sien nie. Dit kan neuk, het ek vir myself gesê, Mirjam is een wat gedurig iets het wat gejammer moet word. As dit nie ’n plantjie is nie, is dit ’n voëlkuiken of ’n ding. Vir al wat mens is, het sy ’n goeie woord. Nie lank tevore nie, het sy die Sondagmiddag oorkant van Poortland af gekom, van Imar en Gabrielle af, en toe sy by die huis kom, sê sy niemand moet ooit weer sê Mister Barrington is suinig of onvriendelik of te hoog nie. Hy’s ’n goeie man. Een van sy varke is die middag dood en toe sê hy dis omdat niemand vir die vark lief was nie.

“Pa moes saam met haar geloop het tot by die tente!”

“Mirjam, jammerte op sy tyd is ’n goeie ding, maar jammerte uit sy plek uit swel jou oë gou vir jou toe solat jy nie kan sien nie. Trek die gordyn aan, dit voel al vir my daar kyk oë deur die venster.”

Die son was skaars die volgende môre uit, toe staan White voor my deur en ek sien hy staan swaar. Die man is bedruk.

“Môre, Miggel.”

“Môre, Mister White. Kom binne. Het julle toe die moerbeibos gekry?”

“Jy sou nie na spot gevoel het as jy vanmôre in my plek was nie. Ek kom soek ’n handbyl om te leen, die mense moet vuurmaakhout hê, daar is niks om mee te kap nie. Leen asseblief vir my ’n byl.”

“Watter dag van die week is dit, Mister White?” vra ek hom.

“Sondag.”

“Sien Mister my byl daar anderkant op die kapblok ingebyl staan?”

“Ja, ek sien hom.”

“Amper dertig jaar lank kap daardie byl my vuurmaakhout, maar op die Sabbat is hy nog nooit gelig nie en hy sal ook nie vandag gelig word nie.”

“Die Woord van God sê: as die kalf in die sloot lê, Miggel.”

“Dis reg. Maar daar is ’n verskil tussen ’n kalf wat in die sloot geval het en een wat die sloot ingestamp is. My byl kap nie op ’n Sondag nie. Hulle kan die hout met hulle hande loop breek.”

Toe hy hom opruk en aanloop, kom Mirjam uit die kamer uit en kom staan my en verwyt. “Pa is verkeerd, Pa moes die byl gegee het!”

“My byl kap nie op die Sondag nie.”

“Gaan Pa nou oorlog maak teen hierdie mense?”

“Nee. Maar ek gaat hulle ook nie met die hand groet nie. Dis nie hulle plek nie en hoe gouer die goewerment vir hulle hier wegvat, hoe beter sal dit wees.”

Ek het die Bybel gevat en buite langs die huis gaan sit soos dit elke Sondag my gewoonte is. Al verskil was dat ek nie aan die oostekant van die huis loop sit het nie, maar aan die westekant, sodat my oë nie die tente sou sien nie. Ek is nie ’n man wat die Here heeldag lastig geval het nie; Sondae het ek my praatwerk vir die week wat voorgelê het, gedoen en vergiffenis gevra vir die vrotplekke in die week wat verby is. Ek het by die psalms oopgeslaan en gelees. Halfpad toe weet ek ek lees bo-oor die woorde, niks gaan tot in my kop nie. My gemoed was te beknel van die kommer. Waarheen trek ek as hulle my maak trek? Wat van my groentekampe? Wat van die aartappels wat regstaan om opgeërd te word? Wat van my huis? Die planke was nog goed om weer te gebruik as dit nie anders kon as trek nie. Elke boom waaruit daardie planke gesaag was, het my twee hande self gekap en bewerk. Net met die opslaan het Martiens Botha sy houtkapperspan gebring en kom help en sommer die dag weer vir my kom preek ook.

“Jy kan nie die kind alleen grootmaak nie, Silas. Veral nie hier waar geen sterfling naby is nie. Laat loop jou oë deur die Bos en vat weer vir jou ’n vrou. Jogebed van Frans Gerber is jonk en fluks; as sy jou nie geval nie, is Annie van broer Bart ook nog daar.”

Net een keer, toe Mirjam die jaar tien geword het, het ek weer vir een sin gekry. Vir Johanna, weduvrou van oorle Petrus Jonker wat die slag die gelekoors gekry het en nie weer opgestaan het nie. Kry ek sin vir Johanna. Maar toe ek op ’n dag weer die stomme vier wesies aankyk, toe trek al wat begerentheid is, uit my uit, want om een asbrood in twee te breek, was ’n ander ding as om dit in sewe te moet deel. Los dit, het ek vir myself gesê, maak die kind alleen groot.

Ek het ’n ander psalm probeer lees. White het nie die hele waarheid gepraat toe hy gesê het hy was hulle nie regtig te wagte nie. Daardie selfde jaar in Maart het hy my eendag gevra of ek dan nie weet van raad met die kewer wat die dorp se bome so vreet en laat vrek nie. Ek vra vir hom watse kewer? Hy sê die Australian bug. Ek sê vir hom ek het nog nooit van so ’n ding gehoor nie, en toe sê hy al wat moerbeiboom op die dorp is, is al tot niet gevreet en dit terwyl daar sprake is van ’n sybedryf vir die distrik, terwyl daar selfs al syboere op pad is. Ek het nie notisie geneem nie, my kop staan toe nog altyd by die kewer en ek sê vir hom solank die pes net nie Bos toe trek nie. Die week daarna kom ek op Poortland en kry Barrington halflyf in die moerbeiheining op soek na tekens van die einste kewer. Hy praat van die ramp wat hom sal tref as die sywurmmense opdaag en daar’s kewers in sy moerbei. Ek vat weer nie notisie nie, ek dog dis maar die ou droom.

Spruitbos-se-eiland toe kon ek nie trek nie. Daar was te veel geil jong houtkappers wat met Mirjam kon lol. Dorp toe? ’n Man kon nie sommer jou huis staat afbreek en op die dorp loop opslaan nie. Voor die eerste spyker in is, het magistraat Jackson jou in die hof en jou osse in die skut, en daar sou Mirjam ook nie veilig wees nie – ek het al gesien hoe loer hulle na haar.

Ek sit nog so, toe staan Josafat Stander by my voete, geweer oor die skouer, want Josafat Stander het nie menswet of Godswet ontsien nie, hy was ’n man van sy eie wette.

“En as oom nou vanmôre aan die koeltekant van die huis sit?”

Ek het die Bybel toegemaak. “Môre, Josafat. Skaam jy jou nie om op die Sondag met ’n geweer te loop nie?”

“Die grootvoete sal nie vra of dit Sondag is as hulle my wil trap nie.” Hy het die geweer afgehaal en langs my met sy rug teen die huis kom sit.

“Mirjam!” het ek binnetoe geroep. “Bring vir oom Josafat ’n beker koffie.”

“Ek het gedink ek kom maar vanoggend ’n bietjie uit en kom kyk wat oom hier getref het. Ek hoor dis Italiane.”

“Waar hoor jy dit?”

“Op die dorp. Oom Joram Barnard sê ek moet vir oom sê daar’s plek by hulle op Groot Eiland. Hy sal met sy wa in Rooiels-se-sleeppad probeer afkom tot so na as moontlik aan die platrand en oom kom help trek.”

“Ek is nog lank nie by trek nie, ek is maar nog besig om oor die skrik te kom. Waar staat jou skerm op die oomblik?”

“Ek het nog nie skerm vir die winter gemaak nie, ek slaap maar waar die son vir my sak.”

Ek het lankal opgehou om vir Josafat Stander te preek. Die Bos was sy woning en sy geweer sy vrou. Soms het daar maande omgegaan dat niemand hom sien nie en het die gerugte kom loop dat die olifante hom uiteindelik getrap en vermorsel het. Dan kom hy op ’n dag maar net weer uit. Twee boswagters het hom eendag by Michiel-se-kruis gevang met die olifanttand oor die skouer en sonder permissie in die sak, en hom met tand en al dorp toe aangejaag. Hulle het hom glo amper op die dorp gehad toe hy skielik net weg voor hulle was. Met tand en al. Hulle het geweet hy het die ruigtes ingeswenk en moes arm-ver van hulle af wees, maar gekry het hulle hom nie. Die ander storie wou dit weer hê dat hulle hom self laat wegkom het, omdat daar twee dinge is waarvoor ’n boswagter werklik bang is en dit is vir ’n olifant en vir Josafat Stander.

Daar was baie stories oor Josafat Stander. Raaisels. Soos die slag toe hy in die arm geskiet is en lank op Spruitbos-se-eiland by ou Mieta, die medisynevrou, gelê het. Wie hom geskiet het, het hy nooit gesê nie. Dit was maar die mense wat rondgeskinder het dat dit Diepwalle se wagter was wat hom by sy vrou betrap het. Ander het volgehou dit was een van die konstabels op die dorp wat hom in die nag voorgelê en gewond het toe hy besig was om tande uit te dra na ’n skip toe. Ek het altyd gesê Josafat Stander se moeilikheid het begin die dag toe sy pa met die wavrag hout by Ysterhoutrug verongeluk het. Daardie selfde dag het Josafat gesweer hy sou nooit houtkap vir ’n lewe nie. Toe sy ma weer trou en wegtrek, het hy agtergebly en verwilder.

“Hoeveel grootvoete het jy hierdie week geskiet?”

“Net twee, oom.”

“Hulle gaat nog vir jou trap dat daar van jou niks oorbly nie.”

“Julle sê dit al jare lank.”

“Wat maak jy met die tande?”

“Dis mý saak. Eintlik het ek vir oom kom sê van ’n plek bo in Lelievleibos waarheen oom kan trek. Dis een van my skuilplekke in die winter, maar oom kan hom kry. Dis nie ’n groot oopte nie, daar is water en dis nie ver van ’n sleeppad af nie.”

“Ek is nog lank nie by trek nie.”

Mirjam het met twee bekers koffie uit die huis gekom. Haar hare was los en sy het die mooie rok met die fyne blommetjies, wat ek die laaste vir haar by Mrs Barrington oorgekoop het, aangehad.

“Alles in die huis is reg, Pa. Pa se middagkos ook.”

“Waar gaat jy heen?”

“Poortland toe, Pa.”

Sy was lank nie Poortland toe nie. As dit my wil was, het ek haar gekeer, want ek was te kwaad vir Barrington. Maar Poortland toe was beter as na die tente se kant toe. “Sit jou kappie op voor jy loop,” sê ek vir haar.

“Dis Sondag, Pa, ek gaan nie nou tuin toe nie.”

“Sit op jou kappie, Mirjam! Dit mog Junie wees, maar die son het nog genoeg steek in hom om jou gesig te brand.”

“Die kappie druk my hare plat, Pa,” hou sy aan met stry.

“Luister vir jou pa, Mirjam,” sê Josafat kort en klaar en sy ruk haar op en loop in die huis in. Maar toe sy uitkom, was die kappie op haar kop; sy had van kleintyd af respekte vir Josafat.

“Jy sê daar is nie ander mense by die plek in Lelievleibos nie?”

“Nee, oom.” Hy het sy pyp uitgehaal en opgesteek.

“Ek sê weer: ek is nog ver van trek af, maar dis goed om te weet van ’n plek waar ek weer eenkant sal kan bly as dinge dalk regtig neuk.”

“Mirjam word groot en eiewys soos ’n vroumens, oom sal haar nie vir die res van haar lewe kan eenkant hou nie.”

“Dit kan nie anders nie. Ek moet.”

“Hoekom?”

By al Josafat se neukery had hy ’n verstandigheid in hom wat gemaak het dat ’n mens oor baie dinge met hom kon praat. Dis net dat ’n mens nie oor alles kan praat nie. “Ek bly jou ’n antwoord skuldig,” het ek vir hom gesê. “Maar daar is ’n antwoord, glo my dit. En sê vir Joram Barnard ek sê dankie lat hy aangebied het.”

“Ek hoor dis syboere.”

“Ja.” ’n Swerm witogies het verbygewoerts Bos toe, twee geelkeelsangertjies agterna. Ek het die swerm goed geken.

“Oom sal moet trek.”

“Nee. Die platrand is my plek.”

Josafat het nog ’n rukkie gesit, toe opgestaan en die Bos in geloop – waarheen het hy alleen geweet. Ek het weer die Bybel oopgeslaan om heenkome vir my gemoed te soek, maar die Boek wou nie praat nie, die woorde het duister gebly soos die woorde uit die vrou met die pers rok se mond.

Die hele dag bly ek wegkant van die tente. As ek gaan water skep, kyk ek nie op nie, maar hulle kom by my ore in, want dit roep en dit praat en dit kap tentpenne vas; ek kan hulle nie weg toor of weg dink nie.

En Mirjam het amper donker eers by die huis gekom. Sing-sing.

“Hier sit ons so goed as omsingel van vreemdes en jy kom watter tyd van Poortland af, al singende!” Ek wou nie met haar rusie maak nie, maar ek kon myself nie keer nie; die hele dag se dink en opkrop het uitkomplek gesoek. “Ek hoop jy het vir Mister Barrington gesê hy moet sy spul sywurms hier kom weghaal!”

“Hy weet van hulle, Pa.”

“Wat gaat hy daaromtrent doen?”

“Ek weet nie, Pa.”

Maandag, ligdag, was White weer voor my deur.

“Dit gaan sleg, Miggel. Baie sleg.”

“Ek is bly om dit te verneem, Mister.”

“Pa!” het Mirjam my uit die kamer uit aangepraat.

“Die mense is in opstand, Miggel. Hulle sê hulle is veronreg en verkul en hulle wil alles van mý hê. Christie is saam met hulle in opstand, daarby moet ek nog by hom in die tent ook slaap. Hulle kla oor die tente wat te min en te beknop is, ek moes al klaar op die dorp twee ekstra uitkrap.”

“Vir wat het Mister met hulle hiernatoe gekom?”

“Dis goewermentsbesluit, Miggel. Kroongrond is nie oral ewe geskik nie. Die keuse was tussen Quar en Gouna, en ons het gereken Gouna sal meer geskik wees vir moerbei as Quar, want die opdrag is dat hier ’n sybedryf begin moet word.”

Ek het die beker wat voor my gestaan het, weggestoot dat die koffie spat. “Mister,” sê ek vir hom, “loop sê jy vir die goewerment Silas Miggel sê: die eerste sywurm wat hulle op hierdie platrand grootmaak, vreet ek met vel en al op en spin self die kokon.”

“Moenie oorhaastig wees nie, Miggel.”

“Nou maar goed.” Ek was kwaad. “Kom ons sê daar val môre ’n klomp moerbeilote uit die lug uit en hulle plant dit en nog ’n mirakel val daarmee saam en die goed groei, waarvan reken Mister en die goewerment gaat hulle en hulle wurms leef tot tyd en wyl die bome oor drie, vier jaar sterk genoeg is om blare van te oes?”

“Dit is alles deel van hulle opstand, Miggel. Volgens Christie is hulle onder die indruk gebring dat hulle by hulle aankoms vir ten minste ses maande van kos voorsien sou word totdat hulle hul eie kos kon begin wen. Verder sou elke gesin en vrygesel ’n os en ’n ploeg kry en byle en grawe en komberse en kookpotte en saad en ek weet nie wat nog alles nie.”

“Ek sit verwonder lat die goewerment hulle nie sommer elkeen ’n pêrel binne-in die kroon ook belowe het nie.”

“Dis maklik vir jou om te praat, Miggel. Ek sit met die werklikheid. Volgens die immigrasie-papiere wat saam met hulle aangekom het en wat spesiaal vir hulle in hul eie taal opgestel is, het elke gesinshoof en vrygesel ten minste twintig pond in besit. Die dokumente moes in Italië onder toesig ingevul en in Londen nagegaan gewees het. Christie sê dit is gedoen en hulle het die geld gehad, maar hulle weet skielik niks daarvan af nie en besit nie ’n pennie nie. Hulle sê hulle moes in die Kaap kos koop terwyl hulle op die Natal gewag het om tot hier te kom.”

“Bly by die werklikheid, soos Mister dit noem. Waarvan gaat hulle leef?”

“Hulle eis ’n sjieling per dag per persoon plus al die ander beloftes.”

“Wat?”

Mirjam het vir White koffie geskink en drie lepels suiker ingegooi. “Stadig!” het ek haar gemaan, “die goewerment gaat nie vir my en jou suiker toestaan nie.”

“Gedra vir Pa.” Die kind had altyd ’n manier om my te wil leer.

White het al roerende voortgekerm: “Ek het gehoop die ontevredenheid sou afneem sodra ek hulle hier op die platrand het en hulle die moontlikheid van die plek sien, maar vanmôre kan ons hulle glad nie beheer nie. Ek het ’n vermoede dat Christie hulle aanhits in plaas van hulle te kalmeer. Hy bly vir my seksie tien van die regulasies aanhaal wat bepaal dat die goewerment dit mág oorweeg om klein bedrae geld aan immigrante voor te skiet, wat dan oor ’n tydperk van twee jaar terugbetaal kan word. Hy vergeet van seksie nege, wat dit baie duidelik stel dat alle immigrante hul eie kos moet voorsien vanaf datum van aankoms. Ek het hulle reeds vyf weke lank langs die meer van rantsoene voorsien en dit baie duidelik gestel dat dit net sou wees totdat hulle hier kom. Nou eis hulle net al hoe meer. Saterdag, toe ons hier aangekom het, het hulle gesê hulle weier om enigiets te doen voordat daar aan hulle eise voldoen is – die goed is hulle beloof. Gisteraand en vanmôre is dit weer ’n ander storie.”

“Mister, leer nou vandag van my een ding: as ’n ding verknoei is, is hy verknoei; jy kry hom nie met nog meer knoei reg nie. Die platrand is nie ’n plek vir sywurms nie, vat vir hulle terug.”

“Hierdie is ’n goewermentsaak, Miggel. Ek is bloot die Agent van Immigrante op Knysna, ek voer opdragte uit. Hierdie mense is totaal verkeerd ingelig en ek sit sonder bewyse van wat hulle alles beloof is.”

“Hulle is nie verkeerd ingelig nie, Mister, hulle is plyn belieg. Waar het jy in jou lewe van ’n moerbeibos gehoor?”

“Ek het reeds daaroor skrywe gerig aan Mister Laing in die Kaap en gevra dat daar onmiddellik en dringend op die saak ingegaan word.”

“Laat weet my net wanneer daar met die uitdeel van al die beloftes begin word solat ek ook in die ry kan kom staan vir ’n ploeg. Die platrand ken nie so iets nie. Ek moes maar al die jare die aarde sonder ploeg omsukkel.”

“Moenie jy ook begin dink ek sit met sakke vol goewermentsgeld om maar net uit te deel nie, Miggel. Ek moet vir alles magtiging kry. Net die trekdiere en die implemente en die ander losgoed alleen sal oor die vyfhonderd pond beloop. ’n Sjieling per kop per dag: ’n verdere twee-en-veertig pond per maand vir ses maande lank, as ek die kinders onder drie jaar oud nie tel nie, en ook nie die een wat weg is nie, ook nie Canovi wat op weg hierheen by hulle aangesluit het nie. Sou ek magtiging kry, en ek betwyfel dit, om al hierdie eise aan hulle toe te staan, moet hulle dit nog altyd binne twee jaar terugbetaal en die vraag is waaruit? Christie sê hulle is onder die indruk gebring dat hier reeds ’n aanvang gemaak is met die sybedryf, hulle moes dit net kom uitbrei.”

“Dis van Barrington se jêmpot sywurms wat hulle verneem het, ja.”

“Hulle was onder die indruk dat die skure vir die wurms reeds opgerig is.”

“Dis van die droom in Barrington se kop wat hulle verneem het, ja.”

“Nou wil hulle alles van my hê. Ek is maar net die een wat hulle aan die einde van die proses moes ontvang en ek is besig om ’n ineenstorting te kry.”

“Trek met hulle Poortland toe.”

“Dit is nie wat hulle wil hê nie, Miggel. Hulle het gisteraand ’n lang vergadering gehou en ek is ingelig dat hulle eenparig besluit het om terug te gaan Italië toe. Nou eis hulle van my ’n skip.”

Ek wou op die oomblik opspring en juig, maar die onnooslike White het gesit soos een met ’n juk oor die skof en die uitkoms nie gesien nie. “Juig, Mister,” sê ek vir hom, “dis die beste wat hulle kon besluit het en dis ons almal se uitkoms! Ek sal my eie slee en osse vat en jou help om hulle terug te kry by die water. My slee is nou wel nie groot nie, maar ek sal nag en dag aanry. Mirjam, skink daar vir Mister White nog ’n beker koffie.” Ek kon nie verstaan waarom die man so slapnek bly nie. “Kry moed,” sê ek vir hom, “ons gaat van hulle ontslae raak!”

“Immigrasie, Miggel, is ’n lang en ingewikkelde proses, ’n Wetlike proses. Die wet sê alleen die immigrante wat die goewerment begeer om terug te stuur, sal vry oorvaart kry. Lank voor dit kan gebeur, is die wet nog altyd ’n wiel wat in sy eie spoor rol, ’n goewermentswiel. As ’n goewermentswiel eers rol, kan jy hom nie sommer stop nie.”

“Luister, Mister, jy’t meer as genoeg klippe om voor hierdie wiel in te rol. Waar het jy in jou lewe van sywurms op die platrand gehoor? Dis net so goed die goewerment stuur my om te gaan mielies plant op die maan. Gebruik die klippe, Mister, gebruik hulle!”

“Ons doen wat ons kan. Ek en Mister Christie het voordag opgestaan en aan verskeie hooggeplaastes skrywe gerig, onder andere weer eens aan die Kommissaris van Kroongrond in die Kaap, Mister Laing, om alles van voor af aan hom te verduidelik. Mister Christie het in opdrag van die Italiane ’n klagskrif opgestel wat elkeen reeds vanmôre vroeg kom onderteken het.”

“Nou vir wat sit Mister dan soos een wat van die duister oorval is? As julle julle klippe reg gekies en goed gemik het, stop daardie wiel in sy spoor in. Ek hoop julle het gemeld lat hier nie ’n enkelte moerbeiboom is nie.”

“Ek, sowel as Mister Christie, het dit in elke brief genoem.”

“Wat van die wildemoerbei in die Bos, Pa?” kom staan en vra Mirjam skielik godweetwaarom. Ek het aspris van die wildemoerbei stilgebly omdat dit net kon moeilikheid maak in die verkeerde ore, en toe kom bring sý dit uit en White kyk my oombliklik met die grootste agterdog aan.

“Watse wildemoerbei?” vra hy.

“Dis Mirjam wat staat en yl oor ’n ou piepgatboompie in die onderbos wat ons sommer die wildemoerbei noem. G’n wurm sal na hom kyk nie.”

“Hoe weet jy?”

“Ek weet. Ek ken sywurms, ek het hulle oorkant op Poortland sien vreet en spin.”

“Hoe lyk die boom?” White wou nie los nie.

“Mirjam!” sê ek, “sien jy nou wat jy kom staat en opjaag het? Dis ’n ou slaplyfboompie in die onderbos, Mister White. As Mirjam nie vanmôre ’n uitgegroeide meisiekind was nie, het ek haar ’n pak slae gegee wat haar sou leer om stil te bly as dit nie haar beurt is nie.”

“Lyk dit soos die regte moerbeiboom?”

“Daar is ’n trek tussen die blare, ja, maar dis al. Dis hoekom hy die naam het. Ek sê vir Mister g’n wurm sal sy bek aan hom sit nie.”

“Is jy baie seker?”

“Ja. Drink Mister se koffie, die dag gaat om en die briewe moet op die dorp en op die poskar kom sodat die klippe voor die wiel kan val.”

“Ek het eintlik kom hoor of jy nie vir ons die briewe sal dorp toe vat nie, ek wil Mister Christie nie alleen los nie en daar is niemand anders wat ek kan vra nie.”

Kon hy dit nie eerder gesê het nie? “Los die koffie!” sê ek vir hom, “en loop kry die goed reg lat ek kan loop. Mirjam, bring my skoene en staat ver laat ek jou nie bykom nie!” Die kind het my amper in ’n ding gehad.

Kort voor die middag het ek die koevert by die poskantoor afgegee en drie keer vir die man agter die tralies gesê om te kyk dat dit op die poskar kom. Goewermentsake. Van die heel hoogste soort.

Toe ek weer die dorp uitstap, het ek ’n mooi klompie moed gehad. Die goewerment moes sommer ’n vinnige skip stuur; nie een met seile nie, een met ’n skoorsteen wat nie vir die wind en die gety voor die koppe hoef te wag om van die see af in die meer in te kom tot by die kaai nie. Ek het geweet dit sou nie binne ’n week of twee wees nie, maar ek sou uithou. Gelukkig het ek deur die jare sterk heinings om my tuinkampe gepak teen die bosvarke en die bosbokke en die grysbokke en goed. Tot die skip kom, sou die heinings die Italiane en hulle trop swartoogkindertjies ook moes uithou. Om Silas Miggel se huis sou hulle nie kom asem nie.

Dit was net die vervloekste olifante wat jy nie met ’n heining kon keer nie. Wag net tot jou mielies kopmaak en jy in jou nagrus lê, dan kom trap hulle jou heinings suutjies plat en vreet jou vaal en kaal. Ek het seker goed ’n ses, sewe keer in die vyftien jaar moes heinings lap wat hulle kom plattrap het. Wat anders? Help nie jy skiet nie. Hoeveel skiet jy uit ’n trop van veertien of meer en dit in die donker? Nie dat hulle altyd vir die donker gewag het as hulle wou kwaad doen nie; partykeer was jou rug nie eers gedraai nie. Soos die dag toe ek die pampoene op die dak op gedra het. Tien jaar van Silas Miggel se lewe is in daardie een dag verby. Die huis was toe nog net die enkele lang vertrek soos ek hom in die begin gehad het; ek het eers later die ander twee vertrekke aangetimmer vir aparte slaapplek. Sit ek die dag die leer aan die suidekant van die huis, wegkant van die Bos. Mirjam staan onder by die leer en gee aan en ek klim en pak op die dak. Sy was toe nog nie tien nie, maar goed oulik om te help. En dit was háár benoude “Pa!” wat my halfpad teen die leer uit, met ’n pampoen onder elke arm, laat opkyk en die sewe uitgegroeide olifantkoeie met die drie kleintjies by hulle, nie twintig tree ten ooste van die huis nie, sien staan. Ek sê vir myself: word stil, word doodstil. Die luggie was van die westekant af, reguit na hulle toe met onse reuk daarin, en ek moes vinnig dink. As die wind nie teen ons was nie, kon ek die kind gevat en die Bos in gevlug het, boom geklim het of in ’n kloof af met haar gaan skuil het. Ek staan nog en hink, toe begin hulle ewe tydsaam huis se kant toe draai, pluk-pluk met die slurpe aan ’n polletjie hier en ’n polletjie daar, en by die heining trap die voorste een plat en die ander kom agterna.

“Pa!”

“Klim!” Ek het die pampoene net so gelos en haar sommer aan die een arm teen die leer uitgetrek tot op die dak. “Lê plat!” Toe ek langs haar platval, toe skop my hart teen die sinkplate onder my vas. En die voorkoei met die yslike ingekromde tande kom reguit huis toe gestap en begin haar sware plooilyf teen die hoek te skuur asof dit ’n boom is. Maar dit was nie ’n boom wat met dikke wortels in die aarde staan nie, dit was ’n plankehuis wat vlakspit diep in die aarde geanker was, en hoe langer sy gestaan en skuur het, hoe meer het dit daar bo op die dak gevoel jy lê op ’n lendelam katel. Die kind het so bevrees geword dat ek haar nie kon stilpraat nie. Al wat ek kon doen, was om die onderpart van haar rok voor haar mond te bondel en haar kop vas te druk.

Toe ek ’n jong man was, het ek eendag die lyk van ’n man gesien wat deur die olifante vermorsel was. Vir meer as ’n jaar agterna kon ek nie ’n bok afslag of rou vleis aankyk nie.

Die dag op daardie dak het ek ’n snaakse ding geleer: ek het geleer dat die lewe ’n ander ding is as die dood onder jou staan. Dan’s die lewe nie asemhaal nie, dan’s dit ’n aparte iets en jy’s die iets en jý lê aan jou lyf en klou sodat jy binne kan bly, want jy weet as jy los, is jy weg. En saam daarmee klou jy met die kind se lewe aan die kind se lyf. Jy bid ook nie soos jy bid as jy voor jou kooi kniel nie, jy skreeu hemel toe.

Tien jaar – want hulle het die tuin tydsaam verniel en afgevreet. Elkeen wat moeg geword het van die speletjie, het eers kom lyf skuur teen die huis en dan moes ek van voor af die kind bedwing. Dit was November se maand, teen halfdag was die plate so warm gebak dat ek van die pampoene onder ons moes pak. En eers toe die son sak, is hulle terug die Bos in. Al genade wat hulle agtergelaat het, was die leer.

Ek het gewonder of White ooit daaraan gedink het om in sy brief te meld van die olifante. Een bul met ’n slegte gemoed was genoeg om al elf tente in die aarde in te trap. Jy sou net Italiane sien waai.

Toe ek by die huis kom, was die deur gesluit en die sleutel onder die klip. Mirjam was nie daar nie. Sy het ook nie vir my ’n boodskap op die tafel neergesit nie. As een van ons van die huis af was en die ander een moes ook weg, het ons vir mekaar ’n boodskap op die tafel gelos: die blou kommetjie vir Poortland toe, blikbeker vir Bos-in om te gaan dunhout haal, lepel vir dorp toe, ’n mes vir gaan strikke stel of strikke naloop. Daar was niks op die tafel nie. Dit was vreemd. Ek was die een wat soms in my haas vergeet het om ’n boodskap neer te sit, nooit Mirjam nie.

Ek het die vuur opgemaak, koffiewater oorgehang en solank die patats gewas. Voordat ek die môre weg is dorp toe, het ek haar uitdruklik belet om naby die tente te gaan. Dit was nie te sê dat sy sou luister nie. Daar was ’n tyd toe Mirjam skielik baie eiesinnig geword het en ek later met Mrs Barrington daaroor moes praat. Sy sê toe ek moet die kind net mooi behandel en uitlos: meisiekinders word maar so, hulle kom vanself weer reg. Kort daarna het sy gesê ek moet Mirjam vir ’n week saam met haar en die oudste drie meisiekinders Karawater toe laat gaan. Ek wou eers nie. Later het ek maar so gemaak, en toe Mirjam terugkom, was sy baie beter. Ek dink Mrs Barrington het vir haar dinge gesê wat ’n pa nie kan sê nie. Maar snaaks, van toe af het dit my al meer gepla dat ek nie die moed kon kry om met haar oor haar ma en haar ouma te praat nie. Hoe sê jy vir jou mooie meisiekind jou lot is die einde as jy dit die dag sou waag om ’n man te vat? Hoe sê jy vir ’n boom: moenie groei nie? Hoe sê jy vir ’n voël: moenie vlieg nie? Elke keer as sy verjaar, het ek vir myself gesê: jy moet met haar praat, Silas Miggel. Maar ek het nie. In my onnooslikheid het ek gedink dis veilig solank ek haar eenkant kon hou. En toe? Toe staan daar skielik elf tente op die platrand, ek kom by die huis en Mirjam is nie daar nie en die duiwel kom sê vir my allerhande dinge. Voor die son onder was, sou ek vir White loop sê om vir Christie te sê om vir hulle te sê: ek skiet die eerste losloper-Italiaan wat naby my meisiekind kom, morsdood plat. En die oomblik wat die goewerment laat weet die skip is op pad, beginne ek hulle aanry dorp toe, en die goewerment moet sommer die honourable Barrington aanskryf om vir die skip te betaal sodat dit hom kan leer om sy drome in sy kooi te hou.

Die koffie was klaar en die patats halfpad gaar toe Mirjam sonder ’n woord die deur oopstoot en verbyloop kamer toe. Ek sien sy’s nukkerig.

“Mirjam!”

“Ek kom, Pa, ek trek net my skoene uit.”

Ek het haar beker uitgespoel en vir haar koffie ingeskink. Toe sy in die middeldeur kom staan, maak ek of ek nie die nukke sien nie en ek vra vir haar waar sy was.

“Die mense sit sonder vuurmaakhout, Pa. Ek het die byl gevat en wou vir hulle gaan wys waar om hout te kap, maar hulle wil nie in die Bos in gaan nie. Hulle is bang vir die Bos. Hulle wou weet of daar wolwe in die Bos is. Wolwe, Pa.”

“Ek het vir jou gesê om van hulle af weg te bly!”

“Daar is ellende by die tente, Pa. Ek het nog nooit so ’n verskrikte klomp mense gesien nie; dit sal nie help om te maak of hulle nie hier is nie, hulle is.”

“Deur ander se onnooslikheid, ja. Ek het gesê ek sal hulle help wegry as die skip kom.”

“En intussen?”

“Is dit White en Christie en die goewerment se saak. Nie myne nie en ook nie joune nie. Drink jou koffie.”

“Wat weet Mister White of Mister Christie of die goewerment van die Bos en die platrand af? Dan praat ek nie eers van die Italiane nie, en Pa sien kans om rug te draai?”

“Dis genoeg, Mirjam.”

“Dis nie genoeg nie, Pa!”

Dit was ’n meisiekind wat vir jou dwars in die pad kon gaan staan. “Dis genoeg!” het ek haar ’n tweede keer moes aanpraat voor sy stilgebly het. “Hulle het Saterdag hier aangekom, reg? Vandag is Maandag. Twee werksdae is verby sonder dat ’n hand in my huis of op my werf uitgesteek is om iets te doen. Ek het nie ’n enkelte stoeletjie klaar nie, daar is nie brood gebak nie, daar is nie ’n strik gestel nie, daar is nie geskoffel nie. Hoe lank dink jy sal dit wees voor die ellende hier ook kom intrek? Dit help nie jy loop maak ’n ander se gemors reg en beland self daarin nie. As jy gemis het, moet jy dit optel of daarin trap. Die goewerment het gemis, die goewerment moet kom optel.”

“Ek sê nie Pa is verkeerd nie, ek wil net weet wat intussen van hulle moet word.”

“Nie Mister White of Mister Christie of die goewerment gaat hulle verknies oor wat van ons sal word nie. Die goewerment weet nie eers lat Silas Miggel leef nie. Daar oorkant sit Barrington op sy eie troon, traak dit hóm wat hier by die tente aangaan? Nee. Maar jy wil van my kom weet wat intussen van hulle moet word? Hulle kan vrek sover as wat ek voel.”

Sy het die skottel en die meel uitgehaal en reggemaak vir knie. Ek is buite na my hout toe.

Dit gaan neuk, het ek vir myself gesê, dit gaan sleg neuk. As ek vooruit kon weet hoe lank dit sou wees voor die skip hulle kom laai, kon ek ’n plan maak en haar Spruitbos-se-eiland toe neem na my suster Hannie toe. Maar dit kon van die een vuur na die ander toe wees, want Stefaans van Rooyen se oudste seun, Sias, het al twee keer uitgestryk en blinkgewas op die platrand aangekom en kans gesien om met Mirjam te kom gesels. Dan het ek nie eers Martiens van Ou Martiens bygereken nie, en ook nie Jacob Terblans wat kastig by my nig Grieta se dogter Susanna gekuier het nie. Jacob mog by Susanna gekuier het, maar ek het al ’n paar keer gesien hoe val sy oog op Mirjam. Jacob was nou wel nie op Spruitbos-se-eiland nie, maar van Diepwalle se mense, maar nogtans. Was dit nie ten einde beter as ek haar by die huis hou waar ek immers self na haar kon kyk nie? Ek had nie vir myself die regte antwoord nie. En my hande was stram toe ek die stoeletjie begin riem.

Al die jare was ek gewoond aan stilte op die platrand, nou was daar skielik ’n rumoerdery. Die spul Italiane was lawaaierig; as dit nie geklink het of hulle elke kind twee keer roep nie, sou jy sweer hulle loop van tent na tent en skel en praat. Hoe lank sou ’n man dit kon uitstaan?

Skemerdonker het Mirjam kom sê die kos is klaar vir eet, kortweg, soos een wat van onplesierigheid opgestop was, en ons het in stilte geëet. Agterna het sy die skottelgoed gewas en kamer toe gegaan sonder om nag te sê. Dit was oumanier van haar wanneer daar struwel tussen ons was. Ek het by die tafel bly sit en gewag; een van ons sou eerste moes ingee en nagsê, want in Silas Miggel se huis is daar nie in onvrede loop lê nie. Sy’t dit geweet. Ná ’n ruk het ek gehoor sy blaas die kers dood, maar ek het vir myself gesê ek sal nie ingee nie, sy het glad te veel haar sin gekry. As ’n mens ’n kind so alleen grootmaak, veral ’n meisiekind, sluip daar maar glad te veel bederf in wat buite moes gebly het. En geslaap het sy nie, sy het bly omrol. En toe hoes sy, nie lank nie toe hoes sy weer en ek skrik. Dit was nie ’n kind wat gehoes het nie, sy had ’n sterke bors. Ek het die kers gevat en opgestaan.

“Mirjam?” Sy het met ope oë gelê. “Mirjam, is jy siek? Is jou keel geswel?”

“Nee, Pa.” Haar bui was beter, ek kon dit hoor.

“Hier is struwel in die huis, Mirjam, ons kan nie so gaat lê nie. Sê vir Pa wat jou in jou hart hinder.”

“Gaan Pa nou vir die res van Pa se lewe vir Mister Barrington kwaad bly en nooit weer Poortland toe gaan as hy Pa laat roep nie?”

Ou Sarel van Rensburg, wat vier vroue oorleef het, het eendag gesê as ’n vroumens by haar voete beginne, moet jy weet sy’s eintlik op pad na haar kop toe. Beginne nooit by die volle waarheid nie. Ek het sommer gedagte gekry dat Mirjam by die voete aangevoor het.

“Die dag as hulle die laaste Italiaan en sy tent en sy bondel op die slee laai, daardie dag sal ek weer my voete op Poortland sit. Nie voor dit nie. Dis Barrington wat hierdie ding begin het.”

“Hy kan nie sonder Pa klaarkom nie en Pa weet dit, nou wil Pa hom daarmee straf.”

“Trek jy nou aan Barrington se kant of trek jy aan jou pa se kant?” Sy het haar kop weggedraai en haar vingers heen en weer oor die plankmuur langs haar laat gly. “Ek praat met jou, Mirjam.”

“Pa het nie ’n hart nie. Nie Pa nie, nie Mister White nie en ook nie Mister Christie nie.”

Nes ou Sarel gesê het: beginne by die voete. “Waarvan praat jy nou? Ek dog ek is al een sonder hart hier op die platrand, nou hoor ek daar is darem nog twee ander ook.”

“Pa s’n is die hardste!” het sy gesê en orent gekom. “Ek het die eerste aand vir Pa gesê om saam met die vrou te loop tot by die tente en te gaan hoor wat sy wou hê, maar Pa het nie.”

“Waar gaat draai jy nou?”

“Weet Pa waarom die vrou so huil?”

“Hoe moet ék weet?”

“Hulle het haar kind gesteel.”

“Wat?”

“Ja. In die Kaap.”

White het gepraat van een wat weg is, hy’t nie gesê dis ’n kind nie. “Watse kind?”

“’n Dogtertjie. Sy is tien en haar naam is Catarina.”

“Hoe weet jy dit?”

“Ek het vir Mister Christie gevra toe ons die hout gaan soek het.”

Ek was sommer weer ergerlik. “Wie was almal saam om die hout te soek?”

“Sien Pa nou? Pa is meer gekwel oor wie om mý was as oor die vrou se kind.”

“Ek vra wie almal saam was!”

“Mister Christie en drie van die Italiane: Pontiggia, Canovi en Coccia.”

“Behoede ons.” Die ergste was dat Mirjam die vreemde name gesit en uitryg het asof sy dit geoefen het. “Hoe ver was julle die Bos in?”

“Ons was nie in die Bos in nie, Pa, ek sê dan hulle is te bang. Ons het op die rand langs dunhout gekap waarmee hulle nie een dag se behoorlike vuur sal kan maak nie. Pa moet by Mister White loop hoor van die kind. Ek kan nie mooi verstaan wat Mister Christie sê nie, hy praat anders Engels as die Engelse hier rond en boonop was hy humeurig omdat hy moes gaan help met die hout. Pa moet by Mister White loop hoor van die kind.”

“Het die vrou ’n man?”

“Ek dink so. Haar naam is Petroniglia, haar van is Grassi. Sal Pa asseblief môreoggend gaan uithoor?”

“Ek kan nie die vrou se kind loop soek nie, Mirjam, dis werk vir die polisie.”

“Ek weet, gaan vind net uit. Sy bly aan die huil.”

“Ek sal loop uithoor.” Wat anders kon ek doen?

“Belowe?”

“Belowe.”

“Nag, Pa. Dankie, Pa.”

“Nag, Mirjam.”

Sy had reg. Die vrou se kind was weg. White het my die hele ding in radeloosheid vertel, want die vrou het nag en dag bly kerm. Hy, White, en Christie is die heel eerste dag toe hulle by Knysna aangekom het, saam met die vrou en haar man, Ilario Grassi, na die polisie sodat hulle verklarings kon aflê om Kaap toe gestuur te word. Volgens Petroniglia en haar man, het ’n ander Italiaan, ene Nicolo Tomaso, die kind gesteel. Hulle het die man in die Kaap raakgeloop toe hulle die week daar moes oorlê. Omdat dit so beknop was in die skip, het Tomaso en sy vrou ’n klompie van hulle herberg gegee, onder andere drie van die Grassi’s se vyf kinders. Die een was Catarina. Toe raak die Tomaso’s baie danig oor die kind en ná ’n paar dae vra hulle vir Ilario om die kind vir hulle te gee. Hy en sy vrou wou haar as hulle eie grootmaak. Ilario het dit vir Petroniglia op die skip loop sê en die volgende dag is sy na Tomaso toe om die kinders te haal. Tomaso het mooigepraat en gevra of Catarina nie maar nog kon bly nie, hy sou haar kaai toe bring op die vooraand van die dag wat die skip moes seil. Die Dinsdag van die derde Mei het hulle gehoor dat almal die aand aan boord moes wees, hulle vertrek die volgende oggend. Ilario het vir Tomaso ’n boodskap gestuur dat hy die kind moes bring, maar toe kom hy nie uit nie. Die volgende môre het Ilario verlof gekry om die skip te verlaat en die kind te gaan haal. Toe hy by Tomaso se huis kom, sê Tomaso die kind het weggehardloop, sy is nie meer daar nie. Ilario meen toe sy het seker skip toe gehardloop en gaan terug. Sy was nie daar nie. Gelukkig kon die skip nie anker lig nie, want die mis was te toe, en Petroniglia kry toe verlof om die skip te verlaat en na Tomaso te gaan. Hy het haar dieselfde storie vertel, maar haar belowe om die kind te gaan soek en haar op die volgende skip Knysna toe te sit. Dit sou op die langste ’n week of tien dae later wees. Petroniglia het hom geglo en die kaai net betyds gehaal, want die mis was aan die opklaar.

Toe White klaar was met die storie, het ek reguit vir hom gesê die besigheid klink nie vir my reg nie. “Is dit nie ’n opgemaakte ding nie, Mister?”

“Hoe kan dit ’n opgemaakte ding wees?” het White my verontwaardig gevra. “Die hele tyd wat hulle langs die meer in die tente was, het die vrou elke dag polisiekantoor toe geloop om te gaan verneem of hulle al iets gehoor het van die kind. Konstabel Hall sê hy het later sommer net sy kop geskud as sy by die deur inkom, sodat sy kon omdraai en loop. Sy was baie lastig. En die eintlike gekerm het begin toe hulle moes oppak om hierheen te trek. Nou kan sy nie meer elke dag na die kind gaan verneem nie; sy is te bang om alleen dorp toe te loop en nie een van die ander wil saam met haar gaan nie, hulle is net so bang. Dit help nie ek en Christie verseker haar dat die polisie met een van die boswagters saam sal laat weet as hulle iets hoor nie, sy bedaar nie.”

“Hoekom het Mister nie gister gepraat toe ek die pos gaat wegbring het nie? Ek kon mos gaat verneem het by die polisie.”

“Sy wil self gaan, Miggel.”

“En wie dink Mister gaat saam met haar loop? Nie Silas Miggel nie, my werk sal nie nog ’n dag bly stillê nie.”

“Ek het gehoop Mirjam sal saam met haar kan gaan.”

“Nee, ek stuur nie Mirjam saam nie, ek sukkel klaar om haar weg te hou van hulle af.” In my siel het ek geweet ek het vir Mirjam los, maar myself vas. Vir ander se onnooslikheid en liegte en Mirjam se jammerhartigheid sou ek moes voet oplig om in die mis te trap.

“Help jý ons dan uit, Miggel. Asseblief.” White was radeloos. “Hoor daar buite, hulle raak al meer opstandig. As ek net self met hulle kon gepraat en sake aan hulle verduidelik het, was dit beter. Ek sê weer, ek dink Christie moedig hulle tot opstand aan. As jy my vandag in die steek laat, staan ek alleen en ek het gisteraand die vrou belowe dat ek vandag vir haar ’n plan sal maak om op die dorp te kom.”

“Hoe lank skat Mister gaat dit wees voorlat die skip kom?”

“Sodra my en Christie se briewe by Mister Laing aankom. Veral die klagskrif behoort baie gewig te dra. Dis ’n ding hierdie wat nooit moes gebeur het nie en daar sal onmiddellik iets aan gedoen moet word. Intussen moet ek hulp hê. Ek vra jou om saam met die vrou vir my te loop, sy kerm my uit my geduld uit!”

“Loop sê vir haar sy moet haar regmaak.” Wat anders kon ek doen? “Sê vir haar ek gaat net eers huis toe om my orders af te gee; as ek terugkom, moet sy klaarstaan. En die goewerment sal vir my ’n paar nuwe skoene gee oor ek die oues vir hulle moet staat oploop dorp toe.”

“Ek sal dit in my volgende skrywe aanbeveel.”

Mirjam was vir my besonder verheug toe sy hoor dat ek ingestem het om saam met die vrou dorp toe te loop; dit was of ’n verligting deur haar trek. “Jy bly weg van die tente af, ek sê jou dit.”

“Ek sal, Pa. Maar dan belowe Pa om nie langs die pad met haar snaaks te wees nie, sy’s nie gewoond aan loop soos ons nie. Pa moet kyk dat sy met die soontoe gaan eers onder by Gouna se drif rus, en met die terugkom ook. Wees haar genadig, Pa.”

“Daar’s nie tyd vir genade nie, ek moet terugkom by die hout, sy sal moet draf.”

“Sies, Pa.”

“En jy moet solank beginne operd aan die aartappels, die stoele is reg.”

“Ja, Pa. Belowe my Pa sal haar by die drif laat rus.”

“Ek sal haar laat rus as dit dan vir jou rus vir jou siel sal gee!”

“Dit sal.”

Die vrou het reggestaan toe ek by die tente kom. Van die ander het gestaan om haar af te sien asof sy op ’n lang reis gaan. Vreemde wesens. Hulle kyk jou aan met ’n wantroue, en dis of hulle jou uitdaag om dit te bestry. Die vroue se rokke was netjies, party met spierwit krae van kant; die kinders was ook goed aangetrek, skoene aan die voete. Die mans het ’n soort swierigheid aan die lyf gehad.

Die voorman, Christie, het ewe gewigtig kom orders aframmel oor hoe goed ek tog na haar moes kyk tydens die dangerous conditions wat voorgelê het dorp toe. As ek net meer Engelse woorde gehad het, het ek hom vir goed op sy plek gesit, want van wanneer af leer jy ’n vis van die water of ’n bosmens van die Bos. En as hy gedink het dangerous conditions lê suid van die platrand, kon ’n man net wonder wat hy sou gesê het van wat benoorde lê: van die Rooiels se klowe, van Brown-se-kloof, van Stinkhoutkloof en van Draaikloof. Dan het hy hom seker bevuil.

Ek was nie ’n halfuur ver met die vrou nie, toe stry ons. Sy op haar taal en ek op myne. Want toe loop sy soos ’n bosbokooi wat vir elke kraak in die ruigtes wil opskrik. Laat loop ek haar vooruit, loop sy soos een wat die hele tyd iets van voor af te wagte is en rem tot ek op haar hakskene trap. Vir elke spinnerak wil sy koes. Laat loop ek haar agter, bly sy aan die omkyk vir ’n ding wat van agter af moet kom. Voor ons die eerste kloof deur is, het ek genoeg gehad.

“Kyk hierso, Petronella,” sê ek en stop haar net daar.

“Petroniglia!” Sy help my sowaar ewe skerpbek reg met haar naam.

“Petronella-Petroniglia, net wat jy wil,” sê ek, “as jy saam met Silas Miggel loop, lóóp jy! As daar uit te kyk is vir gevaar, sal ék dit doen, nie jy nie. Kom!”

Vir elke een woord wat ek sê, het sy tien van haar eie; dit rol nes klippers by haar mond uit en haar hande en haar oë skel saam. Hoe meer ek vir haar beduie om stil te bly, hoe kwaaier word sy. Het die grootloerie my nie kom red nie, weet ek nie waar dit sou geëindig het nie. Sy was nog goed aan die gang, toe kok-kok-kok die loerie reg bo ons in die boom en sy skrik haar mond botstil toe.

“Dis ’n voël,” sê ek vir haar. “Voël. Big loerie.” Ek sit sommer die Engels ook by, maar dit help nie. Die eerste keer dat ek ’n vreemdeling sien skrik het vir ’n loerie se roep, was dit nie; as ’n mens nie weet dis ’n voël nie, kan jy seker skrik. Toe die tweede sars kok-kok-kokke val, toe lyk dit vir my sy het lus om om te spring en te hardloop. “Dis ’n voël!” keer ek en steek my arms uit en klap hulle soos vlerke. Simpel staan ek daar en vlieg en vlieg totdat sy bedaar, en genoeg was genoeg, ek was klaar met sukkel. Ek het my mes uitgehaal en vir my ’n lekker tak in die onderbos gesny en vir haar beduie om voor in te val, en daar het ek haar met die tak gehou soos jy met ’n jongos maak wat wil lyf rondgooi.

By Gouna se drif het ek haar laat water drink en ’n bietjie laat rus. Sy het ’n fyne sakdoek uitgehaal en haar gesig gewas, en toe sy klaar is, sê ek vir haar sy moet kom, dit word laat. Gelukkig was die Gounarivier laag genoeg dat ons op die klippe kon deur sonder om skoene uit te trek.

En Mirjam was verniet bang dat sy nie sou kon byhou nie, sy’t goed bygehou. Al pratende op party plekke en dan weer vir lang rukke stil en dikbek. Toe ek aan die westekant van die dorp met haar uit die ruigtes kom, en sy gewaar waar ons is, moes ek byhou om saam by die polisiekantoor aan te kom.

Hoofkonstabel Ralph was agter die toonbank. “En as oom nou vanmôre met ’n tak staan?” vra hy. “Het oom die vrou aangejaag tot hier?”

“Môre, konstabel. Sy’t net kom hoor of julle nog nie iets van die kind gehoor het nie.”

“Die tolk is nie dalk by oom-hulle nie?”

“Sien jy die tolk?”

“Ek vra maar net, oom.”

Ons moes bo-oor haar praat om mekaar te hoor. “Sy wil weet van die kind,” sê ek weer.

“Kan oom haar nie ’n bietjie stilmaak nie?”

“Ek kan haar nie eers dagsê op haar eie taal nie, wat nog te sê van stilmaak. Het julle iets gehoor?”

“Ja, oom. Die polisie in die Kaap het Tomaso gekry. Die kind is by hom en sy vrou, maar hy sê hierdie mense het die kind vir hulle gegee.”

“Wat?”

“Ja, oom.”

“En dis nou waarvoor ek my werk moes laat los?” Ek was op die oomblik ergerlik. “Petronella!” sê ek.

“Petroniglia!”

Toe ek die tak lig, toe keer die konstabel. “Wag nou, oom!” sê hy en leun oor die toonbank totdat sy gesig so hoog soos hare is en probeer self met haar praat: “Signora Grassi, Catarina in Kaap. Cape Town.” Hy het met al twee arms in die rigting van die Kaap beduie. “Bambino Cape Town. Tomaso.”

“Bambina!” Dit wou lyk of sy bly word.

“Bambina Cape Town. In die Kaap.”

“Si, si!”

“Bambina Cape Town with Tomaso.”

“Si, si!”

“In die Kaap.”

“Si, si.”

Dit was net ’n gesukkel. “Los dit,” sê ek. “Julle gaat tot vanaand toe hier staat en Cape Town en sie-sie en niks verder kom nie. Ek sal vir Christie loop sê om vir haar te sê.”

Toe was dit weer ’n gesukkel om haar daar weg te kry. Maar uiteindelik kry ek dit darem in haar kop dat ons by Christie moes kom, en die eerste uur op pad terug gaan dit nie te sleg nie. En het ek haar miskien eerder laat rus, het dit nie gebeur nie, want toe ek my weer kom kry, toe loop sit sy voor my in die uitgekapte pad, plat op haar agterwêreld en sy beginne huil soos ’n kind wat nie sy sin gekry het nie.

“Nee o swernoot,” sê ek toe sy nie wil op nie. “Silas Miggel is net van vlees en been. Julle het die kind vir Tomaso loop staat gee en agterna kom staat spyt kry en nou wil jy hier kom sit en skop en skree? So waar as wat ek leef, ek los jou vandag net hier.” Ek praat, maar sy sit. Ek probeer later mooipraat, maar dit help net so min. Gesit het sy gesit. Dalk was haar voete seer. Dalk had sy lewersteek. Hoe moes ek weet? Ek skel, ek praat mooi, maar sy staan nie op nie. En ek dink nog wat ek volgende kan probeer, toe breek die boomtak aan die oostekant en dis naby. Ek skrik.

“Grootvoete!” sê ek vir haar. “Grootvoete!” Toe die tweede tak klap, toe gaan staan ek soos ’n blêrrie fool hande-viervoet voor haar, ek tel my een arm op en hou dit voor my soos ’n slurp en al wat sy doen, is om sagter te huil. Toe bly daar net een ding oor en dit is om aan te loop en haar net daar te laat sit. As dit ’n enkele olifant was, was daar nie dadelik gevaar nie, die wind was aan ons kant; maar as dit ’n trop was, kon die helfte nog op pad wees van die westekant af en dan was daar moeilikheid. Ek kon weghardloop en ’n boom soek om te klim, maar wat van haar? Hulle sou haar morsdood plattrap en agterna sou daar van mý ’n moordenaar gemaak word.

Toe loop ek aan en laat sit haar net daar. Ek was skaars om die eerste draai weg, toe werk die plan en hoor ek net: “Signor Miggel! Signor Miggel!”

Signor Miggel. Verbeel jou dit. By Gouna se drif het ek haar weer laat rus en laat water drink. Sy’t sleg gelyk. Haar skoene en die onderpart van haar rok was vuil van die stof en haar hare het in lang stukke losgekom uit die kamme waarmee sy hulle vasgesteek het. Dit was ’n anderster soort vrou van anderster soort mense. Nie lelik nie.

By die tente het ek die boodskap vir Christie loop gee en gewag dat hy dit vir haar sê. Toe ek sien sy word kwaad, toe maak ek dat ek wegkom. En Mirjam is in die onderste hoek van die aartappelkamp aan die operd, sonder kappie op haar kop, en toe ek by haar kom, toe sien ek sy het nog nie eers een ry klaar nie. Wat het sy die hele môre gedoen?

“Mirjam?”

“Het die vrou toe iets verneem van haar kind, Pa?” Sy kyk nie op nie.

“Ja,” sê ek. “Tomaso sê hulle het die kind vir hom gegee.” Haar wange was rooi soos van een wat gehardloop het. “Hoekom is hier nog nie eers een ry klaar nie? Was jy weer by die tente?”

“Nee, Pa.” Sy het met ’n drif die grond om die stoel by haar voete begin opwerk asof sy daarmee vir my wou sê: los my uit.

“Mirjam, ek wil weet waarom hier niks gedoen is in ’n hele halwe dag se tyd nie!”

“Hal wag bo by die huis vir Pa.”

Hal? Hal was Barrington se tweede seun en my verbeelding het skielik die loop geneem tot waar dit nog nooit was nie. Was daar iets tussen Mirjam en Hal en het ek dit nooit agtergekom nie? My verstand sê vir my ek klim in die verkeerde boom, wanneer kon daar so danig iets tussen Hal en Mirjam gewees het? Waar? Hal het die jaar tevore van die huis af weggeloop soos sy broer John en sy broer Will voor hom, en hy was maar ’n paar weke lank terug by die huis. En weer stry my verbeelding my op en sê dit ís Hal. Hoekom was Mirjam die oggend so besonder bly dat ek saam met die vrou dorp toe sou gaan? Het sy geweet Hal kom? Waar was sy die hele tyd as sy nie by die tente was nie en ook nie in die aartappelkamp nie? Die werk in die huis was klaar toe ek die môre weg is.

Daar was ’n tyd toe ek gedink het Will, Barrington se derde seun, het sin vir Mirjam en ek het hom fyn dopgehou. Al drie Barrington se seuns was aansienlik van gestalte en ek was nooit heeltemal gerus nie. Maar toe begin Mirjam op ’n dag steeks raak vir elke keer saamgaan Poortland toe as ek die dag daar moes loop inval, en raak ek weer gerus. As sy vir een van hulle sin gehad het, sou sy nie gekies het om by die huis te bly nie. Op ’n dag het ek en Barrington oor dieselfde ding woorde gehad. Hy het dit aangevoor:

“Jou dogter word groot, Silas, sy is mooi.”

“Dit weet ek, Mister Barrington.”

“Ek het drie seuns, ek sou nie wou sien dat sy seerkry nie.”

“Die man wat my Mirjam seermaak, hang ek met ’n osriem aan die eerste boom op,” het ek hom die versekering gegee.

“Laat ons openlik en ernstig met mekaar praat, Silas, hierdie dinge gebeur. Ek sal onderneem om met my seuns te praat en jy onderneem om met Mirjam te praat.”

“Waaroor sal ek met haar praat, Mister Barrington?” Ek het my aspris dom gehou. Barrington was ’n man wat in groot noute geleef het. Hy wou nie eers hê sy bul moes naby die huis wei waar sy vrou of dogters hom kon sien nie. En nie eers van stinkhout het iemand voor hom waag praat nie. Op Poortland was stinkhout stingwood, al het die hout nog altyd gestink as jy hom saag en nie ge-sting nie. “Waaroor moet ek met Mirjam praat, Mister Barrington?”

“Oor verskille tussen mense, Silas. My seuns is uit ’n ander stand as Mirjam. My kinders en jou kind se agtergronde verskil.”

Ek het my dik geërg. Ek het vir hom gesê ek mog ’n arm en ongesiene man teen hom gereken wees, maar ek is ordentlik en hardwerkend en my Mirjam is dieselfde. Ek sou in elk geval nie toelaat dat John óf Hal óf Will ’n oog na haar draai nie.

Hal het op die trap voor die agterdeur gesit.

“Middag, oom Silas.”

Dit was al vir my of hy skuldig klink. “Middag.” As ek moes agterkom dat daar ’n ding tussen hom en Mirjam was, sou hy bars.

“Ek wag al ure vir oom.”

“Hoekom het jy nie jou loop gekry toe jy gesien het ek is nie hier nie? Vir wat het jy Mirjam uit haar werk uit gehou?”

“Ek het Mirjam nie uit haar werk gehou nie, oom. Sy het dan nou maar eers hier aangekom, sy wou nie eers vir my ’n bietjie koffie maak nie, sy’s reguit na die aartappels toe.”

Dit was nie Hal nie. Ek wou vir hom vra of sy van die tente se kant af gekom het of uit die Bos, maar my trots het my gekeer omdat ek nie wou hê ’n Barrington moes my in onrus sien nie. “Ek neem aan jou pa het jou gestuur,” het ek ander praatjies gemaak en vooruit die huis ingeloop.

“Ja, oom.”

Een ding sal ek van Hal sê: van al Barrington se kinders was hy die enigste wat ooit aan Silas Miggel se tafel kom sit het om saam te eet as dit etenstyd was. John en Will sou nie verder as die deur met ’n boodskap gekom het nie en die meisiekinders het nie verder as die oorkant van die kloof saam met Mirjam geloop nie.

“Sit.”

“Dankie, oom.”

Ek het die vuur begin opmaak, maar ’n kommer oor Mirjam het deur my lyf getrek en in my hande loop sit. “Breek vir jou ’n patat, dis onder die doek.”

“Dankie, oom. My pa vra of oom nie asseblief sal kom help met die kaste se maak nie. Die eetkamer se mure moet gepleister word, die huis kom net nie weer klaar nie.”

“Hoeveel jaar is dit vanlat hy afgebrand het?” Dit was beter dat ek Hal tussen my en Mirjam hou sodat daar eers kalmte in my gemoed kon kom. Hoekom het sy my nie in die gesig gekyk nie?

“Dis tien jaar, oom.”

“Wat sê jou pa van die Italiane?”

“Nie veel nie, oom, maar ek weet hy voel skuldig. Ek ken hom. Hy het gistermiddag lank met die teleskoop gestaan en hier na die platrand toe gekyk. Pa is nie gesond nie, oom. Hy bekommer hom oor die hout en oor die tuin en oor die beeste en oor Will op Karawater. Oom kan nie vir Pa nou sommer net los nie. Daar is omtrent al weer nie ’n werksmens op Portland nie, John het vanoggend die perd opgesaal, maar sonder ’n enkele een teruggekom.”

“Hy moet ophou met daardie manier van hom om die werksmense met die perd te wil loop aankeer. Dis nie beeste nie. Hoekom help jy en John nie liewerster julle pa nie?”

“Oom ken my pa, niks wat ons doen, is goed nie.”

Dit was nie heeltemal waar nie, maar ek was te vol van die onrus oor my meisiekind om met Hal te stry. En Hal was glad nie onskuldig nie; hy was een wat lief was om sy pa te treiter en het die vervloekste manier gehad om al sagter en sagter te praat as sy pa naby was, dan dink die stomme ou man dis die doofheid wat hom oorval. Die groot fout wat Barrington jare tevore gemaak het, was om vir John en Hal en die oudste dogter, Flos, klein-klein op die skip te laai en hulle in Engeland in die skool te loop sit. Vyf jaar lank moes die kinders daar oorkant alleen leer lees en skryf. Vir wat? My oorle pa het ons self leer lees en skryf. Vyf jaar is lank vir kinders. Toe hulle terugkom, was hulle vreemd. En as dit eers vreemd raak tussen jou en jou kinders, bly dit vreemd. Dit moes nie tussen my en Mirjam vreemd raak nie. Nooit nie.

Vir die vier jonger kinders het Barrington die slag ’n school teacher uit Engeland laat kom om hulle oorkant op Poortland te kom leer, ’n Miss Ritchie. Party van die kinders was al groot. Imar was twaalf, Gabrielle ses en Kate seker al veertien. Mirjam was elf. Miss Ritchie was nie lank daar nie, toe begin Imar en Gabrielle en Mrs Barrington neul dat daar vir Mirjam plek gemaak word in die skoolkamer op die dae wat ek daar uitgehelp het. Nie hoër of laer nie. Ek het nie beswaar gehad nie. Barrington was die een met die beswaar. Hy het gesê Miss Ritchie kos hom baie geld. Nie alleen moes hy haar skipgeld van Engeland af betaal het nie, maar boonop moes hy haar sestig pond in die jaar gee plus slaapplek en drie keer se kos op ’n dag. Daar kon vir Mirjam plek gemaak word in die skoolkamer, maar dit sou my ’n sjieling ’n dag kos. Bloedgeld. Maar ek het dit betaal. Ses maande lank. Toe stop Barrington Mirjam se skoolganery omdat Miss Ritchie dit konsuis te moeilik kry met die kind wat eintlik net Hollands ken. Dit was ’n lieg. Die kind het dan van kleins af op Engels moes speel met Imar en Gabrielle. Wat kon ek doen? Dit was nie mý school teacher nie. Mirjam het ’n volle week gehuil toe sy hoor sy kan nie meer skoolgaan nie en het toe maar bedags om die opstal rondgespeel tot die kinders uit die skoolkamer uit kon loskom. Miss Ritchie het drie jaar gebly. Lank nadat sy weg is, het Mrs Barrington my eendag gevra of Mister Barrington my ooit gesê het hoe slim Mirjam in die skool was. Barrington het my nie ’n woord daarvan gesê nie.

“Kan ek vir Pa sê oom sal môre kom help?”

“Nee. Die dag as die skip die Italiane kom laai, daardie dag kan jou pa my weer laat roep. Nie voor dit nie. Jou pa is ’n geleerde man en hoog gereken by die goewerment, sê vir hom hy moet ’n brief skryf en vra dat die skip voor die maand uit is, gestuur word. As die winterreëns eers begin val, gaat die spul doodverkluim hier in die tente.”

“Ek sal vir my pa sê, oom.”

Mirjam het nie naby gekom solank Hal daar was nie. En Hal was skaars weg, toe is White daar. Vyftien jaar lank het ek en Mirjam in vrede gewoon, met net af en toe ’n siel om ’n beker koffie voor te skink, nou was my huis skielik aanloopplek van vroeg tot laat. Waar moes dit eindig? En White het skaars gesit, toe kerm hy:

“Ek weet nie meer watter kant toe nie, Miggel.”

“Ek ook nie, Mister.”

“Die Grassi’s sê hulle het nié die kind vir Tomaso gegee nie.”

“Dink Mister nou hulle sal sê as hulle dit gedoen het? Ek mog dom wees, maar ek is nie onnooslik nie. Sou Mister op daardie skip geklim het as jy geweet het jou kind het konsuis weggehardloop? Die skip kon vaar tot anderkant die see, ek sou nie op hom gewees het nie, ek sou my kind loop soek het. Ek sou nie tot hier gekom het en dan kom staat en huil het nie. Ek sê vir Mister hulle het agterna spyt gekry.”

“Ek kan nie met jou saamstem nie, Miggel. Hierdie man en vrou is werklik verpletter van hartseer oor hulle kind.”

“Mister moenie vir elke snotbel en traan begin siestogfoeitog nie, kou eers voor jy sluk. En watse klas voorman is Christie watself nie loop kyk het waar die kind is nie? Ek sê vir Mister, hulle het die kind weggegee en hier kom spyt kry.”

“Ek het nie besef hoe hardvogtig jy is nie, Miggel.”

“Omdat ek nie wil saamtjank nie, is ek hardvogtig.”

“Christie is besig om ’n brief aan die polisie te skryf en te sê dat die Grassi’s nié die kind vir Tomaso gegee het nie. Hulle moet haar onmiddellik van hom wegneem en daar moet teen hom opgetree word.”

“Ek hoop nou net nie dit gee ’n lang gestryery van briewe af nie, want dan gaat hulle binnekort weer op ’n skip klim sonder die kind. Hoekom sê julle nie liewerster hulle moet die kind daar hou nie, hulle kan haar sommer met die verbygaan optel?”

“Ons sal maar wag en sien wat die reaksie op Christie se brief is.”

“Sit Mister dalk en wag vir ’n bietjie koffie?”

“Dit sal lekker wees, dankie, Miggel.” Die man het ’n lang sug gegee en eers toe hy die koffie het, toe kom dit uit dat hy eintlik oor Christie kom kla het. “As ek net geweet het wat hy vir hulle sê en wat hulle vir hom sê, Miggel. Hulle word by die dag meer ontevrede en Christie maak soos hy wil. Hy weet baie goed ek kan nie sonder hom klaarkom nie. Die goewerment het hom gehuur om saam met hulle as tolk en hulp tot hier te kom en tot daardie dag toe is hy betaal. En wat gebeur? Toe hulle op die kaai staan, loop hy eenkant toe en laat my net daar staan en ek ken nie een woord Italiaans nie.”

“Dit het seker maar geneuk, ja.” My kop was by Mirjam. Dinge sou gepraat moes word. Dringend.

“Dit verplig my net daar, sonder magtiging, om sy dienste met ’n verdere ses maande te verleng en ek bied hom ag pond die maand aan, wat hy weier, want sy prys is toe tien pond die maand plus sy eie twintig akker kroongrond en al die ander voorwaardes van immigrasie. Ek moes hom dit sonder magtiging toestaan, alhoewel ek onmiddellik aan Mister Laing geskryf het om die omstandighede te verduidelik. Maar op die ou end kan dit dinge wees wat teen my tel.”

“Gelukkig sal Mister hom nou darem nie vir die volle ses maande hoef aan te hou nie, ses maande lank sal die goewerment nie met die skip draai nie.”

“Nee. Maar ek kan nie langer as oormôre, as Donderdag, hier op die platrand bly nie. Ek moet terugkom by my kantoor en terselfdertyd kan ek nie vir Christie net so hier alleen met hulle los nie.”

“Vat hulle saam terug en slaan die tente weer langs die meer op, dan is hulle sommer by die kaai.”

“Ek het geen magtiging om dit te doen nie, Miggel. Hulle sal eers hier moet bly en jy sal eenvoudig vir Mister Christie moet bystaan.”

“Wat? Mister se verstand is aan die swik as Mister dink ek gaat hom bystaan. Ek het gesê ek sal help om hulle terug te kry tot by die water, maar verder wil ek met hulle niks te doen hê nie. Tensy …” Ek weet nie waar die gedagte vandaan gekom het nie, maar toe ek my kry, toe staan die idee soos ’n oop hek voor my. “Tensy Mister my mý prys ook betaal.”

“Watse prys?” Hy was versigtig.

“Twintig akker kroongrond. Gee my twintig akker kroongrond onder dieselfde kondisie as vir die vreemdes, en ek help Mister Christie nag en dag totlat die skip kom.”

White het vinnig gekeer. “Wag nou, Miggel, jy weet baie goed dat dit nie moontlik is nie, ek kan nie sommer kroongrond sit en uitdeel nie.”

“Maar daar kan vir Mister Christie uitgedeel word.”

“Hy word beskou as ’n immigrant.”

“Ek sal die geld nou aftel en neersit.”

White het sy kop geskud. “Nie eers teen dubbel die prys nie, Miggel. Hierdie grond is vir immigrante uitgesit. Maar as jy vir my die waak oor Christie en die Italiane hou totdat die goewerment oor hulle lot besluit het, belowe ek jou om my ore en oë toe te maak as daar ooit weer gepraat word oor Silas Miggel wat onwettig op kroongrond bly.”

Dit was soos ’n present wat voor my neergesit word, maar wat ek nie kon waag om te vat nie omdat dit ’n strik ook kon wees. Aan die ander kant kon dit die grootste geluk wees wat ooit in my pad kom lê het. “Meen Mister nou lat as ek Mister Christie met hulle help tot die skip kom, ek vir die res van my lewe op die platrand kan woon?” Ek het dit gevra asof dit niks is nie; as dit ’n strik was, moes hy self daarin trap.

“Ja.”

“En wat gebeur as Mister môre, oormôre omkap en sonder sê bly lê?”

“Ek sal aan Mister Laing skryf en voorstel dat jy as hulp vir Christie aangestel word in ruil vir die reg om hier te bly.”

“Dan kom laai die skip hulle en die goewerment sê: Silas Miggel, jy moet trek, ons is nie meer verleë oor jou nie.”

“Ek sal voorstel dat die reg vir die res van jou lewe aan jou toegestaan word.”

“Nee, nie vir die res van my lewe nie, vir die res van Mirjam se lewe. As die kroon dit aan my gee, was ek elke aand al wat Italiaan is se voete en sit hulle nog in die kooi ook. Christie se voete ook.”

“Ek sal skryf en voorstel dat jy, sowel as Mirjam, lewensreg kry op die platrand.”

“Mister sit nie nou vir my en lieg omlat Mister verleë sit nie?”

“Ek gee jou my woord.”

Ek het die present met al twee my hande gevat en vir die eerste keer in my lewe geweet wat dit is om ’n gemoed vol sekerheid oor ’n blyplek te hê. Nooit het ek regtig geweet hoeveel tyd daar op die platrand vir my en Mirjam oor was nie, waar my kooi sou staan as ek die dag moes reglê vir die engels om my siel hemel toe te vat nie, wat van Mirjam moes word nie. Ek het op daardie oomblik gevoel soos een wat jare lank in die wind gestaan het en skielik skuilte kry. Goed, die platrand het nie Poortland se water of geilte gehad nie, maar die platrand was mý plek. Op die platrand het ’n patat geswoeg om te rank en ’n mielie om te kop. Jy leer maar om nooit sonder ’n sak en ’n skepding te loop nie, vir elke bietjie mis langs die pad; maak nie saak of dit os of olifant of bosvark s’n is nie, jy skep en loop werk dit in die aarde in.

“Dan maak ons so,” het ek vir White gesê en hom my hand gegee. “Ek sal vir Mister hier instaan en Mister Christie met die Italiane help.”

Toe White loop, het ek Mirjam ingeroep en haar oorkant my aan die tafel laat kom sit. “Ons gaat nie rusie maak nie,” het ek vir haar gesê. “Waar daar elke dag rusie in ’n huis gemaak word, het die duiwel sy intrek geneem en die duiwel gaat nie hier losies kry nie. Daar het vandag ’n goedheid na ons toe aangekom, maar voor ons daaroor praat, gaat ons eers ander dinge uitpraat. Ek wil weet waar jy vanmôre was.”

Sy het my reguit in die gesig gekyk en die verset was dik in haar stem toe sy my antwoord: “Ek was Bos toe. Ek het vier bloubokkiestrikke gestel en vyf bosbokstrikke.”

“Nege strikke? Vir wat?”

“Die mense sit sonder kos, Pa. En ingeval Pa wil weet of daar enige van die Italiane saam met my Bos toe was, kan Pa maar gerus wees, daar was nie.”

Sy het my gesê wat ek wou geweet het, maar iets aan haar het vreemd gebly, ’n opstandigheid wat ek nie in haar geken het nie. Ek weet wanneer sy nukkerig is, dit was nie nukkerigheid nie. “Wat hinder jou, Mirjam?”

“Niks.”

“Moenie my ’n dwars antwoord sit en gee nie, Mirjam! En moenie lat hierdie tafel tussen ons ’n klipbank word nie. Ek ken vir jou, sê wat jou hinder.”

“Dis nie wat mý hinder wat die moeilikheid maak nie, dis wat Pa hinder. Noudat hier elf tente kom staan het, word ek erger as ooit tevore opgepas omdat Pa met dinge in die kop en in Pa se hart loop oor my, en Pa dink ek weet dit nie. Pa dink ek is nog altyd tien jaar oud. Ek is nie.”

Waarvan het sy gepraat? “Watse dinge?”

“Baie dinge.”

“Soos wat?”

“Elke keer wat ’n man net na my kant toe kyk, wil Pa geweer gryp. As Pa om hierdie platrand die hoogste muur kon pak om my binne te hou en die wêreld buite, het Pa nou opgestaan en gaan begin klippe aandra.”

Ek was verslae. Die kind was soos ’n pitsweer wat aan die oopbars is. “Sê jy ek maak jou hier op die platrand vas?”

“Ja, Pa.” Sy het dit sonder skroom gesê. “Loop ek dorp toe, moet ek elke tree tel, want by die huis meet Pa my wegbly aan die son. Praat ek tien woorde op die dorp met iemand, is ek tien tree agter en sit die onrus soos onheil op Pa se gesig as ek by die huis kom. Hoeveel keer vra ek Pa dat ons soms op ’n Sondag ’n bietjie na Spruitbos-se-eiland toe moet loop om te gaan kuier, of Groot Eiland toe, maar Pa hoor my nie eers nie. Kom soek Sias of Martiens ’n os of iets, word ek tuin toe gejaag of gestuur om te gaan water skep, al staan die emmers randvol op die kas. Die laaste keer toe Jacob Terblans by Pa kom kraansaag leen het, wou Pa hom nie eers in die huis in nooi nie omdat ek daar was. Waarom Pa my nog toelaat om Poortland toe te loop, weet ek nie. Of dalk is Pa Poortland se kant toe so blind dat Pa nie dink dat John of Hal of Will my onder in die kloof kan voorlê met die terugkom nie.”

Ek het van skone skrik opgespring. “Wat sê jy daar?”

“Sit, Pa. Dit sal nie nou help om geweer te wil laai nie, hulle het lankal opgehou om my voor te lê. Ek het vir myself gekeer.”

Die kind was besig om van dinge te praat waarvan sy niks geweet het nie. Dit was dinge waarvoor ’n meisiekind ’n ma moes hê, nie ’n pa wat skielik stomgeslaan was van onrus nie. Voor my aangesig het sy die rieme waarmee ek haar so versigtig gespan het, losgewoel en ek kon haar nie keer nie. “Daar is dinge wat jy nie verstaan nie, Mirjam! Dinge waaroor daar op die regte tyd gepraat sal word. Mister White was hier, hy sê as ek vir hom instaan en Mister Christie help met die Italiane, skryf hy Kaap toe en kry permissie dat ons blyreg op die platrand het tot na my én jou se einde. Al wat ek moet doen, is om Christie te help tot die skip hulle kom laai.”

“Wat gaan Pa tot dan toe met my maak?” het sy gevra asof sy my daarmee wou uitdaag. “’n Streepsak oor my kop trek? My in die huis opsluit totdat hulle weg is en ons weer alleen op die platrand is?”

“Mirjam, jy’s opstandig! Daar is dinge wat jy nie verstaan nie.”

“Ek is lankal opstandig, Pa. Ek is opstandig omdat ek eenkant gehou word soos een wat ’n siekte het. Ek het nie ’n siekte nie, Pa!”

“Mirjam.”

“Weet Pa hoeveel keer was ek al skelm Spruit-se-eiland toe as Pa op Poortland is? Weet Pa hoekom? Net om ’n slag met meisiekinders van my eie portuur te praat, net om nie altyd eenkant te moet wees nie.”

Dan was ek reg, het ek vir myself gesê, sy had klaar haar oog op een, sy was klaar skelm. Ek het net nie geweet of dit Sias of Martiens was nie. Maar die skrik het skielik die moed in my losgemaak om reguit met haar die waarheid te praat. “Mirjam,” het ek vir haar gesê, “die ding wat my laat geweer gryp as een na jou kyk, die ding wat my in die nag ’n benoudheid laat kry as ek oor jou lê en dink, is die ding waaroor ons op hierdie dag aan hierdie tafel gaan praat.”

“Ek weet waarom ek nie ’n ma het nie, ek weet waarom my ma nie ’n ma gehad het nie.”

Die een oomblik staan jy met die byl oorgehaal om die boom te kap en die volgende oomblik duiwel die boom voor jou oë neer nog voor die blad aan die bas kon raak. Sy het dit sonder erg gesê, net weggekyk soos een wat skaam is. Ek wou opstaan en by die deur uitloop tot onder in die verte waar die platrand oor die kranse val en daar bly staan totdat die jammerte vir my mooie meisiekind bedaar het in my. Ek het skielik gewens ek het iets gehad om haar te gee, ’n rok of kamme vir haar hare soos wat in die Petroniglia-vrou se kop was. Of ’n kat. Enigiets om haar te troos, maar ek had niks.

“Hoe weet jy dit, Mirjam?” het ek haar in verslaentheid gevra.

“Ta’ Hannie het my gesê.”

Dit het die tweede skrik gebring. Hannie was een wat maklik getrap het voor sy kyk waar sy trap. “Wat het sy vir jou gesê?” Ek moes weet.

“Dat Ma se ma se pa ’n vloek oor ons gebring het. Dat ’n man een nag ’n pakos by hom gevra het om sy vrou op te laai sodat hy haar op die dorp by die dokter kon kry, maar grootoupa wou nie die os gee nie. Toe dra die man die vrou en by Bokbaard-se-draai het hy haar laat val en net daar is sy met kind en al hemel toe.

“Dis ’n vervloekste bosstorie!” het ek geskree. “Dis ’n opgemaakte ding wat al jare rondgeskinder word en nou in jou ook ingeprent staat! Die een klomp sê dit was ’n man wat wou os leen, die ander sê dit was ’n vrou wat in barensnood kom herberg soek het. Ek sê vir jou dis ’n ding wat agterna opgemaak is. Van wanneer af stuur ons bosmense mekaar weg?” As ek Hannie in die hande kry, is daar moeilikheid. Hoe moet ek die storie uit die kind se kop uit kry? “Dis ’n opgemaakte ding, Pa sê dit vir jou.”

“Dit maak nie saak nie, Pa. Die waarheid bly staan: my ouma is dood toe my ma gebore is, my ma is dood toe ek gebore is. Ek weet dit lankal.” Sy het opgestaan en vuurherd toe geloop. Eers toe sy die stuk hout op die kole smyt dat die vonke in die lug op skiet, het sy die bitterheid in haar verklap. “Dit maak nie saak nie, dit maak net verskil,” het sy bygesê. “Johanna van oom Willem, Susanna van tant Grieta, Bettie van tant Bet en al die ander meisiekinders kan sê met wie saam hulle eendag wil dorp toe loop om te gaan trou. Nie ek nie.” Sy het die patats begin afwas en aangehou met praat en praat soos dit haar gewoonte was wanneer sy skuldig of bang is. “Bettie sê sy wil saam met Martiens loop. Susanna saam met Jacob Terblans – het Pa geweet dat vier van die Italiane kort nadat hulle aangekom het, voor die magistraat getrou het? Antonia Fardini het met Domenico Tomé getrou en haar suster, Giuditta, met Angelo Mangiagalli.”

“Maak jy die name op?” Ek kon nie dink dat dit hulle regte name kon wees nie.

“Ek maak dit nie op nie, Pa. ’n Mens moet net mooi luister; party is moeilik om te sê, jy moet ’n paar keer oefen. Maar dis lekker, dit klink so anders. Mister White sê Giuditta is so oud soos ek. Sewentien. Mister Christie verwag moeilikheid oor Angelo Mangiagalli; sy mense weet nie dat hy saam met die syboere gekom het nie. Hulle is baie vername mense in Italië en hy was veronderstel om met ’n ander meisie te trou, nie met Giuditta nie. Antonia en Domenico het mekaar op die skip van Engeland af leer ken. Pa sal môreoggend moet saamloop na die strikke toe, as daar meer as een bok is, kry ek die vleis nie alleen by die huis nie. Miskien moet ons die slee vat. Dinge gaan verkeerd draai by die tente, Pa, dis of hulle in die rondte loop soos mense wat nie weet waarheen nie. En Pa hoef nie bang te wees dat ek ’n man sal vat nie, ek sal nie trou nie, ek wil liewer leef.”

Die bitterste bitter was dat ek sonder ’n woord van troos vir haar moes sit. Ek kon nie vir haar sê: toe maar, dalk is jy nie soos jou ouma en jou ma nie, dalk kom dit jou nie oor nie. Geen mens het reg om vals te troos nie. En dit was maklik vir haar om te sê sy sal nie trou nie. Het sy geweet wat vir haar voorlê as sy die dag sinnigheid kry vir ’n man? Die regte sinnigheid? As die groot gevoelentheid oor jou kom, raak jy anders. Dit kom staan tussen jou kop en jou lyf, tussen jou voete en die aarde, dit laat jou anderster asemhaal, anderster kyk. Jy vind die hemel op die aarde.

Al troos wat ek had, was vir myself en dat sy mý kind is. ’n Kind van Silas Miggel is oop-oë bang. Hoeveel keer is ek nie in dikbos met haar deur, klipgooi onderkant of bokant ’n trop olifante verby nie? Stokstyfbang was die kleine lyfie voor my in die voetpad, maar nie ’n takkie sou onder haar voete kraak wat ’n grootvoet ’n oor kon laat roer nie. Maar die dag wat ek my eie wil die helderste in haar gesien het, was die dag toe die wolkbreuk ons op die dorp vasgekeer het en ons amper donker voor Gouna se drif staan. Ek sien daar’s nog kans dat ons die oorkant sal kan haal as ek haar op my skouers tel en deurdra. Sy was toe maar skaars ag jaar oud en te lig, die water sou haar vat as ek haar self laat deurloop. Ek moes haar by die huis kry, daar was nie meer ’n rafel droog aan ons lywe nie en ons kon nie daar slaap nie.

“Ons gaat deur,” sê ek vir haar. Die water raas voor ons verby.

“Ons gaan deur,” sê sy agterna.

“Die water gaat ons nie vat nie,” sê ek en ek tel haar op.

“Die water gaan ons nie vat nie,” sê sy.

Dit was lelike water. Modder. toe ek in die middel kom, dog ek ons is weg, die stroom gaan my vat met kind en al, maar ons is deur. Net-net. Eers by die huis, toe ek haar droog en voor die vuur had, vra sy: “Was Pa bang?”

“Ja,” sê ek, “maar ek het nie gerittel nie.”

“Nee,” sê sy, “ons het nie gerittel nie.”

Ligdag het ek en sy al nege die strikke gaan naloop. Elkeen was fyn en reg gestel soos ek haar geleer het, op die regte plekke, maar nie eers ’n bok se haar was gevang nie. Niks.

Sy was stil. Toe ons by die huis kom, het ek haar gehelp om ’n buitevuur te maak. Dit was tyd dat ons ’n slag patats onder die as kry, ’n mens raak moeg van waterpatats. Ek het by die hout gaan inval. By die tente was dit stiller as gewoonlik; hier en daar het ’n stuk wasgoed aan ’n ankertou gehang en van die mans het eenkant gestaan asof hulle vergader om te praat. Ek het my rug op hulle gedraai en die spansaag sekuur op die merk gesit en ’n nuwe stoeletjie aangevoor. My taak by die tente sou nie begin voor White nie weg is nie; twee base op een werf het nog nooit gedeug nie.

Die lug was oop en helder. ’n Vleiloerie het onder uit die kloof gedoe doe doe-doe-doe, opgehou, weer begin. As die vleiloerie roep, was die reën nie ver nie, en dit was goeie tyding. Ek het klaar gedink: as dit teen die Vrydag nog nie gereën het nie, sou ek die geelsloot moes loop oopsteek om die aartappels en die kool nat te lei. Een van die eerste dinge wat ek sou doen wanneer die spul sywurms weg is, het ek my gestaan en voorneem, sou wees om ’n behoorlike wal bo die sloot te gooi sodat ek meer water kon vang vir Mei en Junie se bergwinddae wat alles kom uitdor. ’n Dam soos Poortland sou die platrand nooit hê nie, die water was nie daar nie. Net die twee vlak afloopspruite het die platrand se water gebring, die een skuins bokant my huis, en die een anderkant die tente waar ek my twee osse laat suip het en waar ek vir White gesê het die Italiane moet skep; ek wou hulle nie naby die geelsloot sien nie, dis my water. Huiswater het ek van die dak af in die vat gevang. As die vat leeg was, het ons water aangedra van die sloot af, maar gelukkig was dit selde want die Bos ken min droogte. Nee, ’n dam soos Poortland s’n sou die platrand nie kon hê nie, maar ek was nie ontevrede nie; as ek blyreg kry, was ek oor niks ontevrede nie. Die beste van die riviere, die Gouna en die Knysna, het onder in die klowe om die platrand geloop en daaraan kon jy niks doen nie.

Die hout het lekker gewerk, want dit was goed droog. My kop het agtertoe geloop tot by die dag toe ek daardie boom bo in Lelievleibos in dikbos gekap het. Eintlik was ek op pad van die heuningneste af toe my oog die boom sien en ek hom net daar vooruit bereken in opvoustoeletjies: soveel mote, soveel pootjies, soveel draertjies waaraan die riempies vaskom. En ek sê vir Mirjam: “Hom gaat ek sommer net hier kap. As die wagter kom, hardloop ons wes tot onder in die kloof en kruip weg, want Pa se houtliksens het week voor laas al geverval en Pa wil nie vandag vir ’n wagter staat en verskonings lieg nie. Jy weet Pa hou nie van ’n liegtery nie.”

Dit was ’n mooi boom, ingeplant waar dit nie te skuins was vir ’n man om hom te moot en uit te sleep nie, as jy hom kap dat hy reg val. Ek sê nog die dag vir Mirjam: teen die tyd wat daardie boom se hout droog is, is sy groot. Sy was toe veertien en ek kon nog die kommer oor haar teëhou, sy was nog kinderlik. Ek byl in en ek kap nog ewe lekker, toe staan die man aan die bokant in die sleeppad en ek sê vir myself: Silas Miggel, dis te laat vir hardloop, vandag is die dag lat jy sonder liksens gevang is, dis ’n nuwe wagter. Maar toe ek die man weer aankyk, sien ek hy lyk nie soos ’n wagter nie, hy lyk nie eers soos ’n gewone mens nie, daar’s iets anders aan hom. Ek groet. Hy groet op Engels. Ek lê my byl neer en ek loop nader. Ek sien dis ’n man wat lank aan die loop is, die bondel op sy rug is groot en swaar en sy hare is lank soos ’n vroumens s’n. Bo-op sy bondel is ’n ding met pote wat nes twee horings agter sy kop verbysteek en ek vra hom daarna. Hy sê dis die ding waarop hy sy papier sit as hy teken. Ek vra vir hom wat hy teken; hy sê hy teken die Bos. Ek sê vir hom dan sal hy baie papiere vol moet teken want die Bos is groot. Toe vra hy vir my of ek hom dalk van die lelies kan sê, hy soek al weke. Ek vra vir hom watse lelies? Hy sê die vlei vol rooi lelies wat hulle sê êrens in die Bos is.

“Mister,” vra ek vir hom, “het jy in al die weke wat jy loop een enkelte lelie op jou pad gekry?”

“Nee,” sê hy.

“Mister,” sê ek, “ás die Bos ’n vlei vol lelies wegsteek en ás die Bos wou gehad het jy moet sy lelies kry, sou jy dit teen hierdie tyd al gekry het. Gaan huis toe.” Maar die man praat mooi, hy sê ek moet hom die pad na die lelies toe beduie. “Mister,” sê ek, “daar loop nie ’n pad na die lelies toe nie.” Toe vra hy of hy die kind kan teken; ek sê vir hom ek laat nie van my meisiekind ’n gesnede beeld teken nie.

Ek was nog nie halfpad met die stoeletjie se uitsaag nie, toe kom White en Christie daar by my aan en ek sê vir hulle as hulle wil sit, sal hulle maar daar buite moet sit, ek los nie die werk nie. Alles is agter. White het gaan sit en Christie het bly staan asof dit nie na sy sin was onder sy voete nie. Toe kom dit uit dat hulle eintlik daar is sodat White in Christie se teenwoordigheid die laaste orders kon afgee en daarom het hy Engels gepraat sodat Christie kon verstaan. Hy het gesê ons moet alles in ons vermoë doen om die Italiane kalm en tevrede te hou, totdat hy van die goewerment verneem het wat daar omtrent hulle gedoen gaan word. Of hulle vry terugvaarte gaan kry of nie, en indien wel, wanneer. Die antwoorde op sy eerste briewe, toe hy nog met hulle op die dorp was, behoort teen dié tyd in sy kantoor te lê en hy sou alle tyding saam met een van die boswagters uitstuur platrand toe. Gebeur dit dat hy intussen magtiging kry om die sjieling per dag per kop aan hulle uit te betaal, sou hy sorg dat die nodige proviand weekliks gekoop word en ook uitgestuur word platrand toe. Daarmee was Christie nie tevrede nie. Hy’t gesê dat hy reeds hoeveel geld aan hulle voorgeskiet het en dat hulle belowe het om dit aan hom terug te betaal. White moes die geld weekliks net so uitbetaal. In my hart het ek gewonder wie hulle dink elke week die sak sjielings platrand toe sou dra, maar niks gesê nie. Dit sou nie Silas Miggel wees nie. Toe sê Christie vir White om tog nie te vergeet om nog ’n paar tente te stuur nie, en komberse, en kookpotte, en wateremmers en en en.

Ek het hulle maar so werk-werk gestaan en luister. Neuk sou dit neuk. Die beste was om stil te bly en te wag dat White eers uit die pad uit is.

Toe bring Mirjam vir hulle koffie buitetoe en ek sien Christie se oë bly op haar soos ’n houtkoper s’n op ’n mooi vrag hout. Ek vra vir White, op Hollands, of die man ’n vrou het. White sê hy weet nie, die man het weinig oor homself gepraat.

“En jy sal maar moet mooi werk met hom, Miggel,” waarsku White my op Hollands. “Hy verkeer onder baie druk en is taamlik humeurig.”

“Mister White, Mister hoef nie met een bekommernis hier weg te stap nie. Ons sal regkom. Kyk Mister maar net lat Mister dadelik aan die goewerment skryf lat ek nou hier vir Mister instaan in ruil vir my blyreg. Dis al.”

“Dit sal die eerste wees wat ek doen sodra ek môre in my kantoor kom.”

“Hoe gaat Mister op die dorp kom?”

“Ek het gereël dat een van die boswagters my goed vir my kom dra. Ek neem sommer die brief wat Mister Christie oor die Grassi-kind geskryf het, saam vir konstabel Ralph. Probeer tog asseblief om meer simpatiek teenoor die Grassi’s te wees, Miggel, hulle het nie die kind vir Tomaso gegee nie.”

“Mister glo soos Mister glo, en ek glo soos ek glo.”

“Hierdie mense is verward, Miggel, wees hulle genadig en kyk mooi na hulle.”

“Mister,” het ek hom gerusgestel, “solank ek na hulle kyk, sal hulle niks oorkom nie. Mister kan hulle maar tel. Verbeel ek my of lyk die Grassi-man soos een wat nie heeltemal gesond is nie?”

“Hy was glo baie siek op die skip van Engeland af.”

Die aand het ek ’n bietjie aan my Engels geoefen. Oor die tussenin woorde het ek nie veel getraak nie; solank ek die main words had om vir Christie te gee, sou ons mekaar ver genoeg verstaan. Kom daar die dag regtig misverstand, moes Mirjam kom help, sy was goed met die Engels.

“Hoe sê ’n mens vir Gouna se platrand op Engels, Mirjam?” Ek het sommer van die tafel af kamer toe gepraat, want sy het al gelê.

“Gouna’s plato, Pa.”

“Dit klink nie vir my reg nie. Is dit nie flêt rênd nie?”

“Pa vra vir my, ek sê vir Pa en dan stry Pa.”

“Hoe sê ’n mens op ’n ordentlike manier en op Engels vir ’n man dis nie sy plek hierdie nie?”

“Pa gaan nie met Mister Christie skoor nie!”

“Ken jy jou pa as ’n skoormaker, Mirjam?”

“Nee, maar as Pa die dag verkeerd is, is Pa harder as ’n stuk ysterhout.”

“Jy maak ’n fout, Mirjam, nie die dag wat ek verkeerd is nie, die dag wat ek reg is en wat ek my nie van ’n byl laat kap nie. ’n Man wat nie sy staan kan staan nie, beteken niks.”

“Solank Pa net nie vergeet dat dit Mister Christie is wat oor die Italiane aangestel is, en nie Pa nie.”

“Van wanneer af staat hy bo die kroon? Hy’s gehuur om hulle taal te praat. White is die goewerment se man en ek staat in vir White. Jy kan maar sê tot die dag wat die skip kom, is Silas Miggel die kroon oor hulle. Die ergste wat ek vir my sien voorlê, is om die spul goed by die name te leer ken.”

Toe ek weer sien, toe staan sy by die tafel. “Dis nie goed nie, Pa, dis mense!”

“Nou dan het ek nog nooit van mense met sulke name gehoor nie, en dit sal bars om die spul uitmekaar te ken. ’n Man se tong kan agteroorslaan. Dis alles net erre, dit rol en dit hardloop.”

“Daar is die mooiste ou seuntjie met ’n pikswart krulkoppie onder hulle, Pa. Sy naam is Felitze.”

“Hoekom kan hulle nie plyn Fielies sê nie?”

“Moenie vir hulle begin byname gee nie, Pa!”

As daar net iewers was waarheen ek haar kon stuur tot hulle weg was, maar waarheen? Die kers het skeef gebrand en die was het ’n bolling in die blaker gemaak. Deur die venster het ek gesien die weerlig slaan agter op die see. As dit agter op die see weerlig, kon jy maar tel: oor drie dae val die water. Dit kon neuk.

Ek het voordag opgestaan en weer die strikke gaan naloop. In die derde een was ’n bloubokkie, skaars genoeg om twee mense van kos te gee. In die ander was niks. Toe ek by die huis kom, sê Mirjam Mister White was daar om te kom groet, hy is klaar weg. En ek staan nog langs die huis om die bokkie af te slag, toe kom Christie uitgevat daar aan en sê vir my daar moet vuurmaakhout by die tente kom. Nie good morning of good day nie, net die order vir die hout. Ek sê vir myself: Silas Miggel, jy sal nie jou siel tot niet vererg vir hierdie man nie, jy sal waardig staan op die platrand. Ek roep Mirjam om te kom oorneem by die vleis en ek sê vir Christie ek was net my bande, hy kan maar solank vir my ’n paar manne gaan bymekaarmaak, ek bring die byle en die rieme.

“Die Italiane, Mister Miggel,” sê hy vir my met ’n vieserige trek van die mond, “sal nie in hierdie bos ingaan om hout te kap nie.”

“Dan sal hulle sonder hout moet klaarkom, Mister Christie: wie nie kap nie, het nie hout nie. Whet of de forest.”

Toe staan Mirjam en lag. “Nie whet of de forest nie, Pa, law of the forest!”

“Nou law of the forest dan! En lag jy weer vir my, stel ek jou aan om vir hom te sê wat ek sê sodat hy vir hulle kan sê wat jy sê wat ek sê en dan kyk ons watse gemors dit is.”

Christie was aan die rondtrap. “Die mense moet hout hê, Mister Miggel!”

“Dit glo ek. ’n Mens kan nie sonder hout leef nie. Loop kry vir my drie sterkes onder hulle en sê vir hulle ek is nou daar met die byle en die rieme.” Ek wou nog byvoeg dat hy vir hulle moet sê om ou klere aan te trek, maar toe ek weer sien, is hy al op pad terug tente toe met lang treë nes ’n konstabel.

Ek het die drie oorkap-byle, die handbyl en die rieme gevat, my skoene aangetrek en tente toe geloop. Party het rondgestaan, party het rondgesit en van Christie was daar nie ’n teken nie.”

“Buon giorno, signor Miggel.” Dit was Petroniglia. Sy’t verlep geklink. Van die ander het agter haar aangesê en een vir een het nader gekom en na my kom staan en kyk asof ek hoop is wat opgedaag het. Sonkant van ’n tent het een op sy hurke bly sit en nie opgekyk nie.

Ek het sommer in die bondel in op Hollands gepraat: “Julle sal vir julle moet regskud, julle lyk kompleet soos goed sonder asem. Ek sê vir julle, hier kom groot reën aan en voor dit val, sal hier baie gedoen moet word. Eerste is die vuurmaakhout.”

Christie het my gehoor, want hy’t skielik uit ’n tent gevlieg en sy vinger amper in my gesig kom druk. “Mister Miggel,” sê hy, “ek is besig om aan Mister White te skryf en te eis dat daar onmiddellik ’n ander persoon gestuur word om my by te staan.”

“Jy sal die skrywery maar eers moet los, hier kom reën aan. Die hout moet gekap kom, daar moet skerm gemaak word om onder vuur te maak, en honderd ander dinge.”

“Ek sien geen wolke nie.”

“Ek sê vir jou, voor jou ink behoorlik droog is, draai die wind wes en reën jy uit jou tent uit. Maar eintlik wil ek van jou weet hoekom hierdie mense so sleg lyk. As die goewerment dit sien, is daar moeilikheid en jy’s kastig die voorman. Wat makeer die man wat daar anderkant sit, is hy lam?”

“Hy was onder die indruk dat hierdie Amerika is. Twee van sy neefs het Amerika toe geëmigreer.”

Die lyf hét vir my ’n bietjie bekend gelyk. Kort en maer, asof hy nog nie behoorlik uitgegroei was nie. “Wat is sy naam?” vra ek vir Christie.

“Antonio Mazera.”

Toe hy sy naam hoor, kyk hy op en toe hy my sien, toe is dit oombliklik weer: “Amêrika, Amêrika.” Maar dit was nie meer om te vra nie, dit was ’n geween. Ek loop tot by hom en ek sê: “Genade, mens, kerm jy nog altyd oor Amêrika? Kry end en kom op jou voete!” Hy’t sleg gelyk. “Jy kan nie hier kom sit en afsterwe nie. Die goewerment het julle getel. As een makeer, gaat hulle hom van my kom vra. Staat op!”

Hy’t opgestaan. Maar toe was dit weer Christie wat ontevrede is. “Mister Miggel,” sê hy, “ek is die tolk. Ek wil weet wat jy vir die man gesê het.”

“Moenie jou verknies nie, Mister Christie, die man het nie verstaan wat ek gesê het nie, hy weet maar net wat ek bedoel het. As Mister Christie nou net sal help praat lat die hout gekap kan kom, sal ek bly wees. En voordat ek met hulle in hierdie bos kan ingaan, is daar dinge wat hulle moet weet as hulle weer daar wil uitkom, daarom moet Mister nie ’n woord uitlaat van wat ek vir hulle wil sê nie.”

“Jy sal hulle nie in die Bos kry nie.”

“Mister, moenie lat ons van die begin af sukkel nie. Sê vir hulle ek soek drie man, want ons gaat behoorlik loop houtkap, nie dunhout breek op die bosrand om mee rook te maak nie. Sê vir hulle hulle hoef nie bang te wees om in die Bos in te gaan as Silas Miggel by hulle is nie; ek sal kyk lat hulle nie wegraak nie en lat die grootvoete hulle nie trap nie. Ongelukkig kan ek nie vir Mister sê wat die grootvoete se regte naam is nie, nie eers op Engels nie, want hulle is baie slim, slimmer as mense, hulle verstaan alles. As jy hulle op die regte naam noem, hoor hulle jou en hulle dink jy roep hulle en kom trap jou plek uitmekaar.” Ek het op die man se gelaat gesien hy weet nie waarvan ek praat nie. “Law of de forest, Mister! Ek praat van die groot diere met die groot ore en die …” Dit was tydmors. Ek het nie geweet wat slurp in Engels is nie en Mirjam was nie by nie. “Los dit,” sê ek, “roep die mense bymekaar en sê vir hulle die hout moet gekap kom, die son klim.”

Wat hy vir hulle gesê het, weet ek nie, maar dit was net woerts-woerts, toe is hy klaar en toe trek hulle los en praat en beduie asof daar ’n slang tussen hulle gegooi is. En Christie staan soos een van wie tot die skaduwee vernaam is.

“Ek het jou gewaarsku, Miggel.” Ek was ook nie meer Mister nie. “Hulle sê waar hulle vandaan kom, hou rowers en wegkruipers in bosse, nie ordentlike mense nie.”

Ek dog ek kom iets oor. “Wat? Sê jy vir hulle, ek sê, in hierdie bos woon net houtkappers en hulle huismense en nie een is ’n wegkruiper of ’n rower nie. Die rowers bly op die dorp, ons noem hulle die houtkopers. Sê dit vir hulle.” Ek het stilgebly van Josafat Stander.

En weer is dit net woerts-woerts, toe sê hy: “Hulle sê hulle is nie houtkappers nie, hulle is geëerde syboere in die land waar hulle vandaan kom.”

“Vra vir hulle, ek vra, as hulle dan so geëerd was, vir wat het hulle hiernatoe gekom?”

“Omdat hulle met mooi beloftes en advertensies gelok is en nou in die wildernis afgelaai sit!” het hy self geantwoord. “Hierdie mense is in opstand. Daar is gekke van hulle gemaak, hulle is beledig! Waar ek en hulle vandaan kom, woon barbare in tente of in huise van hout!”

“Luister, Mister, wil jy vir my kom staat en sê Silas Miggel is ’n barbaar?”

“Húlle sê dit, Miggel, nie ek nie. Wat ek wel kan byvoeg, is dat jy nie ’n idee van beskawing het nie en dat ek en die Italiane uit beskaafde lande kom.”

“Val vuurmaakhout daar uit die lug uit?”

“Nee. Hulle stel voor dat jy die hout gaan kap.”

“Hulle sê ék moet die hout gaat kap?”

“Ja.”

Ek het nie geweet of ek moes omdraai en loop of stilstaan en baklei nie. Waar daar siekte is, tel jy jou byl vir jou allernaaste op in die Bos en loop kap sy hout en sleep dit vir hom uit en ry dit tot op die dorp, en jy vat nie vir jou ’n korrel van sy koffie of sy suiker nie. Maar jy tel nie byl op vir ’n gesonde man nie, nog minder vir ’n treksel vreemdes.

Die luggie wat oor die platrand gesny het, was koud. Die vroue se rokke het om hulle bene vasgewaai en die meeste had tjalles om die skouers. Die kantkrae was nog net so wit, maar ek kon nie agterkom of dit ander rokke was wat hulle aangehad het nie. Ek dink dit was. Die meeste was jong vroue, net een was ouer. Die windjie het van die seekant af gewaai en die tente soos loslyfgoed laat wapper. Teen die Saterdag sou dit reën.

“Signor Miggel?”

’n Vrou met ’n kopdoek onder die ken geknoop en ’n krom neus, het my by die naam geroep. “Ja?” Ek kon hoor sy wil iets van my weet.

“Mariarosa vra hoe groot die Bos is,” tolk Christie.

“Sê vir haar veertien dae se stap na die oostekant toe; noord tot waar die berge lê, suid tot waar die see hom keer en weswaarts weet ek nie.”

“Sy vra wat jou plan is, wanneer jy vir hulle die hout gaan kap. Hulle moet vuur hê, die kinders is honger.”

Ek het vir myself gesê: Silas Miggel, staan kalm; jy’s vasgekeer en as jy vas is, is jy vas. Trap bo-oor jou trots en loop kap vir hulle die hout, die dag gaan om. Loop kap die hout, sleep dit vir hulle uit, dra dit uit, laat hulle staan waar hulle staan. Verniet sal jy jou blyreg nie kry nie. Troos jou dat hulle môre vort sal wees en jy die hele platrand vir jou en Mirjam sal hê.

“Goed,” sê ek vir Christie, “ek sal die hout loop kap. Sê vir hulle dit sal die beste wees, want die Bos het ’n manier om ’n bang man se broek van sy lyf af te beef en dan is hulle nog groter gekke as wat hulle nou is en jy’s die grootste een.” Of hy alles verstaan het, weet ek nie, ek moes maar baie Hollandse woorde tussenin hou.

Ek het die orige byle by die huis gaan sit, die os loop aanhaal en langs die houtkamer voor die slee gespan. Mirjam het vir my asbrood en patats in die bladsak gepak.

“Kan ek nie saamgaan en Pa gaan help nie?”

“Nee.”

“Is Pa nou vir my ook kwaad?”

“Nee.”

“Kan Pa nie solank van ons hout vir hulle gee nie?”

“Dan wil hulle môre wéér van my hout hê.”

Ek is met Rooiels-se-sleeppad die Bos in en ek het my kop vooruit gestuur om die plek te loop kry waar die storm die jaar tevore ’n ou kershout uit die bosvloer gewoel en neergelê het. Daar sou nie gerapport kon word dat Silas Miggel vir hulle groenhout gekap het nie. En ’n beter vuur as van kershout sou hulle nie kry nie. Maar hulle sou betaal. Die goewerment sou betaal. Silas Miggel laat nie aan sy gesig vat nie.

Die Bos was klam en koel en stil. Bo in die bosdak het die wind geroer en spetseltjies son op die os se rug laat spring. Die platrand se oopte was my woning, maar die Bos was my lyf se tweede baadjie. Daar was geen beter plek waarheen ’n man hom kon wend as hy die dag alleente moes hê nie; waar jy vir die boswagter kon gaan wegkruip as daar nie geld was vir houtliksens nie; waar jy die bitterheid uit jou uit kon loop kap as die houtkoper jou verneuk het, as vreemdes jou plek ingeneem het nie.

Gert Oog het darem eendag die geluk gekry om ’n slag ’n houtkoper ook terug te betaal. Gert het weke lank aan ’n vrag stinkhout gekap en gesaag en reggemaak en dit bo uit die Bos uit gesleep, deur die klowe, deur die driwwe, en toe hy op die dorp kom, toe sê die houtkoper hy kan hom nie meer as vyf sjielings se winkelgoed vir die hout gee nie, die kleur is te lig. Gert het nie afgelaai nie, hy’t honger omgedraai. En nie lank nie, toe’s Gert terug by dieselfde houtkoper, weer met ’n vrag stinkhout, en hierdie keer sê die houtkoper, sodat almal op die houtwerf kon hoor en ’n voorbeeld sien, dat dit die mooiste vrag stinkhout is wat in maande by hom aangekom het. Hy het nie geweet dis dieselfde vrag hout nie, dat Gert dit net loop donkerder kleur het met ’n bietjie muishondbos-treksel nie.

Maar terugbetaal is nie uitbetaal nie, jy moet maar jou byl vat en loop kap en vorentoe bly kyk tot waar jou blyreg lê. En die kershout was omtrent ’n halfuur die Bos in met die os en die slee en gelukkig nie te ver van die sleeppad af nie; die entjie skuinste waar ek die hout sou moes uitdra tot bo by die slee, ook nie te erg nie. Een ding sou ek daardie Italiane wys, ek sou vir hulle wys wat een man met ’n byl kon uitrig. Houtkap was nie sywurms oppas nie.

Elke drag wat ek onder klaar gekloof het, het ek met die rieme vasgemaak en uitgesleep totdat daar ’n oopgekloofde, slykerige pad deur die onderbos boontoe gelê het. Ek het seker so ’n stuk of ses dragte uitgehad, toe klap die skoot noord van my, na Draaikloof se kant toe. Swaargeweer. Ten minste kwartponder. Kort op die eerste een nog twee en toe ’n vierde: doodskoot. Iemand het ’n olifant platgetrek. Josafat Stander was dit nie; hy het nooit meer as twee skote geskiet om ’n olifant te laat val nie, en hulle sê ’n koei het hy nooit geskiet nie.

Ek had nooit sin om ’n olifant te skiet nie. Om ’n geelhoutboom van by die honderd-en-vyftig voet hoog te kap en te sien oorkom vir die val, was ’n aardige ding maar ’n plesier; om ’n uitgegroeide olifantbul te sien neerslaan met ’n stuk lood in die harsings, was nie ’n plesier nie. Om vir ’n spul sywurms te staan en vuurmaakhout kap, ook nie. Maar ek het gekap en uitgesleep totdat ek genoeg had om die slee mee hoog te laai en nog ’n bondel vir my eie rug ook. Voor donker wou ek uit die Bos wees. Op pad terug wou ek nog ’n draai by die naaste twee bosbokstrikke ook maak, daar sou nie tyd wees vir strikke in die dag wat voorlê nie. Dan sou die sywurmwagters uitvind dat Silas nie alles vir hulle gaan doen nie. Hulle sou bars.

In al twee die strikke was ’n bok. Mooi groot bokke. Een het nog geleef en ek moes spook om sy gorrel afgesny te kry, met die gevolg dat ek taamlik van die bloed bespat was. Skemer, toe ek die vrag hout met die bokke bo-op tussen die tente insleep, toe sien jy net vroue en kinders spat.

“Het julle nog nooit ’n moeë man gesien nie?” skree ek vir hulle. “Kom laai af die goed!” Twee van die mans het nader gekom. Nog twee. Die vrou met die krom neus ook. “Steek uit jou hande, Roosmeraai!” sê ek vir haar.

“Mariarosa!” gee sy antwoord.

“Ek hoop jou hande is net so fluks soos jou tong. Maak los die rieme.” Een van die mans het na die bokke gewys en iets gevra. Toe ek beduie dat dit vir hulle is, was dit soos ’n klomp aasvoëls wat toesak. “Julle beter vir julle dik eet en vroeg loop lê, daar sal nie môre tyd wees vir rus nie. Ligdag is ek hier en dan gaat dinge regkom. Laai af, ek sal die os en die slee netnou kom haal.”

Langs die houtkamer het ’n afgeslagte bok gehang en Christie was by Mirjam in die huis. Daar was nie tyd vir woorde soek nie, ek het sommer Hollands en Engels deurmekaar geskel. “Wat soek jy by my meisiekind? Ek moet loop houtkap solat jy in my huis kan kom sit, nè?”

“Pa!”

“Sit jou pote by my dogter en ek druk jou strot vir jou inmekaar!”

“Bly asseblief kalm, Mister Miggel.”

“Kalm? Ek sal nie kalm word voor jy en hierdie spul sywurms nie van die platrand af is nie. Wat kom soek jy in my plek as ek nie hier is nie?”

“Ek het gewag om u oor ’n saak te spreek, maar aangesien u nie in ’n toestand is om my te woord te staan nie, sal ek dit moet laat oorstaan.” Hy’s neus in die lug daar uit.

“Ek skaam my vir Pa,” het Mirjam gesê.

“Watse bok hang langs die huis?” Sy moes haar maar skaam en klaarkry.

“Jacob Terblans het die bok gebring. Hulle het verneem van die Italiane en gereken dit sal moeilik gaan met vleis.”

“Toe dra hy die hele pad van Diepwalle af die bok. Ek is nie onnooslik nie, Mirjam, ek dink dis tyd dat Jacob besluit waar hy kuier, by jou of by Susanna.”

“Hy kuier by Susanna, Pa. En hy het nie die bok van Diepwalle af gedra nie, hulle kap in Spruit-se-bos. Ek neem aan die grootvoete het Pa gejaag, daarom is Pa so vol knorre!”

“Maandagoggend vat jy die geweer en jy loop dorp toe en gaan vra vir White, ek vra, of hy al iets gehoor het van die goewerment af. As hy niks gehoor het nie, moet hy weer skryf. Sê vir hom hierdie was die eerste en die laaste vuurmaakhout wat ek vir sy blêssitse Italiane loop kap het. As dit op is, kan hulle met die tentpenne vuurmaak vir wat ek omgee. En jy kan die bok maar inbring, ek het klaar vir hulle twee afgegee.”

Ligdag was ek terug by die tente. Dit was koud en die platrand het bedou gelê. Die vroue was by die vuur, die onderparte van hulle rokke nat, en van die kinders het twee-twee in dik grootmenstjalies toegedraai gestaan. Die meeste se hare was nog nie gekam of vasgemaak nie.

“Buon giorno, signor Miggel.”

“Buon giorno, signor Miggel.”

“Buon giorno, signor Miggel.”

“Môre.”

Ek is verby tot by Christie se tent en het by die flap gaan roep: “Jy moet opstaan, Engelsman!” Nie ’n roering nie. “Ek sê, jy moet opstaan!” Die man het dalk doodverkluim gelê. “Leef jy? Jy moet opstaan, die tente moet na die skuinste toe verskuif word en jy moet vir my kom tolk.” Iets het geroer. “Die tente moet geskuif kom, voor donker gaat die wind draai en die reën kom val!” Toe hy uiteindelik sy kop uitsteek, toe peper dit van wie nou eintlik baas is en wie die orders gee en hoeveel briewe daar geskryf sal word, party tot in Londen, om my te rapport. En hoe gewigtiger hy raak, hoe hoogklinkender die woorde wat hy gebruik, tot ek later nie meer die helfte kon verstaan nie.

Ek het my nie geërg nie, ek het hom laat praat. Ek het nagedink in die nag wat verby was; dit sou my nie baat om blyreg te wen, maar my siel tot niet te laat vertoorn van ’n klomp sywurms en hulle voorman nie. Wat daar gedoen moes word, sou ek doen, maar slaaf en hond sou ek nie vir hulle wees nie en my staan sou ek staan.

“Dit sal nou nie help om te staat en steek nes ’n doring nie,” sê ek vir Christie. “Die tente moet nog altyd geskuif word, want die reën gaat nog altyd kom val.”

“Ek sien geen teken van reën nie, en ek sien geen rede waarom die tente verskuif moet word nie.”

“Die goed staat in ’n holte, man! Die man wat in die eerste plek gesê het hulle moet kom waar hulle is, is nie reg in die kop nie.”

“Ek het die opdrag gegee.”

“Ek het gedink jy’s nie reg in die kop nie.” Ek het my nie geërg nie, ek het dit in vrede vir hom gesê en bygevoeg dat hy maar weer kan gaan lê, ek sal self regkom. Sy tent kan vir laaste bly, ek sal die ding sommer met hom en al laat skuif.

Toe ek omdraai, staan Petroniglia agter my en in haar hand is ’n fyne koppie van porselein. Sy het nie meer die pers rok aan nie, maar ’n bruine wat ouer lyk en sonder kantkraag is. “Caffé, signor Miggel?” vra sy.

Ek sien haar oë is dik gehuil en ek vat die koffie. Maar toe ek die eerste mond vol het, toe kos dit vinnig sluk, want sowat van gitswartsterk het ek in my lewe nog nooit geproe nie, ’n man kon op die oomblik galsteek kry. Het sy nie daar bly staan nie, het ek die res uitgeskiet, maar toe staan sy en sy kyk asof sy wou seker maak sy kry my vergiftig. Gelukkig was die koppie klein en die koffie min. En agter my het weer een kom groet:

“Buon giorno, signor Miggel.” Dit was Amêrika Mazera.

“Môre, Amêrika. Julle moet nader kom, ek moet sonder Christie met julle praat. Loop roep die manne bymekaar.” Ek het tente toe beduie en gewink en dit was nie baie sukkel nie, toe’s hulle daar. “Dit gaat reën, dit gaat baie reën,” het ek gesê en die reën uit die lug uit met my hande gegraai en met my vingers laat val. Twee keer, toe sê hulle: “Si, si, signor.” Onnooslik was hulle nie. Toe het ek die graaf gevat en gewys dat die nuwe plek eers skoongemaak moes word, en weer was dit: “Si, si, signor.”

Teen die tyd wat Christie aangetrek was en uit die tent gekom het, was vier man al bo aan die fynbossies en graspolle uitsteek en die ander het tente leeggemaak.

“En wat, as ek mag vra, gaan hier aan?” het Christie gevra, styf gebelg.

“Die tente word geskuif.”

“Ek het gesê die tente bly waar hulle is!” Hy het hom na die naaste Italiane gewend en vir hulle iets gesê. Van die ander het nader gekom. Nie lank nie, toe weet ek dis ’n stryery en ek sien Christie gaan verloor, hulle wil die tente geskuif hê. Dit was ook so. Christie het hom opgeruk en weer in sy tent loop sit.

Ons het al die tente verskuif. Toe dit klaar was, toe staan dit twee netjiese rye en aan die bokant was ’n ordentlike keerwal gegooi. In elke tent was ’n vloer van kooigoedbos vasgetrap wat ek en Amêrika en twee van die ander loslopers, Angelo Borolini en Paolo Coccia, op die bosrand langs loop kap het. Borolini het vir my stil van geaardheid gelyk, sy oë was ook nie heeltemal so lewendig soos die ander s’n nie. Skraal van gesig, met ’n haakneus soos ’n valk. Coccia het ek nie vertrou nie, hy het sy hemp se moue tot in die skouernate opgerol asof hy wou wys hoeveel spiere hy het. Mooi man. Toe Mirjam later die handbyltjie bring en self ook kom help, was dit of sy oë skielik die kooigoedbos wou los en op haar bly, met die gevolg dat ek haar aangesê het om ’n ent agtertoe te loop kap. Nie lank nie, toe kap hy ook agtertoe.

“Los hom, Pa.”

“Kap hom sommer met die byl!”

“Pa is besig om ’n regte ou hoenderhen te word.”

“Omdat al wat haan is skielik om mý kuiken wil draai, ja.”

“Ek kan na myself kyk, Pa.”

“Solank jy net nie na een van hierdie vabonde kyk nie. Hulle sal foeter met ’n vrou, ek waarsku jou.”

“Hoeveel koppies koffie het Petroniglia al vandag vir Pa aangedra?”

Ek het niks van die vraag gehou nie; daar’s dinge waarmee ’n mens kan spot en dinge waarmee jy nie spot nie. “Ek stuur vir jou kooi toe voor die son sak,” het ek vir Mirjam gesê. “Die vrou dink sy kan my kom staat en vergeeftig in die hoop lat ek vir haar ’n plan sal maak om op die dorp te kom. Jy moet onthou lat ek vanaand van die treksel drink voor ek gaat lê. En as een van ons weer dorp se kant toe loop, moet daar melkhoutbas afgemaak word om te trek. Ek wil hulle almal ’n dop injaag, dit help vir swaarte van gemoed. Vir Amêrika wil ek sommer ’n dubbeldop ingee.”

“Sy naam is Antonio, Pa.”

“Hy kom vinnig as ek Amêrika roep.”

“Petroniglia se man lyk nie gesond nie.”

“Ek sien, ja.”

“Borolini ook nie.”

Teen die tyd wat ons die kooigoedbos vasgetrap het, was Christie ligter van gemoed en moes hy erken dat dit beter was teen die skuinste. Ek het hom laat neerskryf dat die sinkplate en die ysterhoutpale waarvan die houtskerm agter die tente gemaak is, uit Silas Miggel se houtkamer kom. Die sinkbad en die emmer en die plate vir die vuurskerm ook. Dit sou nie saam met hulle op die skip gelaai word nie. Toe sê Christie die volgende probleem gaan die vis wees. Watse vis? Ek sê vir hom die vleis kan mos nog nooit op wees nie. Toe sal ek hoor dat hulle ’n geloof het wat hulle nie toelaat om op Vrydae vleis te eet nie. Net vis. Ek het hom reguit gesê dan sal dit die beste wees as hulle ’n ander geloof kry, want waar moes ek vis kry? Die naaste aan vis in die Bos is palings en die palings is in die watergate onder in sekere bosklowe, maar oor hulle bang is vir die Bos, sal hulle sonder palings moet bly. Ek was nie van plan om te loop paddas vang vir paling-aas nie. Toe sê hy hulle meel en vet is ook amper op, hulle moet knoffel en tamaties en olyfolie ook kry. En seep. Seep? Without se blare is net so goed soos seep, sê ek vir hom, maar oor hulle bang is vir die Bos, sal hulle maar moet vuil bly, ek gaan nie vir hulle blare aandra nie.

Halfdag, toe ek hulle laat uitval om die kinders kos te gee en self ook iets te eet, sê ek vir Christie daar is ’n ding wat ek wil hê hy baie duidelik vir hulle moet sê. Daar moenie misverstand wees nie:

“Jy sê vir hulle elke woord wat ek gaat sê, jy sê vir hulle ek, Silas Miggel, staat nie aan hulle verhuur nie; wat ek doen, doen ek om my blyreg op hierdie platrand te verdien, en vir niks anders nie.” Hy het dit gesê.

En heel laaste het ek gehelp om ’n beter wal te gooi in die afloopspruit aan die oostekant van die tente, en vir hom gesê dis waar hy en die Italiane skep, nié by die geelsloot nie. Ek skep nie saam met vreemdes nie.

Maar die aardigste van die dag was die laaste tent wat ons na die skuinste toe moes skuif. Ek het vroegoggend agtergekom hulle werk suutjies om die tent en los hom vir laaste. Eers dog ek daar slaap seker nog ’n kind of iemand. Later kom ek agter dis vier van die loslopers se tent: Borolini en Amêrika en Taiani en die lang skrale met die blou oë, Cuicatti, s’n. Toe hulle uiteindelik die goed begin uitdra, sal ek sien reg in die middel is klippe gepak, op die klippe is die plank en op die plank is die ding onder die nat sak. Toe Borolini die sak oplig, staan daar ’n vierkantige glasbesigheid met ’n vaste deksel en binne-in lê ’n menigte neteldoeksakkies, almal by die nekke geknoop.

“En dít?” vra ek vir Christie.

“Dis die sywurmeiers,” sê hy.

Tot op daardie oomblik het ek gedink ’n eier is ’n eier en Barrington weet alles, maar ek was verkeerd. By Christie sal ek hoor dat elke mannetjie- en wyfiemot wat klaar is met hulle besigheid, in so ’n sakkie gesit word sodat die wyfie haar trop eiers kan lê en saam met die mannetjie vrek. Dan word die dooie motte uitgehaal en fyngestamp soos poeier en die poeier word onder ’n ding bekyk wat alles vergroot om te sien of hulle nie siektes het nie. As hulle ’n siekte het, word hulle met sakkie en eiers en al verbrand. Elke sakkie eiers in daardie glasding was sonder skeet of kwaal. Dure eiers. Die probleem was om hulle koud te hou sodat hulle nie begin uitbroei voor daar genoeg blare aan die moerbeibome was om hulle daagliks te voer nie.

“Moerbeibome wat waar is?” vra ek vir Christie.

“In hierdie geval,” sê hy, “is dit ’n kwessie om hulle koud te hou sodat hulle hulle saam kan terugneem en immers iets het om weer mee te begin. Dis duur eiers.”

Borolini en Taiani het die glasding met die eiers na die skuinste toe gedra, Cuicatti het met ’n kooideken skaduwee oor hulle gemaak, en Amêrika het bly water spat om alles koud te hou.

Skemeraand, toe ek en Mirjam by die huis kom, was daar gerustheid in my: die reën kon maar val, hulle sou nie wegspoel nie; die vuurmaakhout sou droog bly, die vuur sou brand, die kinders sou beter lê op die kooigoedbos, en bo alles het ek geweet ’n groot stuk van my blyreg was afbetaal.

“Dis anderster mense, Mirjam.”

“Ja, Pa, dit is.”

“Watse kraletjies met kruise onderaan het die vroumense om hulle nekke, tot party van die mansmense ook?”

“Dit het iets met hulle geloof te doen, Pa.”

“Snaakse geloof.”

“Ek dink hulle bid daarmee.”

“Wie’s die man wat agtermiddag al agter jou wou aan?”

“Giovanni Pontiggia. Hy praat nie so baie met sy hande soos die ander nie, hy kyk ook anders na ’n mens. En moet nou asseblief nie dat Pa se verbeelding begin hardloop nie, ek sal nie ’n man vat nie.”

Sy het kos gemaak en ons het geëet. Ons was net mooi klaar toe ons dit hoor: die musiek. Van die tente af. Die Italiane het musiek gemaak, hulle het gesing. ’n Mooie lied. Een het ’n viool gespeel en een ’n mandolien. Toe ons buite kom, toe is dit vir my of die klanke oor die hele donker platrand rol en in die Bos in wegraak en oral gaan lê.

Moerbeibos

Подняться наверх