Читать книгу Kruispad - Deon Opperman - Страница 4

Hoofstuk 2

Оглавление

1995

Andries Landman was een van die eerstes wat dit in murg en been gevoel het.

Só vreedsaam het die veranderinge ingetree wat ná 27 April 1994 oor Suid-Afrika gekom het dat die apartheidsjare se bevoorregtes nie dadelik besef het dat hulle inderdaad die oorlog verloor het nie. ’n Bloedbad was daar toe nie – net die eerste skadu’s wat daarop sou dui dat, al het dit gelyk asof alles net soos in die verlede sou aangaan, die land wel besig was om tot in sy wortels ’n nuwe rigting in te slaan.

Vir sommige mense sou dit jare duur voordat hulle die veranderinge insien en aanvaar. Ander het dit binne die eerste jaar al gevoel. Soois van Rooyen het skynbaar onbetrokke van sy plaas af elke nuwe wending gevolg. Van sommiges sou hy met ’n trek aan sy pyp en die skud van die kop aan Mart kon sê hy het dit verwag. Ander nie – en dít is wat die pyn gebring het.

En ja, Andries Landman was een van die eerstes.

Nooit baie spraaksaam oor wat met hom by die werk aan die gang is nie, is die aanslag só onverwags dat dit hom magteloos laat terugsteier.

Hannes Bekker, sy lynhoof, wil Andries na sy kantoor laat kom, maar dan bel hy, sê Andries moet wag. En toe hy weer opkyk, staan Hannes daar in die deur met sy begrafnisgesig. Andries se hart het gebokspring. Die oggend nog het hy aan Mariana vertel dat hy ’n kans op bevordering het noudat so baie van die manne die pakket geneem het. Maar hy kyk op na Hannes se gesig, en sien dat bevordering nie vandag op die agenda is nie. Bekker lyk op die beste van dae na iemand wat op die punt is om in trane uit te bars, en vanoggend hang sy skouers in simpatie met sy mismoedige gesig.

Die waarheid kom gou uit. Andries kan maar vergeet van ’n bevordering. Hy moet liewers nadink oor hul voorstel. Die pakket.

“Maar, Hannes, ons braai saam.” Andries voel hoe sy keel toetrek. “Ons is vriende.”

“Ek is jammer, Andries.” Hannes klink dit ook. Trouens, sy fut is só uit dat Andries bang is die man gaan in trane uitbars. Maar hy weerhou hom om te veel simpatie met sy bestuurder te voel. Hy is self in hul visier!

“Sestien jaar se harde werk,” sê Andries driftig. “Dag vir dag. Ek was nie een dag afwesig nie. Ek dag jy’t my ingeroep om my ’n bleddie bevordering te gee!”

Hannes val hom in die rede, staan reg teen Andries se lessenaar. “Dis nie my besluit nie Andries. Dit kom van bo af …”

Andries val hom in die rede, staan op en kom tot reg teen die lessenaar. “Van bo? Jy’s so hoog as wat dit gaan. Moenie jy probeer maak of dit nie jou besluit is nie!”

“Asseblief, Andries. Ek’t opdrag gekry dat my divisie moet herstruktureer om in te pas by die nuwe regeringsbeleid. Dis eenvoudig nie in my hande nie … ek is baie jammer …”

“Jy lyk wragtag nie jammer nie.”

Hannes laat hom nie uitlok nie. “Ons gee ’n baie goeie pakket, van die beste, ’n volle drie maande kennis en ’n enkelbedrag-uitbetaling. Kyk na hierdie syfers, Andries, dis billik. Baie ouens het dit reeds gevat.” Hy hou ’n vel uit na Andries.

Andries verseg om daarna te kyk. “Dis hulle keuse. Hierdie is my werk, wat ek goed doen. Julle kan my nie fire nie.”

“Ons fire jou nie, ons …”

“Nee, julle wil hê ek moet myself fire. Hoeveel ander is daar?”

Hannes skud sy kop.

“Hannes, hoeveel ander is daar?” Andries skree nou op Hannes.

“Daar’s agttien van julle.”

“Almal blankes?”

Hannes bly eers stil. Hy weet Andries weet wat die antwoord is. “Moet dit nie moeiliker maak nie.” Hy stap by die kantoor uit.

Andries beweeg blitsig agterna en gaan plant sy veertigjarige voete wyd uitmekaar in die gang. “Ons gee ons bloed en ons sweet,” skree hy agter Hannes aan, “en skielik is ons nie meer goed genoeg nie. Is dit hoe dit van nou af in hierdie land gaan werk? Hannes!”

Andries storm terug in sy kantoor in. Wat is dit wat met hom gebeur – dat die lewe nou só teen hom draai? Hy staan ontsteld langs die lessenaar, kyk na die vertikale blindings wat vaalpienk gebrand is deur die middagson. Hy kyk na die eensame plantjie in ’n verroeste blik wat bo-op sy staal-laaikabinet staan. Nie veel van ’n kantoor nie, met die groot vensters na die binnekant van die gebou wat hom deur die jare alle privaatheid ontneem het. Maar dis sy kantoor. Dit is waar hy tuis gevoel het, in beheer van sy klein deeltjie van Suid-Afrika. Teen die muur pryk ’n ou poster van Morné du Plessis daar uit 1974, toe Du Plessis nog Springbokkaptein was. En op die lessenaar ’n ou foto van Mariana en die bloedjonge kindertjies, Henk en Izel. In die vensterbank is daar ’n half verlepte potplant. Henk en Izel het elk ’n groot tekening in hul kleuterskooldae gemaak, en dié is teen die agterkant van die glasdeur geplak sodat daar darem ’n mate van privaatheid aan die plek is. En omdat hy by Waterwese werk, is daar ’n wit konstruksiehelm eenkant aan ’n spyker teen die muur opgehang, sou dit ooit vir hom nodig wees om hom van die vorms weg te skeur en ’n suiweringsaanleg te gaan besoek. Op die lessenaar is die deksels van die bokse waarin die geperforeerde drukpapier vir die tenderdrukstukke kom. Op die een staan IN geskryf, op die ander UIT. Albei lê vol dokumentasie wat pas Andries se aandag geniet het, of dit nog moet kry.

Hy staan die hele spul só en kyk, gryp dit dan in ’n vlaag van magtelose woede en smyt dit met een beweging op die grond.

Dit laat hom vir ’n oomblik goed voel, en dan sien hy dat hy met die grypslag een voorwerp op sy lessenaar gemis het. Die ou landsvlag, oranje-blanje-blou, met die Union Jack en ander vlaggies op die wit baan.

Hy hou die vlag ’n oomblik in sy hand vas, staar daarna en begryp nie hoekom dit dan nou geen gevoel by hom wek nie. Hy smyt die vlag met wrewel op die grond neer. So goed soos ’n bedanking, dink hy.

Van die ramp wat Andries getref het is Mariana salig onbewus. Sy staan voor die wasbak en skottelgoed was. Mariana het soos gewoonlik haar hare in ’n rol agter haar kop vasgebondel. Sy steur haar nie te veel aan grimering nie, maar doen net genoeg aan haar oë om die pragtige blou daarvan te beklemtoon. Sy mag ’n valerige vrou wees, maar haar oë ken geen gelyke nie.

Die huis beklem haar, maar sy kan nie haar rol in die huishouding veronagsaam nie. Andries hoort in die garage, sy in die kombuis. Sy kan dink aan ’n manier om dit te verander, maar die tyd is nie reg daarvoor nie.

Izel kom die kombuis binne en gooi haar oornagsak sonder seremonie op die vloer. Sy syg in ’n stoel neer. Tot laat gerinkink gisteraand en nie genoeg geslaap nie. “Haai Ma, ek’s honger.”

“Môre, Gogga, daar’s roereiers in die louoond. Hoe was julle pajamapartytjie toe?”

Izel kry haar bord uit die louoond, gaan sit by die tafel en gee die bord een kyk voor sy dit terugstoot. “Ag … oukei. Die eier is al blou, Ma!”

Dit is op dae soos dié, wanneer Izel se houding haar so irriteer, dat Mariana kan slange vang. Dalk is dit haar heldeverering vir Sophia wat dán die duidelikste deurslaan – sy lyk vir Mariana soos Sophia, met haar hare kort en haar lippe soos sussie s’n. Klink soos Sophia. Irriteer haar soos Sophia. Soos nou. En dan haal Mariana diep asem, tel tot tien en probeer vriendelik bly. “Jy was later as wat ek verwag het,” sê sy.

“Dis nie my skuld nie, Ma! Tannie Dora moes eers vir Marie bo teen die kop gaan aflaai en toe afry hier na ons toe. Dis so embarrassing.”

“Wat is embarrassing?”

“Dis embarrassing om die oudste pajamas van almal by die partytjie te hê. Dis embarrassing dat ek van die hoek af moet stap omdat ek te skaam is om voor ons verkrampte klein huisie afgelaai te word.”

Nes Sophia. Altyd bang wat ander mense van haar sal dink.

Mariana stap stil dog ferm om die tafel met sy formica-blad en raap die bord roereiers voor Izel weg. Sy pyl op die asbliklaai in ’n staalkas af, pluk die laai oop en skraap die bord in die asblik leeg.

“Ma!” roep haar dogter uit, heeltemal onverhoeds betrap deur haar ma se bui.

Mariana is terug by die wasbak. Sy sit die bord by die ander vuil skottelgoed, staar na die louwarm seperige water voor haar. Hierdie kombuis! Wit teëls teen die mure, hier en daar ene met ’n blommetjie op. Kaste van dennehout, met ’n witgeverfde blad bo-op almal. Die staalkabinet wat Andries eens as ’n winskoop gekoop het, en wat haar sedertdien grief omdat dit té swaar is om te skuif en glad nie by enigiets in haar kombuis pas nie. En die yskas! Fuchsware uit die sewentigs nog, uit die dae toe yskaste nog handvatsels en slotte gehad het. Kyk na haarself, sy wat Mariana is – wanneer laas het sy vir haar klere kon gaan koop? En nou moet sy nog met ’n ondankbare tiener huishou ook!

Mariana lig haar kop sodat Izel elke woord kan hoor. “Die eiers is mos blou. Dis seker ook embarrassing. En as die lewe wat ons vir jou gee embarrassing is, moet jy maar ’n beter een iewers anders gaan vind.”

Izel se mond hang oop.

“En oppas vir vlieë in jou mond.”

Izel maak haar mond toe. “Ma kan so onredelik wees.”

“Jy’t my goed geleer.”

“Ek’s ’n tiener. Ek’s veronderstel om onredelik te wees.” Izel spring op, gryp haar oornagsak en storm by die kombuis uit.

Mariana hoor hoe Izel haar kamerdeur met ’n gil toeklap, en dan gaan sy met haar dagtaak aan. Die dinge wat ’n ma doen om haar kinders se lewe seepglad te laat verloop en dié van haar man moeiteloos. Sy was hul wasgoed en dra dan die bondel gewaste klere na die wasgoedlyn in die agterplaas.

Dis waar Andries haar aantref wanneer hy by die huis kom – tussen die lyne met nat klere, besig om die hemde netjies reg te trek, ander stukke beter te hang.

Mariana kan haar verbasing nie wegsteek nie.

Hy kom staan langs haar tussen die wasgoedlyne.

“Andries?” Is vanoggend nie veronderstel om ’n groot oggend te wees nie? ’n Promosie-oggend? “Jy’s vroeg.”

“Ek het in sestien jaar nog nie ’n dag afgevat nie en toe besluit ek vandag is my dag.” Hy probeer lighartig klink, maar sy sien sommer hy is broos.

“Haai, Andries,” antwoord sy, skielik onseker en agterdogtig tegelyk. “Dis nie jy nie.” Sy verduideliking laat haar terugdink aan hul eerste huweliksjare, hoe skaam hy altyd gekry het wanneer hy ’n wit leuentjie vertel en sy hom uitgevang het. Die uitdrukking op sy gesig is nou dieselfde, behalwe dat sy nie kan agterkom wat hy wegsteek nie.

“Ek weet, maar baie van die ander ouens doen dit. Toe reken ek dis my beurt vandag.”

Dan verander sy maar die onderwerp. Die waarheid sal aanstons uitkom. “Ek moet later vanmiddag die kar vat – ek wil vir Izel pajamas gaan koop en ’n paar rekeninge betaal.”

Andries kyk verskrik op, wil sê dat hulle nie geld daarvoor het nie, maar kyk dan weg. Hy haal sy sleutels uit sy sak, gee dit vir haar. “Goed.” Hy glimlag minsaam. Die skaam seuntjie is terug, sy oë sag en weerloos.

“Hoe was jou vergadering met Hannes Bekker toe?”

“Goed.”

Mariana wag dat hy verder vertel; sy wil nie die goeie nuus bederf nie. “En …? Die bevordering …?”

“Nee.”

Dit is ’n lewe se seerkry wat sy op sy gesig lees, maar hy sê verder niks nie.

“Weet jy, dit maak my kwaad!” Sy weet sy moet nou ondersteunend wees. “Dis lankal jou beurt. Hannes Bekker moet oppas. As hy so aanhou, gaan hy jou eendag verloor.”

“Presies wat ek vir hom gesê het.” Andries haal sy beursie uit sy gatsak, kyk na die note daarin en stop dit in haar hand. “Koop vir haar mooi pajamas.” Hy stap weg.

Mariana kyk na die geld in haar hand. Sy druk dit in haar voorskoot se sak weg en begin, sonder dat sy weet hoekom, om klere van die draad te haal.

Nat klere.

Wanneer sy die briewebesteller voor by die hek sien verbykom, stap Mariana uit om die pos te gaan haal. Sy kom ingedagte terug. Feitlik al die briewe is rekeninge. Sy gaan sit by die kombuistafel en blaai daardeur. Met een oor luister sy na die radio. Iets vang haar oor – seker omdat dit haar dadelik aan haar eie kinders laat dink – en sy luister na die nuusleser:

“Die minister van opvoeding het gister in ’n onderhoud gesê dat opvoeding sentraal staan in die proses om die ongeregtighede van die verlede reg te stel. Hy sê dat transformasie in Suid-Afrika as opvoeding se belangrikste doel geag moet word.

“En op die internasionale front begin die O.J. Simpson-hofsaak oor twee weke. Simpson het skuld ontken vir die dubbele moord op Nicole Brown Simpson en haar minnaar Ronald Goldman …”

Mariana sit die radio af. Hoekom ’n mens se lewe versuur met slegte nuus? Dit is reeds moeilik genoeg. Sy kan nie help om te dink aan die hoop wat so uit Henk gestraal het toe hy vanoggend hier uit is na sy beursonderhoud. Heeltemal spiekeries – jy kon hom deur ’n ring trek, en met ’n baadjie aan boonop. Gewoonlik is sy hare effens windverwaaid, maar vanoggend kon sy sien dat hy jel gebruik het om dit effens modieus met so ’n riffie na voor te laat opstaan. Sy das was perfek geknoop en sy klere skoon en netjies. Hy was vroeg op pad, wou eerder vroeg as laat vir die gesprek wees. En sy het hom vertel dat dit so ’n groot dag vir Andries ook is, dat hy ’n bevordering verwag. “So baie van sy kollegas het oor die laaste paar maande die departement verlaat, daar’s nou orals poste oop,” het sy verduidelik.

En nou …

Mariana se keel trek toe. Gelukkig kan niks skeefloop nie. Henk se papiere is alles reeds by die beursmaatskappy. “Ek gaan net in om die finale kontrak vir die beurs te teken,” het Henk verduidelik, “en dan betaal hulle sommer direk aan die universiteit elke jaar.”

Sy voel ’n bietjie meer gerus. En glimlag skielik vir haarself, vir die skaam manier waarop sy Henk vanoggend vroeg gegroet het en hoe hy die onderwerp verander het: “Henk, ek’s jammer dat ons nie genoeg het om vir jou studies te betaal nie.”

“Julle’t my tot hier gebring, Ma, en nou sal ek myself verder vat. Ná ek die papiere geteken het, gaan ek registreer en dan gaan ek ’n bietjie by Wilmien kuier.”

“Dit gaan lekker wees – almal van julle saam op universiteit – net soos op skool.”

“Behalwe, dit is nie skool nie. FG dink dis ’n kans om meer rugby te speel. Hy’t reeds vir die rugbykamp ingeteken.”

“Hy sal nog leer. Glo my.”

Henk is op ’n veilige baan, dink sy. Sy en Andries het tóg iets reg gedoen met sy grootmaak. ’n Mens weet net nie wat en wanneer jy dit gedoen het nie.

By ontvangs sit ’n sekretaresse agter die toonbank en tik op haar rekenaar wanneer Henk instap. ’n Redelik moderne gebou, delicious monster in een hoek en ’n enkele afdruk van ’n skildery teen die muur.

Henk meld hom opgewek by haar aan, gee sy naam. “Ek het ’n afspraak met meneer Jansen … oor my beurs.”

“O …” Sy glimlag, tel die foon op, lig Jansen in. “Sit asseblief buite,” versoek sy.

Die sekretaresse loer nou en dan na waar Henk in ’n soort sitkamertjie wag, maar wanneer hy na haar opkyk, lyk sy baie besig.

Ná ’n ruk begin hy die gevoel kry dat sy maak asof hy nie bestaan nie. Hy sit alleen en wag, en wat anders kan hy doen as om na haar te kyk?

Ná ’n halfuur stap ’n jong swart man in ’n netjiese formele besigheidspak in. Hy knikgroet vir Henk voor hy na die sekretaresse stap.

“Hi, Fezile Matolong – Mr Jansen is expecting me.”

“Yes, take a seat please.”

Die sekretaresse stap by die kantoor in en Fezile kom sit naby Henk. Hy tel ’n tydskrif op en wil begin lees, maar die sekretaresse kom by die kantoor uit. Henk en Fezile staan tegelyk op.

“Please come through, Mr Matolong.”

Fezile stap deur; Henk staar hom verbysterd agterna. Was hy dan nie eerste hier nie?

Die sekretaresse kyk skuldig na hom, maak ’n ongemaklike gebaartjie en gaan aan met haar werk.

Wanneer Fezile ná ’n ruk saam met Jansen uit sy kantoor na die ontvangsportaal kom, sien Henk dat Jansen ’n aktetas dra en ooglopend op pad uit is. Hulle stap verby asof Henk nie bestaan nie.

Henk spring orent. “Verskoon my, ek wag om jou te sien, meneer Jansen.”

Jansen stop. Hy draai na Henk en sy poniestert swaai wyd in die proses. Dit lyk of hy huiwer om met Henk te praat.

“I’ll wait outside,” sê Fezile en loop vooruit.

“Jy’s Landman, nè?” sê Jansen.

“Ja, Henk Landman.”

“Ek’s jammer om jou te moet sê, jong man, dinge het verander. Die beurs is ongelukkig nie meer beskikbaar nie.”

“Ek’s jammer, meneer Jansen, ek verstaan nie. Ek het reeds verlede jaar dokumentasie van julle ontvang.”

“Dit was ’n voorwaardelike toekenning en dinge het verander, meneer Landman. Daar’t nuwe vereistes en nuwe kandidate bygekom en … ek’s jammer, maar nou moet jy my verskoon.”

Jansen draai om en stap uit, ’n effens mollige man met sy hare in ’n poniestert vasgebind.

Henk staar hom geskok agterna. Hy draai na die sekretaresse, maar sy tik nou verbete en sorg dat sy nie Henk se oog tref nie.

Henk se eerste toevlug is Wilmien. Hy neem haar na hul geliefde park, daar waar hul liefde opgevlam het voordat hy die vrymoedigheid gehad het om haar na sy ouerhuis te neem. Hulle sit onder ’n boom waar hulle in die verlede al ’n kombers oopgesprei het, maar nou is hulle regop, rûe teen die stam, en die fronse op hul voorkop is nie net aan die sonnige Januarie-oggendson te wyte nie.

“Jy kan ’n studielening by die bank kry.” Sy probeer om nie verslae te klink nie, maar kan nie anders nie. Sy kyk na Henk en sien die woede op sy gesig. Sy vat aan hom, maar hy reageer nie. Hy is met sy eie gedagtes besig.

“Sommer net so.” Henk praat asof hy haar nie gehoor het nie. “Ek sit daar en wag en wag en wag. En die ander ou kom in. Skaars gaan sit, toe word hy deurgeroep. Die bestuurder wou nie eers met my praat nie. Hoe de hel kan hulle dit doen? Geen waarskuwing nie, niks.”

“As een deur toemaak, gaan ’n ander deur oop.”

“Die bliksems!”

Hy moet praat, die spanning uit sy skouers dwing. En dán eers sal hy probeer om genoeg moed bymekaar te skraap om vir sy ouers te gaan vertel.

Henk kon nie weet dat Andries self deur vlae van selffoltering geteister word nie. Wanneer Henk later die middag na hom kom soek, sit hy, steeds in sy werkklere geklee, das effens losgetrek, op ’n stoel in die garage, omring deur bokse vol blikkieskos. Veral tuna.

“Pa …? Pa!”

“Hierso!”

Henk kom ingestap met die bank se aansoekvorms vir ’n lening in sy hande. Andries sien die netjiese jong man voor hom, besef dis sy seun – en kom hard terug na die hede. Henk sit die dokumente op die werkbank in die motorhuis neer en kom sit op ’n trommel langs sy pa. Hulle kyk nie na mekaar nie, volkome ingetrek in hul eie probleme sodat hulle heeltemal onbewus is van die ander se kwelling.

“Jou registrasievorms?” Andries beduie na die dokumente.

“Nee, Pa.” Henk skep diep asem voor hy aangaan. “Pa … ek het nie die beurs gekry nie.”

“Wat?” Andries is heeltemal verbysterd.

“Dit was ’n voorwaardelike toekenning, Pa, en omdat dinge verander het, het hulle besluit om dit vir ’n ander ou te gee. ’n Swart outjie.”

Andries mompel, meer aan homself gerig: “Hoekom is ek nie verbaas nie?”

“Ek en Wilmien het al my opsies bespreek en toe’t ek die universiteit gebel, maar hulle het reeds alle beurse verwerk en toegeken. Toe gaan ek bank toe, en hulle sê dis nie ’n probleem nie; hulle het net Pa se details en bewys van inkomste nodig.”

Andries raak stil. Sy keel trek toe. Hy besef skielik hoe uiters dwaas sy impulsiewe bedanking vanoggend was. Het hy maar geweet! Hy raak nog swaarmoediger wanneer hy uit die hoek van sy oog ’n beweging gewaar, omswaai en sien dit is Mariana wat die garage binnegestap kom.

Sy gaan staan doodsbleek in die deur en kyk na Andries. Sy dra ’n groot boks in haar hande. “Wat het gebeur?”

Henk antwoord sonder om te besef sy praat eintlik met Andries. “Ek gaan ’n studielening moet kry, Ma.”

“ ’n Studielening. Waarvoor?”

“Hulle’t Henk se beurs teruggetrek,” antwoord Andries.

Mariana sit die boks stadig op die grond neer. Sy sukkel om te verstaan wat sy hoor. Sy voel hoe haar bene begin bewe, kyk na haar hande en sien dat die ontsteltenis ook daar uitslaan.

“Dis nie ’n probleem nie, Ma,” sê Henk. “Ek was reeds by die bank, daar op die kampus. Hulle’t gesê as Pa borgstaan vir die lening, kan hulle hom binne ’n paar dae prosesseer.”

Mariana antwoord nie. Sy kyk van Henk na Andries. Dan wend sy haar blik na die boks by haar voete. Bo-op al die papiere en ander goed in die boks lê die foto van Mariana en Henk en Izel wat al die jare in Andries se kantoor was.

Uiteindelik kry sy haar woorde geformuleer. “Ek was op pad om Izel se pajamas te gaan koop, toe kry ek hierdie agter in die kar. Ek dink jy’t dit dalk daar vergeet.”

Mariana wag vir Andries om te praat, maar hy bly net swygend na sy voete en kyk.

“Het hulle vir jou ’n nuwe kantoor gegee?” vra Mariana.

Andries skud sy kop stadig. “Ek het bedank.”

Dis Mariana en Henk se beurt om in algehele verslaentheid na hom te staar. Mariana wens sy’t ’n stoel byderhand. Sy voel of sy gaan flou word.

“Jy’t mos self gesê as hulle nie oppas nie, sal hulle my verloor. Wel, hulle het.”

“Sonder om dit met my te bespreek?”

Hoe kry sy dit reg, wonder Andries, om nóú so kalm te lyk? “Henk …” Hy beduie vir sy seun om hulle alleen te laat.

Henk gaan vinnig uit en Andries bly sit op sy groot garagestoel. “Vertrou jy my?”

Mariana swaai verwoed om waar sy voor die venster teen die werkbank staan. “Hoe kan jy bedank sonder om dit eers ten minste …?” gil sy op hom.

“Ek vra,” skree hy terug, “vertrou jy my?”

“Ja, ek vertrou jou, maar hoe kan jy …?” Haar drif is effens getemper, maar nie baie nie.

“Hulle wou my afdank, Mariana! En agttien ander.”

“Hulle kan jou nie summier afdank nie. Jy’t niks verkeerd gedoen nie. En as hulle die poste vakant wou maak, sou hulle maande se kennis moet gee … ’n pakket aanbied.”

Andries se stemtoon val. “Hulle het.”

Mariana voel hoe die verligting oor haar spoel. Tot Andries weer begin praat. “Ek het dit van die hand gewys en bedank,” sê hy.

Mariana gryp na haar kop. Sy kan nie glo wat sy hoor nie. “Hulle’t jou ’n pakket aangebied en jy’t dit van die hand gewys?” skree sy.

“Dit was nie ’n pakket nie!” Andries staan nie terug nie. “Dis afkoopgeld.” Mariana staar hom in ongeloof aan. “Dis vat-dit-wees-dankbaar-en-bly-stil-geld. Hulle werk ons een vir een uit en dan wil hulle hê ons moet die peanuts wat hulle aanbied met gebakte hande soos liefdadigheid aanvaar: ‘Dankie my baas. Die baas hy is te goed vir Andries.’ Kan jy dit nie sien nie?”

“Al wat ek sien, is ’n pa wat nie meer vir sy kind kan borgstaan nie.”

“Maar ten minste nog sy trots het! Of tel dit nie?” Andries skree nou harder as vantevore.

Mariana raak stil.

“Hulle kan my land vat,” storm Andries voort, “hulle kan my werk vat, maar my trots vat hulle nie! En daar is nie genoeg geld in die reserwebank om dit ooit by my af te koop nie. Is dit wat jy wil hê? ’n Man sonder sy siel!”

Mariana kyk hom aan, haar gemoed skiet vol, daar is hartseer in haar oë.

Andries is stil, kyk sy vrou vir ’n ruk met glasige oë aan. Dan begin hy weer praat, sy stem pleitend, kinderlik. “Het jy dit bedoel?”

Sy kyk hom met onbegrip aan, weet nie wat op aarde hy bedoel nie.

“Dat jy my vertrou.”

“Ja,” antwoord sy sag.

Hy begin hewig huil. Sy borskas snak na asem en sy keel slaan toe. Hy skuifel na haar en neem haar snikkend in sy arms.

Hulle staan daar, in die middel van die garage, in mekaar se arms, omring deur bokse blikkieskos.

Die seun van Alberton het ’n lang pad gekom tot hier, en nou wens hy dat hy terug is op Alberton, dat hy nog tiener is en dat hy ander besluite kan neem. Dat alles weer kan wees soos dit eens was.

Mariana haas haar na Henk se kamer wanneer Andries tot bedaring gekom en kop in die hande in sy groot stoel teruggesink het. Sy vind haar seun op sy bed, sy onsiende oë starend na die plafon. Wanneer sy instap, kom hy orent. Sy gaan sit aan die voetenent van die bed.

“My seun … ek is jammer. Jammer oor jou beurs, jammer dat ons jou nie sal kan help nie.”

Henk sug diep. Glimlag vir sy ma, gee haar ’n drukkie. “Toe ek klein was,” sê hy, “was my gunstelingstorie toe Pa vertel het van hoe die Voortrekkers hulle ossewaens oor die Drakensberg gekry het. En ek weet mense maak deesdae grappies daaroor – ‘kaalvoet oor die berge’ en alles – maar iets van daardie storie het my nog altyd bygebly … hoe daar iets in ons mense is wat nie vir ’n berg terugstaan nie … al is hy hoe hoog. En die een ding wat ek van ’n berg weet, is as die pad wat jy oor hom gekies het onmoontlik raak, dan soek jy ’n ander een … want daar’s altyd ’n pad oor ’n berg. Jy moet net die krag vind om aan te hou soek.”

Mariana knik haar kop bekommerd.

Henk en Wilmien hou die wolke dop. Miskien bring die skuiwende wit banke toevlug vir Henk se sinkende gemoed. Hy kan nie glo dat hy die hele Kersseisoen rustig onder ’n wanindruk was dat sy pad na die universiteit oop is nie. Vanoggend se terugslag was ’n harde een, en hy het net ’n oomblik nodig om sy gedagtes weer bymekaar te kry. En watter beter manier is daar om dit te doen as op die gras in sy gunstelingpark, Wilmien aan sy sy, met haar kop wat rustig op sy maag rus? Dis die teorie, maar albei is erg bedruk, en op die oomblik is daar eintlik niks waaraan hy dink nie, net Wilmien se hare tussen sy vingers terwyl hy daarmee speel.

Eenkant, met sy rug teen ’n boom gestut, sit en kyk FG na Henk en Wilmien.

“Ek dink jy sal ’n universiteitslening kan losslaan,” sê Wilmien, “as jy onderwys swot met iets soos wiskunde as jou hoofvak. Daar’s ’n tekort aan wiskundeonderwysers en dis nie te laat nie, die kwartaal het skaars begin.”

“Ek sê jou wat,” werp FG sy stuiwer, “jy gaan in my plek klas toe en kry ons graad vir ons en dan word ek die voorsitter en jy die MD.” FG se gedagtes spring tussen Henk se dilemma en die nuwe BCom-handboeke waardeur hy blaai. “Check al hierdie bleddie somme wat ek gaan moet maak.”

“Ek wil nie onderwyser wees nie,” sê Henk.

“Sy’t ’n punt, Henk,” antwoord FG. “Dink aan die voordele: Jy en Wilmien loop saam klas, en dis maklik. Wat wil jy meer hê?”

“Watch out, FG, ek breek jou nie af nie,” sê Wilmien. “En ek weet ten minste presies wat ek wil doen met my graad. Al van standerd 8 af.”

“Cut dit, julle twee,” keer Henk. “Ek het alles probeer, al die aansoeke het verlede jaar reeds gesluit.”

FG en Wilmien kyk bekommerd na Henk.

“Wat gaan jy maak?” vra sy.

Henk kyk na die wolke. Stadig vorm ’n glimlag om sy mondhoeke. “Ek gaan vir my ’n job kry om my Ma-hulle te help tot my Pa weer regkom. En ek gaan by Unisa inskryf.”

“Komaan, Henk,” kap FG terug. “Jy hoort op varsity. Ons het skool deurgesuffer om ’n bietjie pret te hê.”

Wilmien glimlag trots en soen Henk op sy voorkop. “Nie Henk nie, FG – hierdie kop werk anders.”

FG sit self met ’n effense glimlag. “Oukei, ek mag julle nie vertel nie, maar ek dink alles gaan reg uitwerk. My Ma-hulle is by jou Ma-hulle en hulle gaan doen wat gedoen moet word.”

Wilmien en Henk kyk verward op.

“Wat bedoel jy?” Henk is onmiddellik agterdogtig oor sy neef se woordkeuse.

FG se glimlag is opreg, om sy neef se onthalwe is hy bly, maar hy sit self met ’n paar kwellings. By die huis het die dag nie lekker begin nie. Daar is dinge wat hy nog nie mooi kan kleinkry nie. Soos sy ma se reaksie toe Netta haar kom wakker maak. FG het so in die verbygaan gesien hoe Netta soos gebruiklik net ná sewe – dit is somer, alles in ag genome – by die hoofslaapkamer instap met ’n skinkbord tee. En gehoor hoe sy ma net kreun, op haar ander sy rol en verder slaap.

Hy het net genoeg gesien om ’n vinnige depro te kap. Hoekom kan sy, wat nooit enigiets anders as inkopies doen nie, tot diep in die oggend lê en slaap terwyl hy met hanekraai moet opstaan om ’n lift by sy pa te bedel?

En dít is waaraan FG dink.

Frik was in sy studeerkamer besig om na die een of ander dokument te kyk. Oukei, FG het nie na sy gesig gekyk toe hy instap nie, het nie gesien dat Frik erg bekommerd is nie. Nóú weet hy dit – Frik se das het nog ongeknoop om sy nek gehang, sy gedagtes was weer die hele wêreld vol, besef FG nou. Maar toe Frik baie saaklik antwoord, ná FG heel beleefd gevra het of Frik hom ’n lift sal gee varsity toe, het FG baie goed geweet daar’s moeilikheid: “Ek ry oor ’n halfuur, jy maak my nie laat nie.”

Wel, in vir ’n penny, soos sy oupa altyd sê. FG het sy ander groot behoefte oorgedra: “By the way, ek het twee tjeks nodig, Pa. Registrasie kos R1 800 en dan’t ek R2 200 nodig vir die eerstejaarsrugbykamp, ons vertrek oormôre.”

Sy pa het gesug, sy tjekboek uitgehaal en begin skryf daarin.

“Dit moet aan die universiteit uitgemaak word. Pa moet voel hoe move daai nuwe Golf Gti met sy 16 valves. As ek klaar geregistreer het, gaan ek hom weer test-drive.”

FG het geesdrif verwag, dit nie gekry nie. “Dis ’n duur motor.”

“Die verkoopsman sê as Pa hom nog dié week koop, gee hy ons vyf persent afslag en nog vyf persent afslag vir kontant.”

“Mm.”

“Ek wil die donkerblou metallic hê … of die charcoal, maak nie eintlik saak nie.”

En net daar draai alles skeef vir FG.

“Die kar kan wag tot ek jou eerste punte gesien het.”

Frik hou die tjeks uit na FG, maar FG vat hulle nie. “Pa het gesê ná matriek koop Pa vir my ’n kar.”

“Ek het gesê as jou matriekpunte góéd is, koop ek vir jou ’n kar …”

FG steier asof hy ’n klap in die gesig gekry het. Hy gaan sit en kyk vol ongeloof na Frik.

Frik het die heftigheid van sy seun se reaksie nie verwag nie. “Dit was die ooreenkoms, was dit nie?”

“Maar, Pa …”

“Maar wat, FG? Jy het nie eens ’n enkele onderskeiding gekry nie … inderdaad, jy’t net-net universiteitsvrystelling gekry. Henk se beurs betaal al sy kostes, dis wat onderskeidings beteken.”

Albei skree, die hele huis kan hulle hoor.

“Wat gaan Ma sê as ek die hele tyd met haar kar rondry, of gaan Pa my van die oggend tot die aand klas toe en rugby toe rondkarwei?”

Frik weet FG het reg. Dit is ’n groot probleem wat ’n pragmatiese oplossing verg.

“En ook: Hoekom het Pa tot vanoggend gewag voor Pa my vertel?” FG skree nou so op sy pa dat sy are teen sy voorkop en nek bult. “Varsity begin hierdie week en ek het op Pa se belofte gebargain.”

“Daar is altyd twee kante aan ’n bargain, FG, en jy’t nie jou kant gebring nie.”

FG bedaar, praat skielik sagter. “Pa vergeet wat Riaan se dood aan my gedoen het. Ek het gesukkel om op die eksamens te konsentreer.”

“Ek vergeet dit nie … maar jy moet verstaan, my seun, die lewe word nie makliker soos jy ouer word nie … dit word moeiliker … en hoe moeiliker dit word, hoe meer moet ’n man kophou.”

FG raak stil.

“Maar gaaf, ons sal kyk na ’n tweedehandse kar.”

FG wil-wil weer driftig raak. “Pa sê mos altyd: goedkoop koop is duur koop.”

“Dis waar. Maar dis ook waar dat as jy bo wil uitkom, jy onder moet begin. Kry jou goed, ek wil binnekort ry.”

FG stap dikbek by die kamer uit.

Nadat FG by die vertrek uit is, het Frik weer afgekyk na sy dokument. Die dag het absoluut goor begin: Termination of Municipal Contracts. Voor hy ry, moet hy net een oproep maak. Na meneer Sithole, die nuwe kêrel belas met die toekenning van munisipale kontrakte – in die plek van Thys Oosthuysen, met wie Frik die afgelope agttien jaar ’n baie goeie verstandhouding en vriendskap opgebou het, maar wat nou ongelukkig ’n pakket geneem het.

Sithole is reeds op kantoor, en verduidelik geduldig aan Frik dat die munisipaliteit opnuut na alle kontrakte kyk en dat daar nou ander kriteria is wat by die hersiening in ag geneem moet word. Frik kan dit nie begryp nie. Hoe sê die ou spreekwoord? Possession is nine points of the law.

“Verstaan een ding baie goed,” sê Frik ontsteld op Engels, “my maatskappy het nog altyd goeie diens aan die munisipaliteit gelewer. Ons samewerking strek oor agttien jaar terug …”

Sithole vra of Frik gehoor het wat hy pas verduidelik het.

“Ja, ek luister …”

Sithole herhaal sy betoog.

“Meneer Sithole, ek het gehoop dat die munisipaliteit ná agttien jaar my ten minste sou bel om die saak te bespreek voordat my kontrak gekanselleer word.”

Daar is geen reaksie aan die ander kant nie. Sithole het reeds afgelui.

Wanneer Frik uiteindelik by sy kantoor aankom, is dit met gemengde gevoelens dat hy sy maatskappy se naambord sien: Maximus Omheinings.

Frik het kwalik sy tee gedrink of Albert is daar om Frik moed in te praat. Frik stap op en af in die kantoor terwyl Albert op die besoekstoel voor die lessenaar sit.

“My twee grootste kontrakte, Albert … net so,” Frik klap met sy vingers om te beduie hoe die kontrakte in die niet verdwyn het, “weg. Dis ’n helse stuk van Maximus se jaarlikse omset. Daar is net een oplossing: Ek moet die kontrakte terugkry.”

“Dis waarvoor ek bang was, Frik, die ou deure maak toe. Ons gaan nuwe markte moet soek.”

“Jy weet net so goed soos ek dat niks naby my regeringskontrakte kom nie. Ek het vir jare net die beste diens verskaf, ek verdien daardie werk.”

“Verdien? Ek dink nie ons moet die woord ‘verdien’ in hierdie dae gebruik nie. Die nuwe …” hy soek die juiste woord, “… die nuwe Suid-Afrika het nuwe vereistes en ons velkleur voldoen nie daaraan nie.”

“Ja, en nou vat hulle die brood uit hul eie mense se mond uit: drie-en-tagtig swart families is afhanklik van Maximus vir ’n inkomste, Albert, besef hulle dit nie?”

“Hulle besef dit, Frik, maar hulle verwag dat jy swart mense ook op direkteursvlak aanstel.”

“Ek laat my nie vertel wie ek in my raad moet aanstel nie.”

“As jy regeringskontrakte wil hê …”

Frik snap wat Albert bedoel. Hy moet toegewings maak.

“En tot dan,” hervat Albert, “sal jy dalk moet begin deur jou eie salaris te verklein.”

Frik skud net sy kop. “Nonsens. Praat met die bank … leen nog ’n miljoen of twee. Nuwe kontrakte sal kom.”

“Die bank gaan vra vir inkomsteprojeksies en kontrakte om dit te staaf.”

Frik stap na die venster, die venster waar hy altyd staan en sy hoofbrekens besweer. Hy weet Albert het reg. Frik slaan hard met sy vuis teen die ruit, laat dit daar teen die glas bly. “Niemand sal my onderkry nie, niemand sal Maximus onderkry nie. Ek sweer dit. Hierdie besigheid is ék, ek het dit gebou … ek sal nie gaan lê nie.”

Frik neem sy baadjie en maak reg om te loop.

“Ek sê nie jy moet gaan lê nie,” sê Albert. “Ek sê net ’n paar dinge sal moet verander.”

“Verander? Nee, Albert, ek gaan nie verander nie. Weet jy wat gaan ek nou doen? Ek gaan nou vir my seun ’n kar koop. Ons was nog nooit armblankes nie en ek gaan nie nou soos een begin dink nie. Ek bel jou môre.”

Nadat Frik sy kantoordeur agter hom toegemaak het, bly Albert ’n hele ruk bekommerd sit.

Voordat die nuus van Henk hulle bereik het, het Sophia ’n wonderlike belewenis gehad. Een van daardie belewenisse wat ’n mens só goed laat voel – wat Sophia laat voel sy is reeds deel van die nuwe Suid-Afrika. Sy het dit eintlik op ’n manier beplan omdat sy gereeld terugdink aan die gesprek wat sy met Netta gehad het voor verlede jaar se verkiesing.

Sy wag tot Netta besig is om die vensters te was naby aan waar Sophia luilekker op die stoep lê en tydskrifte lees ná haar inkopiesessie van die oggend.

“Weet jy, Netta, ek kan nie glo wat dinge deesdae kos nie. Hoe verwag hulle ’n mens moet oorleef?”

Netta kyk om na Sophia wat tussen al haar aankopies sit. Sy gaan voort met die vensters, antwoord nie.

Sophia haal ’n pragtige duur serp uit ’n pakkie en draai dit om haar nek. “Wat dink jy hiervan, Netta?”

“Sjoe, dis mooi, mies.”

“Dit is, nè? En moenie dink ek het net myself bederf nie. Ek het vir jou ook iets gekoop.” Sophia soek na ’n pakkie tussen die ander pakkies, kry dit, en hou dit na Netta uit.

“Toe, maak oop,” sê Sophia.

Netta maak die pakkie oop. Sy haal ’n nuwe huiswerkersuniform te voorskyn, hou dit oop teen haar lyf. “Haai dankie, mies.” Sy glimlag dankbaar.

“My plesier. Nou kan ons albei weer ’n bietjie nuwe klere dra.”

Dit is FG wat vir Frik gebel het met die nuus van Henk se beurs. Kort ná etenstyd was Frik by die huis, en hy en Sophia is saam na Andries en Mariana.

Frik kan sien dat Andries baie gespanne is en dat Mariana gehuil het. Maar hulle probeer om die spanning weg te steek, nie altyd met sukses nie. Wanneer Frik die tjek aan Andries gee, reageer Andries glad nie soos hy verwag het sy swaer sou nie. Pleks van dankbaar is hy bleek en lyk op ’n manier, wel, vernederd.

“Dis die eerste helfte van die universiteitsgelde,” sê Sophia. “As julle nie die res teen halfjaar het nie, sal ons weer betaal.”

Mariana kyk na Andries. Hierdie gesprek is vir hom een lang vernedering, maar hy probeer om dit nie te wys nie.

“Ek was by die handelaar besig om ’n gek prys vir ’n splinternuwe motor te oorweeg,” vertel Frik, “toe FG my gebel en vertel het. Dit was ’n maklike besluit.”

Sophia sit onthuts regop. “Bedoelende?”

“Dat FG ’n tweedehandse motor gaan kry.”

Sophia gee ’n skynlaggie. “O, Frik … jy’s ’n kansvatter, weet jy?” FG moet met net die beste toegerus word om hom ’n kans te gee om uit te styg. Hy is nie Henk wat heeljaar dieselfde liggroen hemp dra en gelukkig is daarmee nie. Hy is flambojant, en ’n tweedehandse motor pas nie by daardie beeld van hom nie. Sophia weet dit maar alte goed. Sy draai na Andries en Mariana: “Julle twee kan heeltemal ontspan, dit kom met al ons liefde. En skaam jou, Frik, dit doen niks aan jou bankbalans nie.”

Andries gaan sit eenkant en staar na die tjek. Nóg hy, nóg Mariana het woorde.

“Wat Sophia probeer sê,” gaan Frik voort, “is dat ons graag vir Henk saam met FG wil sien varsity toe gaan. Die seuns verdien dit en dit sal ’n skande wees as ons nie almal ons harte oopmaak en dit vir hulle moontlik maak nie.”

Daar is geen manier, dink Mariana terwyl sy na haar man kyk, dat Frik en Sophia kan weet watse hel Andries se gemoed op hierdie oomblik is nie.

Hy is soos sy pa, dink Mariana wanneer sy ingestap kom met ’n toebroodjie vir haar oudste kind – sielsgelukkig as hy net kan vroetel en peuter met stukkende dinge. Henk is in die motorhuis doenig met ’n radiowekker en pas besig om ’n laaste draadjie vas te soldeer wanneer sy ma die toebroodjie langs hom neersit.

“Dankie, Ma. Ek’s amper klaar.” Hy draai die radiowekker regop en skakel dit aan. “Daar’s hy.”

“Ek het geweet jy sal,” sê Mariana. “Jy’t nog altyd ’n aanvoeling daarvoor gehad.”

Henk glimlag verleë, wil iets sê, maar dan kom Izel ingestap. “Wat’s dit met Pa?” vra sy gemaak verontwaardig. “Hy sit nou al ure lank in sy stoel met Henk se hele toekoms in sy hande … wat’s so moeilik?”

“Los hom uit,” sê Henk.

“Ons behoort sjampanje te drink, jy gaan varsity toe!”

“Izel, ek en Ma was besig om te praat.”

Sy wip haar dadelik. “Verskoon my!” Sy stap uit en vir ’n rukkie is daar tussen Henk en Mariana ’n stilte wat albei moeilik vind.

Henk begin eerste praat, sonder om direk na haar te kyk. “Ek weet hoekom dit so moeilik vir Pa is, Ma.” Hy wag ’n oomblik, kies sy woorde versigtig. “ ’n Beurs van ’n maatskappy is een ding, maar geld van oom Frik …”

“Dis vir my ook moeilik,” sê sy ma, kyk af na haar hande.

“Ek weet.”

“Geld by familie kry, is altyd moeilik.”

“Ja, maar dis nie wat dit moeilik maak nie.”

Mariana kyk skerp na Henk. Weet hy dalk van haar voorgeskiedenis? Wat insinueer hy?

“Ek weet Ma dink ek weet nie … maar Ma en oom Frik was mos gekys … voor Ma en Pa ontmoet het.”

Hy weet! Mariana kyk vlugtig om haar heen – Andries se werksplek, sy rommel, sy stukkies draad en lewe. Sy voel skuldig dat hierdie gesprek hiér moet geskied.

“Waar hoor jy dit?”

“Ek weet dit al lankal, Ma. Kinders hoor meer as wat die grootmense dink.”

“Dit was lank gelede …” Mariana bly dan stil.

“Hoekom het Ma met Pa getrou?”

Hoe antwoord ’n mens só ’n vraag nadat soveel jare verby is, water onder die brug van die lewe deurgespoel het? “Omdat ek hom liefgehad het,” sê sy.

“En as Ma weer moes kies?”

“Dan sou ek dieselfde kies. Jou pa is ’n goeie man met ’n goeie hart. Dinge het net nie altyd uitgewerk soos hy gehoop het dit sou nie.”

Henk kyk ’n ruk na sy ma sonder om ’n woord te sê. Wanneer hy weer praat, is dit sonder bitterheid. “En nou het dinge nie uitgewerk soos ek gehoop het dit sou nie. Maar ek weet nou wat ek moet doen.” Hy staan op en stap uit – op soek na sy pa. Haar seun wat so regop loop.

Henk kry sy pa in die sitkamer, die tjek steeds in sy hand.

Andries sit op sy gebruiklike stoel. Vanoggend se koerant lê op een van die ander stoele. Henk tel dit op, kyk vir ’n oomblik na die berigte op die voorblad, sit dit op die koffietafeltjie tussen hulle.

Andries begin praat en Henk weet dadelik wat sy pa se onmiddellike ontsteltenis veroorsaak. “Daar’s omtrent nie een werkgeleentheid sonder dat hulle dit duidelik maak dat regstellende aksie in ag geneem gaan word nie.”

“Daar sal iets wees wat vir Pa reg is.” Hy probeer glimlag, maar sukkel. “Pa,” sê hy dan, “ek het besluit om nie oom Frik-hulle se aanbod te aanvaar nie.”

Andries kyk hom stroef aan. “Jy het nie ’n keuse nie.”

“Mens het altyd ’n keuse, Pa … Dis net dat die regte een nie altyd duidelik is nie.”

“Ek het my bes gedoen om te sorg dat niemand nog ooit kon sê dat ek jou ma se familie as ’n ticket boontoe gebruik het nie. Maar jy … daardie tjek, Henk, sal seker maak dat jy nie eendag sit waar ek nou sit nie.”

Dis vir albei ’n moeilike oomblik. Henk wil nie sy pa laat verstaan presies hoeveel hy van sy ouers se geskiedenis weet nie. Hy weet net hy moet versigtig wees hoe hy dinge sê. En hoe verduidelik hy boonop aan iemand wat werk soek, wat nie omgee om afhanklik van ’n werkgewer te wees nie, dat hy so onafhanklik as moontlik wil bly? Dat hy niemand eendag in die oë sal wil kyk en skatpligtig aan daardie persoon voel nie?

Andries se worsteling is na binne gekeer. Hy weet hy kan niks doen aan die feit dat hy Henk finansieel in die steek gelaat het nie, maar is dit nou ook nodig dat die kind weet presies hoe liggeraak hy is oor enigiets waarby Frik betrokke is? Sophia se streke het hom nog nooit gekwel nie, hy weet daarvan en hanteer dit só, maar Frik is iemand wat hom roem op sy eerlikheid. Om nee te sê vir sy gulhartigheid is om sy eie liggeraaktheid ten toon te stel. Hierdie dinge wil Andries liewer wegsteek, dit vermy dat dit ooit bekend word.

“Ek het al baie kere gewonder,” sê Andries uiteindelik, “oor die jare heen, hoe dit vir jou moes gewees het … elke keer as jy by FG gekuier het … die groot huis … die geleenthede wat geld hom gebied het …”

“Toe ek klein was, het ek partykeer gewens dat tannie Sophia en oom Frik my ouers was … maar soos ek dit sien, Pa, koop geld nie alles nie … en veral nie wat belangrik is nie.”

“In hierdie geval is dit belangrik.” Andries wil nie hê Henk moet ’n alternatiewe roete volg nie. “ ’n Goeie kwalifikasie gaan jou enigste redding wees. Daarsonder gaan jy swaar dra. Vat die geld, en gaan loop die pad wat jy moet loop.”

Henk neem die tjek by Andries. Hy kyk ’n paar sekondes daarna en skeur dit dan op. “Ek gáán my pad loop, Pa, my eie pad – en wat myne is om te dra, sal ek self dra.”

Toe Henk egter opstaan om te loop, praat Andries: “Hy kón jou pa gewees het, weet jy?”

Henk het al só baie hieroor nagedink dat sy antwoord vinnig kom – vinnig genoeg om sy pa se hart te laat swel van trots. “Ja, maar hy is nie.”

Andries kyk Henk agterna. Dan tel hy die koerant op en begin verder soek na werk.

Sophia hoor hoe Frik in die voorportaal die sleutels van ’n motor by ’n verkoopsman neem. Sy is dadelik agterdogtig wanneer die man sê: “Meneer Van den Berg, sy staan hier voor en sy’s op Meneer se naam en als is honkiedorie. Sign net hier.”

Honkiedorie?

“Dankie vir jou moeite,” hoor sy Frik sê. “Ek waardeer dit.”

Toe Sophia langs Frik verskyn, knik die verkoopsman liggies na haar. “Nee, maar dis reg, Meneer,” sê hy. “Ek hoop die laaitie geniet sy kar! Hy mag oud wees, maar hy’t nog baie myle in sy lyf. Nagsê. Baai, Mevrou.”

Toe hy wegstap, draai Frik na Sophia, maar sy praat voordat hy iets kan sê: “Watse kar het jy gekoop?”

Sy druk verby Frik na buite.

In die oprit staan ’n 1988 Fiat Uno. ’n Arm man se wiele. Sophia kom vervaard aan en staar na die kar met ’n mengsel van ongeloof en minagting op haar gesig. “Jy kry die stuk afvalmetaal van ons erf af, Frik!”

“ ’n Student het niks meer nodig nie,” sê hy bedaard en kom langs haar staan.

“Jy weet FG wil die nuwe Golf hê.”

“Hy’s jonk, Sophia, en jong mense stamp karre, of hulle nou nuut of tweedehands is. Die Golf is heeltemal te duur.”

“Wanneer gaan jy ophou met jou suinige swartgalligheid?”

Frik sien rooi. “Geld groei nie op my rug nie, magtag!”

Sophia skrik effens. Maar sy beweeg nie. Dan sien hulle Andries se motor wat voor die hek intrek. Frik maak die hek van die stoep af oop.

Sophia wag nie vir haar swaer om aan te kom nie, sy swaai om en stap die huis vies binne.

Frik nooi Andries binne wanneer hy by die stoep aankom, maar Andries is haastig om weer onderweg te kom. Hy hou die geskeurde tjek na Frik uit.

Frik frons. Moet hy beledig voel of afgehaal? wonder hy.

“Dit was Henk se besluit,” verduidelik Andries verleë.

Frik kan dit nie kleinkry nie. “Maar hoekom?”

“Soos ek verstaan, wil hy sy kruis alleen dra. Ek is dankbaar oor jou aanbod, en jy moet weet dat ons familie dit waardeer.”

“G’n mens dra sy hele lewe alleen nie, Andries. Ek is al baie kere in my lewe gehelp.”

“Wat kan ek sê, Frik? Hy’s my seun … Lyk my hy’s net so hardkoppig soos ek.”

Toe Andries wegry, bly Frik met die geskeurde tjek in sy hand op die stoep staan. Hy raak bewus van beweging, draai om en sien dis FG wat vanuit die huis aangestap kom. Hy kom staan langs Frik, kyk met minagting na die kar.

Frik merk die trek op FG se gesig. “Voor jy enige iets sê, wil ek jou waarsku om jou woorde te tel.”

“Maar Pa het gesê …”

“As hierdie kar nie vir jou goed genoeg is nie, los die sleutels op my lessenaar.”

Frik prop die sleutels in FG se hand en stap weg.

Die nuus bereik die plaas baie gou. Dit lewensritme hier is stadiger, rustiger. Maar dit verlaat nooit die gedagtes nie.

Mart is besig om deeg op die kombuistafel uit te rol toe Soois van die lande terugkeer. ’n Bord beskuit en ’n pot koffie staan en wag op Soois. Hy hang sy hoed langs die deur op voordat hy aansit.

Soois se gedagtes is by sy probleme. “Ek gaan daardie draad aan die noordgrens ’n bietjie aandag moet gee,” sê hy terwyl hy vir hom ’n koppie koffie skink. “Inderdaad, dis waarskynlik nou ’n gulde geleentheid om sommer die hele ding te vervang.” Hy neem ’n hap van ’n beskuit en drink koffie daarmee saam. “En hoekom is jy so stil?” wil hy tussen die koue deur weet.

Mart klap meel van haar hande af. “Jy besef hoekom Henk Frik se hulp nie aanvaar het nie,” sê sy. Haar gedagtes is nie by die noordelike grensdraad nie.

“Wie sal ooit weet?”

“Want hy wou nie sy pa in die verleentheid stel nie.”

“Miskien. Miskien nie.”

“Mariana het my vertel dat Henk reeds as kind van haar en Frik se verhouding uitgevind het.”

“Verbaas my nie. Alles kom mos uit, op die ou end. Veral as dit by families kom.”

“Ek kan verstaan dat die kind nie sy pa sou wou seermaak nie, maar dis nie reg dat ’n kind sy ouers se kruis moet dra nie.”

Soois weet waarheen die gesprek lei. “En jou voorstel is …?”

“Is dit nodig dat ek dit sê?”

“My vrou, jy weet hoe ek voel oor inmeng in die kinders se sake.”

Soois staan op en begin na die deur beweeg. Hy’t nie nou lus om te diep op hierdie onderwerp in te gaan nie.

“Ek weet, en ek stem saam,” sê Mart, “maar partykeer is dit nodig. As ons aanbied om vir Henk se studies te betaal, dan sou dit baie makliker wees vir hulle om te aanvaar.”

“Ek het dit reeds gedoen.”

Mart kyk op na Soois.

“Ek het gebel,” verduidelik hy. “Met Henk gepraat. Gesê ons sal bly wees om te betaal. Maar hy’t gesê, nee dankie. Hy wil sy eie pad loop en self daarvoor betaal.”

Mart voel hoe haar nek begin gloei. “Hoekom het jy my nie vertel nie?”

“Hy’t gevra dat ek jou nie vertel nie. Hy’t geweet dit sal jou seermaak.” Hy sit sy hoed op sy kop en stap uit, en Mart staar hom verleë agterna.

Vroeër of later moet Mariana met Sophia gesels oor Henk se besluit – en sorg dat dit baie gou gebeur. Sy maak dus ’n afspraak met haar suster en ontmoet haar op Sophia se gunstelingplek, die patio.

Mariana draai nie doekies om nie. “Ek wil nie hê die ding met Henk moet tussen ons lê nie.”

“Ek gaan nie maak asof ek dit verstaan nie,” antwoord Sophia gekrenk. “Dit was ’n skok.”

“Ag, Sophia …”

“Julle gaan sukkel tot Andries weer werk kry, en jou seun se een kans om iets vir homself te doen, is weg. En nou moet die arme kind deur Unisa studeer ná hy die hele dag in ’n restaurant borde aangedra het.”

“Baie mense doen dit.”

“Ja, maar dis nie nodig dat hý dit doen nie.”

Netta bring tee en koek uit en sit dit op die stoeptafel neer; Mariana antwoord nie. Sy praat nie voor mense wat nie familie is nie.

Sophia besef dit en laat Netta gaan – sy sal self skink. Sophia sit koek op twee bordjies. “Jy moet weet, Mariana,” sê sy terwyl sy die koek voorsit, “dit gaan ook moeilik hier in ons huis. Weet jy hoeveel druk plaas die regering op Frik? Die geld wat ons vir Henk wou gee, het nie sommer net uit die lug uit geval nie, maar dit het ons nie gekeer nie.”

Mariana kyk weg. Nou moet sy op haar lip byt.

“Mag ek maar eerlik wees?” sê Sophia en lê ’n koekvurkie berekend in haar bordjie neer.

Mariana weet Sophia gaan nou eerlik wees of sy ja sê of nie.

“Alles in die lewe gaan oor geld, as jy dit het en veral as jy dit nie het nie.”

Mariana neem ’n hap koek. Sê niks.

Dan, uit die bloute, kom Sophia se groot vraag: “Sus … hoekom los jy hom nie net nie?”

Mariana sit haar koek neer. Is dít wat Sophia van Andries dink? Dat sy hom sommer net só sal kan los?

Sophia vaar voort. “Vir Henk se onthalwe, vir Izel se onthalwe, en vir jouself.”

Mariana gaan haal die antwoord diep uit haar siel. “Hy’s my man.”

Sophia gaan onverstoord voort: “Jy’s ’n Van Rooyen. Vat jou kinders na Ma-hulle toe en gee jouself ’n tweede kans. Jy’s ’n mooi vrou en jy kan vir jou ’n man kry wat vir jou kan sorg.”

Mariana versteen.

Sophia merk dit en laat sak haar stem. “Jy verdien beter, Mariana. Jou kinders verdien beter.”

Mariana sit haar koppie ook neer. “Henk het self besluit om julle tjek op te skeur,” sê sy.

Die nuus betrap Sophia heeltemal onkant. “Maar dis waansin!” roep sy uit.

“Nee,” sê Mariana ferm, “dis karakter.”

Frik sit in die sitkamer ’n saketydskrif en lees, en soos gewoonlik is die radio aan. Frik luister altyd radio – die een passie wat hy alleen kan bedryf. Hy sit in die sakeberigte en snuffel terwyl hy na ’n program oor ’n lewende legende luister: “The great Frank Sinatra gave his very last public performance at a party in Palm Springs last night. His final song was ‘The Best is Yet to Come’.”

Net toe die liedjie begin speel, stap Sophia die sitkamer binne. Sy neem die tydskrif uit sy hande en gooi dit op die koffietafel neer. Sy het reeds haar slaapklere aan, met ’n fleurige japon daaroor. Sy lyk besonder aanloklik, maar Frik sien dit nie juis raak nie.

Sophia gaan sit langs hom, steek haar hand uit om sy wang te streel. Dan skuif sy nader, lê teen hom aan soos ’n ou minnares. Sy lig haar kop sodat hy haar kan soen. Frik doen mee, maar sy voel geen vuur in sy lyf nie.

“Frik,” sê Sophia terwyl sy begin om Frik se das los te woel, “ek het besluit om Izel saam te vat as ons Frankryk toe gaan. Met Andries wat nog steeds ordentlike werk soek, dwaal die arme kind soos ’n weeskind daar rond.” Frik streel haar arm terwyl sy praat. “Dan werk ons ’n dag of wat in Parys in,” Sophia gee Frik nou ná elke paar sillabes ’n piksoentjie, “om haar met so ’n bietjie Paris shopping te bederf.”

Frik verstyf langs haar, trek haar skouers nader om haar te koester. “Ek het vir jou gesê Frankryk gaan moet wag.”

Sophia maak haar rug reguit. “Hoe lank, Frik?” Sophia wikkel haar nou los uit sy omhelsing.

“Ek weet nie, Sophia. Soos dinge nou gaan, oorweeg ek dit om ’n verband op ons huis uit te neem om die besigheid deur die dip te help.”

Die nuus bring die feeks in Sophia uit. “Oor my dooie liggaam!” roep sy. Haar naam sal modder wees in Pretoria as dit moet uitkom dat haar man in die knyp is.

Frik laat hom nie voorskryf nie. Wanneer hy weer praat, hoor sy hoe sy moer trek. “Ek stel voor jy respekteer my besluite. Glo my, hulle is goed deurdag. Ek sal doen wat ek moet doen om my besigheid te help, en nie jy of enige iemand anders sal vir my voorsê wat ek mag en nie mag nie.”

“Gaaf.” Sophia staan vinnig op. “Maar laat ek een ding baie duidelik maak. Ek is nie Mariana nie …”

Sy draai om om uit te stap, maar Frik se stemtoon stuit haar in haar spore.

“En wat beteken dít?”

Sy draai weer na hom. “Dat ek nie sal toelaat dat my man my saam met hom oor die afgrond sleep nie.” Haar ken bewe terwyl sy praat.

“Jy het belowe om my by te staan, deur dik en dun.” Hy kyk haar reguit in die oë, maar Sophia kyk dadelik anderpad. “Tye raak nou dun.”

Toe Sophia uitstap, sing Frank Sinatra van beter tye, en Frik gee ’n wrang glimlag.

Terwyl Netta in haar kamer op ’n klein TV-stel kyk hoe ’n groot Jumbo-Boeing oor ’n vol Ellispark vlieg en sy gereed skuif vir die groot eindwedstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi van 1995, tree die Van Rooyens, Landmans en Van den Bergs almal saam met Frik se finansiële ghoeroe, Albert, in Frik se ontspanningskamer voor die TV aan. In haar kamer sing Netta die eerste deel van die volkslied gemaklik saam, maar in die sitkamer is hulle nog nie woordvas genoeg om hierdie deel meer as te mompel nie. Wanneer die lied sy fokus na die Afrikaanse deel skuif, is Andries dadelik daar om uit volle bors die ander te lei in die saamsing: “Oor ons ver verlate vlaktes,” Andries frons, skielik het hy die woorde vergeet, maar Mart help hom reg: “… met die kreun van ossewa …”

Die TV-kamera gly oor die Springbokspan, van André Joubert tot by Francois Pienaar, terwyl die volkslied gespeel word.

Hulle sing uit volle bors klaar.

Andries sluk hard. Die oomblik is vir hom vol betekenis.

Hulle kyk hoe die All Blacks die Haka uitvoer.

Sophia het die banke langs mekaar geskuif sodat almal sitplek het – behalwe Henk en Wilmien wat op die mat sit. Henk gee nie om nie, hy’s nou die naaste van almal aan die springmielies en tjips.

FG sit eenkant, hy is nors, en sy norsheid irriteer vir Frik wat, gemaklik aangetrek vir die kuierslag, elke nou en dan na FG loer.

Almal drink bier, eet biltong, springmielies en tjips, en geniet die okkasie. Almal is opgewek, behalwe FG.

“Wie’s jou gunsteling, Izel?” vra Sophia bo-oor die TV-gesingery.

“Weet nie, tannie Sophia, ek kan nie kies tussen Joel Stransky en Joost van der Westhuizen nie.”

“Ek moet sê, André Joubert is my soort speler,” kom Mariana tussenbeide.

“Haai, Ma!” kweel Izel. “En dit op Ma se ouderdom. Skaam vir Ma.”

“Ek’s darem nog nie in die graf nie, hoor,” sê Mariana laggend. “Kyk, daar’s Madiba in ’n Springboktrui! As ons wen, gaan hy daai skoffeldansie van hom dans!”

Frik kyk weer na FG.

“Geniet dit maar,” sê Andries so bo-oor al die joligheid, sy gesig skeef getrek. “Dis waarskynlik die laaste wit span wat ons ooit sal sien.”

“Hulle gaan sukkel om die Afrikaner uit rugby te hou, Andries,” sê Albert.

“Dit gaan hulle nie keer nie,” sê Andries. “Affirmative action is ’n kanker wat alles gaan raak. As ons vandag wen, sal dit ook die laaste keer wees. Nooit weer nie.”

“Nooit is ’n lang tyd,” antwoord Soois effens geamuseerd. Hy kan hom so verkneukel oor sy skoonseun se dramatiese siening van sake.

Albert lig sy hand vir Soois – hy voel ook so oor Andries se vrese.

Terwyl die spelers gereed maak om te begin speel, sit Frik hom en opwen oor FG se nurksheid. “FG, gaan jy nou die dag saam met ons geniet, of gaan jy die hele game met ’n lang gesig sit?”

“Hoekom laat jy hom nie net gaan nie, Frik?” vra Sophia. “Henk en Wilmien sal nie omgee nie.” Sy verduidelik aan die ander: “Sy vriende kyk almal saam na die game in die universiteit se rugbyklubhuis, maar Frik het gesê FG moet hier kyk sodat ons almal saam kan wees.”

Frik gluur FG steeds aan, maar antwoord sy vrou: “Nee, my vrou, hy kyk hier omdat hy nie weer na ’n enkele suipparty gaan voor hy meer aandag aan sy studies begin gee nie.”

FG praat steeds geen woord nie, sit net dikbek en rugby kyk.

“Jy’s nou onregverdig, Frik,” neul Sophia weer. “Die kind doen sy bes.”

Dis nie lekker om só ’n stroewe gesig tussen al die vrolikheid te hê nie, besef Frik, maar hy voel skielik die futiliteit van die stryd aan. “Gaaf.” Hy kyk na FG. “Gaan dan.”

Toe FG opstaan en haastig uitstap, blaas die fluitjie vir die afskop.

Soois probeer die aandag na aangenamer dinge terugbring. “Daar begin dit! Hou duim vas, mense.”

Toe die rustydfluitjie blaas, gaan ’n gejuig in die TV-kamer op. Daar is goeie hoop vir die Bokke. Almal behalwe Frik stap uit na die patio waar drankies en glase op ’n tafel uitgepak staan.

Soos dit maar by rituele geleenthede soos hierdie gaan, koek die senior mans bymekaar: Soois staan by Albert en Andries. Die ander maal op die agtergrond rond. As patriarg is dit Soois se voorreg om die situasie eerste te takseer. “Nee kyk, as die manne teen rustyd so ver kan kom, dan kan ons hierdie wedstryd wen.”

“Weet Pa, ek hoor nou die dag ’n interessante ding,” begin Andries …

Mariana luister nie na wat haar man aan haar pa vertel nie. Sy kyk terug die TV-kamer in, na Frik, wat nog op sy stoel sit. Sy stap terug in die kamer in. “Miskien kan Henk vir FG so bietjie help,” sê sy paaiend vir Frik. “Hulle sien mekaar maar min en dis dalk nie ’n goeie ding nie.”

“Dis een van die redes hoekom ek so graag wou gehad het dat hulle saam op varsity moes wees.” Hy dink versigtig na voordat hy verder praat. “Mens sou wou glo dat alles in hierdie ou lewe, en veral jou kind, na die goeie neig soos bome na die lig. Maar nie FG nie. Hy kies keer op keer die kortpad. En die verkeerde vriende. Dis natuurlik my skuld. Hy’t te maklik grootgeword.”

“Hy’s nog jonk. Hy sal regkom. En dis nie alles jou skuld nie. Kinders bring hulle eie dinge ook saam.”

Hulle raak bewus van die stemme buite op die patio en hul afsondering.

“Weet jy,” begin Frik ná ’n ruk, “ek skaam my om dit te erken, maar partykeer wens ek dat Henk my seun was.”

“Moenie dink dat Henk nie sy nukke het nie. Hy’t ’n hardkoppigheid in hom waarmee hy nog baie gaan sukkel.”

“Dis nie wat ek bedoel nie …” Frik verduidelik nie.

Mariana weet wat hy bedoel. “Die lewe gebeur soos die lewe moet gebeur,” sê sy.

“Dit kon anders gewees het.”

“Andries doen sy bes. Ek vra niks meer nie.”

Frik knik. Hy wil nie nou verder daaroor praat nie. Die ander begin weer die kamer binnekom, Sophia heel voor. Sy sien raak dat Mariana reeds in die kamer is, maar sy laat dit daarby. Die tweede helfte gaan begin en almal kry vinnig hul sit.

Die wedstryd snel na sy einde – en dan is dit ’n vals einde – gelykop, wat ekstra speeltyd op die spanne afdwing, maar uiteindelik, wanneer almal juig, op en af spring van vreugde oor die Springbokke se oorwinning oor Nieu-Seeland, is dit Netta wat net so luid in haar kamer juig en skree as die mense in die TV-kamer. En Netta wat net so trots is, trane in die oë, wanneer Nelson Mandela en Francois Pienaar saam die wêreldbeker omhoog hou.

Netta dans in haar kamer rond, sug elke paar sekondes “Madiba Magic”, en dan huil en lag sy, want haar span het gewen. Haar en Madiba se span. Op die stoep word daar ook ’n soort vreugdesriel gedans, glasies omhoog, een woord op almal se lippe: “Olé, olé-olé-olé, olé, olé …”

Oktober 1995. Dis laat in die maand en lank ná drie in die nag. Frik skuifel in sy pajamas kombuis toe. Hy skink vir hom ’n glas melk – die ideale teenvoeter vir die sooibrand wat hom altyd opkeil wanneer hy braaivleis en rooiwyn saam geniet het. Hy drink die melk op een slag af, sit die glas neer. Hy gaan sit by die werkvlak waar Netta gewoonlik kos berei en waar hy en Sophia een keer in ’n skrikkeljaar op die hoë stoeltjies sit en gesels oor ’n koppie koffie. Hy plaas die melkbottel voor hom, begin met ’n tweede glas, kop vooroor gebuig en skouers geboë.

“Wat gaan aan, Frik?” Sophia kom die kombuis binne. “Dis drie-uur in die oggend.”

Sy is ook in haar nagklere – ’n netjiese rooi pakkie van die fynste sy.

“Kan nie slaap nie.”

“Neem een van jou slaappille.”

“Hulle’s op.”

“Hoekom sê jy nie so nie? Ek sal môre nog kry.” Sy stap nader aan hom. “Jy moenie dat alles jou so ontstel nie.”

“My seun druip sy eerste jaar,” Frik staan traag op, neem sy glas na die wasbak, “my besigheid krimp en ek moenie ontsteld raak nie.” Hy leun teen die wasbak en kyk na Sophia. Hy soek begrip.

Sy kyk af grond toe en lig dan haar kop met ’n glimlaggie wat om die mond speel. “Jy,” sy trek haar oë effens op skrefies en probeer hom moed inpraat, “is Frik van den Berg, my man, en niks kan jou onderkry nie.”

Dit kom by haar op, in hierdie oomblik, dat dit nie noodwendig waar is nie. Haar risiko is groter as syne, maar dít kan sy hom nie sê nie.

“Sê jy dit omdat jy dit glo, of omdat jy bang is dit gaan gebeur?” Frik kyk lank na Sophia. Sy staan nog in die deur, ’n vreemde trek op haar gesig, soos sy woorde insink. Hy steek sy hand uit na haar, wink haar nader.

Sophia stap om die tafel, pantoffels wat slof-slof. Sy gaan staan naby hom sodat hy sy hand kan oplig, haar liefderik agter die nek steun asof hy haar wil nader trek, maar wat hy nie doen nie. Hy kyk haar diep in die oë, wat haar effens ongemaklik laat voel, en dan vra hy die vraag wat hom weer begin kwel het: “Is jy lief vir my?”

Sy lig haar hande op, plaas hulle op Frik se voorarms. “Ag, kom nou, Frik …”

Hulle beweeg nie weg van mekaar nie, ook nie nader nie.

“Ek vra: Het jy my lief?”

“Ja, ek het jou lief.”

Hulle beweeg nader aan mekaar. Frik soen Sophia, net langs die mond. En sy vir hom, net langs die mond. Hulle omhels mekaar, stadig. Frik staan met sy kop teen hare, sy oë gesluit. Sophia hou hom vas, haar oë wyd oop. Haar risiko raak al hoe groter.

Binne dae is Henk weer terug in sy ou roetine. Die rugby-euforie is verby en hy bring saans lang ure agter die lessenaar deur. Oor naweke breek Wilmien weg van die koshuis, maar sy laat vir hom genoeg ruimte om sy studies aan die gang te kry. As sy agterkom die lewe druk, wals sy vinnig weer uit sy woonstel uit.

Soms, soos nou, maak hy asof hy nie bly is om haar te sien nie. Sy dartel in en gee hom ’n vinnige soen. “Hallo vreemdeling.” Daar is ’n vonkeling in haar oë, en haar lippe is warm en vol wanneer sy hom soen.

“Hallo,” sê hy gemaak afsydig.

“Jy kry uiteindelik ’n af dag en wat doen jy …?” Sy beduie na die boeke.

“Dis nie my destiny om vir die res van my lewe in ’n restaurant te werk nie.” Hy krap tussen sy aantekeninge en gee vir haar ’n papiertjie waarop hy geskryf het. “Hierdie boek word aanbeveel vir mense wat patente wil laat registreer. Maar die ding kos oor die seshonderd rand. Jy sal my hero wees as jy jou studentekaart gebruik en dit by die universiteit se biblioteek vir my kry.”

“Oukei.” Sy gaan sit op die bed. “Ingeval jy belangstel. Ek het belangrike nuus, maar ek sê niks totdat jy by my kom sit nie.”

Henk gaan sit langs haar op die bed; hy kry dit glad nie meer reg om ongeërg te lyk nie.

“My ma gaan vir haar ’n nuwe motor koop en dan kan ek haar ou motor kry …”

Henk se wenkbroue lig – hy verstaan nie mooi waarheen sy mik nie.

“… en ek gaan van die huis af studeer …”

Henk begin frons.

“En later, as dinge uitwerk, gaan ek my eie plekkie soek.”

Henk onderbreek haar dadelik. “Maar jy’t so uitgesien na die koshuis …”

“Omdat jy ook koshuis toe sou gaan. Maar as jy hier werk en hier studeer, dan bly ek by die huis om jou te sien net waar en wanneer ek wil.”

Henk voel nie heeltemal gerus oor hierdie planne nie. Dit voel vir hom half of hy verantwoordelik gehou gaan word. “Jy kan nie jou planne rondom my maak nie.”

“Hoekom nie?”

“Omdat ek jou nie wil terughou nie, Wilmien. Jy’t ’n hele universiteit vol dinge wat jou aandag nodig het. My pad lyk baie anders.”

Hy wens hy kon dit anders sê, vir haar laat verstaan hoe naby hy aan haar voel, maar dat hy geen sekerte het oor sy eie toekoms nie – en haar nie wil verplig om enigiets te doen nie.

Sy leun oor na hom. “Luister jy nou mooi vir my, Henk Landman, ek’s lief vir jou en ek voel vere vir die res.” Sy sit ’n hand agter sy kop, trek hom nader en verseël, sover dit nou moontlik is, hul toekoms met ’n soen.

Kersfees 1995 beloof om weer te eindig met Sophia en Frik in die swembad. Maar op Oukersaand is net die Landmans as gesin bymekaar, net hulle vier by ’n eenvoudige Kersboompie. Hulle sit in die sitkamer, Andries op ’n stoel en Mariana langs hom op haar knieë en hurke gestut, ’n knusse familiale hiërargie met die kinders plat op hul jiste op die grond langs die koffietafel. Henk het tot Mariana se groot vreugde van sy gebruiklike beige hemp ontslae geraak en dra nou ’n gestreepte een wat hy hou vir spesiale okkasies.

Izel is die vrolikste van almal. Dis die senuwees wat haar so opkeil. “Het ek dit reg dat elkeen van ons vanjaar vir homself énige present mag gee?”

Mariana glimlag breed – wat voer die kind nou weer in die mou? “Dis wat ons besluit het. Jy kan begin.”

“Nee, Henk begin.”

“Ons begin by die jongste,” sê Henk, en nou is daar geen stry of vertraging verder nie. Sy moet uithaal en wys.

Sy is bekommerd. Met haar pa soos hy is, weet ’n mens nooit nie. “Enigiets, nè?”

“Wat het jy gedoen, Izel?” vra Mariana.

Almal ruik lont.

“Pa mag nie kwaad word nie,” sê Izel.

“Izel?” Mariana sien die gevaarligte flits.

Dis doodstil.

Soos ’n wafferse ontkleedanser neem Izel haar hempie by haar naeltjie en trek dit stadig oop om ’n naeltjiering te openbaar.

Niemand praat nie. Almal staar en hou hulle reaksies terug. Dis die eerste keer dat ’n Landman ’n ornament aan eie lyf laat aanbring.

“Ma’t gesê enigiets en dis rêrig wat ek wil hê,” verduidelik Izel.

Henk buig vooroor om dit van naderby te beskou en lig sy kop weer met ’n breë glimlag en ’n blos op die wange. “Ek dink dis cool!”

Izel sal haar boetie ewig dankbaar wees.

“Ek gaan nie sê wat ek dink nie,” brom Andries. Dis Kersfees, ’n pa kan maar toegewings maak. Hy sal dit nooit teenoor sy vrou erken nie, maar hy bespeur iets van sy eiesinnigheid in sy dogter.

“Ek ook nie,” sê Mariana. “Ek’s bly jy’s gelukkig, my kind.”

Izel maak haar hempie toe. “Henk se beurt,” sê sy en glimlag dapper.

Henk haal sy Unisa-uitslae uit en hou dit op. “Ek gee vir myself al vyf my eerstejaarvakke – twee met onderskeiding.”

Andries en Mariana juig omtrent, en Izel gil haar vreugde uit. Andries lig dadelik sy glas bier en Mariana volg sy voorbeeld. “Dit verdien ’n heildronk,” sê Andries. Henk en Izel is nie links nie, koeldrankglase omhoog sodat almal kan klink.

“En nou Ma,” sê Izel toe die onstuimigheid bedaar.

“My present is julle, my familie, en die feit dat ons hierdie jaar met al sy kronkels en draaie oorleef het.”

“Hoor, hoor!” sê Andries.

“Dis ’n cop-out,” sê Izel en sug. “Ek het geweet Ma gaan dit doen!”

“Ma mag,” sê Henk laggend. “Jy mag nie kritiseer nie.”

Izel was voorbereid hierop. Sy weet daar’s nie geld vir geskenke nie. Maar sy het gespaar vanjaar, sonder om ’n woord daaroor uit te lap, net vir haar ma. Sy haal ’n pragtige nekdoek uit. “Daar’s vir Ma iets waarvan Ma sal hou.”

Mariana kyk na die nekdoek. Haar oë skiet vol en sy soen vir Izel. Sy wil niks verder sê nie, weet sy sal voluit begin huil.

Andries het gemengde gevoelens. Trots op sy dogter, want sy het die groter prentjie gesnap. Kwaad vir homself, want hy het nie daaraan gedink nie. Hy neem nog ’n sluk bier en produseer ’n breë glimlag om die familie se onthalwe.

“Nou’s dit Pa se beurt,” dryf Izel die vierings tot ’n eindpunt.

“Kyk agter die bank, Henk.” Andries is ingenome met die verrassing wat hy vir sy gesin het. Hy kán ook vooruit dink – al is dit op sy eie manier.

Henk staan op en kyk agter die bank. Hy sleep ’n sweismasjien agter die bank uit waar almal dit kan sien. “Pa?” Henk verstaan nie so mooi nie.

“En voor julle wonder hoe ek dit bekostig het,” verduidelik Andries gou, “ek het dit by oom Gys de Vries gekry en hy’t voorgestel dat ek dit afbetaal soos hy my betaal vir die sekuriteitshekke wat ek op bestelling vir hom hier in ons motorhuis aanmekaar gaan sweis.”

“So, Pa se present is Pa gee vir Pa ’n job,” sê Henk, die kloutjie wat uiteindelik by die oor gekom het. Hy knik om sy pa se truuk goed te keur.

“Dis al wat ek vanjaar gevra het. En ek dink ek het die regte job; in hierdie land gaan misdaad net al hoe gewelddadiger en leliker word. Die miljoenêrs van môre gaan mense wees wat dit kan regkry om inbrekers, verkragters en moordenaars uit jou huis uit te hou.”

Henk kyk na die sweismasjien, en ’n gedagte begin in sy kop broei. “Sê dit weer, Pa.”

“Wat?”

“Daai laaste sin.”

“Misdaadbekamping gaan mense ryk maak, seun. Die polisie kan dit nie alleen hanteer nie, die private sektor gaan inklim en daaruit geld maak.”

Henk se gedagtes begin teen die spoed van lig beweeg.

Henk kyk skaars op toe Mariana laataand by sy kamer inkom. Hy staan voor sy venster, net die diefwerings en die glas tussen hom en die helder maanlignag. In die verte hoor hy ’n polisiesirene.

“Lekker slaap my seun,” sê sy. “En ’n geseënde Kersfees vir jou.”

Hy draai om na haar. “Ma, twee mense wat ’n koek deel, kry elkeen ’n groter stuk as twintig mense wat daai selfde koek moet deel.”

“Wat bedoel jy?”

“Voor die verkiesing het die polisie vir ’n klein groepie wit mense gesorg; nou moet daardie selfde polisie vir almal sorg. Pa het reg. Sekuriteit gaan die volgende goudmyn van Suid-Afrika wees, en ek weet nou hoekom ek ’n graad in elektronika wil hê.” Hy kyk haar reguit in die oë. Hy het die toekoms gesien.

Sy opmerking bring ’n effense glimlag om haar mond, deels ingenomenheid, deels angstigheid. Sy sê niks en toe sy die deur saggies agter haar toetrek, gaan staan Henk weer by die venster, sy hande op die tralies. Hy kyk deur die venster, deur die tralies, na buite, die maanlig op sy gesig.

Tussen die vreugdes deur van Kersdag by die Van den Bergs neem Mariana vir Soois eenkant, vertel hom van die vier Landmans se geskenke aan hulself.

Terwyl sy praat, luister Soois aandagtig, stop sy pyp, kry dit aan die gang en wanneer sy klaar vertel het, neem dit hom nog ’n paar trekke aan die pyp voor hy praat.

“Om ’n plan te maak, is een ding. Om daardie plan ’n werklikheid te maak is iets heeltemal anders. Maar hoe sê mens dit vir die jong hart? Want as ’n jong hart eers glo dat hy ’n berg kan versit, kan jy hom net los om self te leer dat berge ’n wil van hulle eie het – en dat reënboë nie maklik nasies word nie.”

Kruispad

Подняться наверх