Читать книгу Tussen vriende - Derick van der Walt - Страница 4

1. Broers van bloed en susters van Eva

Оглавление

Adriaan hou vir Cassie onderlangs dop wat ongemaklik langs hom op die smal houtbankie voor die muurbalbaan rondskuif. Daar’s ’n gevroetel met die raket se snare en die handdoek om die nek terwyl hulle die geveg op die baan dophou. Dit lyk asof Cassie iets wil sê, maar nie tot sê kan kom nie.

“Will het ’n stukkie,” kom dit uit die bloute. Cassie sit sy raket eenkant neer.

“Stukkie?” Adriaan kyk hoe Will die rooi balletjie teen die spoed van lig teen die muur moker.

“Lekker, Will!” skree Cassie. “Way to go!”

Hy sit sy handdoek langs die raket neer en draai na Adriaan. “Ek wou jou nie gesê het nie, maar hel, ek moes vir iémand sê. Dis nie asof ek wóú weet nie. En ek wil nie alleen weet nie.”

“Jy bedoel …?”

“Ja, ek bedoel. En Will weet nie ek weet nie. Will gaan ook nie weet jý weet nie. Dis nie ons saak nie.”

Adriaan kyk verstom na sy vriend. “Maar Will en Soekie was dan nog laas jaar Kroasië toe. En Soekie het mos die ruk-en-pluk gehad, onthou jy?”

Cassie trek net sy skouers op.

Adriaan kyk terug na Will wat saam met sy oudste seun heen en weer oor die muurbalbaan hardloop, sy gesig die ene konsentrasie. Afgesien van die effense grys in sy kenbaardjie lyk Will nie sy vyftig plus nie. Lang lyf, sterk bene, sportman, kan jy sien. Will kan maklik ’n stukkie hê, besef hy, selfs ’n heelwat jonger stukkie.

“Ken ons haar?” vra hy vir Cassie.

“Iemand by sy werk glo, ’n jong bok.”

“Weet Soekie?”

Cassie antwoord nie.

“Hoe weet jý?”

“Mense praat mos maar. ’n Ou wat ek ken.”

Hulle volg die rooi balletjie wat die muur met ’n plof tref ná elke hou.

Adriaan skud sy kop. “Was dit Salomo of Bob Dylan wat gesê het ander mense se boeke is duister?”

“Ek gaan stort.” Cassie staan op. “Ek sal self nie omgee vir ’n stukkie nie. Phoebie se ma kom kuier … die huisheks. Ek bly sommer die hele naweek by die kantoor.”

Adriaan kyk sy vriend se kort, ronde lyfie agterna. Haal dan sy selfoon uit. Daar was vroeër ’n oproep van Ingrid wat hy geïgnoreer het. Hy wíl nie weet nie. Sy het vanoggend voor die spieël na haar borste gekyk en gesê sy het ’n slegte voorgevoel. Hy vertrou haar intuïsie.

Hy kyk weer na Will en sy seun op die baan. Daar is kort-kort ’n uitroep, soms ’n baldadige gelag. Sou die laggende seun van die stukkie weet?

Hy tel sy handdoek en raket op en volg Cassie kleedkamer toe. Soekie se ruk-en-pluk het dit toe nie vir ou Will gedoen nie, dink hy effens geamuseerd, onseker oor hoe hy oor sy vriend se stukkie voel. Afgehaal, dalk.

Toe hulle later op die klub se stoep sit en bier drink, hou hy vir Will dop. Hy kyk anders na hom as ’n week gelede toe hulle ook hier gesit het. Hóé anders, weet hy nie presies nie. Toe was dit maar net ou Will wat hy al dekades lank ken, en hulle drie is vriende wat alles van mekaar af weet. Tot nou toe.

Nou is dit asof Will verder van hom af is, selfs fisiek verder. Sou hy vir Will vertel het as hy ’n stukkie gehad het? Is dit iets wat jy vir jou pelle vertel?

Ja, hy sou tog vir Will vertel het, hy ken hom langer as vir Cassie. Iets soos: Ek verneuk my vrou en die seks is hemels en nee, dis sommer maar net. Niks ernstig nie, ietsie on the side. Mammie sal nooit weet nie en dit het niks met ons huwelik uit te waai nie.

Hy luister nie eintlik na Will en Cassie se gesprek nie. Hulle praat oor die gewone goed: die ekonomie, die politiek, probleme by die werk, Saterdag se rugby. Die seun het gery.

Hy het nog nie vir Ingrid teruggebel nie. Hy wil haar oë sien as hulle daaroor praat. Miskien sal hy haar hand vashou, aanbied om kos te maak. Dalk kan hulle iets gaan eet. Miskien is haar intuïsie dié slag verkeerd.

Hy sluk sy laaste bier, staan op, vat sy sportsak en groet.

Hy en Cassie kyk vlugtig na mekaar. Hulle weet iets wat Will nie weet nie. En Will dink hy weet iets wat hulle nie weet nie.

Hy onthou die keer toe hulle agter Will se rug vir hom die trippie Botswana toe gereël het vir sy vyftigste. Die vrouens wou saam, maar hulle het voet neergesit – dié slag net die manne. Broers van bloed.

Terwyl hy in druk verkeer huis toe ry, begin dit saggies reën. Oor die radio speel Art Garfunkel se “I Shall Sing” en hy kyk na die ruitveërs wat ritmies heen en weer beweeg en wonder hoe ’n jare lange vriendskap deur ’n stukkie beïnvloed word. Dit moet wees asof jy ’n brug oorsteek. Jy laat iets agter. Van nou af is dit ’n ander storie.

Jakarandablommetjies pak saam op die voorruit. Hy maak sy venster op ’n skrefie oop om die reën te ruik. Maak jy maats met ’n stukkie in jou geledere? Raak jy daaraan gewoond soos jy aan kanker gewoond raak? Jy verbloem, kyk anderpad, maak geselsies oor dit en dat. Bedink ’n skewe ding as dit nou daarop aankom, en sluk aan die spul in jou keel.

Hy weet nie. ’n Stukkie lê buite sy verwysingsraamwerk. Kanker nie heeltemal nie.

By ’n sypaadjiesmous koop hy vir Ingrid ’n bos blomme. Die reën pla die seun blykbaar nie, hy soek tydsaam na kleingeld in sy sak.

Ingrid se kar staan in die oprit. Hy parkeer langsaan. Deur die kombuisvenster sien hy haar voor die stoof werskaf. Hy haal sy skootrekenaar en kosblik uit die kattebak en staan met sy gesig na die reën gedraai, huiwerig om in te gaan.

Hy ruik knoffel toe hy die agterdeur oopstoot. Vee sy voete aan die matjie af en sit sy tas en die blomme op die kombuistafel neer. Soen haar in die nek.

Sy hou die lepel na hom uit om te proe. “Pasop, dis warm.”

Hy proe versigtig. “Le magnifique,” fluister hy in haar oor.

Sy sê niks oor die onbeantwoorde oproep nie, druk die blomme in ’n glaspot. “Partymaal wens ek ons het nie net een kind gehad nie.” Sy ruik aan die blomme. “Dis asof … Ons het nie veel van ’n infrastruktuur nie. As een van ons iets moet oorkom … dit gaan so alléén wees vir die een wat agterbly.”

Hy gaan sit by die kombuistafel. Hou haar dop terwyl sy die blomme in die middel van die tafel neersit, haar dan bedink en dit na die hoek van die eetblad verskuif. Sy draai die stoofplaat af en kom staan agter hom, slaan haar arms om sy skouers.

“Dis maar net ’n bors en dis maar net ’n knop,” fluister sy. “Dis nie die hele ék nie. En dis nie te sê nie. Dis dalk weer ’n vals alarm.”

Ná hy gestort het, toe hy die slaapbroek met die blou blokkies uit sy kas haal, dink hy aan hulle dogter in Engeland. Sy het die broek verlede Kersfees met die pos vir hom gestuur.

Hy stel sy selfoonwekker vir 06:30 en onthou dat hy iets by die veearts moet kry vir die uitslag op die honde se pense. Hy blaas sy neus in die spierwit sakdoek wat deel was van die Kerspakkie, maak sy ore met ’n oorpluisie skoon, kyk na sy toonnaels wat aandag kort.

Hy ruik die stortseep uit die badkamer en hoor die gerusstellende gesuis van water. Ingrid stort lank, waaroor hy bly is. Hy oorweeg die boek op sy bedkassie, besluit daarteen. Staan op en stap kombuis toe, skink ’n glas melk en drink dit stadig.

Hy gaan staan voor die televisiekamer se skuifdeur en kyk uit oor die donker tuin. Will het ’n stukkie, ’n stukkie wat hy bo Soekie se makeover verkies. En sý vrou is dalk weer siek. Hy staar na sy weerkaatsing in die glasdeur. Die paar gryserige borshare, die bene wat nie meer soos vroeër lyk nie, die effense magie.

Hy hoor die badkamerdeur oopgaan, ruik iets soets vanuit die gang. Dis net ’n bors. Dis nie sy hele vrou nie.

Haar bedliggie is afgeskakel toe hy verbyloop badkamer toe. Sy slaap nog nie, hy weet. Hy borsel sy tande en gaan kruip onder die duvet in. Lê in die donker en dink met sy arms agter sy kop gevou.

“Jy is reg.” Hy steek sy hand na haar toe uit. “Dis nie jy nie … die bors, bedoel ek. Ek kan sonder ’n bors, maar ek kan nie sonder die res van jou nie.”

Sy vryf haar voet op en af teen sy kuit. Hy trek haar teen hom vas en streel oor haar borste terwyl hy aan Will en die stukkie dink.

Toe hulle liefde maak, fluister hy in haar oor: “Jy moet nêrens heen gaan nie. ’n Bors is nie ’n issue nie.”

* * *

Ingrid lê en luister na die mossies in die tuin. Die oggendlig skyn deur die oopgetrekte gordyne. Lewe. So eenvoudig soos dit, sê die voëltjies. Geen planne op die lange duur, leef net vir wat vandag gedoen moet word.

Op ’n manier het sy dit tog verwag, al het sy hard probeer om daarvan te vergeet. Ná die eerste knop en die toetse wat daarop gevolg het, het sy besluit om nie vir die lange duur te leef nie. Leef vir vandag en doen wat vandag gedoen moet word.

Sy én Adriaan. Hulle het saam gelag, tot begin fietsry en gesonder geëet. Net nou en dan oordaad in ’n goeie restaurant. Hulle was op ’n manier nader aan mekaar as voorheen.

En sy het besluit sy gaan nie elke aand haar borste onder die stort bevoel vir ’n voorbode nie. Het sy haar verbeel dat Adriaan ook anders aan haar borste begin vat het? Het hy ook onheil probeer naspeur?

Hy kom in met sy aktetas in die hand en sit haar beker koffie op die bedtafeltjie neer. “Ek moet waai.”

Toe hy oorbuig en haar soen, ruik sy die Aramis wat Magdi vir hom uit Londen gestuur het. By die deur draai hy om en kyk na haar, verdwyn dan gangaf. Sy luister hoe die Mercedes by die hek uitry.

In die badkamerspieël kyk sy lank na haar borste. Is dit regtig so dat ’n vrou nie haar borste is nie? Dis maar net are en weefsel en bloed. Jou hart en jou kop en wat jy is en wat jy voel oor mense en dinge sit tog nie dáár nie.

En dis nie te sê nie. Daar kan selfs ’n kleinkind in hulle toekoms wees. Sy en Adriaan kan nog baie reis, saam oud word. En sy weet sy’s meer as twee borste vir hom.

Sy trek aan en bel vir Soekie. “Sal jy kan wegloop vanmiddag? Ek het geselskap nodig.”

“Is iets fout?” vra Soekie.

“Nee, wat. Dis net … Ek het weer ’n knop in my bors.”

Dis stil aan die ander kant.

“Kom ons gaan eet vanmiddag iets by daai plek onder die bome,” sê sy vinnig. “As jy kan wegkom.”

“Ek sien twaalfuur ’n student, maar ek kom sodra ek klaar is. Is jy oukei?”

“Ja, wat.”

Sy groet en druk die foon dood, sit ’n oomblik deur die kamervenster en kyk. Bel vir Phoebie.

“Ek en Soekie gaan so eenuur iets eet, by die plek waar ons met jou verjaardag was. Kom jy saam?”

“Beslis. My ma kom kuier volgende week, ek het morele onderskraging nodig.”

Ingrid ry kantoor toe.

Sy groet vir Sandra wat voor die rekenaar doenig is, maak koffie, blaai deur haar dagboek. Tienuur moet sy die uitslae van die Uys-mense se kind met hulle bespreek. Sy sien op daarteen. Hoe vertel jy vir ouers wat met blink oë en vele verwagtinge voor jou sit dat hulle kind nie heeltemal universiteitsmateriaal is nie? Sy intelligensiekoëffisiënt is net nie ’n pasmaat vir die ambisieuse keuse wat hulle in gedagte het nie.

Dis onregverdig, dink sy soos vele kere tevore. Dié wat studies by ’n duur universiteit kan bekostig se telg het dikwels nie die vermoë nie. Dan kom sit hier kinders uit arm huise of die stad se townships en hulle het ongelooflike potensiaal, maar die ouers kan nie bekostig om hulle te laat studeer nie. Die groot gesukkel om vir hulle beurse te kry, en dan kan sy dit nie oor haar hart kry om vir hulle ’n rekening te stuur vir haar beroepsvoorligting nie.

Sy is nie ’n skerp sakevrou nie, sê Adriaan gereeld.

Maar sy weet ’n faktuur in die pos is lankal nie meer waaroor dit vir haar gaan nie. Sy lewer ’n bydrae, al is dit gering. Sy maak vensters oop vir mense wat dit andersins nie sou regkry nie. Universiteite kan net sóveel beurse toeken, en firmas is uitsoekerig. Gee die beurs vir die veilige belegging, die toppresteerders. En die banke soek sekerheid voor hulle ’n lening toestaan.

Dis haar missie om vir kinders met potensiaal geleenthede te skep. Daardie wat by kerslig in ’n township moet studeer, met vele sibbe saam in die tweevertrekhuis en moontlik fornikerende mense onder dieselfde dak. Daar ís nog firmas wat verby BEE-punte en -syfers kyk en op prestasie fokus.

Adriaan sê dikwels sy moet die werk los en by die huis op die bank gaan lê en die lewe geniet. Veral ná die eerste keer. Hulle het tog nie regtig die geld uit haar praktyk nodig nie.

Sy oorweeg dit soms, maar dan dink sy aan die grootoog-kinders wat met vele verwagtinge tóg op ’n wonderwerk hoop wanneer hulle in haar kantoor beland. En veral aan dié wat met geen verwagtinge nie voor haar kom sit. Die vele planne wat sy moet maak om vir hulle ’n lewe te help bedink, die dankbaarheid as sy dit regkry. Sy maak ’n verskil, sy weet, al is dit nie berge wat sy van die Kaap tot in Musina geskuif kry nie.

En sy dink ook aan Phoebie wat al jare lank langs die swembad lê en die verveling en gevoel van nutteloosheid wat sy dikwels op haar gesig sien – al sal Phoebie dit nie sommer erken nie. Jy kan ook net sóveel aardse besittings versamel en sóveel middagetes saam met vriendinne doen, weet Ingrid.

Sy antwoord e-posse en takel die lys firmas, baie van hulle onbekend, wat moontlik bereid sal wees om ’n kans te waag met ’n kind. Toe Sandra tien minute voor tien om die deur loer en sê die Uyse wag, trek sy Luan Uys se lêer met ’n sug nader.

Sy stap na die klein konferensievertrek langs haar kantoor. Wat sy deur die jare geleer het, is dat jy eerlik moet wees, al is dit hoe moeilik. As ’n kind nie op universiteit hoort nie, moet jy dit so diplomaties moontlik vir die ouers en die kind sê. En dan moet jy regstaan met alternatiewe. Die geld is beskikbaar en ’n kind se toekoms is op die spel.

Die Uyse is teleurgesteld, soos wat sy verwag het. Maar uiteindelik kry sy hulle tog opgewonde oor die kollege waar sy dink Luan gelukkiger gaan wees. Toe hulle met die pakkie brosjures onder die arm uitstap, bring Sandra tee.

Ingrid gaan staan voor die venster en staar na die klein tuin van die gerestoureerde huis waarin sy ’n paar vertrekke huur. Sy teug aan haar tee, vat ingedagte aan haar linkerbors. Weefsel en are en bloed wat dalk weer siek geword het.

Kort ná twaalf klim sy in haar motor en ry na die eetplek aan die buitewyke van Pretoria-Oos. Dit was glo jare gelede ’n plaasopstal, dié mooi ou huis met die laning bloekombome aan die regterkant. Hier, met voëls wat om jou kwetter, kan jy jou ’n wyle verbeel jy’s ver van die stad se gebeur, in ’n ander era selfs.

Sy sien Phoebie sit reeds by een van die tafeltjies met tafeldoeke in al die kleure van die reënboog. Sy parkeer onder ’n boom op die sypaadjie en waai vir haar.

“Julle dink seker ek’s altyd eerste hier omdat ek niks anders hét om te doen nie,” sê Phoebie sonder om te groet. Sy vee oor haar heupe. “Ek het gewig opgetel, nè? Ek is te bang om te weeg. Dit gaan my hart breek as ek opgetel het ná die hel van laas jaar.”

Ingrid glimlag. “Jy lyk mooi. En jy’s neuroties oor jou gewig. Jy is vyftig, jy gaan nóóit soos Twiggy lyk nie, altans, nie nou meer nie. Maak vrede daarmee en geniet die lewe. En Cassie is mal oor jou nes jy is.”

Phoebie wink die kelner nader. “Dis maklik vir jou om te praat. Jy is lank en jy was nog nooit vet nie. Ek’s ook nie so seker Cassie is mal oor my nie. My má kom kuier en dan is hy oor niks mal nie.”

Sy wink weer ongeduldig na die kelner. “Het julle light wyn?”

Hy knik en plaas ’n wynlys voor haar neer.

“Kom Soekie?” Phoebie blaai deur die wynlys.

“Bietjie later. Sy moet eers ’n student sien.” Ingrid kyk na die groep jonges wat op die stoep sit en kuier. Hulle lag vrolik. Die lewe is ’n liedjie met ’n baie mooi wysie en jy gaan vir altyd daarna luister.

Sy draai na Phoebie. “Jou ma was darem lanklaas hier. En sy word oud.”

Phoebie tel die spyskaart op. “Ek’s so gatvol vir ordentlike slaaitjies.”

“Eet iets lekkers. Kry krag vir jou ma. Jy kan Maandag weer begin dieet.”

“Jy’t nie ’n idee wat dit is om kort en rond te wees nie,” sug Phoebie. “Dis ’n lewenstryd. En al sê almal nou ook wát, niemand hou van ’n kort, dik vrou nie.”

“Wie gaan meer van jou hou as jy jou uithonger om soos Twiggy te lyk? Nie ons nie, en beslis ook nie Cassie nie. Of jy nou vet of maer is, ons hou van jou nes jy is.”

Phoebie maak die spyskaart toe en leun agteroor. “Jy weet nie waarvan jy praat nie. Om kort en rond te wees, lê geensins naby jou verwysingsraamwerk nie. Jy en Soekie is albei byna ses voet lank!” Sy snork vererg. “Jy wéét eenvoudig nie, suster, en ek gaan nie my asem mors om te verduidelik nie. Jy en Soekie verstaan niks.”

“Daar kom Soekie nou,” sê Ingrid verlig.

Sy hou hulle vriendin in die groen minirok dop. Dit lyk of Soekie in stadige aksie aangestap kom: die lang koperkleurige krulle, die sonbril op die kop ter versiering, die plooilose gesig (danksy die onlangse prosedure), die plat maag (verdere prosedure), die lang, bruingebrande bene. Aansienlik jonger as twee-en-vyftig, sou jy raai.

Soekie sak op die oop stoel neer, sit haar handsak en sonbril op die tafel en steek dadelik ’n sigaret aan. Sy draai na Ingrid. “En?”

“Wat sal ek sê?” Ingrid vroetel verleë aan die daisy in die blompotjie op die tafel. “Dis terug. Daar’s ’n knop, miskien voel ek twee, ek’s nie seker nie. Ek moet dokter toe gaan.”

Soekie se hand vou oor hare. “Ek weet nie wat om vir jou te sê nie.”

“Hoekom weet Soekie en ek nie?” vra Phoebie gebelg.

“Ek het dit eers gister ontdek.” Ingrid skuif die blompotjie eenkant toe. “Daar was nog nie eintlik tyd om vir iemand te sê nie.” Sy voel vir die eerste keer tranerig.

“Kom ons bestel.” Sy probeer glimlag, vee haar oë met haar handpalm af. “Dis fine. Adriaan sê ek is meer as net my borste. En dis nie te sê dis kwaadaardig nie.”

Die kelner daag op met die bottel wyn en skink vir hulle.

Ingrid probeer die bekommerde kyke ignoreer. Sy vat ’n sluk van haar wyn. “Oeg, dit proe ernstig na koeipiepie.” Sy draai na die kelner. “Bring vir ons twee glase rooiwyn ook, sommer julle huiswyn.”

Toe die kelner wegstap, beduie sy na die bottel wyn met minder kalorieë wat ewige slankheid beloof. “Moet jy jouself regtig so straf, Phoebie? En ons gaan nie nou verder oor my gesondheid praat en die bobbejaan agter die berg uitgrawe nie.”

Phoebie sluk vasberade aan haar wyn. “My ma kom volgende week kuier. Onbepaald, lyk dit my.”

Ingrid en Soekie kyk onderlangs na mekaar.

“Sy’t net ’n eenrigtingkaartjie bespreek.” Phoebie se stem styg. “Julle moet by ons kom eet terwyl sy daar is. Julle sal my deur dié marteling moet sien. Cassie noem haar die huisheks.” Sy vat nog ’n sluk wyn en trek ’n gesig. “Ja, dit ís koeipiepie.”

Ingrid giggel. “Ma’s is seker maar almal op ’n manier so. Hulle hoop seker dat ons beter as hulle sal doen.”

“Jóú ma is nie so nie,” sê Phoebie verontwaardig.

“Ek en my ma was ook nie juis vrolike bedmaatjies nie.” Soekie wink die kelner nader en bestel vir Phoebie ook ’n glas rooiwyn. “Dié gaan ons as takeaway vat, vir kookdoeleindes,” sê sy en beduie na die laekaloriewyn.

Hy glimlag net beleef en maak hom uit die voete.

“Maar ek mis my ma tog,” gaan Soekie voort. “As jy nog ’n ma het, glo jy iewers in jou agterkop dat iemand vir jou op die uitkyk is. Daar’s altyd daai laaste bastion as dit voel of niemand in die wêreld jou verstaan nie. Jou ma sal darem probeer, al maak sy net vir jou tee of bak ’n melktert.”

Phoebie snork. “Ek’s nie so seker mý ma is ’n bastion nie. Sy’s eerder die eerste een wat my uit die bed sal skop. Oë rollend na die dak, verdoemend, veroordelend. En die sug. Oor die teleurstellende wese met wie sy nou eenmaal opgeskeep sit, haar pokkeltjie-dogter. En nou het sy boonop ’n pokkeltjie-skoonseun ook.”

Ingrid lag. “Jy oordryf. Jou ma wil maar net die beste vir jou hê.”

“Maar ek hét die beste, en ek’s gelukkig met wat ek het! Dis wat ek nie kan kleinkry nie. Wat moet ek meer hê? Meer aardse goed as wat ek reeds het? ’n Man wat meer geld verdien? ’n Man wat meer vir my omgee as Cassie?” Sy sit haar wynglas hard neer. “En ek’s mos nou uiteindelik maer. Sy kan nie eers meer dáároor iets sê nie.”

Soekie knik. “Vir party mense is onvergenoegdheid ’n lewensinstelling. Ek verstaan net nie waarom jy jou so daaraan steur nie. Jou ma gaan tog nie verander nie. Leef daarby verby!”

“Dit maak my net so de donner in dat ek haar nog al die jare probeer beïndruk.” Phoebie vat verontwaardig ’n sluk wyn. “Ek voel nog altyd soos daai skaam, dik, ontoereikende dogtertjie wat ek destyds was. En wat ek waarskynlik steeds in haar oë is. ‘Phoebie, jy moet darem beter op skool vaar, jou pa is ’n dókter. Phoebie, ons moet ’n slag iets aan jou gewig doen. Phoebie, ons moet darem iets aan jou vel doen. Phoebie, jy moet darem harder probeer om universiteitstoelating te kry.’ Phoebie, jy moet dit en Phoebie, jy moet dat. Niks wat ek gedoen het, was ooit naastenby goed genoeg vir haar nie!”

Die kelner kom neem hulle bestelling.

“Ek het nou klaar gekla,” sê Phoebie toe hy wegstap. “Maar ek móés by iemand kla. En ek weet julle sal vergewe en verstaan.”

Tot Ingrid se verligting praat hulle die res van die middag oor gewone goed: die kinders en die mans en die handwerkmark wat glo iewers op ’n landgoed buite die stad aangebied gaan word. Sy vertel van haar gesukkel met die slim én dom kinders en Soekie wei uit oor die menigte studente wat hulle net eenvoudig nie meer sinvol by Unisa kan akkommodeer nie.

Die aand toe sy in Adriaan se arms in die bed lê, mymer sy: “Ons het betekenisvolle mense in ons lewe. Borste is nie ’n issue nie.”

Hy soen haar op die voorkop en draai om. Sy hoor hy slaap dadelik vas.

Sy staan op, loop studeerkamer toe en skakel die rekenaar aan. Skryf vir haar dogter in die vreemde ’n brief.

Als wel hier. Dit lyk asof dit goed gaan by Pa se praktyk. Dit kerm en kla soos gewoonlik oor die neurotiese pasiënte, maar hy sê ons gaan Kersfees Londen toe. Yeh! Maak jou reg vir die familie-inval en slag wat daar te slagte is. Ons bring Tannie Balls en wat jou hart ook al begeer.

Ek wil weer ’n slag in ’n oop rooi bus ry en kyk na al die mooie plekke in daai mooie stad, al is dit met ’n sambreel oor my kop vir die reën en die sneeu en wat die weerman ook al kan bedink. Al mis ons jou soos in vir altyd en altyd, is ek tog op ’n manier bly jy is veilig daar anderkant. Van kleins af het jy vir my ’n bietjie na ’n English rose gelyk met daai blosende wangetjies en witte vel.

Hoop julle is nou meer tuis as toe ons laas daar was. Volgens navorsing vat dit ’n lang tyd om wortels suksesvol te verplant. Moenie haastig wees nie.

Soekie het mos laas jaar ’n verwoestende makeover gehad (met haar ma se erfgeld, ek dink ek het jou al vertel). Sy lyk nou effens soos ’n ouerige model met haar lang lyf, die plat maag en die mooi bene. Ek stuur vir jou ’n foto, maar onthou, dis ’n geheim waar die new look vandaan kom. Sy was nog altyd ’n mooi vrou, nè? Sy en Will was laas jaar in Kroasië met wat oor was van die erfgeld. Ons hoop maar dit was ’n second honeymoon.

Onthou jy daai oulike plastiekstoeltjies en -tafeltjie wat Soekie iewers op laerskool vir jou gegee het vir jou verjaarsdag? Waarheen het dit tog verdwyn?

Pa slaap. Alle liefde van ons albei. Sal volgende week skype.

Sê groete vir Rodney.

Ma

Sy stuur die boodskap en gaan maak tee in die donker kombuis. Die straatlig aan die agterkant van die huis verlig dit genoeg sodat sy nie die lig hoef aan te skakel nie.

In die weerkaatsing in die kombuisvenster kyk sy na haar borste deur die dun nagrok.

* * *

Will draai by die Blue Crane-restaurant se parkeerterrein in en skakel die SUV af. Hy kyk in die kar se truspieëltjie. Dan heen en weer, bedag op elke beweging. Die motorwag staan nader en hy knik vir die man.

Hy steek ’n sigaret aan. Sit agteroor en blaas die rook by die oop venster uit. Hy dink aan Soekie wat vandag ’n lesing by ’n groot firma gee. Selfsugtige statistiek en die gesmag na die ware Jakob, of so iets. Iets oor mense se subjektiewe vertolking van statistiek en hoe hulle dit pasklaar maak vir selfsugtige doeleindes en eie gewin.

Hy dink dis wat sy gesê het. Hy voel skuldig omdat hy nie regtig geluister het nie. Hy voel skuldig omdat hy nou hier sit. Hy voel skuldig oor wat hy geword het. Opgewonde soos ’n seuntjie oor ’n avontuur. Sy is byna dertig jaar jonger as hy. Is dit op die ou end net dit? Opgewonde skuldgevoelens en ’n jeugdige gebeur in die broek?

Sy is laat. Hy vind dit aantreklik, dié jeugdige wanorde en die gesukkel om tyd en sperdatums belangrik te ag. Hy slaan gereeld namens haar vure hieroor dood by die kantoor.

Die wit Golfie ry by die parkeerterrein in en stop eenkant onder ’n boom. Sy klim uit. Sluit die kar en stap kop onderstebo, hande in die swart baadjie se sakke, met vinnige treetjies na die restaurant. Kyk nie rond nie. Die kort, donker hare staan in verskillende rigtings.

Hy glimlag oor die effense voortvarendheid en die erns wat nie hoort by iemand van haar ouderdom nie. Sý glimlag min. Miskien nou en dan, met spesiale geleenthede.

Hy rook tydsaam klaar. Klim uit en sluit die SUV, knik in die rigting van die motorwag.

By die restaurant se deur groet hy die kelner hoflik en beduie hy ken die pad. Hy klim geruisloos die paar trappies na die boonste dek en sien haar by die tafeltjie in die hoek sit. Turend by die venster uit, hande steeds in die baadjiesakke.

Hy vou sy hande om haar skraal skouers en soen haar op die voorkop. Sy kyk vinnig op, kyk dan vinnig weg. Sê niks.

Hy gaan sit oorkant haar en vat haar hande. Sy praat steeds nie, hou hom met die ernstige oë dop.

“Dis fine,” sê hy. “Jy moet relax. Daar’s mooi eendjies van alle soorte en kleure hier onder op die dam. Kom ek gaan wys jou.”

Sy huiwer, staan tog op toe hy opstaan.

Hulle stap die nou trappies af en loop tot op die verste punt van die houtdek langs die dam. Weerskante sit mense by tafeltjies en gesels oor borde kos, koppe intiem vooroor gebuig. Hy sien sy loer onderlangs heen en weer. Onrustig.

Hulle gaan staan buite sig om na die stil water te staar. “Kyk die babatjies!” sê sy skielik opgewonde. Sy beduie na die ma en die string eendjies wat verby hulle swem. Hy kyk nie daarna nie, hy kyk na háár.

“Kom ons gaan eet.” Hy sit sy arm om haar lyf.

Sy draai gehoorsaam om en hulle klim weer die trappies op na die dek waar daar nie ander mense is nie. Hulle bestel kos en eet in stilte. Hy wonder weer: Wat ís dit nou eintlik? Sy kon sy dogter gewees het.

Ná ’n glas wyn begin sy praatjies maak, en ná die tweede is daar selfs ’n glimlag. Hy kyk in verwondering na haar. Sy vertel van vriende en ervarings ver buite sy verwysingswêreld. Vra later die kelner om haar orige kos te verpak sodat sy dit huis toe kan neem.

Terwyl hulle weer die smal trappies na onder klim, gaan staan sy halfpad. Draai na hom en lê haar kop vir ’n oomblik op sy bors. Buite stap sy kop onderstebo na die Golfie, klim in en vertrek sonder om terug te kyk.

Hy haal ’n muntstuk uit sy beursie vir die gemoedelike motorwag. Volg die Golfie deur Groenkloof tot ’n blok of drie oos van die Menlyn-sentrum. Hy stop voor die swart hekke van die netjiese woonstelblok in Garsfontein.

Sy hou die afstandbeheer deur die Golfie se venster om vir hom oop te maak en hy parkeer op ’n besoekersparkeerplek. Toe hy uitklim, staan die Golfie reeds en afkoel op haar parkeerplek, B7, gemerk met outydse wit stensilletters.

Hy stap tydsaam na eenheid B7.

* * *

Om die pyn te verlig – dis wat Adriaan gewoonlik vir mense sê as hulle vra wat hy van sy werk geniet. En hy bedoel dit, al het dit die soort ding geword wat outomaties by sy mond uitpeul. Iets waaraan hy jare al nie meer dink nie, dit kom net uit. Soos wanneer jy vir iemand vra: “Hoe gaan dit?” Daar kleef nie meer betekenis aan die woorde nie.

Hy sit in sy spreekkamer en kou aan ’n toebroodjie terwyl hy die e-posse op sy rekenaar deurkyk.

Stephanie loer om die deur. “Jou agtuur is hier.”

Die pasiënt is onmoontlik. Sy kerm reeds en kyk met verskrikte oë na hom nog voor hy die spuitnaald uit die plastiekomhulsel kan haal. Om die pyn te verlig, sê hy vir homself.

Stefanie rol haar oë aan die ander kant van die stoel. Hulle ken al dié ritueel. Dis deel van die pakket – eerder die reël as die uitsondering. Die vrees vir die Stoel en die geluid van die boor, die reuke van narkosemiddels en stopsel. Die wit maskers wat die tandarts en sy assistent dra, die skerp lig in jou oë, die simpatieke gesigte vreesaanjaend vooroor gebuig en te naby aan joune.

“Dit gaan net ’n klein bietjie seer wees as ek jou mond doodspuit en dan gaan jy niks meer voel nie,” paai hy. “Ek moet net jou tand stop. Tjop-tjop, dan is als verby en die pyn is weg.” Hy glimlag, maar hy weet dit help nie.

Die vrou kreun benoud en knyp haar oë toe toe hy die spuitnaald nader bring.

“Groot oop nou.” Sy maak haar mond oop en hy druk die spuitnaald versigtig in haar wang. Sy krimp ineen.

Stefanie gesels oor die weer en ’n fliek wat sy gisteraand gesien het en die debat vanoggend op ’n inbelprogram op die radio oor onverskillige motoriste. Dis moontlik haar grootste bydrae tot die praktyk, al is sy ’n knap assistent. Sy sorg vir ’n rustigheid in die spreekkamer en dit kalmeer die pasiënte se senuwees.

“Ek stem saam oor strenger wetgewing,” speel hy saam, al weet hy daar was nie vanoggend so ’n gesprek op die radio nie. Hulle het hierdie een al ’n paar keer gebruik om ’n pieperige pasiënt tot bedaring te bring. Toe die gespanne lyf in die stoel voor hom verslap, weet hy dit het weer gewerk. Hy glimlag vir Stefanie.

Hy bestudeer die tande in die oop mond wat ’n lewe verklap. Hier kan jy niks wegsteek nie. Die rokers, die drinkers, dié met buitensporige eetgewoontes (en waarskynlik hoë cholesterol), die senuweelyers wat hulle tande kners. Alles sien jy hier. Elke dag. Die mensdom blootgelê in al sy broosheid en ellendes, die verdedigingsmeganismes, die ontsnaproetes. Dit alles lê hier, oop en bloot, in ’n gesperde mond waarin die spoeg opgedroog het, die laaste skanse daarmee heen.

So middeldertigs, skat hy hierdie een. Nie ’n roker of ’n drinker nie, maar die tande word gekners om wal te gooi teen die onheil van die lewe. Vele onheile vir haar, vermoed hy.

Die lyf op die stoel span weer soos ’n snaar toe die boor begin raas. Hy weet hy moet nou gou speel en klaarmaak. Kry die drama agter die rug. Daar is nog ’n span wat wag in die wagkamer.

Stefanie oorhandig die regte instrumente en mengsels sonder dat hy vra. ’n Span is hulle. Soos twee osse wat weet waar om te trek, só maak hulle om die wa anderkant die drif te kry. Om die pyn te verlig.

* * *

Phoebie kyk die ontbytprogram op televisie. Sy onthou vaagweg die knaap wat nou so lekker gesels. Hy’t ’n jaar of twee gelede in ’n melodrama gespeel, die koerante het oor die fliek geskryf. Was dit toe later op kykNET?

Of was dit nou die rooibostee-advertensie waarin sy die man gesien het? Die kuiltjies. Sy probeer die gesig plaas. Ja, dit was die fliek, en dalk die advertensie ook.

Sy skakel die TV af en trek die gordyne oop. Stoot die vensters wyd oop vir vars lug. Sy maak vir haar ontbyt in die glasbakkie wat sy in Venesië gekoop het. All-Bran Flakes (net ’n hand vol) en vetvrye jogurt (net ’n skeut), darem ’n bessiegeur al is dit kunsmatig versoet. Die perske wat sy gister by die groentewinkel gekoop het, word laaste in die bakkie gesnipper.

Cassie is lankal weg. Haar kort mannetjie met die plooi tussen die oë. Hy wheel en deal oor die wêreld heen, sê sy altyd vir mense as hulle vra watse werk hy doen. In dollars en euro en jen en ander geldeenhede waarvan jy nog nooit gehoor het nie. Jy wil nie weet nie, sê sy effens blasé, asof sy nie omgee nie. Tog weet sy almal kan aan haar stem hoor en in haar oë sien hoe trots sy op die pokkeltjie (haar ma se woord) is.

Sy gaan staan by die groot geraamde foto in die gang van haar en Cassie en die res van die familie wat ’n professionele fotograaf op haar ma se sewentigste verjaarsdag geneem het. Soos die koningin van Skeba sit haar ma voor in die middel in die wynrooi rok wat Gert-Johan Coetzee spesiaal vir die geleentheid ontwerp het. Die modieuse maar statige kapsel wat die haarkapper op die dorp ’n paar keer moes kom oefen voordat haar ma tevrede was. Die spysenier wat spesiaal vir die geleentheid van die Kaap laat kom is. Die vars oesters, die oggend nog van Knysna ingevlieg. Die bakke vol disse en konkoksies. Eg inheems, het haar ma bestel. Smoorsnoek, waterblommetjiebredie, gedekonstrueerde bobotie. Eg maar vernuwend, was die opdrag.

Die toesprake en die heildronke en haar ma wat soos ’n ware koningin tussen die keurig gedekte tafels beweeg het. ’n Geselsie hier, ’n drukkie daar. Sy onthou hoe sy haar ma dopgehou het. Die sewentig jaar sou jy nie sommer kon raai nie, en sy was trots op haar mooi, statige ma.

Moet sy nie maar weer probeer nie? Is Soekie reg dat jou ma jou laaste bastion is, al weet jy dit nie? Sou haar ma maar net goed met haar bedoel, al voel die aanhoudende kritiek soos Macbeth se dolkwond, oor en oor en oor? Is sy maar net kleinserig?

Sy gaan sit met ’n notaboek op die klipbankie in die agtertuin en begin ’n lys maak. Wat kan sy doen om haar ma se kuier spesiaal te maak? Dinge wat haar ma hopelik met ander oë na haar dogter sal laat kyk.

Sy het al ’n hele paar nuwe uitrustings aangeskaf sedert sy so baie gewig verloor het, maar sy sal weer die boetieks invaar. ’n Paar goed kry wat haar ma se oë sal laat rek (in haar verbeelding sien sy die goedkeurende glimlag). Cassie sal verstaan as sy effens oorboord gaan met die kredietkaarte. Sy skryf:

• Nuwe klere (om Ma te beïndruk)

• Dalk iets nuuts vir die gastekamer, iets wat Ma nie sou verwag nie

• Middagete saam met Soekie en Ingrid

Sy kou aan die pen se agterkant. Haar ma hou baie van haar vriendinne, meer as van háár, het sy al dikwels jaloers gedink. Maar ’n middagete saam met Soekie en Ingrid en haar ma sal sy doen ter wille van ’n onvergeetlike kuier. Sy skryf verder:

• Die kosmark in Hazelwood

• Google die name van kunsgalerye in Hatfield en omgewing, soek vernuwende kunstenaars (naaktheid is in orde, dalk aan te beveel)

Sy het tóg aanbeweeg in hierdie lewe, hoop sy, maar sy is nie seker nie.

• Vind uit watter flieks wys by Cinema Nouveau en doen huiswerk daaroor (kies die weirdste een en maak agterna asof jy als verstaan het en mál was daaroor)

• Shopping, shopping, shopping (daar is geld in hierdie huis)

Miskien moet sy haar ma vat om vir haar ’n paar peperduur nommers in die boetieks te gaan uitsoek.

• Google nuwe, interessante (maar maklike!) resepte en toets voor die tyd uit

• Cassie moet sjampanje koop en ’n paar bottels landgoedwyn

• Google eksotiese drankies, mojitos en sulke goed vir skemeraand op die stoep

Al hou sy nie van eksotiese drankies nie. Sy sal self die bestanddele daarvoor moet gaan koop, Cassie is te besig. Dalk moet sy ’n paar drankies in vreemde kleure oefen. Sy waai ’n vlieg weg en skryf verder:

• Koop boeke by Exclusives (bel vir Ingrid, sy sal weet wat gelees moet word) en sit op bedkassie in gastekamer

• NB: Baie blomme. Bestel orgideë by oom Frank.

Sy maak die notaboek toe. Dis al waaraan sy nou kan dink.

Sy sit die leë bakkie in die wasbak in die kombuis neer en gaan hang Cassie se hemde wat die huishulp pas gestryk het in sy hangkas. Sy ruik aan die hemde. Sy ruik haar man. Skuif ’n paar hangers op die reling rond. Die klere sê iets oor hom en sy lewe. Niks uitspattig nie, maar duursaam. Duur, netjiese broeke wat almal korter gemaak moet word. Jy koop nie sommer vir Cassie ’n broek en daar gaan jy nie. Die kort bene, die ronde boude.

Sy gaan sit op die bed, tel ’n kussing op en streel daaroor. Sy onthou die mark in Turkye waar hulle dié gekoop het. Hoe Cassie verontwaardig met die winkelier oor die prys gestry het. Jy kan nie met Cassie oor pryse stry nie. Cassie kén pryse en prysmeganismes.

Het hulle ’n goeie lewe ten spyte van Paul? Ja, hulle het, besluit sy. Miskien júis oor Paul. En dis nie net omdat hulle ’n oordaad aardse goed het nie.

Dís dalk wat sy by haar ma geleer het, besef sy skielik. Om ’n goeie vrou vir jou man te wees, al is jy nie ambisieus nie en al lees jy nie Susan Sontag en Germaine Greer nie. Sy kan nie onthou dat haar ma ooit iets anders as ’n ma vir haar en Annemarie was nie. En ’n goeie vrou vir haar pa. Waarom is haar ambisie vir haar dogters dan so groot?

Mans is maklik, het haar ma dikwels gesê (sy en Annemarie het altyd oor dié preek gegiggel). Eintlik is mans heel eenvoudig, het haar ma geglo. Dis die ou hond-versus-kat-filosofie. Katte is slimmer en slinkser as honde en verwag meer van die lewe, maar honde is meer opreg. What you see is what you get, die hart is op die mou. Mans soek gereeld seks, hulle moet gereeld gevoed word (steak is altyd ’n wenner) en jy moet hulle op die hande dra. Laat hulle voel jy verstaan dat die wêreld onregverdig is teenoor hulle. Jy is onvoorwaardelik aan hulle kant, watter storm ook al daar buite woed.

Sy glimlag. Haar ma en pa was regtig gelukkig getroud, al kan sy nie onthou of haar ma haar huweliksfilosofie letterlik toegepas het nie. Wat ook al, dit het gewerk so lank as wat haar pa gelewe het.

Sy kan ook nie onthou of sý ooit bewustelik enige huweliksreël nagekom het nie. Sy en Cassie is ook gelukkig, maar sy het te min van hom. Hulle het eintlik te min van mekaar. Hy werk te hard. En as hy hulle mandjie brood vir die dag verdien het, land hy saans stokflou op die koningsgrootte bed in hulle mooi slaapkamer. Dan hou sy hom onderlangs dop terwyl hy deur The Economist blaai. Die groter wordende maag, veral sigbaar as hy op sy rug lê, die enkele hare wat soos gewoonlik regop staan, die effense frons terwyl hy oor die wêreldmarkte se ekonomiese vooruitsigte en sluimerende rampe lees.

Partymaal lê sy langs hom en lees ’n skindertydskrif oor wie deesdae met wie getroud is (daar is altyd iets oor die Kardashians, maar sy sal nooit teenoor Soekie en Ingrid erken dat sy na hulle werklikheidsprogram op TV kyk nie). Sy wil nie vir Cassie met háár dag pla nie. Wat is daar tog om te vertel? Die nuwe slaai wat sy by die delikatesse-winkel raakgeloop het? Kalorie-vriendelik boonop, verál kalorie-vriendelik.

Teen die tyd dat sy gebad en tande geborsel uit die badkamer kom, snork hy gewoonlik reeds. Dan staan sy met haar hand op die ligskakelaar en kyk na haar moeë man, die tydskrif eenkant op die bed, sy bedliggie nog aangeskakel. Hy raak maklik aan die slaap. Soos Paul toe hy nog ’n baba was en sy vir hom ’n storie gelees het, sommerso, soms in die middel van ’n sin.

Partymaal wil sy vir Cassie sê die mandjie brood hoef nie so te bult nie.

* * *

Soekie onthou dit presies: Dit was die sakdoek wat Will in die wasgoedmandjie gegooi het. Bo-op. So ongebruik, het sy nog gedink toe sy die wasgoed in die masjien laai. Steeds gevou, ’n bietjie soos puff pastry met ’n verrassing binne-in vir jou mense. Jy sou die spulletjie tussen die bedrieglike velletjies deeg nie kon raai nie. Dan kom dit gepof uit die oond om goudbruin ’n trotse plek aan tafel in te neem.

Sy het die wasmasjien se knoppie vir die eerste siklus gestel. Toe het sy haar Prozac gesluk – net een per dag, het dokter Jansen van Vuuren voorgeskryf. Effens ouskool, het haar vriendin Liesbet nog neus opgetrek oor dié pil. Toe drink sy maar ’n kalmeerpil ook vir die wis en die onwis.

En toe wonder sy of sy die Prozac op die regte tyd van die dag drink. Sy kan nie onthou wat op die voorskrif staan nie, dis dalk waarom dit nie werk nie. Miskien moet sy die apteek bel. Weer ’n draai by die dokter maak. Dalk is Liesbet reg, dalk moet sy iets meer eietyds probeer.

Sy het op die dubbelbed in hulle kamer gaan sit. Deur die venster het sy die bure se jasmyn geruik. Sy het Will in haar geestesoog bekyk. Die mooi kenbaardjie met die grys strepies. Die lang lyf, die grys oë wat selde iets verklap. Hoflike Will, die staatmaker wat altyd sy kant bring, by die huis en glo by die kantoor ook.

En sy het gewonder oor die sakdoek wat na rose ruik en die rooi vlekkie daarop.

Nee, nie Will nie.

Op haar selfoon het sy die restaurant om die hoek gebel en pasta bestel. Vir haar sommer iets met tamatie (sy het nooit meer lus vir kos nie, haar keel trek toe as die mannetjies die wit polistireenbakkies kom aflaai) en vir Will iets met seekos.

Sy het die gordyne toegetrek, van haar bra en tekkies ontslae geraak, die kussings op die bed gerangskik om haar rug gemaklik te stut. Met die afstandbeheer het sy die televisie aangeskakel, onbelangstellend deur die kanale geblaai, dit weer afgeskakel.

’n Klein rooi merkie wat na lipstiffie lyk, op ’n netjiese wit, roosgegeurde sakdoek, is nie noodwendig ’n aanklag van onbehoorlikheid nie.

Nee, nie Will nie.

* * *

Adriaan kan Cassie se figuur net-net deur die stoom in die sauna uitmaak. Hy versit op die harde sementbankie en neem ’n sluk uit sy waterbottel. “Waar’s Will?”

“Search me,” sê Cassie.

Dalk weet hulle al twee waar Will is, dink Adriaan. Maar hou jou neus uit sake wat nie joune is nie, soos Salomo of Bob Dylan gesê het.

Hy vee sy gesig met sy handdoek af en kyk na sy vriend wat toe-oë agteroor lê teen die warm muur. Cassie is eintlik tydloos. In die dertig jaar wat hy hom ken, lyk Cassie nog altyd soos Cassie. Kort en rond. En van kort gepraat, daai lontjie van hom kan vinnig vlam vat.

Tog het Cassie op ’n manier ook oud geword. Die eindelose saketransaksies hier en oorsee het hom plooie gegee. Hy onthou hoe onseker Cassie destyds was toe hy die sekuriteit van ’n vaste pos by die departement van finansies prysgegee het vir sy eie besigheid. Die naelskouery, die baie bier wat hulle gedrink het. Maar nou lê Cassie lepel met die sakewêreld hier en die wêreld oor. Selfvertroue het deur die jare van hom ’n reus gemaak. As dinge werk, word jy groter as jou vyf-voet-sewe.

Dalk het hy dit vanmiddag vir die eerste keer besef, dat Cassie oud word. Toe hy hom op die sypaadjie voor sy huis opgelaai het, sportsak in die hand, geselsend met die buurvrou oor die tuinmuur, het die moeë oë hom opgeval, die plooi op die voorkop. En dis dalk nie net die ding met Cassie en Phoebie se seun nie.

Die jare is iewers heen sonder dat hulle dit agtergekom het. Sou Will en Cassie hom ook só sien? Die magie en die dunner wordende bene, die hare wat nooit weer ’n bos sal wees nie. Adriaan word oud, sal hulle maklik kan fluister.

Cassie skuif regop. Toe hy praat, klink sy stem half spookagtig deur die stoom.

“Ek het geweet Paul sal nooit iets met ’n bal kan doen nie. Onhandig, sonder koördinasie. Dom hande, het sy oupa gesê. Maar hy’s darem slim, en hy dans soos Fred Astaire.” Hy sit vooroor, vee die sweet met sy arm van sy voorkop af. “Hy was ougat. Hy’t op skool die hoofrol gespeel in al wat ’n ding was. En ek was nogal oukei met die drama swot op Tukkies. Hel, man, dis die een-en-twintigste eeu! Ook toe hy ná ’n jaar opskop en sê die drama-ding is nie vir hom nie. Ons het vir hom gesê dis oukei.”

Hy strek na die lang rubberpyp wat aan die kraan gekoppel is en spuit ’n straal koue water oor sy skouers. “Phoebie was eers afgehaal toe ons agterkom hy sal nie trou nie … omdat daar nie kleinkinders sou wees nie. ‘Wil jy regtig bootsies brei, Phoebie?’ het ek nog vir haar gevra. Ons het gelag. Dit sal nie vir ons ’n issue wees nie, het ons besluit. Ek onthou ons het nog op ’n gastehuis se stoep na die Weskus se kalm see gesit en kyk. Want sien, hy’s ons s’n. Net soos hy is.”

Hy klap met sy hand op sy bors en staan op. “Dit raak nou te warm.” Stap met kort treetjies tot by die deur. “Maar die pil-storie het my gevang,” sê hy oor sy skouer. “En nou sing hy glo in ’n nagklub in Johannesburg!” Hy klap die stoomkamer se deur verontwaardig toe.

Adriaan leun agteroor, maak sy oë toe. Hy onthou nog vir Paul toe dié op skool was. Groot bokkie-oë, ietwat verskrik oor die lewe. Wou nooit saam swem as die buurt se kinders in die swembad rondgeplas het nie. Met krieket op die agtergras het hy iewers heen verdwyn. Verontwaardigde Phoebie: Hy’s sensitief, los hom! Nie almal in hierdie lewe hoef krieket onder die knie te hê nie.

Hy dink aan Magdi in Engeland. Hulle gaan die einde van die jaar kuier. Hy verlang, al is hy nie lus vir die koue Engelse winter nie.

Hy staan lank onder die stort. Toe hy buite kom, sit Cassie op die muurtjie voor die gimnasium en wag. Hulle klim in die kar.

“Wat van ’n bier?” vra Adriaan.

Cassie antwoord nie.

“Ons het mos nou ’n paar kilo’s pak gegee? Toe, man, ek wil nie alleen drink nie.” Hy kyk na Cassie. “Die Dros en die gym sit langs mekaar, ahumm,” probeer hy singende.

Cassie staar deur die venster, diep plooi tussen die oë. “Nie vandag nie.”

Hy laai Cassie af, ry tot by die bakkery op die hoek en koop vars broodrolle. Hy bel vir Will. Die foon vra hoflik dat hy ’n boodskap los.

Hy bel vir Ingrid, kouende aan ’n broodrol. “Kom ons gaan eet iets. My vriende het my versaak.”

* * *

Soekie luister na die stort se gesuis agter die toe badkamerdeur waar Will die sorge van die dag wegspoel. Dit klink soos die perkussiemusiek op die CD wat Liesbet vir haar van New York af gebring het. Klanke en ritmes om die gemoed te kalmeer en die yin en die yang in gelid te bring, of so iets.

Liesbet weet soveel van die dinge onder die oppervlak van hierdie lewe, die gefluister en gesus van kragte, nie vir die blote oog of oor beskore nie. Beïndruk moet jy wees.

Sy blaas haar asem met ’n sug uit. Hopelik sal die reëlmatige gesuis in die badkamer sorg dat die yin en die yang in hierdie huis in gelid bly. Liesbet sal beïndruk wees dat sulke gevolgtrekkings nou al onder hierdie dak moontlik is.

In die ruim huis in Brooklyn waarin Soekie grootgeword het – naby die universiteit en net ’n klipgooi weg van ’n hand vol vooraanstaande skole, soos haar ma graag gesê het – was alles soort van in gelid. Haar pragmatiese ma sou waarskynlik ’n bo- of is dit nou onderwêreldse gesuis om die gemoed te kalmeer met ’n frons en geligte wenkbroue bejeën het.

Nie ons dam se eende nie, my kind. Moenie die bonatuurlike beproef nie, so ’n geheul kan net rampspoedige gevolge hê. Hoe vorder jou wiskundehuiswerk?

Sy glimlag as sy aan haar besige ma dink. Altyd aan die woel en doelgerig en gefokus op wat sy ook al aanpak. Altyd aan die voorberei, dalk vir ’n intieme onthaal in die ruim tuin vir professor sus en doktor so en hulle gades. Daar kan glads ’n pryswennende skrywer ook wees, kollegas van haar pa, uitgesoekte gaste. Die spyskaart noukeurig beplan, liggies subtiel versteek tussen die takke van die groot ou bome.

Partymaal mis sy haar ma wie se as op die duine van Swakopmund gestrooi is. Boereadel, het sy iewers gelees, en hoekom sy die term onmiddellik met haar ma en pa in verband gebring het, kan sy nie meer onthou nie. Pilare van die samelewing, só het sy nog altyd oor haar suksesvolle ouers gedink. Nooit daaraan getwyfel nie, ten spyte van die onrustige gevoel dat “boereadel” dalk met ’n lag in die mou bedoel word.

Sy kyk na die selfoon op die bedkassie wat saam met Will se beursie, sonbril en ’n ongebruikte sakdoek in ’n stillewe onder die bedlampie met die rottangskerm gerangskik is. Dis selfs ’n bietjie hipnotiserend, die gesuis vanuit die badkamer. Sy steek haar hand uit en tel die foon op. Staar ingedagte na die donker skerm.

Sy sit die foon terug op die bedtafeltjie. Trek die gordyne dig. Draai om en stap televisiekamer toe, waar sy die leeslamp in die hoek aanskakel. Sy sit Hummel se derde klavierkonsert in die CD-speler. Gaan sit agteroor in die leerstoel, rangskik ’n kussing agter haar kop, sit haar voete op die koffietafel, plaas die oorfone in posisie.

Sy ontspan toe die eerste note begin. Gerusstellend, soos sy vermoed panna cotta vir Phoebie moet wees, en vir Ingrid waarskynlik die gedagte dat haar man haar vir ewig sal bemin, borsloos ofte nie.

Will droog nou af, sy ken die ritueel. Hy sal verfris uit die stomende badkamer kom, lekker ruik van die seep en reukweerder wat sy vir hom koop, na die keuse van háár neus. Haar mooi, stil man met die lang, sterk bene en die ferm boude, jeugdig selfs op sy jare. Hy sal ’n kortbroek aantrek, ’n vars T-hemp oor sy kop wikkel, sy dik hare borsel.

Dan sal hy vir hulle gaan drankies skink, hare op die tafeltjie langs haar neersit en beduie sy moet die oorfone afhaal. Vra of hy iets te ete moet maak en of sy reeds iets beplan het. Bedagsaam, haar mooie, lang, ordentlike man.

Sy dink aan die selfoon op die bedtafeltjie in die slaapkamer. Hoe weet jy of jy ’n goeie vrou vir jou man is?

Tussen vriende

Подняться наверх