Читать книгу Reënboog in die sand - Dirna Ackermann - Страница 3

1

Оглавление

Die afgeleefde interkom op die lessenaar kug hees en onderbreek Sanita se gedagtegang.

“Tannie . . . eh . . . mevrou Joubert, meneer Burger is hier.”

Nie nou al nie. Asseblief tog nie.

Sy soek iemand wat die aarde se getol kan stopsit. Sy wil afklim, soos in dadelik, of . . . dalk moet sy net begin hardloop. Maak nie regtig saak waarheen nie, solank dit net weg is.

Nie eens haar gesellige kantoor met sy geërfde geelhoutmeubels, leerbank en blink plankvloere kan haar vandag inspireer nie. Sy wil darem nie hiervandaan weghardloop nie, maar selfs die flentertjie Persiese mat voor die bank laat haar vandag koud, al word die kleure ryklik gereflekteer in die uitbundige bos blomme wat sy ten duurste by die mark loop koop het. Net om haar so ’n bietjie op te beur.

Slagoffer speel is nie een van haar tydverdrywe nie. Vat die lewe soos hy kom, hanteer wat hy jou kant toe gooi en gaan aan; dít moes sy in haar jong dae al leer. Leef jou lewe, hanteer jou probleme. As dit voel asof ’n trein oor jou gery het, staan op en maak die stukke bymekaar. Keuses het gevolge, ja, maar die lewe speel ook nie aldag ’n regverdige spel nie. Tóg, so tussen die onregverdigheid deur deel dit meestal genoeg gom uit om ’n mens se wonde self te lap.

“Tannie?”

Ai, hoe lank gaan die meisiekind nog sukkel om die familiêre aanspreekvorm waarmee sy begin het te verruil vir die meer professionele “mevrou”?

“Dankie, Lida.” Die haarpunt wat uit Sanita se Franse vlegsel losgekom het, irriteer haar. Sy druk dit ergerlik agter haar oor in. “Vra hom om ’n oomblik te wag. Asseblief.”

Sommer vir die res van haar lewe as hy so gaaf sal wees, dankie.

Buite skroei ’n woedende wind landaf die see in; dit waai die wêreld toe onder die sand en ruk en pluk om die hoeke van die gebou. Binne bied lugverkoeling darem ontvlugting van die intense Oktoberhitte. Van die mooiste, mooiste maand was daar vanjaar nie veel sprake nie. In elk geval nie hier op Keurbaai nie. Een dag was dit nog winter en die volgende het hulle kaiings uitgebraai.

Soos so baie ander kry ook die onthaalbedryf swaar in die ongunstige ekonomiese klimaat en word sý natuurlik nie gespaar nie. Nie dat dit regtig sleg gaan nie. Sy hou nog heeltemal goed kop bo water, baie dankie. Die gastehuis is die eerste keer in ’n lang tyd heeltemal vol en, moet nou nie ’n fout maak nie, sy juig. Dis tog waarvan Markus altyd gedroom het, dan nie?

Maar dis Develcor se groot indoena wat daar by Lida vir haar wag. Hy en vier van sy mededirekteurs het gisteraand laat opgedaag. Gelukkig was sy uit. Sy het wel ’n boodskap gelos om verskoning te maak en beleef gevra of hulle vanoggend kan ontmoet. Daar is iets omtrent hulle beoogde ontwikkeling van ’n waterfront en kleinboothawe in die Koraalspruit wat uitgeklaar moet word.

Dit gáán haar onderneming beïnvloed. Hopelik positief. Soos die res van Keurbaai ook maar hoop en glo.

Eers het sy gedink die werkery sal haar gastehuis nie juis raak nie, maar toe verander alles sommer byna oornag – altans, so voel dit. Nou besef sy haar moeilikheid het nog lank nie klaar geblom nie.

Boonop is die man wat vir haar wag net mooi die laaste man op aarde wat sy wil sien.

Die interkom kras weer, en sy reik na die knoppie met ’n begeerte om die ou ding van die lessenaar af te klap en hom finaal uit sy ellende te verlos.

Kan hulle haar nie uitlos dat sy die res van die dag net hier in die miserabele skulp van haar selfbejammering sit nie? Sommer net wag vir die volgende stel treinwiele wat oor haar gaan loop? Kan iemand anders nie kom koppe stamp met die groot indoena van ’n korporasie waarvan die bestuurslede hulle onder haar dak tuisgemaak het, maar wat terselfdertyd hierdie einste dak bedreig nie?

Haar gom is aan die opraak. Daar is nou te veel plekke wat lapwerk nodig het. “Tannie?” roep-vra Lida, en selfs die ou interkom se aamborstigheid kan die kommer in haar stem nie verbloem nie.

Sanita pluk die teuels van haar wegholgedagtes styf en besef haar vinger rus steeds op die interkom se knoppie. “Ekskuus. Wat het jy gesê?”

“Eh . . . meneer Burger sê hulle wag vir hom in die konferensiekamer. Hy wil tannie . . . eh, mevrou, net ontmoet. Julle kan maar later gesels.”

’n Verskrikte blik na die hoë staanhorlosie in die hoek vertel die man wag sowaar al amper vyftien minute. “Dankie, hy kan maar inkom,” sê sy, haastig en saaklik soos sy haar deur die jare geskool het.

Diep inasem, Sanita. Nog dieper . . . maar paniek huiwer net onder die oppervlak. Toe verkoelde lug haar longe laat span, probeer sy willekeurig met die uitasemslag ontspan. Sy bid al langer as twintig jaar dat hierdie dag tog nooit moet kom nie, ondanks die enkele toegemesselde, verraderlike kompartement in haar hart waar daar altyd teengekap word.

Voor sy kans het om op die haastige raps teen die kantoordeur te reageer, gaan dit oop. ’n Lang man kom met groot en – so lyk dit – verbete treë tot voor die lessenaar. Die glimlag om sy mond is in dawerende teenstelling met die dolke in sy oë wat dreig om haar teen haar stoel vas te nael.

“Hallo, Sanita.”

En nét so blits die volgende trein bo-oor haar. Nou is daar geen wegkruipplek oor nie. Geen verweer teen die geweld waarmee die verlede sy opwagting gemaak het nie. Sy bewe van kop tot toon en net die skild van professionaliteit wat ’n mens noodgedwonge in hierdie bedryf moet opneem, beskerm haar.

Sy trek haar skouers maar waterpas, dwing ’n glimlag na haar gesig en staan op, dankbaar vir die standvastigheid van die lessenaar teen haar lam bobene.

“Hallo, Fourie.” Die hand wat sy uitsteek, bewe sowaar nie in die geringste mate nie. “Welkom by Waaiwater. Ek vertrou dat jy . . . júlle jul verblyf sal geniet.”

Sy warm greep om haar koue hand is sterk maar kortstondig voor sy hand teruggly tot teen sy denimbedekte dy, die vingers styf gebal in dieselfde afstandelikheid wat sy hom gebied het. Die formaliteit pas hom soos ’n jas.

Hy kug. “Gaan dit goed?”

“Ja, dankie.” Sy veins nou vir die eerste span. “Self?”

“Interessante naam, Waaiwater? Waar kom dit vandaan?”

Sowat van banaal. Het hy dan nie die webblad gesien nie? Kan hy nie liewers loop sodat sy op haar tyd uitmekaar kan val nie?

Die gepiep van ’n selfoon spaar haar ’n antwoord en koop genadetyd waarin sy tot verhaal kan kom, of altans, kan probeer kom.

Hy diep ’n selfoon uit sy hempsak op. “Burger.” Hy luister ’n paar oomblikke, maar sy oë speur oor haar. Hulle vat-vat aan haar gesig en lyf, en dis so ampertjies of sy probeer die hitte van sy blik met haar hande keer. “Ek is nou daar,” sê hy voor hy die selfoon weer bêre.

Sy spring die vrae in sy stormgrys kykers voor met haar eie banaliteit. “Daar is groot rotsplate op die strand en wanneer die wind direk suidoos is, waai dit baie van die brekende branders se water na die huis se kant toe.” Vensters was, is een van haar personeel se grootste take, maar al moet sy iemand betaal om dit twee keer ’n dag te doen, is dit ook goed. “Ons het die naam maar so saam met die huis bekom.”

“Ons?”

Sanita forseer haar onwillige lyf agter die lessenaar uit. Netnou dink die man sy kruip weg. Sy gaan staan by die hoek net sodat haar sitvlak ’n rusplek het indien haar knieë dalk vergeet wat hulle funksie is.

“Julle moenie huiwer om te sê as daar enigiets is waarmee ons julle verblyf kan vergemaklik nie.” Draaie gooi om vrae te omseil is nie sý prerogatief alleen nie.

Niks aan hom verklap hoe hy oor haar ontwyking voel nie. Hy kyk net op sy horlosie. “Ek moet ongelukkig gaan. Ek het oor ’n uur ’n ander afspraak en die groep moet eers ’n paar sake afhandel.” Weer lui die selfoon. “Burger,” antwoord hy met ’n frons en sonder om op die skermpie te kyk, sy oë steeds op haar mond.

“Jammer.” Hy draai weg en slaan oor na Frans.

Haar voete kry die pad terug om die lessenaar en haar agterkant vind, kaplaks, ondersteuning in die stoel terwyl sy luister met hoeveel gemak die uitheemse klanke oor sy lippe rol. Frans? Wat hy waar sou geleer het? Tale was nooit sy sterk punt nie. Wiskunde wel. Hy wou altyd ingenieur word. Sy het net nie in haar wildste nagmerries kon dink dat dit hom as die groot indoena op haar werf sou laat beland nie.

Die planne vir die hawe-ontwikkeling is lankal bekend. Daar was samesprekings met owerhede, impakstudies, verslae ter insae van Jan Alleman, noem maar op. Nadat die oorspronklike ontwikkelaar maande lank weens finansiële probleme gesloer het, kom Develcor skielik net eendag in die prentjie en word daar begin met intensiewe onderhandelinge om die projek opnuut aan die gang te kry.

Die amptelike Koraalvaringspruit, of sommer “die Koraal” in die plaaslike volksmond, is meestal net ’n stroompie uit die berg met ’n breë, vlak monding wat ’n geliefde seilplek vir kleiner vaartuie en branderryers is.

In die dorp se beginjare vroeg in die vorige eeu is ’n hawe vir vissersbote daar gebou, maar swak beplanning het veroorsaak dat die see dit weer begin toespoel het. Die dorp het toe oorwegend na die ander kant toe ontwikkel en ’n kleiner, meer gerieflike hawe is verder teen die kus af aangelê. Nou het die nuwer hawe ontoereikend geword en is groter geriewe dringend noodsaaklik, maar is uitbreiding dáár nie meer moontlik nie.

Van die oorspronklike hawe is nou net ’n vervalle hawemuur oor, terwyl die omringende area ’n ewe vervalle pakhuis en kleiner stoorplekke huisves. Aan hierdie kant van die spruit lê slegs dié eiendom van haar en nog twee ander hoër op teen die berg. Waaiwater is egter die enigste een wat so na aan die strand lê.

Die nuwe projek behels vasmeerplek vir kleiner bote, ’n waterfront en sake- en behuisingskomplekse wat uitgebreide uitgrawings gaan verg. ’n Projek wat, so word die dorp belowe, ruim tot die gemeenskap se welvaart kan bydra – en sy stem saam. Hulle kan net voordeel daaruit trek.

Of sy hét saamgestem. Nóú? Nou weet sy nie meer so mooi nie.

Eers sou die ou hawepad anderkant die spruit opgeknap word as toevoerpad vir al die monsteragtige masjinerie wat moet heen en weer, maar toe verander die planne en word hulle ingelig dat ’n nuwe pad aan hierdie kant gebou sal moet word. Darem nie té naby aan Waaiwater nie, is sy getroos. Ongerieflik sou daar wees, ja, maar hulle sou daarmee kon saamleef. Sy was gerusgestel – al was dit ietwat morrend.

Die stil laninkie wat na Waaiwater lei, sal nie in gedrang kom nie. Daar kan dalk ’n bietjie lawaai wees, ’n bietjie stof, maar as dit nuwe besigheid bring, sal sy nie kla nie.

Toe daag die laaste brief op. Die een met die groot manne se finale planne.

Die een wat sê die pad sal ’n hele paar honderd meter nader aan haar eiendom moet skuif as wat hulle oorspronklik beplan het. Dit beteken dit sluit nou die laan ook in. Ofte wel, ’n groot deel daarvan.

Sy was op haar agterpote, en ná ’n slapelose nag het sy haar prokureur opdrag gegee om protes aan te teken. ’n Paar dae later laat hy weet sy moenie so stres nie. Die saak geniet aandag. Toe sy weer hoor, vertrek hy op ’n lank beplande toer na Ierland, maar darem met die gerusstelling dat sy spoedig van Develcor sal hoor.

Amper drie weke later doen sy toe maar self navraag en kom by ’n sekretaresse uit. Jammer, mevrou, die base is op die oomblik landuit, maar daar is geen ander uitweg nie: die besluit is finaal. Die pad gaan loop waar hulle gesê het hy moet loop. Glo iets te doen met die hidrouliese vlakke. Die vrou met haar uiters formele houding moes nog net “basta” bygevoeg het, en die prentjie was volledig.

Sanita masseer haar slape waar dit voel asof een van die monstermasjiene met uitgrawings in haar brein begin het.

Die hidrouliese vlakke is nie vir haar die probleem nie. Dit is die besluite van ánder oor haar eiendom wat sommer so as fait accompli in haar skoot gegooi is wat dwars vassteek. Iets is êrens nie pluis nie. Dit voel amper asof sy uit een of ander kringloop geval het.

Wat gaan word van die rustige hawe wat sy hier gevestig het? Van haar gereelde besoekers? En die laan wat ál toegang tot haar gastehuis is? Die strand voor haar gaan verander in ’n donderende, druisende hoofweg vir massiewe masjiene. Haar webblad met sy idilliese foto’s is gekanselleer met een veeg van iemand se pen op ’n stuk papier, en in stede van rustige Waaiwater, sit sy met Lawaaipad.

Dit is nie dat sy haar vinger op iets konkreets kan druk nie. Kan sê dit of dat is verkeerd nie. Dis net dat iets haar pla. Soos ’n doring in ’n sokkie. Iets wat sê alles is nie pluis nie.

Daar is eenvoudig net te veel mense in die wêreld wat hulle lippe aflek vir hierdie stukkie paradys so teen die strand. Baie het haar al ’n tamaaie fortuin aangebied om te verkoop. Selfs haar prokureur dink al vandat die planne die eerste keer bekend geword het sy moet die plek liewers in die mark sit.

Maar boedel oorgee, is nie op haar agenda nie. Sy sal veg vir Markus se nalatenskap, selfs al is die naam van Develcor se groot indoena ook Fourie Burger. Wat is die kanse dat dit buitendien hý sou wees, het sy haarself getroos. Daar is hordes mans in hierdie land met dieselfde naam en van.

Die foto’s op Develcor se webblad het sonder omhaal gewys wat die kanse was. Pleks sy haar navorsing gedoen het toe hulle die eerste keer gevra het om hier te kom bly, maar nee, al waaraan sy kon dink, was die manne met die planne onder haar dak. Teen die tyd dat sy uitgevind het, was die koeël deur die kerk en hulle deposito betaal.

Fourie se gelag bring haar aandag terug, en sy voel die blos op haar wange. Sy kyk gou op om te sien of hy opgelet het sy dwaal, maar hy staan steeds met sy rug na haar toe.

Hy sê nog iets en vou die selfoon in sy hand toe, staan ’n oomblik koponderstebo voor hy omdraai. Sy blik rus vlugtig op die foto op die lessenaar se hoek, kom na haar toe en luier weer op haar mond voor hy sê: “Ek is baie laat. Ons gesels weer.”

En woerts, weg is hy.

Sy staar dom na die toe deur. Haar palms bewe toe sy aan haar lugverkoelde wange vat. Is hierdie trein verby, of was dit maar net die veraf gefluit van ’n aankomende lokomotief? Kom die wiele nog?

Selfs na Markus se dood het sy vas geglo sy kán staande bly. Haar lewe was te vol om in ’n hopie te gaan sit. Sy het die gastehuis wat hulle deur die jare saam opgebou het en sy gaan dit uitbou tot ’n blywende nagedagtenis aan hom. Én sy het haar seunskind.

Twee jaar later leef sy saam met ’n tiener vir wie sy die vyand geword het. Haar gastehuis kan moontlik omwentelinge meemaak. En dit maak nie saak tot watter mate sy dink die verlede is begrawe nie, Fourie Burger onder haar dak beteken dit gaan fyn trap verg om te verhinder dat ou koeie uit die sloot uit opstaan.

’n Volskaalse hoofpyn het nou opgedaag. Sanita masseer haar slape weer. Is dit net die man wat nou pas hier uit is wat die skuld moet kry, of is daar nog ’n rede? Is deel van haar kloppende kop nie dalk ook te wyte aan die onderonsie in die vroeë oggendure met Hanko nie? Die vierde een binne een week, en die soveelste een die laaste twee jaar.

Haar oë draai onwillekeurig in die rigting van die foto op die hoek van die lessenaar, maar sy weet nie of haar voos getrapte hart hom regtig wil sien nie, al het sy hom hoe lief. Haar seunskind wat, met sy blink bruin oë geskreef teen die son, oopmond vir haar uit die foto lag. ’n Replika van sy oorlede pa wat ewe breëbors langs hom staan, hul arms om mekaar en hul vreugde oor die nuwe vissersboot wat net daardie oggend aangekom het onmiskenbaar.

Hanko se kaneelbruin krulle wip in die wind wat daardie dag ook so getier het. Die lagkepies wat langs sy ooghoeke waaier, die kamma nonchalante houding wat sy plesier en afwagting nie regtig verbloem nie. ’n Seunskind wat ’n halfuur later woedend was omdat sy ma sy ongedane huiswerk voorgehou het as die rede waarom hy nie op die eerste vaart kon saamgaan nie. ’n Woede wat blykbaar permanent neerslag in hom gevind het.

Die amper-man, soms nog soveel seuntjie wat een oomblik steeds onder haar vlerk skuil en die volgende sy eie probeer sprei op ’n manier wat haar ademloos angstig laat. Haar kind wat deesdae die onbekende bekende is. Die seun wat sy amper agtien jaar gelede met soveel liefde die eerste keer in haar arms gehou het. Sy’t gedink sy kry ’n tweede . . .

Hokaai, moet sy haarself maan. Kom terug! Daar is net een plek vir die verlede en dit is . . . wel, in die verlede. Vandag het nie plek vir gister se sorge nie.

Nou dreig haar vandag en gisters om deurmekaar te loop, en die verlede is nie ’n veilige plek nie, ten minste nie vir haar nie.

“Dankie dat jy gebel het, meneer, ek sal die saak verder voer.” Sanita luister nog na die skoolhoof se somber stem, groet toe ook en sit die telefoon stadig neer op sy mikkie. Sy wikkel haar kakebeen teen die drukking wat ondanks die twee hoofpynpille al weer in haar kop aan die opbou is.

Dis amptelik. Haar kind het sy laaste waarskuwing weg. As hy sy streke nie nóú laat staan nie, kan hy uitgeskop word.

’n Steurende invloed in die klas, doen nie sy huiswerk nie, is bakleierig, parmantig teenoor onderwysers. Noem maar op. Waaroor was hy nog nie in die moeilikheid nie?

Die sydeur wat haar kantoor verbind met die deel van die gastehuis waar slegs die gesin en die personeellede kom, vlieg oop.

“En toe, wat sê jy noudat hy hier was?” Ingrid Wessels, Waaiwater se sjef en Sanita se beste vriendin, gooi omtrent haar lyf in die stoel voor die lessenaar neer. “Ek weet nou wat ek vir Krismis wil hê.” Haar arms swaai wyd asof sy die hele plek wil omhels.

“Ag, Ingrid, waarvan praat jy tog?”

“Jy weet,” sug sy soos een wat ’n groot las geduldig en gedienstig en gedwee moet dra, “jy maak my lam.” Sy skop haar plakkies uit en tien tone met rookblou naels maak hulle teen die lessenaar se rand tuis. “Ek sweer jy gaan met toe oë deur die lewe.” Die frons wat sy na Sanita draai, eis ’n reaksie.

“Wat het ek nou weer nie raakgesien nie?”

“Ek praat van die mooiste stuk mansmens wat in jarre hierdie ou plekkie van ons met sy teenwoordigheid vereer het.”

’n Vermoede sif oor Sanita soos die waaiwater teen hulle vensters, maar sy gaan nie vir Ingrid tou gee om haar te pootjie nie. “Watter een is dit nou? Die professor wat saam met die jong dingetjie opgedaag het? Of die surfer met sy sexy bruin lyf wat al die hele week net sy swembroek dra?”

“Tsk! Jy’s nou sommer lekker aspris.”

Sanita antwoord net met geligte wenkbroue.

“Jy weet goed ek praat van Develcor se grootbaas,” brom Ingrid. “Die een wat netnou met so ’n onbehoorlike spoed uit jou kantoor gestor . . . eh . . . gekom het.”

“Waar kom jy daaraan dat hy gestorm het?”

“Met my eige oge gesien, liefie. Die man het gelyk asof Hitler én die duiwel op sy spoor is.”

“Het jy gestaan en afloer?”

“Was daar dan iets om af te loer?”

Sanita frons woordeloos. Ingrid weet net so goed soos sy dat gaste se privaatheid baie hoog geag word.

“Oukei!” Ingrid hensop, die pleister aan haar linkerwysvinger ’n helder blou kol teen haar slanke wit hand. “Hy het my nie gesien nie, en ek het hom net op ’n afstand gesien. Ons het nog nie ontmoet nie, maar wat het jy aan hom gedoen dat hy so vinnig hier uit is?”

“Ingrid, die man het meer op sy selfoon gepraat as met my. Wat op aarde kon ek tog aan hom gedoen het?”

“Hoekom het hy dan gelyk asof hy ’n spook gesien het?”

“Hoe moet ek weet? Ek het hom ongelukkig bietjie laat wag en toe is hy haastig. Dalk was sy mond dik daaroor.” Presies. Hoe moet sy weet wat deesdae Fourie Burger se ratte laat draai? Of nie laat draai nie.

“’n Vrek mooi mond. ’n Vrou kan nie anders as om te wonder hoe dit sal voel as hy haar soen nie.”

Stilbly is soms die veiligste opsie. Ingrid kom nie uit ’n eier nie.

“Julle het dus nog nie gepraat nie? Ek bedoel, jy het nog nie jou sê kon sê nie?”

“Is tog wat ek sê.”

“Orraait!” Die pleister beduie weer. “Ek wou maar net weet.”

Sanita stoot die velle van ’n staat waarmee sy besig was op die lessenaarblad haaks, rangskik haar pen en ’n potlood netjies langs mekaar en druk die skuifspeld boaan ’n ander klomp state ook mooi reguit. Sy vou haar hande in mekaar en fokus op die bos blomme. “En hy is jou Krismiswens?”

Ingrid se voete glip grond toe. Sy leun vorentoe, oë geskreef, haar neus in die lug asof sy ’n bloedhond op ’n spoor is. “Wat het ek misgeloop?”

“Jy praat vanoggend in raaisels.” Arms gekruis, leun Sanita agteroor en kyk haar vriendin dié keer reguit in die oë. Dis baie veiliger. “Waarom sou jy iets misgeloop het?”

“Omdat ek jou gans te goed ken. Jy steek iets weg.”

Dit is seker so, ja. Toe sy destyds met haar flenter selwers hier op Keurbaai opgedaag het, was hierdie vrou, met haar ontembare bos rooi krulle, groen oë en ruim hart, die lewensredder wat oor haar pad gekom het. In tipiese Ingrid-styl het sy die brandmaer, bleek en menssku meisiekind onder haar vlerk geneem, en deur die jare is ’n vriendskap stewig vasgemessel.

“Wat sou ek nou wegsteek, Ienks?”

Die blou toonnaels buig weer oor die lessenaar se rand toe sy terugsit. “Oukei, gooi maar jou draaie, maar jy behoort my beter te ken. Uitvind sal ek uitvind.”

“Wat?” Hoe lank sy al vir haar liewe vriendin lieg? Of dalk nou darem nie prontuit leuens vertel nie, net sekere goed geheim hou tot sy die enigste lewende wese is wat weet. Goed, miskien nie werklik die enigste nie, maar dit kan netsowel wees.

Wat sal gebeur as Ingrid moet uitvind dat die eerste lae van hul vriendskap nie regtig so stewig lê soos sy dink nie? Tot vandag glo sy dat siekte die rede was waarom Sanita graad elf nie in Pretoria kon voltooi nie en die jaar hier moes kom oordoen . . . waarom sy bleek en uitgeteer op Keurbaai aangekom het.

Ingrid slof haar plakkies aan en kom orent. “Laat ek loop werk. My baas is die ene dorings vandag. Netnou kry ek die trekpas.”

“Wat het jy nou eintlik kom doen?”

“Ag, oe, dankie tog!” Sy klap ’n handpalm teen haar voorkop. “Ook maar goed jy is die een met die brein. Daar is al weer salm en kaviaar weg. Ek het die hele kombuis aan die soek. Dis nou nadat ek hulle ore warm gesê het omdat hulle blykbaar met toe oë deur die lewe gaan. Dis die derde keer. Vertel vir my hoe is dit moontlik dat niemand ooit iets sien nie? Toe dreig ek sommer ook dat ek honderd rand aftrek van elkeen se salaris as die goed nie uitkom nie.”

“Ag, nee tog. Maar as dit nie een van die personeellede is nie, en daar is sowaar nie een na wie ek ’n vinger kan wys nie, dan weet ek nie. Waar begin mens soek?”

Ingrid frons. “Vertel my maar, as jy weet.” Sy streep nadenkend ’n denkbeeldige stoffie van die lessenaar af. “Dalk is deel van die probleem dat die koelkamer se deur so om die draai sit. Dis nie so moeilik om ongesiens in en uit te glip nie.”

Sy stof haar fyn vingers teen mekaar af. “Ek het my al suf gedink en stem saam, ons personeel is betroubaar.” Sy haak haar vingers in haar jeans se agtersakke. “So kom gooi tog olie op die stormwaters voor hulle muit en jou gaste nie vanaand kos kry nie.”

Sanita stap vooruit met ’n ongeruste hart, maar ’n onwillekeurige glimlag. Haar allerliefste vriendin is ’n uiters begaafde sjef, wat ook ’n suksesvolle aanlyn-kookskool bedryf, maar haar humeur en haar rooi kop pas bymekaar. Dit verg soms mooi draaie loop om die vrede in die kombuis te bewaar.

Sanita stoot haar kamer se stoepdeure wyd oop en asem die koeler seelug diep in. Die wind het uiteindelik gaan lê, en net ’n seebries roer sag. Sy stap uit op die breë dek, na genoeg aan die buiterand van die dak om te sien hoe die sterre oogknippend in die naghemel wink, maar nie so ver dat die outomatiese veiligheidsligte sal aangaan nie.

Die sagte kussings van ’n diep dekstoel omhels haar tam liggaam toe sy gaan sit, met ’n sug ontspan en diep asemhaal. As sy nou net die vrede van die nag saam met die koeler lug in haar longe kon intrek.

Êrens onder die houtsparre van die dek sit ’n kriek ’n serenade in, en oomblikke later antwoord ’n hele koor doer van die duine se kant af. ’n Rondloperkat beland op die sydek se voorpunt, net daar waar die trappe af strand toe begin. Die ligte flits aan. “Sie jy!” sis sy met wapperende hande. Hy skiet met ’n verskrikte miaau weg. Sy het geen begeerte om in die kring van die lig te wees nie.

Vandat Fourie vanoggend sy hand uitgesteek het om te groet, voel sy asof sy onder ’n vergrootglas is, en iemand enige oomblik gaan sê: “Aha, daar is sy!” Die vrou wat die wêreld so lekker ’n rat voor die oë kan draai.

Toe die ligte weer afskakel, ontspan sy, maar die hoop op innerlike vrede is saam met die kat die donker in. Haar gedagtes pyl soos ’n geleide missiel na Hanko.

Dis nou amper halfeen en net die genadige Vader weet waar haar kind is nadat hy vroegmiddag al op sy motorfiets hier weg is. Sy leun agteroor, hande op die armleunings, skrynerige oë op die donker oor die see gerig.

Dinge het presies ’n jaar na Markus se dood begin uitrafel. Haar kind se seer oor sy pa se ontydige dood sit blykbaar nog baie vlak. Sanita wikkel die rekkie van haar vlegsel af, vroetel die dik string los en waaier haar hare oor haar skouers. Sy ma se onvermoë om hom te help voel soos ’n splinter in ’n oop wond. Sy weet nie hoe ’n mens dit verwyder sonder om net meer seer te veroorsaak nie.

Markus het daardie middag vir die eerste keer op die nuutste toevoeging tot sy uitbreiende vissersvloot uitgegaan, maar wat veronderstel was om net ’n vinnige toetsvaart te wees, het in ’n tragedie geëindig. Hy was ’n ervare seeman en het gedink hulle sal terug wees lank voor ’n voorspelde storm die kus bereik, maar hy het hom misgis met die onvoorspelbaarheid van die Kaapse weer. Die storm het ure vroeër opgedaag as wat oorspronklik verwag is. Die splinternuwe enjin het onklaar geraak. In ’n poging om ’n man te help wat seergekry het, het Markus oorboord geval. Sy liggaam het twee dae later verder teen die kus af uitgespoel.

Sanita leun moeg agteroor. Haar gedagtes kuier nou eenmaal in die verlede, laat sy dan maar daar bly. Sy was skaars uit matriek toe sy met die jong prokureur by wie sy begin werk het, getroud is. Sy het gedink hy sal die gat in haar kan opvul deur vir haar ’n kind te gee. Toe het sy tog lief geword vir die stil man met die sagte hart wat so hard probeer het om háár stukkende hart te help heelmaak.

Hanko was van dag een af sy pa se kind en het die grond aanbid waarop Markus getrap het. Van kleins af wou hy ’n marinebioloog word sodat hy die see, waarvoor sy pa so lief was, kon help bewaar. Sedert die ongeluk het hy dit nog nie weer op die see gewaag nie. Hy praat nie oor Markus nie. Wanneer sy dit doen, stap hy uit die gesprek weg.

Hy haat die see, sê hy.

Die visservloot het sy noodgedwonge verkoop, maar in haar kind se oë was ook dít die verkeerde ding om te doen. Hoe durf sy wat sy pa opgebou en liefgehad het vir ander gee? Dat dit vir haar onmoontlik is om dit te bestuur, het hy met ’n skouerophaling afgemaak. Sy kon altyd iemand gekry het om dit te doen.

Hoe meer sy uit haar eie pyn probeer klim het om hom te help, hoe meer het sý die vyand geword.

’n Hond blaf in die verte. Sanita kom stram orent en wonder of amper sewe-en-dertig as oud beskou kan word. Sy voel klaar oud. Die klamte trek nou al in haar gebeente in.

Sy sluit alles en gaan haal ’n glas water en ’n slaappil.

Dis tyd om tot ruste te kom, al is dit met ’n bietjie chemiese hulp. Hierdie dag het genoeg aan sy eie kwaad gehad. Môre gaan begin met ’n nuwe drag.

Sy was vroeër vanaand in die portaal toe Develcor se mense net ná nege ingestap het. Nou het sy môre op haar nugter maag daardie afspraak rondom die ontbyttafel met die manne met die planne.

Fourie stoot die kat, wat teen sy kaal tone probeer flikflooi, eenkant toe en ontspan eers werklik toe die veiligheidshekke en daarna die deur agter Sanita toegaan. Hy strek sy been om die begin van ’n kramp teen te werk.

Hy sit al hoe lank hier teen die laagte neffens die plankpaadjie af strand toe, te bang om te beweeg. Hoe sy hom misgekyk het terwyl die lig aan was, weet hy nie.

Ondanks die lugreëling in sy kamer op die boonste verdieping, het dit gevoel die mure gaan enige oomblik nader skuif en op hom val. Toe vlug hy die laataandkoelte in, maar steeds voel hy vasgekeer. Dis nie so maklik om ’n mens se gedagtes te ontsnap nie.

Hy beskou homself as ’n gebalanseerde, logies denkende man. Een met sy emosies goed onder beheer soos sy pa, ’n dokter, en sy ma, die wiskundeprofessor, hom geleer het. Lesse wat hom goed te staan gekom het gedurende sy kort huwelik en die opbou van sy loopbaan en onderneming. Maar nou lyk dit asof hy alles vergeet het.

Sanita Els, ofte wel Joubert dan, is die enigste vrou wat hom al ooit die kluts laat kwytraak het, en dit blykbaar steeds kan regkry.

Hy stroop ’n hand oor sy hare, en seesand sif oor hom. Hy proes ergerlik en vee sy hand eers teen sy hemp skoon voor hy die sand van sy gesig af probeer kry.

Die verliefde tiener van destyds kon seker nog verskoon word dat hy katswink geslaan was, maar die man nou meer as twintig jaar later? Hy het tog geweet hy gaan haar hier kry. Meer as die helfte van hulle leeftyd het intussen verbygegaan. Baie water het in die see geloop. Heelwat daarvan was bitter. Nou reageer hy só op die weersiens.

Het hy dan nie die dinge van ’n kind agtergelaat nie? Want dis tog wat hulle was. Kinders. Hy stof sandkorrels van sy lippe en tong af. Wat was nou eintlik tussen hulle? ’n Romanse tussen tieners van ’n paar maande lank, wat seker gaan draai het waar dit nie moes nie, maar . . .

Dis daardie “maar” wat hom opnuut ry. Van die oomblik af dat hy besef het aan wie Waaiwater behoort, word hy gekonfronteer met emosies wat hy as infantiel beskou. Emosies wat by die verliefde tiener sou pas. Nie by ’n man wat amper op die drumpel van veertig is nie. Een met merke aan sy psige van die klappe wat die lewe al na sy kant toe uitgedeel het.

Sy was hom te wagte, dis duidelik, maar of hy welkom is . . . Hy sug onwillekeurig. Miskien moet hy eerder vra: waar kom die gevoel vandaan dat hy nie welkom in haar gastehuis is nie? Waarom die vyandigheid? Sý is die een wat net tussen neus en vinger verdwyn het, en hy die een wat agtergebly het.

Is dit net omdat sy dalk voel dat haar plek bedreig word, of is daar iets meer?

Wat van die vermoede wat hom deur die jare gery het? ’n Vermoede wat die verskrikte tiener met niemand kon deel nie, maar dom was hy ook nie. Sy pa was ’n dokter, sy ma ’n baie suspisieuse vrou.

Sanita het destyds letterlik oornag, en sonder ’n enkele woord, soos ’n miswolkie voor die hittige Hoëveldson verdwyn. Die Vrydagoggend het sy nie lekker gevoel nie en het die onderwyser haar huis toe gestuur. Die middag het hy rugby gespeel. Sy was nie soos gewoonlik langs die veld nie. Ook nie by die huis toe hy ná die wedstryd, ore in die nek, soontoe is nie.

Nee, het haar pa gemompel terwyl hy teen die kosyn geleun het, hy weet nie waar Sanita is nie. Selfone was toe nog ’n rariteit en sy ouers het reeds op hete kole by die huis gewag. Vriende het vir hulle ’n blitsbesoek by ’n privaat wildtuin gereël. Vriende met ’n dogter in wie sy ouers meer sin gehad het as in Kobus Els s’n.

’n Meisie met wie hy toe baie jare later getroud is.

Die betrokke naweek was ’n uitgerekte hel waartydens hy hom meer as een keer sy ouers se gramskap op die hals gehaal het. Sondagaand was die Else nie meer by hulle huis nie. ’n Week later het iemand die huisraad op ’n lorrie kom laai. Dit was al. Sy was net eenvoudig weg.

Daar is gegis en bespiegel, maar niemand het werklik geweet wat regtig waar is nie. Seker maar iets met ou Kobus se probleem te doen, is uiteindelik besluit. Almal kon tog sien hy kon nie so aangaan nie. Daardie arme meisiekind van hom moes op haar eentjie grootword.

En toe het die lewe eenvoudig voortgegaan.

Die res van die wêreld s’n miskien. Syne het uitmekaar geval – tot sy ouers voet neergesit het. Hy los hierdie nonsies oor Kobus Els se meisiekind en kry sy akademie en sport weer op standaard, of hy kan voortgaan om sy lewe op te mors. Dít sou net sonder enige steun van hulle kant, en ook nie onder hulle dak wees nie.

O, hy hét na haar gesoek. Vrae gevra, byna ’n pes van homself by die bure gemaak, maar sonder resultate. Ja, Kobus Els het glo ’n suster in die Kaap, maar nee, hulle weet nie waar sy bly nie. Hy het nie ’n adres gelos waarheen pos gestuur kan word nie; hy moes sy kontakinligting by die poskantoor self verander het. Die poskantoor beskou sulke inligting as vertroulik.

Sy hart was nie net stukkend nie, hy was woedend. Hoe kón sy? Waar was haar beloftes dat sy altyd en altyd vir hom lief sou bly?

Hy weet steeds nie of hy haar moet soen, of haar nek moet omdraai nie.

Die wind stoot al sterker vanaf die see se kant en water sproei fyntjies oor hom toe ’n brander met groot lawaai oor die rotse breek. Die gety kom seker in.

Natuurlik het hy op die webblad gelees waar die naam Waaiwater vandaan kom. Sy vraag was net ’n poging om sy lam brein aan die gang te kry, anders het hy iets doms gesê. Of gedoen.

Dis ’n ontnugtering om te besef hoeveel mag sy nog oor hom het. Nee, dis ’n skok. Soos toe hy die eerste keer gesien het wie die eienares is van die plek waar Yvette nou ten ene male móés tuisgaan, en hy nie beswaar kon maak nie. Daarvoor is die Kanadees, met haar donker hare, veels te fyn op sy buie ingestel.

Fourie druk teen die plankpaadjie en kom orent. Hy het ’n duisend vrae. Hy het jare lank al ’n duisend vrae. By tye kon hy hulle bêre. Ander kere het hulle sy binneste hol gery, maar voor hy hierdie plek aan die einde van volgende week verlaat, gaan Sanita Els hulle beantwoord.

Sy kan dalk nou mevrou Joubert wees, maar dis nie van haar wat hy antwoorde soek nie. Hy soek hulle van die sestienjarige wat sy hart langs ’n atletiekbaan vasgevat en nie weer gelos het nie.

Reënboog in die sand

Подняться наверх