Читать книгу Nina en die wacky hare - Elizbè van der Colff - Страница 5
2
ОглавлениеDie pet en die spieël
Twee blou oë loer terug na haar vanuit die spieël. Alles is nog presies dieselfde! Teleurgesteld draai sy na Jessie: “Niks gebeur nie!”
“Wag, miskien moet jy die pet in plaas van die mus ophê.” Vinnig pluk sy Nina se mus af en plak die swart-en-rooi pet bo-op Nina se kop.
Skielik voel Nina vreemde sensasies. Dit voel asof ’n magneet haar binne-in die spieël intrek. Sy hoor ’n suisgeluid en ’n ligte windjie kielie haar vel. Sy ruik iets tussen vanielje en aarbeie en dan voel dit asof sy in deurskynende jellie beweeg.
“Heeeelp!” gil sy beangs, maar geen geluid kom by haar mond uit nie. Aan die ander kant van die jellie is die lig verblindend helder. Sy knyp haar oë toe. Sy is bo-op iets, iets wat taamlik vinnig beweeg. Woep-woep-woep word sy heen en weer geskud. Nina probeer vasklou aan enigiets, maar vind dat sy nie kan beweeg nie.
Kalmeer, Nina, kalmeer! Sy haal diep asem en besef dat, ten spyte van die woeste rit, sy nie afval of seerkry nie. Eintlik begin sy dit nogal geniet. Sy maak haar oë oop. Vir die eerste keer neem sy waar wat om haar aangaan.
Wat? Verbaas kyk sy af. Sy sien twee rooi vlegsels onder haar afhang en ’n paar sproete op ’n neusbrug op ’n onderstebo gesig. Alles lyk groter as gewoonlik. Verder ondertoe sien sy hul skool se groen sporthemp en blou rompie. Sy sien ook twee hardlopende bene met hul skool se donkerblou hokkiesokkies en hokkiestewels aan. ’n Wit bal word vinnig en behendig met ’n hokkiestok oor die gras gestoot, en met ’n laaste knalskoot kletter dit agter in die doelhok. Prrrt! blaas ’n fluitjie skril.
Sy is sowaar op iemand se kop.
“Mooi, Susan!” hoor Nina iemand roep. Susan? Natuurlik, dis Susan de Wet! Sy is ’n pet op Susan de Wet se kop! En dis hoekom alles vir haar groter lyk. Alles is nie groter nie, dis sy, Nina, wat kleiner is!
Vanwaar Nina bo-op Susan se kop sit, kan sy nou mooi sien wat om haar aangaan. Susan is in graad 7 in Laerskool Tierkop. Sy is die spankaptein van die onder-13A’s. Sy sien die onder-13’s speel teen ’n vreemde span met wit, blou en geel hokkieklere aan.
“Eina! Vervlaks!” roep Susan terwyl Nina voel hoe haar tande klap soos wat Susan val en oor die gras seil. Nina sien hoe ’n meisie van die ander span vinnig met ’n grynslag weghardloop. Sies, sy het sowaar vir Susan gepootjie!
Terwyl Susan terughardloop na haar plek, sien sy Susan se groot gesproete hand nader kom om haar haarlyn onder Nina, wat nou die pet is, te krap. Verbaas loer Nina na die plek waar Susan pas gekrap het. Sy sien ’n paar bloederige kolletjies op Susan se kopvel. Sy sien ook ’n paar klein balletjies wat aan die hare vassit. Dit lyk soos klein pêreltjies.
Dan voel Nina hoe haar nekhare rys. Sy sien twee verdagte bruin grillerige goeters wat vinnig tussen Susan se roesrooi hare skarrel! Nina skrik haar boeglam! Gewoonlik is sy maar skrikkerig vir enigiets wat meer as vier pote het. Dis goggas! En hulle lyk yslik groot, amper so groot soos die kakkerlakke wat hulle verlede week by die skool se drein gesien het! Sy ril toe sy die kriewelrige pote sien. Grrr! Nina knyp maar liewers haar oë toe. Dalk, net dalk as sy hulle nie sien nie, sal hulle haar ook nie sien nie. Niks gebeur egter nie. Sy maak stadig haar oë weer oop. Dit lyk nie asof die goggas hulle aan haar steur nie. Dan skarrel hulle weer weg en verdwyn tussen Susan se hare. Kakkerlakke in hare?
Die volgende oomblik voel dit weer vir Nina asof sy sweef. Sjoe, gelukkig! Weer deur die deurskynende jellie, die reuk van vanielje en aarbeie, dieselfde suisgeluid en ligte windjie. Wanneer sy haar oë verdwaas oopmaak, kyk sy vas in Jessie se bekommerde bruin oë. Die pet hou sy in haar hande vas. Dankie tog! Sy is weer veilig, weg van daardie nare gediertes!
“Sjoe, Nina, ek sien wat jy bedoel. Jy het presies soos my Barbiepop gelyk – jy het net nie geglimlag nie! Jy wou nie boe of ba sê nie, selfs nie toe ek jou knyp nie,” babbel Jessie.
Nog steeds ietwat deur die blare, sê Nina: “Dit was seker die vreemdste ervaring wat ek nog ooit gehad het. En jy’s reg, ek sou jou nooit ooit geglo het nie. Grrr, daar was aaklige goggas … was jy ook op Susan de Wet se kop?”
“Susan de Wet? Gits, nee,” sê Jessie. “Ek was op Cornè Gouws s’n,” giggel sy. “Op die krieketveld, besig met ’n wedstryd. Hy het sommer ’n ses geslaan. En jig! Daar was goggas op sy kop!” lag Jessie. “Was daar goggas op Susan se kop ook?” Jessie was nog altyd dapperder as Nina, veral as dit by goggas kom.
“Ja, kakkerlakke!” sê Nina met groot oë.
“Kakkerlakke? Nee, man, dit was nie kakkerlakke nie.”
“O, nou wat dan?” vra Nina.
“Watse goggas woon in hare, Nina?” Jessie klink soos ’n skooljuffrou.
“Uhm …” dan onthou Nina. “Kopluise! Natuurlik! Nou toe nou, wie sou dit nou kon raai! Susan en Cornè het kopluise!” Almal behandel altyd vir Cornè en Susan met respek aangesien hulle so talentvol en sportief is. Boonop is Cornè die hoofseun. Jy sukkel ook nie sommer met Susan nie – sy kan jou sommer maklik ’n taai klap gee.
“Nina, dalk moet ons bietjie verder ondersoek instel. Jy weet, uitvind of daar nog kinders is wat dit het.” Jessie se oë glinster.
Nina en Jessie kyk na die spieël, dan na die pet en daarna na mekaar. Hulle begin giggel.
“Jy eerste!” sê Nina. Sy is maar steeds skrikkerig vir daardie kriewelrige gediertes.