Читать книгу Elke vrou vir haarself - Elize Parker - Страница 6
3
ОглавлениеNadat die hotelchauffeur hulle tasse op die Bredasdorp-bus gelaai het, sê Nelia vies: “Emmie kon hom net sowel gestuur het om ons by die huis af te laai. Dis net ’n drie uur lange reis.”
“Die barmhartige Emmie het ons aangestel om in haar hotel te werk. Wat wil jy meer hê?” Adri draai haar rug op Nelia en bestyg die bus.
“Hoekom het Emmie en Solly nooit kinders gehad nie?” vra Adri toe die bus reeds goed op pad is.
Nelia sluk swaar. Waar was Adri al die jare? “Ma het eenkeer iets van ’n erfsiekte van Solly se familie gesê. Maar vergeet van Emmie. Jy is heeltemal te veel met haar gepla.” Nelia is bly hulle is nie meer in die vernederende posisie om by Emmie vir ’n pos te pleit nie. Hulle is al twee reeds aangestel. Dankie tog! Hierna kan hulle haar soos die pes vermy, alhoewel ’n betrekking in die Woltemade onder Emmie se arendsoë die enigste rede is dat Hettie hulle in Kaapstad sal laat bly. “Emmie maak ’n fout as sy dink ek gaan lank ’n junior in die hotel se agterste kantore bly.”
Nelia weet sy klink nie meer so teruggetrokke soos Adri haar ken nie. Die vooruitsig om in Kaapstad te werk, het haar oornag verander. Eintlik het dit ’n proses voortgesit wat begin het toe sy universiteit toe is. Haar eerste studiejaar was haar finale breuk met haar ma. Hulle kon daarna nog minder as tevore klaarkom. Sy onthou goed hoe woedend Hettie was toe sy verkies het om nie verpleging te studeer nie. Deur Hettie se ou beroepsveld te verwerp, het sy gedink sy verwerp haar. Dieselfde het met Adri gebeur toe sy kuns gaan studeer het … met die verskil dat Pa Stefan soos gewoonlik aan haar kant was. Nou na sy dood is dit ’n ander storie.
Hettie wil hulle in ’n rigting dwing.
Maar sy kan vergeet daarvan. Vroeër sou meisies soos hulle met hubare mans trou om onder hulle ma’s se invloed uit te kom. Deesdae kan hulle gelukkig gaan werk. Nelia is egter bekommerd oor Adri se toekoms. Sy sal maklik ’n man as ’n buffer tussen haar en haar ma gebruik en om die verkeerde redes trou. Sy het byna op agtien met haar eerste skoolliefde getrou, maar gelukkig het die Weermag hom opgeroep.
“Wel, dan moet jy Hotelskool toe gaan in die aande. Richard sê dié kwalifikasie tel baie in die hotelbedryf,” onderbreek Adri haar gedagtes.
“Richard is bloot Emmie Berger se betaalde vloermat. Wat weet hy? Toe ek sewe jaar gelede by Emmie-hulle gekuier het, was hy ’n junior bestuurdertjie. Nou is hy skielik assistentbestuurder.” Nelia maak haar oë toe en lê met ’n frons agteroor. Sy wil liewers nie aan haar destydse Kaapse besoek dink nie.
Nie lank nie of die bus stop op Bredasdorp voor ’n deftige Victoriaanse huis uit ’n vergange era. Adri en Nelia klim af. Na ’n kort weifeling stap hulle met die reguit paadjie deur die formele roostuin na die voordeur. Nelia kyk gespanne na die vensters. Sy is seker Hettie staan vir hulle en kyk.
Op die stoep aangekom, laat sy die swaar koperklopper ’n paar keer val. Hettie het nog nooit daaraan gedink om vir hulle voordeursleutels te gee nie.
Vinnige voetstappe klink op uit die diep koeltes van die houtgange. Hettie frons toe sy die deur oopmaak. “Hoekom bly julle toe langer?” trap sy hulle uit.
Nelia antwoord haar nie en stap stil verby na haar kamer, maar draai om toe voetstappe uit die agtertuin opklink.
’n Sesjarige lyfie bons oor die gangdrumpel. Carine stop in haar voetspore toe sy Hettie sien. Die donkerkoppie trek haar pop nader aan haar lyfie en sy glimlag met onderdrukte vreugde. Sy stap bedaard vorentoe en gee Adri en Nelia elk ’n soen.
“Gaan speel maar weer, Carine! Ek wil alleen met Nelia en Adri praat!” Hettie wys met ’n gebiedende vinger na die agterdeur. Carine kyk af na die houtvloer. Hierdie gang is ’n tonnel na drama. Wanneer Nelia en Adri tuis is, vind al die bakleiery in dié nou, donker plek plaas. Sy lig haar oë paniekerig op. “Het ek iets verkeerd gedoen?”
Adri gee Hettie ’n verwytende kyk, neem Carine se hand en lei haar na buite.
“Wat is dit, Ma?” vra Nelia met haar hande op haar heupe. Hettie het skielik niks te sê nie. Sy bly bloot voor Nelia se kamerdeur staan. Daar is ’n nuwe gaping tussen hulle, voel Nelia aan. Vir die eerste keer het sy effens mag oor haar ma. Dit het sekerlik met haar nuwe onafhanklikheid te make. Tot in ’n sekere stadium van haar lewe het sy alles gedoen om haar ma te beïndruk. Toe het sy besef dit maak nie saak hoe lank en hoe hard sy daaraan werk nie, by Hettie gaan sy nie liefde kry nie. Daar sal altyd konflik tussen hulle wees.
Vandag moet haar ma besluit of sy ’n nuwe verhouding op ’n basis van groter gelykheid wil aanvaar of nie. ’n Verwarrende keuse vir iemand wat te veel op haar familie vir haar identiteit staatgemaak het.
“Eendag is eendag dat ek my mond gaan verbypraat …” snou Hettie haar toe.
Nelia klap haar kamerdeur in Hettie se gesig toe sodat die gekleurde loodglasruitjies in die voordeurrame rinkel. Sy kyk na die skemerige kamer asof dit ’n put is waarin sy ingetrek word.
Haar ma het die kuns verfyn om die verlede te manipuleer. Watter geheime bly vir ewig verborge? wonder Nelia. Sy maak die gordyne voor haar oop: haar susters sit in wit rokke op ’n houtbank onder ’n wilgerboom met die Overberg-heuwels vaalblou op die agtergrond. Carine is nog steeds ’n plomp, pienk engeltjie met swart wegwaaikrulle en diep kuiltjies in haar wange. Watter soort vrou gaan sy eendag wees? wonder Nelia. Sy is ’n praktiese, netjiese dogtertjie met ’n vrolike geaardheid, net jammer dat sy so alleen grootword. Daar is nie ’n nou band tussen haar en Carine nie, weet Nelia. Sou dit wees omdat die ouderdomsverskil so groot is?
Carine en Adri se ligte stemme dryf op die warm aandlug. “Gaan jy lank weg?” vra Carine.
“Nogals, ja, maar jy sal ons nog baie sien. Ons sal dikwels kom kuier en jy kan in die Kaap vir ons kom kuier.”
Carine se skouertjies sak. Sy kry nie gepraat nie en spring op om op die swaai te gaan sit. Adri gaan stoot haar. Nelia kyk afgetrokke na haar susters en weet sy het reeds van hierdie huis en sy mense afskeid geneem die dag toe haar pa dood is.
Sy het vir oulaas gehoop dit kan anders wees tussen haar en Hettie. Sy moes geweet het sy hoop tevergeefs. Sy sak moeg op haar bed neer, haar kamer oorbekend en eensaam.