Читать книгу Spertyd - Elsa Joubert - Страница 4

1

Оглавление

DOODLOOPSTRAAT

Hulle sê jy sak terug na jou wortels wanneer die winde van tyd jou liggaam en jou gees begin skeeftrek. Die vernouing wat tyd bring. Die verminderde beweeglikheid. Verstarring van die gees. Die aflê van die ou, vertroude norme. Byna sê ek die aflê van drome.

Op ’n fisieke vlak: die beperkings aan beweging wat chronies foutiewe ledemate jou bring. Om ’n onbekende paadjie te stap is moedswillig. ’n Stoel in ’n vreemde se sitkamer is ’n konfrontasie. ’n Rit in ’n vreemdeling se motor is ’n drama. ’n Afdraai van die teerpad op ’n sinkplaatpad is ’n katastrofe. Self bestuur, ’n eie motor, is ’n herinnering wat al lank agter die kim weggesak het. En die siddering, die vibrasie wat die vliegtuig in versnellingsrat op jou ganse gebeente afstuur, is nie meer vir my nie. My laaste rit van Johannesburg na Kaapstad het ek heelpad staande oorleef.

Al pad wat met minimum angs aangepak kan word, is die pad na die verlede.

Ek het al twee keer dié pad gevat, maar daar lê nog baie.

Die arme ou Pêrel, weer ’n keer.

Nee. Nie die “arme ou” Pêrel nie. Geboortedorp. Dorp wat in skelheid en grootte en detail en kleur en emosionele houvas elke stad waar ek later gebly het, in my herinnering troef en soos ’n fungus aan die hele doek van my geheue klou. My ma het sewe-en-neëntig jaar oud geword. In die Pêrel. Byna ’n eeu se verbintenis. Noudat al die baie ander stede wat ek leer ken het – in Afrika, Europa, die Amerikas, die Nabye en Verre Ooste – in die geheue begin verlep, begin die Pêrel soos ’n dier wat gehiberneer het, wakker word en oorneem.

Groen stokkie met die dun, klam, wit wondjie waar die takkie afgeskeur is van die bas; nat, swart grond waardeur die stokkie grou; klein, donker watertjie wat in die gaatjie grond begin blink. Stert op die grond, koue wat deur die nat broek klim, arms wat optel en wegneem, “hou op so mors”. Maar die water wat uit die moddergaatjie opwel, dít vergeet ’n mens nooit.

Lenie op die treetjies van haar kamer in die winterson, al winterson wat die groot, hoekige huis ooit kry, haar hare aan die uitborsel. Dat die hare, soos wat ek dit vandag leer noem, in ’n Afro om haar kop uitstaan. Maar in haar doodkis, in die sitkamer van die niggie se huis op die Rug, waarheen hulle in die vyftigerjare verskuif is, het sy so klein en veraf op die wit satyn gelê, soos ’n besoekstertjie uit ’n ander, veraf wêreld, dat ek nie wou glo dis sy nie … Die haartjies plat soos ’n kappie om haar kop. Die witgewerkte hande op die bors. Hoe het ek altyd geskrik as ek die binnekant van ons bediendes se hande sien, die ingange tot ’n wêreld wat skielik voor my opdoem, verskriklik, angswekkend, ’n wêreld waarin ek skielik halsoorkop ingedompel word, ’n wêreld waarin alles wat is, nie meer is nie. Ek skree. My ma kom sleep my weg. Wat soek jy altyd in die bediende se kamer? Lenie, jy moenie lat sy jou so kom pla nie. Sy pla my nie, missies.

Die wit binnekante van bruin mense se hande.

Daar was vier lotte draers vir haar kis. Om die beurt. Eers van die sitkamer die huis uit na die lykswa wat wag. Toe is dit ander hande wat die blink handvatsels, nog warm van die vorige draers, raakvat en die kis so ’n bietjie stamperig uit die lykswa trek en tot by die begraafplaashek dra. Weer het hande oorgevat waar die rou paadjie uitswenk, en dis hulle wat die kis stadig en met sorg geplaas het op die groen bande wat na die ewigheid lei. Hulle het toe teruggestaan, hoed in die hand, kop geboë, kleingeboude mans met fyn gelaatstrekke.

H.W. Morton het in sy reisboek In Search of South Africa geskryf: In the streets of Paarl you see many men with French faces, though they don’t speak French. They are dark of skin, slightly built. Ons het gedink hy praat van mense soos my pa, maar nou weet ek dis ook hulle, die bruin mense, ook afstammelinge van die Franse Hugenote, van wie hy gepraat het. En ons het dit destyds nooit raakgesien nie.

Ons sing “Veilig in Jesus’ armen, sag aan sy hart gedruk …” Waar kom my trane vandaan? Hulle loop oor my wange. Die klein gesig en die stokou liggaampie sak af, die kis word toegegooi. Ek voel weer die vrees wat my beetgepak het toe ek ’n kind van agt was: Is dit nodig dat al daardie swaar, klam, rooi grond so onverbiddelik op haar neergestort word? Hier op die bult sal daar nie hiënas wees om haar uit te grawe nie. Ek weet daardie swaar, klam grond, swart kleigrond van die vallei, gaan op my ook neergestort word. Ek het dit geweet vandat ek agt jaar oud was. Miskien is my trane nie vir Lenie nie.

* * *

My aftreeoord is ’n rooibaksteengebou van vyf verdiepings hoog. Voor langs die ingang is ’n ry garages, en agter die garages, maar op ’n laer vlak, nog meer garages. Want ons almal kom hierheen, blymoedig, met ons motorkarre.

Ons woon in woonstelle van verskillende groottes wat wes kyk na Leeukop se kant, of oos na die hospitaal en na Tafelberg. Ons woon in ’n kloof, sommer hier naby die middestad, met ’n waterstroompie wat deur ons tuin loop. Hoe hoër die woonstel, hoe mooier die uitsigte. Ek het ’n tweede, kleiner woonstel, net oorkant die gang van die eerste, bygekoop om as studeerkamer in te rig – dus het ek die verruklike uitsigte sowel na wes as na oos.

Van ons voorhek is dit net oor Hofstraat, deur die hospitaalterrein, dan oor Moltenostraat en ons is in De Waalpark. Ek gaan stap talle kere op ’n dag in die park, alleen, op enige uur. Totdat ek ’n hou oor die kop kry en platgestamp en beroof word van ’n goue kettinkie wat ek op die ou mark in Istanboel gekoop het. Die Turk het agter my gestaan, die kettinkie om my nek gehang en dit afgemeet soos ek gesê het, bietjie korter, bietjie langer, om die plooi in my nek weg te steek. Die twee ekstra lussies het hy afgeknip en tot my verbasing afgeweeg en die goud van die prys afgetrek. Ek was lief vir die kettinkie. Ek sien die vier mans, jonk nog, voor my, twee aan elke kant van die pad, ek sien hulle nader kom, saamtrek om my, stokkies in die mond, ek het gedink aan Anna op die Rondebosch-meent, hoe sy gesê het toe hulle om haar saamtrek: “I am old enough to be your grandmother …” Ek begin iets mompel van “grandmother” toe die een so naby druk dat ek sy asem voel, “fuck the grandmother,” sê hy en hy gee my so ’n hou dat ek platval, my heup in die slootjie, my skouer hard in die droë gras, sy hand is by my nek, sy kop teen my, ek moet die hand byt, dink ek, maar vaderdank ek doen dit nie, dan het hy sekerlik my kop ingeskop, sy vingers is aan die soek in my nek en ek voel hoe die kettinkie breek. Hy’s op en weg en al vier verdwyn soos blits deur die groot hek aan Moltenoweg. Ek beweeg my ledemate stadig, voel niks is gebreek nie. Ek staan in fases op, ek sien die nannies en die kindertjies speel nog steeds by die swaaie – het hulle niks bemerk nie, of anderpad gekyk? Ek stof die blare en droë gras van my klere af, begin stadig loop, oor die twee besige strate. En probeer by my gebou insluip, met die voorste hysbak opgaan, sal niemand vertel nie, anders sal daar ’n bohaai wees. Almal sal sê: Sy wil mos loop. In my kamer drink ek suikerwater. My skoondogter, Michelle, neem my die volgende dag na die polisiekantoor om die saak aan te meld, maar niks gebeur nie.

Selfs daarna het ek nie na die vermanings geluister nie en steeds alleen in die park gaan stap, maar op ’n bepaalde tyd wanneer daar baie mense is. En ek het geluister na die ander vrouens se stories dat jou vingers afgebyt word om die ringe te kan bykom. Toe het ek maar my ringe – verloof- en trouring – afgehaal en in ’n dosie gesit, waaruit dit tog ook maar gesteel is. Hier in die wêreld is dit nie.

Ringloos dui klaar op ’n nuwe bestaan. Dit het lank geneem vir die paadjies om weer ’n heimat te word.

My eerste en enigste en laaste heimat? dwaal dit deur my kop.

Die boonste deel van Nantesstraat, waar ek as kind gewoon het, is heilig. Net vier trappies van die stoep af na die voorhekkie. My pa wat met vertrekkende gaste by die voordeur uitkom, sonder sy hoed, daarom voel-voel sy hand oor sy bles om die paar hare wat eenkant lank groei oor sy kop te stryk; as ek aan hom dink, sien ek sy hand wat oor sy bles stryk, hy’t dit by my sussie se graf gedoen toe ek agt jaar oud was, hy’t dit op my bruilof gedoen toe ons by die voordeur uitkom. Die laaste keer toe ons daar wegry, ’n week voor sy dood, het hy al koulik begin wegdraai, maar my ma het by die hekkie bly staan totdat die kinders ophou wuif het en die motor die draai gevat het na Meulstraat.

Hy’t altoos vir my gesê ek moet onthou wat die Grieke gesê het: Volg die goue middeweg. Maar ek kon nie. Ek het die woorde in marmer uitgekap gesien by die ruïne van die tempel by Delphi, bokant ’n ingang wat nou plat tussen die klippe lê. Ek het probeer, Pappa, maar ek kon nie.

My ma het by die trappies af en entjies in die straat saamgestap met haar vriendinne wat naby woon, dan omgedraai huis toe. Gewag tot ek ook binne is voordat sy die hekkie toegeklap het.

Dis vreemd, ek het na die Berghof-aftreeoord gekom om veiliger te wees as in die groot familiehuis bo die Molteno-reservoir, en ongeag hoeveel keer dit voorspel is dat ek moeilikheid soek as ek alleen om die dam loop, het dit vyf-en-dertig jaar lank nooit gebeur nie. En nou, hier by die “veilige hawe”, gebeur dit. Veiligheid is ’n illusie.

* * *

Die ou man in die hoekkamer op ons vloer kom selde uit. Hulle sê hy neem sy middagete by die Mount Nelson, of soms in die Mediclinic se kafeteria. Ons dog eers dis aansit, dat ons oues in die eetkamer nie goed genoeg is vir hom nie. Maar ons was verkeerd. Dis omdat hy stokdoof is. Hy keer my voor met uitgestrekte, maer, bewerige arms. “My twin,” sê hy bly. Krom soos hy is, probeer hy my teen hom vasdruk. Die tweeling-storie kom daarvan dat ek die twee woonstelle oorkant mekaar aan die einde van die gang het. Hy het my soms by die een, dan weer by die ander, sien uitkom. Nou keer hy my voor. “My twin,” sê hy. Ek probeer hom misloop, stap ’n draai as hy op die stoepie sit.

“Kom praat ’n bietjie met die ou man,” sê die verpleegster. “Hy’t vandag ’n groot terugslag gehad.”

Ek gaan sit op ’n stoel langs syne, voor die grootskerm-TV wat sonder klank voortspeel, soos in die meeste kamers.

Hy’t ’n fynbesnede gesig en is rooi van vel soos die ander Ingelsmanne wat hier bly, dié wat hulle lewens aan die gladde administrasie van die Britse Ryk gewy het: staatsamptenare, weermag, handel, noem maar op, dam op hier in ons aftreeoord. Hulle is gevoelig vir die fluktuerende rand-sterling-wisselkoers, hulle kla baie maklik oor die skamele pensioen, het nie kind of kraai in die land nie. Ek kry hulle jammer, maar dink ook: Wat soek hulle hier, hoekom is hulle nie “home” toe nie, nou moet óns instellings hulle oppas.

Hy’t die oggend na die Tuine-winkelsentrum gery saam met meneer David Klein, die taximan wie se donkerblou Cressida, met die geel liggie op die dak en die tarief op die kant geskryf, gereeld by ons hek staan. Meneer Klein is goed met ou mense; hy kan sonder om te betaal die sentrum binnery om ons af te laai, op voorwaarde dat hy in minder as tien minute weer daar uit is. Hy kan ook by die sentrum inry om ons weer op te laai. Hy versterk ons wankelende harte as ons uit die taxi geklim het en die buisligte van die sentrum wat so heen en weer skiet ons oë vreemde tweelingligte laat sien wat ons koppe weet nie daar is nie, wanneer ons net-net wil begin duiselig voel. Hy vat ons aan die elmboog, neem ons ’n paar stappies die sentrum binne, druk ons aan die elmboog en sê: “Wag nou net vir my hier op hierdie bankie, moenie self buitentoe probeer kom nie. Oor so ’n uur, nè?” Dan het ons die moed om die dwalende menigte binne te loop. Toe sy my ouderdom was, het my ma g’n voet op ’n roltrap gesit nie, maar ek ry hom loshande.

Dit blyk dat die Ingelsman bank toe gegaan het, en toe na Pick n Pay om sy bietjie goedjies te koop. Blikkies koffie het op hom neergestort toe sy hande mistas, maar hy’t gebuk, alles in sy karretjie gelaai en dit ingestoot gekry by een van die betaalpunte. Hy’t vasgeklou aan die karretjie en net voordat dit sy beurt was, word dit donker voor hom en hy val daar neer, saggies, sonder gedoe. Toe hy bykom, lê hy op ’n enkelbedjie in ’n kamer, en ’n vrou met ’n wit baadjie het sy pols beet, en ’n ander een neem sy hartslag. Hy’t orent gekom en gevra dat hulle hom neem na die bankie waar meneer Klein hom sal kom oplaai.

Stadig en voetjie vir voetjie, en sy’t hom nie gelos totdat sy meneer Klein sien aankom nie – hulle ken hom al met sy ou mense by die sentrum – en meneer Klein het met die sakke in die een hand en die ander hand onder die ou man se arm hom by die sentrum uitgelei.

Hom versigtig by die tuiste afgelaai en met sy inkopiesakke na die hysbak geneem. “I’ll be fine, Mister Klein, no, really, I’m fine,” het hy gesê en die knoppie na sy vloer gedruk. En net daar, toe die hysbak begin roer, stort hy weer ineen. Hy het teen die hysbakdeur geval sodat dit nie kon toegaan nie en die hysbak nie kon opstyg nie. Die verpleegster het hom gekry waar hy daar lê.

“Kom gesels ’n bietjie,” sê die verpleegster, “dat hy net sy selfvertroue kan terugkry … ’n bietjie gesels sal hom help.” Ek weet daar is net twee siele in die wye wêreld met wie hy ’n verbintenis het: sy broer in Australië, te oud om die vliegtuigrit na hom toe aan te pak, net soos hy self te oud is om na sy broer te gaan. En sy dogter in Wallis. “She begs me to come home, she says there’s a place for me at a retirement home close to her. And my medical costs will be free. Here I have no medical aid.”

“Dis ’n wonderlike uitkoms,” sê ek vir hom. Hy kry ’n hoesbui, hy het kwaai emfiseem, hy sluk ’n bietjie water wat ek by sy mond hou, terwyl ek sy arme ou kop wat so wankel met my arm steun. Die spore op sy rooigevlekte voorkop lê diep en sy valerige oumensoë is twee smalgetrekte skrewe waaruit die kleur heeltemal verdwyn het. In die houding van die kop, in die fyn heen en weer skud daarvan, lees ek duideliker as in woorde: I can’t decide.

Op vyf-en-neëntig het my ma gesê: Decisions, decisions, decisions. Why must I make decisions? Sy was ’n eiewys ou dame.

Because you don’t trust my decisions, sê ek vir haar.

Because you’re a mere child, sê sy.

If you can’t decide whether to send Hettie chocolates or flowers for her birthday, sê ek, send both.

Sy’s in haar skik: Proves my point, you’ve got no logic.

Dis ’n leeftyd later. Ek sit met die siek, skraal Ingelsman in sy deftig gemeubileerde kamer, voor ’n grootskerm-TV met uitgedoofde klank. Ek het vir hom tee gemaak en die hitte streel sy keel, en die koppie verwarm sy vingers.

Sy asem is nou effens rustiger. “Wales is beautiful, but the climate … is damp.”

“Your daughter will be nearby.”

“I don’t much like her husband.”

Hy is baie doof. Ek probeer my sinne kort hou dat ek nie so hoef te skree nie, my kop is seer van die skree, hy beter nou besluit, magtag.

Ek dink dis die vliegtuigrit Engeland toe waarvoor hy nie kans sien nie. Kan ek hom dit kwalik neem? Ek vlieg nie eens meer Transvaal toe nie.

My laaste vliegtuigrit, op ses-en-tagtig, was na Johannesburg vir my oudste kleindogter en naamgenoot se troue. Ek het skaars gesit, my blou kussings reg geplaas onder my, of die motore van die vliegtuig word aangeskakel; die hele blikkarkas gaan aan die sidder. Die ander passasiers sit terug en slaan koerante oop, krap in die sak voor hulle vir die vlugtydskrif, maar ek kan nie die siddering uit my lyf afweer nie. Dit voel vir my elke gewrig word beskadig, my hele gebeente ruk saam. Vlieg is nie meer vir ons nie, vir my en jou nie, hoor ek my liggaam teësinnig vir my sê.

Die liggaam kan minder verduur, is nie meer aanpasbaar nie. Selfs die kanale in my ore protesteer. ’n Paar uur nadat ons geland het, voel ek nog asof ek vlieg, die terra firma is nie meer firma nie, dit loei nog in vlae verby my kop. Dankie vader vir die lughawe se rolstoel.

* * *

Op pad terug Kaap toe van Wellington af, waar ons by Freddie en Katrien my skoonsuster Jeanne se verjaarsdag gevier het, wil die kinders my verras. Ons draai op in Nantesstraat, want hulle wil die kleinkinders wys waar hulle kom vakansie hou het by hulle oupa en ouma.

Die straat geval my nie meer nie. Dis toegebou: Die erwe met die groot tuine, soos ek hulle geken het, is opverdeel, die tuine is verkoop en op elke nuwe erf is ’n tweede, moderner huis gebou. Die nuwe, lelike huise, pers, geel en donkermaroen, verdwyn uit my gesigsveld, ek druk hulle weg. Ek verwerp hulle. Dit was nie só nie, sê ek vir my kleinkinders. Eers later sak my ontsteltenis.

Soos in water wat stil word, verskyn die prente in my kop. Die straat waar ek grootgeword het, kan nooit vernietig of weggevee word nie. Kyk, daar word die bewende omlynings stil, kry die sypaadjie motorbruggies, die voortjies, die tuinomheinings hulle stewigheid, hulle bestaan terug. Ek hoor my bal op die sypaadjie hop, ek hoor die wiele van my pa se motor verstadig, die geluid van die bande teen die los gruis sagter word en dan weer krag kry soos my pa die draai vat, die inrit op. Ek raap my bal op en hardloop om die garagedeur vir hom oop te maak. Die son sak agter die berge weg; dis winter en dit word vroeg donker. Dis koeler maar nie juis koud nie, met my pa tuis is dit nie koud nie, net grys met donkerder plante. My broer maak in die houthok hout bymekaar vir die vuur vanaand. Ek lag hard oor die rooi vlamme wat gaan opskiet uit die kissieplanke en die gekners soos van geweertjies wat uitskiet uit die gekapte hout. En ek gaan maak later, ure na die ete, voordat ek gaan slaap vir almal kakaomelk.

Eendag moet hulle ’n kamera ontwerp om ou mense se geheues mee af te neem.

* * *

Na elke samekoms van die drie geslagte voel dit vir my of woorde hulle betekenis of funksie aan die verloor is. Nie net my nefies en niggies nie, my eie kleinkinders en hulle vriende. Omdat die jong kinders nie meer kan of wil spesifiseer as hulle praat of skryf nie; alles word gedek met een woord: en dit volg ’n mode wat wie weet waar ontstaan het (in die donker elektroniese wêreld – vir my onbekend en bedreigend – waar die kinders en hulle duime so tuis is?). Eers “nice”, toe “cool”, toe “awesome”, toe “stunning”, toe “amazing”, en nou weer iets nuuts. Nou’s dit “huge”. Alles is “huge”. Kan hulle nog skakerings van dinge of gebeurtenisse aanvoel? Ken hulle nog die woorde daarvoor? Ek vra: Hoe was die groot jazznaweek waar julle op die plaas uitgekamp het? “Amazing, Ouma, maar dit was nie jazz nie, dit was rock.” Hoe was die nuwe meisie? “OK, Ouma.” Hulle moet pasop. Soos die baasspelerige Duitse fisio sê toe sy my, na ’n heupoperasie, in die gang weer wil leer loop: “Lift your feet; belief me, wot you don’t use, you lose.” Julle verloor nog al julle woorde. Erger nog, julle verloor die nuansering van belewenisse. Julle kan mos maklik van die konsert sê: Dit was oorverdowend, mind-boggling, gebruik maar Engelse woorde vir nou, onthutsend, meevoerend, wonderlik, vervelig, gebruik enigiets, maar benoem dit net. Al daardie SMS’e wat julle almal so gedurig aan’t stuur is, gee dit opinies weer? Of is dit net die ou voosgebruikte, verminkte woorde? Oor en oor. Ek wil graag bybly in die kleinkinders se wêreld, maar die gaping word al hoe groter, dis nie meer die oumas wat moet help nie, dis die kleinkinders wat die oumas moet help met al die nuwe dinge wat ons nie ken nie. Hulle word groot en sterk, ons word oud en klein.

* * *

My pa het ’n ballasmandjie vol druiwe oor die agterdraad gelig. Die boer se wingerd grens aan ons erf en ons kinders hou dop hoe die werkers gebukkend, sodat dit lyk asof hulle blikkitaar speel, op en neer tussen die wingerdrye afdrywe en afwals en die ballasmandjies volmaak. ’n Ballasmandjie druiwe. Na die oestyd is daar ’n kompetisie om te sien wie se mandjie eerste vol is, en dan hardloop hulle, mandjie op die skouer en met ’n skewe stappie, so vinnig as wat hulle kan na die eindpunt.

Met die druiwe eet uit ’n ballasmandjie het ons nooit gedink aan pitte of velletjies nie. Ons het net gesuig en gespoeg. Nou eet ons uit die supermark se plastiekpakkies en die tong wil nie sluk nie, die pitjies en velletjies lê soos gepakte skoentjies om die rand van die piering.

Wie ken nog ’n ballasmandjie?

Al die ou woorde kruip nou uit my geheue uit – wanneer laas het ek hulle gehoor: anghoerie, wat gedawer het oor die speelgrond terwyl ons skree-skree mik en koes en hol en veins soos ons deur die verdedigde lyne van die groot in-die-stof-getrekte blokke wil breek. Speel hulle nog anghoerie? Hoe kan hulle? Daar staan nou ’n saal wat hulle gebou het.

Wie ken nog ’n klein, donker spens wat ruik na muis? Waar die kardoessak se puntjie onder afgekou is en die suiker of meel of wat ook al in ’n wit heuweltjie uitgeloop het? En jou ma sê: Ag nee, ons moet vanaand weer die muisval stel. En wanneer almal slaap gaan jou broer, wat die sagste hart het, met sy vingerpunte die kaas uithaal en die muisval saggies laat terugknip.

My broer wil ook nie die hoender eet wat in die agterplaas grootgeword het nie. Of kom kyk wanneer die lewende hoenders kopaf gekap word deur Abraham wat sy graaf moet neersit en sy broek stywer optrek en sy kapblok staanmaak en bietjie spoeg op die byl se lem smeer en die hoender, vlerke styf teenaan sy lyf gedruk, oor die blok laat lê en deur die gespartel deur sy hou inkry dat die kop daar waai en die bloed uitspuit en die hoender sy afkopdans tussen ons terugskarrelende bene deur begin dans nie.

Ek kry raas as daar bloed op my bene kom, ek skuur my bene teen die lang groen gras deur, ek pluk handevol lang groen spriete en vryf my bene skoon. Ek hou my hande in die stoom van die kookwater wat Lenie oor die twee afkoplywe in die skottel gooi. Na ’n ruk begin sy vere pluk. Die klein geel verestompies kom maklik uit die pap pienk hoendervel en elke veregaatjie laat ’n klein, stil vulkaantjie agter.

Ha-ha, dis hoekom ’n mens sê jy kry hoendervel as jy skrik! Ek vertel dit aan tafel en my broer sê vir my: Sjarrap.

Die byl word in die houthok gebêre en dis daardie byl wat ek berg toe vat as ek die dag skrikkerig word en wonder of my ma se afskrikstories miskien waar is. Maar tog wil ek berg toe gaan, ek daag myself uit om te gaan, veral noudat hulle met die motor Kaap toe is en die hele middag sal weg wees, en Lenie is winkel toe om brood te koop. Ek sê vir myself die byl is om takke vir ’n boomhuis mee te kap, maar ek weet dit is my wapen. Met die byl kan ek die gevaar tegemoetgaan. Dis bietjie swaar om te dra, maar ek draai dit in my jersie toe. Ek klim die agterstraatjies uit totdat die geel grondpaadjie tussen die bossies deur voor my lê: berg toe.

* * *

Die toe deur van die siek Ingelsman se woonstel is ’n aanklag. Maar hy’s so doof hy hoor nie as jy klop nie, en maak mens die deur oop sonder dat hy gehoor het, is die moontlikheid groot dat hy nog in sy pajamas is en verbouereerd die broek wat al wil afsak, gryp om dit te probeer optrek, en dis ’n verleentheid vir hom en vir my.

“Roep my as jy dink hy het rêrig iemand nodig,” sê ek vir die verpleegster, maar sy is te besig en later hoor ek hy’s hospitaal toe geneem – hulle stoot ons sommer met ’n kruiwa (lees rolstoel) oor die pad, want ons woon net oorkant die hospitaal. Mense het die manier om te verdwyn en dan ’n paar dae later teruggestoot te word, sonder dat ons ander eens agtergekom het hulle was hospitaal toe.

Hulle gaan ook dood sonder dat ons dit agterkom.

Dis dieselfde hospitaal waar my sustertjie destyds gediagnoseer is met leukemie. Nadat sy die hele seevakansie net op my ma se skoot wou sit en my pa ingery het Kaap toe na die Kaapse dokters. Sy’s eers in die lente dood, na byna ’n jaar se geleidelike doodgaan. Dit het ons almal geknou en ek dink nie my ma het ooit daarvan reggekom nie. Ek wonder wat my ma sou gedink het daarvan dat ek, byna ’n eeu oud, nou reg oorkant die hospitaal woon en al twee keer oorgestoot is in ’n kruiwa. En darem weer teruggestoot is. My dogter het die portier wat die mees onlangse keer gestoot het ’n honderdrandnoot gegee. Sy het my kwalik geneem toe ek sê dis te veel. Net vir oor die pad!

Alle ou mense dink dat hulle kinders nie die waarde van geld ken nie, oor die kinders te spandabelrig is, oor hulle te veel in restaurante eet. Oor die kleinkinders bederf word en almal die nuutste selfone moet hê wat in die mode is, wat dit ook al mag kos. Baie van ons ou mense kry die uit-die-mode-selfone van die kinders, maar dit skeel ons nie, want ons gebruik dit tog nie.

Een se kind het gesê: Ma, neem dit nou saam as Ma in die park gaan stap, vir Ma se veiligheid. Heretjie tog, kind, as die skobbejak my met ’n selfoon in die hand sien, dan bestorm hy my mos juis om die foon te vat! Hoe dink jy dan so agterstevoor?

* * *

Die swart telefoon het teen die gangmuur net buitekant my pa se studeerkamer gehang. Die meisie by die sentrale het my stem geken en nog voordat ek kon vra, het sy my smiddags na skool deurgesit na Truida, my vriendin. Ons kon praat so lank ons wil en dit het niks gekos nie. My ma wou nie dat ek ’n stoel nader trek nie – dan val almal daaroor en dan kry julle nie end nie. Nou nog praat ons so lank, ons kry nie end nie. Ons albei se mans is oorlede, ons het albei drie kinders; maar sy’s my een voor met ’n sewende kleinkind, ek het net ses. Ons het toe albei drie agterkleinkinders, my drie is almal seuntjies. Ons praat nie oor hulle nie, ons praat soos in die ou dae, oor dinge: Ons albei glo “thoughts are things”, en daar’s so baie meer thoughts deesdae as wat daar destyds was. Al val alles van ons weg, thoughts kan niemand wegvat nie. Ons praat oor wat ons voel en dink, oor hoe ons die vinnig voortskuiwende wêreld moet probeer aanvaar, oor hoe ons skaars byhou. Ek dink sy is al lewende mens wat ek nog ken wat my pa en ma geken het, en ek is al lewende mens wat sy ken wat haar pa en ma geken het. Dit is ’n eienaardige band. Dit maak dat ons enige tyd ons gesprek kan hervat asof ons dit nooit onderbreek het nie. Ons vertrou mekaar.

Ons het smiddags saam van die skool af huis toe gery. By haar huis het ons albei afgeklim en die fietse verder gestoot, asof dit die eerste klaarmaak is vir die groot totsiens sê. Ons het ons fietse teen die klein Oranjestraat-bultjie uitgestoot, dan weer opgeklim, en sy’t na die een kant af en ek na die ander kant af huis toe gery. En by die huis het ek my boeketas neergegooi, my halflou tee uit die oond gehaal en gedrink, foon toe geloop, die buis opgetel en ons gesels het weer begin.

My broer sê: Wat skinder julle al weer so baie? Ek sê vir hom ons skinder nie, ons bespreek die lewe.

Omdat ons al twee gedugte lesers was, het ons altyd dinge gehad om te bespreek. Nou nog neem ons vir mekaar boeke. Kort voor sy dood het ek en Klaas by hulle gaan eet, by hulle vakansiehuis in Simonstad. Klaas het vir Truida se man, Jan, ’n boek geneem, Geskiedenis van Harrismith, wat sy pa jare gelede geskryf het. Dit was vir Jan tot groot plesier, want die boek is uit druk en hy het ’n plaas by Harrismith en stel belang in die plek. Ek probeer om nie aan sulke voorvalle terug te dink nie. Ek probeer ’n lewe sonder Klaas lei.

* * *

’n Gerug doen die ronde dat die siek Ingelsman dood is. Hy is twee nagte gelede oorgestoot hospitaal toe en is toe daar oorlede. Ek het nie eens geweet hy is sieker nie. Dis ’n skok as dinge so agteraf gebeur, sonder dat iemand daarvan weet. As ek in die gang kom, voel dit my hy sal nog altyd van agter sy toe deur uitkom om my voor te keer. Op sy wankelende manier. Al is ons, soos die verpleegster sê, almal hier om dood te gaan, is dit tog ’n skok as dit met iemand so vlak by jou gebeur. Ek hoop hulle verkoop gou die woonstel, want dis nie lekker om elke dag hoeveel keer by die leë een te moet verbyloop nie. ’n Mens verwag hom om treetjie vir treetjie uit te kom en die gang oor te steek na die balkonnetjie. Ons vloer is afgeskeep, ons het die kleinste balkonnetjie, as een mens daarop sit, is dit al genoeg, twee moet knie teen knie sit. As hy daar sit, kan ek nie ook daar gaan sit nie.

Daar word niks opgeplak oor ’n verassing of ’n diens of ’n “wake”, waarvoor hulle vandag so lief is, wat vir hom gehou gaan word nie. Nie eens ’n klein samekoms in ons eetkamer nie. Die eetkamer is ’n baie groot vertrek en hulle stoot die stoele in rye met ’n plek waar ’n spreker kan staan. Daar’s selfs ’n klavier. En die werksters, kamerwerksters sowel as eetkamerwerksters, staan op die trappies en por mekaar aan, maar met stywe gesigte, en hulle sing ’n paar liedere soos “Amazing Grace” wat daar bo trek met die hoë note skeef en krom en ’n paar sniknote hier onder, sodat die voorste tweetjies tissues uit die moue moet trek om die oë mee af te vee. Daar’s nie altyd ’n dominee nie, maar dikwels net ’n ouer man wat uit die Bybel lees of iets stigteliks sê. Of hulle die mens goed geken het of nie, al die inwoners gaan gewoonlik na die diens, want dis iets om te doen, en die kombuis maak toebroodjies en skons en koekies, wat ’n verandering is.

Baie van die ou mense voel hulle sal tevrede wees met ’n bymekaarkom in die eetkamer van die plek, eerder as ’n kerkdiens. Dan is jy darem verseker van ’n opkoms, sê hulle – wie is nog sterk en ondernemend genoeg om êrens na ’n kerkdiens te gaan? Waar daar geen parkering is nie. En dit miskien reën en koud of winderig is. Selfs dié wat nog hulle motors het, is skrikkerig om te ry, en om ander op te laai, veral as die kerk in die stad of ’n onbekende woonbuurt is.

Maar ’n mens kan plan maak, dink ek. ’n Mens hoef nie in die Groote Kerk te wees nie. Daar’s kleiner kerkies naby. Maar ek dink nie ’n mens moet alle rituele sommer weggooi nie. ’n Mens het die ritueel van ’n kerk en ’n orrel en ’n dominee in swart pak en beffie en mense in hulle beste klere nodig. Ek sal selfs gaan vir die dodemars. Dat almal net ’n oomblik lank in die mond geruk word. Met ’n besef van verganklikheid. Hulle eie ook. Die dood word nie meer plek gegun nie. Selfs ou mense moet oefeninge doen en handevol pille sluk, net om ’n paar jaar langer ’n soort skynlewe te lei. Net nie doodgaan nie. En jy’s tog nie ’n hond om net toegegooi te word nie.

Selfs begraafplase is outyds. Meer modieus is ’n langnekkruik waaruit die as soos ’n slang uitloop wanneer die kruik onderstebo gehou word. Soos Ina Rousseau s’n daar op die ou brug oor die Eersterivier op Stellenbosch. Die seremonietjie kan mooi wees. As jy gelukkig is en die wind die as nie skep nie. Van my kinders se vriende het al gesê hulle ma se as is teen hulle gesigte gewaai.

My boksie as moet aan die kant van my man se graf ingespit word. Nie diep nie, net toe. Ek wil nie diep begrawe word nie. Maar darem ook nie in die wind in gestrooi nie.

* * *

Wanneer ek op my eensaamste is, is wanneer die wind so loei deur ons gebou. Dan lê die wolke dik oor Tafelberg, hulle val oor soos swaar matte. As daar êrens iets op ’n kiertjie oop is, loei die wind daardeur. Agter die hysbak op die vyfde vloer, as die vensters nie goed toegemaak is nie, sommige trek skeef, huil die wind soos ’n doodsbode deur die gebou.

In die huis waar ek en Klaas gewoon het, het die wind ook gewaai, maar nie so hard of so moedswillig nie. Die wolke het op die mik tussen Tafelberg en Duiwelspiek gaan lê en dan daarvandaan neergestort soos lemurs na hulle dood toe. Dan het die hond in sy houthuis op die voorstoep begin huil en só aangehou dat Klaas op sy kaal voete uitgegaan het om hom binnekant in die voorportaal te laat kom slaap. Hy het soms dan die kombers hoër oor my getrek, en soms het ek al lesende aan die slaap geraak en dan het hy versigtig die boek uit my hande geneem en die bril van my gesig afgehaal. Soggens terg hy my: Hou jy jou bril op om beter in jou drome te kan sien?

Ek onthou nie wind uit my vroegste tyd nie. Die Pêrel kry min wind. Daarom is dit in die somer so warm, het my ma gesê. En reën dit so baie in die winter en word die grond nie droog nie, maar bly nat.

By die see waai dit, nie in die Pêrel nie. Wind is die seevakansies se duiwel.

Ons hou in die Strand vakansie in ’n huis wat my pa gehuur het, ’n klein outydse plekkie aan die seefront met ’n stoep wat my ma laat sê het: Ek kom net Strand toe om tee te skink. Want die mense loop in rye langs die pad verby en kyk in na waar my pa sit en daar is altyd ’n oudstudent of bekende by wat die hele ry mense laat indraai en kom handgee en dan rondkyk of daar nog stoele is, want almal kom sit. Dis maar van die Strand, sê my pa terwyl ons van die leë koppies aan die terugdra is, almal is op die uitkyk vir ’n ou bekende.

Ons swem net voor die huis. Ons kan oor die straat loop, nadat my ma eers gekyk het en dan met ’n stootjie op die rug vir ons sê: Toe, loop nou, die pad is skoon. Later kom sy met die handdoeke en ’n kussing en haar boek. Ek het klaar my baaikep op. Ons kyk na die mense en ons loop in die vlak water. Soms gaan sit ons by ander kinders in die vlak water om gewoond te raak aan die koue see. Ons sien my ma kom en sy gaan sit op die sand en strek die arms uit en ons weet wat sy sê: Oh, what a beautiful morning, vanmiddag waai die wind weer. Children, enjoy the sea.

Ons mag nie te diep ingaan nie, anders sal my pa of ma, hoewel hulle nie swemklere aanhet nie, die branders instorm om ons aan die arm uit te trek. Hulle swem nooit. Ander ou mense swem vroeg in die oggend as daar niemand is om na hulle te kyk nie, maar hulle swem nie eintlik nie, hulle baai net. As ek bibber van die koue, gooi my ma ’n handdoek oor my skouers en begin my droogvryf. Ek probeer wegruk, maar sy hou te styf vas. My broer het al lankal weggeruk, hy verdwyn met sy vriend, en my ma kan hom maar net agternakyk, en aanhou kyk terwyl sy my vryf.

My beste van die see is die sementstutte onder die pawiljoen. Die ingang is gelyk met die pad, en ’n mens kan inloop en dan met die stoep heeltemal rondom die pawiljoen loop wat ver in die see steek. Met laagwater kan ons van die strand se kant onder die pawiljoen inloop en dan klim op die sementstutte wat toegegroei is met seewiere en allerhande soorte skulpe wat klou aan die rowwe sement. Dit is donker daar en die see maak vreemde geluide wat swiesj-swoesj tussen die pilare deur, soos ’n sweep klap en dan weer terugtrek. Dis koud ook, en somtyds grou die branders gate uit onder langs die stutte van die pilare en die gate word ál hoe groter en die branders kom ál groter en harder en hoër, totdat die water oor ons wat vasklou slaan en ons sopnat is.

Nou word ek bang en ek wil uit hierdie donker, nat swiesjende water wegkom en ek los die sementstut en probeer spring, maar die water slaat my terug in die gat, maar ek kom regop en dit slaat my weer plat, maar ek kruip handeviervoet uit die water en soos ek kruip, stoot my knieë en my voete en my hande holtes in die sand wat weer van onder af vol loop. Ek is moeg en seer en koud geslaat, maar ek moet vinnig kruip anders suig die sand in hierdie aaklige koue, donker plek my vas en trek my onder.

Buite is die sand so wit en skyn die son so helder dat my oë seer word, en die sand brand my voete, maar ek moet aanhou loop dat ek by die huis kan kom voordat my pa en ma wakker word na hulle middagslapie.

Na vieruur wil ek nie saam afgaan strand toe nie. Dis te winderig, sê ek.

Ma kan mos sien, kyk hoe trek die vlae sand oor die pad. Ek trek die voordeur toe. Dit voel my die sand kom soek my in die huis.

Wat het ek vir julle gesê, sê my ma, elke middag waai dit.

* * *

Ek het vandag soveel emosies belewe, hulle loop by my uit, by my oë, my ore, my mond, my neusgate. Ek moet probeer om tot bedaring te kom. Miskien is ek nou op hierdie ouderdom makliker prooi vir emosie. My vriendin Annari sê hoe ouer jy word, hoe nader skuif jou blaas oë toe. Dit sit al klaar net agter my oë. ’n Kindjie wat siek is op die televisie, tot sterwens toe siek, laat my huil. Maar die huil gaan net so gou weer verby. Ek is oorstelp van emosie toe ek ’n boek klaar gelees het van ’n vrou wat liederlik verneuk is deur haar man, en sommer alleen dood is. Toe bel Sina, Nico en Michelle se huishoudster, en sê ek moet die radio aanskakel want dis Poppie op die radio en toe doen ek dit en daar het Poppie my ook aan die huil, veral die laaste deel. Dis nou al dié drie: TV, radio, boeklees. Niks direk nie. Kan ek nog self voel? Ons is hier so uit die lewe, dit lyk my ons leef deur ander se emosie. Miskien is ons skrikkerig vir ons eie emosies.

My skoonma was ook so tranerig. Ek kon nooit mooi begryp nie. Dit was altyd oor dinge uit die verlede dat sy huil, dan sê ek: Ma, ons kan niks daaraan doen nie, dis verby, Ma moenie so huil nie, en dan sê sy: Maar dis oor dinge wat ek so liefgehad het wat ek huil.

Deesdae begryp ek dit beter. Ek stel dit so vir my voor: daar is ’n dun skilletjie om ons brein wat ons gewoonweg in die hede anker. Maar soos ’n mens oud word, kom daar skeurtjies in die skil, soos ’n ou laken skif. Dan stroom die verlede, ontydig of nie, daardeur. Dis hoekom ou mense deurmekaar raak, of hulle konsentrasie swak word, of hulle dinge soos sleutels verloor.

Selfs vir die armsalige palmboom in die tuin huil ek, want onder, naby die grond, trek die skubbe van sy bas los en die onkruid stoot daarin op en wriemel hulle in tussen sy stam en sy bas en die swamme begin daar tier en vasklou, al hoe opper teen die boom kruip, dit sal hom doodmaak, dit weet ek. Daar’s ’n palmboom waar ek nie eens wil verbyloop nie, al sing sy swaaiende takke in die blou lug, want sy onderste stam se bas is ook afgebars, miskien van ouderdom, en miljoene klein wit worteltjies beur daardeur. Of hulle worteltjies, stammetjies of wurms is, weet ek nie, maar die boom is hulpeloos, aan hulle uitgelewer. Miljoene honger, soekende, wit, klam buisies. Die hele tuin is in die nood – selfs die eende kyk senuagtig rond, gedurig, die eekhorinkies bewe op die takke voordat hulle spring. Die hele natuur bewe. Ons moet gewoond raak daaraan.

* * *

Die verpleegster keer my weer in die gang voor. Die siek Ingelsman is toe nie dood nie. Ek weet nie hoekom ons gedink het hy is nie, dis seker al die mense met plat tassies wat in en uit by sy woonstel was, daar’t net ’n gerug rondgegaan dat hy dood is. Nee, dit was ’n man met ’n ander van byna soos syne. Nee, die verpleegster sê: “Kom gou in, hy vlieg vanmiddag vieruur Engeland toe, kom groet hom, toe. Mens kan hom tog nie so sonder groet laat weggaan nie.” En toe ek ingaan, staan hy op en kom met kort treetjies na my, sy hande uitgestrek, en sy blaas sit ook seker reg agter sy oë (eintlik hou ek nie baie van dié beeld nie), want dit lyk my hy huil, sy bleek oë – wat seker eens blou was – is toe onder die trane. Hy vat my aan die boarms, en hy sê: “I’ve made a decision. I’m flying to my daughter this afternoon. To see if I like it there. But I’m keeping my flat, I’m coming back.” En hy klou aan my arms en druk my teenaan hom vas en so op ’n oorsese manier soen hy my op die een wang en druk my dan terug en soen my op die ander wang, sulke ligte wil-wil-soene. En dan sy wang teen my wang en hy druk my stywer, soos ek nie gedink het so ’n siek ou man kan druk nie. Ek is verbouereerd. Wanneer laas het ’n man, al is dit ’n siek ou man en nogal ’n Ingelsman, my beetgehad? Ek is skielik in sy bewende arms vasgedruk teen sy skouer en half teen sy nek. Die oumensvleis is te intiem, te onverwags, en ek roer my kop. Hy los my toe en ek sluk en vra of ek hom kan help om ’n paar goedjies in te pak, maar hy sê nee dankie, die suster het hom gehelp, en hy sê ewe skalks: “I’m an old hand at travelling.” Ek wens hom ’n goeie reis toe, en op die oorsese trant wat ons ingeslaan het: “Bon voyage.” “Merci,” sê hy op ’n ligte manier asof hy reeds oorsee is. Daar’t nou baie lewe in hom gekom. Ek hoor David Klein die gang af kom, en sy bekende stem: “Now with what can I help you, sir?” Ek is al in my kamer, toe dink ek: Hy kan darem nie so allenig, net met die taximan, vertrek nie. Moet ek nie teruggaan en nog ’n keer bon voyage sê nie? Op die snaakse bewerige manier waarop al ons woorde gesê word. Miskien op die trap staan en vir hom waai? Maar ’n verstandiger stem waarsku my: Hy’t gesê miskien kom hy terug. Hy moet net nie dink hy kom terug na iéts nie. Dan’s jy in die pekel. Ek maak my deur toe en hoor nie hoe sy tasse in die hysbak ingeskuif word nie. Hy moet net nie weer flou val as die deur begin toeskuif nie.

Daar’s iets aan ’n baie ou man, met krom, skraal skouers en ’n los keelvel, in sy goeie cashmere cardigan, met die gebreekte aartjies in die rooierige wangetjies, en die blou oë blink onder die water. Die kaal kop met die paar yl haartjies daaroor gekam. En sy bewerige hande. Wat ’n mens laat teer voel. Liewe Vader. As hy net nie so stokdoof was nie. ’n Mens moet skree vir hom voordat hy verstaan, en hoeveel keer herhaal.

* * *

Ek gaan vir David Klein geld in my testament nalaat. Namens al die ou mense wat hy help. En in hysbakke sit met hulle pakkies en die knoppie druk en hulle boontoe stuur. En as hulle in die hysbak flou neerslaan. En hulle reis verder as die vyfde vloer gaan? Net ’n genade.

David Klein ry my al lank waar ek wil wees. ’n Kort, dikkerige man met rooi hare en ’n gespikkelde vel, altyd in kortbroek en kortmouhemp. Groot stem en ewe tuis in ons voorportaal as by die Labia-bioskoop, by die dokterskamers of die haarkapster. Hy maak die deur vir my oop, vou my blou kussinkies oop: “Wat doen ons vandag? Die hare of die marbles?” Hy neem my na ’n dokter wat my kop manipuleer, die dae wat my marbles so verstoor is en my kop so dronk is dat ek nie kan staan of loop nie. Hy parkeer in die stad net langs die randsteen en ongeag wie toet of skree, hy klim uit, loop om die kar, kom maak my deur oop en neem my aan die hand, oor die randsteen, op die sypaadjie, by die gebou in en help my die hysbak in. “Keep an eye on the lady,” sê hy vir die opsigter wat agter sy tafel sit en koerant lees. Hy staan en kyk my agterna totdat ek buite sig is.

Ons almal is sy kliënte. Hy sê: “Die ander taximanne vra my nou die dag: ‘Waarom sukkel jy so met die ou mense, jy maak tog nie baie op hulle kort trippies nie?’ Dan sê ek vir hulle: ‘As die season verby is, sit julle met niemand. My kliënte is dwarsdeur die jaar.’ ”

Ek vra vir David Klein: “Hoe ken jy al die kleinste ou straatjies so goed?”

“Ek het possak gedra, mevrou. Die hele Tamboerskloof. Tuine, Oranjezicht platgeloop. Dit was my eerste werk.”

Ek sê mos ek kan nie meer emosies hanteer nie. As ek dink hoe hy stap met die sak oor die skouer en die posstukke by elke huis in die gleufie stoot, ’n jong man met geen ander toekoms nie, is my oë weer vol trane. Ek sal nie omgee as hy eendag die laaste knoppie van die hysbak vir my boontoe druk nie.

* * *

Ek is die nag onrustig oor die siek Ingelsman wat in die silwer Boeing die swart hemel deurklief. ’n Maer, siek man wat na asem smag, daar bo in die donker hemel. Teen wie weet watter spoed deur die nag. Sou hulle weet van sy emfiseem, sou ’n suurstofmaskertjie beskikbaar wees? Klou hy vas aan die armleunings of trek hy ver verby dit alles, klein op die vleuels van sy groot “decision”?

Ek hoop sy dogter wag op Heathrow-lughawe vir hom. Sy is een van daai maer, sterk vroutjies, sterk kuite en boarms, met sjaals om haar gedrapeer, lang stringe krale om die nek en gestreepte bottelblonde hare bo-op die kop vasgesteek. Sy noem hom “Oh Daddy, no”.

* * *

Hier by ons speel kinders ’n baie groot rol. Groot kinders, nie kleinkinders nie. Hulle was so oulik, kon nie genoeg met ons kom speel nie en nou, lyk dit, gee hulle nie meer vir ons om nie, kla die oumas. Ouer kleinkinders kan die oumas se harte verbly met ’n spontane besoekie, hoewel daar ook baie gekla word oor hulle. Een vrou het ’n pragtige wynrooi jersie vir haar agtienjarige kleinseun gebrei, ure se werk, en hom op sy verjaarsdag gebel en gesê die jersie lê reg, hy moet dit kom afhaal. “Dit lê nou nog hier,” sê sy vir ons. Ons troos haar – die kinders is so besig, hy sal nog kom. Maar “my seun”, “my dogter” en vir die begenadigdes “my seuns” en “my dogters” is towerwoorde. “My seun sê ek moet my nie steur aan die prys van die medisyne nie, ek moet dit opdrink.” Of my dogter: “Ma, ons moet vir Ma nog wintergoed bykry.” Dis woorde waarmee in die gange gesmous word en wat, hoe paternalisties ook al (vreemd om aan die woord “paternalisties” te dink, eerder “maternalisties”), ’n gevoel van versorging en geborgenheid gee.

Die stories tog waarna ’n mens maar moet luister: hulle kleinkinders se stories of hulle groot kinders se voortreflikhede … Hemel, ná elke ou storietjie wat ek oor ’n kleinkind vertel, moet ek na ses of sewe ander s’n luister. Ek stel nie belang in dié of daardie ou vyfjarige poppie se eisteddfod-prestasies nie. Maar as ek van myne wil vertel, moet ek ook bereid wees om te luister. Dit is maar die wet van Transvaal … en ek móét dit vertel, dit was darem so oulik. Maar, sê die vrouens, veral die Hollanders: Nie inmeng nie, nie oor kinders of kleinkinders raadgee nie, slegs “schenken, swijgen, slukken”. Dit klink darem ’n bietjie te suur.

Een ou vroutjie hier het nie ’n man of kinders gehad nie, maar sy het twee-en-dertig teddiebeertjies. Sy het my by haar kamer ingenooi. Hulle sit op die bed teen haar kopkussing, op die lang erkervensterbank, op die spieëltafel, op die rakkies. Grotes en kleintjies, met rokkies of geruite broekies aan. Hulle het name. Sy ruil dié op die vensterbank gedurig om, sodat die ander ook son kan kry, of die uitsig kan geniet. Hulle groet haar wanneer sy binnekom, sy groet hulle wanneer sy uitgaan. Sy’s rustig en vreedsaam by hulle, sy wag nooit op ’n oproep of ’n besoekie nie. ’n Ma bekommer haar oor haar kinders tot die dag dat sy haar oë finaal sluit, het my ma vir my gesê. Ek bekommer my nie oor my kinders nie, sê ek kordaat. Dan behoort jy jou daaroor te bekommer dat jy jou nie oor jou kinders bekommer nie, sê sy. Sy weet nie ek praat maar groot nie.

* * *

Ons hoor die Ingelsman was so siek, hy’s van die vliegtuig af met ’n ambulans direk hospitaal toe, en moes twee weke daar bly. Nou’s hy in Wallis in die oumensversorgingsplek en daar’s nie sprake van terugkom nie. Sy woonstel word opgegradeer vir herverkoop. Ek hoop die Walliese weer is goed vir hom. En sy dogter. En sy skoonseun.

* * *

Anders as my verwagting is dit in ’n aftreeoord moeilik om nuwe vriende te maak. Teen die tyd dat die mense hulle hier by ons plek aanmeld, is hulle lewens al agter hulle, soos ’n pakkie in bruinpapier toegevou en met tou vasgemaak. Hulle verledes is voltooi. Hulle kom nie verder lewe nie. Hulle kom afwen. Soos die veer van ’n destydse horlosie. Tot ruste kom.

Dis ’n baie groot skuif wat jy maak. Groter as die trek na ’n ander huis of na ’n ander provinsie of selfs ’n ander land. Dis ’n lewenswyse wat jy aflê en ’n nuwe lewenswyse wat jy moet aanleer. Met die besef: Iets is vir altyd verby. Jy sal dit nooit terugkry nie. Jy het jou kans gehad, dit kom nie weer nie

Dis ’n fout om te vroeg na ’n aftreeoord te kom. Soos ek op agt-en-sewentig. Of te fiks. Dan stamp jy jou teen die prikkels, stamp jy jou bloedneus teen die onsigbare mure. Die giftigste woorde wat jy hoor, is: “Jy sal aanpas.” Waarby aanpas? By aftakeling? By die dood? En as jy nie wil aanpas nie? Dan maar bloedneus. Weer en weer en weer.

En stadig, versigtig jou voelers uitsteek na ’n ander een, wat alleen op die stoepie op die vierde vloer sit, net sit, hande op die skoot gevou. Of wat in die sonkolletjie langs die hysbak sit, sy sal ’n inwoner wees met ’n woonstel aan die skadukant van die gebou en soek son. Jy sal sê: Kom drink ’n koppie tee vanmiddag. Of ’n drankie vanaand. Een hoekie van die gevoude papier van die lewenspakkie sal miskien gelig word, stadig, half onwillig, half gretig. En daar sal altyd ’n hartseerstorie na vore kom, totdat jy bang is om verder te hoor. Hoe is dit dan dat daar agter elke toegetrekte deur ’n hartseerstorie is? Meestal oor ’n kind wat verloor is – aan ’n slopende siekte of ’n ongeluk of iets anders tragies. ’n Eggenoot se dood, man of vrou, is algemeen, dis die rede waarom die een wat agterbly hier is, almal het iemand verloor. Dis nie so treurig nie, jou eie storie word vermenigvuldig agter elke deur. En asof jy op ’n roltrap vervoer word van een vloer na die ander, en nie kan afklim nie, so vervoer die tyd jou onversetlik weg van jou man se dood.

Maar die verlies van ’n seun of dogter, dit stort die droefheid uit, ook op jou, maak nie saak hoe lank gelede nie, dis nog daar, altyd daar. Sodat jy eintlik bang is as die pakkie stadig, versigtig, effens oopgemaak word. Jy moet tog weet, hoe kan jy vriende wees, werklike vriende as jy nie die verlede meegedeel word nie; maar hoe droef is die verlede nie.

’n Ander Ingelsman wat sy lewe gewy het aan die Empire, in haas elke land op die Afrika-vasteland deel was van die Britse koloniale diens, en wat gebore is êrens in die Ooste, eintlik nie ’n vaste tuiste ooit gehad het nie, met net ’n Britse paspoort (hier kry hy nie langer as ’n jaar ’n verblyfpermit nie, en moet elke jaar weer aansoek doen), selfs hy, met sy Brits-koloniale voorkoms – safaripak, netjies geknipte hare, effense rooi kleur – selfs hy dra swaar aan sy pakkie. ’n Mens is later skugter om die eeue oue vrae by kennismaking te vra: Is jy getroud? Het jy kinders? Opeens bang dat jy nou te erg oortree het, want sy antwoord kom afgemete: “My vrou en twee van my kinders is deur die Mau-Mau in Kenia in ’n lokval doodgemaak.”

Bly dan maar liewer toe, pakkie.

Die mense loop met stywerug-treë die gange af, staan die hysbak vol: nee, wat, daar’s nog baie plek, kom gerus binne. Sit aan die keurige tafels, skep slaai, maak ’n praatjie, eet, vertoef selfs met die uitloop by ’n tafeltjie, maak nog ’n praatjie, voorspel die weer – want dit trek toe buitekant die groot, mooi vensters. Nee, wat, winter is hier. Ons sal nog ’n paar mooi dae kry. Jy sal sien. Die Engelse begrip “Indian summer” is mooi – waarvandaan kom dit tog? Maar Piet Cillié het destyds net so ’n mooi Afrikaanse woord uitgedink vir ’n paar laat warmrige dae: opslagsomer. Ons geniet maar almal die opslagsomer. Lekker rus vanmiddag. Is daar iets goeds op TV vanaand? Tog wel. Ons sal maar sien. Lekker rus. En weer terug in woonstelle agter die toe deure.

Omtrent in elke vrou of man se lewe wat ek hier ontmoet het, was daar die sterfte van ’n kind. Dit maak my stom en verslae. Moet ek ophou probeer simpatiek wees, ophou vra, of smag die mens daarna om te vertel, is dit die vriendskap, om te luister? Bring dit ’n bietjie verligting, hier in die nuwe tuiste, hier by soveel vreemde mense met wie julle nou opeens saamwoon?

Net ons kan hulle werklik ondersteun, ons, hulle jaargenote, die langslewendes, die deursetters, die vasbyters. My kamerwerkster sê vir my: “I never see so many old people together in my life. I go into dining room I dunno what I see, old people and grey hair. You must be very strong people for so many to get so old.”

Ons is om en by sestig inwoners. Ons gemiddeld was laas jaar agt-en-tagtig jaar oud. Ons het ’n tannietjie se honderd jaar gevier, die plek het koek gegee en tee en sy’t regop in haar erestoel agter die tafel gesit, ook maar bang, die haartjies ook maar ’n bietjie skeef. Die personeel het vir haar gesing. Sy’t aan haar “carer” se hand vasgehou, en daaraan gepluk asof sy wil teruggaan kamer toe. Sy’s drie dae later dood, in die nag, maar eers twee dae daarna is die briefie van haar dood in die hysbak opgeplak.

Hoewel ons almal hier is om dood te gaan, word die dood so saggies en irreëel hanteer dat ons meestal daarvan vergeet. Toe ons eenkeer in die groot hysbak afry eetsaal toe, die klein hysbak naaste aan die kamers het êrens op ’n vloer vasgesteek, het ’n dowe tannietjie met haar skel stem gesê: “Dis hoekom ons hierdie groot, lang hysbak het, om die doodkiste in die nag mee te kan uitneem, as almal slaap.”

Toe was almal skielik stil. Dit was in ons milieu ’n faux pas. So iets word nie in ’n gesprek genoem nie.

Ons is nie slegs die oorlewendes nie, ons het tussen die rotse deurgeseil, hoeveel keer nie al nie, ons het geboortes en operasies en vervangings en sterftes oorleef, ons het ons ouers versorg en begrawe, ons kinders grootgemaak, ’n eggenoot begrawe; ons is nie te bejammer nie.

’n Eetkamermeisie wat die tafels afdek terwyl ’n paar van ons nog sit en gesels, verkondig aan ons: “Julle moes julle ouers baie goed opgepas het, ek ken my Bybel, dit staan in die Tien Gebooie: Eer jou vader en jou moeder dat jou dae verleng kan word op die aarde. Ek ken my Bybel.”

Dis nou weer ’n nuwe benadering.

* * *

Aangesien ons almal op die drumpel van die hiernamaals is, sou ’n mens ’n gereelde intog van predikante kon verwag, as voorbereiders vir die hiernamaals, miskien ’n afskepseltjie uit die boedel vir die Kerk, selfs ’n grote afskepsel, maar so ’n intog is daar nie. Af en toe ’n ouderling met ’n boekie. Eenkeer, net voor Kersfees, was hier ’n jong dominee met ’n paar inkopiesakke vol snoeperye en kos in die hand, maar hy moes die verkeerde ouetehuis op sy adreslysie gehad het, want die ontvangers was eerder geëmbarrasseer as dankbaar. Die kospakkies was seker bedoel vir minderbevoorregtes en is met dank van die hand gewys. Hoe ydel is die mens tog nie. Nie vir óns die kospakkies nie.

Daar sou wel ruimte vir bediening gewees het, en interessante variasies ook, want ons het mense van alle gelowe: vir rabbi’s, vir NG’s, vir Rooms-Katolieke, vir Anglikane, Metodiste en vir Gatjieponders. Die tai chi-lesse wat Dinsdagoggende in die eetsaal aangebied word, berei die weg vir Boeddhiste, Zen. Vreemd genoeg geen wegwysers na Islam nie, hoewel ’n vrou in ’n boerka ’n paar jaar lank ons ontvangsdame was.

Maar ten spyte van ons gemeenskaplike bestemming is die onderwerp van die hiernamaals taboe wat betref praatjies wat vir ons aangebied word. Praatjies oor beleggings, oor dieet, oor stokperdjies of oor Aanpassing – baie belangrik vir die oudag, Aanpassing – word soms in die eetsaal gehou, gewoonlik met klein opkomste. Ons het ook nie hiernatoe gekom vir praatjies nie, het ons? En die beleggings is sekerlik afgehandel. En ons dowe ore hoor niks wanneer die sprekers so binnensmonds praat nie.

* * *

Ons het hiernatoe gekom om die oorstappaadjie bietjie gemakliker te maak, miskien met ’n jaar of wat uit te stel. En nie vir ons families tot oorlas te wees nie. Miskien was ons net te bang om alleen in ons groot, leë huise te bly woon. Miskien het die elektroniese knoppies en paniekknoppies en diefalarms en tuinhek-interkoms ons net ’n bietjie deurmekaar gemaak. Dis vreeslik as jy jou hond in die huis vergeet en al die alarms is gestel en sy gestap deur die huis laat die alarms afgaan en hy is so verward, hy weet nie wat om te doen nie. Ek het eenkeer van die winkel teruggekom en die alarmstelselmanne buitekant in die motor sien sit, skrikkerig vir die donker, bewegende massa agter die vensterruite wat skaars gaan lê of hy is weer op, en die ding begin weer in sy ore skree.

Die oorstappaadjie? Op hede is die oorstappaadjie hoofsaaklik na die hospitaal oorkant die pad. Dis ’n besige pad. Die motors kom van Kloofstraat se kant met ’n vaart bultaf, van Buxton- en Rosmead- en selfs Moltenolaan, dis so steil daar’s nie maklik te stop nie. Daar’s ’n sebrakruising voor ons hek, maar kan ons ouerwordende, uit harde ervaring skeptiese siele glo dat die kruising die jagende gevaartes sal keer? Met ’n stewige verpleegster wat ons aan die arm het, is ons dapperder. Net oor die pad saamgaan. Dan kom ons reg, dankie. Voor ons lê en wag die gange, die trappe, die verwarring van verboude vloere, die bladtopografie van die hospitaal. Noem maar op, ons ken die pad. Ons sal die groot, verwarrende gange, die afdelings wat uit die middelste as uit konsertina, somtyds met blinkskoon swart-en-wit teëls as aanwyser bemeester: “Dankie baie, as ek net by die swart-en-wit teëls kan kom, ja, die nuwe afdeling, van daar af ken ek die pad.” Ons is dapper, ons sal aanstons, na langer of korter tyd, oor die pad terugkeer met ons groot, vierkantige, bruin koeverte onder die arm, met die x-straalfoto’s (deur die spesialis aangevra) wat die nuus, goed of sleg, sal uitskreeu aan ons huisdokters, wat ons nou dapper dra asof dit ’n nuwe rok of tjalie is, feestelik, en die hotelportier (ek bedoel die hospitaalportier) sal na vore kom en ons huis toe vergesel. Hy sal oor die sebrakruising stap, of daar motors kom of nie, en sy arms swaai en homself neerplak in die middel van die pad sodat die motors met skreeuende remme tot stilstand kom, dat die voorste bande net raak-raak aan die wit strepe, asof hy uitskreeu: Hou stil vir die kroon van die skepping, die juweel van die samelewing – die ou mens. Ons sal met ’n ligte trilling van ons lippe die oorkant haal, ons ’n oomblik lank stut teen die heining; die hekke sal oopswaai en ons sal binnegaan. Rasend om betyds by ’n badkamer te kom.

’n Groter avontuur, maar dis net in krisistyd, is die MRI, die skandering in die tonnel. Daarvoor is ’n familielid of ambulans of David Klein nodig, om ons na die ander hospitaal in die stad te neem. Om ons vlak langs die oprit uit Loopstraat af te laai, te gaan na ’n kamer wat soos ’n kelder lyk, en die deur staan oop sodat jy kan inkyk na die wit gevaarte wat soos ’n yslike blink, wit kanon se loop daar op hok gehou word, waarin jy moet kruip, wat my laat dink aan die kanon in Pagel se sirkus waaruit die nar geskiet word. Of liewer, jy moet plat op jou rug lê en dan word jy in die tonnel ingekatrol. Moet net nie rondkyk in die tonnel nie. Hou jou oë bottoe. En sê ’n gesangvers op.

En deesdae is die koevertdraery nie meer nodig nie, want die dokters lig mekaar elektronies oor ons kwale in en ons is nie lank terug in die kamer nie of die telefoon lui en die huisdokter wil met jou praat.

* * *

En uitpraat met ’n hartsvriendin oor ’n koppie tee in haar woonstel? Nie so maklik met ’n vreemdeling nie. ’n Gawe van Bo is as daar reeds iemand uit jou ou lewe hier woon, of as ’n ou vriendin van buite, wanneer sy ook alleen agtergelaat word, hier intrek.

Soos verwag kan word, omdat ons almal oud is, word daar in die gange of op die klein verandas oor siekte gepraat.

Dis ’n gevaarlike paadjie wat jy nou loop, ’n smal bruggie bokant ’n afgrond. Maar as jy daaroor kan kom, wag daar miskien iets moois.

Eintlik is dit te verwagte dat jy ’n siekte in jou verlede moet hê. Maar waarmee ek nie kan meepraat nie, waarvan ek terugdeins, is dié met die nimmereindigende fisieke pyn. ’n Mens kan pyn in oë lees. Daar is twee goed wat ek in oë kan lees: ’n vrou wat pas swanger is en dit nog nie vir seker weet nie, en ’n vrou met pyn. Aan die eerste vermoë is daar in die plek waar ek nou woon nie meer behoefte nie, en van die tweede skram ek weg. Daardie pyn wat met die horlosie saamloop, in skofte van vier ure, of as die pille baie sterk is, ses ure. Dagin, daguit, nagin, naguit. Ek wil my op die grond voor haar werp, haar voete soen.

* * *

’n Ouer mens word net stil van pyn. ’n Kind gooi sy lyf rond, skreeu en huil dat die trane oor sy gesig drup as hy seerkry. ’n Kind “sit aan”, skree harder, druk die trane uit omdat hy verligting wil hê en sal kry; daar is baie soorte verligting – lekkers, ’n speelding, drukkies, soentjies, beloftes. En vir langdurige pyn sal daar miskien ook verligting kan wees. Maar die ouer mens het nie die krag om te huil of te skree nie, en weet lankal daar is nie durende verligting vir die pyn nie. En dat dit geakkommodeer moet word. Om baie dinge te leer akkommodeer is die vereiste van oudword. Ek hou nie van die woord “aanpas” nie, “versoen met” is miskien beter, maar dit dui aanhoudendheid, sonder einde, aan. In die woord “akkommodeer” is daar hoop, dis tydelik, dit gaan verby. Drink net die pynpille gereeld, soos voorgeskryf, en op ’n dag sal jy skielik besef: Dis nie meer nodig nie, dis verby. Jy kan dit nie glo nie, drink maar tog ’n halwe, jy vergeet selfs die halwe, en: dis weg.

* * *

Ons woon in ’n klofie of glooiing tussen Tafelberg en Leeukop. Dus, daar’s ’n stukkie grond agter die ouetehuis en ’n tuin en ’n stroompie en baie bome, selfs ou, ou palmbome met goudgeel dadels in trosse wat tussen die skerp blare deur hang en akkers wat op jou kop val en eekhorinkies wat op die skerppuntblare van palmbome wieg en van die een na die ander spring. Die ou tuin. Met ’n hekkie na die agterste straat en dan ’n klein entjie tot in Kloofstraat.

My nuuskierigheid por my aan, wat beteken “pril” soos in “prille jeug”? Ek kry die Engelse sinoniem “prime of life” (bedenklik) en prime, dus pril, funksioneer ook as werkwoord. Iemand kan “pril”. Ek kom af op interessante betekenisse vir hoe jy ’n baie jong kind pril: In die grondverf sit. Grondeer. ’n Grondlaag gee, kruit op die pan gooi. Insuur. Ons voorvaderlike sprekers was darem slim. ’n Baie jong kind grondeer. ’n Grondlaag gee. In die kol. “Insuur” gee my baie groot plesier. “Kruit in die pan” nog vuriger plesier. Dit pla my dat ek nie my kinders ge-“pril” het nie. Of my kleinkinders nie. Lyk my hulle “kruit in die pan” moes maar vanself kom.

* * *

In my prille jeug, my voorskoolse jare, voor my boekleesjare, was ek ’n tuinkind, of agterplaaskind. Ek kon op die grond sit en die aarde in my pofferhandjies verkrummel, ek kon aan ’n blaar trek totdat hy van sy steeltjie skeur, ek kon hom tussen my vingers verkrummel; ek kon ’n blom na my toe trek totdat die stingel meegee, ek kon die blomblare eet en die stukkies op my tong voel totdat my ma se vinger in my mond dit uitgrou en neersmyt. Ek het ’n suurlemoen opgetel en daaraan gebyt, en klippies gesuig; ek het ’n wurmpie platgedruk.

Ek kom nou nader aan daardie jare terug. Ek kan nie plat op die grond sit nie, dan kom ek nooit weer op nie, maar ek kan my stoel tussen plante intrek, of onder bome, en my hande weerskante van my liggaam laat hang en stilsit, en later begin klein swart miertjies oor my vingers loop. En die blaartjies hoef ek nie van takke af te ruk nie, hulle kom vanself na my. Een val op my voorkop, soos die hand van die boom wat my seën. Ek druk dit teen my lippe en die blaar kry nattigheid, dit kom in my mond en ek proe dit, ek kou stadig daaraan. My vingers trek stingeltjies uit die grond, ek vee dit teen my mou af en ek suig ook daaraan. Berei ek my voor vir my eenwording met die aarde? Dis jammer dat ek wil brand, dink ek, want die eenword met die aarde is veel mooier, soos Klaas, wat begrawe wou word, ook gesê het, maar daardie grawe vol grond wat op my sussie se graf val, hoor ek nog steeds, en die benoudheid, dis seker my asma-dae wat my so bang maak vir ’n doodkis onder die grond, daai benoudheid is nie vir my nie. Jammerte, die brand is nie so poëties nie. Miskien tog ook.

* * *

Ek sê vir my dogter: My lewe is nou ’n doodloopstraat.

My dogter sê vir my: Ma, mens bly nooit in ’n doodloopstraat nie. Jy draai om, ry terug en kry ’n nuwe koers.

Dit klink baie dapper, maar ek is nie meer dapper nie.

Spertyd

Подняться наверх