Читать книгу Van altyd af - Elsa Winckler - Страница 5
1
Оглавление“Is jy nou heeltemal van jou sinne beroof of is jy net bef-…”
Daar is ’n harde knal en Cilla steek in haar spore vas. Sy kan nie die res van die woord hoor nie, maar sy het ’n baie goeie idee wat die man te sê gehad het. Sjoe, baie aggressie hier. Sy stap stadig om die hoek van die skuur en sien twee mans voor die perdestalle. Sy ken die een, dis Koen. Sy seun Stef is in haar graadtwaalfklas. Dis Koen wat haar gevra het om na ’n moeilike perd te kom kyk.
Die ander man staan met sy rug na haar toe, hande op die heupe, sy bolyf vorentoe gebuig.
“Ek wil die perd kan gebruik, ons het hulp nodig om hom minder aggressief te maak. Ek wil hom nie laat … laat tóór nie, waar kom jy aan dié nonsens? En boonop ’n vroumens, wat weet sý?”
“Sy gaan net kommunikeer met die perd sodat ons kan uitvind wat aangaan, sy gaan hom nie toor nie! Dis glad nie ’n vreemde ding nie, mense dwarsoor die wêreld gebruik dierekommunikeerders. Dink so bietjie uit die boks uit, man.”
Iets val weer met ’n oorverdowende knal en Cilla hoor net “… die boks!” Sy hoef nie te wonder wat hy gesê het nie. Die man se woordeskat sluit blykbaar die vloekwoord wat met f begin mildelik in.
Koen slaan die man op die skouer en lag. Hy sien haar raak en wink haar nader.
“Hier is sy nou. Sal jy nou so staan en tekere gaan? Netnou skrik die juffrou vir ons en gee sommer pad. Juffrou Naudé, kom laat ek jou aan dié kwaai man voorstel.”
Die ander man draai vinnig om en Cilla knip-knip haar oë. Alles om haar hou op beweeg. Dis asof sy presies geweet het hoe hy gaan lyk nog voordat hy omgedraai het. Asof sy geweet het dat die blou van sy oë soos die blou van die diepsee is, asof sy presies geweet het sy hare is donker, krullerig en agteroor gekam, asof sy geweet het van die een ontembare krul wat net nie saam met die ander agtertoe gekam wil wees nie.
Ná ’n oomblik keer alles weer terug na normaal, so te sê. Cilla trek haar asem diep in en probeer fokus op wat Koen sê. Die ander man lyk so bekend … sy skud haar kop effens. Sekerlik maar net haar verbeelding.
“Reynecke, dis nou Cilla Naudé, onderwyseres en dierekommunikeerder – horse whisperer, of wat jy dit ook al wil noem. En hierdie skeptikus, juffrou Naudé, is die eienaar, Reynecke Retief. Soos jy seker afgelei het, is hy nie juis opgewonde oor jou besoek nie,” terg hy terwyl duisende duiweltjies in sy skrefiesoë ronddans.
Cilla steek haar hand stadig na Reynecke uit. Hy het nog heeltyd nie sy oë van haar af gehaal of iets gesê nie. Sy oë is yskoud. Dat hy haar nie hier wil hê nie, is baie duidelik. Uitdagend lig sy haar ken. Sy het nie gevra om hier te wees nie, sy is genooi, gevra om te kom. Wat ’n onbeskofte vent! G’n wonder sy perd het ’n probleem nie.
Uiteindelik steek hy wel vinnig sy hand uit. Sterk vingers vou haar hand amper heeltemal toe. Verbouereerd kyk sy af na hul hande. Sy het gewéét hoe sy vingers om hare sal voel, presies geweet waar die eelte op sy vingers gaan wees. Hoe is dit moontlik?
Sy trek haar hand vinnig uit syne en knik sonder om weer in sy oë te kyk. Dan draai sy na Koen.
“Waar is die perd?”
Voordat Koen nog sy mond kan oopmaak, druk Reynecke sy wysvinger feitlik onder haar neus in.
“Cilla …” Dan laat sak hy darem sy hand. “Watse vreemde naam is dit?”
Cilla lig haar kop en kyk vies na die man. “Vir iemand met ’n van vir ’n naam het jy baie te sê oor ander mense se name. Dis afgelei van Cecilia, as dit jou gemakliker sal laat voel.” Sy probeer nie eens die sarkasme uit haar stem hou nie.
Die wysvinger swaai weer rond. “Cilla, Cecilia … juffrou Naudé … wat ook al, jy raak nie aan my perde met jou … jou toordery nie, is dit duidelik? Jy het jou tyd gemors, en –”
Iets val weer binne die stalle en ’n verskrikte werker storm uit, asvaal.
“En nou, Krisjan?” vra Koen hom.
“Daai perd is mal, ek gaan nie weer daar in nie, mal sê ek vir julle!” Hygend na asem sak hy teen die stalle se buitemuur af.
Koen vou sy arms voor hom en skud sy kop. “Twee werkers is al in die hospitaal, en hier’s nou nog een wat nie weer met Bravo wil werk nie. Maar blykbaar weet die eienaar self presies wat om te doen. Ek is jammer jy’t nou jou tyd gemors, juffrou. Kom, ek stap saam met jou terug.”
Cilla kyk egter na Reynecke. “Ek toor nie, meneer Retief. Ek kan jou help. Al is ek ’n ‘vroumens’. Maar dis jou keuse.”
“Jy wil vir die perd fluister? Nou maar goed dan, kyk wat jy kan uitrig, laat ons sien hoe jy daai beneukte dier regtoo … regkry.” Die sarkasme drup. Reynecke vou sy arms en leun teen ’n paal.
Cilla gee hom ’n vuil kyk. Wat ’n sotlike vent! Sy is bitter lus om om te draai en huis toe te gaan, maar sy wil nie vir Stef teleurstel nie. Sy weet hy het sy pa vertel van haar vermoëns met diere ná die insident by die skool toe sy ’n rondloperhond gepaai het.
Sy trek haar skouers terug en stap doelgerig by die stalle in. Hoe gouer sy weet wat die probleem is, hoe gouer kan sy dit oplos – en hoe gouer kan sy hier wegkom.
Reynecke voel asof iemand hom ’n vuishou vol in die maag gegee het. Hy kyk die langbeen donkerkop agterna totdat sy in die stalle verdwyn. Toe hy netnou omdraai en haar sien, het hy gedink sy tong gaan uit sy mond val. Hy het al baie mooi meisies gesien, baie sexy girls op die strand dopgehou, baie aantreklike vrouens gedate, maar nog nooit, ooit het een se gesig sy mond uitgedroog en sy woorde laat opraak nie.
Maar hierdie een … Hy was so kwaad vir Koen dat hy kon slange vang. En toe draai hy om en hierdie … wese staan daar. Sy kake was gelukkig styf op mekaar geklem van woede. Hy moes nog stywer vasbyt, anders het sy tong sweerlik op die grond voor hom beland.
’n Gordyn van kort, swart hare omraam haar gesig. Haar vel lyk soos … wel, soos porselein. Hy moes sy hande in vuiste klem, want vir een waansinnige oomblik wou hy sy hand uitsteek en oor haar wang streel om te weet hoe sy onder sy vingers sou voel. Maar dis haar oë wat hom byna op sy knieë gehad het. Helder grasgroen oë wat tot in jou siel kyk, omring deur donker, donker wimpers.
En daar was iets in haar oë, herkenning? Ken hy haar dalk? Het hy haar al iewers ontmoet? Hy skud sy kop vies. Die vroumens het al klaar sy kop deurmekaar en sy is nog nie tien minute op sy plaas nie!
Hy voel ’n hand op sy skouer. Koen beduie na die stalle.
“Gun haar nou ’n billike kans. Wat is die ergste wat kan gebeur? Meer beneuk as wat Bravo op die oomblik is, kan hy beswaarlik wees. Ek het jou mos vertel wat sy by die skool gedoen het?”
“Ja, ja, jy het. Maar om ’n verwilderde rondloperhond te kalmeer is een ding. Om ’n uitgegroeide, befoeterde hings te –”
Sy woorde raak weg. Cilla en Bravo kom uit die stal gestap, die perd se kop teen die vrou se skouer, ’n hand teen sy gesig, die teuel in haar ander hand. Cilla stap rustig na die ring, wat net ’n entjie verder is, en lei die perd deur die hek tot in die middel van die groot sirkel. Dan gaan staan sy doodstil. Met haar hand steeds teen die perd se gesig staan vrou en dier minute lank net so.
Dis asof alles rondom hulle ophou asemhaal; die wind gaan lê, die aarde staan vir ’n rukkie stil. Dan knik Cilla en tree terug, en terwyl sy die teuels vashou, gee sy Bravo ruimte om al in die rondte te draf.
Koen blaf ’n lag uit en slaan Reynecke weer op die skouer. “Wat sê jy nou? Wat sê jy nou, hè? Ons kon nie een naby hom kom nie en kyk hoe flirt hy met die girl!”
Reynecke kyk, en dis sowaar asof Bravo flikkers gooi vir die meisie in die middel van die ring. Die perd se oë is heeltyd op haar, hy runnik saggies en beweeg sy kop op en af. Hy draf al hoe stadiger en stadiger en dan stap sy nader na hom toe. Bravo beweeg tot teenaan haar en laat sak sy kop.
“Kan jy nou meer?” fluister Koen. Reynecke staan verstom. So iets het hy nog nooit gesien nie.
Cilla lei die perd uit die ring en verdwyn met hom in die stalle. Oomblikke later kom sy glimlaggend daar uit.
Reynecke druk sy hande vervaard in sy broeksakke. Die effense glimlag versag haar gesig. Haar oë blink nog helderder as netnou. Sy is eenvoudig beeldskoon. Én sexy. Ongelooflik sexy.
Hy besef hy moet iets sê, maar hy sukkel om enige logiese sin aanmekaar te sit.
“En toe,” vra Koen haar, “wat sê hy vir jou?”
Reynecke pluk sy hande uit die sakke en vou sy arms voor hom. Hy is soos ’n tienerseun wat die eerste keer ’n regtig mooi meisie sien. Hy beter homself vinnig regruk. Hy het genoeg moeilikheid; hy het nie nog ’n vreemde vroumens ook in sy lewe nodig nie.
Cilla maak haar mond oop, maar bedink haar betyds, sê dan: “Hoe lank het julle al perde hier?”
“Seker nou so twee jaar. Hoekom?” vra Koen.
“O, nee, die stalle lyk of dit al lankal hier is, ek het gewonder …”
“Daar was lank nie perde op die plaas nie. Ek het twee jaar gelede die stalle opgeknap en weer begin perde aankoop. Kla Bravo dan oor die geriewe?” vra Reynecke sarkasties.
Cilla kyk koel na hom, haar glimlag nou weg. Sy voel in twee geskeur. Sy weet die perd het haar nodig, maar sy kan nie haar werk doen as die eienaar hierdie houding het nie. En dan is hy boonop ongeskik ook.
“Ek kan help, maar jy vertrou my nie. Jou aggressie help nie jou menseverhoudinge nie, en beslis ook nie jou verhouding met Bravo nie. Wanneer jy bereid is om ander moontlikhede te ondersoek en besef dat wat ek doen die natuurlikste, mees instinktiewe ding op aarde is, kan jy my laat weet.” Sy draai na Koen en trek haar skouers op. “Ek kan nie só werk nie. Ek hoop julle kom reg. Totsiens.”
Cilla ignoreer Reynecke en stap vinnig na haar motor toe. Toe sy om die hoek van die skuur verdwyn, hoor sy hoe die twee mans verder argumenteer. As die man haar net ’n kans wil gee … Sy skud haar kop treurig. Nee wat. Dié een is nie net skepties oor haar vermoë om met diere te kommunikeer nie, hy’s nog onbeskof ook, en ’n chauvinis.
Sy het haar motor voor die groot plaashuis met die breë stoep parkeer. ’n Werker is doenig in die voortuin. Dit lyk asof hy bolle plant. Cilla sou nie gedink het die stroewe man wat sy pas ontmoet het, sal iets onnodigs wil plant nie, iets wat ekstra moeite sal verg.
Sy klim in haar motor en kyk nog een keer stalle se kant toe. Tog vreemd dat die vent vir haar so vreeslik bekend lyk, want sy is taamlik seker hul paaie het nog nooit gekruis nie. Sy sou definitief ’n man met sulke breë skouers en daai hare onthou het.
Tog jammer dat hy nie ’n klein kopskuif kan maak en ten minste probeer om ander moontlikhede te ondersoek wat hom kan help met sy perd nie. Dis sy verlies, maar dis die perd vir wie sy jammer voel. Sy weet sy kan Bravo help, maar sy het lankal geleer dat die probleem selde by die perd lê. Dié eienaar is natuurlik vol draadwerk en vooroordele, en dis duidelik dat sý opinie al een is wat tel.
Sy het gelukkig lankal besef dat sy nie mense kan oortuig om te glo in wat sy doen nie. En sy hoef dit ook nie meer te doen nie.
Die wonderlikste tyd in haar lewe was die kort rukkie wat sy naweke op ’n perdeplaas in Amerika gewerk het. Sy het vir ’n jaar daar gaan skoolhou en het die geleentheid aangegryp om naweke haar passie vir diere, en veral perde, uit te leef. Niemand daar het dit vreemd gevind dat sy weet wat diere dink nie. Almal kon op die een of ander manier met die perde kommunikeer. Die beginsel waarop die afrigting daar berus het, is respek en liefde vir die perd. Dit was vir haar heeltemal logies; haar pa pas nog al die jare dieselfde idees toe met die perde in sy stoetery.
Vandat sy onthou, kan sy met diere kommunikeer. Sy het gedink almal doen dit. Haar ouers het haar nooit laat verstaan dat wat sy doen, vreemd is nie. Eers toe sy skool toe gaan, het sy agtergekom die ander kinders kyk haar vreemd aan as sy praat oor wat sy van diere weet. Sy het vinnig geleer om haar gedagtes vir haarself te hou.
Haar selfoon lui. Sy glimlag toe sy sien dis Imke. Dié witkop dogtertjie het haar van die eerste skooldag af onder haar vlerk geneem en niemand het dit ooit gewaag om Cilla te terg as Imke in die rondte was nie. Hulle is saam universiteit toe en was al twee vir ’n jaar oorsee, Cilla in Amerika en Imke in die Ooste, voordat hulle poste aanvaar het by hul ou hoërskool op Caledon. Imke gee wiskunde en Cilla Afrikaans.
“En toe? Wat sê die perd?” terg Imke goedig.
“Die perd is alleen, hy is verveeld, maar sy baas is …”
“Oulik? Aantreklik? Sexy?”
Cilla lag. “Ja, al drie, maar hy’t oogklappe aan. Hy dink ek toor die diere. Hy moet dan maar ’n ander plan maak.”
“Wel, dis sy verlies. Is jy op pad plaas toe?”
“Ja, kan jy vanmiddag help?”
“Natuurlik. Ek het al vroeg vanoggend met jou ma gepraat, ek gaan sommer oorslaap. Kry jou daar. Ek gaan reguit stalle toe.”
Cilla draai links op die N2, Caledon toe. Gelukkig het sy nie vanoggend nodig gehad om te ver te ry nie – Reynecke se plaas is net ’n entjie duskant Villiersdorp en dié tyd van die dag is die pad taamlik stil. Sy sal betyds wees vir die kinders vanmiddag.
Sy ry deur die stoppel-koringlande. Dis die einde van Maart en een van die dae, voor die eerste winterreën, sal die boere saai. Sy ry oor ’n bult en kan vir ’n oomblik ver kyk oor die rûens van die Overberg. Sy kyk oor haar skouer na waar Babylonstoring, ’n bekende bergspits, hoog bo die landerye uittroon. Ai, dit bly vir haar die mooiste stukkie aarde op die planeet. Dan trap sy die petrolpedaal dieper in; sy wil by die huis kom.
Haar hart word ligter terwyl sy dink aan wat sy, haar pa en haar ma die afgelope ses maande reggekry het. Hulle het daarin geslaag om ses perde uit haglike omstandighede te red. Baie tyd en geld later kan ’n mens amper nie glo die blinklyf, spelerige diere is dieselfde verwese perde wat by hulle aangekom het nie.
En toe kon sy haar droom bewaarheid. In samewerking met maatskaplike werkers van die stad en advertensies vir borge op ’n sosiale netwerk kon hulle met ’n program begin waar hulle getraumatiseerde kinders en die perde bymekaarbring. Die laaste paar weke het hulle ook met ’n outistiese seuntjie begin werk. Die feit dat Cilla se ma ’n praktiserende sielkundige is, het die hele proses baie makliker gemaak.
Die heling wat Cilla oor die afgelope paar weke kon aanskou, bring elke keer ’n knop in haar keel wanneer sy daaraan dink. Elke huiwerige glimlag op ’n weerlose kindergesiggie laat haar opnuut besef dat al die geld en tyd oor en oor die moeite werd was.
Dan skuif diep blou oë skielik voor haar in. Hét sy die man al iewers gesien? Sy moet tog haar ma vra. Dalk het hulle twee mekaar as kinders geken. Dis net so asof sy … Sy skud haar kop en kry lag vir haarself. Nee, sy’t nog nooit haar hande deur daardie krulle gesteek nie, dit sou sy darem onthou het. Dan nie?
“Salig,” sug Cilla en lê behaaglik agteroor terwyl sy nog ’n slukkie wyn vat. Dis skemer en hulle is almal buite. Sy en Imke was heelmiddag besig met die kinders en die perde, en hulle kon self ook gaan perdry. Cilla se kop voel weer skoon ná die week en haar frustrerende oggend. Haar pa is doenig by die braaiplek en sy en haar ma en Imke sit ’n entjie verder weg in diep gemakstoele.
“Nou toe, vertel nou eers vir ons van die oulike, aantreklike, sexy man wat jy vanoggend ontmoet het,” sê Imke.
Cilla lag terwyl haar ma liggies verstik in haar slukkie wyn.
“Watter man?” vra haar ma blitsig, en haar pa kom nader, braaivleisvurk half dreigend in die hand. “Watter man?” vra hy ook.
Cilla kyk kamma kwaai na Imke. “Sien jy nou wat het jy gedoen? Ek sal nooit die einde hiervan hoor nie.”
“Watter man?” vra haar pa weer en swaai die vurk in die lug rond.
Cilla sug. “Daar was ’n wilde rondloperhond by die skool die anderdag …”
“Cilla het met hom gepraat en hom heeltemal kalmeer, voor die hele skool, die kinders praat nou al dae lank oor niks anders nie,” val Imke haar in die rede.
“In elk geval,” probeer Cilla weer, maar Imke praat verder asof sy nie onderbreek is nie.
“En toe het een van die matrieks sy pa daarvan vertel. Sy pa is ’n bestuurder op ’n plaas naby Villiersdorp en die eienaar sukkel met ’n perd. Hy het toe vir Cilla gevra om te gaan kyk en … ek weet nou nie verder nie, jy moet die res vertel.”
“O, mag ék nou praat?” vra Cilla sarkasties.
“Ja, man, jy’s net te stadig, toe, vertel nou.”
Cilla lag. Dit help nie om vir Imke kwaad te raak nie; sy neem maar ’n gesprek so oor as dit nie vinnig genoeg beweeg na haar sin nie.
“Ek is vroeg vanoggend soontoe, maar die eienaar het ’n probleem met wat ek doen, met die feit dat ek ’n vrou is, met … ag, alles. Hy dink ek gaan sy perd toor. Hy het nie vooraf geweet Koen, die bestuurder, het my gevra om te kom nie en hy was duidelik bitter vies. Sy … e … woordeskat is heel eksplisiet en vurig.”
“Het jy toe na die perd gekyk?” vra haar pa.
“Ja, en ek kan help, maar die eienaar moet self agterkom hy het my hulp nodig. Pa weet hoe dit werk.”
“Wat dink jy is fout?”
“Hy …” Cilla skud haar kop en lag. “Pa sal dit nie glo nie, maar hy het ’n prentjie in sy kop van ’n merrie, en ek kan sweer dis Maggie.”
“Óns Maggie?”
“Ja, rooibruin met swart maanhare. Daar is seker baie ander merries wat net so lyk, maar dit was vir my snaaks. Hy moes haar iewers geruik het. Maar hoe? Ek moes gevra het waar hy al orals was. Dan is hy ook nog verveeld, hy wil vry rondhardloop.”
Haar pa knik. Sy het nooit nodig om breedvoerig oor ’n perd se probleem uit te wei nie, haar pa weet wat sy bedoel.
“Wie is dié man?” vra haar ma.
“Reynecke Retief, hy boer –”
“Naby Villiersdorp. Op Rietfontein.”
Cilla kyk verbaas na haar ma. “Ja, ken julle hom? Ek het nogal gewonder …”
“Nee, jy sal nie onthou nie, jy was ’n baba, maar ek het sy ma goed geken. Ai, so tragies. Hulle het pragtige perde gehad, sy was mal oor perdry. Hulle het twee seuns gehad, as ek reg onthou. Die jongste was net skool toe, toe het ’n perd haar afgegooi. Sy is op slag dood. Haar man het van al die perde ontslae geraak. Ons het een of twee keer weer gaan kuier, maar hy was ’n ander mens, totaal verpletter. Ek was so jammer vir die twee seuntjies wat sonder ma moes grootword. Reynecke, sê jy?” Sy kyk na haar man. “Die jongste enetjie? Wonder hoekom die ouer broer dan nie boer nie?”
“Nee, ek sal nie weet nie. Klink asof hy dan besluit het om weer perde aan te hou.”
“Ja, een van die min dinge wat ek uit hom kon kry, was dat hy so twee jaar gelede die stalle opgeknap het en begin perde koop het.”
Cilla se selfoon lui. Dis nie ’n nommer wat sy ken nie. “Verskoon my,” sê sy, staan op en stap ’n entjie weg.
“Cilla Naudé.”
“Naand,” hoor sy ’n growwe stem aan die ander kant, en sy weet dadelik dis Reynecke Retief.
“Hallo, meneer Retief,” groet Cilla ewe formeel. Wat wil die man tog nou hê?
Hy maak keel skoon. “Ek … ek …” Sy hoor ’n sagte knoop en glimlag. Hy ken ook vloekwoorde wat nié met ’n f begin nie.
“Ja, meneer Retief?”
“My naam is Reynecke. En wat ek probeer sê, is dat ek … oor vanmiddag … ek moes nie … ek weet dat ek …” Cilla hoor hom weer saggies swets.
“Dis reg so, ek aanvaar jou verskoning. Is daar nog iets?”
Dis ’n oomblik stil aan die ander kant. “Kan ek nou my sin probeer klaarmaak, of gaan jy my weer in die rede val?” vra hy vies.
Cilla trek haar asem diep in en kners op haar tande.
“Meneer Retief, ek het nie heelaand tyd nie. As jy eendag jou woorde agtermekaar het, bel my weer.” Sy druk die foon dood en stap terug na die tafel.
“Wie bel jou so op ’n Saterdagaand?” wil Imke moedswillig weet.
“Dis –” Haar foon lui weer. Sy sug oordrewe en stap weer ’n entjie weg.
“Ek is jammer oor vanmiddag, ek het jou nie verwag nie en jy het my …” Dan raak dit stil.
“Ja, ek het jou …?”
“Dis nie belang … Ek wou om verskoning vra vir my optrede en hoor of jy nie asseblief bereid is om weer na Bravo te kom kyk nie.”
Cilla is ’n oomblik doodstil.
“Hallo? Hallo? Cilla?”
Sy druk haar hand teen haar bors waar haar hart skielik wild klop. Om hom haar naam so te hoor sê!
“Meneer Retief, Reynecke, ek weet nie of dit so ’n goeie plan is nie. Wat ek doen, is baie intuïtief, baie natuurlik, en jou kop werk anders. Is jy regtig bereid om my te vertrou en my toe te laat om te doen wat ek dink is reg? En, die belangrikste van alles, is jy bereid om te luister na wat jý sal moet doen? Ek is immers ’n vroumens.”
Dis vir ’n oomblik doodstil. Dan: “Dis vir my baie vreemd. Jy kan dít seker darem verstaan?”
“Wat is vreemd? Dat ek ’n vrou is?”
Sy hoor hoe hy sy asem intrek en dit stadig uitblaas. Tel seker tot tien! Die man is heeltemal te ernstig.
“Nee, die idee dat jy kan weet wat in ’n dier se kop aangaan, dís vir my vreemd,” sê hy afgemete, asof hy bang is sy verstaan weer verkeerd.
Cilla wil haar vererg, maar sluk dit weg en probeer verduidelik. “Dit is nie so vreemd nie. As jy mooi daaroor dink, kommunikeer jy sekerlik ook met die diere op jou plaas. Jy is dalk net nie bewus daarvan nie.”
“Nou wanneer kan jy kom?”
Hoekom het sy tog gedink hy sal verstaan? “Ek hoef nie eintlik daar te wees nie, jy kan ook net vir my ’n foto stuur van Bravo. Ek doen dit dikwels so.”
“Is jy nou hééltemal …” Cilla hoor hoe Reynecke sy asem hard intrek. Sy kan glad hoor hoe hy op sy tande byt.
“Ek sal verkies as jy weer hiernatoe kan kom. Ek sal jou natuurlik vergoed vir jou tyd, die petrol … en raad, natuurlik.”
Cilla sluk liefs aan ’n katterige aanmerking. Sy wil regtig graag die perd help, so sy moet maar sy eienaar se nukke trotseer.
“Wel, ek hou skool, so ek sou volgende naweek eers kon ’n plan maak.”
“Nee, dis te lank. Wat van môre?”
Cilla stap terug na die tafel en kyk vraend na Imke. “ ’n Vriendin kuier by my. Ek sal hoor of sy wil saamkom, dan kan ons so teen …”
“Kom so elfuur, ek sal sorg dat hier iets te ete is. En, uh… dankie.”
Cilla kyk verstom na haar foon. “Hy het die foon in my oor doodgedruk! Hy bel my, sukkel vreeslik om ’n verskoning uit te kry, beveel my dan om môreoggend op sy plaas te wees en voordat ek iets kan sê, druk hy die foon dood! En o ja, ons tweetjies gaan skynbaar kos kry, Imke.” Sy gooi haar hande in die lug.
Imke glimlag. “Klink my na een ou wat nie dadelik oor homself val om jou te plesier nie. En hy hinder jou bietjie. Baie interessant.”
“Allesbehalwe interessant. Ek wil nog sien of hy regtig vir my gaan toelaat om te doen wat ek goeddink met sy perd. Is dit oukei dat ons môre gaan?” vra Cilla dan en kyk eers na Imke en dan na haar ma.
“Wel, my naweek saam met my meisiekind is korter as wat ek gedink het, ek is glad nie beïndruk met die man nie,” sê haar ma gemaak kwaai, “maar ons sien jou darem seker volgende naweek? Imke, jy weet jy is ook altyd welkom.”
Cilla buk af en gee haar ma ’n drukkie. “Natuurlik. Ná ’n week van my en Imke se kookpogings kan ek nooit wag om ordentlike kos te eet nie.”
“Dankie, tannie,” sê Imke, “maar ek gaan waarskynlik volgende naweek Hermanus toe saam met die klomp jong onderwysers. Cilla, gaan jy dan nie saam nie?”
“Ek het al vergeet van die plan. ’n Naweek op Hermanus klink lekker, maar ek wil maar graag Saterdag hier wees vir die kinders. Ek weet die studente kom help, maar daar is van die outjies wat nog nie op hulle gemak is nie. En ek wil nie dat Ma nog naweke ook werk nie. Ma is besig genoeg in die week.”
“Ek is nog nie oor die muur nie, my kind. Ek kan maar af en toe uithelp oor ’n naweek.”
Cilla druk haar ma se hand. “Dankie, Mamma, maar dis regtig nie nodig nie. Ek kan miskien daarna deurry Hermanus toe.”
“Waar gaan julle bly? Julle is mos welkom om ons strandhuis te gebruik,” sê haar pa van die braai af.
“Dankie, Pa, maar ek dink hulle het verblyf gereël. Maar ek sal by die huis gaan inloer en kyk of als reg is, ek het mos ’n sleutel.” Dan draai sy na Imke. “Kom jy nou môre saam as ek na die perd gaan kyk? Ek sal verstaan –”
“Ek gaan beslis saam! Hierdie oulike, sexy, aantreklike man wat jou so laat frons móét ek ontmoet,” terg sy. “Kan nie onthou dat jy al ooit so baie oor een man gepraat het nie, dink tannie nie ook so nie?”
Cilla se ma glimlag. “Ek wil alles hoor, Imke. Jy maak seker jy mis niks wat gebeur nie. Dis tyd dat iemand die kind van my bietjie hinder.”
“Julle hou vir julle snaaks, nè? Maar kyk hom môre deur, dan praat ons weer, Imke. Hy’s ’n regte chauvinis. Van die soort wat nie kan glo dat ’n vrou enigiets kan doen nie. Ek sal darem graag wil hoor wat jy vir so ’n man te sê het.”