Читать книгу Hart van die son - Elza Rademeyer - Страница 3
1
ОглавлениеBets de Vos loer grootoog om die deurkosyn van Nadia se kantoor. “Meneer Duvenhage wil jou spreek,” sê sy gedemp. “Terwyl ek daar was, het hy tee bestel vir twee persone, so daar is ’n kliënt op pad. Jy beter spring, anders spoeg hy sy duiwels oor jou ook uit.”
Toe Bets se kop verdwyn, staan Nadia dadelik op van agter haar lessenaar. Sy is nie heeltemal so lugtig vir prokureur Duvenhage soos haar kollegas nie, want daar het ’n besonderse verhouding tussen hulle ontstaan sedert sy deur die bemiddeling van sy seun, advokaat Dewald Duvenhage, die pos by hierdie prokureursfirma bekom het. Behalwe Dewald is sy pa die enigste persoon in die firma wat weet van die skrikwekkende gebeure in haar lewe.
Sy weet egter wat Bets bedoel met “duiwels uitspoeg”. Prokureur Duvenhage duld nie laksheid nie. So, al glo sy hy het empatie met haar omstandighede, beteken dit nie hy sal haar oorsien as sy nie dadelik op sy bevele reageer nie.
“Sit,” sê hy op sy bevelende manier toe sy die kantoor binnegaan. “En skink vir ons tee.”
Nadia skrik haar boeglam. Prokureur Duvenhage is die laaste persoon wat ’n werknemer na sy kantoor sal nooi vir ’n geselsie oor ’n koppie tee. Sy moes iewers verbrou het …
“Ek sê: sit!”
Sy gehoorsaam só vinnig dat sy amper die stoel mis sit.
“Knip jou oë en skink die tee.”
Haar hand bewe en sy moet mooi korrel om nie die tee mis te skink.
“Kry vir jou suiker.”
Sy loer vlugtig na sy gesig en gooi uit pure senuweeagtigheid sommer ’n ekstra lepel suiker in haar tee voordat sy die suikerpot nader aan sy koppie skuif. Hy leun vorentoe, gooi tydsaam suiker in en roer ewe tydsaam die tee. Toe lig hy die koppie om herhaalde kere versigtig aan die warm vloeistof te proe.
Op langelaas kan Nadia die stilswye nie langer verduur nie. “Wat het ek verkeerd gedoen?”
’n Hewige frons verskyn tussen die prokureur se wenkbroue. “Niks waarvan ek bewus is nie.”
“Hoekom het meneer my dan hier na u kantoor ontbied?”
“Om met jou oor jou persoonlikheid te praat.”
Sy staar hom verslae aan. “Ek … ek is jammer, ek het nie geweet my persoonlikheid gee aanstoot nie.”
“Seker nie vir ander mense nie. Maar ék sien nie kans om langer teen jou smartvolle gesig vas te kyk nie. Wanneer gaan jy die dinge van die verlede agter jou laat? Jy’s nog bloedjonk, en ’n pragtige meisie. Vir wat haak jy vas by die dinge wat verby is?”
“Ek probeer. Ek probeer regtig, maar –”
“Juffrou Pretorius, ek is nie ’n berader of ’n dokter nie,” onderbreek hy haar sin. “Maar ek kan sien hierdie ding gaan jou onderkry as jy nie iets daaraan doen nie. Ek wil hê jy moet met vakansie gaan.”
Hy maak die laai van die lessenaar oop en haal ’n klaar geskrewe tjek uit. “Hier, vat dit en maak jou motor vol brandstof. En jy kom nie terug voordat jy jouself is nie, al vat dit ook ’n maand.”
Sy neem instinktief die tjek, maar toe rek haar oë. “Met vakansie? Ek kan nie met vakansie gaan nie! Ek werk dan nog kwalik vyf maande hier. Of … wil meneer eintlik hê ek moet bedank?”
“Ek sou jou gesê het as ek wou hê jy moet bedank. Vat jou motor, en gaan soek die hart van die son.”
“Die hart van die son …?” vra Nadia verward.
“Ja, want dis duidelik jy’s nie tevrede met die son wat tans oor jou skyn nie. Die noodlot het jou ’n lelike streep getrek, dit ontken ek nie, maar dit beteken nie dis die einde van jou lewe nie. Maak werk daarvan om vir jou ’n nuwe toekoms te skep.”
“Dis nie só maklik nie. As u in die tronk was –”
“Hou op om dit elke keer op te haal!” maak hy haar stil. “Jy is onskuldig en vry. Kry dit in jou kop!”
“Ja, danksy u seun is ek vrygespreek van poging tot moord, maar die mense daar buite … Vir hulle is ek iemand wat net losgekom het omdat ek so ’n knap advokaat gehad het.”
“Hoewel jy sê Dewald is knap, is jy nou deksels beledigend teenoor hom. Hy is nie die soort mens wat jou saak sou opgeneem het as hy nie oortuig was van jou onskuld nie.”
“Ek is jammer,” sê Nadia onthuts. “Dis was glad nie my bedoeling nie. Ek het groot agting vir advokaat Duvenhage. Maar daar sal altyd mense wees wat dink ek het Johny opsetlik geskiet, oor ek … hom wou vermoor.”
“Watter mense sal so dink? Dit het tog duidelik tydens die hofsaak na vore gekom watter soort mens Johny Marais was.”
Sy gee ’n suggie. “Ja, maar toe ek hom besoek het, kon ek duidelik die agterdog in die personeel se oë sien.”
“Wanneer was jy by hom?”
“’n Paar dae voordat hy uit die hospitaal oorgeplaas is na die versorgingsinrigting.”
“Hoekom het jy hom besoek?”
“Ek het gehoop hy sal gesond word sodat hy vir my kan sê waar hy daaraan gekom het dat ek met my mondigwording geld sou ontvang. Dit sou baie van my vrae beantwoord het. Ek glo die persoon wat die geld in my bankrekening gedeponeer het, is dieselfde persoon wat dit bewerkstellig het dat u seun as my regsverteenwoordiger opgetree het. Maar as gevolg van sy breinbesering sal Johny seker nooit weer kan praat nie. So ek moet nou maar in die duister bly.”
“Dit sal nie help om ergerlik te raak oor jy nie al die antwoorde ken nie. Jy sal maar geduldig moet wag vir die brief wat jy ná jou weldoener se dood gaan ontvang. Dit behoort alles te verduidelik.”
“U seun weet wie dit is wat my tot hulp gekom het. Wil u hom nie oorreed om die persoon se naam aan my bekend te maak nie?”
“Dewald sal nooit sake verklap wat geheimhouding verg nie, juffrou Pretorius. Nie eens teenoor my nie.”
Nadia neem ’n slukkie tee, maar dis smaakloos. “Dis alles so geheimsinnig. Hoekom moet ek wag tot die persoon dood is? ’n Mens kan tog nie ’n dooie bedank nie.”
“Miskien wil hy of sy nie bedank word nie.”
“Dit kan net een persoon wees: my biologiese pa. Hy is natuurlik weer getroud en –”
“Drink jou tee dat jy kan aangaan met jou werk,” onderbreek prokureur Duvenhage haar sin.
Sy proe weer aan die tee, maar dit bly smaakloos. “Mag ek die tee in my kantoor gaan drink?”
“As jy dit verkies, ja.”
Sy staan op en hou die tjek na hom uit. “Dankie, maar danksy my weldoener se vrygewigheid het ek nie geld nodig nie. Maar as ek met verlof gaan, wie gaan my werk doen?”
Hy neem die tjek en gooi dit met ’n gebaar van onverskilligheid in die laai. “My susterskind het ingewillig om jou kantoor te behartig tot jy terugkom. Sy het vantevore by ’n prokureursfirma in Bloemfontein gewerk, so sy weet wat die werk behels. Dis vandag Dinsdag. Ek sal haar sê om môre te begin. Teen Vrydag behoort sy vertroud te wees met die werk. Dan kan jy oor die naweek vertrek. Maar daardie geld wat jy van jou weldoener gekry het … Jy’t dit tog seker belê? As jy dit nie gedoen het nie, is jy dom.”
“Ek het nie. Dis nog in my spaarrekening. Hoe kan ek seker wees daar is nie iewers ’n misverstand nie? Dalk word ek verwar met iemand anders. Iemand met dieselfde naam en van.”
Hy trek ’n dokument nader. “Die brandstofprys gaan môre op. So onthou om vanaand al jou motor vol brandstof te maak.”
Toe hy sy pen opneem, stap Nadia deur toe, maar steek dan vas. “Ek wil net dankie sê. Baie dankie vir u begrip en … alles. Ek het nie kon dink daar is nog sulke goeie mense op aarde nie.”
Hy kyk gesteurd op. “Sogenaamde goeie mense het ook soms geraamtes in die kas. Is jou werk klaar? Dis amper sluitingstyd.”
Sy maak saggies die deur agter haar toe en loop peinsend na haar kantoor. Sou hy bedoel hý het ook geraamtes in die kas? Dis ondenkbaar. Hy is ’n befoeterde man, maar beslis nie agterbaks nie.
Dis moeilik om haar aandag by haar werk te bepaal. Haar gedagtes is ’n maalkolk van verwondering en dankbaarheid teenoor almal wat so goed vir haar was en steeds is. Maar ook deurspek met bitterheid oor die dwarsklappe wat die lewe haar toegedien het. En al die onbeantwoorde vrae …
“O, is jy terug? Het meneer Duvenhage jou ook uitgetrap, of wat moes jy daar gaan maak?” word haar gedagtes onderbreek toe Bets die kantoor binnekom.
“Nee, hy’t my net ’n opdrag gegee om uit te voer.”
“O. Dan sal ek jou nie ophou nie. Maar sê gou vir my, is daar ’n moontlikheid dat jy my sluitingstyd ’n lift huis toe kan gee? Ek het die garage gebel, maar hulle is nog nie klaar met my motor nie. En my ou het nou net gebel om te sê hy moet vanaand laat werk.”
“Dis reg. Jy kan enige tyd saam met my ry.”
“Dis ’n bietjie van ’n draai.”
“Ag, dis nie só ver uit my pad nie. Ek doen dit met plesier.”
“Dankie tog. Anders was ek nou gestrand.” Bets loer op haar horlosie. “O gonna, kyk waar trek die tyd al! Sien jou netnou op die parkeerterrein.”
Al het Nadia vir Bets gesê dis ’n plesier om haar ’n geleentheid te gee, sien sy op daarteen. Sy weet sommer Bets gaan weer ongemaklike vrae vra. En dat sy weer sal moet lieg, soos talle vorige kere.
Hulle is dan ook skaars in die motor of Bets wil weet of sy darem al oor haar liefdesteleurstelling is.
“Ek werk nog daaraan, maar dit gaan al beter.”
“Daai ou het jou darem sleg gedrop,” sê Bets bejammerend. “Jy kan maar sê so vóór die kansel. Ek hoop net nie jy’t nou jou vertroue in alle mans verloor nie. Daar is darem nog eerlike ouens ook op die aarde wat nooit hul meisies sal verkul nie.”
“Ja, ek besef alle mans is nie dieselfde nie.”
“Jy’s so ’n oulike meisie, ek hoop jy loop sommer binnekort ’n betroubare man raak. Miskien moet ek jou aan Frans voorstel. Dis my ou se beste pel. Hy’s amper deur dieselfde ding as jy. Klaar verloof gewees en alles, toe besluit sy meisie sy gaan oorsee en toe sê sy sommer vir hom ook net daar goodbye. Wil jy hê ek moet ’n date reël vir jou en Frans?”
“Nee, dankie. Ek stel regtig nie belang nie. Daar is eers ander dinge waarby ek my aandag gaan bepaal voordat ek weer aan mans sal dink.”
“Soos wat?”
“Ag, sommer … om ’n kursus in houtsneewerk te deurloop,” gryp Nadia naarstig na uitkoms.
“O genade, nee, dis nie vir my nie. Ek sal my morsdood verveel. Jy’s so mooi en goed gebou, hoekom neem jy nie liewer danslesse nie? Dan ontmoet jy dalk ’n oulike instrukteur, en voor ons sien is jy getroud!”
“Moet ek jou môreoggend kom oplaai werk toe?” vra Nadia toe sy voor Bets se huis stilhou.
“Nee, moenie worry nie, my outjie sal my sommer daar drop op pad na sy werk toe.”
Leuens, leuens, dink Nadia toe sy verder ry. Leuens wat sommer so half vanself by haar opgekom het toe sy by die prokureursfirma begin werk het. Sy het eenvoudig nie die moed gehad om vir haar kollegas te sê sy was in die tronk en aangekla van poging tot moord nie.
Prokureur Duvenhage het haar ook afgeraai om dit te doen. “Dis nie nodig dat jy vir die mense saam met wie jy gaan werk daarvan vertel nie. En jy hoef ook nie bang te wees ek sal hulle inlig nie.”
Nadat sy vrygespreek is, het sy haar blonde hare kort geknip en donker gekleur. En sy dra omtrent pal ’n donkerbril wanneer sy op straat gaan om nie herken te word nie. Sy vermy ook gesprekke oor haar verlede, maar die prokureursfirma se personeel kon tog dadelik agterkom sy is nie ’n stralend gelukkige meisie nie. Dié dat sy ’n storie opgedis het van ’n man wat haar op die vooraand van hul huwelik in die steek gelaat het. Ironies genoeg, ook nie heeltemal so ver verwyder van die waarheid nie …
Toe sy haar woonstel binnegaan, probeer sy haar gedagtes in ’n ander rigting dwing. Na die onverwagte vakansie wat om die draai op haar wag. Maar sal dit help om haar te laat vergeet? Die klap van die skoot, die bloedstraaltjie langs Johny se oor …
Sy gooi haar handsak op ’n stoel neer en skakel die ketel aan. As sy net kan uitvind of dit regtig haar biologiese pa is wat haar so uit die bloute tot hulp gekom het. Maar niemand wil vir haar sê nie. Allermins advokaat Duvenhage. Elke keer loop sy haar vas teen dieselfde antwoord: Jou weldoener is ’n terminaal siek persoon wat anoniem wil bly tot ná sy of haar dood. Daarna sal jy ’n brief van die weldoener se prokureur ontvang wat alles sal verduidelik.
Dis moeilik om daarmee vir lief te neem. As sy net ’n naam tot haar beskikking gehad het! Die naam van haar biologiese pa, wat volgens haar grootmaakouers “weg” is. Waarheen of hoekom, het hulle geweier om vir haar te sê. Sy was ook nog te klein en te bang om aan te dring op ’n antwoord, want ma-Anna en pa-Kerneels Pretorius het nie ’n geneul verdra nie.
Nadat sy vir haar ’n koppie koffie gemaak het, loop sy kamer toe daarmee. Maar van haar planne om gemakliker klere aan te trek, kom daar niks. Meneer Duvenhage is reg, sy hét baie om voor dankbaar te wees. Sy is inderdaad dankbaar. Dankbaar dat die hofsaak in haar guns afgeloop het. Ook vir die werk wat sy het.
Maar dis alles te danke aan die barmhartige Samaritaan wat so onverwags na vore gekom het toe sy die donkerste tyd van haar lewe beleef het. Sonder hom … of haar kon dinge lelik skeefgeloop het. Sy het nie geld gehad vir ’n prokureur nie, laat staan nog vir ’n advokaat!
Nadia gaan sit op die kant van haar bed. As sy maar net destyds die oom en tannie van die viswinkeltjie by De Meer verder uitgevra het. Sy is seker daarvan hulle het meer geweet van haar biologiese ouers as wat hulle bereid was om te sê. Of as sy Johny uitgevra het daardie noodlottige nag …
Sy gee onbewustelik ’n suggie. Dié asse gaan haar nêrens bring nie. Sy was maar elf jaar oud toe Engela die dag by die skool vir haar gevra het of sy weet dat sy ’n aangenome kind is.
“Waar hoor jy dit?” wou sy weet.
“Ek het gehoor toe my ma gister met ’n tannie op George gepraat het.”
“Wat het sy gesê?”
“Die tannie het gevra of jou pa nog so suip. En toe my ma sê ja, dit gaan maar nog so aan, toe sê die tannie sy kan nie verstaan hoekom jou pa en ma jou aangeneem het nie, want hulle het skaars kos vir hulleself. Toe sê my ma sy verstaan dit ook nie.”
“En toe?”
“Toe niks. My ma het gesê ons moet loop, want sy’t nog baie om in die dorp te doen.”
“Wie was die ander tannie?”
Engela het haar skouers opgetrek. “Hoe moet ek weet? Ek het haar nog nooit vantevore gesien nie.”
Vir ’n wonder gil Nadia haar nie weer gedurende die nag wakker nie. En vir die volgende drie dae kry sy nie tyd vir tob nie, want sy moet prokureur Duvenhage se susterskind inlig oor haar pligte. Nie dat dit ’n moeilike taak is nie, want die meisie is bekwaam en snap vinnig.
Donderdagnag droom sy van haar kinderdae in De Meer, en van Dimitri, die skraal seuntjie van hul Griekse bure wat ook haar enigste speelmaatjie was. Hy was so twee jaar ouer as sy, maar soos sy het hy ook nie eintlik maats by die skool gehad nie. Die mense wat teen die hang gewoon het, wou nie hê hul kinders moes bevriend raak met die kinders van die sukkelaars op die oewer van die meer nie. Sy en Dimitri was dus maar op mekaar aangewese om hul ledige tydjies te verwyl. Nie dat ma-Anna haar veel ledigheid gegun het nie.
Sy droom ook van die man wat eendag ’n foto van haar geneem het terwyl sy op een van die rotspunte in die meer gesit het. Maar die droom is vaag, want dit was jare gelede. Sy was te klein om notisie van die man te neem.
Vrydagoggend toe sy by die kantoor kom, wil meneer Duvenhage weet of sy al besluit het waar sy haar vakansie gaan deurbring.
“Nee, nog nie. Ek het al my tasse gepak, maar ek sal maar dat my neus my lei.”
“My susterskind voel opgewasse vir die werk, so jy kan maar nou huis toe gaan as jy wil. Dan kan jy vandag nog in die pad val.”
“Hoekom? Ek kry al meer die gevoel meneer kan nie wag om van my ontslae te raak nie.”
“Ek en my vrou het ook ’n dogter gehad – daar is net drie dae verskil tussen jul geboortedatums. Sy is egter op tienjarige ouderdom oorlede. As sy nog geleef het, en dieselfde dinge het met haar gebeur as met jou, sou ek berge versit het om haar weer gelukkig te sien. Ek wil hê jy moet ook gelukkig wees.”
Toe Nadia by haar woonstel kom, besluit sy om dadelik in die pad te val. En moontlik is dit haar drome van De Meer die vorige nag wat haar laat besluit om daarheen te ry. Sy kyk op haar horlosie toe sy die woonstel se deur agter haar sluit. As alles voorspoedig verloop, behoort sy nie later as vieruur by De Meer aan te kom nie.
By die straat na die inrigting waar Johny is, draai sy op die ingewing van die oomblik af. Sy aarsel voor die gebou voordat sy uitklim, want sy weet nie of dit die regte ding is om te doen nie. Die vorige keer toe sy hom in die hospitaal besoek het, was sy agterna só geteister deur skuldgevoelens dat advokaat Duvenhage daarop aangedring het dat sy ’n berader gaan sien.
Sy staal haar en stap doelgerig die gebou binne. Anders as die vorige keer, kyk die persoon agter die ontvangstoonbank skaars op toe sy vra of sy Johny Marais kan besoek.
“Ja, stap maar deur. Hy’s in kamer 4, regs af in die gang.”
Die kamer se deur staan oop. Hy lê met sy gesig na die deur gedraai. Sy oë is oop, maar dit staar steeds leweloos by haar verby.
“Johny,” sê sy sag toe sy by die bed kom. “Dis ek, Nadia. Onthou jy my?”
Maar daar is geen reaksie nie. Nie eens ’n oogknip of die roering van ’n gesigspier nie. Ook nie toe sy haar hand voor sy oë beweeg nie.
Die reuk van die urinesakkie langs die bed laat ’n naarheid in haar opstoot, maar sy onderdruk dit en haal haar donkerbril af. Toe haal sy ’n snesie uit haar sak om sy kwylende mond skoon te vee.
“Johny, ek is so jammer … Ek het nie geweet die pistool was gelaai nie. Jy weet tog ek sou dit nie reggekry het om … Johny, jy moet gesond word. Jy moet my vertel van die geld met my mondigwording. Hoe het jy daarvan geweet?”
Toe sy ’n geritsel by die deur hoor, sit sy vinnig die bril terug op haar gesig voordat sy omdraai en daarheen kyk. Sy snak van verbasing toe sy die persoon herken. “Joan! Waar kom jý vandaan? Ek bedoel, wat maak jy hier?”
Die meisie in die deur kyk vlugtig na die man op die bed, voordat sy na Nadia kyk. Toe glimlag sy effens. “Hallo, Nadia. Jy lyk so anders, ek sou jou nooit herken het as dit nie vir jou stem was nie. Ek is net so verbaas om jóú hier te sien.”
“Ja, wel, ek … wou maar net sien hoe dit met hom gaan.”
“Ek is om dieselfde rede hier. Om seker te maak hy is nie dalk besig om gesond te word nie. Vuilgoed soos hy verdien dit nie om te leef nie.”
Nadia verstaan Joan se bitterheid, maar sy kan haar nie daarmee vereenselwig om enigiemand dood te wens nie. “Dit lyk nie of daar hoop op herstel is nie,” uiter sy dus maar flouweg.
Joan kyk na die man op die bed. “Ek stem saam. Dis die tweede keer wat ek hom kom besoek. Daar is definitief agteruitgang. Nugter weet hoe ek my destyds kon verbeel het ek is verlief op hom. Maar nou ja, jy sal weet. Jy’t mos dieselfde stel met hom afgetrap as ek.”
“Ek het nog nooit kans gehad om jou te bedank nie,” sê Nadia. “Jou getuienis in die hof was eintlik my redding. Anders het –”
Joan maak haar met ’n handgebaar stil. “Ek was daartoe gedwing, aangesien dit mý gesteelde pistool was wat afgegaan het toe hy dit by jou wou afvat. Eintlik verlekker ek my daarin dat hy nou so lyk,” beduie sy met haar hand na Johny. “Die dief! Ek haat die gedagte dat ek ooit met so ’n monster deurmekaar was.”
“Ja, ons het albei ’n duur les geleer.”
“’n Baie duur les,” beaam Joan.
“Woon jy nog op George?”
“Ja, maar ek is met verlof en kuier hier in die Kaap by ’n vriendin. Met die bus gekom, want danksy hierdie skurk het ek nie eens meer ’n motor nie.”
Nadia skraap haar keel. “Joan, ek het ná die hofsaak berading ontvang. Dit het nogal gehelp. Dink jy nie dit sal jou ook help nie?”
“Nee wat, ek kom goed reg daarsonder. Om hom só te sien is die beste berading wat ek kan ontvang.” Toe kyk sy op haar horlosie. “Ek moet gaan. My vriendin wag buite in die motor vir my. Sy moet oor vyftien minute by die tandarts wees. Gaan jou goed.”
Nadia talm nog ’n wyle in die kamer totdat sy ’n motor buite hoor wegtrek. Toe kyk sy vir oulaas na die man op die bed voordat sy met ’n siek gevoel, en die gedagte dat sy liewers nie moes gekom het nie, die gebou verlaat.
Drieuur die middag verlaat sy die snelweg tussen George en Knysna om die pad na Vissersbaai te neem. De Meer se afdraai is kort duskant Vissersbaai. Sy wonder hoe dié sukkelrige plekkie deesdae lyk, en of daar hoegenaamd nog mense woon.
Sowat vyf kilometer voor Vissersbaai bereik sy die verweerde padwyser na De Meer. Te oordeel na die slaggate en gehawende toestand van die stofpad het niks verbeter nie, dink sy by haarself nadat sy afgedraai het.
Op die laaste bult voor die afdraand na De Meer hou sy stil en klim uit om die plek te besigtig. Haar blik dwaal eerste oor die meer. Dít lyk nog soos sy dit uit haar kinderjare onthou. Die meer met sy rotspunte wat bo die water uitsteek, lê in ’n halfmaan om die bewoonde gebied gekrul. Die berg wat soos ’n reuseslang die paar huise en meer omvou, om met sy kop bo-oor die meer te hang. Slangkop … Hulle moes daar wegbly. As jy dit daar waag, sluk die slang jou in.
Sy glimlag weeïg. Vandag weet sy hoekom die grootmense so gesê het. As jy daar loop en jou voete gly onder jou uit, sal jy jou morsdood val. Maar as kinders het sy en Dimitri vas geglo die slang sál hulle insluk. Die huise op die oewer is nog nie in sig nie, maar die res van die plek het nie veel verander nie.
Dog, toe sy verder ry en die plek sien waar oom Koos en tant Lettie le Roux gewoon het, rem sy instinktief. Van die huis én viswinkeltjie is daar niks oor nie. Net murasies! Wat het van oom Koos en tant Lettie geword? Hulle was nie meer jonk nie. Sou hulle dood wees? Sy het so gehoop hulle sal haar meer inligting oor haar herkoms kan gee.
Sy rem weer toe die linkerkantste oewer van die meer in haar gesigsveld verskyn. Die laaste huis, die een waarin Dimitri-hulle gewoon het, is smaakvol opgeknap. Dáár het ’n verandering ingetree. Die huis net langsaan, waarin sy as kind gewoon het, staan ook nog. Maar van die ander oewerhuise is daar ook niks oor nie. Net murasies. Aan die oorkant van die smal grondpaadjie lê die stukkie veld nog oop en onbebou tussen die pad en bult van die slang se vet lyf waar die beter huise begin.
Eers as tiener het dit tot haar deurgedring wat die betekenis daarvan was dat ma-Anna gesê het die mense teen die bult kyk op hulle neer. As kind het sy gedink dis oor hulle hoër woon en moet afkyk oewer toe.
Sy ry stadig verder en wonder wat haar genoop het om hierheen te kom. Dis definitief nie die ideale plek om die verlede van haar af te skud nie. Die herinneringe aan die besope man en kyfagtige vrou wat haar grootgemaak het, is nie aangenaam nie.
In die eerste huis het die Strydoms gewoon, onthou sy toe sy op die gelykte langs die meer kom. ’n Drinkersvriend van haar pa, met ’n vrou wat nog erger as ma-Anna kon kyf. Hulle het drie kinders gehad, maar die welsyn het hulle op ’n dag kom haal en Nadia het hulle nooit weer gesien nie. In die tweede huis het ’n ou vroutjie met baie plooie gewoon. Sy het snaakse klere gedra en was sonder tande. Ma-Anna het gesê sy is ’n heks, hulle moet daar wegbly en haar uitlos. Hulle het ook, want sy en Dimitri was bang die heks toor hulle.
In die volgende huis het die Jansens gebly. Van dié huis is daar ook niks oor nie, net ’n paar verstrooide bakstene. Sy onthou weer die geraas en gevloek in die nag, en tant Koekie wat haar voortdurend in ’n deurkosyn of teen ’n paal vasgeloop het. Eers toe Nadia op ’n dag ’n koppie suiker daar moes gaan leen en sien hoe die Jansen-man die karwatshoue oor sy vrou laat val, het sy uitgevind wat aangaan. Geen wonder daar was mense wat op die oewerbewoners neergesien het nie.
Regoor die huis waarin sy die eerste elf jaar van haar lewe gewoon het, hou sy stil. Wie ook al nou hier woon, het niks gedoen om die plek te verbeter nie. Die huis word nog bewoon, want daar hang gordyne voor die vensters en wasgoed oor ’n draad langs die huis. Maar die tuin is oorgroei met onkruid, en die ogiesdraad aan die straatkant is feitlik opgeroes. Toe sy sien daar hang ’n handgeskrewe Te Koop-bordjie teen die lendelam tuinhekkie, skud sy haar kop bejammerend. Wie sal só ’n plek wil koop!
Haar blik dwaal na die opgeknapte huis langsaan waar die Grieke gewoon het. Dimitri, sy pa Alexander en sy ma Carina Kossivas. Nadia was omtrent nege jaar oud toe hulle Griekeland toe verhuis het. Dimitri so elf, want hy is twee jaar ouer as sy. Die fleurige tuintjie tot amper in die stofstraat laat haar glo die mense wat nou daar woon, is van ’n beter klas. Wat sou hulle besiel het om hier te kom woon? As hulle die huis só kon verfraai, kon hulle mos liewers ’n huis teen die bult gekoop het.
Haar blik dwaal terug na die Te koop-bordjie, en af met die half oorgroeide paadjie na die voordeur. Die dag toe sy gehoor het sy is ’n aangenome kind, doem eensklaps weer helder in haar geheue op. Dis in dieselfde paadjie waar sy ma-Anna bygedam het die middag ná skool.
“Ma, is dit waar dat julle my aangeneem het?”
“Waar kom jy daaraan?”
“Engela by die skool sê so.”
“Engela is te groot vir haar skoene.”
“Is dit waar, Ma? Het julle my aangeneem?”
“Ja. Jy moet die mense se wasgoed gaan wegbring. My fiets se wiel is pap.”
“Waar’s my regte ma?”
“Sy’s dood.”
“En my regte pa?”
“Hy’s weg.”
“Weg waarnatoe?”
“Ek weet nie. Kom vat die wasgoed dat jy kan loop.”
“Ek wil eers weet! Hoekom het –”
“Hou jou mond of ek klap hom toe!”
Vrees het haar laat stilbly. Ma-Anna was nie iemand wat net gedreig het nie.
Haar blik dwaal weer oor die oop veldjie tot by die voet van die hang na die murasie waar oom Koos en tant Lettie gewoon het. Hulle was ook arm, maar ordentlik. Hulle het nie gevloek nie en ook nie gedrink nie.
“Oom Koos, wie is my ma?”
“Hoekom vra jy my so ’n vraag? Jy weet mos wie is jou ma.”
“Nie ma-Anna nie. Ek wil weet wie my regte ma is.”
“Hoekom vra jy nie vir jou ma-Anna nie?”
“Ek het.”
“En toe?”
“Sy sê my ma is dood.”
“Laat ek sien hoeveel geld het jy daar? Hm, al wéér te min. Het jy nie laas keer vir jou ma gesê die vis se prys is op nie?”
“Ek het. Is my ma regtig dood, oom? En my pa, waarnatoe is hy?”
“Kind, moenie vir my allerhande vrae kom staan en vra nie. Wie het vir jou vertel Anna en Kerneels is nie jou eie ma en pa nie?”
“Engela by die skool het gesê hulle het my aangeneem.”
Hy het ’n kardoesie van koerantpapier gedraai en ’n handvol viskaiings daarin gegooi. “Hier, eet dit op voor jy by die huis kom. En sê vir jou ma dis die laaste keer wat ek vir haar vis gee as haar geld nie reg is nie.”
Ander mense het die winkel binnegekom, toe loop sy. Maar sy het oom Koos meermale gekonfronteer met vrae oor haar herkoms, en soms het hy erg draaie gegooi. Hy het nie erken dat sy ’n aangenome kind is nie, maar het dit ook nooit ontken nie.