Читать книгу Duwweltjiepad - Elza Rademeyer - Страница 4

2

Оглавление

Jolene Jordaan, die nagsuster van saal B4 – alombekend as suster Jo in die Conradie-hospitaal – neurie saam met die musiek oor haar motor se radio toe sy by die hospitaal se hek indraai. Die netheid van die tuine val haar weer eens op. Sy hou van die rustigheid wat dit uitstraal. Agter die mure van die geboue, weet sy, is daar baie pyn en ellende, juis daarom is dit goed dat Conradie se uitgestrek-­te tuine eerder soos ’n park as klinies en onpersoonlik lyk.

Vanaand wil sy nie aan haar verlede dink nie. Môreoggend begin haar jaarlikse verlof. Dit is haar laaste nag aan diens voordat sy en haar seuntjie vir ’n volle maand na Durban vertrek om daar te gaan vakansie hou.

Sy hou onder die boom stil waar sy elke aand parkeer en haal haar nagtassie uit die motor se kattebak. Op pad na die ingang van die saal kom sy dokter Simpson teë. Na ’n wedersydse groetery vertel hy haar van ’n nuwe opname in die saal waar sy werk. Hy het pas ’n operasie op die man uitgevoer om glassplinters uit sy oë te verwyder.

Voordat sy hom egter verder oor die pasiënt kan uitvra, word hy oor die interkom geroep en sy loop alleen verder om haar by die dienskantoor aan te meld.

Die dagsuster groet haar verlig en begin dadelik uitbrei oor die moeilike dag wat hulle agter die rug het. “Twee van ons verpleegsters het vanoggend nie by die werk opgedaag nie. Glo siek,” vaar sy uit. “Oom De Lange wou om die dood nie in die bad klim nie, oom Hansie het al wéér sy rolstoel omgesmyt en om die kroon te span, was daar nog twee nuwe opnames ook. Die een het so pas uit die operasiesaal gekom. Hy was in ’n motorongeluk en dokter Simpson moes glassplinters uit sy oë verwyder. Ag, sies tog, en weet jy wie is die ander opname? Oom Thysie. Jy onthou hom mos nog?”

Suster Jo knik haar kop. “Is hy weer opgeneem vir ’n blaasinfeksie?”

“Nee, ek is bevrees dis veel erger. Hy het longkanker.”

“Ag nee,” sê suster Jo vol bejammering vir die pasiënt wat hulle al goed leer ken het omdat hy al ’n hele paar keer in die hospitaal was vir blaasinfeksies. “Arme oom Thysie. Hoe verwerk hy dit?”

Tussendeur die bespreking van oom Thysie se toestand vergeet suster Jo om verder navraag te doen omtrent die pasiënt wat uit die operasiesaal gekom het. Sy is ook nie haastig om by hom uit te kom nie, want verpleegster Mynhard is nog besig om die man in sy private vertrek te versorg. Eers nadat die dagpersoneel die saal verlaat het, gaan sy dus die private vertrek binne.

Verpleegster Mynhard maak vir haar plek langs die pasiënt se bed, maar suster Jo steek eers by die voetenent vas om sy verslag te bestudeer.

Arme man, dink sy by haarself toe sy die diagnose sien. Sy kyk na die naam op die lêer . . . en verstar. Rudolf Mulder, staan dit swart op wit voor haar oë, maar dit is of haar verstand dit nie kan registreer nie. Haar blik vlieg na sy gesig.

Dit ís Rudolf Mulder! Daar is plotseling ’n gesuis in haar ore en haar knieë dreig om te knak. Nee, dink sy benoud, ek moet hier uitkom. Ek mag nie flou word nie. Ek moet padgee . . .

Hoe suster Jo die dienskantoor gehaal het, sou sy later nie kon sê nie. En sy weet ook niks van verpleegster Mynhard se verwondering oor haar geskokte reaksie daar in Rudolf Mulder se private vertrek nie. Al wat sy weet, is dat die wêreld geen towerland is nie, maar ’n harde, wrede werklikheid. Want die man wie se kind sy in die lewe gebring het, is nie dood soos sy gehoop het nie. Hy het ook nie van die aardbol af verdwyn nie. Hy leef. En hy is hier! Hier, ’n hanetreetjie van haar af in die private vertrek van saal B4!

En in die gewraakte vertrek kyk verpleegster Mynhard weer na die man voor haar op die bed se gesig. Dit is na die oogoperasie gedeeltelik deur verbande bedek, maar die onbedekte dele toon dat hy ’n baie aantreklike man moet wees. Hy het ’n sterk ken, kuiltjie en al. Hoe goed sou suster Jo hom ken? Sy móét hom ken, want hoekom anders het sy so verskrik gelyk? Tog jammer van die ongeluk waarin hy was. Maar dit is maar soos die lewe is, dink Mynhard. Niemand is te goed om oor te kom wat Rudolf Mulder oorgekom het nie.

Suster Jo probeer vergeefs haar gedagtes orden. Daar wag werk op haar, maar sy weet nie of haar bene haar lyf sal kan dra as sy moet opstaan van die stoel in die dienskantoor af nie. Die skok van Rudolf se herkenning laat haar steeds lam voel. Kyk net hoe bewe haar hande!

Een van die ander nagverpleegsters verskyn in die deur. Sy is onbewus van die skok wat suster Jo so pas ervaar het. “Suster, oom Thysie sê sy kop is seer. Mag ek hom maar ’n pynpil gee?”

Suster Jo kyk half verdwaas op. “Ja, goed, Bossie, gee hom maar ’n pil. Onthou net om dit op sy kaart aan te teken.”

Bossie gaap suster Jo aan. Het sy reg gehoor? wonder sy. Het suster Jo haar tog nie as Bossie aangespreek nie? Wat het dan so skielik van haar gebruiklik professionele “verpleegster Boshoff” geword? Net gisternag nog wou sy stuipe kry toe Mynhard haar Bossie genoem het!

“Nog iets, verpleegster Boshoff?” laat suster Jo se vraag haar opskrik.

“Nee . . . e . . . dankie. Dit was al wat ek kom vra het, suster,” stamel sy verleë. En toe haas sy haar na die private vertrek om vir Mynhard van dié rare voorval te vertel.

“Sowaar!” sê Mynhard verbaas. “Dis eienaardig. Jy weet, sy het net so verstrooid gelyk toe sy netnou hier was. Ek sal my kop op ’n blok sit dat sy geskrik het toe sy vir Rudolf gesien het.”

Van die verpleegsters se bespiegelinge oor haar vreemde optrede weet suster Jo niks nie. Hoekom moes Rudolf Mulder nou juis in die Conradie-hospitaal opgeneem word? wonder sy verward. Hoekom het die ongeluk hier in die Kaap gebeur? Hoekom nie op enige ander plek nie? Johannesburg, Bloemfontein, enige ander plek . . .

Sy sal haar moet regruk, besef sy. Die personeel gaan agterkom Rudolf se opname ontsenu haar. En hy! Wat gaan Rudolf doen as hy haar herken?

’n Diep sug ontsnap haar. Daar is gelukkig verbande oor sy oë, onthou sy dan. Hy sal haar nie herken nie. Maar haar stem . . . sê nou hy herken haar stem? Of sal hy vergeet het hoe haar stem klink?

Dit is goed ’n halfuur later toe sy haarself uit die dienskantoor dwing. Sy besoek al die ander afdelings van die saal, maar sy kan haarself nie so ver kry om die vertrek binne te gaan waar Rudolf lê nie. Sy vermy ook sorgvuldig die wagvertrek waar Rudolf se familie sit en wag om by hom toegelaat te word. Elfuur stuur sy vir Bossie met die boodskap dat hulle liefs huis toe moet gaan om te rus. Rudolf se bewusteloosheid weens harsingskudding kan nog lank duur en die hospitaal sal hulle dadelik telefonies van enige verandering in sy toestand verwittig.

Dit is net daar dat sy ’n fout begaan, want toe sy nog dink die mense skuifel verby die dienskantoor se deur, kom hulle dit binne. Weliswaar is die vrou vir haar onbekend, maar dat sy wel familie is van Rudolf Mulder, vind suster Jo binne die eerste paar oomblikke uit.

“Arme Roelfie,” snik die vrou. “Ek weet nie hoe my arme broerskind dié ramp gaan oorleef nie! Ai, sustertjie, hy hét onverskillig gelewe, en ek hét gebid dat hy tot inkeer moet kom, maar ek het darem nie gedink dit sou só geskied nie.”

Suster Jo voel uit die aard van haar beroep verplig om vriendelik te wees teenoor die tante van die man wat sy so verag. Maar toe sy haar uiteindelik met allerhande paaiende woorde kry om huis toe te gaan, slaak sy ’n sug van verligting. Hoe minder sy van Rudolf Mulder se ander slegte hoedanighede weet, hoe beter.

Twaalfuur die nag kan sy dit nie langer uitstel om sy vertrek binne te gaan nie. Mynhard moet by die verpleegsterstehuis gaan eet en daar is niemand anders om ge­spesialiseerde sorg aan Rudolf te verleen nie. ’n Uur lank sal sy daar by Rudolf se bed moet waak.

“Hy is soms baie rusteloos, maar het nog nie sy bewussyn herwin nie,” deel verpleegster Mynhard haar fluisterend mee toe sy stil haar verskyning by Rudolf se bed maak.

Suster Jo knik net haar kop en neem skrikkerig op die stoel langs die bed plaas nadat Mynhard die vertrek verlaat het. Sy loer behoedsaam na die man se gesig. Verbeel sy haar dit of lyk hy ouer? Natuurlik moet hy ouer lyk, besef sy dan. Sy het self ouer geraak. Sy was maar agttien toe sy met Rudolf Mulder kennis gemaak het. Nou is sy vier en twintig. Dit is amper ses jaar later. Klein Anton is dan al vyf jaar oud. Dalk is sy verniet bang, probeer sy haarself moed inpraat. Dalk herken hy haar nie eens meer nie!

Sy probeer onthou hoe sy destyds gelyk het. Haar hare was kort, en nou is dit lank. Sy moet dit weliswaar bo-op haar kop vasmaak wanneer sy werk. Dit is ’n hospitaalreël dat jou hare nie in jou gesig moet hang nie. Hopelik lyk sy veel ouer as ses jaar gelede. As sy haar hare blond kleur . . .

Nee, keer suster Jo haar gedagtes. Nou raak sy heel verspot. As Rudolf Mulder haar herken, is dit tot daarnatoe. Sy hoef haarself nie te mismaak nie. Sy is niks aan hom verskuldig nie. Hy moet net uit haar pad bly. En sy sal sorg dat sy so min moontlik in sy pad verskyn!

Innerlik hoop sy Rudolf herwin nie sy bewussyn voordat sy van diens af gaan nie. As hy bewusteloos bly tot die dagpersoneel opdaag, sal sy nie met hom hoef te praat nie. Dan gaan sy darem ’n hele maand hê om te besluit wat om te doen. Die hospitaal gaan beslis te klein wees vir hulle albei. Aan die ander kant, hý is die indringer hier. Hy weet in elk geval nie eens van Anton se bestaan nie. Hy glo seker sy het destyds die aborsie ondergaan waartoe hy en sy ouers haar wou dwing.

Sy merk dat hy skielik begin sweet het. Die geluksgodin is duidelik nie aan haar kant nie, dink sy met ’n tikkie wrang humor toe sy sy pols voel. Rudolf Mulder herwin stadig sy bewussyn. Ondervinding het haar egter geleer om baie versigtig te wees, dus druk sy die noodklokkie en vra verpleegster Boshoff om dokter Simpson te ontbied. Dalk beleef Rudolf Mulder ’n skielike insinking, en sy wil nie later van nalatigheid aangekla word nie.

Dit voel vir Rudolf of sy liggaam in ’n diep, donker bodemlose put rondsweef. Partykeer gewaar hy ’n dowwe ligkol iewers ver bo sy kop. Maar wanneer hy daarheen wil sweef, hou slymerige arms hom terug. Dit is ’n aaklige nagmerrie. Hy wens Katryn wil vir hom koffie kamer toe bring sodat hy kan wakker skrik.

Soms verbeel hy hom weer hy hoor stemme. Dit is nou ook daar. As hy net sy oë kon oopkry! Maar dit voel of sy ooglede aan sy wange vasgegom sit.

“Komaan, Rudolf,” laat ’n manstem naby sy oor hom skielik ruk van skrik. “Dis tyd dat jy nou wakker skrik, ou maat!”

Dit is ’n stem. Dit is iemand hier in sy kamer!

“Kan jy my hoor?” vra die man.

Rudolf wil hom antwoord, maar sy lippe voel ook aan mekaar vasgelym. Of het hulle hom geblinddoek? Is dit rowers wat . . .

“Knik jou kop as jy my kan hoor.”

Hy sal nie, besluit Rudolf blitsvinnig. Hy sal hom liewer dood of bewusteloos hou. Dan kry hy dalk ’n kans om te ontsnap of los te kom. Maar as hy wys hy is wakker, gaan hulle hom dwing om . . . om wat te doen? Dalk soek hulle geld! Wat anders wil hulle met hom doen?

Hy voel hoe iemand hom aan sy linkerarm se pols beetkry. Wat wil hulle nou met hom aanvang? Gaan hulle hom van die bed af dwing en . . .

“Sy pols is sterk,” hoor hy sy voornemende aanrander sê. En weer: “Komaan, Rudolf, word nou wakker.”

Wie is die man? Hy ken sy naam. Dus moet hy, Rudolf, hom ook ken. As hy net kon loer! Maar daar span iets oor sy oë. Hulle het hom dus geblinddoek. Daar bly vir hom net een ding oor. Hy gaan die doek vinnig afpluk en terselfdertyd opspring. Miskien kan hy die booswig onkant betrap. Maar ’n verblindende pyn skiet deur sy kop en bors toe hy sy arm probeer oplig.

“Moenie beweeg nie,” waarsku ’n onsimpatieke vrouestem hom. “Daar is ’n aarvoedingsnaald in jou arm.”

Vuilgoed, flits dit deur Rudolf se gedagtes. G’n wonder sy verstand voel so benewel nie. Hulle jaag hom natuurlik verdowingsmiddels in! Maar dan verstar hy, want die man praat weer.

“Jy is in die hospitaal, Rudolf. Kan jy onthou dat jy in ’n motorongeluk was?”

Motorongeluk? Wat probeer die man sê . . . dat hy, Rudolf, in ’n motorongeluk was? Maar hy lieg mos. Hy was nog nooit in sy lewe in ’n motorongeluk nie! Of . . . was hy?

Hy luister verbyster toe die man hom vertel dat hy dokter Simpson is, en dat hy, Rudolf, in De Waalrylaan beheer oor sy motor verloor het.

“Verstaan jy wat ek vir jou sê?” vra die dokter. En toe hy met moeite knik, gaan dokter Simpson voort; hoor hy dat daar verbande oor sy oë is omdat hulle glassplinters uit sy oë moes verwyder. Hy hoor ook van ’n borsbesering en van harsingskudding wat hy opgedoen het. En sonder dat hy vra, lig die dokter hom ook in dat Julia Saunders, sy passasier, ongedeerd daarvan afgekom het. Na behandeling vir skok is sy reeds vroeër die aand ontslaan.

Rudolf voel ineens doodmoeg, dus stry hy nie daarteen toe die vaak hom oorval nie.

Dokter Simpson is tevrede. “Laat hom maar slaap,” sê hy vir suster Jo. “Sy gestel is baie sterk.”

En ’n rukkie later, nadat Mynhard teruggekeer het en terwyl hy en suster Jo in die dienskantoor sit: “Rudolf Mulder is gelukkig om nog te leef. ’n Ooggetuie van die ongeluk het vir die ambulansbestuurder gesê hy het glo teen ’n roekelose snelheid gejaag.”

Suster Jo het niks oor Rudolf te gesels nie, maar dokter Simpson kom dit skynbaar nie agter nie. “Ek onthou hom van die dinge wat ek al oor hom in die koerante gelees het. Hy is glo die jongste multimiljoenêr in die Kaap,” brei hy uit oor die man van wie sy eerder niks sou wou hoor nie.

“Ja, dit wys jou net niemand is te goed om deur ’n ramp getref te word nie,” voel sy verplig om iets oor Rudolf Mulder kwyt te raak toe dokter Simpson skielik meer intens na haar kyk.

Hy wonder meteens wat agter die geslotenheid van haar fynbesnede gesig skuil. Sy was nog altyd erg professioneel en afsydig, maar vanaand is daar ’n ongewone kilheid by haar te bespeur. Hy gee onnadenkend ’n suggie.

“En dié sug?” vra sy met ’n ligte fronsie tussen haar twee besonderse groen kykers.

“Hoe lank ken ons twee mekaar, suster Jo?” vra hy onverwags.

Sy skrik toe sy sien op watter manier hy na haar kyk. Dit ook nog! Hoekom vra hy so ’n vraag? wonder sy verward.

“Seker so twee jaar lank . . .” En om weg te kom van die loop wat die gesprek wil neem: “Wil dokter nie ’n koppie koffie drink nie? Ek sal gou vir ons gaan maak.”

“Dankie, dit sal lekker smaak.” Maar toe sy haastig na die klein kombuisie loop, volg hy haar. En sy is oorbewus daarvan dat hy elke beweging van haar dophou. G’n wonder sy is skielik so onhandig me.

Hy sien haar senuweeagtigheid raak en dit gee hom moed om te vra wat hy lankal dreig om te vra. “Wil jy nie saam met my gaan uiteet wanneer jy weer een nag vry het nie, Jo?”

“Ek vertrek vanoggend ná diens met verlof, dokter. Dit sal dus nie vir my moontlik wees nie.”

“Hm, ek het daarvan vergeet. Gaan jy ’n bietjie weg?”

“Ja, ek gaan Durban toe.”

“Alleen? Of gaan iemand saam met jou?”

“Alleen,” sê sy sonder aarseling. Want niemand in die hospitaal weet dat sy ’n seuntjie het nie.

“Ek hoop nie jy waag dit om per motor te ry nie?”

“Nee, ek reis per vliegtuig,” jok sy sonder om te blik of te bloos.

“Sal jy dan wanneer jy terugkom saam met my gaan uiteet?”

Sy kyk anderpad en verwens sy moedswilligheid. “Miskien, ons sal maar sien.” En sy weet nie of sy bly of bang is nie toe Bossie vir hulle kom sê Mynhard soek hulle, want Rudolf begin allerhande vrae vra.

Toe Rudolf wakker skrik, lê hy eers ’n lang ruk stil om te luister na die veraf vreemde geluide. Hy kan nie verstaan hoekom Katryn so vroeg aan die gang is nie. Eers toe hy sy hand wil oplig om die kombers van sy gesig te verwyder, kom hy agter daar skort iets. Iemand hou sy arm terug en waarsku hom om dit stil te hou, aangesien daar ’n naald in sy arm is. Eers tóé onthou hy dat iemand vir hom gesê het hy lê in ’n hospitaal omdat hy in ’n motorongeluk was.

Hy wil die persoon hier langs sy bed uitvra, maar sy tong en lippe voel horingdroog. Hy voel ook so moeg . . . Tog flits die feite deur sy gedagtes. Van die ongeluk kan hy niks onthou nie, ook nie wat dit voorafgegaan het nie. Maar hy onthou dat iemand vir hom gesê het daar was glassplinters in sy oë. Hy onthou ook die onsimpatieke vrouestem wat hom gewaarsku het oor die aarvoedingsnaald in sy arm. Glassplinters in sy oë, ’n borsbesering, harsingskudding. Genade, wat nog? wonder hy en word yskoud toe die gedagte by hom opkom dat hy dalk blind kan wees!

Angs dwing sy lippe van mekaar. “Is ek blind?” wil hy in ’n skor stem weet.

“Nee, meneer Mulder,” sê Mynhard en loer benoud deur se kant toe om te kyk of suster Jo en dokter Simpson tog nie wil opdaag nie. Sy’t dan dadelik vir Bossie gestuur om hulle te gaan roep toe sy agtergekom het Rudolf raak rusteloos. “U het maar net ’n verband oor die oë omdat u ’n operasie moes ondergaan om glassplinters uit u oë te verwyder. Met u sig behoort daar niks te skort nie. Die verbande kan egter eers oor so vyf dae verwyder word.”

Rudolf sug verlig. Sy sal darem seker nie vir hom lieg nie. “Wat het gebeur?” vra hy moeisaam.

“U was in ’n motorongeluk in De Waalrylaan.”

“Ja, iemand het so vir my gesê,” raak hy ongeduldig. “Maar ek wil weet hóé dit gebeur het. Ek kan niks daarvan onthou nie.”

“Ek weet nie hoe die ongeluk gebeur het nie, maar oor u geheue hoef u nie bekommerd te wees nie. U behoort wel later alles te onthou wat gebeur het.”

Rudolf raak stil. Hy doen sy uiterste bes om te onthou, maar dit is of daar ’n hap uit sy lewe gesny is waarvan hy niks weet nie. Die dokter het genoem van Julia wat ongedeerd is . . . Maar hy kan dan nie onthou dat hy en Julia al ooit saam in een motor gery het nie! Hy wens hy kan gemakliker lê. As hy in ’n sittende posisie kan kom . . .

Toe hy egter sy bene wil optrek, kom hy agter dit voel leweloos. Dit voel amper asof hy glad nie ’n onderlyf het nie. Maar toe hy sy hand onder die kombers insteek, voel hy met verligting dat sy bene tog daar is. Hy lê seker so sleg dat die bloedtoevoer afgesny is. Dit het al voorheen gebeur dat sy arm so gevoelloos raak van verkeerd lê.

Maar hoe hy ook al probeer, sy bene wil nie verroer nie. Hy knyp homself aan die bobeen . . . en voel niks nie! Hy knyp homself weer. Begin dan paniekerig raak. Hoekom voel hy niks nie? Sê nou . . . sy onderlyf is verlam? Nee, probeer hy die paniek in hom stuit. So iets kan nie met hom gebeur nie! Dit is dinge waarvan ’n mens net in koerante lees. Dit kán nie wees nie. God, gee dat dit nie so is nie! Dit mág nie!

Toe dokter Simpson en suster Jo by sy bed kom staan, is hy waternat gesweet van angs. En toe sy ergste vrees bevestig word, dat sy rug gebreek is, raak sy verstand dof. Die dokter se verduideliking dat die hoofsenuwee tussen sy vierde en vyfde borskaswerwels geskeur is, dring nie werklik tot hom deur nie. Sy stem klink vir Rudolf soos hol simbale en ’n oorverdowende gesuis spoel deur sy ore. Allerhande drogbeelde verskyn in sy gesigsveld. Een van hulle breek weg en kom na hom aangerol. Toe dit by hom kom, eien hy die gedrog as hy self in ’n rolstoel!

“Nee! O, God, nee!”

Rudolf se kreet weergalm deur die gebou, klou aan die plafon en slaan met soveel geweld teen sy oortromme terug dat hy gil van pyn.

’n Rilling deur suster Jo se lyf laat haar ’n oomblik aarsel, maar dan hou sy die bakkie met die spuitnaald na dokter Simpson uit. En Rudolf is nie eens bewus van die prik in sy arm voordat ’n genadige duisternis oor hom toesak nie.

Duwweltjiepad

Подняться наверх