Читать книгу Storms van die liefde - Elza Rademeyer - Страница 3
1
ОглавлениеGustav Opperman beur ’n pad oop tussen die nuuskierige omstanders op die trappe van die hofgebou. Hy ontwyk ’n persfotograaf en klap sy motordeur met geweld toe voordat hy met ’n vaart wegtrek.
Sy is vry, maal dit verbitter deur sy gedagtes. Sy is waaragtig vrygespreek! En haar minnaar … Al wat hulle met hóm gedoen het, is om hom na ’n inrigting te stuur vir waarneming. Eers daarná sal die hof besluit of hy aanspreeklik gehou kan word vir die lewe wat hy so wreedaardig geneem het.
Hy sien die rooi verkeerslig amper te laat. Sy motor se bande protesteer luid toe hy rem en ’n verontwaardigde bestuurder wys vir hom vinger. Gustav se kake klem stywer opmekaar. Dis maklik om vinger te swaai as daar nie storms in jou lewe is nie. Hoekom het sy gehuil in die hof? Op wie se gevoel wou sy speel? Hy het haar in die vier jaar wat hy met haar getroud was nooit sien huil nie! Dat sy nie geweet het dat sy met ’n maniak te doen het nie, sal hy wat Gustav Opperman is in der ewigheid nooit glo nie. Hulle moes haar opgesluit het …
Die getoet agter hom laat hom opskrik. Die verkeerslig is groen. Hy ry roekeloos tot by sy tante se huis.
Tant Mietie kyk hom bekommerd aan. Hy vertel haar oorhaastig en opstandig wat gebeur het en maak aanstaltes om verby haar te loop.
“Ek het vir ons tee gemaak,” sê sy vinnig, haar oë die ene onrus.
“Nee, dankie. Ek wil sommer dadelik in die pad val, tant Mietie. Verskoon my, ek wil net my tasse in die kamer gaan haal.”
Plaas hy liewer tot môre wag voordat hy die lang pad van Johannesburg na Mosselbaai aandurf, dink sy tante kopskuddend. Maar sy ken haar broerskind … Al wat sy kan doen, is om hom te vermaan toe hy weer in sy motor klim: “Moenie dat jou ontsteltenis jou roekeloos maak nie, my kind. Bestuur versigtig.”
Hy onthou haar woorde toe hy kort duskant Bloemfontein ’n voertuig wil verbysteek en ’n aankomende motor se spoed onderskat. Hy swenk net betyds terug en sug sidderend. In Colesberg hou hy stil vir brandstof en besef skielik hoe moeg hy is. Eintlik hoort hy nie agter ’n motor se stuur nie, kom dit by hom op, maar hy kan skaars sy ongeduld beteuel terwyl hy wag dat die petroljoggie sy motor se voorruit klaar was.
Op Beaufort-Wes koop hy vir hom ’n koppie sterk swart koffie om die moegheid te verdryf. Hy moet sy motor se ligte aanskakel toe hy verder ry. Sy verstand én liggaam is voos toe hy uiteindelik voor die hotel in Mosselbaai stilhou.
Ure later lê hy steeds die donkerte en instaar. ’n Ligte windjie druk die sout reuk van die see deur die oop kamervenster. Hy hoor die branders se sagte geklots en wonder hoe hy dit gaan regkry om met die pyn, wat hy glo nooit weer sy menswees sal verlaat nie, saam te leef. Toe hy uiteindelik aan die slaap raak, staan die wekker voor sy bed se wysers op halfdrie. Oor vyf uur moet hy sy werk as instandhoudingsbestuurder by Mossgas op die landaanleg elf kilometer buite die dorp hervat.
In haar woonstel skakel Esbeth Wilcock haar bedlampie gefrustreerd aan. Sy gooi die duvet van haar af en klim suutjies uit die bed om nie die slapende kind by haar in die kamer te steur nie. Terwyl sy water drink in die kombuis, loer sy deur die venster. Die wind is besig om ’n swaar miskombers oor die dorp te sleep. Die hawe se liggies glinster moeg deur die mis.
Sy skakel die lig af toe sy terugklim in die bed, maar die slaap bly haar ontwyk. Sy sukkel om aan die slaap te raak wanneer daar mis is. Dit laat haar altyd wonder wat van die ligte vliegtuig geword het waarin haar man ’n passasier was. Of dit wel geval het, en hoekom daar nooit ’n spoor van die wrak gevind is nie … En of dit ooit opgestyg het …
In ’n huis nie ver van die woonstel af nie, mompel De Wet Barnard in sy slaap. Hy droom van die pragtige donkerkop wat die vorige dag ’n boetiek langs sy groentewinkel kom oopmaak het. Hy sal haar vandag beter leer ken, dink hy toe die wekker hom wakker lui. Sy het hom gister gevra of hulle nie kan beurte maak om werk toe te ry en só brandstof bespaar nie. Een week met haar motor en die volgende week met syne. Dit pas hom. En miskien is sy nie regtig so opstêrs as wat sy lyk nie. Dis dalk net die mooi klere wat sy dra wat hom laat dink sy is uit ’n ander klas as hy. As sy ’n snob was, sou sy mos in een van die duur huise teen die kop gaan bly het.
Hy hoor sy ma se voetstappe in die gang. “De Wet, is jy wakker?” vra sy by sy kamer.
“Ja, Ma.”
“Jy moet opstaan. Dis toe van die mis buite.”
“Ag, nee!” kreun hy oorstelp. As hy gisteraand geweet het die weer gaan verander, sou hy sy motor buite op die afdraand gelos het. Ou Lazy Daizy is steekser as ’n donkie as daar klammigheid in die lug is.
“En jy moet onthou van die meisiekind wat jy vanoggend moet optel,” herinner sy hom onnodiglik voor sy terugloop kombuis toe.
Hy gooi dadelik die komberse van hom af. So wraggies, as ou Lazy Daizy vanmôre met hom en die mooie meisiekind loop staan, steek hy haar aan die brand!
En soos die duiwel dit wil hê, is Lazy Daizy weer pure donkie toe hy ná ontbyt buite kom. Sy ma moet hom help stoot. En toe die motor, wat gewis beter dae geken het, uiteindelik proes-proes en omhul van ’n donker rookwolk koers kry, verwens De Wet vir die soveelste keer die ellendes van sy bestaan. Nugter weet hoekom hulle so arm moet wees; hoekom sy pa en ma geskei het toe hy nog klein was; hoekom hy so moet sukkel met vrot pampoene, skedonke, mal tantes en mis vroeg in die môre.
Toe Esbeth uit die woonstelgebou gestap kom, verdwyn sy gramskap net daar. Hy frons egter geskok toe hy sien sy het ’n kind by haar.
“Ek hoop nie jy gee om dat my seuntjie saamry nie,” sê sy vir hom. “My tante kyk bedags na hom, maar sy woon gelukkig in die straat net agter die boetiek. Jy hoef dus nie draaie te ry nie.”
“Nee, dis alles reg,” steek hy sy teleurstelling weg. En voel ook sommer minder skaam oor die feit dat sy self die motor se deur vir haar en die kind moet oopmaak omdat hy dit nie kan waag om sy voet van die brandstofpedaal te haal nie.
Toe hulle teen Marchstraat se steil bult af ry, kan hy sy nuuskierigheid nie langer beteuel nie. “Nou waar werk jou man dan?”
“Ek weet nie of ek nog ’n man het nie.”
De Wet frons. Nou wat vir ’n antwoord is dit nou? “Hoekom? Het hy weggeloop of wat?”
“Nee. Die vliegtuig waarin hy en ’n vriend was, het verdwyn. Ons glo dit het geval, maar die wrak is nooit gevind nie.”
“O. Ek is jammer. Ek … e … het nie geweet nie,” hakkel hy verleë. En toe dit darem net té stil raak na sy sin: “Wanneer het dit gebeur? Is dit lankal, of onlangs?”
“Dit sal Desember wat nou kom vyf jaar gelede wees. Ons was net drie weke getroud toe hy saam met ’n vriend Natal toe is om te gaan werk soek. Ek het hom nooit weer gesien of van hom gehoor nie.”
Toe hy voor die kompleks stilhou waar hul winkels is, kyk hy haar agterna tot waar sy om die gebou se hoek verdwyn om die kind na haar tante toe te vat. Dit is ietwat van ’n ontnugtering, dié dat sy getroud is – of was, dink hy. En ’n kind boonop! Nee wag, hy wat De Wet is, sal maar liewer wyer draaie om haar loop. Hy is in elk geval nie van plan om nou al sy hart te verloor nie. Meisies kos ’n man net geld. En as hy so na die klere en juwele kyk wat Esbeth dra, het sy duur smaak.
Esbeth sluit haar winkeltjie oop met ’n gevoel van opgewondenheid. Dalk doen sy vandag beter … Gister was daar baie min mense in haar winkel. Hulle het ook nie veel gekoop nie. Dit sal beter moet gaan as sy ’n bestaan wil maak uit die boetiek. Sy móét net ’n bestaan kan maak, dink sy ’n bietjie benoud. As die boetiek misluk, sal sy druipstert moet teruggaan plaas toe. Nie dat dit oupa Janus enigsins sal ontstel nie. Inteendeel, hy sal heel in sy noppies wees, want hy was erg gekant daarteen dat sy haar eie potjie in die dorp kom krap.
Sy glimlag toe sy aan haar oupa dink. Hy is ’n regte ou korrelkop. Maar hy het ’n hart van goud. Hy sal sy klere vir iemand uittrek as hy weet daardie persoon het dit nodiger as hyself. Maar as hy nie van iemand hou nie …
Dit was die geval met Richard, dink Esbeth met ’n suggie. Oupa Janus het nooit eens probeer om van hom te hou nie. Nie voor hul skielike troue nie, en nog minder daarna. Sy wonder nou soms of hy haar al regtig in sy hart vergewe het omdat sy met Richard getrou het. Nie dat sy hom dit kan verkwalik nie. Noudat sy ouer en wyser is, weet sy dit was dom en baie onverantwoordelik van haar om so op ’n ingewing en sonder haar oupa se toestemming voor die landdros op George te gaan trou het. Maar Richard was so wonderlik in haar oë. Sy wou alles doen wat hy van haar vra … Dit het vir haar so rég gevoel daardie oggend in George toe hy vir haar gesê het hulle moet solank voor die landdros trou, want hy kan nie langer wag om haar geheel en al syne te maak nie. Min het sy geweet …
Die gedagtes aan die verlede laat haar skielik benoud voel. Om weg te kom daarvan, gaan skakel sy die ketel aan. En toe sy klaar tee gemaak het, besluit sy om vir De Wet ook ’n koppie te neem. Sy som hom op as ’n man wat nie vir homself tee sal maak nie. Hy laat haar aan oupa Janus dink: Die kombuis is nie ’n man se domein nie.
De Wet staan gebukkend oor ’n lading patats toe sy die winkel binnegaan. Hy kyk om toe sy liggies kug om sy aandag te trek. Kom dan orent met twee patats in sy hand.
“Kyk hier. Papvrot! So sien ek maar elke dag hoe my wins vergaan. Haai, het jy die tee vir mý gebring?”
“As jy dit wil hê?”
“Natuurlik! Dit gaan heerlik smaak. Maar waar is joune?”
“Langsaan.”
“Gaan haal dit, dan kom drink jy dit hier.”
“En as daar ’n koper by my winkel instap?”
“Ek sal agter my kasregister gaan sit, dan kan ek sien as iemand by jou winkel inloop. Toe, gaan haal jou tee.”
Toe sy terugkom met haar tee, het hy vir haar ’n stoel voor sy toonbank staan gemaak.
“Jy het gister vir my gesê jou oupa bly op ’n plaas daar by Groot-Brakrivier uit, nè. En jou ouers?”
“My ouers is oorlede toe ek nog baie klein was,” sê Esbeth. “My ouma en oupa het my grootgemaak. Toe ek veertien was, is my ouma ook oorlede. Ek het op George skoolgegaan en daarna het ek by my oupa op die plaas gaan bly.”
“En ná jou troue? Waar het jy toe gewoon?”
“Steeds by my oupa op die plaas. My man, Richard, het gehelp om die Wolwedansdam te bou. Hy het vyf jaar gelede daar klaargemaak. Ons wou eers sien waar hy ander werk kry voordat ons gevestig raak.”
“Dus was jy maar al die tyd van hierdie wêreld?”
“Ja. En jy?”
“Ek is ook maar hier van Mosselbaai,” sê De Wet. “Was hier in Punt Skool en so aan.”
“En ná matriek?”
“Het ek hierdie winkel begin. Daar was nie geld vir verder leer nie. Nie met ’n ma wat my alleen moes grootmaak nie. My ouers het geskei toe ek nog sommer ’n tjokkertjie was.”
“Weet jy waar jou pa is?”
“Nie die vaagste benul nie. Maar my ma sê hy was sommer ’n sleg ding. Het glo vreeslik gedrink. So dis dalk beter dat hy maar die pad gevat het.”
“Sjoe, jou arme ma!”
“Jy kan dit weer sê. Sy was ook nie ’n geleerde vrou nie. Die salaris wat sy by die garage gekry het, was te min om ordentlik van te leef. Sy het snags gordyne gemaak vir die ryk mense sodat ons darem min of meer respektabelik kon leef. En nou is ek die broodwinner. My ma kan nie meer werk nie, want sy moet haar suster oppas. Dié was in ’n motorongeluk en het breinskade opgedoen. Tant Anna is soms maar ’n hele handvol.”
Hulle gesels tot die teekoppies leeg is. Toe staan Esbeth op. “Daar gaan net mooi niks aan by my nie,” sê sy vir De Wet. “Maar laat ek maar loop.”
“Toe maar, dit sal môre beter gaan,” praat hy haar moed in. “Die ouers kom Vrydae hul kinders by die koshuise haal en dan doen hulle sommer inkope. Jy sal sien hoe besig gaan jy raak.”
En tot Esbeth se blydskap is dit ook so. Dit gaan sommer baie beter as al die vorige dae. Ook die Saterdagoggend is haar verkope goed. Omdat De Wet se winkel die hele dag oop bly, ry sy Saterdae met haar eie motor werk toe. Sluitenstyd gaan groet sy vir De Wet.
“Ek sien jou Maandag,” sê sy. “Onthou, dan is dit weer my beurt om te ry. Ek sal jou sommer by jou huis kom oplaai.”
“Gaan jy nou plaas toe?”
“Ja. Ek gaan net gou vir my en Eben ’n tas pak, dan ry ons. Ek het Oupa belowe om soveel naweke moontlik huis toe te gaan. Hy is maar baie alleen. En ek dink hy mis nogal vir klein Eben. Hy is baie lief vir die kind.”
Toe sy loop, skud De Wet sy kop. “De Wet,” sê hy hardop vir homself, “jy moet kophou. Moenie dat jy jou hart verloop op die mooi meisiekind nie. Jy kan haar in die eerste plek nie bekostig nie. En in die tweede plek moet sy ouer wees as jy.” Want, dink hy, as sy pas mondig was toe sy getroud is, soos sy gister in hul geselskap laat blyk het, moet sy nou ses en twintig wees. Hý is drie en twintig.
By ’n kafee hou Esbeth stil om vir Eben die roomys te koop waaroor hy al so lank neul. Net toe sy uit haar motor klim, val haar oog op ’n man wat oor die straat stap. Sy versteen van skrik. Dit is dan Richard! Daardie swart hare, sy lenige bou …
“Richard!” gil sy kliphard oor die straat toe die man in sy motor klim. Maar hy kyk nie op nie. Sy kyk verwilderd om haar rond. Hy gaan ry! Sy moet hom keer!
Gustav Opperman skrik hom boeglam toe ’n meisie met swaaiende arms reg voor sy motor inhardloop net toe hy versnel om uit die parkeerplek weg te trek. Hy rem geskok en van skone skrik snou hy haar toe: “Is jy van jou verstand af, vroumens! Kan jy nie sien my motor beweeg nie?”
Esbeth besef ineens wat sy aanvang. Sy gee vinnig pad om op die sypaadjie te gaan staan. En toe, tot haar ontgogeling, ry die motor weg. Sy hardloop ’n ent agterna, al op die sypaadjie langs, maar die verkeerslig is in sy guns. En toe sy teen die derde voetganger bots, weet sy dis nutteloos. Sy sal die motor nooit ingehardloop kry nie.
Haar kop duisel steeds van skok terwyl sy terugklim in haar motor. Wás dit Richard? Dit móés hy gewees het. Sy hare, sy bou, sy manier van stap … Maar hoekom het hy nie stilgehou nie? Hoekom het hy aangery? Het hy haar nie herken nie? Wóú hy haar dalk nie ken nie?
Haar hele lyf bewe nog toe sy die enjin aanskakel en verder ry, Eben se roomys vergete. Kan dit dalk wees dat hy aan geheueverlies ly? Dat hy haar daarom nie herken het nie? Hoe gaan sy weet? Waar is hy nou?
Sy doen iets wat sy normaalweg nooit sou doen nie. Sy maak net daar in die straat ’n U-draai, teen die verkeersreëls in. By Kerkstraat draai sy links, waar sy hom ook sien links draai het. Toe sy by Blandstraat kom, weet sy nie watter kant toe nie. Sy draai regs en hou met die straat aan, verby die skakelhuise op regterhand, verby Punt Skool. Uit die grondpaadjie wat by die ou begraafplaas verbyloop, draai sy regs. Dalk kry sy hom by die Punt. Dis ’n gewilde stilhouplek. Maar sy sien hom nêrens nie. Eintlik weet sy ook nie mooi hoe sy motor lyk nie. Sy het so groot geskrik dat sy nie notisie geneem het van die motor nie. Sy onthou net dit was ’n ligte kleur … ’n groterige motor.
Toe hulle by die woonstel kom, kla Eben eenstryk deur oor die roomys wat sy toe nie gekoop het nie. Sy belowe om by Hartenbos in te draai en daar vir hom een te koop. Hy is tevrede met dié belofte, en begin dadelik daarop aandring dat hulle moet ry. Haar hande is egter skielik dom met die inpakkery. Haar verstand ook. Sy weet nie of dit weer sal regkom voordat sy sekerheid het oor die man wat soos Richard lyk nie.
Op Hartenbos, terwyl Eben sy draairoomys buite die motor staan en eet, kom Esbeth agter daar is mense wat na die see staan en kyk en na iets beduie. Dan sien sy dit ook: die sterte van twee walvisse bo die water. So, hulle is terug, dink sy. Ironies dat dit nou juis vandag moet wees dat sy hulle vir die eerste keer hierdie jaar sien. Dit was walvisse wat haar en Richard bymekaar gebring het.
Sy het vir een van haar vriendinne by ’n garage in Mosselbaai ingestaan toe dié met vakansie was. Net soos vandag, was sy ook die Saterdagmiddag op pad plaas toe, toe sy aan die baie motors en mense wat by Die Bakke oor die see staan en kyk, agterkom dat daar walvisse in die baai na Robbe-eiland moet wees. Sy het ook stilgehou om te kyk. En die volgende oomblik was hy sommer net daar langs haar op die wal langs die pad. Die man met sy git-swart hare, potblou oë en tergende glimlag.
Esbeth gee onbewustelik ’n suggie. Sy was totaal oordonder deur sy aantreklikheid en sjarme. Dieselfde aand nog het hy vir haar kom kuier op die plaas. Oupa Janus was glad nie geïmponeer nie, maar sý was. Haar voete was totaal onder haar uit. Sy was oombliklik verlief.
“Kom,” sê sy vir Eben. “Laat ek jou gesig en hande skoonmaak. Oupa sal wonder waar draai ons so lank.”
Gustav staar deur die hotel se kamervenster uit oor die see. Ook hy kan die walvisse met hul logge liggame sien waar hulle met ’n soort potsierlike baldadigheid water in die lug in sproei. Dit is die eerste keer vandat hy in Mosselbaai kom werk het dat hy hulle sien. ’n Kollega het vir hom gesê die walvisse is vroeg vanjaar. Hy weet nie of dit waar is nie, want hy ken nie die walvisse se gewoontes nie.
Hy dink skielik weer aan die meisie wat hy vroeër die middag amper raakgery het. Wat hom besiel het om haar so te verskree! Maar sy het hom darem baie groot laat skrik. Miskien sal dit haar leer om in die vervolg versigtiger te wees wanneer sy ’n straat oorsteek. Dit kon ’n lelike ding afgegee het as hy nie betyds gerem het nie.
Aan die feit dat sy ondanks haar verskrikte gesig en swiepende hare ’n mooi prentjie uitgemaak het, wil hy nie dink nie. Hy sal in sy lewe nooit weer ’n vrou vertrou nie. Vroue is onverstaanbaar en onbetroubaar. Hy het dit baie gou uitgevind ná hy met Selma getrou het. ’n Ongelukkige huwelik wat uit die staanspoor gedoem was. Tog het hy hard probeer om ’n sukses daarvan te maak toe …
Hy knip sy gedagtes kort en raap sy baadjie van die stoel af op. Miskien sal die koel seelug help om die verskroeiende haat wat hy teenoor sy vrou en haar minnaar koester, te temper.