Читать книгу Huise van klei - Ena Murray - Страница 4
2
ОглавлениеSy staar na hom deur die voorruit en hy kyk verbaas terug. Dan is hy by die venster.
“Elise! Dis ’n verrassing!”
Sy kyk stip na die rylaan voor haar, weet dat haar stem gespanne, bot klink, maar kan dit nie verhelp nie: “Ek het kom kyk hoe gaan dit met my pa … as ek mag. Ek verstaan hy is nie so gesond nie.”
“Nee, hy is nie.” Sy is intens bewus van die blik wat oor haar dwaal terwyl hy sê: “En natuurlik mag jy hom besoek. Dis eintlik hoog tyd, sou ek sê. Niemand het jou Paradys verbied nie.” Stilte. Sy sluk. Niemand nie? “Elise …”
“Jy moet my verskoon, Helgard. Dit was ’n lang ent pad en ek is ’n bietjie moeg.”
“Natuurlik.” Hy staan terug, sy oë vernou, sy stem ook nou effens stug. “Ons sien mekaar weer later.” Haar oë flits terug na syne. Onkeerbaar spoel herinneringe oor hulle heen.
Dit was destyds vir die hele gemeenskap duidelik dat die jong Helgard Retief van Paradys heeltemal beenaf was op die dogter van hulle bestuurder wat skielik uit die niet haar verskyning op Paradys gemaak het.
Min het juis geweet of onthou dat Jan Vermaak ’n dogter het. Aangesien daar in al die jare nooit taal of tyding van haar was nie, het selfs die Retiefs byna al van haar vergeet. En toe op ’n dag ry dié mooi meisiekind Paradys se rylaan af, op soek na haar pa.
Almal het aanvaar dat sy destyds, ná haar ouers se egskeiding, saam met haar ma weg is en alle bande met Jan Vermaak verbreek het. Nou, ná haar ma se dood, het sy na haar pa kom soek. Dit is die verduideliking wat gegee en geglo is. Maar net pa en dogter het geweet dat dit alles ’n halwe waarheid is. Haar ma se dood het niks met haar verskyning op Paradys te doen gehad nie. Dié feit sou net tussen pa en dogter bly.
Noodwendig het die onskuldige, maar gevreesde vrae gekom: Wat het sy al die jare gedoen? Sy is ’n tikster, het die onnadenkende antwoord gekom. Maar toe die groot patriarg van Paradys haar wil inspan om vir hom sakebriewe te tik, is dit duidelik dat sy nie ’n opgeleide tikster is nie en kwalik met tikwerk haar brood die afgelope jare kon verdien het. Toe moet die volgende leuen bedink word: Nie juis spesifiek tikster nie, sommer net gewone kantoorwerk. Blindverliefde Helgard het alles wat aan hom vertel is, vir soetkoek opgeëet, maar nie sy pa nie. Nols Retief was nie verlief nie, en hy was ’n man wat ’n wakende oog oor die toekoms van sy seun moes hou. Die vrou wat eendag met Helgard trou, moet immers die Retiefs en Paradys waardig wees. Sy sal dié vrou van die distrik wees.
Sonder om regtig al agterdogtig te wees, het hy toe die “kantoorwerkster” gevra om ’n slag vir hom sy dokumente te sorteer en te liasseer, want dit wou lyk asof Jan Vermaak se eens verlore dogter vir goed terug is. Dan kan sy net so goed ingespan word ook, het hy geredeneer. Op Paradys werk ’n ieder en elk, want ’n spogplaas kom nie vanself tot stand nie. Maar toe wil dit blyk dat die kantoordame van liassering ook nie veel weet nie. Iets het aan Nols Retief begin knaag.
Subtiel het hy doelgerigte vrae afsonderlik aan Elise en haar pa gestel en die antwoorde het nie altyd ooreengestem nie. Êrens was daar ’n fout, nie dat hy kon dink wat dit was nie. Op die oog af was Elise Vermaak werklik ’n innemende, goeie meisie. Teen haar gedrag kon hy niks inbring nie. Maar iets was nie pluis nie – en Elise het besef dat Nols Retief agterdogtig geword het.
Die leuens wat noodwendig aan die begin vertel is, het haar bitter teen die bors gestuit, maar, soos haar pa uitgewys het, sy kon kwalik pront met die waarheid vorendag kom. In ’n klein gemeenskap soos Kwaggasbult s’n en op die werf van dié boer van die distrik sal so iets nie geduld word nie.
“Pa, ons is al ’n paar keer uitgevang. Nols Retief is agterdogtig. Ek sien ook nie meer kans vir verdere leuens nie. Ek kan nie vir die res van my lewe ’n leuen leef nie.” Sy het die kommer en die hartseer in sy oë en in die kepe om sy mond gelees en haar hart het gepyn. “Ek is jammer, Pa. Ek is so jammer oor alles, Pa. God weet ek is. Maar ek moes nooit hierheen gekom het nie.”
Hy het eers net sy kop geskud met verdriet diep in sy ouerhart. Hy het nie geweet wat die seerste was nie: die oomblik toe hy moes hoor sy dogter, sy enigste kind, was die afgelope jare ’n hawemeisie in Kaapstad … of nou dat hy die skuld, skaamte en berou in haar stem en oë lees en weet hy is magteloos om die seerkry van haar te weer. Hy weet sy sal nooit los van haar verlede wees nie. Sy het reg. Sy moes nooit hierheen gekom het nie.
Sy stem het gekraak: “Ek is ook jammer, my kind, so jammer dat jy nie hier ’n holte vir jou voet kon kry nie.”
“Dis nie Pa se skuld nie.” Haar stem was verwring van ingehoue emosie.
“Tog miskien ook, my kind. As ek en jou ma nie destyds geskei het nie … maar jou ma wou nie langer bly nie en … ’n man is magteloos om ’n vrou aan hom gebonde te hou as sy nie langer wil bly nie.”
Sy het gaan sit, haar pa in die oë gekyk. “Ma het nooit baie oor die egskeiding te sê gehad nie. Net altyd gesê dinge wou nie uitwerk nie.”
“Nee. Sy wou nie die bestuurder se vrou bly nie. Sy het gesien hoe die Retiefs lewe, hulle goed en status begeer. Sy het my beskuldig dat ek geen ambisie het nie. Maar ek het nie kans gesien om my diep in die skuld te steek en ’n plaas te koop wat ek geweet het ek nooit sou kon betaal nie. Ek het haar alles gegee waartoe ek in staat was, maar sy was bitter ongelukkig om in die ‘voormanshuis’, soos sy van hierdie huis gepraat het, te woon en op ’n afstand te moet toekyk hoe regtige ryk mense lewe.” Met ’n handgebaar het hy vervolg: “Ek maak haar nie sleg nie, Elise. Sy was ’n goeie vrou, het ook die potensiaal in haar gehad om haar plek in so ’n rykmanslewe vol te staan, en sy was ’n goeie moeder met hoë ideale vir haarself en haar dogter. Sy het net een groot fout begaan: sy het met die verkeerde man getrou. Met ’n sukkelaar.”
“Pa is nie ’n sukkelaar nie! Almal weet dat oom Nols hierdie groot boerdery nie sonder Pa kan behartig nie!”
“Maar ek bly ’n man wat altyd vir ’n ander sal werk. Daarom het ek jou en haar laat gaan. Ek het geglo jou ma sou vir jou ’n beter toekoms kon uitwerk as ek. En … Elise, dit was nie my skuld dat alle bande tussen my en jou toe verbreek is nie. Jou ma het geweier dat jy soms vir my kom kuier. Volgens haar sou dit vir jou ’n verleentheid wees, want hier op Paradys sou jy maar net altyd die voorman se dogter bly.”
“En toe word ek iets ergers en van Ma se ideale het daar nooit iets van gekom nie. Sy het ’n baie bedrywige sosiale lewe gelei. Ek weet nou waarom sy dit gedoen het. Sy was op soek na daardie ryk man wat sy geglo het op haar pad sou kom. Daar wás ryk mans, maar niemand het met haar getrou nie en toe is sy dood sonder dat sy geweet het wat van haar dogter, vir wie sy ook hoë ideale gekoester het, geword het.” Sy het haar bewende onderlip hard met haar tande vasgevang. “Vroeër, toe ek begin sleg word het, toe ek saans wanneer Ma uit was, self die pad gevat het disko en later nagklub toe, het ek Pa en Ma verwyt. Dit was julle skuld dat ek sleg geword het. Maar ek het niks van die grootmenswêreld begryp nie. Vandag weet ek my ondergang was deur my eie toedoen. Dis nie Ma of Pa se skuld nie en julle egskeiding het niks daarmee te doen nie. Wat Ma gedoen het – reg of verkeerd – was omdat sy ideale gehad het, ook vir haar kind. My slegword het ook niks te doen met die feit dat Pa ons laat gaan het nie. Soos Pa gesê het, dit help nie om iemand onder dwang aan jou gebonde te hou nie. Dit werk nie uit nie.” Haar oë het by hom gepleit. “Om met ’n leuen saam te lewe werk ook nie uit nie, Pa. Ek sien nie daarvoor kans nie. Al hierdie leuens oor wat ek gedoen het voordat ek hierheen gekom het, oor waar ek was, waarmee ek my besig gehou het, mergel my siel uit. Ek kan nie meer gebid kry nie, Pa. Ek het ’n nuwe lewe begin … ’n skoon lewe. Ek wil volhou daarmee, maar op die oomblik lê daar ’n klomp swart leuens rond wat ek eers moet regstel.”
“Jy gaan seerkry, my kind. Jy gaan bitter seerkry, Elise. Moenie dink dat hier nie verkeerde dinge op Paradys aangaan nie. Maar om vanaand op ’n partytjie ’n bietjie te eie te raak met die buurman se vrou, is iets anders as om te weet wie en wat jý was. Ek is jammer, my kind, maar so is die norme van vandag. As jy vir jou buurman se vrou gaan kuier wanneer jy weet hy is by die vendusiekrale – dit vind die samelewing aanvaarbaar, maar …”
“Maar om ’n hawehoer te gewees het, is nie verskoonbaar of vergeeflik nie en beslis nie aanvaarbaar vir Kwaggasbult se gemeenskap en vir die Retiefs van Paradys nie. Ja, ek weet, Pa, maar … ek kan nie met ’n man gaan trou wat nie weet met wie en wat hy trou nie.”
“Maar dis gister se dinge, my dogter!” het Jan Vermaak met trane in die ooghoeke gepleit. “God het jou vergewe. So het jy vir my gesê …”
“Ja, Pa. God het my vergewe. Dit weet ek nou. Maar die mens vergewe nie so maklik nie. Noudat ek in hierdie nuwe lewe staan, kry ek dit nie eens reg om myself te vergewe nie. Ek wou al dikwels sommer inbars by daardie disko’s en nagklubs waar jong meisies van veertien, vyftien, selfs dertien hul eerste treë gee op die selfvernietigende pad van die prostituut en dit uitskreeu: ‘Besin! In die naam van die Here, besin tog betyds!’ Die afgelope tyd het ek die pragtigste, prágtigste meisies raakgeloop wat foonsnolle en geselskapdames is en dan het ek vir myself gesê: ‘O, genadige Vader, dit kan mos nie wees dat hierdie pragtige mens haar bestaan as ’n hoer maak nie!’ Maar hulle doen dit. Ek gaan dit vir Helgard vertel. As hy daarna nog kans sien …”
Haar pa het liewer grond toe gekyk.
“My kind, in alle regverdigheid en redelikheid teenoor jong Helgard … Só ’n feit oor die meisie wat hy liefhet – dit gaan niemand maklik verwerk nie, nie eens ’n heilige nie. Helgard is jonk, maar vyf-en-twintig, en hy is baie verlief op jou. Dit gaan ’n geweldige skok wees … en ’n mens, as hy seerkry, regtig seerkry, is geneig om terug seer te maak.”
“Ek sal daardie risiko moet loop, Pa. Dis al. Ek gaan nie verder leuens aan hom vertel nie.”
Daardie selfde aand het sy die moeilike voorneme uitgevoer. Toe hy die bestuurder se huis binnestap, het sy op hom gewag. Haar pa het vroegtydig uitgewyk, sommer ’n koers die veld ingestap om daar onder die sterrehemel van ’n Karoo-aand bittere vadertrane te stort.
Helgard was verbaas om haar nog in haar dagrokkie aan te tref. Hulle sou na ’n partytjie gaan in die buurdorp se distrik en hy het uitgesien daarna om met sy mooi meisie te spog.
“Nog nie gereed nie? Ek sal wag. Daar is nie soveel haas …”
“Ek moet eers met jou praat, Helgard.”
“Waaroor?”
“Ek … moet jou eers iets vertel. Van my … myself … my lewe voordat ek Paradys toe gekom het.”
Hy was opreg verbaas. “Maar hoekom? Jy het mos al en … wat ook al moet bykom, kan wag tot môre. Gaan trek gou …”
“Helgard, jy móét na my luister! Asseblief!”
Hy het liggies begin frons. “Ja? As dit regtig so belangrik vir jou is …”
“Ja, dit is belangrik vir my. Ek het vir jou gejok. Ek was nie ’n tikster of …”
Hy het geglimlag, sy oë sag op haar. “Dit weet ek en Pa al teen hierdie tyd. Maar wat maak dit saak? Jy hoef nie sy sakebriewe vir hom te tik as …”
“Ek was in die hawe.”
“In die háwe?” Hy lyk totaal verward.
“Ja. Ek was ’n hawemeisie.”
“ ’n … Wat is dit? Ek begryp nie …”
“Ek het my bestaan gemaak op die bote wat in die hawe vasmeer. Moet ek dit vir jou nog verder uitspel?”
Hy was ’n verdwaasde mens. “Jy bedoel jy … was ’n …”
“Ja. Ek was ’n hawehoer … ses jaar lank.”
“Elise! Watse onsin is dit hierdie? Wat probeer jy doen? Dis ’n siek grap as dit as een bedoel is!”
“Ek wens dit was net ’n siek grap, maar dis die waarheid.”
Vir die eerste keer het sy hom woedend kwaad gesien. “Luister hier, as jy niks met my te doen wil hê nie, sê dan so! Maar jy het nie nodig om sulke … e … snert te gebruik om my af te skrik nie!”
“Helgard, ek was ses jaar lank ’n hoer in Kaapstad se hawe. Toe ontmoet ek my Here … en ek kom Paradys toe … en ontmoet jou.”
“Jy is … ernstig! Jy is waaragtig ernstig!”
“Ek is. Dink jy regtig enige meisie sal so iets oor haarself kwytraak as dit nie die waarheid is nie? Maar ek moes jou die waarheid vertel, Helgard. Jy het my gevra om met jou te trou. Ek móés jou vertel. Verstaan jy? Ek wil eerlik, skoon en mooi saam met die man leef met wie ek gaan trou.”
“Trou!” Hy het gesnorklag. “Trou … met ’n hóér!”
“Ek wás ’n hoer, Helgard. Ek sal dit nooit weer wees nie, deur die genade van God …”
“God! Jy praat van God! Jý! Jy kom vertel my doodkalm … jy was … dit vir ses jaar lank onder matrose … Watse soort matrose? Antwoord my!”
“Die laaste twee jaar het ek net op die Japannese bote gewerk.”
“Japannese bote! Japannese! ”
“Ja.” Daar was ’n doodsheid in haar stem, in haar oë. “Hulle is van die beste. Die meeste is gentlemen …”
“Gentlemen! Goeie … hemel! Ek …” Hy het omgeswaai asof hy die huis wou uitstorm. Toe weer teruggeswaai, haar hard aan die skouerpunte vasgegryp en ’n harde skud gegee, sy oë soos twee vuurkole in sy kop. “Jy lieg nie vir my nie? Dis alles die waarheid … die heilige waarheid wat jy nou kwytgeraak het? Ook van die Japannese?”
“Ja, dis alles die … waarheid … ook die Japannese.”
Hy het uitgestorm en in sy motor geklim, weggetrek en koers gekry in die rigting van die partytjie. Die partytjie waar hy wou gaan spog het met … ’n hoer! Hy het hard gelag, maar dit het amper na ’n snik geklink. Dis onsin! Dis … alles leuens! Twee jaar op die Japannese bote … ses jaar op watter boot ook al … Is dit wáár?
Sy het met traanlose oë omgedraai en begin inpak. Daar was nie langer vir haar plek op Paradys nie. Daar was van die begin af nie plek nie.
Haar pa het later ingekom en stil gekyk na die tasse wat reeds in die voorportaal gestaan het. Dit was sý oë wat tekens van baie trane getoon het. Hare was steeds droog, kurkdroog en branderig. ’n Verduideliking was nie nodig nie.
“Ek moet maar gaan, Pa. Dis beter so.”
“Nie nou nie. Dis in die middel van die nag. Ek sal jou môreoggend stasie toe neem. Gaan rus nou eers.”
Sy het omgedraai, kamer toe gestap. Rus? Waar is daar rus? Sy het haar Bybel, die nuwe een wat Elske en Vegter haar met haar bekering gegee het, oopgemaak, maar haar moeë oë kon nie die woorde lees nie. Toe het sy maar haar kop daarop laat sak, maar op daardie oomblik kon sy ook nie bid nie.
Sy het nog so gesit toe die voordeur skielik oopgebars het. Nols Retief het in sy nagklere daar gestaan.
“Jan, waar is daardie dogter van jou?”
“Meneer Retief …”
“Hier is ek, oom Nols.”
“Hier is nie plek vir jou op Paradys nie. Maak dat jy hier wegkom.” Toe het sy oë na Jan Vermaak gedraai, kliphard. “Jan, ons stap ’n lang pad saam. Maar as jy nie wil hê jou dogter moet gaan nie, loop jy saam met haar … vanoggend nog.”
Voor haar pa iets kon stamel, het sy gepraat: “Ek gaan, oom Nols. Hier staan my koffers reeds gepak.”
“Goed. Dan verstaan ons mekaar.”
Die deur het toegeklap.
Dit was nog sterk skemer toe Jan Vermaak se klein motortjie amper geluidloos die rylaan van Paradys afgery het.
Elise draai af op die paadjie na haar pa se huis. Vandag is sy weer terug op Paradys … en sy weet intuïtief dit gaan geen paradys wees nie.
Helgard staar haar motortjie agterna. Dié verrassing is te groot. Elise …
Hy onthou hoe hy daardie aand by die partytjie aangekom het en reguit na die hoek waar die drankies geskink is, gestap het. Hy onthou iemand het hom gevra waar sy meisie dan is, of hy haar wegsteek vir die ander manne. Hy kan nie meer onthou wat hy geantwoord het nie. Hy weet net hy het begin drink. Later het hulle ’n meisie aan hom voorgestel, hy het met haar gedans en sy het hom daar op die dansvloer gelos, gesê hy is dronk, sy dans nie verder met hom nie. Hy het hom bloedig vererg, haar iets toegesnou en teruggegaan na die hoek toe. Hulle moes hom later wys waar sy motor staan, maar om die dood kon hulle nie sy sleutels afgeneem kry nie. Hy makeer niks. En verder ken hierdie Jaguar al self die pad Paradys toe. Hulle moet hom net agter die wiel sit, dis al.
Dit wou amper lyk asof die motor regtig self sy pad teruggevind het plaas toe, want die een of ander tyd het hy die rylaan opgery gekom, en het die motorligte vol op ’n woedende Nols Retief in sy nagklere op die voorstoep geval.
“Wat is Pa so laat nog wakker?”
“Dis nie laat nie, jou sot! Dis dagbreek! Jy is al twee uur gelede van Paradysfontein af weg en jy kom nou eers hier aan!”
“Wat daarvan? Hier is ek nou. Hoe weet Pa …?”
“Tant Maatjie het gebel, my gesê jy is dronk van die partytjie af weg en ek moet op die uitkyk vir jou wees. Helgard …”
“Ou tant Maatjie! Die bemoeisieke ou feeks! Al wat sy kan doen …”
“Los tant Maatjie uit en kom hier, mannetjie!” ’n Stewige vuis om die kraag het hom by die voordeur ingehelp tot reg onder die sterk elektriese lig. “Wat is met jou gaande? Hoekom moet mense my bel om te waarsku my kind is dronk van die partytjie af weg? En waar is Elise?”
“Elise is by haar pa. Sy was nie saam met my nie. En ek is g’n dronk nie.”
“Maar besope genoeg om te kon verongeluk het. Jy hét te veel gedrink. Tant Maatjie sê jy het heelaand net daar by die kroeg gesit …”
“Na die hel met die ou vrou, Pa! Los my uit!”
“Met wie praat jy, mannetjie?”
“Ja, maar, Pa …”
“Wat is met jou aan die gang, Helgard? Ek ken jou nie so nie. Wat het gebeur? Het jy en Elise stry gehad?”
“Nee. Dis net uit.”
“Uit?”
“Uit. Af. Wat jy dit ook al noem. Daar is niks meer tussen ons nie.”
“Hoekom nie?”
Hy het gevoel sy kop wil oopbars; hy wou dit uitskreeu: Los my uit! Los my net uit! “Omdat sy ’n hoer is, dis hoekom.”
Daar was ’n kort stilte. “Helgard …”
“Ek probeer nie snaaks wees nie, Pa. Dit is nie snaaks nie. Sý sê sy was een … ses jaar lank … in Kaapstad se hawe.” Hy het die ongeloof en skok in sy pa se oë gelees. Toe grynslag hy. “Hou vas Pa se hart. Hier kom die grootste skok. Sy het die laaste twee jaar uitsluitlik op die Japannese bote gewerk, soos sy dit stel.”
Die ou man het bleek onder die elektriese lig vertoon. “Helgard, is dit die waarheid? As hierdie dronkpraatjies is …”
“Dis nie dronkpraatjies nie. Ek is aangeklam, maar nie só dronk nie. Al was ek ook totaal besope, sou my brein nie so iets kon uitdink nie. Ek vertel Pa net wat sy my vertel het.” Sy gesig het versomber. “Ek is jammer sy het. Ek is verdomp jammer sy het! Magtig! Hoekom het sy nie liewer haar mond gehou nie?”
“Is jy van jou sinne beroof? Dan sou jy met so ’n meisie gaan trou het sonder die vaagste idee …”
“Wat ’n mens nie weet nie, hinder jou nie, Pa. Ek bly jammer sy het my vertel. Waaragtig jammer …”
Hy het weggestap en sy pa het hom agternagestaar. Hy onthou hy het sy kamerdeur hard agter hom toegegooi en op die bed gaan sit … en gewens hy kon nog tien bottels brandewyn uitdrink.
Hy het eers die dag nadat sy vertrek het, gehoor Elise Vermaak is terug Kaapstad toe. Hy het geen kommentaar te lewer gehad nie. Net onwillekeurig gewonder of sy terug hawe toe is. Haar naam is nooit weer genoem nie, ook nie eens deur oom Jan of ta’ Vroeteltjie nie, en hy het ook maar die swye bewaar – sewe jaar al …
En vandag is sy terug.