Читать книгу Oase van geluk - Ena Murray - Страница 4
ОглавлениеHoofstuk 1
1
Sy reik na die foon toe dit lui. “Nul agt tw-”
’n Kragtige “hallo” weergalm só kwaai in haar ore dat Isolde eers sluk voordat haar eie groet bra flou opklink.
“Dis Coetzenbergh wat praat.”
“O?”
“Wie praat nou?” wil die man ongeduldig weet.
“U wil seker met Kobus praat? Hy ...”
“Ja!”
Die woordjie klap soos ’n pistoolskoot in haar ore. Móét die man só kortaf wees?
“Hy is nie hier nie,” antwoord sy en frons. Maar dit behoort hy tog te weet.
“Wie is u ... Martina?”
Nou klink hy werklik dreigend en Isolde se frons verdiep. “Nee, haar ouer suster, Isolde.” Haar stem het ’n waarneembare verkoeling ondergaan.
Die stem aan die ander kant is nou openlik ergerlik. “Wat de duiwel gaan daar aan? Kobus is gestuur vir besigheid, nie om vrou te gaan soek nie! Kan jy nie hul koorsigheid keer nie? Hy is ’n snuiter. Nog nat agter die ore. Wat weet hy van die getroude lewe en die eise wat dit stel?”
Isolde luister verslae na die onverwagse tirade. Dan begin haar groen oë blits oor die onregverdigheid daarvan. Om ’n totale vreemdeling op só ’n toon oor ’n foon aan te val! ’n Sonstraal vang die rooi hare toe sy haar ken omhoog ruk asof sy die onbeskofte buffel in lewende lywe voor haar sien staan. Maar in teenstelling met die vuur in haar hare, is die ysigheid van die Noordpool in haar stem toe sy antwoord: “Ek dink Kobus is heeltemal oud genoeg om te weet wat hy doen, meneer Coetzenbergh. Wat betref die eise wat ’n huwelik aan ’n man stel ... ’n oujongkêrel soos u weet natuurlik alles daarvan af, veronderstel ek?”
Sy geniet die verbaasde stiltetjie wat op háár aanval volg, maar haar ingenome glimlag verdwyn net so vinnig toe sy teenaanval kom.
“Juffrou, u klink net so onverantwoordelik soos wat ek van die hele spul daar verwag. Hoe dink jy gaan my ma voel as sy moet hoor dat haar jongste seun sommer met ’n wildvreemde meisie wil trou wat ... wat ...”
“Wat wát, meneer Coetzenbergh?”
“Wat ons nie weet waar hy haar uitgekrap het nie!”
Hierdie keer is daar nie net vuur in haar hare nie. Daar spat ook vonke uit die groen oë. “Ek kan jou verseker dat jou broer my suster nêrens uitgekrap het nie. Die groot vraag is liewer waar my suster jóú broer uitgekrap het, na sy ouer broer se maniere te oordeel.”
“Juffrou, luister ...”
“Ek luister nie na ongepoetste, onopgevoede plaasbuffels soos jy nie, nie ’n minuut langer nie. Gaan na die duiwel!”
Skielik is daar ’n grafstilte.
Sy gesig lyk nog grimmiger. So ’n ... Net betyds keer hy die woord in sy gedagtes. Sy is ’n mooi een om van ’n ander se maniere te praat. Het haar ma haar nie geleer dat dit die toppunt van ongeskiktheid is om ’n foon in ’n ander se oor neer te sit nie?
Toe hy wegdraai, is daar benewens die ergernis op sy gesig ook kommer. Dat Kobus nou sulke kaf kon gaan staan en aanvang. As hy geweet het die jong sot sou so gou kop verloor, het hy liewer self gegaan, of dan saamgegaan. Maar hulle kan ook nie albei gelyk van die plaas af padgee nie. Behalwe dat so ’n groot en deskundige boerdery nie sommer opsy geskuif kan word nie, is daar ook nog sy ma. Sy durf nooit alleen gelaat word nie.
Die moederoë hou hom al ’n hele rukkie dop sonder dat hy dit weet. Haar gelaat is sag en moederlik, ingekeep deur lyding en ervaring en liefde. Sy lyk op hierdie oomblik ietwat geamuseer, hoewel sy ook frons. Wie sou hierdie seun van haar nou weer so kwaad gemaak het dat hy soos ’n baster donderstorm lyk?
“Iets gebeur, Zakkie?”
Hy ruk uit sy donker bepeinsinge op en sy sien hoe hy ’n daadwerklike poging aanwend om te glimlag. “Nee. Sommer net ... Ek het gedink.”
Sy glimlag. “Dit kon nie aangename gedagtes gewees het nie. Jy het gelyk of jy elke oomblik kan oopbars.”
Dit beskryf sy gevoel redelik korrek, dink hy steeds grimmig, maar glimlag. Hy is ’n groot man, en moet effens buk om die silwer kop liggies te streel. “Ek lyk maar so as ek diep dink,” omseil hy die vraag in haar oë. “Ek gaan gou na die onderste kamp. Moenie vir my wag vir ete as dit te laat raak nie.”
“Goed, my seun. Zak?”
“Ja?”
“Het jy al iets van Kobus gehoor? Jy het mos gesê jy sal bel. Ek voel half onrustig oor hom. Hy is so stil.”
“Ek het gebel,” sê hy vinnig, en probeer kalm klink. Sy ma mag onder geen omstandighede ontstel word nie. “Hy was nie daar nie. Ek het ’n boodskap gelaat dat hy moet bel sodra hy by die agent se kantoor aankom.” Sy een mondhoek trek weer vlugtig. Dis wat hy van plan was om te doen, maar toe is die telefoon in sy oor neergegooi. Maar daarvan hoef sy nie te weet nie.
“Ek hoop hy kry waarna hy soek,” sug sy saggies, teerheid in haar stem by die gedagte aan haar jongste.
Hy’t veel meer gekry as waarna hy gaan soek het, voeg die oudste seun stilswyend by, maar vra hardop. “Hoekom?”
Die ma frons, kyk versigtig op. Sy en haar seuns is baie na aan mekaar, maar hierdie een verstaan sy nie altyd nie. Hy is ’n diep mens, ’n goeie mens, hierdie Zak-seun van haar, maar ’n man wat versigtig gehanteer moet word. “Kobus wil so graag iets op sy eie begin en wys hy kan ’n sukses daarvan maak. Hy wil homself bewys, Zak.”
Hy frons. “Hy kan homself mos hier op Rocklands bewys, Ma. Ons sit met ’n magtige stuk aarde en so intensief as wat ons boer, is daar meer as genoeg geleentheid vir Kobus om te bewys wat in hom steek.” En by die eerste geleentheid wat hy kry, bewys hy dat hy nog ’n onverantwoordelike jong seun is, dink sy broer bitter.
“Dis reg, ja, Zak, maar hy kan net voortbou op dit wat jou oorlede pa en jy reeds tot stand gebring het. Jou pa het intensief geboer, en jy doen dit ook en vir Kobus het daar niks oorgebly om op eie inisiatief aan te pak nie. Niks nuuts nie. En die mens is nou maar so, my seun. Elkeen wil maar graag ’n eie spoortjie trap, nie waar nie? Hy wil ook self graag ’n nuwe spoor agterlaat, sodat mense eendag kan sê, dit was Kobus Coetzenbergh wat eerste met dit of dat begin het. Dis net menslik, Zak, en dit hoort ook so.”
Die broeiende, ergerlike blik verdof en deernis neem die plek daarvan in. Hy het ’n wonderlike moeder. “Dis reg, Ma, en ek gun Kobus dit ook van harte. Ek dink ook self dat hierdie Brahmaan-idee van hom groot moontlikhede inhou, maar ...”
“Ja?”
Maar sy kop is vol muisneste in plaas van Brahmane, sê hy vir homself. “Nee, ek bedoel maar net,” en hy glimlag skeef, “ek is seker al te oud vir nuwe idees. Ek glo nog soos my voorvaders dat ons Karooveld vir skaap gemaak is en klaar. Kobus moet eers bewys dat ’n bees in hierdie deel van die Karoo gaan aard.”
“Maar jy gaan hom die kans gee om dit te doen, nè, Zakkie?”
Hy glimlag gerusstellend. “Ek het mos reeds, het ek nie, ou broeis hen?” sê hy goedig. “U baba sal die geleenthede wat hy wil hê van sy ouboet kry om homself te bewys. Tevrede?”
Die moederglimlag is sag van liefde en dankbaarheid. “Dankie, Zak. Ek het so baie om voor dankbaar te wees. Soms, as ek so om my kyk en hoor en sien van al die hartseer en smart wat kinders hul ouers aandoen, dan word my hart te vol om werklik te kan dankie sê vir die twee seuns wat die Vader my gegee het. Ek het nog altyd net vreugde van julle gehad. Veral aan jou ’n baie groot dankie, Zak. Toe jou pa dood is, het jy die leisels geneem en amper soos ’n tweede vader vir Kobus gesorg. Ek weet jy sal dit altyd doen, ook nog as ek die dag nie meer daar is nie. Dis wonderlik om so ’n seun soos jy te hê, my kind. Ek verdien ...”
“Nee, toe nou, wat is dit dan vanmôre? Ons praat nie nou oor sulke dinge nie.” Hy klink ongeërg, maar sy oë is skerp. Sy verlang na Kobus, besef hy.
“Jy skram altyd weg wanneer ek daaroor wil praat, Zak,” betig sy hom. “Maar daar gaan ’n dag kom dat ek nie meer hier sal wees nie, Zakkie. Het jy dan nog nie die regte meisie raakgeloop nie?”
“Ou Moedertjie, moenie dat ons nou weer dáároor begin praat nie. Wil Ma my so graag aan ’n ander vroumens afsmeer?” Hy buk af en soen haar vlugtig op die gerimpelde voorkop. “Eendag, een van hierdie mooi dae, verras ek Ma nog. Net nie so haastig wees nie, mevrou Coetzenbergh.”
Sy sien hom wegstap en sug saggies. Hy sê dit elke keer ... een van hierdie mooi dae. Maar dié mooi dag breek net nie aan nie.
Terwyl Zak se ma verlangend wonder wanneer haar oudste seun sy bruid sal huis toe bring, stap daardie selfde seun met lang treë na sy bakkie en voel allermins na ’n potensiële bruidegom. Die onaangename herinneringe aan ’n onbekende vroumens is nog vars in sy geheue en hy voel heel tevrede dat hy nog nie die mal perd opgesaal het deur hom aan een van dáárdie geslag te verbind nie.
Baie ver van die spogplaas Rocklands daar in die hart van die Groot-Karoo, staan Isolde Cilliers nog stomend.
Sy sou nooit kon raai daar bestaan sulke onbeskofte mense nie. En dit nogal die gawe Kobus se broer! Sy sluk. Dan is daardie ongemanierde buffel mos nou ook haar swaer!
Sy gaan sit peinsend op die rusbank terwyl die woede in haar bedaar en kommer al vinniger begin oorneem.
Iets is hier verkeerd, vertel haar verstand haar. Hoe meer sy aan die pas afgelope gesprek dink, hoe sekerder word sy dat Kobus se mense nie weet dat hy al klaar getroud is nie. Maar Kobus het hulle verseker dat hy kontak met sy ma en broer gemaak en hulle van sy voorgenome huwelik vertel het.
Die onrus begin in haar aangroei. Wat weet hulle eintlik van hierdie gawe Kobus af?
Amper niks, besef sy. Net wat hy self te vertelle gehad het en wat Richard beaam het – en teen hierdie tyd behoort sy goed te weet dat sy woord selde geloofwaardig is.
Die gedagte aan haar gewese verloofde laat haar terugleef die verlede in.
Richard Latsky is die bekendste prokureur hier op Skoonspruit, ’n groot dorp nie ver van Johannesburg af nie. Hy het vir homself naam gemaak as ’n man wat selde of nooit ’n saak verloor, en een wat nie huiwer nie om sy eie gewete te verkrag om dit reg te kry.
Toe haar ouers kort ná mekaar oorlede is, keer Isolde terug na Skoonspruit om by haar jonger sussie te wees. Martina is in matriek en sy self ’n gekwalifiseerde maatskaplike werkster, wat deur die goedgesindheid van die departement ’n oorplasing na Skoonspruit kry. Haar ouers se plaas word verkoop en sy en Martina trek dorp toe. Richard Latsky was haar oorlede pa se prokureur, en sy en Martina leer om baie op hom te steun. Hy is nie net hul prokureur nie, maar ook algemene raadgewer. Hy is besonder behulpsaam en vriendelik en mettertyd ontstaan daar ’n sterk vriendskap tussen hom en Isolde wat ’n jaar later op ’n verlowing uitloop.
Maar soos die tyd vorder en Isolde al meer deel van Skoonspruit en sy mense word, bereik allerhande storietjies haar ore. Stories wat haar ongelukkig begin maak. Sy wil aanvanklik nie glo wat sy hoor nie. Teenoor haar en Martina is hy altyd onberispelik en hy het hulle mooi gehelp ná hul ouers se dood. Tog moet sy later aanvaar dat, hoewel miskien ’n bietjie oordrewe, daar tog waarheid in die stories steek wat die ronde oor haar verloofde doen.
So gaan die tyd verby – tot sy op ’n dag finaal moet besluit of sy kans sien om die res van haar lewe met ’n man te slyt wat niks in sy pad na roem en geld laat staan nie. Sy sien egter nie kans om haar toekoms te deel met iemand wat bereid is om sy eie gewete te verkrag ter wille van aansien en tydelike voorspoed nie, en gee sy ring terug.
Hy wil dit nie aanvaar nie. Daar volg lelike rusies, maar op die ou end moet hy maar sy ring terugneem. Hy laat haar nietemin goed verstaan dat hy dit nie as finaal beskou nie. Hy laat haar ook nie met rus nie. Sy is lankal oortuig dat dit nie is omdat hy haar so vreeslik liefhet nie – hy word intussen ’n haan onder Skoonspruit se nooiens – maar net omdat hy nie daaraan gewoond is om nee vir ’n antwoord te kry nie en omdat hul verlowing die eerste mislukking in sy lewe was.
Die verbreking van haar verlowing het Isolde nie noemenswaardig ontstel nie. Sy besef dat sy hom nooit werklik liefgehad het nie, maar net baie afhanklik van hom geword en gewoond geraak het daaraan om op hom te steun. Die feit dat sy nie ten gronde gegaan het sonder hom nie, is natuurlik ’n doring in die egoïstiese heer se vlees.
Isolde weet nou dat sy eintlik ternouernood groot ongelukkigheid ontkom het, en is dankbaar dat haar oë betyds oopgegaan het. Tog is sy ’n bietjie bekommerd oor haarself.
Sy het haar werk waarin sy baie gelukkig is. Sy het ’n groot vriendekring. Aan geselskap en bewondering het sy geen tekort nie. Tog kan sy haarself ná die ervaring met Richard nie so ver kry om weer ernstig oor ’n man te dink nie, en die een bewonderaar na die ander blaas dan maar die aftog en trou met iemand anders.
Martina bekwaam haar as onderwyseres en kom bly weer saam met haar suster in die woonstel op Skoonspruit toe sy so gelukkig is om ’n pos op haar geboortedorp te kry. Martina met haar donker hare en bruin oë is ook ’n baie gewilde meisie, want sy het ’n opregte, sagte geaardheid, en die Cilliers-susters se woonstel is ’n gewilde bymekaarkomplek vir die jongmense van Skoonspruit.
Tog kry Isolde die afgelope tyd die gevoel dat sy stadigaan op die agtergrond begin verdwyn, dat die lewe by haar begin verbygaan en sy nie meer werklik deel daarvan is nie. Dit is al meer Martina se ouderdomsgroep wat die woonstel op horings neem en die ouer suster wat haar dan taktvol in haar slaapkamer terugtrek.
Op ’n dag kom sy tot die ontnugterende ontdekking dat sy vinnig besig is om ’n oujongnooi te word. Sy is ses en twintig. Vriendinne van haar ouderdom is reeds almal getroud en besig om ’n krosie groot te maak. Dit is nog net sy wat los rondloop.
Dit is ook die dag dat sy besef hoe ver sy al op die eensame pad van oujongnooiskap gevorder het. Sy gaan fronsend op haar bed sit en neem haar lewe van die afgelope jaar of so in oënskou en besef dat sy reeds in ’n groef verval het. Sy gaan deesdae selde uit, want daar is eintlik nie meer ongetroude mans van haar ouderdom op die dorp nie. Sy sit ’n onrusbarende aantal aande in die week alleen tuis met ’n boek of die televisie of naaldwerk as geselskap, terwyl Martina saam met die jongklomp uit is. Wat meer sê, sy begin dit verkies om haar aande in haar eie geselskap deur te bring – ’n baie gevaarlike teken.
Daarom dat sy sedert hierdie ontdekking aan Richard se pleidooie toegee om weer saam met hom uit te gaan. Hy is ook nog nie getroud nie, en hoewel sy weet dat dit nie is omdat hy nog aan haar verkleef is nie, is hy nou byna die enigste man op Skoonspruit van haar ouderdomsgroep met wie sy kán uitgaan.
Een aand daag hy nie alleen by die woonstel op nie, maar bring ’n ander man saam – Kobus Coetzenbergh. Hy vertel dat hy ’n skatryk jong boer is, afkomstig van dieselfde plek as Richard. Sy ouers en Richard s’n is al jare lank bure. Kobus is in die stad in verband met besigheid en Richard het hom raakgeloop en oorreed om die naweek saam met hom Skoonspruit toe te kom.
Toevallig is Martina daardie aand tuis en die twee jongmense kom sommer uit die staanspoor goed klaar. Van dié naweek af ry Kobus gereeld Skoonspruit toe. Nie omdat hy Richard se geselskap so besonder aangenaam vind nie, maar om ’n rede wat Isolde eers besef toe die koeël reeds deur die kerk is.
Martina en Kobus ken mekaar maar veertien dae toe sy een aand met sterre in haar oë die woonstel binnestap en by haar suster op die bed kom sit.
“Ek het gedink jy slaap al,” sê Martina. Isolde klap haar boek toe.
“Nee. Ek het so begogel geraak dat ek die boek nie kon neersit nie. Wêreld, maar dis al laat. Ek het nie besef ...” Sy kyk haar sussie fronsend aan. “Martina, ek wil nie prekerig klink nie, maar jy was die afgelope veertien dae elke aand tot bitter laat uit. Jou werk gaan daaronder ly. Jy sal die joligheid so ’n bietjie moet inkort, sussie.”
Martina glimlag net goedig. Soos ’n mens geduldig teenoor ’n oujongnooisuster sal glimlag, dink Isolde by haarself en die benoude gevoel wel weer in haar op.
“Sus, sê my, hoe weet ’n mens as jy werklik verlief is? Ek bedoel, hoe kan jy seker wees dat jy die één man vir jou in die lewe raakgeloop het?”
Isolde kyk haar suster verslae aan. Toe laat sy haar blik sak. Hoe weet ’n mens? Sy frons. Sy weet nie. Op ses en twintig weet sy nie hoe dit voel om iemand lief te hê nie. Sy probeer dink. “Wel, ek sal sê ...” Sy byt haar onderlip vas.
“Ja? Hoe moet ’n mens voel?”
Sy kyk half moedeloos na haar jonger suster op. Probeer weer. “As hy jou baie kosbaar laat voel, dink ek.”
“Werklik?” Martina se donker oë dartel.
Isolde kyk haar skerp aan. “Hoekom vra jy?”
“Ek ... wil weet. Isolde ...” Die jonger meisie lyk soos iemand wat nie ’n oomblik langer ’n geheim kan hou nie. “Sus, ek is verlief, hierdie keer wérklik verlief! Ek weet nou dis vir altyd, want jy het reg. Hy laat my so kosbaar voel. So verskriklik kosbaar.”
Isolde kyk haar suster ontsteld aan. Toe kom daar ’n stilte oor haar. Martina kan al werklik verlief raak. Sy is een en twintig. Daar is van haar vriendinne wat al getroud is en selfs een of twee wat babas het.
“Op ... wie is jy verlief, Martina?”
“Op Kobus, natuurlik! O, hy is so wonderlik, Isolde!”
Isolde frons. “Maar julle ken mekaar skaars, my liewe sussie.”
“Maak dit saak? Ons weet ons het mekaar lief. Ons sal mekaar altyd liefhê. Sus, jy moet dit verstaan.”
Isolde kyk in haar suster se pleitende oë en weet dat haar suster iets ervaar wat sy nie ken nie – die sekerheid dat jy jou lewensmaat gevind het.
“Ek is bly jy is so gelukkig, Martina. En hoe beter julle mekaar leer ken, hoe verder sal jou geluk verdiep, hoop ek.”
“O, ek weet dit sal so wees. Ons gaan ook nie wag nie, ons gaan dadelik trou.”
“Dadelik? Maar Martina ... werklik, is julle nie ’n bietjie haastig nie? ’n Mens kan nie iemand in veertien dae leer ken nie, my sussie.”
’n Mooi, wyse glimlag verskyn om die meisie se lippe en Isolde besef meteens met beklemming dat hierdie jong sussie van haar – wat sy al die jare beskerm en gelei het; vir wie sy byna ’n tweede ma geword het – die afgelope twee weke in ’n onafhanklike, volwasse vrou ontwikkel het. Die werklike erns van die situasie tref haar en sy vra dringend: “Hoe kan jy so seker wees dat dit Kobus en net Kobus is?”
“Ek wéét.”
Dié woorde word met stille sekerheid gesê en Isolde besef dat niks wat sy kan byvoeg iets aan die situasie sal verander nie. Martina is nie iemand wat met mans se gevoelens speel nie. Daarom is sy verplig om te aanvaar dat haar sussie dit werklik ernstig bedoel.
Die volgende dag vind sy by Kobus ook dieselfde absolute sekerheid. Sy het geen ander keuse nie as om te aanvaar dat die twee mense in die loop van veertien dae werklik op mekaar verlief geraak het en vasberade is om so gou moontlik te trou. Daardie “so gou moontlik”, moet sy hoor, is nog dieselfde week.
“Maar hoekom so haastig?” vra sy vir die hoeveelste keer. “Jou mense sal tog seker eers vir Martina wil ontmoet. Hulle sal nie daarvan hou dat jy sommer met ’n wildvreemde meisie trou nie.”
Kobus het ’n antwoord gereed. “Dis nog net my ma wat leef en sy sal nie omgee nie, solank ek net gelukkig is. Natuurlik sal ek haar graag by die huwelik wou hê, maar sy is ’n hartlyer en sal nie vir die troue hierheen kan kom nie.”
Isolde gryp na die laaste strooihalmpie. “Martina is onder verpligting by die skool, Kobus. Sy kan nie haar werk sommer net so los ...”
Daarvoor het Martina weer ’n antwoord gereed. “Alles gereël, sus, ek het klaar met die hoof gepraat. Die skole sluit oormôre en juffrou Conradie is bereid om my pos volgende kwartaal oor te neem. Ek het klaar ’n plaasvervanger gekry.”
Die ouer suster bly woordeloos sit. Wonderlik hoe die liefde alle probleme kan oorbrug en wegvee, dink sy effens wrang. Daar is net niks waarop hierdie twee nie ’n antwoord en ’n oplossing voor gereed het nie. En aangesien albei reeds mondig is, is daar niks wat sy verder kan sê nie.
Nog steeds nie baie gelukkig omdat dinge so vinnig verloop nie, moet Isolde op die ou end maar saam met die onstuitbare stroom gaan en haar toestemming tot die huwelik gee. Die feit dat Richard haar verseker dat Kobus uit ’n puik familie kom en dat sy geen vrese oor haar suster se materiële welvaart hoef te hê nie, help nie veel nie.
Die twee jongmense trou stil en gaan net vir ’n naweekwittebrood na ’n vakansieoord nie ver van Johannesburg af nie. Dit is eers toe hulle weg is, en sy alleen in die woonstel agterbly, dat Isolde werklik ten volle besef wat gebeur het. Van nou af sal sy alleen wees. Martina is getroud en sy gaan haar baie ver van Skoonspruit af op ’n plaas vestig. Isolde bly alleen agter.
Daarom dat sy, toe Richard weer met haar oor ’n huwelik begin praat, hom nie dadelik stilmaak nie. “Isolde, dink jy nie dit het tyd geword om sake nugter te beskou nie? Martina is nou getroud en jy is alleen. Trou asseblief met my. Jy weet hoe ek oor jou voel.”
Sy kyk hom onseker aan. Miskien het hierdie man haar tog werklik lief, of, altans, so lief as wat hy in staat is om ’n vrou lief te hê. “Wat van al die ander meisies?”
“Jy weet hulle beteken niks vir my nie. Ek het maar net die tyd met hulle verwyl omdat jy my so op ’n afstand hou.”
“Jy sal my tyd moet gee om daaroor te dink, Richard.”
Hy is nie tevrede met haar antwoord nie, maar hy het ook al geleer dat dit hom niks in die sak bring om hierdie meisie te probeer dryf nie. Dis een van die redes hoekom hy besluit het dat niemand anders as Isolde Cilliers sy vrou sal word nie. Hy het nog altyd respek vir haar gehad. Die ander meisies sê te maklik ja en amen op alles. Isolde is egter ’n vrou met ’n persoonlikheid en wil van haar eie. ’n Man sal nie verveeld raak met haar nie. Liefde maak nie saak nie. Net so beredeneerd as wat hy altyd is wanneer hy ’n hofsaal binnestap, so hanteer hy die kwessie van sy toekomstige vrou. Daar is sekere vereistes wat hy aan so ’n dame stel, en hy het doelbewus nog altyd na so ’n vrou gesoek.
En ná al die jare staan Isolde nog steeds boaan die lys.
Toe Isolde daardie aand in die bed klim, kan sy nie aan die slaap raak nie. Aan die een kant bekommer sy haar oor haar suster se skielike huwelik. Sy kon tot dusver niks in Kobus vind wat sy tot sy nadeel kan aanteken nie, maar die haas van alles bly haar hinder, en in haar agterkop het sy nog steeds die gevoel dat Kobus se mense nie tevrede gaan wees nie. Hy het haar wel verseker dat hy telefonies met hulle in verbinding was en dat daar niks in die pad van sy en Martina se huwelik staan nie, maar die onrus bly.
Dan is daar nog Richard se huweliksaanbod om in die lang nag oor te lê en tob. In een opsig het hy reg. Dit het tyd geword dat sy die lewe en haar omstandighede nugter bekyk. Geld ontbreek haar nie. Afgesien van haar salaris, is daar die erfporsie van haar ouers wat verseker dat sy nooit gebrek sal ly nie, of sy trou of nie.
Maar geld is nie alles nie. Dit het sy die afgelope paar dae besef terwyl sy haar jonger suster se geluk aanskou het. ’n Vrou is gemaak om bemin te word. Daarin lê die vervulling van haar hele wese. Terwyl sy in hierdie dae van dolle voorbereidings gehelp het waar sy kon, het sy al meer besef dat haar jonger sussie iets in die lewe gevind het wat háár verbygegaan het – en vir altyd vir haar verlore gaan wees as sy nie nou die werklikheid in die oë kyk nie. Maar of Richard Latsky die man is by wie sy hierdie kosbare kleinood sal vind wat ook haar oë soos sterre sal laat skitter, betwyfel sy. Maar wie is daar anders? vra sy haarself eerlik in hierdie nag af.
Sy het haarself onbewustelik die afgelope tyd so teruggetrek dat sy begin glo het dat daar geen ander man is met wie sy sal kan trou nie behalwe met Richard Latsky. Sonder dat sy dit besef het, het sy haar kanse op geluk, en veral huweliksgeluk, by haar laat verbygaan.
Sy lê fronsend met oop oë na die donker en staar. Sy dink nou eers daaraan dat haar jaarlikse verlof ook oor ’n paar dae begin. Dit is die afgelope jare so gereël, sodat sy en Martina saam verlof het en saam êrens kon gaan vakansie hou. Maar vanjaar sal Martina nie by wees nie. Sy sal by haar man wees.
Isolde sal van nou af ook alleen moet vakansie hou. Hierdie vooruitsig hou geen plesier vir haar in nie en sy wonder of sy nie maar haar verlof moet kanselleer nie. Dis tog nie lekker om alleen met vakansie te gaan nie. Maar dan ... Sy sal seker daaraan gewoond moet raak. Die volgende oggend staan sy op met die besef dat haar suster se troue haar eie lewe totaal ontwrig het en dat sy nuwe aanpassings sal moet maak. Sy sal moet leer om alleen haar pad te stap. Of sy sal met Richard Latsky moet trou.
Ontsteld oor wat sy alles in die oë moes kyk in hierdie nag wat verby is, onthou sy weer gister se oproep. En sy weet sommer dat haar voorgevoel van onheil nie ongegrond is nie. Kobus se mense – spesifiek sy ouer broer – is beslis nie ingenome met die verloop van sake nie. Verder het sy nog die gevoel dat hulle glad nie eens die volle toedrag van sake ken nie.
Die res van die dag dwaal sy diep bekommerd in die woonstel rond. Van vyfuur af hou sy die straat voor die woonstelblok dop, en slaak ’n sug van verligting toe sy Kobus se motor sien stilhou. Hulle is terug! Dit was die langste Sondag wat sy nog belewe het.
Sy voel gemeen om hul vreugde en geluk te demp, want die twee lyk so stralend gelukkig, maar daar sit ’n man, ’n baie ontevrede man, iewers op hulle en wag. Hoe gouer sy hulle van die oproep vertel, hoe beter. Kobus is nou ’n getroude man en hy moet sy verantwoordelikhede self dra.
Martina bars die woonstel binne en gryp haar suster om die nek. “O, dis lekker om jou weer te sien, sus. O, Isolde, ek is só gelukkig!”
Isolde se keel trek toe terwyl haar oë verteder. Ag, mag die Vader gee dat haar kleinsus altyd so gelukkig sal bly. Maar met beklemming besef sy dat dit nie sal gebeur nie. Sy het sedert gisteroggend die nare voorgevoel dat daar probleme op die paartjie wag.
Martina is egter te intens in haar eie geluk opgeneem om iets van haar suster se kommer agter te kom, en sy borrel voort. “En weet jy wat? Die wonderlikste ding het gebeur by die vakansieoord. Daar is toe mos buitelandse toeriste in die rondawel langs ons en Kobus en die man begin gesels en toe vertel dié hom van ’n miljoenêr in Argentinië wat aan die bankrot speel is en dié het ’n hele stoetery van Brahmane en hy sê toe vir Kobus as hy gou speel, kan hy dalk van die Brahmane spotgoedkoop kry ...”
“Stadig, liewe land. Jy is soos ’n orrel, Martina,” keer Isolde. “Waarvan praat jy, kind? Wat is Brahmane?”
Martina lyk heel verontwaardig. “Dis natuurlik beeste. Dis ’n soort beesras waarin Kobus belangstel. Dis hoekom hy Johannesburg toe gekom het, op soek na kontakpersone van wie hy egte stoet-Brahmane kan koop. En toe loop ons nou dié Amerikaner raak en nou gaan ons volgende week Argentinië toe om te gaan kyk na ...”
Isolde gooi haar hande in die lug en Kobus lag saam, sy oë aanbiddend op sy opgewonde jong vroutjie. Dan knik hy op die vraag in Isolde se oë.
Isolde gaan sit en kyk die twee verstom aan. “Julle kan nie gaan nie. Jy moet liewer Argentinië los en jou broer bel voordat hy ontplof.”