Читать книгу Sonneblomstraat 7 - Ena Murray - Страница 4

1

Оглавление

Die toneel is tipies Sandton. Met een oogopslag besef jy die mag van geld: Die groot dubbelverdiepinghuis, die parkagtige tuin, die swembad omring met gestoffeerde sonstoele, ’n buitelugkroeg op die een terras. Ook die twee vroue langs die swembad pas in die prentjie. Hulle suig aan mengeldrankies wat op ’n silwerskinkbord deur ’n in wit geklede man aangedra is.

’n Prentjie wat afgunstig aanskou sal word deur diegene wat rykdom begeer … “Kom jy môre tennis toe? Waar was jy verlede week?”

“Ag, verlede week was ek net tam. Ek sal maar sien hoe ek môre voel.”

Die blonde vrou kyk die donker een ondersoekend aan. “Hoekom? Voel jy nie gesond nie?”

“Nee, ek makeer niks nie. Dis net … Ek is moeg vir die ou spul daar. Vir dieselfde geskinder week ná week. Vir die keurige lekkernye by die tee … Dit begin my irriteer.”

Pat Oberholzer kyk haar vriendin verbaas aan, glimlag dan. “Wel, dit hou ’n mens darem op die hoogte van sake. Wie gaan oorsee, wie het ’n slag op die Beurs geslaan, wie … ?”

“Wie lol met wie se vrou en wie lê aan by wie se man? Wie het ’n nuwe Porsche en wie gee die volgende troue en waar … en wat gaan dit kos? Ja, ek weet. Ek wil al skreeu daarvan.”

Pat frons nou effens. Haar stem verraai ’n tikkie verergdheid. “Jy laat ons ‘ou spul’ na ’n nare klomp mense klink. Ons is nie almal só oppervlakkig nie.”

Haar gasvrou gee haar ’n sydelingse blik. “Ek bedoel niks persoonliks nie. Jy weet dit. Dis net … ” Sy aarsel en vee ergerlik oor haar voorkop. “Ek is jammer. Ek is seker nie in ’n goeie luim nie. Ek neem aan ek sien jou vanaand by die ambassadeur se ete?”

Pat vergeet haar gebelgdheid en kom in beweging, neem ’n laaste suig aan haar mengeldrankie. “Natuurlik gaan ons. Dit laat my dink … Ek sal nou moet begin roer. Ek moet oor ’n uur by die haarsalon wees.”

Die twee vriendinne staan op en ná ’n effense aarseling vra Pat reguit: “Skort iets dalk, Wanya? Ek probeer nie vis nie, maar ons is tog vriendinne.”

Die donkerkop trek haar skouers op. Haar oë is ontwykend. “Nee, ek is maar net in ’n negatiewe bui, dis al.” Dan ontmoet sy haar vriendin se blik en dis of die woorde onverhoeds uitglip: “Maar voel jy nie ook soms die lewe is … sinloos nie? Dis week ná week dieselfde ding: Dinsdae tennis, Woensdae brug, Donderdae tee by iemand, Vrydae … en twee, drie keer in ’n week, ’n ete by dié, ’n partytjie daar, of hier … ” Sy swyg toe sy die verbasing in Pat se oë sien. “Ag, toemaar. Vergeet dit.”

Maar Pat is nou nuuskierig. “Julle het, nes ons, ’n bedrywige sosiale lewe, maar ek het nog altyd gedink jy geniet dit!”

Wanya glimlag wrang. “Het ek ’n keuse? Ek weet dis noodsaaklik vir Niel se sakebelange, maar … wat kry ék daaruit? Miskien … ” Sy kyk weg van Pat se speurende blik. “Jy het darem jou twee kinders.”

Pat frons. “Maar hoekom begin julle nie ook met ’n gesin nie? Julle is al sewe jaar lank getroud.”

“Niel wil nie kinders hê nie. Nie nou al nie, sê hy. Hy is nog besig om ’n sakeryk op te bou, en kinders sal in hierdie stadium in die pad wees.”

“Hy het in ’n mate gelyk, Wanya. Ek is natuurlik lief vir my kinders, maar hulle kan jou ook maar kniehalter. Veral as jy sosiale verpligtinge het, kan dit soms groot probleme skep. Ek sit juis vanaand al weer met ’n nuwe oppasser. Beauty het net geweier om vanaand weer na die kinders te kyk. Sy moes verlede week vier aande inbly en sy was baie ontevrede. Ek wens hulle is al so groot dat ’n mens hulle kan geld gee en fliek of diskoteek toe kan stuur. Maar nou moet ek nog van ’n oppasser gebruik maak. Nee, geniet maar eers jul lewe. As ek geweet het wat ek vandag weet, het ek nie so gou met ’n gesin begin nie.”

Wanya sien haar vriendin weg en stap dan die huis binne. Sy sal self moet begin aandag gee aan haar voorkoms. ’n Oomblik lank oorweeg sy dit om haar hare weer ’n slag by ’n gesofistikeerde salon te laat kap, maar besluit dan daarteen. Nie dat sy hoef te vrees dat sy nie op die nippertjie ’n afspraak sal kry nie. Wanya Cloete hoef net haar vingers te klap en die diens is daar. Maar deesdae verkies sy om haar lang, donker hare onopgesmuk te dra. Sy moet dus net hare was en droogblaas. Maar wat om aan te trek … Haar oë soek deur die ry aandrokke. Dan klap sy die kasdeur toe, stap na die kas in haar kleedkamer. Weer soek haar oë, maar dan word dié deur ook toegeklap. Sy voel nie lus vir een van haar ou rokke nie. Nie dat dit regtig ou rokke is nie, maar … Sy gaan sit op die kant van die bed. Wat gaan deesdae met haar aan? Sy voel so verskriklik gefrustreerd. Die geringste dingetjie irriteer haar. Sy is ontevrede met alles. Misnoeg is eintlik die regte woord. En sy moet die afgelope tyd pal stry teen ’n depressie wat haar wil oorweldig.

Sy is verveeld, besef sy. As sy ’n kind kan hê, sal dit haar besig hou. Maar Pat sê kinders is ’n ergernis en Niel sê kinders is in die pad. As hy haar net wil toelaat om dééltyds modelleerwerk te doen. Maar daarvan wil hy glad nie hoor nie. Niel Cloete se vrou gaan nie werk nie. Al werk wat sy het, is om ’n goeie gasvrou te wees en asemrowend te lyk wanneer sy aan sy sy in die openbaar verskyn. Al wat haar dae vul, is ’n geroetineerde program van tennis by die klub, brug by ’n vriendin, tee by ’n ander vriendin, modeparades bywoon, bevele aan huishulpe gee, partytjies reël en deelneem aan sosiale funksies … soos vanaand. Maar wat sal sy aantrek?

Haar kok verskyn skielik in die gang. “Kan ek vir madame iets voorberei vir middagete?”

“Nee, dankie, Thomas. Ek is nie honger nie. Ons is ook nie vanaand hier vir ete nie. Jy het die res van die dag vry.”

“Dankie, madame.”

Haar lippe plooi effens toe hy verdwyn. Thomas het by ’n Franse sjef klas geloop en sedertdien gebruik hy die Franse aanspreekvorm. Dan word haar gesig weer ernstig, en haar hand reik na die telefoon. Sy skakel een van die stad se eksklusiewe modehuise. Hierdie keer is dit ’n Franse madame wat haar te woord staan. En natuurlik sal madame Veronique aan mevrou Cloete se versoek kan voldoen. Sy is immers ’n gewilde en baie geëerde kliënt. Natuurlik sal sy dadelik ’n paar aandrokke stuur en sommer ’n assistent ook indien daar miskien ’n verstelling gedoen moet word. En natuurlik sal dit gereed wees vir die aand se geleentheid.

Uiteindelik is dit nie net die assistent wat voor die imposante huis stilhou nie. Madame Veronique sit self agter die stuurwiel. Die jong meisie langs haar kyk verwonderd om haar.

“O, dis pragtig! Ek het nog net altyd by sulke plekke verbygery.”

Die Franse dame glimlag. “Nou kom, dan kan jy ook sien hoe lyk dit binne.”

Die in wit geklede Alfred ontvang hulle by die voordeur, versoek hulle vriendelik om in die sitkamer te wag terwyl hy sy mevrou laat weet dat hulle opgedaag het.

Annatjie draai behoorlik in die rondte. “Oe, maar dis mooi! Dit moet baie geld gekos het.”

Madame Veronique laat haar blik vlugtig om haar dwaal. Sy is gewoond aan weelde, maar probeer om deur die oë van hierdie ongekunstelde meisie daarna te kyk. “Ja. Dis baie waardevolle artikels wat jy hier sien.”

Alfred verskyn weer in die deur. “Mevrou vra of die twee dames sal deurkom na haar slaapkamer, asseblief.” Hy neem die vyf plat dose uit Annatjie se arms. Laasgenoemde is skoon stom toe hulle die luukse slaapkamer binne­stap en vriendelik ontvang word. Die jong vrou met die donker hare lyk asof sy gereed is om vir ’n modetydskrif te poseer. Annatjie sluk verdwaas. Sy het gedink sulke weelde en skoonheid sien ’n mens net in die sepies op televisie. Kan dit waar wees dat daar mense is wat regtig só lewe?

Die een rok ná die ander word aangepas, maar dit verloop nie so glad soos madame Veronique verwag het nie. Sy ken Wanya Cloete se smaak teen hierdie tyd en al vyf die aandrokke vind ook byval by haar kliënt. Maar hulle is te nou.

Wanya frons. Sy sal haar dieet en drankies moet dophou. Sy tel die een rok weer op, beskou dit goedkeurend.

Madame Veronique stel voor: “Ek kan ander gaan haal, mevrou.”

“Nee, ek wil daardie een hê. Is daar nie iets aan te doen nie?”

Die Franse dame lyk onseker. Sy ken ryk vroue. As hulle ’n ding wil hê, wil hulle dit hê, al is dit ook die onmoontlike. Jammer dat haar hoofassistent nou met verlof is. Anna­tjie werk nog net ’n paar maande by haar en is beslis nie opgewasse vir die taak nie.

Sy probeer taktvol verduidelik: “Soos jy weet, het hierdie rokke nie breë nate nie en ’n mens kan nie aan hulle torring nie, dan verloor die rok sy snit. ’n Mens kan altyd ’n bietjie nouer maak, maar … ”

“Wat sê jou assistent?” wil Wanya egter koppig weet.

Met ’n ligte suggie kyk madame Veronique na Annatjie. “Is dit moontlik om die rok ’n paar sentimeter wyer te kry sonder om die snit te bederf?”

“As u dit net weer sal aanpas vir my, asseblief … ” Ná ’n rukkie kom die voorstel: “Ons het gelukkig van hierdie soort materiaal. Ons kan twee bane weerskante invoeg wat wyer uitklok na onder en die kraag deur dieselfde materiaal vervang.” Sy kyk vraend na haar hoof. “Sal dit nie werk nie?”

Dis Wanya wat antwoord: “Ek dink dis ’n plan. Dit sal ook iets vir die rok doen.” Vir die eerste keer kyk sy met belangstelling na die meisie wat sy tot dusver skaars raakgesien het. “Is jy seker jy kan dit doen?”

Die ouer vrou tree vinnig tussenbeide. Dis immers ’n rok van ’n paar duisend rand wat ter sprake is. “Dis so te sê ’n nuwe rok maak. Jy sal dit nie betyds klaarkry nie, Annatjie. Ek dink regtig ek moet ’n paar groter nommers gaan haal … ”

“Nee. Ek wil hierdie een hê. As jou Annatjie sê dit kan gedoen word, hoekom nie?”

Madame maan haarself om kalm te bly. O, hierdie rykmansvroue! Sy kyk waarskuwend na Annatjie maar dié knik en sê vol selfvertroue: “As ek dadelik aan die werk spring … Hoe laat wou mevrou dit gehad het?”

“Op die laatste kwart voor agt vanaand.”

Op pad terug stad toe is madame Veronique onrustig en ontevrede. “Jy gaan nie betyds klaarkry nie, Annatjie. En as hierdie rok opgemors word … Mevrou Cloete sal dit nie neem nie en dan sit ek met die skade. Jy het uit jou beurt gepraat. Volgende keer moet jy onthou ék onderhandel met die kliënt.”

Annatjie lyk verleë. Sy was seker voorbarig. Maar dan … Sy kyk haar werkgewer vas aan. “Die rok sal betyds klaar wees, madame. En ek sal dit nie opfoes nie.” Toe haar werkgewer nog skepties bly, sê sy: “Waar ek vandaan kom, madame, het ek geleer as ’n ding móét dan kán dit. Ek sal madame nie in die steek laat nie.” Vlugtig verskyn die plek waar sy vandaan kom voor haar geestesoog, word byna dadelik weer verdring deur die prentjie wat sy so pas aanskou het en sy sê: “Ek wonder hoe dit moet voel om só ryk te wees … Hulle is baie ryk, dié Cloetes?”

“Ja.”

“Eintlik stinkryk, nè?”

Madame glimlag effens. “Jy kan hulle seker maar so noem.”

“Hulle moet wees. Om sommer net so ’n fantastiese duur aandrok te kan koop … Ek wonder hoe dit moet voel?”

Madame se blik dwaal vlugtig na die sedige gesiggie langs haar. Sy weet uit watter deel van die stad hierdie meisie kom … ’n heel ander wêreld as dié van Sandton. So goed soos ’n ander planeet.

“Ek dink nie dis altyd so lekker nie, Annatjie. Die dag wanneer jy alles kan koop wat jou hart begeer, het daar maar min uitdagings in die lewe oorgebly. Wat die lewe interessant maak, is die uitdagings wat aan jou gestel word.”

Maar sy weet Annatjie sal nie met haar saamstem nie. Op die oomblik is die term “genoeg geld” vir hierdie meisie die toppunt van geluk op aarde, want haar lewe lank leef sy van die hand in die tand. Maar wanneer is genoeg genoeg? mymer die ouer vrou by haarself. Hoewel sy nie “stinkryk” is nie, is sy ’n gegoede vrou. Sy het al daaraan gedink om haar eksklusiewe modehuis te verkoop en rustiger te gaan lewe. Maar sy doen dit nie. Sy het nog nie genoeg nie, dink sy. Daarom is sy op byna sestig op ’n Vrydagmiddag laat steeds aan die gang; sal sy eers huiswaarts kan keer wanneer ryk mevrou Cloete se aandrok afgelewer is. Net om te bad, iets ligs te eet en doodmoeg in die bed te val ná ’n veeleisende dag waarin sy na die griewe en onredelike eise van die stad se ryk vroue moes luister en ter wille van die vrede en die besigheid dikwels ’n teenwoord moes terugsluk en swyg. En môre lyk dit presies dieselfde … Sy bring die motor tot stilstand. “Goed, Annatjie. Jy het skaars vier uur om hierdie rok af te lewer. Ek weet nie … ”

Maar Annatjie glimlag, maak die motordeur oop en antwoord gevat: “Madame het dan nou net vir my oor uitdagings gepreek. Ek het nie geld nie, maar aan uitdagings ontbreek dit my nie!”

Toe madame agter haar lessenaar inskuif terwyl Annatjie dieper die boetiek in verdwyn, glimlag sy. Hierdie kind kort net ’n kans in die lewe, dink sy weer soos daardie dag toe Annatjie skielik voor haar lessenaar verskyn het om werk te vra. Sy het geen sertifikaat of selfs ’n aanbevelingsbrief gehad nie, maar wat madame opgeval het, was die reguit, eerlike blik in die intelligente oë. En omdat sy ook ’n klerekenner is, het sy onmiddellik geweet die pakkie wat Anna­tjie aangehad het, is nie by ’n kettingwinkel gekoop nie.

Op Annatjie se vraag of sy miskien vir haar werk het, het sy ’n teenvraag gehad: “Mag ek weet waar jy daardie pakkie gekoop het?”

Annatjie het vlugtig na haar klere gekyk, haar kop geskud en met kinderlike eerlikheid geantwoord: “O, ek kan nie bekostig om klere te koop nie, mevrou. Ek maak maar my goed self.”

“Jy bedoel … jý het daardie pakkie gemaak?”

“Ja, mevrou.”

“Waar het jy die patroon gekoop?”

“Nêrens, mevrou. Ek het dit sommer uit my kop gesny. Daar was ’n prentjie in ’n tydskrif en toe maak ek vir my ook een. Dis eintlik my Sondagklere, sien?”

“Ek … verstaan.” Die ouer dame het veel meer as die klere gesien, en Annatjie is summier aangestel. Sy is oorlaai met ’n stortvloed van dankbaarheid, totdat sy dit beslis tot ’n einde gebring het met: “Goed. Goed. Jy hoef nie vloere en teekoppies te was nie. Ons hét iemand daarvoor. Ons maak nie self klere hier nie, maar dikwels is daar verstellings om te doen, en omdat ons klere duur is, moet dit mense wees wat weet wat hulle doen wat daaraan werk. Jy sal onder mevrou Duvenhage werk. Sy is my hoofassistent. Kom ek neem jou na haar toe … e … Annatjie, nè?”

“Ja, mevrou. Ek is Annatjie.”

“Goed, Annatjie. Ek hoop jy sal lekker werk hier. En almal noem my madame, hoor?”

Die oë het gerek. “Is mevrou regtig ’n madame? Ek bedoel ’n Franse madame?”

Sy was soos ’n fris briesie wat onverwags deur die boetiek gewaai het. Madame het geglimlag en spontaan ’n geheim verklap: “Nie regtig nie, hoewel ek met ’n Fransman getroud was. Maar dit pas by die beeld van ons boetiek. Jy sal my nie verraai nie?”

“O nee, me … madame! Ek is nie ’n klikbek nie.”

In die paar maande wat Annatjie nou al hier is, het sy getoon dat haar werkgewer se intuïtiewe aanvoeling dat sy ’n aanwins gaan wees, nie verkeerd was nie. Annatjie het vinnig die fynere kunsies by mevrou Duvenhage en madame Veronique geleer. Om halfagt staan sy gereed en bewys aan madame dat sy haar eerste groot uitdaging met vlieënde vaandels die hoof gebied het. Met ’n kritiese kennersoog beskou madame die rok van hoek tot kant, moet dan goedkeurend knik. “Dis goed, Annatjie. Dis eintlik briljant. Die insetsels maak werklik iets besonders van die rok.” Anna­tjie is blosend van dankbaarheid. Goedkeurend sê haar madame: “Ek gaan jou in die toekoms meer in hierdie rigting inspan, en dit beteken natuurlik ’n verhoging. Kom. Ons het nog net ’n kwartier.”

Toe hulle daar aankom, is Niel Cloete reeds geklee in sy aandpak. Terwyl hulle wag dat Wanya die rok aantrek, bied hy hulle vriendelik ’n drankie aan. Madame neem ’n sjerrie en Annatjie vra ’n koeldrank. Die gasheer en ouer vrou se blikke ontmoet geamuseer, maar dan verskyn Wanya in die deur.

Dit is maar net menslik dat ’n tikkie afguns in die jong hart roer. Hierdie vrou het alles, dink sy. Sy is beeldskoon en in die pragtige skepping, met haar blink donker hare wat agter oor haar skouers swiep, is sy die toonbeeld van elegansie. Sy het alles, alles wat ’n mens se hart maar kan begeer, dink Annatjie met ’n dowwe pyn. Sy het selfs ’n baie aantreklike man wie se blik op hierdie oomblik met bewondering op haar rus. Kan ’n vrou meer van die lewe verlang?

“Dit pas perfek, nie waar nie, skat?”

Haar man dink beslis ook so, tel sy tjekboek van ’n tafeltjie af op en skryf summier en sonder die knip van ’n oog die bedrag neer. Hy glimlag sy vrou toe: “Jy hoef dit nie uit jou persoonlike rekening te vereffen nie. Dis ’n geskenk van my.”

“Dankie, skat. Dis dierbaar. Maar daar is verstellings gedoen.” Sy kyk vraend na madame Veronique.

Impulsief sê Annatjie: “O, dit kos niks nie. Dit was ’n plesier.”

Madame sluk maar die bedrag wat op haar lippe gevorm het terug, glimlag gedwee en beaam: “Dit was ’n plesier.”

Niel Cloete stap nader, hou ’n tweede tjek na haar toe uit: “Vergun my dit, asseblief. Dis net om dankie te sê. My vrou het my vertel jou diens is onverbeterlik.”

Madame neem die tjek so grasieus en ongeërg soos net ’n professionele persoon kan. “Dankie, meneer Cloete. Geniet die aand. Goeienaand.”

In die motor hou sy die tjek na Annatjie toe uit. “Hier. Dis joune.”

“Maar hy het dit vir madame gegee!”

“Jý het die werk gedoen.”

“Maar dis net my werk.”

“Jy het dit ná werktyd gedoen. Jy is geregtig op vergoeding. Vat dit!” Dis nie die eerste keer dat sy haar teen trots eie aan die buurt Jan Hofmeyr vasloop nie.

“Maar dis ’n belaglike bedrag! Die man het ’n fout gemaak!”

“Nee, hy het nie. So ’n fooi is vir Neil Cloete iets alledaags. Neem dit, Annatjie. Jy het gewerk daarvoor. Beduie nou vir my die pad na jou huis toe.”

“Maar ek kan ’n bus haal … ”

“Die busdiens is nie so goed in die aand nie. Ek wil jou graag gaan aflaai. Dis geen moeite nie. Ek wil jou ook bedank, Annatjie. Jy het vandag ’n puik stukkie werk gelewer. Dankie, kind.”

Op die hoek van Sonneblomstraat laat Annatjie haar werkgewer stilhou. “Madame kan my hier aflaai. Dis my straat. Ek woon net ’n paar huise ver.”

“Ek kan jou tot daar … ”

“Dis regtig nie nodig nie, dankie, madame. Ek het ’n pakkie wat ek eers vir tant Bes moet aflewer voordat ek huis toe gaan. Baie dankie vir die bring. Tot siens, madame.”

Sy word ’n rukkie agternagekyk voordat die motor in die teenoorgestelde rigting vertrek. Madame ry stadig, laat haar blik oor die rye rooibaksteenhuisies van Jan Hofmeyr gly. Ogiesdraadomheinings en eenvormige draadhekkies sny elkeen se stukkie aarde van die ander af. Grasperke so groot soos posseëls, of sommer net stofgetrapte stukkies aarde, skei die pad van die stoepies met hul eenderse verandas. In rigiede rye, soos ’n erewag verslonste soldate, staan hulle aan weerskante van Sonneblomstraat, kompleet asof hulle vooraf in ’n fabriek vervaardig is en toe staangemaak is in hul eendersheid. Madame Veronique merk op dat die volgende straat Gousblomstraat heet. En die volgende Leeubekkiestraat. Aandblomstraat … Daar is ’n stil erns in haar oë toe sy die motor se neus al verder weg van Jan Hofmeyr stuur. Die straatname klink asof Jan Hofmeyr ’n vrolike, kleurryke voorstad is. Maar vir die mense wat hier bly, is die lewe geen blomtuin nie … hier het die meetsnoere nie in lieflike plekke geval nie. Hier is dit letterlik meetsnoere … meet en pas … meet en pas om liggaam en siel aanmekaar te hou … Sy skud haar kop. Die prys van een aandrok is seker veel meer as wat baie van Jan Hofmeyr se inwoners in ’n jaar aan kos bestee.

“Ek is laat, tant Bes. Ek moes eers vir ’n kliënt ’n rok regmaak. Hier is die broekrek. Ek sal môre na die gare soek. Pa wonder seker al wat van my geword het.”

“Kry jou asem, Annatjie. Jou pa is versorg. Toe jy nie die gewone tyd verbygekom het nie, het ek Nellie gestuur om daar te gaan omsien. Sy het belowe sy sal by hom bly totdat jy kom.”

“O, dankie tant Bes. Ek kon geweet het tannie sal sorg.” Sy plak haar langs die kombuistafel neer, kom nou eers agter hoe moeg sy is. Sy moes teen tyd werk, en afgesien van die fisieke inspanning, was daar die geweldige spanning in haar dat sy miskien die duur rok kon opmors … “Hier, kind. Hier is ’n stukkie vis wat ek vir jou gehou het. Ek het jou pa s’n saam met Nellie gestuur. Eet eers. Dan hoef jy nie nog te sukkel om kos te maak wanneer jy by die huis kom nie. En skink solank koffie.”

“Dankie, tant Bes. O, tant Bes, jy sal nooit glo as ek jou vertel van die huis waarin ek vandag was nie! Net so mooi, ag, wat praat ek, báie mooier as enige van die huise wat hulle altyd in die sepies wys! Ag, eintlik kan die sepies maar gaan slaap! Met ’n fantastiese swembad en die meubels in die huis … en die ligte … dit lyk soos reëndruppels wat hang. En beelde … en blomme … en fraiings en tossels en … swáár gordyne en … Dis onbeskryflik!”

“En hoe het jy dáár beland?”

“Mevrou Cloete, dis nou die vrou van die huis, het ’n aandrok gekoop en ek moes dit verstel. Ek was hier in my hart baie bang, maar toe onthou ek tant Bes sê altyd as jy bang is vir ’n ding, doen hom dadelik, dan hou die bangheid gouer op.”

“Waarvoor was jy bang? Jy kan mos naaldwerk doen.”

“Ja, maar dié rok kos ’n paar duisend rand.”

Die ketel word hard neergesit. “ ’n Paar duisend rand? Vir één rok?”

“Ja. Dis ’n aandrok. O, daar is rokke in ons boetiek wat duurder ook is, maar sy het van hierdie een gehou. En ek maak dit toe vir haar reg en sy is só tevrede daarmee dat haar man madame ’n fooitjie gee en madame gee toe weer die fooitjie vir my. Sy sê ek het ná werktyd gewerk, ek verdien dit. Maar weet tant Bes hoeveel is dit? Kyk net hier! Kyk net!”

Tant Bes kyk af na die tjek, dan kyk sy weer op. “Praat jy nou die waarheid, Annatjie?”

“Natuurlik, tant Bes! Tannie kan madame môre bel en self vra.” Sy lag opgewonde. “Ek kon dit self nie glo nie. Hy is stinkryk.” Sy neem ’n groot sluk koffie. “Ek kan tant Bes nie genoeg bedank nie dat tannie my daardie dag so te sê gedwing het om dáár werk te gaan vra. O, daar het ’n nuwe wêreld vir my oopgegaan!”

Tant Bes sluk stadig aan haar koffie, bedenkinge in die blik wat sy op die babbelende meisie hou. Sy het die advertensie in die koerant gesien en Annatjie laat roep. Aan die begin wou Annatjie niks weet nie.

“Ek kan nie uit die huis werk nie, tant Bes. Wat word van Pa?”

“Ons sal ’n plan maak. Jy kan hom soggens versorg en sorg dat hy alles by sy rolstoel het. Smiddae sal ek vir hom kos stuur en ons almal sal deur die dag inloer en help totdat jy van die werk af kom. Annatjie, jy kan nie genoeg verdien deur net vir ons klomp klere te maak nie. Jy werk jou dood teen ’n slaweloon om by jou pa se pensioen te voeg om aan die lewe te bly. Die plek adverteer vir ’n naaldwerkster. Gaan en doen aansoek vir die pos.”

Annatjie het nog teëgeskop. “Maar dis die grêndste winkel in die hele stad!”

“Nou wat daarvan? ’n Naat is ’n naat, of jy hom in ’n grênd winkel stik of in Sonneblomstraat. En jy kán nate stik. Jy gaan môreoggend vroeg daarheen!”

Almal in Jan Hofmeyr ken daardie generaalstemtoon en almal in Jan Hofmeyr gehoorsaam dit. Ook Annatjie. Want tant Bes is nie net nog ’n tannie in een van die baksteenhuisies nie. Tant Bes is die ongekroonde koningin van Jan Bom, soos die meeste mense maar na hierdie deel van die stad verwys. En veel meer.

Maar nou is dit tant Bes wat begin bedenkinge kry. Duisende rande vir ’n rok … So ’n groot fooitjie … En ’n ander wêreld wat vir Annatjie Roos van Sonneblomstraat oopgaan … Miskien nie so ’n goeie ding nie. Dan sug tant Bes, staan saam met Annatjie op. Die tyd sal maar moet leer of hierdie nuwe wêreld nie saam met al die glans en goud ook bederf bring nie. Sy sal Annatjie se naam meer gereeld op haar gebedslys moet sit … “Toe ek die bedrag op die tjek sien, het ek gedink nou kan ek vir Pa ’n elektriese kombers vir die winter koop. En nuwe onderklere. Sy goed is al behoorlik gaargestop. Nag, tant Bes.”

Sy kyk Annatjie agterna totdat sy by die hekkie uit is, skakel die stoeplig af en stap kamer toe. Negeuur: tyd om te gaan slaap. Môreoggend klokslag halfvier staan sy op. Daar is nie tyd vir laat lê in Sonneblomstraat 7 nie. Daar is te veel om te doen.

Haar gedagtes bly maar om Annatjie draai toe die kamer­lig al af is. ’n Goeie kind daardie. Eerste aan haar pa gedink en wat hý nodig het toe sy onverwags geld in die hand gestop word. Nee wat. Oor háár hoef sy haar nie te kwel nie. Maar sy sal maar gereeld vir haar bid … net ingeval … Die glans van geld is vir die mense van Jan Hofmeyr baie aanloklik. Seker omdat daar so min daarvan hier te sien is.

Toe Annatjie by haar eie voordeur instap, is die getroue Nellie steeds daar. Oom Jan is in die bed gehelp vir die nag en Nellie sit en stop van sy sokkies toe Annatjie binnestap.

“Ek het gesien die stopgoedjies lê hier en toe dink ek ek kan dit maar solank vir jou doen terwyl ek ledig sit. Ek doen dit wel nie so netjies soos jy nie … ”

“Jy doen dit goed, Nellie. Baie dankie. Ek is jammer ek is so laat. Ek moes oortyd werk.”

“Alles reg. Ek sit ook maar net saans voor die TV. Maar nou moet ek spore maak. Ek het tant Bes belowe ek sal môre ’n bietjie vroeër kom. Daar is ’n swetterjoel wortels en uie om te skil.”

Annatjie kyk haar agterna toe sy hinkepink die straat af sukkel. Sy leef van ’n ongeskiktheidspensioen … en die bord kos wat sy daagliks by Sonneblomstraat 7 kry. Maar haar liefdesdade is oorvloedig in hierdie gemeenskap van swaarkry en sukkel.

Annatjie staan nog ’n rukkie op die stoep, laat haar blik oor die bekende straattoneel dwaal. Dit lyk so anders as Sandton … Tog … Hier is iets wat miskien nie in Sandton te kry is nie. ’n Samehorigheidsgevoel, ’n betrokkenheid by mekaar se wel en wee … want swaarkry dwing jou soms om ’n hulpsoekende hand uit te steek … en omdat jy swaarkry ken, weet jy ook wanneer om ’n helpende hand uit te steek. Sy wonder of die Cloetes ooit weet wie hul bure is. Sy is byna seker hulle sien mekaar maar baie selde. Maar hier is dit anders. Sy ken elkeen op die naam. Sy weet wie in elke huisie bly. En almal ken haar. Almal weet van haar pa in die rolstoel. En toe sy vanmiddag nie die gewone tyd huis toe gekom het nie, het helpende hande geweet waar hulp nodig is. Want môre is dit jou beurt om afhanklik te wees. Môre is jý die een in nood … en die blom van nood is die enigste blom wat in hierdie tuintjies welig groei.

Sy gaan sê nag vir haar pa, vertel hom maar net dat sy laat moes werk aan ’n bestelling … en dat madame ’n verhoginkie belowe het. Sy sal hom liewer nie vertel van die prys van die rok nie. Hy sal haar waarskynlik nie glo nie. Dis omtrent soveel as wat hy vir sy brandmaer skape betaal is toe hy destyds uitgeboer het … Sy verstand sal dit nooit kan verwerk nie. Van die fooitjie wat daarmee gepaardgegaan het, sal sy hom liefs ook nie vertel nie. Dit kan hom dalk net ontstel.

Sy buk af, soen hom teer op die voorkop, kyk dat hy goed toe is vir die nag en stap uit. Haar liewe ou pa wat tred met die werklikheid verloor het. Sy wêreldjie het klein geword tussen die mure van die huisie in Sonneblomstraat. Maar háár wêreld is besig om wyer uit te kring. Sy het vandag ’n glimp van die ander wêreld gekry … en soos tant Bes kan sy nie dadelik aan die slaap raak nie.

Maar eindelik slaap hulle tog. Annatjie droom van glinsterende diamante en kandelare wat soos reëndruppels blink. Tant Bes droom nie. Sy het gebid, vir Annatjie spesiaal, en dankie gesê vir die wortels en uie wat ’n goeie Samaritaan vanmiddag hier kom aflewer het. Dankie gesê vir haar gesondheid en vir die krag wat sy ontvang na die eis van elke dag. Toe het sy vas aan die slaap geraak … ’n vermoeide mens sonder gewetenswroeging.

Ure later eers doof die ligte van die groot huis in Sandton uit … en man en vrou lê slapeloos langs mekaar. Sy wonder of sy die saak van ’n kind weer moet aanroer … of dan die saak van deeltydse modelleerwerk … en of sy maar net van dag tot dag moet aanploeter soos nou. Hy lê wakker met ’n verstand wat net met syfers besig is … en meer syfers … en groter syfers. Hy raak eindelik met ’n tevrede glimlag om die lippe aan die slaap en sy lê en kyk hoe die maan ’n ligbaan deur die venster oor die mat en chaise longue maak, oor die aandrok wat ongeërg daaroor neergegooi is.

Sonneblomstraat 7

Подняться наверх