Читать книгу As die wiel draai - Ena Murray - Страница 3
1
ОглавлениеDaar is ’n frons tussen Charlene Killian se oë toe sy die gehoorbuis van die telefoon op die mik terugplaas. ’n Prokureur wil hê sy moet hom kom spreek. Wat sou dit beteken?
Die ou bekende vrees ruk weer aan haar hart. Sedert ’n paar jaar gelede kruip sy elke keer ineen wanneer sy die woord “prokureur” hoor. In die verlede het ’n oproep van ’n prokureur vir haar en haar pa net moeilikheid beteken … probleme wat sy meestal alleen moes oplos na die beste van haar vermoë. Want haar pa, Petrus Killian, het nadat hy bankrot verklaar is, alle belangstelling in die lewe verloor. Petronella Killian, haar ma, was ook nie daar sodat die jong Charlene op haar kon steun nie.
Haar trotse ma se swak hart kon die vernedering van ’n bankrotverklaring nie oorleef nie. Sy het ’n hartaanval gekry en gesterf toe sy moes hoor dat hulle nie meer die trotse en ryk Killians van Ebenhaeser is nie. Die trotsste, en soos die meeste mense haar beskou het, hoogmoedigste vrou in die distrik van Wilgedal, die jare lange leidster van die distrik se hoogste sosiale kringe, die voorsitster van vroueverenigings en ander organisasies, het net beswyk.
Net haar dogter en man het agtergebly om alleen deur die beproewing van ’n bankrotskap te gaan en om, nadat alles verby was, êrens weer met ’n nuwe lewe te begin. Hierdie keer was daar nie ’n spogplaas soos Ebenhaeser wat al vir soveel geslagte die erfenis van die Killians was nie. In der waarheid het hulle sonder ’n enkele sent gesit wat hulle hul eie kon noem, en ook sonder geloof en belangstelling en lus vir die toekoms wat voorgelê het.
Charlene sluit haar oë ’n oomblik. ’n Ligte siddering trek deur haar skraal liggaam. Nooit, nooit sal sy daardie tyd in haar lewe vergeet nie. Eers was daar die ontnugtering en vernedering. Daarna die wanhoop. Toe haar ma se dood. En toe die vraag: Wat moes van haar en haar pa word? Nie net moes sy aanskou hoe haar waardige ma voor haar oë verkrummel tot ’n gebroke vrou en eindelik sterf nie. Sy moes ook sien hoe haar pa, die man op wie sy altyd so trots was, verander in ’n geboë vreemdeling met wanhoop in sy oë en ’n gebroke gees.
Charlene self was op die vooraand van ’n universiteitsloopbaan toe die ramp hulle tref. Die een dag het sy nog drome gekoester oor haar mooi toekoms. Die volgende dag moes sy van al haar lugkastele afskeid neem met die ontsettende besef dat sulke dinge nie meer vir Petrus en Petronella Killian se dogter moontlik is nie.
Charlene laat haar kop sak. Diep binne-in haar klop die pyn van verydeling opnuut. Niemand sal ooit weet wat sy daardie tyd deurgegaan het nie. Geen woorde sal die geweldige aanpassing kan beskryf wat dit van haar geverg het nie. Sy was twintig jaar lank die enigste kind van oënskynlik baie welaf ouers. Sy was soos ’n mot in ’n beskermende kokon toegespin deur die gewaande rykdom van haar pa. Sy het nooit geweet hoe dit voel om nie iets te kry wat sy wil hê nie. “Nee” het sy nooit geken nie, hoe onredelik haar eise ook al soms in haar jeugdige voortvarendheid mag gewees het.
Tot op daardie dag van ontnugtering het sy net altyd gelag en oorgeborrel van pret en lewenslus, want dit was maklik om te lag. Daar was nog nooit rede vir droefheid of teleurstelling nie. Alles is vir haar aangedra, vir haar gedoen, vir haar gegee. Niks was te goed vir die trotse Petronella Killian se enigste dogter nie. Niks was te duur of buite bereik vir Petrus Killian se enigste kind nie.
En toe … Eensklaps was al daardie dinge iets van die verlede. Aan die begin het sy, nes haar ma, geweier om die werklikheid te aanvaar. Dit was haar ma se skielike dood wat haar uit die waas van onwerklikheid geruk het. Sy moes leer dat ’n mens nie jou oë vir die werklikheid kan sluit nie. Haar pa het dit jare lank gedoen. Hy het gesien hoe sy eens gesonde finansiële toestand al meer versleg, maar hy het geweier om te glo dat die skrif aan die muur is. Sulke dinge kan mos nie met die Killians van Ebenhaeser gebeur nie. Wat meer is, die skuld wat kommerwekkend vinnig begin ophoop het, sál mos eendag betaal word. Die droogte sál mos weer verbygaan. Wolpryse sál weer styg.
Toe die eerste dagvaarding kom, kon hy sy eie oë skaars glo. ’n Dagvaarding aan Petrus Killian! Dis verregaande vermetelheid! Waar het jy gehoor dat ’n mens ’n ryk man soos Petrus Killian, gesiene boer van Wilgedal, dagvaar? Die verontwaardiging was groot. Die belediging nog groter. Maar toe nog ander dagvaardings die eerste begin opvolg, het vrees bygekom. Toe die bankbestuurder ook sy kop begin skud, het paniek ingetree. Maar valse trots het hom nog daarvan weerhou om die werklikheid onder oë te sien. Hy was te lafhartig om sy vrou en dogter te waarsku dat dit noodsaaklik geraak het om die rem aan te draai. Die lewe op Ebenhaeser het op die ou trant voortgegaan. Charlene het nog steeds vir elke partytjie ’n nuwe rok gekry. Mevrou Killian het nog vir elke Nagmaal ’n hele nuwe uitset gekoop.
Charlene sidder nog by die herinnering aan die dag toe sy en haar ma agtergekom het dat alles nie pluis is met die Killians se finansiële sake nie. Oudergewoonte het sy en haar ma by Van Blerk, die grootste algemene handelaar op die dorp, ingestap op soek na ’n rok of materiaal vir haar afskeidspartytjie voordat sy universiteit toe sou vertrek. Charlene het eindelik op materiaal besluit, maar net toe sy dit aan die verkoopsdame oorhandig om vir haar toe te draai, maak die winkelier sy verskyning langs hulle.
“Betaal u kontant daarvoor, mevrou?” het hy gevra.
Petronella Killian het hom uit die hoogte aangekyk.
“Hoe bedoel u, meneer Van Blerk? Ons het mos ’n rekening hier.”
Hy het geensins ongemaklik onder die kil blik van die hooghartige vrou gelyk nie. Hy het vasberade teruggekyk.
“Nie meer nie, mevrou. U rekening is gesluit. Alles wat u verder hier koop, moet u kontant voor betaal.”
Charlene was só verstom dat sy die man net kon aanstaar. Dit het gelyk asof haar ma ’n hartaanval kon kry.
“Meneer Van Blerk, ek hoop om u ontwil ek verstaan u nou verkeerd.”
Maar die winkelier was vasberade.
“Ek is bevrees u verstaan my heeltemal reg, mevrou. U kry niks verder op skuld hier nie. U skuld my ’n groot bedrag geld en ek sien nie kans om u langer finansieel te dra nie.”
“Hoe is dit moontlik?”
“U moet redelik wees, mevrou, asseblief. Dis al langer as ’n jaar dat geen rekening van u vereffen of op afbetaal is nie. Ek kan nie so voortgaan nie. Ek moet ook lewe. Ek het ook geld nodig. Ek het al ’n paar keer met meneer Killian gepraat, en dan kom hy net met vae beloftes vorendag. Wel, ek is nie langer met beloftes tevrede nie. Ek kan nie van beloftes ’n bestaan maak nie en nog minder my onderneming daarmee aan die gang hou.” Hy het die stuk materiaal teruggegee aan die verkoopsdame. “Sit dit terug op die rak, juffrou. Ek dink nie juffrou Killian sal meer daarin belangstel nie.”
Sonder ’n verdere woord het hy omgedraai en teruggestap na sy kantoor. Die stilte in die onmiddellike omgewing van die toonbank waar Charlene en haar ma vasgenael gestaan het, was onuithoudbaar. Die twee verkoopsdames agter die materiaaltoonbank het hulle besig gehou met die rolle op die rak, maar dit was vir Charlene asof sy hul gedagtes hardop kon lees. Haar ma was spierwit. Charlene het haar sonder ’n woord aan die arm geneem en die winkel uitgelei.
Hulle het reguit teruggery plaas toe en daar was Petrus Killian verplig om hulle eindelik die waarheid te vertel. Daardie selfde middag het Petronella Killian ’n hartaanval gekry en twee weke later is sy begrawe.
Nie net moes haar ontnugterde verstand hierdie skok saam met al die ander dinge aanvaar nie, maar ook die besef dat die verantwoordelikheid vir haar en haar pa se toekoms, die brood wat hulle die volgende dag moes eet, die dak waaronder hulle moes slaap, op haar skraal, onervare skouers rus. Sy was nog ’n blote kind, pas klaar met skool, en weens die beskermende lewe wat sy tot dusver gelei het, nog meer onervare as ander meisies van haar ouderdom. En tog het sy geweet dat sy daardie verantwoordelikheid op haar sou moes neem. Haar pa het nie eens probeer om ’n stryd aan te knoop nie. Sy het besef dat as sy nie die leiding oorneem nie, hulle albei ten gronde sou gaan.
Dit alles was twee jaar gelede. Met moed wat sy self nie geweet het waar dit vandaan kom nie, het sy die leisels uit haar pa se hande geneem. Die enigste drang wat sy op daardie tydstip ondervind het, was om so gou moontlik uit die onmiddellike omgewing van Wilgedal en van hul eertydse vriende weg te kom. Hulle moes wegkom van daardie mense wat eens intieme huisvriende was, maar nou verkies het om liewer anderpad te kyk wanneer die Killians straataf kom. Ook moes hulle wegkom van die vriende wat ’n skyn van vriendskap probeer handhaaf het, maar wat so duidelik ongemaklik daaromtrent gevoel het dat dit ’n pyniging geraak het om in hul teenwoordigheid te kom.
Hulle het hul paar besittinkies ingepak en na die stad verhuis, waar Charlene daarin geslaag het om vir haar pa ’n werk by die munisipaliteit te kry. Hy verdien maar ’n karige salarissie, maar dit hou hom darem aan die gang. Saam met haar eie kantoorsalaris, wat ook nie veel is nie, kon hulle darem in die twee jaar wat verby is, kop bo water hou.
Die eerste keer in haar lewe moes Charlene leer om ’n sent drie keer om te draai voordat sy dit uitgee. Die eerste keer in haar twintig jaar het sy geleer om op die uitkyk te wees vir uitverkopings en winskopies. Sy het geleer om ’n sokkie te stop totdat dit later net stopsel is, om tevrede te wees met net brood vir aandete, om die stukkies seep in die badkamer te bêre totdat dit genoeg is om weer saamgesmelt te word en om haar tande met sout te borsel.
Aan die einde van elke maand lê Petrus Killian die paar randnote wat hy verdien het in sy dogter se hand, met net so min belangstelling as waarmee hy soggens werk toe gaan. Dis asof die eens energieke boer in ’n gevoellose robot verander het.
Sy beeld verskyn nou voor Charlene waar sy nog roerloos by die telefoon staan. Arme Paps! Hy het in ’n gebroke ou man verander. Charlene het lank gelede reeds besef dat haar pa in werklikheid ’n swakkeling is. Toe dit goed gegaan het, was hy ’n trotse man, maar toe die teenspoed gekom het, het hy gaan lê. En tog bly hy haar pa. Haar liefde vir hom, haar innige jammerte het net verdiep en sy kan hom verskoon. Hy kla nooit nie, maar sy weet watter hel sy daaglikse bestaan vir hom geraak het. Vir ’n man wat sy hele lewe lank gewoond was om bevele te gee, moet dit onbeskryflik moeilik wees om nou bevele te ontvang, dikwels van mense wat hy in die goeie ou dae as sy minderes sou beskou het. Op sy ouderdom, met sy erfenis verbeur en sy lewensmaat dood, kan dit nie maklik wees om van dag tot dag voort te gaan nie.
Die jammerte vir haar pa bring trane in Charlene se oë. Sy dogter is al wat hy nog het. Sy sal hom nie in die steek laat nie. Daar is niks wat sy nie vir hom sal opoffer nie.
Eindelik wys die elektriese horlosie aan die muur dat dit halfvyf is, en sy gaan na die hoof van haar afdeling om toestemming te vra om na die prokureur toe te gaan.
Enkele minute later stap Charlene by die prokureursfirma Du Preez en Van Niekerk se kantoordeur in.
Meneer Du Preez groet haar vriendelik en wys ’n stoel vir haar aan. Die paar formaliteite wat nog afgehandel moes word nadat hulle reeds in die stad gehuisves was, is deur hom behartig. Dus is hulle darem nie vreemdelinge vir mekaar nie en ken Herklaas du Preez die tragiese agtergrond van die jong meisie.
Hy begin haar versigtig pols oor haar en haar pa se huidige omstandighede. Charlene beantwoord sy vrae heeltemal eerlik. Haar oë is egter koel en haar stem trots.
Die ouer man kan nie help om haar te bewonder nie. Hoewel Charlene op die oog af fyn en klein voorkom, weet hy dat daar in dié skraal mensie ’n wil van staal skuil. Daarmee sal hy deeglik rekening moet hou as hy sy opdrag ten uitvoer wil bring. Hy hoor onmiskenbaar ’n tikkie verbittering in haar koel stem, terwyl sy op sy vrae antwoord.
“Ons lewe, as dit is wat u wil weet. Ons eet darem elke dag, ons het klere aan ons liggame en ons slaap saans onder ’n dak.” Die bruin oë kyk sonder huiwering of teken dat sy na simpatie soek in syne. “Wat is die doel agter al hierdie uitvraery, meneer?”
Die prokureur besef dit sal beter wees om liewer nie draaie te loop nie. Hierdie meisie is veels te intelligent daarvoor.
Hy kug eers ongemaklik en vra dan reguit: “Juffrou Killian, sal jy en jou pa daarvan hou om terug te keer na Ebenhaeser?”
Haar oë vlieg wawyd oop. Sy verbleek effens en haar hande gryp die armleunings styf vas. Dan ontspan sy weer en antwoord kortaf: “Dis buite die kwessie. Heeltemal onmoontlik.”
Hy leun effens vooroor en kyk haar stip aan.
“Dit is nie so onmoontlik nie, juffrou. Ek het so ’n aanbod om aan jou en jou pa te rig.”
Charlene is nou heeltemal bleek.
“Wat? Ek begryp nie, meneer.”
“Die huidige eienaar van Ebenhaeser is vertroud met die omstandighede waaronder jy en jou pa die plaas moes verlaat. Hy het gewonder of julle nie miskien daarheen wil terugkeer nie.”
“Hoekom?” vra sy kortaf.
“Hy soek ’n plaasbestuurder.”
“U bedoel ’n voorman,” sê sy weer met daardie tikkie verbittering in haar stem. “My pa is ’n ou man, ’n gebroke man, meneer. Hy sal nie die werk kan behartig nie.”
“Hy weet dat jou pa nie meer ’n jong man is nie, juffrou. Hy het genoeg werkers vir die harde werk op die plaas. Maar hy weet dat jou pa die grond baie liefhet en daarom sien hy in hom die ideale persoon vir daardie betrekking. Hy bied julle gratis verblyf en ’n redelike salaris aan.”
Charlene se verstand wil gaan stilstaan. Terug na Ebenhaeser! Terug na die verlore erfenis van die Killian-geslagte! Maar nie as baas nie … as klaas op hul geboortegrond. Nee! ’n Duisend maal nee! Dan is hy veel beter daaraan toe hier in die stad waar hy soos ’n gevoellose masjien lewe.
Sy staan nou op en haar lippe bewe terwyl die donkerbruin blik onstuimig op die man voor haar rus.
“U kan aan die huidige eienaar van Ebenhaeser sê ons wys sy aanbod van die hand.”
Sonder ’n groet verlaat sy die kantoor, haar oë verblind deur trane. Liewe Vader, hoeveel vernederings sal sy nog moet sluk? Dat die man die vermetelheid het om aan haar pa die voorstel te doen dat hy na Ebenhaeser kan terugkeer as ’n voorman en dit dan nog as ’n besonder groot guns beskou! Sy neem haar voor dat sy haar pa nie eens van die aanbod sal vertel nie. Dit is beter dat hy nooit eens hiervan weet nie. Daardeur sal sy hom oneindig baie pyn spaar. Binne-in haar eie hart is dit rou en seer. Ebenhaeser … Sy hoef nie eens haar oë te sluit om dit alles in haar verbeelding te sien nie: die ou groot moerbeiboom aan die onderpunt van die vrugtetuin, haar ma se spogroostuin in baldadige somerweelde, die stoere ou plaashuis waarin die Killian-geslagte gebore is en gesterf het, die wit afgekalkte muur van die netjiese familiekerkhof waar haar ma ook rus, die tennisbaan wat haar pa spesiaal vir haar vir die vakansietye laat bou het, die swembad, die wilgers by die spruit. Vandag besef Charlene weer opnuut hoe innig deel sy self ook van haar geboortegrond was, hoe diep haar wortels in daardie ou barre aarde ingedring was, watter diep wond die ontworteling nagelaat het.
Haar pa is reeds tuis toe Charlene by hul eenvoudige huisie, wat eintlik maar net drie aaneenlopende kamers is, aankom. Soos dit haar gewoonte is, buk sy af en soen hom teer op die voorkop.
“Middag, Paps. Jammer ek is so laat. Ek gaan maak nou koffie.”
Maar haar pa keer haar.
“Vat eers hier, my kind.”
Haar oë rek toe sy die paar note sien wat hy na haar uithou. Sy neem dit onseker en vra verbaas: “Waar kom dit vandaan, Paps? Dis mos nog nie betaaldag nie.”
“Ek weet, my kind.” Hy ontwyk haar oë en sy kop sak.
Sy kyk hom ondersoekend aan.
“Wat is fout, Pappa?” Daar is vrees in haar stem.
Die ou man se hart krimp ineen toe hy dit hoor. Sy stem is rou toe hy eerlik antwoord: “Hulle … hulle het my afgedank, Karlientjie.” Daar heers ’n oomblik ’n swanger stilte terwyl Charlene verslae na die paar note in haar hand kyk. Hoe gaan hulle ooit deurkom sonder haar pa se salaris? Dís die eerste gedagte wat by haar opkom. Hulle kon darem daarmee die huishuur betaal. Maar nou … Sy kan onmoontlik nie meer bespaar as wat sy reeds doen nie. Dan kyk sy op in haar pa se oë.
“Karlientjie, my … my gedagtes was ’n oomblik nie by my werk nie en … enne … wel, dit was ook nie die eerste keer nie,” sê hy met ’n bewende stem. “En toe het meneer Meyer gesê hulle kan my nie langer hou nie. Ek … ek is jammer, my kind.”
Die laaste woord word op so ’n berouvolle, selfverwytende toon gesê en sy traangevulde oë pleit so nederig om vergifnis dat Charlene die paar note op die tafel neergooi en haar arms om haar pa se geboë skouers slaan.
“O, Paps! O, Pappa! Dit maak nie saak nie. Dis alles reg. Ons sal regkom.”
“Nee, my kind. Ons sal nie regkom nie. Ek het jou weer in die steek gelaat. Jy het ’n slegte pa, my kind. Hoekom laat jy my nie liewer staan en probeer vir jou ’n toekoms uitwerk nie? Ek sal wel regkom. Daar is inrigtings wat na mense soos ek omsien.”
’n Harde snik van sy dogter maak Petrus Killian stil. Binne-in Charlene is dit rou en stukkend. Om haar eens so trotse pa te hoor praat van sulke dinge is amper te veel vir haar om te dra. Sy klou krampagtig aan hom asof sy hom deur haar fisieke aanraking wil beskerm teen sy leed wat ook haar leed is. Toe sy bedaar, streel sy bewend oor sy grys hare.
“Ek wil nooit weer hoor dat Paps sulke goed praat nie. Ons het net mekaar. Ons sal saamstaan. Ons sal anderkant uitkom. Ons sal weer vir Paps ’n werkie kry.”
Maar haar pa skud sy kop.
“Wat vandag gebeur het, sal maar weer gebeur, my kind. Ek kan dit net nie help dat my gedagtes so wegdwaal nie, Karlientjie. As ek my kom kry, is ek terug op Ebenhaeser …”
Hy hoef dit nie vir haar te vertel nie. Sy weet dit. Sy weet dat haar pa die grootste deel van die dag in die gees op Ebenhaeser is. Sy weet hoe hy terughunker na sy geboortegrond, hoe die erfenis van sy vadere vir hom eers werklik dierbaar geraak het toe hy dit verloor het. Met nuwe insig besef sy dat haar pa weer mens sal raak as hy kan teruggaan plaas toe.
En hy kán terugkeer. Daar ontstaan ’n tweestryd in Charlene. Het sy die reg om haar pa in die duister te hou oor hierdie aanbod? Durf sy haar persoonlike gevoelens in die pad laat staan van haar pa se geluk? Wie is sy om te oordeel wat goed en reg vir hom sal wees? Sy weet dat hy wat sal gee om terug te wees op Ebenhaeser. Miskien sal hy hierdie aanbod in ’n heeltemal ander lig as sy sien, nie as ’n belediging of nog ’n knou vir sy trots nie. Miskien sal hy, as hy daarvan moet kennis dra, met albei hande daarna gryp.
“Pappa, Pa kan terugkeer na Ebenhaeser as Pa so voel …”
Dis of daar ’n elektriese skok deur hom gaan.
Charlene vervolg stil, haar oë op sy verstarde gesig gerig: “Meneer Du Preez het my vanmiddag laat roep. Die eienaar van Ebenhaeser het gesê ons kan terugkeer daarheen as Paps bereid is om plaasbestuurder te wees.”
Sy hou haar pa se wisselende gesigsuitdrukkings angstig dop en voordat hy nog praat, weet sy reeds wat sy antwoord gaan wees.
“O, Karlientjie, wat vertel jy my? Kan ek regtig terugkeer na my plaas?”
Desperaat probeer sy keer.
“Pappa, Pappa kan terugkeer na Ebenhaeser, nie na Pa se plaas nie. Onthou, dit behoort nou aan iemand anders. As Pappa terugkeer, keer Pa terug as ’n werknemer, ’n … voorman.” Haar oë versag. “Dink Paps nie dis beter om liewer nie te gaan nie? Dit gaan nie maklik wees om as voorman terug te gaan nie.”
Maar dis of daar van die ou vurigheid van lank gelede in Petrus Killian terugvloei. Hy is so bewoë dat hy amper sukkel om die woorde gelykmatig uit te kry. “Ek gee nie om nie, Charlene. As dit beteken dat ek moet voorman word om na my erfgrond te kan terugkeer, dan aanvaar ek dit met ’n dankbare hart.” Die trane blink onbeskaamd op sy wange. “My kind, al behoort die plaas op papier aan ’n ander man, sal Ebenhaeser my erfgrond bly. Dit is my pa en oupa, en hul pa’s en oupas se bloed en sweet wat daar staan. Niks sal dit ooit kan verander nie, allermins ’n paar geskrewe woorde op ’n stuk papier. Wat maak dit saak of my sweet as voorman of eienaar daar val? Hierdie afgelope twee jaar het alle valse trots van my gestroop. Daarom is daar niks wat my terughou om hierdie aanbod te aanvaar nie.”
Daar is ’n skewe glimlaggie om sy lippe en dis of sy oë haar om verskoning vra toe hy sag byvoeg: “Daar was ’n ou gesegde onder ons voorgeslagte wat ’n mens vandag nie meer so baie hoor nie. Arbeid adel. Miskien sal ek ’n deeltjie van my verlore adel terugwin as ek nou teruggaan en op Ebenhaeser gaan werk. Ek sal nie van jou verwag om saam te gaan nie, my kind. Ek was lank genoeg ’n meulsteen om jou nek. Jy het al swaar genoeg deur my gehad. Jy kan môre die prokureur bel en hom sê ek aanvaar die aanbod met dank.”
Toe Charlene in haar pa se oë kyk, weet sy dat daar niks meer is om te sê nie.
Met ’n emosielose stem stel Charlene die prokureur die volgende dag per telefoon in kennis dat haar pa besluit het om die aanbod te aanvaar.
“Ek is baie bly om dit te hoor, juffrou. Hoe gou sal julle gereed wees om te vertrek?”
“My pa kan enige tyd vertrek, meneer. Ek gaan nie saam nie.”
“E … juffrou, ja, dis ’n bietjie moeilik. Jy is gister so vinnig hier uit dat ek nie al die besonderhede met jou kon bespreek nie. Ek wonder of jy nie weer na my kantoor toe kan kom nie, dan kan ons die saak volledig afhandel.” Meneer Du Preez se stem klink huiwerig. Charlene frons.
“Ek weet nie wat daar nog te bespreke kan wees nie, meneer. Die aanbod is aan my pa gedoen en hy het dit aanvaar. As daar dan nog iets is, moet u dit liewer verder met my pa bespreek.”
“Ek sou liewer die saak eers met jou wou bespreek, juffrou,” dring die prokureur egter aan, sodat Charlene verplig is om eindelik in te willig, hoewel duidelik teen haar sin.
Meneer Du Preez lyk bekommerd toe Charlene ’n ruk later weer voor sy lessenaar gaan sit.
“Die huidige eienaar van die plaas het spesifiek gemeld dat indien jou pa sy aanbod aanvaar, jy hom moet vergesel,” deel hy haar versigtig mee.
“Maar dis … belaglik! Hoekom dring hy daarop aan dat ek ook moet saamkom?” vra sy, haar stem vol agterdog.
“Dis glo noodsaaklik dat daar ’n vrou op die plaas moet wees. Daar is byvoorbeeld ’n groot hoenderboerdery waarvoor hy nie tyd het nie en wat aan jou sorg opgedra sal word.”
Haar ma het ook altyd ’n groot hoenderboerdery op die plaas aan die gang gehad. Sy was altyd so trots daarop en nou moet sy, Petronella Killian se dogter, terugkeer daarheen om na ’n ander man se hoenders om te sien! Nee! ’n Honderd maal nee!
“U kan hom vertel dat ek beslis weier om my pa te vergesel.”
Haar hele houding is so beslis en uitdagend dat die prokureur se moed sak.
“Ek is bevrees, juffrou Killian, dat jou pa dan nie die aanbod kan aanvaar nie. Ek is jammer, juffrou,” kug hy ongemaklik onder Charlene se strak blik. “Die ding is, meneer De Beer is ’n ongetroude jong man en hy voel dis noodsaaklik dat daar ’n vrou op die plaas moet kom. As jou pa graag plaas toe wil gaan, sal jy verplig wees om saam te gaan.”
“U sê sy van is De Beer? Wat is sy voorletters?” vra Charlene skerp.
“Ek dink sy handtekening is J. de Beer. Hoekom? Ken jy hom miskien?”
“Nee. Die van het net ’n oomblik baie bekend geklink,” antwoord sy ontwykend en kyk vinnig op haar hande af. Dis verspot van haar om die kaalvoetseun van hul eertydse voorman te verbind met die naam van die huidige eienaar van Ebenhaeser. Waar sal die brandarm Henk de Beer geld vandaan gekry het om ’n plaas soos Ebenhaeser te koop?
“Wel, juffrou?” dring die prokureur se stem tot haar deur.
As sy net van hierdie vereiste geweet het voordat sy haar pa van die aanbod vertel het! Maar nou is dit te laat. Hoe sal sy dit oor haar hart kan kry om terug te gaan huis toe en hom te sê dat hy nie meer plaas toe kan gaan nie? Sy kan in haar verbeelding sien hoe die nuwe hoop, die nuwe moed, die nuwe lus om te lewe en te stry uit hom wegsypel. En dit net omdat sy te trots is om as bywoner terug te keer na haar geboortegrond. Haar pa het gesê dat die afgelope twee jaar hom gestroop het van alle valse trots. Blykbaar het dit haar nie van alle trots gestroop nie. Miskien … miskien is dit ook vir haar noodsaaklik om terug te keer na Ebenhaeser. Sy sluit haar oë. Wat sal dit ook help om teen die prikkels te skop? Op die ou end sal sy tog maar ingee, weet sy.
“Dan sal ek seker maar moet saamgaan, meneer.”
Hy lyk openlik verlig.
“Ek is baie bly om dit te hoor, juffrou Killian. Ek hoop jy sal nie spyt wees oor hierdie besluit nie.”
“Ek ook nie, meneer,” antwoord sy droog.
“Ek sal meneer De Beer dadelik in kennis stel sodat hy reëlings vir jul vervoer kan begin tref. Hy dra natuurlik die koste daarvan.”
Toe Charlene aanstap na die bushalte, wonder sy weer oor hierdie J. de Beer, die huidige eienaar van Ebenhaeser. Dit moet nuwe intrekkers in die distrik wees. Dan onthou sy … Hy is ongetroud. Sy wonder waar hy aan die gedagte gekom het om Petrus Killian met so ’n aanbod te nader. Maar wat maak dit tog ook saak? Die feit bly dat haar pa kan terugkeer na die plaas waarna hy so gehunker het en dat sy verplig is om hom te vergesel … om ’n vreemdeling se hoenders te gaan oppas.
Die laaste strale van ’n fel Karooson vang nog vir oulaas die hoogste toppe van die populierbos en tint die blaarpunte silwer. Bulkend tou die beeste met die beespaadjie aan kraal toe terwyl die jong kalwers geesdriftig teen die hek aandruk.
Die eerste lig word in die groot, donker huis van Ebenhaeser aangeskakel toe die eienaar sy studeerkamer binnestap en die telefoon beantwoord.
’n Rukkie later stap die jong man uit op die breë stoep en terwyl hy sy pyp langsaam opsteek, dwaal sy blik oor die netjiese werf voor hom.
Dan het Petrus Killian sy aanbod aanvaar, hy en sy dogter …
Daar speel ’n glimlag om die jong man se lippe, maar in sy oë, wat voor hom uitstaar, is daar ’n onverklaarbare somberheid.