Читать книгу Skynglans van die maan - Ena Murray - Страница 5
3
ОглавлениеDie huishulp draai om na die meisie in die bed.
“Sal ek die gordyne laat oopstaan of moet ek dit ’n bietjie toetrek?”
“Trek dit ’n bietjie toe, Lucy, asseblief. Die lig is te skerp vir my oë. Wanneer het die dokter gesê kom hy weer?” vra die meisie in ’n krakerige stem.
“Vyfuur se kant. Dis oor ’n halfuur. Is daar nog iets wat ek vir juffrou Deidre kan doen of bring?”
“Nee dankie, Lucy. Geniet die aand. Ek sal heeltemal goed regkom. Meneer Norman sal ook netnou hier wees.”
“Ek gee glad nie om om te bly nie, juffrou Deidre. Juffrou lyk vir my glad nie goed nie,” laat die jong bruin vrou hoor, maar Deidre is baie beslis.
Toe die deur eindelik agter Lucy toegaan, lê en luister Deidre hoe haar voetstappe wegsterf. Die stilte sak swaar op haar toe. Sy lê roerloos met geslote oë.
’n Eensaamheid soos sy nog selde die afgelope tyd ervaar het, neem skielik van haar besit. Van ver onder kom die geluid van die woelige verkeer van die Goudstad dof na haar toe aangeswewe, maar hier bo in haar woonstel is dit stil en eensaam. Meteens voel sy ontsettend alleen, amper verlate, en sy wens dat sy Lucy se aanbod om by haar te bly, aangeneem het. Tot haar eie verbasing voel sy skielik trane in haar oë opwel. Wat sou haar makeer om skielik aan die grens te wil gaan? dink sy ontsteld. Maar diep in haar hart weet sy hoekom die trane so maklik, asof vanself, in haar oë opwel. Haar senuwees is aan flarde sedert sy griep opgedoen het. As sy net nie so ellendig gevoel het nie! As daar net die geringste teken van beterskap wil kom, maar dis nou al meer as ’n week dat die griep haar in ’n knelgreep beethet en ten spyte van die beste doktersbehandeling, lyk dit nie asof sy baie gou gaan herstel nie. En sy moet. Sy móét!
Onder die laken lê haar gestaltetjie, wat die afgelope week nog kleiner geword het, soos ’n gespanne boogsnaar. Sy besef dat sy haar gedagtes van hierdie onderwerp moet wegkry, anders gaan sy nog ’n senuwee-instorting kry. En dan sal alles werklik verlore wees. Maar waaraan kan sy dink wat haar sal kalmeer?
Doelbewus dwing sy haar gedagtes in ’n ander rigting en probeer die fyn stekies in haar keel ignoreer. Haar gedagtes dwaal terug oor die lang pad wat sy gekom het. Miskien is twee jaar nie so lank nie, maar vir haar wat van die onderste sport moes opklim, was dit ’n lang pad. Tog het sy dit gedoen, dink sy nou met trots. Dit was ’n harde twee jaar wat agter die rug is. As dit nie vir Norman was nie, twyfel sy of sy op eie krag en met eie deursettingsvermoë dit so ver sou gebring het.
Sy het ’n ander Norman Zietsman leer ken nadat hulle in Johannesburg aangekom het. Dikwels het hy haar in trane gehad. Dikwels wou sy daar en dan haar goedjies inpak en na haar ou lewe terugvlug. Dikwels het sy hom in haar woede en magteloosheid ’n slawedrywer genoem. Daar was selfs oomblikke dat sy hom gehaat het. Dikwels het hulle verskriklike rusies gehad. Maar nie een van hierdie dinge het Norman Zietsman van koers gebring nie. Deidre Retief sou die hoogtes bereik en hy was die man wat sou toesien dat dit wel gebeur. Sy het nie oornag beroemd geword nie. Daarvoor was haar stem nog te onontwikkel. Lang, uitputtende ure van oefen en nogmaals oefen het gevolg, en stadig maar seker het haar ster begin styg, al hoër en hoër totdat dit nou, twee jaar later, amper bo is. Oor ’n bietjie meer as ’n week sal dit die hoogtepunt bereik – as sy gekies word om Suid-Afrika by die Internasionale Sangfees in Milaan, Italië, te verteenwoordig.
Binne-in Deidre voel sy hoe haar hart van vrees saamtrek. Vir haar sal dit genoeg wees om net een keer oorsee te sing. Vir haar sal dit genoeg wees om haar land by so ’n groot internasionale sangkompetisie te verteenwoordig. Vir haar sal haar ster dan sy toppunt bereik het.
Maar reeds het Norman nuwe visioene begin sien van ’n veel groter firmament as die klein Suid-Afrikaanse hemelruim waarin haar ster tot dusver rondgesirkel en al hoër gestyg het. Reeds het hy begin sien hoe haar ster nog hoër kan klim buite haar land se hemelruim. Deidre moes internasionale status bereik. Haar ster moes ook aan die internasionale firmament begin vonkel.
Sedert die kritici Deidre Retief aangewys het as die moontlike wenner van die gesogte prys en om haar land in Milaan te gaan verteenwoordig, is dit asof Norman ’n bietjie berserk geraak het. Hy het net een doel voor oë, dink net aan een ding: Deidre moet sorg dat sy daardie toekenning kry.
Die afgelope weke kon hy oor niks anders praat nie, en het hy Deidre soos ’n regte slawedrywer gedryf. Hy het nie eens opgemerk dat sy maerder en kleiner word, dat die blou oë groter en dieper in die te skraal gesiggie weggesink het nie. Daarom is dit seker ook nie vreemd dat die ligte aanval van griep wat deur ’n ander mens ná enkele dae maklik afgeskud sou gewees het, tot ’n ernstige graad in Deidre ontwikkel het nie. Sy was te afgemat, haar gestel deur die ure lange, moordende geoefen te afgetakel om weerstand te kon bied teen die siekte wat eers as ’n ligte verkouetjie sy verskyning gemaak het, maar later elke dag in felheid toegeneem het.
Eindelik moes Norman erken dat Deidre werklik siek is en ’n dokter is ontbied. Hy het haar dadelik bed toe gestuur met die ernstige waarskuwing dat sy haar baie goed sal moet oppas, want haar gestel is hopeloos verswak. Hoe sy ook al ter wille van Norman probeer het om gesond te word, kon sy tot dusver hierdie frustrerende moegheid nie van haar afskud nie. Norman het die afgelope dae in haar woonstel geboer, maar hy was nie ’n oomblik stil nie en sy rustelose dwalery deur die vertrek het haar senuwees elke minuut nader aan breekpunt gebring. Hoewel hy dit nooit gesê het nie, het sy die verwyt en beskuldiging in sy oë gelees: Hoe kan jy nóú, op hiérdie tydstip, siek raak?
Sy kon hom net magteloos lê en aankyk sonder enige verweer, want as iemand dan wel skuld hieraan het, is dit hý wat haar genadeloos voortgedryf het sodat sý ambisie verwesenlik kon word. Want dit het Deidre hierdie afgelope dae in die bed besef: Norman se ambisie is nie hare nie.
Die eerste keer in twee jaar is sy tot stilstand geruk en het sy baie tyd gehad om te dink en selfondersoek te doen. Tot haar eie verbasing het sy besef dat sy self geen begeerte het om ’n internasionale sangeres te word nie. Alle mense se kapasiteit vir roem is nie dieselfde nie, het sy meewarig besluit. Die roem wat sy tot dusver behaal het, is vir haar genoeg, bevredig haar. Sy ken haar eie beperkinge. Iets binne-in haar vertel haar dat sy nooit die standaard van ’n internasionale sangeres sal bereik nie. Sy is ook geensins ongelukkig oor daardie feit nie. Die roem en sukses wat sy reeds behaal het, het haar stoutste verwagtinge oortref.
Maar Norman, haar bestuurder en die afgelope drie maande ook haar verloofde, het ’n onversadigbare sug na roem. Dikwels gedurende hierdie afgelope dae het sy op die punt gestaan om met hom daaroor te praat, om hom te vertel dat sy daardie nuwe horison wat hy vir haar gestel het, nooit sal kan bereik nie. Maar elke keer het die woorde in haar keel vasgesteek. Sy het by voorbaat geweet dat dit hopeloos sou wees.
En sy het bang geword, bang dat hierdie man wat haar in der waarheid van niks af opgebou het, haar ook uiteindelik sal vernietig. Maar sy het nie die krag en morele moed om iets aan die saak te doen nie. Soos sy jare lank vir Neil Maritz geluister en toegelaat het dat hy haar lewe reël, so het sy Norman die afgelope twee jaar toegelaat om vir haar te dink, te besluit.
Daar verskyn nou ’n wrang glimlaggie om haar mond. Sy het daardie dag aan Neil gesê dat sy van nou af op eie bene gaan staan. Maar dit was nie so nie. Sy het maar net Neil vir Norman verruil. Dit was Norman wat haar kontrakte nagegaan het, dit was Norman wat besluit het watter uitnodiging sy sal aanneem en watter sy sal afwys. Hy het selfs besluit watter aandrok sy by watter geleentheid sal dra. Nie dat sy een oomblik in opstand daarteen gekom het nie. Sy was maar te dankbaar dat sy ’n kenner soos Norman gehad het om haar in die kunstenaarswêreld touwys te maak. Sy het so ’n beskermde lewe gelei tot daardie dag dat sy saam met hom na Johannesburg vertrek het, dat sy maar te bly was dat daar iemand soos Norman Zietsman was wat die pad vir haar gelyk kon maak.
Soos met Neil, het sy uit die staanspoor in die gewoonte verval om te doen soos wat Norman sê. Ook toe hy drie maande gelede voorgestel het dat hulle verloof raak, het sy ingestem. Daar was geen ander man in haar lewe nie. Daarvoor was sy te besig. Daar was tot dusver net nog geen tyd om enige ander man goed te leer ken nie. Dit was vanselfsprekend dat sy en Norman later ’n intiemer verhouding sou aanknoop. Indien sy wel gekies word om na Milaan te gaan, sal hulle trou voordat hulle daarheen vertrek, want natuurlik moet Norman saamgaan. Dit was ondenkbaar dat sy alleen oorsee sou gaan.
’n Geluid by haar kamerdeur trek haar aandag van haar gedagtes weg en sy probeer glimlag toe die dokter binnestap.
“Hoe gaan dit vanmiddag? ’n Bietjie beter?”
“Ek weet nie wat om te sê nie, dokter. Dit is dan of daar geen verbetering hoegenaamd wil intree nie,” antwoord sy met ’n hees, krakerige stem, wat die dokter diep laat frons.
“Sulke dinge neem tyd om reg te kom, juffrou Retief. Jy sal geduldig moet wees. Om nou oorhaastig te word kan groot skade aan jou stem veroorsaak. Jou stembande is kwaai aangetas. Jy moet so min moontlik praat.”
Sy knik net en ná ’n rukkie, nadat hy haar weer deeglik ondersoek het, kom hy orent en laat sy stetoskoop sak.
Sy oë kyk ernstig in hare af.
“Daar is darem ’n baie geringe beterskap hoorbaar in jou bors.”
Die blou oë kyk diep bekommerd na hom op.
“Maar hoe lank nog, dokter? Ek moet oor ’n week kan sing!”
“Oor ’n week sal jy nog in die bed wees, juffrou. Dit spyt my. Meneer Zietsman het my vertel van volgende week se groot okkasie, maar ek is bevrees jou stem sal dan nog nie reg wees nie, behalwe as daar ’n wonderwerk gebeur.”
Hy sien die verslaentheid op haar gesiggie en vervolg vinnig: “Ons kyk maar hoe dit volgende week gaan, juffrou. Pas jouself maar intussen baie, baie goed op.”
Deidre voel skuldig oor die gevoelens wat die dokter se skeptiese uitkyk op haar kanse vir herstel teen volgende week in haar opgewek het. In plaas daarvan dat sy ’n gevoel van ontsettende teleurstelling ervaar, is dit eerder ’n gevoel van verligting. Sy sug saggies by haarself toe die dokter vertrek en sy weer alleen is. Sy kan dit maar reguit aan haarself erken: sy is ’n lafaard. Of moet sy op ’n ander plek die oorsaak soek vir hierdie onwilligheid om aan die sangfees in Milaan deel te neem?
Onwillekeurig gaan haar gedagtes terug en op hierdie oomblik hoor sy Neil Maritz se stem duidelik na haar kom: “Maar pas op, Deidre, dat jy nie ook eendag, wanneer jy eindelik die maan bereik, vind dat dit in werklikheid kaal en bar, ru, onvriendelik en … eensaam is nie.”
Kom sy dalk nou tot daardie ontdekking? ’n Ligte siddering trek deur haar. Is die bietjie roem en al die kollig wat die afgelope tyd op haar geval het, al die opofferings van die verlede werd? En noudat sy eindelik aan die bopunt van die leer is, is dit nie waar dat dit eensaam hier bo is nie? Ondanks soveel bewonderaars, ondanks die feit dat sy die gewildste sangeres in die land is, ondanks die feit dat sy Norman Zietsman se verloofring aan haar vinger dra, bly daar dalk tog iets binne-in haar onbevredig? Voel sy ondanks al die aandag en bewondering en sukses dalk tog alleen?
Daar is Norman … Hoekom is daar die afgelope tyd soveel onsekerheid in haar hart? Hoekom die twyfel of hy haar werklik liefhet om haarself en nie om haar sang en roem en die prestige en geld wat dit meebring nie? As daar iets moet gebeur … Veronderstel dat sy eendag nie meer kan sing nie, of van haar troon afgestoot word deur ’n talentvoller kunstenares, sal Norman Zietsman nog beweer dat hy haar liefhet? Sal hy nog in haar as mens belangstel – of stel hy bloot in haar as sangeres belang?
Sy roer onrustig en weer raak sy intens bewus van die benoudheid in haar bors en die fyn stekies in haar keel. Wanhopig probeer sy wegbreek van hierdie morbiede gedagtes af. Sy jaag nou net spoke op. Dis maar net omdat sy op die oomblik so ellendig siek en swak en magteloos voel dat sy sulke negatiewe gedagtes begin optower. Wanneer sy oor ’n paar dae gesond is, sal sy vir haarself lag dat sy toegelaat het dat sulke verspotte vrae ooit by haar opgekom het.
Toe Norman ’n paar minute later haar slaapkamer binnestap, ontvang hy ’n breë glimlag van sy verloofde en sy oë helder op.
“Te oordeel na daardie glimlag, voel jy vanmiddag baie beter,” merk hy op en buk en soen haar vlugtig op die voorkop.
Met suiwere wilskrag hou sy die opgewekte glimlag om haar lippe en antwoord: “Ja, baie beter. Dokter sê daar is ’n verbetering. Ek is op pad na herstel.”
Hy toon sy verligting baie duidelik. “Ek is baie bly om dit te hoor, my skat. Ek was in ’n stadium baie bekommerd. Maar nou is alles reg. Volgende week skiet jou ster die hemelruim in!”
Sy lê en luister met ’n glimlag om haar lippe terwyl hy opgewonde voortpraat, maar binne-in haar voel sy hoe dit donkerder en donkerder raak. Sy kan hom nie nou teleurstel nie! Sy durf dit nie doen nie! Hy vestig al sy hoop op aanstaande week. Sy sal net eenvoudig aanstaande week móét gesond wees! dink sy paniekerig.
Dis deur blote wilskrag dat Deidre ’n week later uit haar bed opstaan. Dit lyk asof die ligste windjie haar kan omwaai, maar sy doen haar uiterste bes om almal ’n rat voor die oë te draai. Net dokter Beneke kan sy nie flous nie. Die eerste keer sedert hul kennismaking praat hy baie streng met haar.
“Juffrou, jy hoort nog in die bed, en jy weet dit so goed soos ek. Jy is besig om jouself te dwing. Ek waarsku jou vooraf dat ek geen verantwoordelikheid gaan aanvaar as daar iets met jou gebeur nie.”
Deidre besef dat dit nie sal help om voor hom toneel te speel nie. Sy ontken ook nie sy bewering nie. Sy voel nog ontsettend siek en swak en binne-in haar is ’n bewerasie wat nie ’n oomblik stil is nie. Sy draai nou in wanhoop na hom.
“Maar ek móét môre sing, dokter! Dis die hoogtepunt van my loopbaan! Probeer verstaan, asseblief! Ek kan nie nou siek wees nie!” Haar stem breek. “Daar is nie nou tyd nie!”
“Siekte het nie tyd nie, juffrou. Siekte pas nie by jou aan nie; jy moet jou by hom aanpas. Besef jy dat jy jou stem ontsettende skade kan aandoen as jy môreaand gaan sing? As jy nou ’n koue moet opdoen, sal ek geen geld op jou verwed nie. Die weer het juis so guur geraak van gister af.”
Sy blik rus bekommerd op die ingevalle, bleek wange. “Ek oordryf nie, juffrou. Ek is baie, baie ernstig. Jy kan nie môreaand gaan sing nie!”
Sy sprei haar hande magteloos oop.
“Ons … ons kyk maar hoe dit môremiddag gaan. Sal dokter weer môremiddag omstreeks vyfuur kan kom?”
“Ja, ek sal.” Hy neem sy swart dokterstas op en sug sag. “Totsiens, juffrou. Net nog dit: Ek wil nie prekerig klink nie, maar onthou – niks, niks op hierdie aarde, geen roem en geen geld, kan vergelyk word met ’n mens se gesondheid en lewe nie. Geld en roem beteken niks as jy jou gesondheid vir altyd verloor het nie, en is werklik waardeloos as jy dalk jou lewe daarvoor moet inboet. Goeiemiddag.”
Deidre kyk magteloos toe hoe die voordeur agter hom toegaan. Daar is ’n begeerte in haar om hom terug te roep, om hom te vertel dat dit nie ’n sug na geld of roem is wat haar dwing om môreaand te gaan sing nie, maar sy doen dit nie. Sy draai stil om, sak weer terug in die bed en sluit haar oë moeg.
Dokter Beneke kom getrou sy afspraak die volgende middag om vyfuur na, en toe hy Deidre se woonstel binnestap, is Norman Zietsman ook reeds daar. Eersgenoemde begin dadelik met sy intensiewe ondersoek, maar toe hy hom ’n rukkie later by Norman in die sitkamer aansluit, gevolg deur Deidre, is sy gesig net so ernstig soos die vorige middag.
Norman lyk ook diep bekommerd.
“Wel, dokter?”
Dokter Beneke frons skerp en vra kortaf: “Wel wat, meneer Zietsman?”
“Wat is jou bevinding? Sal Deidre vanaand kan sing?”
“Die antwoord is ’n besliste ‘nee!’, meneer,” sê die dokter sonder om doekies om te draai.
Norman lyk ’n oomblik net so bleek soos Deidre.
“Maar … is jy baie seker, dokter?”
Die ouer man se oë, asook sy stem, is baie koel toe hy reguit antwoord: “Ja, meneer. Ek is seker. Maar as jy enige twyfel het, staan dit jou natuurlik vry om ’n ander dokter ook te raadpleeg.”
Norman se oë begin vererg flikker.
“Dis glad nie dat ek aan jou bevinding twyfel nie, dokter, maar jy moet verstaan …”
“Ek verstaan heeltemal, meneer Zietsman. Maar wat jy nie wil verstaan nie, is dat jy juffrou Retief se hele toekoms as sangeres sowel as haar lewe in jou hande gaan neem as jy haar dwing om vanaand te sing. Maar dit is jou saak … en hare. Ek gee jou my bevinding as geneesheer, en niks meer nie. Ek kan haar nie verbied om te gaan sing nie. Maar ek sal my plig as dokter skromelik versuim as ek haar nie dringend waarsku teen die dwaasheid van so ’n stap nie. Of sy egter daarop gaan ag slaan, is vir haar om te besluit. Jy sal my nou moet verskoon. Ek moet gaan.”
Hy stap ook sommer dadelik aan deur toe en dis of Deidre ’n beweging maak om hom te keer. Maar hy sien dit nie en die volgende oomblik trek hy die deur beslis agter hom toe. Die man en vrou kyk mekaar strak aan. Dan spring Norman op en begin weer rusteloos deur die vertrek dwaal soos hy die afgelope dae gedoen het, en Deidre voel weer alles in haar saamtrek. Sy stem klink bars toe hy eindelik die stilte verbreek.
“Dis darem nou ’n ding om op hierdie tydstip te gebeur! Liewe hemel, dis om van ten hemele te skreeu! Jy sal nooit weer so ’n kans kry nie, altans nie gou weer nie.”
Hy draai vinnig na haar. “Voel jy regtig so hopeloos, Deidre? Sien jy regtig nie kans om te sing nie? Jou spraakstem klink vir my heeltemal reg.”
Hy kom nader en nou pleit hy openlik. “Asseblief, my skat, sal jy nie maar probeer nie? Dis uiters tien minute lank. Jy sal darem seker tien minute kan uithou en as ons voorsorg tref en baie seker maak dat jy geen koue opdoen nie …”
“Ek … ek …”
“Ek dink dokter Beneke neem dit gans te ernstig op. Hy wil sommer net sy gewig rondgooi. Liewe aarde, ’n mens kan mos nie doodgaan van sing nie! Jy het mos darem net verkoue! Deidre, asseblief! Ons het twee jaar hard gewerk en baie opgeoffer. Ons kan mos nie nou toelaat dat ’n blote verkoue in die weg van ons beloning staan nie! Jou toekoms as sangeres is vanaand in die weegskaal. As jy hierdie kans verbeur, sal jy maar altyd net bly waar jy is. Ek is ook in my siel oortuig dat jy vanaand gekies sal word, Deidre.”
Nog voordat hy klaar gepraat het, weet Deidre dat sy geen keuse het nie. Ter wille van Norman sal sy vanaand moet sing. En nie sommer net sing nie, maar sing soos nog nooit tevore nie. Sy is dit aan hom en miskien ook aan haarself verskuldig.
Die hele dag al was die weer triestig, en toe dit tyd raak vir Norman en Deidre om stadsaal toe te gaan, het ’n snerpende windjie begin waai. Sy is styf toegewikkel in die leerjas wat Norman tot haar grootste verrassing vanmiddag as geskenk vir haar gebring het. ’n Sybokhaarserp is om haar keel gedraai en Norman kom nou nog met ’n dik wolstola ook nader en drapeer dit oor haar kop en voor haar mond verby sodat sy protesteer.
“Regtig, Norman, ek lyk al soos ’n Eskimo!”
“Ek gaan geen risiko met jou waag nie, my skat. Jy is te kosbaar vir my,” antwoord hy beslis en druk haar ’n oomblik styf teen hom vas. Sy sluit haar oë en leun teen hom aan. Is dit sy as mens wat kosbaar vir hom is, of is dit net haar stem, wonder sy en voel dan skuldig en skaam oor hierdie gedagte.
’n Driekwartier later stap Deidre Retief onder dawerende applous oor die verhoog na die mikrofoon. Dis nie die eerste keer die afgelope twee jaar dat dit gebeur nie, en daarom kan sy nie verstaan dat sy so senuweeagtig voel nie. Sy voel vanaand kompleet soos daardie eerste aand toe sy oor die radio gesing het, so bang dat sy kan sterf. Haar blik dwaal oor die skaar van gesigte voor haar en ’n oomblik oorweldig die paniek binne-in haar haar byna. Die skare juig nog steeds, en soos ’n outomaat buig sy na alle kante.
Vlugtig, hulpsoekend keer haar blik na die regterkant waar Norman net agter die gordyn buite sig van die gehoor staan. Ook hy klap hande. Daar is ’n breë, selfversekerde glimlag om sy mond en sy oë straal bemoediging en trots na haar uit. Te oordeel na die applous van die gehoor, is Deidre beslis die gewildste van al die kunstenaars en daar bestaan by Norman geen twyfel dat sy ook die gewildste by die paneel van beoordelaars sal wees nie.
Die geweldige toejuiging wat Deidre ontvang, is nie net aan haar stem te danke nie. Die feit dat sy ’n ernstige griepaanval gehad het en moontlik nie vanaand sou kon optree nie, is reeds deur die pers by die publiek tuisgebring. Die feit dat sy so te sê uit die bed opgestaan het om wel vanaand hier te wees, het die skare se bewondering en verbeelding aangegryp. Die eteriese prentjie wat sy daar op die verhoog vorm met haar spierwit, bepêrelde aandrok, die klein, feeagtige gestaltetjie met die blou oë so diep in hul kasse, is alles dinge wat meewerk om die luisterende publiek voor hul radio’s oor die lengte en breedte van die land, ’n lang ruk net die dawerende toejuiging van die gehoor te laat hoor voordat die dirigent beslis sy stok omhoog bring en die eerste akkoorde van die orkes opklink.
Die eerste note van die sangeres sluit aan by die suiwer klanke van die musiekinstrumente en … ’n doodse stilte sak oor die volgepakte saal toe. Die sangeres het elkeen in die groot saal se aandag volkome, maar nie in bewondering, of ekstase, of respek nie, maar in verbystering, skok, ongeloof, en … innige jammerte. Fyn, onsigbaar vir die gehoor, vorm sweetpêreltjies op die voorkop van die kunstenares terwyl sy moedig volhou. Die dirigent kyk bekommerd oor sy skouer terug na die meisie voor die mikrofoon, en dan gaan sy blik angstig, vraend na Norman Zietsman, wagtend op sy teken dat hy die orkes tot swye moet bring.
Maar Norman Zietsman se oë is vasgenael op die meisie in die wit aandrok en dis of hy deur die drang van sy blik die bekende, suiwer klanke in haar keel na buite wil dwing en ’n einde aan die rou wanklanke wil maak. Deidre het vergeet van die groot gehoor voor haar, van die mikrofoon wat haar stem landwyd uitdra, van die orkes agter haar, van Norman Zietsman hier digby haar agter die gordyne. Sy sluit haar oë en sy sing, elke vesel in haar liggaam toegespits op daardie hoë noot wat op haar wag wanneer haar lied sy klimaks sal bereik. Sy hoor nie die wanklanke wat teen haar ore vasslaan nie. Sy is nie bewus van die ademlose spanning wat van die groot skare af na haar vloei nie. Sy weet net sy moet … móét. Dan haal sy diep asem. Haar mond gaan oop … Die oomblik het aangebreek vir daardie hoë, suiwer noot … Die orkes breek af … almal wag. ’n Doodse, onbeskryflike stilte hang om hulle.
Dan lig die dirigent sy hand en die orkes bars los met die slotakkoorde. Voor die mikrofoon staan Deidre Retief nog steeds met haar mond oop … maar nog steeds weier haar keel om ’n enkele geluid voort te bring.
Die volgende oomblik sien die verslae gehoor hoe die meisie op die verhoog omswaai en strompelend uit hul gesigsveld verdwyn – en agter die gordyne druk Norman Zietsman se hande aan weerskante van sy kop en dis of hy in fisieke pyn verkeer toe hy vooroor op sy hurke sak.
’n Man spring op uit een van die stoele in die derde ry van voor af en koers sommer kortpad met die treetjies op, oor die verhoog, agter Deidre aan. Sy oë soek angstig om hom rond en dan sien hy die sydeur oopstaan. Hy hardloop na buite en daar ver voor hom, soos ’n grassprietjie in ’n storm, sien hy die gestaltetjie teen die snerpende wind beur.
“Deidre!”
Maar hy weet sy hoor hom nie. Hy storm vorentoe.
“Deidre! In hemelsnaam, kind, jy soek jou dood!” Hy ruk haar aan haar kaal skouers om en dis of sy vingers aan ’n ysblok raak toe sy vingerpunte met haar vel in aanraking kom. Hy bewe van koue toe hy haar nader trek. Maar hy het nie tyd om nou daaraan aandag te gee nie, want die een oomblik staan sy nog swaaiend in die koue wind voor hom; dan, geluidloos, sak sy voor sy voete neer.