Читать книгу Die despoot van Duiwelskloof - Ena Murray - Страница 4

2

Оглавление

Marista kyk vinnig na haar ouma op. Dan frons sy verward.

“Duiwelskloof? Waar is dit? Ek het al êrens daardie naam gehoor …”

“Natuurlik. By Lettie.”

Marista se blou oë rek nog groter. “Ouma bedoel … bedoel die pláás Duiwelskloof waar Lettie se twee broers bly?” Sy skud haar kop. “Wat moet ek dáár gaan maak?”

“Jy moet vir hulle gaan huishou en geselskap wees vir Johan, die jongste een wat verlam is weens polio.”

“Ouma!” Marista lyk opreg geskok, maar haar ouma klink heel ingenome met dié puik ingewing, en sy laat haar nie van stryk bring nie.

“Dis net die ideale plek vir jou. Dis ver van die stad af, in ’n omgewing waar jy nog nooit was nie, dis stil en rustig en weg van alle gejaagdheid. Daar sal jy jouself weer kan vind, my kind. Jy is nou verward en bang, nie waar nie, Miempie? Miskien het jy en Wouter self ook ’n bietjie perspektief verloor. Jul lewens het in ’n vaste groef geraak deur die jare. Dis tyd dat julle dinge en die toekoms ’n slag goed beskou. Daar is geen beter plek op hierdie aarde om dit te doen, myns insiens, as op die wye velde van Duiwelskloof nie.”

Marista bly skepties. Sy is eintlik openlik onwillig. Ouma is bepaald die kluts ietwat kwyt. Sý, Marista … ’n huishoudster!

“Maar huishou, Ouma! Ek weet daar niks van af nie, totaal niks!”

“Juis. Daarom kan jy sommer daar gaan leer. Jy weet nie eens hoe om rys te kook nie, en dan is jy nogal verloof! Elke vrou behoort darem die grondbeginsels van huishouding te ken voordat sy haar in die huwelik begeef.”

Marista weet nie of sy moet lag of huil nie. Dis op die punt van haar tong om haar ouma te vertel dat sy nie meer verloof is nie; dat sy self netnou voordat sy hierheen gekom het, Wouter Malan se ring van haar vinger getrek en versigtig in die ringdosie teruggesit het – sonder dat sy seker was of sy dit vir hom gaan teruggee of nie. Sy gee nou ’n kortaf, hulpelose laggie.

“Nee, werklik, Ouma, dis buite die kwessie. Dis … belaglik! Ouma, asseblief, ek weet u bedoel dit goed, u wil my graag help, maar …”

“Maar jy is te veel van ’n lafaard om die uitdaging te aanvaar, nè, Marista?” Die ou dame se stem klink skielik ongewoon streng, en Marista kyk verslae terug.

“Ouma, ek wíl weggaan. Ek sál ’n rukkie weggaan, maar … ek kan mos maar êrens gaan kuier totdat ek duidelikheid gekry het. Hoekom moet ek nou juis na ’n eensame plaas gaan en dan nogal as huishoudster?”

“En wat sal jy op ’n vreemde plek alleen gaan maak? Net daar op ’n hoop gaan sit en krepeer van selfbejammering? Ledigheid is die duiwel se oorkussing, kind,” waarsku sy ernstig. Sy sien die vertwyfeling op die mooi gelaat en skielik versag haar stem weer. “Miempie, die grootste fout wat enige mens kan begaan wanneer hy of sy ’n swaar teleurstelling in die lewe ondervind, is om na ’n eensame, onbekende plek te vlug en die wonde daar te sit en vertroetel. Nee, kindjie. Die beste manier om so gou en goed moontlik oor so iets te kom, is om besig te bly, só besig dat jy nie tyd het en die duiwel ook geen kans bied om jou allerhande dinge wys te maak nie. Dan sien jy skielik op ’n dag dat die prentjie weer in die regte perspektief geskuif het, dat jy nugter daarna kan kyk en kalm tot ’n besluit kan kom. Het jy al met Wouter gepraat?”

“Nee.” Sy laat haar ooglede sak. “Ek … ek het nie die moed om hom … daarna uit te vra nie, Ouma! Die ergste is dat ek nie weet of die stories werklik waar is nie. Ek voel aan die een kant so gemeen dat ek my aan die uitlatings van mense steur wat …”

“Wat soms meer weet en raaksien omdat hulle buitekant staan,” vul tant Miemie aan. “Ek bedoel nie daarmee dat ek sommer onvoorwaardelik aanvaar Wouter is besig om jou agter jou rug te verkul nie. Dit sal nie regverdig teenoor die man wees nie. Maar die feit … Wouter is ook maar net ’n mansmens, Marista. Moenie ’n fout begaan nie. O, ek weet hy ken sy maniere en etiket op die punte van sy vingers, maar trek maar daardie byderwetse klere en bont dasse en gekleurde hemde van hom uit, dan het jy maar net nog ’n mansmens en niks meer nie. As hy dan rondloop, is dit ook nie net sy skuld nie. Jy dra dan net soveel skuld daaraan …”

“Ek?” Sy kyk haar ouma geskok aan, maar sy onthou op hierdie oomblik dat daardie selfde vermoede al vanmiddag by haar opgekom het.

“Ja, Miempie, jý. Kom, dis hoekom ek so graag wil hê jy moet ’n rukkie na my ou wêreld gaan. Daar vind ’n mens jouself, leer jy jouself ken. Ek weet dis nie jou skuld dat jy is soos jy is nie. Jy is ’n stadskind. Jy het in hierdie atmosfeer grootgeword, die atmosfeer van neonligte en teerstrate en modevertonings, die sug na roem en rykdom en die verterende ambisie wat elke stadsmens soos ’n seekat in sy greep vasvang. Ek is nie krities nie, kind. Ek sê maar net. Ek veroordeel nie. Die arme mense kan nie anders wees nie. Dis óf jy óf ek. Almal beur maar vorentoe, en as ek nie sorg dat ek ’n tree voorbly nie, kom jy verby en trap op my. Maar in die proses verloor jy die werklike waardes van die lewe, vergeet jy om te lewe, vergeet jy eintlik hoekom jy hierdie dinge doen … om te kan lewe, lief te hê, te lag.”

Sy glimlag teer in die blou oë af. “Jy is so pragtig, Miempie, maar weet jy hoe min jy lag? Ek praat nie van daardie aangeplakte masker wat jy heeldag dra en wat uit die tydskrifte na my kyk nie. Ek praat van lag … werklik lag, hartlik, heerlik, met jou lippe én jou hart, sommer net omdat jy lewe, jonk en gesond is, omdat God jou so baie gegee het, sommer net omdat jy ’n mens is met warm, polsende bloed in jou are en die wêreld en die lewe met al sy rykdomme aan jou behoort. Ken jy daardie lag, Miempie?”

Verdwaas staar sy na die ou gesig hier bokant haar op. “Ouma …”

Die verrimpelde glimlag ruk aan haar verskeurde hart.

“Jy lyk so verbaas oor die dinge wat ek sê, Marista. Ek wou dit so lankal vir jou sê, maar daar was nog nooit tyd nie. Jy is altyd so haastig, altyd op pad na die een of ander modevertoning, na die volgende sport op die leer van sukses, jy en Wouter. Julle is so haastig om die toppunt van die leer te bereik dat julle nie eens tyd kry om mekaar werklik lief te hê nie, mekaar te leer ken nie. Geen wonder dat julle iets, dieselfde ambisie, as liefde aangesien het, verward geraak het tussen al die sporte van die leer van sukses …”

“Ouma … dink nie ek en Wouter het mekaar lief nie?” sê-vra sy, die verdwaasde, verbysterde noot steeds in haar stem.

Die ou tante skud haar kop. “Nee, kind. Ek dink nie jy en Wouter Malan het mekaar lief nie. As julle mekaar werklik liefgehad het, sou Wouter nie van ’n vrou soos jy na ’n ander vrou loop nie. En jy, Marista, sou nie jare lank tevrede gewees het met ’n bleekwit, dooie verhouding soos dié tussen julle nie.”

Marista se kop ruk omhoog. “Maar hoe weet Ouma dat … dat …?”

“’n Mens kan maar net na julle kyk, my kind. Twee mense wat mekaar innig, opreg bemin, kan dit vir niemand wegsteek nie. Daar is net daardie iets wat ek nie vir jou kan beskryf nie, ’n soort onsigbare band waarvan ’n mens onmiddellik in hul teenwoordigheid bewus is. Dis iets wat hulle nie kan beheer nie, ’n elektriese stroom wat tussen hulle aanskakel sodra hulle in mekaar se teenwoordigheid is. Maar jy ken dit nie, nie waar nie, Marista? Wat ek jou nou vertel, is vir jou heeltemal Grieks, nè?”

Die jong meisie laat haar kop stilswyend sak en die ou dame gaan voort: “Ek is so bang jy gaan dit misloop, Miempie. Jy is so ’n pragtige mens, uiterlik en ook innerlik. Ek is so bang daardie lieflike, warm vrou binne-in jou gaan vermors word op ’n leë, gevoellose ambisie, ’n ambisie wat jy en Wouter saam koester, wat jou op die toppunt van die leer gaan bring en niks verder nie. Maar ’n huwelik met die man wat jy liefhet en wat jou bemin … daar is geen einde aan daardie leer nie, my kind. Dit lei ál hoër en hoër soos die jare verbygaan … tot in die hemel. Dis eindeloos … soos die blou hemelruim bokant Duiwelskloof.”

Dit word stil in Ouma se klein sitkamertjie. Ouma wag … want as ’n mens al die laaste skof betree het, het geduld jou metgesel geword. Eindelik kyk Marista op.

“Ouma, ek weet nie,” skerm sy nog. “Die dinge wat Ouma so pas gesê het … Dis seker alles waar, maar hoekom is dit so belangrik dat ek juis na Duiwelskloof moet gaan? Wie sê die mense van Duiwelskloof soek ooit ’n huishoudster?”

“Hulle soek een – baie dringend. Die ou tante wat al die jare vir hulle gesorg het, het geval en haar heup gebreek. Sy is in die hospitaal, en tot tyd en wyl sy daar moet bly, sit die twee broers sonder sorg, behalwe ou Sabien. Maar daardie goeie ou soort wat al so lank deel van die huis is, se hande staan gewoonlik vir niks verkeerd nie. Jy sal eintlik maar net ’n ogie moet hou.”

Marista frons. Soos Ouma dit stel, klink dit heeltemal skaflik, maar sy bly skepties. Sy weet darem nie. Sy weet nie eens hoe om ’n “ogie te hou” nie. Haar vermoë om huis te hou strek net tot die maak van ’n koppie tee, en dis werklik ál.

Ouma begin skielik ongeduldig raak. Hoe meer hulle oor die saak gesels, hoe meer oortuig word sy daarvan dat dit net die ding is wat Marista moet doen.

“Hemel, kind, moenie so lamlendig wees nie! Het jy regtig so saf geraak van al die jare se gemaksug dat jy nie eens weet wanneer ’n ding vuil is nie? Jy kan net vir ou Sabien sê: ‘Maak skoon dié ding, vryf dáárdie ding op en kook vandag wortels en groenbone.’ Wat is nou so erg daaraan?”

Sy vervolg streng, en die eerste keer in haar volwasse lewe hoor Marista haar ouma ’n streng stemtoon teenoor haar gebruik. Nog ’n groot skok by al die ander van vandag.

“Ek dink jy is eintlik ’n baie selfsugtige mens, Marista. Ek is diep teleurgesteld in jou. Ek het meer durf van jou verwag. Dit het tog al met honderde ander meisies gebeur. As almal net op ’n hopie gaan sit het, wonder ek wat sou van hulle geword het. En jy ís selfsugtig, uiters selfsugtig. Jy wil na ’n eensame plek vlug waar jy die wonde aan jou trots kan gaan sit en lek. Ja, jou trots, want ek sê vandag vir jou, dis jou trots wat seergekry het, nie jou hart nie. Jy het nog nooit een keer in jou lewe iets gedoen waarvoor jy nie lus was nie, waarvoor jy werklik ’n onbaatsugtige opoffering moes doen nie. Ja, ek weet jy het hard gewerk om te kom waar jy is, maar jy het nie verniet gewerk nie. Daar was ’n beloning, nie waar nie?

“Maar nou … daar sit twee hulpelose mansmense in die grootste penarie en verleentheid en jy kan hulle help. Veral vir Johan, ’n jong man in die fleur van sy lewe, vasgekluister aan ’n stoel … en jy wil nie, want daar is nie ’n beloning daaragter nie. Al wat dit van jou vra, is eerlike, opregte, liefdevolle naastediens sonder om iets terug te verwag. En tog gaan jy iets terugkry, Marista. Ek beloof jou dit vandag. Die lewe het my geleer dat dit nog altyd waar bly: Werp jou brood op die water …”

Marista se kop is geboë. Ouma kan maklik praat. Dis nie sý wat ’n vreeslike gek van haarself gaan maak nie! Die ouer vrou sug diep.

“Nou goed. Laat maar staan. Ek was my hande in onskuld. Ek het maar net gedink … terwyl jy wíl weggaan, kan jy jouself ook diensbaar maak. Maar … nou ja, dis seker te veel gevra van jou.”

Sy klink diep teleurgesteld, maar die ou oë hou die strak gesiggie hier by haar knie speurend dop.

“Lettie sê Michael werk bedags soos ’n slaaf en wanneer hy eindelik huis toe kom, moet hy nog kom kos maak vir hom en sy verlamde broer en …”

“Ek dog dan Sabien is daar. Ouma het gesê …”

“Almiskie! Verder sit die arme, verlamde Johan die een uur ná die ander eensaam in sy kamer, sonder iemand wat darem ’n woordjie met hom gesels en vir hom ’n bietjie tee bring. Jy is jonk en sterk en gesond, en al dink jy op dié oomblik jy kry swaar, Marista, het jy nog nooit werklik in jou lewe gely nie. Daardie mooi gesiggie van jou het daarvoor gesorg. Maar nee. Hulle moet maar opsnork met ’n ou huishulp terwyl jy wat hulle kan help, jou dae in sondigheid deurbring …”

“Ouma!” Marista se blou oë is soos pierings. “Van watter sondigheid praat Ouma? Hoe kan u …”

“Natuurlik is dit so. Hierdie gepronk voor mansmense met gulsige oë en dit net met twaksakkies en toue aan jou liggaam. Wat is dit anders as sonde? Kan daar groter ydelheid wees! Die liggaam is tog meer as net om klere aan te hang of om te ontbloot. Ja, toe maar, ek weet presies wat jy dink. Ek is van die ou, uitgediende garde, uit die ou doos, maar ek sê reguit: Jy is tot meer in staat as dít, Marista. Jy het nie net ’n mooi gesig en mooi liggaam nie. Daar is ook verstand in jou kop, hoewel jy dit tot hiertoe nog nie gebruik het nie. Hoekom die goeie Vader jou dit gegee het, weet ek nie. Jy het dit mos nie nodig nie, of liewer, wil dit nie hê nie. ’n Mens het nie verstand nodig om jou te vertoon nie …”

Dié keer val Marista haar ouma in die rede, en dis op hierdie oomblik dat die familieverwantskap baie duidelik tussen hulle uitkom. Sy klink amper na ’n weergawe van haar ouma toe sy kil sê: “Ek het nie geweet u het so ’n lae dunk van my nie, Ouma. Ek kom baie dinge vandag agter. Dat mense my nie bewonder nie, maar eintlik bespot en bejammer. Dat my verloofde agter my rug rondflankeer, en dat die één mens aan wie se lojaliteit en liefde ek vasklou, ook maar nie juis agting vir my het nie. Dit was voorwaar ’n dag vol openbarings gewees.”

Ouma se oë kyk stip. Sy moet stry teen die drang om alles te verongeluk en haar kleindogter teen haar bors vas te druk. Maar dis nie nou die aangewese oomblik om te toon hoe lief sy hierdie kleinkind van haar wel het nie. Marista is bederf. Sy was nog haar hele lewe daaraan gewoond om net van bewondering en liefde omring te wees. Dis alles goed en wel, maar sy moet leer dat ander mense ook op liefde en aandag geregtig is en dat sy nie net haar lewe lank kan ontvang en nooit van haar kant af gee nie.

Marista kyk ewe strak terug. Goed. Sy sal hulle wys: hulle almal, daardie klomp katte, Wouter en … ook Ouma! Daardie ander klomp kollegas van haar dink mos sy is ’n gek. Wouter beskou haar blykbaar net as ’n nuttige trap op die leer van sukses. Ouma dink sy is selfsugtig, gemaksugtig, sonder durf, ydel en sondig! Nou goed.

“Hoe weet ’n mens of Duiwelskloof se mense nog ’n huishoudster soek?”

Net die bewing van die ou hand op die kierieknop verraai die opbruisende vreugde in die ou hart. Sy het gewen! Haar antwoord klink egter ongeërg, so asof dit haar regtig nie kan skeel na watter kant haar kleindogter besluit nie.

“Jy moet hulle seker bel.”

“Nou goed. Dan gaan bel ek. Wat is die dorp se naam?”

“Middeldraai.” Eers toe Marista die oproep wil bespreek, sukkel tant Miemie orent en wikkel vinnig met behulp van die kierie. “Miempie-kind, net ’n oomblik.”

Hierdie keer versag Marista se hart glad nie by die aanhoor van die ou troetelnaampie nie. Sy is te kwaad, te verontwaardig en seergemaak.

“Wat is dit nou weer, Ouma?”

Die kierie klop op die mat, en skielik kekkellag die ou dame. “Jy moet vir jou parmantig hou met my, Miempie! Wag maar, die baas van Duiwelskloof sal jou mak maak. Hy is glo maar goed beduiweld.”

Marista se mond kry ’n vasbeslote trek. Werklik, Ouma is onmoontlik! Eers maak sy haar sleg, en nou probeer sy haar bangpraat!

“Ag so? Maar ek kan self goed beduiweld raak as dit nodig is.”

Ouma val byna op haar rug. Haar oë straal.

“Regtig? O, maar dis wonderlik, Miempie! Ek het nie eens geweet jy het genoeg vuur in jou om jou te vererg nie, wat nog te praat van beduiweld word. O, gaaf! Gaaf!”

Die kierie gee ’n paar ingenome, vinnige kloppies op die mat. Sy het Marista nou net daar waar sy haar wou gehad het. Sy voel darem haar gewete so effens aan haar knaag dat sy hierdie kleinkind van haar so sleggesê het, maar as ’n mens nie sterk is nie, moet jy slim wees, troos sy haarself.

“Kom sit, kind, en klim af van jou perdjie. Jy kan nie sommer bel nie. Ons moet eers die saak bespreek.”

“Ek sien niks te bespreek nie. Ek bel om te vra of hulle nog ’n huishoudster wil hê, en as die betrekking nog nie gevul is nie, sê ek net ek is beskikbaar. Dis mos ál.”

“Dis nie ál nie. Jy weet niks nie,” laat tant Miemie bondig hoor. “Jy kan nie sommer net sê jy kom nie. Daardie Michael-broer van Lettie sal eers alle besonderhede wil hê. Ons moet eers ’n storie gereed kry.”

Marista frons. “Wat bedoel u met ’n storie?”

“Jy kan tog nie as Marista Minnaar daarheen gaan nie, mens. Gebruik tog jou verstand. Lettie sou tog seker al iets in verband met jou in haar briewe huis toe laat val het. As jy nou skielik moet aansoek doen om die betrekking as huishoudster, sal daardie Michael-kêrel sommer dadelik snuf in die neus kry. Na Lettie se vertellinge te oordeel, is hy nie ’n pampoen nie.”

Marista se frons verdiep. Dis waar. Dit is nie so eenvoudig soos wat sy aanvanklik gedink het nie. Tant Miemie se ogies flits lewendig. Nou is sy so in haar element. Die lewe het sommer weer interessant geword! “Ons sal vir jou ’n skuilnaam moet kry. Laat ek sien … Hoekom gebruik jy nie jou wettige naam nie? Wat is verkeerd met Miemie? Dit was my ouma s’n, en toe my ma s’n, en myne, en jou ma s’n en ook joune …”

“Ouma, ek het nie gesê daar skort iets met Miemie nie. Goed. Dan is ek Miemie.”

“O, ek wou net sê … jy kan my nooiensvan gebruik – Greyling. Dis ’n goeie, egte boerevan.”

“Dankie vir die vergunning.”

Tant Miemie kyk haar weer skerp aan. Die kind moenie met haar sarkasties raak nie. Sy besluit om dit liewer te ignoreer.

“Goed. Nou het jy ’n naam. Nou kan jy maar bel. Ek hoop tog nie daardie Michael-mens is moeilik nie. Lieg maar as hy baie uitvra.”

“Ouma!”

“Ja, toe nou maar, kind. Die doel heilig die middele. Jy gaan hulle mos help. Waarom sal hy dan vol fiemies wees?” Die kierie klop weer. “Toe nou, mens. Bel dat ons kan hoor.”

By die telefoon aarsel Marista nog. Hierdie ding is te vinnig beplan. Sy vertrou dit net nie. Maar onder ouma Miemie se wakende oog bespreek sy tog die oproep en terwyl sy nog byna hardop bid dat daar nie antwoord moet wees nie, of dat hulle reeds iemand het, kom die oproep deur. Tant Miemie staan hier digby haar sodat sy kan luister na wat gesê word.

“Duiwelskloof hier. Wie praat?” Marista lek oor haar droë lippe.

“Onthou jou naam is Miemie Greyling,” fluister Ouma so hard dat Marista vinnig haar hand oor die mondstuk moet plaas.

“Sjuut! Ouma praat te hard!” berispe sy fluisterend. Dan hardop: “Dis juffrou Greyling wat praat. Kan ek asseblief met meneer De Beer praat?”

“Dis hy wat praat, ten minste, een van hulle. Michael is buite by die stalle. Dis Johan de Beer wat praat.”

“Goed,” knik tant Miemie. “Dis die maklike een.”

“Meneer, ek bel in verband met die betrekking wat u adverteer. Is dit al gevul?”

“Nee. Nog nie, juffrou.”

“Ek stel … stel belang …” laat sy byna fluisterend hoor, en tant Miemie fluister weer gans te hard: “Praat harder, kind! Duiwelskloof is ver. Sê jy kan dadelik begin.”

“Ekskuus, juffrou. Ek kon nie mooi hoor nie,” klink die manstem aan die ander kant op.

“Ek stel belang in die … die betrekking, meneer.”

“O.” ’n Kort stiltetjie. Dan versigtig: “Hoe … verskoon my dat ek vra, juffrou, maar … hoe oud is u?”

“Sê hom jy is agt-en-dertig.”

“Ouma! Maar … hoekom?”

“Kind, dis twee ongetroude jongetjies daardie. Agt-en-dertig is eintlik ook nog te jonk, maar ons kan dit nie waag om ouer te sê nie. Toe! Toe! Hoor hoe ‘hallo’ die kind daar aan die ander kant!”

“Ouma, ek kan dit nie doen nie! Hulle sal mos sien ek is nie so oud nie!” protesteer Marista ontsteld, maar tant Miemie het natuurlik ’n antwoord gereed.

“Ek sal jou onder hande neem. Praat nou, Miempie! Die man is netnou af.”

“Ek is … agt-en-dertig, meneer.”

Aan die ander kant frons Johan de Beer. ’n Juffrou van agt-en-dertig. ’n Oujongnooi dus. Hy sug. Vir hom gans te oud, maar Michael sal die stuipe kry as hy moet hoor dis ’n ongetroude meisie en nog nie middeljarig nie. Daardie ouboet van hom het baie vaste idees omtrent wat reg en verkeerd is, of wat betaamlik en onbetaamlik is. Dan glimlag hy skielik. Michael gaan hom vermoor, maar hy gaan dit waag. Hy gaan die vroumens aanstel, kom wat wil.

“Hoe gou kan u begin, juffrou?”

Marista se mond raak droër terwyl tant Miemie behoorlik hier langs haar staan en ronddans van opgewondenheid.

“Sê hom net so gou as wat hy wil,” beveel sy.

“Ouma, maar …”

“Miempie, doen wat ek vir jou sê!”

“Hallo! Is u nog daar, juffrou?”

“Ja … e … so gou as wat nodig is, meneer.”

“Hoe gouer, hoe beter. Môre nog as dit kan. Ons sal u natuurlik vir die treinkaartjie vergoed wanneer u hier kom. Ek neem aan daar sal môre al ’n trein wees, nie waar nie?”

“Hy vra of daar môre al ’n trein is. Is daar? Ek weet niks van treine af nie.”

“Nee, ek weet nie, maar sê maar ja. Ons sal wel ’n plan maak.” Soos tant Miemie nou lyk, is sy blykbaar in staat om die Spoorweë se hele tydrooster omver te gooi as daar nie môre ’n trein na die Noorde loop nie.

Marista het die bewerasie in haar knieknoppe toe sy eindelik die gehoorbuis op die mikkie terugplaas. Sy sluit haar oë ’n oomblik. Dis seker net ’n droom. Maar op die agtergrond hoor sy die opgewonde kloppies van Ouma se kierie.

In Duiwelskloof se voorhuis heers ’n gespanne stilte.

Dis reeds ná donker, en Michael is nog altyd aan die gang. Eindelik hoor Johan die bekende, besliste voetstappe in die gang af kom en die volgende oomblik vul die groot, fors gestalte die deuropening. Hy sak in die eerste stoel neer en soek na sy pyp in die pyprakkie. Daar is spore van moegheid oor die streng gesig, en Johan se oë word sag. Hy werk te hard …

“Jy het nog nie geëet nie. Ou Sabien is al huis toe, maar sy het jou kos in die lou-oond gesit …”

“Ek is nie honger nie. Ek sal netnou net ’n koppie koffie drink.”

Johan sug onhoorbaar. ’n Man wat die hoeveelheid werk doen wat Michael op ’n dag verrig, behoort ’n goeie, voedsame bord kos te kry, maar hy neem hom ook nie kwalik as hy nie lus voel vir Sabien se brousel nie. Johan wil hom nie verder belas nie, maar dit kan nie anders nie. Hy sal dit die een of ander tyd moet hoor.

“Ek het toe vandag vir ons ’n huishoudster gekry,” laat hy so ongeërg moontlik hoor, bewus van sy broer se skerp oë wat onmiddellik opkyk.

“So?”

Johan aarsel. Dit klink nie juis bemoedigend nie. Hy is baie erg oor hierdie ouboet van hom, maar daar is een ding van Michael wat hom dwars in die krop steek. Hy glo dis net hý wat besluite kan neem.

“Ja,” vervolg hy moedig. “Hier het ’n juffrou Greyling uit Kaapstad gebel. Sy kan môre al kom.” Sy stem klink verdedigend. “Michael, ons sal nooit iemand kry nie. Niemand was nog goed genoeg vir jou nie. Toe het ek maar op die ingewing van die oomblik besluit om haar aan te stel. Sy klink nie te onaardig oor die foon nie.”

Michael het ’n geweldige frons tussen sy wenkbroue, maar hy probeer hom tot redelikheid maan. Die eensaamheid en alleenheid vreet Johan bedags op. Maar ’n ongetroude vrou?

“Hoe oud is die mens en waar kom sy vandaan?”

Dis die vrae wat Johan gevrees het en hy probeer hulle so goed moontlik omseil. “Sy is van Kaapstad, natuurlik. Dis waarvandaan sy gebel het. Ek neem maar aan sy is ook oorspronklik van daar. Haar van is Greyling, en sy klink heeltemal Afrikaans en … wel, soos een van ons mense.”

Sy ouboet snork. “Liewe Johan, hoe kan jy bloot op grond van iemand se stem oordeel of sy een van ons mense is en of sy haar by ons sal inpas en aanpas? Moenie laf wees nie.” Johan begin net gerus voel toe hy voortgaan. “Hoe oud het jy gesê is sy?”

“E … ek het nog nie gesê nie. Sy is agt-en-dertig … ’n regte verstokte oujongnooi.”

“O?” Die groen oë van Michael de Beer begin liggies uitskiet. “Dan is sy maar net vyf jaar ouer as ek en ek beskou myself nog nie as ’n verstokte oujongkêrel nie. Of is dit hoe ek vir jou voorkom?”

“Nee, natuurlik nie,” verweer Johan vinnig. “Maar ’n vrou van agt-en-dertig is al stokoud en … wel, oor die muur, dan nie? Hulle sê mos ’n vrou word baie gouer oud en gedaan as ’n man, of hoe?”

Die voorhuis word meteens gevul deur Michael se seldsame, hartlike lag en Johan bloos verleë. Deksels! Wat karring Michael so onnodig!

“Ek het nie soveel kennis soos jy van die teenoorgestelde geslag nie, maar … Goed, Johan, dis nie nodig om jou te vererg nie. Ek trek maar jou been. Dan is sy agt-en-dertig. Wat nog?”

“Hemel, Michael, soos jy darem te kere kan gaan! Ek weet verder niks van haar af nie. Ek sou niks wyser geword het as ek haar om haar familieregister gevra het nie, of hoe? Het jy dan geen vertroue in jou medemens nie?”

Michael trek driftig ’n vuurhoutjie.

“Dis nie ter sake nie, maar ek is effens langer in die wêreld as jy, kleinboet. Die vrou wat ons aanstel, moet ook geselskap vir jou wees. Julle sal heeldag alleen saam in een huis wees. Ek wil maar net hê dat dit iemand sal wees met wie jy darem ’n intelligente gesprek kan voer. Maar jy is heeltemal reg. Ek vertrou nie die mensdom so geredelik nie. Ek het al geleer jy word in die rug gesteek en die maklikste bedrieg wanneer jy dit die minste verwag. Dis juis wanneer alles so in orde lyk, dat jy in jou pasoppens moet wees. Maar ek sal hierdie keer bes gee. Ek sal aanvaar dat jy hierdie keer die regte besluit geneem het en die regte aanstelling gedoen het. Ons kan nie so aangaan nie. Jy moet haar maar in kennis stel dat sy die pos gekry het en dat sy die einde van die maand kan begin. Ek sal môre reël dat haar treinkaartjie vir haar gestuur word. Het jy haar adres gevra?”

“Nee, ek …” Hy bloos weer effens. “Sy het gesê sy kan dadelik begin, en ek het toe gesê sy moet môre al op die trein klim. Ons kan haar maar vir die kaartjie vergoed wanneer sy hier kom.”

Die despoot van Duiwelskloof

Подняться наверх