Читать книгу Elders - Erns Grundling - Страница 7

7:28 vm. op Sondag 3 Mei 2015
Kaapstad Internasionale Lughawe

Оглавление

WhatsApp aan Sophia

Dankie vir die mooi boodskap. Troue was heerlik, maar nou ja, ek was toe moer toe moeg en klim met Slagtersnek op die vliegtuig. Ek gaan hom file van Doha na Parys, my laptop in ’n asdrom gooi en Camino toe gaan. I’ve had enough. En dis glad nie die werk of iemand daar se skuld nie. Ek was lanklaas in so ’n bad space, maar nou ja, dalk is dit goed vir als wat voorlê. Weer eens dankie vir jou support, jirlikheid, veral gister. Al waarvoor ek nou kan hoop is dat hierdie totale kakspul die Camino net soveel meer meaningful maak. Ag ek gaan nou ophou moan, soos Bun Booyens Sr. vir Dok Craven ná ’n verloorgame gesê het: “Kners met die agterstes en smile met die voorstes.” This too shall pass.

* * *

My ma sê ons Grundlings daag dikwels iewers op met sulke plat ore, soos hase. Want dit is altyd ’n bleddie gejaag en gespartel. Vanoggend is ek die platoorste haas op die lughawe, moeg en verward en skuins bedonnerd en sukkelend met my swaar rooi K-Way 35 liter-rugsak. My boggel vir die volgende ses weke.

Ek sweet van stres en gisteraand se wyn. Ek was strooijonker en terloopse videograaf by my vriend Le Roux se troue buite Stellenbosch op ’n plaas langs die Polkadraaipad. ’n Mooi en gesellige Bolandse bruilof, maar ek het daarna nie ’n oog toegemaak nie.

Ek moes waaragtig ná die troue – letterlik op die vooraand van my Camino – sit en sukkel met ’n Weg-artikel wat nie klaar is nie. ’n Artikel oor die Slagtersnek-rebellie van 1815.

Een van die trougaste het die selfsorghuisie met my gedeel. Hy was taamlik gekoring en het in die middernagtelike ure eers ’n wydlopende gesprek op sy selfoon gehad. “I’m feeling very randy now, honey.” ’n Ruk later het hy in die huis rondgestap en byna soos ’n mantra herhaal: “It’s a fuckin’ breakdown in communication.”

Ek het teen halfvier die oggend besef wat ek al dae lank geweet het: Ek gaan nie betyds die Slagtersnek-artikel file en stuur voor my broer my om sewe-uur gaan kom optel en lughawe toe neem nie. Die trougas was nog wakker en ons het toe saam voor die TV gaan sit om die boksgeveg tussen Floyd Mayweather en Manny Pacquiao te kyk. Dit is vooraf besing as “The Fight of the Century” maar is, soos met baie dinge, ’n moerse antiklimaks.

Die Bag Wrap-masjien draai my rugsak in dik plastiek toe, die twee stapstokke steek soos kort kieries aan weerskante uit. Die situasie is volledig absurd. My vriend Le Roux sê dikwels: “The lonely places we take ourselves.”

* * *

“Op Slagtersnek staan ’n ereboog wat swarte skaduwees werp op die pad van Suid-Afrika.”

– C.J. Langenhoven

* * *

Qatar Airways vlug QR 1370 styg op. Ek sien Valsbaai vir oulaas deur die venster, voor die vliegtuig stadig draai, noorde toe. As alles volgens plan verloop, sien ek die Atlantiese Oseaan eers weer oor sowat vyf weke, iewers naby aan Finisterre in die weste van Spanje. Op my skoot lê ’n drasakkie met enkele items: my beursie, sonbril, notaboekie, ’n pen, selfoon, verskeie muurproppe en klein Samsung N150 Plus laptop (eintlik ’n netbook). En J.C. van der Walt se boek Rebels of Slagtersnek 1815. Die iPhone en laptop irriteer my die meeste – dit is nie veronderstel om saam met my op hierdie reis te wees nie. ’n Stem maak aankondigings in Arabies en Engels. Die veiligheidsgordelliggies skakel af. Al wat in my gedagtes maal, is ’n hartsbegeerte om my foon en laptop sonder seremonie in ’n vullisdrom op Charles de Gaulle te bliksem. En dan ongeërg weg te stap asof ek ’n lemoenskil of KitKat-papiertjie weggegooi het. Maar eers moet die werk klaarkom. Ek sit verstom oor hoe ou patrone my opnuut pootjie. Sal ou patrone ons ooit vergeet?

* * *

Die laaste keer toe ek betyds vir iets opgedaag het, was by my geboorte. Eintlik is ek heeltemal te vroeg gebore, op twee en dertig weke. My geboorte was moeilik. My ma het nierstuipe gehad en by die dood omgedraai. Toe sy vir die dokter sê sy wil ’n seuntjie hê, was sy antwoord: “Jong, jy moet eerder net hoop jý kom lewendig hier uit.” Die ginekoloog het ’n ander benadering gehad: “Hierdie kind gaan óf staatspresident óf die grootste kroek word.” Lyk my jy kan deesdae wegkom met albei.

My ouma Charlotte Rens was ’n waardige en diepgelowige vrou. Sy het my in later jare vertel hoe sy tydens my geboorte in die parkeerterrein gesit het en oor en oor dieselfde teksvers uit Jakobus gelees het: “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel, want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.”

En nou, vyf en dertig jaar later, en twintig jaar ná my ouma se dood, vertrek ek – ’n volslae twyfelaar – op ’n pelgrimstog wat eindig by die katedraal in Santiago de Compostela waar die einste apostel glo begrawe is.

* * *

Douglas Adams het geskryf: “I love deadlines. I love the whooshing noise they make as they go by.”

Daardie whoosh-geluid ken ek goed. Ek verpes ’n sperdatum, dit is iets wat nooit weggaan nie. En ek is lief daarvoor om sperdatums te toets en te tart. Daar moet ’n tipe arrogansie onderliggend hieraan wees, iets wat ’n mens nie graag hardop erken nie. Of ’n totale onbeholpenheid met tydsbestuur. Miskien ’n bietjie van albei. Ek is nie presies seker waar dit begin het nie. My laerskool, die Laerskool Handhaaf op Uitenhage, se leuse was nogal “Doen dit nou.” (Dit was jare voor Nike …)

In my eerstejaar by die destydse Universiteit van Port Elizabeth het ek besef my probleem met uitstellery ruk hand uit. Ek het in die sielkunde-afdeling van die biblioteek gaan rondkrap en op die boek Overcoming Procrastination deur Albert Ellis afgekom. So ’n kompakte boekie met ’n pers omslag. Vir jou gaan ek lees, het ek gedink en die boek tuis op my boekrak gebêre.

Elke oggend het ek verby die boek gestap, daarna gekyk en gedink: Vir jou gaan ek lees. Uiteindelik het ek die boek, ongelees en twee maande laat, met my stert ferm tussen my bene by die biblioteek gaan ingee. En ’n moerse boete betaal.

* * *

Laaste Facebook-inskrywing op 2 Mei voor my vertrek

I’m going off the grid for a while. Into the mild. Ek vlieg oormôre Europa toe en gaan die Camino Francés stap, rofweg nege honderd kilometer oor veertig dae van Saint-Jean-Pied-de-Port in Frankryk tot by Santiago de Compostela en dan tot by die see by Finisterre in die noordweste van Spanje. Dis rofweg die plan. Ek los my selfoon agter in die Kaap, dis tyd vir ’n digitale detox en radikale kopskoonmaak. Of soos Toast Coetzer gesê het: “One man against himself.” Ek sal seker eers met my terugkeer later in Juniemaand weer op Facebook incheck. Tot dan, adios! #intothemild

* * *

One man against himself. Toast, ’n groot vriend en vertroueling en my buurman in die oopplankantoor by Weg, ken my goed.

Vir ’n ongeneeslike ekstrovert met ’n tipe teddiebeer-persona, kan ek buitengewoon hard wees op myself, veral in my stiltes. Dra ons nie maar almal verskillende teenstrydighede in ons rond nie? Met maskers wat soms so moeiteloos oor ons gesigte glip? Tot op die punt waar jy self sukkel om te onderskei tussen masker en mens.

Walt Whitman het geskryf: “Do I contradict myself? Very well then I contradict myself. (I am large, I contain multitudes.)”

Ek spot dikwels dat ek niemand anders nodig het om my ’n harde tyd te gee nie, ek doen dit graag self. Gee my net ’n spieël en ek verklaar oorlog teen my grootste vyand.

* * *

Op die klein TV-skerms in die vliegtuig flikker die eerste Batman-fliek, episodes van The Big Bang Theory, onpeilbare Bollywood-treffers, ’n gholfspeletjie en die GPS-kaart van ons vlugroete, nou maar nog iewers bo die Groot-Karoo.

Tyd vir ’n gin and tonic. Ek het my eerste G&T op altitude gedrink in Augustus 2001, toe ek die Big Brother eviction in Johannesburg vir Die Burger Oos-Kaap gaan dek het. Dit was die begindae van realiteitstelevisie – dit bly vir my ’n vreemde gedagte hoe die publiek én joernaliste op hol gegaan het oor Ferdi en Brad se intriges in die tuin. “S.A. loer in die stort” het een van die koerantplakkate op lamppale langs William Moffett-weg in Port Elizabeth geadverteer.

Die vlug was oorvol, dit was dieselfde naweek as Govan Mbeki se begrafnis. In ’n verrassende wending is ek opgegradeer na besigheidsklas. Soos dit ’n student betaam (ek het toe nog geswot én gevryskut by Die Burger) wat steeds met sy voet ferm in die slagyster van laat-adolessensie sit, het ek ingeklim in die gin and tonics, en my derde een bestel nog voor die vliegtuig by Cradock verby is.

So raak ek toe aan die gesels met die passasier langs my, wat ’n TopSport-toksak by hom gedra het. Ek sien hom toe vir ’n TV-aanbieder aan en begin met groot stelligheid uitvaar oor hoe pateties die SAUK se nuusdekking is. Hy het meestal net geluister, ek het hom nie juis ’n spreekbeurt gegee nie.

’n Maand later sien ek hom weer by die Vodacom-toekennings in Port Elizabeth. Hy was toe al die tyd Phil Molefe, die hoofbeoordelaar, en die nuushoof van die SAUK …

* * *

Die vliegtuig is nie tjok-en-blok vol nie, ek sit teenaan die venster met twee oop sitplekke langs my. Daar lê twee dae se harde reis voor om die beginpunt van my Camino, die Franse dorpie Saint-Jean-Pied-de-Port aan die voet van die Pireneë, te bereik:

•Eers moet ek die nege uur lange vlug na Doha in Katar agter die rug kry.

•Dan wag daar ’n deurnagsessie op Katar se nuwe lughawe, voor ek ’n sewe uur lange vlug na Parys aflê.

•In Parys gekom, volg ’n trein- en taxirit tot by die Gare d’Austerlitz.

•Dan neem ek ’n oornagtrein in ’n klein kajuit met ses beddens na Bayonne, naby Biarritz in die suide van Frankryk.

•In Bayonne wag ’n trein wat ’n uur later sal stop in Saint-Jean-Pied-de-Port.

* * *

’n Toneel uit die fliek 500 Days of Summer vat een van die groot struikelblokke in my lewe goed vas. Die manlike hoofkarakter daag op by ’n partytjie van sy eks-meisie, oor wie hy steeds baie sterk voel. Die skerm deel dan in twee, en dieselfde toneel speel in albei af, een met die opskrif “Expectations” en die ander “Reality”. In die “Expectations”-skerm groet sy eks-meisie hom hartlik, hulle stap met die trappe op na die boonste dek en lag en gesels. Helaas, in die “Reality”-skerm is sy steeds vriendelik, maar sy hou hom op ’n afstand en hy hoor op die boonste dek sy is verloof aan iemand anders. Die twee tonele speel gelyk af, terwyl Regina Spektor se onthutsende ballade “Hero” speel. “I’m the hero of the story / Don’t need to be saved.”

Hier op die vliegtuig word ek direk met daardie twee skerms gekonfronteer. In die “Expectations”-skerm sit ek nou rustig agteroor, bestel nog ’n G&T, en doen presies waarvoor ek lus is: Kyk ’n fliek, speel ’n lawwe speletjie, hou passasiers dop, haal ure se verlore slaap in of skryf ’n paar sober en helder gedagtes in my Moleskine-dagboek oor hierdie lewensreis wat voorlê. Jinne, mediteer selfs.

Helaas, in die “Reality”-skerm is ek ’n volslae angshaas met ’n nag se slaap agter, besig om myself tot op die tiende desimaal te kasty oor ek nie die Weg-artikel oor Slagtersnek voor my vertrek ingehandig het, soos ek plegtig belowe het nie. En dit is nie die eerste keer dat so iets gebeur het nie.

Sal ou patrone ons ooit vergeet?

* * *

“Our lived lives might become a protracted mourning for, or an endless tantrum about, the lives we were unable to live. But the exemptions we suffer, whether forced or chosen, make us who we are.”

– Adam Phillips, psigoanalis

* * *

Diep in die Boeing se maag lê my rooi K-Way-rugsak, styf toegedraai in Bag Wrap-plastiek.

Die destydse RSG-omroeper Fonnie du Plooy het my jare gelede gebel om ’n radio-onderhoud vas te maak. Toe ek vir Fonnie vra wat sal gebeur as hy sy dagboek sou verloor, het hy in sy superbeleefde, bedaarde stemtoon geantwoord: “Dan, Erns, is ek in my moer.”

Sou my rugsak wegraak tussen hier en Parys, sal ek ook onteenseglik in my moer wees, Fonnie.

* * *

Ek dra reeds my stapklere op die vliegtuig: ’n K-Way-fleece, ’n langmou K-Way-hemp, ’n K-Way-langbroek (my enigste stapbroek, jy kan die broekspype afzip, sou jy wou), ’n paar swart sokkies en blinknuwe Salomon trail running-skoene. Ek het hulle in ’n Britse grootte 10 gekoop. Gewoonlik dra ek ’n nommer 9, maar ’n mens se voete swel glo tydens so ’n lang staptog.

Die inhoud van my rooi K-Way-rugsak:

•Twee “onpaar” K-Way-stapstokke. Die grys een het ek in September 2006 op Kilimandjaro gebruik en die oranje een in Julie 2013 in die Visriviercanyon.

•’n K-Way Chamonix 850 Eco-slaapsak, wat slegs 850 gram weeg. Die “Recommended Sleep Zone” is tussen 3 °C en 15 °C. Dit is lente in Europa, ek behoort glad nie koud te kry nie.

•’n Tipe laken, klein opgevou en in ’n Ziploc-sakkie. Nie so warm soos die slaapsak nie, maar jy kan daarin “klim”. Ek leen dit by my vriendin Sarie wat al tevore die Camino gestap het.

•’n Reëndigte K-Way-langbroek, laas in 2006 gekoop – en waarskynlik toe laas gedra – voor ek Kilimandjaro gaan klim het.

•’n Ligte reëndigte jas, met Solo-parfuum se handelsmerk op. Geen idee waar ek dit gekry het nie.

•Thermal Underwear – langmouhemp en -broek (Dalk oorbodig want dis nie winter nie, maar die weer kan glo vinnig draai.)

•Een grys K-Way-kortbroek (om saans te dra)

•Een gym-/drafbroek

•Een ekstra K-Way-langbroek

•Een grys T-hemp met die Ons Klyntji-logo op (om saans te dra)

•’n Kompakte K-Way-handdoek wat vinnig droog raak.

•’n Laphoed

•Twee ekstra paar sokkies

•Hopelik ’n troefkaart: drie enkelhoë sykoussokkies, om as eerste laag te dra wanneer ek stap

•Twee ekstra onderbroeke

•Twee sakdoeke

•Twee Lycra tights – een van hulle is my woonstelmaat, Magriet, se ou fietsry-tights …

•Een paar Reef-plakkies, wat al taamlik deurgetrap is.

•’n Swart sak, nog so ’n weggooibare plastieksak wat jy as ’n interim-reënjas kan gebruik, en sewe leë Ziploc-sakkies van verskillende groottes.

•Binne-in ’n groot Ziploc-sak, agter my klere: twee Moleskine-joernale vir dagboek hou, twee penne (een gewone Bic, die ander ’n meer deftige model met Cricket SA se logo op, by my oom gekry – nugter weet waarom ek met so ’n smart pen wil reis), ’n kompakte geel boekie, Globetrotter se Spanish in Your Pocket (Phrase Book and Two-Way Dictionary), John Brierley se A Pilgrim’s Guide to the Camino de Santiago (basies die Bybel vir derduisende stappers elke jaar) en dieselfde Brierley se A Pilgrim’s Guide to the Camino Finisterre.

•’n Waterdigte toiletsak met die volgende items: ’n nuwe Oral-B-tandeborsel in ’n houertjie, klein Colgate-tandepasta, my sonbril in ’n brilhuisie, twee klein botteltjies volgemaak met Radox Shower Gel, vyftig milliliter Nivea Roll-on-deodorant, twee honderd milliliter Nivea Sun-sonbrandolie (faktor vyftig), vyftig milliliter Vaseline, honderd en twintig milliliter Proglyde Anti Chafe Cream, ’n strook Elastoplast-pleisters, Bactroban-salf, ’n strokie met vyf Imodium-tablette teen diarree, ’n strokie met vyf Valoids teen naarheid, een bottel Nexomist-neussproei teen allergieë. En twee en twintig Provent-pleisters om my hopelik te help om slaap-apnee hok te slaan.

•Nog ’n klein sakkie: ’n rooi Victorinox-knipmes met die woorde “INTO THE MILD” daarop gegraveer (’n geskenk van vriende), ’n garetolletjie met ses skoon naalde (as dit sulke tyd met blase raak), ’n kopliggie, twee karabynhake om goed aan te hang, vier ekstra AAA-batterye, naelknipper en ’n blou spork (vurk/mes/lepel-kombinasie).

•Laaste Ziploc-sakkie: ’n botteltjie met vloeibare wasmiddel, ’n boksie Omo-waspoeier, ’n prop (om wasgoed te was), agt wasgoedpennetjies.

•’n Koffiebeker

•’n Honderdgram-pakkie rou amandels, honderd en vyftig gram biltong, twee pakkies energiejellies

•’n Eenliter-Laken-waterbottel

•Vyftig Weg-besigheidskaartjies

•My Credencial del Peregrino, of Pilgrim Record, wat ek vooraf bestel het by The Confraternity of Saint James South Africa.

Die rugsak het elf komma vier kilogram geweeg op Kaapstad se lughawe. Dit mag dalk nie te swaar klink nie, maar met sowat twee liter water by, kan dit by veertien kilogram gaan draai.

’n Vreemde vooruitsig om oor veertig dae en meer as agt honderd kilometer die ekwivalent van ’n kleuter op my rug saam te dra.

* * *

Ek het reeds in 2004 die eerste keer van die Camino gehoor. Ek het een Sondagmiddag taamlik angstig gesit (angstig omdat ek besig was om ’n magdom werk uit te stel) by die aanlynjoernaal, LitNet, se kantoor bokant die Spur op Stellenbosch en op die Brasiliaanse skrywer Paulo Coelho se webwerf rondgeblaai.

Ek vind toe kontakbesonderhede vir sy uitgewer en tik ’n voortvarende e-pos om te hoor of ek dalk vir Paulo ’n paar vrae per e-pos kan stuur. Sy roman Eleven Minutes het pas verskyn en ’n Afrikaanse vertaling van sy wêreldwye topverkoper The Alchemist was ook op die rakke.

Gewoonlik stuur ’n mens so ’n e-pos en hoor niks nie. Net nog ’n versoek om ’n onderhoud uit ’n obskure hoek van die wêreld. Die volgende oggend was daar egter ’n antwoord van sy uitgewer: “Paulo Coelho is op die oomblik op vakansie langs die Franse Riviera en sal verkies om eerder ’n telefoononderhoud toe te staan. Hy is Dinsdagmiddag van 14:00 tot 14:20 beskikbaar. Hier is sy nommer …”

Ek het byna begin hiperventileer toe ek die e-pos lees. Die Maandagnag nie ’n oog toegemaak nie en gesit en vrae uitwerk. Ek kon ’n speaker phone by ’n vriendin se ouers leen om die onderhoud op te neem. Paulo was op sy gemak, vriendelik en uiters vrygewig met sy tyd – ons het op die ou end langer as ’n halfuur gesels.

Op my laaste vraag aan hom oor hoe hy graag eendag onthou sal wil word, het hy geantwoord: “As someone who died while he was alive. I’m going to be cremated and my ashes will be spread on the Santiago pilgrim’s road. But if I had an epitaph or something written on a tombstone it would be: ‘He died while he was alive.’ Because I see so many people who die before death arrives. They consider doing everything, they breathe, they eat, they make love … but they’ve lost their enthusiasm towards life. So I would like to be remembered as someone who died while he was alive.”

* * *

The Santiago pilgrim’s road … Paulo Coelho se laaste antwoord het my destyds gelei na die ontdekking van die Camino, die pelgrimstog wat al sedert die negende eeu na die katedraal in die dorpie Santiago de Compostela lei, waar die dissipel Jakobus glo begrawe lê.

Jakobus, in die Bybel ’n “broer van Jesus” genoem (hulle was wel nie bloedfamilie nie), het glo ’n paar jaar ná Jesus se kruisiging (én hemelvaart, afhangende van hoe ’n mens glo) in Galicië, Spanje, kom sendingwerk doen.

John Brierley vertel in sy gidsboek daar is geen historiese bewyse om hierdie bewerings te staaf nie. ’n Mens kan hoogstens op anekdotiese vertellings staatmaak.

Gestel Jakobus was inderdaad in Spanje, sou hy een van die eerste dissipels wees wat werklik aan Jesus se opdrag, soos vervat in Matteus 28:19, gehoor gegee het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Die noordweste van Spanje was in daardie jare (ongeveer veertig na Christus) ’n hartland van die paganiste – met Finisterre by die see ’n tipe hoofkwartier met klipaltare, rituele en inisiasies. Die tipe plek waar Getafix the Druid van die Asterix-boeke sou tuishoort.

Finisterre (in Latyn beteken Finis Terra “end of the Earth”) was waarskynlik een van die plekke waar Jakobus met mening probeer het om die pagans tot die Man van Nasaret se boodskap te bekeer. Volgens oorlewering – en hier kry jy te doen met ’n byna soomlose kombinasie van feit, verdigsel en Katolieke mistisisme – het Jakobus sy rieme styf geloop met die paganiste in Finisterre en het hy uitgewyk na die klein vissersdorpie Muxía, sowat dertig kilometer oos. By Muxía het hy op ’n rots gaan sit en sy wonde gelek, toe die Maagd Maria eensklaps op ’n klein seilbootjie aan hom verskyn. Sy het hom getroos en aangemoedig om inderhaas terug te keer na Jerusalem. Direk na haar verskyning het die bootjie se seil versteen in ’n rots, wat vandag nog daar staan.

Jakobus het Maria se raad gevolg en is reguit Jerusalem toe, waar hy terstond in vier en veertig na Christus deur koning Herodus onthoof is. So het Jakobus die eerste martelaar in Christus geword. Het Herodus ooit iets anders gedoen as babas doodmaak en mense onthoof?

Omdat Jakobus, ondanks sy mislukte pogings om die paganiste tot ander insigte te bring, baie lief was vir Spanje, het ’n paar volgelinge sy oorskot op ’n boot teruggebring om by Finisterre te begrawe. Die paganiste was nie te vinde hiervoor nie en die volgelinge moes na die binneland vlug, waar hulle Jakobus iewers begrawe het.

Byna agt eeue later, in die jaar 813 of 814, het ’n herder genaamd Pelayo of Pelagius ’n visioen van ’n helder ster gekry wat hom gelei het na die plek waar Jakobus glo begrawe is. Dit is hier waar die katedraal later gebou is en waaraan die dorpie Santiago de Compostela sy ontstaan te danke het. Die dorp se naam vertel die storie: Santo Iago (Heilige Jakobus), Compos (veld), Stella (sterre). Jakobus is ook die beskermheilige van Spanje.

Die eerste opgetekende rekord van ’n pelgrim wat die Camino gestap het, dateer uit die jaar 940. In die daaropvolgende eeue het tienduisende mense elke jaar van verskeie uithoeke in Europa gestap om hulde te gaan betoon by Jakobus se graf, en in die proses vergifnis te kry vir hul sondes. Die Camino begin by jou voordeur, die oomblik wat jy een voet oor die drempel sit.

Daar was glo ook geforseerde pelgrimstogte: In plaas van tronkstraf moes sommige veroordeeldes die Camino gaan stap. Jy kon selfs jou Camino “delegeer” en iemand anders stuur om te gaan stap en namens jou vergifnis by Santiago de Compostela te ontvang.

Die Camino het só gegroei dat dit die ander twee bekende en antieke Christelike pelgrimstogte – dié na Jerusalem en Rome – in gewildheid begin oorskadu het.

Brierley vertel dat die aanvanklike groei gesien moet word teen die agtergrond van die Katolieke Kerk se poging om hulle in die vroeë Middeleeue in Spanje te vestig, veral nadat die More tydens die Kruistogte verdryf is.

Ook hier het die apostel Jakobus ’n mitiese – en omstrede – rol gespeel: Hy staan in Spanje bekend as Santiago Matamoros (Saint James the Moor-slayer). Volgens die legende het die apostel op ’n wit perd verskyn tydens die Slag van Clavijo en ’n oormag More met sy swaard verbrysel.

Van Melkweg tot More … dit bly ’n magiese verhaal wat miljoene mense se verbeelding vandag steeds aangryp.

* * *

9 Maart 1816: 5 rebelle gehang … net Stephanus Cornelis Bothma se tou het nie gebreek nie … aanklaer Jacob Glen Cuyler … . “It will perhaps be a satisfaction to His Excellency to hear the prisoners one and all died fully resigned to their fate …”

10 Oktober 1815 … “ruffian” … Frederik Cornelis (Freek) Bezuidenhout (55) van die plaas Baviaansrivier … nou Silverbrook (Johan Troskie) weier om gearresteer te word, plaas in Baviaansrivier … geskiet op Pandoers … shot and killed, weggekruip in rock crevasse.

My rowwe notas oor die Slagtersnek-rebellie ruk hand uit op my irriterende klein Samsung Netbook se skermpie.

Ek kan nie ophou dink aan die genoegdoening wat ek gaan ervaar wanneer ek die laptop en foon op Charles de Gaulle wegsmyt nie. Dit is absurd om hier in die lug, op pad na die langste vakansie van my lewe, ná al die brandende hoepels waardeur ek die afgelope paar maande moes spring, wragtig te sit met ’n artikel wat nog nie klaar is nie. Dit is om van sertifiseerbaar mal te word.

Bun Booyens, my eerste redakteur by Weg, het een oggend tydens ’n praatjie by die KKNK vertel hoe sy joernaliste se skryfstyle verskil. Toast Coetzer se woorde vloei soos ’n waterval, en Bun kry altyd die idee hy skryf sommer terwyl hy met sy knieë bestuur en met die ander hand ’n KFC Rounder eet. Dana Snyman is weer soos ’n kat wat kleintjies kry. Jy moet hom versigtig benader, nie te naby kom nie, maar eerder jou afstand hou en as jy weer so kyk is daar ’n mooi geboorte.

En ek? Erns sit voor die laptop soos ’n hond wat gif ingekry het …

* * *

Ek swig ondanks (of dalk weens) die werksdruk voor die in-flight-vermaak se skermpie. Die laptop se battery gaan dit in elk geval nie maak tot in Doha nie – ek sal maar op die lughawe tydens die agt uur lange stopover die een of ander plan met Slagtersnek moet bewimpel.

Ek scroll deur die flieks. My oog vang Wild (2014), die film met Reese Witherspoon in die hoofrol, gebaseer op die topverkoperboek met dieselfde titel deur Cheryl Strayed.

Wild vertel die verhaal van Cheryl se epiese solo-staptog langs die Pacific Crest Trail in die VSA. Sy het byna een duisend agt honderd kilometer alleen afgelê in vier en negentig dae, met weinig stapervaring en oneindig meer bagasie as dit wat sy in haar groot rugsak saamdra.

Haar staptog begin in die Mojave-woestyn in die suide van Kalifornië. Sy kry tydens die stap voortdurend terugflitse na haar kinderjare, haar ma se dood, rowwe seks met vreemdelinge en ’n heroïenfase daarby. O ja, ook die verbrokkeling van haar huwelik én ’n aborsie. ’n Mens wil amper vir haar soos in ’n cartoon uit die New Yorker vra: “Other than that, Mrs. Kennedy, how was your trip to Dallas?”

Die film is besonder inspirerend. Ek kan nie anders as om verskeie raakpunte tussen Strayed se storie en my eie komende staptog te vind nie.

Kyk, ek voorsien nie ek gaan nodig hê om dou van ’n tent af te lek omdat ek geen water het nie, of so lank soos sy gaan moet stap sonder om ’n enkele ander siel te sien nie. Daarvoor is die Camino gans te gewild: My gidsboek verklaar daar het in 2014 presies 237 886 pelgrims by Santiago de Compostela opgedaag. Hiervan het 161 994 die Camino Francés, dieselfde roete wat ek gaan aanpak, gevolg.

Maar nes Strayed het ek ook baie bagasie waarvan ek graag ontslae wil raak. Fisiek en emosioneel. Bagasie wat my al baie lank baie besig hou, waaraan ek nie noodwendig wil dink nie, maar wat altyd onder die oppervlak skuil. Die krake in die “room beneath the floor”, soos die psigoanalis James Hollis na die onbewuste verwys. Want kyk, ek dink nie ’n mens besluit sonder rede(s) om ses weke verlof in te sit en stoksielalleen deur Spanje met ’n rugsak te gaan stap sonder ’n selfoon, horlosie of kamera nie.

Ek pen so tussen die Slagtersnek-notas enkele aanhalings uit die fliek neer, veral wanneer sy na vele uitdagings, krisisse en avonture die eindpunt by the Bridge of the Gods op die Oregon-Washington grens bereik:

•“There is no way to know what makes one thing happen, and not another. What leads to what. What destroys what. What causes what to flourish, or die, or take another course? What if I forgive myself? What if I was sorry?”

•“We are never prepared for what we expect.”

•“After I lost myself in the wilderness of my grief, I found my own way out of the woods. Thank you … for everything the trail had taught me and everything I couldn’t yet know.”

•“It was my life – like all lives, mysterious and irrevocable and sacred. So very close, so very present, so very belonging to me. How wild it was, to let it be.”

* * *

Met watter gedagtes en gewaarwordinge gaan ek oor ongeveer veertig dae by die katedraal in Santiago de Compostela opdaag? Of eerstens: Gaan ek dit tot daar maak?

Kom ons sit eers die ooglopende sielkundige uitdagings, wat op sigself ’n katnes is, opsy. Vier fisieke dinge spook pal by my:

1. Ek is op twee en negentig kilogram erg oorgewig.

My body mass index (BMI) is ’n steierende 31,1 – dus is ek tegnies vetsugtig. ’n Bietjie soos die titel van ’n Valiant-song: Diknek en kleintandjies. So dit gaan maar sukkel teen die Pireneë uit op Dag Een. Daar was mooi voornemens en plannetjies om die Camino aansienlik ligter aan te pak, maar helaas. Dit is ’n bose kringloop – ek is ’n emosionele eter en probeer gereeld my kieste vol stop om angs hok te slaan.

2. Ek is onfiks.

Die storie wat ek myself aanhoudend probeer vertel, is een wat Dana Snyman op ’n keer in ’n Weg-artikel oor plattelandse rugby opgeteken het. Van die boer wat ’n ent buite die dorp woon en nie weeksdae heen en weer ry vir die oefeninge saam met die dorpspan nie, want hy “boer” homself fiks. Ek hoop maar ek kan myself ook fiks stap op die Camino.

3. Ek is beseer.

Kan mos niks met ’n mate van balans aanpak nie. Dis voluit of fokol – ek het al gedink dit kan ’n gepaste grafskrif wees. Op 2 Januarie vanjaar het ek Skeleton Gorge bokant Kirstenbosch uitgeklim, ’n ruk by die boonste reservoirs vertoef en toe soos ’n wafferse klipspringer – ondanks my liggaamsbou wat meer soos dié van ’n jong renosterbulletjie vertoon – in die Gorge afgetrippel. Die volgende oggend het my regterknie begin knor, soveel so dat ek dit nie kon buig sonder om ’n steekpyn te voel nie. Verskeie fisioterapiesessies en Pilates-klasse het gevolg, en akupunktuurnaalde van my knie tot by my heup. Later het ek selfs by ’n ortopeed gaan draai, wat my ná x-strale met “tendinopathy” gediagnoseer het. Dit was tien dae gelede. Die ortopeed het goeie en slegte nuus gehad. Slegte nuus: Ek gaan sonder twyfel pyn ervaar in my knie, veral wanneer ek trappe of steiltes uitklim. Goeie nuus: Ek behoort nie my knie verder op te mors as wat dit reeds is nie, veral as ek dinge van meet af aan rustig vat en gereeld strek. En hy het selfs beweer dat my knie kan begin herstel danksy al die oefening.

Ek is erg onrustig hieroor. In September 2006 het ek – ook taamlik onfiks – met die laaste stuiptrekkings van ’n lugweginfeksie na Tanzanië vertrek om Kilimandjaro te gaan uitklim. Met so ’n lastige hoesie op die vliegtuig geklim, wat toe net erger geraak het. Ek weet nie of dit verband hou met die gevreesde hoogtesiekte nie, maar dit het sekerlik nie gehelp nie. Ná vier dae was ek só siek dat ek die aftog moes blaas, skaars negentig minute se stap van die base camp van waar ek die laaste stuk sou klim. Dit was ’n geweldige teleurstelling om nie ’n sonsopkoms op die dak van Afrika te kon beleef nie.

4. Ek het ernstige slaap-apnee.

In Februarie vanjaar het ek vir ’n slaapstudie by ’n kliniek in Kaapstad gegaan. My pa is ’n ruk tevore gediagnoseer met slaap-apnee en gebruik nou snags ’n CPAP-masjien – ’n duur besigheid van by die twintig duisend rand met ’n masker wat hom ’n bietjie soos Darth Vader van Star Wars laat lyk en klink.

My uitslae was nie goed nie. Weens die obstruktiewe slaap-apnee – my keelspiere en tong verslap só dat ek ophou asemhaal, sonder dat ek wakker word – slaap ek glo nie diep genoeg nie. Wat dalk verklaar waarom ek dikwels doodmoeg opstaan. Maar slaap-apnee het ook allerhande skrikwekkende en lewensgevaarlike gevolge: ’n groter risiko vir hartaanvalle, beroertes, diabetes, vetsug en ongelukke omdat jy aan die slaap kan raak as jy byvoorbeeld bestuur.

Volgens my uitslae het ek tot dertig keer in ’n uur ’n apnee-episode gehad, en vir so lank as ’n halfminuut dan nie asem gehaal nie – in hierdie tyd moet jou organe oortyd werk. Soms word jy wel wakker, snakkend na asem, of verstikkend, of met ’n harde en onreëlmatige gesnork en hengse hartkloppings – alles simptome wat ek goed ken. Veral die gesnork.

Dit is nie iets waarop ek noodwendig trots is nie, maar ek is ’n ou snorker. As student het ek en ’n vriendin eenkeer op ’n road trip tussen PE en Kaapstad gereis. Ons het die aand ingesleep by ’n backpackers op Knysna en ons het in een van die dorm-kamers oornag. Ek het myself iewers in die middel van die nag wakker gesnork, en rondom my gekyk. Orals het daar net rugsakke gelê – al die ander mense het in die loop van die nag elders gaan slaapplek soek om weg te kom van my magtige dreuning …

Gewig speel ook ’n groot rol by slaap-apnee, want ekstra vetweefsel om jou nek kan bydra tot die obstruksie. Die spesialis wou ná die toets se uitslae summier vir my ’n CPAP-masjien voorskryf. Maar ek het daarteen vasgeskop, veral toe ek uitvind van die nuwe Provent-pleisters wat basies onopsigtelik en heelwat minder van ’n drama is as ’n masjien. Die spesialis het voet by stuk gehou: Ek het ’n CPAP-masjien nodig om my te help om ’n goeie nagrus te kry, my metabolisme aan te wakker en my te help om gewig te verloor, en ook ter voorbereiding op die Camino. Trouens, hy het gemeen ek staan nie veel van ’n kans om die Camino klaar te maak sonder CPAP nie. Hy het ook aanbeveel dat ek ’n spesiale, ligte CPAP-masjien koop waarmee ’n mens makliker kan reis. Maar dit het alles vir my te veel na ’n eenrigting-poging gevoel om ’n duur masjien aan my te smous, en ek het vir ’n tweede opinie gegaan en besluit om my kanse te vat op die Camino, met een pakkie lekker duur Provent-pleisters (R1 140 vir ’n stel van dertig) wat hopelik sal help met verligting vir mede-stappers in die nag, sou my gesnorkery hand uitruk.

* * *

Die loods kondig aan ons vlieg nou by Mekka verby, en diegene wat regs in die vliegtuig sit behoort dit te sien. Ek sit aan die regte kant. Dit is reeds nagdonker buite. Doer in die verte glim Mekka se liggies, die heilige plek waar miljoene Moslems se pelgrimstog eindig. Dit lyk hier vanuit die lug soos ’n hengse kragsentrale in die middel van nêrens.

* * *

Middernag by die Hamad Internasionale Lughawe op Doha, Katar. Byna vier en twintig uur gelede het ek nog op ’n Bolandse troue ’n bruidsmeisie met lomp geesdrif op die dansbaan rondgedraai op Tina Turner se “Simply the Best”.

“Simply the Best” laat egter altyd ’n ander herinnering aanmeld. Op hoërskool was ek – moeilik om vandag te glo – ’n naelloper. Ons o/19-aflosspannetjie van Hoërskool Brandwag op Uitenhage was taamlik rats en vinnig. En ons x-faktor was die man wat moes “huis toe” hardloop: Wylie Human, later jare ’n bekende rugbyspeler.

Tina Turner se hit was ons temalied. In die uitdunne by die Volkswagen Prestige-byeenkoms op die Universiteit van Port Elizabeth se tartanbaan was ons tydsgewys los voor al die ander spanne. Die finaal sou regstreeks uitgesaai word op televisie.

Ek sou die derde been hardloop. Maar daar slaan arme Gideon tydens die wegspring neer en ons val (letterlik) heeltemal uit die bus. Later die aand, terwyl ons half verdwaas sit en kyk na die grootmensatletiek, blêr “Simply the Best” oor die luidspreker …

* * *

Doha se nuwe lughawe is oorrompelend. Ek voel soos Dorothy se hondjie, Toto, in The Wizard of Oz, wanneer sy sê: “Toto, I have a feeling we’re not in Kansas anymore …”

Nee wat, Katar lyk reg om die Wêreldbeker-sokkertoernooi aan te bied in 2022 – hoewel hulle een of ander plan met die weer sal moet maak. Selfs kort voor middernag was dit bedompig en ongemaklik warm toe ons by die vliegtuig se trappies afklim.

Ek beweeg saam met ’n massa mense in rye verby paspoortbeheer tot by ’n blink en hipermoderne aankomssaal met ’n TV-skerm so groot soos ’n tennisbaan. Beelde wat die Al Khaliji-bankgroep adverteer, flits op die skerm.

Maar die TV-skerm is niks teen die moerse beer van sewe meter hoog wat in die middel van die aankomssaal sit nie. Eers dink ek die geel beer adverteer Lindt-sjokolade, maar dit blyk ’n legendariese kunswerk te wees: Untitled (Lamp/Bear). Dit is tien jaar gelede geskep deur die Sweedse neo-Dada kunstenaar Urs Fischer, en is voorheen uitgestal by Ludwig Mies van der Rohe se beroemde Seagram-gebou in New York – nogal die gebou waarop Weg se tuiste, Kaapstad se Absa-gebou, geskoei is.

’n Lid van Katar se koninklike gesin het die beer, wat sowat twintig ton weeg, vir $6,8 miljoen gekoop tydens ’n Christie’s-veiling. Dis indrukwekkend, maar ook ’n bietjie onthutsend: ’n Leeslampie steek uit agter die beer se rug, asof iemand die lamp in die teddie ingeforseer het.

Die leeslamp herinner my aan Slagtersnek wat moet klaarkom. Ek het minder as agt uur voor my vlug na Parys vertrek. Dit behoort my net-net genoeg tyd te gee om die artikel klaar te maak en te e-pos, nog voor my redakteur en kollegas in Kaapstad se Maandag op kantoor begin. ’n Steriele hotelkamer hier naby sou nou perfek gewees het, maar helaas, ek het my kaartjie op ’n special gekoop en kom nie in aanmerking vir verblyf nie.

* * *

Ek klok in by die Oryx Lounge, ’n luukse ruimte wat meer na die domein van besigheidsklaspassasiers lyk, om die nag op die lughawe uit te kolf. My vriend Le Roux praat dikwels van “die hoë premie op eie vermaak”. Teen veertig euro vir die agt uur in die Oryx Lounge is dit beslis ’n stywe premie, veral aangesien dit wat hier vir my voorlê allermins vermaak is.

Maar ek wou nie iewers in die aankomssaal naby die geel beer met ’n laptop op my skoot sit en sukkel met Slagtersnek nie.

Die Oryx Lounge is klinies dog luuks: ’n Ruim vertrek met gelamineerde vloere, hipermoderne staanlampe en rye gemaklike leerstoele. En geen tekort aan kos nie: ’n buffet met dadels, olywe, droëvrugte, broodrolletjies, kase, pastrami en ’n Nespresso-masjien. Daar is ’n familievertrek, ’n speletjieskamer met Playstations en ’n tipe rekenaarlokaal waarbinne die Macs se wit appeltjies glim.

Ek skink die eerste van vele koffies en plak myself neer in ’n leerstoel. Kophou. Ek moet nou hierdie Slagtersnek-artikel, wel, die finale nekslag toedien. Daar is nie ’n manier wat ek die Camino begin stap sonder dat die artikel klaar is nie – dit sal loopbaanbeperkend wees om die minste te sê. Dan kan ek netsowel nie terugkeer werk toe middel-Junie wanneer ek terug is in die Kaap nie. En die gedagte om vir veertig dae lank te stap met só ’n besef, só ’n swaard bo my kop, laat my fisiek naar voel.

’n Lughawe was nog altyd vir my ’n lekker ruimte om in te werk. Ek het talle artikels in die doodsnikke op ’n lughawe, soms in transito tussen vlugte, klaargeskryf. Ek het al gewonder of ek nie ’n satellietkantoor op ’n lughawe moet oopmaak nie. Om een of ander rede is ek net meer gefokus op ’n lughawe. Dit kan ook bloot wees dat my stertvere – by wyse van spreke – tot so ’n mate brand wanneer ’n artikel gevaarlik laat is, dat my grysstof behoorlik aan die werk spring en dan sommer oortyd werk.

The Man Who Wasn’t There is ’n fliek deur die Coen-broers waarin Billy Bob Thornton die hoofrol speel. Soms voel dit vir my ook of ek nie werklik teenwoordig is in die plekke waar ek myself bevind nie. Daar is ’n saak om te maak vir die ou AA-sêding “Wherever you go, there you are”, maar ek ondervind dit dikwels juis nié so nie. Ten minste nie psigies nie.

Om my sit-lê toeriste, mense in transito, tussen lughawens, tussen vorige en volgende ervarings, avonture, liefdes, teleurstellings, saketransaksies … Sommiges slaap, ander probeer slaap maar vroetel kriewelrig rond, die meeste is verdiep in die klein skermpies in hul hande, met oorfone aan. Dit is stil hier binne, geen agtergrondmusiek nie, net nou en dan die ligte geklingel van eetgerei wanneer iemand iets opskep by die buffet. ’n Lang nag lê vir ons almal voor. ’n Lang nag onder helder neonligte wat herinner aan ’n universiteitsbiblioteek.

Die artikel begin stadigaan vorm aanneem. Ek luister na Micah P. Hinson, ’n troubled sanger van Texas wat op drie en dertig die krakerige, husky stem het van iemand wat op tagtig ’n laaste Lexington rook.

Darem diep vreemd, hierdie werkswyse. The man who wasn’t there. Hoeveel keer het ek myself nie al in hierdie penarie bevind nie? En elke keer sweer ek plegtig: Hierdie is die laaste keer. Maar soos ’n verslaafde wat die mooiste bedoelings en beloftes met ’n relapse opdonner, is ek kort voor lank weer hier, in die ongemaksone wat ek so intiem ken.

Die ergste is wanneer ek op ’n volgende Weg-storie vertrek en nog nie vorige artikels betyds klaar geskryf het nie.

In ’n tos tweesterhotel in ’n ysige Belfast (in Mpumalanga, nie Ierland nie) moes ek al onder bonatuurlike druk ’n artikel oor die wildbewaarder Christiaan Bakkes en sy Jack Russel, Tier, neerpen, terwyl die dorpskarakters een na die ander by die kroegtoonbank aanmeld.

In ’n gastehuis in Winburg het ek myself doodgesukkel om ’n artikel oor die Gifberg-rusoord buite Vanrhynsdorp klaar te skryf. In ’n rondawel in die ou Transkei het ek met die geruis van die see as klankbaan met die slotparagrawe oor ’n road trip tussen Carolina en Barberton gesit en stoei.

In Tsumeb het ek myself letterlik vir ’n naweek in die Minen-hotel toegesluit om met ’n storie oor die Knysnabos se karakters (wat twee van die laaste ware houtkappers ingesluit het) klaar te speel. ’n Tipe boot camp vir die psige …

En nou sit ek wragtig hier op Hamad Internasionale Lughawe, angshaas deluxe, en bou slordige sinne in die vae hoop om betyds by twee duisend vyf honderd leesbare woorde oor Slagtersnek uit te kom, voor die nuwe dag en week in Kaapstad begin. Die wi-fi is gratis, wat goed is indien jy gou die verblyfbesonderhede van ’n gastehuis in Cookhouse (naby die Slagtersnek-monument) wil opsoek, maar fataal is vir iemand met aandagafleibare neigings.

Ek kan werklik nie wag om vir ses weke afstand te doen van my foon nie. Om volledig onder die radar te beweeg en nie aanhoudend onder beleg te voel van boodskappe en bemarking nie. Om weer te probeer onthou en ervaar hoe dit was voor ons almal met slimfone begin rondloop het.

Ek kry egter reeds my bedenkinge oor my plan om die iPhone en laptop weg te smyt. Tans voel ek net verslae, nie die rou moerigheid van vroeër nie. My opsies en tyd raak al hoe minder. As ek die goeters vir veertig dae in ’n kluis wil stoor op Charles de Gaulle, kyk ’n mens na ’n (onbeplande) uitgawe van R4 000. En ek ken niemand in Parys nie. Op WhatsApp kon ek kort na my aankoms hier gou kontak maak met ’n oudkollega wat iemand in Frankryk verlangs ken, maar ek wag nog op ’n antwoord.

Wag, ek het gisteraand by die troue langs iemand gesit wat gereeld in Parys werk. Martine. Ons het baie lekker gesels en sy het my verskeie puik wenke gegee oor hoe ek my laaste aand voor my terugkeer in Parys kan spandeer. Ons het vanoggend voor my vertrek uit die Kaap gou op Facebook hallo gesê.

Nou stuur ek ’n eerstewêreldse S.O.S.-boodskap aan haar:

Hi Martine, ek sit nou op Doha se lughawe. Die enigste rede waarom ek nog “digitaal” is, is omdat ek werk saamgebring het wat moet klaar voor die Camino. Ek het ’n aweregse Parys-versoek/guns: ek maak my werk vannag klaar op Doha. Daar’s nie ’n manier wat ek die laptop en foon saamneem op die Camino nie. Maar die lockers op Charles de Gaulle lyk duur vir 40 dae se stoor (sowat 320 euro) en ek is huiwerig om dit SA toe te pos/koerier. Jy weet nie dalk van iemand of selfs ’n instansie in Parys vir wie ek die pakkie (ek belowe dis nie contraband of iets uit Breaking Bad nie) van die lughawe af kan pos en dan weer 15/16 Junie sommer self kan oppik wanneer ek terug in die stad is nie? Ek wag tans vir ’n adres van ’n kollega wat iemand daar ken, maar dit sloer ’n bietjie en die tyd is min. Ek moet dit môremiddag so 3 nm. van die lughawe probeer pos. Phew, it became quite a ramble, ek moet dalk maar bly by goed soos Bachelors-partytjies organise. Ek hoor graag van jou!

Sy antwoord gou:

Ek het nou ’n vriendin in Parys gekontak om te hoor of jy die pakkie na haar toe kan pos – sal laat weet sodra ek ’n antwoord kry. Lekker aand tot dan!

Nee wat, nou is die Kaap (of Katar, selfs) weer Hollands. Die Nespresso-koffie is sterk, die stoel sag, die wi-fi rats en met ’n dadel in my kies begin die word count klim.

* * *

Met die adres van ’n Suid-Afrikaner in Parys, Marcelle (ook ’n joernalis), neergeskryf in my Moleskine, en die Slagtersnek-artikel darem so driekwart klaar, klim ek op vlug QR 039 vir die skof van Doha na Parys. Dit is net na agtuur op Maandag 4 Mei. Ses Nespressos deur die nag in die Oryx Lounge. En ’n lieflike warm stort. Maar ek het agt en veertig uur laas ’n oog toegemaak. The lonely places we take ourselves …

Dié keer is ek nie alleen in ’n ry sitplekke op die vliegtuig nie. Weerskante van my sit twee mans – links ’n Moslem-omie met ’n lang baard en Islamitiese gewaad. Regs sit ’n jong Indiërman wat erg op sy senuwees lyk. Arjun het nog sy hele lewe in Nieu-Delhi gewoon. Hy vlieg nou vir die eerste keer oorsee om in Parys as ’n rekenaarprogrammeerder te gaan werk. Daarby is hy baie senuweeagtig oor vlieg en hoogtes.

Ek het gelukkig nie daardie probleem wanneer dit by vlieg kom nie. Die ergste turbulensie wat ek al beleef het, was in ’n Boeing bo Mosselbaai. Mense het óf gegil óf met prewelende skietgebedjies met hul idee van ’n Godheid begin onderhandel. ’n Lugwaardin was op haar knieë, haar arms om die kostrollie, asof sy dit omhels. Gelukkig was die ergste chaos binne ’n minuut verby.

Hoogtes pla my nie. Dit is eerder noutes wat my soms na waansin kan dryf. ’n Paar jaar gelede het ek die Kangogrotte besoek vir ’n Weg-storie. Ek kon nog deur die Tunnel of Love skuur, maar by die Duiwel se Skoorsteen het my moed my begin begeef. Voor dit my beurt was, het ’n jong gesinnetjie deur die skoorsteen gebeur. Die pa het sy mollige vrou aangemoedig: “Is jy in, Muis? Is jy in?” Maar ek het skaars halflyf teen die skoorsteen begin opsukkel, toe voel dit of ’n All Blacks-losskrum op my ineenstort. Ek was bitter vinnig weer uit die skoorsteen en het maar ’n ompad gevolg.

Net voor ons opstyg, met die Boeing reeds aan die dreun op Doha se aanloopbaan, laat weet die loods in ’n swaar Arabiese aksent daar is een of ander tegniese probleem. Ons moet eers wag dat die tegnici ondersoek instel. Arjun vryf sy hande saam. Ons kan nie veel aan die situasie doen nie. Wanneer ek op ’n vliegtuig se aanloopbaan sit, gereed om op te styg, voel dit dikwels vir my soos wanneer ’n spannetjie dokters jou by die teater inwiel voor ’n operasie. Jy is magteloos, uitgelewer aan ander mense se kennis en genade.

Iewers het ek gelees die eerste negentig sekondes ná die vliegtuig opstyg is teoreties die gevaarlikste deel van ’n vlug. As iets ernstigs binne hierdie kritieke periode sou skeefloop, vee jou familie binnekort die trane af in een van National Geographic se Air Crash Investigation-programme.

Sedertdien het ek die liggies obsessiewe gewoonte ontwikkel om, soos ’n vliegtuig Moeder Aarde verlaat, gedienstig in my gedagtes tot by negentig te tel, en dan te baai in een of ander vals verligting. “Besef jy dit gaan geen verskil aan jou lot maak of jy tel of nie?” het ’n vriendin wat graag logies na dinge kyk my al vermaan. Sy’s natuurlik heeltemal reg, maar ek doen dit steeds.

Met die tegnici klaarblyklik haastig op pad na ons Boeing, gesels ek en Arjun oor die noodlot in die lug.

“Well, I guess if it’s your time, it’s your time, nothing you can do about it,” sê hy stellig.

“But what does it mean for us if it is the pilot’s time?” terg ek terug.

Arjun lag en skud sy kop.

Al weer ’n tussenplek, ’n dormante niemandsland. Ek wou teen dié tyd al in die lug gewees het, met my laptop oop en hopelik in die doodsnikke van die artikel. Nie hier op ’n aanloopbaan waar al ons elektroniese toerusting reeds afgeskakel moet wees nie.

Die minute tik verby.

* * *

-----Original Message-----

From: Erns Grundling

Sent: 04 May 2015 02:54 PM

To: Pierre Steyn

Subject: Hier is Slagtersnek!

Importance: High

Hi Pierre

Aangeheg is Slagtersnek. ’n Bietjie lank, maar eerder nou as nooit.

Ek vlieg nou tussen Luxemburg en Parys. Altitude: 39 829 ft. Ground Speed: 482 mph. Buitetemperatuur -67 F. Nog 525 eerlike myle na Parys, waar ’n mad rush vir treine wag. Ek pos môreoggend my laptop en selfoon uit Bayonne vir ’n joernalis in Parys. Ek gaan dit by haar optel op die 16de.

Gee asb net ’n vinnige headsup dat jy die file ontvang het. Want dan is my vakansie moerse naby.

Au revoir!

Erns

Die vorige paar uur was ’n maniese blur. Ek het twintig dollar op my kredietkaart opgedok om toegang tot die vliegtuig se wi-fi te kry en nog ’n laaste paar feite en kontakbesonderhede na te gaan vir my Slagtersnek-storie. My laptop se batterykrag het dit net-net gemaak.

Nie my beste skryfwerk nie, maar vir nou is die mantra “Don’t get it right, get it written” belangriker as een of ander verbeelde kragtoer. Ek vermoed in elk geval die storie oor ’n hand vol rebelle wat twee eeue gelede swaar – onregverdig, selfs – moes sterf, gaan eenvoudig te neerdrukkend wees om Weg se blaaie te haal. Dit pas nie juis gemaklik in by die tydskrif se gemoedelike stemtoon en die opbeurende ontsnapping wat die ander artikels bied nie.

Wat ’n absurde klein vignette: om desperaat “Send” te druk iewers tussen hemel en aarde anderkant Luxemburg, sodat ’n Word-dokkie oomblikke later met ’n bliep-geluid by my redakteur in Kaapstad aanmeld. Dit alles gebeur terwyl die Moslem-omie prewelend langs my vooroor buig en bid, met Ice Age 3 op pause op sy skerm, en Arjun, ná hy die aftog geblaas het met in-flight vasvraspeletjies, na ’n Bollywood-danstoneel uit Slumdog Millionaire sit en kyk.

Pierre laat weet die saak is reg en ek hoef net die eerste week op die Camino aan my deadline-sondes te dink. Uiteindelik. Nou kan ek die laptop vir ses weke toemaak.

Die laaste woorde wat ek tik, is ’n Out-of-Office-boodskap:

Ek is met vakansie in Europa. Digitale detoks, into the mild. Ek is op Maandag 22 Junie terug op kantoor. Stuur asseblief ’n e-pos vir Esma Marnewick oor enige Weg/Go-sake. Adios. Erns

* * *

Inskrywing in Moleskine-joernaal

Miskien is dit soos ’n trein riding into rain, Gertjie, ek dink somehow nou aan jou op die trein tussen Charles de Gaulle en Saint-Michel – Notre-Dame. Dit is al amper drie jaar sedert ek en my pa op ’n soortgelyke trein nie riding into rain was nie maar riding in die herfste herfs wat ek kan onthou en daar is so min. Rondom my sit die mense op hul fone of met leesboeke hier is sambrele en aksente, ek voel heeltyd ek hoor Afrikaans maar ek misgis my die robotstem (vrouestem) van die trein het nou-nou net Parc des Expositions uitgespreek ek hoor net “Sexpositions” my vroeë indrukke van Europeërs is waarskynlik verkeerd maar ek tel ’n gesofistikeerde indifference op, so half asof ubuntu nie hier sal fly nie – nie dat ubuntu anyway in Afrika fly nie. By die lughawe Gert het so ’n ratse jong Fransman my voor ’n spul mense begin uittrap omdat ek in die langerwordende, stresvolle tou van Doha-Paris-bound passasiers volgens hom met opset teen ’n meisie geskuur het, asof ek haar in ’n splitsekonde vinnig wou broeknaai soos dolfyne wat in ’n oomblik seks het, maar sy uitbarsting het my onkant gevang ek kon nie die woorde “I didn’t bump into her on purpose” vind nie en gaan toe in ’n lang verduideliking in van die treine wat ek chase en dat ek net haastig is en nie gekyk het waar ek stap nie en hy skud sy kop net die ou hoofseun van die lewe en hy sê net “Blablablabla” en praat in Frans met die girl en haar boyfriend en hy raak toe byna involved en mense begin gluur en toe was my enigste comeback “You should come to Africa” nugter weet waarom ek daarop gedefault het dalk wou ek ’n punt maak oor personal space in Afrika of eerder die gebrek daaraan en dat hy baie te sê sal hê in ’n tou by Home Affairs maar daar is nie tyd om dit als te sê nie maar ek was op daai oomblik hiperbewus van ’n tipe aanstellerigheid en diep eerstewêreldse luukshede en decorum. Anyway Gert, Godweet hoekom lees ek nie maar ook nou of waarom blokkiesraai ek nie eerder nie ek is pap tyres Gert lewensmoeg van slaap-apnee en fokkol slaap. Dis diep triestig in Parys. Ek gaan nou eers pause.

* * *

Ek voel diep ambivalent oor die twee Moleskine-joernale wat ek ingepak het vir die Camino.

Dit sou maklik gewees het om vooraf te reël en ’n vryskutstorie of drie vas te maak om te help met uitgawes. En niks keer my om met my terugkoms in die Kaap ’n rubriek of ’n langer artikel vir Weg te skryf oor my ervaring op die Camino nie. Ek kan selfs oorweeg om ’n boek of gids te skryf. Maar ek wil nie. Alles in my skop daarteen. Ek is heeltemal uitgeskryf.

In “Famous Blue Raincoat” sing Leonard Cohen: “You’re living for nothing now / I hope you’re keeping some kind of record”. Ek hou van die idee van “some kind of record”. Al is dit ook net vir myself. En wie weet? Dalk pak een of ander idee my halfpad op die Camino beet en dan gaan ek beslis ’n pen en papier nodig hê. Dalk skryf ek weer ’n slag ’n gedig, of vir die eerste keer in tien jaar ’n song. Wat gebeur met ’n mens as jy jouself losmaak van al die afleidings, veral die selfoonskermpies wat ons so permanent besig hou?

* * *

SMS aan my pa, Maandag 4 Mei, 19:38 nm.

Raai waar staan ek nou? By die Notre Dame! Ry netnou Bayonne toe, pos dan my laptop en selfoon na ’n joernalis in Parys. Ek tel dit weer 15 Junie op. Al my werk betyds klaar, vakansie begin NOU. Baie liefde.

Sy reply:

Bon Voyage! Geseënde stapervaring en so bly jy gaan dit voluit geniet! Gaan verlang na jou. Kyk mooi na jouself! <3 Pa / Ma

Ja, Pa. Voluit of fokol.

Parys. Die stad van die liefde. Hemingway se “moveable feast”. “Paris is always a good idea,” het Audrey Hepburn gesê. Hier ter plaatse het Jan Rabie die stad se straatlewe in ’n dagboek as “’n geskiedenisboek van die hele wêreld” beskryf. En die plek waaroor André P. Brink geskryf het: “Ek is ‘gebore’ op ’n bank in die Luxembourg-tuin in Parys – toe ek 23 jaar oud was.”

Ek het ná ’n geskarrel en gesukkel met bagasie op Charles de Gaulle op ’n bankie gaan sit en net tot verhaal probeer kom. Swaar gewapende polisiemanne stap waaksaam en breëbors rond en fynkam die omgewing. Die Charlie Hebdo-aanval het maar skaars vier maande gelede plaasgevind. Vir die eerste keer sedert ek die Kaap verlaat het, voel ek werklik alleen. En besef: Ek is volledig op myself aangewese vir die volgende veertig dae.

By die Saint-Michel-stasie trippel ek met my swaar rugsak teen die trappies uit om die Notre-Dame de Paris (Frans vir “Our Lady of Paris”) te sien opdoem. Van kleins af raak ek opgewonde oor monumente, ikoniese geboue, selfs natuurverskynsels. Ek onthou die eerste keer toe ek in 1983 as vierjarige Tafelberg buite die motorvenster sien verskyn het. My een oom was ’n NP-LV vir Uitenhage en ek en my ouers het by hom tuisgegaan in Acacia Park. Meer as twee dekades later sou ek in Agra in Indië verstom staan voor die Taj Mahal en weer daardie kinderlike Tafelberg-gevoel ervaar.

En so is dit ook met die Notre-Dame, ’n katedraal wat ek die eerste keer in ’n Disney-fliek oor ’n aantreklike gypsey (selfs vir ’n animasiekarakter), pratende gargoyles en ’n sagmoedige boggelrug leer ken het.

Dit is my tweede besoek aan Parys. In September 2012 het ek en my pa op Charles de Gaulle geland en minder as vier uur gehad voor ons verbindingsvlug na Verona in Italië. Eerder as om iewers in ’n restaurant op die lughawe ’n paar leë ure te sit en uitkolf, wou my pa summier ’n vinnige jakkalsdraai in Parys maak. Die vrou by die inligtingstoonbank het ons sterk afgeraai om ’n trein stad toe te neem – sy het gemeen ons gaan nie betyds wees vir die vlug nie. Ons het toe teen haar advies tog besluit om met ’n trein tot by Saint-Michel te ry. En hier naby die Notre-Dame ’n glas Franse sjampanje te drink en haaspatee te eet.

Vanaand is hier glad nie ’n leërskare toeriste voor die Notre-Dame soos op daardie mooi herfsmiddag drie jaar gelede nie. Net ’n paar troppies mense, die meeste staan met hul rug gekeer op die katedraal, besig om selfies te neem.

Ek gaan stap oor die Pont des Arts, een van die bekende brûe in Parys waar verliefdes sogenaamde “love locks” teen die brug vasmaak, dikwels met hul name op geskryf, en dan die sleutel in die Seine gooi.

Hierdie tradisie het glo maar eers in 2008 begin, maar hier is reeds honderde – indien nie duisende – slotjies van allerhande kleure en groottes wat al langs die brug se reëlings vasgemaak is. Die slotjies het al vir groot omstredenheid gesorg omdat dit sommige van die brûe beskadig het – daar is selfs vrese dat van hulle kan ineenstort onder die gewig van al die liefde, of eerder die dapper liefdesverklarings.

Ek lees van die name op die slotjies: Jackie and Benn (17-05-12 Wedding), Eddy and Delia, Michael and Candice, een met bloot net Rubi … Ses maande gelede was daar ook ’n naam op my lippe wat ek langs myne op ’n slotjie teen dié brug wou vasmaak.

* * *

Ek stap vir sowat ’n halfuur tot by die Gare d’Austerlitz, die stasie waar die oornagtrein na Bayonne in die suidweste van Frankryk op my wag.

In Laurika Rauch se liedjie “Hot Gates” is Austerlitz een van die plekke waaroor sy sing. Die stasie in Parys is genoem na ’n groot veldslag wat op 2 Desember 1805 naby die dorpie Austerlitz in die Oostenrykse Ryk plaasgevind het – een van Napoleon se roemrykste oorwinnings.

Die moegheid en min slaap begin my inhaal. By ’n besige kruising kyk ek oudergewoonte regs voor ek die pad oorsteek, en sien glad nie die motorfiets wat van links af aankom nie. Ons mis mekaar met wat voel soos sentimeters … dit gebeur eintlik te vinnig om werklik te besef hoe naelskraap dit was. Ek vries. Dan besef ek wat gebeur het: Ek het die straat oorgesteek asof ek in Suid-Afrika is. Netjies eers regs gekyk, toe links en weer regs, soos Daantjie Kat my in die vroeë jare tagtig op ons platespeler geleer het. Toe sien ek glad nie die motorfiets wat op pad was nie.

’n Mens kan dit seker toeskryf aan deur-die-kakgeit of moegheid. Of albei. Maar selfs ’n uur later, terwyl ek ’n pizza eet en ’n bier drink, spook die insident by my. Ek kon dood gewees het, of ten minste ernstig beseer. My Camino kon in Parys geëindig het nog voor dit begin het. Die ver-skil tussen ’n verligte sug en ’n moerse drama was letterlik ’n breukdeel van ’n sekonde. Waarom het ek nié iets oorgekom nie? Geluk? Genade?

“There is no way to know what makes one thing happen, and not another.”

* * *

Om nege-uur stap ek na die deurnagtrein. Vele ure lê tussen my en Bayonne. Ek het voor die tyd gereken ek kan netsowel op die trein slaap as om een of ander intreevlakhotel in Bayonne te gaan opsoek.

Voor my in die ry by die trein se ingang staan ’n meisie met ’n poniestert en ’n groen rugsak met iets wat lyk soos ’n vlag of ’n embleem – ’n klomp diagonale kleurvolle blokkies – agterop geborduur. Kan dit dalk die eerste mede-stapper wees? Ek hoop so half ons is in dieselfde kompartement.

Die kompartement is piepklein, drie beddens aan weerskante opmekaar gestapel. Die meisie met die rugsak is toe nie in my kompartement nie. Wel ’n bruingebrande jong Franse surfer, Tom, wat naby Bayonne woon. Hy is nou op pad huis toe na ’n paar maande se branderplankry in Australië. Terwyl ons gesels kom ’n middeljarige Franse vrou en twee Belgiese meisies ook die kompartement binne. Die Belge is op vakansie in Frankryk en die Franse vrou praat nie veel nie. Niemand anders hier gaan die Camino stap nie. Die Belge is erg verbaas om te verneem dat ek dit op my eie gaan aanpak.

Die trein trek stadig met ’n gedreun en gekreun weg uit die Gare d’Austerlitz. Die ruimte is so beknop dat ons almal maar soos sardyntjies lê. Ons maak nie verder geselsies nie. Ek gaan borsel my tande en wik en weeg voor die spieëltjie of ek die slaap-apneepleisters moet gebruik of nie. Ek voel te selfbewus – die ander passasiers moet vannag maar met my snorkery sterk staan.

Toe ek in die kajuit terugkom, is die lig reeds afgeskakel. Ek kon netsowel die Provent-pleisters gebruik het.

* * *

Treinry neem my gedagtes altyd terug na Uitenhage, die dorp waar ek grootgeword het. Ek sê dikwels Uitenhage is die mooiste Bruce Springsteen-liedjie wat hy nooit gaan skryf nie. En The Boss sou tuis gevoel het daar, veral daar naby Volkswagen, die omgewing se blouboordjiemekka.

My pa het my soms op ’n Sondag na die nabygeleë Willow Dam geneem, waar ons dan op Little Bess, ’n klein stoomtrein, drie keer in die rondte gery het op ’n drie honderd meter lange baan.

My eerste treinrit op die Trans-Karoo, deesdae die Shosholoza Meyl, was in 2002, tydens my honneursjaar in joernalistiek op Stellenbosch. Ons het op die jaarlikse klasuitstappie na Gauteng gegaan en kon die dosente oortuig dat ons eerder per trein as met ’n bus moet reis.

Ek was twee en twintig jaar oud, vol planne en drome en dinge. Ek onthou die plastieksak met die vyf bottels wat ek, Gerjo en Borrie op die tafeltjie in die kompartement uitgepak het: Old Brown Sherry, Tassenberg, Smirnoff Vodka, Bell’s Whisky en VO-brandewyn. Iewers in die nag, toe die trein by Makwassie verbywiel, het ’n zol ook die rondte gedoen.

* * *

Ondanks die min tot geen slaap wat ek die vorige twee dae ingekry het, raak ek gedurig wakker op die trein. Daar is nie veel sprake van die sussende geluid van die wiele op die stawe nie, dit is maar ’n geklingel en ’n rammelende lawaai. Soms voel dit selfs of die waens sywaarts skud.

Teen agtuur die oggend stop die trein op die stasie in Bayonne, byna agt honderd kilometer suidwes van Parys. Dit voel goed om die bedompige kajuit te verlaat. In ’n ligte motreën strompel ek uit en mik vir die stasiegebou. Weer sien ek die jong meisie met die poniestert en rugsak met die blokkiesvlag.

“Hi, I guess you’re also walking the Camino?” probeer ek geselsies maak.

“Uh-huh.” (Met ’n swaar Amerikaanse aksent.)

“I’m Erns from South Africa.”

“Oh wow, that’s far from here! I’m Claire. I’m from the US.”

“Ah. You’re also taking the train to Saint Jean?” vra ek.

“Nah, I’m taking the bus.”

“Oh ok. I’ve got a train ticket. I guess I’d better go sort it out.”

“Cool. Well … see you in Saint Jean.”

Hier is nou reeds ’n taamlike samedromming van stappers – oud en jonk, sommige in groepies, ’n ouerige egpaar hier en daar, ’n paar siele met rugsakke en stokke op hul eie.

Volgens my kaartjie wat ek vooraf op ’n Franse webwerf, Capitaine Train, gekoop het, vertrek die trein oor minder as twee uur na Saint-Jean-Pied-de-Port. Ek stap na die kaartjiekantoor, waar die man agter die toonbank – heel voorspelbaar – blykbaar kans sien om my in enige taal behalwe Engels te help.

Ek het al by mense gehoor jy moet net Afrikaans begin praat indien dit gebeur, want dan is die Franse glo meer simpatiek en dink hulle nie jy is ’n Brit of Amerikaner nie. Ek wapper dus my kaartjie en mompel in Afrikaans, en sowaar, dit is asof die man se hele houding verander. Hy verduidelik in vlot Engels dat die spoorlyn na Saint Jean in ’n storm beskadig is en tans opgeknap word, maar dat ek my treinkaartjie op die bus kan gebruik wat op dieselfde tyd uit Bayonne vertrek.

Maar ek het nodig om iets meer dringend by hom uit te vind: Waar kan ek ’n poskantoor kry? Ek moet ongeveer nóú van hierdie laptop en selfoon ontslae raak. Voor ek op daardie bus klim na Saint Jean. Ek het min tyd, dit reën en ek het geen idee waarheen om te gaan nie.

Met vae aanwysings en simpatieke handgebare van die man in die kaartjiekantoor mik ek maar straataf op soek na die poskantoor. Die stad is aan die ontwaak, ek stap verby verskeie winkeltjies en deli’s waar ou ooms sit en koerant lees en teug aan koffie. ’n Koffie sal my nou goed doen, maar dit sal my beloning wees sodra die pakkie eers in die pos is.

In die verte, oorkant ’n brug, toring ’n groot Gotiese katedraal bo die stad uit. Op ’n drafstap, met my swaar rooi sak op my rug, sien ek ’n apteek en vaar gou daar in om ’n paar laaste items te koop: muskietafweermiddel, ’n salf met ’n klomp goggas op die boksie wat lyk of dit my sal beskerm teen bed bugs – een van die groot potensiële euwels op die Camino – en verkouepoeiertjies wat lyk soos Grand-Pa. Die apteker stel my darem gerus dat die poskantoor vandag oop, en skaars honderd meter verder is.

Gelukkig kan die vrou agter die poskantoor se toonbank goed Engels praat. Sy lyk effens geamuseer toe ek al my items haastig op haar toonbank uitpak: my laptop, die laptop se kabel, my iPhone en laaier, drie verskillende plugs (ek moes seker maak my laptop werk in Doha en Frankryk), die Croxley-notaboekie, ’n Oom Dik-notaboekie, twee penne en J.C. van der Walt se Slagtersnek-boek.

Ek vind ’n vyf kilogram-boks. Vir oulaas kyk ek toe ek dit afskakel na die glimmende wit appeltjie met die hap in op my foon. Ek gooi alles in die boks en skryf die adres van iemand in Parys wat ek van g’n kant af ken nie en met wie ek nog glad nie kontak gemaak het nie daarop neer. Ek het nie Marcelle se e-posadres of kontaknommer nie, maar dit is iets wat ek aan die einde van die Camino kan kry. Ek betaal sewe euro, die boksie word verseël en in ’n groot sak gegooi.

En skielik is ek vry.

* * *

My digitale detoks het begin, maar die gevoel van vryheid is van korte duur. Ek ervaar reeds cold turkey-effekte nog voor ek terug is op Bayonne se stasie. My linkerhand wil-wil outomaties, soos ’n refleksbeweging, mik vir my broeksak, na die iPhone wat nie meer daar is nie.

Die stomme foon is al deur vele beproewings, dit is in elk geval ’n wonder dat die ding nog enigsins werk. In Oktober 2014 het die einste iPhone in ’n toilet geval by die toerismekantoor op Groot-Marico. Ek het in daardie stadium meer as vyf uur se opnames van Weg-onderhoude op die foon gehad wat nog nie ge-backup was nie. As ek dit sou verloor, was ek eenvoudig in my moer.

Gelukkig het ek onthou van ’n truuk met rys wat help om ’n foon van waterskade te red – die rys absorbeer die vogtigheid. Ek het gejaag na ’n kafeetjie en het nog voor die betaalslag die nat foon in ’n sak Tastic gedruk. Die Bangladesji agter die toonbank was taamlik oorbluf.

Dit het gewerk, maar ek het nie rekening gehou daarmee dat van die ryskorrels hul weg kan vind in die foon se sockets in nie. So het drie ryskorrels lekker geswel in die gaatjie waar jy die laaier moet inprop … Dit het my gekos op my rug lê op Egbert en Santa van Bart se stoep in Groot-Marico, op ’n opblaasmatras, met ’n kopliggie aan en ’n naald in my hand, om die ryskorrels uit te krap. Genadiglik was my poging suksesvol, maar jinne … the lonely places we take ourselves.

Vir die volgende veertig dae gaan niemand wat my ken (of nie ken nie) my kan bel of kontak nie. Nie die werk nie, nie my ouers of vriende nie, ook nie die smouse van daardie Unknown Numbers wat jou bel om een of ander motor- of begrafnisversekering of ’n selfoonkontrak wat jy beslis nie nodig het nie te probeer verkoop nie. Geen Facebook. Geen WhatsApp. Geen Google.

Ek het gedink dit gaan makliker wees, maar ek moes van beter geweet het. Hoe verstommend is ons afhanklikheid – verslawing, selfs – aan die skermpie op ’n foon? Die langste wat ek nog ooit van my foon geskei was, was vyf dae in Junie 2014 toe ek in die Visriviercanyon gaan stap het.

Terug op die stasie, en taamlik onvas op my voete – dit moet die min slaap van die afgelope paar dae wees – gaan sit ek in ’n kafeetjie en bestel ’n baguette en koffie vir vier euro. Hier is nou baie meer stappers, jy moet omtrent fyn trap tussen al die rugsakke en stapstokke en hoede wat die kafeetjie vol rondlê. Ek sit en kyk na die mense – people watching bly my gunsteling toeskouersport. Ek hoor baie tale: brokkies Frans, Engels, Spaans, Duits en iets wat klink soos Koreaans. ’n Tipe Verenigde Nasies van stappers. Wat bring al die mense hierheen? Wat bring mý hierheen … ? Ek het my redes. Maar ek hoop om nóg langs die Camino te vind.

Twee groot busse – Frankryk se antwoord op Grey-hounds – stop in die parkeerterrein. Tyd om te vertrek na Saint-Jean-Pied-de-Port, waar my Camino môre begin. Dit lyk of dit net stappers is wat met dié busse gaan reis.

“You must be from South Africa?” vra iemand langs my, terwyl ek regmaak om my rugsak in die bus se buik te bêre. Ek het ’n stukkie materiaal met ’n paar klein Suid-Afrikaanse vlae op aan my rugsak vasgemaak.

Die aksent klink dadelik vir my bekend. Dit klink só bekend dat ek dit amper intuïtief iewers in die Oos-Kaap wil plaas. Sowaar, Robert, die tweede pelgrim wat ek ontmoet, kom van Port Elizabeth, my geboortedorp! Wat’s die kans dat so iets gebeur?

Robert, ’n lang man in sy vroeë vyftigs, is erg opgewonde om nog iemand van die Oos-Kaap hier in Bayonne te ontmoet. “I actually have no clue why I’m here, but here I am. I read about the Camino and thought why not, it’s time for a new challenge,” sê hy laggend en bied aan om ’n meisie langs hom met haar groot rugsak te help.

Die busbestuurder is so ’n lang maer Fransman met ingesonke wange wat voor ons vertrek verbete gestaan en Gauloises rook het. ’n Karikatuur. Hy kort net ’n beret en ’n verweerde kopie van Albert Camus se The Outsider. En ’n baguette onder die arm. Fred Mouton sou hom mooi kon vasvang.

Ek sit by die venster en kyk na die tonele wat verbyflits soos die bus uit Bayonne ry: Eers ’n paar voorstedelike woonbuurte met billboards, dan raak die landskap pure Franse platteland. Dis lente in Europa, al die veld is vrolik en groen. Ons ry deur valleie, landerye en woude en nader die voetheuwels van die Pireneë; die Pied-de-Port in Saint-Jean-Pied-de-Port beteken juis volgens my gidsboek “foot of the pass”.

Die bus is volgepak, maar die sitplek langs my is oop. Die gemiddelde ouderdom van die mense op die bus is seker so dertig. Byna almal is doenig op hul fone of luister musiek met oorfone. Ek vat-vat weer so aan my leë broeksak.

Robert sit skuins oorkant my, Claire ’n paar rye voor hom. Tussen hulle sit ’n meisie – seker in haar twintigs – met ’n parate skaaphond by haar voete. Dié hond gaan duidelik saam met haar stap, hy dra self ’n tipe rugsakkie met ritssluiters. ’n Pers rugsakkie.

Jinne, nee. Ek sal nooit daarvoor kans sien om ’n hond op ’n pelgrimstog saam te piekel nie – net om aan die admin te dink, maak my al klaar moeg. Dit is vir my reeds genoeg van ’n uitdaging om met my rugsak en twee stapstokke kop te hou.

Ek begryp wel dat ’n getroue hond ’n goeie reisgenoot kan wees. Jock het vir Percy FitzPatrick baie beteken. En John Steinbeck en sy poedel Charley het Amerika platgereis. Miskien het dit ook iets daarmee te doen dat ek nog nooit werklik self die hond-as-beste-vriend ervaar het nie.

My eerste hond, ’n Jack Russel met die naam Bobby, het toe ek so vyf jaar oud was my oranje opblaasseekat-lilo verskeur en dinge was nooit weer dieselfde tussen ons nie.

En my volgende hond, Guido, was in die tagtigs die mees asosiale spanjoel in die Oos-Kaap. Hy sou dikwels in die tuin in nouerwordende sirkels om my hardloop en blaf vir allerhande dreigende dinge wat nie bestaan nie. Paranoia op vier bene.

“So tell me, Erns,” sê Robert terwyl hy na my draai, “what made you decide to do the Camino?”

Die bus voel stil, asof ek ’n gehoor het. Robert lyk na ’n dierbare siel wat graag geselsies wil maak, maar ek is huiwerig. “I’m hoping to find out along the way, Robert,” sê ek en glimlag. Dis waar, maar slegs een van die redes wat my laat besluit het om hierdie pelgrimstog op my eie aan te pak.

* * *

Ek sit op ’n klipbankie by La Porte Notre Dame, die poort waardeur jy die ou deel van die Baskiese dorpie Saint-Jean-Pied-de-Port binnegaan. Die ou deel is gesentreer rondom ’n lang, steil en nou klipstraat, Rue de la Citadelle. Aan weerskante van die straat is wit geboutjies met rooi teëldakke, waarvan sommige uit die vyftiende eeu dateer. Dit voel diep Middeleeus hier.

’n Inligtingsbord teen die muur vertel die einste klipbankie waarop ek sit is eeue gelede reeds gebruik deur brandarm pelgrims wat op kos en skuiling gewag het.

Reg langs my is ’n kerkie, The Church of our Lady at the End of the Bridge. Hier was ook in die Middeleeue ’n hospitaal wat via ’n poort aan die kerk verbind was – die hospitaal en die kerk was maar op ’n manier een en dieselfde ding. Môreoggend vroeg sal ek weer deur hierdie poort in die algemene rigting van die Pireneë en Spanje stap.

Die Niverivier, wat in die Pireneë ontspring, vloei digby my verby. Van die plaaslike inwoners en toeriste drentel al langs die rivier.

Die Rue de la Citadelle is reeds op die Camino. Sou ek “omdraai” en langs hierdie pad vir ’n duisend kilometer noord hou, sal ek uiteindelik weer in Parys uitkom – waarvandaan pelgrims ook eeue gelede vertrek het. Jy kan die Camino van verskeie plekke regoor Europa begin stap, soos Lissabon, Amsterdam of Genève. In Spanje alleen is daar ’n stuk of ses verskillende Camino’s wat almal eindig by Santiago de Compostela.

Saint-Jean-Pied-de-Port is egter die gewildste en mees praktiese beginpunt vir hedendaagse pelgrims wat die volle agt honderd en twintig kilometer van die Camino Francés, of “The French Way”, tot by Santiago de Compostela wil stap.

Ek voel ’n verkoue aanmeld, so ’n krapperigheid in die keel. Dit was seker maar onvermydelik na al die vlugte, lughawens en treinritte. Al die asems. En ek dra al byna drie dae dieselfde klere én het bitter lanklaas ’n behoorlike nagrus gehad. Die Franse se antwoord op Grand-Pa sal nou maar sy werk moet doen. Ek meng die poeier met water in my koffiebeker en sluk dit af. Ek weet nie hoe ek dit regkry nie, maar my koffiebeker val van die bankie af en kraak.

Die kloktoring wys halftwee. Gewoonlik gebruik ek my selfoon om te kyk hoe laat dit is. Van nou af gaan kerke en ander pelgrims langs die pad my horlosies wees.

Ons bus het sowat negentig minute gelede in Saint Jean aangekom en twee kilometer van hier af gestop, naby die treinstasie in die moderner (of minder Middeleeuse) deel van die dorp. Dit was ’n fris stappie teen ’n geleidelike opdraande tot hier by die Rue de la Citadelle. Ek het dit maar beskou as ’n bietjie litte losmaak vir die berg wat môre voorlê.

Ek het ook opnuut besef ek is nog glad nie gemaklik met die swaargepakte rugsak en stapstokke wat soos ’n metronoom tik-tok, tik-tok op die klipstraat nie. Wel, iewers oor die volgende veertig dae sal ek hopelik my ritme vind.

Gewoonlik bespreek ’n mens nie vooraf verblyf op die Camino nie. Jy stap maar elke dag teen jou eie pas aan en besluit in die loop van die dag in watter dorpie langs die pad jy vir ’n herberg (oftewel albergue) gaan begin soek. Maar vir my eerste aand ná die lang reis van die Kaap tot hier in die suide van Frankryk het ek wel vooraf bespreek by ’n albergue, Beilari. ’n Tipiese Baskiese huis in die Rue de la Citadelle, met slaapplek vir agttien stappers.

Volgens die webwerf is Beilari die Baskiese woord vir “pelgrim”, maar die letterlike betekenis is “one who awakes”. Die albergue maak eers twee-uur elke middag sy deure oop, so met my aankoms hier in Saint Jean het ek eers na die Pelgrimskantoor gegaan, wat toevallig skuins oorkant Beilari is.

* * *

Ek weet nie hoe die Britte dit regkry nie, want ek verpes toustaan. My idee van die hel (wag, ek het verskeie idees hieroor …) is om met die roltrap af te sak tot in die buik van die Absagebou in Kaapstad, en ’n tou van twintig siele te sien by die bank se Navrae-afdeling. Veral wanneer ek net een of ander vorm of stempel soek. Gee my veel eerder die chaos van ’n treinstasie in Indië, waar jy in ’n desperate losgemaal wedywer vir ’n spreukbeurt by ’n glashokkie om ’n treinkaartjie aan te skaf.

Dalk is dit een of ander ingebore kriewelrigheid, of ’n vrees vir verveling, of ’n eksistensiële besef van hoe belaglik en futiel al ons pogings tot beheer is … ek weet nie, maar toustaan kry my onder. Soveel so dat ek soms skaamteloos ingryp – of kom ons wees maar eerlik: indruk – wanneer die frustrasie die oorhand kry. En dan voel ek lank skuldig daaroor. ’n Bose kringloop, dus.

So het ek in Desember 2007 saam met vriende by die Noordoewer-grenspos in Namibië aangekom vir ’n roei-uitstappie van vier dae op die Oranjerivier. Dit was so agtuur die aand, en die kronkelende tou mense wat ons daar ingewag het, het my laat dink aan ’n stembus by die 1994-verkiesing. Ons sou ten minste vier uur neem om net by doeane uit te kom. En ons sou eers lank na middernag by die roeikamp arriveer.

Ná ’n halfuur het ek breekpunt bereik en myself taamlik naby aan die ry se beginpunt ingewurm. Ek het ook my makkers oortuig – dalk selfs gedwing – om dit saam met my te doen. Hulle was uiteraard huiwerig. Veral toe ’n groepie Amerikaners reg agter ons luidkeels begin protes aanteken.

Dalk was dit ’n arrogansie van vroeë jare wat ek hopelik intussen getemper het, maar ek het my nie veel gesteur aan die kollaterale skade wat rondom my afgespeel het nie. My oog was op die eindpunt, wat min of meer twee toonbanke weg was.

Maar slim vang sy baas, byna altyd. Ek vind dat enige vorm van selfsug of hubris jou een of ander tyd inhaal. Noem dit karma, jou verdiende loon, die lewe wat dinge op ’n onverklaarbare manier kalibreer … net wat jy wil.

Dit het toe sommer daardie selfde aand gebeur. Daar is verskeie roeikampe op die Oranjerivier, en oor Nuwejaar is daar maklik tot twee duisend roeiers op die water. Wanneer jy op ’n begeleide roeivaart gaan, is jy gewoonlik in groepe van twintig roeiers ingedeel.

En sowaar, toe ons by die roeikamp opdaag is ons in presies dieselfde groep ingedeel as die Amerikaners voor wie ek ingedruk het … Aanvanklik was dit erg ongemaklik, maar ons kon darem ’n dag later op die water oor ’n bier of twee vrede maak nadat ek behoorlik boete gedoen het oor my onbesonne daad.

* * *

Gelukkig was daar nie veel van ’n tou by die pelgrimskantoor in Saint Jean nie. Slegs vier mense voor my, om presies te wees. Ek sou nie kort na my aankoms by die beginpunt van die Camino een of ander internasionale insident wou veroorsaak nie. Die kantoor is ’n klein vertrek met drie omies wat agter ’n tafel sit en plegtig boekies uitdeel en stempel. Teen die muur is ’n groot kaart wat Dag Een se roete oor die Pireneë van hier tot in Roncesvalles aandui.

Die meeste stappers kry hier hul Pilgrim Record of Credencial, beslis jou belangrikste dokument op die Camino. Hierdie boekie dien as bewys dat jy ’n pelgrim is. Met dié boekie kry jy toegang tot die albergues langs die roete en kan jy afslag kry by restaurante – die meeste eetplekke het pilgrim menus sodat jy teen ’n winskoop aandete kan geniet. Jy het ook hierdie paspoort nodig indien jy aan die einde van die Camino ’n amptelike “Compostela” wil kry – die sertifikaat wat bewys jy het die pelgrimstog afgelê.

Jy kwalifiseer vir ’n Compostela as jy ten minste honderd kilometer te voet of te perd afgelê het tot in Santiago de Compostela, of twee honderd kilometer op ’n fiets. Verder moet jy ook stempels (dit word “sellos” genoem) in jou Camino-paspoort kry by die albergues en restaurante wat jy besoek. As jy die Camino byvoorbeeld hier in Saint Jean begin, het jy een stempel per dag nodig, en as jy slegs die laaste honderd kilometer stap, twee stempels per dag (vir een restaurant en een blyplek langs die pad, byvoorbeeld).

Ek het my Pilgrim Record reeds vooraf by The Confraternity of Saint James South Africa ontvang, en het dus net my eerste stempel in Saint Jean nodig.

In die kantoor lê daar ook ’n mandjie vol skulpe. Vir ’n klein donasie (ek gooi twee euros in die blikkie) kan jy ’n skulp kies wat jy dan saamdra op jou Camino. Die meeste stappers maak die skulp met ’n stukkie tou agterop hul rugsakke vas. Ek kies vir my ’n mooi pasteiskulp – dit lyk ’n bietjie soos Shell se logo. Die skulp is, soos die geel pyltjies wat die roete aandui, een van die simbole van die Camino.

Daar is verskeie stories en legendes oor die skulp se simboliek. Die lyne op die skulp dui glo op die verskillende roetes wat almal bymekaarkom op een plek: Santiago de Compostela. In die Middeleeue het die pelgrims van ouds die skulp vasgemaak aan hul jas, hoed of staf. Op my pelgrimspaspoort is daar juis ’n skets van ’n destydse pelgrim met twee skulpe amper soos lapelle netjies op sy jas vasgemaak. In die ou dae het die pelgrims glo ook die skulp gebruik as ’n bakkie om water of sop mee te skep. Hulle het natuurlik nie die luukse van ’n reeks produkte en vlekvryestaal-koffiebekers gehad nie. Pelgrims het ook destyds, wanneer hulle Santiago de Compostela van waar ook al bereik het, dikwels nog honderd kilometer aangestap, tot by Finisterre. Daar het hulle gewoonlik van die pasteiskulpe opgetel op die strand en dit dan terug huis toe geneem, as verdere bewys van hoe ver hulle gestap het.

Dit is iets wat ons moderne stappers maklik vergeet: Wanneer die pelgrims van ouds twee duisend kilometer van Parys of agt honderd en twintig kilometer van Saint Jean gestap het tot by Santiago de Compostela of Finisterre, moes hulle weer al die pad terugstap huis toe. Nie soos ons wat gerieflik op ’n bus of ’n trein of ’n vliegtuig klim nie.

By die einste Finisterre is daar volgens legende ’n ridder deur die apostel Jakobus uit die see gered, en het Jakobus soos ’n mitiese seewese verrys uit die branders, heeltemal oortrek met skulpe. Selfs voor die koms van die Christendom was die skulp vir die paganiste ’n simbool van vrugbaarheid en nuwe geboorte.

Buite die kantoor, met my paspoort gestempel en met ’n pasteiskulp vasgemaak op my rooi rugsak, loop ek weer vir Robert van Port Elizabeth raak waar hy in die tou staan. Ek wil skielik vir my pa laat weet ek is oukei en reg om die Camino te begin. Robert neem ’n foto van my en SMS dit vir my pa met die woorde: “In Saint Jean en gereed vir die Camino! Baie liefde, Erns.”

Ek sien ook weer vir Claire, wat my vertel sy mik na die Orisson-herberg, wat so nege kilometer van hier is, reeds ’n ent teen die Pireneë uit. Ek raai haar aan om die herberg te probeer bel om te bespreek, want ek het aanvanklik beplan om die volgende aand daar oor te slaap, maar dit was reeds vol.

Dalk is dit wensdenkery, dalk intuïsie, maar ek kan aanvoel my en Claire se paaie gaan weer kruis toe sy daar wegstap in die rigting van die hoë groen berge op die horison.

* * *

“Do you have wifey?” vra ’n man met ’n sterk Duitse aksent en ’n taamlik wilde kyk in sy oë in Beilari se voorportaal. ’n Oomblik lank dink ek die man soek ’n vrou, dalk selfs ’n gesellin.

Die gasheer, Josele, antwoord ferm, maar met ’n zenkalmte. “Yes we do have wi-fi, but we don’t switch it on for guests. The whole idea of the Camino is to be more present. If you really need wi-fi, there are coffee shops outside.”

Die Duitser stel homself voor as Karl-Heinz. Hy lyk effens ontsteld om te hoor hier is nie wi-fi nie. Dit pla my nie in die minste nie, ek het in elk geval nie ’n foon nie.

Ek probeer onthou wat die laaste woord of ding was wat ek gegoogle het. Dit was seker maar iets oor Slagtersnek. Die laaste video waarna ek op my foon gekyk het, was ’n kort videogreep wat uit die Kgosi Mampuru II-tronk gelek het, waar Oscar Pistorius sokker speel saam met Radovan Krejčíř.

Josele is ’n netjiese Fransman in sy middeljare, stil en vriendelik. Een-een daag die pelgrims op en stel hulself voor. Reiner van Duitsland. Michelle van Ierland. Moss van Holland. Chris en Ann, ’n bejaarde paartjie van Australië. George van België. Bill van Kanada, en Jim, ’n Amerikaner wat soos Piet Koornhof lyk.

Karl-Heinz het darem bedaar oor die wi-fi. Hy vertel hy het bespreek by Orisson, so sy eerste dag gaan glad nie erg wees nie. Ek voel ’n bietjie jaloers dat ek te laat geslaap het om daar te bespreek.

Die albergue Beilari is ruim, skoon en netjies. Baie skoner as wat ek myself ingeprent het. Ek stap die trappe op om my rugsak in die kamer te gaan bêre. Teen die muur is ’n lugfoto van die ligtoring by Finisterre, met net die woord FINISTERRE daarby. End of the earth. Dit lyk nogal soos Kaappunt, net mooier.

Ek beplan om nadat ek by Santiago de Compostela uitgekom het, die verdere honderd kilometer te stap na Finisterre. Tot waar jy letterlik nie meer verder kan stap nie. Ek hou van die simboliek daarvan om hier, reg aan die begin van die Camino, ’n blik op die eindpunt te kry. Tussen Saint Jean en Finisterre lê omtrent nege honderd en twintig kilometer.

Langs die plakkaat van Finisterre is ’n aanhaling van die Boeddha, of eerder le Buddha, want dit is in Frans: “Ne cherche pas le chemin du bonheur, car le chemin c’est le bonheur.” My Frans is omtrent so beroerd soos my Spaans. Ek skryf die frase neer en vra vir Josele om dit vir my te vertaal. Hy glimlag: “There is no way to happiness. Happiness is the way.”

Nou hoef ek nie my hoop daarop te vestig om ’n Damaskus-oomblik of een of ander openbaring iewers langs die pad te verwag nie. Ek is bly ek kon le Buddha se woorde lees voor die Camino begin.

* * *

Ek het in 1999 ’n Boeddha-beeldjie by my eerste meisie present gekry. Sy het dit glo in een of ander tannie wat ’n vryskutwaarsêer was se karavaan gevind. Dit was so ’n lekker ronde, vet Boeddha (kry ’n mens enige ander tipe?) met lang oorlelle en die glimlag van iemand wat hoofletterVerligting in elke sel ervaar.

Wat dié Boeddha nogal eiesoortig gemaak het, was die Afrikaanse frase op die beeldjie: VIR GEWIGSVERLIES. Ek was destyds nogal verbaas oor die Afrikaans, die Boeddha was tog sekerlik ’n bietjie volksvreemd, veral vroeër jare.

Dié stomme Boeddha het wel glad nie gehelp met gewigsverlies nie. Inteendeel, ek het sedert die laat negentigs eerder ’n gewigopteller geraak, en daarmee bedoel ek nie ’n Bulgaarse spiertier met bultende are by die Olimpiese Spele nie. (Ek blameer dit nie op die Boeddha nie.)

In daardie selfde jaar het die meisie my na slegs vyf maande gelos. Ek het dit glad nie sien kom nie. As ek nou daaraan terugdink, was ek maar net negentien en jonk en naïef. Die ooremosionele kabaal wat ek tydens die afsê opgeskop het, was werklik onnodig. Ek het soos ’n tarantula op tik haar boekrak bestorm om my boeke terug te eis, snikkend na my Volkswagen Chico gehardloop en eers by die kar besef my sleutels lê nog op haar bed.

Dit was ook nie nodig om ’n week later vir haar te maak sit op ’n bankie by die see en lang paragrawe uit Viktor Frankl se Man’s Search for Meaning voor te lees met meeue wat kras en ’n roomyskarretjie se klingel as klankbaan nie. ’n Desperate poging om ’n gevoel wat haar wese duidelik volledig verlaat het met ’n Holocaust-oorlewende se insigte terug te dwing. Ai. Maar soos Kevin Kline se karakter in die fliek Life as a House sê: “Hindsight. It’s like foresight without a future.”

Toe al my pogings misluk het en ek myself jammer genoeg gekry het, het ek en my pel Langes toe maar met dagga begin eksperimenteer. “Eksperimenteer” klink miskien sinister, maar dit was glad nie so nie. Ek was Meneer Voorbeeldig op hoërskool en het nie eens aan ’n sigaret, ’n blikkie bier of ’n meisie se hand geraak nie. So die eerste tien keer wat ek en Langes saam dagga gerook het, het ek nie eens geweet hoe om die zol in te trek nie. Ek het hoogstens gepuff en natuurlik glad nie hoog geraak nie. Ek weet nie of Bill Clinton gelieg het of nie, maar ék kan ruiterlik erken oor daardie eerste pogings: “I didn’t inhale.”

Ek het ook ’n zen-tuintjie aangeskaf. Een wat sommer in ’n pot op my lessenaar gepas het in my studentewoonstel in Somerstrand, in Port Elizabeth.

’n Paar maande later, toe ek oor die ergste skok van die break-up was, sit ek in die feeskoerant Krit se kantoor by die KKNK, besig om ’n resensie met een hand te tik en met die ander ’n dubbel Klippies-en-Coke op te lig. Langs my praat Lochner de Kock, wat by Krit kom inloer het, tot groot vermaak van almal in sy Sarel Seemonster-stem.

Toe lui my selfoon. Dit is my ma en sy vertel sy was by my woonstel en het die “kamer so ’n bietjie skoongemaak”.

Ek skrik my skoon nugter. My ma kan goed skoonmaak. Daarvoor is ek as ’n lui en bedorwe student diep dankbaar. Maar sy het ook die vermoë om rond te snuffel. Forensies. En bo-op my boekrak lê ’n FNB-banksakkie vol dagga.

Ek het dit skaars besef, toe wil sy weet: “Erns, ek het jou boekrak afgestof en so ’n banksakkie vol … sade … gevind. Is dit dagga?”

“Nee ma, jinne, dis die saadjies vir my zen-tuin op die lessenaar,” rol die leuen van my tong af.

“O, so hoe gaan dit by die KKNK?” wil sy toe volgende weet.

* * *

Die middag by Beilari is rustig. Ek stort en was my klere. Dit is my voorland vir die volgende veertig dae – op die Camino was jy self jou klere. Met die hand, of jy dok ’n paar euro’s op om ’n wasmasjien te gebruik.

Dit is iets waarna ek baie uitsien: die eenvoud van my eie klere met die hand was, so gereeld as moontlik. Ek doen dit nooit tuis nie, ek het regte lessenaarhandjies van heeltyd op ’n laptop sit en werk.

Ek verwyl die res van die middag aan tafel saam met Joselo en van die ander stappers. Teen die muur is ’n esoteriese skildery van ’n skulp met ’n mens wat in die middel daarvan staan. Uit die persoon se linkerbeen en kop kronkel twee lyne wat byna ’n tipe labirint maak en ook die binnelyne van die skulp vorm.

Dit lyk na iets lekkers om te probeer teken en hoewel ek geen talent hiervoor het nie, het ek nou tyd op hande en kan ek netsowel probeer. Terwyl almal rondom my sit en klets oor logistiek, wonder oor wi-fi en oor hoe erg môre se stap oor die Pireneë gaan wees, probeer ek nougeset die skildery oorteken in my dagboek. Ek gaan nou nie oornag in ’n kunstenaar verander nie, maar ek is heel tevrede met die eindproduk.

* * *

Inskrywing in Moleskine-joernaal

Dit is iets na vyf, ek sit alleen op die agterste terras van ’n klein Franse deli. Ek het ses euro vyftig spandeer op ’n workmanlike baguette met salami en ’n awesome artisinal bier – Bob’s beer – ’n blonde bier, diep workmanlike, ’n kind lag in die agtergrond, Franse musiek speel oor die speakers, ’n tipe Piaf Lite, en weet jy, die lewe is goed, soos Liezel van Beek ná die Visrivierstaptog gesê het: ons lewe, en dis genoeg.

* * *

Ná ek by die Franse deli gesit het, het ek nog ’n halfuur om in Saint Jean rond te stap voor ek weer by Beilari moet wees vir ons kommunale aandete in die tuin. Ek val in by een van die souvenir-winkels en koop twee penne en ’n nuwe aluminiumkoffiebeker.

Die meisie agter die toonbank kan Engels praat en vertel hoe gewild die Camino die afgelope jare geraak het, selfs nou in Meimaand. Net die vorige dag het vyf honderd stappers glo die oggend uit Saint Jean alleen met hul Camino begin.

Ek stap op langs die Rue de la Citadelle na die hek van Saint James, waar stappers wat die Camino op drie ander wegspringplekke begin ook deurstap.

By die stadshek lees iemand se graffiti: “Le voyage est la seule chose que tu payes et qui te rend plus riche” Reis is die enigste ding waarvoor jy betaal wat jou ook ryker maak.

Dit is diep Franse platteland hier, die ene pastorale tonele. ’n Ent weg is ’n rugbyspan – dit kan seker net die dorpspan wees – besig om te oefen.

Dit herinner my aan dorpspanne uit my jeug in die tagtigs: Old Collegians (OC’s, of Ousjas), Swifts en Despatch. My pa was in daardie jare onderwyser en skoolsielkundige by die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar op Uitenhage. Hy was ook oor naweke rugbyskeidsregter, veral by klubwedstryde.

Ek het baie van die plaaslike derbies bygewoon op Uitenhage se Sentrale Veld, soos dit destyds genoem is. Dan het ek tussen die mense gesit en gekyk hoe my pa blaas. Hulle het soms gekla oor die ref en hom allerhande dinge toegevoeg, sonder om te besef sy seun sit tussen hulle.

Eers later jare sou ek besef hoe bevoorreg ek was om spelers soos Danie Gerber en Frans “Domkrag” Erasmus te kon sien klubrugby speel.

Die vuiste het dikwels geklap tydens hierdie wedstryde, veral wanneer Despatch en OC’s kragte gemeet het. Met heethoofde soos Adri Geldenhuys en Armand du Preez in ’n losskrum kon dit seker nie anders nie.

Maar niemand kom naby Japan le Roux nie – in ’n stadium kaptein van Uitenhage se eerste rugbyspan. Japan, ’n wildewragtig van ’n agtsteman met so ’n blonde kuif, het hierdie truuk gehad: Hy sou saam met die skrum sak, maar dan sodra die manne gebind het afsak grond toe, vorentoe leopard crawl en die opposisie se haker met die vuis in die gesig slaan. Die skrum sou dan noodwendig ineenstort, maar Japan het genoeg tyd gehad om agteruit te leopard crawl en dan onskuldig van agter op te kyk om die skeidsregter te vra wat verkeerd gegaan het.

Japan het egter later jare sy moses teëgekom toe hy een aand tydens ’n wedstryd ’n skeidsregter katswink geslaan het. Waar is Japan deesdae?

* * *

Ek stap op na die Citadel, ’n fort wat in 1628 gebou is. Hier is ’n inligtingsbord met feite oor die dorp en die Citadel se ontstaan. Ek vang myself uit dat ek besig is om Weg-tipe notas neer te pen:

•Koning van Pamplona, García Ximénez, 716 die dorp gestig

•12de eeu – San Juan del Piede Portus

•King of Navarre – King Sancho VII the Strong

•Pyrenees + Protectors – John Baptist

•4 passe oor Pyrenees: bv. Lepolder (1440 m)

•Stronghold, frontier town + commercial crossroads

•Wyn en cider word hier gebrou

Dit gaan ’n uitdaging wees om die Camino nie soos ’n Weg-artikel aan te pak nie. Eintlik wil ek so min as moontlik skryf.

Ek toets my lastige knie en klim die twee honderd nege en sestig trappe tot by die uitkykpunt bo by die Citadel. Hier lê die hele dorpie met sy wit geboutjies en terracotta-dakke voor my, met die magtige en moerse intimiderende Pireneë op die horison.

Hier is ’n aanhaling van Aymeric Picaud, die twaalfde-eeuse monnik en pelgrim wat die Codex Calixtinus geskryf het oor sy eie Camino-pelgrimstog. Dit word as die eerste gidsboek vir pelgrims beskou. Picaud skryf oor die Pireneë: “It’s eight thousand miles high and as much down.” Kyk, hy oordryf erg, maar ek gaan beslis harde bene kou om teen daardie berg op en af te klim op my eerste dag. ’n Volle vyf en twintig kilometer lê tussen hier en Roncesvalles in Spanje.

Ek sal moet kophou en myself vinnig fiks stap.

Ek maak ’n lynskets van die Pireneë in my notaboekie, om myself te keer om nog Weg-tipe notas te maak. Al langs die berg se buitelyne skryf ek: So die plan is om môre in een taamlik wilde go oor hierdie fokken hoë berge te klim omdat ek nie ’n Duitser is wat byvoorbeeld al in Januarie by die baie cool oorblyherberg Orisson bespreek het nie. Nou moet ek en ander stappers soos die gawe Kanadees Bill byvoorbeeld eenvoudig kophou en die +/- more or less 27 km oor die bleddie berge oor tot onder in Roncesvalles en hopelik met ons knieë wat hou anderkant uitkom en oukei wees.

Nog ’n stapper, ’n middeljarige vrou, kom staan ook by die uitkykpunt. Ek wil graag ’n foto van hierdie oomblik hê, en deel my eerste Weg-besigheidskaartjie uit. My plan is om self geen foto’s te neem nie, maar wel nou en dan vir vreemdelinge te vra vir ’n foto, hulle ’n besigheidskaartjie in die hand te stop en my inboks dop te hou wanneer ek terug is in die Kaap.

* * *

Tydens aandete in die tuin speel ons ’n tipe kenmekaarspeletjie, noem dit ’n Baskiese ysbreker. Gelukkig nie die tipe weird ysbrekers wat ek onthou van CSV-kampe op Jeffreysbaai in die negentigs nie, toe ons byvoorbeeld ’n appel met ons kenne vir mekaar moes aangee. Vir dié speletjie moet almal om die tafel ’n denkbeeldige bal na mekaar gooi. As jy die bal “vang” moet jy jou land uitroep en weer die bal vir ’n ander persoon gooi.

Hierna vertel elkeen om die tafel waarom hy of sy die Camino doen. Joe van die VSA is al byna sewentig jaar oud en stap sy derde Camino. “I have to come back every year, it’s the Camino,” sê hy, sy gesig die ene vrede.

Chris en Ann van Australië doen dit om tyd in die buitelewe te spandeer en terug te dink. Die groot en gawe Kanadees Bill sê stellig: “I know it sounds strange, but God wants me to be here, he has a plan for me.”

Michelle, ’n Ierse vrou, het haar ma wat kanker gehad het lank versorg. Die ma is twee maande gelede oorlede, en sy het die Camino kom stap om haar dood te verwerk. “I will meet myself,” is al wat die wi-fi-lose Duitser Karl-Heinz met groot sekerheid sê.

My antwoord: “I hope to find out along the way why I’m doing it. I’m looking for new answers and new questions. And as a journalist I always travel with my camera and mobile phone. I’ve decided to leave it all behind and go for a digital detox.”

Aandete is vegetaries en gesond: daar’s blomkoolsop, wortelslaai, groenslaai, bruinrys en lensies. Vir nagereg eet ons jogurt, amper ’n tipe sorbet. En ons drink rooiwyn.

Josele is ’n inspirerende gasheer en noem ons almal ’n “planetary family” wat van regoor die wêreld bymekaarkom om te stap.

Hy beklemtoon die belangrikheid van stilte en ’n gevoel van “landing and grounding” wat ’n mens op die Camino behoort te ervaar. Hy wys in die rigting van die Pireneë. “Don’t be anxious. The mountain is ready for you, it’s waiting for you.”

Josele vertel oor die Baskiese taal – dat dit selfs ouer as Latyn is en heeltemal onafhanklik van ander Europese tale ontwikkel het. En hy vertel van die Baske se voortdurende stryd om selfbeskikking – die grens tussen Spanje en Frankryk sny die Baske se gebied in twee.

Hy vertel ons van die woord “ultreia”, ’n woord wat ’n mens elke tree op die Camino saam met jou kan neem. Dit beteken “onwards, forward”.

Of aan-met-die-lyk, dink ek by myself.

Jare gelede het ek hierdie staaltjie by ’n vriendin van my se ma gehoor: Daar was glo ’n oom op ’n klein dorpie, kom ons noem hom Elias, wat besonder lui was. Oom Elias was so ’n lui nikswerd gewees dat die gemeente maar besluit het om hom eerder lewendig te begrawe. Hy was só lui dat hy dit as ’n verligting beskou het.

So het die dag van die begrafnis aangebreek en ná die kerkdiens is die gemeente vort na die begraafplaas. Die draers het statig vir oom Elias, wat springlewendig in sy kis gelê het, na sy oop graf gedra. Een van die gemeentelede kon dit nie oor haar hart kry dat oom Elias nou so voortydig begrawe word nie. “Is daar tog nie ’n werkie wat oom Elias dalk hier rond sal wil doen nie?” wou sy weet. “Dalk kan hy iets doen soos help houtjies kap of …”

Sy kon nog nie haar sin klaarmaak nie, of oom Elias brom uit die kis: “Aan-met-die-lyk! Aan-met-die-lyk! Watse ge-houtjies kap is dit dié?”

* * *

Teen agtuur die aand is ons almal reeds in die kamers, besig om reg te maak vir slaaptyd. Dit is een groot geritsel van sakke en plastieksakke. Niemand praat nie, ’n tipe stiltetyd het aangebreek. Buite skyn die son nog helder.

Ek kan die opwinding en ligte spanning in die vertrek aanvoel. Die onsekerheid knaag. My plan is om ’n goeie nagrus te kry. Ek is steeds uitgeput ná die vorige drie dae se reis en die chaos van Slagtersnek en alles wat ek nog in die week voor my reis moes afhandel.

“Would you mind if we walk up the mountain together?” kom vra Bill my so half versigtig.

Ek stem dadelik in. Hoewel ek beplan om meestal alleen te stap en ek nie kans sien vir enige ander stapper se verwagtings of druk nie, lyk Bill na ’n goeie reisgenoot vir die eerste skof. En ek sal myself hopelik ook nie op die eerste dag te hard druk as ek saam met iemand stap nie.

* * *

Niemand kla oor my snorkery nie, so hopelik het ek niemand laas nag wakker gehou nie.

Ons eet gou ’n eenvoudige ontbyt: croissant, beskuitjies, kaas en konfyt. Josele herinner ons om ’n boom agter in die tuin te besoek. Daar hang ’n groot sak vol klein plastiekballetjies. Binne elke balletjie is ’n papiertjie waarop stappers neergeskryf het wat hulle graag tydens die Camino wil bereik.

Ná ontbyt gaan sit ek vir ’n paar minute in stilte langs die boom, haal dan ’n pen uit en skryf op een van die papiertjies: “To learn to love myself, be present, know my worth, walk the earth.”

* * *

In November 2014 het ek een Vrydagmiddag kop onderstebo in Weg se Skukuza-raadsaal gesit tydens my halfjaarlikse werksprestasiegesprek met my redakteur, Pierre, en assistent-redakteur, Esma.

Ek het my benarde situasie weens ’n persoonlike krisis op ’n lomp en onsamehangende manier geskets. Dalk was dit ook maar ’n desperate poging om my onvermoë om sperdatums te haal te probeer regverdig.

In daardie stadium was ek so volledig in my moer in dat ek ook nie meer veel omgegee het nie. Ek het myself eintlik voorberei op iets soos amptelike stappe, of dat iemand van HR hul hoë hakke gaan kom stamp hier op die vierde vloer en een of ander proses in werking gaan stel.

Ek was nog altyd sleg met sperdatums. My behoud was dat wanneer iets uiteindelik ingehandig word, dit aan die verwagtings voldoen en dit dikwels oortref het. So het ’n vorige redakteur my die bynaam “Late but Great” gegee. Nie iets waarop ek noodwendig trots is nie, maar ten minste het dit gehelp dat ek nie my werk verloor nie.

Maar in plaas van tugstappe uitspel of ’n tirade lewer (nie dat hy enigsins bekend is vir laasgenoemde nie), het Pierre doodrustig gesê: “Erns, ek weet nou is nie die tyd vir platitudes nie, maar this too shall pass.”

This too shall pass. Dit is ’n bekende sêding, en ja, soms ’n platitude, maar Pierre se woorde het tog iewers diep binne my geresoneer.

Op pad terug na my lessenaar ná die vergadering het ’n aanhaling van Dana Snyman teen die muur my oog getref: “Deur te reis ontdek ons nie net hierdie mooi, ontsagwekkende aarde nie; ons ontdek ook ons eie en ander mense se menslikheid. Daarom sal ek altyd ’n reisiger bly.”

Ek het onthou hoe ek as jong kind, ek was seker sewe of agt jaar oud, ’n boek met die naam Light From Many Lamps in my pa se studeerkamer gevind het.

Dit is een van daardie boeke met inspirerende staaltjies van regoor die wêreld. Die enigste een wat ek baie goed onthou, was van ’n heerser iewers in die Verre Ooste wat groot bekommernisse gehad het. Hy stel toe ’n uitdaging vir sy wyse raadgewers: Kom vorendag met ’n universele frase wat van toepassing sal wees op alle tye en situasies, goed én sleg. Daarby moet die frase kort genoeg wees om op ’n ring gegraveer te word.

Die raadgewers het lank gaan kopkrap en uiteindelik na die koning teruggekeer met die volgende woorde: “This, too, shall pass away.”

By die rekenaar het ek “This too shall pass” gegoogle. Verskeie foto’s van mense wat dié woorde as tatoeëermerk laat aanwend het, het opgekom. En verder ondertoe die volgende:

This too shall pass.

Until then,

Fetch wood,

Carry water,

Walk the Earth.

Fetch wood. Carry water. Walk the Earth. Ek het dadelik gehou van die eenvoud. En wat “Walk the Earth” betref het één woord by my aangemeld: “Camino”.

Elders

Подняться наверх