Читать книгу Droomdelwers - Esta Steyn - Страница 4

1

Оглавление

My naam is Kêppies Killian, maar dit staan nie so op my geborente-papiere nie. Daar staan dit opgeskrywe as Kirstoof Jakobus Killian. Ek kan self nie sê waar die naam Kirstoof vedaan kom nie. Niemand het my ooit soe genoem nie, my ma-goed hulle okkie. Ek was maar van kleins af Kêppies gewies. Ek is ses-en-sewentag jaar oud en ek is hiersa gebore op Vlaktevlei by die groot see van onse Weskus. Dis hoeka hiersa waar ek nou sit om my storie te vertel. Ek wietie hoe mens soe ’n soort storie vertel nie. Waar loop haal jy sy begint? Hy’s soesie see self. Hy swel op in jou kop soes ’n groot deining. Maar voorlat jy hom kan vasvat, briek hy yt oppie sand. Al wat jy sien, is sy skymstriep. Dan glip hy terug diepwater toe. Maar voorlat hy terugglip, sal ek hom vasgevat moet kry. Want hy skrou om gevertel te word.

Miskien begint my storie op daai Sondag wat die rooikop yt die Silwerkruis-tronk ytgekom het van die Vrystaat af. Sy was die oudste dogter van oorle’ Hennerik Rooihel.

Leendra van Hellberg kyk om haar heen. Die busterminus op die Kaapse stasie is ’n luidrugtige gedrang van mense wat kom en gaan. Waar is oom Phil? Sê nou hy het vergeet? Mense stoot trollies met bagasie rond. Sy het nie bagasie nie, net die bruin papiersak met padkos wat hulle vir haar by die uitklaringstoonbank gegee het. Toebroodjies met Marmite en kaas, twee appels en ’n pakkie tjips en koeldrank. Sy het nie die brood geëet nie. Net die appels. Sy sien ’n tenger koerantverkopertjie wat teen ’n pilaar leun. Die kind lyk vaal van die honger. Sy stap na hom toe en sit die bruin papiersak op die stapel koerante neer. Hy kyk haar dankbaar aan en maak die papiersak oop. Liewe kind, jy weet nie waar hierdie brood vandaan kom nie. Mag jy nooit in jou lewe op so ’n plek beland nie.

Sy stap weg en wanneer sy omkyk, sien sy hoedat die kind gulsig eet. Haar bene voel bewerig. Sy het nie op die bus geslaap nie, was die hele nag bewus van die weerkaatsing van haar gesig teen die glasruit: niksseggende oë wat in hare kyk, sonder enige teken van vrywording. Toe die oggend grys word oor die Karoo, het sy wel ingedommel, net om weer wakker te skrik en te weet dat sy nooit vry sal kan wees voordat sy nie die waarheid weet nie. Die volle waarheid en niks anders nie as die volle waarheid.

Dan sien sy Phil van Tonder van ver af aankom. Netjies aangetrek, grys baadjie en rooi das. Hy is dikker om die middel as wat sy kan onthou. Die kepe om sy dubbele ken het dieper geword. Voorheen het sy nooit juis veel vir hom te sê gehad nie. Nou is sy oneindig dankbaar om hom te sien. Vir die eerste maal sedert die traliehekke agter haar toegeklap het, besef sy dat sy regtig op pad huis toe is. Soutmansdal toe.

“Oom Phil!”

Sy swaar arms vou vaderlik om haar skraal liggaam. Sy stem klink aangedaan: “Ek kan nie glo jy staan voor my nie.”

“Ek kan dit ook nie glo nie.”

“Waar’s jou goedjies? Die kar is daar oorkant. Ek het gesukkel om parkering te kry.”

“Ek het mos nie … bagasie nie, oom.”

Net ’n helse vrag uit die verlede.

Teen die pilaar is die koerantverkopertjie besig om die pakkie tjips te eet. Hy glimlag vir haar. Sy glimlag terug.

Dis meer as twee uur se ry Soutmansdal toe. Phil van Tonder se groen Mercedes dreun oor die Weskuspad. Leendra sit stil en staar voor haar uit.

Phil kyk haar vlugtig aan. Hy het gedog dat die pad kort sal wees, dat sy aanhoudend sal praat oor die lewe daar anderkant. Maar sy praat nie. Daar is net ’n vreemde stilte tussen hulle.

Hy skraap sy keel skoon. “Jy weet seker dat ek weer getroud is, nè?”

“Ant Sweetie het vir my geskryf.”

“Ook maar goed, want ek is nou nie so ’n wafferse korrespondent nie. En ou Sweetie sal natuurlik altyd die eerste een wees om al die skinderstories oor te dra. Wat sê sy nogal van Lucia?”

“Nie veel nie. Dat sy ’n stillerige soort mens is.”

“Ek het die huis so bietjie laat opknap ná die troue. Lucia is dit nogal goed gewoond. Haar ma kuier op die oomblik by ons. Welgestelde ou lady. Met ’n plaas in die Karoo. Hulle beplan ’n groot ete vir vanmiddag. Vir jou koms.”

“Ek wil nie hê hulle moet moeite doen nie.”

“Liewe land, Leendra, dis nie moeite nie. Lucia sien baie daarna uit om jou te ontmoet. Sy’t nuwe gordyne en duvets in jou kamer gesit.”

“Ek wil nie ’n ontwrigting veroorsaak nie.”

“Dis maar soos Lucia is. Alles moet altyd perfek wees. Jy sal haar nog leer ken.”

Sy kyk hom dringend aan. “Hoe … hoe gaan dit met Sielie?”

“Wel, Lucia kom gelukkig goed klaar met daai sussie van jou. Dis natuurlik nie aldag maklik nie. Dit … ek … ek dink dit sal vir Sielie tyd vat om weer aan jou gewoond te word. Miskien onthou sy vir jou. Miskien nie.”

“Oom Phil, ek sal ook tyd nodig hê.”

Sy stem word sagter: “Ek weet dit. Ek en Lucia besef dit. Dat dit vreemd vir jou sal voel. Maar die mense van Soutmansdal het nie verander nie.”

“Hulle het seker ook nie vergeet nie.”

Phil se vingers klem effens stywer om die stuurwiel.

“Oom Phil, ek het die gebeure van daardie dag weer en weer nagegaan. Honderde kere.”

Hy het nie verwag dat die gesprek so ver sou vorder nie. “Wil ons regtig daaroor praat?”

“Ek sal nooit …”

“Hoekom wil jy jouself verder kasty? Het dit nie tyd geword om die verlede te los waar dit hoort nie?”

“Ek sal nooit vry kan wees voordat ek weet wat ek moet weet nie.”

Daar is ’n lang stilte voor hy sê: “Jy lyk nogal moeg. Jy kan mos ’n bietjie slaap.”

Sy krul haar op teen die sitplek. Haar lang rooi hare val eenkant toe.

Sy sug diep terwyl die slaap haar oorval.

Hy kyk met ’n opwelling van deernis na haar. Na die klein rooi sproetjies op haar wit vel. Vandat hy haar laas gesien het, het die sagte ronding van haar wange plek gemaak vir skerper lyne. Sy het ouer geword. Maerder ook. Die bruin langbroek sit los om haar middel. Die roomkleurige linnebaadjie lyk maar bra verkreukeld. Hy onthou met ’n skok dat dit dieselfde klere is waarin sy sewe jaar gelede in die hof gestaan het. Sou die lewe daar anderkant hierdie vurige dogter van sy ou swaer, Hendrik Rooihel, regtig ingebreek het? ’n Rissiepit, het hulle haar genoem. Nou, terwyl sy slaap, lyk sy totaal weerloos, asof die veglus finaal geblus is. Sal Lucia met haar kan regkom? wonder hy. En Sielie. Wat van die arme Sielie?

Op die dag wat Hennerik Rooihel se meisiekind huis toe gekom het, het daar ’n anner ding gebeur hierso in die kerk van Vlaktevlei waar my seun Gerald die pastoor is. Gerald, my jongste, was van kleintyd af ’n diep seun van God gewies. ’n Geroepende. As Gerald in die Bybelse tye moet gelewe het, sou hy sweerlik ’n gesalfde gewies het, soos koning Dawid, mooi van aansien, al moet ek dit nou self sê.

Onse kerkie hier in die lokasie staan op die groot oop meent in die middel van Vlaktevlei met die pastorie anie een kant en die viermanskool anie anner kant en bloekombome reg rondom. Baie van Soutmansdal se wit mense kom pertykeer na ons kerk toe, want omdat hulle nie ’n kerk het nie, anderster moet hulle Dwarsmansdal toe ry. Vlaktevlei en Soutmansdal is eintlik soos een. Jy kan die twee plekkies nie van mekaar af losmaak nie. Hulle lê teenaan mekaar, teenaan die see. Nie een van ons het teerstrate nie. Ons het nie groot winkels nie. Ons het oek nie ons eie minisipale kantore nie. Maar ons het ’n poskantoor en ’n slaghuis en ’n general dealer en ’n banktak oek. En natierlik Miss Sweetie se keffie. Dan is daar die hotel van die Redelinghuyse. Dit staan aan die oorkant vannie grootpad teen die koppe. Hoekom hulle doerie tyd so ’n groot hotel daar gebou het, wiet ek nie. Sieker oor hulle so baie geld het. Sieker oor hulle moet kyter virrie mense wat van ver af kom. Die mense wat vannie Noorde afkom om die see ennie klippe, die bokkoms, die soutpanne ennie flaminke te sien, want omdat hulle nie sukke goed gewoond issie.

Onse mense van Vlaktevlei issie mense wat hoog lewe nie. Ons leef vannie see en vannie soutpanne. Die meent met die kerk ennie skool kan jy maar sê issie hart van onse mense. Dis einste ons meeting plek as ons jolyt hou orie groot dae, of as ons trou of as ons ingespit word.

Daai Sondagoggend wassie kerk vol. Gerald se vrou, Jamaina, het soes altyd langs my innie derde bank van voor gesit. Daar was ’n wyl oor haar hoed. Dit het oor haar twee oge gehang en ek het gewonner of sy ooit innie liedereboek gelees kon kry. Haar sent was soos ’n wierookwalm innie bank. Die seuns, Douglas, wat ons Dagghie noem, en Denver, het regs van haar gesit. Op twaalf en dertien is hulle al mooi opgeskote. Maar al is hulle pastorieknape, is hulle nie maklik nie. Daar is baie dae wat ek die plat hand wil inlê, maar Jamaina is baie opgemaak met die nuwe woord wat skielik mode innie skole geword het:“human rights”. Mens mag hulle nie meer slaan nie, sê sy. Jy mag net praat. Praat help wragtag ook net mooi niks nie. ’n Klong wat reggefoeter word, wiet waar liefde vedaan kom, het my oorle’ pa altyd gesê.

Jamaina het nog nooit regtig ’n Vlaktevleier geword in allie jare wat hulle hier is nie. Sy verlang terug Kaap toe, Athlone toe, na Gerald se heel eerste gemeente toe. Sy is een wat hou van aantrek en van mooi goed en van winkels. Jy sien haar nie innie kerk sonner ’n hoed oppie. Ek dink al wat haar eintlik op Vlaktevlei hou, is die skool. Sy is die prinsipaal, altyd streng, maar regverdig. Sy is nooit bang om haar sê te sê nie. Selfs Gerald is pertykeer op sy hoede vir haar tong, wat so skerp soes ’n blyd kan wies.

Gerald Killian sweet onder sy swart toga. “Die Woord spreek vanoggend tot ons uit Jesaja ag-en-vyftig vers elf. Bladsy sewe sewe sewe van die Ou Testament.” Bybelblaaie begin ritsel.

Gerald kyk na sy gesin in die derde bank. Hy voel Jamaina se oë op hom. Sy weet wat gaan kom. Hulle het sedert die Woensdag ure lank agter toe deure gepraat. Hy kyk na sy seuns, Dagghie en Denver, wat nog nie weet nie. En na sy pa. Jamaina wou nie hê dat hy ’n woord voor sy pa rep nie. “Hy sal dit dadelik vir oom Koster vertel. As Koster weet, weet almal,” het sy gesê.

Nou voel Gerald skuldig. Sy pa sit daar so fier in sy kerkpak, die dun grys hare netjies gekam, ’n reguit blik in die oë, met beaarde hande oor die oop Bybel. Gerald se hart klop in sy keel. Hy neem ’n sluk water en sit die glas neer. Druppels spat oor die rand.

“Broers en susters, ek wens u mee te deel dat ek ’n beroep ontvang het vanuit die gemeente Sonop in Atlantis. Ek vra dat u voorbidding vir hierdie saak doen, aangesien ek binnekort my voorneme moet bevestig.”

Die mense begin ontsteld fluister. Die gefluister word al hoe harder.

Gerald kyk oor hulle heen. Oor elke bank. Oor Koster Kaaiman, sy pa se ou boesemvriend. Oor die skoolpersoneel: Vos Philander, Ghaaitjie Willemse, Annie Heraud, Trudie Muggels en die blonde Gretel Grossman, wie se plek Sondae nooit leeg in die agterste bank is nie. Dan kyk hy na sy pa wat verwese na hom staar en dan sy kop stadig laat sak, met hande wat liggies oor Jesaja ag-en-vyftig bewe.

Ná die diens kry die mense nie dadelik koers huis toe nie. Hulle staan in groepies op die meent rond en praat. Hulle bespiegel. Party skud hand met Gerald en maak beloftes van voorbidding. Jamaina bly deurentyd aan haar man se sy. Sy beweeg saam met hom deur die groepe mense. Haar oë glimlag selfvoldaan onder die kantsluier van haar hoed.

Koster sluit hom by oom Kêppies aan wat eenkant staan. “Het jy iets gewis, Broe?” wil hy ontsteld weet.

Oom Kêppies skud sy kop. “Nie ’n dooie woord nie, Koster. Hulle het my niks gesê nie.”

“Jamaina sal nie op haar laat wag nie. Sy sal vir Gerald aanhits om te gaan,” sê Koster met oë wat vir Jamaina volg waar sy saam met Gerald tussen die mense beweeg.

“Tja,” sug oom Kêppies diep.

“Kyk daar. Sy lyk soos ’n kat wat aan die spin gegaan het.” En dan rus sy oë bekommerd op sy ou vriend: “Wat gaan van jou word, Broe? Sal jy saamgaan?”

“Hoe praat jy dan nou, Koster? Jy wiet mos ek hoort waar ek hoort.”

Wanneer Jamaina Killian haar hoed in die kamer afhaal, kyk sy tevrede na haar beeld in die spieël. Haar lenige liggaam is ferm, dog volrond. Sy vou haar hande vlugtig oor haar borste. Die rusplek van Gerald se hande, glimlag sy vir haarself. Haar oë blink. Sy lyk beter as wat sy in jare gelyk het. Die lewe is besig om vir my in lieflike meetsnoere te val, dink sy. Atlantis! ’n Nuwe lewe. ’n Nuwe begin. Daar sal sy vir Gerald die vrou wees wat hy nog altyd wou hê. Op Vlaktevlei kon sy nooit werklik tot haar reg kom nie. Die opstand teen die kleindorpse bestaan het haar liggaam en gees meer as een dag uitgeput tot op die punt van depressie. Al wat haar nog op ’n manier aan die gang gehou het, was die skool. Nou sal die Departement seker vir Vos Philander in haar plek aanstel. Die blerrie Vos met sy gladde bek. Watse soort skoolhoof sal hy wees? Maar wat maak dit tog saak? Sy sal nie hier wees om te sien hoe hy die skool tot in die afgrond bestuur met sy slimpraatjies oor politiek nie.

Sy gaan kombuis toe en bind ’n voorskoot om haar lyf. Soos altyd op ’n Sondag het sy reeds voor kerk gesorg dat die aartappels geskil is en die hoenderstukke ontvries. Sy haal die oondskottel uit en begin om die sous vir die hoender te maak.

Die seuns storm by die oop agterdeur in. Denver pluk die yskas oop.

“Is hier nie Coke nie, Ma?”

“Daar is rooi aanmaakkoeldrank in die kas. Van nou af spaar ons elke sent. Julle sal nuwe skoolklere moet kry, onthou.”

“Hoe lyk die huis, Ma?” wil Dagghie weet. “Gaan ons aparte kamers hê?”

“Dis glo ’n vierslaapkamerhuis, twee badkamers en ’n studeerkamer vir Dadda.”

“Jisso!”

“Die trekkery gaan ’n groot klomp geld kos. Dis nuwe gordyne, dis baie dinge.”

“Is dit ’n groot skool, Ma?”

“Dis ’n baie goeie skool. Ons sal nog self gaan kyk.” En eers dan sien sy haar skoonpa wat doodstil in sy stoel in die hoekie sit. Sy kyk skuldig na hom. “Pa het nog nie ’n woord gesê nie. Pa sal mos kan saamgaan. Ek bedoel …”

Oom Kêppies vryf oor sy kop. “Ek wietie, Jamaina.” En dan sak sy oë weer op die ou, verweerde geel boek in sy skoot. As hy eers aan Strome in die Dorsland begin vasklou, is hy in ’n stryd, weet sy.

Sy bedek die hoenderstukke met foelie en steek die skottel in die oond. “Wel, natuurlik gaan Pa saam,” sê sy onnodig hard.

Toe praat Gerald van die gangdeur af. “Die ganery is nie ’n uitgemaakte saak nie, Jamie.”

Jamaina verstyf. “Wat bedoel jy? Ons kan nie ons lewe lank op Vlaktevlei bly nie! Jy’t dan self gesê Atlantis is so ’n groot kans vir jou … en vir die kinders. Vir my ook.”

“Ek weet. Maar ek het tyd nodig.”

Oom Kêppies sit die boek neer. Hy kyk lank na Gerald. “Dis ons wat wik, my kind. Dis God wat beskik.” Toe staan hy op en vat sy wandelstok wat agter die deur staan.

“Waarnatoe gaan Pa nou?” vra Jamaina.

“Ek stap ’n entjie.”

“Gaan Pa dan nie eers uittrek nie?” Sy’s nie gewoond dat hy die pad vat in sy kerkpak nie. Maar hy kyk nie om nie.

“Ek kom later!” roep hy terug.

Hy loop by die hekkie uit, verby die kerk en die skool oor die meent. Nie seelangs nie. Dorplangs. Die gruis kraak onder sy paar kerkskoene. Hy loop al vinniger totdat sy asem begin jaag, Die seevoëls krys oor die see tot binne-in sy kop, waar gedagtes ’n warboel geword het. Hy loop en loop tot by Miss Sweetie se kafee, waar hy moeg op die trappie gaan sit. Hy bly so sit met sy gedagtes. Hy sal nie saamgaan Atlantis toe nie. Hy sal hier bly. Miskien kan Koster hom met losies help. Hy weet sommer nou al dat Koster niks sal wil hê nie, maar hy sal met sy pensioengeld betaal, want hy wil niks verniet hê nie, al is Koster sy vriend. ’n Mens het jou trots.

Hy kyk op wanneer ’n kar van die teerpad afdraai en Soutmansdal se grondpad binnery. Dis Phil van Tonder se groen Mercedes wat om die draai kom. Toe hy sien wie langs Phil in die motor sit, kom hy verdwaas op sy voete. Want dis Hennerik Rooihel se dogter.

Ou Hennerik Rooihel se meisiekind het daai Sondagmiddag op die dorp aangekom. Sy was saam met Phil van Tonder innie mouter in. Ek konnie haar gesig sien nie. Net die bos rooi hare. Ek het opgekyk na die koppe. Na die Kleinkloef. Tja, die Kleinkloef. Maar anie storie vannie Kleinkloef wou ek nie toe dink nie. Nee. Ek het gekyk hoe die mouter na die soutmyn se kant toe swaai. Wat maak sy hier? het ek gewonner. Het sy dan klaar gesit? Het hulle haar dan gouer laat ytkom? Ek het nie gewiet nie. Al wat ek gewiet het, was dat haar aankoms ’n beroerte oppie dorp sou afgee.

Phil se motor draai in by ’n groot oop stuk grond wat soos ’n plaaswerf lyk. Die naambord by die oop hek blink in die son. Van Hellberg Soutmyn. Daar is bome, buitegeboue en ’n groot ou huis aan die linkerkant. Aan die oorkant staan ’n kleiner huis. Dis hier waar ant Sweetie agter die kantgordyn uitloer en agtertoe roep: “Bontie! Kom kyk! Hulle het gekom!”

“Kom weg van die venster af, Sweetie! Hulle sien vir jou!” Oom Bontie verskyn met krom skouers agter haar.

“Hulle sien my nie,” sê ant Sweetie en probeer haar groot lyf eenkant hou, maar haar oë bly om die draai loer, vasgenael op Leendra wat uit die motor klim. “Jitte, kyk hoe lyk die kind, uitgeteer. En kyk hoe hang die hare. En daar klim Phil ook nou uit. Ewe vol smiles. Wat ek nie kan kleinkry nie, is dat hy haar nooit gebel het nie. Nie eers ’n ou briefietjie geskrywe nie …”

“Ag, Sweetie, jy weet mos hy was daardie tyd ook maar in skok en in rou, soos ons almal.”

Sweetie gee vir Bontie ’n kyk. Dat hy nou wragtag vir Phil opkom. Maar nou ja, Bontie sal nooit ’n verkeerde woord van iemand sê nie. Veral ook nie van Phil wat sy baas is nie.

“Hy’t haar afgeskryf,” sê sy beslis. “Hy’t gedink sy gaan nooit uitkom nie.”

“Ons het almal so gedink, Sweetie,” sug Bontie sag. “Maar die Man van Bo het ons gebede aangehoor.”

Toe Sweetie weer na Bontie kyk, sien sy dat trane oor sy wange afdrup tot in sy stoppelbaard. Sy sit ’n stewige arm rondom hom. Hulle huil saam. En toe kom Boeta ook by die voorhuis in. Hy staan met sy forse lyf die deur vol.

“Ma,” sê hy op sy stadige manier, “Leentjies het huis toe gekom. Oom Phil se kar het nou net gestop.”

“Ons weet, my kind,” sê Sweetie, “ons kan nou-nou oorloop om haar te gaan groet. Sy moet net eers kans kry om vir Lucia te ontmoet. En vir ou Mara.”

“En Sielie, Ma. Sal Sielie haar kan onthou?”

“Ek weet nie, Boeta. Dit weet ek nie. Sewe jaar is ’n lang tyd.”

Lucia van Tonder kyk deur die venster na die skraal meisie wat saam met Phil na die stoep toe aangeloop kom. Die spanning wat al die hele oggend in haar aan die opbou was, gaan binnekort in ’n migraine ontaard, weet sy. Sy het reeds ’n pil gedrink, maar dit het niks gehelp nie. Toe Phil ’n week gelede vir haar gesê het dat sy susterskind ontslaan gaan word, was sy stomgeslaan.

“Daar is nie ’n ander heenkome vir haar nie, Lucia,” het hy gesê. “Sy sal hier by ons moet kom bly, al is dit tydelik, totdat sy iewers ’n werk kry.”

“Natuurlik … hier’s genoeg plek,” was al wat sy beklemd kon uitkry, terwyl haar gedagtes ’n beeld van die meisie probeer vorm het. Die meisie oor wie daar so baie gepraat is.

Lucia loop stadig na die voordeur. Haar ma sluit by haar aan.

Op sewentig is Mara Marais opgetooi soos ’n eertydse aktrise wat wag om weer die verhoog te bestyg. Krale en kettings versier haar beplooide nek. Haar oogskadu is té groen. Haar lipstiffie té pers. Haar gekrulde hare té oranje. Haar bont bloes se groen-en- geel patrone skreeu teen haar skelpienk serp. “Hoekom sê jy nie hulle is hier nie? Lyk ek darem oukei? Dis mos die serp wat professor Louw vir my nog die slag van die Ooste af gebring het. Supergraad-silk.”

Lucia voel hoe klop haar kop. Hoekom moet haar ma net altyd aan haarself dink? “Ma lyk piekfyn,” sê sy stram. Sy sien hoe haar ma se oë nou arendskerp buitekant vasnael op die meisie met die lang rooi hare.

“Kyk net die hare,” fluister Mara kliphard. “Is dit hoekom Phil gesê het sy’t die hel in haar kop?”

“Sagter, Ma …”

“Seker uit ’n bottel. Good grief. Wys jou net. Tronke is ook nie meer wat dit was nie, nè?”

“Ma …” Lucia voel hoe haar wange verkleur. Sy sweer die meisie kon elke woord hoor.

Phil kom nader en sy is bly dat hy so gemaklik en joviaal klink.

“Lucia, ontmoet vir Leendra!”

Die meisie steek ’n skraal wit hand na haar toe uit en die groen oë kyk diep in hare. Ontstellend diep.

Lucia se stem is dun van spanning. “Welkom, Leendra.”

“Dankie,” sê Leendra sag.

“My ma kuier hier by ons … Mara Marais.”

Maar voordat Lucia een woord verder kan praat, begin Mara se konsert. Sy swaai met die arms. Stringe armbande klingel. “Ons is bly julle is nie so vroeg nie!” kondig sy luid aan, “want hier is als in rep en roer. Ons het nou net klaar met die kos. Jy ken nog nie vir Lucia as dit by klaarmaak kom nie.”

Leendra byt op haar lip. “Ek wil nie hê julle moet moeite doen nie.”

Lucia kyk skerp na haar ma. “Ag, Ma maak alles erger.”

“Alles erger? Good grief! Drie soorte vleis! En twee poedings!” Meteens frons Mara en blaas ’n sug uit. Want daar oor die werf kom die Bonthuyse nou van oorkant af aan. “Net soos ek gedink het!” Sy kyk na Leendra. “Daar kom Sweetie-hulle wragtag aangesukkel. Nadat ek so mooi vir haar gesê het hulle moet jou nie so vinnig oorval nie. Dis pure nuuskierigheid.”

Leendra swaai om. Haar gelaat flikker op. ’n Glimlag raak haar breë mond aan. Sy loop die Bonthuyse tegemoet en ant Sweetie se arms hou haar vas. Ant Sweetie is die ene geur van kos, van pampoenkoekies met kaneel. Soos uit ’n tyd lank gelede. Haar bors is sag en warm. En haar trane loop onbedaarlik. “Jitte, ons kan nie glo jy’s uit nie, kind,” snuif sy.

En dan is dit oom Bontie se beurt.

“Oom Bontie!” Leendra hou haar arms na hom uit.

Hy soengroet haar bewoë en sit sy bruingebrande, seningrige arms om haar. Sy stoppelbaard skuur oor haar wang.

“Hoe gaan dit met julle?” vra sy opgewonde.

Ant Sweetie haal ’n opgevoude sakdoek uit haar bors en vryf oor haar oë. “Nog op die ou patroon,” sê sy al snuiwend. “My twee bene staan nog bankvas agter die toonbank en oom Bontie sit nog steeds op die soutmyn. En Boeta het nou sy eie plek. Vir sy sweiswerk.” Sy swaai haar groot lyf om. “Nou waar bly Boeta? Kom nou, Boeta!”

Leendra staar na die groot man wat stadig naderkom en nie weet waar om te kyk nie. Sy groot postuur lyk onbeholpe. Sy kan nie glo dis Boeta nie! Hy was sestien toe sy hom laas gesien het. “Boeta?”

“Dag, Leentjies,” sê hy stadig. Sy stem is grof. “Ek is bly dat jy drie jaar afslag gekry het.”

Mara Marais hou nie daarvan om haar verhoog met ander te deel nie. Dit was nou sommer pure origheid van die Bonthuyse om nou hier te wil aankom. “Ek gaan solank die teewater opsit,” kom sy tussenbeide en kyk vir ant Sweetie misnoegd aan. “Julle sal seker nie nou wil saamdrink nie, nè?”

“Nee, dankie, Mara,” ken Sweetie haar plek, “ons wil nie in die pad wees op so ’n dag nie. Ons het net kom gesig wys.”

Mara gaan haastig die huis in met haar bont bloes wat agterna fladder.

Oom Bontie is dadelik haastig. “Kom nou, Sweetie. Jy’t gesê vyf minute.”

Ant Sweetie vryf oor Leendra se arm. “Ons sal jou later sien, kind. Jy lyk nog een en dieselle. Jitte, mens sal nie sê jy’s deur die dieptes nie.”

Oom Bontie begin al terugstap. Maar Boeta bly rondkyk. “Is Sielie dan nie hier nie?”

Waar is Sielie? wonder Leendra.

“Waar is Sielie?” vra Phil en antwoord hom self: “Sy’t seker weer die pad gevat.”

Leendra kyk die Bonthuyse agterna soos wat hulle terugloop oor die oop werf na die klein huisie aan die oorkant waar kleurryke potplante die stoep versier en oom Bontie se uitgekerfde naambord met die woorde Die Bont Huis steeds teen die stoepdak hang.

Vir die eerste maal voel dit tog vir haar asof sy regtig huis toe gekom het.

“Kom ons gaan in,” praat Lucia agter haar, “jy’s seker doodmoeg.”

Die huis het verander. ’n Deel van die stoep is toegebou en is nou ’n sonnige vertrek met rottangstoele en ’n tafel. Die muur tussen die sit- en eetkamer is uitgebreek en dis nou een groot vertrek. Daar is ander gordyne en matte en meubels. Dit voel nie meer soos die plek waar sy en Sielie grootgeword het nie. Sy ken nie die skilderye teen die mure nie. Wat het van die orrel geword?

Hulle loop die gang af na die kamer wat haar kamer was. Dit lyk vreemd. Die mure is roomkleurig. Die duvetoortreksel en gordyne is ’n sagte appelkooskleur. Die vertrek lyk soos ’n gastekamer met spierwit, opgevoude handdoeke wat op die bed lê en ’n potjie blomme op die spieëlkas.

Lucia kyk haar huiwerig aan. “Daar was van jou klere by die goed wat gestoor was. Ek het dit hier ingesit.” Sy maak die kasdeur oop.

Leendra staar na die inhoud van die klerekas. Is dit my goed? Is dit wat ek daardie tyd gedra het? Netjiese hopies onderklere, truie, T-hemde. Rokke, rompe, denims, langbroeke. Skoene, stewels. Die donkergroen romp. Haar gedagtes word wilde swart diere wat uit skaduwees loer en haar uit haar skuiling wil verdryf.

Die donkergroen romp. Ferdinand.

“Phil het gesê jy kan môre Dwarsmansdal toe gaan om toiletgoedjies te kry,” praat Lucia langs haar.

Sy kan nie antwoord nie. Sy is bang vir haar gejaagde asem.

En dan wals Mara die kamer binne. “Ek hoop jy hou van die kamer! Ons het vreeslik tekere gegaan om alles klaar te kry voor jy kom!”

“Ma …” probeer Lucia keer.

Maar Mara se armbande rinkel. “Nuwe gordyne ook gemaak. Jy ken nie vir Lucia nie – als moet altyd eksieperfeksie wees.”

Vir Leendra voel dit asof haar stem uit ’n ver plek kom. “Dankie, mevrou. Dit lyk baie mooi. Ek wil nie hê julle moet moeite doen nie.”

“En die handdoeke kom uit Lucia se trousseaukis. Voel die kwaliteit. Stuttafords. Ek sê vir Lucia ek weet nie van wit handdoeke vir een wat so pas …”

“Ma …”

“Maar ek sê vir Lucia ek verstaan niks van die amnestie-storie nie. Dat hulle iemand sommer skielik drie jaar afgee. I can’t believe! Dis wat die land so deurmekaar maak.”

Skielik kry Leendra groot lag vir die vrou se groen ooglede wat dramaties flikker. “Ek hoop nie ek gaan als nog meer deurmekaar maak nie, mevrou.”

Lucia kyk verleë na haar ma en dan verskonend na Leendra. “My ma … bedoel dit nie so nie. Die tee is reg … ons gaan op die stoep drink.”

Mara swaai op haar hakke om en kyk reguit na Leendra. “Ek is een wat ’n ding sê soos dit is. Jy sal dit nog agterkom. Ek is nie een vir hidden agendas nie. What you see, is what you get. Ek is reguit.”

“Ek ook, mevrou.”

Mara is onkant gevang. Sy maak haar mond oop en weer toe. Maar dan kyk sy skerp na die verkreukelde pakkie sigarette wat Leendra uit haar baadjiesak haal.

“Mag ek op die stoep rook, mevrou?”

“Op die stoep, ja,” sê Mara en gooi haar serp se punt met ’n lang haal om haar nek. “Maar jy sal moet oppas om nie vir Sielie verkeerde gewoontes aan te leer nie. Sy is baie vatbaar. Baie, baie vatbaar. Aan die ryp word, jy weet.”

“Waar is Sielie, Ma?” vra Lucia bekommerd.

“Ek het vir Phil gestuur om haar te gaan soek. Seker by die soutmyn.” Sy swaai om na Leendra toe: “Skoon verskrik vandat sy gehoor het jy is op pad.”

Die landskap is spierwit. Rye southope lê verblindend helder in die middagson. Dit lyk soos sneeubedekte heuwels. Ver aan die oorkant by die vleiland styg ’n klomp flaminke sierlik op en bly in die lug hang soos pienk langsteelblomme.

Waar Sielie hoog in die stuurkajuit van ’n stootskraper sit, is sy vasgevang in haar eie wêreld. Sy maak haar rugsak oop en pak haar lappopmense een vir een uit. Hulle is baie mooi. Sy het hulle almal self gemaak van al die oorskietlappies en knopies en wol wat ant Sweetie vir haar gee. Dis nie gewone poppe nie. Dis praat-poppe.

“Sussie het gekom,” sê Sielie-pop. Sy lyk baie bly. Haar swart wolhare is wild en staan in alle rigtings. Haar pikswart kraalogies blink. “Sussie kom van ver af. Van baie ver af.”

“Ek is baie bly sy is by die huis,” sê Mamma-pop met ’n sagte stem. Sy het kort bruin hare en dra ’n blou voorskoot, want sy bak koekies.

Nou kom Pappa-pop met sy dik stem ook by. “Jy moet luister wat jou suster sê. Sy is groter as jy.” Hy het rooi hare en ’n rooi snor. Al lyk hy kwaai, is hy baie lief vir Sielie-pop.

“Ja, Pappa,” sê Sielie-pop, “ek sal mooi vir haar luister.”

“Nou is ons almal weer bymekaar,” sug Mamma-pop tevrede.

“Ja, vrou,” sê Pappa-pop. “Laat ons God dank.”

“Prys die Heer met blye golwe,” begin die Mamma-pop sing. “O, my siel dit ruik na stof …”

Maar sy hou op sing wanneer oom Phil se stem skielik oor die soutwerf aankom: “Sie-lieeee!! Sie-lieeeee! Ce-cile!!”

Sielie prop die poppe haastig terug in die sak. Sy spring met ’n spoed van die stootskraper af.

Phil lyk ongeduldig wanneer hy haar sien. ”Waar’s jy al weer? Almal soek jou! Jou suster het gekom en ons gaan nou eet.”

Sy kyk hom skuldig aan. “Ek-k-k-k …” Die klank bly in haar keel vassit.

Hy draai om en begin in die rigting van die huis aanstap. Sy loop afkyk-afkyk agter hom aan oor die soutwerf.

Van waar Leendra op die stoep staan, sien sy die tenger figuurtjie van ver af aankom, kaalvoet met ’n verbleikte rok aan. Wilde swart krulle omraam die bleek gesiggie. Sy gaan nader en Sielie gaan staan.

“Sielie?”

Sielie se oë bly op haar voete.

“Ek is jou sussie … Leendra.”

Sielie bly snaarstyf staan. Ná lang sekondes kyk sy stadig op. Haar oë is onpeilbaar donker.

“Sielie … onthou jy my?”

Sielie kyk weg, ver weg. Sy kou aan haar onderlip. En toe hardloop sy skielik met haar rugsak by die oop voordeur in. Leendra kyk haar onseker agterna en gaan sit op die stoepmuurtjie. Sy steek ’n sigaret aan.

In Silwerkruis was ek so ver van Sielie af, dink sy wrang. En nou voel dit asof ek nog net so ver is.

Dis Lucia wat skielik sag agter haar praat. “Ons gaan nou eet.”

“Sielie … Sielie ken my nie.”

“Toemaar, sy sal jou nog gewoond word, jy sal sien. Ek dink sy’s eintlik baie bly dat jy gekom het. In die begin was dit vir my net so moeilik. Ek het gedink sy sal my nooit aanvaar nie, maar dit het binne ’n paar dae verander.”

Leendra kyk na Lucia se sagte bruin oë. Waar sou oom Phil haar ontmoet het?

Die lang tafel in die eetkamer is feestelik gedek met geel rose, groen lower en wit kerse. Sielie sit strak na haar bord en kyk wanneer Leendra langs haar plaasneem. Phil maak ’n bottel wyn oop en vul die glase, terwyl Lucia die skottels kos van die kombuis af indra. Daar is ’n gebraaide lamsboud, hoenderpastei, gebakte aartappels, gegeurde rys, soetpatats, broccoli met kaassous, wortelslaai.

Leendra staar na die klomp kos. Silwerkruis. Die geluide van die groot eetsaal spoel deur haar moeë brein. Luidrugtige vrouestemme in die lang ry. Joey met haar growwe stem en Claire met haar ronde rooi wange. Groot, stomende kastrolle vol kos en ’n opskeplepel wat ’n blerts pampoen op die blikbord laat plons. Langsaan ’n hopie groenboontjies wat saam met uie opgekook is. En dan die bleek frikkadel met die sous. Op ’n Sondagmiddag was daar poeding. Groen jellie en dun vla. Ek was verlede Sondag daar. En ek weet nie of ek nou hierdie kos sal kan eet nie, want ek is nie honger nie. Ek is moeg. Ek wil in die lang blink gang afstap na 1288 en op my bed gaan lê. Ek wil teen die vaal plafon staar. Ek wil nie praat nie. Ek wil na my gedagtes luister.

“Laat ons die seën vra,” sê Phil en hou sy hand na Lucia uit.

Leendra wonder of sy Sielie se hand moet neem. Maar Sielie klem haar twee hande onder haar ken bymekaar. Leendra maak haar oë toe. Phil se woorde is veel meer as ’n tafelgebed. Dis ’n gulhartige welkomsgroet vir ’n susterskind wat huis toe gekom het en nou weer deel van ’n familie is. Waar was hy die hele tyd? wonder sy. Was hy besig om te bid? So besig dat daar nooit tyd was vir ’n brief of foonoproep nie?

Die kos word ingeskep en Sielie begin vinnig en hongerig eet.

“Op jou tuiskoms!” klink Phil joviaal sy glasie met Leendra s’n. Hy glimlag innemend en sy voel skielik skuldig oor haar gedagtes.

“Dankie vir alles, oom Phil,” sê sy sag.

“Dis vir Lucia wat jy moet bedank …” en dan sien hy hoe Sielie haar kos inprop. “Stadig, Sielie! Daar val stukke kos op jou skoot,” vermaan hy.

Sielie buk onder die tafel in om ’n halwe aartappel wat uit haar bord gespring het op te tel. Aan die oorkant van die tafel rinkel Mara se armbande.

“Phil sê vir my dit was regter Van Houweling wat jou saak aangehoor het? My oorle’ Abrahaampie het vir Houwie goed geken. Hulle het ons een aand oorgenooi vir ’n braai. Hy het langs my kom sit en regter Joop van Murgel aan die ander kant. Sy vrou was destyds ’n lektrise. Ag, doodgewone mense, as jy hulle so kyk. Very down to earth. Ek wou nog vir jou vra hoe was die kos nou eintlik daar anderkant?”

Lucia lyk ongemaklik. “Is dit nou nodig, Ma?”

Mara kyk skerp na Lucia. “En jy’s dan die een wat self nog vanoggend toe ons kosmaak gesê het jy wonder wat hulle nou eintlik alles daar anderkant eet?”

Leendra sien hoe ’n gloed oor Lucia se wange sprei. Dan kyk sy na Mara. “Daar anderkant? Mevrou bedoel die Silwerkruis Gevangenis? Die kos was baie goed.”

“I can’t believe!” sê Mara. “Seker maar min vleis.”

“En nagereg ook, mevrou. Sondae ’n gebakte poeding met room of roomys.”

“Noem my tog Mara. Hierdie ge-mevrou raak erger as Engeland. My Abrahaampie was mos twee jaar lank in Oxford. Ek was saam met hom daar. Jy sê gebakte poeding? Well, what do you know?”

Sielie stamp haar halwe glas koeldrank om.

Phil klink omgekrap. “Asseblief, Cecile! Kyk wat jy doen!”

Die vloeistof sypel oor die wit tafeldoek en drup af in Sielie se skoot. Leendra begin dit met haar servet skoonvee.

Sielie lyk verskrik en sit versteend na Phil en luister. “Dis altyd net twee happe en ’n klap en dan’s jy klaar geëet. Die kos sal nie weghardloop nie!”

Dis Lucia wat die gesprek in ’n ander rigting probeer stuur. “Het jy al gedink aan wat jy gaan doen?” vra sy vir Leendra. “Ek meen … in watter rigting?”

Leendra vat nog ’n servet en vee die koeldrank langs Sielie se bord op. Sy voel hoe Sielie nou al haar bewegings dophou. “Ek sal seker iewers ’n werk moet kry.”

Mara se oë rek. “Hier? Op Soutmansdal? Almal weet jy’t ’n rekord!”

Phil kyk waarskuwend na Mara. “Moeder Mara se mond is gewoonlik vinniger as haar brein.”

“Nou beledig jy my, Phil.”

Phil ignoreer haar en kyk na Leendra. “Ek en jy kan later bietjie gesels. Daar is verskillende opsies.”

Maar Mara is nog nie klaar nie. Haar oë blits na Phil se kant toe. “Ek vra jou. Wie sal haar hier rond wil vat? Good grief! Hier waar almal weet dat sy haar minnaar vermoor het.”

Dis nie die skrynende woorde wat deur Leendra se liggaam skok nie. Dis die onverwagte aanraking van Sielie se vingers wat sag oor haar arm begin streel. Sy kyk in Sielie se donker oë. Dié oë wat in die aftik van twee sekondes die lang storie van die groot eensaamheid vertel. Sy neem Sielie se hand versigtig in hare.

’n Geluid stoot amper onhoorbaar oor Sielie se lippe: “S-sussie.”

En die enkele woord laat sewe jaar se tralies tuimel.

Daar het nog ’n ding op daai Sondag gebeur. Vaatjie wat barman innie hotel is, het met die storie gekom toe ek op Miss Sweetie se kêffie se steppie sit. Vaatjie werk al jare lank by die Redelinghuyse innie hotel. Hy’s nie ’n man wat moeilikheid soek nie en hy issie ’n man wat baie praat nie. Hy is die Redelinghuyse se regterhand. Jy sal nooit hoor dat hy van hulle skinner nie, al het die hele dorp altyd iets oor hulle te sê. Dis mos nou maar eenmaal so dat die hoogste branners die meeste skym maak. Maar hy wat Vaatjie is, het nooit baie van hulle gepraat nie. Al wat hy gesê het, is dat hulle se flêt op die boonste vloer so groot is soes ’n hele hys. Maar daai Sondag het hy geworrie gelyk. Hy’t van diens af gekom en hy was nog in sy maroon baadjie en swart strikdas. Hy’t daarso by my oppie steppie kom sit. Toe sê hy hy kannie gehelp het om te hoor wat die Redelinghuyse praat nie. Groot stories. Ek wou gewiet het watse stories dit nou eintlik is. Hy het net sy kop geskud en sy asem ytgeblaas. “Hier kom kak, oom Kêppies,” het hy gesê. “Groot kak.” Net soe. Ek wou hom gevra het watse soort k... dit kon wies, maar hy’t opgestaan en pad gevat.

Hierdie tyd van ’n Sondagmiddag is die hotel se privaat kroeg stil. Dis hier waar Rudie Redelinghuys nou vir hom ’n drankie meng. Hy gooi ’n paar blokkies ys by die whiskey en loop terug na die koffietafel waar die groot landskapkaart oopgesprei lê. Hy kyk lank daarna en word weer bewus van die knaende onrus in hom. Hierdie nuwe projek is eintlik sy seun, Gilbert, se visie. En Minette s’n. Minette wat altyd bankvas agter haar seun staan. Deur vele jare het hy al geleer dat ma en seun ’n front is waardeur hy nie so maklik kan dring nie. Hy sug, staan op en stap na die venster. Die uitsig oor die baai is mooi. Dis altyd mooi, maak nie saak watter uur van die dag dit is nie.

Ek is tog lief vir Minette, sê hy in sy gedagtes. Ek is lief vir my vrou. Hy skrik vir die refrein in sy kop. Hoekom moet ek dit altyd vir myself doelbewus uitspel? Hoekom kan dit nie maar net ’n spontane gevoel wees wat oor en oor opborrel nie? Hoekom het dit so moeilik geword om my arms om haar lyf te vou en haar vas te hou? Waar het die afstand werklik begin? Sewe jaar gelede met die hofsaak? Hoekom dink hy juis nou daaraan? Hy het tog al lank gelede vrede gemaak daarmee dat daar niks was wat hy kon doen om die verloop van gebeure te verander nie. Hy kon nie Minette of Gilbert se planne stuit nie. Hy kan dit nou ook nie doen nie. Hy sug diep. Minette sal alles in haar vermoë doen om Gilbert van ’n goeie toekoms te verseker. Die beplanning van The West Coast Holiday Resort het ’n voldonge feit geword.

Hy tuur ver uit oor die see. Aan sy linkerkant lê Soutmansdal se huise en geboue met die wit uitgestrektheid van die soutpanne ver in die agtergrond. Regs staan Vlaktevlei se nederige wit huisies in die stil middaguur en bak. Die bloekombome, die kerkie, die skool. En ook die ou skuur wat Gretel in ’n ateljee omgeskep het. Gretel Grossman, sy onpretensieuse skoonsuster, wat haar stadsbestaan verruil het om ’n tuiste in Vlaktevlei te kom vind. Die gedagte aan Gretel maak sy hart week. Ek weet nie. Ek weet nie wat ek moet doen nie, sug hy.

Hy skrik wanneer Gilbert skielik agter hom praat. “Is Ma-hulle al terug van die Kaap af?”

Rudie neem ’n sluk van sy whiskey en voel skuldig. Sê nou sy seun kan sy gedagtes sien? Sy stem klink nie heeltemal vas nie. “Sy’t ’n sms gestuur. Hulle behoort nou-nou hier te wees.”

Gilbert loop agter die kroegtoonbank in en begin vir hom ’n drankie meng. “Hoe lyk dit vir Pa?” Sy oë beduie na die kaart op die tafel.

Rudie kyk weer na die kaart. “Is jy doodseker hierdie grense is reg?”

Gilbert kom terug met sy drankie. “Dis soos Pienaar by die akteskantoor dit afgemerk het.” Hy trek sy vinger oor die kaart. “Die kanaal sal van hier af kom en die marina sal oor hierdie hele gedeelte strek. Met die wooneenhede aan die noordekant. En die gholfbaan wes.”

Rudie sluk swaar. “Vlaktevlei.”

“Soos Myburgh sê: Hulle het nou lank genoeg so ’n prime spot by die see opgefok met hulle krotte.”

“Dit gaan nie so maklik wees om hulle daar weg te kry nie.”

“Dis nie ons probleem nie, Pa! Die munisipaliteit weet al ’n jaar lank dat hulle met ’n taai tameletjie sit. Onthou Pa toe ons daardie eerste keer met Botes gepraat het? Toe’s hy grootbek en sê hulle sal voorsiening vir die mense maak op Dwarsmansdal. Nou’s hy weg.”

Rudie kyk lank na Gilbert. Op nege-en-twintig het sy seun ’n aantreklike man geword. Sy ma se blonde hare. Sy ma se mond. Sy ma se vasberadenheid. Hy laat klingel die ys in sy glas. “Ek wonder of die kwessie al ooit voor die Raad was? Wat daarvan as ons miskien self hoor hoe die Vlaktevleiers voel? Ons kan met die pastoor gaan praat.”

“Die pastoor? Come on, Pa! Hy sal net die hele spul teen ons opsweep. Pa weet hoe’s hulle. En by the way, dit gaan nie oor hoe die Vlaktevleiers voel nie. Dit gaan oor hoe ons voel. Magtag, Pa! Dis ons grond!”

Rudie sit ’n ruk lank stil. Gretel. Wat sal haar reaksie wees? Ná Dieter se dood was sy jare lank ontwrig, totdat sy uiteindelik aansoek gedoen het vir die vakante pos by Vlaktevlei Primêr. En dis hier waar sy haar heil tussen die Vlaktevleiers kom vind het. Die nuwe Engelse juffrou, wat ook die kuns-en-kultuurpos gevul het, het spoedig die jong talent onder die Vlaktevleiertjies uitgesnuffel en dit was nie lank nie of sy het begin om ekstra kunslesse in haar ateljee te gee.

Wanneer hy weer praat, is dit eintlik net omdat hy voel hoedat Gilbert na hom kyk. “Wie sê jy is die nuwe man in Botes se plek?”

“Gouws. En hy moet bietjie bykom. Ek wil hom weer gaan sien en al Botes se beloftes onder sy neus indruk.”

Minette Redelinghuys kom die privaat kroeg binne, oorlaai met inkopiesakke. “En wat is julle so ernstig?”

“Hi, Ma! Hoe was julle naweek?”

“Uitputtend, dankie.”

“Hallo,” soengroet Rudie haar. “Waar’s Patricia?”

“Sy’t dadelik boontoe gestorm om iets te gaan aanpas.”

Rudie kyk na sy vrou wat by die toonbank gaan plaasneem, waar Gilbert vir haar ’n drankie skink. Soos altyd is sy die toonbeeld van elegansie. Haar blonde hare is in ’n perfekte Franse rol gekam. Haar liggroen uitrusting beklemtoon haar lenige, slanke figuur. Dat sy en Gretel susters is, is amper ondenkbaar. Gretel, met haar los blonde hare en lang gekleurde rompe en plat sandale. Die gedagte aan haar laat hom nou soos ’n verraaier voel.

Patricia trippel die vertrek binne op rooi hoëhaksandale en ’n glinsterende rooi minirok wat haar bruingebrande bene vertoon.

“Hoe lyk dit, Pa?”

“Hmmm …” bekyk Rudie sy dogter. “Wat is die okkasie?”

“Vra liewer wie’s die man,” sê Gilbert.

Patricia draai al in die rondte. “Ek weet nie; ek wag nog. Maar as die rok reg is, kom die res vanself.”

Rudie lag. Hoeveel kêrels, hoeveel rokke was daar nie al nie?

“Dis nou wat ek positive thinking noem, Pa!” sê Gilbert terwyl hy nog ys uithaal. “Ons kan dit probeer met Vlaktevlei. Ons kan solank die palmbome begin aanplant. Miskien sal Gouwsie en die Raad dan ernstig begin ronddans.”

“Volgroeide palms, wow!” Patricia gaan sit by die kroegtoonbank en trek die etikette van haar nuwe skoene af. “Dit sal soos ’n paradys lyk!”

“’n Paradys se prys ook,” sê Rudie gedemp.

Minette kyk na hom. “Is die naam toe geregistreer?”

Gilbert hou sy glas omhoog. “The West Coast Holiday Resort!”

“Kom ons drink daarop!” Minette klink haar glasie met Gilbert s’n.

“Julle moet liewers nie te gou te opgewonde word nie,” maan Rudie, “daar moet nog baie water in die see loop.”

“Pa meen uit die see uit … vir die marina,” lag Gilbert.

“Ons kan liewer op ons oer-oupa Roedolf se visie drink.” Patricia klink haar glasie met Gilbert.

“Watse visie?” Gilbert klink ontsteld. “Al visie wat hy hoegenaamd gehad het, was om ’n lokasie op hierdie stukkie hemel toe te laat.”

“En dit,” sê Rudie afgetrokke, “gaan ’n groot gespartel kos om hulle te laat verskuif.”

Terwyl oom Kêppies huis toe loop, dink hy skielik aan Die Groen Hokkie. Die Groen Hokkie! Natuurlik! Die Groen Hokkie is ’n sinkgeboutjie net oorkant die pastorie, wat hulle eers vir ’n ekstra klaskamer vir die skool gebruik het, nog voordat die twee opslaanklaskamers opgesit is. As Gerald-hulle weg is, kan hy in Die Groen Hokkie gaan bly. Hy kom by die meent en loop tussen die bloekombome deur tot by die geboutjie. Hy leun op sy wandelstok en druk sy neus teen die klein vuil venstertjie en loer na die leë vertrek binne. Daar lê ’n ou boekrak en twee skoolbanke onderstebo. Die wasbak is vuil. Die plek is onder stof. As Gerald net kan help om dit skoon te kry en sy bed oor te dra, sal dit ’n tuiste vir hom kan wees. ’n Plekkie van sy eie.

Leendra sit in die stoel regoor Phil se lessenaar. Sy kyk rond in die vertrek wat nou ingerig is as sy netjiese studeerkamer. Voorheen was dit haar ma se werkkamer waar sy naaldwerk gedoen het en waar sy en Sielie smiddae sit en huiswerk doen het.

Phil sit ’n skinkbord met koffiegoed op die lessenaar neer. “Suiker?”

“Nee, dankie, oom Phil. Net ’n bietjie melk.”

“Jy moet jou nie te veel aan Mara steur nie.”

“Sy’s eintlik reg, oom Phil. Dit sal nie maklik wees om ’n werk hier te kry nie.”

“Moenie vir jou bekommer nie. Ons sal iets uitwerk. Jy kan onbepaald hier by ons bly. Tot jy jouself weer gevind het.”

Sy kyk na hom. Hy glimlag gemoedelik. Sy neem ’n slukkie van die warm koffie en voel weer die wrewel wat in haar opstoot. Dieselfde gevoel soos in 1288 wanneer sy aan hom gedink het. Die woede. Dit het nie bedaar nie. Dat hy haar daar gelos het in die hel van ellende. En tog, sy weet dat hy nou sy bes probeer om dit so gemaklik moontlik vir haar te maak.

“Baie dankie, oom Phil.”

Hy steek sy hand uit oor die tafelblad en gee haar hand ’n drukkie, los dit gou weer.

Sy skraap moed bymekaar. “In die begin daar in Silwerkruis het ek gehoop dat daar eendag van Pa se geld sal wees om iewers ’n klein besigheid te begin. ’n Koffiewinkel of iets. Ek het nie geweet daar was so baie skuld nie.”

“Dit was die steengroef wat sy geld opgevreet het. Almal het hom gewaarsku. Ek ook. Maar Hendrik van Hellberg was nie bekend daarvoor dat hy ooit na iemand anders geluister het nie.”

Leendra glimlag wrang. “Ek weet hy was ’n hardekop.”

“Die dag toe ek sy aandeel van die soutmyn uitkoop, het ek hom nog weer gevra of hy seker is. Want jou ma was nie baie gelukkig met die trekkery Kloof toe nie. Ek het myself al dikwels daaroor verwyt dat ek … dit voel asof ek my ousus in die steek gelaat het.”

“Oom Phil moenie so dink nie. Ma was bly dat die soutmyn darem in die familie bly. En ek ook, want ek was nog altyd lief vir hierdie plek.”

Wanneer hy weer praat, is Phil se stem vaderlik sag. “Jy hoort hier, Leendra. Ek het gedink dit sal ’n goeie idee wees as jy miskien Lucia se werk in die soutmyn se kantoor kan oorneem.”

Aan so ’n moontlikheid het sy glad nie gedink nie. Sy kyk hom vraend aan. “Die kantoor?”

“Ek gun vir Lucia ’n bietjie vryheid. En ons almal is buitendien baie aan haar verskuldig ten opsigte van Sielie. Sy’t hier aangekom op ’n vreemde plek met ’n vreemde kind in die huis.”

“Ek … ken nie juis kantoorwerk nie.”

“Jy sal gou leer. Lucia sal jou alles wys.” Hy neem die laaste sluk van sy koffie en stoot die koppie terug. Sy stem is steeds sag wanneer hy weer praat. “Ek is dit aan jou ma verskuldig om jou weer op jou voete te help.”

“Dankie.” Sy staan op en begin die leë koppies op die skinkbord pak. Miskien is ek verkeerd oor hom, dink sy verward. Miskien het hy my al die tyd in Silwerkruis afgeskryf omdat hy maar net geglo het wat almal geglo het.

Sy draai met die skinkbord terug van die deur af. “Oom Phil, ek wou nog vra. Daar was van ons meubels wat gestoor was, voordat ons Kleinkloof toe getrek het.”

“Ek dog jy weet? Ons moes dit verkoop om van die skuld te delg. Ek het met die prokureur destyds gereël om die afskrifte van al die dokumentasie aan jou te stuur.”

“Daar het ’n paar maal goed gekom wat ek moes teken. Was … was dit al die meubels, oom Phil?”

Hy knik.

“En my ma se orrel?”

Hy haal sy skouers op. “Dis nou maar een van daardie dinge.”

Die woede is terug. Dis in haar keel. In haar stem. In haar blitsende groen oë. “Dis nie maar net ‘een van daardie dinge’ nie, oom Phil. Dit was ’n antieke erfstuk. Sy het dit hier in die huis laat staan. Sy wou dit nie na die Kleinkloof toe laat vervoer nie, want sy was bang dit kom iets oor. Wie het dit gekoop? Wie?”

Hy lyk verbouereerd. “’n Handelaar van die Kaap het die goed op ’n lorrie weggery.”

Sy kom plak die skinkbord hard terug op die lessenaar. Die koppies kantel in die pierings. “’n Vreemde blerrie fool van die Kaap af! Wat niks van my ma af weet nie. Wat niks van die orrel af weet nie! Op ’n blerrie vreemde lorrie!”

Haar skouers ruk van die ingehoue huil. Sy loop by die deur uit. Phil kyk haar magteloos agterna.

Sy loop die gang af, verby Mara wat skuldig daar staan soos een wat elke woord afgeluister het. Sy loop vinnig by die voordeur uit en klap die deur hard agter haar toe.

“Wat gaan nou aan?” vra Lucia.

“Sy’s opgeruk oor iets,” sê Mara en staar na die toe voordeur.

Phil kom by die studeerkamer uit.

“Wat is dit?” vra Lucia en sien hoe bleek hy lyk.

“Dit gaan oor Berta se ou orrel wat verkoop is. Hoe moes ek weet dit was so ’n vreeslike erfstuk? Ek moes my kop daardie tyd breek om Hendrik se bankrotspul te beredder.”

Lucia kyk hom stil aan. “Daar is baie onverwerkte emosies.”

Phil klink ontsteld. “Wel, ek hoop net nie sy gaan ons lewe omkrap met hierdie tipe van gedrag nie. Ek sien nie kans daarvoor nie.”

Mara gooi haar serp se punt met mening agtertoe. “Maar dat sy darem wragtag vir haar kan opruk, nè? Good grief! Nadat ons so goed is vir haar!”

Buite op die werf staan Leendra en kyk na Die Bont Huis aan die oorkant. Oomblikke lank oorweeg sy dit om soontoe te gaan. Om weer in ant Sweetie se kombuis te kom waar die gekleurde vatlappies aan hakies bokant die stoof hang en flesse konfyt in lang rye op die rak uitgestal staan. Maar die malende, magtelose woede dryf haar voort oor die werf, dorp se kant toe.

Soutmansdal het nie veel verander nie, kom sy agter. Hier en daar is ’n nuwe huis, maar die paar grondstrate en sypaadjies is nog dieselfde. Die poskantoor, die winkel, die bank is soos wat sy dit onthou. Die sout lug van die see se kant af spoel deur haar hare. Die son is aan die sak en die oranje-en-pienk gloed oor die see dwing haar om af te stap na die rotse. Sy stap strandlangs tot waar Vlaktevlei se huisies begin, terwyl die kleur op die horison verdiep. Sy gaan sit op ’n rots. Dis hier waar sy en Sielie en Boeta so dikwels met hulle handlyne klipvissies gesit en vang het. Verder na die linkerkant waar die rivier by die see inloop, strek die vleilande oor kilometers heen. Massas flaminke bondel enkeldiep saam in die vlak water, wat nou die oker skakerings van die lug weerkaats. Dit is hierdie beeld wat sy so dikwels in Silwerkruis probeer oproep het. Sy kon nie. Al wat sy daar in die omheinde vierkant kon sien, was die betonmure met die rolle lemmetjiesdraad bo-op. En die reuk van urine. Baie van die vroue het hulle broeke gereeld daar buitekant afgetrek, selfs onder die wakende oë van die bewaarders.

Die sagte, diep stem wat skielik agter haar praat, laat haar skrik. “Dis ’n wonderskone gesig, nè?”

Die man dra ’n swart pak en wit das. Sy netjiese skoene hang aan die veters oor sy skouers. Sy donker oë is vol deernis. Hy hou ’n verkyker na haar uit. Sy neem dit en word bewus van die volkome rustigheid van sy bewegings.

Sy kyk ’n rukkie met die verkyker na die flaminke wat, asof op bevel, meteens grasieus opstyg.

Sy gee die verkyker terug en sien die Bybelsak onder sy arm. “U is Vlaktevlei se predikant?” raai sy.

Hy steek ’n warm hand na haar uit. “Gerald Killian. Jy’s reg. Ek is die pastoor hier.”

“Leendra van Hellberg.”

Die naam moes sy belangstelling geprik het, merk sy, want sy oë rus ondersoekend, vraend op haar.

“Van Hellberg … jy is nie miskien Sielie se suster nie?”

Sy kyk hom huiwerig aan. “Ek is. Ek is die een wat in die tronk was. Ek is gister ontslaan.”

Hy kyk nie meer na haar nie. Sy oë tuur oor die rotse waar die vlak brandertjies teen die klippe klop, klop, klop. “Prys die Here,” sê hy. “Die skepping juig oor jou vryheid.”

Die man het ’n stilte oor haar gebring. ’n Stilte wat gemaklik voel.

“Ek weet nie of ek regtig vry is nie,” sê sy ná ’n rukkie.

Die kerkklok begin naby lui. Miskien sal hy nou haastig raak, dink sy. Miskien is hy op pad om te gaan preek. Maar hy roer nie. ’n Vlak brandertjie spoel oor sy kaal voete. “Ek het kort ná jou hofsaak hier aangekom, of liewer hierheen teruggekom ná baie jare. En toe het die mense nog baie daarvan gepraat.”

“En hulle sal weer praat. Noudat ek terug is.”

“Hoekom voel jy nog nie vry nie?”

“Daar is dinge wat ek nie kan aanvaar nie.”

“My deur is oop vir jou.” Die uitnodiging is eenvoudig, opreg.

Sy voel trane wat diep agter haar oë begin brand. “Dankie, vader Gerald.”

Hy glimlag.

Sy draai om en begin terugstap. Sy gaan staan ’n ent verder en kyk terug. Hy sit op ’n rots en is besig om sy skoene aan te trek. Hy kyk op en wuif vir haar. Sy wuif terug, steeds bewus van die vredige stilte in haar.

Ek het so pas ’n engel ontmoet, dink sy. Een sonder skoene. En sonder skanse.

Sy loop terug tot in die dorp. Die skemer is stadig besig om toe te sak.

Wanneer sy voor Miss Sweetie se Kafee gaan staan, oorweldig die bekendheid van die plek haar met nostalgie. Is dit moontlik dat ek meer as duisend kilometer weg van Silwerkruis af is? Sy gaan sit op die stoeptrappie en steek ’n sigaret aan. Die geluide van die dorp kom asof van ver af aangesweef. ’n Hond wat blaf. Kinderstemme wat roep. ’n Motor wat bokant in die grootpad verbydreun.

“Vir wat sit jy hier, Leentjies?” dring Boeta se stem tot haar deur. En dan eers sien sy sy groot figuur aangestap kom. Sy kyk op na hom toe en kan steeds nie glo dat dit regtig dié Boeta is wat sy geken het nie. Hy kom sit by haar en strek sy lang bene voor hom uit.

“Ek het sommer kom kyk, Boeta. Of alles nog is soos wat ek dit kan onthou.”

“Dis maar soos dit was.”

“Onthou jy nog hoe’t ons blindemol hier op die stoep gespeel?”

“Ja. Dan abba ek vir Sielie terug huis toe. Dan skree sy oor Ma se sweets.”

Sy glimlag en voel hoedat hy na haar kyk. “Jislaaik, Leentjies, ek kan nie glo jy’s hierso nie.”

“Ek probeer dit nog self verwerk, Boeta.”

“Wil jy inkom? Ma het gesê ek moet kom check of die agtervenster op knip is.”

Hy sluit die kafee se deur oop, skakel ’n lig aan. Sy gaan binne en bly verwonderd staan, oorweldig deur honderde herinneringe uit die vorige lewe. Die stewige toonbank met die glasflesse vol lekkers, die oorvol, deurmekaar rakke, gepak met enige ding onder die son, van visgerei tot fietsbande tot suiker en koffie. Agter in die kafee is ’n klein tafel vol rekeninge en papiere en ant Sweetie se breiwerk en die ketel.

Boeta kom terug van die pakkamer af en haal twee blikkies Coke uit die yskas. Hy gee een vir haar aan en gaan sit op ’n koeldrankkis. Sy trek ’n bankie nader en kom sit by hom. Hy kyk haar afwagtend aan. “En wat het Sielie toe gesê toe sy jou sien? Ken sy vir jou?”

“Ek dink sy ken my.”

“Ek het haar baie vertel van jou. Van hoe ons saamgespeel het toe ons klein was.”

“Sy’t groot geword.”

Boeta is nie een wat baie praat nie. Sy stem kom stadig. Nou is sy verbaas dat hy tog soveel te sê het. “Nee, Leentjies.” Hy stoot lug oor sy lippe. “Sy’t nooit groot geword nie. Sy’t op elf jaar loop vassteek. Haar tong ook. Op daai dag. Ek wonder nog altyd …” Hy bly stil.

“Wat, Boeta?” moedig sy hom aan.

“Ma … Ma glo vas dat Sielie nooit weer gaan regkom nie.” Hy knak sy Cokeblikkie oop. “Die ontploffing … het haar hele lewe uitmekaar uit geruk … die hele huis ... haar ma, haar pa. En toe nog die skietery. Als op een dag.” Hy vryf bewoë met sy groot hande oor sy oë.

“Boeta,” sê sy sag, “weet jy dat ek bly was dat my ma-hulle nooit geweet het van die … van wat ek gedoen het nie. Dat dit hulle gespaar gebly het.”

Hy snuif. “Ma sê ons moenie bly karring aan die dinge van die Kleinkloof nie.”

“Nee, Boeta. Ek sal nie ophou karring tot ek weet wat daardie middag gebeur het nie. En wat Gilbert Redelinghuys daarmee te doen gehad het nie.”

“Los dit liewer, Leentjies.”

“Ek kan nie! Ek haat hom vandag niks minder as daardie tyd nie.”

Hy kyk haar lank aan. “Hy was mal oor jou! Almal het dit geweet.”

“Mal, ja. Mal van jaloesie. As ek daardie dag weer kon oorkry, as ek elke oomblik weer kon óórleef, dan sou ek hom weer wou skiet.”

Hy kyk haar bekommerd aan. “Jislaaik, Leentjies. Jy praat van verskriklike dinge.”

Oom Kêppies sit in die skemer op die agterstoepie van die pastorie. Hy dink aan Jamaina wat vanmiddag glad nie baie vriendelik met hom was nie. Seker oor hy laat was vir ete. Hy weet ook nie wat haar jaag nie. Seker maar die stres van al die dinge wat voorlê. Sy sal by die skool moet bedank en dan sal daar ’n ander prinsipaal in haar plek moet kom. Vos Philander sal seker vir die pos spring.

“Broe!” kom Koster se stem uit die skemer. “Wat sit Broe so alleen in die duister?”

“Ek dink,” sê oom Kêppies.

“Wa’sie mense?”

“Gerald en Jamaina is yt op siekebesoek. Ant Gertie Syster het ’n kiem. Sy lê plat met ’n maag.”

Koster kom sit by hom op die stoepbankie. Min mense weet dat Koster se regte naam eintlik Johannes Kaaiman is. Toe hy die koster van die Vlaktevlei-gemeente geword het, het hy Koster geword. Maar hy is nie net ’n koster nie; hy’s ook ant Sweetie se handlanger by die kafee.

Die twee oues sit ’n ruk doodstil en dan kyk hulle na mekaar asof die een weet wat die ander een dink.

“Broe,” sê Koster gewigtig, “dis nie ’n maklike dag nie. Ons het ’n versterking norig om die gemoed te laat bedaar.”

“Tja … dis sukke tyd,” stem oom Kêppies saam. “Ek wou al eerder gesê het dis sukke tyd.”

Hulle kyk na mekaar en die skielike vonkel in die oë is dié van twee ondeunde skoolkinders. Hulle staan op, gaan by die hekkie uit en loop tussen die bloekombome deur na die kerk se kant toe. Hulle bly aan die omkyk-omkyk om seker te maak dat niemand hulle bespied nie. Hulle glip die skemer kerk binne, waar ’n straatlig van buite af deur die gekleurde glaspanele skyn en Moeder Maria se sagte glimlag verlig. Hulle sluip verby die kerkorreltjie tussen die banke deur. Koster haal ’n sleutel uit en sluit die voorraadkas oop. Hy haal ’n bottel Nagmaalwyn en twee Nagmaalglasies uit. Dan skink hy die glasies versigtig vol en bêre die bottel. Soos altyd neem hulle plegtig hulle plekke drie rye voor die preekstoel in. Dis nie sommer vir skink en drink nie. Dis ’n ritueel. Eers sit hulle met die glasies en maak die harte leeg van al die lewensorge. En so, glasie tussen die voorvinger en duim, kyk oom Kêppies na sy ou vriend.

“Koster, ek het gedink aan Die Groen Hokkie. Miskien kan ek daar gaan bly, as Gerald-hulle weggaan.”

“Jy kom bly by ons, Broe,” sê Koster. “Ek het al klaar met Rachel gepraat. Sy sê ja.”

“Makie saak wat Rachel sê nie. Dit sallie werk nie. Jy wiet hoe is Rachel.”

“En hoe is Rachel?”

“Sy sê vedag die een ding en môre ’n anner ding.”

“Jy praat van my vrou, Broe!”

“Ek wiet, Koster. Hoe sil ek nie wietie? Ma jy wiet oek.”

Koster sit ’n rukkie en dink. En nog later sug hy swaar. “Ja, Broe, ek moet dit self sê. Rachel is nie altyd maklik nie.”

En daarop klink hulle die glasies. Die enkele slukkie soetwyn spoel in die kele af met groot genot. Oom Kêppies steek sy voorvinger in die glasie en veeg die laaste bietjie vog uit. Hy lek sy vinger behaaglik af.

En toe gaan die kerkdeur met ’n kraakgeluid oop. ’n Lig word aangeskakel. Hulle kyk verbouereerd na mekaar. En asof dit voorheen geoefen is, verdwyn die glasies by die sakke in en hulle syg voor die kerkbank neer soos een man. Hande gevou, op die knieë, biddend.

Gerald Killian stap stadig deur die banke. Dis asof hy met nuwe oë na elke klein detail van die ou gebou kyk. Onder hierdie dak lê soveel herinneringe, soveel arbeid, soveel sweet. Kindertjies is ten doop gebring. Paartjies het getrou. Roudienste is gehou. Die volle spektrum van die lewe … sy lewe op Vlaktevlei. Hy skrik wanneer hy die twee ou stil figure knielend, roerloos voor die derde kerkbank sien. Oom Kêppies maak sy een oog oop en dan die ander. Hy kyk skuldig na Gerald.

“Dankie, Pa. Dankie, oom Koster.” Gerald betrag die twee afgeleefde gesigte voor hom met deernis. “Ek het julle voorbidding baie nodig.”

Hy draai om en loop na die deur wat na die kerkkantoor lei. Sy gemoed voel tog ’n bietjie ligter. Hy draai weer terug na die banke, waar oom Kêppies en Koster nou mank orent kom.

“Pa?”

Oom Kêppies en Koster kyk met benoude gesigte na mekaar.

“Ek wou Pa nog vra … julle sal miskien onthou …” Hy gaan sit by hulle in die kerkbank. “Die Van Hellberg-meisie, die een wat in die tronk was …”

Oom Kêppies antwoord met ’n alwetende blik na Gerald. “Tja … die rooikop.”

“Sy’s ontslaan. Ek het vroeër vandag daar onderkant by die jettie met haar gepraat.”

“Sy’s yt, ja,”

“Weet Pa wat daardie tyd gebeur het? Kan Pa-hulle onthou?” Hy kyk van sy pa na Koster. “Dit was ’n paar maande voordat ek en Jamaina Vlaktevlei toe gekom het.”

“Dit was ’n vreeslike dag,” sê Koster, “dit was …”

Oom Kêppies gee hom nie kans nie. “Daar was ’n ontploffing daarso bo innie Kleinkloef, daarso waar Hennerik Rooihel toe die hys gebou het, met sy eie twee hanne het hy die kliphys daarso gebou …”

“Hulle was mos allie jare oppie soutmyn en toe wil hy mos daai tyd die kwarrie bo innie Kleinkloof begin. Sy swaer, Van Tonder, het die soutmyn oorgevat en toe is hy op die kwarrie. Hy’t goed gedoen. Klomp van ons mense het jobs daar gehad.”

“En toe daai dag is daar ’n ontploffing en die hele hys is ytmekaar yt geskiet. Hennerik dood en sy vrou oek.”

Gerald kyk van die een gesig na die ander. “Watse ontploffing was dit?”

“Ek wietie,” sê oom Kêppies. “Mense het gesê dit was gas.”

“Nee, Broe, dit was dynamite,” weet Koster. “Ons het die helse slag tot hier gehoor.”

“En daai aand, toe gaan daai rooikop hotel toe. Sy …”

“Sy’t daar gewerk by reception …”

“En sy’t ’n kêrel gehad wat by die hotel oorgebly het.”

“Ferdie. Hy was ’n rep, het die mense gesê.”

“En toe gaan skiet sy hom net daar in die hotel.”

“Hy was morsdood,” beaam Koster.

Oomblikke lank sit Gerald sprakeloos. “Hoekom het sy hom geskiet? Het hy iets met die ontploffing te doen gehad?”

“Ons wietie alles nie,” sê oom Kêppies.

“Nee, Broe, jy’t vergeet. Die mense het gesê sy wou nie die man, die Ferdie, skiet nie. Sy wou eintlik vir Gilbert Redelinghuys geskiet het.”

Gerald kyk hulle nadenkend aan en dan sug Koster swaar. “En daai dag is die laaste dag wat Oubaas laas lewendag gesien is.”

“Oubaas?” frons Gerald.

“My broer Oubaas. Oubaas Kaaiman. Hy’t op die kwarrie gewerk.”

Gerald frons al hoe meer. “Is hy ook in die ontploffing dood?”

“Nee,” skud Koster sy kop verdrietig. “Hulle het niks van hom gekry nie. Hy’t net soos ’n groot speld verdwyn daai dag. Ons het hom nooit weer gesien nie.”

Later, wanneer Gerald in die kerkkantoor sit en werk, dink hy aan die meisie met die rooi hare. Daar was iets aan haar wat hom aangegryp het. Miskien was dit haar eerlike, reguit blik. Miskien haar pynlike weerloosheid.

Die deur gaan oop en Jamaina kom binne. “Wanneer kom jy?”

“Ek is amper klaar. Dis die spul vorms vir die Ring.” Hy staan van sy stoel af op en vou sy arms om haar skouers. “Jy moet my tyd gee oor Atlantis.”

“Jy’s die een wat moet besluit,” sê sy teen sy bors. “Jy weet hoe ek en die kinders voel, maar ons sal berus by wat jy ook al doen.”

“Bedoel jy dit?”

Sy antwoord nie dadelik nie. Sy tree uit die kring van sy arms. “Natuurlik bedoel ek dit.”

Sy draai om en stap na die deur. “Jy’s moeg. Jy moenie te laat werk nie.”

Hy sug. “Die Here sal die pad aanwys,” sê hy nadat sy uit is.

In Silwerkruis was daar op maanlignagte saans vier ligstrepe wat deur die tralievensters geskyn het. Vier dun repe maanlig wat oor die plafon geskuif het en die uur van die nag aangedui het. Tienuur saans was die een streep bo-oor haar grys kombers en tien oor tien het dit oor haar gesig geskyn. In die begin het sy geskrik vir die lig in haar oë. Sy het gedog dis ’n engel met ’n boodskap wat voor haar staan. ’n Boodskap van Ferdinand af. Maar die lig het verbygeskuif en haar alleen in die donker hel gelos. Al troos was haar hande wat soekend oor haar honger liggaam streel, haar vingers wat net soos Ferdinand s’n die genot opwek en dan die plesiertog tot by voltooiing bring en haar hygend van ekstase los.

Nou lê sy in die nuwe kamer onder die appelkooskleurige donsduvet en soek die vier ligstrepe wat vir altyd weg is. Die kamerdeur gaan stadig oop en sy skrik so groot dat ’n gesmoorde geluid oor haar lippe kom. Sy kom orent, soek bewend die bedlig se skakelaar.

Dis Sielie wat voor haar bed staan.

“Sielie?”

“Ssu-ssie.”

Sielie se donker krulle staan woes en wild om haar kop. Haar donker oë kyk stip. Sy haal ’n lappop onder haar pajamatop uit. “M-mamma kan … by Ssu-ssie s-slaap.” Sy lê die lappop langs Leendra neer en trek dit versigtig met die punt van die duvet toe.

“Dankie, Sielie.”

“Nag, Ss-ssussie. Nag, M-mamma.”

En toe gaan Sielie uit en trek die deur agter haar toe. Leendra staar na die pop met die donkerbruin wolhare. Dit het ’n voorskoot aan. Die lyfie is sag en gerond. Die oë is twee bruin kraletjies. Die lippies is laggend en pienk.

Mamma.

Die pad na die Kleinkloof loop op teen die kliprante, agter die hotel verby. Die kliphuis, die kamers, die kombuis, koekies, die werf, kuikens, die steengroef, klippe. Mamma!

Die trane wat so lank so diep weggesteek was, loop uit en val op die bruin kraletjies-ogies wat huil, nes sy. Dwarsdeur die nag voel sy die lyfie teen haar rug. Sy droom van die werf en die huis in die kloof. Haar ma plant pers vygies teen die rotsrante. Haar ma gee die hoenders kos. Sielie help haar.

Sy word wakker en met skielike helderheid onthou sy iets. Dis ’n vlietende gedagte wat helder deur haar brein dring: Die Italianer wat by Pa was. Wie was hy?

Sy slaap weer.

Toe sy die volgende oggend wakker word, staan die deur effens oop. Daar is geen teken van Mamma-pop nie.

Droomdelwers

Подняться наверх