Читать книгу Bitter bloeisels - Ettie Bierman - Страница 4

Оглавление

Hoofstuk 1

1

“Albie is myne,” herhaal Rothea en plak die gehoorbuis neer.

Sy kyk na die slapende seuntjie in die bababed langs die sitkamerbank. Natuurlik is hy hare. Barbara was haar suster en sy is Albie se peetma. Die Richters het geen reg om hom van haar weg te neem nie.

Die telefoon lui weer, maar sy antwoord nie. Dieter Richter se prokureur het aan haar geskryf, toe het hy self geskryf. Nou het hy al die pad Upington toe gekom en haar gebel. Sy het ’n oordosis van haar suster se swaer gehad en sien nie kans om verder te stry en oor Albie tou te trek nie.

Rothea streel oor die sagte babahare. Rooibruin, soos haar eie. En sy oë toon reeds hulle gaan eendag donker wees. Albie is ’n Beukes, nie ’n Richter nie.

Toe Barbara en Ernst getroud is, het sy ma of broers nie eers ’n kaartjie van gelukwensing gestuur nie. Ook nie met Albie se geboorte nie. Ná die motorongeluk was hulle die eerste mense wat sy laat weet het, maar die Richters was nie by die begrafnis nie. Maande lank het sy niks van hulle gehoor nie. Dit kon hulle blykbaar nie skeel of Albie ook beseer was en wie na hom omsien nie. En nou, uit die bloute, ’n eis om voogdyskap ...

Was sy verkeerd om onderhandelings te weier? Te weier dat Ernst se broer haar kom spreek? Sy is al familie wat Albie ken en sy maak hom in ’n beknopte eenkamerwoonstel groot. Mag sy hom ’n ouma en twee ooms misgun, plus ’n lewe op ’n plaas waar geld nie ’n kwessie is nie?

Sy is besig om Albie se luiers uit te spoel toe ’n klop aan die voordeur klink. Iemand wat matborsels of ensiklopedieë verkoop, of tant Malie om die resep van daardie ryspoeding te kry, dink sy. Of dalk Theo ... om te sê hy is jammer omdat hy onredelik was. Rothea kam haastig haar hare voor sy gaan oopmaak.

Dis nie haar oudverloofde of buurvrou nie. In die gang staan ’n vreemde jong man, lank, donker en breedgeskouer. Hy dra nie ’n tas vol borsels of boeke nie.

“Juffrou Beukes?” verneem hy kortaf.

Rothea verstyf. Hý mag vreemd wees, maar nie sy stem nie. Sy wil die deur toeklap, Albie gryp en wegvlug.

Sy knik onwillig.

“Dieter Richter. Goeienaand,” groet hy.

“Ek sal nie sê aangename kennis nie, meneer Richter,” antwoord Rothea kil. “Die ontmoeting is onwelkom, ongevraagd en onnodig. Maar aangenaam? Gewis nie.”

Onwillekeurig gaan haar hand uit na die deur, maar sy reflekse is vinniger. Hy druk sy voet tussen die deur en die kosyn in.

“Jy mag dit geniet om soos ’n standerdses-skoolmeisie telefoonhoorstukke neer te gooi en deure toe te klap. Ek vind dit onnodig en kinderagtig,” sê hy geïrriteerd. “Ek dink nie ons het netnou klaar gepraat nie. Mag ek binnekom, juffrou Beukes? Of wil jy hê al die bure moet ons privaat sake aanhoor?”

Rothea staan stug opsy. Sy is dankbaar die woonstel is skoon en netjies. ’n Paar hemde en broekies van Albie hang voor die oop venster om droog te word, maar gelukkig geen van haar eie kledingstukke nie.

Dieter stap reguit na die bababed. Hy draai die lamp en trek die laken versigtig weg om na die slapende kind te kyk, buk laer en streel oor een van die saamgeklemde vuisies.

Verbasend teer en handig, dink Rothea. Volgens die bietjie wat Ernst van sy oudste broer vertel het, is Dieter nie getroud nie en sy glo nie hy is aan kinders gewoond nie.

Dieter draai die lamp terug en kom regop, terwyl hy berekenend om hom kyk.

Teen haar sin wil Rothea verskoning maak vir die gehawende mat wat sy tweedehands gekoop het, die gordyne wat nie daarby pas nie en die bank wat heel duidelik snags as ’n bed diens doen. Die Richters is skatryk, gesiene karakoelboere in die Maltahöhe-distrik en Ernst het die weelde van Schloss Hoffnung beskryf, waar hy gebore is en sy familie steeds woon. Dieter Richter is groter, jonger en aantrekliker as wat Rothea hom voorgestel het. Sy fisieke teenwoordigheid laat haar besittings armoediger en stowweriger lyk as wat dit in werklikheid is.

Sy gaan nie verskonings maak omdat hierdie ’n verknopte woonstel pleks van ’n huis is nie, besluit Rothea, óf verduidelik óf haar geldelike omstandighede probeer regverdig nie. Dit is haar en Albie se tuiste waarvoor hulle lief is en wat Dieter Richter daarvan dink, kan haar nie ’n duit skeel nie.

“Hy trek op Ernst,” merk Dieter op.

“Hy het my suster se hare en oë.”

Dieter se een wenkbrou lig. “Dis nie nodig om so verdedigend te wees nie. Ons betwis in geen opsig die moederskap nie.”

’n Blos stoot van Rothea se nek in haar gesig op. “Bedoel jy dat my suster ...”

Dieter gee haar nie kans om klaar te praat nie. “Ons is volwassenes, juffrou Beukes. Jy kan begryp dat jou suster vir ons ’n onbekende faktor is. Ons het haar nooit ontmoet nie en in die verlede het Ernst se optrede nie bewys gelewer dat sy goeie oordeel vertrou kan word nie.”

“Daar was net een man vir Barbara,” sê Rothea kil, “en dit was Ernst. Hulle was baie lief vir mekaar. In die drie jaar wat hulle getroud was, was Ernst gelukkig – gelukkiger as in enige van sy jeugjare op die plaas.”

Dieter haal sy skouers op. “Ernst was jonk en nog nie vir verantwoordelikhede gereed nie.”

“Omdat jy en jou ma hom nie verstaan het nie. Eienaardig dat hy dan as pa en eggenoot verantwoordelik was.”

“Verantwoordelik?” eggo hy vraend. “Om twee-uur die nag van ’n partytjie af terug te kom, te vinnig te ry en beheer oor sy motor te verloor?”

Rothea het nie gedink die Richters sou moeite gedoen het om oor die besonderhede van die ongeluk navraag te doen nie.

“Dit was twintig oor twee,” verdedig sy haar swaer. “En Ernst het nie beheer verloor nie. ’n Ander motor het hom op ’n draai van die pad af gedruk.”

“’n Motor waarvan die bestuurder nie opgespoor kon word nie. In elk geval, ek het nie gekom om oor Ernst te praat nie, juffrou Beukes. Wel oor sy kind. Soos my prokureur jou in kennis gestel het, is ons bereid om Albrecht ’n tuiste op Schloss Hoffnung aan te bied. Ook om jou te vergoed vir onkoste aangegaan.”

“Soos ek jou en jou prokureur in kennis gestel het: Albie is nie te koop nie,” antwoord Rothea. “Ek is sy peetma. Julle het geen reg om hom van my weg te neem nie.”

“Reg? Jy maak ’n fout. Op sterkte van bloedverwantskap het ek net soveel reg op hom soos jy.”

Rothea se bruin oë vonk. “Het jy Albie ses maande lank versorg? Die plek van sy ma ingeneem en hom versorg toe hy nie meer ’n huis gehad het nie? Hom sy eerste woordjies geleer en hom vasgehou toe hy sy eerste treë gegee het? Moenie met my van reg praat nie, Dieter Richter, en moenie my geld aanbied nie. Jy kan ’n hond met ’n been omkoop en ’n kind met ’n suigstokkie, maar jy sal vind ek is ’n gedugter opponent.”

“Ek verwys na die wetlike reg volgens ’n hofuitspraak.”

Die eerste keer is Rothea skielik onseker. “Wil ... Is julle van plan om hof toe te gaan?”

“Indien jy die voogdyskap betwis.” Dieter kyk met ’n mate van deernis na die fyn meisie voor hom. Hy kan begryp dat sy aan haar suster se baba geheg geraak het en dat dit moeilik sal wees om van hom afskeid te neem.

Rothea haal ’n keer diep asem. “Ek besef ’n onbenullige ontvangsdame se salaris kan nie met die Richter-miljoene meeding wanneer dit by lang en uitgerekte hofsake kom nie. Maar my aanspraak op Albie is op morele gronde gebaseer. My ouers is jonk oorlede. Barbara was my enigste familielid en ons was ’n identiese tweeling wat baie geheg aan mekaar was. Ons was van graad een af saam in die kinderhuis, toe ’n losieshuis en later ’n woonstel. Met Barbara se troue het sy vanselfsprekend aanvaar dat ek by haar en Ernst sal bly. Ek het die kamer langs Albie s’n gehad en ek het hom die aand opgepas toe sy ... toe hulle verongeluk het.”

“Ek ken die omstandighede,” antwoord Dieter kortaf. “Ek erken haar dood moes vir jou ’n skok gewees het en dat jy haar seuntjie liefhet. Maar beteken dit nie dat jy vir hom net die beste wil hê nie?”

Rothea sien waarheen hy mik. “Geldelike gewin is nie al wat saak maak nie. Kan julle hom ’n plaasvervanger vir sy ma gee? Soos ek gesê het, ek en Barbara was identies. Ek glo nie Albie kom die verskil agter nie. Hy dink ek is sy ma.”

“’n Baba ken nie die verskil in voorkoms nie en sal enigiemand wat hom versorg as sy ma beskou. As ontvangsdame by ’n hotel, sien Albrecht jou net saans en naweke. Op Schloss Hoffnung sal hy meer aandag kry. Hy sal ’n voltydse oppasster hê, asook ’n ouma en twee ooms.”

“Volwassenes. Hier is Albie bedags in ’n kleuterskool met volop maats van sy eie ouderdom.”

Dieter stap ergerlik op en af, kom sit dan oorkant Rothea op een van die twee kombuisstoele wat by ’n opvoutafeltjie staan.

“Hoe oud is jy, juffrou Beukes?” wil hy onverwags weet.

Rothea lig haar ken uitdagend. “Jou prokureur het genoeg ander inligting uitgesnuffel. Jy weet seker onder meer hoe oud jou broer se vrou was.”

Dieter glimlag skeefweg. “Drie-en-twintig. Jy is nie ’n tipiese voorbeeld van ’n gevestigde oujongnooi nie. Het jy nie trouplanne nie?”

“Nee.”

Dieter lyk skepties. “Jy is seker nie onbewus daarvan dat jy nogal aantreklik vir die ander geslag is nie. Vind jy die situasie bevredigend? Sonder ’n man en ’n huis, met ’n ander se kind om groot te maak? Wil jy nie trou en kinders van jou eie hê nie?”

Nogal aantreklik! dink Rothea. Dankie, meneer Richter, vir ’n halwe kompliment wat jou heel duidelik dwars in die krop gesteek het.

“Ek is gelukkig soos ek is,” antwoord sy.

“Uit eie keuse, of omdat kêrels afgeskrik word deur die feit dat jy die las van ’n kind het?” hou Dieter vol.

Sy vrae is te na aan die waarheid. Rothea kyk selfbewus weg toe sy Theo se afskeidswoorde onthou.

Ek is lief vir jou, aster. Baie lief. Genoeg om die res van my lewe saam met jou deur te bring. Maar ek was nie voorbereid om ’n kitsgesin op die koop toe te kry nie. Ek wil jou nie met ’n kind deel wat nie eens myne is nie.

Rothea het haar wysgemaak Theo van Wyk is suinig en selfsugtig en sy is beter daaraan toe sonder hom. Maar die pyn en seerkry het gebly en sy hou aan hoop; elke keer wanneer die telefoon lui of daar ’n klop aan die deur is, bly sy hoop dis hy en hy kom terug ...

“Albie is nie ’n las nie,” stry Rothea. “Hy is ’n dierbare kleinding en ’n bron van vreugde en geselskap.”

“Geselskap die volgende tien jaar, terwyl jy ouer en eensamer word?”

Dit klink soos ’n berg voor haar en ’n vreesaanjaende vooruitsig.

“Albie sal ook ouer word en ’n maat vir my wees,” hou sy dapper vol.

“’n Kind se geselskap is nie genoeg nie. ’n Vrou het die liefde en kameraadskap van ’n man nodig. Die dag gaan kom wanneer jy dankbaar sal wees Albrecht is versorg en dat jy vry is om jou eie toekoms te beplan.”

“As die dag aanbreek, sal ek jou laat weet, meneer Richter, maar tot dan hou ek Albie by my en geniet dit.”

Dieter het sy ma en Carl belowe hy sal kalm bly, anders het hy hierdie moedswillige rooikop-vroumens ’n dwars antwoord gegee. Op die plaas het hulle geredeneer Ernst se skoonsuster sal die aanbod verwelkom. Maar hulle het Dorothea Beukes nog nie goed genoeg geken nie.

“Waarop hoop jy?” vra Dieter reguit. “Op hoër vergoeding? ’n Plek op Schloss Hoffnung vir jouself, saam met Albrecht? As dit jou einddoel is, juffrou Beukes, gaan jy bedroë daarvan afkom.”

“Schloss Hoffnung,” sê Rothea sarkasties. “Jy laat dit soos Utopia klink. Ernst het gesê al wat op die plaas is, is blêrende lammers en kreunende windpompe, doringdraad en sand en droogtes. Genoeg om ’n mens van verdriet van jou verstand af te dryf. Dink jy ek wil dáár woon? Jy moet jou kop laat lees, meneer Richter. Ek vra niks van jou nie. Ek en Albie is gelukkig en tevrede soos ons is. Hoekom het jy kom inmeng? Twee en ’n half jaar lank wou hulle hom nie hê nie. Hoekom nou? Nou skielik?”

“My moeder is nie gesond nie en die verlies van Ernst was vir haar ’n harde slag. Die baba sal haar in ’n mate troos. En omdat hy ook Dieter Albrecht heet – die tradisionele familienaam dra – ag ek dit my plig om na die kind om te sien. Ernst sou van my verwag het om te sorg dat sy kind nie gebrek ly nie, ondanks die vervreemding. Albrecht is my eie bloed en my erfgenaam.”

“En myne.”

Dieter ag dit blykbaar nie belangrik genoeg om daarop te antwoord nie. “Jy sê jy is die baba se peetma? Op grond waarvan?”

“Toe Albie gedoop is, het Barbara gevra of ek sy peetma sal wees.”

“Het sy jou in ’n oomblik van sentiment gevra?” Dieter maak ’n minagtende gebaar. “Of het sy ’n wettige dokument laat opstel om jou amptelike status te bepaal?”

Rothea voel terneergedruk toe sy haar kop skud. “Ernst en Barbara was so jonk – te jonk om aan ’n testament, voog, trustee, wettige peetma of sulke morbiede dinge te dink.”

“Of aan polisse of geldelike voorsiening vir hul kind,” las Dieter by. “Selfs as huidige tuiste is hierdie koue, beknopte kamer ontoereikend. Wanneer Albrecht ouer word en aktiewer raak, sal die situasie onmoontlik word. Het jy al daaraan gedink, Dorothea?”

“Natuurlik.” En sy het oor die situasie verbouereerd geraak, dink Rothea. “Ek weet ek sal ’n groter woonstel moet soek, of ’n ... ’n huis,” skerm sy. “Albie sal ’n tuin en speelplek nodig hê.”

“Korrek. Het jy al ’n geskikte plek gevind? ’n Deposito vir die huis gereed?” Hy klink beleef en belangstellend, maar Rothea is nie om die bos gelei nie. Sy weet hy bedoel dit sarkasties.

“Jy weet ek het nie.”

Dieter knik. “Al vind jy ’n geskikte woonstel, sal die huur te hoog wees. Of ’n huis. Jy sal nie die paaiemente kan bekostig nie. Is ek reg?”

“Ja.” Vervlaks, dink sy, hy weet hy is reg! Hoekom dit invryf?

Haar hart klop onreëlmatig en haar bene voel bewerig. Albie is al stukkie van Barbara wat oorgebly het. Sy kan hom nie afstaan nie. Wat bly dan vir haar oor? Om smiddae by ’n leë woonstel te kom, met niemand om voor te sorg en lief te wees nie. Nie eers te weet wat Albie doen, hoe dit met hom gaan en of hy dalk nog ’n tand gekry het nie ... Hoe kan Dieter Richter dit van haar vereis? Albie is haar eie. Haar en Barbara s’n, en sy sal haar hande vir hom deurwerk.

Dieter stop ingedagte sy pyp. “As hierdie toutrekkery tussen ons in die hof eindig, wat reken jy sal die uitspraak wees oor die geldelike omstandighede waarin my jong nefie grootword?”

Rothea sluk. “Ek hoop die regter sal besef ek probeer my bes en dit in oorweging neem voor sy uitspraak.”

“Jou bes, ja,” knik Dieter. “Maar as jou beste nie goed genoeg is in vergelyking met wat ons hom kan bied nie?”

Daarop het Rothea nie ’n antwoord nie. “Indien dit op ’n hofsaak uitloop, sal die storie in die koerante kom. Wanneer Albie ouer is en hoor hy was die onderwerp van ’n skandaal, sal dit hom emosioneel nadelig beïnvloed,” probeer sy ’n ander uitweg soek.

“Waarom dus hardkoppig wees en nadelige gevolge veroorsaak?” wil Dieter weet.

“Ék hardkoppig?” Sy besef haar stem is te skril. ’n Klaende gehuil weerklink toe Albie wakker skrik.

Rothea is bly oor die onderbreking. Sy haas haar na Albie en tel hom op.

“Toe nou maar, toe maartjies ... Jy is veilig. Mamma sal nie laat hulle jou wegvat nie.”

Albie is nie op sy beste wanneer hy ontydig wakker gemaak word nie. “Mamma soetie gee!” gebied hy huilend en weier om gesus te word.

Rothea is van Dieter se oë op haar bewus. Sonder om om te draai, sê sy verdedigend: “Albie het self met ‘Mamma’ begin. Dit was sy eerste woord. Moes ek hom reggehelp en probeer leer het om ’n lang naam soos ‘tannie Rothea’ te sê? Reken jy dit sou tot sy sekuriteitsgevoel bygedra het?”

“Ek het niks gesê nie.”

Rothea kyk vlugtig om, maar Dieter se gesig is stil en geslote en sy kan nie daaruit wys word wat deur sy gedagtes gaan nie.

Dieter staan op en hou sy arms uit. “Gee hom vir my,” beveel hy.

Instinktief hou Rothea Albie stywer vas, asof sy hom teen sy pa se familie wil beskerm. Ernst het gesê hulle is koue, liefdelose mense, trots en ontoegeeflik; tipies Teutoons en daarop gesteld dat hulle tot die verhewe Germaanse ras behoort, asof hulle gedurende die wêreldoorlog leef en alle ander nasies tweederangs is. Hoe kan sy ’n weerlose ou seuntjie van skaars twee jaar aan hulle oorhandig?

“Ek sal hom nie laat val nie,” sê Dieter.

“Hy is swaar ...”

Dieter behandel haar opmerking met die minagting wat dit verdien. Hy lig die klaende Albie met gemak uit Rothea se arms

“Wat vra hy – wat is ’n soetie?”

“Soetigheid,” verduidelik Rothea stug. “Lekkergoed, of iets.”

“Dis maklik.” Dieter glimlag terwyl hy ’n pak sjokolade uit sy sak haal. “Ek was voorbereid ...”

Albie hou gewoonlik nie van vreemdelinge nie en Rothea wag dat die huil in gille oorgaan en dat hy skop en spook om by haar terug te kom. Maar Albie stel haar teleur en sy het nie met die pak blinkpapier-sjokolade rekening gehou nie. Albie weet wat dit is en wil daarvan hê. Soeties kry voorkeur bo die vreemdeling op wie se heup hy sit. Sy oë blink afwagtend en hy wys met ’n vinger.

“Soetie hê!”

“Dis te laat in die aand. Hy sal siek word en ...” Rothea bly stil toe sy sien Dieter luister nie na haar nie. Goed, laat hy dan maar self sy fout agterkom, dink sy met genotvolle sadisme.

Dieter skeur die blinkpapier af en hou die lekkergoed uit.

’n Vet vuisie sluit daarom. “Nog ...” vra Albie met ’n volgepropte mond.

Dieter gee goedvertrouend. ’n Karamel-sjokolade en ’n noga. ’n Koffiegeur, dan ’n peperment.

Dis die groot, giftige groen peperment wat die laaste druppel in die emmer is, tesame met die karamel wat uit haastigheid nie deeglik gekou is nie. Albie het ’n groot aandete van maalvleis en kapokaartappels gehad, saam met melk en geroomde pere. Dit alles beland op Dieter – oor sy das, sy wit hemp en pak klere.

Rothea onderdruk ’n grinnik. Sy is nie haastig om te help nie. Sy wag ’n volle minuut lank voor sy ’n nat handdoek uit die badkamer bring en Albie van Dieter se skoot aftel.

Sy glimlag liefies. “Wil jy steeds hofsake hê, meneer Richter?”

Met die handdoek verrig Albie se oom wondere en hy is minder gepla as wat Rothea gehoop het.

“Hanna sal hom kan hanteer. Sy is baie ervare.” Dieter is egter versigtig genoeg om die pak sjokolade te bêre en veilig buite spoegafstand te bly. “Is hy siek?” vra hy met ’n behoedsame blik in Albie se rigting.

“Albie ’poeg,” verklaar Albie trots. “Albie ’poeg baie!”

“Dit was pragtig. Albie moet weer poeg. Báie,” prys Rothea hom.

“Nog soetie?” vra hy hoopvol.

“Môre kan jy nog kry. Nou eers weer slaap.” Rothea trek vir hom skoon nagklere aan, bring sy eenoog-teddiebeer en lê Albie terug in die bed. Sy wag tot sy asemhaling diep en reëlmatig is voor sy na Dieter draai. “Nee, hy is nie siek nie. Maar almal weet ’n kleuter moenie laat in die aand lekkergoed kry nie. Is jou klere baie bemors?”

“Nee.”

Rothea hou haar gesig ernstig. “Wil jy jou broek uittrek dat ek hom was?”

“Nee, dankie.”

“Jy kan intussen ’n kombers om jou draai en, as jy bang is hy val af, hom met doekspelde vassteek.”

“Nee,” herhaal Dieter kwaad. “Jy het dit met opset gedoen, nie waar nie?”

“Wat?” vra sy vroom. “Hom sjokolade gevoer? Nee, ek dink dit was jy gewees, meneer Richter, wat nie na my raad wou luister nie. Kleintjies is nogal ’n handvol, stem jy nie saam nie?”

So maklik is Dieter nie bereid om die ronde aan Rothea af te staan nie. Hy vryf oplaas met die handdoek en gee sy nat broek ’n pluk. “Hanna sal weet wat en wanneer om hom te voer.”

Rothea was geamuseerd en ’n rukkie lank kon sy haar vrese vergeet. Maar sy word ru tot die werklikheid teruggebring.

“Wie is Hanna?”

“Hanna Berger. ’n Kinderoppasster wat my moeder gehuur het. Sy het self kinders, hoewel hulle getroud en uit die huis is. Hanna sal goed vir Albrecht wees, ’n plaasvervanger-ma en ’n geduldige kameraad.”

“Klaar gehuur?” wil Rothea weet. “Julle is baie seker van jul saak.”

Dieter ontken dit nie. “Ek het reeds aansoek gedoen om Albrecht wettiglik aan te neem. Ek vertrou my aansoek sal gunstig oorweeg word.”

“Ek het ook navraag gedoen. Babas vir aanneming word slegs aan getroude pare toegeken. Hoekom sal jou aansoek toegestaan word, maar nie myne nie?”

“Ons situasies verskil.”

“In watter opsig? Jy het geld en ek nie? Die Richters het invloed en ’n Beukes nie?” vra Rothea verbitterd.

Dieter skud sy kop, maar verduidelik nie verder wat hy bedoel het nie. “Op die plaas is ’n eendedam, ponies, honde, katte en ander troeteldiere. Wat kan ’n lewe op die dorp hom bied om daarmee mee te ding? As jy aandring om Albrecht te hou, sal dit uit selfsug wees.”

Rothea kies haar woorde versigtig. “Besef jy hoe Albie eendag sal voel wanneer hy uitvind ek het hom gedwee aan julle oorhandig, sonder teëstand? Hy sal dink ek het nie omgegee nie en die wete sal diep kwets. En ek sal nie daar wees om te verduidelik dat ek nie genoeg geld vir hofsake gehad het nie.”

Rothea kyk Dieter vas in die oë en sluk aan die knop in haar keel voor sy verder praat. “Ek aanvaar dis jul bedoeling dat ek nie eendag daar sal wees om te verduidelik nie? Jou idee dat ek Albie nie weer sal sien nie en dat hy van my moet vergeet?”

Dieter sug en kyk weg. “Dit sal verkieslik wees so, bo die verskeurdheid van vakansies of naweke saam met jou, wat nuwe afskeide sal meebring. ’n Kind vergeet gou. Ek gee toe hy sal in die begin ’n bietjie oor jou huil, maar hy sal gou aan Hanna gewoond raak. Sy ken kinders en dis immers waaroor sy gehuur is ...” Hy gee ’n onderstebo-glimlag. “Om te weet wanneer is slaaptyd en wanneer soetie-tyd.”

Rothea beantwoord nie sy glimlag nie. Hoe het hy gesê? In die begin ’n bietjie oor haar huil ... Sy sien ’n prentjie van ’n troostelose en verwarde Albie.

“’n Middeljarige vrou, waarskynlik streng en uiters korrek in ’n witgestyfde voorskoot en toerygskoene,” merk sy op. “Sal vyftig- of sestigjarige Hanna Berger saam met Albie op die mat rondkruip agter albasters en karretjies aan?”

“Hy kruip seker nie meer nie. Op twee-en-’n-half loop kinders mos al.”

“Jy weet wat ek bedoel,” hou Rothea vol. “Eendedammetjies is gevaarlik vir kleuters en Albie is te klein om op ’n ponie te ry. Hy is nie aan honde en katte gewoond nie en sal bang wees vir al die vreemde diere.”

“Albrecht is ’n seun en ’n Richter. Dis tyd dat hy leer om nie bang te wees nie.”

Rothea het teenargumente of minstens gerusstellings verwag. Maar Dieter is skynbaar nie lus om verder te stry nie.

“Tannie Rothea? Is dit wat die mense jou noem? Rothea?” vra hy.

“My vriende, ja. Hulle noem my Rothea.” Sy staan op om Albie toe te maak, nadat hy hom oopgeskop het. “En hy is Albie. Sommer net Albie. Ernst het hom so genoem.”

“Albrecht is ietwat van ’n mondvol vir so ’n klein kêreltjie,” stem Dieter saam. “’n Duitse volbloednaam leen hom egter nie tot afkortings nie. My matriargale moeder sal dit as ’n belediging beskou om hom Albie te noem.”

“As Ernst hom nie sy oupa se familiename gegee het nie, sou julle hom steeds wou hê?”

“Ja.” Dieter bêre sy pyp, staan op en stap deur toe. “Ek het die naweek vry en bly tot Sondagaand op Upington. Ek sal graag beter kennis wil maak met my naamgenoot.” Met sy hand op die deurknop draai hy na Rothea. “Sal dit geleë wees as ek hom môremiddag om drie-uur kom haal om die aand en nag by my deur te bring?”

Rothea se oë is groot en donker en haar handpalms skielik klam. “Die nag by jou deurbring? Tot wanneer?”

“Sondagaand, wanneer ek teruggaan plaas toe.”

“Alleen?”

Dieter begryp wat sy bedoel. “Ek is nie onmenslik nie, Rothea,” sê hy sag. “Ek sal Albie nie onmiddellik van jou wegneem nie.”

“Wanneer dan? Oor ’n week? ’n Maand?”

“Moet jou nie vooruit daaroor bekommer nie. Drie-uur dan?”

“E ... Albie slaap gewoonlik tot drie-uur,” probeer Rothea uitvlugkans soek.

“Vieruur?” stel hy voor.

“Dis die tyd wanneer ek gewoonlik met hom in die park gaan loop,” skerm sy.

“Ek sal hom neem en jou ’n ruskans gee. Is vieruur geskik?”

Rothea druk die agterkant van ’n moeë hand teen haar oë, waar die trane baie vlak sit. Dis die begin van die einde, soos tant Betta altyd sê: jy kan nie ’n rivier se water met ’n sif keer nie.

“Miskien ...” Sy sluk pynlik en begin weer. “Miskien kwart oor vier. Hy slaap soms langer.”

“Kwart oor vier is in die haak. Ek sal met Hanna reël. Auf wiedersehen. Schlafen sie wohl. Tot siens. Lekker slaap.”

Rothea het op skool Duits geneem. Sy verstaan wat hy sê, maar antwoord Dieter nie in sy eie taal nie.

“Goeienag.”

Toe hy weg is, tel Rothea Albie op en hou die klein lyfie styf teen hare vasgedruk terwyl sy vrye teuels aan die trane gee. Môreaand dié tyd is Albie weg ... Die eerste nag dat hulle geskei is. Hoeveel nagte sal hulle nog bymekaar wees?

Dieter was reg toe hy gesê het dit sal selfsugtig wees om Albie tot elke prys by haar te hou, besef sy. Sal hy eendag vir haar dankie sê wanneer hy van die eende en skaaplammers, honde, katte en volop speelplek hoor? Van sy eie ponie wat hy kon gehad het? Van sy erfenis waarvan sy hom ontneem het?

Op agtien sal Albie waarskynlik al uit die skool wees. Sal hy nie dan dalk uit eie keuse na haar toe terugkom nie? Dis ’n strooihalmpie om aan vas te hou. Maar dis eers oor sestien jaar ...

“Melle, ’seblief?” vra Albie.

“Ja, my liefie, jy kan melk kry,” belowe Rothea boetvaardig, jammer omdat sy hom wakker gemaak het en wetende hy moet dors wees ná al die soetigheid en naarword. Sy sit hom nie terug in die bed terwyl sy die stoof aanskakel om die melk te verhit nie. Met Albie op haar arm, loop sy na die venster. Sy lig ’n hand om die kantgordyn weg te skuif en na die straat onder die venster af te kyk.

Dieter Richter is besig om in sy groot Duitse motor te klim. Terwyl sy kyk, lig hy ’n hand om te wuif en haar teenwoordigheid by die venster te erken. Rothea laat die gordyn haastig sak en stap weg, kwaad vir haarself omdat sy Dieter Richter nie in sy peetjie kon laat wegry het en meer selfbeheersing aan die dag gelê het nie. Sy weet mos hy bly by die duur en weelderige Hotel König. Hoekom wou sy kyk wanneer hy wegry? Wat maak dit aan haar saak watter kant toe hy ry?

Bitter bloeisels

Подняться наверх