Читать книгу Dwaalstories - Eugène N. Marais - Страница 3

INLEIDING

Оглавление

DIE GELEERDE Duitser dr. Bleek, wat ongeveer vyftig jaar gelede in die Kaap die Boesmantaal en -letterkunde – ’n letterkunde sonder letters! – ondersoek en ’n groot versameling Boesmanstories en -gediggies vir die Kaapse Biblioteek gemaak het, vertel hoe sy ondersoek bemoeilik is deur ’n verbasende ontdekking wat hy vroeg gemaak het. Hy vind dat in al die dierestories elke dier ’n eie, afsonderlike taal praat! Die leeu het sy eie taal gehad, wat heel anders was as dié wat jakkals praat. Iemand wat die dierestories wou vertel, moes dus tien of twaalf verskillende tale of dialekte leer. Hoe ver die dieretale van die eintlike Boesmantaal en van mekaar verskil het, kan ek nie sê nie, maar die uitwerking van die tale op die latere Afrikaanse Boesmanstories was eienaardig. In die meeste oorspronklike Boesmanstories verskyn gedurig liedjies en gediggies wat een of ander van die diere opsê. Nou, toe die Boesmantaal self aan uitsterwe was, het die vertellers die stories in hulle eienaardige Afrikaans oorgesit. Van die dieretaalliedjies en -gediggies het sommige nog bly bestaan selfs nadat die vertellers die betekenis verloor het. Mettertyd het hulle ’n mengelmoes van Boesmans en Afrikaans geword, heeltemal sonder betekenis. Die klank was die vername ding, die betekenis ’n ondergeskikte saak. Daaruit het die latere “Dwaalstorie” ongetwyfeld ontstaan. Sommige van die stories is net ’n aaneenskakeling van woorde met ’n dowwe skaduwee van betekenis. In ander weer was die betekenis duideliker. En hierdie laaste soort herinner ’n mens baie aan die vroegste Europese kinderliedjies en -gediggies, wat deur die eeue geleef het; ook net woorde en rympies, met ’n baie duistere betekenis.

Die Boesmans se “Dwaalstories” het altyd vir Afrikaanse kinders ’n groot aantreklikheid besit. Die skrywer ken een Afrikaanse familie Grobler wat ’n ou Boesman, outa Flip, in diens had. Al die kinders het min of meer onder sy toesig grootgeword. Hy was ’n fameuse storieverteller. Die “Wolf en Jakkals”-sage het hy van A tot Z geken, en dwaalstories sonder einde. Die kinders het altyd ’n dwaalstorie gekies wanneer die keuse aan hulle oorgelaat was, en vandag kan hulle nog ’n menigte opsê, woord vir woord, en outa Flip is al dertig jaar in sy graf! Sommige van die sogenaamde stories is op suiwer rym. Dit is natuurlik enkel aan blanke invloed toe te skrywe. Die oorspronklike Boesmans het niks van rym geweet nie. Ander weer bevat soveel betekenis dat dit duidelik is dat die aaneenskakeling van woorde oorspronklik ’n werklike storie was.

Die skrywer self het jare lank ’n ou Boesman, outa Hendrik, geken. Hy was oor die honderd jaar toe hy enige jare gelede oorlede is. Erich Mayer het ’n skildery van die ou gemaak kort voor sy dood. Ou Hendrik kon ook ’n reeks dwaalstories opsê, wat vir die skrywer interessant was omdat daarin altyd veel meer waarde aan die betekenis geheg was as in bo-aangehaalde Grobler-tipe. Al die stories het ten minste die suggestie bevat van ’n reeks verhaalagtige gebeurtenisse – net só ’n suggestie as wat nodig is om die lewendige verbeelding van ’n kind kragtig te roer. Iemand wat belang stel in die sielkunde van die kind, sal gou besef waar die aantrekkingskrag van die storie sit.

Ek wil probeer om ’n paar dwaalstories van ou Hendrik weer te gee. Ongelukkig het ek nooit een van hulle woord vir woord opgeskryf nie. Ek het ’n paar neergeskryf onmiddellik ná die vertel. Ek erken tot my spyt dat daar baie verlore is. Die eienaardige Afrikaans-Boesmanwoorde en -uitdrukkings is my meestal ontgaan, en die gepaste gebare, natuurlike namakings en uitdrukking kan in geskrif nie weergegee word nie. Die leser het miskien die persoonlike ondervinding gehad en besit die nodige verbeeldingskrag om dit self by te sit.

E.N.M.

1927

Dwaalstories

Подняться наверх