Читать книгу Donkerwoud - François Bloemhof - Страница 4

Оглавление

2


Die ligblou figuur

Die motor se enjin is skaars afgeskakel, of tant Olga kom by die voordeur uit. Om haar skouers is ’n pers tjalie en sy dra groot goue oorringe soos ’n sigeuner.

Sy groet hulle kortaf. “Bring julle tasse. Julle wil seker koffie hê,” is al wat sy sê, en hulle volg haar by die huis in.

Dit is net so koud binne soos buite. Swaar, donker gordyne hang voor die vensters en in al die vertrekke brand kerse. Die kerse is in houers wat teen die mure vas is, en die vlammetjies dans en gooi lang skaduwees.

Tant Olga gaan kombuis toe en ’n paar sekondes later hoor hulle die geluid van water wat in ’n ketel getap word.

Rolf sak in ’n stoel neer en hy sien net stof trek. “Jig!” sê hy.

Sy ma lig haar vinger waarskuwend.

Tiaan is te rusteloos om te sit. Hy dwaal tot by ’n venster en trek die gordyn weg. Al wat hy sien, is bome en nogmaals bome. Dit lyk asof groen en bruin die enigste kleure in die wêreld is.

Maar . . .

Hy trek sy oë op skrefies. Het hy iets gewaar? ’n Ander kleur tussen die bome . . .

Sy asem wasem teen die ruit en hy kan nie behoorlik sien nie. Vies vee hy oor die glas. Daar, tussen twee bome, iets ligblous . . .

Dan is dit weg. Hy frons en vee weer oor die ruit, maar daar’s niks.

“Wat staan jy so by die venster, Tiaan?” vra sy pa. “Kom sit hier by ons.”

“Ek staan sommer net en kyk na die woud, Pa.” Tiaan kyk weer stip na die plek waar hy iets gesien het, maar daar is nou niks. Het hy hom nie maar net verbeel nie?

“Is hier ander mense hier rond?” vra Tiaan toe tant Olga die sitkamer binnekom. Sy dra ’n skinkbord met ’n koffiepot en bekers, teelepels en melk en suiker.

“Nee, hier is nie,” antwoord sy toe hulle pa die skinkbord by haar vat. “Nie vir kilometers nie.”

“Maar ek het iemand daar tussen die bome gesien.”

“Bog.” Sy gee ’n snaakse laggie en loop om die gordyn toe te trek. “Hou dit asseblief toe, die lig is te skerp vir my ou oë.”

Skerp? Hy lag amper. Die groot bome gooi lang skaduwees oor die huis en dit lyk amper skemer op die werf.

“Kom sit. Drink jou koffie,” sê tant Olga, nou minder stroef.

“Dankie, tannie.”

“Noem my tant Olga,” sê sy. “Jy weet mos.”

Die koffie proe bitter. Dis nie naastenby so lekker as wat dit geruik het nie, maar Tiaan sê niks.

Ook Rolf is stil. Hy drink nie sy koffie nie en sit net daar soos ’n zombie en staar in sy koppie.

Daar wás iemand, dink Tiaan. Maar wie?

“Nou ja, ons moet weg wees,” sê hulle pa en staan op toe sy koppie nog nie eens behoorlik leeg is nie.

Toe hulle groet, fluister hulle ma vir hulle: “Julle moet julle gedra, en geen gebakleiery nie. Julle is gaste hier en moenie dit vergeet nie.”

Die motor trek weg dat die modder so spat en die tweeling staan hulle en agterna kyk.

“Ek hoop julle kan julleself besig hou. Julle het seker boeke saamgebring,” sê tant Olga, en haar oorringe klingel. “Ek het baie werk om te doen.” Sy draai om en gaan by die huis in.

Voor hy en Rolf haar volg, draai Tiaan terug na waar hy die figuur tussen die bome gesien het. Daar’s niks. Dalk het hy hom dit alles maar net verbeel . . .

Donkerwoud

Подняться наверх