Читать книгу Die Singende Gras - Freda Linde - Страница 4

1

Оглавление

Lans is gewoond om op hierdie warmste tyd van die dag veld toe te stap. Na twee in die middag begin alles stil word by die hotel, en niemand roep na hom nie. Hy hou regs van die groot stowwerige plein, by die kameelkampie verby, en steek die nasionale pad oor.

Dan is hy in die hoë gras, duskant die spoorlyn wat hier ewewydig met die pad na die noorde loop. Hy klim teen die skuins gruiswal langs die treinspoor uit en loop ’n entjie op die spoorstawe langs. Iets laat hom omkyk. Die kameel het haar kop tussen twee drade van haar omheining deurgesteek. Dit doen sy partymaal as hy per ongeluk ’n wortel of ’n paar peule aan die buitekant van haar kampie laat val; maar nou rek haar nek nie grond toe nie, net vorentoe. Sy skuur seker net haar nekvel teen die draad. As hy terugkom, sal hy vir haar ’n armvol sappige gras sny. Die hitte is nogal lekker; dit prik sy arms en bene. Op hierdie warmste tyd van die dag voel dit amper asof die hitte wat van die grond opslaan, hom ook wil oplig. Dan sal hy stadig sweef in plaas van stap.

Anderkant die spoorlyn stap hy weer deur ’n laagtetjie gras. Die graspluime is sag soos pluis; sy bene skuif tussen die polle deur sonder dat sy velskoene hulle plattrap, want hoewel die halms wyd uitsprei boontoe, staan die polle nie so naby mekaar as wat ’n mens sou dink nie. Net bo sluit die lang pluime inmekaar soos vere; nie groen nie maar groenwit, en rooierig, en effens pers.

Hier aan die voet van die tafelkop waar die gras al droog is, skuur dit ’n dowwe snarespel teen die leer van sy skoene terwyl hy stadig aanstryk en af en toe met die stok in sy hand ’n harde tik op die grond gee om die slange te waarsku. Slange soek nie vanself skoor nie, dit weet hy. Hulle seil weg as hulle jou gewaar – behalwe pofadders wat te lui is om te verroer op sulke dae. Maar Lans se oë sien diep tussen die grasstingels in.

Hy loop vandag om die noordelike punt van die kop en klim aan die agterkant van die helling op. Die goeie reëns van ’n maand of wat gelede het die veld verander. Tussen die driedorings en lae struike staan fyn pers blommetjies en rooi veldrosies. Hy pluk ’n paar vir Frau Gisa wat hulle tussen boekblaaie sit.

Toe hy aanloop, skop sy velskoen iets uit die gras, iets wits. Dis ’n beentjie. Dit moet seker een van die rugwerwels van ’n skaap wees. Dis spierwit gebleik deur die son; net in die murgholte sit stoffies – hy blaas dit uit. “Dis ’n vliegtuigie!” dink hy meteens, terwyl hy dit in sy hand hou aan die skerp kielvormige middelbeentjie. Weerskante staan die lang smal vlerkies effens agtertoe en effens opwaarts, en aan die stertvlak sit twee ronde krulle. Hy verwonder hom daaraan dat dit so spierwit en so heel is. Miskien het ’n wildekat of ’n ander klein velddier dit van die geraamte af weggedra en hier laat lê, en het die wind dit toegewaai, en later weer oopgewaai. Hy steek dit in sy sak.

Hy is nou bo-op die tafelkop. Hy gaan sit op ’n plat klip wat tussen die graspolle uitsteek, en kyk af op die hotel ver onder hom, anderkant die treinspoor en die nasionale pad. In haar klein draadkampie sien hy die kameel teen die hekkie aan staan, roerloos met haar kop half agteroor op die lang krom nek, en die hoë boggel wat, so van die sykant gesien, ’n steil afdraand met die agterlyf vorm. Hiervandaan lyk sy so alleen en vasgekeer. Alles aan haar is gemaak vir die sandpad van die woestyn. Hy reken uit dat dit al oor ’n jaar is dat hy van die sendingskool af hiernatoe gekom het, waar hy Jesha versorg en ander werkies by die hotel doen. As hy gaan stap, bring hy altyd vir haar ’n lekkerny uit die veld, vars gras, of ’n veldpatat, of as hy kans kry om rivier toe te gaan, ’n handvol kameeldoringpeule, waarvoor sy lief is.

Ver agter die hotel lê die donker streep van die bosse langs die Visrivier, hier en daar onderbreek deur die wit stippel van ’n huisie. Die rivier het kort gelede nog kant en wal gelê. Hardap se sluise moes oopgetrek word, want die dam was klaar vol van die swaar reëns in Desember. Daar was nog nooit so ’n reënjaar waarvan hy weet nie; tog het die takriviertjies gou leeggeloop. Dabib se droë walle lyk soos stukke koek waarin die vloedwaters gebyt het. Weissfeld sê mens kan nou weer verskeie droë jare verwag.

Hier, waar hy so ver kan sien, gee hy toe aan ’n heimlike dagdroom: As hy groter is en meer verdien, gaan hy die kameel koop van die Weissfelds; dis tog duidelik dat hulle niks vir haar omgee nie. En die saal wat daar in die motorhuis hang, sal hy ook moet hê … As hy eers eenmaal vir Jesha het, sy eie kameel, sal hy al met die rivier op trek, eers met die grondpad aan die westekant langs tot agter die Hardapdam; dan met die reservaatpad langs die rivier op tot by die bo-ent van die reservaat waar die Visrivier vurk; dan vat hy die regterloop van die vurk en trek daarvandaan in die rivierbodem op, verby Kalkrand, tot by Rehoboth waar hy grootgeword het. Jesha sal die pakkasie dra, blikkieskos, droëvrugte, gerookte vis en komberse, en vir haarself ’n sakkie mielies. ’n Hele paar maande ná die reëntyd moet dit wees, dan is dit nie so warm nie, en hulle kan smiddae met die sandstrook onder die wal in die skaduwee van die bosse langs hou. In sy gedagtes skerm hy telkens weg van die vraag of die rivier orals so herbergsaam sal wees soos die stuk wat hy so goed ken – lappe papkuil en sandstroke en beboste oewers.

Waar hulle nie kan deur nie, moet hulle maar ’n ompad vat, en as haar pote seer word, moet hulle ’n ruk lank oorbly waar hulle is. Anderkant Rehoboth sal hulle weswaarts hou, en daarvandaan stadig trek in die rigting van die Kuiseb – dit sal seker maande en maande duur voordat hulle op ’n dag die onbekende rooi duine sien …

Sy pa het hom vertel van die rooi duine van die Namib, en hoe daar tog diere in daardie eensaamheid leef. En hoe hoog die bome groei in die sandlope van die Kuiseb. Daar sal vir haar skaduwee wees. Skaduwee en woestyn. ’n Kameel moet ’n woestyn hê. Sy pa het daar naby in een van die myntjies gewerk, aan die rand van die groot woestynpark, en het die woestyn toe ook leer ken. Nou werk hy in die hawe in Walvisbaai. Hy het sy pa die laaste keer gesien toe hy hom hier na die hotel toe gebring het, nadat eerwaarde Morgenrood vir hom die werk van kameeljongetjie gekry het.

Dié dag het sy pa vir Ma-Sêra gesê sy moet na hom omkyk. Dit was toe Ma-Sêra vertel het dat sy by Witmense grootgeword het, by ’n tante van Frau Weissfeld. Toe sê sy pa: “Dan is jy self goed grootgemaak. Jy moet maar ’n oog oor hom hou terwyl ek dit nie kan doen nie.”

Maar dis nie nodig dat sy ’n oog oor my hou nie, dink Lans. Ek kom baie goed alleen reg.

Van waar hy sit, kan hy die letters STEINHAUS op die hoteldak uitmaak. Daar roer niks daar onder waar die hotel soos ’n reusagtige H naby die teerpad lê nie. Die twee bene van die H wys na die pad toe. In die brug van die H aan die pad se kant is die kafee en eetkamer en die gaste se sitkamer. Op die voorpunt van die suidelike been van die H is die kroeg, met twee buitedeure. Die hele noordelike been van die H is gastekamers met hul badkamers: twee rye daarvan wat uit ’n gang lei. Die Weissfelds se woonvertrekke en die spens en kombuise is in die suidelike – en koelste – been van die H. Hul private sitkamer en Weissfeld se studeerkamer is aan die agterkant van die H-brug, wat op rotstuine uitkyk.

Die vierkantige openings weerskante deur die H gevorm, is klipstoepe, met diep verandas daaroor, maar agter, aan die westekant, is die bene van die H heelwat langer, en net ’n deeltjie van die ruimte word deur die groot klipstoep daar opgeneem – die res bestaan uit woestynrotstuine met ’n kokerboom reg in die middel. Daar is eintlik altyd koelte op die twee stoepe, want die voorste word beskut deur bome en die agterstoep deur ’n veranda en ook nog deur die lang gewels. Die agterstoep word net deur die Weissfelds en hul spesiale gaste gebruik; maar partymaal sit Gisa alleen daar, en partykeer sit Weissfeld alleen.

Jesha staan nog soos sy gestaan het. Die landskap daar onder het sag geword onder ’n skielike windjie wat oor die graspluime roer. Na die goeie reëns staan die gras feitlik orals. Die soet, gommerige geur daarvan omhul hom. Hier bo van die tafelkop af kan hy sien hoe Skeppman sit en koerant lees onder die boom. Sy blink turkooisgroen hemp is ’n vlek in die sagte stil landskap om die hotel. Philemon is reeds by die pompe om Skeppman af te los. ’n Blou Volkswagentjie kom uit die rigting van die dorp aangery en draai by die hotel in.

Skeppman staan op om sy plek agter die kroegtoonbank te gaan inneem. Smiddae net na die etensuur as Weissfeld gaan rus, is Skeppman kroegman. Hy is nie veronderstel om buite rond te sit nie. Maar die eienaar van die blou motortjie het net aangekom om petrol. Hy ry elke dag in die etensuur van die Hardap-reservaat af dorp toe en terug; maar hy is laat vandag, want dit moet al oor twee wees. Teen hierdie tyd slaap Weissfeld lekker en diep. Mens kan hom hoor snork as jy buite naby sy venster verbyloop. Hy, Lans, hoor dit al as hy om die hoek van die hotel kom, want hy het fyn ore. Hy hoor die gedreun van vliegtuie wat oor Keetmans kom lank voordat iemand anders dit hoor. En hy sien ook baie ver. Ma-Sêra sê self hy het valk-oë. “Maar wat help dit,” sê sy, “as jy jou woord nie kan doen nie? Jy moenie bang wees om te praat nie. Jy moet net stadiger praat.”

Stadig praat help nie. Dadelik dink hy aan Skeppman wat so glad met sy mond is. “Voorbarig,” sê Weissfeld. Tog hou die mense van Skeppman; selfs Ma-Sêra lag vir sy sêgoed. Nou sit Ma-Sêra, dit kan hy raai, en dut oor haar breiwerk. Óf Lilly óf Jane sit ’n tydskrif en lees agter die toonbank in die kafee, net ingeval een van die motoriste wat by die pompe stilhou, ’n koeldrank of sigarette wil hê.

En Frau Gisa sit en briewe skryf in die sitkamertjie wat op die agterstoep uitgaan. Miskien sal sy hulle later in die middag, as dit koeler word, op die dorp gaan pos; maar sy gaan nie elke dag nie. ’n Enkele keer vra sy hom om saam te ry, want sy weet hy gaan graag dorp toe. Hy begin stadig teen die helling af loop. Hy voel na die mes in sy sak. Dis veiligheidshalwe met ’n toutjie aan sy gordel vasgebind. In sy ander broeksak is die witgebleikte beentjie wat soos ’n vliegtuigie lyk. Toe hy halfpad by die tafelkop af is, merk hy – kan dit wees? – Frau Gisa voor die voorstoep van die hotel, besig met die tuinslang. Sy spuit die klimop met die rooi blommetjies voor die stoep nat. Dan is hy mos laat. Dit het nog nooit gebeur dat sy voor drie-uur se kant buite besig is nie. Hy hardloop die laaste entjie die helling af. In die laagtetjie langs die spoorlyn sny hy gou ’n paar handevol gras vir Jesha.

Maar dit ís nog vroeg, besef hy toe hy die pad oorsteek en die kameelkampie nader: Die regterhoekpaal se skaduwee lê skaars verby die groot klip.

Iets is anders vandag …

Sommer in die verbyloop stoot hy die gras onder die draad van Jesha se kampie in en stap verby; maar selfs op dié afstand ontglip niks Frau Gisa nie. Sy het gesien dat hy die gras gebring het.

Frau Gisa het die tuinslang op ’n dun straaltjie gedraai en staan en wag. Sy het sandale aan en die pype van haar kakiebroek is opgerol. Miskien het Ma-Sêra vir haar gesê van die bosluise op die kameel, en dat hy iets wil hê om hulle dood te maak, en is dit die rede hoekom sy in sy rigting kyk.

“Lans,” sê Frau Gisa terwyl sy die kraan toedraai. “Vanmiddag moet jy vir my ’n paar werkies doen, asseblief, hoor. Maak voortjies rondom al die stamme van die klimop. Dit maak so ’n mooi heining as dit blomme aanhet. As jy klaar die walletjies gemaak het, kan jy weer water gee. Met die gieter. Herr Weissfeld wil nie die tuinslang laat gebruik nie. As jy klaar is, gaan was jy vir my die agterstoep met ’n mop in seepwater gesteek; maar vee eers die stoep, gehoor.”

Hy knik op alles wat sy sê, want hy is nog in die war, en voel dat hy nou nog erger sal hakkel as ander kere. Hy maak sommer dadelik, toe sy binnetoe is, die voortjies om die stamme. Hy is amper klaar toe Skeppman verbykom. “Wat grou jy daar soos ’n mol?” vra hy. Lans werk die afgevalde droë blommetjies met die grond deurmekaar, om die klimop se stam. Hy kyk nie op nie en antwoord nie. ’n Rukkie later ry Skeppman met die bakkie weg dorp toe soos elke Vrydagmiddag, en Lily gaan aflos by die kroegtoonbank.

Lans spuit ’n laaste gieter water op die stoepheining. Frau Gisa sê dis ’n mooi klimop – hy wonder of sy weet dat dit ’n veldstruik is. Hy het dit al gesien waar min ander struike groei, in die klippieslaagtes, en daar is die persrooi buisies met die geel stuifmeeldrade wat so ver uitsteek bo, nog mooier as hier, waar sy nou dink dit moet so danig water kry. Dit rank nogal dig hier, seker omrede die koelte wat dit in die middag kry. Jesha kry nooit enige koelte nie, dink hy. Dagin, daguit staan sy onder die uitdorrende son in haar stowwerige kampie, met net die bietjie koelte van die kort, stil nagte.

Lans het die agterstoep gevee, en hy gaan die seepwater en mop by Ma-Sêra haal. Toe hy terugkom, is Gisa en haar man in die sitkamertjie, waaruit ’n groen glasdeur na die stoep lei. Die deur is nou oop; Gisa het die dik gordyne voor die vensters ook weggeskuif en staan voor die venster. Van Lans en sy wassery neem sy nie notisie nie. Sy kyk in die verte.

“Hoe mooi is die gras, nè?” sê sy vir Weissfeld.

Ook Lans kan die gras nie vergeet nie, want hy ruik dit heeltyd, veral vandat die wind opgekom het. Hy geniet sy werk; dis altyd lekker om iets vir Frau Gisa te doen. Die klippe blink waar hy gewas het en sy kaal voete blink ook.

Weissfeld sit by die ronde sitkamertafel met ’n pak papiere. Hy kyk ’n oomblik op, maar sê niks. Hy het ’n tyd gelede ’n hartspier geskeur toe hy oefeninge gedoen het met gewigte optel, en noudat hy uit die hospitaal is, moet hy hom vereers stil gedra.

By die venster sê Frau Gisa, dié slag of sy dit vir haarself sê:

“Hulle waai soos witblonde hare, daardie halms.”

“Dit beteken ’n goeie karakoeljaar!” sê Weissfeld. “Daar is geld in dié geil gras.”

Frau Gisa draai vinnig van die venster weg. “Tj … geld!” sê sy tussen haar tande deur, maar sy sê dit nie, sy sis dit. Lans maak asof hy niks sien of hoor nie; hy woel met die mop dat die seepsop spat, want Ma-Sêra het hom geleer: mens kyk net reg voor jou en steek nie jou neus in ander mense se sake nie. Maar na ’n rukkie, toe hulle oor Jesha begin praat, vergeet hy van Ma-Sêra se waarskuwing. Toe staan hy vlak voor die drumpel van die breë glasdeur en hy roer die mop net in die rondte.

“Hein, die kameel het bosluise.” Dan het Ma-Sêra tog onthou om te sê. Weissfeld antwoord nie dadelik nie.

“Wat kan Lans doen om haar skoon te kry?”

“Hy moet maar aftrek wat hy kan, en die hare afskeer rondom die boggel en by die nek. Dan kan hy haar vel met ’n paraffienlap skoonmaak. Hy kan by Skeppman ’n bietjie paraffien kry. As dit nie help nie, moet hy haar spuit.”

“Ag nee, Hein. Kan hy haar nie was nie?”

“Was?”

“Ja. Met water en seep?”

Weissfeld antwoord nie, en Lans onthou dat hy suinig met water is.

“Ek het gehoor jy kan ’n kameel was,” hou Gisa aan.

“Natuurlik. Jy kan ’n baba ook was. En jy kan ’n motor ook was. Maar wat help dit om ’n motor of ’n kameel te was?”

Gisa grim net effens omdat Weissfeld skimp op haar motor wat partymaal gewas word. Dis Lans se werk en hy verdien ’n ekstratjie daarmee.

“Wat ook al die rede,” vervolg sy, “die kameel lyk verwaarloos en agteruit. Almal sê so, en ek hou nie daarvan nie.”

“Wie almal?”

“Wel, selfs die besoekers wat na haar gaan kyk. Sy staan net jaarin en jaaruit in die bloedige son. Kan jy dan nie vir haar ’n beskutting laat opslaan nie? Ag Hein, dit kan in ’n halfdag gedoen word?”

Lans staar hulle afwagtend aan. Maar Weissfeld sê:

“Kamele kom niks oor van son nie. Die warmste tyd van die jaar is nou ook verby. Dit word al koeler.”

“Koeler … Vader help my! Ek kan dit in elk geval nie meer aansien nie.”

“Wat nie?”

“Die armsalige kameel daar. Sy laat my te veel dink aan my eie, ingehokte bestaan.”

“Dis die bestaan wat jy vir jouself gekies het.” Lans sien hoe Weissfeld oor sy brilglase na sy vrou kyk. En Lans kan nie verroer nie, hy kan nie wegkyk nie. Hy wil vir Weissfeld skree: “Hoekom moor jy die kameel so?” Maar hy skree net in sy gedagtes. Hy sal dit nie waag nie.

Tog wil hy praat. Hy wil sê: “Frau Gisa, sy het haar vel al stukkend geskuur teen die hekpaal van die kampie net oor die bosluise.” Maar hy sê dit nie, want veral met Weissfeld by, sal sy tong vassit, en dan riffel sy voorkop, en hy skaam hom, en sy skouers trek op, en sy kop in, soos ’n kroes duif.

Weissfeld loer ’n lang ruk oor sy brilglase na sy vrou terwyl sy fronsend na hom terugstaar. Toe sê hy:

“Jy is nes ’n kind. Nou wil jy dit hê en dan weer dat. Eers moes ek woestynplante, en klippe, en halfgroot bome laat aanry. Toe wil jy weer die kameel hê. Toe vreet die kameel die bome af … Onthou, dit was jou idee, die kameel én die omheining.”

“Wel, sy het aan die bome gevreet.”

“Jy het jou nie eers daaraan gesteur nie. Jy het op haar rondgery. En die skoolkinders van die dorp het kom ry. Maar toe die nuwigheid verby is, toe sê jy sy moet daar anderkant afgekamp word waar die motoriste haar van die pad af kan sien.”

“O nee, dit was jou idee, dat sy die motoriste sal aanlok. Ek wou net ’n behoorlike kamp vir haar gehad het, met ’n beskutting.”

“Watse beskutting, sinkplate op pale?”

“Wel … dit kan geskilder word.”

“Dit sal snaaks lyk. Dit sal die hele plek bederf. Die kameel is net ’n sonde en ergernis. Ek erken sy trek aandag. Mense weet nie meer hoe ’n kameel lyk nie en hulle is nuuskierig; maar die motoriste het immers nie tyd om op haar te ry nie!”

“Natuurlik nie,” lag Gisa.

“Dis ook net dié wat saans laat hier verbykom wat oorbly, en hulle vertrek weer na ontbyt. Mense is haastig deesdae, und …” Sy oë blink: “Hulle sal die dorpie moet versit as die dorpshotelle nou met ons wil meeding. Die reservaat ontwikkel nou vinnig as vakansieplek. Ons is net reg geleë hier naby die uitdraai na Hardap, en teenaan die nasionale pad. Die motoriste kom nie hier aan oor die kameel nie. Wat my betref, kan ons maar van haar ontslae raak, mits ons dieselfde prys kry wat ons destyds vir haar, en vir die saal, betaal het!”

Weissfeld se voorstel laat Lans so skrik dat hy ’n paar oomblikke niks helder opneem nie. Weissfeld sê iets soos: “Sy is nie in ’n slegte toestand nie. Die vet boggel op haar rug wys dat sy in ’n goeie toestand is,” waarop Gisa antwoord:

“Dink jy so? Dan is dit seker aan Lans te danke, wat gras uit die veld aandra en so te sê die kos uit sy mond vir haar voer; wat anders kry sy ooit wat vars is?”

Lans tree terug, maar dis te laat. Weissfeld se skerp blou oë het hom vasgepen. “Onnosel,” sê Weissfeld, “dit help nie om lief te wees vir ’n kameel nie!”

“E-e-k is ge-lief vir die ke-kemeel nie, me-meneer.”

“Nein! Herr Weissfeld!”

“H-her-re Weiss …”

“Toe maar, Lans,” glimlag Gisa, “dis jou werk om vir die kameel te sorg, en jy doen dit goed. Was die mop uit as jy klaar is.” Ma-Sêra het tee ingebring en dit op die tafel neergesit sonder ’n woord.

Ma-Sêra dra wye lang rokke wat ritsel en ruis as sy loop. Sy is die enigste Damara in die distrik wat so aantrek, maar Weissfeld wil dit so hê.

Gisa skink die tee en gaan regoor haar man sit.

“Ons kry volgende week ’n kuiergas,” sê sy. “Helie Bergen, die vriendin van my, jy weet mos.”

“Nee, hoe sal ek weet?”

“Mevrou Bergen, man, wat saam met my was toe ons jou in die hospitaal in Windhoek besoek het. Onthou jy nie, julle twee het nog so lekker gesels?”

“Ek onthou ja … vos-blond?”

“Sy kom Maandag. Ons moet haar by die lughawe in Windhoek gaan ontmoet.”

“In Windhoek gaan …? Vir hoe lank kom sy?”

“Wel, sy’t nie gesê nie. Seker ’n week, of ’n paar weke …”

Lans wonder of Weissfeld nie van kuiergaste hou nie, want weer kyk hy ’n lang ruk oor sy brilglase na sy vrou. Net dié keer sê hy niks nie. Hy staan op sonder om sy tee te drink.

“Jy maak nie mooi nie, Weissfeld!” roep sy agter hom aan. “Ek is eensaam op hierdie plek! Ek verlang ook na geselskap! As jy een oggend wakker word, is ek vort; die wêreld is groot.”

Sy neem nog ’n paar slukke tee, sit die koppie hard neer. Dan volg sy hom.

Beteuterd en ongelukkig gaan Lans die mop uitwas.

By die kombuis kry hy sy tee uit sy blikbeker. Dis net ’n blik waaraan ’n groot oor gesweis is. Sy pa het dit tussen sy goed gehad toe hy hom die laaste keer gesien het. Omdat Lans dit so bewonder het, het hy dit vir hom gegee.

Elke keer sê Ma-Sêra: “Dit help nie dat die beker so groot is nie, ek skink hom net half,” en dan skink sy dit driekwartvol. Eendag het Weissfeld beswaar gemaak teen die groot beker. Toe sê Sêra:

“Die beker hou presies drie koppies, en ek skink dit halfvol, dan kry hy nie weer nie. Skeppman kry altyd soggens ’n tweede koppie.”

“As jy klaar is, kan jy hierdie wortellowwe en skille vir die varke gaan gooi,” sê Ma-Sêra. Sy gee hom ook ’n appel. “Jy kan die slegte plekkie afsny. Appels is skaars.”

Lans soek die varsste lowwe uit en sit dit eenkant in ’n klam koerant. Dis vir Jesha.

Weissfeld hou die varke aan sodat die afval uit die kombuis nie verlore gaan nie; net genoeg varke om die skille en lowwe en oorskietgroente en bederfde vrugte te vreet.

Hy sien Weissfeld buite rondstaan en op sy horlosie kyk, en wonder wat dit beteken. Miskien wag hy op Skeppman. Lans is bly dat Skeppman nog nie terug is nie; nou hoef hy nie vir hom die paraffien te vra nie. Ma-Sêra sê sy het nog. Uit die ingeboude kas in die kombuis waar die besems en politoer gehou word, haal sy ’n vol bottel en gooi die helfte vir hom uit. “Hier is ’n paar lappe,” sê sy, “en iets om op die stukkende plekke te sit. Littels – dit maak die plekke droog, en hou die vlieë weg. Hoekom lyk jy so bekaf?” Maar hy praat nie. Hy is nog besig om alles te oordink wat hy gehoor het.

“Ja,” sê Ma-Sêra, wat meen dat hy dikmond is oor die bosluise. “As daar nie peste was soos bosluise en vlieë en vlooie en motte nie, om nie te praat van die stof wat op alles kom sit nie, dan sou ons ok nie sorgsaam gewees’t en lief gewees’t vir wat ons het nie.”

Ma-Sêra is gewoond om alles in die beste voue te lê, selfs bosluise. Hy tap solank ’n emmertjie water vir Jesha by die betontenk langs die agterdeur.

Sy aandag is by die kameel wat doodstil teen die hek van die kampie staan. Met haar kop amper meer agteroor as waterpas op haar hoë nek, kyk sy in ’n noordelike rigting, asof sy oor die grasheuwel kyk waar die teerpad verdwyn. Weissfeld sê mos ’n kameel steur hom aan niks en niemand nie. Vir ’n kameel is alles vinkel en koljander. Dit pas Weissfeld om so te sê, en Skeppman praat agterna, want hy wil ook niks met die kameel te doen hê nie. Grootmense glo wat hulle pas.

Hulle sal hom niks wysmaak nie. ’n Kameel kan ook alleen wees. Kamele leef tog in troppe, saam met ander kamele. Of saam met reisigers wat goed vir hulle sorg. Ma-Sêra sê altyd sy is eensaam, want sy mis Frau Koch by wie sy grootgeword het, en vir wie sy opgepas het, en sy mis haar dogter van wie sy nooit hoor nie. Maar almal gesels met Ma-Sêra en hou van haar. Dis net hy wat ooit met Jesha gesels. Jesha is die alleenste van almal.

Vandag het hy gehoor dat hulle op haar gery het toe dit nog ’n aardigheid was. Deesdae is hulle moeg van haar, en Weissfeld sê sy bring net sonde en ergernis, en hulle kan haar maar wegmaak. En wat van hóm? Sal hy dan ook moet loop?

Hy gaan haal eers ’n kwartbaaltjie droë lusern van die solder bokant die motorhuise af om haar voer ook reg te hê as hy haar klaar skoongemaak het. Met die bottels in die lappe toegedraai en die wortellowwe in die koerant, alles onder sy arms vasgedruk, stap hy swaarbelaai aan. “’n Luiaard dra hom dood, maar loop nie twee maal nie,” sê Ma-Sêra.

En in sy broeksak is die appel. Jesha weet al daarvan, want sy laat haar kop sak; miskien ruik sy dit. Haar beweeglike lippe reik tussen twee drade deur. Lans lag van plesier. Hy sit die emmer en lusern neer, en nog in dieselfde halfsittende beweging laat gly hy die ander goed sommer onder sy arms uit. Tydsaam haal hy die appel uit. Soos baie kere tevore verwonder hy hom aan die gleuf wat onder die skuins splete van haar neusgate begin en in die geronde nis van die bolip uitmond.

Die los lippe voel teen sy hand voordat hulle om die appel sluit. So vat sy dit altyd, net met die lippe, en dan, dan geniet hy dit saam met haar as sy dit oombliklik pap druk tot ’n geurige sopperigheid tussen haar geslete tande. Maar so gou is dit afgesluk dat sy net sowel daarvan kon gedroom het. Haar weemoedige, swaar oë, half toe onder die lang wimpers, vra nog.

Hy gooi die water in die trog, sommer deur die draad. Hy moet op ’n klip staan om die draadlus van die paal af te stoot, sodat die hek halfoop hang. Sy probeer nie uitkom nie, al staan sy so dikwels teen die hek aangedruk. Sy is so ’n gehoorsame kameel. As hy die droëvoer en ander goed aan die binnekant neergesit het, haak hy weer die hek toe deur op die klip te staan. Soos gewoonlik kruip hy deur die draad aan die sykant. “Soe!” roep hy toe sy kaal voet wegsak in die grond van die kampie wat deur die kameel tot ’n fyn poeierstof getrap is; so ’n stof brand die vel bo-op ’n mens se voet en tussen die tone.

Jesha snuif aan die koerante. “Nee!” sê hy. Hy gaan sit met die wortellowwe agter sy rug. Sy weet sy moet ook gaan sit voordat sy dit sal kry. Sy kniel op haar groot eeltknieë.

“Jy kniel pragtig,” sê hy, terwyl haar agterlyf sak sodat haar dye onder haar maag invou. Noudat sy lê, sal sy bly lê en kou en herkou so lank as hy aan haar werk. Asof dit ’n speletjie is, voer hy haar stukkie vir stukkie met die koel vars wortellowwe.

Haar hare is kort, dis nie nodig om daaraan te knip nie; sy het nog haar somerpels, dink hy. Hy trek die bosluise een vir een af en kap hulle dood tussen twee klippe, maar later werk sy hande vanself terwyl sy gedagtes met iets anders besig is; want al is hy wakker, en al roer sy hande, droom hy van ’n lang reis …

Tot hy skielik die geraas van die bakkie hoor. Dis Skeppman wat terugkom van die dorp. Terwyl Philemon vir Skeppman help aflaai, loop Weissfeld al rondom die bakkie. Hy is seker vies omdat Skeppman so lank weggebly het, dink Lans. Toe haal Weissfeld sy bril uit sy hempsak en kyk na iets by die paneelbord. Dan loop hy nog ’n slag om die bakkie, buk stadig op een knie by die linker-agterwiel. Lans sien hoe hy iets tussen die agterwiel en die uitlaatpyp, of tussen die uitlaatpyp en die bak, uittrek. Dis net ’n paar stukke gras. Hy kyk ’n lang ruk na die geknakte wit grasstingels in sy hand; dan skiet hy dit weg.

Hy druk met die punt van sy skoen teen die band. Skeppman, wat weer uitkom saam met Philemon, sien dit en kom nader:

“Die agterband verloor wind, Herr Weissfeld.”

Stilte. Weissfeld antwoord hom nie.

En toe dreun Philemon se diep stem soos dié van ’n ou groot by:

“Toe dan, Skeppman, vat aan …”

Eers toe hulle klaar is en Philemon weer na die pomp toe stap, sê Weissfeld:

“Jy was nie net by die stasie en die winkel nie, Skeppman. Watter draaie het jy gery dat jy amper sestig kilometer afgelê het?”

Skeppman is in die sop, dink Lans, en by die gedagte pak ’n snaakse opwinding hom beet. Selfs van waar hy by die hek van die kameelkampie staan, kan hy sien hoe Skeppman se blougroen hemp donker kolle deurslaan van die sweet op die rug en onder die arms.

Weissfeld, bloesend en breed langs die stowwerige bakkie, moet lank op ’n antwoord wag.

“Ek het ’n vriend van my tot oorkant die rivier weggebring, Herr Weissfeld.”

“Jy was verder as oorkant.”

Maar Skeppman sê nie waar hy was nie. “Ek het vyftig sent se petrol op die dorp ingegooi, vir die ekstra ry, Herr Weissfeld.”

“Hoekom het jy dan deur gras gery?”

“Gras?”

“Jy het deur hoë gras gery.”

“Dissie gras langs die pad, Herr Weissfeld, ek moes uitdraai vir ’n ander vragmotor wat in die middel van die pad gery het.” En met dié ingewing is hy weer op dreef en gaan in dieselfde asem voort: “Dit het nou so gekom, Herr Weissfeld, dat ek vandag die maat van my moes help, maar sien dit asseblief tog maar oor, Herr Weissfeld, dis nou die laaste …”

“Dit moet die laaste keer wees, Skeppman. Want dis nie die eerste keer nie, dit weet ek ook! Philemon! Pomp asseblief die noodwiel op en ruil die wiele om. Kyk of jy die lek in die band kan kry, dan lap jy dit asseblief, gehoor.”

Kyk hoe maklik kom Skeppman daarvan af, dink Lans. Hy weet net altyd hoe om te praat.

Maar wat sou Weissfeld bedoel het met “Dis nie die eerste keer nie, dit weet ek ook”? Het hy Skeppman al tevore dopgehou as hy Vrydagmiddae met die bakkie dorp toe gaan?

Die aand, nadat die skottelgoed gewas is, gaan sit Lans by Ma-Sêra op die stoeptrappies voor die kombuis. Die wind het verdwyn en die roerlose, warm naglug vul elke vertrek, elke gaatjie en die hele landskap. Alles is daarvan versadig, die soliede mure en die trappies waarop hulle sit. Maar buite voel dit darem oper, want jy kan die sterre en die donker omlyning van die heuwels sien.

Daar is nog ’n lawaai van stemme op die voorstoep waar ’n klomp kêrels van die omgewing sit en bier drink. Toe Lans onder die bome deurgeloop het, het hy hulle gesien. In die lig van die sierlanterntjies wat van die veranda hang, blink hul groot bierglase en die horlosies aan hul bruingebrande arms, en tussen hul baarde hul tande. Die kroeg is al toe, maar hulle het vooraf genoeg bier bestel sodat hulle nog lank kan sit en drink. Skeppman is ook daar, om te sorg dat die glase vol bly. Voor op die wa, maar vermaaklik, is hy oral by met sy sêgoed.


“Skeppman is nog nie weg nie,” sê Lans vir Ma-Sêra. Partykeer hakkel hy nie as hy met Ma-Sêra praat nie. Skeppman se mense woon in die dorp en hy ry heen en weer met sy fiets tussen Steinhaus en sy huis. Hy help saans by die kroeg, maar hy is veronderstel om te loop wanneer dit sluit.

Lans het al klaar vertel van Skeppman en die bakkie; dis nie waaroor hy wil praat nie.

“H-hulle het w-w-woorde gehad … die W-weissfelds,” begin hy. Hy kan dit nie meer vir homself hou nie.

Hy sukkel om aan die gang te kom, maar vertel eindelik vir Ma-Sêra dat Weissfeld die kameel wil wegmaak. En van die kuiergas. En hoe Weissfeld opgespring het, en hoe Gisa gesê het sy sal weggaan. Hy stotter. Hy weet hoe min sy woorde oordra.

Ma-Sêra sit ’n hele ruk stil, toe sê sy: “Herr Weissfeld het baie ysters in die vuur. Dis nie net die hotel nie. Hy het op Tsumeb ok ’n besigheid. Hy wil nie lastig geval word oor ’n kameel ok nie. Jy is mos daar om na die kameel te kyk.”

Lans is nie tevrede met Ma-Sêra se antwoord nie, want sy sê niks oor die ander saak nie.

“As … Frau Gisa … regtig weggaan … wat sal … d-dan hier gebeur?”

“Frau Gisa het nie gemeen wat sy gesê het nie. Getroude mense praat maar sommer so. En sy was dié slag verkeerd. Sy moes eers met Herr Weissfeld gepraat het voordat sy daardie vriendin van haar genooi het om te kom kuier. Moenie jou daaraan steur nie. Frau Gisa en haar man verstaan mekaar.”

“H-hoe w-weet Ma-Sêra?”

“Ek weet. Frau Gisa en ek is na aan mekaar. Ek het by haar tante grootgeword en ek ken haar van jongs af.”

Dat Ma-Sêra nie verstaan nie, maak hom meer ongelukkig, en hy is nie in staat om aan haar te verduidelik hoe Gisa gepraat het, in watter toon nie, eers oor die gras … en hoe sy gesê het: “Weissfeld, jy maak nie mooi nie.” Sy het nie “Hein” gesê soos sy hom altyd noem nie. En toe het sy die wêreld so bekyk, en nog eers ’n bietjie tee gedrink voordat sy agternagegaan het. Op ’n manier is hy ook huiwerig om op die besonderhede in te gaan. As ’n mens nie geweet het nie, sou jy sê Weissfeld is haar pa, dink hy.

“H-hoe oud is W-weissfeld?”

“Dit sê niks nie,” ontwyk Ma-Sêra die vraag. “Herr Weissfeld is ’n betroubare, goeie man, en sy het ’n goeie dag by hom. En nou moet ek seker gaan tee maak.” By Steinhaus word saans weer tee gegee.

“Was jou hande, en dan sit jy solank die teegoed reg. Daar is die handelsreisiger en die man en vrou met die twee kinders, en die jong man wat voor ete aangekom het.” Met die Weissfelds is dit dus ag. Maar die jong man sit met ’n glas bier op die stoep, onthou Lans.

“Dalk wil hy tee hê; ’n ekstra koppie sal nie verskil maak nie,” sê Ma-Sêra. Nadat sy die tee weggebring het, kom skink sy vir hulle ook. Daar is nog baie; sy skink sy beker amper vol.

Toe hy die beker neersit, sê sy: “Kom ons lees ’n stukkie.”

Ma-Sêra lees elke aand ’n stukkie uit die Bybel. Sy is so grootgemaak by die Witmense en sy sê dis ’n goeie gewoonte. As Lans ook by is, lees sy hardop.

“L-lees van … Rebekka,” sê hy.

“Al weer? Goed, ons kan maar weer vanaand van Rebekka en die kamele lees.” Ma-Sêra se leesstem is sterk en rustig; dit vul die hele vertrek, dié vertroude stem en die vertroude verhaal, en dit vul ook sy gedagtes boordevol:

“Toe lê die dienaar sy hand onder die heup van Abraham, sy heer, en hy het vir hom gesweer, met die oog op hierdie saak.

“En die dienaar het tien kamele van die kamele van sy heer geneem en weggegaan met allerhande kosbare goed van sy heer by hom: hy het klaargemaak en na Mesopotámië, na die stad van Nahor, getrek. En hy het die kamele laat neerkniel buitekant die stad by ’n put, teen die aand, teen die tyd dat die vroue uitgaan om water te skep, en gesê: Here, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer.

“Hier staan ek by die fontein, terwyl die dogters van die manne van die stad uitkom om water te skep. Laat dit tog nou gebeur: as die dogter aan wie ek sal sê: Hou tog jou kruik, dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink – dan is dit sy …

“Hy het nog nie klaar gespreek nie, of daar kom Rebekka uit wat vir Bétuel, die seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer, gebore is, met haar kruik op haar skouer.

“En die dogter was baie mooi van aansien, ’n jongmeisie, en geen man het haar beken nie. En sy het afgedaal na die fontein en haar kruik volgemaak en weer opgekom.

“Toe loop die dienaar haar tegemoet en sê: Laat my tog ’n bietjie water uit jou kruik drink. En sy antwoord: Drink, my heer! …

“Nadat sy hom genoeg laat drink het, sê sy: Ek sal vir u kamele ook skep totdat hulle genoeg gedrink het.”

Ma-Sêra lees tot waar die dienaar die huis binnegaan en die kamele afgesaal is, en strooi en voer gekry het.

“Volgende keer kan ons lees hoe Isak in die veld gaan peins het en die kamele met Rebekka sien aankom het …”

Ma-Sêra sit nog ’n paar sekondes met die oop Boek en voeg by: “… En hoe hy toe getroos was na die dood van sy moeder … Jy kan nou maar gaan slaap. Ek wil nog eers die paar koppies skoonmaak. Môre is al weer Saterdag.”

Die bediendekamers is ’n entjie van die hotel af, anderkant die rotstuine – onder dieselfde dak as die Weissfelds se motorhuise – vier bediendekamers op ’n ry met twee badkamers. Die kamer langs Ma-Sêra s’n word as ’n pakkamertjie gebruik, sodat sy die volle gebruik van die een badkamer het. Lans het die derde kamer en deel die ander badkamer met Philemon, wat die kamer op die ent het. Lily en Jane bly saam in ’n rondawel. Hulle verkies dit so. Hulle word dikwels saans uitgeneem deur hul vriende.

Daar is nog nie elektriese lig in die gebou met die bediendekamers nie. Lans steek ’n olielamp op as hy binnekom. Hy hou van sy kamer. Hy het allerhande mooi goed daar, soos twee amper volmaakte kobravelle, die gestreepte vlerkvere van ’n gompou, kopbeentjies van meerkatte wat hy in die veld opgetel het, en ’n kaart van Suidwes wat hy van ’n toeris gekry het. Maar hy hou die meeste van die walvistand wat sy pa hom gegee het – rowwerig glad in jou hand, gevorm soos ’n vet piesang, so groot as ’n komkommer, so swaar as ’n klip.


“Dis skaars, so ’n walvistand,” het sy pa gesê. Aan die wortelent sit die klein diep gaatjie waarin eenkeer die tand se lewe was.

Hy sit dit plat neer om sy pa se portret regop te hou waar dit op die kassie langs sy bed staan. Hy kyk na die glimlaggende man agter die walvistand. Hy is van die ligte mense van Rehoboth, met ’n geelbruin baard.

“Jy lyk glad nie na my nie,” sê die spraaksame man agter die walvistand. “Jy lyk nes jou ma met jou groot voorkop en swart oë. Jy hoef nie om te gee nie – sy was mooi!”

Lans onthou haar soos ’n droombeeld waarvan mens jou nie alles kan herinner nie, maar wat skielik terugkom as jy nie daaraan dink nie: haar gladde wang in die son as sy swewend oor die straat aankom in haar wye rok met die syerige fraiing-tjalie om haar skouers.

Toe hy hom uittrek, val die wit werwelbeentjie uit sy broeksak; hy het skoon daarvan vergeet. Hy tel dit op en beskou dit nadenkend voordat hy dit op sy klerekas stoot, tussen die droë wollerige sade en uitgeblaasde voëleiers.

Dan gaan lê hy net onder ’n laken.

Die Singende Gras

Подняться наверх