Читать книгу Kopreis - Gerrit Rautenbach - Страница 5
’n Dosyn redes om Arusha toe te gaan
ОглавлениеMashono Fashions, staan daar in handgeverfde swart letters op die vuilwit naambord. Dit lyk nie soos die plek waar ek moet wees nie, maar dit is die plek waar ek moet wees. Agter my lê Arusha se oorvol, besige Kingdomstraat en bak in die son en stof. Ek is nou net deur ’n swetterjoel laggende kleintjies wat almal spesiaal dié mzungo se aandag soek. Mzungo ken ek nou al. Dis ’n witman. En witman is wat ek is. Op soek na ’n ander witman iewers in Mashono Fashions.
Ek kyk gou in my Swahili-fraseboek en kry mashono. Langsaan staan die Engels: fashion. So ek is by Fashion Fashions in Arusha, Tanzanië. Die deurraam is ’n verbleikte liggroen geverf. Bokant is die naambord. Effe skeef. Die hout onder die 16 lae verf moet horingoud wees. Iets selfs Arabies in die ontwerp. Weerskante van die raam hang verbleikte outydse oortrekrokkies aan verroeste droogskoonmaker-draadhangers. Die effe windjie wip-wip die rokpante heen en weer. Dit herinner aan ’n reënboog wat lanklaas reën gesien het soos die verskillende kleure omblaai. Die sale-bordjie dui aan dat dit al ’n jare lange uitverkoping is.
Ek stap deur die vaalgroen kosyn en skielik kan ek niks sien nie, maar ek ruik negosie. Iets amper soos boerseep. En ek hoor naaimasjiene kletter. Outydse Singers wat nog getrap word. Oral hang nog baie rokke rond aan handgemaakte relings. Noudat my oë gewoond is aan die gebrek aan lig, is dit al wat ek sien.
“Can I help you, dear chap?” sê een van die rokke dan.
Ek blaai die rok weg en daar staan iets uit ’n ander era. ’n Koloniale oumatjie wat tydens die dae van White Mischief haar misnoeë kliphard sou uitspreek. Sy is kort en net effe plomp en vee die sweet saam met ’n grys lok hare van haar voorkop af. Daar’s ’n vriendelike vraagteken in haar oë.
“I am looking for Steward Pringle? ” sê-vra ek, vir die oomblik baie dankbaar dat Swahili nie nodig is nie.
“A! Jy’s die joernalis,” sê Oumatjie dan. “My seun se kantoor is bo. Kom saam.”
Ek volg haar deur die doolhof rokke terwyl sy my vertel dat sy dit van Engeland af laat inkom, maar dat die vrouens plaaslik dit nie wil koop voordat dit ’n bietjie verstel word nie. Dan voel hulle hulle koop nuwe rokke.
Anderkant die rye rokke is ’n oop area met ’n houttrap regs wat dalk nie vir Os du Randt boontoe sou vat nie. Die res van die spasie is vol Swahili-vrouens wat trap en stik.
“Jambo! ” toets ek my beperkte Swahili op hulle.
“Karibu, karibu,” kom dit van hulle kant af en ek voel welkom.
“Habari? ” vra een en ek versteen. Oumatjie gryp in en verduidelik iets in Swahili voordat sy my meedeel hulle wil weet wat is nuus en dat sy vir hulle gesê het ek is ’n baie belangrike man wat kom skryf oor Steward se toeristeprojek, African Dream Safaris.
Bokant die trap is ’n ander wêreld. ’n Eerste Wêreld vol rekenaars, swartborde en kolomme vol datum-tydgroepe van besprekings. African Dream Safaris is Steward se droomkind wat waar geword het. Hy hou die Engelse se behoefte aan kolonialisme lewendig deur baie gesofistikeerde toere deur die Serengeti aan te bied. Die gaste vlieg Arusha toe en ry dan met Land Rovers (wat anders?) terwyl die Bedfords (wat anders?) vooruit gaan en kamp opslaan. Sodra die son wil-wil begin sak, kom die Land Rovers op die kamp af. Wit tente met muskietnette binne-in en lang tafels vol gin & tonic (wat anders?) wag vir hulle. In hoge Ingils verduidelik Steward dan aan sy gaste hoe die bos in Afrika werk terwyl tien dienaars sorg vir die gerief van tien gaste wat elk ’n duisend pond per nag betaal, wyn drink uit kristalglase, driegangmaaltye geniet met lapservette en Sheffield-silwer. Môre gaan die onontbeerlike safari dieper die Serengeti in.
Maar Steward is ’n lekker ou. Hy het my vir die aand oorgenooi na sy huis, net effe groter as die standaard Arusha-townshiphokkies, waar Oumatjie vir ons fish & chips (wat anders?) gemaak het terwyl ons ingevoerde John Smiths Bitters-bier gedrink het.
Ná ete het Steward agteroor gaan sit in die sitkamer, maar nie voordat hy sy kakiehemp uit sy kakiekortbroek getrek het nie. (Nee, hy dra darem nie meer ’n Rooibaadjie nie en hy het nie meer ’n rooinek nie). Oumatjie het vir hom ’n lekker koppie tee met baie melk in gebring (Yep, ol’ chap, wat anders?) en hy het verduidelik dat ek ’n dag te vroeg is en dat die safari waaroor ek moet skryf, eers oor twee dae vertrek. Sy voorstel was dat ek die volgende dag die plaaslike Arusha-mark gaan besoek en daarna die slangpark, die grootste blykbaar in Afrika, wat nogal deur ’n Suid-Afrikaner bestuur word.
Die volgende oggend ry ek agter Steward aan tot by Ma-shono Fashions, waar hy my verduidelik hoe om by die mark en later by die slangpark uit te kom. Die mark is ’n tipiese Afrika-mark. Vars produkte word aan plaaslikes verkoop terwyl aandenkings aan mzungos gesmous word. Houtgekerfde gesiggies en seepsteenbeelde. Uiteindelik kry ek ’n beeldjie waarvan ek hou en begin die onderhandelingsproses. Die man se openingsbod is $10 (Amerikaans). Myne is $2. Hy lag. Ek loop weg.
“$8,” skree hy agter my aan.
“$3!”
“You kaburu! ” kom sy antwoord en ek blaai deur die fraseboek. ’n Afrikaner! sê die boekie. Later het ek uitgevind dit het gekom van die Setlaarstrekkers, die boere (kaburu, verstaan?) wat daar aangekom het en die arme mense hel gegee het.
“Oukei, $4,” is al wat ek kan antwoord.
“$5. Last offer !”
“Oukei, $5,” sê ek en haal my beursie uit en gee vir hom $10.
“Not $10, $5,” weier hy om die geld te vat. Ek verduidelik aan hom die hele proses van onderhandeling was vir my $10 werd en hy kan gerus die $10 vat. Hy weier. Ons het gewerk. Ons het onderhandel. ’n Prys is ’n prys. Ek haal twee $5-note uit, gee een vir hom vir die beeldjie en daarna die ander een omdat hy my vriend is. Hy lag. Nou werk dit vir hom.
“You no kaburu. You mzungo.”
“Yai bichi!! Yai bichi!” skree ’n klein stemmetjie langs my terwyl hy my aan die hemp beetkry. Hy is omtrent tien jaar oud en kyk my met groot oë aan, ’n eierkarton tjokvol met ’n dosyn eiers wat hy na my toe hou.
“Ja, sometimes life’s a bitch,” antwoord ek hom.
“Yai bichi!” skree hy net weer.
My boekie vertel my yai is eier (verrassing), maar bichi is nie daar nie. ’n Bichi van die, ’n bichi van daai?
Hoe ook al, ek besluit vars (wat ek later uitgevind het is die bichi-deel) eiers sal goed werk in my dieet van blikkie-tuna, tamaties en brood en ek koop die dosyn vir omtrent R3 voordat ek slangpark toe gaan.
Die slangpark is heeltemal ’n ander storie en teen so seweuur die aand ry ek terug. Ek het net drie verwysings in Arusha om weer by Steward se plek uit te kom. Ek moet van die slangpark af mark toe ry, vandaar af Mashono Fashions toe en dan na Steward. Voor ek weggetrek het van die slangpark af, het ek vir my ’n koue Mozi-bier (nog voorraad uit Zambië) uit die Engel agterin uitgehaal en behaaglik geproe-proe en die stofondergang van die son oor ’n stuk Afrika dopgehou. Nou nie jou tipiese poskaart-sononder nie, maar township-Afrika is net so deel van die kontinent. Raak gewoond daaraan.
By die mark het ek ’n heeltemal ander prentjie as vanoggend gekry. Leë stalletjies het verlate in die wind saam met onbruikbare papier gewieg. Die handeldryf was verby en het gaan asemskep vir die nuwe dag van môre wat wag. Daar was nie meer ’n siel op die plein nie. Of amper nie.
Net voordat ek afdraai Kingdomstraat toe, vang my oog so ’n klein kolletjie wat verward ronddans. Ek stop en kyk deur die stofbelaaide aandlig na die dingetjie. Uit die waas stap ’n klein mannetjie van so tien jaar wat leë eierkartonne teen sy bors vasdruk. Sy oë is nou groter as die eiers wat hy vroeër verkoop het.
Sonder om twee keer te dink, stop ek en maak die passasiers-deur van die Hilux oop. Eiermannetjie kyk wantrouig na die gaping en loer dan oor sy skouer. Daar’s niks agter hom nie, net die hartseer van ’n mark sonder produkte en sonder klante. Hy kyk weer na die oop deur en druk die eierkartonne stywer vas. Dan sê hy iets, maar kon net sowel niks gesê het nie.
“Klim in,” antwoord ek, maar kon net sowel niks gesê het nie. Eiermannetjie draai om en begin wegloop. Ek is op die punt om die passasiersdeur toe te maak en aan te ry toe hy stop, omkyk en dan begin hardloop. My kant toe. Hy spring in en brabbel. Ek verstaan niks en verlaat my op die fraseboekie.
“Nyumbani?” probeer ek ‘huis toe’ volgens die boekie.
Eiermannetjie brabbel erg voort, maar knik sy kop op en af. ’n Internasionale erkenning van ja. Nou weet ek hy wil huis toe; die probleem is net, waar is huis?
Ek wil darem weet met wie’t ek te doen en wys na myself.
“Gerrit,” sê ek en steek my hand uit.
Hy vat my uitgestrekte hand, maar brabbel net voort.
“Gerrit,” sê ek weer en druk my vinger op my bors.
“Mvuli,” antwoord hy, plegtig met sy vinger op sy eie bors. Ons vorder.
Ek vra Mvuli waarheen nou, maar hy brabbel net voort. Ek begin maar ry terwyl hy op die vloer voor die voorste sitplek staan en die paneelbord vashou. Die volgende oomblik ry ek by ’n afdraai verby en hy ruk om, kyk agtertoe en begin huil. Ek stop en draai om. Met die vat van die afdraai, kyk hy weer vorentoe en begin op en af hop. Duidelik het ons nie heeltemal die pad byster geraak nie. Vandaar af is dit ons bron van kommunikasie. Elke kort-kort ry ek by ’n afdraai verby en hy draai om, wys en huil. Dan draai ek om en hy begin weer op die vloer te dans.
Aanvanklik het ek Bob Dylan geluister, maar hy het nie veel erkenning vir die protessanger gehad nie. Toe onthou ek ek het ’n Geoffrey Oriama-CD en sit dit in. Of Mvuli ’n Geoffrey-aanhanger was of nie, weet ek nie, maar hy het die Swahili herken. En nog lekkerder gedans. Soveel so dat die eierkartonne begin rondspat het. Later het ek Papa Wembu ingesit, maar Mvuli se kennis sluit nie Zambiese dialekte in nie.
Hoe ook al, ons het dansend tussen die eierkartonne deur gery en stelselmatig het dit donkerder en meer afgeleë geraak. Uiteindelik het ons by ’n donker gehuggie aangekom. Teen die muur voor het twee mans op die grond by ’n vuurtjie gesit. In die oop deur het ’n vrou gestaan, van agter af belig deur ’n kers in die huis. Ek het by die opening in die geroeste hangdraad ingedraai en die mans het hul oë met arms beskerm teen die Hilux se ligte. Ek het dit dadelik afgeskakel na parkeerligte. Mvuli was hiper-opgewonde en het by die deur probeer uit. Soveel so dat ek dadelik gestop het en die deur oopgemaak het. Ek het die enjin afgeskakel en daar was net krieke in die middel van Afrika. Totdat Mvuli aan die drie mense begin verduidelik het wat gebeur het. Wat hy verduidelik het, het ek niks van verstaan nie. Wat gebeur het, het ek min van verstaan. Behalwe dat ek hom tot by die huis gebring het.
Ek het aangeneem die vrou is sy ma. Nie omdat ek haar taal verstaan het nie, maar die manier hoe sy hom terselfdertyd omhels en uitgevreet het, kon net ’n ma s’n wees. Ek het aangeneem een van die mans is sy pa. Watter een sou ek later eers uitvind, en wie die ander een was ook. Farasi is sy pa en Kivuli sy oom. Gelukkig het Kivuli ’n tyd lank in Nairobi gewerk en sy Engels is ’n luukse. Hy het aan my verduidelik dat Mvuli se ouers met hoenders boer en dat hy elke oggend moet mark toe om die eiers te verkoop. Hy ry gewoonlik saam soontoe en terug met die groenteboer in sy lorrie, maar vanaand het die groenteboer verdwyn. Teen toemaaktyd was hy en sy lorrie nêrens te sien nie. Dis toe ek daar aankom.
Terwyl hy begin verduidelik het, het ek drie yskoue Mozi’s uit die Engel agterin my Hilux gaan haal. Die twee manne se vreugde was ongekend. Farasi het die bier teen sy wang gedruk voordat hy begin drink het. Ek het al genoeg van Afrika geken om nie dadelik vir Ma Pendeza ’n bier uit te haal nie. Vrouens drink nie saam met mans nie.
Later het Pendeza aangedring ek moet saam met hulle eet. Ek was hulle gas. Ek het aanvaar, maar gesê ek wil ’n bydrae maak en weer agterin my Hilux gaan krap. Pendeza het langs my kom staan en met dankbaarheid die blikkies tuna en gebakte boontjies, asook die brood, gevat. Toe ek die Mozi vir haar gee, het sy my hand gevat, my lank en diep in die oë gekyk voor sy die bottel in haar voorskoot se sak druk. Sy verstaan dat ek verstaan.
Terug by die vuur het ek en die twee mans vredig bier gedrink. Farasi wou weet waarvandaan ek kom en Kivuli het getolk.
“Ek is van Suid-Afrika,” verduidelik ek. Hulle knik, maar ek sien hulle verstaan nie.
“Nelson Mandela,” voeg ek by en hulle glimlag. Hulle verstaan.
“’n Goeie man soos jy … Het jy kinders?”
“O ja, ek het twee wonderlike dogters,” antwoord ek en begin onwillekeurig na hulle verlang. Wens hulle was hier om die geleentheid saam met my te ervaar.
“Net dogters?” vra Farasi, en Kivuli vertaal.
“Ja, ek wou altyd graag twee kinders gehad het en ongeag wat hulle was, ek is tevrede met twee dogters.”
“’n Man moet ’n seun hê,” reken Farasi en Kivuli vertaal voor hy opstaan. “Kom kyk.”
Ek stap saam met hom na die voordeur van die klein gehuggie waar Pendeza besig is om die kos te maak. Op die vloer lê ’n swetterjoel matrasse en ek tel ses lywe. Almal slapende meisiekinders. Almal Farasi se dogters. Dan is daar die jongste, Mvuli, wat langs ons by die vuur sit. Farasi se enigste uiteindelike seun.
“Mvuli beteken seunskind in Swahili,” voeg Kivuli by.
Terug by die vuur wonder ek hoe dit sou gewees het om ’n seun te hê, maar los die gedagte toe Pendeza die kos bring. Geroosterde brood met tuna en gebakte boontjies op en heel bo-op ’n gebakte eier.
“Yai bichi,” sê ek en hulle lag. Ek voel geaffronteerd.
“Yai la kugaanga,” sê Kivuli. “Die eier is gebak en nie meer vars nie.”
Halfpad deur aandete het Mvuli nader na my toe geskuif. Hy het die helfte van sy brood op sy bord vir my aangebied. Ek was lankal vol en het dit van die hand gewys.
“Dis sy manier om dankie te sê,” verduidelik Kivuli. Ek vat die brood en Mvuli knik met groot oë. Skielik begin ek wonder hoe ek hier in die donkerte gaan uitkom. Ek het g’n idee hoe ek hier gekom het nie. Asof hulle my gedagtes lees, begin die drie grootmense onophoudelik te praat. Mvuli kekkel saam, baie opgewonde.
“Pendeza sê jy is ons gas. Jy moet hier slaap,” verduidelik Kivuli dan. Ek kyk na my daktent op die Hilux en dink aan die reeds oorvol matrasse in die kamer. Maar ek dink ook aan apartheid en hulle gebrek aan kennis daarvan. En ek besluit ek is mos mzungo, nie kaburu nie.
“Dit sal ’n voorreg wees om hier te slaap, dankie.”
Almal staan op en ons beweeg in. Slapende meisielywe word geskuif om plek te maak vir die mzungo-gas. Ek kry die luukse van ’n matras op my eie, maar sê niks. Pendeza gooi ’n karos oor my en ek verlang na my ma wat lankal dood is. Baie vinnig lê almal stil. Ek hoor almal se asemhaling en verlang na my meisiekinders ver in die suide. Ek wonder hoe ek hier gekom het, maar ek kla nie. Skielik is Steward Pringle se African Dream Safaris ’n nagmerrie wat ver van my af is. Hierdie is my Afrika.
Daar is ’n geskuifel agter my. Kivuli brom as iemand oor hom klouter. Die volgende oomblik klouter iemand oor my ook. Dis Mvuli. Hy klim voor my in en kom lê in die holte van my lyf. Ek sit my arm om hom. Hy skuif sy dun ruggie tot teen my, sit sy pikswart hand op my wit mzungo-arm, sug en gee homself oor aan die saligheid.
Mvuli, my Afrika-seunskind.