Читать книгу My hart klop muffins - Helen Brain - Страница 4
Оглавление“Weer?” Van Aardt plak die koffiefles op die tafel neer. “Wat van verlede week se groot liefde?”
“Ou nuus.”
“En Oktober se ou van die maand?”
“Van Aardt,” sê ek koeltjies, “jy verstaan nie die delikate aard van ’n vrou se wese nie. Liefde is breekbaar, broos, vlugtig, eteries. Dis nie iets wat ’n ou sommer verstaan nie, dis . . .”
Art praat my dood. “Jy’s reg as jy dink ek verstaan jou nie. Hoe kan jy verlief wees op iemand wat jy pas ontmoet het, iemand wat jou moroon en airhead noem?”
“My liewe Van Aardt, dis chemies . . . feromone, sulke goed. Hy laat my hart vinniger klop, my kop lig voel, sy perfekte manlikheid laat my na woorde soek.”
“Asof.” Van Aardt rol sy oë. “Niks kan jóú na woorde laat soek nie. Kekkel soos ’n hoenderhen. Die grootste spul bog.”
Neerbuigend sê ek: “Die fout met jou is dat jy nog nooit verlief was nie.”
“Dalk,” sê hy terwyl hy ’n stapel T-hemde netjies maak, “dalk nie. Maar as ek die dag verlief raak, sal dit vir altyd wees.”
“Ha-ha-ha, vet kans!” koggel ek.
Ek sou hom nog lank kon terg, maar ’n paartjie kom aangestap en ek skakel my verkoopstem aan. “Goeiemôre, ons het pragtige handgedrukte T-hemde vir die kleingoed. Dis lieflike, oorspronklike Kersgeskenke, veral vir oorsese familie,” borduur ek voort terwyl die vrou na die pryse kyk. “Voel net die kwaliteit.” Ek hou ’n T-hemp uit. “En dis kleurvas, want ons behandel elke kledingstuk met hitte wanneer die drukwerk klaar is.”
’n Mollige dogtertjie met ’n druppende draairoomys kom aangewaggel.
“Oooeee!” koer ek, “is sy nie te oulik nie! Sy sal tog te pragtig lyk in hierdie pienk T-hempie met die blou olifantjies op.”
Ek hou die olifanthemp voor haar en hoop maar net sy mors nie roomys daarop nie.
Die man haal sy beursie uit terwyl ek die vrou oorreed om T-hemde vir die hele familie te koop, sowel as een van ons pienk varkiehempies vir haar dogtertjie.
Toe ek die geld wegsit, grinnik ek tevrede. Van Aardt kan sê wat hy wil oor my gekekkel, maar ek kán verkoop. Met die geld van ons eerste verkope veilig in my geldsak, voel ek ek verdien ’n blaaskans.
“Ek gaan kyk gou na die ander stalletjies, oukei,” kondig ek aan.
Art gluur na my oor die rand van sy koffiebeker.
Kuier-kuier loop ek van stalletjie tot stalletjie. Ek wil dit so beplan dat ek by sýne sal kom wanneer daar niemand is nie. Maar eers gaan ek kleedkamers toe. Daar vat ek my hare vas, gee dit ’n draai en knoop dit vas sodat ’n string lossies oor my linkeroog val, net soos hulle op Seventeen Hairstyles maak. Ja, dis beslis meer sexy so. As ek net geweet het hoe om langer en ouer te lyk.
Toe ek uitstap, flits my oë na sy stalletjie. Tot my verligting is daar niemand en ek skiet kortpad oor die gras. “Haai-haai!” sê ek, so betowerend as wat ek kan. “Hoe’s dinge?”
Hy is besig met sy iPad en kyk nie op nie. “Stadig.” Daar is ’n stilte. “Dankie.”
Van naby is hy éérs aantreklik. Minder soos ’n engel en meer soos Ian Somerhalder, die Hottest Vampire, die ou wat Boone Carlyle speel in die TV-drama Lost.
Daar staan ’n aantal botteltjies op “Boone” se tafel. Ek tel een op en lees die etiket. “Chomacea Drops. Wat doen dit?”
Hy lig sy oë effens van sy iPad af op. “Druppeltjies vir lae lewensdrif.”
“O? Ek vat dit.” Ek steek my hand in my geldsak en haal die note uit wat ek vir die T-hemde gekry het. So ’n klein botteltjie kan tog nie baie kos nie. Dalk vyftien rand.
“Dis honderd vyf en sewentig rand,” sê “Boone” asof hy my gedagtes gelees het.
Ek trek my asem met ’n sisgeluid in. Dis min of meer wat ons vanoggend gemaak het, dis nou ná die huur van die stalletjie af is. My loon vir die dag sal nie naastenby soveel wees nie. Ma en tannie Ilse gaan hectic omgekrap wees omdat ek so baie geld op druppels uitgee het.
Ek sit die botteltjie neer.
Hy ignoreer my en fokus op sy iPad. Die bloed stoot in my wange op. Nou dink my engel ek kan dit nie bekostig nie. Ek soek tussen die note rond en sit die regte bedrag op die tafel neer. My geldsak voel skielik baie plat en ék voel ’n bietjie naar.
Hy steek die botteltjie, saam met ’n pamflet, in ’n papiersakkie waarop Earthsome Enterprises gedruk is en skuif dit oor die tafel. Terwyl ek met ’n kloppende hart wonder of sy selnommer dalk op die pamflet is, sê hy met ’n verveelde stem ek moet dit geniet. Hy maak geen geheim daarvan dat sy aandag by sy iPad is nie.
So maklik laat ek my nie afskrik nie. Veral nie nadat ek ’n volle honderd vyf en sewentig rand op ’n bottel druppeltjies geblaas het nie. Ek moet darem waarde vir geld kry.
Baie beslis steek ek my hand uit. “Ek is Kat.”
Die hand wat hy uithou, is sonder enige entoesiasme. Nogtans stuur sy aanraking ’n skok deur my. Hande kan jou baie oor mense vertel. Syne is kunstenaarshande, die vingers koel en die palm net hard genoeg om manlik te wees. Aan sy duim is ’n silwer ring in die vorm van ’n slang. Dis net so hot.
Hy kyk vlugtig op. “Pierre Cordier,” sê hy kortaf.
Ek voel hoe my binnegoed in jellie verander. Sy sielsblou oë kontrasteer perfek met sy swart wimpers en donker ontwerperstoppels. Ek is mal oor ouens met stoppels. En sy naam is net so artistique.
Ter wille van ordentlikheid moet ek my hand terugtrek. In elk geval, Pierre was so soort van besig om sy vingers los te wikkel. Ek tel die pakkie met die druppeltjies op. “Sien jou later, Pierre,” groet ek met ’n uitlokkende glimlag.
Toe hy nie antwoord nie, stap ek na ons gazebo. Ek kan nie wag om te kyk of sy selnommer op die pamflet is nie. Dit sal regtig lekker wees om nou en dan vir hom ’n sms te stuur. Langs die pad haal ek dit uit. Belaglik! Geen sel.
Van Aardt het pas ’n xxxx-grootte olifanthemp aan ’n vrou in ’n stywe wit broek verkoop. “ ’n Olifant vir ’n olifant,” brom hy en slinger homself in die voustoel.
Terwyl ek die pakkie met die druppeltjies ongemerk in my rugsak druk, sê ek stroperig: “Moenie lelik wees met die mense nie, Art.” As ek verlief is, is ek altyd die liefde vanself.
Van Aardt lyk of hy ’n haarwurm ingesluk het. “Hoe lyk die ander stalletjies?”
“Interessant. Gesellig. Prettig.”
“En hoe was jou ontmoeting met die liefde van jou lewe?”
“Van Aardt!” Ek raps hom op die skouer. “Jy’t op my gespioeneer!”
“Nee, ek het nie. Daar was geen sprake van spioenasie. Alles was oop en bloot vir die hele wêreld om te sien.”
Ek meet die afstand na Pierre se stalletjie. So Van Aardt het alles gesien. Hopelik nie die honderd vyf en sewentig rand se druppeltjies nie. Koue sweet slaan skielik op my uit en ek knyp my oë toe. Wat het my besiel om so baie geld op die simpel goed te mors?
Toe ek my oë oopmaak, kom ’n lang blonde meisie onder die ry eikebome uitgestap. Sy het ’n silwer korset, ’n ballet-tutu en blou jeggings aan en haar ekstra-lang bene eindig in ’n paar ligbruin faux suede stewels. Sy stap om Pierre se tafel en gee hom ’n piksoen op die wang. Daarna vlei sy haarself op die gras neer en steek ’n sigaret aan. Haar hare glinster soos goud in die son.
’n Siek gevoel kom sit in my maag.
“Sien,” sê Art. “Hy’t klaar iemand.”
Ek voel koud en warm gelyk. “Ag, rubbish! Wat laat jou dit dink?”
“Die soen. Die ontmoeting van lip en wang.”
“Dit beteken niks. Hy is ’n artiste! Kunstige mense soen mekaar die hele tyd! Dit beteken absoluut niks.”
“Regtig?” Die woord drup sarkasme.
’n Gryskop man kom aangestap. Ek kap Van Aardt ’n ignore, skakel my beste verkoopstem aan en verkoop ’n oulike T-hempie met eendjies op aan hom.
Terwyl die oupa wegstap, verwyt ek myself.
Het ek wraggies meer as twee keer my dagloon op simpel druppeltjies geblaas? Hopelik was dit darem die moeite werd. Sal dit nie wonderlik wees as tutu-girl volgende week griep het nie? Dit sal nog wonderliker wees as Pierre my volgende keer nie net raaksien nie, maar my uitvra. Dan sal hy sy selnommer vir my moet gee. Dit sal fantasties wees.
Ons tafel raak besig en ek kan net nou en dan na Pierre Cordier aka Ian Somerhalder loer. Toe ek eenkeer weer vinnig soontoe kyk, is hy en tutu-girl net weg. Hoe het dit gebeur sonder dat ek iets agtergekom het? Sal ek hom ooit weer sien?