Читать книгу Flentermens word heelmens - Helena Olivier - Страница 5
Inleiding
ОглавлениеDie oproep
Dit is vroeg Donderdagoggend toe die telefoon lui. Ons is nog half aan die slaap onder die winterduvet. Ek in my pienk slaapsokkies wat ma Lena in plein en purl vir my gebrei het.
My man antwoord die telefoon. ’n Grysheid kruip oor sy vel. Ek weet instinktief iets is fout. Uit sy vrae en antwoorde lei ek dinge af wat ek eintlik nie wil hoor nie.
Sy ma, 86, is twee weke tevore geopereer. Ons het geglo sy sou nog minstens tien jaar rustig kon leef. Hy sit die telefoon neer, draai sy kop stadig na my toe.
“Ma is so pas oorlede.”
Ek weet nie wat om te sê nie. Ek is nog nie dikwels met die dood gekonfronteer nie. My ouers leef nog. Ek kan nie sê: “Ek verstaan” nie, want ek dink nie ek weet regtig presies hoe hy op daardie oomblik voel nie. Hy lê doodstil langs my.
Ná ’n rukkie bel ek my ouers. Toe SMS ek ons beste vriende. Dit voel so onwerklik om die boodskap te tik, maar ek weet nie eintlik wat anders ek moet doen nie.
Ek staan op en skuif die slaapkamergordyne oop sodat ek op die tuin kan afkyk. Die tennisbaan is nat. Daar moes vroëer ’n bui reën geval het. Die blare roer nie. Ons jongste dogter is vir ’n paar weke by die huis. Sy kom lê in haar pa se arms en snik sag.
Hoe gaan ons die nuus oordra aan ons ander dogter wat oorsee woon? Sy is daar ver, alleen. Ek whatsapp haar: “Skype my so gou jy kan.”
Onmiddelik reageer sy.
“Wat is fout?” En ek weet ook sy weet instinktief iets het gebeur. Sy is seker nog besig om klas te gee.
“Sal jou sê wanneer ons skype.” Kort daarna hoor ek die Skype-luitoon op my rekenaar.
“Wat is fout, Ma?” Sy is ’n vrou. Sy weet as daar iewers fout is.
In my kop soek ek na die regte woord. “Oorlede” klink so formeel. “Gesterf” ook.
“Ouma Lena is vanoggend dood.”
Die stilte strek oor die groot oseane wat ons skei, en ek weet op hierdie oomblik sou ons dogter haar pa so graag wou vashou.
Ons almal ontvang soms slegte nuus
Slegte nuus kom dikwels deur ’n oproep of ’n klop aan die voordeur by jou lewe in en dikwels op ’n tyd dat jy dit die minste verwag.
Hierdie boodskappe is gelaai met woorde wat die dinamika van jou lewe vir altyd verander. Saam met die skok ervaar jy onmiddellik die verlies, ’n baie werklike verlies. Die pyn en hartseer is onverbiddelik, onversetlik, meedoënloos. Dit is onbeheerbaar; dit vreet aan jou liggaam, siel en gees. Jy is intens daarvan bewus dat jy iemand of iets kosbaar verloor het.
In ons geval was dit ’n ma. Namate die dae verbygegaan het, het nuus die verlies van ons ander ouer twee jaar tevore laat herleef. Met ’n skok het ons besef nie een van my man se ouers leef meer nie. Ons familie sou nie meer dieselfde wees nie.
Ons almal wil graag die perfekte lewe hê. Ons hou nie van die manier waarop sekere gebeure ons bekende en veilige lewe omverwerp nie. Tog ervaar alle mense die een of ander tyd verlies. Jy verloor ’n lewensmaat of ’n kind in ’n ongeluk of deur selfdood, moord of ’n ongeneeslike siekte. Iemand naby aan jou boet lewensgehalte in omdat hulle in ’n rolstoel moet leef. Jou baba word blind of doof gebore, of sy of haar sintuie verswak geleidelik. Jy hoor jy het net ’n paar maande oor om te leef of dat een van jou ledemate geamputeer moet word. Iemand vir wie jy omgee, word verswelg deur drank- of dwelmmisbruik. Jy dra swaar aan ’n seer waarvan ander mense min weet, soos wanneer jou kind aandagafleibaar is of Aspergersindroom het.
Dit maak ’n groot verskil aan hoe jy die lewe aanpak. Soms huil jy alleen in ’n donker kamer. Maar jy moet by hierdie onvoorsiene omstandighede aanpas. Dikwels skop vrees en paniek in. Jy gaan deur die fases van die rouproses – skok, woede, ontkenning, onttrekking, verwerking, hoop en berusting.
Al kan ons beheer oor baie dinge in ons lewe uitoefen, tref enige soort verlies ons met die waarheid dat daar beperkings is aan wat ons as mense kan doen of beheer. Ons het nie die finale sê in wat met ons gebeur nie. Tog moet ons altyd besef: Te midde van die chaos en pyn in ons lewe, kan ons steeds in beheer bly deur die regte keuses te maak wanneer ons weer beter voel. Ons kan kies om uit ons donker gat te klim en die lewe opnuut te verwelkom.
In hierdie boek gesels ek nie net oor die kwessies waarmee mense wat verlies ervaar het, worstel nie. Ek probeer jou ook toerus om te help bou aan ’n liefdevoller gemeenskap waar deernis later ’n golwende groen grasperk sal wees vir dié wie se lewenstuin weens hartseer en verlies verdor het.
Wat gebeur met goeie mense wanneer slegte dinge hulle tref?
•“Dit kan nie wees nie!”
•“Hoekom moet dit juis met ons gebeur?”
•“Dit is so onregverdig!”
•“Ek glo dit nie!”
•“Hoe kan die God van liefde toelaat dat so iets gebeur?”
Enige verwoestende verlies laat ons …
Want die lewe Verander radikaal van daardie oomblik af.
Ons ontmoet die donker kant van die lewe.
Ons moet saamleef met die verwyte:
“As ek maar geweet het, sou ek … beter voorberei gewees het … reg gewees het daarvoor.”
Toeskouer
Ek is bekommerd oor my vriend, want …
… hy wil nie vergewe nie.
… al haar lewensvreugde is weg.
Ons blameer onsself en vir God:
•“Ek moes daar gewees het.”
•“As ek net meer oplettend was.”
•“As ek net geweier het dat hy met daardie mense vriende raak.”
•“As ek maar net nie daardie medikasie geneem het toe
ek swanger was nie.”
•“As ek nie so hard gewerk het nie en meer aandag aan my familie gegee het.”
•“Waar was God?”
•“Hoekom het Hy nie gekeer dat dit gebeur nie?”
Toeskouer
Wat ’n tragedie! Sy is nou te bang om weer lief te hê.
Hy wil nie meer na ander mense uitreik nie.
Haar vertroue is geskend.
Hy is kwaad vir God.
Sy onvergewensgesindheid vergiftig hom.
Wanneer jy ’n verlies ly en jy kies nie om positief op hierdie negatiewe situasie te reageer nie, sal jy heel onder in die V-tregter bly lê. Onder in hierdie V-tregter is dit pikdonker. Daar is niks om aan vas te hou en jou te help om op te staan nie.
Wanneer jy effens omdraai, sien jy wel uit die hoek van jou oog ’n skrefie lig ver bokant jou deurbreek, maar dit verblind jou. Dan krul jy maar weer op en maak jou oë toe. Dit is te pynlik om te sien en te voel. Jy het nie eens die krag om ’n vinger te lig nie.
Dit is nie dat jy kies om só te reageer nie. Dit is eenvoudig die maklikste en natuurlikste reaksie. Jy voel vasgevang. Jy voel duiselig van die smart. Jy voel soos ’n slagoffer van die omstandighede. Jy is tot die dood toe moeg. Jy wil slaap en nooit weer wakker word nie. Jy wil van niemand hoor nie. Jy wil met niemand praat nie. Jy is nie honger nie.
Met verloop van tyd word jy al hoe swakker omdat jy net bly lê, niks doen nie en niks eet nie. Jy sien nie eens meer die flentertjie son wat van bo af by die tregter in skyn nie. Jy verdrink in jou trane. Die smart verswelg jou. En hoe langer jy bly lê, hoe jammerder kry jy jouself. Jy voer jou met niks daar in die V-tregter nie, totdat die V in die W van wanhoop verander.
Toeskouer
Hoekom ruk hy hom nie reg nie?
Dit kan tog nie so erg wees nie!
Hoekom vat dit haar so lank om weer ’n greep op die lewe te kry?
Gaan hy ooit weer probeer opstaan?
Die wanhoop vreet aan jou liggaam, siel en gees. Jy is ’n lewende dooie.
Maar jy kan ánders kies!
Wat kies jy?
Jy kan die W van Wanhoop omdraai sodat dit weer op sy bene staan, sodat dit die M van Mallemeule word. Jy kan weer op die mallemeule van die lewe klim deur met behulp van hierdie b-woorde aan elke been van die M vas te hou:
Kies
•tussen vernietigende wanhoop en blymoedige hoop.
•tussen ’n verslae, verwilderde en verwese bestaan en die genade om weer as ’n bemagtigde mens blymoedig deur die lewe te gaan.
Wat kies jy?
Nie maklik nie
Liewe medereisiger op die lewenspad, dit is nie maklik om die W van Wanhoop in die M van Mallemeule om te swaai nie. Die koudheid, leegheid en grysheid van die hartseer wat in elke beentjie van jou liggaam skuilplek gevind het, het jou gees laat afstomp. Jy het gemaklik begin raak daar onder in die donker gat van die v-tregter. Bitterheid en depressie klou aan jou hart, net soos die apatie, twyfel, vrae, vrees vir mense en dinge, en selfs vrees vir die mens wat jy geword het. ’n Mens sonder ’n wil en visie.
Maar jy het ’n kragtige stuk toerusting ontvang om jou te help om hierdie ommeswaai te bewerk: gebed. Wanneer jy bid, beweeg God en wanneer God beweeg, verander mense en situasies. God gee sy Heilige Gees die opdrag om namens jou op te tree. Terwyl jy daar in die donker gat lê, is sy engele rondom jou. Jy kan hulle net nie sien nie.
Toeskouer
Luister onbevooroordeeld.
Moenie oordeel as jy nie eers self in iemand se skoene gestaan het nie.
Bemoedig ander in smart.
Wees deernisvol en goedgesind
Hanteer mense met liefde en geduld.
Wees sagmoedig.
Wees verdraagsaam.
Versterk ander deur hulle met wysheid en insig te leer en te help.
Bid sonder ophou vir ander mense se geestelike en liggaamlike herstel.
Bemagtig ander om op hulle eie bene te staan deur hulle te bemoedig om die Wapenrusting van God (Ef 6:10-20) aan te trek sodat hulle regop kan bly staan.
Omdat Christene weet waar hul aardse reis gaan eindig, kan hulle leef met die wete dat daar wel ’n toekoms bestaan. Troos mekaar dan met die woorde van 1 Tessalonisense 4:13-18:
Ons wil hê … dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem. Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees. Troos mekaar dan met hierdie woorde.
Met God as die middelpunt van jou lewe verander jou perspektief op die lewe:
Sonder God | Met God |
–Begrawe ons ons gevoelens. | –Rou ons oor ons verlies. |
–Vervang ons dit wat ons verloor met iets anders. | –Kyk ons ons pyn vas in die oë. |
–Treur ons alleen. | –Treur ons in gemeenskap met ander mense wat vir ons omgee. |
–Sê ons tyd heel alle wonde. | –Is die Heilige Gees ons Trooster. |
–Leef ons met verwyte. | –Vergewe ons ons en ander. |
–Vertrou ons nie sommer weer nie. | –Vertrou ons God met ons toekoms. |
Met God in ons lewe is dit vir ons makliker om die W van Wanhoop in die M van Mallemeule te verander.
Die emosies van die rouproses
Wanneer jy ’n verlies ervaar – watter vorm dit ook al aanneem – is die gevoel dat dit nie waar kan wees nie, ’n baie normale reaksie. Dit kon nie met jou gebeur het nie. Jy wil die nuus wat jy ontvang het nie glo nie. Wanneer die werklikheid dan insink, is jou reaksie woede. Jy is kwaad. Jy vra: “Hoekom moes dit nou juis met mý gebeur? Dit is so onregverdig!”
Soms wil jy met God onderhandel. Jy dien God, maar jy kan nie aanvaar dat slegte dinge ook met goeie mense gebeur nie. Dit is asof jy dink gelowiges verdien dit nie dat ’n verlies van enige aard hulle tref nie. Jy dink goedheid en guns behoort jou te volg ómdat jy glo en God dien.
Hierdie onderhandelingsproses sluit dikwels in dat jy vir God belowe dat, as Hy jou situasie sou verander, jy en jou gesin Hom sal dien, of dat jy iets wat vir jou belangrik is, sal prysgee. As God dit nié vir jou sou doen nie, sal Hy maar tevrede moet wees dat jou plek in die samelewing waar jy Hom dien van nou af leeg sal wees. Want, só redeneer jy, hoe kan die God van liefde so wreed teenoor sy volgelinge wees?
Afhangende van die soort verlies wat jy ervaar het, kan geestelike en emosionele probleme ná ’n rukkie opduik. Die hartseer kruip oor maande heen tot in elke beentjie in jou lyf, totdat ’n reaktiewe depressie opvlam. Die gevoel dat jy net wil slaap en nooit weer wil wakker word nie spoel oor jou. Jy wil net daar in die diep, donker put bly lê. Jy wil aanmekaar huil totdat daar nie meer trane in jou oor is nie, of totdat jy in jou trane verdrink.
Jy het eenvoudig nie die krag om uit die put te klim nie. Hierdie magtelose lusteloosheid word ’n daaglikse stryd. Jy wil alleen wees, maar voer ’n stryd om oorlewing. Die lewe is nie ’n grap nie. Jy sien geen uitweg uit jou situasie nie.
Dit is normaal om emosies soos vrees, woede, kommer, depressie, verwyt en smart te ervaar wanneer iets of iemand van jou weggeneem word. Jou emosies is immers deel van jou menswees. Dit maak jou nie ’n slegte mens as jy hierdie emosies ervaar nie. Jy hoef nie te probeer sterk lyk nie, want dit is nie die werklikheid nie. Jy mag maar hartseer wees. Jy mag maar huil. Jy is nie ’n superhero nie. Jy is ’n weerbare mens met gevoelens. Dit is soos God jou gemaak het. Enige verlies is ontstellend en jy sal ondraaglik verlang na wie of wat jy verloor het.
Hoe help jy iemand wat oor ’n verlies rou?
Wanneer jy te doen kry met iemand wat rou oor ’n verlies, wees besonder waaksaam en oplettend. Wees bedag daarop dat hul worsteling hulle so kwesbaar kan maak of so kan aftakel dat hulle na verkeerde grashalms gryp bloot omdat dit soos ’n maklike uitweg lyk of omdat dit verligting van die pyn belowe.
Wanneer iemand wat rou oor ’n verlies hulle volkome afsonder van die gemeenskap, familie en vriende, is dit tyd dat dié wat die naaste aan hulle is (familie of vriende), ingryp en hulle probeer oorreed om hulp te aanvaar.
Ons het ander mense nodig. Mense wat ons sal aanmoedig. Mense wat ons sal ondersteun. Mense wat namens ons sal dink en doen wanneer ons nie kan nie.
Dit is egter baie belangrik dat ons sal besef dat ’n tydperk van rou noodsaaklik is wanneer mense enige soort verlies ervaar. Wanneer iets of iemand van ons weggeneem word, moet ons mekaar dra en bemoedig. Niemand weet hoe en hoe lank enigiemand nodig het om ’n verlies te verwerk nie. Elke mens is uniek. Ons moet respek hê hiervoor. Dié wat rou, sal weer die son sien skyn wanneer die tyd vir hulle reg is.
Mense ervaar in hul donkerste tye dikwels die meeste groei in hul lewe omdat God hulle in daardie donker tyd geestelik versterk. Hulle besef dit egter nie op daardie oomblik nie. Dit is eers heelwat later dat ’n mens dit raaksien en insig en wysheid bekom.
Hierdie waarheid is telkens bevestig in die onderhoude wat ek vir hierdie boek gevoer het. Terwyl mense in die rouproses was, kon hulle die gebeure nie verstaan nie. Later het hulle egter besef hulle het nader aan God gegroei, al verstaan hulle steeds nie God se paaie nie.
In My Moquini skryf Karen Tocknell:
It was only when I lost everything and had nothing but God to rely on, that I fully surrendered to Him and to his love. As my world crumbled around me, I retreated to the core of my being and there discovered a desire so intense for the heart of God, that I realized that nothing else in life mattered anyway. Intimacy with God was worth giving up everthing for … As long as I had my eyes fixed on his face and not the circumstances around me, I would radiate His joy and peace.
In die hartseerste oomblikke van haar lewe, het sy haar grootste getuienis uitgeleef. Net soos Paulus en Silas in boeie in die tronk God met liedere verheerlik het. Dit was ’n getuienis teenoor die ander gevangenes en die bewaarder. Hy wou ook hê wat Paulus-hulle het.
Ons moet nooit vergeet dat God goed is nie. Hy was en is en sal altyd die God van liefde wees, al voel dit nie altyd waar nie. Die lewe is regtig te groot vir ons om ons verlies alleen te hanteer. Soms moet ons ons laagste punt bereik om te begryp wie God werklik is en wat Hy vir ons kan doen.
Menige gerehabiliteerde verslaafdes het dit vir my gesê. Wanneer ons aan hierdie waarheid begin twyfel, is dit goed om ons vrae te verwoord. Vra vir iemand jou vrae, of skryf hulle neer. Die oomblik dat jy dit doen, neem jy die mag van negatiewe gedagtes oor jou weg omdat jy proaktief optree.
God nooi jou as gelowige om jou vrae voor Hom neer te lê. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes … aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Chrisuts Jesus” (Fil 4:6-7).
Respondente op my vraelyste het dikwels vir my gesê hulle het besef dat sekere dinge met hulle gebeur het sodat hulle die krag, wysheid en insig kon ontvang om later weer ander mense te versterk. Slegs hul eie verlies kon vir hulle daardie insig en wysheid gee. Nie een van ons soek die pynlike omstandighede van die lewe op nie. Nie een van ons sal ons vrywillig aan smart onderwerp nie. Maar, wanneer ’n pynlike ervaring ons uit ons gemaksone pluk, kan ons nader aan God beweeg die oomblik wanneer ons kies om weer op te staan. Ons word beter, nie bitter nie.
Jy moet egter kies om teen die selfbejammering te veg. Bid vir wysheid. Bid vir insig. Vra vrae. Jy mag maar. Moet ook nooit van die 7 000 beloftes in die Bybel vergeet nie. Al voel jy in jou gebrokenheid dalk dat God nie getrou is nie, gaan sit in stilte en onthou van al die goeie dinge wat in jou verlede gebeur het. Vestig jou oë op die goeie dinge wat steeds rondom jou gebeur.
Moenie toelaat dat vrees en onsekerheid jou so oorweldig dat jy aanhou aan God twyfel nie. Laat jou twyfel en ongeloof jou eerder tot in sy arms dryf. En wanneer jy daar weer veilig voel, doen jou bes om vir altyd daar in sy arms te bly. Daar is dit veilig. Oefen as ’t ware om in sy arms te bly. Jy het nie deftige woorde nodig nie. Wat ook al in jou gedagtes opkom, is goed genoeg vir God.
Dit is jóú keuse
Dit is uiters belangrik om te onthou dat jou huidige omstandighede nie die res van jou lewe bepaal nie. Hoe jy oor jou verlies dink en hoe jy daarop reageer, sal wel ’n invloed op jou lewe hê.
Vertrou God. Vertrou op jou keuse om Hom te vertrou vir ’n nuwe denkwyse. Sodra jy kies dat vernuwende gedagtes in jou lewe seëvier, is dit uiters belangrik om jou te omring met mense wat hierdie ingesteldheid by jou sal versterk en wat jou sal bystaan. Daar sal immers dae aanbreek dat jy nie so positief voel nie.
Onthou egter ook altyd dat jou gevoelens nie sterker as jou keuses mag wees nie. Maak staat op ander mense om namens jou by God in te tree wanneer jy self nie liggaamlik of emosioneel daartoe in staat is nie. Selfs ’n teksboodskap wat sê: Bid vir my is genoeg.
Nog iets wat baie belangrik is, is om die negatiewe mense uit jou lewe weg te sny. Stel vir jou klein doelwitte. Een klein tree is altyd meer werd as geen tree hoegenaamd nie.
Jare gelede het ’n 4x4-voertuig oor ons basset-hond gery. Hy was verlam en hulle het hom by die dierehospitaal gehou. Ná drie weke het ons een Maandagoggend besluit om hom daardie dag te laat uitsit om sy lyding te verlig. Toe ons daardie middag by die dierehospitaal instap, het hy egter ons stemme herken, sy kop opgelig en sy pootjies geroer toe ons hom groet. Dit was vir ons die teken om die lewe bo die dood te kies.
Ons het hom huis toe geneem en self versorg. Later het hy hom sentimeter vir sentimeter op sy maag begin voortsleep. Sy lyf was later so vol rou kolle terwyl hy dag ná dag probeer voortbeur het, maar hy het nie ophou probeer nie. Hy het vasgebyt. Ná ’n paar maande het hy begin stap en later begin hardloop. Nou gaan stap hy saam met ons en gee vir ons soveel plesier.
Wat verhoed jou, mensekind, om elke dag te probeer? Jy het vir God wat jou sal bystaan. En jy het vriende wat vir jou lief is. Jy het ’n familie wat vir jou omgee. Bowenal is daar ’n doel vir jou lewe en jou voortbestaan. God maak nie gemors nie. Hy het wonderlike potensiaal in ons almal ingebou, ook in jou.
As jy dink jy het nie ’n liefdestruktuur wat jou ondersteun nie, onthou dan: Jy het ’n hemelse Vader wat vir jou baie lief is. Daar is nie ’n mens op hierdie aarde wat kan sê God is nie lief vir hulle nie. Baie mense ervaar dit net nie omdat hulle Hom nie in hul lewe toelaat nie. Dalk omdat hulle Hom nie ken nie.
Wees dapper. Jy kán stadig deur die slaggate van die lewe ry. Moet jou nie te gering ag om wonderlike geskenke van Bo te ontvang nie. Slegs jy sal die verloorder in die proses wees as jy dit nie glo nie.
Kies om te vergewe
In die fliek Philomena sê Philomena vir die non wat die geheim van haar verlore seun van haar weerhou het: “I forgive you.” Dit bring mee dat die verlies wat sy self jare lank ervaar het, haar op die ou end vrymaak. Sy sê vir die joernalis wat saam met haar na haar seun gesoek het dat sy nie soos hy wil wees nie. Sy wil nie, soos hy, kwaad en verbitterd bly leef nie.
Die helingsproses verg dat iemand iewers genade sal betoon of ontvang. Verlies gaan nie daaroor dat ons die skuldige partye (wat vir die verlies verantwoordelik is) moet straf nie. Wraakgedagtes ontneem ons van energie wat ons positief kan gebruik. Onvergewensgesindheid kan ons lewe verwoes. Dit is nie nodig of die moeite werd nie. Ons is gebore met ’n verstand waarmee ons met wysheid kan kies. Laat die howe, sielkundiges en dokters sekere dinge uitsorteer. Bevry jou van die mentaliteit om mense te laat boet.
Terwyl ons oor vergewensgesindheid praat, dit is ook belangrik dat jy moet let op wat jy voel en ervaar te midde van jou verlies. Moenie soveel vrae vra dat jy verbitterd word nie. Soms sal ’n skuldige gewete, ’n gevoel van hulpeloosheid en/of negatiewe emosies jou teister. Kies om jou steeds te sien soos God jou sien, nie soos die mens wat jy deur jou ervaring van verlies geword het nie. Dit geld veral vir mense wat depressief raak, vir dié wat aan dwelms of drank verslaaf is, mense wat familielede deur selfdood verloor het, of kinders en ouers wat verwerp word.
Onthou alles wat goed was in jou lewe voordat hierdie tragedie jou getref het. Bid spesifiek dat die Here vir jou vrede oor jou verlies sal gee. Eers dan sal jy kan aanbeweeg. Wanneer jy die lewenstoets wat verlies meebring, kan slaag, word jy op soveel ander en nuwe vlakke geseën. Want jou Here is ongelooflik kreatief.
Dit is belangrik dat jy nie in ’n slagoffermentaliteit verval nie. Jou negatiewe gedagtes kan jou grootste vyand word. Soek eerder na iets goeds en positiefs diep binne-in jou en laat dit vrug dra.
Ontwikkel die begeerte om steeds iets met jou lewe te doen. Deel hierdie begeerte met iemand of skryf dit neer. Reageer dan op hierdie positiewe doelwit en begin een blokkie op ’n slag op ’n ander een pak. Sommer gou sal daar ’n toring wees.
Wees egter versigtig dat iemand nie langs die pad teen jou toring van blokkies stamp sodat dit omval nie. Indien dit wel gebeur, moenie toelaat dat dit jou bouproses stuit nie. Onthou, elke blokkie het ’n helder kleur. Die uiteinde sal ’n pragtige, kleurvolle toring wees wat bo jou uitstrek en jou lewe versier.