Читать книгу Man van kaliber - Helene de Kock - Страница 4

1

Оглавление

“Professor?”

Jessica Theron kyk op van haar lessenaar. In die deur staan Karel Malan, soos altyd stylvol geklee in ’n donkerblou broek en strepieshemp. Sy glimlag by voorbaat. Hy lyk uitgerus en vrolik, want sy weet mos die finalejaar-LLB’s het eergister al hul laaste vraestel geskryf.

“Kom binne, meneer Malan,” sê sy en haar fyn swart wenkbroue lig effens. “Ek het gedink jy is al weg huis toe.”

Hy tik die deur liggies sodat dit sag agter hom toeklik, kom staan voor haar, arms besadig voor die bors gevou. “O, ek wás op pad huis toe, professor, maar toe besluit ek om om te draai.”

Sy lag. Ken hom darem ook nie van vandag af nie. Daardie uiterlike sedigheid bedek ’n onnutsige humorsin. Sy probeer nog haar mond reg plooi, maar gee op, lag net weer. “Já?” vra sy.

“Ja. ’n Mens kan maar sê dit was op aandrang van die keiser.”

“Die keiser?” vra sy geamuseerd, beduie dat hy moet sit. Sy merk dat hy ietwat bleek is en dat daar ’n vreemde onseker trekkie om die effens streng mond is.

“Keiser Justinianus, ja,” sê hy sag. “Die eerste lesings wat ek destyds by u bygewoon het, het gehandel oor die Twaalf Wette wat hy ingestel het …”

“Die Corpus Iuris Civilis, ja,” val sy hom onwillekeurig in die rede. “Ek onthou goed hoe baie vrae jy gevra het!”

“Ek wou nog baie meer vra, maar wat wel bly steek het, is dat u kort-kort na hom bly verwys het as ’n man van kaliber.”

“Dis tog waar,” glimlag sy koel en voel die stilte wat tussen hulle insluip, asof die stad skielik rondom die kampus weggesak het.

Daar is ’n ongewone intensiteit in sy oë toe hy sê: “Ja, natuurlik is dit waar. Justinianus wás ’n reus op regs- en ander gebiede. Maar … ek wonder nog altyd watter karaktereienskappe só ’n man van kaliber sou moes hê.”

Sy leun terug in haar stoel, sku vir die trant van die gesprek. Sy weet mos al jare hoe Karel Malan oor haar voel. Nie dat sy hom dit ooit laat agterkom het nie. Maar dit was nie altyd maklik nie. Drie jaar jonger as sy en innemend aantreklik. ’n Man wat eers gaan werk het en toe kom studeer het. Een van haar eerste studente toe sy destyds – rou jonk en hipergeleerd – hier op Tukkies aangestel is.

Hy merk haar huiwering, druk sy vingerpunte teen mekaar en kyk stip na haar. Sy maak ’n vae, verbouereerde handgebaartjie.

“Dis nou vir jou ’n vraag,” glimlag sy skewerig. “Dis tog vanselfsprekend dat Justinianus ’n man van hoë integriteit moet gewees het. Die geskiedenisboeke …”

“Nee!” keer hy haar heftig. “Ek wil weet wat ú van iemand soos keiser Justinianus sou verwag as u hom persoonlik kon ontmoet.”

Sy blik is so intens dat ’n blos in haar wange opskiet. Sy weet mos sy besoek het niks met die keiser uit te waai nie. Dit het alles te doen met die feit dat sy van volgende jaar af as departementshoof van Romeinse Reg op Potchefstroom aangestel is. En Karel Malan, op pad na sy ouerhuis naby Bethlehem, het omgedraai omdat hy wou kom groet. Wéér ’n keer, want hy het klaar saam met die ander finalejaars vir haar ’n afskeidsparty gegee. Jare lank al keer sy Karel se beskeie attensies behendig weg. Maande al sien sy hierdie ding kom. Sy wil hom nie krenk nie. Reguit woorde nietemin, besluit sy opeens.

“Karel,” sê sy met ’n fyn glimlag, “moenie die keiser as kruk gebruik nie.”

Daar breek ’n wit glimlag oor sy gesig en dis of sy blik nog helderder word. “Dis die eerste maal dat jy my op my naam noem,” sê hy half verwonderd.

“Jy is nie meer ’n student nie,” antwoord sy, en toe met ’n versagtende handgebaar: “Ek sal jou mis …”

Hy sit effens terug asof hy skielik weet dat hy suutjies besig is om veld te wen. Toe glimlag hy weer. “Vergeet dan maar van die keiser … Jessica. Ek wil weet hoe lyk die man wat jy bewonder. Jóú man van kaliber.”

Jessica draai haar kop weg, gee ’n blaaslaggie. “Wil jy nou hê ek moet liries raak oor die ideale man, of wat?” En toe hy haar net stil bly aankyk: “My liewe Karel, die ideaal op feitlik alle gebiede is bloot ’n illusie. Dis iets wat tussen droom en herinnering lê. En kaliber – wel, dis dalk iets wat eers in geskiedenisboeke uitkristalliseer!”

Hy staan stadig op, kyk onderlangs na haar en skud toe sy donker kop. “Nou klink jy soos ’n siniese professor.”

“Ek ís mos een. En ek is bloot realisties, Karel,” sê sy en staan ook op, stut haar vingerpunte op die lessenaarblad. Sy is glad nie voorbereid daarop toe hy vorentoe leun nie, sy gesig so naby hare dat sy die verborge onstuimigheid binne-in hom kan sien.

“Jy is ook ’n vrou, Jessica,” sê hy gesmoord. “Een wat ek bitter graag beter wil leer ken. Ek … het jare lank op hierdie gesprek gewag!”

Dis die dringende vraag in sy oë wat haar spytig laat sê: “Maar nou gaan ek Potch toe en jy, sover ek weet, gaan in vennootskap met jou broer op Bethlehem.”

“Noordwes en die Vrystaat lê langs mekaar, professor. Dis net hiér waar ons wêrelde uitmekaar was.”

Sy sug liggies en maak haar oë uit syne los. “Daar is nie ’n ‘ons’ nie, Karel.”

“Nee,” antwoord hy kalm en kom ook orent. “Al wat ek vra, is om vir jou te mag kom kuier op Potch.”

Haar mond roer in ’n glimlag. Dis onmoontlik om nie van Karel Malan te hou nie. Maar sy kyk tog skigtig weg toe sy praat: “Die situasie het nie verander nie, Karel. Jy is nog altyd … ’n paar jaar jonger as ek.”

Die lag spring tot in sy oë.

“Wat ’n simpel redenasie vir ’n geëmansipeerde vrou!” Toe steek hy sy hand na haar uit en sy vat dit vas. “Tot later dan, Jessica. Nog voor Kersfees kom kuier ek vir jou op Potch.”

Toe Jessica die oggend van haar vertrek in haar leë woonstel staan en toekyk hoe vinnig haar goed verpak word, voel sy soos iemand wat voor die rapende arm van die gereg moet uitvlug. Dis of sy nog hier wil gryp en daar wil vat om só die laaste bietjies van haar lewe in Pretoria te probeer behou. Oplaas kyk sy die meubelwa oorbluf agterna toe dit in Hatfield se verkeer verdwyn. Nog een keer gaan staan sy voor die groot noordevenster in haar woonstel, streel met haar oë oor die pers Oktoberstad wat strek tot aan die warm bruin van die Uniegebou. En sy wonder of sy die regte ding doen.

Sy was gelukkig hier. In die ses jaar dat sy aan Tukkies klasgegee het, het sy fenomenaal opgang gemaak in haar vakgebied. Sy het twee lywige werke oor die geskiedenis van die Romeinse Privaatreg die lig laat sien en voorverlede jaar die jongste hoogleraar geword wat nog aan dié regsfakulteit aangestel is. Op akademiese gebied, dink sy toe sy finaal uitstap, het die gode nog altyd met haar geglimlag. Soos nou ook weer toe sy aansoek gedoen het vir die pos as departementshoof van Romeinse Reg aan die Universiteit van Noordwes, en dit gekry het bo beleë manne wat al jare lank hul tande daarvoor slyp. En dis nie dat sy juis ’n verandering gesoek het nie; dit was sommer ’n rusteloosheid wat haar gepak het. Die óú strepie wildheid wat haar oorlede ma so op hol kon jaag.

“Waarom wil jy opsluit na ’n ánder universiteit as jou maters, Jessica? En so ver. Wat sal van jou word?”

Dit was altyd haar ma se grootste bekommernis. Dat haar eiesinnige dogter haar op paaie van geen terugkeer sou begewe. Wat natuurlik ook gebeur het, dink Jessica wrang, en draai die sleutel in die slot. Geen terugkeer is immers vir almal. Niks, maar niks is staties nie.

Dis toe sy al halfpad weg is dat ’n soort angs haar pak. Dis ’n vreemde plek. Selfs onbevange geeste word ouer en trek-trauma is hoog op die streslys, soos wat ’n kollega haar weet te vertel het. Nuwe gesigte, Jessica, allerhande nuwe kinkels …

“Nou ja,” het sy paraat geantwoord, “ek vrees juis om in ’n groef te beland.” En sy het net gelag toe dieselfde kollega beweer dat groewe immers veilig is. Sy weet mos hoe ’n bedrieglike veralgemening dit is. Die een maal in haar lewe dat sy ’n op die oog af uitgetrapte roete gekies het, het sy byna oor die afgrond gestort.

Vergeet dit, maan sy haarself toe sy die malsgroen buitewyke van Potchefstroom binnery. ’n Hele nuwe bestaan lê voor. Sy is immers ’n vrou met ’n versekerde toekoms in die akademie. Die ses jaar in Pretoria het haar genees ook. ’n Bietjie tyd en baie sukses het selfs die letsels van ’n gebroke hart laat verdwyn, dink sy en kyk met genoegdoening na die digte groen wilgers al langs die lui kronkeling van die Mooirivier. Die landelikheid vee soos ’n balsem deur haar binneste en sy glimlag toe sy deur die gevlekte skadu’s van Tomstraat se eike ry. Die dik bome is diepgroen in die greep van die somer. En dis ’n ánder somer hierdie, besef sy toe sy voor ’n wit dubbelverdiepinghuis in ’n rustige buurt langs die rivier stilhou. Die Noordwes hitte laat haar met die uitklimslag al na haar asem snak, maar die huis lyk koel en uitnodigend.

“Ek kan die plek aanbeveel,” het die dekaan destyds gesê toe sy vir die onderhoud gekom het. “Dis naby die kampus, ’n mooi omgewing. En professor Geyer se weduwee is ’n liewe mens. Daar is ’n woonstel langs die huis sodat jy jou privaatheid sal geniet, maar tog nie alleen sal wees nie.” Jessica was eers huiwerig, maar nadat sy kom kyk het en die gawe mevrou Geyer ontmoet het, het sy gou besef dat sy baie gelukkig is om só ’n blyplek te bekom. Sy besef dit opnuut toe die voordeur wyd oopswaai en mevrou Geyer haar aan die skouers nader trek en plegtig op die wang soen.

“So ja, Jessica! Ek en jy gaan mos bure wees en daar staan in Spreuke, ’n buurman wat naby is, is meer werd as ’n broer wat ver is.”

“Móói welkomswoorde!” lag Jessica. “Baie dankie!”

Toe hulle tee drink op die patio tussen die huis en die woonstel, daag die meubelwa op en mevrou Geyer sit met ’n diskrete hulpvaardigheid hand by om te help uitpak. Laataand, toe die pakkers weg is en hulle twee weer alleen by die swembad sit en eet, lê ’n swaar pers skemering oor die groot grasperk wat afloop tot op die oewer van die rivier. Daar is hoë denne en twee welige wilgers en iewers anderkant die water klink die kabbelende roep van ’n vleiloerie deur die stil lug. Jessica glimlag spontaan.

“Ek is bly ek is hier!” sê sy.

“Ek is ook bly,” sê mevrou Geyer sag. “Om ’n verandering te maak is selde maklik, maar dit is soms goed.” Sy bekyk haar skielik skalks. “Jy sal in elk geval die mooiste professor op die kampus wees! Het iemand jou al gesê dat jy beeldskoon is?” Sy leun vorentoe en skink vir hulle albei nog tee in. “Kom, vertel my waarom jy ’n akademikus is in plaas van ’n beroemde model!”

Jessica lag net en kyk af op die swembad wat bleekblink in die stoeplig lê, lig haar lang hare weg uit haar klamgeswete nek.

“Ag wat, dis eintlik eenvoudig. Ek kan glad nie met ’n kamera flankeer nie. Die talent om iets anders te projekteer as wat ek is, ontbreek. Toe leer ek maar, en nou probeer ek ander mense motiveer om te studeer. Dis eintlik al wat ek kan doen.”

“Dit laat ek my nie vertel nie!” lag mevrou Geyer ongelowig. “So ’n gesig sal geharde manne laat visioene sien, Jessica. Jou glimlag alleen sal ’n man in ’n wentelbaan plaas!” Sy kyk skielik stip oor haar koppie tee na haar. “Het ek iets … verkeerds gesê?”

Daar is soveel goedige spyt in die vrou se stem dat Jessica gerusstellend glimlag. “Nee, die woorde laat my net dink, dis al.”

Mevrou Geyer sug diep. “My liewe oorlede man het my dikwels gespot omdat ek so ongeneeslik romanties is. Dis tog waaraan ek jou laat dink, nie waar nie? Romanse?”

Jessica lag saggies in haar keel. Sy hou van die vrou, besluit sy. Buitendien, wat maak dit saak as mevrou Geyer weet dat Daniël Krause jare gelede al feitlik dieselfde soet woorde oor en oor gesê het? Jou glimlag lanseer ’n man die ruimte in, Jessie. Jy laat my drome droom, meisie …

“Ag, mevrou,” antwoord sy effe wrang, “dis al sulke ou nuus! Ek was ook een wat gedink het ’n man se woord is so onversetlik soos die wet. Maar ek het gou genoeg geleer …”

“Haai,” val mevrou Geyer haar grootogig in die rede, “ek weet darem nie, my kind. Professor Geyer se woord wás wet in hierdie huis. Sy ja was ja en sy nee was nee.”

“Natuurlik,” paai Jessica, gou om ’n onrustigheid in die plooitjiesoë te gewaar. “Nie alle mans is soos … soos Daniël nie. Dit was ék wat so naïef was om te dink sy mooi woordjies dra gewig.”

“Sal jy my eendag vertel van hierdie Daniël-man?”

Jessica knik plegtig.

“Ek sal, ja. Maar nou moet ek eers my klere gaan uitpak. En daar is nog ’n klomp kartondose vol goed. Waarom gaar ’n mens tog so op?”

Maar daar gaan weke verby dat hulle nie weer oor mans en hul woorde praat nie. As Jessica gedink het dat mevrou Geyer so honger vir geselskap was dat sy inbreuk sou maak op haar privaatheid, het sy dit mis gehad. Spontaan nuuskierig wel, maar ook fyn van begrip en met ’n ongewone aanvoeling vir haar buurvrou se gemoedstemminge. Sy respekteer Jessica se alleentye, maar verwelkom haar vreugdevol as sy kom inloer. Dis vir Jessica aangenaam en tog vreemd. Jare het sy alleen geleef met slegs ’n paar kollegas as goeie kennisse. Haar binneste het sy dig gemaak teen ander mense. Dié dat sy Karel Malan se honger blik so lank kon trotseer. Maar noudat hy ver is, is dit of sy die subtiele koestering van sy donker oë mis.

Sy dink eendag spesifiek aan hom toe sy vir haar ’n fiets in die middedorp gaan koop. Op Potchefstroom is twee wiele die aangewese ding, het mevrou Geyer en die ander bure haar gou verseker. Van proffies tot huiswerkers en joolprinsesse trap vir die vale. Sal Karel Malan dit nou geniet om my só te sien, dink sy goedig toe sy op haar nuwe, skokpienk fiets deur Tomstraat se donker laning ry.

Toe sy by die Geyer-huis se groot erf op die oewer van die Mooirivier indraai, wel die opwinding deur haar. Hier gaan ek gelukkig wees! dink sy, hier op dié rustige dorp met sy interessante en gawe mense. Sy dink aan die liewe mevrou Geyer en die gawe dekaan en sy vrou wat al ’n slag kom inloer het, aan bure wat gesellig na haar roep oor die heinings en dorpstudente wat op straat met haar glimlag. Nuus trek soos rook in die wind deur ’n studentedorp, Jessica, het mevrou Geyer geskerts. Hier is nog méns-mense en jy gaan gou vriende maak.

Sy voel bruisend energiek toe sy die fiets in die buitekamer bêre en bly dat sy besluit het om so vroeg al hierheen te trek. Nou is daar tyd om die noodwendige vreemdheid sag te maak. Skielik min lus vir die stilte van haar woonstel, loop soek sy na mevrou Geyer. Sy kry haar voor die televisie besig om trane af te vee oor die soete smart en bittere blydskap wat die lot van die Forresters van Los Angeles is. Jessica gaan sit en swyg eerbiedig.

“Ag,” sug mevrou Geyer later bewoë, “wat is ’n sepie tog wonderlik! ’n Mens kan so saam ly sonder dat jy letsels opdoen. As die lewe maar só was!”

“Helaas, ja,” beaam Jessica geamuseerd, “want hoe propvol clichés hulle ook al is, ’n mens kan die feit nie ontken dat die werklikheid ook bra geyk voorkom nie. Mense maak oor en oor dieselfde foute!”

“Behalwe jý,” sê sy skerpsinnig sodat Jessica verleë lag.

“Ag, dis in elk geval lankal verby,” keer Jessica, nie nou lus vir ’n ontboeseming nie, “en deesdae kyk ek ook net van die kantlyn af – dis veel veiliger.”

“En baie vervelig! Glo my, Jessica, daar is niks, maar niks op aarde wat kom by die wonder van ’n goeie man se liefde nie! O, ek kan lánk daaroor gesels. Maar wag …” Sy wys meteens opgewonde na die skerm: “Dis nuustyd!”

“Maar ek dog u hou nie van die nuus nie! Net gister het u gesê hoe aaklig dit is om daarna te kyk!”

Mevrou Geyer glimlag opeens soet, sodat sy amper jonk lyk in die laatmiddaglig wat vanuit die groen tuin in die huis val. “Dis skokkend, ja. Maar as Loek de Jager dit lees, klink dit tog nie so erg nie. Kyk net, so ’n direkte blik. Daardie donker, byna swartblink oë en vol mond, die hoë wangbene en sterk kakebeen … O, ek dink ek gaan oor hom voel soos wat my ma destyds oor Clark Gable gevoel het!”

“Maar die man het dan nie ’n snor nie!” Jessica kan haar lag nie bedwing nie.

“Met sý soort charisma het hy nie een nodig nie! Sien jy dan nie wat ek sien nie? En hóór daardie stem. So fluwelig sinies as hy oor die doen en late van die Britse koningshuis lees, dan weer grinterig as hy oor misdaad en die politiek praat.”

Jessica kyk en sien wél. Sy hoor ook. Maar dis al. Sy ken immers Loek de Jager se gesig. Selfs iemand wat min tyd vir TV het, weet hoe lyk die man. Sy gesig pryk kort-kort op tydskrifte se voorblaaie. En sy ken mos die sóórt gesig ook. Feitlik onweerstaanbaar, met sy gitswart hare en diepblink oë, sy heuning-en-granietstem en dwingende sjarme. Daniël Krause was mos net so. Blond en fris, maar net so dominant, so ontstellend aantreklik. Sy stem alleen kon haar knieë laat knak. En hy het geweet van woorde. Hy kon daarmee ’n strik span wat geen vrou kan mistrap nie.

Jessica staar fronsend na Loek de Jager se gesig. Dis waar wat mevrou Geyer sê, dink sy onwillig. Die man het ’n teenwoordigheid wat nie maklik geïgnoreer kan word nie. Dis of die lug om hom gelaai is. En dit laat natuurlik die meeste kykers se hartklop versnel, dink sy wrang. Net so die tikkie verveeldheid om die mond wat die voorloop van ’n skewe laggie is toe hy praat oor ’n sosiale blaps wat die nuutste oorloper na die regerende party begaan het. ’n Soetsuur trekkie om die lippe wat aan ’n mens se hart pluk omdat dit die volmaak fotogeniese gelaatstrekke onverwags versag. Daniël het ook so ’n gesig. Net by hom is dit ’n kuiltjie in die wang wat ’n skielike onskuld aan sy gelaat kon verleen.

Moenie, maan Jessica haarself. Maar haar gedagtes is klaar vort en sy moet sleepvoet agterna. Dit was, dink sy, onmoontlik om nie op Daniël verlief te raak nie. Sy dink dit waaragtig, al het sy haar eeue gelede voorgeneem om dit nooit weer aan haarself te erken nie. En nou kyk sy na hierdie De Jager-man met die perfekte gesig en om die een of ander duister rede laat hy haar allerhande dinge onthou.

Sy staan effens vervaard op, maak verskoning dat sy naslaanwerk wil gaan doen. Mevrou Geyer knik net afwesig. Sy kyk nuus.

In haar woonstel gooi Jessica die noordevensters oop om ’n ligte bries in te laat. Dis ’n koel luggie wat van die dam oorkant die rivier kom en sy sug verlig, gaan lê in die donker op haar bed, hande agter haar kop ingevou. Toe, dink nou oor Daniël en dink kláár. Rakel op en takel af, want dit sal veel beter wees as geen verdere gedagtes aan Daniël hier op Potch nesskop nie. ’n Skoon begin is belangrik. Maar toe sy haar regtig aan onthou oorgee, is dit nie maklik om uit te wis en weg te vee nie. Dis asof sy alles tegelyk oproep – talle kleurryke oomblikke wat soos confetti om haar dwarrel …

Dit was die wonderlikste ding om so skielik lief te kry. Op skool was daar nooit iemand nie. Sy was te lank, te maer en te slim vir die seuns van die klein Noord-Kaaplandse dorpie. Maar binne die eerste maand op Tukkies het sy Daniël Krause ontmoet. Regstudent in sy laaste jaar, kranige sportman en gladde redenaar, een van die nieamptelike kampuskonings. En toe hy haar een aand met ’n interkoshuis-bokjol in die Rautenbachsaal nader pluk en ’n klapsoen gee voor al die seniors, het die regte, egte Jessica binne ’n oogwink ontpop.

Sy was nooit versukkeld skaam soos wat haar skoolmaats gedink het nie; sy was bloot belangeloos. Maar nie tóé nie. Hierdie Daniël se spotsoentjie het haar kwaad gemaak. En wakker. Hy wou die stywenek-eerstejaartjie ’n lessie leer, maar sy het hom binne oomblikke gereduseer van ’n hardekwas Oumeneer tot ’n jong man wat hom onverhoeds in die web van ’n vrou vasgedraai het. Want toe hy haar om die middel gryp en sy lippe op hare plant, het sy net ’n sekonde geaarsel, haar hande stewig agter sy kop gesit en hom teruggesoen vir die beste gedeelte van ’n lang minuut. Die omstanders was in ekstase. Daar voor hul oë is ’n warmbloedige storieboek-oomblik voltrek. En daar was luide applous toe Jessica nog die hemel weet wáár die astrantheid vandaan haal om ’n kniebuiging te maak en liefies te vra: “Was die prosedure na wense, meneer?”

Die reusesaal onder die Aula het gevibreer van die lag. Daniël Krause was amptelik die krater van die aand. Terug by die koshuis wou die seniors haar natuurlik afslag. Want tagtig persent van hulle sou jubelend hul sober reputasie prysgee om te kon doen wat sy gedoen het. Daarom moes sy gestraf word. ’n Mens kan nie Ienks toelaat om hulle te vergryp aan Oumenere nie. Sy sou ’n week tyd kry om boete te doen deur ’n gedig getiteld Apologie-elegie te skryf. Dit moes ’n ellelange vers wees wat sy op ’n inter-ete met Kollege Tehuis sou voordra.

Maar hulle het nie rekening gehou met Jessica se vernuf nie. Sy het nog altyd ’n slag met rymelary gehad en het binne ’n paar dae ’n dertigtal verse geskryf op ’n stuk papier wat aan ’n perkamentrol herinner. ’n Slepende geskiedenis van trou en ontrou en berou.

Toe het sy dit gememoriseer. Nie dat dit ’n probleem was nie, want sy het van kleins af ’n geheue soos ’n argief gehad. Maar toe sy die Donderdagaand met die inter-ete deur ’n paar Kollegemanne op ’n tafel getel is en sy afkyk in Daniël se blou oë, was daar wel ’n oomblik van paniek. Nie oor die situasie nie; dit was eerder ’n soort voorgevoel. Maar sy het haar ken gelig en haar lang hare agtertoe geskud, hom waterpas aangekyk en stroperig begin voordra:

O kroonprins van die kampus

O regsman van formaat

Gelyke van die groot Justinianus

Man van kaliber – en só kordaat …

Lang, soetsappige strofes het mekaar eindeloos opgevolg en die woorde het al meer gewaagd geword. Van ’n heldin, bereid om haarself te verguis voor ’n senior gespuis. En dit alles net omdat sy voel sý en die held is vir mekaar bedoel … Sy het haar hande melodramaties voor haar bors vasgevat toe sy die laaste versreël hartstogtelik fluister: “Grote kampusheer, leer tog vergewe, ’n Ienk se passie vir die lewe …”

Sy was weer eens die ster van die aand. ’n Donkerkop-eerstejaar wat met haar lenige lyf en guitige astrantheid die verbeelding vasgevang het – veral Daniël Krause s’n. Hy het haar met een haal van sy arm van die tafel gelig tot teenaan hom.

“’n Man van kaliber kry gewoonlik wat hy wil hê,” het hy sag gesê en die kuiltjie het in sy wang gespeel.

Dit en die lag in sy oë het haar bewerig laat voel, maar sy het parmantig geantwoord: “Daar is ’n uitsondering op elke reël, meneer Krause.”

Hy het net sy kop geskud en sy hande tot op haar skouers geskuif: “Jy het my met ’n keiser vergelyk, juffie, en keisers maak hul eie reëls!”

En hy was reg. Dit was die begin van haar en Daniël se bittersoet sprokie. Jessica se gedagtes stol. Sy kom orent, bly bewegingloos in die donker sit, laat oplaas haar kop op haar opgetrekte knieë sak. Miskien, dink sy moeg, moes ek dit selfs duideliker vir Karel Malan uitgespel het: dat kaliber glad nie sigbaar is nie, dat ’n mens dit liefs nie moet soek nie.

As sy hom weer sien, sal sy vir hom van Daniël vertel en ook van haar ma se woorde toe sy universiteit toe is vir die eerste keer: Daar is drie dinge waarna ’n mens nooit moet soek nie, Jessica. Dit is dankbaarheid, erkentlikheid en integriteit. Al drie hierdie dinge moet jy aanhou gee en gee sonder om iets terug te verwag. Maar ás jy dit eendag vind, Jessica, moet jy dit soos kleinode bewaar, dit vertroetel tot dit tienvoudig na jou toe terugkom.

Toe was die woorde te gewigtig vir haar. Sy het haar ma net betraand gesoen en die lewe ingevaar. Dit was eers nadat alles verby was dat sy die waarheid van die woorde in haar voel wakker word het. Maar toe was dit te laat.

Sy skrik haar kop leeg toe daar dringend aan die voordeur geraps word en vlieg op om vervaard ligte aan te skakel en oop te maak. In die deur staan mevrou Geyer, blosend van opwinding.

“Hier’s ’n man om jou te sien, Jessica!” Sy loer terug oor haar skouer en tree vorentoe om te fluister: “’n Báie mooi man. En hy sê hy is iets van die keiser. Of … dalk is sy ván Keyser, ek weet nie. Ken jy so iemand?”

Jessica voel hoe die lamheid stadig van haar knieë af opstoot in haar lyf.

“Nee, ek ken geen man met die van Keyser nie. U moes verkeerd gehoor het. Of anders het hy net ’n grappie gemaak. Daar bestaan mos nie meer keisers nie, of hoe?”

“Kom tog maar, hy lyk só gaaf!” por mevrou Geyer.

Man van kaliber

Подняться наверх