Читать книгу Mense van faam - Helene de Kock - Страница 4

1

Оглавление

“Gee nou aan mekaar die regterhand …”

Debora Richter neem die ruiker spierwit lelies by die bruid en glimlag vir haar suster. En Diana glimlag stralend terug. Alle rede het sy ook, dink Debora, en knipoog fyntjies vir haar. Baie jare gelede al het sy gesê sy sal onder die Mynhards van Meulenhof introu – en dit toe sy maar vyftien was.

Debora onthou daardie dag van die Meulenhof-troue goed. Sy was ’n bietjie dikmond, want sy en Diana het eenderse suikerpienk rokke aangehad – asof almal nie duidelik kon sién dat hulle identies is nie! Dit was nie baie lank na hul ma se dood nie en almal het mooi en sag met hulle gepraat. Toe was tant Mynie, hul pa se jongste suster, ook nog verloof aan Gerbrand Mynhard wat op Meulendal geboer het. En sy en Gerbrand het by Debora en Diana en hul pa aan tafel gesit. Debora kon haar verkyk aan tant Mynie daardie dag. Sy het baie gelag in haar vrolike rooi rok met die groot diamant aan haar vinger. Maar dit was nie vir lank nie. ’n Paar weke daarna is Gerbrand in ’n vliegongeluk dood. Tant Mynie het bleek by haar stil, saggeaarde broer in die kelder kom sit waar hy as huurling van ’n koöperasie landgoedwyn versny het. Dis hy wat haar aangeraai het om haar ou werk te hervat. Sy is terug Johannesburg toe en het weer ’n joernaalprogram oor televisie aangebied. Debora en Diana en ma Hannie Robyn wat hulle opgepas het, het elke Dinsdagaand na tant Mynie sit en kyk. In een program het sy prominent aandag gegee aan die Stellenbosse wynroete en ter afsluiting na Meulenhof, Meulenrijk en Meulendal se Mynhards verwys as die adel van die adel. Woorde wat as snobisme bestempel is en haar lekker in die pekel laat beland het. Maar selfs op daardie eerste Mynhard-troue al, kon Debora dit aanvoel: die dringendheid van tant Mynie se begeerte om deel te word van dié glansdinastie.

Debora loer weer skuinsweg na Diana, sien die fyn, tevrede glimlaggie om die mooi mond toe Frederik eindelik, na die gewigtige beloftes, die ring aansteek. En sy ervaar dieselfde ligte irritasie as daardie dag by die ander deftige Mynhard-troue… Omdat sy nou maar eenmaal Debora is, die versigtige een, het dit haar toe ook effens onrustig gemaak: hierdie ding dat Diana geluk en goue geleenthede so spontaan, so sonder enige voorbehoude, kan omhels … Soos daardie eerste maal op Meulenhof.

Diana het kiertsregop aan die swaargelaaide tafel gesit, rondgekyk met haar wakker blou oë. Toe het sy haar gesig op ’n vroom plooi getrek en met ’n skewe laggie gefluister: “Ek is mal oor sulke troues! Al die baie geld en goed is wónderlik!”

“Sjuut, Di!” het Debora benoud gemaan, onderlangs geloer of iemand nie dalk hoor nie. Maar die meeste gaste was besig om al smullende die bruid in haar ontwerpersrok en yl sluiertjie te bespreek. Die gemompelde woorde het geprut-prut in die bedompige geslotenheid van die markiestent en dit het Debora benoud gemaak. Selfs as kind was sy skerp bewus van ’n atmosfeer en sy het intuïtief geweet: hierdie mooi jong vrou in haar wit gewaad gaan dit vir seker nie net lekker hê nie. In later jare op ander Mynhard-troues, kon Debora dit vir haarself formuleer: die Mynhard-bruide betree op hul mooiste dag die felle kollig van voorskriftelikheid. Want Mynhards maak nie net nuus nie; hulle is nuus. Maar soos haar pa altyd droogweg opgemerk het: hierdie ‘clan’ weet hoe om dinge te doen. As hulle wyn maak, wen hulle stringe pryse en as hulle onthaal, doen hulle dit met die klas vrygewige oorgawe wat hul hele vriendekring (wat strek vanaf die Wes-Kaap tot die wynstreke van Europa en Kalifornië) saamsnoer tot ’n hegte, feesvierende familie. Al het dit vir Debora op daardie eerste troue gevoel dat die Richters weer van dié voorreg afstand sou moes doen as hulle by die groot wit hekke uitry huis toe … Sy was eensklaps vies. Hulle was eintlik maar net aangeplakte gaste. Genooi omdat tant Mynie ’n naby konneksie met die clan gehad het. Sy het oorgeleun na Diana toe en taamlik hard gesê: “Die bruidegom is simpel! Kyk net sy min haartjies!”

Diana het haar ’n oomblik nadenkend betrag, toe skalks geantwoord: “Hy’t ’n wynplaas en ek hou van sy kleinboet!” Maar tant Mynie se antenne-ore het dit opgevang en sy het Debora koel betig.

“Debbie, in hierdie kringe is niemand simpel nie. Dit sal jou loon om soos Diana te begin dink …”

Maar dit was net daar, dink Debora en kyk hoedat Frederik Mynhard saam met haar tweelingsuster voor die kansel kniel, waar haar en Di se frekwensies geskei het. Hulle begryp mekaar baie goed, maar het nooit weer dieselfde gedink oor sekere dinge nie. Selfs nie op hierdie oomblik nie. O, sy gun Diana die dag én die man. Hy’s ’n gawe ou. Maar Debora is hartlik bly dis nie sy wat trou moet beloof nie. Die bruidegom het wel ’n mooi bos hare én natuurlik ook deel aan die uitgebreide Mynhard-landgoedere – maar Diana sal haar sit en staan moet ken op Meulenhof. Daar kan ’n mens nie net woon nie; nee, jy moet dwarsdeur jou wakker ure skitter. En bowenal moet jy spring as ouma Catharina Mynhard so sê … Daarby moet jy erfgename voortbring wat rooiwyn in hul are het. Want Meulenhof, Meulendal en Meulenrijk is trofees wat jy moet verower as jy ’n Mynhard word. Joune eers wanneer jy presteer. So het Debora en Diana se oorlede pa ook altyd beweer …

En skielik wonder sy hoeveel skaakskuiwe dit tant Mynie gekos het om hierdie twee voor die kansel te kry. Sy wat Debora is, was die afgelope jare meesal in Pretoria en kon net uit flardes van telefoongesprekke uitmaak wat aangaan. Diana het Frederik verlede jaar toevallig weer raakgeloop – glo op ’n onthaal wat vir wynskrywers op ’n buurplaas aangebied is. Natuurlik was tant Mynie ook daar; die immergroen glanspersoonlikheid van ’n duur betaalkanaal; daarby het sy al die jare haar amper verbintenis met die Mynhards behou. En dit was sy wat voorgestel het dat Diana haar vergesel op ’n toer na Frankryk se wynkelders, want Frederik Mynhard is die toerleier. So ’n begaafde jong wynmaker. Jare lank al ’n vrygesel. Maar beter nog: broer van die destydse bruidegom en nou mede-eienaar van Meulenhof. Watter voornemende bruid sou nie spring om deel te word van só ’n dinastie nie? En Diana is nie iemand wat broei op haar aspirasies nie.

Nee, Frederik het nie ’n kans gestaan nie, besluit Debora afwesig onder die soet orreltone. Wat Diana wil hê, kry sy. Dit was nog altyd so. Tog is sy minlik. Sy is in der waarheid baie soos tant Mynie: sprankelend, sjarmant en soms blindweg impulsief. Eintlik deel Debora en Diana Richter net dieselfde voorkoms, dink Debora effens wrang. En dis sowel ’n seën as ’n vloek. Want hulle is glo so eenders mooi: Slank en blond en blou van oog. So identies soos klone van dieselfde merlot-wingerd, het hul pa graag gespot. Maar tog so ontsaglik verskillend: Suster Maan en Suster Son, so het tant Mynie hulle weer vroeg in hul lewe gedoop. Want Diana is die ene wat straal. En Debora gloei soms nie eens nie. Soms is dit of sy net deur ’n skugter waas na die wêreld loer …

Soos nou ook, dink sy toe sy meganies by strooijonker Theron Mynhard inhaak en agter die bruidspaar aan na die konsistorie beweeg. Debora, die ewige strooimeisie. Sy was dit selfs vir haar gewese kêrel Rudolf en sy bruid en sy sal dit seker nog ’n paar maal wees totdat al die jonger niggies getroud is. Almal het reeds min of meer tot hierdie slotsom gekom. Vanmôre toe sy Diana help aantrek het, was daar juis ’n paar goed gemikte vrae van die jonger meisies wat onstuitbaar kom inloer het: Wanneer is dit jou beurt, Debbie? Steek jy dalk iets weg, Deb?

Maar dit was Diana wat haar gered het terwyl sy die laaste bietjie los poeier aan die fyn neus tik: Los haar dadelik! Deb doen nie dinge soos ons ander nie. Sy … Maar dit was tant Mynie wat die laaste woord gehad het: Los Debora nou. Sy leef in die koelte. Ja, het Debora skamper saamgespeel, ek wag in die skadu’s op ’n besadigde ridder. Een wat my nie sommer net sal gryp nie! Nee, hy moet my nóói! Kom, my liefste bruid, sal hy sê, ek sal jou bedien. Nooit sal jy jou hande in skottelgoedwater steek nie, nooit sal jy wonder waarom ek laat werk nie, nooit …

So het sy laggend die situasie ontlont en niemand kon sien dat haar keel wou toesnoer nie. Hulle dink mos al die jare sy’s passieloos. Bleekste onder die blekes van die lewe. Maar sowaar, sy loop verkluim eerder in ’n tentjie teen Everest se hang voordat sy haarself aan ’n bloedlose man oorlewer! Erger, dink sy ook op die oomblik toe Diana die register teken, wat as daar nooit vir háár so ’n dag is nie? As sy nooit weet hoe dit voel om iemand hartstogtelik lief te kry nie? Sê nou sy kry regtig so ’n bleeksiel wat haar met pap oë smeek om te trou? Almal sal so verlig wees. Dankie tog! Dáár’s die ou wat perfek pas by sober Debora. ’n Man wie se kalmte hare volmaak ewenaar en wat saam met haar op die perifere rande van die lewe sal rondsluip … So sonder die vooruitsig van enige dinamiek …

Debora se lip beef skielik en sy skrik lig toe Theron Mynhard haar arm teen sy ribbekas vasdruk en sag vra: “Wat dink jy?”

“Niks wat maklik vertolk kan word nie,” glimlag sy.

“Nou’s ek rasend geïnteresseerd!” fluister hy terug. En opeens kan sy ook sien waarom Diana altyd so geesdriftig was oor die strooijonker. Rêrig, Deb, hy’s ’n beeld. Jy móét net van hom hou! En so van sien, moet sy toegee, hou sy van hom. Van al die Mynhard-neefs, -kleinneefs en -agterkleinneefs, is hy sekerlik die aantreklikste, so beweer Diana. Wel, dit mag dalk so wees. Sy het vroeër jare self baie keer so gedink. Sy en Diana het hom nie so dikwels soos van die ander gesien nie. Hy was altyd besig – om hoofseun te wees, om primarius te wees, om vir Maties rugby te speel of om iewers in Frankryk druiwe te pluk. Sy loer steeds na hom. Net so donkerblond soos Frederik is hy, met net so ’n digte kuif en die kenmerkende Mynhard-kepie in die ken. Daarby die liggrys oë en patrisiërneus. Wonderlik tog dat sommige families trekke het wat hulle skynbaar vir ewig sal onderskei as behorende tot een stamlyn.

Maar dis ook juis wat Debora van kleins af gehinder het. Waarom weet sy steeds nie mooi nie. Wil dalk nie weet nie, dink sy nou. Analities gesproke, is dit eintlik eenvoudig: die Mynhards het wat almal in die lewe graag wil hê. Mag en posisie en baie geld. En ’n stamboom wat terugstrek tot in die troonsale van beleë ou kastele in Europa. Dit het die hele kontrei tog geweet. Die glansblaaie het daaroor geskryf. Die tant Mynies van die televisie het dit lipsmakkend vir die volk uitgelê. Die Dianas van die lewe het blink geleenthede sien wink – en die Deboras was stilweg grasgroen en bitterbek. Die ou kliekerige Mynhard-clan, het sy as sestienjarige eendag opgemerk. Sy is onmiddellik deur tant Mynie berispe: mense van faam, Debora, kan nie deur woorde afgetakel word nie. Hulle roem verhef hulle bo dit …

Nè? het Debora geglimlag. Doen hulle dan nooit iets verkeerds nie?

Ag, Debbie, dis nie dit nie, glo my. Dis net dat mense van faam ánders gemeet word … So het tant Mynie gesê en so glo sy tot vandag toe.

“Jy doen dit al weer!” Dis weer die strooijonker en dié slag voel Debora hoe haar wange warm word.

“Ekskuus …” fluister sy en glimlag vir die bruid wat opkyk waar sy en Frederik die register teken. Sy sien hoe Diana met fyn aanvoeling frons. Vreemd genoeg is dit die vlinderfraaie Diana wat altyd moederlik besorg is oor haar. Debora beweeg dadelik vorentoe en toe ouma Catharina Mynhard die bruidspaar plegtig gesoen het, buk sy by Diana en vat haar gesig sag tussen haar handpalms. “Jy lyk wonderlik … en ek is só bly om jou onthalwe!”

“Ek wéét,” glimlag Diana hartlik, “maar … is jy orraait?”

Debora streel oor haar wang. “Baie orraait, my sussie! Vanaand dans ek Meulenhof se stoepe blink!”

Frederik vang die woorde op en glimlag toe Debora hom ook soen: “Oppas dat jy nie gly en val nie! Daar’s vanaand baie Mynhard-arms wat jou gretig sal vang!”

“Ek sal buitengewoon versigtig wees!” antwoord sy sedig en hoor hoe Theron Mynhard langs haar lag.

En in die motor op pad na Meulenhof waar die onthaal gehou word, moet sy dit ontgeld. Theron is nie ’n maklike man nie, dit besef Debora effens wrang. Sy moes dit hoeka geweet het. Hy’s immers ’n Mynhard. Hy sit naby aan haar, haal kasueel die fyn confetti-bloeisels uit wat in haar lang hare beland het. Hier en daar raak sy vingerpunte aan haar slaap, haar oor, selfs haar nek …

“So ja,” sê hy en glimlag. “Nou kan ek ook sê dat ek al aan ’n advokaat gevat het. Nogal ’n blonde een. Dit was nog altyd my droom, weet jy? Op TV kyk ek altyd alles wat oor die reg gaan en ek mis nie een fliek wat ’n hofsaak bevat nie. Die vroulike advokate is altyd sulke skerpmond, snyerspakkie-girls. Ek vind dit ontsaglik sensueel.”

Debora kyk hom koel aan. “Wat? Die monde of die pakkies?”

“Die kombinasie,” sê hy doodbedaard en sy grys oë wyk nie voor hare nie. “Kyk nou net na jou. ’n Mens sou sweer jy’s in die hof. Dis net die sexy kant-en-chiffon-nommertjie wat ’n mens laat wonder. Want jy is op jou snykant, gereed vir enige inval. Jy’s so paraat dit maak my bang. En ook ’n bietjie opgewonde …”

“A!” val sy hom in die rede. “Jy is dus ’n man wat vir jouself vooruitsigte skep!”

“Hoe so!” vra hy glimlaggend. Dit lyk asof hy absoluut op sy stukke voel en dié besef maak haar opeens witkwaad. Maar haar gesig is onleesbaar, weet sy. Het mos nie verniet jare in die hof gewerk nie. Kan astrante kollegas hanteer. En hierdie man is nie ’n kollega se voet nie. Hy’s bloot ’n man: in volle vaart uit op die jag. Miskien, dink sy, moet ’n mens hom betyds pootjie. Sy glimlag terug, tik hom speels op een bruingebrande hand.

“Jy maak jou eie gevolgtrekkings. Baie subjektief, sou ek sê. Ek lyk maar net paraat. Binne-in is ek papsag …” Haar stem is soet-strelend en sy leun selfs ’n fraksie nader. ’n Geurtjie van haar sagte jasmyn-en-perske-parfuum sweef tussen hulle. Sy sien hoedat hy sy asem liggies en behaaglik intrek.

“Hm …” sê hy. “Verrassend … Soos rooiwyn. Kan robuust lyk, maar dan soos fluweel proe. Maar dis nie die punt nie …”

“Nee,” val sy hom in die rede, “dit is nie. Jy wil hê mense moet wees soos wat jy hulle sien en …”

“Nee, dis jóú forte, Debora!” knip hy haar ferm kort. “Jy is die een wat na mense kyk en hulle netjies kategoriseer. Die regverdige Richters veilig in ’n kluis – en die Mynhards met al hul gebreke in ’n blink glashuis. Of hoe?”

Debora voel die bloed warm in haar hals opskiet. En dié slag wys die konsternasie oop en bloot. Sy byt haar lip voordat sy antwoord. En sy hou haar oë op die trillende gipskruid en klein rosies op haar skoot. Stoot haar vingers vervaard onder die ruiker in. “Luister … Diana het geen reg gehad om dit oor te vertel nie. Dit was kleintyd se woorde … en ek was ’n bietjie jaloers, dis al. My pa het nooit sy eie wynplaas besit nie … enne … die Mynhards het dit alles gehad. ’n Kind verstaan dit nie.”

“Natuurlik nie. ’n Grootmens ook nie, Debora.”

Sy draai haar kop, kyk bedug na hom. Maar sy oë is eienaardig sag, byna asof hy haar jammer kry. En sy lig haar ken. “Ek verskil van jou. Sommige grootmense hét grootgeword. Die Mynhards se skatte laat my nou koud.”

“Nie heeltemal nie, Debora. Jy het ’n sekere beeld van die Mynhards en nou wil jy dit gelykstel aan die werklikheid.”

“Ek …” Maar die woorde stok in haar keel.

“En die beeld en die werklikheid het in dié geval niks gemeen nie. Glo my, asseblief. Die Mynhards is aartssnobs, dis waar. Hulle is skatryk, dis ook waar. Maar hulle kan nie verder getipeer word nie. Daarvoor is die Mynhard-geskiedenis te verwikkeld, te mooi, soms te hartseer …”

Debora se mondhoek pluk effens. “Mense van faam,” sê sy, “soos tant Mynie altyd beweer, word nie met dieselfde maat gemeet as ons ander nie. Dis wat jy wil sê, Theron.”

“Mense van faam …?” Hy skud sy kop en kyk by die motorruit uit na waar die heldergroen wingerde van Meulenhof teen die windverwaaide berghang staan. En net toe hulle deur die groot wit hekke ry, sê hy: “Onthou dat ons later praat oor die verskil tussen faam en vaam.” En toe sy vraend na hom kyk: “Die een met ’n f en die ander met ’n v. Homofone wat eenders klink maar in betekenis niks gemeen het nie.”

Sy glimlag wrang. “Vaam met ’n v kan ’n dieptemaat wees. Wil jy my sê dis van toepassing op die Mynhards as ’n clan?”

“Wil jy my daarmee sê dat ons geen diepte het nie?”

“Daar is seker uitsonderings, maar …”

“Máár? Jy weet, Debora, ek dink één enkele Mynhard, dalkies nog Kieron, het jou die joos in gemaak en nou haal jy dit op almal uit! Dis net so laf as wanneer ek sou dink dat jy ’n kloon van Diana is!”

Sy snak na haar asem en sy voel haar oë sper. Die ruiker op haar skoot beef rukkerig. “My suster se klóón?! Dis …”

“Die ergste wat jy nog gehoor het? Wel, ek stem saam. Gelukkig is dit nie waar nie. Dinge is selde soos wat dit lyk.” Hy plaas sy hand ferm op haar pols en druk die bewing vas. “Net soos wat jy en Diana eenders lyk, maar soos dag en nag verskil. Dit weet almal. Suster Son en Suster Maan, so sê julle tant Mynie mos.”

Sy sluk haar ontstemdheid strammerig weg. Hierdie man dink hy weet als. Erger, hy is daarop uit om die vloer met haar te was. Diana se kloon. Die genetiese duplikaatjie. Dit het sy mos al vantevore gehoor. Sy wil haar hand verwoed wegpluk, maar hy hou en sy klem haar kake. “Luister, meneer Mynhard, ek weet nie wat jy probeer doen nie, maar …”

“Ek probeer die lug suiwer, dis al.”

“Jy val my aanhoudend in die rede en …”

“Dis bloot om te keer dat jy verkeerde afleidings maak, Debora. Ek besef jy’s … dalk bang jy kry seer, dat jy skiet nog voordat jy groet. En ek moet sê, ek koes vir die vale! Kan ons nie maar net beskaafd groet en dan aan ’n verhouding begin bou nie?”

“Wát?” Sy draai haar amper dwars op die sitplek.

Hy leun skielik skuins vorentoe en soen haar skrams op haar oop lippe. “Dis beter. Geluk met jou suster se huwelik. Ek hoop sy word ’n goeie Mynhard sodat jy jou nie hoef te skaam nie. Dalk beny jy haar nog …”

Debora wil-wil haar opnuut vervies, maar toe sien sy die stout vonkel in sy grys oë. Hy spot met haar. Maar tog op so ’n manier dat sy weet sy bedoeling is om te speel. Hy jag wel, maar met ’n kamera. Die besef is ’n yslike verligting en sy loer deur haar wimpers na hom. Haar bedoeling is nog om te pootjie, wat …

“Ek hoef haar nie te beny nie. Hier sit dan ’n Mynhard langs my. ’n Man van faam, sou ek sê.”

“Met ’n v, mooi Debora, met ’n v. Daar’s dieptes hier waarvan jy maar net kan droom.”

Toe die motor agter die bruidskar langs die groot markiestent stilhou, is Debora skoon moeg. Die man weet van pootjie, daarom maak by sulke netjiese systappies. En sy besluit om eerlik te wees. “Dit was een van die mees uitputtende ritte van my lewe,” sê sy, maar glimlag met hom.

“Dit was ’n verkenningstog – en dis altyd vermoeiend,” sê hy doodernstig.

’n Verkenningstog. En dit het ’n avontuur ingelui, dink Debora en sak salig terug in die warm skuimbad. Eintlik was Diana se troudag vol opwindende hoogtepunte. Selfs vir ’n strooimeisie. Dit was ook ’n gepaste inleiding vir Debora se nuwe lewe in die Kaap. Sy is maar ’n maand of wat hier en het pas in ’n groendakhuisie met ’n soldervenster en snoesige stoep in Stellenbosch se oudorp ingetrek. Sy voel nog maar haar weg na al die jare bo in die noorde. Maar na vandag, toe sy so aan die diep kant ingegooi is, sal dit beslis beter gaan. ’n Mynhard-troue het vir haar die ys gebreek.

Na al die heildronke onder die spits geplooide koepels van die markiestent ingestel is, het die groot kuier begin. Meulenhof se towerwyne het vryelik gevloei en die woorde los gemaak. Almal wou opsluit by Debora weet: wanneer kom jou beurt dan? Is dit dalk die rede waarom jy weer terug is op Stellenbosch? Dink jy dan die Kaapse howe is stiller as dié daar bo in Gauteng?

Sy was dié stortvloed te wagte, maar dit het tog ’n bietjie tongknopend gegaan om mooi diplomaties te antwoord. Wel … nee, ek is nou regsadviseur vir ’n versekeringsmaatskappy. Die hof se dinge word vir my te veel … Dit was Theron wat haar tegemoetgekom het, nogal met ’n arm nonchalant om haar middel: “Ja-nee, al die laste en luste van die samelewing kan seker vir ’n mooi advokaat te veel word. En van trou is daar wel sprake – so oor twee jaar, nie waar nie, Deb?”

Onhebbelike man. “Oor twintig jaar,” het sy gekeer en netjies uit sy omarming gedraai, weggestap na waar Diana tussen ’n klompie bewonderaars aan die pronk was. Sy het om en om getol sodat almal kon sien hoe verruklik klok die lae ragfyn chiffon om haar lyf.

Debora het met vertedering bly kyk hoedat haar sus opgaan in die euforie van die oomblik. Frederik het langs haar kom staan en spontaan hande geklap. “O, maar ek het ’n mooi vrou!” het hy gesug, en onverwags ’n broederlike arm om Debora gesit. “Ek sal haar mooi oppas, Debora. Belowe dat jy baie sal kom kuier.”

“Ek belowe.”

“Jy weet dat jy steeds welkom is om in die gastehuis in te trek, nè? Meulenhof is tog na genoeg aan die dorp om …”

Sy was tog geraak: “Báie dankie, Frederik, maar ek was so lank selfstandig dat ek verkies om op my eie te wees.”

Hy het stilweg geglimlag en haar goedig op die skouer geklop.

Die orkes het op die breë stoep begin speel en Frederik en Diana het die baan geopen op maat van Bryan Adams se meesleurende “Have you ever really loved a woman”. Debora het half bewoë toegekyk hoe Diana haar gesig stralend na haar man lig, die wolkige sluier swewend verweef met die musiek. Theron het Debora nader getrek. “Kom, ek voel begeesterd. Vanaand dans ek jou bene lam!”

En hy sou miskien haar bene lam gemaak het, as dit nie was dat Kieron Mynhard toe uit die swarte digtheid van die laatnag sy verskyning gemaak het nie. Sy lang figuur met die netjiese swart kuif en streng gelaat was net eensklaps daar langs die lampverligte stoeppilare. “Dis nou maar onse Kieron,” het Theron lakoniek opgemerk. “Kom nie vir die kerkdiens nie en woon net die nadraai van die onthaal by.”

Debora het skielik verstok, stram die swaar hare uit haar nek gelig. “Sjoe, dis warm!” het sy benoud gesê. Die orkes het van ’n wals oorgeslaan na Sinead O’Connor se slepende “Nothing compares to you”. Theron het haar skeefkop betrag.

“Hm … dit raak altyd warm as Kieron opdaag, my meisie. Kan ek vir jou ’n yskoue wyntjie bring?” Sy het net geknik en deur die dansendes gedruk om tog net van die stoep af te kom. So ver moontlik onder Kieron se skerp, donkerblou oë uit. Al soek Theron haar wyntjie-in-die-hand tot sonop toe. Sy het ligvoets oor die dounat grasperk gedraf, die halfleë markiestent binnegeglip. Tant Mynie het haar lang figuur uit die groep geselsendes gelig.

“Nou toe! Waar wil jy nou weer wegkruip, Suster Maan? Kom, laat ek hoor …”

“Nee, nie nou nie, ant Mynie, ek en Debora het ’n sakie te prate!” Dit was Alissa, ma Hannie Robyn se dogter en altyd haar kampvegter. Verligting het deur Debora gegolf. Sy het effens geglimlag, haar na die jong vrou met die bruin bokkie-oë gedraai.

“Ja, die nag is jonk en ek wil nie nou al kom sit nie!”

“Altyd anders,” het tant Mynie gesug, maar sy het nie vir Debora laat gaan sonder om die ou-ou sakie aan te roer nie. Sy was mos veral lief om dit in ’n geselskap te doen. “Sien julle nou,” het sy gesê, “sy is Diana se ewebeeld. Werklik beeldskoon – en as sy haar hare ook kort sou sny, sou ’n mens g’n kan onderskei wie’s wie nie.”

“Diana se kloon is ek mos,” het Debora met koue spot geantwoord. Maar Alissa het haar hoë senulaggie gegee.

“Wel, hulle sê daar’s ’n kloon vir elke smaak, nè!”

En toe die ou tannies in tant Mynie se groepie proeslag, het Alissa gemaak vies met haar tong geklik. “Ek’s mos nou ’n skakelbeampte by die wyninstituut hier buite die dorp – en ek hoor die manne praat daar van klone en goed en …”

“Kry jou draai, Alissa!” het tant Mynie ingetjip. “Ons weet wat is klone!”

Alissa het tant Mynie ’n kyk gegee. “Wel, hulle sê ook dat een wyndruifkloon nie áltyd nes ’n ander kloon is nie. In die hande van verskillende wynmakers kry elke kloon sy eie karakter – en dán moet julle sien hoe oorleef hy!”

“Nou maar dan moet ons vir Debora haar eie wynmaker kry!” het tant Mynie gegrap.

Alissa het aan haar arm gerem, maar dit was opeens net te veel vir Debora. Die jare tussenin het verdwyn en sy het haar voet op die klam gras gestamp. “Ek weet van oorleef meer as enigiemand hier, en wat karakter betref …” Maar Alissa het haar by die markiestent se opening aan die arm uitgetrek sodat die laaste woorde in die naglug verdamp het.

“Spaar jou asem, Deb!” het sy gehyg.

Debora het gedwee agter die meisie se wulpse wiegheupies aangeloop en stilweg begin lag. Alissa was immers reg. Hulle het al met die rye hanglanterns langs geloop om by die opstal se agterdeur in te gaan. “Kom, my ma werk mos nie verniet nou hier nie en ek is lus vir brood en moskonfyt.”

“Ek ook!” het Debora gelag en by die breë kombuistafel gaan sit, haar verkyk aan Alissa se skraal hande soos wat sy die sagte brood sny en smeer. Opeens het dit haar rustig gemaak. “Ek het jou gemis, Alissa,” sê sy. “En … ek het gedink dat die ou dinge verbygegaan het. Maar dit het nie.”

“Steur jy jou nog steeds aan jou ant Mynie?” het Alissa gevra. “Jy wat advokaat was? Jy kan haar mos plat praat as jy wil!” Sy het vir haar ’n dik toebroodjie gehou. Debora het dit stadig aangevat.

“Ek kan, ja. Eintlik is dit nie sy wat my pla nie.” Sy het skielik stilgebly en Alissa se blinkbruin oë het vernou.

“O … dis waarom jy so haastig weggehol het. Omdat Kieron gekom het. Ek het gesien toe hy by die markiestent ingeloer het.”

Debora het tjoepstil bly eet. Alissa het haar kop geskud. “Jy het niks verander nie. Pleks dat jy vlak voor sy neus verbydans saam met daai ander mooi man!”

“Toemaar, ek het mos nuut begin hier in die Kaap. Ek gaan vergeet van my tienertraumas en net leef.”

Debora ril effentjies. Die badwater het koud geword. Sy klim uit, vou haar styf toe in ’n groot handdoek. Debora Richter kan haar eie ding doen, besluit sy opnuut. Al weet almal dat Kieron Mynhard van Meulenrijk haar altyd versondig het. Grootoog-Deboratjie. Regte agie. Debbie met die sprinkaanbene en skewe vlegsels soos wegstaan wingerdlote. Debora wat regte swot? Wat vertel jy ’n nugter man!

Maar niemand weet waarom Kieron homself nie sover kon kry om te kom kyk hoe Diana trou nie. Net sy wat Debora is, vermoed waarom hy soos ’n bedelaar agterna kom loer het hoedat die wenner met die trofee wegdans …

Mense van faam

Подняться наверх